Working Group Minutes / Archives / Soy / 29 April 2010

Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 29 April 2010 in die Raadsaal van die Proteïennavorsingstigting, Rivonia



  1. Opening

    Die vergadering word met skriflesing en gebed geopen deur Mnr J Erasmus.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal welkom by die derde vergadering van die Sojawerkgroep van die jaar. 'n Spesiale woord van verwelkoming word gerig aan Mnre Herbst en Le Roux van LinkSeed, en Mnr Van der Westhuizen, hoofbestuurslid van GraanSA.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer Voorsitter
    Mnr JSG Joubert Visevoorsitter: PNS
    Mnr P Botha GraanSA
    Mnr J Botma Produsent: Noord-Vrystaat
    Mnr L Büchner Produsent: Mpumalanga
    Dr P Caldwell Universiteit van KwaZulu-Natal
    Mnr GP de Beer PNS-kontrakteur
    Dr J de Kock PNS
    Dr J Dreyer LNR-IGG
    Mnr CJ du Plessis Produsent: KwaZulu-Natal
    Mnr J Erasmus LNR-IGG
    Mnr G Farr RNRF
    Dr M Griessel PNS
    Mnr C Havenga PNS-kontrakteur
    Mnr P Herbst LinkSeed
    Mnr ID Lamprecht Departement Landbou: Mpu­ma­langa
    Mnr R le Roux LinkSeed
    Mnr E Maree PNS-kontrakteur
    Mnr FAS Potgieter PNS / GraanSA
    Mnr T Prinsloo LNR-IGG
    Mnr G Roos Produsent: Mpumalanga
    Me M Scheepers Nasionale Departement Land­bou
    Mnr D van der Westhuizen GraanSA
    Mnr WF van Wyk PNS-kontrakteur
    Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte
    Me E Harmse Sekretariaat

    Verskonings

    Mnr D Cronjé Produsent: Mpumalanga
    Mnr B de Klerk Bryson
    Mnr A van Vuuren NWK

  4. Personalia

    Geen verslaggewing.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar sonder enige wysigings of toe­voeg­ings.

  6. Goedkeuring van notule

    1. Notule van die Sojawerkgroepvergadering van 10 Maart 2010

      Besluite:

      1. Dat die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 10 Maart 2010 goedgekeur word.
      2. Dat die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 10 Maart 2010 na die Bemarkingskomitee verwys word vir plasing op die webblad van die PNS.
  7. Algemene oorsig

    1. Oesskatting

      Die Voorsitter neem die dokument wat Me Scheepers opgestel het rakende die derde produksieskatting van die Oesskattingskomitee vir die 2009-2010 produksieseisoen ter tafel. Hy komplimenteer die Oesskattingskomitee met die goeie werk wat hulle deesdae verrig. Hy stel Me Scheepers aan die woord.

      Me Scheepers sê volgens die derde produksieskatting wat die vorige week op 22 April vrygestel is, is beide die oppervlakte- sowel as die produksieskatting van kom­mer­siële sojabone vir die 2009-2010 produksieseisoen onver­anderd gelaat op onderskeidelik 311 450 hektaar en 587 950 ton. Sy noem dat die derde produksieskatting 71 950 ton, of 13,94%, meer is as die vorige seisoen se opbrengs van 516 700 ton.

      Me Scheepers sê volgens dié skatting, word die grootste sojaboon-oes in Mpumalanga verwag, naamlik 246 500 ton, of 42% van die totale produksie, gevolg deur die Vry­staat met 161 500 ton, wat 27% van die totale produksie verteenwoordig, KwaZulu-Natal met 78 000 ton, of 13% van die totale produksie, en Limpopo met 50 400 ton, wat 9% van die totale produksie verteenwoordig. Sy noem dat die oorblywende provinsies na verwagting 9% van die totale produksie sal lewer, of 51 500 ton. Sy sê die geskatte gemiddelde opbrengs is 1,89 ton per hektaar, wat 12,90% laer is as die 2,17 ton per hektaar wat die vorige seisoen geoes is. Sy noem dat die geskatte oppervlak beplant met sojabone van 311 450 hektaar, 'n toename van 73 700 hektaar of 31% verteenwoordig, vergeleke met die 237 750 hektaar wat die vorige seisoen geplant is.

      Me Scheepers noem dat die brutowaarde van sojabone vir die 2008-2009 produksieseisoen geraam word op R1,623 miljard, vergeleke met R1,134 miljard die vorige seisoen, wat 'n styging van 43,10% verteenwoordig. Sy sê die bruto­waarde van sojaboonproduksie word bepaal aan die hand van die hoeveelheid sojabone geproduseer teen die gemid­del­de basiese prys, soos ontvang deur produsente. Sy meld dat sy 'n grafiek getrek het wat die brutowaarde van sojabone sedert die 2004-2005 produksieseisoen reflek­teer, en toon die grafiek duidelik dat 'n stygende tendens teenwoordig is. Sy noem dat die brutowaarde van sojabone gedurende die 2008-2009 produksieseisoen ongeveer 4,62% bygedra het tot die totale waarde van akker­bou­produkte. Sy sê die mieliebedryf lewer die groot­ste bydrae tot die brutowaarde van akker­bou­produkte, naamlik 46,26%, gevolg deur koring, waarvan die bydrae 14,10% beloop, suikerriet, met 'n bydrae van 12,58%, en sonne­blom­saad, wat 'n bydrae lewer van 7,13%.

      Me Scheepers noem dat sy op versoek 'n tabel opgestel het wat voorlopige inligting bevat rakende die verdeling tussen droëland en besproeiing per provinsie ten opsigte van die 2009-2010 produksieseisoen. Sy sê die totale gebied onder besproeiing kom te staan op 37 150 hektaar, wat 11,9% van die totale oppervlakte verteenwoordig. Sy noem dat Limpopo beskik oor die grootste oppervlakte onder besproeiing, naamlik 87%, gevolg deur Noordwes met 35%, en KwaZulu-Natal, met 31%. Sy sê die inligting is gebaseer op die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se steekproef, en inligting wat vanaf die kon­sortium en die provinsiale departemente van landbou bekom is.

      Die Voorsitter sê die PNS het ten doel om meer proteïen plaaslik te produseer, ten einde ingevoerde proteïen te vervang. Hy noem dat die groei in die produksie van sojabone plaaslik reeds 'n aansienlike valutabesparing teweeggebring het. Hy sê die brutowaarde van soja­boon­produksie in die 2008-2009 produksieseisoen is inderdaad noemenswaardig.

      Die Voorsitter noem dat plaaslike sojaverbouing vir die eerste keer 300 000 hektaar oorskry, en is dit ook die eerste keer dat meer tonnemate sojabone as sonneblom geproduseer word. Hy sê Mnr Joubert het die vorige dag voorgestel dat die volgende mikpunt vir die verbouing van sojas moet wees dat meer hektare sojas as sonneblom geproduseer word.

      Me Scheepers noem dat die Oesskattingskomitee 'n versoek van die PNS ontvang het vir inligting rakende soja- en mielie-oppervlaktes en -opbrengs op 'n land­dros­dis­trik­basis, ten opsigte van Mpumalanga, Gauteng en die Vrystaat. Sy rapporteer dat die versoek vir bespreking verwys is na die Oesskattingskakelkomitee, wat in die loop van die volgende week vergader. Sy sê hoewel die Departe­ment die opbrengsdata kan verskaf, word die insette van die konsortium benodig om die opper­vlakte­data te bekom.

      Dr Dreyer verduidelik op versoek van die Voorsitter dat die PNS gebiede met uitbreidingsmoontlikhede op 'n dis­triks­basis sou wou identifiseer. Me Scheepers bevestig op navraag van Dr Dreyer dat die ondersoek wél finansiële implikasies sou inhou, maar dat sy nie beskik oor definitiewe syfers nie.

