Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 2 Maart 2004 in die PNS-Raadsaal te Rivonia



  1. Opening

    Die vergadering word deur mnr Pretorius met gebed geopen.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, mnr GJH Scholtemeijer, heet almal hartlik welkom.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Dr J de Kock PNS
    Dr M Griessel PNS
    Mnr WF van Wyk PNS-Kontrakteur
    Mnr H Agenbag PNS-Kontrakteur
    Mnr CL Grimbeek PNS-Kontrakteur
    Mnr L Killian PNS-Kontrakteur
    Mnr E Maree PNS-Kontrakteur
    Mnr AJ Pretorius LNR-IGG
    Mnr GW Bührmann GW Bührmann Saad
    Mnr C Havenga Agriocare
    Mnr AL Bennett Monsanto
    Mnr FAS Potgieter Graan SA
    Me M Pretorius OPOT
    Mnr N Fouché Sekretariaat

    Verskonings

    Mnr P Lubbe Agriocare
    Mnr AJ van Vuuren NWK Beperk
    Mnr CJ du Plessis PNS
    Mnr GP de Beer LNR-IGG
    Mnr B de Klerk Afgri
    Mnr NJ Vermaak Graan SA
    Mnr B Bester Monsanto
    Mnr L Weber MGK
    Mnr ID Lamprecht Departement Landbou: Mpuma­langa
    Mnr K Nel Nedan Oil Mills
    Dr BJ Willemse SA Sojavoedselvereniging
    Mnr PM Ndwandwe Departement van Landbou, KwaZulu-Natal

  4. Personalia

    Mnr Killian word geluk gewens met sy verjaarsdag.

    Die vergadering wens mnr Vermaak in sy afwesigheid, 'n spoedige herstel toe na sy operasie.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar, met toevoeging / verandering van die volgende besprekingspunte:

    • Item 9.1.3Rywydte proef – Cedara
    • Item 9.2.2Word onder Item 9.10.3 hanteer
    • Item 13.3Aalwurmnavorsing
    • Item 16.1Roundup Ready: E-pos
  6. Notule van die vergadering van 2 Maart 2004

    Die notule is goedgekeur.

  7. Algemene oorsig

    1. Provinsies

      1. KwaZulu-Natal

        Mnr Havenga rapporteer oor die Noordelike gedeeltes van die KwaZulu-Natal Provinsie. Hy noem dat dit tot en met Januarie intens droog was in die Normandien-gebied en dat verspreide reënbuie daarna oor die gebied geval het. Hoewel die sojaboonaanplantings goed vertoon, is die plante fisies kort en kan 'n laer opbrengs as die langtermyn gemiddeld verwag word. Mnr Killian voeg by dat daar ongeveer 200mm reën gedurende Februarie oor die Winterton/Bergville-gebied geval het en dat die damme besig is om voller te raak.

        Mnr Potgieter sê volgens sy inligting word 'n bogemiddelde opbrengs in die noordelike gedeeltes van KwaZulu-Natal verwag. Die Voorsitter sê sy waarneming is ook dat die sojabone 'n goeie opbrengs mag behaal. Dr Griessel wys daarop dat hierdie jaar se gemiddelde oesskatting-opbrengs vir KwaZulu-Natal 1,60 ton/ha is teenoor verlede jaar se finale oes van 1,62 ton/ha.

        Die Voorsitter stel die vraag, of die lede tevrede is met die geskatte 18 000ha vir dié provinsie, vergeleke met die 13 550 van 2002/2003. Mnr Havenga sê dat hy daarmee tevrede is en voeg by dat die gemiddelde opbrengs oor die langtermyn vir KwaZulu-Natal, aansienlik hoër is.

        Mnr Killian noem dat die eerste plantdatumproef wat op 17 September 2003 te Cedara geplant is, op 27 Januarie 2004 roes begin toon het. Hy sê dat die plantdatumproef te Winterton van dieselfde ouderdom, egter steeds geen roes toon nie. Dr De Kock sê dat dit in die Roestaakspan se omsendskrywe gerapporteer is, dat Pannar die voorkoms van roes te Greytown bevestig het. Mnr Killian sê hy het die dag vantevore onbevestigde inligting ontvang, dat roes in die Winterton / Bergville gebied waargeneem is.

      2. Mpumalanga

        Mnr Bührmann rapporteer dat aanplantings in die gebied baie goed vertoon en dat die dele waar haelskade aangerig is, mooi herstel het. In die westelike dele van Mpumalanga het goeie reëns geval en lyk die aanplantings goed. Hoewel dit ook in die verre Oostelike gedeeltes (rondom Lothair) goed gereën het, was daar ernstige sclerotinia-probleme, vermoedelik as gevolg van die terughouding van saad. Daar is gedurende die afgelope plantseisoen meer soja­bone as normaal in die Perdekop / Platrand / Standerton gebiede aangeplant, maar minder in die rigting na Middelburg. Kanhym het ook aansienlik meer sojabone as gewoonlik aangeplant. Hy sê dat hy tevrede is met die oesskatting vir dié provinsie en dat 'n redelike toename in opbrengs waarskynlik blyk te wees.

        Mnr Van Wyk rapporteer oor die Westelike gedeeltes van Mpumalanga, te wete Wonderfontein / Kinross / Bethal / Middel­burg en omstreke. In die gebied tussen Middelburg en Wonderfontein is daar heelwat stand-, hoogte- en onkruidprobleme. As gevolg van die intense droogte van Desember was onkruiddoders nie effektief nie en het die plante byna niks gegroei nie. Sommige aanplantings is só laag dat daar moeilik gestroop gaan word.

        Aanplantings in die Kinross-gebied en by Kanhym vertoon egter gunstiger. Daar is 'n aantal groot sojaboon­produsente in die Loskopdamgebied wie se sojabone goed lyk, maar as gevolg van die hitte in Desember, is die stand swak. By die proef­aanplantings te Loskopdam is daar probleme met opkoms ondervind. Aangesien 'n hele aantal produsente sojabone in plaas van mielies geplant het en as gevolg van die tekort aan droëboonsaad, word meer sojabone in die westelike deel van Mpumalanga verwag.

      3. Noordwes

        Mnr Potgieter rapporteer dat daar ongeveer 30% meer sojabone in die MGK-gebied aangeplant is. Hy sê sy waarneming is dat ietwat minder sojabone as laas jaar in die Limpopo-gedeelte van MGK geplant is. Hy noem dat die 30% styging in saadverkope vir die res van die MGK-gebied ook in die oesskatting gereflekteer word, waar daar 2 600ha teenoor die vorige seisoen se 2 050ha aan­plant­ings verwag word.

