Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 24 April 2014 in die Komiteekamer, PNS-kantoorgebou, Woodmead



  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur Dr Erhard Briedenhann.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal welkom by die derde vergadering van die Sojawerkgroep van die jaar. Hy heet in die besonder vir Prof Oldewage-Theron en Dr Egal welkom, wat vir die eerste keer 'n vergadering van die Sojawerkgroep bywoon.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer Voorsitter
    Mnr G Badenhorst Agchem
    Dr E Briedenhann PNS
    Mnr PL Büchner Profert
    Mnr C Cloete Dow AgroSciences
    Me A de Beer LNR-IGG
    Mnr G de Beer PNS-Kontrakteur
    Dr J de Kock PNS
    Dr J Dreyer PNS
    Mnr CJ du Plessis Produsent: KwaZulu-Natal
    Dr A Egal VUT
    Mnr N Hawkins SAGIS
    Mnr M Janse van Rensburg Dept Landbou: Mpumalanga
    Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte
    Dr S Lamprecht LNR-NIPB
    Me W Louw SAGL
    Prof W Oldewage-Theron VUT
    Mnr FAS Potgieter PNS
    Me M Purnell GSI
    Dr Y Tewoldemedhin LNR-NIPB
    Mnr D van der Westhuizen Produsent: Mpumalanga
    Mnr WF van Wyk PNS-kontrakteur
    Mnr APG van Zyl Produsent: S-Vrystaat en N-Kaap
    Mnr R Wessels Sensako

    Verskonings

    Me R Beukes DLBV
    Mnr H Conradie Produsent: Mpumalanga
    Mnr W Cronjé OAK
    Me N de Klerk LNR-IGG
    Mnr J du Plessis Produsent: Noordwes
    Mnr G Engelbrecht K2Agri
    Mnr W Engelbrecht K2Agri
    Mnr J Grey GraanSA
    Mnr C Havenga PNS
    Mnr C Louw GraanSA
    Mnr T Prinsloo LNR-IGG
    Mnr G Roos Produsent: Mpumalanga
    Me M Scheepers DLBV
    Mnr J Swanepoel Produsent: Noordwes
    Dr G Thompson LNR-IGG
    Mnr CF van Rooyen Landbouweekblad
    Mnr A van Vuuren NWK
    Dr M Visser GraanSA

  4. Personalia

    Geen.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar, sonder enige wysigings of toevoegings.

  6. Goedkeuring van die notule

    1. Notule van die Sojawerkgroepvergadering van v4 Maart 2014 en verwysing na webblad

      Besluite:

      1. Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 4 Maart 2014 word as gelese beskou en goedgekeur.
      2. Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep van 4 Maart 2014 word na die Bemarkingskomitee verwys, vir plasing op die webblad van die PNS.

  7. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

    Dr Briedenhann verskaf 'n kort oorsig van die internasionale en plaaslike oliesadescenario. Hy noem dat die Verenigde State van Amerika (VSA) 'n rekordhoeveelheid bone verhandel het die afgelope paar maande, wat daarop dui dat daar tans 'n betekenisvolle vraag na sojabone op die internasionale mark is. Hy wys daarop dat China 'n betekenisvolle aantal sojaboonbesendings gekanselleer het, maar steeds meer sojabone as wat normaalweg die geval sou wees ingevoer het. Hy sê daar is ook 'n bykomende vraag vanuit ander Asiese lande, met die huidige groot vraag na sojabone wat tot gevolg gehad het dat pryse op die Chicago Board of Trade (CBOT) taamlik bulagtig is.

    Dr Briedenhann rapporteer dat Suid-Amerikaanse produksietoestande tans minder gunstig is, wat tot gevolg gehad het dat die oesproses vertraag is, welke situasie die huidige bulagtige sentiment op die mark ondersteun. Hy noem dat die situasie na verwagting sal normaliseer, indien die aanplantings in die VSA volgens plan sou verloop. Hy sê die groot hoeveelheid Amerikaanse uitvoere het tot gevolg gehad dat Brasiliaanse sojabone deur Amerika ingevoer moes word.

