Working Group Minutes / Archives / Soy / 26 Januarie 2010

Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 26 Januarie 2010 in die Raadsaal van die Proteïennavorsingstigting, Rivonia



  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur Dr J Dreyer.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal welkom by die eerste vergadering van die Sojawerkgroep van die jaar. 'n Spesiale woord van verwelkoming word gerig aan Dr Jarvie van Pannar.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Mnr D Joubert Visevoorsitter: PNS
    Mnr P Botha GraanSA
    Mnr J Botma Produsent: Noord-Vrystaat
    Mnr L Büchner Kanhym-Landgoed
    Dr P Caldwell Universiteit van KwaZulu-Natal
    Mnr GP de Beer PNS-kontrakteur
    Dr J de Kock PNS
    Dr J Dreyer LNR-IGG
    Mnr CJ du Plessis Produsent: KwaZulu-Natal
    Mnr J Erasmus LNR-IGG
    Mnr G Farr RNRF
    Mnr J Ferreira PNS-kontrakteur
    Dr M Griessel PNS
    Mnr C Havenga PNS-kontrakteur
    Dr A Jarvie Pannar
    Mnr E Maree PNS-kontrakteur
    Mnr FAS Potgieter PNS / GraanSA
    Mnr MT Prinsloo LNR-IGG
    Me M Scheepers Nasionale Departement Land­bou
    Mnr WF van Wyk PNS-kontrakteur
    Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte
    Me Y Papadimitropoulos Administratiewe Beampte
    Me E Harmse Sekretariaat

    Verskonings

    Mnr D Cronjé Produsent: Mpumalanga
    Mnr G Roos Produsent: Mpumalanga
    Mnr A van Vuuren NWK

  4. Personalia

    Gelukwense word oorgedra aan Mnr Van Vuuren met sy verkiesing as tesourier van die Suid-Afrikaanse Gewas­produksie­vereniging. Dr Dreyer word gelukgewens met die toekenning van erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Gewasproduksievereniging wat hom te beurt geval het.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar, met toevoeging van:

    Punt 13.10:  Rhizobium en plantluise.

  6. Goedkeuring van notule

    1. Notule van die Sojawerkgroepvergadering van 6 Oktober 2009

      Besluite:

      1. Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 6 Oktober 2009 word as gelese beskou en goed­gekeur.
      2. Dat die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 6 Oktober na die Bemarkingskomitee verwys word vir plasing op die webblad van die PNS.
  7. Algemene oorsig

    1. Oesskatting

      Die Voorsitter stel die mediavrystelling gedateer 21 Ja­nua­rie 2010, rakende die voorlopige oppervlakteskatting van somergewasse vir die 2009-2010 produksieseisoen, asook 'n dokument waarin toeligting verskaf word op die 2008-09 sojaboonproduksieseisoen en die voorlopige opper­vlakte­skatting vir die 2009-10 produksieseisoen, ter tafel. Hy stel Me Scheepers aan die woord.

      Me Scheepers sê die grafiek rakende die plaaslike pro­duksie van sojabone vanaf 1987-88 tot 2008-09 toon dat die reuse-oes van 516 000 ton wat in 2008-09 behaal is, 83% meer was as die vorige seisoen se 282 000 ton. Sy meld dat die Oesskattingskomitee se finale skatting uit was met 1,3%. Sy sê die gemiddelde opbrengs van 2,17 ton per hektaar in die 2008-09 produksieseisoen was 27,6% hoër as die gemiddeld van 1,70 ton per hektaar, wat die vorige seisoen behaal is.

      Me Scheepers meld dat die geskatte oppervlak wat in die huidige seisoen met sojas beplant is, 274 850 hektaar beloop, wat 'n toename van 37 100 hektaar of 15,6% ver­teenwoordig, vergeleke met die 237 750 hektaar geplant die vorige seisoen. Sy sê hierdie is die hoogste oppervlakte nog ooit plaaslik beplant met sojabone, en is ook 3 850 hektaar, of 1,4%, meer as die voornemens om te plant syfer van 271 000 hektaar, soos vrygestel in Oktober 2009.

      Me Scheepers verwys na die tabel waarin die oppervlakte beplant in die 2009-10 en in die 2008-09 produksie­seisoene, die finale oes vir 2008-09, en die persentasie oppervlakteverandering ten opsigte van 2008-09 versus 2009-10 per provinsie aangedui word. Sy sê die Noordwes provinsie toon die grootste toename in oppervlakte aan­geplant, naamlik 38,5%, gevolg deur die Vrystaat, met 'n 36,4% toename. Sy meld dat die aanplanting van 75 000 hektaar die grootste is in die geskiedenis van sojaboon­verbouing in die Vrystaat. Sy sê sy sou graag wou verneem na die rede vir die 3,7% daling in die KwaZulu-Natalse aanplantings.

      Me Scheepers sê die sirkelgrafiek wat sy opgestel het rakende die totale oppervlakte per provinsie beplant met sojabone, toon duidelik dat die aanplanting in Mpumalanga 51%, die Vrystaat 27%, KwaZulu-Natal 10%, Limpopo 6% en die res, 6% van die totale aanplanting verteenwoordig. Sy meld dat die voorlopige oppervlakteskatting gebaseer is op data wat ingewin is deur die nasionale en die provinsiale departemente van landbou, en dat die oppervlakte weer hersien sal word in Februarie, wanneer die konsortium se data in berekening gebring sal word en die skatting, na verwagting, aangepas sal word.

      Die Voorsitter wens Me Scheepers geluk met die wyse waarop en die formaat waarin die inligting beskikbaar gestel word. Me Scheepers rapporteer dat Me Beukes heelwat insette gelewer het tot die verslag.

      Dr Dreyer doen aan die hand dat die Sojawerkgroep se waardering vir die insette gelewer deur Me Beukes en Scheepers oorgedra word aan die Nasionale Oes­skattings­komitee.

      Besluit:

      1. Dat die Sojawerkgroep se waardering vir die insette gelewer deur Me Beukes en Scheepers oorgedra word aan die Nasionale Oesskattingskomitee.

        Mnr Keun

    2. SAGIS

      (Besluit 7.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Oktober 2009)

      Kennis word geneem van die uitgawe van die SAGIS Week­likse Bulletin gedateer 15 Desember, en van die Maande­likse Bulletin, gedateer 19 November 2009.

      Die Voorsitter sê volgens SAGIS se tabel rakende die maandelikse bekendmaking van inligting, is 499 000 ton sojabone gelewer in die tydperk Januarie tot Oktober 2009. Me Scheepers meld dat sy oor die nuutste inligting beskik, en dat die lewerings deur produsente tot en met die einde van Desember 2009 502 000 ton beloop.

      Die Voorsitter meen dat dit interessant sou wees om 'n grafiek te trek oor die sojaboonlewerings per provinsie oor die loop van 'n aantal jare. Hy sê ondersoek sal ingestel word na die moontlikheid om SAGIS te versoek om data te publiseer rakende die aanduidende uitvoerpariteitsprys van sojabone.

      Besluit:

      1. Dat ondersoek ingestel word na die moontlikheid om SAGIS te versoek om data te publiseer rakende die aanduidende uitvoerpariteitsprys van sojabone.

        Voorsitter

    3. Provinsies

      1. KwaZulu-Natal

        Die Voorsitter sê dit wil voorkom asof daar meer mielies as sojabone aangeplant is in KwaZulu-Natal die vorige pro­duksie­seisoen, en verneem na die rede vir hierdie neiging. Mnr Du Plessis noem dat KwaZulu-Natal tradisioneel 'n amptelike invoerder van mielies is, en dat die KwaZulu-Natalse produsente 'n premie betaal word vir die mielies wat hulle produseer. Hy sê vervoerkoste speel ook 'n groot rol.

        Mnr Du Plessis voer aan dat daar bepaald 'n toename is in die sojaboonaanplantings in KwaZulu-Natal teenoor die vorige jaar. Dr Jarvie is egter van mening dat die aantal beplante hektare onveranderd gebly het. Mnr Havenga sê dit wil voorkom of die aanplantings te Bergville / Winterton min of meer dieselfde sal wees as die vorige jaar, of bietjie meer. Hy meld dat daar bepaald meer sojas geplant is te Normandien, en ook bietjie meer te Dundee en Vryheid.

