- 25 OKTOBER 2012
- 25 JULIE 2012
- 3 MEI 2012
- 6 MAART 2012
- 26 JANUARIE 2012
Notule
Sojawerkgroepvergadering
gehou om 10h00 op 25 Julie 2012 by die Quatermain Hotel, Morningside
Opening
Die vergadering word met gebed geopen deur Dr Erhard Briedenhann.
Verwelkoming
Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal welkom by die spesiale vergadering van die Sojawerkgroep, wat jaarliks aangebied word, en waar in besonder gefokus word op sekere navorsingsaspekte ten opsigte van sojaboonverbouing.
Presensie
Teenwoordig
Mnr GJH Scholtemeijer Voorsitter Me R Beukes DLBV Mnr A Boon BASF Mnr J Botma Produsent: Noord-Vrystaat Dr E Briedenhann PNS Mnr L Büchner Profert Mnr H Conradie Produsent: Mpumalanga Me A de Beer LNR-IGG Mnr G de Beer PNS-Kontrakteur Dr J de Kock PNS Mnr CJ du Plessis Produsent: KwaZulu-Natal Dr L du Plessis PNS-Konsultant Dr B Flett LNR-IGG Dr M Griessel PNS Mnr C Havenga PNS Mnr J Henning Universiteit Vrystaat Mnr M Jansen van Rensburg Dept Landbou: Mpumalanga Dr A Jarvie Pannar Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte Mnr S Koster Pioneer Mnr H Kriel Bioworx Mnr R Kuschke KleinKaroosaad Dr S Lamprecht LNR-NIPB Prof N McLaren Universiteit Vrystaat Dr F Meyer BFAP Mnr S Nel Bayer Mnr H Oellerman Pioneer Mnr FAS Potgieter PNS/GraanSA Prof Z Pretorius Universiteit Vrystaat Mnr G Roos Produsent: Mpumalanga Me M Scheepers DLBV Dr Y Tewoldemedhin LNR-NIPB Me J Truter LNR-IGG Dr W Truter Universiteit Pretoria Mnr D Uys Bayer Mnr E van den Bergh Pioneer Dr R van der Merwe Universiteit Vrystaat Mnr D van der Westhuizen Produsent: Mpumalanga Mnr R van Niekerk Agricol Mnr C van Rooyen Landbouweekblad Me R van Vuuren Madumbi Mnr W van Wyk PNS-Kontrakteur Me E Harmse Sekretariaatê Verskonings
Mnr G Buhrmann Mnr M de Klerk Dr J Dreyer Me E Dunlop Me P Fourie Mnr N Hawkins Mnr W Jonker Dr N Kotzé Prof M Labuschagne Mnr C Louw Dr D Marais Mnr E Maree Dr W Otto Mnr J Potgieter Mnr T Prinsloo Prof M Steyn Mnr D Strydom Mnr A Theron Mnr G van den Burgh Dr W van der Walt Mnr H van der Westhuizen Mnr A van Vuuren Mnr S Venter Dr M Visser
Personalia
Mnr Scholtemeijer word terug verwelkom, na sy onlangse oogoperasie.
Vasstelling van die sakelys
Die sakelys word aanvaar sonder enige wysigings of toevoegings.
Goedkeuring van die notule
Notule van die Sojawerkgroepvergadering van 3 Mei 2012 en verwysing na webblad
Besluite:
- Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 3 Mei 2012 word as gelese beskou en goedgekeur.
- Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 3 Mei 2012 word na die Bemarkingskomitee verwys, vir plasing op die webblad van die PNS.
Algemene oorsig
-
Oesskatting
Die Voorsitter neem die dokument rakende die sesde oppervlakteskatting van somergewasse vir 2012, asook die dokument wat Me Beukes in dié verband opgestel het, ter tafel. Hy stel Me Beukes aan die woord.
Me Beukes sê volgens die sesde produksieskatting vir 2012, beloop die oppervlakte beplant met sojabone 472 000 hektaar, terwyl produksie geskat word op 655 700 ton, wat die tweede grootste plaaslike oes nog ooit is. Sy meld dat die sesde produksieskatting 17 850 ton laer is as die vyfde produksieskatting, en ook 54 300 ton minder is, as die vorige seisoen se skatting van 710 000 ton. Sy sê die huidige oes van 655 700 ton is 199 900 ton, of 43,9%, meer as die vorige vyfjaargemiddelde oes van 455 800 ton, en 300 198 ton, of 84,4%, meer as die vorige tienjaargemiddelde oes van 355 502 ton.
Me Beukes rapporteer voorts dat die gemiddelde opbrengs vir 2012 1,39 ton per hektaar, of 18,2%, laer is as die vorige seisoen se gemiddelde opbrengs van 1,70 ton per hektaar. Sy sê die huidige opbrengs is ook 0,34% laer as die vorige vyfjaargemiddelde opbrengs van 1,73 ton per hektaar, en 0,33 ton per hektaar minder as die vorige tienjaargemiddelde opbrengs van 1,72 ton per hektaar.
Me Beukes noem dat die grootste opbrengsafnames voorgekom het in die Vrystaat, waar 8 750 ton minder gestroop is, gevolg deur die Noordwes-provinsie, met 'n afname van 6 300 ton, Kwazulu-Natal, met 'n afname van 1 700 ton, en Limpopo, met 'n afname van 1 100 ton. Sy sê die gemiddelde opbrengs per hektaar in KwaZulu-Natal was 2,40 ton per hektaar, teenoor die gemiddelde opbrengs van 2,71 ton per hektaar wat in 2011 behaal is, terwyl die gemiddelde opbrengs per hektaar in Limpopo afgeneem het vanaf 2,50 ton in 2011 na 2,30 ton in 2012, en dié van Noordwes gedaal het vanaf 2,50 ton per hektaar in 2011 na 1,50 ton per hektaar in 2012.
