- 7 DESEMBER 2004
- 6 OKTOBER 2006
- 5 AUGUSTUS 2004
- 4 MEI 2004
- 2 MAART 2004
- 27 JANUARIE 2004
Notule
Sojawerkgroepvergadering
gehou om 10h00 op 5 Augustus 2004 in die PNS-Raadsaal te Rivonia
Opening
Die vergadering word deur mnr Potgieter met gebed geopen.
Verwelkoming
Die Voorsitter, mnr GJH Scholtemeijer, heet almal teenwoordig welkom.
Presensie
Teenwoordig
Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter) Dr J de Kock PNS Dr M Griessel PNS Mnr L Killian PNS-Kontrakteur Mnr WF van Wyk PNS-Kontrakteur Mnr CL Grimbeek PNS-Kontrakteur Mnr E Maree PNS-Kontrakteur Mnr FAS Potgieter Graan SA Mnr AJ Pretorius LNR-IGG Dr N McLaren LNR-IGG Me M Scheepers Nasionale Departement van Landbou Mnr H Agenbag PNS-Kontrakteur Mnr KF Lawrance Departement Landbou- en Omgewingsake, KZN Mnr ID Lamprecht Departement Landbou en Grond-administrasie, Mpumalanga Mnr GW Bührmann GW Bührmann Saad Mnr P Lubbe Agriocare Mnr L Weber MGK Mnr G Keun OPOT Mnr N Fouché Sekretariaat Verskonings
Mnr NJ Vermaak Graan SA Mnr C Havenga Agriocare Mnr CJ du Plessis PNS Mnr AJ van Vuuren NWK Beperk Dr BJ Willemse SA Sojavoedselvereniging Mnr GP de Beer LNR-IGG Mnr B de Klerk Senwes Mev R Beukes Nasionale Departement van Landbou
Personalia
Die vergadering neem met leedwese kennis van die heengaan van dr De Kock se seun. Daar word ook met deernis kennis geneem van dr Louw (Departement van Landbou: KwaZulu-Natal) se verslegtende siektetoestand.
Vasstelling van die sakelys
Die sakelys word aanvaar, met die wysiging en toevoeging van die volgende besprekingspunte:
- Item 9.6.1 – gewysig na "Projekaansoek – aankoop van planter"
- Item 10.2 – gewysig na "Proefbesoekverslag"
- Item 13.1 – gewysig na "Bywoning van sojaboonkongres
- Item 9.10.3 – Sleepstroper
- Item 10.3.3 – Sojaboonroes: Verslag, dr N McLaren
- Item 10.3.4 – Skrywe, Monsanto: Roes
Notule van die vergadering van 5 Augustus 2004
Die notule is goedgekeur.
Algemene oorsig
Mnr Pretorius noem dat die vorige besluit (No. 7.1.2.1 van 4 Mei 2004) geneem is omdat die algemene stelling gemaak is dat sojabone beter as mielies presteer, terwyl so 'n vergelyking nie moontlik is indien die plantdatum en ander omstandighede ten opsigte van die gewasse nie ooreenstem nie.
Mnr Weber sê dat die vroeë mielies baie beter (tot 12 ton/ha) as al die ander gewasse presteer. Vanjaar se vooruitskouing is dat laatmielies in die MGK-gebied slegs 8 ton/ha sal behaal. Hierdie mielies word saam met sojabone ná die koringoes geplant. Omdat sojaboonmarges tans gunstiger as mieliemarges is, word daar voorsien dat slegs sojabone ná koring geplant sal word. Tradisioneel word daar in die MGK-gebied sojabone ná koring geplant, maar wanneer mielie-pryse gunstiger is, word sojabone met mielies vervang. Verlede jaar het die meeste produsente egter verkies om sonneblom te plant, omdat daar droogte-toestande geheers het en die risiko met sonneblom laer in droogtetoestande is. Hy meld dat daar toenemend ernsige siekteprobleme met laat mielies ervaar word, soos blaarskroei by die Amerikaanse kort groeiers.
Mnr Killian noem dat plantdatum deesdae nie meer so 'n groot probleem met die beskikbaarheid van vinnige mieliebasters is nie. Hy sê dat dit baie algemeen vir KwaZulu-Natal is om in Desember mielies te plant en steeds 8 tot 10 ton/ha te behaal, soos in Winterton / Bergville / Karkloof. Hy noem dat sojaboonopbrengste daal indien dit na koring geplant word.
