Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 3 Augustus 2007 in die Raadsaal van die Proteïennavorsingstigting, Rivonia



  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur Mnr Frans Potgieter.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal welkom by die vergadering van die Sojawerkgroep, en in die be­sonder vir Mnr Jan Erasmus van die LNR-IGG en Mnr Ma­rius van Rensburg van die Departement van Landbou in Mpumalanga, wat beide vir die eerste keer 'n vergadering van die Sojawerkgroep bywoon.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Mnr P Botha GSA
    Mnr J Botma Produsent: Noord Vrystaat
    Mnr G Bührmann GW Bührmann Saad
    Mnr D Cronjé Produsent: Mpumalanga
    Dr J de Kock PNS
    Mnr CJ du Plessis PNS-Kontrakteur
    Dr H du Plessis LNR-IGG
    Me A Enslin SAGIS
    Mnr J Erasmus LNR-IGG
    Dr M Griessel PNS
    Mnr C Havenga PNS-Kontrakteur
    Mnr P Lübbe Agriocare
    Mnr E Maree PNS-Kontrakteur
    Dr A Nel LNR-IGG
    Mnr FAS Potgieter GSA
    Mnr MJ van Rensburg Mpumalanga: Departement van Land­bou
    Mnr AJ van Vuuren NWK
    Mnr WF van Wyk PNS-kontrakteur
    Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte
    Me E Harmse Sekretariaat

    Verskonings

    Me R Beukes NDL
    Mnr L Killian PNS-Kontrakteur
    Me M Scheepers NDL
    Mnr ICJ van Zyl GSA

  4. Personalia

    Geen.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word vasgestel sonder enige wysigings of toe­voegings.

  6. Notules van die vergadering van 1 Maart 2007

    Besluit:

    1. Dat die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 1 Maart 2007 goedgekeur word.
  7. Algemene oorsig

    1. Oesskatting

      Die Voorsitter wys daarop dat 'n meer resente oesskatting as die 27 Maart-skatting wat in die dokumentasie vervat is intussen vrygestel is, en bring die dokument waarin die oesskatting van 25 April 2007 aangedui word, ter tafel. Mnr Cronjé noem dat die Oesskattingskomitee in die media lof toegeswaai is oor die toenemende akkuraatheid van die oesskattings. Die vergadering neem hiervan kennis.

      Die Voorsitter noem dat die totale produksieskatting van sojabone 'n afname toon en tans op 227 000 ton te staan kom, en dat die voorlopige oppervlakskatting van sojabone vir die 2006/07 seisoen onveranderd gelaat is en op 183 000 ha beraam word. Die Voorsitter reël dat die oes­skattings aan die hand van die onderskeie provinsies bespreek word.

      Besluit:

      1. Dat die vergadering kennis neem van die oppervlak- en oesskattings.

        Lede

    2. Provinsies

      1. KwaZulu-Natal

        Mnr du Plessis sê in antwoord op 'n vraag van die Voor­sitter dat die derde produksieskatting van 45 100 ton, wat 'n daling van ongeveer 2 000 ton verteenwoordig, redelik realisties is. Hy berig dat die laat droogte probleme veroorsaak het. Hoewel heelwat reën oor die kusgebied uitgesak het, het die swak reënval wat kol-kol in die binneland voorgekom het, die afwaartse aanpassing in die produksieskatting tot gevolg gehad. Hy noem dat die peule heelwat gekrimp het, en dat die gewig van die peule ook die skatting negatief beïnvloed het. Die produsente ervaar probleme met oes as gevolg van onegalige rypwording in die lande. Mnr Potgieter meld dat hy berig ontvang het van baie goeie opbrengste van bo-verwagte gehalte wat in die Piet Retief-streek gelewer is.

        Mnr Lübbe maak melding van ryp wat voorgekom het. Hy berig dat die probleem met onegalige rypwording nie net in KwaZulu-Natal nie, maar regdeur ondervind word. Dieself­de geld vir groen en kleiner pitte. Produsente van verskeie streke het bekommernis uitgespreek omdat 30% van die pitte deur die sif val.

      2. Mpumalanga

        Die Voorsitter meld dat die derde produksieskatting met 4 500 ton afwaarts aangepas is na 85 500 ton en dat die opper­vlakteskatting onveranderd op 90 000 ha gelaat is.

        Mnr Lübbe is die mening toegedaan dat die oesskatting in die Hoëveld deurgaans laer moet wees, en dat oeste van so laag as 0,2 t/ha tot 0,6 t/ha in die turfgebiede verwag word. Mnr Potgieter meld dat hy berig ontvang het van 'n pro­dusent in Mpumalanga wat 'n opbrengs van minder as 'n ton per hektaar in die vooruitsig stel, en dat sommige produsente skape injaag in die lande. Hy reken dat die geskatte opbrengs van 0,95 t/ha wat reeds afwaarts aangepas is, nog verder kan daal.

        Mnr Bührmann berig dat die produsente se opbrengs­verwagtings wissel tussen 500 kg/ha en 2 t/ha. Heelwat produsente in die ooste het ernstige haelskade van tot 100% gely, met 200 ha wat in een geval weggeslaan is. Hy berig dat hy self redelik baie skade van ongeveer 60% gely het, maar dat die oes steeds belowend lyk en 1,2 t/ha behoort te lewer. Hy meen dat die Oesskattingskomitee se skatting korrek is.

        Mnr Bührmann is die mening toegedaan dat klein pitte variëteit-verwant is, met tot 90% van die variëteite wat klein pitjies lewer. Droogtetoestande het 'n effek op hierdie variëteite, en hoewel droogte wél ondervind is, het sekere van hierdie variëteite pragtig presteer. Hy meld dat hy in sy hoedanigheid as saadteler in die verlede 20 tot 30 ton kleinpit-variëteit saad aan produsente in die Kaap verskaf het waar dit met 100% ontkieming aangeplant is. Hy meld dat klein pitjies nie in die saadbedryf tot nadeel is nie, en dat dit ook nie tot nadeel behoort te wees in die sekondêre bedryf nie behalwe dat die uitskotmateriaal vermeerder.

        Mnr Cronjé berig dat hy die vorige dag tydens gradering by Bethal-silo gemerk het dat 30% van die pitte deur die sif val. Hy is meegedeel dat die graansilo-industrie vereis dat klein pitte uitgesif word, omdat niemand dit wil koop nie. Mnr Cronjé meen dat dit onaanvaarbaar is, omdat daar niks skort met die proteïengehalte, voedingswaarde en dies meer van die klein pitte nie. Hy beskou dit as 'n bemark­ingsskuiwergat om die prys van klein pitte af te dwing. Hy noem dat die opbrengs baie teleur­stellend is, en dat heelwat dowwe pitte in peule voorkom op baie van die sojalande wat op die oog af goed vertoon het.

        Mnr Cronjé noem dat een van die groot handelaars in die Middelburg-gebied hom meegedeel het dat die gemiddelde op­brengs van produsente wat by hom gekontrakteer het, op tussen 700 en 900 kg/ha te staan gekom het. Hy berig dat verdere skade twee weke gelede veroorsaak is deur geweldig baie reën van tot 70mm wat uitgesak het, en dat fyn hael ook in streke geval het. Hoewel die skade nie onmiddelik sigbaar was nie, het die daaropvolgende hitte veroorsaak dat sopnat peule oopgespring en tot 20% uitspringskade tot gevolg gehad het. Mnr Cronjé sê dat die enkele produsente wat op die regte tyd geplant en op die regte tyd reën gekry het, 1,7 tot 2 t/ha oes, maar dat die opbrengs oor die algemeen ver onder die gemiddeld is en baie swak lyk.

      3. Noordwesprovinsie

        Mnr van Vuuren meen dat die derde produksieskatting van 18 000 ton effe optimisties is, en dui aan dat die droëland-opbrengste wissel tussen 300 en 800 kg/ha met opbrengste van ongeveer 2 t/ha by aanplantings onder besproeiing. Hy voer aan dat die impak van die droëland-opbrengste nie in berekening gebring is by die oesskatting van 2 t/ha nie. Mnr Potgieter sê dat die oppervlakte van 9 000 hektare beplant, droëland en besproeiings­aan­plantings insluit. Mnr van Vuuren dui aan dat ongeveer 1 500 ha droëland beplant is.

        Mnr du Plessis is die mening toegedaan dat 'n besproei­ingsopbrengs van 2 t/ha laag is. Mnr van Vuuren wys daarop dat Noordwes 'n strawwe seisoen beleef het, en dat die atmosferiese aanvraag van só 'n aard was dat die besproeiingstelsels nie kon bybly nie. Mnr Potgieter sê hoewel daar gevalle voorkom waar daar weens die hitte 'n opbrengs van 2 t/ha op besproeiingsgrond behaal is, daar in ander gevalle soveel as 4,5 t/ha geoes word, en dat die gemiddeld tussen 2,5 en 3 t/ha beloop.

      4. Limpopo

        Mnr Potgieter sê dat die beraamde opbrengs van 18 000 ton aanvaarbaar is. Hy meen dat die Koedoeskop-gebied gemiddeld 3 tot 3,5 t/ha behoort te lewer, en meld dat berig ontvang is van produsente wat 2,5 tot 4,8 t/ha stroop met een produsent wat na berig word oor die 5 t/ha gemiddeld gestroop het.

        Mnr Potgieter noem dat gevalle van die voorkoms van effe kleiner pitte in Limpopo aangemeld is, maar dat dit nie nie 'n probleem by aanplantings onder besproeiing was nie. Daar is waargeneem dat die onbepaalde groeiers wat reeds peule boontoe gemaak het, klein pitjies gehad het. Hy noem dat reën op droë peule 'n toename in uitspring ver­oorsaak.

