- 27 SEPTEMBER 2011
- 28 JULY 2011
- 9 MEI 2011
- 8 MAART 2011
- 27 JANUARIE 2011
Notule
Sojawerkgroepvergadering
gehou om 10h00 op 27 Januarie 2011 in die Konferensiekamer van die PNS-Kantoorgebou, Woodmead
Opening
Die vergadering word met gebed geopen deur Dr J Dreyer.
Verwelkoming
Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal welkom by die eerste vergadering van die Sojawerkgroep van die jaar, wat ook die eerste vergadering is wat gehou word in die Konferensiekamer van die nuwe PNS-Kantoorgebou. Hy rig 'n besondere woord van verwelkoming tot Mnr André de Villiers, produsent van Kinross, Mnr Jan Davel van VKB en Dr Sandra Lamprecht, van die LNR-NIPB te Stellenbosch.
Presensie
Teenwoordig
Mnr GJH Scholtemeijer Voorsitter Mnr JSG Joubert Visevoorsitter: PNS Me R Beukes Nasionale Departement Landbou Mnr J Botma Produsent: Noord-Vrystaat Mnr L Büchner Produsent: Mpumalanga Dr P Caldwell Universiteit van KwaZulu-Natal Mnr J Davel VKB Dr J de Kock PNS Mnr A de Villiers Produsent: Mpumalanga Dr J Dreyer LNR-IGG Mnr CJ du Plessis Produsent: KwaZulu-Natal Mnr J Erasmus LNR-IGG Mnr G Farr RNRF Mnr SG Ferreira Agriconcept Mnr AS Gouws Landbouweekblad Dr M Griessel PNS Mnr C Havenga PNS-kontrakteur Mnr M Jansen van Rensburg Dept Landbou: Mpumalanga Dr S Lamprecht LNR-NIPB Mnr FAS Potgieter PNS/GraanSA Mnr MR Prinsloo LNR-IGG Mnr G Roos Produsent: Mpumalanga Me M Scheepers Nasionale Departement Landbou Mnr WF van Wyk PNS-kontrakteur Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte Me E Harmse Sekretariaat Verskonings
Mnr P Botha GraanSA Dr E Briedenhann PNS Mnr D Cronjé Produsent: Mpumalanga Mnr GP de Beer PNS-kontrakteur Me A Enslin SAGIS Mnr ID Lamprecht Dept Landbou: Mpumalanga Mnr E Maree PNS-kontrakteur Mnr D van der Westhuizen Produsent: Mpumalanga
Personalia
Geen.
Vasstelling van die sakelys
Die sakelys word aanvaar met toevoeging van:
Punt 13.11: Super Sojakompetisie, Mpumalanga.
Goedkeuring van die notule
Notule van die Sojawerkgroepvergadering van 5 Oktober 2010 en verwysing na webblad
Besluite:
- Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 5 Oktober 2010 goedgekeur word.
- Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 5 Oktober 2010 word na die Bemarkingskomitee verwys vir plasing op die webblad van die PNS.
Bemarkingskomitee
Algemene oorsig
Oesskatting
Die Voorsitter neem die dokument wat Me Scheepers opgestel het rakende die kommersiële sojaboonoes vir die 2009-2010 produksieseisoen en die voorlopige soja-oppervlakteskatting vir die 2010-2011 produksie-seisoen ter tafel. Hy stel Me Scheepers aan die woord.
Me Scheepers sê die finale grootte van die kommersiële sojaboonoes vir die 2009-2010 produksieseisoen is op 566 000 ton gestel, wat die grootste plaaslike oes is wat nog ooit behaal is. Sy meld dat dit 300 084 ton of 112,8% meer is as die vorige 10-jaar gemiddelde oes van 265 916 ton en 226 100 ton of 66,5% meer is as die vorige 5-jaar gemiddelde oes van 339 000 ton. Sy sê die gemiddelde opbrengs vir 2009-2010 is 1,82 ton per hektaar, wat 16,1% laer is as die 2,17 ton per hektaar wat die vorige seisoen behaal is. Sy voeg by dat die 5- en 10-jaar gemiddelde opbrengste 1,74 ton per hektaar en 1,70 ton per hektaar onderskeidelik is.
Die Voorsitter noem dat heelwat produsente in die afgelope produksie-seisoen vir die eerste keer toegetree het tot die bedryf, en sê daar kan nie van nuwe toetreders verwag word om dieselfde opbrengste te behaal as gesoute sojaprodusente nie. Mnr Potgieter noem dat die reënval in die vorige produksieseisoen ook die gemiddelde opbrengste nadelig beïnvloed het.
Mnr Joubert verneem of dit onprakties sou wees om 'n gemiddelde opbrengsmikpunt te stel in terme van normale klimaatsomstandighede. Die Voorsitter is van mening dat dit baie bevredigend sou wees om 'n opbrengsgemiddeld van 2 ton per hektaar twee jaar na mekaar te behaal, en sê hy sou baie tevrede wees indien dít binne die volgende vyf jaar vermag kan word. Hy versoek die produsente om kommentaar te lewer.
Mnr Büchner noem dat Kanhym die afgelope sewentien jaar 'n gemiddelde opbrengs van 2,3 ton per hektaar behaal, en voeg by dat hy 'n gemiddeld van ten minste ≥ 3 ton per hektaar in die afsienbare toekoms wil behaal. Hy noem dat die beskikbare hektare meer doeltreffend bestuur moet word. Mnr Potgieter beskou 'n opbrengsgemiddeld van 2,2 ton per hektaar teen 2015 as meer realisties. Mnr Botma sê in die gebied waar hy boer sou dit 'n baie groot sprong wees indien 2,5 ton per hektaar gemiddeld behaal kan word en spreek die gedagte uit dat so iets moontlik sal wees, met die hulp van nuwe tegnologie en cultivars wat op die mark kom. Hy noem dat hy baie tevrede sou wees met 2,2 ton per hektaar, en graag sou wou mik vir 3 ton per hektaar. Mnr Van Wyk beskou 'n 2,5 ton opbrengsgemiddeld as haalbaar. Mnr Roos noem dat hy twee jaar tevore 'n gemiddelde opbrengs van 3 ton per hektaar behaal het.
Mnr Joubert verduidelik dat hy die vraag rakende die opbrengsmikpunt gestel het, met die oog daarop om die Tegnologiekomitee of die Sojabeplanningstaakspan te versoek om 'n strategie te bedink waardeur die opbrengsmikpunt van 1 miljoen ton op 500 000 hektaar behaal kan word teen 2015. Die Voorsitter reël dat die saak dienooreenkomstig verwys word, en stel Me Scheepers weer aan die woord.
