Notule

Canola- en Lupienwerkgroepvergadering

gehou op 13 Junie 2007 te Elsenburg



  1. Opening en verwelkoming

    Mnr Scholtemeijer open die vergadering met gebed. Hy verwelkom almal teenwoordig.

  2. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Dr M Griessel PNS
    Dr J de Kock PNS
    Mnr H Agenbag PNS Wes-Kaap
    Mnr P Lombard DLWK
    Mnr H Cerfonteyn DLWK
    Mnr C van Rooyen DLWK Caledon
    Mnr P Laubscher Overberg Agri
    Mnr J Loubser Nova Voere
    Mnr L Wille Agricol
    Mnr D Koch CBK
    Mnr JJ Bester GSA
    Mnr K Schonken GSA
    Mnr C Cumming Bayer Crop Science
    Mnr K Becker SOILL
    Me A Swanepoel DLWK
    Me F Hawkins NDL-NOK
    Dr S Lamprecht LNR-NIPB
    Dr G Tribe LNR-NIPB
    Me L van Zyl Sekretariaat
    Mnr H van der Westhuizen Philagro SA (gedeelte van vergadering)
    Mnr P Lombard Philagro SA (gedeelte van vergadering)

    Verskonings

    Prof A Agenbag US
    Dr T Brand DLWK
    Dr I Trautmann DLWK
    Dr A Nel LNR-IGG
    Dr M Hardy DLWK
    Mnr A Haasbroek Kaap Agri
    Mnr I Slabbert DLWK Moorreesburg
    Mnr S van Zyl GSA
    Mnr G Conradie DLWK
    Mnr J Lusse Overberg Agri
    Mnr G van Coller DLWK
    Mnr H Kotzé Nova Voere
    Mnr JA van Niekerk MKB
    Mnr J McDermott Du Pont
    Mnr JJ Bruwer SSK
    Me A Enslin SAGIS
    Me L Smorenburg DLWK
  3. Personalia

    Dr Griessel word met sy verjaardag geluk gewens.

  4. Vasstelling van sakelys

    • 5.1Notule van 8 Februarie 2007
  5. Notule van die vergadering van 12 April 2007

    Die notule van die vergadering gehou op 12 April 2007 word as gelese beskou en goedgekeur.

    1. Notule van 8 Februarie 2007

      Daar word kennis geneem dat mnr G van Coller na afloop van die vorige vergadering 'n skrywe aan PNS gerig het om sekere wysigings aan die notule van 8 Februarie 2007 voor te stel.

      Daar word verder besluit dat Mnr Van Coller se ander voorstelle by 'n volgende vergadering oorweeg sal word wanneer hy teenwoordig is.

      PNS Sekretaris

  6. Algemene oorsig

    1. Winterreënstreek

      1. Canola

        Swartland / Suid-Kaap

        In die Swartland het dit goed gereën, in sekere dele meer as ander. Die stande lyk goed en vooruitsigte is belowend. Die Suid-Kaap het ook goed verspreide reën gehad, saaityd het goed verloop en vooruitsigte is belowend.

        Daar word rapporteer dat groot probleme met slakke en snywurms in 'n groter deel van die Suid-Kaap ondervind word. Dit het gebeur dat lande binne enkele dae totaal opgevreet is en oorgesaai moes word. Daar is nie 'n voorkeur van graangewasse nie, alle grane is gevreet, maar nie lupiene nie. Dit wil voorkom asof die slakke nie noodwendig uit die spesifieke lande afkomstig is nie, maar van "buite" gekom het. Dit is op hierdie stadium onduidelik wat die oorsaak van die "slakbevolkingsontploffing" is. Moontlik het die afgelope somer se klimaat 'n gunstige toestand vir die oorlewing van slakeiers geskep.

        Dr Tribe is in die proses om afleidings uit die waarnemings van die seisoen te maak en sal enige bruikbare inligting dadelik aan die bedryf kommunikeer. Verwys punt 7.4.2.1 van hierdie notule.

        Suidwestelike Distrikte

        Geen inligting word rapporteer nie.