      5. Noord-Kaap

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

      6. Vrystaat

        Mnr Botma berig dat hy tussen 400 en 800 kg/ha in die Noord-Vrystaat gestroop het. Hy meld dat ryp voorgekom het, en dat die peule wat nog groen was, daarmee heen is. Hy sê dat die groen peule 'n probleem is, en dat die oes gesif word voor lewering. Daar is ook heelwat klein pitjies. Hy het met 'n paar produsente gesprek gevoer en het by een produsent verneem dat die beste resultate behaal is op oorlêlande wat met sorg bestuur is, met opbrengste van tussen 1 en 1,2 t/ha teenoor die gewone gemiddelde opbrengs van 1,5 t/ha.

        Mnr Botma noem dat hy, soos onderneem by die vorige vergadering, 'n paar sojaboonplante saamgebring het. Hoewel die plante in die droëland geen nodulering getoon het nie, het die plante in natter kolle en die Roundup Ready cultivars beter genoduleer.

        Die Voorsitter spreek sy dank uit dat Mnr Botma die plante saamgebring het, en vra hom na die stand van sake met mielies. Mnr Botma sê dat daar in groot gebiede pro­dusente is wat gelukkig sal wees met 'n opbrengs van 2 ton mielies per hektaar. Hy noem dat daar kolle suid van Bothaville is waar 'n opbrengs van 5,5 tot 6 ton gemiddeld veral ten opsigte van die vroeë mielies verwag word. Daar is ook mooi kolle in Welkom en Allanridge. Hy spreek sy twyfel uit dat 'n gemiddelde opbrengs van 2,5 t/ha behaal sal word. Die Voorsitter sê dat hy die vraag gevra het om bevestiging te kry dat hierdie jaar nie net vir sojas moeilik was nie, maar dat graan in die geheel geaffekteer is. Mnr Potgieter is van mening dat die derde mielie-oesskatting afwaarts aangepas sou word, indien die oesskattings­komitee nie 'n gebied van 40 000 ha onder besproeiing buite rekening gelaat het by die vorige mielie-oesskatting nie. Dr Griessel sê dat oorlêgronde in gebiede soos Bultfontein en Hoopstad baie beter geproduseer het as wat verwag is.

        Mnr Maree meld dat die meeste produsente tussen 400 en 800 kg sojabone per hektaar stroop en dat enkele boere wat betyds onbepaalde groeiers geplant het, tussen 1,2 en 1,8 t/ha stroop. Hy is die mening toegedaan dat die oes­skatting te hoog is.

        Mnr Lübbe sê hoewel hy aanvanklik gedink het dat gedeeltes in die Vrystaat, veral na die berge se kant, beter sal doen, sal die opbrengste in Reitz, Frankfort en Vrede baie swak wees. Hy meen dat die oesskatting in die Hoëveld deurgaans laer moet wees, en dat oeste van so laag as 0,2 t/ha tot 0,6 t/ha in die turfgebiede verwag word.

      7. Oos-Kaap

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

      8. Suidwestelike Distrikte

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

      9. Gauteng

        Mnr van Wyk berig dat die meeste produsente in die dele wat hy besoek het, nog nie begin stroop het nie. Van die produsente in die Kinross-gebied het heelwat haelskade gely, terwyl produsente aanplantings wat eers in Januarie gedoen is, oorgeplant het. Hy sê dat aanplantings van die vinnige groeiers nie te sleg gevaar het nie, maar dat daar na verwag word nie veel sal kom van die enkele aan­plantings van langer groeiers wat twee weke gelede in die blom gestaan en intussen ryp gekry het nie. 'n Produsent wat die vorige jaar gemiddeld 2,7 t/ha gestroop het, verwag weens geweldige droogteskade om 'n opbrengs van tussen 300 en 400 kg/ha te behaal.

        Mnr van Wyk rapporteer dat 'n honderd-pit massa van 12,0 tot 12,5 g met die Pretoria-proef behaal is, waar die Roundup Ready cultivars gewoonlik gemiddeld oor 'n honderd-pit massa in die omgewing van 15,0 tot 17,0 g beskik. Dit dui duidelik op klein pitte, waarskynlik as gevolg van swaarkry. Hy wil hom egter nie uitspreek of hierdie waarneming Roundup Ready-verwant is nie, en onderneem om in die loop van volgende jaar hieroor verslag te doen. Mnr Cronjé maan teen veralgemening met Roundup Ready, en sê dat hy slegs Roundup Ready plant, en tydens gradering by Bethal-silo meegedeel is dat sy monster die grootste pitte bevat wat tot dusver hierdie seisoen gesien is.

        Mnr Erasmus rapporteer dat hy al die cultivarproewe met uitsluiting van Makhathini besoek het. Hy het waargeneem dat heelwat onegalige rypwording voorkom. Hy sê hoewel hy nog nie die voorkoms van klein pitjies kan bevestig nie, hy hieroor verslag sal doen by die cultivar­evaluasie­vergadering.

        Die Voorsitter vra of GraanSA namens die produsente die kwessie van die voorkoms van klein pitjies gaan opneem. Mnr Lüb­be meld dat hy 'n probleem het met die wets­bepaling waarvolgens uitgesifte materiaal nie aan die leweransier teruggegee mag word nie, soos na verwys is in 'n omsendskrywe ontvang van die Vrystaat Koöperasie (VKB). Daar word in die skrywe onder meer daarop gewys dat '... die Wet op Gesondheid bepaal dat geen sifsels wat enige giftige sade bevat op enige wyse weer aan enige produsent of op enige wyse aan die mark beskikbaar gestel mag word nie'. Mnr Potgieter meld dat hy nie van dié wetsbepaling bewus is nie, en dat uitsifsels van gelewerde of verhandelde sojas na sy wete nie teruggegee word aan die produsent nie, tensy dit teruggekoop word. Hy is bewus van produsente wat die reëling tref dat sifsels aan hulle teruggegee word. Gelewerde sojas word gradeer en die persentasie wat uitval word afgetrek van die lewering.

        Die Voorsitter doen aan die hand dat Mnr Botha namens GraanSA by VKB kers opsteek sodat meer duidelikheid verkry kan word oor die verreikende implikasies van die VKB-omsendskrywe. Mnr Potgieter noem dat hy nie bewus is van klagtes in dié verband vanaf produsente-kant nie, maar dat GraanSA beslis ondersoek sal instel sodra klagtes ontvang word. Hy is van mening dat klein pitte ook van waarde is, veral ten opsigte van die volvetbedryf. Mnr Botma noem dat daar by die landbou­besigheid waaraan hy verbonde is, gesif word om oliebome en 'morning glories' te verwyder, dat daar 'n groot voorkoms is van klein pitte en dat tot 50% van 'n spesifieke produsent se lewering uitgesif is. Die produk word ná sifting gegradeer maar die uitgesifte materiaal behoort aan die produsent. Hy is die mening toegedaan dat die VKB-reëling 'n interne maatreël is.

    3. Weer- en klimaatsvooruitskouing

      Die Voorsitter sê dat die weerverslag ingesluit as Bylae C daarop dui dat die El Niño-episode verby is, maar dat 'n La Niña verskynsel besig is om te ontwikkel, wat ongunstig is vir reënvalvooruitsigte in die Wes-Kaap. Reënvalvoor­uit­sigte vir die Hoëveld gedurende die komende somer lyk egter hoopvol. Mnr Botma vra na die kleur wat deur die donker areas op die weerkaarte verteenwoordig word, en die Voorsitter meld dat hy dit problematies vind om onderskeid te tref indien die kaarte nie in kleur weergegee word nie. Hy versoek Mnr Keun om een kleurkopie van die weerkaarte by volgende vergaderings beskikbaar te stel, of om die kaarte met behulp van 'n dataprojektor te vertoon.

      Mnr van Vuuren verduidelik dat die area binne die ovaal in figuur 2 op bladsy vier van die verslag, waar die El Niño-effek voorkom, die afwyking van see-oppervlak tempera­ture van die langtermyngemiddeld aandui, en dat die voorspelling hierop gebaseer is. Warm temperature kom voor in die area binne die sirkel in figuur 2, en is die oor­saak van die onlangse siklonale aktiwiteit, die onstuimige seetoestande en die verhoogde seetemperature langs die KwaZulu-Natalse kus. Hy noem dat die lyngrafiek in figuur 3 die waar­skynlike uitkomste van die voorspelling vanaf April reflekteer, en dat hy skepties is oor die voorspelling dat die El Niño-episode verby is. Hy verduidelik dat die meeste kleure wat donker voorkom in die weerkaarte óf rooi óf bruin is, wat negatiewe weersomstandighede aan­dui. Die ligte skakerings dui op meer positiewe weer­toestande, en dit wil lyk asof die Augustus-kaart nie baie positief is nie. Die weertoestande ná Augustus is van belang, maar kan nog nie op hierdie stadium voorspel word nie.

    4. Mikpunte: 2010 en 2020

      1. Drie-jaar vooruitskatting

        (Besluit 7.4.1.1 van die vergadering van die Sojawerk­groep gehou op 1 Maart 2007)

        Die Voorsitter meld dat regeringsterugvoer oor die ves­tiging van 'n biobrandstofbedryf in Suid-Afrika steeds afgewag word, en dat daar meer sinvol bespiegel sal kan word oor die pad vorentoe ten opsigte van oppervlaktes, mikpunte en dies meer nadat sodanige terugvoer ontvang is. Die saak staan dus oor.

        Besluit:

        1. Dat regeringsterugvoer oor die vestiging van 'n bio­brandstofbedryf in Suid-Afrika steeds afgewag word, en dat daar meer sinvol bespiegel sal kan word oor die pad vorentoe nadat sodanige terugvoer ontvang is. Die saak rakende die drie-jaar vooruitskatting staan dus oor.