        Veral in die Koedoeskopgebied het die goeie reëns sedert Januarie 'n positiewe verskil gemaak en word 'n normale tot bonormale opbrengs vir die MGK-gebied verwag. Hy sê dat die Hartebeespoortdam sedert die vorige week reeds oorloop en dat die Rooikoppiesdam binnekort ook na aan vol behoort te wees.

        Dr Griessel wys daarop dat die Oesskattingskomitee 'n laer opbrengs per hektaar vir die provinsie as vir die vorige jaar skat, te wete 1,9 ton/ha teenoor 2,4 ton/ha. Mnr Potgieter sê die opbrengs behoort definitief hoër as 1,9 ton/ha te wees. Dr Griessel beveel aan dat die Oesskattingskomitee van mnr Potgieter se waarnemings bewus gemaak moet word.

        Besluit:

        1. Dat die Oesskattingskomitee kennis moet neem van mnr Potgieter se waarneming, naamlik dat 'n hoër opbrengs as 1,9 ton/ha in die Noordwes Provinsie verwag word.

          Mnr Pretorius

      4. Limpopo

        Mnr van Wyk rapporteer dat daar 'n strook van ongeveer 10km tussen Pienaarsrivier en Radium is, waar dit in die afgelope paar seisoene baie min gereën het. Hy sê dat die Springbokvlakte oor die algemeen goed lyk, veral ná die goeie reëns wat sedert Januarie geval het. Hy noem dat baie produsente in die Palala-gebied grondbone in plaas van sojabone aangeplant het, aangesien hulle gemeen het dat grondbone onder die droër toestande, beter as sojabone sou presteer.

        Mnr Van Wyk noem dat daar egter meer sojabone as normaal in die Sterkriviergebied wat naby Potgietersrus geleë is, aangeplant is. Die gebied Noord van die Sout­pansberg was selfs aan die begin van Februarie nog só droog, dat daar heelwat plase is waar die gras steeds nie opgekom het nie. Dit het intussen heelwat in dié gebied gereën, maar die groeiseisoen is egter feitlik verby.

      5. Noord-Kaap

        Mnr Havenga sê dat sojabone in die gedeeltes waar hy die rondte gedoen het, baie goed vertoon. Hy rig egter 'n woord van waarskuwing, dat aalwurm 'n groot probleem vir sojabone in dié gebied kan raak. Bespreking word vervolgens gevoer oor die grense van die Noord-Kaap. Dr De Kock doen aan die hand dat die landkaart waarop die provinsiale grense aangedui is – soos vroeër deur mnr Pretorius voorgehou – by die volgende sakelys ingebind moet word.

        Besluit:

        1. Dat die landkaart waarop die provinsiale grense aangedui is – soos vroeër deur mnr Pretorius voorgehou, by die volgende sakelys ingebind word.

          Mnr Keun

      6. Vrystaat

        Mnr Maree rapporteer dat die gebied oos van Bethlehem oor die algemeen goeie reëns gehad het en dat die sojabone daar goed vertoon. Daar is min sojabone in die Suidoos Vrystaat geplant, in teenstelling met die baie aanplantings te Bethlehem. In die Westelike dele van die provinsie is daar dele waar dit steeds nie genoeg gereën het nie. Sowat 45mm reën is onlangs in die Excelsior-gebied gemeet, maar groot gedeeltes van die Suidoos-Vrystaat is steeds baie droog.

        Mnr Havenga noem dat die aanplantings in die Frankfort / Reitz-distrik goed lyk, ten spyte daarvan dat die plante korter as normaal is. Mnr Potgieter sê dat die Viljoenskroon-gebied op die oog-af droog lyk, maar dat sojabone in die Bothaville-gebied redelik goed daar uitsien.

        Mnr Pretorius meld dat Graan SA se spesialiswerkgroep op sojabone, aanbeveel het dat die amptelike oppervlak­skatting vir die Vrystaat effens verminder moet word.

        Dr Griessel stel die vraag of die Oesskattingskomitee inligting ontvang van die Vrystaat-gebied rondom Koffie­fontein, Luckhoff, Phillipolis, Smithfield en Norvalspont waar sojabone hoofsaaklik onder besproeiing aangeplant word. Die Voorsitter wys op die inligting dat 10 000 sakkies saad in die Noord-Kaap bemark is en pols mnr Bennett oor sy kennis rondom dié saak.

        Mnr Bennett sê dat hy self verbaas is oor die meer sojabone wat veral in die Westelike gedeeltes en ook onder besproeiing aangeplant is. Hy sê dat 10 000 sakkies sowat 3 000 ha verteenwoordig. Hy noem dat daar heelwat droëland- en besproeiingsojabone naby Leeudoringstad geplant is – 'n gebied waar daar volgens sy kennis nooit voorheen sojabone geplant is nie.

        Die Voorsitter versoek mnr Bennett om meer beson­derhede te probeer bekom, van gebiede waar die 10 000 sakkies saad moontlik bemark kon gewees het. Hy versoek ook mnre Havenga en Killian om tydens hulle besoeke aan dié gebied, meer betroubare inligting oor sojaboon­aanplantings in die Suidwes Vrystaat-gebied te probeer bekom.

        Besluite:

        1. Dat mnr AJ Pretorius versoek word om van die Oes­skattingskomitee te verneem of daar kennis geneem is van die sojabone wat onder besproeiing in die Noordwes Vrystaat aangeplant is.

          Mnr Pretorius

        2. Dat mnr Bennett meer besonderhede moet probeer bekom, van spesifieke gebiede in die Noord-Kaap en/of Vrystaat waar 10 000 sakkies saad moontlik bemark kon gewees het.

          Mnr Bennett

        3. Dat mnre Havenga en Killian tydens hulle besoeke aan die Suidwes Vrystaat-gebied, meer betroubare inligting oor sojaboonaanplantings in dié gebied moet probeer bekom.

          Mnr Havenga
          Mnr Killian

      7. Oos-Kaap

        Mnre Grimbeek en Killian maak onderskeidelik melding van 40ha droëland- en besproeiingsaanplantings in die Gamtoosvallei en 'n 5ha aanplanting te Bathurst.

      8. Suidwestelike Distrikte

        Mnr Grimbeek sê dat die 15ha sojaboonaanplantings in die George-omgewing as gevolg van die droogte tot niet gegaan het. Hy skat die totale oppervlakte onder sojabone in die Suidwestelike Distrikte op ongeveer 35ha. Dit stem ooreen met die Oesskattingskomitee se syfer.

        Mnr Grimbeek sê dat, hoewel die 375ha sonneblom­aanplantings in die Wes-Kaap korrek blyk te wees, 'n sonneblomoes van slegs ongeveer 180 ton sal realiseer.

      9. Gauteng

        Mnr Van Wyk rapporteer dat dit tot en met middel Desember, baie droog in die Bronkhorstspruit- en Delmas­gebiede was. Hy sê dat hy met die Oesskattingskomitee se syfer van 5 000ha (2002/2003 = 4 000ha) akkoord gaan.

