Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 3 Augustus 2007 in die Raadsaal van die Proteïennavorsingstigting, Rivonia



  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur Mnr AJ van Vuuren.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal welkom by die vergadering van die Sojawerkgroep.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Mnr P Botha GSA
    Mnr J Botma Produsent: Noord Vrystaat
    Mnr D Cronjé Produsent: Mpumalanga
    Dr J de Kock PNS
    Dr H du Plessis LNR-IGG
    Dr M Griessel PNS
    Mnr C Havenga PNS-Kontrakteur
    Mnr L Killian PNS-Kontrakteur
    Mnr ID Lamprecht Mpumalanga: Departement van Land­bou
    Mnr E Maree PNS-Kontrakteur
    Mnr FAS Potgieter GSA
    Me M Scheepers NDL
    Mnr AJ van Vuuren NWK
    Mnr WF van Wyk PNS-Kontrakteur
    Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte
    Me E Harmse Sekretariaat

    Verskonings

    Me R Beukes NDL
    Mnr G Bührmann GW Bührmann Saad
    Mnr CJ du Plessis Produsent: KZN
    Me A Enslin SAGIS
    Mnr J Erasmus LNR-IGG
    Mnr P Lübbe Agriocare

  4. Personalia

    Mnr Jan Erasmus word 'n spoedige herstel toegewens, na sy ernstige operasie.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar, met toevoeging van:

    • Item 10.3.2: Sclerotinia-opnames; en
    • Item 10.4: Nasionale Sojabooncultivarevaluasie­komi­teevergadering.
  6. Notules van die vergadering van 2 Mei 2007

    Besluit:

    1. Dat die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 2 Mei 2007 by 'n volgende vergadering vir goed­keuring oorweeg sal word.
  7. Algemene oorsig

    1. Oesskatting

      Die Voorsitter wys daarop dat 'n meer resente oesskatting as die 26 Junie-skatting soos in die dokumentasie vervat intussen vrygestel is, en neem die nuutste oesskattings­dokument waarin die oesskatting van 25 Julie 2007 aan­gedui word, ter tafel.

      Die Voorsitter noem dat die totale produksieskatting van sojabone 'n afname toon weens 'n geskatte afname in produksie van nage­noeg 2 000 ton en 1 500 ton in die Vrystaat en Gauteng onderskeidelik, en tans op 214 850 ton te staan kom. Hy stel Me Scheepers aan die woord.

      Me Scheepers rapporteer dat die sesde produksieskatting 'n daling van 1,7% in vergelyking met die vorige skatting verteenwoordig, en dat die geskatte oppervlakte beplant onveranderd gelaat is op 183 000 hektaar. Sy meld dat die geskatte opbrengs van 1,17 ton per hektaar 'n daling van 34% teenoor die vorige seisoen se opbrengs van 1,76 ton per hektaar verteenwoordig, terwyl die oppervlakte beplant met nagenoeg 23% afgeneem het van 240 570 hektaar na 183 000 hektaar. Sy wys daarop dat die geskatte totale produksiesyfer met 49% afgeneem het teenoor die vorige jaar se finale oes van 424 000 ton. Me Scheepers noem dat daar beoog word om die totale oesskatting teen Septem­ber te finaliseer.

      Die Voorsitter wys daarop dat die totale lewerings vanaf 1 Januarie 2007 tot 31 Mei 2007 nagenoeg 160 000 ton beloop, terwyl die totale oesverwagting op 214 000 ton te staan kom. Me Scheepers rapporteer dat 'n verder 7 600 ton sojabone in Junie gelewer is, wat die totale lewerings dusver op 172 000 ton te staan bring. Die Voorsitter dui aan dat volgens hierdie syfers ongeveer 40 000 ton nog gelewer moet word. Me Scheepers noem dat 'n verdere 8 na 10% nog gelewer kan word, indien die historiese leweringstendens gevolg word, en wys op die moontlike effek van die terughouding van graan as saad op verdere lewerings. Dr Griessel meld dat nagenoeg 75 kg saad per hektaar vir saaidoeleindes benodig word, wat 15 000 ton van die lewering sal beloop. Mnr Potgieter noem dat 88% van die saad wat die vorige jaar geplant is, volgens die saadmaatskappye teruggehoude graan was. Dr Griessel spreek die gedagte uit dat die 25 000 ton wat nog gelewer moet word, waarskynlik deur die produsente teruggehou word vir veevoer. Mnr Cronjé noem dat produsente die sojabone terughou vir bemarking op 'n later stadium, en word hierin deur die Voorsitter ondersteun. Die Voorsitter reël dat die oesskattings aan die hand van die onderskeie provinsies bespreek word. Hy kom na afloop van die berig­gewing deur die verteenwoordigers van die onderskeie provinsies tot die slotsom dat daar nie veel verskil is tussen SAGIS en die Oesskattingskomitee se inligting nie.

      Besluit:

      1. Dat die vergadering kennis neem van die sesde oppervlak- en oesskattings vir die 2006/2007 seisoen.

        Lede

    2. Provinsies

      1. KwaZulu-Natal

        Mnr Havenga noem dat die sesde produksieskatting van 45 100 ton op ongeveer 2,2 ton per hektaar, bereken op die langtermyngemiddelde, te staan kom. Hy rapporteer dat gebiede soos Bergville en Winterton in die suide van KwaZulu-Natal se opbrengs effe laer was as die vorige sei­soen, wat 'n uitstekende seisoen was. Hy sê dat Norman­dien se gemiddelde opbrengs van 1,6 ton per hektaar heelwat laer is as die vorige seisoen se opbrengs, as gevolg van die kwaai droogte wat tydens Januarie en Februarie in die gebied voorgekom het. Hy is die mening toegedaan dat die produksieskatting realisties is. Mnr Havenga meld dat die sojas klaar gestroop is in KwaZulu-Natal, dat 'n deel van die oes beslis teruggehou word, maar dat dit moeilik sou wees om presies aan te dui hoeveel sojabone teruggehou word.

      2. Mpumalanga

        Mnr Cronjé dui aan dat die sesde produksieskatting van 76 500 ton aanvaarbaar is, en sê dat veral die sterker produsente in gebiede waar redelik goeie mielie-oeste behaal is, van die sojaboon-oes terughou ten einde 'n hoër prys te beding.

      3. Noordwesprovinsie

        Mnr van Vuuren sê dat al die gewasse, met uitsondering van 'n klein hoeveelheid mielies, klaar gestroop is. Hy is die mening toegedaan dat graan teruggehou word vir saai­doeleindes en nie met die oog op bemarking nie, weens die relatief-min opbergingsruimte wat in dié gebied beskikbaar is vir 'n gewas soos sojabone. Hy meen dat die sesde pro­duksieskatting van 18 000 ton realisties is. Mnr Potgieter spreek die gedagte uit dat 'n redelike deel van die oes nog teruggehou word, en sê dat die meeste produsente wat terughou, die sojabone by die landboumaatskappye stoor met die oog op latere verkope. Hy is in ooreenstemming dat daar met die sesde produksieskatting volstaan kan word.

      4. Limpopo

        Mnr Potgieter sê dat produsente in dié gebied waarskynlik ook sojabone terughou met die oog op latere verkope, en dat die beraamde opbrengs van 25 000 ton aanvaarbaar is.

      5. Noord-Kaap

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

      6. Vrystaat

        Mnr Botma berig dat die oeste in die Noord Vrystaat nie bevredigend was nie, en dat die produsente vroeër bemark het, toe 'n goeie prys vir die sojabone behaal kon word. Hy berig dat bemarking vroeër as in vorige jare gedoen is. Mnr Maree berig ten opsigte van die Oos-Vrystaat dat klein pitte wat eers uitgesif moet word voor dit gelewer en deur die koöperasies aanvaar word, groot probleme veroorsaak, en dat heelwat van die produsente ook graan terughou. Hy sê dat heelwat van die sojas wat gestroop sou word, geag is as nie die moeite werd om te stroop nie. Mnr Killian meld dat daar aan 'n verteenwoordiger van Rainbow Nation Renewable Fuels genoem is dat die Vrystaat in 'n normale jaar nagenoeg 60 000 ton sojabone kan lewer. Mnr Maree bevestig dat dié inligting korrek is.