Mnr Lubbe noem dat hy beswaarlik 8 ton/ha behaal en dat vanjaar 4 ton/ha sojabone gestroop is – met 'n hoër winsmarge vir sojabone bo mielies. Hy sê dat baie produsente as gevolg van die lae mieliepryse beswaarlik finansiering gaan kry. Navraag is uit die Aliwal-Noord gebied ontvang, vir die aanplant van sojabone onder besproeiing.
Mnr Pretorius doen aan die hand dat produsente steeds van die voordele van wisselbou en die effek daarvan op winsgewendheid bewus gemaak moet word.
Provinsies
KwaZulu-Natal
Mnr Lubbe noem dat hy onlangs 'n besoek van Argentynse beleggers gehad het, wat daarin belangstel om in 'n landbou land soos Suid-Afrika te belê. Nadat mnr Lubbe hulle rond gewys het, was hulle aangenaam verras om te sien dat ons lande net so skoon gehou word met konvensionele onkruiddoders, as hulle met Roundup. Hulle het ook belanggestel om Suid-Afrikaanse entstofprodukte te bekom en was ook beïndruk met Egret. Hierdie beleggers beplan om in die komende seisoen, met die hulp van kontrakteurs, sowat 1 500ha sojabone in die Newcastle / Normandien-gebied te plant. Hy noem dat hy vroeg in September as 'n gas na Argentinië vertrek. Volgens hierdie Argentyne is ongeveer 95% sojabone in hulle land Roundup Ready en geskied al hulle verhandelings in dollar-terme op die Chicago beurs.
Mpumalanga
Mnr Van Wyk rapporteer dat heelwat produsente baie goeie opbrengste behaal het. In die Kinross / Ogies gebied is daar tussen 2,4 en 2,7 ton/ha gestroop, terwyl 'n produsent in Middelburg selfs 3,5 ton/ha gerealiseer het. Die gemiddelde opbrengs vir die gebied is deur sclerotinia verlaag, veral in die Kinross en Bethal distrikte. Die siekte is deur goeie reëns sedert Februarie aangehelp.
Dr McLaren noem dat die roes wat in die Ermelo-omgewing bevestig is, nie noemenswaardig is nie. Mnr Lubbe sê volgens sy waarnemings kry ultra-kort sojabone minder skade met sclerotinia as langer groeiers. Dr McLaren bevestig dat die korter groeiers heel waarskynlik in 'n warmer periode sal blom as die langer groeiers.
In antwoord op 'n vraag van die Voorsitter, sê dr McLaren dat hy 'n ultra-kort sojabooncultivar by sy sclerotinia-proef kan insluit. Mnr Lubbe sê dat hy saad aan dr McLaren beskikbaar kan stel vir die doel.
Besluit:
- Dat mnr Lubbe saad van 'n ultra-kort sojabooncultivar aan dr McLaren beskikbaar sal stel vir insluiting by sy sclerotinia-proef.
Mnr Lubbe
- Dat mnr Lubbe saad van 'n ultra-kort sojabooncultivar aan dr McLaren beskikbaar sal stel vir insluiting by sy sclerotinia-proef.
Noordwes
Mnr Potgieter noem dat toestande steeds gunstig lyk. Mnr Weber sê dat die aanvanklike warm en droë toestande tot gevolg gehad het dat die sojabone nie hoog gegroei het nie, maar dat dit beter geskiet het as wat verwag is en beslis beter opbrengste gelewer het. Hy noem dat sojabone in die Hoëveld meer geneig is om in sy koeler omstandighede sclerotinia te kry, as wat die geval in die Noordwes Provinsie is. Hy doen aan die hand dat gewasrotasie veral in die Hoëveldgebiede beklemtoon word. Sojabone na droëbone en / of sonneblomme is byvoorbeeld nie wenslik nie.
Mnr Pretorius waarsku dat 'n algemene stelling nie moet posvat dat sclerotinia slegs in koue gebiede voorkom nie. Vanjaar is sclerotinia byvoorbeeld ook in Hopetown gevind. Dr McLaren noem dat sojabone onder besproeiing 'n koeler mikroklimaat onder die blaredak veroorsaak, wat bevorderlik vir sclerotinia is.
Limpopo
Mnr Weber noem dat 'n tabakboer by Sterkrivier (naby Potgietersrus) 'n geslaagde proefneming met sojabone gedoen het en ongeveer 3,5 ton/ha behaal het. Mnr Lubbe sê hy verwag dat daar 'n toenemende belangstelling na sojabone in die Palala-gebied sal wees, as gevolg van probleme met tabak. Mnr Bührmann sê dat onbepaalde groeiers besonder vatbaar vir sclerotinia is en dat heelwat oeste in Ohrigstad heeltemal vernietig is.