          Mnr Keun

    5. SAGIS

      (Besluit 7.5.1 van die notule van die Sojawerkgroep­vergadering gehou op 1 Maart 2007)

      Die Voorsitter stel die SAGIS-dokumentasie vervat in Bylae D ter tafel, en versoek Me Enslin om die inligting aan die vergadering voor te lê. Me Enslin noem dat daar per geleentheid vergader is om die wyse waarop die verklaring van sojabone vir menslike gebruik deur SAGIS hanteer word, te bespreek. Daar is tot die slotsom gekom dat SAGIS se maandelikse publikasiestaat aangepas sal word sodat heel sojabone verwerk tot volvet soja en tot olie en oliekoek, en heel sojabone aangewend vir menslike verbruik en vir dierevoer, as sodanig verklaar word. Sy meld dat daar by wyse van 'n voetnota aangedui sal word dat die heel sojabone of oliesade verwerk tot olie en oliekoek, asook volvetsoja, die heel sojabone of oliesade van die resulterende produk wat uiteindelik in die menslike of diere­voermark aangewend is, insluit. Me Enslin sê dat dié regstellings binne 'n maand of twee in SAGIS se publikasiestaat gereflekteer sal word.

      Me Enslin berig aan die hand van die SAGIS markin­lig­tingsdokument dat daar tot en met die einde van Maart 116 000 ton sonneblom verwerk is, en die vooruitskatting is dat meer sonneblom as die vorige jaar hierdie jaar verwerk sal word. Die totale ver­werking vergelyk egter swak met die totale verwerking van meer as 630 000 ton in die verlede. Sy berig voorts dat 83 000 ton sojabone verwerk is vir binnelandse verbruik tot einde Maart, en dat 'n totale jaarlikse verbruik van 330 000 ton geprojekteer word. Dit is ongeveer gelyk aan verlede jaar se verwerking, en aansienlik beter in vergelyking met vorige jare.

      Met verwysing na item 4.5 in die markinligtingsdokument, wat handel oor die plaaslike verbruik van eetbare olie, meld Me Enslin dat Mnr Scholtemeijer aangedui het dat dit onnodig is om die verbruik van herwonne olie in te sluit by die ondersoek, en dat op die menslike verbruik gefokus moet word. 'n Lys van instansies of persone betrokke by olie-invoere sal aangevra word by die Perishable Products Export Control Board (PPECB), en daar sal ook gekyk word na olie wat deur Suid-Afrika na naburige lande uitgevoer word. Me Enslin dui aan dat daar met die Augustus-vergadering meer omvattende terugvoer in hierdie verband gelewer sal word.

      Die Voorsitter bedank Me Enslin vir die opsomming, en wys op die grafiek op bladsy een van die dokument, wat daarop dui dat die produksie van sojabone sedert 1996 'n tendens in die regte rigting toon. Hy sê dat die grafiek op bladsy drie wat voorraad voorhande aandui, 'n tipiese situasie van somer- en winteraanplantings weerspieël. Hy noem dat die SAFEX- en invoerpariteitsprysinligting interessant is, dat GraanSA en Dr Griessel se syfers aanstons verskaf sal word, en dat SAGIS 'n Randfontein-gelewerde prys van R2 768/t vir Argentynse sojabone, en R2 958/t vir Golfsojabone aandui. Die internasionale oorsig van die oliesade-situasie soos aangedui op bladsy vier sal ook later deur GraanSA en Dr Griessel aangespreek word. Hy wys op die opwaartse styging van olie­saad­pryse aangedui in die tabel op bladsy vyf, en sê dat die vergadering inligting uit die weeklikse en maandelikse bulletins by Mnr Keun kan aanvra. Die Voorsitter stel die SAGIS-dokumentasie in die geheel oop vir bespreking.

      Me Enslin berig in antwoord op 'n vraag van Mnr Potgieter, dat die wisselkoersvoorspellings 'n gemiddelde berekening van die vier groot handelsbanke se maandelikse voorspel­lings verteenwoordig.

      Besluit:

      1. Dat die vergadering kennis neem van die inligting vervat in die SAGIS-dokumentasie.

        Lede

    6. GSA-markinligting

      1. Driejaarvooruitskatting

        Die Voorsitter versoek Mnr Botha om GraanSA se mark­inligtingsdokument aan die vergadering voor te lê. Mnr Bo­tha meld dat Mnr van Zyl intussen van die syfers opdateer het, en dat die geprojekteerde eindvoorraad aan die einde van die 2007 bemarkingseisoen op 30 April, verminder het van 72 000 ton na 51 000 ton vanweë die afwaarts-aangepaste sojaboon­produksieskatting. Hy berig dat die VSA vry-aan-boord sojaboonprys in die golfhawens met $16 gedaal het na $270/t, terwyl die Argentynse vry-aan-boord sojaboonprys met slegs $1/t na $261/t gedurende die ooreenstemmende tyd gedaal het. Wat die plaaslike sojaboonprys betref, noem Mnr Botha dat die berekende invoerpariteitsprys van Argentynse sojabone gelewer in Randfontein tans op R2 628/t te staan kom, met R2 308/t as die SAFEX sojaboonprys vir lewering in Mei 2007.

        Mnr Botha berig dat die aanplanting van mielies in die VSA tans deur nat weer in die wiele gery word, wat die kans dat meer sojabone aangeplant sal word, vergroot. Dr de Kock vra met verwysing na tabel 1 of daar volledigheidshalwe by wyse van 'n nota daarop gewys kan word dat die verbruik van olie en oliekoek hoër is as aangedui, aangesien die invoere nie bygereken is nie. Mnr Botha onderneem om só 'n aanpassing te maak.

        Die Voorsitter noem dat daar in die US Grains Council se publikasie "Market Perspectives" berig word dat 5m ha meer mielies aangeplant gaan word in die VSA, merendeels op grond waarop katoen geplant sou word. Interessante gegewens oor pryse en tendense ten opsigte van "Distillers dried grain solubles", die afvalproduk verkry wanneer mielies aangewend word vir die produksie van etanol, word ook verskaf. Mnr Potgieter meld dat etanol na berig word 'n groter bedreiging as brandstof inhou. Dr de Kock sê dat vrygestelde etanolgasse na bewering 'n meer nadelige effek op die osoonlaag sal hê as gasse wat deur mineraal­brandstof vrygestel word.

        Besluit:

        1. Dat die vergadering kennis neem van die GSA-markinligting.

          Lede

  8. Markaangeleenthede

    1. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

      Die Voorsitter stel Dr Griessel aan die woord. Dr Griessel meld dat hy by die vorige vergadering sy optimisme oor 'n toekomstige styging in die prys van sojabone uitgespreek het, vanweë die feit dat daar op daardie stadium voldoende wêreldvoorrade was. Alle aanduidings was dat 6 tot 7m hektaar sojaboonlande in die VSA uitgeneem sou word as gevolg van die groter mielie-aanplantings, en Amerikaanse sojaboonproduksie is geskat op ongeveer 10m ton minder as die vorige jaar. Hy wys op die implikasie van Mnr Botha se inligting oor die nadelige effek van weersomstan­dig­hede op die aanplanting van mielies in Amerika, en dat 2 tot 3m meer hektaar onder sojabone geplant sal word omdat mielie-aanplantings teen 15 Mei voltooi moet wees.

      Dr Griessel sê dat die prys van sojabone tans baie volatiel is en dat die afgeleide produsente-prys binne twee dae met nagenoeg R100/t gedaal het. Heelwat sojaboonroes kom tans voor in Argentinië en Brasilië, en in Paraguay is 50 tot 70% van die lande met sojaboonroes besmet. Hy berig dat swaar reënval in Argentinië en Brasilië probleme met oes tot gevolg het, maar dat produksie­skattings onveranderd bly, met 'n skatting van 45,5m ton vir Argentinië en 58,5m ton vir Brasilië. Hy sê dat dit gevolglik baie moeilik is om vooruitskattings te maak. Dr Griessel lig die vergadering in dat die riglynprys aan produsente soos bereken op 2 Mei te staan kom op R1 965. Die Voorsitter wys daarop dat die riglynprys R600 onder die invoerpariteitsprys is.

      Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban soos op 2 Mei 2007
      Verskeping: R2 164   |   Wisselkoers: R7.04/US$
      Geland Durban 47% proteïen oliekoek 2 164.00
      Spoorvrag na Randfontein 170.00
      2 334.00
      Waarde van volvetsoja 110% R2 567.00
      Min koste om sojabone na volvetsojabone te verwerk 602.00
      – Vervoerkoste na volvet-aanleg 70.00
      – Stoorkoste 102.00
      – Rente 12% (6 maande) 128.00
      – Ekstrusiekoste 180.00
      – 5% ekstrusieverlies 122.00
      Afgeleide produsenteprys vir sojabone – R/ton R1 965.00

    2. SAFEX

      Die Voorsitter stel die SAFEX-inligting ter tafel. Mnr du Plessis dui op navraag aan dat die SAFEX-prys op 30 April op R2 308 gestaan het. Mnr Cronjé meld dat die prys op 2 Mei met 'n verdere R15 toegeneem het. Die Voorsitter wys daarop dat pryse tydens oestyd die swakste is. Mnr du Plessis sê hy het inligting ontvang dat vervoerkoste gaan toeneem, en dat Dr Griessel dit in berekening sal moet bring by die bepaling van die afgeleide produsenteprys. Hy onderneem om die vervoerkoste aan Dr Griessel deur te gee.