Me Scheepers sê die geskatte voorlopige oppervlakte beplant met sojas in die huidige produksieseisoen is 438 000 hektaar, wat 'n toename van 125 550 hektaar of 40,6% verteenwoordig vergeleke met die 311 450 hektaar geplant die vorige seisoen. Sy noem dat hierdie die grootste oppervlakte is wat nog ooit plaaslik aangeplant is. Sy sê dit is ook 48 000 hektaar of 12,3% meer as die voornemens om te plantsyfer van 390 000 hektaar, soos vrygestel in Oktober 2010.
Me Scheepers sê volgens die voorlopige oppervlakteskatting vir die 2010-2011 produksieseisoen is die meeste sojabone in Mpumalanga geplant, naamlik 190 000 hektaar, of 44% van die totale soja-aanplanting, gevolg deur die Vrystaat met 150 000 hektaar, wat 34% van die aanplanting verteenwoordig, KwaZulu-Natal met 34 500 hektaar, of 8% van die totale aanplanting, Limpopo met 23 500 hektaar, wat 5% van die totale aanplanting verteenwoordig, en Noordwes met 22 000 hektaar, ook nagenoeg 5% van die totale aanplanting. Sy noem dat 18 000 hektaar in die oorblywende provinsies geplant is, wat 4% van die totale aanplanting verteenwoordig.
Me Scheepers noem dat die Noordwes-provinsie die grootste uitbreiding van oppervlakte onder sojas toon, waar die oppervlakte met 120% toegeneem het, gevolg deur die Vrystaat, met 'n oppervlaktetoename van 57,9% en die Noord-Kaap, met 'n toename van 53,8%. Sy sê daar is ook beduidende toenames in die ander provinsies, met 'n gemiddelde oppervlakte-toename van 40,6%. Die Voorsitter beskou dié inligting as uiters bemoedigend.
Me Scheepers noem dat 'n grafiek ook saamgestel is wat die verandering in die verhouding ten opsigte van die oppervlakte van sojabone tot sonneblomme sedert die 2000-2001 produksieseisoen tot en met die 2010-2011 produksieseisoen uitbeeld. Sy sê die verhouding het verander vanaf 20:80 in 2000-2001 na 43:57 gedurende die 2010-2011 produksieseisoen.
Mnr Joubert doen aan die hand dat die verhouding sojas tot mielies in totaal en per provinsie bereken word, gesien in die lig van die feit dat die PNS die implementering van gesonde wisselboustelsels wil aanmoedig.
Daar word kennis geneem van die voorlopige oppervlakteskattings per gewas vir die 2010-2011 produksieseisoen. Die Voorsitter sê dit is duidelik dat mielies hektare afgestaan het ten gunste van sojas en sonneblom. Hy bedank Mee Beukes en Scheepers vir die akkuraatheid waarmee hulle te werk gaan, en die kreatiwiteit wat hulle aan die dag lê met die aanbied van interessante inligting.
Besluite:
- Dat die Tegnologiekomitee en die Sojabeplanningstaak-span versoek word om 'n strategie te bedink waardeur 'n gemiddelde soja-opbrengsmikpunt van 2,2 tot 2,5 ton per hektaar behaal kan word teen 2015.
Mnr Keun
Tegnologiekomitee
Sojabeplanningstaakspan - Dat die verhouding sojas tot mielies in totaal en per provinsie bereken word, gesien in die lig van die feit dat die PNS die implementering van gesonde wisselboustelsels wil aanmoedig.
Mnr Keun
Mee Beukes en Scheepers
- Dat die Tegnologiekomitee en die Sojabeplanningstaak-span versoek word om 'n strategie te bedink waardeur 'n gemiddelde soja-opbrengsmikpunt van 2,2 tot 2,5 ton per hektaar behaal kan word teen 2015.
SAGIS
Die Voorsitter rapporteer dat Me Enslin op navraag aangedui het dat die verwysing na "Trade/Handel" in die SAGIS-dokumentasie verwys na in- en uitvoerdata van sekere lande.
Daar word kennis geneem van die data rakende die in- en uitvoere van wêreldoliesade per land vanaf 2006-2007 tot en met Januarie 2010-2011, en van die meegaande sirkeldiagramme. Daar word voorts kennis geneem van die SAGIS-Markinligting gedateer 22 November 2010, van die Weeklikse Bulletin gedateer 11 Januarie 2011 en van die Maandelikse Bulletin van Opgawe-inligting, gedateer 22 Desember 2010.
Provinsies
KwaZulu-Natal
Die Voorsitter sê volgens die Oesskattingskomitee se nuutste voorlopige oppervlakteskatting is 34 500 hektare sojas in KwaZulu-Natal aangeplant, teenoor die 30 000 hektare van die vorige produksieseisoen.
Mnr Du Plessis is die mening toegedaan dat die oppervlakteskatting redelik in die kol is, aangesien meer, maar nie noemenswaardig meer nie, sojas aangeplant is in dié provinsie. Hy sê die weerstoestande in die komende week sal bepalend wees, en sal die waterskade geminimaliseer word, indien die son sou skyn. Hy noem dat die sojas tans almal in die blom staan, en dat onkruid- en siektebeheer hoofbrekens bied, aangesien die produsente nie in die lande kan kom nie. Hy sê produsente wat verminderde bewerkingspraktyke beoefen sal vinniger kan inkom in hul lande, aangesien die grond bietjie fermer is.
Mnr Havenga beaam dat die oppervlakte van 34 500 hektare akkuraat is. Hy voeg egter by dat Normandien geweldig baie reën gehad het, met sommige produsente wat meer as 500mm in Desember gemeet het, met 'n bykomende 300mm, wat gemeet is in die eerste week van Januarie, en dat veral die klein sojas versuipskade opgedoen het. Dr Caldwell sê volgens Mnr Van Rij het die swak weer die aanplantings vertraag, met die gevolg dat sojaroes nog nie waargeneem is te Cedara nie.
Mpumalanga en Gauteng
Die Voorsitter sê volgens die Oesskattingskomitee is 'n oppervlakte van 190 000 hektaar sojas aangeplant in Mpumalanga, teenoor die 145 000 hektaar van die vorige seisoen.