Mnr Lubbe noem dat hy eersdaags met produsente in die Springbokvlakte gaan gesels, wat rondom 15 tot 20 Augustus vinnige groeiers as kommersiële proewe onder spilpunt wil plant. Hy sê hy voorsien dat hierdie produsente twee oeste gedurende die komende seisoen sal kan afhaal.
Mnr Weber sê hy raai produsente aan om nie voor 1 November te plant nie, aangesien die sojabone te vroeg sal blom. Omdat die dagliglengte in September baie ooreenstem met dié in Februarie, blom vroeë sojabone gewoonlik voortydig.
Mnr Lubbe noem dat 'n handgeplante proef in Memel aan die einde van Januarie, meer as 1 ton/ha gelewer het. Die spesifieke cultivar begin vanaf 5½ tot 6 weke te blom. In Newcastle / Normandien is dié cultivar op 15 September geplant en is die oes op 15 Januarie gelewer. In die vorige seisoen, toe baie droë toestande ondervind is, is die cultivar na slegs drie maande geoes en is 'n opbrengs van 1,4 ton/ha behaal.
Noord-Kaap
Geen rapportering.
Vrystaat
Mnr Maree noem dat die Oostelike dele goed en die Suidelike dele baie swak presteer het. Tot 5 ton/ha is op die stropers se monitors waargeneem. 'n Betrokke land van 60 hektaar in die Kestell / Aberfeldy-gebied het gemiddeld 3,9 ton/ha gerealiseer. Tot by Warden (Vrede uitgesluit) is die gemiddelde oes 2,8 tot 3,1 ton/ha.
Mnr Lubbe noem dat die artikel oor die Egret-cultivar geskryf is en hopelik in die komende uitgawe van die SA Graan gepubliseer sal word.
Mnr Pretorius noem dat cultivars tans geïdentifiseer word om produsente in die besproeiingsgebiede van die Suidwestelike Vrystaat behulpsaam te wees en dat inligting daaroor in 'n toepaslike blad bekendgemaak sal word.
Dr De Kock meld dat hy en dr Nel met mnr Jaco van Niekerk in gesprek was om 'n sojaboon- en selfs ook 'n canolacultivarproef in die Suidwes Vrystaat te vestig. Mnr Van Niekerk het egter aangedui dat hy in die huidige jaar nie 'n cultivarproef sou kon behartig nie, maar wel 'n strookdemonstrasieproef.
Mnr Pretorius noem dat die Rietrivierprojek nie verskuif sal word nie.
Oos-Kaap
Mnr Killian noem dat mnr Rautenbach in die Gamtoosvallei sowat 20 tot 30 hektaar sojabone onder spilpunt geplant en gemiddeld 3,5 ton/ha gestroop het. Hy sê dat die Roundup Ready cultivar A5409 wat hier aangeplant is, 'n matige opbrengspotensiaal het. Die rywydte (45cm) en saaidigtheid was aanvaarbaar.
Mnr Killian noem dat 'n fabriek (Fat Belly) wat in Oos-Londen opgerig is, reeds produsente in Maclear gekontrakteer het om sojabone te lewer. Mnr Lubbe sê daar word beplan om jaarliks proewe in die Ugie / MacLear area te plant, soortgelyk aan dié wat mnr Jaco van Niekerk doen.
Suidwestelike Distrikte
Geen nuwe inligting is bekend nie.
Gauteng
Geen nuwe inligting is bekend nie.
Oesskatting
Oes- en oppervlakteskatting ten opsigte van Limpopo, Noordwes Provinsie en die Vrystaat
Me Scheepers noem dat 'n "benchmark" deur die Oesskattingskakelkomitee gestel is, dat die Oesskattingskomitee nie meer as 5% van die SAGIS-lewerings behoort af te wyk nie. Sy noem dat die SAGIS-lewering teen einde Mei 2004 heelwat hoër as die Oesskattingskomitee se skatting was. Nadat 'n ondersoek geloods is, het die oesskattingskomitee die oppervlaktes van beide die Vrystaat en Noordwes aangepas. Mnr Pretorius sê dat selfs mielies onderskat was, as gevolg van 'n moeilik-voorspelbare seisoen.
Mnr Maree sê hy is van mening dat Vrystaat se gemiddelde opbrengs per hektaar soos deur die Oesskattingskomitee gekwoteer, te laag is. Hy voeg by dat daar hoofsaaklik as gevolg van die droogte, heelwat hektare vir sojabone gereserveer is, wat nooit geplant is nie. Insgelyks was sekere gebiede in die Oos-Vrystaat soos tussen Vrede en Frankfort, te nat om te plant. Dr Griessel wys daarop dat die vorige jaar se nasionale gemiddelde sojaboonopbrengs 1,36 ton/ha was, vergeleke met die gemiddelde 1,70 ton/ha wat die Oesskattingskomitee vir hierdie jaar bekend gemaak het.