        Oos-Kaap

        Geen inligting word rapporteer nie.

      2. Lupiene

        Die stand van lupiene is baie goed.

    2. Somerreënvalstreek

      Geen verdere inligting oor canolaverbouing in die somer­reënvalgebied is beskikbaar nie.

    3. Weervooruitskatting

      Mnr Cerfonteyn verskaf die weervooruitskouing vir die periode Junie tot Augustus 2007. Normale tot bo-normale reënval word vir die res van die seisoen voorspel.

      H Cerfonteyn

    4. Oesskatting

      Neem kennis dat daar volgens die NOK se skatting van voornemens om te plant vir die 2007 seisoen ongeveer 41 000ha canola en 17 000ha lupiene aangeplant is. Die landboubesighede sal by die volgende vergadering 'n meer finale aanduiding van die oppervlakte canola en lupiene aangeplant, kan gee.

      Landboubesighede

      Daar word ook rapporteer dat die Oesskattingskomitee 'n stelsel waarmee oesskattings deur middel van sateliet­beelde bereken word in gebruik het en die eerste resultate daarvan teen Augustus beskikbaar sal wees.

      Die oppervlakte onder haweraanplantings sal vanaf Augus­tus deur NOK aangevra en gepubliseer word. Boere plant hawer ook omdat dit 'n goeie wisselbou gewas is (onkruidbeheer en siektebestuur), maar besluit op 'n laat stadium of dit vir weiding, hooi of kuilvoer gebruik gaan word of as 'n kontantgewas bemark gaan word. Dit kan dus nie vooruit bepaal word watter oppervlakte vir watter doel aangewend gaan word nie. Al sou haweraanplantings vermeerder, behoort dit nie vir canola 'n bedreiging te wees nie.

      Besluit dat NOK versoek word om voort te gaan om haweraanplantings, hetsy vir watter eindgebruik, aan te vra en in die oesskatting te publiseer.

      NOK

    5. SAGIS Inligting

      1. Invoerpariteitsprys op canola

        Daar word besluit dat die dokumentasie soos deur SAGIS verskaf en ter inligting by die sakelys aangeheg, aanvaar word, naamlik:

        • Die jongste markinligting.
        • Die weeklikse bulletin.
        • Die maandelikse bulletin.

        Daar word besluit dat SAGIS in kennis gestel moet word dat die CBK SAGIS se voorgestelde berekening van die invoerpariteitsprys aanvaar het en versoek dat die invoer­pariteitsprys gepubliseer moet word.

        Daar word kennis geneem dat die invoerpariteitsprys wel vanaf middel Junie op die SAGIS webtuiste beskikbaar sal wees.

        SAGIS

      2. Prysmodel vir berekening van canolaprys

        Neem kennis dat die prysmodel soos deur CBK aanvaar by die sakelys aangeheg is. CBK wil graag die model amptelik bekend stel.

        Daar word besluit dat daar by GSA aanbeveel word dat die prysberekening in oorleg met die Veevoervervaardigers (Dr Griessel), SOILL en SAGIS se inligting gedoen moet word en die saak verder tydens die volgende vergadering bespreek sal word.

        S van Zyl

    6. Prysvooruitskatting en Internasionale Mark­inligting

      Dr Griessel rapporteer oor die internasionale marksituasie. Die internasionale verbruik van oliesade het van 396 miljoen ton tot 410 miljoen ton gestyg. Indien toestande normaal sou bly, word verwag dat 400 miljoen ton oliesade produseer sal word. Dit mag egter verander omdat dit baie droog in van die produserende lande is. Canola se produksie (internasionaal) het van 47 miljoen ton na 51 miljoen ton verhoog. In die VSA is reeds 110 biobransdstof aanlegte en 'n verdere 73 word beplan. Dit blyk meer koste effektief te wees om bio-etanol uit graangewasse te vervaardig, as biodiesel uit oliesade.

      Die jongste gelande prys van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) in Kaapstad op 11 Junie 2007 beloop R2 439/ton. Wisselkoers = R7,28.

