Notule

Canola- en Lupienwerkgroepvergadering

gehou op 15 April 2004 te Elsenburg



  1. Opening en verwelkoming

    Mnr Cerfonteyn open die vergadering met gebed. Die Voor­sitter verwelkom elkeen teenwoordig by die vergadering.

  2. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Dr M Griessel PNS
    Dr J de Kock PNS
    Mnr H Agenbag PNS Wes-Kaap
    Mnr CL Grimbeek PNS George
    Mnr D Hanekom DLWK
    Mnr HA Cerfonteyn DLWK
    Mnr W Voigt DLWK George
    Mnr I Slabbert DLWK Moorreesburg
    Mnr H de Wet DLWK
    Mnr C van Rooyen DLWK Caledon
    Mnr HF Hugo DLWK
    Dr I Trautmann DWLK
    Dr T Brand DWLK
    Me M Kellerman DLWK
    Mnr C van der Merwe MKB
    Mnr J Lusse CRK
    Mnr J Bruwer SSK
    Mnr K Schonken CBK
    Mnr N Murray Murray Voere
    Mnr L Swartz Swartland Oliepers
    Mnr J Kellerman Agricol
    Mnr J Loubser Bokomo Voere
    Dr A Nel LNR-IGG
    Dr S Lamprecht LNR-NIPB
    Prof A Agenbag US
    Me M Pretorius PNS
    Me L van Zyl Agri Wes-Kaap / Sekre­tarieel

    Verskonings

    Mnr D van Papendorp CBK
    Mnr N Mouton GSA
    Mnr N Vermaak GSA
    Mnr J Truter WPK
    Mnr P Laubscher BNK
    Mnr L Wille Agricol
    Mnr K Becker SOILL
    Mnr H Kotzé Bokomo
    Mnr A Haasbroek Boland Agri
    Dr M Hardy DLWK
    Dr PJ Pieterse US
    Dr N Kotzé Agricol
  3. Personalia

    Neem kennis dat mnr L Swartz as Bestuurder van die Swartland Oliepers aangestel is. Dr Trautmann rapporteer oor struktuurveranderinge wat by die DLWK aangebring is.

    Die PNS spreek die hoop uit dat die samewerkingsproses van die drie landboubesighede in die Swartland glad sal verloop en tot voordeel van almal betrokke sal wees.

  4. Vasstelling van die sakelys

    • Voeg by 7.2.3Saadbehandeling Lupiene
  5. Notule van die vorige vergadering

    Die notule van die vergadering gehou op 5 Februarie 2004 is goedgekeur.

  6. Algemene oorsig

    1. Canola

      Swartland en Suid-Kaap

      Reën tot op datum was baie wisselvallig, Suid-Kaap 15 tot 50mm en in die Swartland 5 tot 20mm. Geen canola tot op datum geplant, maar volgens saadverkope word min of meer dieselfde aanplantings as in die vorige jaar verwag. Die droogte van 2003 sal 'n invloed op die produsente se keuse van gewasse vir die volgende seisoen hê.

      Suidwestelike Distrikte

      Nog nie genoeg gereën nie en geen canolasaad verkoop nie.

      Oos-Kaap

      PNS loods nuwe proewe insake plantdatum, cultivar­evaluering en wisselbou stelsel.

      Somerreënvalstreke

      Min belangstelling of navrae vanaf produsente gekry. Onseker oor beoogde aanplantings. Proewe by Vaalharts, Potchefstroom, Brits, Douglas en Noordwes Koöperasie word aangeplant. 'n Inligtingsdag word binnekort op Luck­hoff gehou.

    2. Lupiene

      Swartland / Suid-Kaap / SWD / Oos-Kaap

      Reënval tot op datum baie wisselvallig en onvoldoende. Min saad is beskikbaar en aanplantings sal heel waar­skynlik minder wees as die vorige jaar. Daar word voorsien dat produsente na die droogte eerder koring, wat 'n groter inkomste kan realiseer, sal plant.

    3. Oesskatting

      Neem kennis dat die NOK se Maart 2004 oesskatting aandui dat 49 000ha canola en 10 000ha lupiene aan­geplant kan word.

      Besluit dat daar na planttyd by die Junie vergadering 'n aanduiding van die aanplantings gegee sal word.