Mnr Lubbe sê dat daar in die gebiede van Frankfort, Reitz, Warden, Memel, Vrede en Ascent swakker opbrengste was. Produsente in dié gebiede het minder as 1 ton/ha behaal en kan nie hulle volle kwotas lewer nie.
Mnr Pretorius sê volgens inligting wat die Oesskattingskomitee van produsente ontvang het, het hierdie komitee besef dat die produksie sowel as die oppervlakte aangepas moes word.
Mnr Killian meld dat daar 250ha sojabone in die Oos-Kaap geplant is, wat in ongeveer 600 ton gerealiseer het. Hy noem dat die Oesskattingskomitee se gekwoteerde 75ha in die Gamtoosvallei geplant is, dat nog ongeveer 100ha in die Maclear area en ongeveer 75ha te Elliott geplant is.
Mnr Potgieter wys daarop dat SAGIS se leweringsyfer vir Noordwes teen einde Mei op 22 600 ton gestaan het, in teenstelling met die Oesskattingskomitee se gekwoteerde 13 800 ton. Hy voeg by dat dit kwalik denkbaar is dat so 'n groot oes alleenlik in die Noordwes provinsie geproduseer kon wees. Dié syfer sluit moontlik 'n deel van Limpopo se oes in.
Mnr Pretorius sê dat inligting oor sojaboonlewerings by die onderskeie silo's, meer lig sou kon werp oor die provinsiale indeling van sojaboonlewerings. Die Voorsitter doen aan die hand, dat die Oesskattingskomitee inligting hieroor van die Graan Silo Industrie (GSI) aanvra. Me Scheepers sê dat GSI haar na MGK en Prodsure verwys het, wat ook nie behulpsaam kon wees nie.
Mnr Weber sê dat die graansilo-operateurs veronderstel is om rekord te hou van aanplantings in hulle leweringsgebiede. Hy voeg by dat slegs die silo's te Rustenburg, Brits en Northam sojabone hanteer. Hy sê dat die MGK vroeër jare byna die hele streek se produksie ontvang het, maar dat 'n groot deel daarvan deesdae deur kopers uit ander gebiede gekoop en weggery word.
Weer- en klimaatsvooruitskouing vanaf GSA
Die vergadering neem met dank kennis van die vooruitskouings wat deur Graan SA beskikbaar gestel en in die sakelys vervat is.
Mikpunte: 2005, 2010 en 2020
Drie-jaar vooruitskatting
Die Voorsitter noem dat die PNS, uit hoofde van hierdie werkgroep se insette gedurende 2003, produksiemikpunte vir die onderskeie gebiede gestel het. Vir die 2005-plantseisoen is 'n mikpunt van 150 000ha gestel. Mnr Potgieter sê dat Graan SA produsente aanraai om minder mielies en meer sojabone en grondbone aan te plant. Graan SA het aangedui dat die PNS se mikpunt vir 2005, 150 000ha is. Die Voorsitter noem dat die markruimte egter aansienlik hoër is. Mnr Lubbe sê op grond van die wye reaksie na aanleiding van die artikels wat Agriocare geplaas het, is hy optimisties dat die mikpunt behaal sal kan word. Mnr Bührmann sê dat dit noodsaaklik is om voort te gaan met boeredae en advertensies om sojaboon-produksie aan te moedig. Die Voorsitter sê die gevolgtrekking is dat die 2005-mikpunt van 150 000ha onveranderd gelaat moet word.
Besluit:
- Dat die nasionale mikpunt onveranderd gelaat word, op 150 000 hektaar soja-boonaanplantings vir die 2005-plantseisoen.
Markaangeleenthede
Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik
Dr Griessel deel die jongste afgeleide pryse met die vergadering. Ondergenoemde gelande prys en wisselkoers is soos op 4 Augustus 2004. Hy beklemtoon die feit dat die pryse van sojabone geland te Durban, sedert Mei 2004 met sowat R820/ton gedaal het. Dit was op daardie stadium R2 638/ton, teenoor die gemiddelde prys vir die volgende 12 maande van R1 818/ton. Hy wys daarop dat die effek van die wisselkoers kleiner is as die ander markfaktore.
