Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 9 Mei 2011 in die Konferensiekamer van die PNS-Kantoorgebou, Woodmead



  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur Mnr GJH Scholtemeijer.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal welkom by die derde vergadering van die Sojawerkgroep van die jaar. Hy rig 'n spesiale woord van verwelkoming tot Mnr Jaco Voges van BASF, Mnr André du Toit van Bayer, Mnr Phillip Lee van MGK en Mnr Henk Conradie, produsent van Mpumalanga.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Mnr JSG Joubert Visevoorsitter: PNS
    Me R Beukes DLBV
    Mnr J Botma Produsent: Noord-Vrystaat
    Dr E Briedenhann PNS
    Dr P Caldwell Universiteit van KwaZulu-Natal
    Mnr H Conradie Produsent: Mpumalanga
    Mnr GP de Beer PNS-kontrakteur
    Dr J de Kock PNS
    Dr J Dreyer PNS
    Mnr CJ du Plessis Produsent: KwaZulu-Natal
    Mnr AF du Toit Bayer
    Mnr J Erasmus LNR-IGG
    Dr M Griessel PNS
    Mnr C Havenga PNS-kontrakteur
    Mnr M Jansen van Rensburg Dept Landbou: Mpumalanga
    Dr S Lamprecht LNR-NIPB
    Mnr P Lee MGK
    Mnr E Maree PNS-kontrakteur
    Mnr FAS Potgieter PNS/GraanSA
    Mnr WF van Wyk PNS-kontrakteur
    Mnr J Voges BASF
    Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte
    Me E Harmse Sekretariaat

    Verskonings

    Mnr P Botha GraanSA
    Mnr L Büchner Produsent: Mpumalanga
    Mnr J Davel VKB
    Mnr W Engelbrecht Pioneer
    Mnr MR Prinsloo LNR-IGG
    Mnr G Roos Produsent: Mpumalanga
    Mnr D Uys Bayer

  4. Personalia

    Wense van innige meelewing word oorgedra aan die Cronjé-familie, met die tragiese afsterwe van Mnr Dries Cronjé se skoonseun. Wense vir 'n spoedige en volkome herstel word oorgedra aan Mnr Prinsloo en Mnr Stapelberg. Mnr Potgieter word terugverwelkom na sy onlangse knievervangingsoperasie, en word volkome herstel toe­ge­wens.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar met toevoeging van:

    Punt 13.9:   Houtskoolvrot (charcoal rot).

  6. Goedkeuring van die notule

    1. Notule van die Sojawerkgroepvergadering van 8 Maart 2011 en verwysing na webblad

      Besluite:

      1. Dat die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 8 Maart 2011 goedgekeur word, nadat enkele wysigings daartoe aangebring is.
      2. Dat die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 8 Maart 2011 na die Bemarkingskomitee ver­wys word, vir plasing op die webblad van die PNS.
  7. Algemene oorsig

    1. Oesskatting

      (Besluit 7.1.1 van die Sojawerkgroepvergadering van 8 Maart 2011)

      Die Voorsitter neem die dokument wat Me Beukes opgestel het rakende die derde produksieskatting vir somergewasse vir die 2010-2011 produksieseisoen ter tafel. Hy stel Me Beukes aan die woord.

      Me Beukes sê volgens die derde produksieskatting, wat op 20 April uitgereik is, is die oppervlakte beplant met sojas 418 000 hektaar, terwyl die produksieskatting 676 850 ton beloop. Sy noem dat dit 32 500 ton laer is as die tweede produksieskatting en 52 200 ton laer is as die eerste produksieskatting, wat in Februarie plaasgevind het. Sy sê die derde produksieskatting is 110 850 ton of 19,5% meer as die vorige seisoen se skatting van 566 000 ton.

      Me Beukes sê volgens die derde produksieskatting word die grootste sojaboonoes in Mpumalanga verwag, naamlik 266 000 ton, of 39% van die totale opbrengs, gevolg deur die Vrystaat met 189 000 ton (28%), KwaZulu-Natal met 88 400 ton (13%) en Limpopo, met 58 750 ton (9%). Sy noem dat die oorblywende provinsies 74 700 ton of 11% van die totale opbrengs verteenwoordig. Sy sê die grootste afname tussen die eerste en derde produksieskatting is in Mpu­ma­langa, met 38 000 ton, gevolg deur die Vrystaat, met 'n afname van 13 500 ton, en Gauteng, met 'n afname van 700 ton. Sy noem dat die gemiddelde opbrengs vir 2010-2011 na verwagting 1,62 ton per hektaar sal wees, wat 10,99% laer is as die 1,82 ton per hektaar, wat die vorige seisoen behaal is.

      Me Beukes rapporteer dat 2 673 905 hektaar beplant is met mielies in die 2000-2001 produksieseisoen teenoor die 134 150 hektaar sojas wat in dieselfde seisoen aangeplant is, met 2 551 800 hektaar wat met mielies en 183 000 hektaar wat soja beplant is in die 2006-2007 produk­sie­seisoen, en 2 372 300 hektaar wat met mielies en 418 000 hektaar wat met sojas beplant is in die 2010-2011 pro­duk­sie­seisoen. Sy sê in 2000-2001 was die verhouding tussen mielie- en sojahektare 95:5, wat afgeneem het na 'n 85:15 verhouding in 2010-2011.