      Dr Griessel antwoord op navraag van die Voorsitter dat die totale plaaslike oliekoekverbruik in die veevoerbedryf tans op nagenoeg 1,4m ton te staan kom. Daar is verneem dat Prof Willemse aangedui het dat 1,2m ton soja-oliekoek ingevoer is. Hy meld dat Suid-Afrika tradisioneel ongeveer 400 000 ton oliekoek produseer en dat invoerbehoeftes in 2006 ongeveer 1m ton sal beloop. Hy het in 'n verslag gemerk dat 970 000 ton in 2006 ingevoer is, en sê dat hy nie bewus is van die 1,2m ton waarna Prof Willemse ver­wys nie. Die Voorsitter noem dat plaaslike sonneblom­produksie gewoonlik tussen 350 000 en 450 000t oliekoek lewer, wat hoofsaaklik vir dieregebruik aangewend word. Volvetsoja en sojaboonoliekoek word ook plaaslik gepro­duseer, en die invoer van 1,2m ton kom dus aan die hoë kant voor. Hy onderneem om meer betroubare syfers by 'n volgende vergadering beskikbaar te stel. Daar sal bes moontlik ook by die volgende vergadering meer duidelik­heid wees oor die implikasie van biobrandstof op proteïen vir diereverbruik.

      Dr Griessel meld duidelikheidshalwe dat in die orde van 200 000 ton sonneblom-oliekoek tradisioneel van 600 000 ton sonne­blomsaad afkomstig is, maar dat produksie gedaal het na 370 000 ton sonneblomsaad, en dat Prof Willemse moontlik verwys na 'n geprojekteerde invoer vir 2007.

      Mnr Potgieter meld dat SAGIS die bedrag van R185/ton gebruik om vervoerkoste in berekening te bring by die bepaling van die invoerpariteitsprys. Me Enslin noem dat hierdie bedrag maandeliks gekontrolleer word, maar dat sy kennis geneem het van Mnr du Plessis se opmerking en verdere ondersoek sal instel. Sy noem ook dat sy in die vorige week se uitgawe van die Sunday Times gelees het dat vraggeldtariewe weens 'n tekort aan skeepsvrag gaan styg.

      Mnr du Plessis noem na aanleiding van die tabel waarin die aantal SAFEX-verhandelinge sedert 1996 aangedui word, dat SAFEX effektief funksioneer, dat 'n opwaartse neiging in die verhandeling van sojabone duidelik waarneembaar is, en dat die verhandeling van sojabone bepaald voortgesit sal word op SAFEX.

      Besluit:

      1. Dat meer betroubare inligting oor soja-oliekoek-invoere by 'n volgende vergadering verskaf word.

        Voorsitter

  9. Produsente-aangeleenthede

    1. KwaZulu-Natal

      1. Super Sojakompetisie – terugvoering

        (Besluit 9.1.1.1 van die notule van die Sojawerkgroep­vergadering gehou op 1 Maart 2007)

        Die Voorsitter rapporteer dat hy en Mnr Deon Joubert, Vise-Voorsitter van die PNS en Voorsitter van die Bemark­ingskomitee wat met hierdie syfers gemoeid is, gesprek gevoer het met die organiseerders van die Super­soja­kompetisie. Hy versoek Mnre du Plessis en Havenga om in hierdie verband terugvoer te lewer. Mnr du Plessis berig dat by die vergadering met Mnre Scholtemeijer en Joubert ooreengekom is dat die praktykvoering op die plaas gebruik sal word om die koste van saad te bepaal en dat 'n gemeenskaplike koste vir al die deelnemers aan die hand hiervan bereken sal word. Daar is bevind dat 'n gemiddeld van tussen 10 en 20% van die saad wat deur al die deelnemers geplant word, nuut-aangekoopte saad is. Deelnemers aan die Super Sojakompetisie wat graan as saad aanwend, sal dus nie deur hierdie praktyk bevoordeel word nie. Hy noem dat die gemiddelde koste van saad, in berekening gebring sal word by die bepaling van die beste opbrengs en bruto marge.

        Die Voorsitter sê die moontlike wanindruk dat die Super­sojakompetisie die terughou van graan as saad in die hand werk is hierdeur effektief aangespreek. Daar word kennis geneem hiervan.

        Besluit:

        1. Dat kennis geneem is dat die PNS nie die praktyk om graan as saad aan te wend ondersteun nie, en dat die Supersoja­kompetisie sodanig aangepas is dat deel­nemende produsente wat hierdie praktyk beoefen, nie bevoordeel sal word deur 'n laer insetkoste ten opsigte van saadaankope nie.

          Lede

      2. Ander – aanplant van oliesade met die oog op ontwikkelende landbou en biobrandstof

        (Besluit 9.1.2.1 van die notule van die Sojawerkgroep­vergadering gehou op 1 Maart 2007)

        Die Voorsitter noem dat die saak rakende die aanplant van oliesade met die oog op ontwikkelende landbou en die pro­duksie van biobrandstof in Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap sal moet oorstaan totdat meer duidelikheid verkry is oor die rol wat sojabone in die plaaslike biobrand­stofbedryf gaan speel. Hy noem dat die vorige Departe­mentshoof van die Departement Landbou in KwaZulu-Natal die mening toegedaan was dat sojabone nie meer vir dié provinsie belangrik is nie. Dr de Kock meld dat daar na berig word 'n forensiese ondersoek na die sake van die Departement ingestel is. Daar word hiervan kennis ge­neem.

        Besluit:

        1. Dat die saak rakende die aanplant van oliesade in Mpu­malanga, KwaZulu-Natal en Oos-Kaap oorstaan tot rege­rings­terugvoer aangaande biobrandstowwe ontvang is.

          Voorsitter
          Mnr Keun

      3. Gesprek met handelsbanke en ander instan­sies insake aanvaarding van sojaboon­kontrakte as verskansing

        (Besluit 9.1.3.1 van die notule van die Sojawerkgroep­vergadering gehou op 1 Maart 2007)

        Die Voorsitter meld dat meer duidelikheid verkry moet word aangaande die vestiging van 'n plaaslike biobrand­stofbedryf alvorens die gesprek met handelsbanke insake aanvaarding van sojaboonkontrakte as verskansing gevoer kan word. Hy noem dat inisiatiewe tans onderweg is om ook met landboumaatskappye, koöperasies, potensiële biobrandstofmaatskappye en finansieringshuise te onder­handel om koopkontrakte te reël waarvolgens finansiering beskikbaar gestel kan word sodat sojabone op die regte tyd geproduseer kan word. Hy onderneem om die vergadering op hoogte te hou van verwikkelinge.

        Besluit:

        1. Dat meer duidelikheid verkry moet word aangaande die vestiging van 'n plaaslike biobrandstofbedryf alvorens die gesprek met handelsbanke insake die aanvaarding van sojaboonkontrakte as verskansing gevoer word, en met ander instansies oor die reël van koopkontrakte vir die finansiering van sojaboon-produksie, onderhandel word.

          Voorsitter

    2. Mpumalanga

      1. Super Sojakompetisie te Mpumalanga

        (Besluit 9.2.1.1 van die notule van die Sojawerkgroep­vergadering gehou op 1 Maart 2007)

        Die Voorsitter lig die vergadering in dat die Supersoja­kompetisie te Mpumalanga nie die huidige seisoen aan­gebied sal word nie, en dat die saak verder gevoer sal word wanneer daar met die betrokke provinsiale regering in gesprek getree word oor die aanplant van oliesade met die oog op ontwikkelende landbou en die produksie van bio­brandstof. Die saak staan dus oor totdat meer duidelikheid verkry is oor die rol wat sojabone in die plaaslike bio­brandstofbedryf gaan speel.

        Besluit:

        1. Dat die saak rakende die moontlike herinstelling van die Super Sojakompetisie te Mpumalanga oorstaan na 'n volgende ver­gadering van die Sojawerkgroep, totdat meer duidelikheid verkry is oor die rol wat sojabone in die plaaslike biobrandstof­bedryf gaan speel.

          Voorsitter
          Mnr Keun

      2. Stikstofbemestingsprobleme by cul­tivarproe­we en elders

        (Besluite 9.2.2.1 en 9.2.2.2 van die notule van die Soja­werkgroepvergadering gehou op 1 Maart 2007 en besluite 22.2 en 22.3 van Raadsnotule van 16 Maart 2007)

        Die Voorsitter lig die Werkgroep in dat die saak rakende die verbouing van sojabone in nuwe grond en die waarneming dat goeie noduleringsresultate met 'Mollyflo Super' behaal is, na die Tegnologiekomitee, wat die volgende week sal vergader, verwys is.

        Die Voorsitter bevraagteken die korrektheid van die omskrywing van Raadsbesluit 22.2 wat lui dat die gehalte-toetsing van rhizobium-bakterieë weer deur die LNR onderneem moet word en dat die protokol van hoe dit gedoen moet word na die Sojawerkgroep verwys word vir bespreking. Hy noem dat Dr Staphorst en sy kollegas by die Nasionale Instituut vir Plantbeskerming (NIPB) in die verlede dergelike toetsing onderneem het. Dr Griessel noem dat Dr Piet Steyn sy kommer uitgespreek het oor die gehalte van die rhizobium wat aan produsente verskaf word, en versoek het dat 'n vergadering met Dr Staphorst, Prof Ströh, Me Jacomina Bloem en die Navorsings­prioriteitskomitee van die OAK gereël word. Mnr Potgieter noem dat dié saak ook by GraanSA se Insette-werkgroep, waar Me Bloem teenwoordig was, te berde gebring is en dat produsente hulle kommer oor die kwaliteit van rhizobium uitgespreek het. Die versoek is uitgespreek dat die kwaliteit van rhizobium op dieselfde basis as dié van kunsmis en saad gemonitor word. Hy meld dat 'n bepaalde protokol gevolg word by monsterneming en –toetsing, en dat dié protokol hier ter sprake is. Mnr Botha noem dat Me Bloem 'n aansoek om befondsing van 'n rhizobium gehalte-toetsingsprojek ingedien het, wat volg op kommer wat deur produsente by GraanSA se Sonneblom- en Sojaboon­werkgroep uitgespreek is dat geen nodulasie plaasvind, hoewel die korrekte metode by die toedien van rhizobium gevolg word. Mnr Keun noem in antwoord op 'n vraag van die Voorsitter dat die aansoek aan die Oliesade Advies­komitee voorgelê sal word vir oorweging.