Me Beukes sê sy het ook interessantheidshalwe 'n tabel saamgestel, wat gebaseer is op inligting wat verskaf is deur produsente, en wat die gemiddelde opbrengste per hektaar in sommige landdrosdistrikte reflekteer. Sy noem dat die grootste afname per hektaar voorgekom het in die Lichtenburgarea, waar opbrengste gedaal het vanaf 1,79 ton per hektaar na 0,85 ton per hektaar, Reitz, waar die opbrengste gedaal het vanaf 1,55 ton per hektaar na 0,72 ton per hektaar, en Brits, waar die opbrengste gedaal het vanaf 2,88 ton per hektaar na 2,08 ton per hektaar. Sy sê hierteenoor het die gemiddelde opbrengste per hektaar in Frankfort gestyg vanaf 1,38 ton in 2011 na 1,45 ton in 2012, in Estcourt, vanaf 3,20 ton na 3,38 ton, en in Middelburg, vanaf 1,43 ton na 2,07 ton.
Mnr Potgieter noem op navraag dat tussen 2,5 ton en 3,5 ton per hektaar die afgelope jaar in die Britsarea onder besproeiing gestroop is, terwyl tussen 4,5 ton en 5,0 ton normaalweg gestroop word. Hy sê die besproeiing was nie voldoende om die stres, wat die droogte die afgelope seisoen tot gevolg gehad het, af te weer nie. Me Beukes noem dat die nasionale gemiddelde opbrengs per hektaar onder besproeiing die afgelope seisoen 3,11 ton was, teenoor die vorige seisoen se gemiddelde opbrengs van 3,42 ton per hektaar.
-
Markaangeleenthede
Die Voorsitter noem dat die publikasie Oil World 'n gesaghebbende oorsig bied van die internasionale oliesadesituasie. Hy sê luidens dié publikasie sal stram wêreldsojaboonvoorrade soja-oliekoekverbruikrantsoenering noodsaak, in die tydperk Julie 2012 tot Februarie 2013.
Die Voorsitter meld verder dat Oil World rapporteer dat vier terugslae die internasionale sojabedryf getref het, te wete die betekenisvolle afname in Suid-Amerikaanse sojaboonproduksie vroeg in 2012, Chinese invoervereistes, wat van krag tot krag gaan, Indiese sojaproduksie, wat gebuk gegaan het onder ontoereikende reënval, en die droogtetoestande in die Verenigde State van Amerika (VSA). Hy sê sojaboonvoorrade sal onder groot druk wees vanaf Augustus 2012 tot vroeg in 2013.
Dr Briedenhann sê die prys van 47% proteïen sojaboonoliekoek, geland te Durban, kom tans te staan op R6 000 per ton, bereken teen 'n wisselkoers van R8,49/US$, met die waarde van volvetsoja wat bereken is op R6 944, en die riglynprys aan produsente op die plaas, soos bereken op 24 Julie 2012, wat te staan kom op R5 721 per ton. Hy noem dat SAFEX tans verhandel teen R5 486 per ton vir Desember-kontrakte, en voeg by dat sojaboonpryse, plaaslik en internasionaal, tans op die voorvoet is. Hy sê na verwagting sal Suid-Afrikaanse sojaboonpryse 'n groter styging toon as dié van internasionale markte.
Die Voorsitter verneem in welke mate die huidige stram plaaslike sojaboonvoorrade en die geweldige sojaboonprysstygings die nuwe en beoogde persaanlegte en sojaboonuitvoere gaan beïnvloed.
Dr Briedenhann rapporteer dat nagenoeg 100 000 ton sojabone uitgevoer is, terwyl vragruimte vir 'n verdere 80 000 ton soja-uitvoere reeds bespreek is. Hy sê plaaslike sojaboonpryse verhandel steeds teen uitvoerpariteit. Hy noem dat die persaanleg te Villiers volstoom voortgaan, terwyl RussellStone en Nobel se persaanlegte na verwagting eers teen die middel van 2013 in werking gestel sal word, en gevolglik nie deur die huidige scenario beïnvloed sal word nie. Hy meld egter dat 'n dramatiese groei in sojaproduksie benodig word, ten einde soortgelyke omstandighede in die volgende jaar die hoof te bied.
Die Voorsitter noem dat die styging in internasionale graan- en oliekoekpryse kommer laat ontstaan het oor voedselpryse. Dr Briedenhann bevestig dat die bedryf dit tans as een van die grootste kwellinge beskou. Hy sê twyfel is uitgespreek dat die mark dié tipe pryse sal aanvaar, wat onder andere tot gevolg gehad het dat verbruiksrantsoenering ingestel is, met die hoop om pryse oor die langer termyn te korrigeer. Hy noem as voorbeeld dat die beskikbaarheid van mielies vir bio-etanolproduksie in die VSA gerantsoeneer word.
Mnr Potgieter is die mening toegedaan dat plaaslike soja-aanplantings gaan toeneem, gesien in die lig van die huidige gunstige termynmarkpryse. Hy sê na verwagting sal meer as 'n half miljoen hektaar sojas aangeplant word, indien die weer sy kant bring en voldoende saad beskikbaar is.
Mnr Du Plessis rapporteer dat die KwaZulu-Natalse produsente wat die afgelope seisoen sojas aangeplant het, baie tevrede is, en voeg by dat dié produsente vir seker meer sojas gaan aanplant. Mnr Van der Westhuizen is die mening toegedaan dat die ekonomie van sojas tans beter is as dié van mielies, maar voeg by dat hy by sy program en persentasies sal bly, aangesien die veefaktor weidings op die mieliereste noodsaak. Hy sê die situasie sou anders gelyk het, indien die droogte nie soveel probleme in die VSA veroorsaak het nie. Hy noem dat hy al klaar begin het om pryse te verskans, vir die volgende produksiejaar.