      Die Voorsitter bedank Me Beukes vir die waardevolle insette wat sy lewer. Hy sê die hektare wat met mielies beplant is toon 'n baie stadig dalende tendens oor die tien jaar, terwyl sojahektare 'n skerper stygende tendens toon. Mnr Joubert noem dat 'n besliste tendens waargeneem kan word, wat nie slegs aan prysverhoudings toegeskryf kan word nie. Dr Lamprecht spreek die vermoede uit dat die toename in sojaboonaanplantings direk gekorreleer is met 'n toename in die implementering van bewaringsboerdery, waarvan wisselbou 'n baie belangrike aspek is.

    2. SAGIS

      Daar word kennis geneem van SAGIS se viermaandelikse verslag oor sojabone en sonneblom wat op 11 Maart vrygestel is, die Weeklikse Bulletin gedateer 12 April 2011, en die Maandelikse Bulletin van Opgawe-inligting, gedateer 24 Maart 2011.

    3. Weer- en klimaatsvooruitskouing

      (Besluit 7.3.1 van die Sojawerkgroepnotule van 8 Maart 2011)

      Die Voorsitter is van mening dat abnormale weers­toe­stande beleef word in die huidige produksieseisoen. Mnr Botma noem dat hy 'n hele aantal webadresse, waar weerinligting bekom kan word, beskikbaar sal stel vir verspreiding aan die lede.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat webadresse, waar weer­in­lig­ting bekom kan word, beskikbaar gestel sal word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.

        Mnr Keun
        Mnr Botma

    4. Mikpunte – 2015

      (Besluit 6.2.1.2.1 van die Sojabeplanningstaakspannotule van 8 Maart 2011)

      Die Voorsitter sê tydens 'n vorige vergadering het die lede van die Sojawerkgroep ooreengestem dat 'n gemiddelde opbrengs van tussen 2,2 ton en 2,5 ton per hektaar op droëland teen 2015 haalbaar sou wees. Hy sê die alge­mene uitgangspunt is dat 'n gemiddelde opbrengs van 5 ton per hektaar onder besproeiing teen 2015 kan realiseer. Hy verneem by Mnr Lee wat sy ervaring van gemiddelde soja-opbrengste onder besproeiing is.

      Mnr Lee rapporteer dat 'n teleurstellende opbrengs van tussen 2,4 en 2,6 ton onder besproeiing gestroop is in die huidige seisoen in die MGK-gebied. Hy is van mening dat 5 ton per hektaar bepaald haalbaar sou wees, hoewel baie werk nodig sou wees om dié teiken binne die volgende drie jaar te behaal. Mnr Havenga noem dat daar reeds KwaZulu-Natalse produsente is wat 5 ton per hektaar onder be­sproei­ing afhaal, hoewel sulke opbrengste nog nie alge­meen voorkom nie. Hy is van mening dat die doelwit behaal kan word indien bemestingsprogramme reg toe­ge­pas word. Mnr Du Plessis spreek die gedagte uit dat finansiële oorwegings produsente daarvan weerhou om optimale bemestingspeile toe te dien. Hy noem dat sekere produsente in die huidige seisoen gemiddeld tot ses ton per hektaar gestroop het op besproeiingslande.

      Mnr Lee meld op navraag van Dr Dreyer dat 4,4 ton per hektaar tot dusver die hoogste opbrengs is wat onder besproeiing in die MGK-streek behaal is. Hy sê dié opbrengs is behaal met 'n langgroeiseisoencultivar wat aangeplant is op oorlêlande. Hy is van mening dat bestuur die beperkende faktor is, gesien in die lig van die feit dat sojas voorheen in dié gebied as afskeepgewas behandel is. Dr Dreyer ondersteun dié siening. Hy is van mening dat 'n taamlike kopskuif gemaak sal moet word om die vyf-ton-teiken binne drie jaar te behaal, indien die fokus op mielies of ander gewasse gerig was. Hy sê die Koedoeskop-area is juis dié gebied waar die beste kans is om vyf-ton-oeste onder besproeiing af te haal.

      Dr Griessel wys daarop dat die MGK-gebied geweldig warm kan wees, en dat 'n produsent wat op 300 of 400 hektaar boer dikwels sukkel om voor te bly met besproeiing, omdat die verdampingsvlak so hoog is. Hy sê die produsente in daardie gebied haal as 'n reël ses tot sewe ton per hektaar koring af, welke opbrengste nie sonder goeie bemestings­praktyke behaal kan word nie. Hy opper die moontlikheid dat die produsente uitgaan van die standpunt dat voldoende nutriënte ná koring in die grond agtergebly het, en dat hulle nie werklik fokus op sojas se bemestings­behoeftes ten einde optimumoeste te behaal nie.

      Mnr Potgieter is van mening dat goeie bestuur noodsaaklik is om goeie opbrengste te behaal. Hy sê hy is bewus van produsente wat nie eens 1,5 ton per hektaar afgehaal het in die huidige seisoen nie, maar dat hy ook weet van produsente wat opbrengste van ses ton per hektaar behaal het. Hy noem dat besproeiingsbestuur in tye van kwaai hitte ook baie belangrik is, hoewel sommige produsente meer plant as wat hul besproeiingstelsels kan hanteer. Hy sê Mnr Hawkins van GraanSA het te kenne gegee dat 'n produsent van Hoopstad 'n gemiddeld van oor die vier ton per hektaar, en op plekke oor die sewe ton per hektaar onder besproeiing afgehaal het. Hy noem dat dit daarop dui dat 'n teiken van vyf ton per hektaar onder besproeiing beslis haalbaar is, maar voeg by dat goeie bestuur 'n vereiste is. Hy is van mening dat heelwat verbouings­in­ligting nog by die produsente moet uitkom.