        Mnr Lübbe noem dat 'n onderskeid getref moet word tussen die twee argumente op die tafel. Enersyds het Dr Steyn versoek dat daar ondersoek ingestel word na WB74 as ras, en of dié tans steeds die beste is vir plaaslike toestande; en andersyds is daar die kwessie dat die twee entstofvervaardigers se produkte nie altyd op standaard is nie.

        Die Voorsitter versoek dat Raadsbesluit 22.2 reggestel word, sodat aangedui word dat aansoek gedoen moet word dat die gehalte-toetsing van rhizobium op 'n gereelde basis deur die LNR onderneem sal word. Hy wys daarop dat die LNR dergelike toetsing op versoek onderneem, en nie tans op 'n deurlopende basis alle monsters toets nie. Die LNR-NIPB het hierdie monsters in die verlede as standaard­praktyk vir die rhizobium-telling getoets. Dr Griessel noem dat 'n verskaffer die LNR wou dagvaar omdat 'n monster as onder-standaard deur die LNR bevind is, maar dat die LNR huiwerig was om die saak in die hof op te neem. Dr de Kock berig dat Dr Piet Steyn, een van die vervaardigers, sy produkte vrywillig op 'n gereelde basis deur die LNR-NIPB laat toets het, maar dat die ander verskaffer dit nooit gedoen het nie. Mnr Potgieter sê dat daar juis versoek is dat die rhizobium-bakterieë net soos kunsmis en saad elke jaar op 'n spesifieke manier getoets word. Hy noem dat wondere gebeur het in die kunsmisbedryf na die open­baarmaking van gehalteverslae. Die Voorsitter sê dat die aansoek om befondsing van 'n rhizobium gehalte-toetsingsprojek oorweeg sal word, en dat daar 'n duidelike onderskeid is tussen die versoek dat die kwaliteit van rhizobium wat in die mark aangebied word, weer onder die loep geneem word, en die gesprek met Dr Steyn en andere oor die aanvaarbaarheid van WB74 as die beste rhizobium-ras wat tans op die mark is.

        Mnr Bührmann noem dat resultate van navorsing wat ongeveer tien jaar gelede onderneem is, daarop gedui het dat WB74 konstant die beste ras is. Heelwat indringende navorsing is deur Drs Strydom en Staphorst op die onderskeie rasse en kwaliteitstandaarde gedoen. Die Voorsitter meld dat ongeveer 70 rasse getoets is voor daar bevind is dat WB74 die beste versoenbaar was met die ras wat in die grond was, en dat alle rhizobiums nie met mekaar verenigbaar is nie. Dr Ian Law het Dr Staphorst opgevolg, maar het vroeër in die jaar afgetree, wat gelei het tot Dr Piet Steyn se kommer oor 'n gebrek aan kundigheid. Dr Law is genader vir sy mening oor die huidige stand van sake m.b.t. rhizobium-rasse wat tans internasionaal gebruik word en het aangedui dat WB74 steeds die beste is vir plaaslike doeleindes. Die Voorsitter meld dat Dr Steyn gevra sal word om bewys te lewer dat nuwe Suid-Amerikaanse rasse dramatiese veranderinge teweeg sal bring voordat oorweging geskenk sal word aan 'n projek in dié verband. Hy sê dat die Raad van die PNS hom daartoe verbind dat sojaboon-navorsing geskoei sal wees op óf laer insetkoste óf hoër inkomste en dat rhizobium in beide gevalle kwalifiseer. Hy doen aan die hand dat Me Bloem se projekaansoek om die befondsing van 'n rhizobium gehalte-toetsingsprojek by die volgende vergadering met die Werk­groep bespreek word. Mnr Potgieter spreek sy kommer uit oor die stoor en hantering van rhizobium deur die middelman wat verkope hanteer, en ook deur produsente. Hy vra of hierdie aspek moontlik ondersoek kan word.

        Mnr Lübbe vra of die negatiewe effek van chloried-bevattende bemesting op enting en nodulering, soos waar­geneem deur Mnr Jaco van Niekerk, nie eerder ondersoek kan word nie. Die Voorsitter meld dat dit hier gaan om die toedien van kalium, en wat as draer gebruik word by dergelike toediening. Indien chloried gebruik word as draer, kom nodulering nie voor nie. Dr de Kock verduidelik dat chloried nadelig is vir die plant en lewende organismes soos rhizobium indien dit in té groot hoeveelhede in die plant se voedingsarea beskikbaar is. Dit is beter om kaliumsulfaat te gebruik in grond wat neig na 'n hoë pH, soos in Mnr van Niekerk se produksiegebied, omdat die pH hierdeur tot 'n mate in bedwang gehou word. Dr Griessel vra hoe vasgestel kan word wat die kalium-draer is wanneer NPK-mengsels gebruik word. Dr de Kock sê dat kaliumchloried gewoonlik in NPK-mengsels gebruik word, en dat die hoeveelheid chloried gewoonlik bepalend is. Mnr van Wyk meld dat hy hierdie jaar in sy proewe peile van kalium wat gewissel het tussen 0 kg/ha, 40 kg/ha en 80 kg/ha toegedien het, en dat hy kaliumchloried gebruik het. Hy kon nie met die oog 'n verskil waarneem in die bindingsknoppies, die hoeveelheid knoppies, en dies meer nie. Hy stem saam met Dr de Kock se stelling dat probleme veroorsaak kan word indien daar 'n groot hoeveelheid kaliumchloried by die bakterieë self voorkom. Mnr Ha­venga meld dat Mnr van Niekerk ook beïnvloed is deur die negatiewe kommentaar van die Amerikaner John Fair op kaliumchloried. Die Voorsitter versoek Mnr van Wyk om aandag te gee aan die invloed van kaliumchloried op nodulering, en meld dat kennis geneem word van die waarneming dat nodulering negatief beïnvloed word deur die toedien van kaliumchloried, hoewel dit nie weten­skaplik bewys is nie.

        Besluit:

        1. Dat Me Bloem se projekaansoek om die befondsing van 'n rhizobium gehalte-toetsingsprojek by die volgende verga­dering met die Werkgroep bespreek sal word.

          Mnr Keun

  10. Navorsing

    1. Nasionale cultivarproewe

      1. Nasionale cultivarproewe 2006/2007

        (Besluit 9.9.1 van notule van die Sojawerkgroep 1 Maart 2007)

        Die Voorsitter meld dat die besprekingspunt 'Navorsing' soos onder die onderskeie provinsies aangedui, betrekking het op cultivarproewe, en vra dat Dr du Plessis terug­voering gee van die stand van sake by die onderskeie proewe. Dr du Plessis sê dat Mnr Erasmus die proewe besoek het en oor volledige inligting van elke proef beskik. Die Voorsitter meld dat 'n skriftelike verslag by 'n volgende vergadering voorgelê sal word, en vra Mnr Erasmus om slegs 'n algemene oorsig van die proewe te gee.

        Mnr Erasmus berig dat die droogte al die proewe beïnvloed het, en dat nodulering ook probleme veroorsaak het, veral op nuwe grond waar sojas nie in die verlede verbou is nie. Stikstof is hier as risikobestuursmaatreël toegedien. Hy noem dat die droëlandproef by Aliwal-Noord baie goeie vegetatiewe groei toon, en dat die proef self baie goed versorg is. Die Bethlehem-proef lyk goed, hoewel droogte-toestande daar voorgekom het, en die besproeiingsproef by Brits is ook goed versorg. Die opkoms by Bothaville was baie swak, omdat die grond tydens plant baie droog was. Daar is nie veel probleme by die proef te Cedara nie. Hy berig voorts dat geen aanplantings by Cornelia gedoen is nie weens die droogte, dat daar nie geplant is by George nie, en dat daar ook nie by Dirkiesdorp geplant is nie omdat die medewerker nie grond beskikbaar gehad het vir die aanplant van proewe nie. Die eerste aanplanting by Dundee was baie swak weens duiweskade en beeste in die lande, en die tweede aanplanting toon rhizobium-probleme.

        Mnr Erasmus sê dat Delmas, Ficksburg, Glen, Kokstad, die Newcastle-proef, Greytown, Groblersdal, die proewe van beide plantdatums in Potchefstroom, Vrede, Vryheid en Wonderfontein goed lyk, dat Frankfort minder droogte gehad as die res van die Vrystaat, en baie goed lyk. Kinross is afgeskryf weens die voorkoms van kwaai reën en hael net na planttyd. Lichtenburg is in baie droë grond aange­plant en hoewel aangedui is dat die proef besproei sou word, is die proef klaarblyklik nie besproei nie met die gevolg dat die proef afgeskryf is. Die oorsaak van die swak opkoms by Lydenburg is onduidelik, en die proef is af­geskryf. Hy bevestig dat die medewerkers in die skriftelike verslag aangedui sal word. Die besproeiingsproef in Rustenburg is nie as besproeiingsproef hanteer nie, en het swak opgekom in droogte-toestande, met swak nodulering. Stikstof is toegedien, die plante het hierna mooier vertoon, en daar is reeds geoes. Die proef by Tsolo in die Oos-Kaap het goed gelyk, maar was vuil. Hierdie proef word hanteer deur die medewerkers wat ook Kokstad en Makambule hanteer, waar die proewe goed lyk. Vaalharts is afgeskryf weens probleme by aanplant. Hy sê dat 40 proewe aangeplant is, waarvan 10% afgeskryf is. Die Voorsitter wys daarop dat daar ten spyte van die slegte jaar resultate van 36 proewe gelewer sal word, en stel die saak oop vir bespreking.