    2. Oesskatting

      1. Oes- en oppervlakteskatting

        Die aangeleentheid is onder item 7.1.3 afgehandel.

      2. Weer- en klimaatsvooruitskouing

        Mnr Agenbag sê dat mnr Sakkie Nigrini positief is oor die winterreëngebied, vir die komende seisoen. Hy meld dat prof Peet Pienaar ook goeie reëns vir die gebied voorspel. Mnr Van Wyk sê dat hy nie vertroud is met die weer­voorspellingsterm "50% kans vir reën" nie. Die Voorsitter skets dat weervoorspellers die langtermyn gemiddelde faktore vir bepaalde gebiede as norm gebruik om die waarskynlikheid van reën te bepaal.

        Die Voorsitter noem dat die PNS 'n skrywe van Enviro Vision (mnr Johan van den Berg) ontvang het. Die Mielietrust het besluit om dié maatskappy nie verder te ondersteun nie. Hy herinner die vergadering daaraan dat die PNS se Bemarkings­komitee besluit het om, indien mnr Van den Berg steun van ander organisasies sou kry, die PNS bereid is om een maand se koste (R12 000) te borg.

    3. Mikpunte: 2005, 2010 en 2020

      1. Drie-jaar vooruitskatting

        Hierdie item staan oor.

  8. Markaangeleenthede

    1. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

      Dr Griessel hou die jongste markinligting en afgeleide pryse aan die vergadering voor. Die gelande prys en wisselkoers is soos op 27 Februarie 2004.

      Hy noem dat die gelande prys van soja-oliekoek (47% proteïen) te Durban sedert 27 Januarie 2004, met R129 / ton verlaag het. Op 27 Januarie was die gelande prys R2 590 / ton, terwyl dit R2 461 / ton was op 27 Februarie 2004.

      Die belangrikste redes vir hierdie verlaging, is die verstewiging van die rand teenoor die dollar, vanaf R7,11 op 27 Januarie tot R6,67 op 27 Februarie. 'n Ander belangrike rede is die opbou van soja-oliekoekvoorrade in Suid-Amerika as gevolg van die uitstel van verskepings na Asië.

      Hy sê dat die pluimveebedryf in China, Thailand, Viëtnam en etlike ander Asiese lande, 'n ernstige knou toegedien is deur die dodelike "avian influenza" A (H5N1) virus. Dit wil voorkom asof die siekte verder versprei en pandemiese afmetings aanneem. Dit word beraam dat 50 tot 60 miljoen hoenders as gevolg van die siekte gevrek het of geslag is, in 'n poging om verdere verspreiding te voorkom. 'n Nuwe element van onsekerheid is geskep, toe "avian influenza" in die VSA waargeneem is. As voorsorgmaatreël het verskeie lande 'n verbod op die invoer van hoendervleis uit Amerika geplaas, wat 'n groot invloed op die Amerikaanse pluim­veebedryf kan uitoefen.

      Dr Griessel noem dat die droogte sy tol eis in die belangrikste sojaboon-produserende gebiede van Brasilië, wat tot voordeel van die Suid-Afrikaanse sojaboon­produsente kan strek. Daar word geraam dat die oes aldaar, reeds tussen 1 en 2 miljoen ton minder kan wees. Die geweldige stygings in skeepsvrag, strek ook tot voordeel van produsente. Agtien maande gelede was die skeepsvrag van Argentinië na Suid-Afrika $21 / ton. Tans staan dit op $60 / ton. Teen die huidige wisselkoers van R6,67, beteken hierdie styging (R140-R400) 'n toename van R260 / ton.

      Wat verder in die guns van sojabone strek, is die feit dat die vyf belangrikste vismeelproduserende lande, naamlik Peru, Chile, Noorweë, Denemarke en Ysland gedurende Januarie tot Desember 2003 een miljoen ton minder vismeel geproduseer het as die ooreenstemmende periode in die vorige jaar.

      Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban
      Verskeping: R2 461   |   Wisselkoers: R6.67/US$
      Geland Durban 47% proteïen oliekoek 2 461.00
      Spoorvrag na Randfontein 150.00
      2 611.00
      Waarde van volvetsoja 110% R2 872.00
      Prys aan produsent vir boontjies 2 293.00
      – Vervoerkoste na volvet-aanleg 70.00
      – Stoorkoste 60.00
      – Rente 15% (6 maande) 182.00
      – Ekstrusiekoste 130.00
      – 5% ekstrusieverlies 137.00
      Afgeleide produsenteprys vir sojabone – R/ton R2 872.00

    2. SAFEX

      Mnr Potgieter noem dat daar nie 'n vervoerdifferensiaal by sojabone is, wat by die geregistreerde SAFEX-leweringspunte gelewer word nie. Hy verwys na SAFEX se kennisgewing soos by die sakelys ingebind en noem dat die geregistreerde leweringpunte uitgebrei is om die verhandeling van sojabone op SAFEX te stimuleer. Hy sê dat sojabone egter steeds by ander silo's gelewer kan word, soos in die verlede. By die SAFEX-leweringpunte word dieselfde basisprys aan produsente betaal.

      Die Voorsitter ontvang die volgende inligting vanaf mnr Johann du Plessis:

      • Alle geregistreerde silo's verhandel teen dieselfde basisprys en 'n nul-vervoer differensiaal;
      • Die huidige SAFEX-leweringsprys vir sojabone is R2 550 / ton, minus in- en uitlaaikostes;
      • Pryse wat tans "in die veld" aangebied word, wissel tussen R2 200 / ton en R2 230 / ton;
      • Die toename in geregistreerde leweringspunte het 'n aansienlike toename in SAFEX-verhandeling teweeg gebring; en
      • Gedurende die vorige week is 135 kontrakte verhandel, wat ongeveer tien keer meer is as voor die toename in die verhandelings­punte.
  9. Produsente-aangeleenthede

    Mnr Pretorius noem dat mnr De Beer nog 'n paar proef­besoeke saam met die PNS-verteenwoordigers moet afhandel, waarna die LNR-IGG 'n finale verslag sal indien.

    1. KwaZulu-Natal

      1. Super Sojakompetisie – terugvoering

        Mnr Havenga sê sover sy kennis strek, is daar minder deelnemers vanjaar en het besoeke aan hulle reeds begin. Hy kon egter nie met mnr Ndwandwe kontak maak om die reëlings tot dusver te bevestig nie. Daar is meer deelnemers in die Normandien-gebied, terwyl die meeste deelnemers in die Bergville / Winterton-gebied geleë is. Mnr Killian noem dat daar 22 deelnemers in KwaZulu-Natal is en dat mnr Ndwandwe reeds die eerste inspeksie-rondte gedoen het.