      2. Mpumalanga en Gauteng

        Die Voorsitter sê volgens die Oesskattingskomitee is 15 000 hektaar meer sojabone in die huidige seisoen in Mpumalanga aangeplant as in die vorige seisoen. Mnr Büchner noem dat min of meer dieselfde aanplantings as die vorige jaar in die Middelburg-omgewing gedoen is, maar dat produsente in die omgewing van Hendrina en Davel oorbeweeg het na sojas in 'n stelsel van verminderde bewerking. Hy sê die aanplantings is gedoen op grond wat weggeneem is deur die Staat, en teruggehuur word deur produsente, en dit wil voorkom asof 'n groep Argentyne betrokke is by die inisiatief.

        Mnr de Beer noem dat produsente in die omgewing van Dirkiesdorp, wat vir 'n aantal jare nie sojas geplant het nie, hierdie jaar begin het om weer sojas te plant. Hy sê in die Morgenzon-omgewing het die produsente ook heelwat meer sojas geplant as in vorige jare.

        Mnr Van Wyk meld dat van die bestaande sojaprodusente tot 50% meer sojabone geplant het, en hy veral in Gauteng soja-aanplantings gesien het in gebiede waar hy nog nooit soja-aanplantings waargeneem het nie.

        Die Voorsitter rapporteer by monde van Mnr Roos dat die sojabone te Wonderfontein traag is om hoog te groei weens min hitte-eenhede in November en Desember, en dat die soja-oes hopelik nie nadelig geraak sal word hierdeur nie. Hy sê volgens Mnr Roos is onkruid 'n redelike probleem, weens die tendens dat die sojas nie hoog groei en die rye nie mooi toemaak nie, en moet ekstra bespuiting toegedien word.

        Mnr Van Wyk rapporteer dat hy die vorige week die eerste gevalle van sclerotinia in Mpumalanga waargeneem het. Hy beskou dit as 'n vreemde verskynsel, aangesien dit on­ge­veer drie weke of meer voor die gewone tyd is wat sclerotinia aldaar waargeneem word.

        Mnr Botha sê na wat berig word het sclerotinia ook reeds posgevat in Piet Retief, en is groot kolle aanplantings reeds daarmee heen. Mnr Du Plessis noem dat sclerotinia klaarblyklik ook vroeg waargeneem is, te Vryheid.

        Mnr Van Wyk is van mening dat die geskatte aanplantings in Gauteng opwaarts aangepas moet word. Mnr de Beer noem dat geweldig baie sojas aangeplant is in die om­gewing van Greylingstad en Balfour, waar hy nie die vorige jaar soja-aanplantings gesien het nie.

      3. Noordwes- en Limpopoprovinsie

        Die Voorsitter meld dat die aanplantings in Noordwes provinsie verhoog het van 6 500 hektaar na 9 000 hektaar, met 'n toename van 500 hektaar in Limpopo.

        Mnr Potgieter bevestig dat meer sojabone aangeplant is in Noordwes en Limpopo. Hy sê na Koedoeskop se kant is verseker meer sojas aangeplant, en is geen mielie-aanplantings waarneembaar tussen die soja-aanplantings nie. Hy sê produsente van Ottosdal het by hom verneem welke cultivars hulle kan aanplant. Mnr Erasmus noem dat hy ook navrae ontvang het vanaf Ottosdal, en dat hy die produsente voorsien het van 'n cultivaraanbeveling.

        Die Voorsitter sê volgens die Oesskattingskomitee is 200 000 hektaar meer mielies geplant, en wil dit voorkom of koring, sorghum en sonneblom die verloorders is.

      4. Vrystaat

        Mnr Maree rapporteer ten opsigte van die oostelike Vrystaat. Hy sê in die tradisionele sojaboongebiede is minder sojas aangeplant, maar dat sojas vir die eerste keer aangeplant is in gebiede in die omgewing van Fouriesburg, Heilbron, Sasolburg en Verkykerskop. Hy is van mening dat die oppervlakteskatting akkuraat kan wees.

        Mnr Botma sê waar sojas tradisioneel aangeplant is in die Noord-Vrystaat het die situasie min of meer dieselfde gebly, maar het 'n aantal produsente in besproeiings­gebiede begin sojas plant. Hy meld dat hy vir 'n ander produsent geplant het, en dat die produsente onseker is hoe om sojaverbouing aan te pak. Hy noem dat al hoe meer produsente afsien van koring, as gevolg van plantsiektes. Hy is van mening dat al hoe meer produsente sal oorskakel na sojas, indien die nodige tegnologie-oordrag plaasvind.

        Die Voorsitter verneem by Mnr Botma wat die nuwe toe­treders tot sojaverbouing daartoe gemotiveer het. Mnr Botma sê die nuwe toetreders is op soek na 'n gewas om koring in 'n wisselboustelsel met mielies te vervang, weens die swak koringprys en die plantsiektes waarvoor koring vatbaar is. Hy noem dat sonneblom nie so winsgewend is in daardie gebied as dit baie reën nie, en sou produsente eerder sojas saam met mielies in 'n wisselboustelsel plant. Hy sê heelwat stroper kontrakteurs maak deesdae gebruik van fleksietafels, en begin al hoe meer sojas stroop, met die gevolg dat produsente gerusgestel is oor stroper kapasiteit. Hy bevestig op navraag van die Voorsitter dat bykomende stroper­kapasiteit beskikbaar gestel sal word, indien koring begin bes gee.

        Mnr Botha sê koring word in Desember / Januarie ge­stroop, en behoort nie 'n effek te hê op stroperkapasiteit nie. Hy vind dit interessant dat heelwat bewaringsboere wegbeweeg van tradisionele sisteme af, en dat almal van­jaar sojas as 'n wisselbougewas geplant het. Hy sê bewaringsboere is op soek na 'n besondere wissel­bou­gewas, en is akkerbone in dié opsig direkte kompetisie vir sojas. Hy is van mening dat akkerbone as wenner uit die stryd sal tree. Dr Dreyer noem dat akkerbone meer geskik sou wees vir die westelike deel, en nie sal oorleef in die oostelike deel nie. Hy sê die oostelike Vrystaat is eintlik die sojaboonhinterland, en behoort akkerbone nie as 'n bedreiging vir sojas in die Vrystaat gesien te word nie. Mnr Botha noem dat die bewaringsboere almal in die westelike deel boer, in gebiede soos Kroonstad, Bothaville en Odendaalsrus. Dr De Kock sê akkerbone het 'n baie goeie voordeel in dié sin dat dit 'n goeie voergewas is, maar kan nie naastenby met sojas kompeteer wat kontant in die sak aanbetref nie. Mnr Du Plessis noem dat sojas 'n baie gunstige rol in bewaringsbewerking speel.

        Mnr Botma sê die kwessie met stropers is nie die seisoen wanneer gestroop word nie, maar dat laag gestroop kan word. Hy noem dat kontrakteurs nie sojas wou stroop nie, weens hoë slytasie en die feit dat hulle nie oor die regte toerusting beskik het nie. Hy sê al drie kontrakteurstropers in daardie gebied is nou bereid om sojas te stroop, wat nie vroeër die geval was nie.

        Die Voorsitter verneem by wie die nuwe toetreders tot die bedryf sal aanklop om hulp en leiding. Mnr Botma sê inligting word hoofsaaklik uit artikels bekom. Hy noem dat die manne klein begin, met soja-aanplantings van so dertig of vyftig hektaar. Hy sê plantdigtheid word as probleem beskou, en is saadmaatskappye nog nie behoorlik toegerus om altyd die korrekte raad te verskaf nie. Hy noem dat die nuwe toetreders hulle dikwels wend tot suksesvolle produsente.

        Mnr Büchner noem dat hy reeds die afgelope sewentien jaar sojas plant, en dat hy elke jaar iets nuuts byleer. Hy sê dis in der waarheid onmoontlik om 'n wenresep te gee, aangesien omstandighede op 'n spesifieke plaas die mate van sukses bepaal. Hy noem dat hy ook artikels lees, maar dat ervaring die beste leermeester is. Hy sê iedere plaas en iedere grondtipe het sy eie omstandighede, en kan 'n nuwe toetreder slegs van riglyne voorsien word.