Mnr Koster is van mening dat meer koring en mielies aangeplant gaan word in die besproeiingskemas, en dat soja-aanplantings min of meer dieselfde sal bly. Mnr Botma spreek die vermoede uit dat soja-aanplantings in die tradisionele mielie-omgewings met nagenoeg 10 tot 15% sal toeneem. Hy sê sojaprodusente in Schweizer-Reneke en omgewing het goeie oeste afgehaal, en beplan om hulle aanplantings uit te brei, ook op marginale gronde.
Mnr Potgieter sê die binnelandse pryse is grootliks afhanklik van die prys van ingevoerde oliekoek. Hy is van mening dat die uitbreiding in plaaslike perskapasiteit produsente onder druk plaas om meer te produseer.
Produsente-aangeleenthede
KwaZulu-Natal
Algemeen
Mnr Du Plessis rapporteer dat die KwaZulu-Natalse oeste laer is as wat die produsente verwag het.
Super Sojakompetisie
Mnr Du Plessis noem dat die Super Sojakompetisie tydens die No-Till Inligtingsdag, wat aangebied word op 5 en 6 September, geloods sal word. Hy sê die opbrengskompetisie het nie werklik van die grond af gekom die afgelope seisoen nie.
Mpumalanga en Gauteng
Algemeen
(Besluit 7.1.4 van die Sojawerkgroepnotule van 3 Mei 2012)
Mnr Roos rapporteer dat die proteïenvlakke van sojabone wat op die Hoëveld geproduseer word, laag bly. Hy sê monsters word aangevra en ontleed, alvorens hy enige sojas aankoop vir prosessering, en voeg by dat produsente wat sny op kunsmistoediening se sojas merkbaar laer proteïenvlakke het.
Mnr Roos noem dat die proteïenvlakke van sojas wat in gebiede soos die Marble Hall-omgewing en Brits verbou word, hoër is, aangesien warmer weer daar ervaar word. Hy sê sy ideaal is proteïenvlakke van 42% en hoër, en voeg by dat hy premies betaal het aan produsente wat sojas van proteïenvlakke van hoër as 40% gelewer het.
Mnr Roos rapporteer dat proteïenvlakke met 2% opgestoot is, deur die toediening van een ton gips per hektaar, en die voor- en na-blombespuiting van kalsium en boor op die plante, in die bemestingsproewe wat op sy plaas uitgevoer is.
Dr Griessel noem dat sojaboontelers nie kan selekteer vir beide hoë proteïen- en hoë olie-inhoud nie. Hy sê produsente moet aanvaar dat hulle sal inboet op produksie, indien hoë proteïenvlakke nagejaag word. Hy noem dat die internasionale mark tevrede is met proteïenvlakke van 38%. Mnr Roos sê goeie proteïen- en olievlakke is gelewer met die cultivar PAN1666.
Die Voorsitter reël dat die bemestingsproewe wat op Mnr Roos se plaas onderneem is, verder bespreek word tydens die volgende Sojawerkgroepvergadering.
Mnr Van der Westhuizen rapporteer dat rooispinnekop plek-plek voorgekom het in Mpumalanga gedurende die afgelope seisoen. Mnr Van Wyk noem dat produsente geflous word, aangesien rooispinnekopbesmetting op die oog af lyk soos droogtekolle. Mnr Koster sê rooispinnekop floreer in hoë temperature, en meld verder dat die misbruik van peretroïedes 'n nadelige uitwerking het op die natuurlike beheer van rooispinnekop. Die Voorsitter reël dat die kwessie rakende die voorkoms van rooispinnekop op sojas in Mpumalanga die afgelope seisoen verwys word na die Tegnologiekomitee.
Besluite:
- Dat die bemestingsproewe wat op Mnr Roos se plaas onderneem is, verder bespreek word tydens die volgende Sojawerkgroepvergadering.
Mnr Roos
Drs De Kock, Dreyer
Sojawerkgroep - Dat die kwessie rakende die voorkoms van rooispinnekop op sojas in Mpumalanga die afgelope seisoen verwys word na die Tegnologiekomitee.
Dr De Kock
Tegnologiekomitee
- Dat die bemestingsproewe wat op Mnr Roos se plaas onderneem is, verder bespreek word tydens die volgende Sojawerkgroepvergadering.
Super Sojakompetisie: Wonderfontein
Die saak rakende die strukturering van die Wonderfonteinse Super Sojakompetisie word as afgehandel beskou.
Noordwes- en Limpopoprovinsie
Algemeen
Mnr Potgieter rapporteer dat besproeiingstelsels produsente in die steek gelaat het, gedurende die afgelope seisoen se hittetoestande.
Vrystaat
Algemeen
(Besluit 9.4.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 3 Mei 2012)
Mnr Botma rapporteer dat die droogte opbrengste geknou het, veral in die voormalige Wes-Transvaal. Hy sê 'n nuwe toetreder, wat in die omgewing van Hoopstad boer, het opbrengste van meer as twee ton per hektaar behaal, ongeag die feit dat die ryp tot 'n half ton per hektaar se graanverliese tot gevolg gehad het. Hy noem dat sojaverbouing in dié gebied beslis sal uitbrei. Hy sê die stroopprobleme wat op die sanderige gronde voorgekom het, word hanteer deur nuwe tegnologie in te span.