      2. Voorlegging – mnr B Birch

        Die Voorsitter noem dat dr Kars die vorige dag 'n konsep projekvoorlegging aan hom oorhandig het, waarop die PNS insette sal lewer. Kopieë sal van die studie deur mnre Birch en Smith beskikbaar gestel word sodra dit gefinaliseer is. Die voor­legging handel oor die optimalisering van soja­boonproduksie in KwaZulu-Natal.

      3. Rywydteproewe - Cedara

        Mnr Killian noem dat 'n student gedurende die vorige jaar, 'n vogstudie te Cedara gedoen het. Vogmonsters is vanaf 10cm tot 1 meter geneem. Hy toon 'n grafiek, waar 'n cultivar se vergelykende resultate van 22cm en 90cm rye oor drie herhalings aangedui word. Die plantestand in elke geval is dieselfde (300 000 plante per hektaar). Die 22cm rye gee gemiddeld 'n 6% tot 7% hoër voglesing as die 90cm rye. Hy sê dat vogbewaring by nou rye dikwels onderskat word.

        Mnr Havenga sê dat studies uitgewys het, dat evapo-transpirasie (verdamping uit die grond plus transpirasie) verhoog namate die blaredak digter word. Mnr Killian verduidelik dat die blaredak ook 'n effek op die impak van reëndruppels op die grond het, wat die kompaksie van die grondkors beïnvloed. Dit beïnvloed op sy beurt die deurdringbaarheidsgraad van water in die grond. Mnr Pretorius doen aan die hand dat 'n volledige navorsingstudie in dié verband uitgevoer word. Hy sê dat so 'n studie, met al die nodige hulpbronne tot 'n navorser se beskikking, maklik uitvoerbaar is.

    2. Mpumalanga

      1. Verskillende proefaanplantings – terugvoering

        Mnr Van Wyk sê dat bemesting en rywydte deel van die proefbehandeling onder besproeiing te Loskopdam is. Die proewe is heelwat later as in ander jare geplant en hoewel nog jonk, vertoon die aanplantings redelik goed. Stand­probleme kom by twee cultivars voor en die vermoede bestaan dat daar 'n "saadprobleem" was, aangesien dieselfde standpatroon oor die aanplantings voorkom.

        Vogbewaringsproewe met mielies na mielies en mielies na sojabone word te Kinross behartig, om opbrengs­vergelykings te doen. Hy verduidelik kortliks die wyse waarop sy vogbewaringsproewe gedoen word: deel x van 'n land word voor planttyd bewerk, terwyl deel y van dieselfde land onbewerk gelaat word en onkruid toegelaat word om te groei. Met planttyd word deel x weer bewerk en dan geplant, terwyl deel y se onkruid verwyder, bewerk en beplant word. Hy noem dat die plante van deel x aansienlik beter vertoon, onder andere aangesien vog beter bewaar is. Dr de Kock sê dat deel x ook 'n beter vogontvangs sou gehad het, omdat die grond twee keer bewerk is. Mnr van Wyk sê dat veral die groter produsente vóór planttyd gewoonlik baie meer aandag aan hul mielielande as hul sojaboonlande gee. Vandaar die rasionaal vir hierdie proef.

        Mnr van Wyk sê volgens mnr Olivier, wat die proewe te Kanhym behartig, is daar groot verskille tussen die proefgedeeltes wat geen bemesting ontvang het nie en dié wat gewone toedienings ontvang het.

        Loskopdam se proewe, waarvan die een onder besproeiing en die ander onder droëland is, vertoon uitsonderlik mooi. Die cultivarproef te Kinross het op 'n stadium onkruid­probleme gehad, aangesien die onkruiddoder oneffektief was. Die proef is nou skoongemaak en dit lyk goed.

        Die droëlandcultivarproef te Wonderfontein lyk baie goed. Die proef by Pannar se proefplaas op Delmas vertoon tans die heel beste.

      2. Produksiekostevergelyking tussen droëland mielies en sojabone asook droëbone

        Hierdie aangeleentheid word verskuif na Item 9.10.3.

    3. Noordwes provinsie

      1. Verskillende proefaanplantings – terugvoering

        Mnr Potgieter noem dat die proef wat MGK in Brits aangeplant het, baie mooi vertoon. Mnr Pretorius meld dat die proewe by die LNR-Instituut vir Industriële Gewasse, Rietgat (NWK) en Potchefstroom mooi lyk.

      2. Sojafabriek – Potchefstroom

        Die Voorsitter sê volgens sy inligting is die fabriek nog nie verkoop nie, hoewel dit nog sojaboonprodukte produseer. Aangesien daar geen ander inligting oor die toekoms van die sojafabriek in Potchefstroom is nie, staan die saak oor.

    4. Limpopo

      1. Springbokvlakte

        1. Opgaaf van onderskeie provinsies se voorligters in 'n poging om te bepaal wie die PNS behulpsaam kan wees

          Mnr van Wyk sê hy verwag om baie voorligters by die boeredag vir opkomende landbouers te Towoomba teen­woordig te hê en sal dan die lys finaliseer. Hy noem dat mnr de Beer heelwat cultivarproewe in die Limpopo provinsie saam met hom besoek het.

      2. Verskillende proefaanplantings

        Mnr van Wyk sê dat die proewe te Warmbad slegs na opkoms besproei is, waarna verdere besproeiing nie nodig was nie. By Palala vertoon die proewe met verskillende rywydtes, naamlik 45cm, 90cm en 1,5 meter ook goed. By Pontdrift en Weipe waar daar gepoog word om produsente na sojaboonproduksie oor te haal, het slegs een cultivar tot sy reg gekom, te wete die SCS1 langseisoencultivar wat in Zimbabwe ontwikkel is. Ander langseisoencultivars wat daar geplant is, het egter nie eers 'n halwe meter hoog gegroei nie.

        Mnr van Wyk noem dat, hoewel die proewe behoorlik met rhizobium geënt is, nie een plant se wortels rhizobium­nodules gehad het nie. Hy noem dat daar ook baie aartappels met hoë stikstofbemesting geplant word, wat waarskynlik baie stikstofresidue in die grond agterlaat. Daar is egter geen tekortsimptome by die plante aanwesig nie en die drag is besonder goed. Hy wys daarop dat die beweging van water in dié betrokke lande feitlik horisontaal is en daar dus geen loging moontlik is nie. Die kleipersentasie van die grond is bokant 35%.

        Mnr Killian sê dat hy in die Gamtoosvallei waargeneem het, dat plante "lui" raak in gronde waar te veel stikstof teenwoordig is. Op 'n vraag van mnr Agenbag, sê mnr van Wyk dat daar nie 'n molibdeentekort is nie, aangesien die pH-waardes van die grond bokant 7,5 is. Mnr Havenga noem dat by mnr John Fyvie in KwaZulu-Natal, ook geen nodules voorgekom het nie, alhoewel meer as 5 ton/ha gestroop is.