Mnr De Villiers bevestig dat die produsente in Mpumalanga heelwat meer sojas geplant het. Hy sê daar is taamlik baie nuwe toetreders, wat 'n aansienlike hoeveelheid hektare aangeplant het. Hy noem dat versuipskade voorkom op klein sojas, hoewel heelwat sojabone baie goed daarna uitsien. Hy sê daar is 'n goeie verspreiding van ontwikkelingstadia, met sommige sojas wat tans in die blom kom.
Mnr Büchner noem dat die sojas beter lyk as in ander jare. Hy sê in Kanhym se geval is al die sojas binne 'n kort tydperk geplant, en is die waterskade minder op die sojas as op die mielies. Mnr Roos noem dat die sojas goed vertoon, hoewel daar bietjie variasie is. Hy sê hy het hier en daar waargeneem dat produsente entstofprobleme gehad het, maar voeg by dat dít hoofsaaklik beperk is tot nuwe toetreders.
Mnr Jansen van Rensburg rapporteer dat die sojas in sy gebied nie te goed vertoon nie, en opper die moontlikheid dat dit as gevolg van probleme met hitte-eenhede kan wees. Hy sê hy het verneem van produsente vanaf Volksrust reg deur tot by Lydenburg en by Stoffberg, wat kla dat 'n tekort aan hitte-eenhede ontwikkeling vertraag het. Hy noem dat dit ook baie nat aldaar is, met sommige produsente wat nie in die lande kan inkom nie. Hy sê in ag genome die plantdatum, is die ontwikkeling in die goed-gedreineerde rooigronde nie na wense nie. Hy bevestig dat die geskatte aangeplante hektare akkuraat is, en sê daar is heelwat sojas op die lande, met sommige produsente wat slegs sojas geplant het.
Noordwes- en Limpopoprovinsie
Die Voorsitter meld dat die oppervlakte onder sojas in Noordwes-provinsie geskat word op 22 000 hektaar, teenoor die 10 000 hektaar van die vorige jaar. Hy sê in die Limpopoprovinsie het die soja-aanplantings toegeneem van die vorige jaar se 18 000 hektaar na 23 500 hektare.
Mnr Potgieter noem dat heelwat sojabone aangeplant is in Coligny se wêreld. Hy sê in die gebied waar hy boer, is die normale aanplantings gedoen, hoewel bietjie meer onder besproeiing aangeplant is. Hy noem dat hy heelwat saadnavrae uit Noordwes ontvang het. Hy sê klaarblyklik is tabak ten koste van sojas in Groblersdal geplant. Hy is van mening dat die oppervlakteskattings korrek is.
Vrystaat
Die Voorsitter noem dat 150 000 hektaar in die Vrystaat aangeplant is, teenoor 95 000 hektaar die vorige jaar. Mnr Davel sê gegewe die feit dat meer sojas in die Noordoos-Vrystaat aangeplant is, reken hy tóg dat die oes kleiner sal wees as in die vorige jaar, as gevolg van laat aanplantings, te min hitte-eenhede en so meer. Hy noem dat aansienlik meer sojas aangeplant is in die VKB-gebied.
Mnr Botma noem dat baie van die produsente wat beplan het om toe te tree tot sojabone teruggeval het na sonneblom, toe die seisoen kort geraak het. Hy sê die ervare sojaprodusente het groter geplant. Hy noem dat hulle sojas goed vertoon, hoewel daar kolle is wat vergeel, wat waarskynlik sal herstel sodra die son begin skyn.
Mnr Keun rapporteer by monde van Mnr Maree vanuit 'n baie nat Bethlehem. Hy berig dat versuip- en selfs haelskade voorgekom het in Warden, Reitz, Clarens en Frankfort.
Mnr Potgieter sê dit waaroor verslag gelewer is, kom algemeen voor in nat toestande. Hy noem dat jonger plante vinniger vergeel indien dit baie vog kry, maar dat die plante binne drie, vier dae volkome herstel, indien die toestande droër word. Hy sê sojas is seker een van dié gewasse wat vog die beste kan hanteer, en reageer sojas baie goed, sodra warm toestande inkom.
Mnr Potgieter noem dat baie nat toestande tydens planttyd baie swak nodulering tot gevolg het. Hy meld egter dat daar nie baie wisselvalligheid met nodulering voorkom indien geplant word op grond waar sojas vantevore verbou is nie. Hy sê produsente wat vir die eerste keer sojas plant, mag moontlik probleme ervaar met nodulering.
Oos-Kaap, Noord-Kaap en Suidwestelike Distrikte
Mnr Farr is van mening dat die oppervlakte onder sojas in die Oos-Kaap min of meer konstant gebly het in vergelyking met die vorige jaar.
Weer- en klimaatsvooruitskouing
Geen verslaglewering.
Mikpunte – 2015
Geen verslaglewering.
Markaangeleenthede
Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik
Dr Griessel gee 'n oorsig van die plaaslike en internasionale situasie in die sojaboonmark. Hy sê tydens die Sojawerkgroepvergadering op 5 Oktober 2010 was die gelande prys van 47% proteïen soja-oliekoek R3106, teen 'n wisselkoers van R6,96. Hy noem dat die berekende riglynpryse aan produsente op daardie stadium R2783/ton was vir sojabone op die plaas. Hy sê die gelande prys vir 47% proteïen soja-oliekoek op 26 Januarie was R3 643 per ton vir Februarieverskeping, teen 'n wisselkoers van R7,05. Hy noem dat die berekende prys aan produsente op hierdie gelande prys R3 312 is, wat 'n styging van R529/ton vir sojabone op die plaas is, binne 'n tydperk van bykans vier maande.
Dr Griessel noem dat baie goeie reënval in Argentinië sojaboonproduksie-vooruitsigte aansienlik verbeter het. Hy sê volgens Oil World het hierdie voordelige reëns bygedra tot ietwat van 'n verlaging in die sojaboontermynkontrakte op die Chicago Board of Trade (CBOT) in die week eindi-gende 20 Januarie 2011.
Dr Griessel sê sojaboonvooruitsigte is ook gunstig in Brasilië, waar vooruitsigte aansienlik verbeter het in sekere droë areas van Rio Grande do Sul. Hy meld dat sommige waarnemers die mening toegedaan is dat Brasilië sy opbrengs van 68,7 miljoen ton gedurende 2009-2010 kan oorskry.
Dr Griessel sê dit is interessant om daarop te let dat sojabone en sojaboonprodukte ietwat afgeneem het die afgelope tyd. Hy meld dat Oil World van mening is dat die skerp prysstygings die afgelope drie maande 'n gedeeltelike rol mag speel. Hy sê gedurende Desember 2010 het die gesamentlike pers en netto-uitvoere van die VSA, Argentinië en Brasilië basies stagneer na die vlakke van 'n jaar gelede, wat in sterk kontras is met die groei van 9,6 miljoen ton of 22% in September/November 2010.