        Mnr Du Plessis bevestig dat elke gebied bepaald sy eie vereistes het. Mnr Havenga sê produsente is geneig om raad te vra by suksesvolle mede-produsente, wat in min of meer dieselfde omstandighede as hy boer. Hy noem dat die sg. opinieleiers produsente is wat taamlik gereeld naslaan­werk doen, landboukundiges raadpleeg, en dies meer. Mnr Joubert is van mening dat die kollig in 'n groter mate geplaas moet word op suksesvolle produsente.

        Dr De Kock verneem of nuwe sojaprodusente die internet sal raadpleeg vir inligting. Mnr Büchner noem dat meeste produsente eerder 'n suksesvolle produsent sal nader om hulp, en hom byvoorbeeld van die sojaboonlande af op sy selfoon sal skakel. Hy sê ervare sojaprodusente sou die internet in hulle vrye tyd raadpleeg, as hulle iets nuuts wil byleer.

        Dr Jarvie is van mening dat voldoende sojaboonkundigheid beskikbaar is in daardie areas waar sojas tradisioneel verbou word. Hy sê die PNS kan 'n bydrae lewer deur kundigheid te ontwikkel in gebiede waar sojas nie tra­disioneel verbou word nie. Hy is van mening dat sojaboon­kundigheid gebiedspesifiek is.

        Mnr Farr beskou ontkieming en inokulasie as deurslag­gewende faktore by suksesvolle sojaverbouing. Hy sê plantpopulasie en aandag aan detail is ook baie belangrik.

      5. Oos-Kaap, Noord-Kaap en Suidwestelike Dis­trik­te

        Geen kommentaar.

    4. Weer- en klimaatsvooruitskouing

      Die Voorsitter noem dat die El Niño-verskynsel, wat die vorige jaar voorspel is, nie die verwagte impak plaaslik gehad het nie.

    5. Mikpunte – 2015

      Kennis word geneem van die grafiek "RSA Soybeans – Commercial production" waarin die verlangde toename in jaarlikse sojaboon­produksie indien sojaproduksie binne vyf jaar sou verdubbel, gereflekteer word. Die Voorsitter sê dit klink moontlik voortvarend om te stel dat die oes jaarliks met 100 000 ton kan verhoog, en hoewel die tekens wat betref wisselbou en uitbreiding van oppervlakte positief voorkom, is 'n toename in produksie van 100 000 ton per jaar waarskynlik nie volhoubaar nie.

      Dr Dreyer is van mening dat dit wél haalbaar sou wees om sojaproduksie binne vyf jaar te verdubbel. Hy sê 'n jaarlikse groei van 12,5% word vereis, in terme van oppervlakte, indien die gemiddelde opbrengs per hektaar konstant sou bly, en is die vereiste jaarlikse groei van 12,5% alreeds in die huidige produksiejaar verbygesteek.

      Dr Dreyer sê hierbenewens moet die verhouding tussen sojabone en mielies in gedagte gehou word. Hy noem dat 3,3 keer meer mielies as sojas geplant word in KwaZulu-Natal, en 3,5 keer meer mielies as sojas in Mpumalanga. Hy sê indien die redelik ideale verhouding van tweekeer mielies eenkeer sojas in plek gestel word, sal 240 000 hektaar sojas net in Mpumalanga aangeplant word. Hy noem dat slegs eenveertiende van die bewerkbare opper­vlakte in Gauteng met sojas beplant word, en dat dié provinsie groot uitbreidingsmoontlikhede het.

      Die Voorsitter sê 'n totale soja-aanplanting van 250 000 hektaar verteenwoordig maar 10% van die mielie-aanplantings in 'n wisselboustelsel. Mnr Du Plessis meld dat die aanplantings in KwaZulu-Natal gestabiliseer het op naastenby een derde van die beskikbare oppervlakte, en voeg by dat die PNS sy teiken bepaald sal haal, indien die ander sojaverbouende provinsies KwaZulu-Natal se voor­beeld volg.

      1. Driejaar vooruitskatting

        (Besluit 7.5.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2010)

        Bespreek as deel van besprekingspunt 7.5.

  8. Markaangeleenthede

    1. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

      Dr Griessel noem dat die sojaboonopeningsvoorrade ge­daal het vanaf 60,02 miljoen ton in 2008-2009 tot 47 miljoen ton in 2009-2010. Hy sê die totale wêreldproduksie van sojas in 2008-2009 het te staan gekom op 212,08 miljoen ton, en word verwag dat 251,53 miljoen ton sojas, of 39,45 miljoen ton meer, internasionaal geproduseer sal word in 2009-2010. Hy noem dat Amerika na verwagting 10,75 miljoen ton sojas meer in 2009-2010 sal produseer as die vorige jaar.

      Met verwysing na die Suidelike Halfrond, sê Dr Griessel dat die produksie van sojas na verwagting met nagenoeg 29 miljoen ton sal styg, hoofsaaklik vanweë die Argentynse toename in produksie van 19 miljoen ton teenoor die vorige jaar. Hy vind dit interessant dat die 51 miljoen ton wat na verwagting in Argentinië geproduseer sal word op 18,75 miljoen hektaar, 'n opbrengs van 2,7 ton per hektaar impliseer. Hy sê ten spyte van die feit dat al die aan­plantings in Brasilië nog nie gedoen is nie, word die verwagte oes beraam op 64 miljoen ton. Hy noem egter dat daar kommer bestaan oor die nat toestande in Brasilië, wat tot gevolg het dat roes vinnig versprei. Hy voeg by dat die produsente nie in die lande kan inkom om swamdoders toe te dien nie, en is roes reeds op 676 verskillende lokali-teite waargeneem. Hy noem dat Paraguay na verwagting 3 miljoen ton meer sojabone sal produseer in 2009-2010, met verwagte opbrengste van tussen vier en vyf ton per hektaar in sekere gebiede.

      Dr Griessel sê die totale voorsiening van sojabone in 2009-2010 sal na verwagting 298,53 miljoen ton wees, met 'n geskatte verbruik van 232 miljoen ton, en 'n verwagte eindvoorraad van 66,53 miljoen ton, of 20,16 miljoen ton meer as die vorige jaar. Hy noem dat die 8% styging in die verhouding tusen voorraad en verbruik aanleiding sal gee tot 'n verlaging in pryse. Hy sê na verwagting sal die prys van sojabone teen Junie nagenoeg R2 800 per ton beloop, en wil dit voorkom asof sojas 'n beter proposisie is, indien mielies teen 'n prys van nagenoeg R1 400 per ton ver-handel.

      Dr Griessel gee 'n uiteensetting van die afgeleide pro­du­senteprys vir sojabone, soos uiteengesit in die tabel wat volg, waarna die Voorsitter hom bedank vir insette gelewer.

      Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteíen) geland Durban soos op 25 Januarie 2010
      Verskeping: R3 583   |   Wisselkoers: R7.59/US$
      Geland Durban 47% proteïen oliekoek 3 583.00
      Vervoer na Randfontein (per ton) 260.00
      Rente 2 weke 15% 20.00
      0,5% hanteringsverlies 18.00
      Gelande prys 3 882.00
      Waarde van volvetsoja 110% R4 370.00
      Min koste om sojabone na volvetsojabone te verwerk 1 017.00
      – Vervoerkoste na volvet-aanleg 150.00
      – Stoorkoste 115.00
      – Rente 15% (6 maande) 264.00
      – Ekstrusiekoste 285.00
      – 5% ekstrusieverlies 203.00
      Afgeleide produsenteprys vir sojabone (op plaas) – R/ton R3 253.00

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat die PNS se afgeleide produsenteprys vir sojabone soos op 25 Januarie 2010 R3 253 beloop het.

        Lede

    2. SAFEX

      (Besluit 8.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Oktober 2009)

      Kennis word geneem van die SAFEX-termynprys van sojabone soos op 8 Januarie 2010, wat as Bylae F by die sakelys aangeheg is.