      Mnr Erasmus sê luidens die resultate van die 2008-2009 nasionale cultivarproewe het tien cultivars 'n gemiddelde opbrengs van ≥ 5 ton per hektaar behaal in verskillende streke, terwyl die gemiddelde opbrengs so in die vier ton was. Hy sê dit gebeur baie selde dat 'n gemiddeld van ≤ 3 ton per hektaar onder besproeiing afgehaal word. Hy noem dat 'n gemiddeld van 4,5 ton per hektaar behaal is in Vaalharts, Greytown en Cedara.

      Dr Lamprecht sê die beperkinge wat gestel word deur grondgedraagde en bogrondse plantsiektes moet nie uit die oog verloor word nie. Sy noem dat sy en Dr Te­wol­de­medhin heelwat patogene identifiseer het in hul studie wat met grondgedraagde siektes verband hou. Sy bevestig dat sy later in die jaar 'n voorlegging sal doen oor die resultate van die studie tot dusver.

  8. Markaangeleenthede

    1. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

      Dr Griessel gee 'n oorsig van die plaaslike en internasionale situasie in die sojaboonmark. Hy meld dat Oil World op 15 April hul skattings vir die wêreldproduksie van die sewe oliesade aangepas het na 438,3 miljoen ton. Hy sê al­hoe­wel die skatting van die wêreldoliesadevoorraad met 2,6 miljoen ton verhoog is, is daar nogtans kommer dat die voornemens van plant van sojabone in die VSA laer kan wees, aangesien mieliepryse meer aantreklik geword het vir Amerikaanse produsente. Hy noem dat meeste van die opwaartse aanpassing by sojabone was, en hoofsaaklik in Suid-Amerika.

      Dr Griessel sê sojaboonproduksie sal waarskynlik vanjaar 'n rekordvlak van 261,3 miljoen ton bereik, wat 1,5 miljoen ton meer is as die vorige jaar. Hy noem dat die skatting van sojaboonproduksie in die Suidelike Halfrond vanjaar op 134,32 miljoen ton te staan kom, terwyl produksie in die Noordelike Halfrond geraam word op 127,02 miljoen ton. Hy sê as gevolg van groter oordragvoorrade sojabone in Suid-Amerika sal die voorsiening uit Suid-Amerika groter wees as die vorige jaar, hoofsaaklik uit Brasilië en Pa­ra­guay. Hy sê wêreldproduksie sal dus ietwat meer wees as verbruik gedurende 2010-2011, en wil dit voorkom asof die eindvoorrade 68,6 miljoen ton sal wees wat 2,22 miljoen ton meer sal wees as die vorige jaar se 66,38 miljoen ton.

      Dr Griessel verskaf die volgende opsomming van die wêreldvoorsiening en -verbruik van sojabone (miljoen ton):

      Sojabone: Wêreldvoorsiening en -verbruik (miljoen ton)
      2010-2011 skatting 2009-2010
      Openingsvoorrade 66,38 45,22
      Produksie 261,34 259.81
      Noordelike Halfrond 127,02 125,28
      EU-27 1,04 0,95
      Kanada 4,35 3,51
      VSA 90,61 91,42
      China 14,0 14,5
      Indië 9,4 8,4
      Ander 7,62 6,5
      Suidelike Halfrond 134,32 134,53
      Argentinië 49,0 53,90
      Brasilië 72,0 68,69
      Paraguay 8,3 7,10
      Ander 5,02 4,84
      Totale voorraad 327,72 305,03
      "Disappearance" 259,12 238,65
      Eindvoorrade 68,60 66,38
      Voorrade / verbruik 26,5% 27,8%

      Bron. Oil World, 15 April 2011

      Dr Griessel sê na wat verneem word, het China gedurende April die verskeping van drie besendings sojabone vir Mei/Junie ge­kan­selleer, en word verwag dat verdere kan­sel­lasies moontlik sal wees. Hy meld dat hierdie aksie die potensiaal van laer pryse in die nabye toekoms inhou, aangesien China so 'n belangrike rol speel in internasionale sojaboonhandel.

      Dr Briedenhann verskaf 'n uiteensetting van sy siening van die pad vir sojabone vorentoe. Hy sê aandelemarkte het 'n effek gehad op alle kommoditeitspryse, hoewel kom­modi­teits­pryse tans goeie herstel toon. Hy meld dat die ver­houding tussen soja- en mielie-aanplantings in die VSA baie belangrik is, en dat goeie weer in die Weste en Mid­weste van Amerika die aanplant van mielies begunstig, wat die prys van sojabone sal ondersteun. Hy sê klaar­blyklik het sojaboonpryse die onderste draaipunt bereik.

      Dr Griessel verskaf vervolgens die volgende uiteensetting van die riglynprys aan produsente op die plaas:

      Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban soos op 6 Mei 2011
      Verskeping: R3 127   |   Wisselkoers: R6.75/US$
      Geland Durban 47% proteïen oliekoek 3 127.00
      Vervoer na Randfontein (per ton) 260.00
      Rente 2 weke 15% 18.00
      0,5% hanteringsverlies 16.00
      Gelande prys 3 421.00
      Waarde van volvetsoja 110% R3 763.00
      Min koste om sojabone na volvetsojabone te verwerk 959.00
      – Vervoerkoste na volvet-aanleg 150.00
      – Stoorkoste 115.00
      – Rente 15% (6 maande) 230.00
      – Ekstrusiekoste 285.00
      – 5% ekstrusieverlies 179.00
      Afgeleide produsenteprys vir sojabone (op plaas) – R/ton R2 803.00

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat die PNS se afgeleide pro­du­senteprys vir sojabone soos op 6 Mei 2011 R2 803 beloop het.