    Dr Briedenhann rapporteer voorts, en noem dat die boonprys op die South African Futures Exchange (SAFEX) 'n aansienlike daling getoon het, ten spyte van die verswakkende Suid-Afrikaanse rand. Hy sê syns insiens het sojaboonpryse te veel gedaal, en sal die situasie na ver­wagting eersdaags herstel. Hy verduidelik dat invoerpariteit betekenisvol geraak word deur die huidige swak wisselkoers, met plaaslike pryse wat dienooreenkomstig moes verstewig, wat egter nie die geval was nie.

    Dr Briedenhann meld voorts dat die plaaslike mark negatief geraak is deur 60 000 ton sojabooninvoere, welke besending in werklikheid bestem was vir die Chinese mark. Hy sê nadat China die besending weggewys het, kon geen ander heenkome gevind word vir die bone nie, en is die sogenaamde "distress pricing" verbonde aan die vrag nie ingeprys in Suid-Afrikaanse markpersepsiepryse nie.

    Dr Briedenhann meld voorts dat goedkeuring verleen is aan Argentynse booninvoere na Suid-Afrika, met Argentynse bone wat ingevoer sal word, indien die pryse aanvaarbaar sou wees.

    Dr Briedenhann noem dat slegs een maand se sojaboonvoorrade na verwagting teen die einde van Februarie 2015 in die land beskikbaar sal wees. Hy sê daar is geen rede waarom sojabone nie op daardie stadium naby aan invoerpariteit sou kon verhandel nie. Hy is van mening dat die plaaslike vraag-en aanbodsituasie uiters stram sal wees, tot tyd en wyl die huidige seisoen se sojabone gelewer is.

    Dr Briedenhann maan dat persmarges egter ook dopgehou moet word, met stygende sojaboonpryse wat absorbeer sal moet word deur die plaaslike oliepersers. Hy noem dat plaaslike sojabone tans teen nagenoeg R360 per ton minder verhandel as wat die geval behoort te wees, met 'n prys van R5 900 per ton, of selfs 'n raps meer as dit, wat nader aan die kol sou wees.

    Dr Briedenhann noem dat Argentynse produsente steeds die vorige seisoen se bone terughou, en nie haastig is om te verkoop nie, met die gevolg dat sojaboonpersers in daardie land nie oor voldoende voorraad beskik om te prosesseer nie.

    Mnr Hawkins sê dit sou interessant wees om vas te stel wat die werklike Vry-aan-Boord (VAB)-prys was, wat betaal is vir die ingevoerde bone wat aanvanklik bedoel was vir die Chinese mark.

  8. SAGIS


    (Besluit 8.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 4 Maart 2014)

    Mnr Keun rapporteer dat die saak rakende die instelling van statutêre maatreëls op die indien van sojaboonolie- en -oliekoekinvoerdata nog nie amptelik onder SAGIS se aandag gebring is nie. Hy sê die saak is bespreek deur die Sojawerkgroep, die Oliesadebedryf se Sonneblom- en Sojaboonforum, en ook deur GraanSA se Sojaboonwegbreeksessie. Hy noem dat Mnr Corné Louw tans die nodige motivering saamstel, waarna dit voorgelê sal word.

    Mnr Hawkins bied 'n oorsig aan van die nasionale en internasionale vraag- en aanbodsituasie van sojabone en sonneblom, en van die huidige stand van sake ten opsigte van produsentelewerings, soos gemeet teen die amptelike oesskattingsdata. Hy verskaf onder andere ook inligting oor plaaslike verbruiksyfers, oor plaaslike en internasionale pryse, en oor in- en uitvoere. Kennis word geneem dat dié en ander data ook gepubliseer word op die SAGIS-webblad (www.sagis.co.za).

    Kennis word geneem van SAGIS se Weeklikse Bulletin gedateer 27 Maart 2014, die Maandelikse Bulletin van opgawe-inligting, gedateer 25 Maart 2014, en van die kopieë van die South African Supply and Demand Estimates Report, gedateer 4 Maart 2014 en 1 April 2014, onderskeidelik.

    Die Voorsitter verwys na die gebruik van die begrip "demand" in die "South African Supply and Demand Estimates Report". Hy sê syns insiens is die plaaslike vraag na sojabone groter as die hoeveelheid wat verbruik word, en impliseer die begrip "vraag" die hoeveelheid wat werklik benodig word. Dr Briedenhann verduidelik dat die vraag na sojabone minder kan wees as die voorraad wat beskikbaar is. Hy sê dit geld veral in die geval van die Supply and Demand Estimates Comittee (S&DEC), waar toekomstige persvolumes geprojekteer word, en die geraamde vraag bereken word. Hy noem dat vraag sal afneem, indien die prys waarteen die produk verhandel te hoog is.