      Die Voorsitter onderneem om ter gelegener tyd terug­voering te gee oor die mate van vordering wat behaal is om die prys van sojas saam met dié van ander kommoditeite te beeldsend op die televisienuusprogramme.

      Besluit:

      1. Dat terugvoering ingewag word na aanleiding van die besluit dat ondersoek ingestel sal word na die moont­likheid om die sojaboonprys op die televisie­nuus­programme beskikbaar te stel, saam met die prys van ander gewasse soos sonneblom, koring en mielies.

        Voorsitter

  9. Produsente-aangeleenthede

    1. KwaZulu-Natal

      1. Supersojakompetisie

        Die Voorsitter hou die verslag van die Supersojakompetisie 2009 voor aan die lede. Mnr Du Plessis noem dat twintig jaar se kompetisiedata beskikbaar gestel is aan statistici by Cedara vir ontleding, en versoek dat die lede by 'n volgende vergadering duidelikheid verskaf oor inligting wat hulle aan die hand van die data sou wou bekom.

        Die Voorsitter sê daar moet bepaal word op welke manier die inligting voortspruitend uit die Supersojakompetisie aangewend kan word om nuwe toetreders tot die bedryf ter wille te wees. Hy verneem of die ideaal sou wees om al hoe meer deelnemers te lok na die kompetisie, en of daar nie meer gekonsentreer moet word om die boodskap vervat in die resultate uit te dra nie. Mnr Keun noem dat ooreen­gekom is om ten tye van die April-vergadering gesprek te voer oor die Super-sojakompetisie.

        Dr Griessel sê hy het dit interessant gevind dat 23 van die 57 deelnemers nie bemesting toegedien het nie, en dat die hoogste brutomarge en hoogste opbrengs op droëland in die suidelike gedeelte behaal is deur 'n produsent wat geen bemesting toegedien het nie. Hy sê daar moet ook gekyk word na dit wat die produsent die vorige jaar geplant het, en die hoeveelheid bemesting wat hy die vorige jaar toegedien het. Hy noem dat die blaarontledings by 'n aantal lokaliteite gedui het op 'n lae stikstofvlak, maar dat dit nie die opbrengste negatief beïnvloed het nie. Hy sê die koperblaarontledings volg dieselfde tendens.

        Mnr Joubert sê hy sou graag wou sien dat die statistici die verband tussen sub-optimale bemesting en bruto-opbrengs ondersoek. Hy noem dat die verband tussen sekere veranderlikes soos plantdatums, rywydtes en opbrengs ook bepaal kan word, en ook byvoorbeeld die verband tussen bevorderaars en opbrengs. Hy noem dat daar ook 'n anomalie is tussen sekere grond- en blaar­ontledings.

        Mnr Farr noem dat navorsingresultate getoon het dat die beste resultate behaal word met residuele bemesting. Mnr Havenga sê een van die deelnemers het vyf ton per hektaar behaal, en geen kunsmis toegedien nie, maar die grond­ontledings toon dat die peile drie keer bokant die optimum is.

        Mnr Botha dra sy gelukwense oor aan die samesteller van die Supersojakompetisieverslag. Hy sê dit sou interessant wees om te weet wat die vorige jaar op daardie land aangeplant was, asook die bemestingspeile wat aldaar toegedien is. Met betrekking tot kunsmiskoste, doen hy aan die hand dat die onttrekkings uit die grond bepaal word, en 'n koste daarteen verreken word. Hy sê die oor­bemesting van die vorige jaar en die bemesting wat in die huidige jaar toegedien is, sal op daardie wyse gelykgeskuif kan word.

        Dr Griessel sê benewens inligting oor die gewas wat die vorige jaar geplant is, sou hy ook wou verneem welke opbrengs met daardie gewas behaal is.

        Die Voorsitter sê die resultate van die Supersojakompetisie moet aangewend word om geslaagde sojaverbouing in KwaZulu-Natal te bewerkstellig, en om sojaboonverbouing aldaar te bevorder.

        Besluit:

        1. Dat die gesprek met Mnr Joubert insake die berekening van sekere koste-items met betrekking tot die Supersoja­kompetisie, met die oog daarop om dit in lyn te bring met Mnr Joubert se metodologie, oorstaan vir bespreking tydens 'n volgende vergadering.

          Mnre Du Plessis en Havenga

      2. Navorsing

        Geen rapportering.

      3. Verslag: "No-Till"-Boeredag, 8 en 9 September 2010

        (Besluit 9.1.3.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

        Daar word kennis geneem dat die Argentynse inisiatief te Normandien verwys is na die Tegnologiekomitee, met die oog op die vestiging van nouer samewerkingsbande.

        Besluit:

        1. Dat kennis geneem word dat die Argentynse inisiatief te Normandien verwys is na die Tegnologiekomitee, met die oog op die vestiging van nouer samewerkingsbande.

          Dr Griessel

    2. Mpumalanga en Gauteng

      1. Navorsing

        Geen verslaggewing.

      2. Blaarvoedingsmiddels

        Dr Caldwell bevestig dat sy by Dr Godoy, verbonde aan Embrapa, navraag sal doen oor die aktiewe bestanddele van die chemiese middels, wat ingesluit is in die landswye opname wat in Brasilië gedoen is, om vas te stel of daar 'n verband is tussen opbrengs en die chemiese middels wat teen sojaboonroes toegedien is.

        Besluit:

        1. Dat by Dr Godoy, verbonde aan Embrapa, navraag gedoen word oor die aktiewe bestanddele van die chemiese middels, wat ingesluit is in die landswye opname wat in Brasilië gedoen is, om vas te stel of daar 'n verband is tussen opbrengs en die chemiese middels wat teen sojaboonroes toegedien is.

          Dr Caldwell

      3. Individuele strookdemonstrasieproewe

        (Besluit 7.6.1.1 van die Sojabeplanningstaakspan van 5 Oktober 2009 en besluit 9.2.3.1 van die Soja­werk­groep­notule van 6 Oktober 2009)

        Dr De Kock rapporteer dat die verslag van die individuele strookdemonstrasieproewe verwys is na die Tegnologie­komitee. Die Voorsitter reël dat die verslag ingebind word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.

        Besluit:

        1. Dat daar tydens die volgende vergadering verslag gelewer sal word oor die individuele strookdemonstrasieproewe wat in Mpumalanga onderneem is.

          Mnre De Beer en Van Wyk

    3. Noordwes- en Limpopoprovinsie

      1. Navorsing

        Geen verslaglewering.

      2. Ander

        Geen verslaglewering.

    4. Vrystaat

      1. Navorsing

        Geen verslaglewering.

      2. Ander

        Geen verslaggewing.

    5. Oos-Kaap, Noord-Kaap en Suidwestelike Dis­trik­te

      1. Navorsing

        (Besluit 9.5.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

        Daar word kennis geneem van die afskrif van die voor­legging "The economics of soybeans", wat Mnr Farr gelewer het tydens die vorige vergadering.

      2. Ander

        Geen verslaglewering.

    6. Algemeen

      Geen verslaglewering.

  10. Navorsing

    1. Nasionale cultivarproewe 2008-2009: verslag

      (Besluit 10.1.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

      Mnr Erasmus verskaf aan die hand van 'n visuele voor­legging 'n uiteensetting van die resultate van die nasionale sojaboon­cultivarevaluasieproewe wat in 2008-2009 onder­neem is. Hy sê 'n tweede dokument spruit voort uit dié verslag, te wete die Nasionale Sojabooncultivar­aanbevelings. Hy noem dat geweldige druk ondervind is om die aanbevelings vroeër bekend te maak, maar die bekendstelling van die aanbevelings vertraag is aangesien die Nasionale Cultivarevaluasiekomiteevergadering op 'n baie laat stadium gehou word, en baie naby aan die plantdatum in die koel gebiede is. Hy sê hierbenewens word probleme ondervind om die proefresultate tydig te bekom.

      Mnr Erasmus verduidelik om welke rede die cultivarproewe aangeplant word, en welke agronomiese eienskappe onder­soek word. Hy noem dat die proewe in koel, matige en warm gebiede aangeplant word, en dat ses proewe in die koel gebiede aangeplant is, tien in die matige gebiede, en agt in die warm gebiede.