      Die Voorsitter sê die PNS beoog om binne vyf jaar die vorige jaar se produksie van nagenoeg 500 000 ton te verdubbel na 'n miljoen ton, wat impliseer dat produksie iedere jaar met 100 000 ton sojabone moet toeneem, en dat die hektare binne die volgende vyf jaar moet verhoog vanaf 250 000 na 500 000 hektaar. Hy noem dat ondersoek ingestel is na die provinsies wat uitbreidingsmoontlikhede bied, en is gekyk na die persentasie-oppervlak wat soja­boon­verbouing beslaan in vergelyking met mielie­ver­bouing. Hy sê daar is byvoorbeeld bevind dat die Vrystaat duidelik uitbreidingsmoontlikhede bied, en sou aan die hand van die inligting, soos versoek vanaf die Oes­skat­tingskomitee, maklik bepaal kon word spesifiek welke distrikte oor die meeste uitbreidingspotensiaal vir soja­verbouing beskik.

      Die Voorsitter bedank Me Scheepers vir die waardevolle insette wat sy gelewer het.

    2. SAGIS

      (Besluit 7.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 10 Maart 2010)

      Kennis word geneem van die uitgawe van die SAGIS Mark­inligtingsdokument gedateer 20 April, die Weeklikse Bul­letin gedateer 13 April, en van die Maandelikse Bulletin, gedateer 19 Maart 2010.

      Dr Griessel verwys na die tabel getitel "Imported oilseed products or animal feed components", soos vervat in bylae B op bladsy nege van SAGIS se markinligting. Hy vind dit interessant dat olie-invoere in 2009 nagenoeg 614 000 ton beloop het, terwyl 975 000 ton oliekoek in dieselfde tydperk ingevoer is, waarvan soja-oliekoekinvoere 783 000 ton verteenwoordig. Die Voorsitter sê dit bevestig die PNS se siening van die uitbreidingsmoontlikhede vir sojabone.

      Mnr Potgieter noem dat SAGIS se jongste maandelikse bekendmakingsdata aandui dat 93 000 ton sojabone verwerk is vanaf Januarie tot einde Maart, teenoor die 61 000 ton, wat in die ooreenstemmende tydperk die vorige jaar verwerk is. Hy sê die persbedryf toon 'n oplewing, met 38 000 ton sojabone wat geprosesseer is in vergelyking met die 24 000 ton wat die vorige jaar in die oor­een­stemmende tydperk geprosesseer is. Hy noem dat vol­vetverwerking toegeneem het vanaf 39 000 ton in die eerste drie maande van die vorige jaar tot 47 000 ton, vanaf Januarie tot Maart 2010.

      Die Voorsitter rapporteer dat Me Enslin bevestig het dat SAGIS data beskikbaar kan stel rakende die aanduidende uitvoerpariteitsprys van sojabone.

    3. Provinsies

      1. KwaZulu-Natal

        Die Voorsitter sê volgens die Oesskattingskomitee se der­de produksieskatting is 30 000 hektare sojas in KwaZulu-Natal aangeplant, en word 'n gemiddelde op­brengs van 2,6 ton per hektaar verwag, wat 'n totale geskatte opbrengs van 78 000 ton sojabone gee.

        Mnr Du Plessis is die mening toegedaan dat die hektare en die tonnemaat redelik in die kol is. Hy sê hoewel dit gereën het, was daar 'n vensterperiode waarin die produsente heel­wat van die oes kon afhaal, en is die oesproses feitlik afgehandel. Hy noem dat berig ontvang is van redelike sclerotiniaskade.

        Mnr Herbst sê daar is dele in KwaZulu-Natal waar minder as 'n ton sojas per hektaar gestroop is. Hy spreek die vermoede uit dat die produksieskatting bietjie laer sal wees as wat verwag is. Hy sê die produsente sukkel baie met groenstam, en staan heelwat bone nog op die land, omdat dit nie gestroop kan word nie.

        Mnr Havenga sê die verwagte opbrengs per hektaar is bietjie laer as dié van die vorige jaar. Hy voeg by dat hy ook bewus is van probleme met groenstam. Hy sê in die noor­de­like gedeeltes was daar haelskade in die laatseisoen.

      2. Mpumalanga en Gauteng

        Die Voorsitter sê volgens die Oesskattingskomitee is 'n oppervlakte van 145 000 hektare sojas aangeplant in Mpu­malanga, en word 'n totale opbrengs van 246 500 ton verwag, teen 'n gemiddeld van 1,7 ton per hektaar.

        Mnr Büchner noem dat Kanhym definitief 'n beter soja-oes gaan behaal as die vorige jaar, ten spyte van die haelskade wat in die begin van die seisoen aangerig is. Hy sê die swakste land, wat reeds gestroop is, het 2,4 ton per hek­taar gelewer, en sal die beter lande na verwagting 3,8 ton per hektaar en meer lewer.

        Mnr Van der Westhuizen noem dat hy gebiede soos Bethal, Leandra, Standerton en Trichardt op die hoofbestuur van GraanSA verteenwoordig. Hy sê in daardie streek is die sojas ongeveer 30% klaar gestroop. Hy noem dat hael­skade in daardie streek aangerig is, en het sy lande haelskade van tussen 43% en 54% opgedoen. Hy sê tans oes hy 'n gemiddeld van 2,2 tot 2,4 ton per hektaar. Hy noem dat 'n beter opbrengs verwag word as die vorige jaar, maar dat die reën groot probleme veroorsaak, en het van die produsente alreeds 10% skade opgedoen, weens peule wat oopspring.

        Mnr Roos rapporteer dat minder sclerotiniabesmetting voor­ge­kom het in sy streek, moontlik weens die droër omstandighede en laer humiditeit wat tydens Februarie voorgekom het. Hy sê die hael wat die vorige Dinsdag oor sy plaas neergesak het, het tot 50% van die bone uit­ge­slaan. Hy noem dat die lande tans baie nat is, en die pitte baie geswel.

        Mnr Lamprecht sê hy staan by die Oesskattingskomitee se syfers, en voeg by dat sekere dele wél beter vaar, maar dat ander dele bietjie swakker vaar. Hy noem dat die reën, wat die afgelope twee weke neersak, die produsente daarvan weerhou om te stroop.

        Mnr Van Wyk noem dat hy op 'n hele paar plekke waar­ge­neem het dat produsente verplig is om eers onkruid dood te spuit, voor hulle kan begin stroop. Hy sê die onkruid het opgekom ná die laat reën.

        Mnr Botha sê na wat berig word is die opbrengs van die vroeë aanplantings besonder laag, maar presteer die laat aanplantings egter beter. Hy verneem of dit in die veld waargeneem word. Mnr Roos bevestig dat dit definitief die geval was in die omgewing van Wonderfontein. Hy sê hoe­wel vroeë aanplantings die afgelope drie jaar suksesvol was, het sake anders verloop in die huidige produksiejaar.

        Die Voorsitter rapporteer by monde van Mnr Cronjé, en sê die westelike deel van Mpumalanga is baie nat, wat die stroop­proses nadelig beïnvloed. Hy noem dat die vroeë aanplantings van tussen 15 en 20 Oktober klaar gestroop is, met 'n baie teleurstellende opbrengs van tussen 1,5 en 2,2 ton per hektaar. Hy sê dit kan vermoedelik toegeskryf word aan die koue, nat en bewolkte toestande wat vir 14 dae geheers het gedurende Desember, en die rol wat die gevolglike beperkte lig­dag­eenhede gespeel het.

        Die Voorsitter sê luidens Mnr Cronjé het die aanplantings van die eerste tien dae in November aansienlik beter ge­vaar, en is 'n opbrengs van tussen 2,2 en 3,5 ton per hektaar behaal. Hy noem dat die laat aanplantings van 11 tot 15 November tans reg is om gestroop te word, en dat dit baie belowend lyk, maar dat die oorvloedige reën wat op 18 en 19 April neergesak het, die oesproses vertraag.

        Die Voorsitter rapporteer voorts, en sê Mnr Cronjé dui aan dat opmerklik min sclerotiniaskade voorgekom het, en dat geen roes waargeneem is op die kommersiële aanplantings nie. Hy noem dat die verwerkers se opbergruimte volgens Mnr Cronjé tot oorlopens toe vol is, en sal plaas­laai­kontrakte in graansilo's opgeberg moet word, indien die produsente nie oor voldoende bergfasiliteite beskik nie.