        Dr de Kock sê hy meen dat die hoë stikstofbemesting by aartappels is heel waarskynlik die rede vir die afwesigheid van rhizobiumnodules by die sojaboon-proewe.

        Mnr van Wyk sê by die Pontdrift-proef is 1 meter rye op 28 Oktober 2003 geplant, met 'n plantpopulasie van tussen 250 000 en 300 000 plante per hektaar. Op 29 Oktober 2003 is 40cm rye met 'n koringplanter op Weipe geplant. In beide gevalle is die plante besonder kort. Hy noem dat die LS555-cultivar wat in ander omstandighede hoë groeiers is, in hierdie geval kort gegroei het. Die enigste cultivar wat tot sy reg gekom het, is SCS1. Mnr Killian noem dat vogbeperkings by die aanvangsfase, soos by Cedara-proewe, kan veroorsaak dat die plantestand effens korter is.

    5. Vrystaat

      1. Proefaanplantings en samewerking tussen mnr Bramley en Pannar

        Mnr Pretorius het die PNS van 'n skrywe voorsien, waarin onder andere die samewerking tussen Pannar en mnr Bramley uiteengesit word: Volgens mnr Anthonie Jarvie (Pannar) plant Pannar nie sojaboonproewe in Bloem­fontein nie. Hierdie maatskappy het wel 'n proefplaas te Bainsvlei, waar hulle koringteel- en proefwerk doen. Pannar stel op hierdie stadium nie belang in die aanplant van sojabone in Bloemfontein nie. Die Voorsitter noem terloops dat mnr Killian 'n afspraak het om mnr Bramley die volgende dag te ontmoet.

      2. Oos-Vrystaat

        1. Rywydte proef

          Mnr Maree meld dat Verus se rywydte- en strookproewe te Kestell mooi lyk, maar dat hy nog nie 'n besoek by die Pannar-proewe te Harrismith kon aflê nie.

      3. Sentraal-, Noordwes- en Suidoos-Vrystaat

        1. Terugvoering ten opsigte van aanplantings te Glen

          Mnr Maree noem dat die besproeiingsproef op Glen besonder mooi is. Die droëlandproef het as gevolg van aanvanklike droogtes, korter gegroei. Die proewe is baie goed versorg.

        2. Algemeen

          Mnr Maree noem dat die ander proewe te Frankfort, Reitz en Ficksburg steeds baie mooi is, behalwe dié by die LNR-Kleingraan Instituut, wat baie droogtestremming gely het.

          Die Voorsitter noem dat sojabone wat by mnr Jaco van Niekerk in sandgrond onder besproeiing te Luckhoff aangeplant is, van die mooistes is wat hy nog gesien het. Hy spreek lof uit teenoor die LNR-IGG vir die twee cultivars (Egret en Stork) wat hierdie instituut ontwikkel het. Hy sê dat Egret sterk weerstand teen aalwurm toon, maar Stork nié. Hy meld dat mnr Killian binnekort 'n opvolgbesoek ná mnr Havenga aan mnr van Niekerk sal bring. Hy sê hy is van mening dat daar meer sojabone in dié gebied verbou sal word, indien hierdie aanplanting suksesvol is.

          Die Voorsitter noem dat daar volgens produsente in die gebied, besproeibare grond van ongeveer 18 000ha elk beskikbaar is in beide die Luckhoff en Koffiefontein-areas.

          Hy sê dat dit belangrik is dat alle betrokke partye hul bes doen om te sorg dat die aanplantings te Luckhoff 'n klinkende sukses is, sodat daar onder meer 'n suksesvolle inligtingsdag gehou kan word. Hy versoek mnr Pretorius dat hy en/of sy kollegas van die LNR-IGG die inligtingsdag sal bywoon, aangesien dit 'n potensiële uitbreidingsgebied vir sojaboonverbouing is.

          Mnr Maree noem dat blaarskade by 'n produsent tussen Aberfeldy en Afrikaskop voorgekom het. Dr Neil McLaren (LNR-IGG) het bevestig dat die skade deur onkruiddoder aangerig is.

    6. Oos-Kaap

      1. Projekaansoek – aankoop van stroper

        Mnr Grimbeek noem dat daar slegs kommersiële aan­plantings in die Oos-Kaap is. Mnr Killian noem dat 'n produsent in die Gamtoosvallei twee aanplantings sojabone van 12ha elk onder spilpunte geplant het. Die een aanplanting het sclerotinia opgedoen en sal in twee gedeel word. Elke gedeelte sal met 'n ander middel behandel word. Die aanplantings word egter nie as 'n proef hanteer nie.

    7. Suidwestelike Distrikte

      1. George omgewing

        Mnr Grimbeek noem dat die volledige nasionale cultivarproef wat vir OPOT by Outeniqua behartig word, goed lyk. Daar is vier verskillende plantdatumproewe met twaalf cultivars (aanvullende besproeiing); 'n populasie­proef met drie verskillende populasies (aanvullende besproeiing); en 'n vol-besproeiingsproef wat genoemde twaalf cultivars insluit. Tarentaalskade het ongelukkig veroorsaak dat die plantpopulasies by veral twee plantdatumproewe nie na wense is nie. Die proewe lyk andersins baie mooi. Dit het onlangs ook in die George-omgewing gereën.

    8. Gauteng

      1. Aanplantings

        Mnr van Wyk rapporteer oor die twee cultivarproewe te Petit en Pretoria Technikon. Laasgenoemde proef is as gevolg van wanbestuur, 'n mislukking. Die verant­woordelike persoon is ook met sy eie proefwerk besig, waaraan hy blykbaar die meeste van sy aandag spandeer. Aangesien niksseggende resultate daar behaal sal word, word dit oorweeg om dié proef vanjaar uit die nasionale proewe te verwyder. Dr de Kock stem saam dat hierdie proef onttrek word. Die Voorsitter doen aan die hand, dat mnr van Wyk 'n ander geskikte perseel in oorleg met mnr Pretorius moet vind, vir die verskuiwing van die proef.

        Mnr van Wyk noem dat die bemestingsproef te Bronk­horstspruit, waar heelwat verskille voorkom, vanjaar tot sy reg kom. By sekere plekke is daar baie tekort-simptome van sekere elemente, terwyl dit twee rye verder afwesig is. Grondmonsters is geneem om dit te probeer verklaar. Strookproewe vir na-opkomsbespuiting word met 'n aantal chemiese maatskappye se middels gedoen.