      Mnr Erasmus verduidelik welke probleme hy mee te kampe gehad het in die loop van die produksieseisoen. Hy sê die droë voorjaar het laat aanplantings in die koel gebiede tot gevolg gehad, dat Bothaville net na plant misluk het as gevolg van droogte, en dat die proef te Bethlehem toege­spoel het. Hy noem dat tegniese probleme ook opgeduik het, met Reitz, Warmbad, Empangeni (Plantdatum drie) en Tygerhoek, waar die koëffisiënt van variasie bo 20% was, en dat sommige proewe belemmer is deur roes, sclerotinia, hael en laat aanplantings.

      Mnr Erasmus is van mening dat 2008-2009 beslis 'n sojaboonjaar was. Hy sê die proewe het besonders goed vertoon, het bo verwagting presteer, en is verhoogde opbrengste behaal, met vier cultivars wat vyf ton per hektaar gemiddeld gelewer het, ook op droëland. Hy sê opbrengste van vier ton per hektaar was ook algemeen. Hy noem dat die proefgemiddeld van die fase een proewe drie ton per hektaar was, en dat twee nuwe cultivars wat nog nie geregistreer is nie, te wete Lex1233 en Lex2257R die beste presteer het, met 3,202 ton per hektaar en 3,127 ton per hektaar onderskeidelik.

      Die Voorsitter reël dat die lokaliteite waar cultivar­evaluasieproewe en ook ander proewe, soos die van RNRF, in die 2009-2010 produksiejaar aangeplant is, aangestip word, en dat dié inligting beskikbaar gestel word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.

      Besluit:

      1. Dat die lokaliteite waar cultivarevaluasieproewe en ook ander proewe in die 2009-2010 produksiejaar aangeplant is, aangestip word, en dat dié inligting beskikbaar gestel word met die dokumentasie van die volgende ver­ga­dering.

        Mnr Keun

    2. Roes

      1. Inligting vanaf Sojaboonroeswerkgroep

        (Besluit 10.2.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

        Die Voorsitter reël dat terugvoering rakende die besluit dat by Embrapa en INTA vasgestel word onder welke om­standighede die voorkoms van roes in 'n gebied as ende­mies beskou word, oorstaan na 'n volgende vergadering.

        Besluit:

        1. Dat by Embrapa en INTA vasgestel word onder welke omstandighede die voorkoms van roes in 'n gebied as endemies beskou word.

          Dr Caldwell

      2. Roesmiddels

        (Besluit 10.2.2.1 en 10.2.2.2 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Oktober 2009)

        Die Voorsitter rapporteer dat Dr Caldwell en Prof Laing 'n artikel geskryf het met die titel "Soybean rust – beware of resistance to triazole fungicides". Hy sê daar is besluit om die artikel so spoedig doenlik beskikbaar te stel op die PNS-webwerf.

        Die Voorsitter bevestig op navraag van Mnr Botha dat die artikel beskikbaar gestel kan word op die GraanSA-webwerf, aangesien dit wenslik sou wees om die inligting so wyd moontlik beskikbaar te stel.

        Besluit:

        1. Dat kennis geneem word dat die artikel "Soybean rust – beware of resistance to triazole fungicides" so spoedig doenlik beskikbaar gestel sal word op die PNS-webwerf, met 'n skakel na die artikel op die webwerf van GraanSA.

          Mnr Keun

      3. "Rust resistance genes in soybeans identified"

        (Besluit 10.2.3.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

        Daar word kennis geneem van die artikel "Rust resistant soya", waarin berig word oor 'n roesweerstandige sojaboon­cultivar wat in Nigerië gekommersialiseer is.

        Dr Jarvie noem dat hy kiemplasma van die cultivar getoets het, maar dat die cultivar nie aangepas is by die plaaslike breedteligging nie.

      4. Konsepnotule van die Sojaroeswerk­groep­vergadering gehou op 21 Julie 2009

        Daar word kennis geneem van die konsepnotule van die Sojaroeswerkgroepvergadering, wat gehou is op 21 Julie 2009. Daar word voorts kennis geneem dat die volgende vergadering van die Sojaroeswerkgroep op 20 Julie 2010 gehou sal word in Johannesburg.

        Dr De Kock sê die PNS het 'n prosedure in plek gestel om die voorkoms van roes te monitor aan die hand van die roes­vangerproewe. Hy noem dat Mnr De Beer die proewe weekliks besoek en monsters neem, en dit aan Dr Craven te Potchefstroom lewer vir bevestiging van roesinfeksie. Hy doen 'n beroep op die lede om die kantoor van die PNS te skakel, indien roes waargeneem word, sodat Mnr De Beer besoek aldaar kan aflê en die monsters aan Dr Craven kan voorsien vir verifikasie.

        Mnr Keun noem dat die hersiene Sojaboonroespamflet beskikbaar is op die PNS-webblad. Hy sê harde kopieë is ook beskikbaar.

        Besluit:

        1. Dat kennis geneem word dat die volgende vergadering van die Sojaroeswerkgroep op 20 Julie 2010 gehou sal word in Johannesburg.

          Lede

    3. Sclerotinia

      1. Proefwerk – terugvoering Sclerotinia­werkgroep­vergadering

        (Besluit 10.3.1.1 van Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

        Daar word kennis geneem van die konsepnotule van die Sclerotiniawerkgroepvergadering, wat gehou is op 21 Julie 2009. Daar word voorts kennis geneem dat die volgende vergadering van die Sclerotiniawerkgroep gehou word op 20 Julie 2010 in Johannesburg.

        Besluit:

        1. Dat kennis geneem word dat die volgende vergadering van die Sclerotiniawerkgroep gehou word op 20 Julie 2010 in Johannesburg.

          Lede

      2. Sclerotinia-opnames

        (Besluit 10.3.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

        Mnr Botha bevestig op navraag van die Voorsitter dat GraanSA produsente sal aanmoedig om deel te neem aan die sclerotinia-opnames.

        Besluit:

        1. Dat kennis geneem word dat GraanSA produsente sal aanmoedig om deel te neem aan die sclerotinia-opnames.

          Mnre Potgieter en Botha

      3. "Seedborne aspects of Sclerotinia sclerotiorum"

        (Besluite 10.3.3.1 en 10.3.3.2 van die Sojawerk­groep­notule van 6 Oktober 2009)

        Die Voorsitter versoek Dr Caldwell om kommentaar te lewer oor die moontlikheid dat sclerotinia saadgedraagd mag wees. Dr Caldwell sê Me Tweer het op navraag aan haar genoem dat sojabone nie getoets word vir siekte­vryheid nie, en het sy gesê die enigste vereiste is dat sclerotiniavryheid duidelik waarneembaar moet wees by sojabone. Sy noem dat veral terug­gehoude saad hierdeur geaffekteer mag word.

        Dr Jarvie sê dit is moontlik, maar onwaarskynlik, dat sclerotinia saadgedraagd mag wees. Hy sê die infeksie moet uiters omvattend wees om saadgedraagd te word.

    4. Rhizobium

      (Besluit 10.4.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

      Mnr Botha rapporteer dat hy die Kantoor van die Regi­strateur per brief ingelig het dat 'n PNS-befondsde studie bevind het dat die kwaliteit van sekere rhizobium-entstowwe wat plaaslik verhandel word onder verdenking is. Hy sê hy het nog geen terugvoering ontvang nie, en noem dat die Kantoor van die Registrateur klaarblyklik wag vir 'n kopie van die betrokke navorsingsverslag, alvorens hulle reageer.

      Besluit:

      1. Dat terugvoering ingewag word rakende die Kantoor van die Registrateur se reaksie op die inligting wat GraanSA aan hulle deurgegee het oor die huidige stand van sake met betrekking tot die onbevredigende kwaliteit van sekere rhizobium-entstowwe wat plaaslik verhandel word, en ook oor die tekortkominge met betrekking tot die behoorlike toetsing van gemelde entstowwe.