Mnr Botma noem dat produsente wat op watertafelgronde boer, kennis geneem het van die voordele wat sojabone bied in 'n wisselboustelsel met mielies. Hy sê 'n opbrengsverhoging van tussen 1,6 en 2,0 ton mielies per hektaar is behaal, nadat sojas op die land geplant is.
Mnr Oellerman noem dat opbrengste in veral Bethlehem, Reitz, Clarens en Harrismith erg geknou is deur die droogte. Hy spreek die vermoede uit dat soja-aanplantings in daardie gebiede gaan toeneem. Hy sê enkele gevalle van rooispinnekopbesmetting is ook in die Oos-Vrystaat aangemeld.
Mnr Potgieter noem dat 'n behoefte uitgespreek is vir sojabemestingsinligting, veral deur produsente wat in die omgewing van Bothaville boer, gedurende 'n vergadering van GraanSA se Sojaspesialiswerkgroep. Me De Beer rapporteer dat die Sojaverbouingshandleiding voor die aanvang van die komende produksieseisoen beskikbaar gestel sal word.
Die Voorsitter reël dat die besluit rakende Mnr Gert Engelbrecht oorstaan.
Besluit:
- Dat kennis geneem word dat besoek afgelê sal word by Mnr Gert Engelbrecht, wat tussen Hoopstad en Bloemhof boer, met die oog daarop om 'n generiese artikel oor Mnr Engelbrecht se wenresep vir sojaverbouing onder be-sproeiing te publiseer.
Dr Dreyer
Mnr Louw
Sojawerkgroep
Tegnologiekomitee
-
Oos-Kaap, Noord-Kaap en Suidwestelike Distrikte
Algemeen
Geen verslaglewering.
Algemeen
Geen verslaglewering.
Navorsing
Nasionale cultivarproewe
Nasionale cultivarproewe 2011-2012
(Besluit 10.1.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 3 Mei 2012)
Daar word kennis geneem van die inligtingstuk getitel "Yield reliability", wat saamgestel is deur Me De Beer.
Me De Beer rapporteer dat die droogte, asook die vroeë ryp, wat voorgekom het in sekere gebiede, skade aangerig het op van die nasionale cultivarevaluasieproewe. Sy sê resultate is ontvang vanaf al die lokaliteite waar proewe geplant is, en voeg by dat die data verwerk sal word, sodra die resultate van die proteïen- en olie-ontledings beskikbaar gestel word. Sy bevestig dat die cultivarproewe goed verloop het, ongeag die teenspoed wat weersomstandighede tot gevolg gehad het.
Biobrandstowwe
Daar word kennis geneem van die dokument "Nuusberigte en tendense in die biobrandstof- en oliesadebedryf, Tweede Kwartaal, 1 April to 30 Junie 2012", wat saamgestel is deur Dr Lourens du Plessis.
Dr Du Plessis vind dit interessant dat sojaboonolie sedert 2010 as die hoofbron vir biodiesel aangewend word. Dr De Kock sê hy was onder die indruk dat biodiesel uit raapsaadolie meer bruikbaar is in die koue dele van Europa, aangesien dit 'n laer stollingstemperatuur het. Dr Du Plessis noem dat biodiesel uit soja-olie ook 'n lae stollingstemperatuur het, hoewel die stabiliteit daarvan swakker is as dié van raapsaadolie.
Macrophomina (Charcoal rot)
(Besluit 10.9.1 van die Sojawerkgroepnotule van 3 Mei 2012)
Dr Lamprecht rapporteer dat die pamflet oor Macrophomina beskikbaar gestel sal word, sodra 'n goeie foto of twee van Macrophominabesmetting bekom is.
Besluit:
- Dat kennis geneem word dat 'n pamflet oor Macrophomina (charcoal rot) eersdaags beskikbaar gestel sal word.
Dr Lamprecht
Sojawerkgroep
Tegnologiekomitee
Saad
Die Voorsitter verneem om welke rede die plaaslike saadmaatskappye altyd te min saad beskikbaar stel.
Dr Jarvie sê dit is moeilik om vooruitskattings te doen van die hoeveelheid saad wat aangekoop sal word gedurende 'n volgende produksieseisoen. Hy noem dat Pannar die vorige jaar meer saad as ooit vantevore beskikbaar gestel het, en dat daardie hoeveelheid nog steeds onvoldoende was.
Mnr Oellerman noem dat surplussaad nie gestoor kan word tot die volgende seisoen nie. Hy sê Pioneer het ook die vorige jaar meer saad geproduseer as in vorige jare. Hy meld dat beplan word om 'n 50:50 verhouding te bewerkstellig tussen die aanplanting van nuwe saad en dié van teruggehoude graan as saad.
Dr Jarvie sê die internasionale norm vir die opbrengsverhoging wat gepaard gaan met die genetiese verbetering van saad is tussen 1 en 2%. Mnr Van der Westhuizen noem dat sekere Suid-Amerikaanse cultivars, wat die afgelope jaar in proewe aangeplant is, aansienlik beter presteer het as die cultivars wat tans plaaslik beskikbaar is.
Die Voorsitter noem dat die PNS reeds die nodige aanvoorwerk gedoen het met die betrokke internasionale saadmaatskappye, wat bevestig het dat hulle cultivars sal inskryf vir die nasionale cultivarevaluasieproewe.
Dr Jarvie sê die meeste plaaslike saadmaatskappye voer variëteite in vir plaaslike evaluering. Hy noem dat Pannar oor die 400 variëteite invoer, onder andere ook van Argentinië en Brasilië. Hy sê van die cultivars wat Pannar tans aanbied, het hul oorsprong in die VSA of Suid-Amerika.