Dr Griessel noem dat 'n Chinese afvaardiging op 20 Januarie 2011 'n langtermynooreenkoms geteken het vir VSA-sojabone, met 'n totale waarde van US$1,8 biljoen. Hy sê meeste van dié sojabone is waarskynlik nuwe-oesvoorrade vir verskeping vanaf September 2011.
Dr Griessel noem dat die wêreldverbruik van sojabone in 2009-2010 met 19 miljoen ton toegeneem het teenoor die vorige jaar. Hy sê dit wil voorkom asof sake gestabiliseer het as gevolg van die goeie reëns in Argentinië. Hy is die mening toegedaan dat sojaboonpryse hul huidige goeie vlakke sal behou, en moontlik verder kan styg, maar nie met veel meer as R100,00 per ton nie.
Dr Griessel verskaf 'n uiteensetting van die afgeleide produsenteprys vir sojabone, soos uiteengesit in die tabel wat volg, waarna die Voorsitter hom bedank vir insette gelewer.
Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban soos op 27 Januarie 2011 Verskeping: R3 106 | Wisselkoers: R7.05/US$ Geland Durban 47% proteïen oliekoek 3 643.00 Vervoer na Randfontein (per ton) 260.00 Rente 2 weke 15% 21.00 0,5% hanteringsverlies 18.00 Gelande prys 3 942.00 Waarde van volvetsoja 110% R4 336.00 Min koste om sojabone na volvetsojabone te verwerk 1 025.00 – Vervoerkoste na volvet-aanleg 150.00 – Stoorkoste 115.00 – Rente 15% (6 maande) 268.00 – Ekstrusiekoste 285.00 – 5% ekstrusieverlies 206.00 Afgeleide produsenteprys vir sojabone (op plaas) – R/ton R3 312.00 Besluit:
- Dat kennis geneem word dat die PNS se afgeleide produsenteprys vir sojabone soos op 27 Januarie 2011 R3 312 beloop het.
Lede
- Dat kennis geneem word dat die PNS se afgeleide produsenteprys vir sojabone soos op 27 Januarie 2011 R3 312 beloop het.
SAFEX
Kennis word geneem van die SAFEX-termynpryse van sojabone soos op 7 Januarie 2011, wat as Bylae E by die sakelys aangeheg is. Mnr Potgieter rapporteer dat die nuutste SAFEX-prys vir sojabone R3 350 is, met die Julie-prys wat by R3 600 draai, terwyl die Septemberprys as R3 700 aangedui word.
Produsente-aangeleenthede
KwaZulu-Natal
Super Sojakompetisie
Mnr Du Plessis bevestig dat die reëlings met betrekking tot die Super Sojakompetisie 2010-2011 glad verloop, en dat twee boeredae in Februarie gereël is. Hy sê die vorige jaar se deelnemers en ander belangstellendes sal by dié dae betrek word. Hy noem dat siekte- en onkruidbeheer pertinent aandag sal kry in die huidige jaar. Hy sê die prysuitdeling van die Supersojakompetisie sal soos gewoonlik weer saamval met die "No-Till" Dag, wat aangebied word vanaf 6 tot 8 September 2011.
Navorsing
Die verslaglewering oor die navorsing wat in die onderskeie provinsies onderneem is, word hanteer by besprekingspunt 10.1 "Nasionale cultivarproewe".
"No-Till" Voorlegging: Mnr A de Villiers
(Besluite 9.1.3.1 en 9.1.3.2 van die Sojawerkgroep notule van 5 Oktober 2010 en besluite 29.3.1 en 29.3.2 van die Raadsnotule van 14.15.09.2010)
Die Voorsitter stel die spesiaal-genooide spreker van die dag, Mnr André de Villiers aan die woord. Hy sê daar is by meer as een geleentheid met groot lof verwys na Mnr De Villiers se kundigheid op die gebied van bewarings- en verminderde bewerking.
Sien aangehegde kopie vir meer detail van die voorlegging.
Die Voorsitter stel die geleentheid vir bespreking en vrae na afloop van die voorlegging. Dr De Kock verneem na die wyse waarop Mnr De Villiers kalk sou toedien. Hy verneem ook hoe dikwels Mnr De Villiers sy sojas en mielies afwissel.
Mnr De Villiers noem dat hy sy presisieregstellings strooi op die vorige jaar se sojalande, wanneer daar bietjie minder materiaal is. Hy sê wanneer hy die kalk dan strooi, val meer kalk op die grond as op die reste. Hy noem dat hy twee jaar mielies, een jaar sojas plant.
Mnr Joubert verneem of Mnr De Villiers op een of ander stadium 'n opbrengsdaling gehad het, in die proses van oorskakeling vanaf konvensionele verwerking na geenbewerking. Mnr De Villiers sê na wat berig word, kan opbrengsdalings in die vierde jaar wat die praktyk beoefen word ervaar word. Hy noem dat hy tans in jaar vier van die praktyk is, en dus nog nie 'n antwoord kan verskaf nie. Hy sê sy opbrengste per hektaar het toegeneem oor die jare, ook weens faktore soos beter cultivars en presisieboerdery.
Mnr De Villiers bevestig op navraag dat die erdwurmpopulasie in sy grond wél toegeneem het. Mnr Van Wyk sê erdwurms speel 'n geweldige rol in geenbewerkingslande. Hy noem dat die tonnels wat die wurms maak, en die tonnels wat gevorm word waar plantwortels afsterf, 'n geweldig belangrike rol speel by die penetrasie van kalk in die grond. Hy sê RR-mielies is die grootste onkruid in RR-sojas, en verneem hoe dít beheer word. Mnr De Villiers verduidelik dat opslag nie eintlik 'n probleem is in geenbewerking nie, omdat die pit wat op die grond lê nie 'n kans gegee word om grond oor te kry, sodat dit kan ontkiem nie. Hy sê hy spuit Select op sojabone waar mielie-opslag wél voorkom. Mnr Van Wyk sê met geenbewerking is daar heelwat pitte van mielies wat bo-op die grond agterbly. Hy verneem of muise in dié geval as 'n probleem ervaar word. Mnr De Villiers noem dat muise die vorige jaar as 'n groot probleem landswyd ervaar is, maar dat die muisprobleem nie in die huidige jaar kop uitgesteek het nie.