        Mnr Potgieter

    5. PNS-Goedgekeurde Projekte 2010/2011

      Daar word kennis geneem van die lys van PNS-goedgekeurde projekte vir 2010/2011.

    6. OPOT/OAK-Goedgekeurde projekte 2010/2011

      Daar word kennis geneem van die lys van OPOT/OAK goedgekeurde projekte vir 2010/2011.

  11. Saad

    1. Terughouding van graan as saad

      (Besluit 11.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

      Daar word kennis geneem van die uittreksels uit die Brasiliaanse literatuur soos vervat in Bylae N, waarin 'n omskrywing gegee word van dít wat as goeie, gesonde saad beskou word, en welke faktore hier 'n rol speel.

    2. Saadmaatskappye: nuwe ontwikkelings

      (Besluit 11.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

      Daar word kennis geneem van die inligtingstuk "Soybeans website update September 2009", vervat in Bylae O.

  12. Tegnologie-oordrag

    1. Inligtingsdae 2010: datums, terugvoering en reklame

      Dr Jarvie meld dat Pannar 'n hele reeks inligtingsdae aanbied. Hy onderneem om die skedule beskikbaar te stel aan die kantoor van die PNS. Mnr Maree bevestig dat hy boeredagdatums sal deurgee aan die kantoor van die PNS. Mnr Botma sê hy sal met Dr De Kock gesprek voer oor 'n boeredag op sy plaas.

      Kennis word geneem van die volgende inligtingsdae:

      Detail sal bevestig word Pannar-Inligtingsdae
      23 Februarie 2010 Sojabooninligtingsdag, Hatfieldproefplaas, Universiteit van Pretoria
      18 Maart 2010 Boeredag op die plaas van Mnr Koos Pieterse, Koedoeskop
      Detail sal bevestig word. Sclerotinia-strookdemonstrasieproef, Kinross
      September 2010
      Detail sal bevestig word.
      "No Till"-Inligtingsdag, Drakensville

    2. Sojabladskrif

      (Besluite 12.2.1en 12.2.2 van Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

      Die Voorsitter sê daar is na aanleiding van 'n bespreking oor die aangeleentheid tydens 'n vorige vergadering, besluit om ondersoek in te stel na die moontlikheid om 'n artikel saam te stel oor wisselbou onder besproeiing met mielies en koring, met sojas tussen-in, ten einde die siektes wat deur koring na mielies oorgedra word te bekamp.

      Die Voorsitter rapporteer dat Mnr Birch getaak is om 'n inligtingstuk saam te stel rakende die ekonomiese en ander voordele van sojas in 'n wisselboustelsel.

      Besluite:

      1. Dat kennis geneem word dat Mnr Birch getaak is met die opdrag om 'n inligtingstuk saam te stel oor die eko­no­miese en ander voordele wat sojas in 'n wissel­bou­stelsel bied.

        Voorsitter

      2. Dat by Embrapa in Brasilië en INTA in Argentinië navraag gedoen word oor die beskikbaarheid van literatuur rakende die voordele wat sojas ten opsigte van peste en plae bied in 'n wisselbouprogram met mielies en sojas.

        Dr Caldwell

    3. Inkomste- en kosteramings

      (Besluite 12.3.1 en 12.3.2 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­tober 2009)

      Die Voorsitter sê die PNS huldig die mening dat die finansiële resultate wat behaal word deur 'n bepaalde aktiwiteit van deur­slaggewende belang is. Hy noem dat 'n produsent die winsgewendheid van sy eie boerdery kan bereken aan die hand van die formaat van die PNS se Inkomste- en kosteramings, wat saamgestel word onder leiding van Mnr Joubert. Hy stel Mnr Joubert aan die woord.

      Mnr Joubert sê die gedagte is om enige uitskieters in die dokument onder Mnr Ferreira se aandag te bring, sodat hy dit kan opvolg. Hy noem dat die Inkomste- en koste­ramings nie 'n opname is nie, maar ramings, 'n begroting wat opgestel is vir die jaar wat voorlê. Hy sê die Inkomste- en kosteramingsprojek het sy ontstaan gevind aangesien 'n soortgelyke projek, wat die Departement van Landbou as inligtingshulpmiddel in die vroeë sestigerjare van stapel gestuur het, gestaak is. Hy meld dat daar aanvanklik in die PNS projek slegs 'n begroting vir sojas opgestel is, maar kompeterende gewasse, soos mielies en koring, later van tyd ingesluit is by die projek.

      Mnr Joubert sê die Inkomste- en kosteramings dien as 'n stuk gereedskap in die hand van die produsent, wat hy kan benut wanneer hy sy boerderybeplanning wil doen, wan­neer hy sy bankier wil gaan sien, ensovoorts. Hy beskou die Inkomste- en kosteramings as 'n resep vir die opstel van 'n begroting, en sal nie een van die begrotings pas by 'n individuele produsent se situasie nie. Hy noem dat daar aanvanklik slegs van die koöperasies se inligting gebruik gemaak is, maar dat daar ook later begin is om inligting te bekom uit groepbesprekings. Hy sê Mnr Ferreira is nagenoeg twee jaar gelede gekontrakteer om die saamstel van die Inkomste- en kosteramings te onderneem.

      Mnr Joubert sê die ideaal sou wees om deurgaans van dieselfde metodiek gebruik te maak, en dat die PNS in daardie rigting beweeg. Hy noem dat 'n opsommende tabel vir 'n bepaalde gewas, soos sojas, mielies en sonneblom, vir al die verskillende gebiede op versoek saamgestel is, en het die Voorsitter ook 'n behoefte aan 'n sensitiwiteitstabel identifiseer. Hy sê die sensitiwiteitstabel is 'n variërende tabel met wisselende pryse en wisselende opbrengste, wat handig aangewend kan word, en sou byvoorbeeld vir 'n produsent kon aandui hoeveel kilogram per hektaar sojas meer produseer moet word om 'n positiewe brutomarge te bewerkstellig.

      Mnr Joubert noem dat elf sojabegrotings opgestel is, waarvan agt se brutomarges beter presteer as mielies, drie sonneblom­begrotings wie se brutomarges almal beter pre­steer as sojas, hoewel een slegs marginaal beter presteer, en een koringbegroting. Hy sê ten spyte van die lae koringprys, klop koring in die betrokke situasie al die ander gewasse waarteen dit gemeet is. Hy noem dat negatiewe brutomarges algemeen was in die verlede, maar dat geen negatiewe brutomarge in hierdie ramings identifiseer is nie.

      Mnr Ferreira beklemtoon dat die inligting uit twee bronne bekom word, te wete die koöperasie-inligting en groeps­besprekings. Hy sê die groepsbespreking word beskou as 'n goedkoop manier om vinnig inligting te bekom, maar moet die inligting wat vanaf die deelnemers bekom word oordeelkundig hanteer word, aangesien dit beïnvloed kan word deur byvoorbeeld streeks- en plaasverskille. Hy noem dat kwessies soos grondvrugbaarheid, klimaat en op­brengsmikpunte waarvoor bemes is tot gevolg kan hê dat inligting kan verskil. Hy sê hy beskik oor al die detail onderliggend aan die Inkomste- en kosteramings.

      Die Voorsitter sê die gedagte is om Inkomste- en koste­ramings verder aan te wend, en op 'n streeksbasis beskik­baar te stel. Hy is van mening dat veral die sensitiwi­teitsanalises heelwat sal bydra om produsente te lei na 'n positiewe brutomarge. Mnr Büchner sê so-iets sou bepaald vir produsente 'n goeie riglyn gee. Hy maan teen die moontlikheid dat die Inkomste- en kosteramings in 'n té lomp formaat aangebied word, en die produsent met te veel inligting gekonfronteer word. Mnr Botma sê die inligting sou 'n produsent in staat stel om te bepaal of die prestasie van sy boerdery vergelykbaar is met dié van ander boerderye in die gebied, en of hy van gewas moet verander.

      Mnr Ferreira meld dat die sensitiwiteitsanalises gebaseer is op inligting wat by produsente bekom is. Hy sê so is byvoorbeeld by produsente verneem na opbrengsvariasie aan die hand van die mate van kunsmistoediening, ge­baseer op produsente-ervaring.