        Mnr Le Roux noem dat die grootste gedeelte van die oos­te­like gebiede se vroeë aanplantings met vinnige cultivars, wat tussen 15 en 20 Maart geoes is, uitstekend gevaar het, en het die meeste produsente naby of meer as 3 ton per hektaar geoes. Hy sê dit wil voorkom asof die later aan­plant­ings nie so goed gaan vaar nie, ook met die uit­dagings wat die klimaat skep.

      3. Noordwes- en Limpopoprovinsie

        Die Voorsitter meld dat die oppervlakte onder sojas in Noor­dwes provinsie geskat word op 10 000 hektaar, 'n gemiddelde opbrengs van 2,8 ton per hektaar verwag word, en 'n geskatte opbrengs van 28 000 ton. Hy sê in die Limpopoprovinsie is 'n geskatte 18 000 hektare beplant met sojas, 'n opbrengs van 50 400 ton verwag word, ook met 'n gemiddelde van 2,8 ton per hektaar.

        Mnr Potgieter sê hy sou voorlopig hou by die Oes­skat­tingskomitee se syfers. Hy meld egter dat daar skade mag kom, en gaan die langdurige reën 'n effek hê op die stroopproses.

      4. Vrystaat

        Die Voorsitter sê volgens die Oesskattingskomitee is die geskatte aanplanting in die Vrystaat 95 000 hektaar, en word 'n opbrengs van 161 500 ton sojas verwag.

        Mnr Botma bevestig dat hy by die syfers hou. Hy sê daar is produsente wat goeie oeste afhaal, maar is daar 'n moontlikheid dat die reën skade kan veroorsaak. Hy noem dat 'n redelike aantal kleiner produsente in die noord­wes­te­like deel van die Vrystaat toegetree het tot sojaproduksie. Hy sê dié produsente het by hom navraag gedoen oor leweringspunte, en teen welke prys die sojas gelewer kan word. Hy is die mening toegedaan dat die onsekerheid uitgeklaar sal word, aangesien daar wél 'n SAFEX-silo in die omgewing is. Hy sê van die kleiner produsente het ook begin om die sojas te verwerk vir melkerye, en kom produsente al meer tot die besef dat daar ander gewasse is wat hulle kan plant. Hy noem dat sy buurman, wat Egret geplant het, tans 3,5 ton gemiddeld per hektaar stroop.

        Mnr Herbst noem dat LinkSeed geweldig baie navrae ontvang oor sojas vir die komende produksieseisoen. Hy meld dat navrae ontvang is uit Bothaville, Parys, Heilbron, en selfs so ver soos Wolmaransstad.

        Mnr Farr noem dat die aanplantings in die Vrystaat feitlik verdubbel het teenoor dié van die vorige produksieseisoen, en dit wil voorkom asof heelwat hektare op 'n laat stadium geplant is, in die huidige seisoen.

        Mnr Maree rapporteer dat dit ongeveer twee weke gelede kwaai gehael het in gebiede soos Daniëlsrus, Petrus Steyn, Heilbron en Villiers. Hy sê baie skade is aangerig in Villiers.

      5. Oos-Kaap, Noord-Kaap en Suidwestelike Dis­trik­te

        Die Voorsitter noem dat sojaverbouing in die Oos-Kaap nog in sy kinderskoene staan. Mnr Farr sê die geskatte opper­vlakte van 800 hektaar onder sojas in die Oos-Kaap is steeds klein. Hy noem dat 'n produsent in Caledon in die Wes-Kaap 30 hektaar sojas aangeplant het, en is ino­ku­lasie met groot sukses in die middel van die ry toegedien deur die spilpunt, aangesien die aanvanklike inokulasie nie geslaagd was nie. Hy sê hierdie aan­wend­ingsmetode kan veral in besproei­ings­gebiede soos Vaalharts toegepas word, waar dikwels gebruik gemaak word van stikstof­toe­dienings wanneer nodulasie nie plaasvind nie.

        Die Voorsitter noem dat 'n lewendige organisme waar­skynlik nie lank sal oorleef indien dit blootgestel word aan direkte sonlig nie. Mnr Van Wyk is van mening dat ino­kul­ant suksesvol toegedien kan word deur die spilpunt, indien die water redelik vinnig inloop in die grond. Hy sê die rhizobium behoort op dié manier vinnig in die grond in te gaan, voordat die son dit kan brand. Hy noem dat hy waargeneem het dat nodulasie in die middel van 76cm rye voorkom, waar produsente nie skoffel nie, in 'n praktyk van verminderde bewerking. Mnr Potgieter sê toediening deur die spilpunt kan moontlik geslaagd wees, indien weers­omstandighede koel is. Dr Dreyer noem dat die praktyk op Vaalharts beproef is, dit soms gewerk het en soms nie, en is sukses behaal wanneer die inokulant in die aand toe­ge­dien is. Mnr Farr sê die inokulant is in die aand toegedien, op jong plante, ongeveer agt weke na opkoms.

        Mnr Farr noem dat baie goeie opbrengste van tussen 2,5 en 3 ton per hektaar verwag word in Griekwaland-Oos, Maclear en Elliot. Hy sê die Accelerated and Shared Growth Initiative for South Africa (AsgiSa)-aanplanting is eers in Januarie gedoen, en word nagenoeg een ton per hektaar aldaar verwag. Hy noem dat dit baie koud en droog was in die omgewing van Matatiele en Kokstad vroeg in die seisoen, maar dat die plante goed herstel het, hoewel hy nie met sekerheid kan skat wat die opbrengs per hektaar gaan wees nie. Hy meld op navraag dat AsgiSa taamlik fokus op die gebied noord van Kokstad, en dat daar 'n kans is dat wisselbou met sojas en mielies aldaar ingebring sal word.

    4. Weer- en klimaatsvooruitskouing

      Geen verslaggewing.

    5. Mikpunte – 2015

      Die Voorsitter sê die PNS het hom op 'n vyfjaarsituasie toegespits, en hou steeds by sy ideaal om een miljoen ton sojabone teen die jaar 2015-2016 te produseer, wat 'n produksietoename van 100 000 ton per jaar sou impliseer.

  8. Markaangeleenthede

    1. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

      Dr Griessel gee 'n oorsig van die plaaslike en internasionale situasie in die sojaboonmark. Hy sê pryse het redelik ver­stewig, sedert die vorige vergadering wat op 10 Maart plaasgevind het. Hy noem dat die gelande prys van soja­bone, wat toe te staan gekom het op R2 898, teen 26 April opgestoot het na R3 173.

      Dr Griessel sê hierdie stygings in pryse het plaasgevind ten spyte van die feit dat Suid-Amerika se produksie­ver­wag­tings verder toegeneem het, met Argentinië se verwagte opbrengs wat vermeerder het van 51 miljoen ton na 55 miljoen ton, terwyl Paraguay se opbrengste van 6,9 miljoen ton toegeneem het na 7,5 miljoen ton. Hy noem dat die styging in pryse tydelik van aard is, en behoort die pryse na verwagting te daal, wanneer sojabone op volskaal gepers word.

      Dr Griessel noem dat daar 'n paar redes is waarom soja­persing nie in volle swang is nie. Hy sê die Chinese rege­ring het strenger kwaliteitsvereistes ingestel ten opsigte van sojaboonolie, en kan Argentynse persers nie voldoen aan hierdie vereistes nie. Hy noem dat Oil World egter daarop wys dat dié twee lande mekaar nodig het, en dat die geskille waarskynlik uitgeklaar sal word. Hy sê China se sojabooninvoere het in die huidige jaar toegeneem tot 45 miljoen ton, wat vier miljoen ton meer is as die vorige jaar. Hy noem dat die voorsieningsposisie in Noord-Amerika redelik laag is, weens die droogtes wat in Argentinië ervaar is. Hy sê hierbenewens was daar loongeskille by die hawens, en ook by die persers, wat die vloei van sojabone na persaanlegte vertraag het. Hy noem dat die vloei ook vertraag word deur die Argentynse sojaprodusente, wat bekend staan as "reserve sellers", en tans graan stoor in plastiese sakke op die lande, aangesien hulle die 35% uitvoerbelasting as problematies ervaar.