Dr Lamprecht verneem of meer probleme ervaar word met grondsiektes, veral met monokultuurmielies in geenbewerking. Mnr De Villiers noem dat hy die vorige seisoen, veral met mielies op mielielande, kwaliteitsprobleme en ook probleme met Diplodia ervaar het. Hy sê hy het 'n mate van bekommernis en twyfel oor siektes, maar nie der mate dat hy sy rug sou wou keer op geenbewerking nie. Hy noem dat hy in die huidige produksiejaar 50% mielies en 50% sojas aangeplant het, in plaas van 33% sojas en 66% mielies, en dat hy waarskynlik hierby sal hou, aangesien mielies wat op sojalande geplant word baie goed presteer.
Mnr De Villiers noem dat hy poog om 60% bedekking oor te hou nadat lande gestroop is. Hy sê sy gemiddelde mielie-opbrengs is 6,3 ton per hektaar, terwyl sy gemiddelde soja-opbrengs 2,3 ton is. Hy noem dat hy nie die organiese materiaal in sy grond moniteer nie, maar onderneem om dit in die toekoms te doen.
Die Voorsitter bedank Mnr De Villiers vir sy voorlegging.
Phomopsis
(Besluite 9.1.4.1 en 9.1.4.2 van die Sojawerkgroep notule van 5 Oktober 2010)
Daar word kennis geneem van Dr Jarvie se skrywe rakende die gewaande voorkoms van Phomopsis in sojaboonsaad. Dr Lamprecht is die mening toegedaan dat dit belangrik is om ondersoek in te stel na die voorkoms van Phomopsis.
Dr Caldwell rapporteer dat Prof Rodrigues op navraag bevestig het dat twee sojaboonsiektes wat in Brasilië voorkom toegeskryf kan word aan Phomposis, en dat saadbehandeling met swamdoders as primêre beheerstrategie ingespan word. Sy bevestig dat Phomopsis en Macrophomina spp. of "charcoal rot" twee afsonderlike siektes is. Daar word kennis geneem dat Dr Caldwell die inligtingstuk wat sy voorberei het oor Phomopsis en Macrophomina sal hersien, ten einde meer inligting oor die toestande waaronder die patogene voorkom, in te sluit.
Besluit:
- Dat Dr Caldwell die inligtingstuk wat sy voorberei het oor Phomopsis en Macrophomina sal hersien, ten einde meer inligting oor die toestande waaronder die siektes voorkom, in te sluit.
Dr Caldwell
- Dat Dr Caldwell die inligtingstuk wat sy voorberei het oor Phomopsis en Macrophomina sal hersien, ten einde meer inligting oor die toestande waaronder die siektes voorkom, in te sluit.
Mpumalanga en Gauteng
Navorsing
(Besluit 7.2.2.1 van die Tegnologiekomitee notule van 18 Augustus 2010)
Die Voorsitter noem dat Mnr Van Wyk in Junie 2010 rapporteer het dat 'n produsent van Marble Hall probleme gehad het met sojabone wat gemuf het binne die peule. Mnr van Wyk noem dat dit tipies is van peule wat nat geword het, en weer droog geword het. Hy sê dit wil voorkom asof die muf nie die bone sóveel geaffekteer het nie, aangesien die muf maklik afgevryf kon word.
Die verslaglewering oor die navorsing wat in die onderskeie provinsies onderneem is, word hanteer by besprekingspunt 10.1 "Nasionale cultivarproewe".
Individuele strookdemonstrasieproewe
(Besluit 13.11.1 van die Sojawerkgroepnotule van 27 Januarie 2011)
Mnr Van Wyk bevestig dat strookdemonstrasieproewe aangeplant is op die UP-proefplaas te Hatfield. Hy noem dat hy ook 'n strookdemonstrasieproef geplant het by Kanhym.
Noordwes- en Limpopoprovinsie
Navorsing
Die verslaglewering oor die navorsing wat in die onderskeie provinsies onderneem is, word hanteer by besprekingspunt 10.1 "Nasionale cultivarproewe".
Ander
Geen verslaglewering.
Vrystaat
Navorsing
Die verslaglewering oor die navorsing wat in die onderskeie provinsies onderneem is, word hanteer by besprekingspunt 10.1 "Nasionale cultivarproewe".
Individuele strookdemonstrasieproewe
Mnr Davel rapporteer oor die strookdemonstrasieproewe wat aangeplant is in die VKB-bedieningsgebied. Hy sê dit was te droog in Desember om die beoogde proef te Oranjeville te plant. Hy noem dat die proef te Memel baie laat geplant is, dat die proef te Reitz geplant is, en ook die proef onder besproeiing te Frankfort.
-
Oos-Kaap, Noord-Kaap en Suidwestelike Distrikte
Navorsing
Die verslaglewering oor die navorsing wat in die onderskeie provinsies onderneem is, word hanteer by besprekingspunt 10.1 "Nasionale cultivarproewe".
Ander
Geen verslaglewering.
Algemeen
Geen verslaglewering.
Navorsing
Nasionale cultivarproewe 2009-2010
(Besluite 10.1.1.1 tot 10.1.1.1.4 van die Sojawerkgroep notule van 5 Oktober 2010)
Daar word kennis geneem van die afskrif van die voorlegging "Nasionale Sojaboonkultivarproewe 2010", en van die dokument "Sojaboonkultivaraanbevelings vir 2010-2011", soos vervat in Bylae H.
Die Voorsitter verwys na Tabel drie in die sojabooncultivaraanbevelings. Hy sê die oliepersentasies van die laaste ses cultivars wat in die koel gebiede evalueer is, is baie laag, en verskil van die oliepersentasies wat ten opsigte van daardie cultivars voorgehou word in die gelyknamige artikel wat gepubliseer is in die SAGraan van November 2010. Hy reël dat die dokument hersien, en weer ingebind word saam met die dokumentasie van die eersvolgende vergadering.
Die Voorsitter noem dat Dr Briedenhann vroeër in die week tydens 'n vergadering beweer het dat Suid-Afrikaanse sojabone 'n laer gemiddelde proteïeninhoud as 35% het. Hy sê volgens Tabel drie is die proteïenvlakke van die cultivars wat evalueer is deurgaans bo 40%. Mnr Erasmus bevestig dat die olie- en proteïenvlakke op 'n vogvrye basis bereken is. Dr Griessel sê op 'n groot aantal monsters is die gemiddeld op 'n "as is" basis 37% proteïen en 18% olie. Hy sê op 'n vogvrye basis sou die proteïenvlak in die orde van 41% wees, aangesien daar tussen 10 en 12% vog is, wanneer die ontleding op 'n "as is" basis gedoen word.