        Lede

    2. SAFEX

      Kennis word geneem van die SAFEX-termynpryse van sojabone soos op 18 April 2011, wat as Bylae E by die sakelys aangeheg is.

  9. Produsente-aangeleenthede

    1. KwaZulu-Natal

      1. Algemeen

        Die Voorsitter sê volgens die Oesskattingskomitee is 34 000 hektaar sojabone in KwaZulu-Natal geplant, met 'n pro­duk­sies­katting van 88 400 ton.

        Mnr Du Plessis meen dat die oppervlakteskatting in lyn is, hoewel die produksieskatting bietjie laag voorkom, gesien in die lig van die verwagte gemiddelde opbrengs van oor die drie ton per hektaar. Hy sê die produsente het so te sê klaar gestroop, met nagenoeg 10 tot 20% van die sojas wat nog oor is op die lande.

        Mnr Havenga noem dat die produsente in die Normandien-omgewing die beste oes in 'n baie lang tyd verwag. Hy sê 'n gemiddelde oes van oor die drie ton word ook in dié gebied verwag. Mnr Erasmus noem dat die proewe in KwaZulu-Natal baie mooi vertoon het.

      2. Super Sojakompetisie

        Die Voorsitter sê daar is as deel van die generiese soja­bevorderingsaksie van sojabone besluit om by die Noord-Amerikaners kers op te steek oor die aangewese manier om produsentekompetisies aan te bied.

        Mnr Du Plessis rapporteer dat die organiseerders van die kompetisie koppe bymekaar gesit het oor die trans­for­masie van die kompetisie, en beoog om voorleggings in dié verband te doen. Hy spreek sy twyfel uit dat die Super­soja­kompetisie vervang kan word met iets wat dieselfde effek het, en sê daar word hoofsaaklik gekyk na koste­be­sparende maatreëls. Hy noem dat heelwat produsente geraadpleeg is oor die Super Sojakompetisie, en dat die produsente dit eens is dat die kompetisie moet voortgaan.

      3. "No-Till" Inligtingsdag

        Die Voorsitter rapporteer dat amptelike goedkeuring vir die optrede van Dr Krzyzanowski van Embrapa by die "No-Till" Inligtingsdag ongelukkig nie betyds bekom kon word om die keerdatum, wat die organiserende komitee van die "No-Till" Klub gestel het, te haal nie. Die uitnodiging van die PNS aan Dr Krzyzanowski van Embrapa is gevolglik terug­getrek.

      4. Scarabaeidae

        Die Voorsitter noem dat Dr Tribe, 'n Wes-Kaapse ento­moloog, en Prof Rodrigues, 'n Brasiliaanse plantpatoloog, geraadpleeg is oor die voorkoms van Scarabaeidae, of die sogenaamde "grubs", wat baie lyk soos miswurms, in KwaZulu-Natal. Hy sê hierdie is die eerste jaar wat die pes werklik groot skade aangerig het in KwaZulu-Natal, en wil dit voorkom asof die pes slegs elke derde jaar skade aanrig.

        Mnr Du Plessis noem dat die Universiteit van KwaZulu-Natal tans ondersoek instel na die biologiese beheer van die pes, wat veral in die bosboubedryf probleme ver­oor­saak. Hy sê die grootste skade is voorheen aangerig op sojalande wat naby bome geplant is, wat nie die geval was met die probleme wat in die huidige seisoen ervaar is nie. Hy is van mening dat meer duidelikheid oor die pes waarskynlik in die volgende produksieseisoen bekom sal word.

        Mnr Du Toit noem dat die pes ook probleme veroorsaak het in aartappelverbouing. Hy sê die enigste vensterperiode wanneer die pes uitgeroei kan word is in die voor­plant­ingstydperk, in die laaste week van November en die eerste week van Desember, wanneer hulle uitkom om te paar. Hy noem dat die pes saam met die wateroppervlakte in grond beweeg, en werklik 'n probleem is om uit te roei. Hy sê daar is 'n paar ongeregistreerde produkte op die mark wat baie effektief maar ook baie duur is. Hy verneem na die omvang van die probleem plaaslik.

        Die Voorsitter sê die pes het tot dusver slegs sporadies in KwaZulu-Natal voorgekom. Dr Caldwell bevestig dat sy by Prof Laing sal navraag doen oor die navorsing wat onder­neem word oor die biologiese beheer van die pes. Dr Lamprecht noem dat Dr Tribe 'n kundige is op die gebied van biologiese beheer, spesifiek die gebruik van parasiete om peste te beheer. Die Voorsitter reël dat Dr De Kock die aksie met betrekking tot die insameling van inligting rakende die beheer van Scarabaeidae koördineer.

        Besluite:

        1. Dat navraag gedoen word by by Prof Laing oor die navorsing wat onderneem word oor die biologiese beheer van Scarabaeidae.

          Dr Caldwell
          Dr De Kock
          Tegnologiekomitee

        2. Dat navraag gedoen word by Dr Tribe oor die gebruik van parasiete om Scarabaeidae te beheer.

          Dr Lamprecht
          Dr De Kock
          Tegnologiekomitee

        3. Dat kennis geneem word dat Dr De Kock die aksie met betrekking tot die insameling van inligting rakende die beheer van Scarabaeidae koördineer.