Mnr Van Niekerk rapporteer dat Agricol beoog om saad te vermeerder van cultivars wat in die afgelope produksiejaar in die cultivarproewe evalueer is, en meld verder dat dié saad kommersieel beskikbaar sal wees in 2013.
Tegnologie-oordrag
Inligtingsdae 2012: Datums, terugvoering en reklame
Kennis word geneem van die volgende inligtingsdae:
5-6 September "No-Till" Inligtingsdag, Drakensville
Wisselbou: Terugvoering
Mnr Potgieter sê Mnr Pietman Botha het 'n voorlegging aangebied oor wisselbou, tydens 'n byeenkoms van GraanSA-lede. Hy noem dat Mnr Louw terugvoering daaroor sal verskaf.
Besluit:
- Dat terugvoering ingewag word, na aanleiding van die voorlegging wat Mnr Pietman Botha in dié verband aangebied het tydens 'n byeenkoms van GraanSA-lede.
Mnr Louw
Sojawerkgroep
Ander sake
Inligting vir plasing op die webblad – Nuusbrokkies en kleurfoto's
Die Voorsitter doen 'n beroep op die lede om interessante inligting en kleurfoto's beskikbaar te stel, met die oog op plasing daarvan op die PNS-webtuiste.
Artikels
Daar word kennis geneem van die verslag "Report of the South African Poultry Association Management Committee's Chairperson 2011", en die artikels "Is it time to plant soybeans?", "Soybean row spacing: wide or narrow", "The smaller the better", "Soybean planting and dry soils", "Soybean prices: a roller coaster", "Sudden death syndrome a risk when planting soybeans early into cool soils", "Grain by grain", "Green light", "Hoe groot (of klein) gaan die oliesaadoeste wees?", "Sojabone" en "Tent bursting at its seams".
Sprekers: volgende vergadering
Dr De Kock bevestig dat 'n aantal persone gelys is as moontlike sprekers tydens toekomstige Sojawerkgroepvergaderings, maar doen ook 'n beroep op die lede om die name van sprekers oor interessante onderwerpe aan hom beskikbaar te stel.
Roesvangerproewe
Dr De Kock stel Mnr De Beer aan die woord om die vergadering in te lig oor die roesvangerproewe wat aangeplant is in die 2011-2012 seisoen.
Mnr De Beer sê die roesvangerproewe dien as 'n vroeë waarskuwingstelsel vir die voorkoms van roesbesmetting by tien lokaliteite, wat verteenwoordigend is van die belangrikste plaaslike sojaboonproduksiegebiede. Hy verskaf 'n oorsig van die lokaliteite waar die proewe aangeplant is, en die onderskeie medewerkers wat daarby betrokke is. Hy rapporteer ook oor die datums waarop roesbesmetting waargeneem is by die onderskeie lokaliteite.
Mnr De Beer verskaf 'n oorsig van die voorkoms van roesbesmetting oor die afgelope drie produksieseisoene. Hy sê gedurende die vorige produksieseisoen het heelwat reën neergesak, en het roesbesmetting slegs in KwaZulu-Natal voorgekom. Hy noem dat die afgelope produksieseisoen hierteenoor warm en droog was, met roesbesmetting wat waargeneem is by al die lokaliteite, met uitsondering van die lokaliteit te Winterton.
Mnr De Beer noem dat geen roesbesmetting die afgelope drie jaar voorgekom het te Winterton nie. Hy sê dit is vir hom onduidelik of dit te danke is aan die koeler lokaliteit, of te wyte is aan monsterneming. Hy meld verder dat die lokaliteit te Normandien nie in die toekoms beskikbaar sal wees nie, en dat 'n ander lokaliteit identifiseer sal moet word.
Dr De Kock stel die geleentheid vir vrae en opmerkings. Prof Pretorius sê dit is onduidelik om welke rede geen roesbesmetting waargeneem is by Winterton nie, aangesien ander siektes op ander gewasse in daardie gebied voorkom, en die lokaliteit gevolglik nie die oorsaaklike rede kan wees nie.
Mnr Du Plessis noem dat baie van die Kwazulu-Natalse produsente in ieder geval voorkomend spuit teen die siekte, en doen aan die hand dat van die lokaliteite geskuif word na ander produksiegebiede, veral gesien teen die agtergrond van die toename in sojaverbouing in die Vrystaat en ander provinsies.
Mnr Potgieter spreek sy dank uit teenoor die befondsers van die projek, en voeg by dat die inligting voortspruitend uit die projek van onskatbare waarde is vir die produsente. Dr Jarvie is in ooreenstemming dat die roesvangerproewe 'n belangrike deel vorm van die siektebeheerstrategie.
Prof McLaren bevraagteken die waarde van 'n lokaliteit te Potchefstroom, gesien in die lig van die feit dat roesbesmetting eers teen die einde van Maart, indien enigsins, daar waargeneem word.
Prof Pretorius sê indien daar 'n waarskynlikheid is dat roes epidemiese vlakke sal bereik in 'n sekere gebied, moet die nodige monitering gereeld onderneem word, en moet die roesvangerproewe voortgaan. Hy meld egter dat produsente waarde moet vind by die proewe, en sê kommentaar word in die bedryf gelewer oor die feit dat die roesvangerproewe slegs as 'n kwalitatiewe aanmelding beskou kan word. Hy sê 'n mate van paniek kan ontstaan by produsente, wat nie goed ingelig is nie, en wat dan onnodig geld mag spandeer op voorkomende bespuiting.
Mnr Botma is die mening toegedaan dat veral nuwe toetreders kan baat by inligting oor die wyse waarop die verspreiding van roes voorkom kan word. Hy sê syns insiens moet die roesvangerproewe voortgesit word, met die oog op monitering en voorkomende aksies.