Mnr Erasmus skryf die fout daaraan toe dat sommige lokaliteite uitgehaal is, en anders bereken is, met die gevolg dat daar 'n verskil is tussen die persentasies in die oorspronklike dokument, wat by die cultivarevaluasie-vergadering voorgelê is, en die artikel. Hy sê daar is tydens gemelde vergadering besluit om sekere lokaliteite buite rekening te laat.
Die Voorsitter reël dat die saak weer onder die loep geneem word tydens die volgende vergadering. Dr Griessel versoek dat die peulhoogtes, soos gereflekteer in Tabel nege van die voorlegging, nagegaan word vir korrektheid.
Besluit:
- Dat die voorlegging "Nasionale Sojaboonkultivarproewe 2010", en die dokument "Sojaboonkultivaraanbevelings vir 2010-2011" hersien word, en ingebind word saam met die dokumentasie van die eersvolgende vergadering, sodat die saak rakende die proteïen- en olie-ontledings van sekere cultivars weer bespreek kan word.
Mnr Keun
- Dat die voorlegging "Nasionale Sojaboonkultivarproewe 2010", en die dokument "Sojaboonkultivaraanbevelings vir 2010-2011" hersien word, en ingebind word saam met die dokumentasie van die eersvolgende vergadering, sodat die saak rakende die proteïen- en olie-ontledings van sekere cultivars weer bespreek kan word.
Roes
Silikonkongres – Beijing
Dr Caldwell bevestig dat sy beplan om 'n silikonkongres by te woon, wat in September 2011 aangebied word in Beijing.
Roesvangerproewe
(Besluit 7.31.11.1 van die Tegnologiekomitee notule van 21 Oktober 2010)
Mnr Van Wyk rapporteer dat besluit is om 'n roesvangerproef aan te plant by die navorsingstasie te Groblersdal, in stede daarvan om te poog om 'n ander medewerker te identifiseer by wie 'n proef aangeplant kan word.
Daar word kennis geneem dat roes op 7 Januarie 2011 waargeneem is op die groentesojaproef ("vegetable soy") te Cedara.
Sojaboonroeswerkgroep notule van 20 Julie 2010
Daar word kennis geneem van die Sojaboonroeswerkgroepnotule van 20 Julie 2010, en dat die aktiwiteite van gemelde werkgroep gestaak is, aangesien sojaboonroes effektief beheer kan word met chemikalieë.
Sclerotinia
Sclerotiniawerkgroep notule 20 Julie 2010
Daar word kennis geneem van die Sclerotiniawerkgroep notule van 20 Julie 2010.
Sunflower Week in Review
(Besluit 7.2.1 van die Navorsingsprioriteitskomitee notule van 6 Oktober 2010)
Daar word kennis geneem van die artikel "Post-sclerotinia recommendations", wat gepubliseer is deur die National Sunflower Association.
Rhizobium
Die Voorsitter rapporteer dat die navorsingsprojek rakende die kwaliteit van sekere rhizobium-entstowwe, wat plaaslik verhandel word, in die volgende produksiejaar hervat sal word.
Besluit:
- Dat kennis geneem word dat die navorsingsprojek rakende die kwaliteit van sekere rhizobium-entstowwe, wat plaaslik verhandel word, in die volgende produksiejaar hervat sal word.
Mnr Keun
Lede
Tegnologiekomitee
- Dat kennis geneem word dat die navorsingsprojek rakende die kwaliteit van sekere rhizobium-entstowwe, wat plaaslik verhandel word, in die volgende produksiejaar hervat sal word.
Biobrandstowwe
(Besluit 10.5.1 van die Sojawerkgroep notule van 5 Oktober 2010)
Daar word kennis geneem van die dokument "Nuusberigte en tendense oor bio-brandstowwe: periode 1 Oktober tot 31 Desember 2010", en van die berig "Congress passes biodiesel tax credit extension", wat gepubliseer is in die Sunflower Week in Review van 20 Desember 2010. Die Voorsitter noem dat die Amerikaanse biodieselbelastingsubsidie in plek sal bly tot 31 Desember 2011.
Daar word voorts kennis geneem van die nuusberig "25x'25 Statement commending EPA decision approving E15 for late model vehicles", en van die publikasies "Biofuel from algae market potential" en "Canada biofuels market potential" wat uitgegee is as deel van die reeks Energy Business Reports.
Voorlegging: "Investigating the etiology and incidence of soilborne diseases of soybean in South Africa", Dr S Lamprecht, LNR-NIPB
Sien aangehegde kopie vir meer detail van die voorlegging.
Dr Lamprecht verskaf 'n oorsig van die werk wat tot dusver ten opsigte van die projek onderneem is. Sy is van mening dat daar heelwat werk voor hande is. Sy noem dat die monsters getrek word by die lokaliteite waar cultivarproewe onderneem word, en versoek produsente om haar in kennis te stel, indien hulle plante wat afwykings toon waarneem, aangesien sy ook graag sou wou weet wat op die plase aangaan.
Saad
Die Voorsitter noem dat Mnr Van Wyk sy kwellinge oor die gebruik van teruggehoude graan as saad duidelik gestel het in een van sy maandverslae. Mnr Potgieter benadruk dat produsente gedwing word om dié praktyk te beoefen, aangesien die saadmaatskappye nie voldoende saad beskikbaar stel om aan die vraag te voldoen nie. Die Voorsitter reël dat 'n brief in dié verband gerig word aan SANSOR en aan die onderskeie saadmaatskappye.
Besluit:
- Dat SANSOR en die onderskeie saadmaatskappye versoek word om meer aandag te skenk aan sojasaadvermeerdering, aangesien die saad wat beskikbaar gestel word, nie voldoen aan die vraag nie.
Voorsitter
Dr De Kock
Mnr Keun
- Dat SANSOR en die onderskeie saadmaatskappye versoek word om meer aandag te skenk aan sojasaadvermeerdering, aangesien die saad wat beskikbaar gestel word, nie voldoen aan die vraag nie.
Tegnologie-oordrag
Inligtingsdae 2010: Datums, terugvoering en reklame
(Besluite 12.1.1 en 12.1.2 van die Sojawerkgroep notule van 5 Oktober 2010)
Kennis word geneem van die volgende inligtingsdae:
8 Februarie Inligtingsdag, Mahikeng (Mafikeng) 8 Februarie 2011 Boeredag, Bergville 9 Februarie 2011 Boeredag, Paulpietersburg 16-17 Februarie 2011 Pannar extravaganza, Delmas 6-8 September 2011 "No-Till" Inligtingsdag, Drakensville
Wisselbou – terugvoering
(Besluit 12.2.1 van die Sojawerkgroep notule van 5 Oktober 2010)
Die Voorsitter noem dat Mnr Birch se verslag rakende die ekonomiese en ander voordele van sojas in 'n wisselboustelsel ingebind sal word saam met die dokumentasie van die eersvolgende vergadering.