      Dr Griessel noem dat biodieselproduksie in Brasilië ge­wel­dig toeneem, maar is Argentinië se biodieselverbruik heelwat laer as wat verwag is. Hy beskou dit as interessant dat vismeelpryse in Chile en Peru gestyg het na US$1 900 per ton, of R14 000, vir redelik-gemiddelde kwaliteit vis­meel ("fair average quality"), terwyl die beter kwaliteit vismeel verhandel teen ongeveer US$2 000 per ton, of R14 740.

      Die Voorsitter verneem of die lede vrae wil stel, of kom­mentaar wil lewer, rakende Dr Griessel se siening. Mnr Jou­bert sê waar die verwagting is dat die prys van sojabone gaan daal, is die verwagting soveel te meer dat die prys van oliekoeke nog verder gaan daal, as gevolg van die groter persings vir biodiesel. Hy noem dat Brasilië vanaf 1 Junie sy inmengingsmandaat verhoog het van 3 na 4%, en word heelwat olie vanaf Argentinië uitgevoer na Europa, as gevolg van die probleem tussen Amerika en Europa, wat dit betref. Hy sê hierbenewens is die Chinese besig om liki­diteit in die land in te kort, moontlik deur rentekoerse, en gaan die Chinese ook invoerpermitte vereis vir die invoer van oliekoek. Hy noem dat die Chinese na ver­wagting nie minder oliekoek sal invoer nie, maar kan die mate van beheer wat die Chinese op invoere plaas, 'n demper plaas op die oliekoekpryse.

      Mnr Roos verneem of die sojaboon- en soja-oliekoekprys nog nader aan mekaar gaan beweeg. Hy sê die pryse beweeg die laaste paar maande al nader aan mekaar, met die gevolg dat die persers se wins al hoe minder word. Dr Griessel noem dat twee na drie miljoen ton minder sonne­blom in die huidige jaar beskikbaar is. Hy sê sonneblom het nagenoeg 40% olie, en sal in die orde van sewe of agt miljoen ton meer sojabone gepers moet word om te voldoen aan die verhoogde olievereistes. Hy noem dat die United Soybean Board se langtermynsiening is dat daar steeds 'n styging sal wees in die prys van die soja­boonsaad sélf, hoewel sojaboonoliepryse sal styg, en sojaboonoliekoekpryse sal daal.

      Mnr Büchner sê daar word oor die algemeen gestel dat die sojaboonprys dubbel dié van mielies moet wees, en is dit om dié rede waarom heelwat produsente wegbeweeg het van sonneblom. Hy noem dat sonneblom nie waarde toevoeg tot die produsent se hele pakket nie, en sojas 'n baie groter voordeel bied. Hy sê dit is om hierdie rede dat heelwat produsente in Bothaville en daardie omgewing nou wil begin om sojas te plant. Hy sê die enigste risiko sou wees as droogte gedurende Januarie voorkom, aangesien sonneblom droogteweerstand gee, wat sojabone nie doen nie, vernaam in die weste. Hy noem dat hy om dié rede aanbeveel dat vroeg aangeplant word.

      Die Voorsitter sê die voordeel van sojabone is dat dit floreer, indien dit laat reën. Hy noem dat risiko versprei moet word, en is wisselbou die aangewese oplossing.

      Dr Griessel gee 'n uiteensetting van die afgeleide pro­du­senteprys vir sojabone, soos uiteengesit in die tabel wat volg, waarna die Voorsitter hom bedank vir insette gelewer.

      Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban soos op 26 Julie 2010
      Verskeping: R3 173   |   Wisselkoers: R7.37/US$
      Geland Durban 47% proteïen oliekoek 3 173.00
      Vervoer na Randfontein (per ton) 260.00
      Rente 2 weke 15% 17.00
      0,5% hanteringsverlies 14.00
      Gelande prys 3 467.00
      Waarde van volvetsoja 110% R3 814.00
      Min koste om sojabone na volvetsojabone te verwerk 965.00
      – Vervoerkoste na volvet-aanleg 150.00
      – Stoorkoste 115.00
      – Rente 15% (6 maande) 234.00
      – Ekstrusiekoste 285.00
      – 5% ekstrusieverlies 182.00
      Afgeleide produsenteprys vir sojabone (op plaas) – R/ton R2 849.00

      Mnr Potgieter noem dat die SAFEX-prys die vorige dag te staan gekom het op R2 560. Mnr Roos is die mening toegedaan dat die ekstrusiekoste wat Dr Griessel in sy berekening gebruik, aan die lae kant is. Hy sê ekstrusie kan nie teen minder as R300 per ton gedoen word nie. Dr Griessel noem dat hy die syfer bekom het by die Animal Feed Manufacturers' Association (AFMA).

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat die PNS se afgeleide pro­du­senteprys vir sojabone soos op 26 April 2010 R2 849 beloop het.

        Lede

    2. SAFEX

      (Besluit 8.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 10 Maart 2010)

      Kennis word geneem van die SAFEX-termynprys van soja­bone soos op 12 April 2010, wat as Bylae E by die sakelys aangeheg is.

      Die Voorsitter onderneem om ter gelegener tyd terug­voering te gee oor die mate van vordering wat behaal is om die prys van sojas saam met dié van ander kommoditeite te beeldsend op die televisienuusprogramme.

      Besluit:

      1. Dat terugvoering ingewag word na aanleiding van die besluit dat ondersoek ingestel sal word na die moont­lik­heid om die sojaboonprys op die tele­visie­nuusprogramme beskikbaar te stel, saam met die prys van ander gewasse soos sonneblom, koring en mielies.

        Voorsitter

  9. Produsente-aangeleenthede

    1. KwaZulu-Natal

      1. Super Sojakompetisie

        (Besluit 9.1.1.1 en 9.1.1.2 van die Sojawerkgroepnotule van 10 Maart 2010)

        Daar word kennis geneem van die Sojabeplan­nings­taak­spanbesluit dat samesprekings gevoer sal word met Mnre Du Plessis en Havenga oor sekere aspekte van die Super­soja­kompetisie, en dat die gesprek sal plaasvind na afloop van die huidige vergadering.

        Daar word voorts kennis geneem dat die gesprek met Mnr Joubert insake die berekening van sekere koste-items met betrekking tot die Super Sojakompetisie, met die oog daar­op om dit in lyn te bring met Mnr Joubert se metodologie, oorstaan vir bespreking tydens 'n volgende vergadering.

        Besluit:

        1. Dat die gesprek met Mnr Joubert insake die berekening van sekere koste-items met betrekking tot die Super­soja­kompetisie, met die oog daarop om dit in lyn te bring met Mnr Joubert se metodologie, oorstaan vir bespreking tydens 'n volgende vergadering.

          Mnre Du Plessis, Havenga

      2. Navorsing

        Mnr Havenga rapporteer dat die cultivarproewe te Vryheid, Dundee en Normandien geoes is. Mnr Erasmus sê die proewe te Cedara was fisiologies ryp toe hy aldaar besoek afgelê het. Hy noem dat die plantdatum twee – cultivar­proewe roes en donsige meeldou gehad het, wat hy daardie dag gespuit het. Hy sê die proewe het besonder goed vertoon op daardie stadium.

        Mnr Erasmus sê hy het ook besoek afgelê by die cul­ti­varproewe te Newcastle, Dundee, Memel, Normandien en Vryheid, wat almal baie mooi was. Hy meld egter dat laatopkomsonkruid, wat nie slegs in die proewe nie, maar ook in die produsente se lande voorgekom het, in 'n mate kommerwekkend was. Hy sê die onkruid gaan beslis 'n nadelige effek hê op die saad­kwaliteit, sal die saad vlek, en sal die stropers moeilik stroop aan die onkruid wat in die lande is.

        Mnr Büchner skryf die probleem daaraan toe dat pro­dusente reken die normale spuitprogram hoef nie gehand­haaf te word, indien Roundup gespuit is nie. Hy sê dit is een van die grootste foute wat 'n produsent kan begaan, en benadruk dat Roundup nie die gewone spuitprogram ver­vang nie. Mnr Van Wyk bevestig dat laat onkruide 'n pro­bleem is, veral kankerroos en kakiebos. Hy sê pro­dusente moet nie vergeet dat die voorplant­onkruid­doder teen dié tyd uitgewerk is nie.