    Mnr Hawkins noem dat dié 'n algemene standaard is, wat internasionaal gebruik word. Hy sê daar word gepoog om te beraam welke volume verwerk sal word, in gedagte gehou die gegewe aanbod.

    Dr Briedenhann meld op navraag dat 'n aantal volvetsoja-aanlegte produksie gestaak het teen die einde van die seisoen, weens ekonomiese oorwegings. Hy sê gegewe die huidige prys van sojabone en die prys van ingevoerde soja-oliekoek sal produksie weer hervat, sodra die nuwe seisoen se sojas op die mark kom.

    Besluit:

    1. Dat SAGIS genader word oor die moontlikheid dat statutêre maatreëls ingestel word op die indien van data rakende die invoer van sojaboonolie- en -oliekoek.

      Mnr Keun
      Sojawerkgroep

  9. Weer- en klimaatsvooruitskouing

    Geen verslaglewering.

  10. Oesskattings

    Kennis word geneem van die dokument gedateer 27 Maart rakende die tweede produksieskatting van somergewasse vir 2014.

  11. Produsente-aangeleenthede

    1. KwaZulu-Natal

      1. Algemeen

        Die Voorsitter sê luidens die Oesskattingskomitee is 35 000 hektare in KwaZulu-Natal beplant met sojas, teenoor die 32 000 hektare van die vorige jaar. Hy noem dat die tweede produksieskatting te staan kom op 94 500 ton, teenoor die vorige seisoen se finale oes van 82 000 ton.

        Mnr Du Plessis rapporteer dat die produsente wat reeds begin stroop het, beter opbrengste behaal as wat verwag is. Hy noem dat die stroopproses tans in volle swang is, met opbrengste wat belowend blyk te wees.

        Mnr Du Plessis rapporteer dat Sclerotinia hoofbrekens gebied het vir daardie produsente wat laat geplant het, of langer­groeiers geplant het. Hy sê na verwagting sal opbrengste nie juis nadelig geraak word nie, hoewel die stroopproses probleme sal bied. Hy noem dat heelwat meer Sclerotinia voorgekom het in gebiede soos Bergville en Winterton, en selfs Normandien, in 'n produksieseisoen wat gunstige omstandighede gebied het vir die ontwikkeling van die siekte.

        Dr Dreyer maan dat rooi ligte hier moet flikker, gesien in die lig van die feit dat heelwat saad in daardie gebiede vermeerder word. Hy sê teruggehoude graan, wat as saad gebruik word, sal ook probleme bied.

        Dr Lamprecht is van mening dat saadmonsters getoets sal moet word, ten einde die persentasie Sclerotiniabesmetting te bepaal. Sy bevestig dat Sclerotinia saadgedraagd kan wees. Dr Dreyer sê druk sal op die saadmaatskappye geplaas moet word om die saad te toets.

        Mnr Du Plessis doen aan die hand dat 'n artikel geskryf word oor die aangeleentheid. Mnr Potgieter sê dit is uiters belangrik dat gesertifiseerde saad skoon moet wees. Hy noem dat produsente gereeld gewaarsku word teen die gebruik van terug­gehoude saad, waardeur siektes oorgedra kan word. Hy is van mening dat produsente heelwat minder saad behoort terug te hou, gesien in die lig van die gunstige pryse wat sojas tans behaal.

        Die Voorsitter reël dat die saak verwys word na die Tegnologiekomitee, sodat die nodige opvolgwerk gedoen kan word.

        Besluit:

        1. Dat die kwessie rakende die hoë vlak van Sclerotinia wat voorgekom het in gebiede soos Bergville, Winterton en Normandien, waar sojasaad vermeerder word, verwys word na die Tegnologiekomitee.

          Mnr Keun
          Tegnologie-komitee


      2. Soja-opbrengskompetisie

        Mnr Du Plessis rapporteer dat die lande wat ingeskryf is vir die Soja-opbrengskompetisie tans gestroop word, welke proses onder toesig van Mnr Carl Havenga geskied. Hy noem dat meer inskrywings verwag word vir die kompetisie in die komende produksieseisoen.