      Alle lede

    4. Prysvooruitskatting en internasionale mark­inligting

      Dr Griessel rapporteer oor die jongste situasie ten opsigte van internasionale voorraad en prystendense. Terwyl die sojaboon-oes in Amerika 10m ton laer is, is aansienlik meer aanplantings in Brasilië gemaak. Die pryse van canola en lupiene is grootliks aan die behoefte aan proteïene onderhewig.

      Die gemiddelde invoerprys vir soja-oliekoek (47% proteïen) geland in Kaapstad (April 2004) word op R2 479 per ton bereken. Die volgende wisselkoers word gebruik: $1 VSA = R6,35

      1. Canola

        Die relatiewe waarde van volvet canola is soos volg:

        Pluimvee (94%) R2 330
        Varke (100%) R2 479
        Suiwel (58%) R1 438

        Die relatiewe waarde van canola oliekoek is dus soos volg:

        Pluimvee (53%) R1 314
        Varke (65%) R1 611
        Suiwel (60%) R1 487
      2. Lupiene

        Die relatiewe waarde van lupiene behoort dus soos volg te wees:

        L. albus (Esta) Pluimvee (75%)
        Suiwel (80%)
        R1 859
        R1 983
        L. angustifolious (Merrit) Pluimvee (53%)
        Suiwel (52%)
        R1 314
        R1 289
        L. luteus (Juno) Pluimvee (63%)
        Suiwel (73%)
        R1 562
        R1 810
    5. COMBUDS – canola

      1. Aanpassing van kostegids

        Besluit dat die DLWK versoek moet word om te reël dat die Departementele masjinerie kostegids aangepas word sodat dit meer verteenwoordigend van Wes-Kaap om­standighede sal wees. Die aanpassings moet veral ten opsigte van die volgende gemaak word:

        Trekker-ure, stroper-ure, minimum bewerking, planters en platsnyers.

        Mnr Hugo

      2. Opstel van Combuds in canola

        Neem kennis dat combuds vir alle gewasse gedoen word en mnr Hugo in die proses is om die combud vir canola te finaliseer.

        Besluit dat mnr Hugo in die proses om die combud vir canola te finaliseer met mnr D Joubert (PNS) sal konsulteer.

        Mnr Hugo

      3. Canola bedryfstak begroting

        Neem kennis en aanvaar die bedryfstak begroting vir Swartland en Suid-Kaap soos voorgelê word.

        Besluit dat lede versoek word om wanneer die geleentheid sou voordoen, hulle die voordeel van canola binne 'n wisselboustelsel vir produsente in perspektief moet stel en promoveer.

        Alle lede

    6. Produksie area kaarte inligting

      Neem kennis dat die DLWK in die proses is om die produksie area kaarte op datum te bing. Besluit dat die finalisering van die produksie area kaarte afgewag word.

      Mnr Hugo

  7. Nasionale cultivarproewe / strookproewe

    1. Canola

      1. Bemesting

        1. Terugvoering en aanbeveling van Bemesting Taakspan

          Die Taakspan rapporteer dat Kynoch ten opsigte van prioriteit 1 (Stikstof-bestuur) gedurende die 2004 seisoen met projekte oor droëland N-peile X skedulering plus N-toetser begin. Die DLWK se projek sal peile by verskillende plantdatums akkommodeer. Die LNR-IGG begin 2004 seisoen met 'n projek onder besproeiing in die somerreënvalstreke.

          Ten opsigte van die volgende aspekte onder prioriteit 1 moet nog navorsing gedoen word:

          • Stikstofdraers
          • Stikstofplasing
          • Stikstof x Wisselbou
          • Stikstof x Cultivars
          • Stikstof x Plantestand

          Prioriteit 2 (Swael x Stikstof) en prioriteit 3 (Kalsium x Stikstof) – Kynoch beplan 'n projek vir 2004.

          Ten opsigte van prioriteit 4: Fosfor (P) x Kalium (K) en prioriteit 5: (Mikro-elemente) word nog geen navorsing beplan nie.

          In 'n poging om die bostaande geidentifiseerde behoeftes aan te spreek sal die Taakspan verdere samesprekings oor moontlike betrokkenheid met die volgende instansies voer: US Departement Grondkunde, Nitrophoska, Omnia en Sasol. Kynoch se betrokkenheid ten opsigte van hulle projekte sal finaliseer word.

          Besluit dat vordering afgewag word.

          Dr de Kock

          Besluit dat enige insette oor hoe die ontbrekende navorsing aangespreek kan word, verwelkom sal word en lede sodanige insette aan die Taakspan kan voorlê.