          Dr De Kock
          Tegnologiekomitee

    2. Mpumalanga en Gauteng

      1. Algemeen

        Die Voorsitter sê luidens die derde oesskatting is 'n oppervlakte van 190 000 hektaar onder sojas in Mpu­ma­langa aangeplant met 'n verwagte oes van 266 000 ton, terwyl die eerste produksieskatting op 304 000 ton en die tweede op 285 000 ton te staan gekom het.

        Mnr Conradie is van mening dat dié daling toegeskryf kan word aan droogte- en haelskade, en dat die Oes­skat­tings­komitee se syfers redelik korrek is. Mnr Van Rensburg noem dat hy gemiddelde opbrengste van tussen 1,6 en 1,7 ton per hektaar gestroop het op vier lokaliteite tussen Morgenzon en Ermelo. Mnr Keun rapporteer by monde van Mnr Büchner dat hulle te kampe het met mis, wat eers laat in die oggend opklaar. Hy sê nagenoeg 21% van die lande te Kanhym is gestroop, teen 'n gemiddeld van 2,75 ton per hektaar.

        Mnr Van Wyk sê volgens sy waarnemings het vroeë cultivars of kortgroeiers beter opbrengste gelewer as die langer groeiers. Mnr Erasmus bevestig dat hy dieselfde waargeneem het in die nasionale cultivarproewe. Hy sê die heel langer groeiers het bietjie beter gevaar as die langer groeiers. Dr Griessel noem dat die effek van die Fe­brua­rie droogtes, wat tipies voorkom tydens die pitvulstadium in Mpumalanga, nooit uit die oog verloor moet word nie.

        Me Beukes noem dat die Oesskattingskomitee die insette van die produsente vanaf die onderskeie provinsies op prys stel.

        Daar word kennis geneem dat 14 000 hektaar in Gauteng onder sojas beplant is, waar 21 700 ton na verwagting geoes sal word.

      2. Super Sojakompetisie

        (Besluit 9.2.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 8 Maart 2011)

        Mnr Havenga rapporteer dat hy met 'n landboukundige en Mnr WP Pretorius van Wonderfontein in aanraking getree het. Hy sê 22 inskrywings is op 'n baie laat stadium ingedien vir die Wonderfontein Super Sojakompetisie. Hy is van mening dat sake beter sal verloop in die volgende produksieseisoen, wanneer meer tyd beskikbaar sal wees om al die reëlings te tref.

      3. Individuele strookdemonstrasieproewe

        Mnr Van Wyk rapporteer oor die sclerotiniaproewe wat aangeplant is te Kinross. Hy sê tien behandelings is in­gesluit by die proewe, wat drie weke na opkoms weg­geslaan is deur hael. Hy noem dat die sojas egter goed herstel het, en dat hy goeie opbrengste sal afhaal. Hy meld egter dat geen sclerotiniabesmetting op sy proewe voor­gekom het nie, hoewel daar wél besmetting was op ander lande op daardie plaas. Hy opper die moontlikheid dat sclerotiniabesmetting nie kon posvat nie, omdat die sojas nie behoorlik toegemaak het nie weens die haelskade.

    3. Noordwes- en Limpopoprovinsie

      1. Algemeen

        Daar word kennis geneem dat 20 000 hektaar sojabone geplant is in Noordwesprovinsie, met 'n produksieskatting van 50 000 ton, en dat 23 500 hektaar sojas geplant is te Limpopo, met 'n produksieskatting van 58 750 ton. Mnr Lee spreek sy tevredenheid uit met die Oes­skat­tings­komitee se syfers.

    4. Vrystaat

      1. Algemeen

        Die Voorsitter sê volgens die Oesskattingskomitee is 135 000 hektaar sojas aangeplant in die Vrystaat, met 'n geraamde produksie van 189 000 ton, teenoor die eerste en tweede skattings van 202 500 ton.

        Mnr Botma rapporteer dat hy redelik goeie oeste afhaal. Hy sê die produsente in Koppies is baie positief oor hulle opbrengste. Hy noem dat die kwaliteit van die graan agterweë gebly het by van die nuwe toetreders. Hy sê 'n produsent wat baie skepties was oor die verbouing van sojas in sanderige grond het 1,9 ton per hektaar gestroop, en het aangedui dat hy definitief weer sojas sal plant. Hy noem dat van die produsente wat beide sonneblom en sojas plant teleurstellende sonneblomoeste gehad het, en dat hulle beplan om voortaan meer sojas te plant. Hy spreek sy tevredenheid uit met die daadwerklike groei in sojaverbouing in sy streek, maar voeg by dat daar nog baie onkunde is, hoewel die produsente baie tevrede is met die opbrengste wat hulle behaal.

        Mnr Maree sê produsente in die Oos-Vrystaat het te kampe met dae wat geweldig mistig is, en kan eers van twaalf-, eenuur se kant begin stroop. Hy is die mening toegedaan dat die Oesskattingskomitee se syfers in die kol is.

        Mnr Potgieter is die mening toegedaan dat die Oes­skat­tings­komitee se syfers vir die Vrystaat bietjie laag is.

      2. Strookdemonstrasieproewe

        Mnr Havenga sê hoewel die strookproewe in die be­dien­ingsgebied van VKB geoes is, moet dit nog gedors word. Hy meld dat plantdatumproewe aangeplant is met ver­skillende cultivars. Hy rapporteer dat die eerste aan­plant­ings redelik goed gedoen het, maar dat die lang­groeier­cultivar, wat ingesluit is by die tweede proef op 26 No­vember, rypskade opgedoen het.