Daar word kennis geneem van die artikels "Controlling weeds after fall harvest", "Do you need sulphur for corn?", "What ailed corn following corn in 2010?" en "Agenda set for 2011 University of Illinois Corn and Soybean Classics", soos gepubliseer in onderskeie uitgawes van ACES News.
Besluit:
- Dat Mnr Birch se verslag rakende die ekonomiese en ander voordele van sojas in 'n wisselboustelsel ingesluit sal word saam met die dokumentasie van die eersvolgende vergadering.
Mnr Keun
- Dat Mnr Birch se verslag rakende die ekonomiese en ander voordele van sojas in 'n wisselboustelsel ingesluit sal word saam met die dokumentasie van die eersvolgende vergadering.
Totale oppervlakte wat geskik is vir sojaboonverbouing in Suid-Afrika
(Besluit 12.3.1 van die Sojawerkgroep notule van 5 Oktober 2010)
Die Voorsitter sê Prof Blignaut en Mnr Taute het in hulle opname bevind dat 3 miljoen hektare van die totale bewerkbare oppervlakte in Suid-Afrika geskik is vir sojaboonverbouing. Hy noem dat die verslag beskikbaar is op die PNS-webblad, en dat harde kopieë bekom kan word by Mnr Keun.
Ander sake
Inligting vir plasing op die webblad – nuusbrokkies vir plasing op die webblad asook kleurfoto's
Die Voorsitter herinner die lede dat geskikte kleurfoto's of ander inligting vir plasing op die PNS-webblad verwelkom sal word.
Voorlegging: verskillende instansies
Die Voorsitter bevestig dat voorleggings ter gelegener tyd aangebied sal word oor die Agcelence-produkreeks en ook die korrekte aanwending van Roundup Ready-spuitmiddels. Hy sê die persoon verbonde aan die ingenieursfakulteit van die Universiteit van KwaZulu-Natal, wat 'n voorlegging by GraanSA aangebied het oor sojaboonverwerkingsapparaat, sal ook genooi word om 'n voorlegging aan te bied.
Mnr Roos noem dat 'n opbrengsverskil van 15 tot 23% bewerkstellig kan word met Agcelence. Dr Griessel sê hy sou graag wou toesien dat die produk proefondervindelik evalueer word.
Besluite:
- Dat kennis geneem word dat BASF 'n voorlegging sal lewer oor die Agcelence-produkreeks tydens 'n volgende Sojawerkgroepvergadering.
Dr De Kock
Tegnologiekomitee - Dat kennis geneem word dat 'n voorlegging oor die korrekte aanwending van Roundup Ready-spuitmiddels gelewer sal word tydens 'n volgende Sojawerkgroepvergadering.
Dr De Kock
Tegnologiekomitee - Dat kennis geneem word dat 'n voorlegging oor sojaboonverwerkingsapparaat gelewer sal word tydens 'n volgende Sojawerkgroepvergadering.
Dr De Kock
- Dat kennis geneem word dat BASF 'n voorlegging sal lewer oor die Agcelence-produkreeks tydens 'n volgende Sojawerkgroepvergadering.
Inkomste- en kosteramings: Sojabone, mielies en sonneblom 2010-2011
(Besluite 13.3.1 tot 13.3.3 van die Sojawerkgroep notule van 5 Oktober 2010)
Mnr Joubert noem dat Tigme.com opdrag gegee is om die programmatuur van die doen-dit-self inkomste- en kosteramings op die PNS-webblad sodanig te wysig dat produsente die vorms op hul eie rekenaars kan aflaai.
Mnr Joubert onderneem om met die kantoorpersoneel op te volg oor die korrekte volgorde waarin die inkomste- en kosteramings ingebind behoort te word. Hy sê Mnr Botma het tydens 'n vorige vergadering die prys van sojasaad, en veral dié van eie saad, bevraagteken. Hy noem dat Mnr Ferreira die saak opgevolg het.
Mnr Ferreira noem dat hy die inligting aangeteken het soos dit aan hom deurgegee is. Hy meld egter dat hy op navraag vasgestel het dat die saadprys van R35,00 per kilogram per hektaar bepaald te laag is. Hy sê 'n gewysigde dokument sal ingebind word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering. Dr Griessel is van mening dat die saadprys van R50,00 per kilogram per hektaar, wat aangestip is vir Reitz en Frankfort, ook te laag is. Mnr Davel sê in daardie gebied word meer ag geslaan op plantestand as op kilogram per hektaar. Hy noem dat enigiets tussen 350 000 en 400 000 plante per hektaar beskou word as die ideale plantestand.
Daar word kennis geneem van die voorbeelde van die PNS se doen dit self inkomste- en kosteramings, die sensitiwiteitsanalises en die inkomste- en kosteramings ten opsigte van die onderskeie gewasse in bepaalde gebiede vir 2010-2011.
Besluit:
- Dat 'n gewysigde dokument rakende die opsomming van saadkoste per hektaar sojabone vir 2010-2011 ingesluit sal word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.
Mnr Keun
- Dat 'n gewysigde dokument rakende die opsomming van saadkoste per hektaar sojabone vir 2010-2011 ingesluit sal word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.
Lys van pamflette en artikels
(Besluite 13.4.1 tot 13.4.4 van die Sojawerkgroep notule van 5 Oktober 2010)
Die Voorsitter versoek die lede om die PNS attent te maak op enige onderwerpe van belang, ten opsigte waarvan daar nie voldoende inligting beskikbaar is nie. Hy sê pamflette en artikels kan aangewend word om die inligting oor 'n breë front beskikbaar te stel.
Die Voorsitter reël dat die besluite rakende die werklike verbruik van sojabone in Suid-Afrika en die beskikbare plaaslike verwerkingskapasiteit oorstaan.
Besluite:
- Dat inligting oor die beskikbare plaaslike sojaverwerkingskapasiteit in artikelformaat gepubliseer sal word.
Voorsitter
- Dat 'n opsomming van die werklike plaaslike verbruik van sojabone deurgegee word aan die Werkgroep.