        Mnr Bührmann vra waarom stikstof en nie molibdeen as regstellende bemesting gebruik is nie, aangesien dit op die Hoëveld standaardpraktyk is om molibdeen te bespuit en dat die rhizobium dan onmiddelik in werking gestel word. Mnr Erasmus rapporteer dat hy molibdeen saam met die stikstof toegedien het. Mnr Bührmann noem dat die toe­dien van molibdeen wanneer die rhizobium wél besig is om te ontwikkel, maar tekorte in die bemestingsisteem, die vrugbaarheid van die grond of te veel reën veroorsaak dat die plante vergeel, tot gevolg het dat die plante na toediening binne 'n week pragtig groen vertoon. Die Voorsitter noem dat vergeling van plante met geen nodulering op Vaalharts voorgekom het, dat stikstof toegedien is, en die plante goed herstel het. Mnr Erasmus berig dat daar swak nodulering was by die proewe en dat die rhizobium klaarblyklik nie gewerk het nie.

        Die Voorsitter meld dat die verslag vervat in Bylae H waarnemings wat tydens 'n besoek aan sekere sojaboon­proewe gemaak is, bevat. Mnr Erasmus meld in antwoord op 'n vraag van die Voorsitter dat 'n rywydte van 90cm hoofsaaklik in die proewe gebruik is. Dr Griessel wys daarop dat die riglyne 'n rywydte van 75cm spesifiseer, en beveel aan dat rywydtes by beproei­ingsaanplantings nie meer as 60cm moet wees nie. Hy vra waarom daar afge­wyk word van die voorgeskrewe riglyne van 75cm vir droëlandproewe. Hy is die mening toegedaan dat Gro­blersdal nie 'n geskikte lokaliteit is vir droëlandproewe nie. Dieselfde geld vir Glen, wat der mate aan droogte bloot­gestel is dat droëlandcultivarproewe nie daar uitgevoer kan word nie. Die Voorsitter beaam die opmerking dat die cultivarproewe gerig moet wees op die betrokke omge­wing, en sê dat die saak aangespreek sal word wanneer die riglyne en beginsels van die cultivarproewe vervolgens bespreek word. Mnr Maree meld dat daar nie op Glen droëlandproewe geplant word nie, en daar word ook genoem dat dergelike proewe ook nie op Groblersdal aangeplant word nie.

        Besluit:

        1. Dat kennis geneem word van die mondelinge verslag­gewing oor die besoeke aan die nasionale cultivarproewe.

          Lede

      2. Die doel van nasionale cultivarproewe

        (Besluite 10.1.1 tot 10.1.4 van notule Sojawerkgroep 1 Maart 2007)

        Die Voorsitter hou die stel dokumente vervat in Bylae I aan die vergadering voor. Hy wys op die verwantskap tussen Dr de Kock se handleiding vir die uitvoer van sojaboon­cultivarproewe en die handleiding wat die LNR-IGG aan medewerkers by sojabooncultivarproewe beskikbaarstel. Hy verwys ook na die derde dokument, waarin die bevindinge van 'n komitee wat 25 jaar gelede 'n ondersoek onderneem het na cultivarprogramme by die LNR-IGG te Potchefstroom, vervat is. Dr de Kock noem dat hy by 'n vorige vergadering daarop gewys het dat die statistiese hantering van cultivar-proewe deur die LNR as 100% korrek aanvaar word. Die toepassing van praktykvoering in die proewe lewer egter 'n paar probleme, en hy sou graag daaroor gesprek wou voer. Dr Griessel bevestig die akkuraatheid van die onderskeie statistiese modelle en -metodes wat deur die LNR gebruik word om die proewe te evalueer.

        Die Voorsitter sê die uitvoer van die proewe is die beginsel hier ter sake. Met verwysing na die doel van die culti­varproewe, lees hy voor uit 'n skrywe van Dr Nel wat aandui dat "In the past cultivar trials have always been seen as a measure of the relative performance of cultivars over a wide variety of environmental conditions, and not as a measure of the yield potential for specific locations. However, to do a reliable yield stability analysis and a comparison between cultivars, the yield range amongst localities should be as wide as possible." Hy wys op die stelling wat Dr de Kock in sy handleiding maak wat lui dat 'die doel van die handleiding is om die proewe wat uitgevoer word op 'n nasionale basis te standaardiseer. Ten einde oor lokaliteite en jare te vergelyk moet gepoog word om sover moontlik by die handleiding en proefplan te hou' en vra of die vergadering in die eerste instansie in ooreenstemming is oor die doel van die proewe.

        Die Voorsitter noem dat Dr van der Merwe by 'n vorige vergadering van die Nasionale Sojabooncultivar­evaluasie­komitee gestel het dat een onversorgde proef nie juis betekenisvol is nie, en dat Dr Griessel hiervan verskil het. Hy vra of die opbrengs van 'n onversorgde proef enigsins as betekenisvol beskou kan word, en noem as voorbeeld 'n onversorgde proef wat hy en Dr de Kock besoek het wat uiteindelik 'n opbrengs van 2t/ha gelewer het. Dr de Kock noem dat verwys word na die onversorgde proef te Normandien waar onkruid welig tussen al die rye gegroei het. Hy spreek die oortuiging uit dat dié proef se koëffisiënt van variasie baie laag was, hoewel die resultaat die indruk van 'n voorbeeldproef skep. Hy sê dat dit die rede is waarom die uitvoer van proewe onder die loep geneem moet word, aangesien die proewe geweldig duur is.

        Die Voorsitter spreek sy waardering uit teenoor die drie verteenwoordigers van die LNR-IGG by die vergadering, wat verantwoording moet doen vir 'n saak waarmee hulle min te doen gehad het. Hy noem dat Mnr Erasmus onder baie moeilike omstandighede op 'n laat stadium betrokke geraak het, en beklemtoon die feit dat hierdie 'n beginsel­saak is wat aangespreek word, en nie as persoonlike kritiek beskou moet word nie.

        Die Voorsitter vra of die voorskrifte vervat in die LNR se handleiding nagekom kan word, en ingeligte besluite oor die mees geskikte cultivar vir 'n bepaalde lokaliteit sal bevorder. Dr du Plessis meld dat ondersoek ingestel is na die rede vir die oorspronklike besluit om die rywydtes op 75cm vas te stel. Daar is bevind dat die metodiek vervat in die resultate van die 1979/80 sojabooncultivarproewe aandui dat die persele, waar moontlik, moet bestaan uit vier vyf meter rye met 90cm tussen-ry spasiëring. Later verslae dui ook op 90cm tussen rye, of andersins, soos die medewerker plant en sy planter gestel is. Sy vra of 'n besluit geneem kan word oor die rywydte.

        Mnr van Wyk verduidelik dat die 90cm rywydte sy oorsprong het in die praktyk wat in vroeër jare gevolg is om elke jaar op dieselfde spore te werk en net op sekere plekke los te maak, en dat die rye op spoorverkeer 90cm was. Hy wys daarop dat die wiele van die trekker of die wiele van die planter wat in die proewe gebruik word op die rye sal trap, indien die planter op 75cm gestel word, met die gevolg dat die sojabone nie sal opkom nie, en dat daar om hierdie rede op 'n rywydte van 90cm besluit is. Die Voorsitter sê rywydtes van 90cm of 100cm by lande onder besproeiing is duidelik nie aanvaarbaar nie, maar spreek sy twyfel uit dat die rywydte op droëland werklik saak maak. Mnr Erasmus sê die rywydtes kan verander na 38cm of 45cm op droëland. Mnr Havenga noem dat rywydte van proefaanplantings by 'n produsent bepaal word deur die praktyk wat op die plaas gevoer word.