          Alle lede

        2. Projek van dr Nel: N-peile in besproeiings­praktyke

          Neem kennis dat dr Nel in die somerreënvalstreke 'n projek insake N-peile sal uitvoer en vordering sal rapporteer soos en wanneer nodig.

          Dr A Nel

      2. Besigheidsplan vir canola

        Daar word rapporteer dat die besigheidsplan gedurende Mei aan die PNS Tegniese Komitee voorgelê word en terugvoering afgewag word.

        Dr De Kock

        Neem verder kennis dat na wat verneem word die US aansoek vir THRIP fondse nie goedgekeur is nie en die redes daarvoor afgewag word. Besluit dat daar na aanleiding van die redes waarom die US se THRIP aansoek afgekeur is, verdere optrede deur PNS en US oorweeg sal word byvoorbeeld heraansoek of alternatiewe reëlings.

        Prof Agenbag
        PNS

      3. Saadbehandeling teen swamme en insekte

        Die inligting insake 2003 resultate is aan lede voorsien. Die proewe sal in 2004 herhaal word, maar die navorsingspan verkies om onbehandelde saad te gebruik (3kg per cultivar). Daar word aanbeveel en besluit dat die cultivars wat in 2003 gebruik is, met meer verteenwoordigende cultivars soos AG-Outback en ATR Hyden vervang word. Lede van die vergadering het aangedui dat hulle die US van onbehandelde saad sal voorsien.

        Prof Agenbag
        Dr Lamprecht

        Dit word bevestig dat die saadbehandelingsproewe hoofsaaklik uitgevoer word om effektiewe middels vir gebruik in Suid-Afrika te registreer. Dit is egter noodsaaklik dat saadmaatskappye hulleself as vennote in die projek beskou en bereid moet wees om 'n spesifieke middel te gebruik, indien dit registreer sou word

        Besluit dat die PNS met saadmaatskappye sal onder­handel oor hulle "vennootskap" in navorsingswerk om chemiese saadbehandelingsmiddels vir Suid-Afrika regi­streer te kry.

        Voorsitter

      4. 2003 Cultivarproewe – resultate van chemiese ontledings

        Neem kennis en besluit dat die resultate van die chemiese ontledings (2003 cultivarproewe) afgewag word.

        Drr de Kock en Brand
        Mnr Hanekom

      5. 2004 Cultivarproewe – voorbereiding

        Daar word rapporteer dat voorbereidings op datum is, saad ontvang is en die behoefte aan implemente (byvoorbeeld selfaangedrewe 12-ry planter en 'n stroper) tydens die PNS / DLWK gesprek op 15 April aangespreek sal word.

        Besluit dat vordering na die planttyd kommunikeer sal word.

        Mnr Hanekom

    2. Lupiene

      1. 2003 Cultivarproewe – resultate van chemiese ontledings

        Neem kennis en besluit dat die resultate van die chemiese ontledings (2003 cultivarproewe) afgewag word.

        Drr De Kock en Brand
        Mnr Hanekom

      2. 2004 Cultivarproewe – voorbereidings

        Daar word rapporteer dat voorbereidings op datum is, maar dat LNR Potchefstroom aangedui het dat hulle nog net vanjaar die lupiensaad vir die gebruik in die proewe kan voorberei.

        Besluit dat die voorbereiding van die lupiensaad vir cultivarproewe tydens die PNS / DLWK gesprek aange­spreek sal word en terugvoering afgewag word.

        Mnr Hanekom
        Voorsitter

      3. Saadbehandeling teen swamme en insekte

        Die inligting insake die 2003 resultate is aan lede voorsien. Die projek word in 2004 op drie cultivars by drie lokaliteite (Tygerhoek, Elsenburg en Langgewens) herhaal.

        Besluit dat vordering rapporteer sal word.

        Dr Lamprecht

  8. Inligtingspamflet / nuusbrief

    1. Canolafokus

      Die jongste uitgawe wat in Maart verskyn het, het die terugvoering oor die Suid-Kaap kompetisie asook inligting oor slakbeheer bevat.

      Die volgende uitgawe sal in Junie verskyn en geïdenti­fiseerde onderwerpe sal akkommodeer word, naamlik Swartland kompetisie, stikstoftoediening en faktore wat 'n rol in prysvasstelling speel. Dr Griessel is in die proses om 'n artikel insake die faktore wat prysvasstelling beïnvloed vir publikasie voor te berei.