        Die statisties-uitgelegde proef te Hammanskraal met entstowwe behels 96 persele, waar 24 behandelings met 4 herhalings toegepas word. Die verskille kom baie duidelik na vore. Met minder as 10% klei in die gronde, is stikstofbinding baie goed en die rhizobiumpopulasie dus besonder hoog. Groot verskille word waargeneem waar daar met aanplanting molibdeen toege­dien en nié toegedien word nie. Beduidende standprobleme is met toediening van die een betrokke maatskappy se molibdeen ondervind.

        Dr Griessel noem dat dr Pieterse (Universiteit van Stellenbosch) saad met verskillende molibdeenvlakke behandel het. 'n Goeie verslag is beskikbaar hieromtrent. Hy stel voor dat daardie verslag bekom word. Dr de Kock voeg by dat mnr van Wyk met dr Staphorst (LNR-NIPB) in gesprek moet tree. Mnr Killian wil weet hoeveel natrium op die saad by mnr van Wyk se proewe voorkom. Hy sê dat dr Farina se proewe tot 1 gram/kg saad bevat het en geen ontkiemingsprobleme daarmee ondervind is nie. Hy sê dat die entstof verkieslik ná die natriummolibdeen toegedien moet word.

        Mnr van Wyk noem dat die entstof saam met die molibdeen gemeng en op die saad geënt is. Mnr Killian sê dat gekon­sentreerde natriummolibdeen met 'n kleefmiddel op 100kg saad-eenhede toegedien moet word, waarna die entstof toegedien word. Hy sê dat die gelyktydige toed­iening van entstof en natrium-molibdaat, die entstof­bakterieë kan beskadig. Mnr Havenga noem dat daar 'n proef in KwaZulu-Natal se suurgronde gedoen is, waar blaarbehandeling eerste gedoen is en molibdeen­toedienings daarna. Die blaarbehandeling was egter nie so effektief as die saadbehandeling nie. Mnr van Wyk noem dat hierdie opsie in een van sy proewe ondervang word.

        'n Gips- en onkruiddoderproef word ook by Hammanskraal hanteer. Die gipsproef wys tans nie groot verskille nie, maar daar behoort groter verskille in volgende jaar se proewe voor te kom. Die onkruiddoderproef is met Roundup Ready cultivars gedoen, waar goeie stikstof­binding voorgekom het. Groot verskille kom by hierdie proewe voor.

        Besluite:

        1. Dat mnr van Wyk 'n ander geskikte perseel in oorleg met mnr Pretorius moet vind, vir die verplasing van die cultivarproef wat by die Technikon Pretoria hanteer word.

          Mnr van Wyk

        2. Dat mnr van Wyk die verslag van dr Pieterse (Universiteit van Stellenbosch) moet probeer bekom, waarin resultate van saad met verskillende vlakke van molibdeen­behandelings aangeteken is.

          Mnr van Wyk

        3. Dat mnr van Wyk met dr Staphorst (LNR-NIPB) in gesprek moet tree oor die verskynsel dat tekortsimptome van sekere elemente, plek-plek by sy bemestingsproef te Bronkhorst-spruit voorkom.

          Mnr van Wyk

    9. Noord-Kaap

      Mnr Pretorius noem dat die strookproef te Rietrivier as gevolg van 'n gebrek aan toesig onsuksesvol was. Hy sê dat die cultivarproef goed vertoon.

    10. Algemeen

      1. Bespreking van sojaboonhandleiding – terug­voering vanaf Tegnologiekomitee

        Die Voorsitter noem dat die kommentaar op die LNR-IGG se sojaboonhandleiding by die Tegnologiekomitee bespreek is. Die komitee was van mening dat sekere kommentaar moontlik geakkommodeer sou kon word, hoewel geen kommentaar van 'n kritiese aard was nie. Die komitee het dus besluit dat die handleiding nie herdruk sal word, indien die huidige oplaag nog voldoende is nie. Hy sê dat die oplaag tans uit 800 Engelse en 400 Afrikaanse uitgawes bestaan, met 'n waarde van ten minste R6 000. Indien 'n tweede oplaag gedruk moet word, sal die komitee die insette in oorweging neem.

      2. Biodiesel – terugvoering

        Die Voorsitter noem dat Sasol binne enkele dae 'n besluit moet neem oor die aanwending van sojabone vir brand­stof­doeleindes. Die saak staan oor.

      3. Produksiekostevergelyking tussen droëland mielies en sojabone asook droëbone

        Die Voorsitter bedank almal wat insette gelewer het om die inligting ten opsigte van insetkoste vir die onderskeie gewasse, tot die Sojawerkgroep se beskikking te stel. Dr Griessel doen aan die hand dat die onderskeie silo-eienaars/koöperasies se inligting na mnr Deon Joubert verwys word, vir advies hoe om sinvolle, vergelykbare afleidings daaruit te maak.

        Besluit:

        1. Dat die onderskeie silo-eienaars/koöperasies se inligting ten opsigte van insetkostes van gewasse, na mnr Deon Joubert verwys word vir advies hoe om sinvolle, verge­lykbare afleidings daaruit te maak.

          Mnr Keun

  10. Nasionale cultivarproewe

    1. Cultivarevaluasiekomiteevergadering – verslag

      Die verslag van die nasionale sojabooncultivarproewe van die Cultivarevaluasiekomitee, onder leiding van die LNR-IGG, is by die sakelys ingebind. Dr de Kock wys op die "aalwurmgasheerstatus" van cultivars, wat ook in die verslag aangetoon word. Die Voorsitter doen 'n beroep op die Kontrakteurs om die handleiding te gebruik en om die cultivarproewe in hul gebiede doeltreffend te bestuur. Hy sê hy sal met dr Louw onderhandel, dat iemand beheer neem van die proewe in KwaZulu-Natal.

      Besluite:

      1. Dat die PNS-Kontrakteurs die LNR se sojaboon cultivarproewe-verslag ten opsigte van 2002/2003 gebruik en dat hulle die cultivarproewe in hul gebiede doeltreffend moet bestuur.

        Kontrakteurs

      2. Dat die Voorsitter met dr Louw sal onderhandel, om iemand in beheer te plaas van die proewe in KwaZulu-Natal.

        Voorsitter

  11. Saad

    Die aangeleentheid staan oor.

  12. NAMPO-Oesdag

    Dr de Kock bevestig dat die PNS Raad goedkeuring verleen het, dat die PNS stalletjie by NAMPO-oesdag mag voortgaan. Diensbeurte sal tydens die Kontrakteurs- en Medewerkerswerkgroep vergadering uitgedeel word.