        Mnr Du Plessis meld voorts dat beoog word om 'n vergadering met kompetisiedeelnemers te belê, wanneer die praktyke wat in die afgelope seisoen gevolg is, en ook dié wat beoog word vir die nuwe seisoen, onder die loep geneem sal word. Hy noem dat een deelnemer melasse gespuit het, terwyl 'n aantal ander deelnemers vorendag gekom het met nuwe idees, veral wat bemesting betref. Hy sê dit sal interessant wees om die uitkomste hiervan onder oë te neem.

    2. Mpumalanga en Gauteng

      1. Algemeen

        Die Voorsitter sê luidens die Oesskattingskomitee is 203 000 hektare in Mpumalanga beplant met sojas, teenoor die 205 000 hektare van die vorige jaar. Hy noem dat die tweede produksieskatting te staan kom op 314 650 ton, teenoor die vorige seisoen se finale oes van 335 000 ton.

        Mnr Van der Westhuizen noem dat hy tydens 'n vorige vergadering die mening uitgespreek het dat minder sojas in die 2013-2014 produksieseisoen plaaslik aangeplant sal word. Hy noem dat die Mpumalangaprovinsie gebuk gegaan het onder water- en haelskade, met 1 143mm reën wat op sy plaas neergesak het in die drie maande vanaf Oktober tot Desember. Hy sê opbrengste wissel in sekere gevalle tussen 500kg en 3,5 ton per hektaar, en wissel ook van cultivar na cultivar.

        Mnr Van der Westhuizen meld voorts dat hy voorkomend spuit teen Sclerotinia, en tot dusver geen tekens van die siekte op sy sojas waargeneem het nie, al word sy sojas in nouer rye van 30 duim geplant.

        Mnr Keun rapporteer by monde van Mnr Roos dat opbrengste van 1,5 ton per hektaar behaal is in daardie dele van Badplaas, Lydenburg en Stoffberg, waar haelskade voorgekom het, terwyl opbrengste van tussen 2,8 en 3,2 ton per hektaar behaal is in die dele wat haelskade vrygespring het. Hy sê die stroopproses is nog in die beginstadium in Wonderfontein, Carolina en Hendrina, as gevolg van reën wat laat neergesak het, en word verneem van opbrengste van 1,2 ton per hektaar, waar hael­skade voorgekom het, en tot 3,0 ton per hektaar, in ander gebiede.

        Mnr Van Wyk noem dat die laer opbrengste in die Hoëveld toegeskryf kan word aan die swak prestasie, wat behaal is deur die die vinnigegroeiers. Hy sê hoewel daar in die algemeen aanvaar word dat plante wat in wyer rye geplant word in 'n mindere mate deur Sclerotinia besmet sal word, het hy die vorige jaar waargeneem dat meer Sclerotiniabesmetting voorgekom het in rye van 1,2m, weens verhoogde lugbeweging en spore wat groter kolle besmet as in nouer rye.

        Kennis word geneem dat die aantal hektare wat in die huidige seisoen met sojas in Gauteng beplant is onveranderd gebly het teenoor dié van die vorige jaar, en steeds te staan kom op 20 000 hektare, maar dat die produksie na verwagting sal toeneem na 44 000 ton, teenoor die finale oes van 34 000 van die vorige produksieseisoen.

        Mnr Van Wyk sê syns insiens is dié produksieskatting van 2,2 ton per hektaar aan die hoë kant, en sou hy gemiddelde op­brengste soos die van Mpumalanga vir Gauteng verwag.

    3. Noordwes- en Limpopoprovinsie

      1. Algemeen

        Die Voorsitter sê luidens die Oesskattingskomitee is 16 000 hektare in die Noordwesprovinsie beplant met sojas, teenoor die 22 000 hektare van die vorige jaar. Hy noem dat die eerste produksie-skatting te staan kom op 30 400 ton, teenoor die vorige seisoen se finale oes van 22 750 ton.