        Mnr Lübbe meld dat daar tans in die rigting van geen / minimum-bewerkingsera (no-till) beweeg word. Hy dui aan dat Agriocare die siening huldig dat 'n onderskeid tussen die geneties- en nie-geneties gemodifiseerde, die stan­daard en die Roundup Ready boon, getref moet word. Die Roundup Ready boon kan maklik skoongehou word en op droëland met 'n rywydte van 45cm geplant word met 'n plantestand van 300 000 tot 320 000 per hektaar, terwyl die 90cm rywydte behou kan word vir standaardbone. Mnr Lübbe sê dat daar met 'n rywydte van 45cm as 'n algemene riglyn vir grond onder besproeiing volstaan kan word. Mnr Potgieter berig dat die boere in sy gebied in grond onder besproeiing oor die algemeen 45cm rye plant, maar dat 60cm rye ook geplant word. Mnr Cronjé sê die moderne tendens onder boere in die oostelike Hoëveld is om glad nie van 'n planter gebruik te maak nie, maar dat 'n breedwegskoffel en 'n saaikas gebruik word om sojas in 230mm rytjies te plant met 'n konstante plantpopulasie van 300 000 per hektaar. Hy meld dat dit die maklikste verbouingspraktyk is, en grondvog bevorder met goeie ontkieming en merkwaardige opbrengste. Daar is egter nog die meer tradisionele boere wat drie voet of 90cm wydtes plant. Mnr Botma sê dat hy aanvanklik vyf voet rywydtes geplant het, en tans een meter rywydtes plant. Dis belangrik om die plante per hektaar, die beskikbare vog en waar die trekker vastrap in ag te neem. Hy noem dat Roundup Ready-aanplantings nouer rye kan regverdig, maar dat hy dit eers op sandgrond sal beproef om vas te stel wat die opbrengs is. Hy berig dat die opbrengs tussen die vyf voet en een meter rye nie veel verskil het nie. Mnr Bührmann sê dat sommige boere nie bereid is om hulle planters aan te pas nie, dat sommige boere 'n stel planters spesifiek vir die plant van sojas in nouer rye van 45cm, 60cm en 75cm aanhou. Heelwat van die produsente het die aanpassing gemaak om 30 pitte per meter op 'n 75cm rywydte en 30 tot 35 pitte per meter op 'n 90cm rywydte neer te sit, met 'n plantpopulasie van 600 000 per hektaar in gebiede met 'n hoë reënval. Die Voorsitter doen aan die hand dat algemene ooreenstemming bereik word dat daar op 'n rywydte van 90cm onder droëland, en 45cm op grond onder besproeiing standaardiseer word. Dr Griessel be­klemtoon die belangrikheid van standaardisasie, aangesien cultivars nie met mekaar vergelyk kan word indien ry­wydtes en spasiëring tussen rywydtes verskil nie. Mnr Erasmus stel voor dat rywydtes in droëland op 90cm standaardiseer, maar dat 60cm en nie 45cm rywydtes op grond onder besproeiing gebruik word, aangesien die nouer rywydte skoffelbewerking sal bemoeilik. Mnr du Plessis beklemtoon dat 60cm rywydtes nie as standaard by proefaanplantings op medewerkers se plase gebruik kan word nie, aangesien daar by die boer se praktyk aangepas moet word. Hy meld dat proefaanplantings met Roundup Ready probleme sal veroorsaak as die produsent wil spuit. Mnr Erasmus berig dat hy alreeds 'n proef gehad het wat doodgespuit is. Mnr van Wyk vra dat Mnr Erasmus in gedagte hou waar die planterwiele by die plant van die tweede ry loop, alvorens daar op 60cm rywydtes besluit word. Hy meld dat hy tevrede is met rywydtes van 60cm en 90cm indien dit in die praktyk haalbaar is. Mnr Lübbe sê in antwoord op 'n vraag van die Voorsitter dat 45cm rywydtes in verbouing onder geen bewerkingstoestande gebruik word. Daar word kennis geneem dat Roundup Ready aan­plantings in die praktyk gevestig is en voortaan sal toeneem.

        Die Voorsitter noem dat die kwessie van kort-, medium- en lang groeiseisoencultivars en aalwurmweerstandbiedende cultivars wat op dieselfde datum geplant word, hetsy dit 'n koue of warm streek is, nog aangespreek moet word. Hy meld dat die cultivarproewe baie gesofistikeerd geword het, dat die bedoeling is om produsente aan te moedig om meer sojas te plant met hoër opbrengste en laer inset­koste, en vra of dit met die huidige cultivarproewe haalb­aar is.

        Dr Griessel stel voor dat die LNR ondersoek instel na die hoeveelheid besproeiingsproewe en die hoeveelheid droë­land­proewe wat hulle self kan behartig. Hy noem dat dit onmoontlik is om al die proewe twee tot drie keer 'n week met oestyd te besoek ten einde vas te stel of die gewasse oesgereed is. Hy benadruk die kritiese belang hiervan, omdat alle cultivars nie op dieselfde tyd oesgereed is nie. Dit is ook van die uiterste belang dat al die medewerkers volkome toegewyd is, en moeite sal doen omdat hulle kan voordeel trek uit die proewe. Dr Griessel is van mening dat dit onmoontlik is vir die LNR om al 30 cultivarproewe na behore te bestuur. Hy beklemtoon die feit dat dit onaan­genaam is om by herhaling die belangrikheid van grond­monsters te opper, wys op die geweldige koste verbonde aan die cultivarproewe, en onderstreep die noodsaak­likheid om die regte medewerkers betrokke te kry. Mnr Potgieter sê dat die proewe die LNR se verant­woorde­likheid is, dat mede­werkers aan die LNR se vereistes moet voldoen, en dat dit belangrik is om aandag te skenk aan die spesifieke verantwoordelikhede van die medewerker ten opsigte van die proewe. Hierbenewens moet daar na behore toesig gehou word oor die medewerker om te verseker dat hierdie verantwoordelikhede nagekom word.

        Mnr Lübbe wys daarop dat heelwat gedagtes geopper is tydens die bespreking, en vra of finaliteit oor dit wat van die cultivar­proewe vereis word nie by 'n volgende ver­gadering verkry kan word nie. Die Voorsitter sê dat sake wat reeds 'n geruime tyd pla oopgesny is, en dat hy die bevindinge van 25 jaar gelede aangehaal het met die doel om vas te stel of dit wat tóé aanvaarbaar was, steeds geldig is. Hy vra Dr Nel om sy mening te lig. Dr Nel beaam dat die medewerkers problematies is, en dat versoeke om grondmonsters te neem en in te stuur op dowe ore val. Hy sê dat 'n verdere probleem by die sonneblom­cultivar­proewe ontstaan aangesien van die medewerkers die proewe op hul eie koste aangaan en dat dit gevolglik moeilik is om voldoende beheer uit te oefen. Die Voorsitter noem dat die cultivarproewe so goed is as wat die medewerker dit toelaat om te wees, dat die syfers statisties gemanipuleer word en aan die hand hiervan aanbevelings oor geskikte cultivars gedoen word. Hy vra of dit wenslik is om steeds teen wil en dank 30 proewe aan te plant as byvoorbeeld 15 proewe met doeltreffendheid betroubaar volgens die vereiste standaarde beheer kan word. 'n Verdere twee proewe kan met die medewerking van byvoorbeeld saadmaatskappye en landboubesighede aangeplant word, en hoewel minder proewe in plek sal wees, sal die resultate absoluut betroubaar wees.

        Dr de Kock is die mening toegedaan dat daar ter aanvang oor die aantal cultivarproewe en die mees geskikte loka­liteite besluit moet word. Hy vra dat die LNR die hand­leiding wat hy opgestel het onder die loep neem en besluit of hulle die voorstelle daarin vervat kan akkommodeer. Hy sê dat die LNR 'n voorlegging hieroor kan doen, en dat die PNS hulp kan verleen met die identifikasie van en gesprekvoering met die beste medewerkers, aangesien medewerkers dikwels nie bewus is van die belangrikheid van hulle bydrae tot die cultivarproewe nie. Hy opper die moontlikheid dat die PNS dit kan oorweeg om die medewerkers te vergoed. Hy beskou die LNR as die verantwoordelike beampte, en die medewerker as die persoon wat die proef moet beheer en versorg. Indien laasgenoemde nie die boer is nie, word die boer bloot as die verskaffer van fasiliteite beskou. Hoewel die mede­werker die boer kan wees, moet hy bereid wees om die voorskrifte ten volle uit te voer, wat na sy mening nie deur veel boere gedoen kan word nie. Dr de Kock sê hy sal verkies as die medewerker 'n beampte is wat kan verseker dat die proef 100% korrek uitgevoer word. Hy voeg by dat die toestande waar die proef uitgevoer word, absoluut optimaal vir daardie gebied moet wees, andersins sal die proefresultate waardeloos wees.

        Die Voorsitter sê dat nie-noodsaaklike navorsing 'n ding van die verlede is. Hy voorsien dat die behoeftes van groot verbruikers in die kort- tot mediumtermyn bepalend sal wees by die lokaliteit van proefaanplantings. Dr de Kock wys daarop dat cultivarproewe nie dien om optimale praktykvoering in 'n spesifieke gebied vir die boer uit te klaar nie, maar dat 'n cultivarproef 'n vergelyking van cultivars onder die omstandighede in 'n spesifieke loka­liteit is. Na afloop van die proewe kan ingeligte besluite geneem word oor welke verbouingsaspek in welke lokali­teit in 'n ander proef ondersoek moet word. Die Voorsitter noem dat die LNR in die verlede gevra is om sogenaamde demonstrasieproewe uit te voer wat weens personeel­tekorte in die wiele gery is. Dr Griessel verwys na die verslag oor die besoek aan sekere sojabooncultivarproewe, waar 'n kort en baie belangrike opsomming van die aard van sojabone aandui dat: 'Sojabone is 'n gewas wat uit­sluitlik reageer op impulse van die onmiddelike omgewing soos grond- en lugtemperatuur, dagliglengte, grondfauna- en flora, grondvog, ligging ten opsigte van lengte- en breedtegrade ens., en is gevolglik meer kwesbaar as die meeste ander gewasse ten opsigte van aanpasbaarheid.' Hy wys daarop dat dit die rede is hoekom dieselfde cultivar in verskillende areas anders sal presteer, en dat hy dit graag in die cultivarevaluasieproewe sou wou sien. Culti­varproewe moet korrek en goed gedoen word, sodat daar duidelikheid kan wees oor die areas waarop gekonsentreer moet word. Hy is ten gunste daarvan om die boer te kompenseer, moontlik in samewerking met die LNR, omdat dit belangrik is om die regte medewerkers te kry.