        Mnr Joubert sê die strookdemonstrasieproewe is aan­ge­plant met die doel om dit aan te wend as voor­lig­ting­kundige hulpmiddel. Hy verneem of enige produsente­besoeke aan die proewe gereël is, of groepsbesprekings gehou is, en hoe die inligting wat vanuit die proewe bekom is, verder aangewend gaan word.

        Mnr Havenga sê die proewe was vir 'n hele ruk van só 'n aard dat dit onbereikbaar was. Hy noem dat gedeeltes van die proewe ook versuip het, en nie sou dien as goeie demonstrasie nie. Hy sê daar is om dié rede besluit dat slegs die goeie gedeelte van die proewe geoes sal word. Hy sê indien die demonstrasieproewe weer aangeplant word, kan die 2010-2011 resultate ook voorgelê word aan die produsente. Mnr Joubert doen aan die hand dat 'n plan van aksie met die oog op tegnologie-oordrag opgestel word, wanneer die volgende produksieseisoen se demon­stra­sieproewe beplan word.

        Besluit:

        1. Dat 'n plan van aksie met die oog op tegnologie-oordrag opgestel word, wanneer die volgende produksieseisoen se demonstrasieproewe beplan word.

          Drs De Kock en Dr Dreyer
          Mnr Havenga
          Tegnologiekomitee
          Sojabeplanningstaakspan

    5. Oos-Kaap, Noord-Kaap en Suidwestelike Dis­trikte

      1. Algemeen

        Daar word kennis geneem dat 1 000 hektaar sojabone geplant is in die Oos-Kaap.

    6. Algemeen

      Geen verslaglewering.

  10. Navorsing

    1. Nasionale cultivarproewe

      1. Nasionale cultivarproewe 2010-2011

        Mnr Erasmus spreek die gedagte uit dat die soja­boon­plante weens die klimaatstoestande van die afgelope seisoen nie werklik die gewenste fisiologiese hoogte bereik het nie. Hy noem dat die plante ook weens die klimaat nat bly, en kan dit gevolglik nie op die land gedors word nie. Hy sê al die oesprosesse behoort teen die volgende week afgehandel te wees, waarna die dorsprosesse 'n aanvang sal neem. Hy onderneem om tydens die volgende vergadering 'n meer volledige voorlegging te maak oor die proewe.

        Besluit:

        1. Dat kennis geneem word dat Mnr Erasmus onderneem om tydens die volgende vergadering 'n meer volledige voor­legging te maak oor die proewe.

          Mnr Erasmus

    2. Roes

      1. Silikonkongres – Beijing, China

        Dr Caldwell bevestig dat sy beplan om 'n silikonkongres by te woon, wat in September 2011 aangebied word in Beijing.

      2. Roesvangerproewe

        (Besluit 10.2.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 8 Maart 2011)

        Die Voorsitter noem dat die LNR-IGG klaarblyklik tans besig is met 'n proses om bykomende navorsingskapasiteit by die instituut te skep.

        Mnr De Beer rapporteer dat roesbesmetting die afgelope produksie-jaar slegs waargeneem is te Cedara, Greytown en Vryheid.

        Besluit:

        1. Dat die debat oor die kwessie van navorsings- en ander aktiwiteite wat deur die PNS oorgeneem is, en wat in landsbelang onderneem word, oorstaan, tot tyd en wyl duidelikheid bewerkstellig is oor bykomende kapasiteit by die LNR.

          Dr De Kock
          Tegnologiekomitee

    3. Sclerotinia

      Dr De Kock noem dat die volgende Soja­werk­groep­ver­gadering 'n vergadering van wetenskaplike aard sal wees, waar sake soos onder andere roes en sclerotinia onder die loep geneem sal word. Die Voorsitter versoek die lede om met Dr De Kock te reël indien hulle enige bydraes sou wou lewer tydens daardie vergadering.

    4. Rhizobium

      Daar word kennis geneem dat die navorsingsprojek rakende die kwaliteit van sekere rhizobium-entstowwe, wat plaaslik verhandel word, in die volgende produksiejaar hervat sal word.

    5. Biobrandstowwe

      Daar word kennis geneem van die verslag "Nuusberigte en tendense in die biobrandstofbedryf – eerste kwartaal 2011".

  11. Saad

    (Besluit 13.2.1 van die Sojawerkgroepbnotule van 8 Maart 2011)

    Die Voorsitter sê die PNS het produsente reeds in Februarie gemaan om hulle saad betyds vir die komende produksieseisoen te bestel. Mnr Potgieter noem dat hy sy saad reeds in April bestel het, alhoewel hy nie seker is of die vorige jaar se gebeure herhaal sal word en hy weer nie al die saad sal kry wat hy bestel het nie.

    Dr De Kock rapporteer dat 'n lewendige bespreking plaas­gevind het oor die verskaffing van sojaboonsaad tydens die SANSOR-kongres, wat die vorige week plaasgevind het. Hy sê die stelling is gemaak dat voldoende saad nie geproduseer word nie, omdat die produsente baie graan terughou om as saad te gebruik. Hy noem dat die kon­gres­gangers kennis geneem het daarvan dat sojaboon­produksie besig is om sterk te styg.