Dr Griessel gaan voort om aan te haal uit die "Oil World" tydskrif van 30 Junie 2004, waaruit dit blyk dat hoewel die wêreldverbruik toeneem en wêreldvoorrade afneem, die pryse aanhou daal. Dit geld vir mielies sowel as sojabone.
Dr Griessel meld verder dat die sojaboon-wêreldproduksie vir die 2004/2005-seisoen op 215 miljoen ton geraam word, teenoor die 186 miljoen ton vir die 2003/2004-seisoen. Hierdie jaar se eindvoorraad is 10 miljoen ton meer as dié van die vorige jaar. Die persentasie voorraad teenoor verbruik was op sy laagste in 2003/2004, naamlik 20,6% teenoor die 23,8% vir 2004/2005.
Volgens die "Oil World", het sojaboon-oesvooruitsigte vir Suid-Amerika as gevolg van die Asiese roesfungus afgeneem. Dit lei tot hoër produksiekoste en verhoog die risiko vir opbrengsverliese. Dit verminder die mededingingsvermoë van sojabone en sal twee belangrike gevolge hê, naamlik:
- die potensiële sojaboon-opbrengste per hektaar sal selfs in die geval van gunstige weerstoestande laer as die potensiaal wees in 2005 en
- produsente in Argentinië sal moontlik minder sojabone saai vir die 2005-oes en produsente in Brasilië sal hulle uitbreiding verlangsaam.
Dr Griessel sê dat bogenoemde markinligting ekonomies-gewys nie versoenbaar is met die feit, dat pryse bly daal nie.
Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban soos op 4 Augustus 2004 Verskeping: R1 818 | Wisselkoers: R6.29/US$ Geland Durban 47% proteïen oliekoek 1 818.00 Spoorvrag na Randfontein 150.00 1 968.00 Waarde van volvetsoja 110% R2 165.00 Prys aan produsent vir boontjies 1 667.00 – Vervoerkoste na volvet-aanleg 70.00 – Stoorkoste 60.00 – Rente 15% (6 maande) 135.00 – Ekstrusiekoste 130.00 – 5% ekstrusieverlies 103.00 Afgeleide produsenteprys vir sojabone – R/ton R2 165.00
SAFEX
Die aangeleentheid staan oor.
Produsente-aangeleenthede
Die Voorsitter sê dat die Sojawerkgroep ingelig sal word oor alle projekaansoeke wat die kontrakteurs vir 2005 ingedien het, nadat die PNS Raad in September 2004 vergader het. Hy reël dat die kontrakteurs hulle werksbeplanning op 6 Oktober 2004 met die vergadering sal deel.
Besluit:
- Dat die kontrakteurs hulle werksbeplanning vir 2005 op 6 Oktober met die vergadering deel, nadat die PNS Raad dit gedurende September 2004 oorweeg het.
Kontrakteurs
KwaZulu-Natal
Super Sojakompetisie – terugvoering
Die Voorsitter meld dat die PNS se Dagbestuur en Tegnologiekomitee met die bestuur van KwaZulu-Natal se Departement van Landbou gesprek gevoer het. 'n Taakspan wat uit bedryfslui en amptenare van dié Departement bestaan, is aangewys om die Supersojakompetisie te ondersoek. Hy sê dat die Departement gretig is om daarmee voort te gaan, maar dat die klem dalk verskuif mag word. Hy onderneem om meer inligting te verstrek, sodra die PNS dienooreenkomstig ingelig is.
Produsente-aangeleenthede: rapportering
Geen nuwe sake word gerapporteer nie.
Mpumalanga
Verskillende proefaanplantings – terugvoering
Die aangeleentheid staan oor (Verwys na Besluit 9.1.).
Voor- en nadele tussen sojabone en mielies wat op dieselfde tye en lokaliteite geplant is – terugvoering
Die aangeleentheid is reeds onder item 7 hanteer.
Noordwes provinsie
Verskillende proefaanplantings – terugvoering
Die aangeleentheid staan oor (verwys na Besluit 9.1.).
Limpopo
Springbokvlakte
Opgaaf van onderskeie provinsies se voorligters in 'n poging om te bepaal wie die PNS behulpsaam kan wees
Die aangeleentheid staan oor.
Verskillende proefaanplantings
Die aangeleentheid staan oor (verwys na Besluit 9.1.).
Vrystaat
Proefaanplantings en samewerking tussen mnr Bramley en Pannar
Die Voorsitter reël dat die aspek rakende die samewerking tussen mnr Bramley en Pannar, van die sakelys verwyder word.
Met betrekking tot die proefaanplantings, word verwys na Besluit 9.1.
Oos-Vrystaat
Rywydte proef
Die aangeleentheid staan oor (verwys na Besluit 9.1.).