      7. Oos-Kaap

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

      8. Suidwestelike Distrikte

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

      9. Gauteng

        Mnr van Wyk rapporteer dat die situasie in Gauteng oor­eenstem met dié in Mpumalanga.

    3. Weer- en klimaatsvooruitskouing

      Mnr Cronjé noem in antwoord op 'n vraag van die Voor­sitter dat hy berig ontvang het dat die El Niño-verskynsel gewyk het, en dat die seetemperature in die Stille Oseaan-gebied aansienlik laer is. Hy sê dat die vooruitskatting in die algemeen op 'n normale tot effens bo-normale reënval vir die komende seisoen vanaf Desember tot die einde van die somer dui. Hy noem dat die seetemperature in die Indiese Oseaan bepalend is ten opsigte van die voorkoms van vroeë reën, maar dat dit moeilik is om hierdie tem­perature te monitor en die inligting gevolglik nie beskikbaar is nie. Die Voorsitter meld dat hy soortgelyke inligting ontvang het.

    4. Mikpunte: 2010 en 2020

      1. Drie-jaar vooruitskatting

        (Besluit 7.4.1.1 van die vergadering van die Sojawerk­groep gehou op 2 Mei 2007)

        Die Voorsitter meld dat regeringsterugvoer oor die ves­tiging van 'n biobrandstofbedryf in Suid-Afrika steeds afgewag word, en dat daar meer sinvol bespiegel sal kan word oor die pad vorentoe ten opsigte van oppervlaktes, mikpunte en dies meer nadat sodanige terugvoer ontvang is. Hy verwys na die positiewe beriggewing vervat in 'n onlangse koerantartikel "Biodiesel industry can provide thousands of jobs", maar bevraagteken die logika van 'n onlangse stelling gemaak deur Minister Mosibudi Man­gena, dat "lending support to the renewable energy industry might spark an outcry from farmers whose fortunes have waned after the massive cut in state subsidies in post-apartheid South Africa". Hy wys daarop dat produsente toegang sou hê tot 'n groter mark indien die vestiging van 'n plaaslike biobrandstofbedryf gesubsidieer word.

        Die Voorsitter rapporteer dat hy by 'n vergadering van die South African Biofuels Association (SABA) ingelig is dat die finale dokumentasie rakende die voorgestelde regering­strategie ten opsigte van die vestiging van 'n plaaslike biobrandstofbedryf tans by die kabinet dien, en dat 'n aan­duiding van die pad vorentoe binne enkele weke verwag kan word. Hy noem dat Mnr Killian betrokke is by Rainbow Nation Renewable Fuels (RNRF) in die Oos-Kaap, en dat RNRF, soos ook Sasol en andere, wag vir 'n besluit van die regering alvorens voortgegaan word met die inwerkingstel van die biobrandstofbedryf. Die saak staan dus oor.

        Besluit:

        1. Dat regeringsterugvoer oor die vestiging van 'n biobrand­stofbedryf in Suid-Afrika steeds afgewag word, en dat daar meer sinvol bespiegel sal kan word oor die pad vorentoe nadat sodanige terugvoer ontvang is. Die saak rakende die drie-jaar vooruitskatting staan dus oor.

          Mnr Keun

    5. SAGIS

      (Besluit 7.5.1 van die notule van die Sojawerkgroep­vergadering gehou op 1 Maart 2007)

      Die Voorsitter stel die SAGIS-dokumentasie vervat in Bylae C ter tafel, en noem dat die dokumentasie soortgelyk is aan die doku­mentasie wat gewoonlik deur SAGIS voorgelê word. Mnr Potgieter wys op die interessante gegewens vervat in die progressiewe produsentelewerings per produk en per provinsie, soos aangedui in die Maandelikse Bulletin gepubliseer op 25 Junie 2007. Die Voorsitter wys daarop dat 1500 ton sojabone in Gauteng gelewer is, en dat die oesskatting vir Gauteng op 5 000 ton staan, terwyl 36 600 ton van die geskatte 45 100 ton reeds in KwaZulu-Natal gelewer is. Hy sê dat 14 100 van die geskatte 25 000 ton reeds teen einde Mei in Limpopo gelewer is, en dat 63 000 van die geskatte 76 500 ton in Mpumalanga gelewer is. Hy wys daarop dat die lewering van 7 200 ton sojabone in Noord-Kaap die oesskatting van 1 500 ton heelwat oorskry. Hy sê dat die verteenwoordigers van die Noordwes­provinsie se waarneming dat die meeste van die oes reeds gelewer is, korrek is, aangesien 16 000 van die geskatte 18 000 ton reeds gelewer is. Die Voorsitter noem dat die haakplek met lewerings duidelik in die Vrystaat voorkom, waar slegs 19 600 van die geskatte 42 750 ton gelewer is.

      Besluit:

      1. Dat die vergadering kennis neem van die inligting vervat in die SAGIS-dokumentasie.

        Lede

  8. Markaangeleenthede

    1. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

      Die Voorsitter stel Dr Griessel aan die woord. Dr Griessel noem dat die jongste inligting daarop dui dat 120,8m ton sojabone in die noordelike halfrond in 2006-2007 ge­produseer is. Hy sê alle aanduidings is dat hierdie syfer met 16m ton sal daal in 2007-2008, waarvan die grootste daling van nagenoeg 14m ton in die VSA verteenwoordig word deur mielies wat grond van sojabone weggeneem het. In die suidelike halfrond word daar egter verwag dat die produksie vanaf 115,7m ton sal styg na 119,4m ton, wat veroorsaak word deur 'n verhoging van 3m ton in die totale produksie van sojabone in Brazilië. Dr Griessel sê dat die totale wêreldproduksie van sojabone gevolglik met twaalf miljoen ton sal afneem van 236m ton na 224m ton, en dat die verbruik van sojabone na verwagting van 226m ton sal styg na 237m ton in 2007-2008. Waar die eindvoorraad die vorige jaar op 72m ton te staan gekom het, sal die ver­wagte eindvoorraad in 2007-2008 57m ton wees. Hy wys daarop dat dit moeilik is om te bepaal hoeveel van hierdie dalings alreeds in die mark verdiskonteer is, maar spreek die gedagte uit dat die kans dat die sojaboonprys in die toekoms kan styg, groter is as dié van 'n prysdaling.

      Dr Griessel herinner die lede dat by 'n vorige vergadering versoek is dat die aansienlike styging in vervoerkoste in berekening geneem word by die bepaling van die afgeleide produsenteprys vir sojabone, en meld dat hy Epol in dié verband geraadpleeg het. Die verteenwoordiger van Epol het hom ingelig dat daar van padvervoer gebruik gemaak word aangesien spoorvervoer as buitensporig duur beskou word, en dat 'n bedrag van R200/t vir vervoerkoste voor­sien moet word.

      Dr Griessel sê hy het die voorstel dat 'n rente-faktor van twee weke by die gelande prys ingesluit word, in bere­kening geneem, en dat die prys hierdeur met R12/ton gelaai is. Dr Griessel noem dat ongeveer 'n halwe persent verlies voorkom tydens hantering, en dat die halwe persent bereken teen die huidige pryse, ongeveer R12/ton sou beloop. Hy sê dat hy ook 'n verhoogde stoorkoste van 41 sent per dag of R109/ton in berekening gebring het, soos Mnr Cronjé by 'n vroeëre vergadering voorgestel het. Dr Griessel noem dat die produsent R5 meer per ton ver­goed sal word indien die gemelde faktore by die berekening van die afgeleide produsenteprys ingesluit word. Hy ver­duidelik dat die stoorkoste van R109/ton bereken is op 365 dae teen 41 sent per dag, plus die hanteringskoste van R34/ton, oor 'n periode van ses maande. Die lede is in oor­eenstemming dat die aangepaste vervoerkoste, die rente-faktor, die stoorkoste en die verliese tydens hantering in berekening gebring moet word by die bepaling van die afgeleide produsenteprys van sojabone.