        Dr Griessel verneem wat die laatste stadium is wat gli­fosaat toegedien kan word, en word ingelig dat glifosaat toegedien kan word tot met blomstadium en ook na peulvorming. Mnr Botma noem dat die gifverkoopsman nie altyd die kennis het van dit wat op sojas gespuit kan word nie. Hy sê 'n verskeidenheid gif word voorgeskryf vir voor­opkomstoediening, maar is die verkoopsmanne baie ver­sigtig om raad te gee oor die tipes gif wat gespuit kan word ná opkoms. Hy noem dat sekere onkruide al meer toeneem, weens die gebruik om nie die normale spuit­program te handhaaf nie.

        Mnr Potgieter rapporteer dat die probleem ook in sy omgewing voorgekom het met die nat toestande, en het vinniggroeiende onkruid soos kankerroos, knapsekêrel en selfs grasse opgekom, toe die bone begin kleur en die blaredak begin verminder het. Hy bevestig dat die pro­bleem nie elke jaar voorkom nie. Mnr Du Plessis sê abnormale weerstoestande word in die huidige produk­sie­jaar ondervind, en kan die probleem daaraan toegeskryf word. Mnr Roos noem dat die probleem hierdie jaar opmerklik is, en ook voorkom in die mielielande.

        Die Voorsitter sê indien dit 'n tendens word dat laat­op­komsonkruid 'n groterwordende probleem is omdat pro­dusente, weens die gebruik van glifosaat, nie hul normale spuitprogram handhaaf nie, sal produsente hierop attent gemaak moet word.

        Mnr Le Roux sê hy voorsien nie 'n probleem nie. Hy noem dat drie soortgelyke uitskieterjare ervaar is, en het die hoeveelheid onkruid oor daardie tyd heelwat toegeneem. Hy sê sodra teruggekeer word na normale jare, sal die omvang van die probleem van laat infestasies afneem. Hy noem dat die produsent se sak ook bietjie platter geraak het, en is dit moontlik die rede hoekom die nodige toe­dienings nie oor die breë spektrum gemaak is nie.

        Mnr Erasmus noem dat die drie aanplantings te Em­pan­geni, wat baie mooi gelyk het, reeds geoes is. Hy sê die fase een cultivarproewe wat te Dundee geplant is, het baie beter presteer as in die vorige seisoen, hoewel daar 'n geringe stand­probleem was.

      3. "No-Till"-Boeredag, 8 en 9 September 2010

        Mnr Du Plessis noem dat onderhandelinge reeds ver ge­vor­der is rakende die optrede van 'n Argentynse gas­spreker tydens die "No-Till"-Boeredag, wat op 8 en 9 September 2010 aangebied sal word.

    2. Mpumalanga en Gauteng

      1. Navorsing

        Mnr Erasmus rapporteer dat die proef te Kinross baie goed vertoon het. Hy sê die proef is eers op 26 April geoes, weens die swaar reën wat daar geval en letterlik in strome deur die lande gekom het. Hy noem dat die proef te Delmas tans geoes word. Hy sê die proef te Groblersdal is baie goed versorg, en is ook reeds geoes.

      2. Blaarvoedingsmiddels – terugvoering

        (Besluit 9.2.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 10 Maart 2010)

        Dr Caldwell sê sy is getaak om ondersoek in te stel na blaar­toedieningsmiddels. Sy noem dat produsente, as gevolg van stygende insetkostes en dalende winsmarges, voortdurend op die uitkyk is vir maniere waarop soja-opbrengste verbeter kan word. Sy verwys na die artikel "Effect of fungicide on soybean growth and yield", soos vervat in bylae F, waarin rapporteer word dat navorsing getoon het dat omgewingstoestande en bepaling van plant­siektevlakke as 'n gids gebruik moet word vir die toediening van blaarswamdoders op sojabone. Sy sê swamdoders wat in die afwesigheid van swamsiektes toegedien is, het geen effek gehad op opbrengste nie.

        Dr Caldwell sê sy het tydens die vorige vergadering genoem dat verskeie bronne daarop dui dat blaar­voed­ingsmiddels in der waarheid geen verskil maak nie, nie opgeneem word deur die blare nie, maar teen die plant afdrup en deur die plantwortels opgeneem word. Sy sê die wyse waarop chemiese middels opgeneem word deur plante is kontroversieël, en is die algemene oortuiging dat die middels nie opgeneem word deur die blare nie.

        Dr Caldwell illustreer aan die hand van 'n visuele voor­legging die resultate van die navorsing wat een van haar honneurs­studente met silikon en Eco-T®, 'n biologiese beheermiddel, op sojabone onderneem het. Sy sê die proewe is in potte geplant, en is 'n betekenisvolle toename in groei verkry toe silikon en Eco-T® toegedien is. Sy noem dat Eco-T® saad beskerm teen grondgedraagde patogene.

        Mnr Farr noem dat kalkgronde variërende vlakke silikon het, en verneem of enige navorsing gedoen is oor die voordele wat dergelike grond vir plante inhou. Dr Caldwell sê gemelde navorsing is nog nie onderneem nie, en voeg by dat kritiek uit­ge­spreek is omdat baie groot hoeveelhede silikon toegedien moet word om resultate te behaal, wat nie ekonomies lewens­vatbaar sou wees nie.

      3. Individuele strookdemonstrasieproewe

        (Besluit 9.2.3.1 van die Sojawerkgroepnotule van 10 Maart 2010)

        Die Voorsitter sê 'n aantal produsente is genader om die produksieprobleme te identifiseer wat in daardie spesifieke gebied ervaar word, en is navorsing by wyse van strook­demonstrasieproewe onderneem ten einde die probleme aan te spreek. Hy noem dat proewe onder andere aan­ge­plant is by Mnre Botma, Büchner en Roos, maar dat die demonstrasieproewe nie vir 'n tweede jaar aangeplant is nie, weens 'n tekort aan mannekrag.

        Die Voorsitter rapporteer dat Drs Jeenah en Le Roux onderneem het dat drie sojaboonavorsers aangestel sal word, en is die strookdemonstrasieproewe genoem as voorbeeld van 'n aksie waarmee die navorsers behulpsaam sou kon wees.

        Besluit:

        1. Dat kennis geneem word dat ondersoek ingestel sal word na die moontlikheid om individuele strookproewe op pro­dusente se plase aan te plant, wanneer die manne­krag­probleem aangespreek is.

          Dr De Kock

    3. Noordwes- en Limpopoprovinsie

      1. Navorsing

        Mnr Erasmus rapporteer ten opsigte van die nasionale cultivarproewe wat te Rustenburg aangeplant is, en sê die proef het weer besonder goed vertoon, en word die medium- en langergroeiers tans geoes. Hy sê die proef te Brits was vir hom aanvaarbaar, maar kon baie beter gewees het, en oorweeg hy dit om die proef aldaar ten minste drie weke vroeër te plant in die komende seisoen, ten einde 'n beter planthoogte te kry. Hy noem dat die plandatum-een proef te Potchefstroom geoes is, en is van die persele van die plantdatum-twee proef ook geoes.

        Mnr Van Wyk sê die proef wat by Koedoeskop aangeplant was, het uitsonderlik mooi vertoon. Mnr Erasmus rap­por­teer dat 'n boeredag aangebied is te Koedoeskop, wat deur heelwat produsente bygewoon is. Hy sê dit was vir hom kommerwekkend dat die saadmaatskappy, wie se cultivars oorspronklik in daardie distrik aangeplant is, nie een sakkie saad in daardie gebied verkoop het nie, hoewel heelwat sojabone daar aangeplant word. Hy noem dat hy 'n beroep op die produsente gedoen het om nie slegs van terug­gehoude graan as saad gebruik te maak nie.

      2. Ander

        Geen verslaglewering.

    4. Vrystaat

      1. Navorsing

        Mnr Erasmus noem dat 'n boeredag op 13 April aangebied is te Memel, waar 'n Roundup Ready proef met 15 cultivars geplant is. Hy sê 'n hele aantal produsente wat vir die eerste keer sojas geplant het, het die dag bygewoon, en is heelwat vrae gevra. Hy noem byvoorbeeld dat daar reeds roes was in die lande, waarvan die produsente nie bewus was nie. Hy sê daar is versoek dat 'n opvolgboeredag aangebied word.