      1. Die afgeleide waarde van volvet canola (teen­oor sojabone) is soos volg

        Pluimvee (94%) R2 293
        Varke (100%) R2 439
        Suiwel (58%) R1 415

        Die relatiewe waarde van canola oliekoek is dus soos volg:

        Pluimvee (53%) R1 293
        Varke (65%) R1 585
        Suiwel (60%) R1 463
      2. Die relatiewe waarde van lupiene is soos volg

        L. albus (Esta) Pluimvee (75%)
        Suiwel (80%)
        R1 829
        R1 951
        L. angustifolious (Merrit) Pluimvee (53%)
        Suiwel (52%)
        R1 293
        R1 268
        L. luteus (Juno) Pluimvee (63%)
        Suiwel (73%)
        R1 537
        R1 780
      3. Produsentepryse vir canola

        SOILL het die volgende pryse aangekondig:

        Minimum prys R2 480 / ton
        Vaste prys R2 540 / ton
        Finale prys R2 660 / ton

        'n Agterskot vir die 2006 oes is gedurende April betaal en 'n verdere bedrag sal in September betaal word.

      4. Produsentepryse vir lupiene

        Geen amptelike pryse vir lupiene is beskikbaar nie.

        Daar word rapporteer dat daar verskillende standpunte aangaande die waarde van ontdopte lupiene deur navorsers gehuldig word.

        Daar word besluit dat beide die artikels insake ontdopte lupiene (van die Universiteit Natal en Dr T Brand, DLWK) by die volgende sakelys aangeheg sal word, sodat lede dit kan bestudeer en tydens die volgende vergadering verder daaroor kan besin.

        Dr Griessel
        Mnr Agenbag

  7. Navorsing

    1. Canola

      1. Nasionale cultivarproewe

        1. Cultivarproewe Wes- en Suid-Kaap: resultate 2006 en aanplantings 2007

          Daar word rapporteer dat die ontledings van die 2006 oes in proses is en besluit dat die resultate van die 2006 ontledings rapporteer sal word sodra dit beskikbaar is.

          Mnr Lombard

          Neem kennis dat die 2007 aanplantings tussen 30 April en 16 Mei afgehandel kon word. Die stande lyk op die oomblik goed en geen reën-skade of slak-skade het tot op datum voorgekom nie.

          Besluit dat vordering oor die 2007 canola cultivarproewe tydens die volgende vergadering rapporteer sal word.

          Mnr Lombard

        2. Faktore wat 'n rol speel op olie-inhoud van canola

          Die inligting soos saamgestel deur Dr A Nel en Mnr P Lom­bard oor die faktore wat die olie- en proteïeninhoud van canola beïnvloed, is by die sakelys aangeheg.

          Daar word besluit dat die artikel oor olie- en proteïen­inhoud van canola in die September uitgawe van die Canolafokus publiseer sal word.

          Mnr Agenbag

        3. Canola cultivaraanbevelings vir besproeiing in die somerreënval gebied

          Daar word kennis geneem dat die cultivaraanbevelings vir besproeiing in die somerreënvalgebied vir 2007 ter inligting by die sakelys aangeheg is.

      2. Bemesting

        Terugvoering vanaf die Bemestingstaakspan:

        Neem kennis dat geen verdere inligting omtrent be­mestingsproewe rapporteer word nie. Prof Agenbag sal die ontleding van grond- en blaarmonsters tydens die seisoen doen en aan die einde van die seisoen terugvoering rapporteer. Dr De Kock bly met YARA in verbinding insake moontlike navorsingwerk.

        Prof Agenbag
        Dr De Kock

        1. Wisselbou-projek somerreënval gebied

          Neem kennis en besluit dat die amptelike resultate van die wisselbou-projek in die somerreënval gebied afgewag word.

          Dr Nel

      3. THRIP-befondsing

        Daar word rapporteer dat THRIP-befondsing (Technology and Human Research for Industry Programme) vir canola-navorsingsprojekte goedgekeur is. Prof Agenbag sal oor die aanwending van die fondse rapporteer.