Invloed van roes op verskillende genotipes
Dr De Kock stel Prof McLaren aan die woord om die vergadering in te lig oor die navorsing wat hy onderneem het by die roesvangerproewe.
Prof McLaren sê daar is tydens 'n vorige vergadering verneem welke vlak van roesbesmetting sou voorkom en welke mate van opbrengsverliese daarmee assosieer sou kon word, indien die roesvangerproewe nie gespuit word, nadat roesbesmetting daar waargeneem is nie.
Prof McLaren verskaf 'n oorsig van die metodes wat gevolg is tydens die navorsing, wat onderneem is by die lokaliteite te Vryheid, Normandien en Dirkiesdorp.
Prof McLaren rapporteer dat 'n merkbare verskil in opbrengste aangeteken is by die proewe wat op 'n vroeë stadium van roesbesmetting bespuit is, terwyl opbrengsverliese heelwat laer was, by die lokaliteite waar roes laat in die seisoen posgevat het.
Prof McLaren rapporteer dat hy die lokaliteit te Vryheid besoek het, net nadat roes daar waargeneem is en die proef bespuit is. Hy sê dit het voorgekom asof die roesbesmetting uiters gering was. Hy meld verder dat hy die proef weer drie weke later besoek het, en dat die roesbesmetting steeds beperk was. Hy sê dit het die vraag laat onstaan of die bespuiting siektebeheer of groeistimulasie in die hand gewerk het. Hy noem dat 'n studie oor groeistimulasie deur die gebruik van swamdoders dalk geregverdig mag wees. Hy sê dit sou ook gewens wees om produsente daarop attent te maak dat bespuiting nie noodwendig geregverdig sou wees, indien roesbesmetting op 'n laat stadium sou voorkom nie.
Prof De Kock stel die geleentheid vir kommentaar. Dr Jarvie noem dat hy die sogenaamde vergroeningseffek van gereelde bespuiting in Zambië waargeneem het, waar groenstam en traagheid om uit te droog voor oes probleme tot gevolg gehad het. Dr Flett sê hy bevraagteken die gewenstheid van profilaktiese bespuiting in die algemeen, aangesien voldoende kennis nie beskikbaar is oor die langtermyngevolge van dergelike bespuiting nie. Hy is van mening dat profilaktiese bespuiting moontlik verskuilde gevare mag inhou.
Dr Griessel sê die feit is dat die proewe bewys het dat tot soveel as 'n 30% opbrengsverhoging bewerkstellig is, op die proewe wat bespuit is, teenoor dié wat nie bespuit is nie. Hy noem dat sulke data van ekonomiese belang is vir die produsent, en dat dit gevolglik nie noodwendig daaroor gaan of die swamdoder die siekte beheer, of groei gestimuleer het nie.
Mnr Kriel noem dat biologiese lewe in die grond benadeel kan word deur onoordeelkundige bespuiting, en dat dit in die langtermyn heelwat nadelige effekte kan hê. Hy sê daar moet gespuit word wanneer dit nodig is, en nie as voorkomende maatreël nie.
Mnr Uys verneem of dit moontlik is om grondgesondheid te bepaal. Dr Lamprecht noem dat dit nie 'n maklike proses is nie, aangesien daar steeds nie volkome duidelikheid is oor wat die indikators vir grondgesondheid is nie. Sy is die mening toegedaan dat daar spesifieke indikators is vir die onderskeie gewasse.
Dr Lamprecht opper die moontlikheid dat roesbesmetting nie die afgelope paar jaar waargeneem is by die lokaliteit te Winterton nie, aangesien die lokaliteit geleë is op 'n plaas met 'n lang geskiedenis van bewaringsboerdery. Mnr De Beer noem dat die lokaliteit te Kinross ook in só 'n boerderypraktyk aangeplant word, maar dat daar wél roes voorgekom het.
Prof McLaren sê dit is duidelik dat die vangerproewe voortgesit moet word.
Prof Pretorius verneem of die sojabedryf spesifieke behoeftes het in terme van roesnavorsing. Hy sê moontlik kan die navorsers 'n bydrae lewer aan die genetiese kant.
Mnr Roos doen aan die hand dat die moontlike nadelige uitwerking van onoordeelkundige bespuiting op grond nagevors word. Dr Lamprecht is die mening toegedaan dat beweeg moet word in die rigting van genetiese weerstandbiedendheid by sojacultivars, aangesien dit onnodige bespuiting sal bekamp. Dr De Kock sê tot dusver is daar op internasionale vlak nog nie beduidende sukses behaal met weerstandsteling nie, aangesien die patogeen vinnig aanpas. Dr Jarvie noem dat 'n patent klaarblyklik in die VSA geregistreer gaan word oor weerstand, wat ingeteel is deur stapelgene te gebruik. Dr De Kock doen aan die hand dat 'n literatuurstudie onderneem word oor die vordering wat behaal is met roesweerstandbiedendheid in sojacultivars.
Dr De Kock sê die Tegnologiekomitee sal gesprek voer oor die kwessie dat roesbesmetting vir 'n geruime tyd nie waargeneem is by die lokaliteit te Winterton nie. Hy noem dat die probleem moontlik te wyte kan wees aan monsterneming.
Besluite:
- Dat die kwessie dat roesbesmetting vir 'n geruime tyd nie waargeneem is by die lokaliteit te Winterton nie verwys word na die Tegnologiekomitee vir bespreking.
Dr De Kock
Tegnologiekomitee - Dat die moontlike nadelige uitwerking van onoordeelkundige bespuiting op grond nagevors word.
Dr De Kock
Tegnologiekomitee - Dat 'n literatuurstudie onderneem word oor vordering wat behaal is met die teel van sojacultivars met roesweerstandbiedendheid.