      Dr Griessel spreek sy kommer uit oor die verskil tussen die afgeleide produsenteprys van R2 258/t en die huidige SAFEX-prys van nagenoeg R2 760/t vir 1 Augustus, en sê dat dit veel goedkoper sou wees om sojaboonoliekoek in te voer as om volvetsoja te ekstrueer. Hy noem dat daar tans 'n gebrek aan sonneblom beskikbaar vir pers- of invoer­doeleindes is, dat die SAFEX-prys baie naby is aan die invoerpariteitsprys van sojabone, en dat 'n geringe premie betaal sal word omdat die olie-inhoud van ingevoerde sojabone beter is as dié van die plaaslike sojabone. Die Voorsitter noem dat die invoerpariteitsprys van Argentynse sojabone tans op R2 807 te staan kom, en dat Dr Griessel se verduideliking dat daar nie persmateriaal beskikbaar is nie, duidelik ook 'n rol speel waarom die produsent via SAFEX meer sou behaal vir sy produk as die afgeleide pro­dusenteprys volgens Dr Griessel se berekening. Mnr Cronjé noem dat die SAFEX-prys gerealiseer kan word, aangesien daar nie 'n vervoerdifferensiaal is nie. Dr Griessel noem dat verhoogde beskikbaarheid van sonneblom die sojaboon­prys sal afbring na die vlak soos hy bereken het. Die Voorsitter wys daarop dat die produksie van biobrandstof ook 'n invloed sal hê op die prys van sojabone. Mnr Botma berig dat hy 'n maand tevore sojabone teen R2 650 bemark het, en is die mening toegedaan dat die SAFEX-prys verder kan styg. Mnr Killian noem dat 'n verteenwoordiger van Rainbow Nation Renewable Fuels hom ingelig het dat hy sojabone uit die VSA kan invoer teen R2 200/t plus US$34/t vervoerkoste. Dr Griessel wys daarop dat verske­pingskoste van US$34/t nie haalbaar is nie. Die Voorsitter versoek Mnr Killian om die SAGIS invoerpariteits­prys­inligting deur te gee aan die betrokke persoon en by 'n volgende vergadering terugvoer te verskaf.

      Dr Griessel wys daarop dat palmolie die oliesadebedryf sal verstewig, aangesien plantasies palmbome wat drie jaar gelede geplant is, binnekort in volle drag sal wees. Die geweldige tekort aan olie het die oliepryse dramaties ver­hoog, wat tot 'n afname in menslike verbruik gelei het. Hy voer aan dat daar 'n effense verlaging sal wees in oliepryse wanneer die beskikbaarheid van palmolie gedurende die volgende jaar die beskikbaarheid van olie begin beïnvloed. Die Voorsitter meld dat daar toenemend kapasiteit geskep word vir biodiesel wêreldwyd, en bedank Dr Griessel vir die vooruitskatting, gesien ook in die lig van die bykomende olie wat deur palmolie bemoontlik sal word, aangesien son­neblom en sojabone nie uitbreiding toon nie. Mnr Cronjé noem dat die verskil tussen Dr Griessel se berekeninge en die SAFEX-pryse ook te wyte is aan die tekort aan geel­mielies, en dat die relatief-hoë prys van geelmielies tot kompetisie in die mark aanleiding gee en 'n bydraende faktor is tot die prysverskil van nagenoeg R550/t.

      Die Voorsitter berig dat 'n markinligtingsdokument vanaf GraanSA ontvang is, en dat dieselfde syfers in dié doku­ment as deur Dr Griessel gebruik is. Mnr Botha verwys na die groot pryssprong van oliesade soos aangedui in die grafiek op bladsy drie van die dokument, en meld dat sojabone tans op of naby die Argentynse invoerpari­teits­prysvlak verhandel word. Hy sê dat die verhouding tussen die sojaboonprys en die witmielieprys ton vir ton daarop dui dat 0,82 ton sojabone vir 'n ton witmielies aangekoop kan word, terwyl 0,96 ton sojabone vir 'n ton geelmielies aangekoop kan word. Hy verduidelik dat die berekening ten opsigte van sojabone gebaseer is op die SAFEX-prys, ter­wyl die vervoerdifferensiaal van R125/t van die mielieprys afgetrek is. Die Voorsitter reël dat GraanSA se markinlig­tingsdokument aangeheg word by die notule van die vol­gende vergadering.

      Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban soos op 1 Augustus 2007
      Verskeping: R2 425   |   Wisselkoers: R7.19/US$
      Geland Durban 47% proteïen oliekoek 2 425.00 2 425.00
      Padvervoer na Randfontein (per ton) 200.00 200.00
      Rente 2 weke 12.00
      0,5% hanteringsverlies 12.00
      2 625.00 2 649.00
      Waarde van volvetsoja 110% R2 888.00 R2 914.00
      Min koste om sojabone na volvetsojabone te verwerk 635.00 656.00
      – Vervoerkoste na volvet-aanleg 70.00 70.00
      – Stoorkoste 102.00 109.00
      – Rente 12% (6 maande) / 13% (6 maande) 146.00 158.00
      – Ekstrusiekoste 180.00 180.00
      – 5% ekstrusieverlies 137.00 139.00
      Afgeleide produsenteprys vir sojabone – R/ton R2 253.00 R2 258.00

      Besluite:

      1. Dat die SAGIS-invoerpariteitsprysinligting deurgegee word aan Rainbow Nation Renewable Fuels, en by 'n volgende ver­gadering terugvoer hieroor verskaf word.

        Mnr Killian

      2. Dat GraanSA se markinligtingsdokument aangeheg word by die notule van die volgende vergadering.

        Mnr Keun

    2. SAFEX

      (Besluit 8.2.1 van die Sojawerkgroepvergadering-notule 2 Mei 2007)

      Die Voorsitter reël dat die inligting rakende die plaaslike verbruik van oliekoek vanaf 1993/1994 tot 2005/2006, en die inligting oor soja-oliekoekinvoere oorstaan na 'n vol­gende vergadering. Hy meld dat die heel nuutste syfers by die Animal Feed Manufacturers' Association (AFMA) se algemene jaarvergadering vroeg in September beskikbaar gestel sal word, en versoek dat die heel nuutste inligting bygewerk word by die bestaande inligting. Hy wys op die steeds stygende invoere van sojaboonoliekoek, en noem dat Dr Griessel by die volgende vergadering 'n uiteen­setting kan gee van die werklike impak van sojaboonolie­koekinvoere op die plaaslike veevoerbedryf.

      Besluite:

      1. Dat die inligting rakende die plaaslike verbruik van olie­koek vanaf 1993/1994 tot 2005/2006, en die inligting oor soja-oliekoekinvoere, oorstaan na 'n volgende vergader­ing, en dat die heel nuutste inligting bygewerk word by die bestaande inligting.

        Dr Griessel
        Mnr Keun

      2. Dat Dr Griessel by die volgende vergadering 'n uit­een­setting gee van die werklike impak van sojaboonoliekoek­invoere op die plaaslike veevoerbedryf.

        Dr Griessel

  9. Produsente-aangeleenthede

    1. KwaZulu-Natal

      1. Super Sojakompetisie – terugvoering

        Mnr Havenga rapporteer dat die onlangse staats­diens­staking die Super Sojakompetisie met 'n maand vertraag het, aangesien daar nie by die proefstasies gedors is nie, en die ontledings gevolglik nie uitgevoer kon word nie. Hy sê dat al die gegewens egter ingewin is, en dat die data tans verwerk word. Hy meld dat 'n Boeredag in same­werking met die "No till"-klub op 5 September in die Bergville-omgewing aangebied word. Hy verduidelik dat die "No till"-klub betrek is omdat hulle wisselbou met sojabone aanmoedig. Hy rapporteer voorts dat 'n tweede Boeredag op 18 September te Dundee aangebied word, dat die hoofspreker 'n ekonoom van Absa is, en dat 'n produsent van Bergville die vergadering sal toespreek oor "no-till" of die praktyk van geen bewerking. Hy noem dat Mnr Adam Mostert van Sasol ook die dag se verrigtinge sal bywoon, en dat die lede van die Sojawerkgroep ook uitgenooi sal word.