Dr Griessel
- Dat inligting oor die beskikbare plaaslike sojaverwerkingskapasiteit in artikelformaat gepubliseer sal word.
Bureau for Food and Agricultural Policy (BFAP)
(Besluit 13.5.1 van die Sojawerkgroep notule van 5 Oktober 2010)
Die Voorsitter rapporteer dat die BFAP-scenarioverslag bekendgestel is op 27 Oktober 2010. Hy sê ook dié verslag is beskikbaar op die PNS-webwerf.
Navorsingsprojekte 2011-2012
(Besluit 13.6.1 van die Sojawerkgroep notule van 5 Oktober 2010)
Daar word kennis geneem van die lys van navorsingsprojekte wat deur die PNS goedgekeur is ten opsigte van die finansiële jaar 2011-2012. Die Voorsitter reël dat die lys van navorsingsprojekte wat deur die oliesade-bedryf goedgekeur is ten opsigte van 2011-2012 ingesluit word by die dokumentasie van die volgende vergadering.
Besluit:
- Dat die lys van navorsingsprojekte wat deur die oliesadebedryf goedgekeur is ten opsigte van die 2011-2012 finansiële jaar ingesluit word by die dokumentasie van die volgende vergadering.
Mnr Keun
- Dat die lys van navorsingsprojekte wat deur die oliesadebedryf goedgekeur is ten opsigte van die 2011-2012 finansiële jaar ingesluit word by die dokumentasie van die volgende vergadering.
Sojaboonproduksiekalender
(Besluit 13.7.1 van die Sojawerkgroep notule van 5 Oktober 2010)
Die Voorsitter noem dat die PNS sojaboonproduksiekalender, wat saamgestel is deur Mnr Potgieter met insette van Dr De Kock, bekendgestel sal word tydens die inligtingsdag wat op 22 Februarie 2011 te Hatfield-proefplaas gehou word.
Artikel: The miracle of the Cerrado
(Besluit 13.2.2.1.1 van die Raadsnotule van 10.11 November 2010 en besluit 12.2.3.1.1 van die Dagbestuursnotule van 8 Desember 2010)
Daar word kennis geneem van die artikel "The miracle of the Cerrado", wat gepubliseer is in The Economist van 26 Augustus 2010.
Onderwerpe vir webstudies
(Besluit 9.5.2 van die Dagbestuursnotule van 8 Desember 2010 en besluit 7.2.1.1.3 van die Sojabeplanningstaakspan notule van 4 Oktober 2010)
Die Voorsitter rig 'n uitnodiging aan die lede om onderwerpe waaroor hulle meer inligting sou wou bekom, deur te gee aan die kantoor, sodat tersaaklike webstudies onderneem kan word.
Daar word kennis geneem van die webstudie "Soybeans – website update September 2010". Dr Griessel versoek dat meer inligting bekom word oor die saadbehandelingsmiddel Poncho, wat Bayer ontwikkel het.
Besluit:
- Dat meer inligting bekom word oor die saadbehandelingsmiddel Poncho, wat Bayer ontwikkel het.
Mnr Keun
- Dat meer inligting bekom word oor die saadbehandelingsmiddel Poncho, wat Bayer ontwikkel het.
Projeksies van oliekoekbehoeftes vir diereverbruik vir 2010, 2015 en 2020
(Besluit 11.3.3 van die Raadsnotule van 14.15 September 2010)
Mnr Joubert noem dat die PNS met die projeksies van oliekoekbehoeftes vir toekomstige diereverbruik ten doel het om te meet welke vordering behaal word met die doelwit om ingevoerde proteïen vir dierevoer te vervang met plaaslik-geproduseerde proteïen. Hy verskaf 'n oorsig van die wyse waarop die data geprojekteer word.
Mnr Joubert sê daar moet op gelet word dat die PNS as doelwit gestel het dat daar teen 2015 een miljoen ton sojabone plaaslik geproduseer moet word. Hy meld dat dit te staan kom op 'n 800 000 ton sojaboon-oliekoek ekwivalent, indien dit plaaslik verwerk word. Hy sê gegewe die feit dat sojaboonoliekoek tradisioneel nagenoeg 67% van die totale olie-koekverbruik uitmaak, sal die plaaslik-geproduseerde oliekoek dus te staan kom op 1,194 miljoen ton, wat 'n tekort sal laat van ongeveer 754 000 ton oliekoek in 2015.
Die Voorsitter reël dat Dr Griessel se berekeninge van die impak van sojaboonoliekoekinvoere op valuta wat die land uitvloei, ingebind word met die dokumentasie van die eersvolgende vergadering.
Besluit:
- Dat Dr Griessel se berekeninge van die impak van sojaboonoliekoekinvoere op valuta wat die land uitvloei, ingebind word met die dokumentasie van die eersvolgende vergadering.
Mnr Keun
- Dat Dr Griessel se berekeninge van die impak van sojaboonoliekoekinvoere op valuta wat die land uitvloei, ingebind word met die dokumentasie van die eersvolgende vergadering.
Super Sojakompetisie, Mpumalanga
Mnr Van Wyk rapporteer dat die Wolwefonteinstudiegroep aangedui het dat hulle beoog om 'n Super Sojakompetisie in Mpumalanga op die been te bring, en dat hulle bevestig het dat hulle oor die mannekrag beskik om die nodige reëlings te tref. Hy sê hy het inligting bekom by Mnr Havenga oor die KwaZulu-Natalse kompetisie, wat hy aan die groep sal deurgee.
Die Voorsitter sê die Wolwefonteinstudiegroep moet hulle behoeftes rakende die kompetisie bekend maak aan die PNS, en dat die Tegnologiekomitee kan besin oor die aangewese manier om die groep van hulp te wees.
Besluit:
- Dat die Wolwefonteinstudiegroep hulle behoeftes rakende die kompetisie moet bekend maak aan die PNS, en dat die Tegnologiekomitee kan besin oor die aangewese manier om die groep van hulp te wees.
Voorsitter
Tegnologiekomitee
- Dat die Wolwefonteinstudiegroep hulle behoeftes rakende die kompetisie moet bekend maak aan die PNS, en dat die Tegnologiekomitee kan besin oor die aangewese manier om die groep van hulp te wees.
Datum van volgende vergadering
Die datum van die volgende vergadering van die Sojawerkgroep word bevestig as 8 Maart 2011.
Afsluiting
Die Voorsitter bedank die teenwoordiges vir insette gelewer. Hy wens die lede 'n voorspoedige rit toe, na hul onderskeie tuistes en verdaag die vergadering om 13:50.