Dr De Kock
Tegnologiekomitee
- Dat die kwessie dat roesbesmetting vir 'n geruime tyd nie waargeneem is by die lokaliteit te Winterton nie verwys word na die Tegnologiekomitee vir bespreking.
Roes: beplanning 2012-2013
Daar word kennis geneem dat:
- Die roesvangerproewe voortgesit sal word;
- 'n Ander lokaliteit te Normandien identifiseer sal word deur Mnr De Beer in oorleg met Mnr Du Plessis;
- Projekvoorleggings wat betrekking het op roesbesmetting op sojabone ingewag word.
Besluite:
- Dat die roesvangerproewe voortgesit sal word.
Dr De Kock
Sojawerkgroep
Tegnologiekomitee - Dat 'n ander lokaliteit vir die aanplant van roesvangerproewe te Normandien sal identifiseer word.
Dr De Kock
Sojawerkgroep
Tegnologiekomitee - Dat projekvoorleggings wat betrekking het op roesbesmetting op sojabone ingewag word.
Dr De Kock
Tegnologiekomitee
Voorkoms van Sclerotinia op sojabone gedurende die 2011-2012 produksieseisoen
Dr De Kock versoek Me Scheepers om verslag te doen oor die Nasionale Oesskattingskomitee se opname oor Sclerotiniabesmetting op sojabone gedurende die 2011-2012 produksieseisoen.
Me Scheepers meld dat die opname op 'n jaarlikse grondslag onderneem word, gewoonlik gedurende Mei tot Junie, wanneer 'n nie-verteenwoordigende steekproef geneem word by produsente in al die plaaslike sojaproduksie-gebiede. Sy sê terwyl terugvoering vanaf 120 respondente ontvang is gedurende die 2010-2011 produksieseisoen, het slegs 112 respondente in die verslagjaar onder bespreking terugvoering gelewer.
Me Scheepers rapporteer dat slegs 26 respondente, of 23,21%, bevestig het dat hul probleme ervaar het met Sclerotiniabesmetting op hul sojas gedurende 2011-2012, teenoor die 23,33% respondente wat die vorige jaar dergelike probleme ervaar het. Sy sê die totale oppervlakte wat deur die respondente beplant is, het op 52 443 hektaar te staan gekom, met die geaffekteerde area wat 5 534 hektaar verteenwoordig. Sy meld verder dat 'n totale oppervlakte van 472 000 hektaar met sojas beplant is gedurende 2011-2012. Sy sê die geaffekteerde area het met nagenoeg 2,4% toegeneem, indien die geaffekteerde area persentasiegewys opgeskaal word teenoor die totale oppervlakte onder sojas, en vergelyk word met die vorige seisoen se totale beplante en geaffekteerde areas.
Me Scheepers rapporteer voorts, en sê die produsente is ook versoek om aan te dui welke gewasse voorheen op daardie grond geplant is. Sy sê mielies is voorheen op 77% van die grond geplant, terwyl koring voorheen op 9%, sojas voorheen op 6%, sonneblom voorheen op 6%, en hawer voorheen op 2% van die grond geplant is.
Dr De Kock sê dit is vir hom onrusbarend dat baie min produsente hul samewerking verleen aan die opname. Mnr Havenga noem dat Sclerotinia-besmetting nie maklik waarneembaar is nie. Die lede is in ooreenstemming dat die Sclerotinia-opnames voortgesit moet word. Dr De Kock spreek sy waardering vir die waardevolle insette wat die Nasionale Oesskattingskomitee lewer.
Besluit:
- Dat die Sclerotinia-opnames voortgesit sal word.
Dr De Kock
Sojawerkgroep
TegnologiekomiteeSclerotiniademonstrasie
Dr De Kock stel Mnr Van Wyk aan die woord om verslag te doen oor die Sclerotiniaproewe, wat aangeplant is te Kinross.
Mnr Van Wyk verskaf 'n oorsig van die proefplan, -uitleg en die behandelings wat ingesluit is by die navorsing. Hy sê verskeie maatskappye se middels is ook evalueer, en voeg by dat hy ook 'n kortergroeier ingesluit het, om te bepaal of Sclerotinia ontwyk kan word deur kortergroeiers te plant. Hy meld dat daar nie met sekerheid aanvaar kan word dat Sclerotinia op 'n bepaalde tyd sal posvat nie, aangesien Sclerotinia tussen November en Maart voorkom, indien enigsins. Hy verduidelik ook welke kontroles gebruik is. Hy verduidelik voorts in welke mate faktore soos digte mis en droogte geïmpakteer het op die proewe. Hy rapporteer dat 'n opbrengs van 2,85 ton per hektaar behaal is met die kortergroeier.
Mnr Van Wyk verskaf 'n oorsig van die resultate wat behaal is met die onderskeie behandelings. Hy sê daar moet veral gelet word op die aangewese plantdatums en rywydtes. Hy is die mening toegedaan dat evaluering van die biologiese middels herhaal moet word, aangesien dit 'n wyle sal neem voordat die werklike effektiwiteit van die middels bepaal sal kan word. Met verwysing na die chemiese middels, doen hy aan die hand dat die dosisse, watervolumes en bespuitings weer onder die loep geneem word. Hy opper die moontlikheid dat 'n kombinasie van chemiese en biologiese behandelings aangewend word in die stryd teen Sclerotinia. Hy sê hy kon 'n merkbare verskil waarneem tussen die mate van Sclerotiniabesmetting, wat op die onderskeie cultivars voorgekom het. Hy noem dat toestande tydens bespuiting 'n belangrike faktor is, wat nie buite rekening gelaat kan word nie.