Sentraal-, Noordwes- en Suidoos-Vrystaat
Terugvoering ten opsigte van aanplantings te Glen
Die aangeleentheid staan oor (Verwys na Besluit 9.1.).
Artikel – Egret-cultivar met spesifieke verwysing na aalwurmweerstandbiedendheid
Die aangeleentheid is onder item 7.1.6 hanteer.
Cultivars in Suidwestelike Vrystaat
Die aangeleentheid is onder item 7.1.6 hanteer.
Onderhandeling met mnr J van Niekerk
Die aangeleentheid is onder item 7.1.6 hanteer.
Verplasing van Rietrivierprojek na Luckhoff-bepsroeiingsgebied
Die aangeleentheid is onder item 7.1.6 hanteer.
Algemeen
Mnr Maree sê volgens sy inligting beplan plaaslike saadmaatskappye om in samewerking met 'n Mosambiekse saadmaatskappy ongeveer 125 000ha sojabone in Mosambiek te plant en dat die meeste voorbereidingswerk reeds gedoen is. Hy onderneem om meer inligting in te win en met die vergadering te deel.
Mnr Lubbe meld dat 'n geval in die Reitz omgewing voorgekom het, waar produsente se sojaboonbesendings positief vir Roundup Ready getoets is, hoewel hulle GMO-vrye soja's geplant het. Die besendings is blykbaar deur GMO-saad in die stroopkontrakteurs se stropers gekontamineer. Dr De Kock sê dat die produsent se belange in hierdie verband, deur 'n kontrak met die kontrakteur beskerm behoort te word. Die Voorsitter sê dit blyk ongelukkig dat die Sojawerkgroep nie met hierdie saak sal kan handel nie.
Mnr Lubbe doen aan die hand, dat die werkgroep ondersoek instel na die betaling van premies vir verskillende proteïenwaardes. Hy noem dat proteïenwaardes vir almal in die bedryfsketting belangrik is, maar dat die produsent geen premie of insentief daarvoor ontvang nie. Mnr Bührmann noem dat beter bewerkings- en bemestingmetodes asook enting tot hoër proteïenwaardes gelei het. Hy voeg by dat klimaat ook 'n direkte invloed daarop het.
Mnr Potgieter sê indien die mark 'n behoefte vir hoër proteïenwaardes toon, sal die produsente hulle produksie daarvolgens probeer aanpas. Hy meld dat verwerkers bereid is om 'n premie vir hoër sonneblomolie-inhoud te betaal, maar dat die bergingskapasiteit in die algemeen ontoereikend is.
Dr Griessel sê, ten spyte van al die navorsing tot op hede, is hy nie bewus van enige plek in die wêreld waar sojabone op 'n proteïenbasis verhandel nie. Die Voorsitter versoek mnr Potgieter om die aangeleentheid by Graan SA se Oliesadewerkgroep aan te roer.
Besluite:
- Dat mnr Maree meer inligting oor die moontlikheid van sojaboonaanplantings in Mosambiek bekom en dit tydens die volgende vergadering met die Sojawerkgroep deel.
Mnr Maree
- Dat mnr Potgieter die moontlikheid van 'n verhandelingsbasis vir sojabone op grond van proteïenwaardes, by Graan SA se Oliesadewerkgroep sal toets.
Mnr Potgieter
- Dat mnr Maree meer inligting oor die moontlikheid van sojaboonaanplantings in Mosambiek bekom en dit tydens die volgende vergadering met die Sojawerkgroep deel.
Oos-Kaap
Projekaansoek – aankoop van planter
Die Voorsitter noem dat die planter herstel is en versoek mnr Killian om met mnr Johan du Plessis te reël vir die aflewering daarvan in die Oos-Kaap.
Besluit:
- Dat kennis geneem word dat die planter herstel is en mnr Killian die nodige reëlings tref vir die aflewering daarvan in die Oos-Kaap.
Mnr Killian
- Dat kennis geneem word dat die planter herstel is en mnr Killian die nodige reëlings tref vir die aflewering daarvan in die Oos-Kaap.
Suidwestelike Distrikte
George omgewing
Die aangeleentheid staan oor.
Inligting, Weskus produsente
Mnr Grimbeek sê dat hy weer met mnr Jan Genis in verbinding was, wat twee eenhede van 5 hektaar elk onder spilpunt wil aanplant. 'n Groep aartappel-produsente in hierdie streek stel daarin belang om wisselbou met sojabone toe te pas, hoofsaaklik as gevolg van 'n aalwurmplaag.