  13. Navorsing

    1. Roes

      Mnr Killian noem dat daar op 21 Januarie roes by die eerste plantdatumproewe in die omgewings van Winterton, Bergville en Cedara waargeneem is. Op die roes­cultivarproef is daar ses roesweerstandbiedende lyne deur Syngenta ingeskryf. Twee van die lyne is vinnig en sal moontlik binne 'n week oesgereed wees. By plantdatum 1 (17 September 2003) is roes op 27 Januarie 2004 by die R5-stadium waargeneem. Hy skets die situasie as volg:

      Plantdatum kode Plantdatum Roes waargeneem Groeistadium
      P1 17-09-2003 27-01-2004 R5
      P2 08-10-2003 30-01-2004 R3
      P3 29-10-2003 09-02-2004 R3
      P4 19-11-2003 17-02-2004 R3
      P5 19-12-2003 22-02-2004 R2
      P6 30-12-2003 * *
      P7 20-01-2004 * *
      * Nog nie roes waargeneem tot op datum nie.
      R1 Een oop blom op enige node op die hoofstam.
      R2 Oop blom by een van twee van die boonste nodes op die hoofstam, met vol-ontwikkelde blaar.
      R3 Peul 3/16" lank by een van die vier boonste nodes op die hoofstam, met vol-ontwikkelde blaar.
      R4 Peul 3/4" lank by een van die vier boonste nodes op die hoofstam, met vol-ontwikkelde blaar.
      R5 Saad begin ontwikkel in 'n peul by een van die vier boonste nodes op die hoofstam.
      R6 Peul bevat groen saad wat die peulholte vul by een van die vier boonste nodes op die hoofstam.
      R7 Een normale peul op die hoofstam wat 'n volwasse kleur bereik het.
      R8 95% van die peule het 'n volwasse kleur bereik.

      Dr de Kock verneem of die cultivars wat Syngenta in samewerking met Seedco te Cedara geplant het, dieselfde is as dié wat in Zimbabwe geplant is en indien wel, hoe dit hier plaaslik reageer. Mnr Killian bevestig dat die twee "vinnige groeier" cultivars wel van Zimbabwe afkomstig is. Hy noem dat hulle ongeveer 'n maand vinniger as Carnia 5550 en baie bestand teen roes is.

      Dr Griessel vra of die saad wat mnr de Lange van Amerika ingebring het, aangeplant is. Mnr Pretorius noem dat dit wel plaaslik geplant is, maar nie oor veel kennis daarvan beskik nie. Die Voorsitter versoek mnr Pretorius om te gelegener tyd terugvoering te gee oor hierdie cultivars vanuit Amerika. Dr Griessel stel die vraag of die afleiding gemaak kan word dat die twee cultivars roesbestand is, gegewe die feit dat roes dié jaar so laat voorgekom het en die cultivars dus nie aan roes blootgestel is nie. Mnr Killian bevestig dat die vinniger lyne wel die roes kon ontsnap het.

      Mnr Killian noem dat prof Steyn van Stimuplant hom gekontak het oor 'n b.rus-bakterie wat hy wil gebruik, vir beheer van roes op sojabone. Volgens hom beheer b.rus ook antraknose op ander gewasse. Hy sê dat hy aanbeveel het dat prof Steyn met Cedara kontak moet maak, wat die beste daarvoor ingerig is. Mnr van Wyk sê dat hy ook hierdie en ander bakterieë by sy proefwerk ingesluit het, waarop waarnemings ten opsigte van verskeie siektes gedoen kan word.

      Die Voorsitter doen aan die hand dat dr de Kock met prof Steyn in gesprek tree oor laasgenoemde se gesprek met mnr Killian oor die beheer van onder andere roes by sojabone en antraknose by ander gewasse met behulp van die b.rus-bakterie. Dr Griessel sê dat die aangeleentheid ook na die Roestaakspan verwys kan word.

      Besluit:

      1. Dat dr de Kock met prof Steyn in gesprek moet tree oor laasgenoemde se gesprek met mnr Killian oor die beheer van onder andere roes by sojabone en antraknose by ander gewasse met behulp van die b.rus-bakterie.

        Dr de Kock

    2. Sclerotinia

      1. Proefwerk – Dr McLaren en mnr Killian: terugvoering, vergadering van 23 September 2003

        Inligting oor die sclerotinia-proef te Bergville is by die sakelys ingebind.

        Dr Griessel sê dat hy mnr Van der Westhuizen se protokol nagegaan het en dat dit jammer is dat sclerotinia so erg in die Bergville-area uitgebreek het sodat korrektiewe behandeling toegepas moet word. Hy sê buiten Sumislex, behoort ten minste twee ander middels vir die beheer van die siekte aangewend te gewees het.

    3. Aalwurmnavorsing

      Mnr Havenga meld dat aalwurmbesmetting, veral by nuwe uitbreidings, 'n redelike groot probleem mag word – soos by die Luckhoff-gebied waar sojabone in sanderige grond verbou word en in die Sterkriviergebied by Potgietersrus. Hy noem dat daar tans geen middel vir aalwurm op sojabone geregistreer is nie. Hy sê volgens dr Driekie Fourie het sy proewe met twee aalwurmbeheermiddels en 'n berokingsmiddel op aalwurm gedoen. Die Registrateur wil egter nie die twee middels, waarmee goeie resultate behaal is, vir dié doel registreer nie.

      Hy noem dat dr Fourie egter nie verdere studies gedoen het met beskikbare middels vir blaarbespuiting nie, hoewel produsente dit wel "in die veld" gebruik. Hierdie middels is wel vir aanwending op groente geregistreer. Hy sê dat sekere cultivars weerstandbiedendheid teen aalwurm het, hoewel selfs dr Fourie die volhoubaarheid van weerstand teen hoë populasies bevraagteken. Hy stel die vraag of die PNS in samewerking met gifstofmaatskappye, nie dalk 'n ondersoek na die mees doeltreffende middels teen aalwurmbesmetting moet inisieer nie.

      Dr de Kock noem dat die Sojawerkgroep sowat twee jaar gelede ook waarskuwings oor aalwurmbesmetting gerig het. Daaruit voortspruitend het hierdie werkgroep 'n punt daarvan gemaak om dit gereeld met die LNR-IGG op te volg, om seker te maak dat aalwurmweerstandbiedendheid as 'n hooffaktor in die teelprogram ingesluit word. Spesifieke merkers vir die weerstandbiedende gene is vir die aalwurmsoorte M. incognita ras 2 en M. javanica ontwikkel ten einde dit met groter gemak by die programme te kon insluit. Befondsing hiervoor is vantevore aan die LNR-IGG toegeken.

      Dr de Kock noem dat een van die hoofmikpunte in die teelprogram van dr de Lange, tans is om te sorg dat aalwurmweerstand in nuwe cultivars ingebou word. Beroking is egter 'n baie duur metode. Hy doen aan die hand dat, indien die LNR-IGG reken dat daar voldoende motivering vir 'n projek is, dit aan die PNS voorgelê behoort te word.