        Mnr Potgieter sê hy sou die produksieverhoging toeskryf aan die goeie reëns wat neergesak het in sommige gebiede. Hy meld voorts dat dit wil voorkom asof sojas onder besproeiing nagenoeg 3,0 ton per hektaar sal lewer, met sommige produ­sente wat reeds tot 4,0 ton per hektaar gestroop het. Hy noem dat produsente wat in sy omgewing boer oor die algemeen sojas in 35 tot 45cm wye rye plant.

        Kennis word geneem dat 22 000 hektare in Limpopo beplant is met sojas, teenoor die 20 000 hektare van die vorige jaar. Die Voorsitter noem dat die eerste produksieskatting te staan kom op 66 000 ton, teenoor die vorige seisoen se finale oes van 53 500 ton.

        Mnr Potgieter sê syns insiens sal die gemiddelde opbrengs in die huidige produksieseisoen moontlik meer wees as 3 ton per hektaar. Hy noem dat sojas oor die algemeen baie goed gevaar het in die huidige seisoen, met die plante wat nie blootgestel is aan strestoestande nie. Hy sê hy verwag dat die sojaprodusente in Limpopo nagenoeg 3,5 tot 4,0 ton per hektaar onder besproeiing sal stroop.

    4. Vrystaat

      1. Algemeen

        Die Voorsitter sê luidens die Oesskattingskomitee is 201 000 hektare in die Vrystaat beplant met sojas, teenoor die 215 000 hektare van die vorige jaar. Hy noem dat die tweede produksieskatting te staan kom op 301 500 ton, teenoor die vorige seisoen se finale oes van 249 500 ton.

        Mnr Wessels bevestig dat die Vrystaatse sojas goed vertoon. Hy sê dit wil vir hom voorkom asof méér sojas aangeplant is as die Oesskattingskomitee se 201 000 hektare.

        Mnr De Beer rapporteer dat 'n silobestuurder in Viljoenskroon hom ingelig het dat 'n produsent in die omgewing gemiddeld 2,1 ton per hektaar gestroop het, terwyl 'n ander produsent 'n gemiddelde opbrengs van 2,4 ton per hektaar behaal het. Hy is in ooreenstemming dat die Vrystaatse sojas goed vertoon, en sê dit geld veral in plekke soos Bethlehem en Kestell, in die Oos-Vrystaat.

    5. Oos- en Noord-Kaap

      1. Algemeen

        Kennis word geneem dat 3 900 hektare in die Noord-Kaap beplant is met sojas, teenoor die 2 000 hektare van die vorige jaar. Die Voorsitter noem dat die eerste produksieskatting te staan kom op 13 650 ton, teenoor die vorige seisoen se finale oes van 7 000 ton.

        Mnr Van Zyl rapporteer dat die stroopproses in die Noord-Kaap feitlik afgehandel is, met gemiddelde opbrengste wat na verwagting 'n raps meer as 3,5 ton per hektaar behoort te wees. Hy noem dat sy buurman, wat by meer as een geleentheid reeds 'n gemiddeld van 5 ton per hektaar gestroop het, 'n gemiddelde opbrengs van 3,5 ton per hektaar behaal het, terwyl 'n produsent wat nagenoeg 15 km van hom af boer, meer na die dam se kant, 'n gemiddeld van 5,8 ton per hektaar gestroop het, op 'n dertighektaarland.

        Mnr Van Zyl rapporteer voorts, en noem dat 'n aantal produsente proewe aangeplant het, met GWK wat proewe geplant het met rye van 750mm op Mnr Jaco van Niekerk se plaas. Hy noem dat 'n ander produsentevriend proewe geplant het met gesertifiseerde saad uit 'n sak, wat duidelik sclerotia bevat het, en waarvan hy foto's geneem het. Hy sê dié produsent sit nou met Sclerotinia op lande, wat voorheen nie besmet was nie. Hy noem dat nog 'n produsent eers in November geplant het, en 'n gemiddeld van 4 ton per hektaar gestroop het.

        Mnr Van Zyl vertoon ook 'n aantal foto's van proewe wat aangeplant is in die gebied waar hy boer. Hy sê goeie opbrengste sou behaal word, indien al die blompakkies peule sou maak, en is die vraag of bemesting, groeistimulante en dies meer 'n verskil sou maak in die aantal blomme wat bestuif word, en peule sal maak.

        Mnr Keun noem dat dié aspek ook tydens GraanSA se Sojaboonwegbreeksessie te berde gebring is. Hy sê daar sal waar­skynlik versoek word dat navorsing in dié verband onderneem word.