        Die hersiene uitgawe van die canolaverbouingsriglyne wat deur Prof Agenbag gekoördineer word, behoort teen Oktober 2007 beskikbaar te wees.

        Prof Agenbag

      4. Saadbehandeling teen swamme en insekte by canola

        Daar word rapporteer dat daar 'n agterstand van tot 2 jaar ten opsigte van die registrasie van chemiese middels by die Registrateur van Wet 36 se kantoor is. 'n Nuwe waarnemende registrateur, Mnr J Mudzunga is aangestel en reëlings word getref om die agterstand te probeer uitwis. Die registrasie van Cruiser staan dus oor tot 'n later stadium.

        PNS Sekretaris

    2. Lupiene

      1. Nasionale cultivarproewe: resultate 2006 en aanplantings 2007

        Daar word rapporteer dat die ontleding van die 2006 oes in proses is en besluit dat die resultate van die 2006 ontledings rapporteer sal word sodra dit beskikbaar is.

        Mnr Lombard

        Neem kennis dat die 2007 aanplantings betyds afgehandel kon word. Die stande lyk goed. Dit is nie seker of daar enige wortelskade as gevolg van die baie nat toestande in sekere gebiede sal wees nie.

        Besluit dat vordering met die 2007 lupienkultivarproewe by die volgende vergadering rapporteer sal word.

        Mnr Lombard

    3. Weerstandbiedende raaigras

      Daar word rapporteer dat die moontlikheid ondersoek moet word dat die koördinering van alle aktiwiteite rondom onkruid­doder­weerstand by die DLWK gesetel moet wees. GSA (Dr J Purchase) is in die proses om die versoek met DLWK (Dr Trautmann) op te volg.

      Daar word besluit dat navraag omtrent die vordering met die koördinering van onkruiddoderweerstandbiedendheid by die DLWK en GSA gedoen word en daar by die volgende vergadering terug rapporteer word.

      Voorsitter
      Mnr Koch
      Mnr Cumming

    4. Pes- en plaagbeheer

      1. Swartstam op canola

        Daar word kennis geneem en besluit dat Mnr Van Coller terugvoering oor waarnemings ten opsigte van die ras­verspreiding van die swartstam patogeen sal rapporteer soos die navorsingsprojek vorder.

        Mnr Van Coller

      2. Monitering van insekte op canola

        1. Slakke

          Die bespreking onder punt 6.1.1 verwys.

          Dr Tribe gee terugvoering insake die vordering met die monitering(stelsel) van slakke en isopoda. Hy bevestig dat daar aansienlik meer slakke as in die verlede voorkom en beide vroeëre en later aanplantings deur slakke en/of isopoda opgevreet is. Die oorsaak van die "bevolkings­ontploffing" en die redes daarvoor sal verder ondersoek word. Daar word aanbeveel dat produsente veral in die na-opkoms stadium daagliks die lande moet ondersoek sodat enige vreemde waarneming dadelik opgevolg moet word en moontlike skade voorkom kan word.

          Daar word besluit dat

          • Dr Tribe terugvoering oor die monitering van slakke en die moontlike redes vir die groter voorkoms van slakke in die huidige seisoen sal rapporteer; en
          • Dr Tribe met Mnr J Bruwer (SSK) sal kommunikeer insake hulle bevinding ten opsigte van behandelde saad wat beter as ander saad presteer het.

          Dr Tribe

        2. Stamboorders

          Neem kennis dat geen stamboorders tot op datum waargeneem is nie. Besluit dat die waarnemings ten opsigte van die voorkoms van stamboorders deur die loop van die seisoen rapporteer sal word.

          Dr Tribe

          Neem kennis en besluit dat Mnr Van Coller vorige navors­ingsresultate sal opvolg (Me M Kellerman) en terugvoering gee of daar enige verband tussen stamboorders en die voorkoms van Swartstam op canola is.