    Dr De Kock rapporteer dat Pioneer nie sojaboonsaad direk invoer van Amerika nie, maar dat Pioneersaad deur Allgro in die Brits-area vermeerder word. Hy meld dat dit wél, onder bepaalde omstandighede, nodig mag wees om saad in te voer, byvoorbeeld in 'n geval waar die maatskappy 'n cultivar vinnig in die mark wil instoot, maar dat Mnr Eng­elbrecht gesê het dat hy nie 'n probleem voorsien met die produksie van daardie saad in Suid-Afrika nie. Hy sê Mnr Büchner sal dienooreenkomstig ingelig word.

    Besluit:

    1. Dat kennis geneem word dat Mnr Büchner ingelig sal word van Pioneer se antwoord oor die plaaslike aan­pas­baarheid van Amerikaans-geproduseerde saad.

      Dr De Kock
      Tegnologiekomitee

  12. Tegnologie-oordrag

    1. Inligtingsdae 2011: Datums, terugvoering en reklame

      (Besluit 12.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 8 Maart 2011)

      Daar word kennis geneem van die toespraak wat Mnr Scholtemeijer gelewer het tydens die inligtingsdag te Hatfieldproefplaas.

      Kennis word geneem van die volgende inligtingsdae:

      17-20 Mei Nampo-Oesdag, Bothaville
      6-8 September 2011 "No-Till" Inligtingsdag, Drakensville

    2. Wisselbou – terugvoering

      (Besluit 12.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 8 Maart 2011)

      Die Voorsitter rapporteer dat die finale weergawe van Mnr Birch se verslag getitel "Advantages of reduced tillage: a concise review" nog ingewag word. Hy reël dat die verslag "Promoting conservation agriculture in South Africa: a case study among commercial grain producers in the North West Province", wat saamgestel is onder die vaandel van die Bureau for Food and Agricultural Policy (BFAP), ingebind word saam met die dokumentasie van die volgende ver­gadering.

      Besluite:

      1. Dat kennis geneem word dat finale weergawe van Mnr Birch se verslag getitel "Advantages of reduced tillage: a concise review" nog ingewag word.

        Voorsitter
        Tegnologiekomitee
        Sojabeplanningstaakspan

      2. Dat die verslag "Promoting conservation agriculture in South Africa: a case study among commercial grain producers in the North West Province", wat saamgestel is onder die vaandel van die Bureau for Food and Agri­cultural Policy (BFAP), ingebind word saam met die doku­mentasie van die volgende vergadering.

        Mnr Keun

  13. Ander sake

    1. Inligting vir plasing op die webtuiste – nuus­brokkies vir plasing op die webtuiste asook kleurfoto's

      Daar word kennis geneem van die artikels "Soja-toekoms blink" soos gepubliseer in die Landbouweekblad van 25 Maart, en "Gundersen selected to lead National Soybean Research Laboratory", "Corn and soybean supplies to remain tight for another year?", "Is there enough acreage" en "Illinois researcher receives USDA grant to study soybean flowering response", soos gepubliseer in onderskeie uitgawes van Aces News.

    2. Voorlegging – verskillende instansies

      (Besluite 13.3.2 en 13.3.3 van die Sojawerkgroepnotule van 8 Maart 2011)

      Dr De Kock noem dat 'n voorlegging oor die korrekte aan­wending van Roundup Ready-spuitmiddel gelewer sal word tydens die Sojawerkgroepvergadering wat in Sep­tember plaasvind. Hy sê die voorlegging oor sojaboon­verwerk­ings­apparaat is op die lange baan geskuif.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat 'n voorlegging oor die kor­rekte aanwending van Roundup Ready-spuitmiddel ge­lewer sal word tydens die Sojawerkgroepvergadering wat in September plaasvind.

        Dr De Kock

    3. Inkomste- en kosteramings: sojabone, mielies en sonneblom

      (Besluit 13.4.1 van die Sojawerkgroepnotule van 8 Maart 2011)

      Daar word kennis geneem dat die onduidelikhede rakende die saadkoste per hektaar sojabone vir 2010-2011 uit­ge­klaar is, en dat die gewysigde inkomste- en koste­ramings ingesluit sal word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat die onduidelikhede rakende die saadkoste per hektaar sojabone vir 2010-2011 uit­ge­klaar is, en dat die gewysigde inkomste- en koste­ramings ingesluit sal word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.

        Mnr Keun

    4. Lys van pamflette en artikels

      (Besluit 13.5.1 van die Sojawerkgroepnotule van 8 Maart 2011)

      Daar word kennis geneem dat die PNS tans aandag skenk aan die artikels en pamflette oor sojaverbouing wat be­skik­baar is om uit te deel by inligtingsdae en dies meer.

    5. Onderwerpe vir webstudies

      Die Voorsitter herinner die lede dat hulle ter enige tyd welkom is om aan te vra dat webstudies onderneem word oor sojaverwante onderwerpe.

    6. "Fungicide for Sclerotinia", Dr P Caldwell

      (Besluit 7.1.5.1 van die Tegnologiekomiteenotule van 17 Februarie 2011)

      Die Voorsitter sê die inligting wat Dr Neumaier verskaf het oor die swamdoder Fluopyram (Verango) is verwys na Mnr Henk van der Westhuizen, Prof McLaren, die Sonneblom- en Sojaboonforum, en die vergadering van wetenskaplike aard, wat op 28 Julie aangebied word.

    7. Voorlegging: Mnr Jaco Voges van BASF – Produkreeks vir sojas: Abacus / Agcelence

      (Besluit 13.3.1 van die Sojawerkgroepnotule van 8 Maart 2011)

      Mnr Voges lewer 'n voorlegging oor BASF se Agce­lence­konsep en die produk Abacus, en welke voordele dié tegnologie kan inhou vir die plaaslike sojabedryf.