        Dr De Kock noem dat 'n sojaplant normaalweg 70% van sy blomme sal afspeen.

        Mnr van der Westhuizen sê syns insiens is sojas 'n gewas wat produsente nederig kan maak. Hy sê daar is verwys na produ­sente wat 3,5 ton en 4 ton sojas gemiddeld per hektaar onder besproeiing stroop; terwyl hy, op 'n droëland, wat deurgeloop het onder 84% haelskade, 4 ton per hektaar gemiddeld gestroop het. Hy noem dat sy swakste opbrengste onder besproeiing behaal is, nadat kunsmis en blaarvoedings toegedien is. Hy sê daar kan gevra word of dit werklik die moeite werd is om sojas onder besproeiing aan te plant, met die hoë koste van elektrisiteit in gedagte gehou.

  12. Navorsing

    1. Nasionale cultivarproewe 2013-2014

      Me De Beer rapporteer dat 80% van die nasionale sojabooncultivarproewe reeds gestroop is. Sy is van mening dat dié seisoen bietjie later is as gewoonlik, met die oesproses wat drie weke later as die vorige jaar 'n aanvang geneem het. Sy bevestig op navraag dat verslag gelewer word oor siektes wat waargeneem is op die proewe. Sy noem dat aalwurms probleme in die sandgronde gebied het, dat haelskade voorgekom het, waarvan die plante baie goed herstel het, en dat geen Sclerotinia-besmetting waargeneem is op die proewe nie.

    2. Roes

      1. Roesvangerproewe


        (Besluit 12.2.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 4 Maart 2014)

        Kennis word geneem dat roes bevestig is op 26 Februarie by Greytown, op 17 Maart by Vryheid, en op 24 Maart op Hatfield en Kestell.

        Mnr De Beer noem dat die Argentynse sojaboon­kundige, Dr Ploper, wat op besoek was in Suid-Afrika, hom op navraag mee­gedeel het dat die roes wat op Kestell voorgekom het waarskynlik te wyte is aan die storms wat voorgekom het, met ten­dense in die huidige seisoen wat verskil het van dié van die vorige. Hy noem dat roes ook op 4 Maart by Dirkiesdorp bevestig is.

        Mnr De Beer bevestig dat 'n verslag oor die roesvangerproewe geskryf sal word, na afloop van die seisoen.

        Dr De Kock is van mening dat deeglik besin sal moet word oor die omvang van die roesmoniteringsaksie, wat 'n duur en tydrowende projek is.

        Die Voorsitter noem dat die voorkoms van roes in Suid-Afrika 'n sekere patroon aangeneem het, met produsente aan die ander kant van die Drakensberg wat in ieder geval voorkomend spuit teen die siekte.

        Mnr Du Plessis bevestig dat KwaZulu-Natalse produsente die saak onder beheer het, deeglik bewus is van die feit dat roes endemies is tot die gebied, en besef dat voorkomende bespuiting noodsaaklik is.

        Besluit:

        1. Dat kennis geneem word dat 'n verslag geskryf sal word oor die roesvangerproewe, met aanbevelings oor die voortsetting of afskaffing van die navorsing.

          Dr De Kock
          (Mnr De Beer)
          Tegnologie-komitee
          Sojawerkgroep


    3. Sclerotinia

      Dr De Kock noem dat die Oesskattingskomitee, soos in vorige jare, beplan om 'n opname te doen oor die voorkoms van Sclerotinia op sojas die afgelope seisoen. Hy doen 'n beroep op produsente om hulle samewerking te verleen aan hierdie aksie.

    4. Rhizobium – terugvoering


      (Besluit 12.4.1 van die Sojawerkgroepnotule van 4 Maart 2014)

      Die Voorsitter reël dat die saak oorstaan.

      Besluit:

      1. Dat terugvoering ingewag word oor die kwessie rakende die versoenbaarheid van WB74 met die ander ras of rasse wat BASF gebruik het in die ontwikkeling van hul sojabooninokulante.

        Voorsitter
        Sojawerkgroep
        Tegnologie-komitee


    5. Biobrandstowwe

      Kennis word geneem van die nuusberigte wat ingebind is as deel van Bylae F.