      Besluit dat inligting insake lokaas vir slakke ook dringend via die nuusbriewe aan produsente deurgegee moet word.

      Redaksie

      Besluit dat daar in die September uitgawe vir terugvoering van DLWK se wisselbou-projek by Riversdal voorsiening gemaak moet word.

      Redaksie

    2. Lupino

      Neem kennis dat die volgende uitgawe van Lupino in Junie sal verskyn en artikels aan die redaksie voorsien kan word.

      Redaksie

  9. Behoeftes van

    1. Mark – Canola

      1. Prysvasstellingsprosedure

        Besluit dat terugvoering insake die prysbepalingsfaktore en prosedure om 'n meer verteenwoordigende produsente­prys te verseker, vanaf GSA afgewag word.

        N Vermaak

        Besluit verder dat mnr Bruwer met mnr Becker sal opvolg of dit vir die olie-persbedryf moontlik is om, na aanleiding van internasionale omstandighede, die relatiewe waarde van canola te kan bereken (soos die veevoerbedryf dit doen) en ter inligting aan die Werkgroep deur te gee.

        K Becker

      2. Statutêre graderingsregulasies

        Neem kennis dat die GSA in die proses is om die moontlikheid van graderings regulasies vir canola te ondersoek en besluit dat terugvoering deurlopend gegee sal word.

        N Vermaak / K Schonken

    2. Mark – Lupiene

      Geen nuwe inligting is beskikbaar nie.

    3. Produsente – Canola

      1. Pes- en plaagbeheer

        1. Swartstam

          Die DLWK (Dr Crafford) se verslag oor swartstam is aan lede voorsien en word deur me Kellerman, wat die verant­woordeliheid van die projek by Dr Crafford oorneem, toegelig. Die voortsetting van die projek sal tydens die PNS / DLWK gesprek op 15 April bespreek en beplan word. Besluit dat die uitslag van die gesprek aan die Werkgroep rapporteer sal word.

          Voorsitter

        2. Voorkoms en monitering van bogrondse insekte, plae en slakke

          Neem kennis dat dr Lamprecht as sameroeper van die Slakwerkgroep aangewys is en verdere besprekings aan hierdie vergadering rapporteer sal word. Die vergadering neem kennis dat daar proewe insake die insekpopulasie vir die Suid-Kaap beplan word.

          Dr Lamprecht

          Daar word ook rapporteer dat die DLWK (Me Kellerman en Dr Laubscher) in die proses is om 'n projekvoorlegging insake die interaksie tussen insekte en voorkoms van swartstam, voor te berei. Vordering sal rapporteer word.

          Me Kellerman

        3. Publikasie oor lokaas vir slakke

          Besluit dat die artikel oor lokaas vir slakke dringend as voorlopige handleiding vir produsente, in die Canolafokus, plaaslike landboubesighede se nuusbriewe en SA Graan publiseer sal word. Daar moet byvoorbeeld reeds voor opkoms slakpille gestrooi word om die verlangde uitwerking te verseker.

          Redaksie

      2. Plantmetodes vir beter vestiging van canola

        Die projek insake rywydtes en plantdigthede sal weer die komende seisoen herhaal word. Op die oomblik blyk dit dat canola-opbrengs nie ernstig deur wyer rye (250 tot 300mm) beïnvloed word nie.

        Besluit dat prof Agenbag vordering sal rapporteer soos dit beskikbaar raak en 'n populêre publikasie na die volgende seisoen se resultaste oorweeg kan word.

        Prof Agenbag

    4. Produsente – Lupiene

      1. Alkaloïedvlakke / gestandardiseerde betrou­baarheidstoets

        Neem kennis van die resultate van alkaloïed ontledings wat in Australië gedoen is, en dat die syfers nog nie akkuraat genoeg is nie. Besluit dat die hantering van die probleem om 'n betroubare toets vir alkaloïedvlakke te ontwikkel, tydens die DLWK / PNS gesprek aangespreek moet word.

        Dr Brand

      2. Gebruik van bitterlupiene in volstruisvoeding

        Dr Brand verskaf toeligting op die resultate insake "Choice feeding of different types of lupins to ostriches". Besluit dat daar oor die voortsetting van die proef (effek van alkaloïedes op lewerpatologie) rapporteer sal word.

        Dr Brand

    5. Saad – canola

      Neem kennis dat die nodige reëlings deur saad­maatskappye getref is en dat die saak voorlopig daar gelaat word.