      2. Navorsing

        Die Voorsitter noem dat die saak rakende die aanplant van oliesade met die oog op ontwikkelende landbou en die produksie van biobrandstof in Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, sal moet oorstaan totdat meer duidelikheid verkry is oor die rol wat sojabone in die plaaslike biobrandstofbedryf gaan speel.

        Mnr Havenga noem dat die cultivarproewe te KwaZulu-Natal ook weens die staking vertraag is, met Makhathini se materiaal wat nog uitstaande is. Hy sê dat hy die materiaal van die ander proewe aan Dr du Plessis oorhandig het. Hy rapporteer dat die twee proewe op die proefstasie misluk het, dat die een proef deur hael beskadig is, en dat die grond waarop die ander proef geplant is waarskynlik die vorige jaar met onkruiddoder bespuit is, wat die sojas benadeel het. Mnr Killian noem dat Seedco van Zimbabwe roesbestande lyne beskikbaar gestel het vir proewe wat deur Kim Lawrence onderneem word, en hoewel hierdie lyne aanvanklik helfte van die normale verwagte opbrengs gelewer het, word daar tans soortgelyke opbrengste behaal as met sojabooncultivars soos Prima en Pannar se 660. Mnr Havenga noem dat daar belangstelling getoon is om 'n proefaanplanting te Weenen te doen, en spreek die gedag­te uit dat slegs Roundup Ready cultivars aanvanklik hier aangeplant moet word.

        Besluit:

        1. Dat die saak rakende die aanplant van oliesade in Mpu­malanga, KwaZulu-Natal en Oos-Kaap oorstaan tot rege­rings­terugvoer aangaande biobrandstowwe ontvang is.

          Mnr Keun

    2. Mpumalanga

      1. Super Sojakompetisie te Mpumalanga

        (Besluit 9.2.1.1 van die notule van die Sojawerk­groep­vergadering gehou op 2 Mei 2007)

        Die Voorsitter lig die vergadering in dat die Supersoja­kompetisie te Mpumalanga nie die huidige seisoen aan­gebied sal word nie, en dat die saak verder gevoer sal word wanneer daar met die betrokke provinsiale regering in gesprek getree word oor die aanplant van oliesade met die oog op ontwikkelende landbou en die produksie van bio­brandstof. Die saak staan dus oor totdat meer duidelikheid verkry is oor die rol wat sojabone in die plaaslike biobrand­stofbedryf gaan speel.

        Besluit:

        1. Dat die saak rakende die moontlike herinstelling van die Super Sojakompetisie te Mpumalanga oorstaan na 'n vol­gende ver­gadering van die Sojawerkgroep, totdat meer duidelikheid verkry is oor die rol wat sojabone in die plaaslike biobrandstof­bedryf gaan speel.

          Voorsitter

      2. Navorsing: stikstofbemestingsprobleme by cul­tivarproewe

        (Besluit 9.2.2.1 van die notule van die Sojawerkgroep­vergadering gehou op 2 Mei 2007)

        Die Voorsitter reël op versoek van Dr de Kock dat dié be­sprekingspunt van die agenda verwyder word, aangesien die saak as afgehandel beskou word.

        Besluit:

        1. Dat die saak rakende stikstofbemestingsprobleme te Mpumalanga as afgehandel beskou word.

          Mnr Keun

      3. Navorsing: cultivarproewe

        Mnr van Wyk noem dat die cultivarproewe by Kinross en Lydenburg in Mpumalanga afgeskryf is, maar dat daar by Wonder­fontein en Delmas geoes is. Die proef te Dirkies­dorp is nooit geplant nie, omdat die medewerker nie grond vir die aanplant van proewe beskikbaar gehad het nie. Die Voorsitter doen 'n beroep op die lede van die Sojawerk­groep om die cultivarproewe in hulle betrokke gebiede te besoek.

    3. Noordwesprovinsie

      1. Navorsing

        Mnr van Vuuren rapporteer dat die een cultivarproef wat in die Noordwesprovinsie aangeplant is, afgeskryf is. Hy spreek die hoop uit dat dit nie in die volgende jaar sal ge­beur nie. Mnr Potgieter noem dat die proef te Beestekraal baie mooi was, en dat die proef by Brits reeds geoes is.

    4. Limpopoprovinsie

      1. Navorsing

        Mnr Potgieter rapporteer dat die proef te Koedoeskop en Towoomba in Warmbad klaar geoes en gedors is.

    5. Vrystaat

      1. Navorsing

        Mnr Maree berig ten opsigte van die Vrystaat dat die proef te Ficksburg reeds geoes is, dat die Bethlehem-proef swaar gekry het, maar geoes is, en dat Frankfort ook geoes is. Dr du Plessis noem dat van die proewe nie by die finale cultivarevaluasie­verslag ingesluit sal word nie, aangesien die betrokke medewerker nie die vereiste waarnemings tydens die seisoen gedoen het nie.

    6. Oos-Kaap

      1. Navorsing

        Mnr Killian rapporteer dat die proef by Mqanduli baie goed vertoon het. Dr du Plessis noem dat proefaanplantings ook by Tsolo en Aliwal-Noord gedoen is, en dat daar reeds geoes is by hierdie lokaliteite.

    7. Suidwestelike Distrikte

      1. Navorsing

        Die Voorsitter meld dat 'n aansoek ontvang is om ge­durende die volgende seisoen 'n cultivarproef te George aan te plant.

    8. Gauteng

      1. Navorsing

        Mnr van Wyk noem dat sy proefaanplantings by die Uni­versiteit van Pretoria se proefplaas nie deel vorm van die nasionale cultivarproewe nie.

    9. Noord-Kaap

      1. Navorsing

        Mnr van Wyk meld dat sy demonstrasie-aanplanting by Rietrivier nie as deel van die nasionale cultivarproewe beskou word nie. Die Voorsitter rapporteer dat daar probleme ervaar is by die Vaalharts-proef, met die gevolg dat die proef afgeskryf is.

  10. Navorsing

    1. Nasionale cultivarproewe

      1. Nasionale cultivarproewe 2006/2007

        Die Voorsitter wys daarop dat terugvoer reeds verskaf is oor die stand van sake by die nasionale cultivarproewe 2006/2007 onder die besprekingspunt 'Navorsing' soos onder die onderskeie provinsies aangedui.

      2. Die doel van nasionale cultivarproewe

        (Besluit 10.1.2.1 van Sojawerkgroepnotule van 2 Mei 2007)

        Die Voorsitter herinner die vergadering dat Dr du Plessis by 'n vorige vergadering versoek is om 'n nuwe voorlegging oor cultivarproewe voor te berei vir voorlegging aan die Sojawerkgroep. Hy dui aan dat hy ter aanvang 'n paar probleme wat tradisioneel ervaar word sou wou skets, en doen aan die hand dat daar vervolgens gesprek gevoer word oor die doel van die nasionale cultivarproewe en die pad vorentoe.

        Die Voorsitter verwys na die notule van die Sojaboon­cultivar­evaluasiekomiteevergadering wat die vorige jaar op 6 September gehou is, en meld dat Mnr Gawie de Beer tydens sy verslaggewing 'n aantal tipiese probleme wat tydens die cultivarproewe ervaar is, aangedui het. Hy rapporteer dat die volgende probleme pertinent genoem is:

        • grondontledings het ontbreek;
        • sommige proewe se data en monsters is nie deur die medewerkers ingedien nie;
        • 'n medewerker wat aangedui het dat hy nie bereid is om kommersiële cultivars te plant nie;
        • ontkiemingstoetse was in sommige gevalle proble­maties;
        • plantpopulasie; en
        • proewe is standaard verpak vir 90cm rye.

        Die Voorsitter verwys voorts na probleme wat waargeneem is tydens die besoek wat verteenwoordigers van die PNS aan etlike nasionale cultivarproewe afgelê het, wat insluit:

        • die swak bestuur van besproeiing;
        • 60cm rye wat onder besproeiing aangeplant is;
        • besproeiingsproewe wat ten spyte van besproeiing, nie na wense presteer het nie;
        • dele met swak stand by sommige proewe onder be­sproeiing; en
        • swak stand as gevolg van 'n gebrek aan nodulering.