        3. Ruitrugmot

          Neem kennis en besluit dat Dr Tribe die voorkoms en vlugpatrone van die ruitrugmot deur die seisoen sal moniteer en waarnemings aan die bedryf sal kommunikeer. Hy sal ook die plaaslike data met dié van kollegas in ander provinsies vergelyk.

          Daar word ook rapporteer dat die inligting wat deur Dr Laubscher (DLWK) ingesamel word, op die DLWK webwerf geplaas word. Daar word aanbeveel dat die samewerking van die landboubesighede en chemiese maatskappye gevra word om Dr Laubscher met die monitering te help sodat die data vinniger en meer akkuraat beskikbaar gestel kan word.

          Daar word beklemtoon dat daar slegs geregistreerde middels as beheermaatreël gebruik kan word, en dat daar nuwe produkte wat minder nadelige effek op natuurlike parasiete het, beskikbaar is.

          Die plaaslike klimaatsomstandighede maak biologiese insekbeheer baie moeilik. Daar word egter beoog om mettertyd in samewerking met Dr Kfir, geïntegreerde beheermaatreëls (biologiese en chemiese beheer) teen die ruitrugmot te ontwikkel.

          Daar word besluit dat

          • terugvoering omtrent die monitering en ontwikkeling van 'n beheerstrategie teen die ruitrugmot deurlopend aan die Werkgroep rapporteer sal word; en
          • alle inligting gebruik word om met verloop van tyd 'n geïntegreerde beheerstrategie te ontwikkel;

            Mnr Cumming
            Dr Tribe
            Dr Kfir

          • daar via die CBK 'n beroep op landboubesighede gedoen word om daagliks (indien moontlik) waar­nemings van die lokvalle binne proefpersele aan Dr Laubscher (DLWK) deur te gee sodat hy dit kan koördineer en vinniger en meer akkurate inligting aan die bedryf kan deurgee.

            Landboubesighede
            Mnr Koch

    5. Biobrandstowwe

      Die regering se beleid ten opsigte van die vervaardiging van bio-brandstowwe word nog afgewag. Die voorsitter sal terugvoering rapporteer soos die proses vorder.

      Voorsitter

    6. Voorkoms en beheer van sclerotinia

      Mnre H van der Westhuizen en P Lombard van Philagro SA sluit by die vergadering aan.

      Mnr Henk van der Westhuizen van Philagro SA maak 'n voorlegging oor die voorkoms en beheer van Sclerotinia (stam- en peulvrot) by canola. Daar is geen chemiese produk teen Sclerotinia op canola in Suid-Afrika geregi­streer nie en daar word aanbeveel dat die volgende beheermaatreëls oorweeg word:

      • Die regte verbouingspraktyke byvoorbeeld rye moet so geplant word dat dit vinnig kan droog word (Sclerotinia is afhanklik van baie water);
      • Chemiese beheer indien geregverdig; en
      • Oorweeg praktyke wat ook ander voordele inhou byvoorbeeld bydra tot die beheer van Swartstam.

      Verdere navrae kan aan Mnr Van der Westhuizen gerig word.

    7. Super Canolakompetisie

      Daar word rapporteer dat PNS die betroubaarheid van olie- en proteïeninhoud ontledings opgevolg het en van mening is dat die laboratoriums se resultate bevredigend is en dat daar voortgegaan word om die ontledings vir die doel­eindes van die super canolakompetisie te gebruik. Die aangeleentheid is met die organiseerders van die kom­petisie opgevolg.

      Neem kennis dat vordering met die 2007 canolakompetisie by 'n volgende vergadering rapporteer sal word.