      Die Voorsitter bedank Mnr Voges vir 'n uitstekende voorlegging, en stel die geleentheid vir vrae.

      Dr Griessel sê Mnr Voges het genoem dat die eerste bespuiting van Abacus net voor blomstadium gedoen word, en verneem of trekkerbespuiting nie skade op die lande tot gevolg het nie. Mnr Voges noem dat lugbespuiting ideaal sou wees, maar dat koste 'n rol speel. Hy sê luidens die produsente kom 'n bietjie trapskade voor, hoewel die effek wat Abacus op die plante het, meer as kompenseer vir die trapskade. Hy bevestig dat Abacus nie geregistreer is vir spilpunttoediening nie, maar voeg by dat baie goeie resultate behaal is met spilpunttoedieningsproewe.

      Dr De Kock sê dit wil voorkom asof twee bespuitings toegedien word, en verneem wat die koste per hektaar sou beloop. Die Voorsitter noem dat drie bespuitings 21 dae uitmekaar na die beste van sy wete toegedien word teen sojaboonroes. Mnr Voges sê daar is bevind dat twee bespuitings meer as genoeg is. Hy noem dat nat lande in die huidige produksieseisoen produsente daarvan weerhou het om die tweede bespuiting toe te dien, maar dat dié produsente nog steeds 'n effek gekry het. Hy sê nagenoeg 65 tot 70% van die effek van Abacus kom van die eerste spuit af. Hy meld egter dat BASF nie produsente aanmoedig om slegs een bespuiting toe te dien nie, aangesien die produk nie in dié geval sy volle potensiaal gestand sal doen nie. Hy sê die produk het die afgelope seisoen verhandel teen nagenoeg R194,00 per liter, wat, teruggewerk, impliseer dat nagenoeg 150kg opbrengs benodig word om die kostes te verhaal.

      Dr Dreyer verneem hoe doeltreffend die produk in droog­te­tydperke sou funksioneer. Mnr Voges sê hoewel hy nie die syfers voor hande het nie, is proewe gedoen waar die sojaplante vanaf 60% veldwaterkapasiteit teruggeneem is tot en met verwelking, en het Abacus nog steeds 'n groot verskil gemaak. Hy noem dat sekere produsente in Mpumalanga berig het dat hulle 'n bogemiddelde oes afgehaal het, nieteenstaande die feit dat hulle tussen 'n maand en ses weke geen reën gehad het nie.

      Dr Lamprecht is van mening dat Abacus definitief 'n effek het op grondgedraagde siektes, met die beskerming wat dit bied teen droogte­stres in gedagte gehou. Sy sê droogtestres dien as 'n sneller vir siektes soos hout­skoolvrot (charcoal rot).

    8. Sojabone: nuwe plaag

      Daar word kennis geneem van die inligtingstuk "Dung beetles, cockchafers and other beetles", en van Prof Ro­dri­gues se kor­respon­densie oor die Elasmopalpus lignosellus.

    9. Houtskoolvrot (Charcoal rot)

      Dr Caldwell noem dat sy houtskoolvrot waargeneem het by Cedara, maar dat dié waarneming nog nie 100% bevestig is nie. Mnr De Beer noem dat die siekte klaarblyklik ook waargeneem is op proewe te Brits, hoewel dit nie as sodanig bevestig is nie. Mnr Van Wyk opper die moont­lik­heid dat die siekte wat waargeneem is veroorsaak is deur "sudden death syndrome".

      Dr Lamprecht versoek dat produsente vir haar monsters aanstuur van plante wat moontlik siektes het. Sy sê Dr Tewoldemedhin het bevestig dat een van die patogene wat oor die seisoen toegeneem het op die wortels en krone van die sojaplante behoort tot die Macrophomina spesies, wat verband hou met houtskoolvrot.

      Mnr Du Toit versoek dat die chemiese maatskappye betyds ingelig word van die omvang van die probleem, sodat die maatskappye hulle kan posisioneer vir navorsing.

      Die Voorsitter sê 'n paar waarnemings is teen die einde van die seisoen gemaak. Hy noem dat meer omvattende waar­nemings in die komende produksieseisoen gemaak sal word. Hy sê dat die Tegnologiekomitee 'n stelsel in plek sal stel waarvolgens rapportering aan chemiese saad­maat­skappye en rolspelers op 'n betroubare en georganiseerde wyse sal geskied.

      Dr Lamprecht sê daar word beoog om in die toekoms te kyk na saadbehandeling as 'n beheerstrategie, aangesien daar 'n hele kompleks van organismes in die grond teen­woordig is by sojabone. Mnr Potgieter waarsku dat die saad­behandeling nie 'n negatiewe effek moet hê op rhizobium nie.

      Besluit:

      1. Dat die Tegnologiekomitee 'n stelsel in plek sal stel waarvolgens rapporterings aan chemiese maatskappye en rolspelers sal geskied oor grondgedraagde patogene wat identifiseer is in Drs Lamprecht en Tewoldemedhin se studie, en wat beskou word as patogene wat nadere ondersoek benodig.

        Drs De Kock en Dreyer
        Tegnologiekomitee

  14. Datum van volgende vergadering

    Die datum van die volgende vergadering van die Soja­werk­groep word bevestig as 28 Julie 2011.

  15. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank die teenwoordiges vir insette ge­le­wer. Hy wens die lede 'n voorspoedige reis na hul onder­skeie tuistes toe, en verdaag die vergadering om 13:30.