        Die Voorsitter verwys ook na probleme wat Mnr Jan Eras­mus tydens sy besoeke aan die proewe waargeneem het, waaronder:

        • 'n medewerker wat alreeds sy land volgeplant het, en nie plek gehad het om die proef te plant nie;
        • skade aangerig deur bokke, beeste, tarentale en duiwe;
        • heelwat onkruid in sommige van die proewe; en
        • 'n medewerker wat Roundup Ready-culivars geplant het, en Roundup gespuit het met die gevolg dat die proef dood­gespuit is.

        Die Voorsitter meld dat bogenoemde die tipiese probleme is wat in die verlede met die sojabooncultivarproewe ondervind is. Hy noem dat onlangs gesprek gevoer is met Dr André Nel wat 18 sonneblomproewe met groot sukses op 15 lokaliteite geplant het, en dat die LNR of sélf geplant het, of deur saadmaatskappye, koöperasies en dergelike as medewerkers bygestaan is. Daar is geensins van produ­sente as medewerkers gebruik gemaak nie.

        Met verwysing na die doel van cultivarproewe, haal die Voorsitter Dr Nel se stelling dat "cultivar trials have always been seen as a measure of the relative performance of cultivars over a wide variety of environmental conditions, and not as a measure of the yield potential for specific locations" aan. Hy verwys ook na Dr van der Merwe van die LNR se stelling 'dat die doel van cultivarproewe is om toe te sien hoe die cultivar reageer onder praktyke wat by boere toegepas word, om cultivars met mekaar te vergelyk' en dat 'die ideale cultivar nie die ander produksieprobleme sal oplos nie'. Hy verwys ook na die besluite wat geneem is tydens die vergadering op 6 September, waarvan vroeër melding gemaak is, dat 'n plantpopulasie van 300 000 gehandhaaf moet word, en dat grondmonsters voortydig geneem moet word, sodat kunsmis toegedien kan word om te verseker dat proewe optimaal is. Hy noem ook dat Dr van der Merwe tydens gemelde vergadering voorgestel het dat die cultivarproewe later by 'n ander forum bespreek moet word 'aangesien alle aspekte nog nie bevredigend opgeklaar is nie', en dat Mnr Johann du Plessis voorgestel het dat hierdie besprekingspunt op die sakelys van die volgende vergadering van die Sojabooncultivarevaluasie­komitee geplaas word.

        Die Voorsitter rapporteer dat die verslag wat Mnr van Wyk opgestel het na aanleiding van die besoek wat deur 'n sending van die PNS aan die cultivarproewe afgelê is, ondermeer aandui dat 'inligting wat verkry word van goeie nasionale cultivarproewe en wat verteenwoordigend is in die verskeie klimaatstreke van uitsonderlike belang is vir die bedryf. Sojabone 'n gewas is wat uitsluitlik reageer op impulse van die onmiddelike omgewing soos grond- en lugtemperatuur, dagliglengte, grond fauna en flora, grond­vog, ligging ten opsigte van lengte- en breedtegrade ensovoorts, en is gevolglik meer kwesbaar as die meeste ander gewasse ten opsigte van aanpasbaarheid. Sonder behoorlike cultivarproewe oor 'n wye klimaatsgebied sal nuut-vrygestelde cultivars dit moeilik vind om hulle regmatige plek in 'n cultivarlys in te neem, en kan dit in die afwesigheid daarvan groot finansiële implikasies vir die bedryf inhou'.

        Die Voorsitter noem dat die PNS-Raad meer as 'n jaar gelede besluit het dat sinvolle optrede genoodsaak word sodat deur die plafon in die sojabedryf gebreek kan word, en dat óf laer insetkoste óf hoër opbrengste bewerkstellig moet word. Hy sê dat Mnr van Wyk se verslag ook die geloofwaardigheid van die proewe aanspreek, en stel die vraag of die nasionale cultivarproewe soos dit tans daar uitsien, en die handleiding by die uitvoer van cultivar­proewe, wat deur Dr de Kock opgestel is, steeds sinvol is. Hy wys daarop dat die LNR nie oor die mannekrag beskik om behoorlik toesig te hou by byvoorbeeld 36 lokaliteite nie, en bevraagteken die moontlikheid dat medewerkers al die waarnemings ten opsigte van blomkleur, blomdatum, fisiologiese rypwording, oesrypheid, aantal plante wat om­geval het teen oestyd en dies meer kan maak. Hierbe­newens moet data en monsters versamel en versend word, wat geen geringe taak is nie. Hy sê dat die sojabedryf se pad vorentoe daarvan afhang of die produsent verder bemagtig kan word, en vra of al die onderskeie aspekte van die cultivarproewe werklik saak maak. Hy stel die saak oop vir bespreking.

        Mnr Potgieter wys op die belang van die inligting wat deur die cultivarproewe verskaf word. Hy benadruk dat 'n proef 'n vertoonvenster moet wees van dit wat van sojabone in 'n spesifieke lokaliteit verwag kan word, en dat die prestasie van cultivars belangrik is, omdat dit die produsent se cultivarkeuse bepaal. Mnr Potgieter meld dat produsente nie uit die proewe leer hoe om 'n sojaboonboerdery te hanteer nie. Hy spreek die gedagte uit dat praktykvoering ten opsigte van besproeiing, die toedien van kunsmis, onkruidbeheer, bemesting en dies meer op 'n ander vlak lê. Hy sê dat dit egter wél belangrik is dat die proef aan goeie praktyke moet voldoen, en nie aan die praktyke van die medewerker onderhewig moet wees nie. Mnr Cronjé beklemtoon dat produsente waarde heg aan die benaming 'nasionale cultivarproewe', omdat dit, anders as die saad­maatskappye se proewe, as 'n onafhanklike inisiatief beskou word. Hy benadruk ook dat aanvaarbare bewerk­ings­praktyke by die cultivarproewe toegepas moet word. Hy is die mening toegedaan dat die sojabedryf deur die onafhanklikheid van die cultivarproewe beskerm word, en is in algehele ooreenstemming met Mnr Potgieter se stellings. Mnr Botma sê hy sou graag deur die cultivar­proewe wou sien wat sojas in die gebied waar hy produseer kan doen, en hoe hy op sy praktykvoering kan verbeter. Hy noem dat produsente wat op groot skaal produseer neig om die makliker en nie noodwendig die korrekte praktyk te volg, ook in 'n poging om kostes te sny.

        Mnr van Vuuren stel voor dat die navorsers gelaat moet word om die program na die beste van hulle vermoë te bestuur. Hy noem dat die resultaat van byvoorbeeld die proef wat op Beestekraal onderneem is, net betrekking het op wat op daardie lokaliteit in daardie jaar plaasgevind het. Hy sê die enigste manier waarop hierdie probleem oorkom kan word, 'n nasionale cultivarprogram met insluiting van 'n hele aantal proewe is. Hy vergelyk dit met 'n legkaart waar stukkies inligting aanmekaar gelas word om 'n breër beeld te verkry. Mnr van Vuuren is die mening toegedaan dat cultivars ingevolge die nasionale cultivarproewe slegs met mekaar vergelyk kan word binne 'n breë program, hoewel 'n mate van waarskynlike opbrengs­tendense binne 'n bepaalde gebied ook aangetoon kan word. So kan byvoorbeeld die genetiese opbrengspotensiaal onder 100% korrekte proefomstandighede aangedui word, wat nie noodwendig haalbaar is onder kommersiële omstandig­hede nie. Mnr van Vuuren beaam Mnr Potgieter se stelling dat faktore soos bemesting, onkruid- en plaagbeheer, plantdatums en dies meer as 'n afsonderlike kwessie be­skou moet word, en nie deel vorm van die cultivar­vergelykings wat die oogmerk is van die cultivarproewe nie. Hy sê hoewel die statistieke op 'n verskeidenheid maniere verwerk kan word om 'n sinvolle vergelyking van opbrengsgeneigdheid van verskillende cultivars in geogra­fiese streke te bepaal, waaronder die analise van variansie op die individuele proef, en ook die bepaling van die herhaalbaarheid of akkuraatheid van die spesifieke proef se resultate, 'n enkele proef se resultate niksseggend is. Hy is die mening toegedaan dat resultate eers bruikbaar en betekenisvol word wanneer dit in 'n breë program vervat word, en dat data wat verkry is uit 15 tot 18 verskillende proewe die norm vir 'n sinvolle statistiese verwerking van proefwerk is. Nadat omgewingsinteraksie getoets is kan 'n opbrengsreeks 'n cultivar se geneigdheid om in 'n bepaalde opbrengsgebied bo- of ondergemiddeld te presteer aan­toon, waarna seleksies gedoen kan word. Hy meld ten slotte dat die nasionale cultivarproewe baie waardevol geag word in terme van die objektiwiteit of onverbonden­heid daaraan verbonde.