        Mnr Erasmus noem dat die cultivarproef te Bothaville nie baie goeie stand gehad het nie. Hy sê verskeie probleme is ondervind met die proef, byvoorbeeld rye wat op spore geval het. Hy noem dat die proef vir die eerste keer te Bothaville aangeplant is, en behoort die proef in die toekoms meer suksesvol te wees, noudat die probleme identifiseer is.

        Mnr Erasmus sê die proef te Glen lyk besonders mooi, en word in die volgende week geoes. Hy noem dat die proef te Bethlehem daardie dag geoes word, en is geen probleme met die proef ervaar nie. Hy sê die proef is goed versorg. Mnr Maree noem dat VKB 'n proef te Tweeling geplant het, en dat ook dié proef baie goed gevaar het. Mnr Erasmus sê die proef te Villiers is reeds geoes, en was, soos die vorige jaar, weer baie mooi.

      2. Individuele strookdemonstrasieproewe

        Geen verslaggewing.

    5. Oos-Kaap, Noord-Kaap en Suidwestelike Dis­trikte

      1. Navorsing

        (Besluit 7.3.5.1 van die Sojawerkgroepnotule van 10 Maart 2010)

        Mnr Farr noem dat die nasionale cultivarproewe in die Oos-Kaap geoes is.

      2. Ander

        Geen verslaglewering.

    6. Algemeen

      Geen verslaglewering.

  10. Navorsing

    1. Nasionale cultivarproewe 2009-2010

      Verslag is reeds gelewer onder die onderskeie provinsies.

    2. Roes

      1. Inligting vanaf Sojaboonroeswerkgroep

        Daar word kennis geneem van die onderskeie roes­rap­porterings, te wete 16 Maart te Kinross en Kestell, en 31 Maart te Potchefstroom. Die Voorsitter sê volgens alle aanduidings funksioneer die SMS roes­waar­skuwings­stelsel baie goed.

        Dr De Kock noem dat daar tydens die vergadering van die Sojaroeswerkgroep besin sal word oor die voorstel dat van die roesvangerproewe gelaat word, sodat bepaal kan word wat die effek later aan sal wees. Hy is van mening dat só iets gedoen moet word by 'n proef waar die roes laat inkom.

        Mnr Maree noem dat daar nie gespuit is, nadat die roes op die vangerproef te Kestell gerapporteer is nie. Hy sê daar het egter geen roesbesmetting voorgekom op die kom­mer­siële aanplantings nie. Mnr De Beer bevestig dat wél gespuit is, nadat die proewe te Potchefstroom besmet is.

      2. Roesmiddels

        Geen verslaggewing.

    3. Sclerotinia

      1. Proefwerk – terugvoering Sclerotinia­werkgroep­vergadering

        Daar word kennis geneem dat die volgende vergadering van die Sclerotiniawerkgroep gehou word te Rivonia op 20 Julie 2010.

        Besluit:

        1. Dat kennis geneem word dat die volgende vergadering van die Sclerotiniawerkgroep gehou word op 20 Julie 2010.

          Lede

      2. Sclerotinia-opnames

        (Besluit 10.3.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 10 Maart 2010)

        Dr De Kock noem dat daar tydens 'n vorige vergadering melding gemaak is van 'n uiters effektiewe middel wat aangewend kan word teen sclerotiniabesmetting, hoewel dié middel nog getoets moet word. Hy is die mening toegedaan dat die PNS 'n verantwoordelikheid het om dié inligting aan die Werkgroep beskikbaar te stel, sodat die middel getoets kan word en die moontlikheid uitgeskakel word dat produsente weerhou word van 'n middel wat moontlik 'n oplossing kan bied. Die Voorsitter sê daar is verskillende middels wat wêreldwyd aangewend word teen sclerotinia, sonder sukses. Hy ondersteun die gedagte dat die middel volgens aanvaarde wetenskaplike beginsels getoets word.

        Mnr Botha meld dat die middel beskikbaar is onder die handelsnaam Gliogro. Hy sê Dr Caldwell is versoek om die produk te toets, en indien sy nie kans sien daarvoor nie, sal besluit moet word op welke manier die produk getoets gaan word, en hoe die proses gedryf gaan word. Dr Dreyer sê toetsresultate moet beskikbaar gestel word wanneer 'n produk geregistreer word, en doen aan die hand dat die toetsresultate aangevra word.

        Mnr Botha verduidelik dat die produk nie 'n chemiese middel of onkruiddoder of iets soortgelyk is nie, met die gevolg dat die registrasiepapiere nie benodig word om die produk na te vors nie. Hy sê die aanspraak word gemaak dat Gliogro sclerotinia kan keer en beheer.

        Die Voorsitter reël dat die saak verwys word na die Tegnologiekomitee. Hy sê dit sal 'n deurbraak wees indien wetenskaplik bewys word dat Gliogro sclerotinia wél kan keer en beheer, soos beweer word. Dr De Kock ondersteun dié voorstel. Dr Griessel sê daar is bevind dat sclerotinia­besmetting soms voorkom, en soms nie, en kan Prof McLaren betrek word, sodat hy kan toesien dat sclerotiniabesmetting wel bewerkstellig word, en die produk na behore getoets kan word.

        Mnr Van Wyk rapporteer dat hy 'n sclerotiniaproef onder­neem het, as deel van die demonstrasiestrookproewe wat in die vorige produksiejaar aangeplant is. Hy sê daar is bevind dat die vinnige groeier ook baie vinnig peule volmaak, en is sclerotinia op dié manier ontwyk. Hy noem dat dié cultivar 'n gemiddelde opbrengs van 3,6 ton per hektaar gelewer het in daardie proef, terwyl die cultivar wat die naasbeste presteer het, net oor die een ton per hektaar gelewer het, met die chemiese en ander biologiese behandelings wat gedoen is. Hy sê die proef is herhaal, en is slegs een chemiese middel wat geregistreer is op sclerotinia gebruik, is sekere rye van die cultivar gespuit en is ander nie gespuit nie. Hy noem dat sekere persele nie sclerotinia opgedoen het nie, maar het sommige persele nagenoeg 62% besmetting opgedoen. Hy sê ontwyking bly steeds die antwoord.

        Mnr Du Plessis noem dat hy berig ontvang het dat sclerotiniaverspreiding in KwaZulu-Natal baie meer sigbaar was die afgelope produksieseisoen. Hy sê daar word al meer gesê dat teruggehoude graan as saad hier 'n groot rol speel, en dat dit gaan om die skoonmaak van die saad. Hy wys egter daarop dat die produsent probleme in die gesig staar, as hy eers sclerotinia in sy lande kry.

        Dr De Kock sê die uitslae van die landwye opname oor die voorkoms van sclerotinia sal eersdaags beskikbaar gestel word.

        Besluit:

        1. Dat die saak rakende die evaluering van Gliogro, die mid­del wat klaarblyklik sclerotinia kan keer en beheer, verwys word na die Tegnologiekomitee.

          Mnr Keun
          Tegnologiekomitee

    4. Rhizobium – terugvoering

      (Besluit 10.4.1 van die Sojawerkgroepnotule van 10 Maart 2010)

      Die Voorsitter noem dat die Oliesade Advieskomitee (OAK) 'n navorsingsprojek befonds het oor die kwaliteit van sekere rhizobium-entstowwe wat plaaslik verhandel word. Hy sê dit wou voorkom asof sekere maatskappye entstof verkoop het waarvan die rhizobiumtelling nie na wense was nie. Hy noem dat die een navorser wat by die projek betrok­ke was, oorlede is, en dat die ander navorser intussen afgetree het, en die finale navorsingsverslag nog nie beskikbaar gestel is nie. Hy sê GraanSA is versoek om die saak op te neem met die Registrateur, en verneem of enige vordering in dié verband behaal is.

      Mnr Potgieter rapporteer dat GraanSA die Kantoor van die Registrateur per brief ingelig het dat 'n OAK-befondsde studie bevind het dat die kwaliteit van sekere rhizobium­entstowwe wat plaaslik verhandel word onder verdenking is. Hy sê geen terugvoering is nog ontvang nie, aangesien die Kantoor van die Registrateur klaarblyklik wag vir 'n kopie van die betrokke navorsingsverslag, alvorens hulle reageer.