        Mnr Potgieter noem dat dit vir hom as produsent belangrik is dat 'n cultivarproef 'n vertoonvenster is van hoe soja­bone kan produseer, en dat 'n spesifieke cultivar ooglopend die beste presteer in daardie lokaliteit. Hoewel dit nie gaan om die beste verbouingspraktyk vir die produsent nie, moet die praktykvoering van so 'n aard wees dat die beste potensiaal van die cultivar duidelik na vore kom. Mnr Cron­jé berig dat hy as produsent reeds vir die afgelope 30 jaar as medewerker van ver­skeie saadmaatskappye betrok­ke is by cultivarproewe, en dat die saadmaatskappye soortge­lyke probleme met medewerkers ervaar het. Die probleem is opgelos deur die medewerkers te versoek om 'n stuk grond voor te berei, met die maatskappy wat op plantdag met die beste toerusting om proewe meganies te plant by die plaas opdaag, en na dié aanplanting afgehandel is, voortbeweeg na 'n aanplanting in die volgende klimaat­streek in die oostelike Hoëveld. Hierna word proewe in warmer dele geplant, en dan word proewe met later plantdatums in die westelike gebiede geplant. Hy meld dat alles op standaard gedoen word, dat die saadmaatskappye hulle eie bemesting en onkruiddoders gebruik en dat die lande ook van perseel tot perseel meganies geoes word deur die saadmaatskappy. Hierbenewens word die pro­dusent teen R400, R450 per hektaar vergoed.

        Die Voorsitter stel Dr du Plessis aan die woord. Sy sê dat 'n nuwe voorlegging oor cultivarproewe voorberei en vir be­spreking aan die volgende vergadering van die Werkgroep voorgelê sal word. Sy is die mening toegedaan dat die saak rakende die cultivarproewe ook by die vergadering van die Cultivarevaluasiekomitee, met al die rolspelers teen­woordig, bespreek moet word. Dr du Plessis berig dat die moratorium op aanstellings by die LNR steeds in plek is, dat sy drie poste aangevra het, en dat een van die poste tydelik goedgekeur is. Die Voorsitter doen aan die hand dat verdere samesprekings oor die beplanning van cultivar­proewe by 'n kleiner vergadering tussen die LNR-IGG, die Proteïennavorsingstigting en die Oliesade Advies­komitee gevoer word. Hy is die mening toegedaan dat heelwat goeie idees tydens die bespreking vorendag gekom het. Hy meld dat dit krities dringend is om finaliteit oor die geskil­punte met betrekking tot die cultivarproewe te bereik voor die volgende vergadering van die Sojawerkgroep op die derde Augustus, sodat die Werkgroep by dié vergadering slegs die fyner detail van die voorlegging oor cultivar­proewe hoef aan te spreek.

        Besluit:

        1. Dat 'n nuwe voorlegging oor cultivarproewe voorberei en vir bespreking aan die volgende vergadering van die Werkgroep voorgelê sal word.

          Dr du Plessis
          Mnr Keun

      3. Gesprek met provinsiale departemente insake Nasionale Cultivarproewe

        (Besluit 10.1.1.1 van notule van Sojawerkgroep 1 Maart 2007)

        Die Voorsitter versoek dat die saak oorstaan tot ná ge­sprekvoering met die Departement van Landbou van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga bewerkstellig is.

        Besluit:

        1. Dat die gesprek met provinsiale departemente insake die Nasionale Cultivarproewe oorstaan tot ná gesprekvoering met die Departemente van Landbou van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga bewerkstellig is.

          Voorsitter
          Mnr Keun

    2. Roes

      1. Inligting vanaf Roestaakspan

        Die Voorsitter lig die vergadering in dat waarnemings van die voorkoms van sojaboonroes aangedui word in Bylae J vir kennisname.

      2. Dr Caldwell – roeskarteringsprojek

        (Besluit 10.3.1.3 van die notule van die Sojawerkgroep 1 Maart 2007)

        Dr de Kock vra of hy met die vergunning van die Voorsitter by 'n volgende vergadering oor Dr Caldwell se roeskarte­ringsprojek verslag kan doen. Die Voorsitter reël dat die saak oorstaan.

        Besluit:

        1. Dat verslaglewering rakende Dr Caldwell se roeskarte­ringsprojek oorstaan na 'n volgende vergadering van die Soja­werk­groep.

          Dr De Kock
          Mnr Keun

    3. Sclerotinia

      1. Proefwerk – terugvoering

        (Besluite 10.3.1.1 en 10.3.1.2 van die Sojawerkgroep 1 Maart 2007)

        Die Voorsitter stel Dr de Kock aan die woord. Dr de Kock berig dat dit nie 'n gunstige jaar was vir die voorkoms van sclerotinia nie, en dat Dr Craven hom meegedeel het dat daar by geen van die proewe, selfs nie by die laatste datum by Greytown, 'n noemenswaardige voorkoms van sclero­tinia was nie. Dieselfde geld vir die proewe wat deur Mnr Henk van der Westhuizen onderneem word.

        Hy berig voorts dat Dr Caldwell se proewe met silika tans onder gekontrolleerde toestande in die glashuis-fase on­derneem word, en dat daar in ooreenstemming met dit wat in die literatuur aangedui word, waargeneem is dat sclerotinia-simptome op die plant afneem namate die d.p.m. toediening van pottassilikaat toeneem. Wat betref die ondersoek na die mees gunstige omstandighede waaronder sclerotinia ontwikkel, is dusver vasgestel dat sclerotinia op sojabone onder omstandighede van 22ºC en 95% relatiewe humiditeit die beste na vore kom. Daar is ook vasgestel dat cultivar LS6626RR die mees vatbare, en cultivar 95B53 die mees tolerante cultivar vir die voorkoms van sclerotinia is. Hy meld dat navorsingsresultate nog in 'n vroeë stadium is. Dr de Kock noem dat Dr Caldwell hierdie proewe ook op sonneblom en grondbone wil doen. Dr Griessel wys daarop dat die voorkoms van sclerotinia in die wiele gery is deur die droogte-toestande wat hierdie seisoen ervaar is.

        Mnr Keun berig dat Mnr Pieterse, die produsent van Koedoeskop, genooi sal word om die volgende vergadering van die Sclerotiniawerkgroep in te lig oor die effektiewe bestuur van sclerotinia.

      2. Lys van goedgekeurde sclerotiniaprojekte

        Die Voorsitter lig die vergadering in dat die lys van goed­gekeurde sclerotinia-projekte vir kennisname ingesluit is as Bylae K.

    4. Sclerotinia

      Die Voorsitter lig die vergadering in dat die lys van goed­gekeurde sojaboonprojekte ingesluit is as Bylae L.

  11. Saad

    1. Terughouding van graan as saad

      Die Voorsitter meld dat die stelling wat Me Eve du Preez namens die saadmaatskappye gemaak het by die ver­gadering wat op 16 Februarie 2007 gehou is om die praktyk om graan as saad terug te hou te bespreek, in Bylae M vervat is. Hy bedank die verteenwoordigers van GraanSA dat hulle die inisiatief geneem het om die gebruik van graan as saad op 'n indringende wyse aan te spreek. Mnr Pietman Botha berig dat 'n vergadering vir 8 Mei gereël is met die saadverwerkers, -telers, -verspreiders en SANSOR met die oog op verdere samesprekings. Die Voorsitter doen aan die hand dat terugvoer in dié verband by 'n volgende vergadering gegee word.

      Besluit:

      1. Dat daar by 'n volgende vergadering van die Soja­werk­groep verdere terugvoer gegee word oor die inisiatief wat GraanSA ten opsigte van die praktyk om graan as saad terug te hou, onderneem het.

        Mnr Keun

  12. Biobrandstof

    1. Draft biofuels industrial strategy of the Republic of South Africa

      (Besluit 12.1.1 van die notule van die Sojawerkgroep 1 Maart 2007)

      Die Voorsitter doen aan die hand dat die saak rakende die vestiging van 'n plaaslike biobrandstofbedryf oorstaan totdat klarigheid verkry is oor die Regering se biobrand­stofstrategie.

      Besluit:

      1. Dat die saak rakende die vestiging van 'n plaaslike bio­brandstofbedryf oorstaan totdat klarigheid verkry is oor die Regering se biobrandstofstrategie.

        Mnr Keun

    2. Aansoek om rabat – vordering

      (Besluit 12.3.1 van die notule van die Sojawerkgroep 1 Maart 2007)

      Die Voorsitter berig dat geen terugvoering ontvang is rakende SASOL se aansoek om 'n rabat nie, en versoek dat die saak oorstaan na 'n volgende vergadering.

      Besluit:

      1. Dat die saak rakende SASOL se aansoek om 'n rabat oorstaan na 'n volgende vergadering.

        Mnr Keun

  13. Tegnologie-oordrag

    1. Inligtingsdae 2007/2008: datums en terug­voering

      Mnr du Plessis noem dat die datums van die Super­soja­kompetisie in KwaZulu-Natal by die volgende vergadering bekendgemaak sal word.

  14. Ander sake

    1. Inligting vir plasing op die webtuiste – nuus­brokkies

      Die Voorsitter herinner die Werkgroep om nuusbrokkies oor interessanthede, nuwe aanstellings en dies meer deur te gee vir plasing op die PNS se webtuiste.

    2. Opname ten opsigte van besoeke aan die PNS-webtuiste

      Die Voorsitter meld dat hy inligting ontvang het wat daarop dui dat dit moeilik is om die PNS se webtuiste op die internet te vind, en dat daar genoem is dat een van die moontlike oplossings sou wees om sleutelwoorde wat tipies verwant sou wees aan die PNS se werksaamhede op die webtuiste te gebruik. Hy vra die Sojawerkgroep om insette in dié verband te lewer.

  15. Datums van volgende vergaderings

    Die volgende vergadering van die Sojawerkgroep is ge­skeduleer vir 3 Augustus 2007.

  16. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank die teenwoordiges vir insette gele­wer. Aangesien daar geen verdere sake vir bespreking is nie, verdaag die Voorsitter die vergadering om 13:40