        Die Voorsitter meld opsommenderwys dat die cultivar­proewe as belangrik beskou word, dat die resultate 'n sekere impak het, maar dat verbeterde produksie nie noodwendig een van die uitsette van die cultivarproewe is nie. Hy spreek die gedagte uit dat hy persoonlik moontlik te veel verwag het van die cultivarproewe in terme van die deurbraak waarna gesoek word. Hy beklemtoon dat alle proewe naastenby dieselfde uitgevoer moet word, sodat resultate sinvol vergelyk kan word. Hy stel die saak oop vir bespreking.

        Dr Griessel sê dat die nasionale cultivarproewe op ver­skillende maniere interpreteer kan word. So byvoorbeeld sal hy in die Koedoeskop-omgewing 'n cultivar­evaluasie­proef wou sien wat behoorlik, reg en goed uitgevoer word. Hy sê hy sal baie meer waarde heg aan 'n proef wat op Koedoeskop uitgevoer en vir twee, drie jaar na mekaar behoorlik uitgevoer is, waar daar 'n lae koeffisiënt van variasie is, juis omdat sojabone so sensitief is vir om­gewingsimpulse. Hy verwys ook na Bethal, waar daar op droëland geproduseer word, waar die omgewingstoestande verskil van dié in Koedoeskop. Dis onaanvaarbaar om te stel dat die koeffiënt van variasie baie laag is op 'n proef waar onkruid voorgekom het, aangesien dit nie op 'n nasionale vlak 'n invloed sal hê nie. Hoewel al die cultivars aan dieselfde omstandighede blootgestel is, is dit nie 'n aanduiding van die werklike opbrengspotensiaal van sojabone nie. Hy stel voor dat proewe aangeplant word by lokaliteite waar sojabone suksesvol geproduseer kan word, en dat die proewe behoorlik uitgevoer word. Hoewel om­gewingstoestande opbrengste jaar na jaar sal beïnvloed, sal kennis ingewin word oor die prestasie van 'n spesifieke cultivar. Mnr Killian wys daarop dat dit heelwat werk verg om 'n proef goed uit te voer, en stem saam met die Voorsitter se stelling dat dit heelwat druk sou plaas op 'n produsent om aan al die vereistes te voldoen. Mnr Ha­venga is die mening toegedaan dat meer soja­cultivar­proewe as mieliecultivarproewe in 'n spesifieke gebied aangeplant moet word, aangesien sojas meer sensitief is vir spesifieke omstandighede. Hy sê medewerkers wat aanbevole praktyke toepas, gekies moet word, en dat 'n produsent vir 'n paar jaar moet deelneem aan die proewe, sodat die gegewens vir 'n spesifieke gebied versamel kan word. Die Voorsitter wys daarop dat dit onprakties sou wees om in elke omgewing twee of drie proewe te herhaal, weens 'n gebrek aan mannekrag. Hy stel Dr du Plessis aan die woord.

        Dr du Plessis verduidelik dat sy die LNR en Dr de Kock se handleidings vergelyk het, en dat daar benewens die grond­ontledings wat deur Dr de Kock gespesifiseer word, nie veel verskil bestaan tussen die twee dokumente nie. Sy noem dat sy die bespreking aan die hand van die loka­liteite, verantwoordelike persone, rywydtes en verbouing onder droëland of onder besproeiing sal voer. Sy meld opsommend dat daar in die vorige jaar beplan is om 40 lokaliteite te beplant, waarvan 36 uiteindelik beplant is, met vyf proewe wat gestaak moes word weens 'n ver­skeidenheid redes. Sy dui ook aan welke proewe self deur die LNR aangeplant is, wie die betrokke medewerkers was, en waar besproeiingsproewe uitgevoer is. Sy bevraag­teken die uitvoerbaarheid van besproeiingsproewe, omdat be­sproeiing volgens 'n skedule gedoen word en waargeneem is dat 'n deel van die land baie water kan kry, en 'n ander deel nie. Sy noem dat dit moeilik sou wees om 'n gestan­daardiseerde resep vir 'n besproeiingsprogram op te stel.

        Dr du Plessis dui op 'n grafiese voorstelling aan waar die 40 lokaliteite tans geleë is, noem dat sestien proewe die minimum sou wees om statisties-vergelykbare data te bekom, en dat 25 lokaliteite verkieslik sou wees, wat 'n speling van nege proewe gee vir skade deur hael, bokke, tarentale, en dies meer. Sy noem dat sy onderskeid getref het tussen koel, matig en warm gebiede, en dat daar bepaal moet word hoeveel droëlandproewe en hoeveel besproeiingsproewe in gemelde gebiede uitgevoer moet word. Sy meld dat die beoogde ligging van biodiesel­aanlegte in gedagte gehou moet word by die bepaling van lokaliteite. Dr du Plessis dui vervolgens op 'n tweede grafiese voorstelling aan welke van die lokaliteite in die warm, koel en matige gebiede na haar mening sinvol is om te behou, hoofsaaklik vanweë goeie medewerkers, of omdat die LNR-IGG self die proef kan beheer en bestuur.

        Die Voorsitter stel Dr du Plessis se vraag rakende die sinvolheid om nasionale cultivarproewe onder besproeiing te plant oop vir bespreking. Dr Griessel sê dat die Koedoeskop / Brits area 'n groot sojaboonproduserende gebied is, met groot opbrengste wat behaal word, en dat proewe bepaald nie net op droëland uitgevoer kan word nie. Hy meld dat daar later besin kan word oor die verskillende tipes besproeiing, soos byvoorbeeld die vloedbesproeiing wat by Vaalharts toegedien word. Mnr van Vuuren herinner die lede dat die proef by Lichtenburg misluk het, omdat dit droog was tydens planttyd, en noem dat natspuitfasiliteite wél by hierdie lokaliteit bestaan ten einde 'n proef nat te spuit tydens droogtetoestande. Hy vra of dit dan as 'n droëlandproef of 'n besproeiingsproef beskou sal word. Die vergadering is dit eens dat be­sproeiingsproewe uitgevoer sal word.

        Dr Griessel vra dat 'n onderskeid getref moet word tussen besproeiing, aanvullende besproeiing, en droëlandproewe. Mnr Havenga is die mening toegedaan dat aanvullende besproeiing op droëland nie méér moet wees as die ge­middelde reënval vir die spesifieke gebied tydens daardie spesifieke tydperk nie. Dr de Kock noem dat planttyd die enigste tyd is wanneer hy droëland sou besproei, en wel sodat die plante kan vestig. Dr du Plessis beaam dat die handleiding spesifiseer dat die grond besproei en beplant kan word sodra die grond genoegsaam afgedroog het, sonder verdere bewerking; of dat die saad in droë grond geplant kan word, en met sprinkelbesproeiing natgemaak word. Sy sê daar word gemaan dat voorsorg teen kors­vorming getref moet word, en dat 'n tweede besproeiing vyf tot sewe dae later benodig mag word om 'n goeie stand te verseker. Dr Griessel wys daarop dat strategiese be­sproeiing uitgevoer kan word in sekere gebiede, soos by­voorbeeld in die Visriviervallei, en dat daar omstandighede is, soos kort voor peulvul, waar water krities belangrik is. 'n Cultivarproef kan ontwerp word vir 'n spesifieke gebied, waar water beskikbaar is om aanvullende besproeiing toe te dien. Dr de Kock noem dat so 'n proef dan as 'n aan­vullende besproeiingsproef gekwalifiseer moet word.