    6. Saad – lupiene

      Neem kennis dat 'n beperkte hoeveelheid lupiensaad plaaslik beskikbaar is. Weens die hoë koste van ingevoerde saad, sien die PNS nie hulle weg oop om daarvan te subsidieer nie.

    7. Inligtingsdae 2004

      Neem kennis van die volgende geleenthede wat skeduleer is:

      18 tot 20 Mei 2004 GSA Oesdag
      24 Junie 2004 KKOV Na-plant Inligtings­dag te Tygerhoek
      2 Julie 2004 KKOV Na-plant Inligtings­dag te Langgewens
      22 Julie 2004 CBK Boeredag
      1 en 2 September 2004 Besigtiging cultivarproewe
      1 en 2 September 2004 BNK Megadag
      7 September SKOG dag
      16 September CRK Boeredag
    8. Super Canolakompetisie

      Neem kennis van die terugvoering van die Swartland kompetisie soos deur mnr Slabbert toegelig.

      Die volgende wenners is vir die streek aangewys:

      • Hoogste opbrengs: André Brink en Paul Truter as naaswenner
      • Beste Bruto marge: André Brink en Dirk Lesch as naaswenner

      Besluit dat

      • die Werkggroep se gelukwense skriftelik aan die wen­ners oorgedra word en mnr Slabbert en sy mede­werkers skriftelik vir die reëlings van die kompetisie bedank word;

        Voorsitter

      • addisionele borge van pryse skriftelik bedank word, naamlik:
        • NEDBANK
        • AGRICOL
        • CBK

        Voorsitter

      • die knelpunte wat deur die twee kompetisies uitgewys word, met die oog op moontlike verdere navorsing na die Tegnologie­komitee vir verdere hantering verwys word (plaas op volgende sakelys);

        Dr de Kock

      • opsomming van die Swartland kompetisie se resultate vir publikasie in die Canolafokus en SA Graan be­skikbaar gestel word.

        Redaksie

    9. Weervooruitskatting deur Mnr Cerfonteyn

      Neem kennis van die inligting vir die komende maande soos deur mnr Cerfonteyn verskaf en toegelig.

      H Cerfonteyn

  10. Navorsingsbeplanning

    1. Canola

      1. Weerstandbiedendheid: raaigras

        Neem kennis dat mnr Ferreira se verslag insake effektiewe chemiese beheer ontvang is en besluit dat dit by die notule aangeheg moet word.

        PNS

    2. Lupiene

      1. Chemiese onkruidbeheer – Simazine nood­registrasie

        Neem kennis dat Simazine vir die gebruik op canola en lupiene registreer is. Besluit dat Syngenta amptelik vir die samewerking om die produk registreer te kry, bedank word.

        Voorsitter

    3. Wisselbouprojek in Suid-Kaap / insluiting van ekonomiese data

      Die moontlikheid dat die Suid-Kaap wisselbouprojek uitgebrei word sodat die ekonomiese data wat daaruit verkry word, ingesluit kan word is met DLWK (Dr Hardy en ekonome) opgevolg.

      Besluit dat

      • die insluiting van die ekonomiese data verkry uit die wisselbouprojek (voordele van wisselbouprojek waarby canola ingesluit is) ook aan die Wintergraan-navorsingstrust as medefinansierder van die projek, voorgelê en bespreek moet word;

        Voorsitter

      • Dr Nel die gedagte dat die laer risiko voordeel van 'n wisselboustelsel wat canola insluit ook by die berekeninge ingesluit moet word, met die ekonome sal kommunikeer;
      • Mnr Joubert (PNS Raad) namens die PNS die aksie sal koördineer; en
      • vordering aan die Werkgroep rapporteer sal word.

      M Hardy
      A Nel
      H Hugo

  11. Ander sake

    1. Stoppelbestuur van canola

      Neem kennis van Advanta se inligting omtrent die risiko van swartstam en hoe die korrekte bestuur van stoppels die voorkoms van swartstam kan beperk.

      Besluit dat me Kellerman namens die Werkgroep en die DLWK Navorsingsprojek die inligting insake swartstam bestuur met Advanta sal opvolg.

  12. Datum van volgende vergadering

    Die volgende vergadering is vir 9 Junie 2004 om 09:00 skeduleer.

  13. Afsluiting

    Die vergadering word na 'n woord van dank aan elkeen afgesluit en verdaag.