Mnr Agenbag noem dat hy mnr Grimbeek versoek het om die aangeleentheid met die Weskus produsente op te neem, omdat hy beter gekwalifiseer is om met sojabone te deel.
Dr De Kock doen aan die hand dat die aartappelnavorsers van die LNR te Roodeplaat asook die Provinsiale Departement van Landbou van so 'n projek kennis moet dra. Dr Griessel noem dat, indien daar nie 'n noemenswaardige uitbreidingspotensiaal vir sojabone in die Weskusgebied is nie, die Sojawerkgroep nie betrokke behoort te raak nie. Mnr Agenbag sê daar is na bewering 6 000 ha onder aartappels in die Weskus, waarvoor daar tans grondbone, sojabone, canola en lupiene as wisselbougewasse oorweeg word. Ná aartappels word koring geplant, waarna die lande vir twee jaar oorlê. 'n Wisselbougewas word vir hierdie twee-jaar periode verlang. Die Voorsitter reël dat die aangeleentheid na die LNR-IGG en die Wes-Kaapse Departement van Landbou (dr Trautman) verwys word.
Besluit:
- Dat die Weskus-produsente se navraag oor die moontlike wisselbou van aartappels met sojabone, na die LNR-IGG en die Wes-Kaapse Departement van Landbou (dr Trautman) verwys word.
Mnr Agenbag
- Dat die Weskus-produsente se navraag oor die moontlike wisselbou van aartappels met sojabone, na die LNR-IGG en die Wes-Kaapse Departement van Landbou (dr Trautman) verwys word.
Gauteng
Aanplantings en resultate
Die aangeleentheid staan oor.
Noord-Kaap
Die aangeleentheid staan oor.
Algemeen
Biodiesel – terugvoering
Die Voorsitter noem dat 'n persoon van Sasol 'n toespraak tydens die AFMA Soja Simposuim oor die aanwending van sojabone vir biodiesel sal lewer. Geen verdere inligting is beskikbaar nie.
Produksiekostevergelyking tussen droëlandmielies en -sojabone
Die Voorsitter spreek waardering uit vir mnr Deon Joubert (Vise-voorsitter: PNS) se dokument soos by die sakelys ingebind. Dr Griessel sê dat 'n gestandaardiseerde model ontwikkel moet word, om effektiewe streeksvergelykings ten opsigte van 'n aantal gewasse te kan tref. Die Voorsitter doen aan die hand dat die Tegnologie-komitee met mnr Deon Joubert 'n gesprek oor die aangeleentheid moet voer.
Besluit:
- Dat die Tegnologiekomitee met mnr Deon Joubert 'n gesprek sal voer oor die ontwikkeling van 'n model om effektiewe produksiekostevergelykings per streek ten opsigte van 'n aantal gewasse te kan tref.
Mnr Keun
- Dat die Tegnologiekomitee met mnr Deon Joubert 'n gesprek sal voer oor die ontwikkeling van 'n model om effektiewe produksiekostevergelykings per streek ten opsigte van 'n aantal gewasse te kan tref.
Sleepstroper
Mnr Killian noem dat die sleepstroper wat digby Grahamstad is, deur hom en mnr Du Plessis herstel is.
- Dat die kontrakteurs hulle werksbeplanning vir 2005 op 6 Oktober met die vergadering deel, nadat die PNS Raad dit gedurende September 2004 oorweeg het.
Navorsing
Nasionale cultivarproewe
Die aangeleentheid word onder item 10.2 hanteer.
Proefbesoekverslag
Die Voorsitter verwys na die LNR-IGG se proefbesoekverslag vir 2003/2004 ten opsigte van sojabone, soos by die sakelys ingebind. Mnr Pretorius noem dat mnr Gawie de Beer by al die betrokke proefpersele besoek afgelê het en dat die PNS-Kontrakteurs hom in die meeste gevalle vergesel het. Hy noem dat die geleentheid gebruik is om grondmonsters by die meeste proefpersele te neem, hoewel dit nie die mees ideale tyd daarvoor was nie.
Roes
Roes te Ermelo en Amersfoort
Die item is onder item 7.1.2 hanteer.
Verslag oor roes in KwaZulu-Natal
Mnr Killian versoek dat mnr Lawrance 'n verslag oor sy uitgebreide roesnavorsing aan die werkgroep lewer. Mnr Lawrance onderneem om 'n mondelinge verslag te lewer en ook 'n skriftelike opsomming tot die lede se beskikking te stel.
Besluit:
- Dat mnr Lawrance tydens die volgende werkgroepvergadering 'n mondelingse verslag oor sy sojaboonroes-studies sal lewer asook 'n skriftelike opsomming daarvan tot die lede se beskikking sal stel.