        Mnr Cronjé sê dat die Hoëveld van Mpumalanga in twee klimaatstreke verdeel kan word, naamlik die oostelike gebied, wat 'n koue gebied is, en die deel wes van Bethal, wat as gematig beskou kan word. Hy sou graag 'n addi­sionele proef of twee wou sien in die Ermelo, Morgenzon of Amersfoort-omgewing, omdat daar geweldig baie sojas geplant word in hierdie streke, wat 'n totaal ander klimatologiese streek is as Kinross. Dr du Plessis wys daarop dat daar in dié geval van ván die koue lokaliteite in die Vrystaat weggeneem sal moet word. Die Voorsitter ondersteun Mnr Cronjé se versoek, aangesien Mpumalanga verreweg die grootste produksiegebied van sojabone is. Mnr Maree stel voor dat Frankfort, Reitz, Bethlehem en Ficksburg in die Vrystaat as lokaliteite gekies word.

        Dr du Plessis noem dat sy ten opsigte van die warm gebiede die lokaliteite te Marble Hall en Warmbad uitgelaat het. Mnr Havenga noem dat hy tans kyk na grond by Makhathini wat nie aan versuipingstoestande onderworpe is nie, en onderneem om verdere terugvoer aan Dr du Plessis te gee. Die Voorsitter reël dat die beoogde biodieselaanlegte vir hierdie jaar uit die beplanning gelaat word. Hy sê op navraag van Mnr Killian dat 'n aanplanting van 1 000 hektaar op Addo nie 'n nasionale cultivarproef regverdig nie, veral gesien die LNR se mannekrag-probleme. Daar word na 'n kort samespreking besluit om Vryheid by die proewe in te sluit eerder as Dundee, en dat Lydenburg as lokaliteit oorweeg sal word indien die samewerking van 'n goeie medewerker bekom kan word. Die Voorsitter noem dat die lokaliteite van jaar na jaar aangepas kan word. Mnr van Vuuren vra of Lichtenburg as lokaliteit behou kan word. Mnr van Wyk noem dat hy 'n sojaboonprodusent wat op Lydenburg boer ontmoet het by 'n boeredag te Wonderfontein, en onderneem om met dié persoon in aanraking te tree ten einde sy moontlike samewerking as medewerker te bevestig. Hy noem dat daar heelwat potensiaal is vir sojabone in Lydenburg. Dr de Kock wys daarop dat meer sukses behaal word met cultivarproewe wanneer 'n amptenaar op 'n voltydse basis in samewerking met 'n boer die proewe uitvoer. Dr du Plessis is in ooreenstemming hiermee.

        Mnr Cronjé noem dat die bo-Oranjerivier besproeiings­gebied, net regs van Hopetown en in Lückhoff aan die Vrystaat-kant van die rivier, 'n ontluikende reuse-moontlikheid vir sojaproduksie bied, aangesien die gebied hom by uitstek leen tot direkte beplanting of "no-till", en sê dat sojabone baie goed presteer in 'n wisselbousituasie met koring en mielies in hierdie gebied. Dr de Kock noem dat die Griekwalandwes-koöperasie (GWK) nie juis belangstel in sojabone nie, en meer ingestel is op vinnige gewasse soos mielies, maar dui aan dat hy saamstem dat daar wél 'n hoë potensiaal in dié omgewing is. Die Voorsitter onderneem om weer met GWK in gesprek te tree, ten einde hulle samewerking by 'n cultivarproef in hierdie gebied te bewerkstellig. Hy bevestig dat George ingesluit moet word by die proewe, en lig Dr du Plessis in dat mnr Piet Lombard van die Departement Landbou Wes-Kaap die betrokke medewerker sal wees. Hy bevestig dat die Aliwal-Noord, Kokstad, Tsolo en Umtata-lokaliteite uitgelaat word tot tyd en wyl verdere duidelikheid verkry is oor die vestiging van 'n plaaslike biobrand­stofbedryf en betroubare medewerkers aangewys kan word. Mnr van Wyk wys daarop dat Mnr Cronjé se vraag oor die leemte regs van Kinross en Wonderfontein na Ermelo se kant nog nie beantwoord is nie. Hy meld dat hy die cultivarproef graag in Ermelo sou wou sien. Mnre Cronjé en Van Wyk onderneem om aanbevelings oor geskikte medewerkers aan Dr du Plessis te maak.

        Die Voorsitter neem vervolgens rywydtes onder be­spreking. Dr du Plessis noem dat daar tydens die vorige vergadering melding gemaak is van 90cm rywydtes op droëland en 45cm rywydtes op proewe onder besproeiing, en later ook van 60cm rywydtes. Sy noem dat die planter tot haar beskikking 90cm en 45cm rywydtes kan hanteer, en dat die medewerker op Koedoeskop 60cm rye onder besproeiing plant. Sy noem dat dit in die verlede gestel is dat rywydte nie saak maak nie, solank die plantestand 300 000 tot 320 000 per hektaar is. Die vergadering is in ooreenstemming met die Voorsitter se aanbeveling dat daar by die boer se verkose rywydtes gehou moet word, maar dat dit as sodanig in die verslag aangedui word.

        Dr du Plessis se voorstel dat 25 proewe aangeplant word, word aanvaar. Die Voorsitter versoek Dr du Plessis om die inligting wat verskaf is te verwerk, en in 'n projekvoor­legging wat tydens die volgende vergadering bespreek sal word, in te sluit. Hy bedank Dr du Plessis vir die insette gelewer. Dr du Plessis meld dat sy die projek ook by die Cultivarevaluasiekomitee­vergadering sal voorlê vir bespre­king.

        Besluit:

        1. Dat 'n nuwe voorlegging oor die nasionale sojaboon­cul­tivarevaluasieproewe voorberei en vir bespreking aan die volgende vergadering van die Werkgroep voorgelê sal word.

          Dr du Plessis
          Mnr Keun

      3. Gesprek met provinsiale departemente insake Nasionale Cultivarproewe

        (Besluit 10.1.3.1 van die Sojawerkgroepvergadering notule van 2 Mei 2007)

        Die Voorsitter versoek dat die saak oorstaan tot ná ge­sprekvoering met die Departemente van Landbou van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga bewerkstellig is.

        Besluit:

        1. Dat die gesprek met provinsiale departemente insake die Nasionale Cultivarproewe oorstaan tot ná gesprekvoering met die Departemente van Landbou van van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga bewerkstellig is.

          Mnr Keun

      4. Nasionale Sojabooncultivarevaluasiekomiteevergadering

        Die Voorsitter noem dat die Nasionale Sojabooncultivar­evaluasiekomiteevergadering op 5 September gehou word, en reël dat Mnre Potgieter, Van Wyk en Cronjé die ver­gadering bywoon.

        Besluit:

        1. Dat kennis geneem word dat die Nasionale Sojaboon­culti­varevaluasiekomiteevergadering op 5 September gehou word, en dat Mnre Potgieter, Van Wyk en Cronjé die vergadering sal bywoon.

          Mnr Keun

    2. Roes

      1. Inligting vanaf Sojaboonroeswerkgroep

        Die Voorsitter reël dat die notule van die 2006 vergadering van die Sojaboonroeswerkgroep by die dokumentasie van die volgende Sojawerkgroepvergadering ingesluit sal word. Hy noem dat die volgende vergadering van die Sojaboon­roes­werkgroep op 14 Augustus te Cedara plaasvind, en versoek dat diegene wat belangstel om dié vergadering by te woon, dit met Mnr Keun sal bevestig sodat die relevante dokumentasie beskikbaar gestel kan word.

        Besluit:

        1. Dat die notule van die vorige vergadering van die Soja­boonroeswerkgroep (2006) by die dokumentasie van die volgende Sojawerkgroepvergadering ingesluit sal word.