      Dr Griessel noem dat Mnr Ferreira heelwat moeite gedoen het om al die inligting te bekom, en om 'n verduideliking te bekom oor byvoorbeeld die groot verskil in die kunsmis­toedieningskoste tussen Brits en Bergville. Hy meld egter dat 'n verklaring vir die verskil tussen die stikstof­toedieningsvlakke tussen Brits en Bergville nie bekom kon word nie, en sê dit sou die moeite loon om agter die kap van die byl te kom. Hy sê die Inkomste- en kosteramings toon ook duidelik aan welke besparing bewerkstellig word ten opsigte van brandstof, herstel- en onderhoudskoste waar verminderde bewerking onder besproeiing toegepas word. Hy noem dat gebruik gemaak word van kontrak­teurstropers in Bergville, Brits en Koedoeskop, maar dat die stroopkoste per hektaar laer is in Bergville as in Brits en Koedoeskop.

      Die Voorsitter sê dit is duidelik waar die meriete van die Inkomste- en kosteramings lê. Hy noem dat die uitskieters verklaar kan word met behulp van verduidelikende notas. Mnr Ferreira meld dat die tegniek voortdurend verfyn word, en beoog hy om inligting te bekom oor byvoorbeeld die tipe grond ter sprake, en dies meer, ten einde ingeligte aflei­dings te kan maak oor die uitskieters. Hy meld op navraag van die Voorsitter dat hy, met die inset van tegniese persone, uit Bergville se syfers sou kon aflei welke stappe geneem moet word deur produsente in Brits of Koedoes­kop, om die gewenste brutomarge te behaal.

      Mnr Potgieter noem dat die drie stroper kontrakteurs in Brits se pryse per hektaar wissel, en dat die prys ook afhang daarvan of die produsent die diesel voorsien al dan nie. Mnr Joubert noem dat die produsent se brandstof­koste meer sal wees indien hy die diesel sélf sou voorsien.

    4. Streekverdeling van Suid-Afrika ten opsigte van sojabone

      (Besluit 12.4.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

      Die Voorsitter rapporteer dat Prof Blignaut die eerste kaarte waarin die totale oppervlakte wat geskik is vir die verbouing van sojabone in Suid-Afrika gereflekteer word, en 'n gepaardgaande verslag, beskikbaar gestel het aan die PNS. Hy sê daar word beoog om die kaarte te bestudeer, en samesprekings te voer met Prof Blignaut, alvorens die kaarte verder verdeel word in klimaatsones. Hy onderneem om tydens 'n volgende vergadering verdere terugvoering oor die aangeleentheid te verskaf.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat daar tydens 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep terugvoering gegee sal word rakende die mate van vordering wat behaal is met die kaart met betrekking tot die totale oppervlakte wat geskik is vir die verbouing van sojabone in Suid-Afrika.

        Voorsitter

    5. Onderwerpe vir tydskrifartikels

      Geen bespreking.

    6. Vordering: internasionale cultivarproewe

      (Besluit 12.6.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

      Die Voorsitter sê die cultivars wat vanaf die buiteland bekom is, is met wisselende sukses aangeplant, en sal by 'n volgende vergadering gerapporteer word oor die mate van vordering wat behaal is met die plaaslike evaluering van die buitelandse cultivars.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat daar tydens 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep terugvoering gegee sal word rakende die mate van vordering wat behaal is met die plaaslike evaluering van buitelandse cultivars.

        Voorsitter

    7. Terugvoering: besoek aan Argentinië, Brasilië en Chile

      (Besluit 12.7.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

      Mnr Botma rapporteer dat die twaalf produsente wat die toer na Argentinië, Brasilië en Chile meegemaak het, probeer het om soveel as moontlik te siene te kry in die kort tydjie wat hulle daar was. Hy sê 'n hele paar fabrieke is besoek, en is die tekens van die wêreldwye ekonomiese insinking ook in daardie lande duidelik merkbaar. Hy noem dat ondersoek ingestel is na die tipes implemente wat beskikbaar is, en is 'n aantal produsente ook besoek.

      Mnr Botma sê 'n hele aantal Europeërs boer in Argentinië en Brasilië, en word groot suksesse behaal. Hy noem dat die gebiede klimaatsgewys baie voordele bied, en hoewel hy graag die boerderypraktyke eerstehands sou wou waarneem ten tye van hulle besoek, was dit 'n stil periode in die produksieseisoen. Hy is van mening dat die Suid-Afrikaanse produsent nie agteruit hoef te staan vir sy Suid-Amerikaanse eweknie nie, maar voeg by dat die Suid-Amerikaanse produsente baie meer produktief is as die Suid-Afrikaanse produsente, weens die feit dat hulle masjinerie aangepas is daarvoor. Hy sê daar behoort besin te word oor die Suid-Afrikaanse gebruik van arbeid.

      Mnr Botma beskou Brasilië as 'n pragtige land, en is daar 'n taamlike ooreenkoms tussen Argentinië en die Noord-Vrystaat. Hy meld dat hy baie beïndruk was met Chile, wat baie gemoderniseerd is, en dat hy weer daar besoek wil aflê, aangesien die toergroep nie veel blootstelling gehad het aan die Chileense landbou nie. Hy sê die Argentynse regering gaan ook gebuk onder onstabiliteit, en het die produsente nie baie vertroue in die bankwese in daardie land nie.

  13. Ander sake

    1. Interessante inligting, naamlik nuusbrokkies vir plasing op die webtuiste asook kleurfoto's

      Die Voorsitter herinner die lede dat geskikte kleurfoto's of ander inligting vir plasing op die PNS-webblad verwelkom sal word.

    2. Voorlegging: BASF

      (Besluit 13.3.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

      Dr De Kock bevestig dat BASF ter gelegener tyd genooi sal word om die Sojawerkgroep in te lig oor die "Agcellence"-program wat hulle geloods het.

      Besluit:

      1. Dat BASF genooi word na 'n volgende Sojawerk­groep­vergadering, ten einde 'n voorlegging te lewer oor hulle "Agcellence"-program.

        Dr De Kock
        Mnr Keun

    3. Terugvoering: Internasionale Sojaboonkongres

      (Besluit 13.5.1 van die Sojawerkgroepnotule van 6 Ok­to­ber 2009)

      Daar word kennis geneem van die afskrifte van etlike be­stuursopsomming van referate, soos vervat in Bylae R, wat tydens die Internasionale Sojaboonkongres te Beijing gelewer is.

    4. Artikel: Sojabone verhoog mielie-oes

      Daar word kennis geneem van die artikel "Sojabone ver­hoog mielie-oes", gepubliseer in die Landbouweekblad van 30 Oktober 2009.

    5. Artikel: "CAST looks at soybean sustainability"

      Daar word kennis geneem van die artikel "CAST looks at soybean sustainability", wat gepubliseer is in die September-uitgawe van Inform.

    6. Artikel: "Increased oleic soybean oil for food product formulation"

      Daar word kennis geneem van die artikel "Increased oleic soybean oil for food product formulation".

    7. Aanbieding Dr Jarvie: Pannar

      Die Voorsitter stel Dr Jarvie aan die woord om sy voor­legging "Soybean breeding - past, present and future" aan te bied.

      Dr Jarvie verskaf 'n kort oorsig van die geskiedenis van sojaboonteling in Suid-Afrika. Hy sê sojabone is in 1908 in Suid-Afrika bekend gestel, en word sojabone sedert 1925 plaaslik geteel, en wel deur openbare institute te Cedara, Potchefstroom en Pretoria. Hy meld dat dié programme redelik onlangs gestaak is, en word teelprogramme plaaslik slegs deur privaatsaadmaatskappye onderneem. Hy sê heelwat vooruitgang is behaal sedert die eerste sojaboon­cultivars, wat vernoem is na myndorpe soos Blyvoor, Geduld en Welkom, geteel is. Hy noem dat sterk bande gesmee is met die teelprogram in Zimbabwe, en is unieke sojabooncultivars geteel, wat heelwat verskil van buite­landse cultivars.