      Mnr Botha sê geen vordering sal behaal word alvorens die verslag met die rhizobiumresultate beskikbaar gestel word nie. Mnr Keun sê hy volg die saak gereeld op, en poog die LNR-NIPB steeds om die verslag te finaliseer, hoewel daar sekere haakplekke is.

      Besluit:

      1. Dat terugvoering ingewag word rakende die Kantoor van die Registrateur se reaksie op die inligting wat GraanSA aan hulle deurgegee het oor die huidige stand van sake met betrekking tot die onbevredigende kwaliteit van sekere rhizobium­entstowwe wat plaaslik verhandel word, en ook oor die tekortkominge met betrekking tot die behoor­like toetsing van gemelde entstowwe.

        Mnr Keun

    5. Biobrandstowwe

      (Besluit 10.5.1 van die Sojawerkgroepnotule van 10 Maart 2010)

      Daar word kennis geneem van die artikel "Distillers' dried grains with solubles (DDGS) – a key to the fuel ethanol industry", soos gepubliseer in die Inform van Desember 2009.

      Die Voorsitter rapporteer dat dit steeds goed gaan met die biobrandstofbedryf, en word in die artikel tot die slotsom gekom "Ethanol is not the entire solution to our energy needs, but it is a key component to the bigger picture of energy independence". Hy noem dat Suid-Afrika oor olie­sade beskik, soos sojas en canola, wat vir biobrandstowwe gebruik kan word, maar mag etanol volgens regerings­beleid nie uit mielies vervaardig word nie.

  11. Saad

    Die Vooorsitter sê volgens die inligting wat tot die beskik­king van die PNS is, is voldoende sojaboonsaad beskikbaar in die 2010-2011 produksiejaar vir 108 000 hektaar. Mnr Herbst noem dat GraanSA die inligting bekom het by die onderskeie saadmaatskappye. Hy sê LinkSeed sal die hoeveelheid saad wat in 'n 25kg houer is, op die etikette aandui. Hy meld op navraag dat nagenoeg 165 000 pitte in 'n 25kg houer voorkom.

  12. Tegnologie-oordrag

    1. Inligtingsdae 2010: datums, terugvoering en reklame

      Mnr Erasmus bevestig dat hy die VKB-inligtingsdag te Memel bygewoon het. Hy sê nagenoeg agt produsente, wat nuwe toetreders tot die sojabedryf is, het die dag by­ge­woon. Hy noem dat die produsente gretig is om meer te leer oor sojaverbouing, en meer gewillig is om nuwe saad aan te koop, aangesien hulle glo dat beter opbrengste op dié manier behaal sal word.

      Mnr Van Wyk noem dat hy opgetree het tydens die OVK-Inligtingsdag, wat aangebied is te Clocolan, waar meer as 100 produsente opgedaag het. Hy sê Mnr De Beer het die vraesessie hanteer. Mnr De Beer bevestig dat daar heelwat belangstelling was onder die produsente, en is baie vrae gestel oor cultivars.

      Mnr Van Wyk sê daar was ook 'n goeie opkoms by die boeredag wat op 17 Maart aangebied is op Mnr Koos Pieterse se plaas te Koedoeskop. Hy rapporteer dat hy hom nie juis ten gunste van blaarvoedingsmiddels uit­ge­spreek het nie, en aanbeveel het dat die middels gebruik word indien dit nodig sou wees om mikro-elemente en dies meer aan te vul. Mnr Erasmus noem dat hy die teen­woordiges toegespreek het oor cultivars, maar noem egter dat daar nie veel belangstelling was in sy aanbieding nie, aangesien die produsente in daardie distrik geneig is om teruggehoude graan as saad te gebruik, en nie belangstel in nuwe cultivars nie. Mnr Potgieter wys daarop dat die produsente in daardie gebied weet wat hulle wil plant, en sal nuwe cultivars baie goed gepromoveer moet word aldaar.

      Mnr Erasmus noem dat hy die NWK se Inligtingsdag op 18 Maart te Rietgat bygewoon het. Hy sê nagenoeg 120 produsente het die dag bygewoon, maar is min belang­stel­ling getoon in sojabone, en is meer gefokus op die ander gewasse. Mnr Herbst opper die moontlikheid dat 'n boeredag gerig op sojas aangebied word in die Noordwes provinsie, en sê hy sou bereid wees om as spreker op te tree.

      Mnr De Beer rapporteer dat hy 'n lesing oor cultivars aan­ge­bied het by die Soygro-Inligtingsdag, wat op 24 Maart aangebied is. Hy sê hoewel die produsente baie belang gestel het in konvensionele cultivars, was daar nie veel belangstelling in Roundup Ready sojas nie.

      Kennis word geneem van die volgende inligtingsdae:

      8 en 9 September 2010 "No-Till" Inligtingsdag, Drakensville

    2. Wisselbou

      (Besluit 12.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 10 Maart 2010)

      Die Voorsitter sê die PNS het Mnr Birch getaak om 'n literatuurstudie te doen rakende die ekonomiese en ander voordele van sojas in 'n wisselboustelsel. Hy noem dat Dr Griessel die saak met Mnr Birch sal opvolg, en dat terugvoering tydens 'n volgende vergadering gegee sal word.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat terugvoering ter gelegener tyd verskaf sal word oor die studie wat Mnr Birch onder­neem rakende die ekonomiese en ander voordele van sojas in 'n wisselboustelsel.

        Voorsitter

    3. Totale oppervlakte wat geskik is vir soja­boon­verbouing in Suid-Afrika

      (Besluite 12.3.1 en 12.3.2 van die Sojawerkgroepnotule van 10 Maart 2010)

      Die Voorsitter rapporteer dat Prof Blignaut in sy ondersoek na die totale plaaslike oppervlakte wat geskik is vir die verbouing van sojabone, bevind het dat drie miljoen hektaar hier ter sprake is. Hy sê die verslag sal na die Raad van die PNS verwys word vir goedkeuring, waarna dit aan 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep beskikbaar gestel sal word. Hy noem dat die syfer ook deurgegee sal word aan die regering.

      Besluite:

      1. Dat kennis geneem word dat die finale verslag rakende die totale oppervlakte wat geskik is vir die verbouing van sojabone in Suid-Afrika beskikbaar gestel sal word aan 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep.

        Mnr Keun

      2. Dat kennis geneem word dat 3 miljoen hektaar beskikbaar is vir die verbouing van sojabone in Suid-Afrika.

        Lede

    4. Vordering: Internasionale cultivarproewe – verslag

      (Besluit 12.4.1 van die Sojawerkgroepnotule van 10 Maart 2010)

      Daar word kennis geneem van die dokument "Verslag: Besoek aan die sojaboonproewe 23 tot 26 Februarie 2010". Die Voorsitter sê die finale verslag oor die buitelandse proewe sal einde Julie, begin Augustus beskikbaar gestel word.

  13. Ander sake

    1. Interessante inligting, naamlik nuusbrokkies vir plasing op die webtuiste asook kleurfoto's

      Die Voorsitter herinner die lede dat geskikte kleurfoto's of ander inligting vir plasing op die PNS-webtuiste verwelkom sal word.

    2. Voorlegging: verskillende instansies

      (Besluit 13.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 10 Maart 2010)

      Die Voorsitter sê LinkSeed is die grootste plaaslike saad­maat­skappy wat sojabone verkoop, en is die bydrae wat hulle lewer tot die plaaslike sojabedryf van onskatbare waarde. Hy noem dat daar voortdurend nuwe verwikkelinge in die sojasaadmark kom, en het die PNS dit goed gedink om Mnr Herbst te nooi om die Sojawerkgroepvergadering toe te spreek oor dit wat tans in die bedryf aan die gang is, en dit wat op die horison is waarna uitgesien kan word. Hy stel Mnr Herbst aan die woord.

      Mnr Herbst bedank die PNS vir die uitnodiging, en die geleentheid om die lede in te lig oor dit waarmee LinkSeed besig is in die sojabedryf. Hy sê dit is deesdae 'n duur proses om 'n sojabooncultivar te teel, en is baie werk verbonde aan die uiters delikate proses.