          Mnr Keun

      2. Dr Caldwell – roeskarteringsprojek

        (Besluit 10.2.2.1 van die notule van die Sojawerk­groepvergadering 2 Mei 2007)

        Dr de Kock noem dat daar by die vergadering van die Soja­boonroeswerkgroep verslag gedoen sal word oor Dr Cald­well se roeskarteringsprojek. Hy versoek dat die bespre­kingspunt van die agenda verwyder word, aangesien hy daaroor sal rapporteer soos en wanneer inligting be­skikbaar is.

        Besluit:

        1. Dat verslaglewering rakende Dr Caldwell se roeskarte­ringsprojek gedoen sal word soos en wanneer inligting beskikbaar gestel word, en dat die saak vir die doeleindes van die agenda as afgehandel beskou word.

          Mnr Keun

    3. Sclerotinia

      1. Proefwerk – terugvoering

        (Besluite 10.3.1.1 en 10.3.1.2 van die Sojawerkgroep 1 Maart 2007)

        Die Voorsitter versoek Dr de Kock om die vergadering vlugtig in te lig oor die onlangse vergadering van die Sclerotinia-werkgroep. Dr de Kock lig die lede in dat die voorkoms van sclerotinia tydens die afgelope seisoen deur die droë klimaat beperk is. Hy rapporteer dat finale verslae ingedien is oor die werk wat te Potchefstroom, Bethlehem en Greytown deur die LNR-IGG onderneem is. Hy noem dat Philagro se proewe onder besproeiing resultate gelewer het, en dat die werkgroep tot op die huidige heelwat geleer het. Hy noem dat 'n middel vir voorkomende en regstel­lende beheer van sclerotinia tans deur die proses van registrasie gaan, en dat die middel teen verminderde dosisse saam met 'n benatter en ook deur die spilpunt toegedien kan word. Middels vir beste beheer vanaf Philagro en moontlik ook BASF is ook geïdentifiseer, maar die regi­strasieproses vorder egter stadig. Hy rapporteer dat die mees vatbare en mees bestande cultivars geïdentifiseer is, en dat cultivars per plek en per siektedruk in rangorde geplaas word. Hy noem voorts dat die silikon-resultate in die veld bevestig moet word, toestande vir optimum-infeksie verder bepaal moet word, die besmet­tingstegniek verder verfyn moet word, en dat kartering van die siekte met behulp van 'n voorspellingsmodel gedoen moet word.

      2. Sclerotinia-opnames

        Dr de Kock meld dat hy die sclerotinia-opnames wat die Oesskattingskomitee onderneem het, graag as 'n aan­gaande projek sou wou sien, maar dat die opnames klaar­blyklik slegs eenmalig die vorige jaar gedoen is. Hy vra die vergadering se ondersteuning tot 'n versoek aan die Oes­skattingskomitee dat die sclerotinia-opnames vir die volgende paar jaar onderneem word, sodat 'n geskiedenis van die voorkoms van die siekte saamgestel kan word. Me Scheepers onderneem om die saak met die Voorsitter van die Oesskattingskomitee op te volg. Die Voorsitter versoek Mnr Keun om 'n skriftelike versoek in dié verband aan die Voorsitter van die Oesskattingskomitee te rig.

        Besluit:

        1. Dat 'n skriftelike versoek om die sclerotinia-opnames vir die volgende paar jaar te onderneem aan die Voorsitter van die Oesskattingskomitee gerig word.

          Mnr Keun

  11. Saad

    1. Terughouding van graan as saad

      (Besluit 11.1.1 van die Sojawerkgroep­vergaderingnotule van 2 Mei 2007)

      Mnr Potgieter rapporteer op versoek van die Voorsitter dat 'n skrywe vanaf Pannar ontvang is rakende die gevare en probleme ver­bonde aan die praktyk om graan as saad terug te hou. Hy meld dat 'n artikel oor die oordrag van siektes weens hierdie praktyk ook in die pyplyn is. Die Voorsitter versoek dat gemelde artikel en skrywe aangeheg word by die dokumentasie van die volgende vergadering. Mnr Botha noem dat die saadmaatskappye aangedui het dat die onwettige handel in saad 'n groter probleem is as die gebruik om graan terug te hou vir saaidoeleindes, en dat Sansor getaak is om 'n werkswyse daar te stel rakende die rapportering van dergelike oortredings. Hy meld dat die persepsie wat onder produsente bestaan dat teruggehoude saad beter produksie lewer as nuwe saad, en die saad­maatskappye se persepsie dat nuwe saad beter potensiaal het as teruggehoude saad, aangespreek sal word deur proewe waar teruggehoude en nuwe saad met mekaar vergelyk sal word. Die Voorsitter sê dat daar aangedui is dat Nooitgedacht moontlik die proewe kan uitvoer, en versoek dat Mnr Botha reël dat 'n aansoek om befondsing van 'n navorsingsprojek in dié verband ingedien word.

      Besluite:

      1. Dat 'n aansoek om befondsing van 'n navorsingsprojek waar teruggehoude en nuwe saad met mekaar vergelyk word, inge­dien sal word.

        Mnr Botha

      2. Dat die skrywe vanaf Pannar rakende die gevare en pro­bleme verbonde aan die praktyk om graan as saad terug te hou, en die artikel oor die oordrag van siektes weens hierdie praktyk wat in SAGraan gepubliseer is, by die stukke van die volgende vergadering aangeheg word.

        Mnr Keun

  12. Biobrandstof

    1. Draft biofuels industrial strategy of the Republic of South Africa

      (Besluit 12.1.1 van die notule van die Sojawerkgroep 2 Mei 2007)

      Die Voorsitter doen aan die hand dat die saak rakende die vestiging van 'n plaaslike biobrandstofbedryf oorstaan totdat klarigheid verkry is oor die Regering se biobrand­stofstrategie.

      Besluit:

      1. Dat die saak rakende die vestiging van 'n plaaslike bio­brandstofbedryf oorstaan totdat klarigheid verkry is oor die Regering se biobrandstofstrategie.

        Mnr Keun

    2. Aansoek om rabat – vordering

      (Besluit 12.2.1 van die notule van die Sojawerk­groep­vergadering van 2 Mei 2007)

      Die Voorsitter verwys na Bylae G, waarin dokumentasie ter bevestiging dat SASOL se aansoek om 'n rabat goedgekeur is met effek vanaf 1 Julie 2008 vervat is. Hy noem dat daar vanaf gemelde datum geen invoerheffing op sojabone vir die produksie van sojaboon­oliekoek met die oog op biodieselvervaardiging sal wees nie. Hy sê dat die veevoer­vervaardigers om dieselfde reëling aansoek moet doen, maar dat geen aanduiding van vordering in dié verband ontvang is nie. Hy reël dat die saak oorstaan tot verdere terugvoer ontvang is.

      Besluit:

      1. Dat die saak rakende die veevoervervaardigers se aan­soek om 'n rabat oorstaan na 'n volgende vergadering.

        Mnr Keun

  13. Tegnologie-oordrag

    1. Inligtingsdae 2007/2008: datums en terug­voering

      Die Voorsitter noem dat die Super Sojakompetisie in KwaZulu-Natal op 5 September te Bergville, en op 18 Sep­tember te Dundee aan­gebied word. Die Sojaboonculti­var­evaluasiekomiteevergadering vind plaas op 5 September, en sal bygewoon word deur Mnre Frans Potgieter, Dries Cronjé en Wessel van Wyk.

  14. Ander sake

    1. Inligting vir plasing op die webtuiste – nuus­brokkies

      Die Voorsitter meld dat die saak rakende nuusbrokkies oor interessanthede, nuwe aanstellings en dies meer onderling hanteer sal word.

    2. Opname ten opsigte van besoeke aan die PNS-webtuiste

      Die Voorsitter noem dat ook hierdie besprekingspunt onderling hanteer sal word.

  15. Datums van volgende vergaderings

    Die volgende vergadering van die Sojawerkgroep is ge­skeduleer vir 4 Oktober 2007.

  16. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank die teenwoordiges vir insette gele­wer. Die vergadering sluit om 13:45.