    6. Onderwerpe vir webstudies

      Kennis word geneem dat lede welkom is om te versoek dat webstudies onderneem word oor sojaverwante onderwerpe.

  13. Saad

    Die Voorsitter noem dat etlike nuwe sojabooncultivars beskikbaar gestel sal word in die 2014-2015 produksieseisoen, met heelwat nuwe toetreders tot die plaaslike sojasaadmark. Hy sê syns insiens lê 'n baie interessante nuwe seisoen voor.

    Mnr Keun sê dit wil voorkom asof saadmaatskappye beoog om die voorraad gesertifiseerde saad, wat beskikbaar gestel sal word op die mark, in die nuwe seisoen te verdubbel.

  14. Tegnologie-oordrag

    1. Inligtingsdae 2014: Datums

      Kennis word geneem van die volgende inligtingsdae:

      2-4 September No-Till Konferensie, Drakensville
      22-26 September Sojasimposium en werkswinkel, VUT

    2. Inligtingsdae 2014: Terugvoering

      Mnr Van Wyk lewer kortliks verslag oor die boeredag, wat aangebied is op Mnr Jannie Botma se plaas, en waar hy ook 'n lesing aangebied het. Hy noem dat nagenoeg 25 produsente die dag bygewoon het, en ook 'n hele aantal verteenwoordigers van saad­maatskap­pye. Hy sê daar word in vooruitsig gestel om 'n soja-opbrengskompetisie in daardie sandgrondge-bied van stapel te stuur.

      Mnr Du Plessis noem dat die eerste dag van die No-Till Konferensie sal fokus op sojaverbouing.

    3. Sojasimposium 2015

      Dr De Kock rapporteer dat 'n sojasimposium beplan word vir 2015. Hy sê hoewel aanvanklik beplan is om 'n Spesiale Sojawerkgroepvergadering in Julie 2014 aan te bied, met aalwurms as tema, is daar besluit om af te sien van die gedagte, aangesien daar nie tans 'n antwoord beskikbaar is vir die aalwurmprobleem nie. Hy sê simposiumbeplanning is reeds in volle swang. Hy noem dat die beheer van onkruid in sojaverbouing as simposiumtema gekies is.

      Mnr Du Plessis doen aan die hand dat bewaringsbewerking ingewerk word by die simposiumtema.

      1. Dat kennis geneem word dat die PNS beoog om 'n Sojasimposium in 2015 aan te bied.

        Voorsitter
        Sojawerkgroep
        Tegnologie-komitee


    4. Sojavoedsel: Aanbieding – Prof W Oldewage-Theron

      Die Voorsitter stel Prof Oldewage-Theron aan die woord om die lede in te lig oor die gebruik van sojas in menslike voeding.

      Prof Oldewage-Theron bied tydens haar voorlegging 'n oorsig van die werksaamhede van die Vaal Universiteit van Tegnologie se Centre for Sustainable Livelihoods en sy Soy Research Laboratory, wat daarop gerig is om oplossings te vind vir die probleme van armoede, huishoudelike voedselsekuriteit en wanvoeding in Afrika. Sy noem dat onder andere werkswinkels aangebied word, sodat die rol van sojas in menslike voeding na buite uitgedra kan word. Sy verskaf ook meer detail oor die kwessie van armoede, honger­snood en wanvoeding, die gevolge wat daarmee gepaardgaan, en die rol wat sojas in hierdie verband kan speel.

      Prof Oldewage-Theron verduidelik om welke redes die rol van sojas in voedelsekuriteit bevorder word. Sy meld onder andere dat sojas die beste beskikbare proteïen- en oliebron is, en die enigste plaaslikgeproduseerde graan is wat al die essensiële aminosure, en ook al die mikronutriënte wat benodig word, bevat. Sy verskaf ook verdere detail van die samestelling van sojabone, en die rol wat dit in goeie gesondheid en 'n gebalanseerde dieet speel.

      Prof Oldewage-Theron som op deur te sê dat die gebruik van sojas in menslike voeding heelwat gesondheidsvoordele bied, dat sojas 'n bekostigbare en veelsydige proteïenbron is, wat in 'n verskeidenheid voedselprodukte gebruik kan word, en 'n belangrike bydrae kan lewer om wanvoedingsprobleme die hoof te bied.