      Mnr Herbst verskaf 'n kort oorsig oor LinkSeed, wat 'n privaatmaatskappy is, in mielies en sojas spesialiseer, en ook 'n klein sonneblomteelprogram in Argentinië het. Hy sê 'n molekulêre laboratorium is onlangs op die been gebring, om ondersteuning te bied aan die navorsers.

      Mnr Herbst noem dat LinkSeed sojas beskou as die koning van wisselbougewasse. Hy sê LinkSeed se genebron word uitgebrei deur die inkorporering van genetiese materiaal, wat wêreldwyd bekom word. Hy verduidelik welke aksies betrokke is by die ontwikkeling van 'n sojabooncultivar, en sê die persentasie suksesvolle kruisings is tussen 5 en 25%. Hy sê voor kruising word die skenkerouers selekteer, en word geselekteer vir omgewingsaanpassing, planttipe, planthoogte, groeilengte en siekteweerstand. Hy noem dat vaardigheid en geduld 'n voorvereiste is vir suksesvolle sojaboonkruisings.

      Mnr Herbst verduidelik dat verskillende blaar- en blomtipes in die volgende F2-uitplantings sal voorkom, word die saad vermeerder, en word die saad wat geoes word, in vier verskillende blokke geplant. Hy sê in daardie vier blokke, moet geselekteer word vir planttipe, blaartipe, peulhoogte, verskillende siektes en blomkleur. Hy noem dat kiem­krag­tigheid na die oesproses in die F2- en F3-stadium getoets word, aangesien groeikragtigheid 'n toenemend belangrike rol begin speel by sojas, veral op verskillende grondtipes. Hy verduidelik voorts welke stappe gevolg word om die sojaplante suiwer te ontwikkel vir die volgende suksesvolle cultivar.

      Mnr Herbst benadruk dat goeie entstof noodsaaklik is, veral in sanderige gronde, of op lande waar sojas nie voor­heen geplant is nie. Hy sê cultivars word ook getoets om te bepaal hoe hulle op sekere toedienings reageer. Hy noem dat LinkSeed bevind het dat 'n sekere maatskappy se entstof ver uitstaan bo ander in die mark.

      Mnr Herbst noem dat LinkSeed ook tans besig is met materiaal wat vanuit Amerika bekom is, wat weerstand het teen ander tipes onkruiddoders, wat vooropkoms aan­ge­wend word.

      Mnr Herbst verskaf 'n uiteensetting van LinkSeed se pyp­lyn­produkte. Hy sê al die nuwe cultivarnommers sal voort­aan volgens dieselfde stelsel toegeken word. Hy noem as voorbeeld dat die ses in die cultivarnommer LS 6014 aandui dat dit 'n LinkSeedcultivar is, die nul of die cultivar bepaald of onbepaald is, met 'n gelyke getal wat altyd aandui dat die cultivar onbepaald is. Hy sê die een in die cultivarnommer dui aan dat dit 'n smal blaarcultivar is, met ewe getalle wat breëblaarcultivars aandui. Hy noem dat die laaste syfer aandui tot welke groep die cultivar behoort, en dui die vier in hierdie geval aan dat dit 'n vinnige cultivar is.

      Mnr Herbst noem dat twee nuwe cultivars in groep vier in die huidige jaar geregistreer gaan word. Hy sê die cultivars gee 'n ses tot sewe persent opbrengsverhoging. Hy meld dat LinkSeed voorkeur gee aan noublaarcultivars, aan­ge­sien die plante minder gebruik maak van water. Hy noem dat die markgeneigdheid na vinniger tipe cultivars is, aangesien tussen 90 en 95% sclerotiniabesmetting vermy word, deurdat van die cultivars baie vinnig peule vorm en vul.

      Die Voorsitter stel die geleentheid vir vrae. Dr Dreyer ver­neem of teling wêreldwyd neig na noublaarcultivars. Mnr Herbst verduidelik dat die internasionale tendens na vinniger cultivars is, en word gepoog om die cultivars in dieselfde opbrengsstandaard te bring as groep ses en sewe. Hy sê die probleem met groep vier is dat dit moelik is om peulhoogte te kry, maar word gepoog om peulhoogte geneties te manipuleer.

      Dr Dreyer verneem na die rol wat blaarkleur speel. Mnr Herbst noem dat een van LinkSeed se cultivars, wat baie donkerder blare het as die ander, verreweg minder blaar­siektes gekry het as enigeen van die ander cultivars. Hy sê die cultivar is geënt met entstof wat ingebring is vanaf Argentinië, en is dit nie duidelik of die blaarkleur beïnvloed is deur daardie entstof nie.

      Dr De Kock verneem na die moontlikheid van basterteling by sojabone. Mnr Herbst sê dié moontlikheid word tans nagevors by die Universiteit van Illinois, maar voeg by dat geen sukses tot dusver behaal is nie. Hy verduidelik op navraag van Mnr Farr dat die proteïen- en olie-inhoud van sekere cultivars verhoog is, weens toegang tot inter­nasio­nale materiaal.

      Mnr Potgieter verneem na die moontlikheid om soja­slag­spreukadvertensieborde by LinkSeed se cultivar­proewe aan te bring. Mnr Herbst noem dat LinkSeed alreeds in die proses is om só 'n aksie te loods. Hy sê foto's is geneem, wat hopelik op die borde vertoon kan word, en word beplan om die slagspreuk "Koning van wisselbougewasse" te gebruik. Die Voorsitter spreek sy tevredenheid hieroor uit. Mnr Potgieter verneem na die moontlikheid om in mieliepromosie-artikels die waarde van sojabone as 'n wisselbougewas te noem. Mnr Herbst noem dat hy reeds 'n artikel geskryf het oor die voordele van sojas as wisselbougewas. Hy sê LinkSeed poog om 'n realistiese benadering te volg.

      Mnr Roos sê daar is tydens een van die Sojadinkskrums genoem dat soja-opbrengste beperk word deur die aantal blommetjies wat afspeen. Hy verneem of vordering al behaal is om afspening te beperk. Mnr Herbst noem dat afspening plaasvind sodra stremming voorkom, maar hou veral sojacultivars met onbepaalde groeiwyse aan met blom, al vind peulvorming plaas. Hy verduidelik dat cultivars met bepaalde groeiwyse ophou blom, sodra peule begin vorm.

      Mnr Herbst sê produsente moet in die huidige produksie­jaar uiters versigtig wees om graan terug te hou en dié as saad te gebruik in die volgende produksieseisoen. Hy noem dat sojaboonsaad wat vog gekry het, swel en krimp, swel en krimp, en dat dit die ontkieming van saad met 60 na 70% beïnvloed.

      Dr Dreyer verneem of die meeste molekulêre merkers reeds geïdentifiseer is. Mnr Herbst noem dat Dr Fourie hom 'n paar jaar gelede versoek het om met die merker­ont­wik­keling vir sojabone te help. Hy sê Drs Fourie en Mienie het alreeds sekere merkers vir aalwurm identifiseer. Hy meld egter dat geen merkers vir roes nog identifiseer is nie.

      Dr De Kock bedank Mnre Herbst en Le Roux vir die inset wat hulle gelewer het. Hy spreek die hoop uit dat LinkSeed sal voortgaan om goeie cultivars te ontwikkel, en sê die PNS sal, waar moontlik, die nodige ondersteuning bied, sodat die sojabedryf verder kan uitbrei.

      Die Voorsitter noem dat BASF 'n voorlegging sal lewer oor die Agcelence-produkreeks tydens die Soja­werk­groep­vergadering van 27 Julie. Dr De Kock noem dat die produk die gewas langer groen hou, en ook opbrengs kan verhoog. Hy sê Mnr Kip Cullers, wat die rekord hou vir die hoogste sojaboonproduksie van 10,2 ton per hektaar, het van dié middel gebruik gemaak.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat BASF 'n voorlegging sal lewer oor die Agcelence-produkreeks tydens die Soja­werk­groep­vergadering van 27 Julie.

        Mnr Keun

  14. Datum van volgende vergadering

    Die datum van die volgende vergadering van die Soja­werk­groep word bevestig as 27 Julie 2010.

  15. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank die teenwoordiges vir insette ge­le­wer. Hy wens die lede 'n voorspoedige rit na hul onder­skeie tuistes toe, en verdaag die vergadering om 13:45.