      Mnr Slabbert
      Mnr Van Rooyen

  8. Tegnologie-oordrag

    1. Canolafokus

      Die jongste uitgawe van die Canolafokus het in Junie verskyn (artikel oor insekbeheer en onkruidbeheer by canola). Daar word kennis geneem dat inligting omtrent die volgende vir komende uitgawes oorweeg word:

      • Stikstofbemesting (Prof Agenbag / US Student).
      • Vlug patrone van ruitrug- en bolwurm motte.
      • Olie- en proteïeninhoud van canola.
      1. Effek van chemiese middels op die bye bedryf

        Mnr Cumming rapporteer dat die SA Bee Industry Association weer 'n beroep op die graanprodusente doen om chemiese middels oordeelkundig aan te wend en reëlings met byeboere te tref sodat hulle voorsorg kan tref om bye te beskerm / verwyder wanneer chemiese middels gespuit / toegedien word. Die bye populasie is wêreldwyd besig om kleiner te word. Middels wat skadelik vir bye is, word stelselmatig uitfaseer, maar in Suid-Afrika is min bye-vriendelike middels geregistreer (verwys jongste Canola­fokus).

        Daar word besluit dat

        • die byeboere aangeraai word om hulle versoek ook via ander media kanale soos landbouradio te kommu­nikeer;

          PNS Sekretaris
          Mnr Cumming

        • daar via CBK weer 'n versoek tot produsente gerig word om chemiese middels oordeelkundig in oorleg met die eienaars van byekorwe in die omgewing toe te dien;

          CBK lede
          Mnr Koch

        • Mnr Cumming die artikel oor die voordele wat bye vir die graanbedryf inhou ter inligting beskikbaar sal stel en dit in die Canolafokus publiseer sal word.

          Mnr Cumming
          Redaksie

    2. Lupino

      Die jongste uitgawe van die Lupino het in Junie verskyn ("Insekbeheer by lupiene") en die volgende uitgawe sal in September verskyn.

      Redaksie

    3. Inligtingsdae

      9-11 Augustus Canolafees, Swellendam
      10 Augustus CBK Boeredag, Swellendam
      22/23 Augustus Besigtiging van canola en lupien­proewe
      29-31 Augustus Agri Megaweek, Bredasdorp
      13 September Riversdal Boeredag
      19 September Overberg Agri Boeredag (Roode­bloem)
    4. Registrateur Wet 36 (Fertilizers, Farm feeds, Agricultural remedies and Stock remedies Act)

      Daar word rapporteer dat die nuwe waarnemende Regi­strateur reëlings tref dat die agterstand ten opsigte van registrasie van chemiese middels dringend aangespreek word. Terugvoering sal rapporteer word.

      Mnr Cumming

  9. Behoeftes van

    1. Mark – Canola

      1. Statutêre Graderingsregulasies

        Neem kennis dat die Nasionale Departement Landbou die CBK op 18 Julie 2007 sal besoek by watter geleentheid die aansoek vir statutêre graderingsregulasies weer bespreek sal word.

        Besluit dat die GSA/CBK terugvoering insake die aansoek vir statutêre graderingsregulasies vir canola sal rap­porteer.

        Mnr Van Zyl

    2. Produsente – Canola

      Geen verdere inligting is beskikbaar nie.

    3. Produsente – Lupiene

      Geen verdere inligting is beskikbaar nie.

  10. Saad

    1. Saad – Canola

      Geen verdere inligting word rapporteer nie.

    2. Saad – Lupiene

      Daar word kennis geneem dat die sub-lisensiëring van Mandelup saad finaliseer is en dat dit vanaf 2008 vir kommersiële aanplantings beskikbaar sal wees.

    3. Risiko van die gebruik van teruggehoue graan as saad

      Daar word rapporteer en besluit dat 'n verteenwoordiger van SANSOR by 'n volgende vergadering 'n voorlegging oor die risiko's van teruggehoue saad sal maak. Verdere gesprek sal by daardie geleentheid gevoer word.

      Voorsitter

  11. Ander sake

    1. Inligting vir plasing op die PNS webtuiste en nuusbrokkies

      Daar word besluit dat lede enige nuuswaardige inligting / artikels aan die PNS kantoor moet deurstuur sodat dit vir plasing op die PNS webtuiste oorweeg kan word.

      Almal

    2. Waardetoevoeging van ontdopte lupiene

      Afgehandel onder punt 6.6.4

  12. Datum van volgende vergadering

    • 16 Augustus 2007
  13. Afsluiting

    Die vergadering word na 'n woord van dank aan elkeen afgesluit en verdaag.