Mnr Lawrance
- Dat mnr Lawrance tydens die volgende werkgroepvergadering 'n mondelingse verslag oor sy sojaboonroes-studies sal lewer asook 'n skriftelike opsomming daarvan tot die lede se beskikking sal stel.
Sojaboonroes: verslag deur dr McLaren
Dr McLaren maak 'n voorlegging ten opsigte van die sojaboonroesnavorsing wat gedoen word. Hy noem dat die hoofsaaklike doel van die navorsing oor die afgelope aantal seisoene was om:
- die eienskappe van die epidemie te bepaal soos hoe dit ontwikkel, wat die kritiese punte is wat gebruik kan word by beheer en hoe die epidemie op verskillende genotipes ontwikkel;
- opbrengs- en kwaliteitsverliese te bepaal; en
- moontlike beheermaatreëls soos rywydtes, plantdatums, cultivarkeuses en swamdoders te ondersoek.
Die Voorsitter meld dat die sclerotinia- en roesprojekte deur beide die PNS en OPOT befonds word.
Skrywe, Monsanto: Roes
Mnr Keun noem dat Monsanto 'n skrywe aan die PNS gerig het, wat vir kennisname by die volgende sakelys ingebind sal word.
Besluit:
- Dat kennis geneem word van Monsanto se skrywe, wat vir kennisname by die volgende sakelys ingebind sal word.
Mnr Keun
- Dat kennis geneem word van Monsanto se skrywe, wat vir kennisname by die volgende sakelys ingebind sal word.
Sclerotinia
Proefwerk – Dr McLaren en mnr Killian: terugvoering, vergadering van 23 September 2003
Die aangeleentheid staan oor.
Addisionele proefperseel by Cedara-proefplaas
Mnr Pretorius noem dat dr McLaren gepoog het om 'n proefperseel te Cedara-proefplaas te bekom om sclerotinia-proewe (kunsmatige besmetting) toe te pas, maar dat die proefplaas nie daarmee genoeë geneem het nie.
Aalwurmnavorsing
Mnr Pretorius noem dat 'n projekvoorlegging van me Driekie Fourie by die PNS ingedien is, vir die chemiese beheer van aalwurms. Die Voorsitter sê dat die projek in beginsel goedgekeur is en dat die vergadering op hoogte gebring sal word, nadat die PNS-Raad dit oorweeg het.
Saad
Hierdie aangeleentheid staan oor.
Tegnologie-oordrag
NAMPO-Oesdag
Dr De Kock noem dat daar 'n beter opkoms by die PNS se stalletjie by die NAMPO-Oesdag waargeneem is. Hy sê dat die stalletjie se "bemanning" van mening was dat die aanbieding van 'n hoër standaard as dié van die vorige jare was. Die aanbeveling is dat daar met die uitstalling voortgegaan word.
Inligtingsdae 2004 – terugvoering
Kennis word geneem van die volgende inligtingsdae:
17 September 2004 Sclerotiniawerkgroepvergadering 14 September 2004 Supersojakompetisie (Cedara) 15 September 2004 Supersojakompetisie (Dundee) 15 September 2004 Internasionale Sojavoedselkonferensie Sojaboonforum
Terugvoering van vergadering van Sonneblom- en Sojaboonforum
Geen Forumvergadering het intussen plaasgevind nie.
Sake om na die volgende Forumvergadering te verwys
Die Voorsitter reël dat die status van die sojaboonroes- en sclerotinia-projekte na die Sonneblom- en Sojaboonforum verwys word.
Besluit:
- Dat die jongste status van die sojaboonroes- en sclerotinia-navorsingsprojekte na die Sonneblom- en Sojaboonforum verwys word.
Mnr Keun
- Dat die jongste status van die sojaboonroes- en sclerotinia-navorsingsprojekte na die Sonneblom- en Sojaboonforum verwys word.
Ander sake
Bywoning van Sojaboonkongres
Die vergadering neem kennis van mnr Kim Lawrance en dr Pat Caldwell se ver-slae rakende die Internasionale Sojaboon Kongres, wat gedurende 29 Februarie 2004 tot 5 Maart 2004 in Brasilië aangebied is. Die verslae is vir kennisname by die sakelys ingebind.
Datums van volgende vergaderings
Die volgende Sojawerkgroepvergadering is vir 6 Oktober 2004 geskeduleer.
Afsluiting
Die Voorsitter bedank die lede vir hulle teenwoordigheid en insette en verdaag die vergadering om 13:15.