      Dr Jarvie verduidelik om welke redes plaaslik-geteelde variëteite oor die langtermyn altyd beter sal presteer as introduksies, en noem voorbeelde van enkele cultivars wat as introduksies die land ingebring is, en voorbeelde van plaaslik-geteelde cultivars. Hy sê die produsent is veral geïnteresseerd in die cultivar se prestasie in plaaslike toestande, en nie in die oorsprong van die cultivar nie, en sal Pannar die bespresterende cultivars kommersialiseer, ongeag die herkoms daarvan.

      Dr Jarvie sê die huidige scenario is gekompliseer deur die staking van die openbare teelprogram, wat baie druk geplaas het op die saadmaatskappye. Hy meld dat perke gestel word aan introduksies, deur sekere beperkinge wat op geneties-gemodifiseerde cultivars ingestel is. Hy sê GM-kenmerke word wêreldwyd gepatenteer, en is nie vryelik beskikbaar nie. Hy noem as voorbeeld dat die RR2-geen tans beskikbaar is in Amerika, maar dat Suid-Afrika nie oor RR2-registrasie beskik nie, en die beste kiem­plasma gevolglik nie toeganklik is vir Suid-Afrikaners nie. Hy sê dit het tot gevolg dat plaaslike teelprogramme 'n uiters belangrike rol speel.

      Dr Jarvie verduidelik wat die Pannar-teelprogram tans behels. Hy sê Pannar het sy eie teelprogram, en maak ook gebruik van intro­duksies, wat wêreldwyd bekom word. Hy noem dat materiaal uit die teelprogram en introduksies ingesluit word in 'n evaluasie­program, wat uit drie fases – aanvanklik, intermediêr en gevorderd – bestaan, en wat ten minste ses jaar duur. Hy verduidelik welke materiaal ingesluit word in iedere fase. Hy sê ongeveer 165 proewe word landwyd aangeplant.

      Dr Jarvie sê Pannar se teelprogram is tans gefokus op cultivars met roes- en droogtetoleransie, hoë olie- en proteïen­inhoud, lae tripsien inhibeerders, die sg. "lipoxy­genase triple null" en hoë opbrengs. Hy noem dat 'n derdegenerasie roesweerstandige cultivar, PAN1595, tans in die proses van registrasie is. Hy sê die cultivar sal waarskynlik nie gekommersialiseer word nie, aangesien dit nie die RR-geen bevat nie. Hy noem dat lae tripsien inhibeerders 'n belangrike eienskap is in sojas wat aan­gewend word vir dierevoer, aangesien dit tot gevolg het dat die prosessering van sojas nie van soveel kritieke belang is nie, en sal 'n cultivar met dié eienskap waarskynlik binnekort geregistreer word. Hy sê die "lipoxygenase triple null"-lyn verbeter die smaak van sojamelk, en is 'n cultivar ontwikkel wat binnekort die registrasieproses sal ondergaan. Hy beskou teling vir spesifieke aanpassing as 'n opwindende nuwe ontwikkeling.

      Dr Jarvie gee 'n kort oorsig van toekomstige uitdagings. Hy noem dat die volledige DNA-volgorde – die genoom – van sojabone onlangs geïdentifiseer is, en dat dit telers se werk sal vergemaklik. Hy sê onkruidweerstandigheid teen Roundup Ready is een van die grootste uitdagings waar­mee Amerikaanse telers gekonfronteer is. Hy is van mening dat 'n alternatiewe onkruidbeheerprogram onder­soek moet word. Hy sê verhoging in opbrengs deur die uitbreiding van plantpopulasie behoort ook ondersoek te word.

      Dr Jarvie sê dit is belangrik dat 'n sterk teelprogram in stand gehou word, sodat beskikbare GM-materiaal ten beste benut kan word. Hy noem dat nuwe GM-tegnologie ontwikkel is deur Pioneer, te wete die sg. "Optimum GAT"-kenmerk, wat gerig is op onkruiddoder­toleransie, en die Plenish-cultivar, met hoë oleïen- en lae linoneen­eienskappe, wat gerig is op gesonder sojaboonolie. Hy sê hierbenewens het Monsanto die Genuity-stelsel ontwikkel, wat deur die gebruik van produk-ikone produsente in staat stel om die kenmerke van 'n cultivar maklik te identifiseer. Hy noem dat Monsanto 'n Bt-geen gestapel het op die RR2Y-geen, en dat RR2Y Dicamba, die Vistive lae linoleencultivar, en 'n cultivar met hoë vlakke omega-3 ook ontwikkel is. Hy sê stapelgeencultivars soos RR2Y, RR2YBt en RR2YDicamba moet elk afsonderlik geregistreer word. Hy noem dat Dow die DHT-cultivar of die sg. Dow Herbicide Tolerance-cultivar ontwikkel het, en dat dié cultivar weer­standigheid teen twee onkruiddoderfamilies kombineer.

      Dr Jarvie noem op navraag van Dr Dreyer dat Pannar deeglik sal moet besin indien die RR2-geen aan hulle aangebied word. Hy sê die koste aan die produsent sal nie gering wees nie. Hy noem egter dat die volgende generasie gene gestapel sal word op die RR2-geen, wat sake sal kompliseer. Mnr Botha verneem na die finansiële lewens­vatbaarheid van Pannar se teelprogram. Dr Jarvie bevestig dat die program volhoubaar is, aangesien daar 'n mark is vir die produk, en Pannar 'n metodiek ontwikkel het om sy belange te beskerm. Hy noem dat Pannar bepaald ondersoek sal instel na die teel van cultivars met 'n hoë-oleïensuurinhoud, met die oog op gesonder olies.

      Die Voorsitter bedank Dr Jarvie vir sy aanbieding.

    8. Wisselbou

      (Besluit 7.3.1.1.2.1 van die Sojabeplannings­taakspan­notule van 5 Oktober 2009)

      Daar word kennis geneem dat Mnr Birch getaak is om 'n literatuurstudie te onderneem ten opsigte van plaaslike data oor die saak rakende die voordele van sojas in 'n wisselboustelsel met mielies.

    9. Stroop

      (Besluit 7.5.3.1 van die Sojabeplanningstaakspannotule van 5 Oktober 2009)

      Die Voorsitter verneem na die produsente se ervaring met stroopverliese. Mnr Büchner noem dat sojas slytasiegewys baie swaar is op stropers. Hy sê hy beveel aan dat die dromme elke twee jaar vervang word. Hy noem dat hy een jaar nagelaat het om die dromme te vervang, en dat sy verlies aan strooptyd astronomies was.

      Mnr Botma sê die Suid-Amerikaanse boere het nie melding gemaak van stroopprobleme nie. Hy noem dat kon­trak­teurs geneig is om hektare te jaag, en in die proses kan mors. Hy sê sy grootste probleem met stropers is dat daar 'n verskil is in pitverlies tussen sojas wat vroeër en later in die seisoen gestroop word. Hy noem dat hy oorweeg om 'n silo op te rig waar lug deurgeblaas word. Die Voorsitter reël dat in die Sojabeplanningstaakspan se kalender aange­teken word dat ondersoek ingestel word na die moontlikheid om praktiese wenke oor die stroopproses en stroopprobleme te publiseer.

      Mnr Potgieter sê dis welbekend dat plante waarvan die peule te laag dra stroopverliese tot gevolg het.

      Besluit:

      1. Dat in die Sojabeplanningstaakspan se kalender aan­ge­teken word dat ondersoek ingestel word na die moont­likheid om praktiese wenke oor die stroopproses en stroopprobleme te publiseer.

        Mnr Keun

    10. Rhizobium en plantluise

      Dr Caldwell sê sy het vasgestel dat plantgesondheid be­paal word deur die effektiwiteit van rhizobium wat aangewend word, en dat dit duidelik is welke plante deur plantluise aangeval sal word. Sy noem dat silikon siste­miesverworwe weerstand teen peste bewerk­stellig.

  14. Datum van volgende vergadering

    Die datum van die volgende vergadering van die Soja­werk­groep word bevestig as 10 Maart 2010.

  15. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank die teenwoordiges vir insette ge­le­wer. Hy wens die lede 'n voorspoedige rit na hul onder­skeie tuistes toe, en verdaag die vergadering om 14:15.