      Besluit:

      1. Dat, indien die LNR-IGG reken dat daar genoeg motivering vir aalwurmbestryding by sojabone bestaan, die Instituut 'n voorlegging aan die PNS behoort te doen.

        Mnr Pretorius

  14. Sojaforum

    1. Terugvoering van vergadering van Sonneblom- en Sojaboonforum

      Die Sonneblom- en Sojaboonforumvergadering, geske­duleer vir 16 Februarie 2004, is afgestel.

    2. Sake om na die volgende Forum te verwys

      Geen sake word na die Sonneblom- en Sojaboonforum verwys nie.

  15. Ander sake

    1. Inligtingsdae 2004 – terugvoering

      Mnr van Wyk noem dat die studiegroepvergadering wat aanvanklik vir 4 Maart geskeduleer was, reeds op 3 Februarie in die noorde van Limpopo (Pontdrift en Weipe) gehou is. Daar was baie produsente teenwoordig. Die proewe, wat nie voldoende hoogte bereik het nie, is aan hulle getoon en hulle is meegedeel dat terugrapportering ten opsigte van veral opbrengste sal geskied.

      Mnr van Wyk noem dat daar op 9 en 16 Februarie 2004 inligtingsdae by Zenzele gehou is, met groot belangstelling onder die belanghebbendes. Op 9 Februarie was 'n persoon van Soygro teenwoordig en op 16 Februarie was prof Steyn van Stimuplant teenwoordig. Hy sê dat daar eerder 'n klein groepie belanghebbende individue geselekteer moet word om boeredae vir opkomende landbouers by te woon, as wat 'n groot aantal mense die doel versteur.

      Die Voorsitter bevestig 'n vorige besluit, dat die PNS vooraf in kennis gestel moet word van inligtingsdae en die inhoud van die sakelyste.

      Mnr Pretorius rapporteer dat die LNR-IGG se inligtingsdag relatief swak bygewoon is, wat deels aan die reën toegeskryf kan word. Dr de Kock noem dat meer as 200 mense die dag bygewoon het, waarvan die reëlings goed was. Hy noem dat die Instituut puik en relevante aanbiedings gelewer het en dat veral dr Nel se lesing oor wisselbou wat sojabone insluit, baie belangstelling gewek het. Hy beveel aan dat die LNR-IGG dit moet oorweeg om dr Nel se lesing in die SA Graan tydskrif te laat publiseer.

      Mnre Maree en Potgieter sê dat hulle nog geen inlig­tingsdae geskeduleer het nie.

      Mnr Grimbeek noem dat 'n sojaboon-inligtingsdag op 25 Maart te Patensie gehou sal word. Sojaboon-inligtingsdae sal ook gedurende April in Outeniqua en Riversdal gehou word. Mnr Killian sê dat produsente tydens boere­verenigingsdae in Alexandria en Bathurst aangedui het dat hulle ook die inligtingsdag te Patensie wil bywoon. Hy vra goedkeuring van die vergadering om 'n minibussie vir dié doel te huur. Die Voorsitter sê dat dit in orde is.

      Mnr Havenga sê dat hy 'n boeredag gedurende April te Luckhoff wil reël.

      Die Voorsitter noem dat die Sclerotiniawerkgroep op 17 of 28 September 2004 sal vergader.

      Besluite:

      1. Dat kennis geneem word van inligtingsdag wat op 4 Maart 2004 te Towoomba gehou sal word.
      2. Dat die LNR-IGG aangemoedig word om dr Nel se lesing tydens die afgelope LNR-IGG boeredag oor wisselbou met sojabone, in die SA Graan tydskrif te laat publiseer.
      3. Dat kennis geneem word van die sojaboon-inligtingsdag wat op 25 Maart te Patensie gehou sal word en dat Sojaboon-inligtingsdae gedurende April in Outeniqua en Riversdal gehou sal word.
      4. Dat mnr Killian 'n minibussie mag huur om produsente van Alexandria en Bathurst na die sojabooninligtingsdag van 25 Maart te Patensie te vervoer.
      5. Dat kennis geneem word van mnr Havenga se boeredag wat gedurende April te Luckhoff aangebied sal word.
      6. Dat kennis geneem word van die Sclerotiniawerkgroep se vergadering wat op 17 of 28 September 2004 sal plaasvind.
      7. Dat kennis geneem word van die Supersojakompetisie wat vir 14 en 15 September 2004 geskeduleer is.
      8. Dat kennis geneem word van die NAMPO-oesdag wat vanaf 18 tot 21 Mei 2004 in Bothaville sal plaasvind.
      9. Dat die kontrakteurs en medewerkers alle toepaslike uitstaande datums so gou doenlik aan mnr Keun moet verskaf.
      10. Dat mnr du Plessis van me Eve du Preez moet verneem vir watter datum die roesdag te Cedara beplan word.
  16. Toevoegings tot sakelys

    1. Roundup Ready: e-pos

      Die Voorsitter verwys na 'n artikel wat mnr Kevin Nel (Nedan Oil Mills) per e-pos onder sy aandag gebring het. Die artikel werp negatiewe projeksies oor Roundup Ready (GM) sojabone in Argentinië. Hy sê dat hy die artikel aan mnr Kobus Lindeque (Monsanto) gestuur het, wat met sy Amerikaanse kollegas daaroor in gesprek getree het.

      Mnr Bennett noem dat Monsanto die verkope van Roundup Ready saad in Argentinië gestaak het, omdat teruggehoude saad baie verliese vir die maatskappy tot gevolg gehad het. Hy wys daarop dat daar ongeveer 14 miljoen ha onder sojabone in dié land verbou word, waarvan ongeveer 85% met teruggehoude saad beplant word. Monsanto se saadproduksieprogram aldaar is gevolglik vir die afgelope drie of vier jaar teen 'n verlies bedryf. Die Argentynse regering het intussen ingestem om iets aan die situasie te doen.

      Hy sê sy raming is dat daar selfs in Suid-Afrika, tussen 60% en 70% Roundup Ready sojaboonsaad teruggehou word. Hy noem dat Monsanto 'n stelsel in Suid-Afrika geïmplementeer het om die verbouing van Roundup Ready sojabone meer ekonomies te maak en dat Monsanto hom steeds tot die plaaslike bedryf verbind.

      Mnr Potgieter sê dat die terughouding van Roundup Ready saad tydens Graan SA se onlangse werkgroepvergadering bespreek is en dat hierdie wanpraktyk bloot vanuit ekonomiese oorwegings gedoen word.

  17. Datum van volgende vergadering

    Die volgende Sojawerkgroepvergadering is vir 4 Mei 2004 geskeduleer.

  18. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank die lede vir hulle teenwoordigheid en bydraes en verdaag die vergadering om 13:00.