      Die Voorsitter stel die geleentheid vir vrae.

      Prof Oldewage-Theron bevestig dat veral die hoër inkomstegroepe 'n verbruikersweerstand teen die gebruik van sojas in menslike voeding toon. Sy sê in verarmde gemeenskappe, waar mense honger is, is dit egter nie die geval nie. Sy noem dat die benaming soja­drankie eerder as sojamelk gebruik word, aangesien dit die aanvaarbaarheidsvlak van die produk verhoog. Sy verduidelik dat die begrip "sojamelk" die verwagting skep dat die produk soos koeimelk sal smaak, en voeg by dat bewusmakings- en opvoedings­pro­gramme 'n uiters belangrike rol speel in die bevordering van sojas in menslike voeding.

      Prof Oldewage-Theron meld op navraag dat die saadmaatskappye Pannar en Pioneer sojaboonsaad verskaf het, wat arm gemeen­skappe in groentetuine aanplant. Sy noem dat die bone oornag geweek word, daarna gemaal word, en as bestanddeel gebruik word in gewone huishoudelike resepte, wat aangepas is by plaaslike diëte.

      Die Voorsitter bedank prof Oldewage-Theron vir haar bydrae.

  15. Ander sake

    1. Inligting vir plasing op die webblad – Nuusbrokkies, kleurfoto's, videos

      Die Voorsitter doen 'n beroep op die lede om interessante inligting, kleurfoto's en videos beskikbaar te stel, met die oog op publikasie daarvan op die PNS-webblad.

      Kennis word geneem van die nuusbrokkies wat ingesluit is as deel van Bylae H.

    2. Artikels

      Kennis word geneem van die artikels wat ingebind is as deel van Bylae I.

    3. Sprekers wat oorweeg word vir toekomstige Sojawerkgroepvergaderings


      (Besluit 13.3.1 van die Sojawerkgroepnotule van 4 Maart 2014)

      Kennis word geneem van die lys van sprekers wat oorweeg word vir optrede tydens komende Sojawerkgroepvergaderings.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word van die lys van sprekers wat oorweeg word vir optrede tydens komende Sojawerkgroepvergaderings, te wete:
        • Prof J van den Bergh;
        • Prof D Fourie;
        • Prof KJ Kunert;
        • Mnr Antonie Delport, Syngenta; en
        • Verteenwoordigers van saadmaatskappye.

        Dr De Kock
        Sojawerkgroep


    4. Kwaliteit van Suid-Afrikaanse sojabone


      (Besluit 15.5.1 van die Sojawerkgroepnotule van 4 Maart 2014)

      Me Louw noem dat die Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) getaak is met die opdrag om jaarliks 'n opname te doen oor die kwaliteit van plaaslikgeproduseerde sojas, met die nuutste verslag wat pas vrygestel is. Sy noem dat onder andere aminosuurprofiele gedoen word van monsters, wat verteenwoordigend is van die onderskeie sojaprodu-serende streke. Sy sê daar word ook gekyk na tendense oor verskillende seisoene en binne verskillende streke.

      Me Louw verskaf voorts 'n bondige oorsig van die graderingsresultate, soos vervat in die verslag, en van die resultate van die proteïen-, vet-, as- en aminosuurontledings.

    5. Implikasies daarvan om sojabone teen 'n hoër persentasie voginhoud te stroop


      (Besluit 28.1 van die Raadsnotule van 11 en 12 Maart 2014)

      Die Voorsitter reël dat die saak oorstaan.

      Besluit:

      1. Dat 'n literatuurstudie onderneem word oor die implikasies wat verbonde daaraan is om sojas teen 'n hoër persentasie voginhoud te stroop, en hoe die graan in dié geval behandel sou word Dié saak is te berde gebring tydens die Sojawegbreeksessie van die GraanSA-kongres.

        Dr Briedenhann
        Sojawerkgroep
        Tegnologie-komitee

  16. Datum van volgende vergadering

    Die datum van die volgende vergadering van die Sojawerkgroep word bevestig as 22 Oktober 2014.

  17. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank die teenwoordiges vir insette gelewer, asook vir hul aktiewe deelname. Hy wens die lede 'n voorspoedige rit na hul onderskeie tuistes toe, en verdaag die vergadering om 13:15.