Dr De Kock stel die geleentheid vir vrae en opmerkings. Dr Flett sê luidens die proefuitleg word herhalings in 'n strook aangeplant. Hy doen aan die hand dat die behandelings en herhalings gerandomiseer word binne die proef. Hy sê die proef sal nie waarde bied, indien statistiese verskille nie bepaal kan word nie. Hy noem dat die LNR-IGG hulp kan verleen met die proefontwerp. Hy sê proewe op sonneblom het statisties bevestig dat die biologiese middel Contans die primêre inokulum verminder, en dat beoog word om vas te stel of die vroeër toediening van Contans 'n beter uitwerking sal hê op die sclerotia.
Die lede is in ooreenstemming met Mnr Scholtemeijer se opmerking dat die Sclerotiniabesmetting wat in Suid-Afrika voorkom nie verskil van dit wat in die res van die sojaboonwêreld voorkom nie. Mnr Scholtemeijer noem dat daar nog nie op internasionale of plaaslike vlak 'n deurbraak bewerkstellig is met navorsing oor die voorkoming van Sclerotinia nie. Hy sê navorsing oor ontwykende en onderdrukkende maatreëls gaan steeds voort.
Sclerotinia: beplanning 2012-2013
(Besluite 10.3.1.1 tot 10.3.1.3 van die Sojawerkgroepnotule van 3 Mei 2012 en besluit 8.9.7.1 van die Tegnologiekomiteenotule van 25 April 2012)
Daar word kennis geneem dat:
- Die Sclerotiniaproewe te Kinross voortgesit sal word, en dat die LNR-IGG hulp sal verleen met die proefontwerp;
- Projekvoorleggings wat betrekking het op Sclerotiniabesmetting op sojabone ingewag word.
Besluite:
- Dat die Sclerotiniaproewe te Kinross voortgesit sal word, en dat die LNR-IGG hulp sal verleen met die proefontwerp.
Dr De Kock
Sojawerkgroep
Tegnologiekomitee - Dat projekvoorleggings wat betrekking het op Sclerotiniabesmetting op sojabone ingewag word.
Dr De Kock
Sojawerkgroep
Tegnologiekomitee
"Assessing the host status of soybean cultivars using various approaches"
Prof Fourie bied 'n voorlegging aan oor die navorsingsprojek wat tans onderneem word om die gasheerstatus van sojabooncultivars te bepaal, deur verskillende benaderings te gebruik. Sy verskaf 'n oorsig van die doelstellings van, en die metodologie wat gebruik word in, die projek. Sy verduidelik dat die navorsing in die beginstadium is, met die gevolg dat resultate slegs beskikbaar is vir 'n 30- en 56-dae lange proef, onderskeidelik.
Prof Fourie noem dat tot dusver bevestig is dat die galindeksmetode nie 'n betroubare manier is om die gasheerstatus van sojabooncultivars te bepaal nie, wat bevestig dat alternatiewe en vinniger metodes ondersoek moet word om die gasheerstatus te bepaal. Sy sê die tradisionele tegnieke sal so spoedig doenlik vergelyk word met die katalasetegniek. Sy sê die verwagting is dat die siftingsproses van sojabooncultivars so maklik en vinnig moontlik gedoen sal kan word, dat die produsente jaarliks geadviseer kan word oor die aangewese cultivars om aan te plant in gronde waar aalwurms as problematies ervaar word.
Prof Fourie bevestig dat die werk herhaal sal word. Sy sê saadmaatskappye moet aangemoedig word om sojabooncultivars te sif vir aalwurmweerstandbiedenheid, veral in die lig van die feit dat nematisiedes onttrek is van die mark, en in gedagte gehou die wisselboustelsels wat toegepas word. Sy spreek egter die oortuiging uit dat te min gedoen word deur die saadmaatskappye. Sy sê daar moet in gedagte gehou word dat die plaaslike knopwortelaalwurmpopulasies en toestande verskil van dié wat in die buiteland voorkom.
"Etiology and incidence of soilborne diseases of soybeans in South Africa"
Dr Tewoldemedhin bied 'n voorlegging aan oor die navorsingsprojek wat hy en Dr Lamprecht tans onderneem oor die etiologie en voorkoms van grondgedraagde siektes op sojabone in Suid-Afrika. Hy sê wortelsiektes het al in só 'n mate op sojaboonlande versprei, dat besmette sojas op die oog af as normaal en gesond beskou word. Hy noem dat dit wêreldwyd bekend is, en gerapporteer word, dat wortelsiektes by sojabone in die meeste sojaproduserende lande in die wêreld betekenisvolle ekonomiese verliese tot gevolg het.
Dr Tewoldemedhin verskaf 'n oorsig van die primêre plantpatogene wat grondgedraagde siektes veroorsaak en waaroor wêreldwyd gerapporteer word. Hy sê die navorsingsprojek is van stapel gestuur aangesien geen of slegs beperkte inligting beskikbaar is oor die voorkoms van grondgedraagde siektes by sojabone plaaslik.
Dr Tewoldemendhin verduidelik welke metodologie gevolg word tydens die navorsing, en in welke lokaliteite die ondersoek onderneem word. Hy verskaf 'n oorsig van die simptome wat waargeneem is op die plante wat gemonster is, en verduidelik welke gevolgtrekkings tot dusver gemaak is.
Dr Tewoldemedhin som op deur te sê dat grondgedraagde siektes algemeen voorkom by sojabone in Suid-Afrika, en dat 28 fungale genera en 71 fungale spesies tot dusver geïdentifiseer is, waarvan die meeste reeds oor gerapporteer is in ander dele in die wêreld. Hy verskaf 'n oorsig van die navorsing wat verder beoog word met dié projek.
Dr De Kock stel die geleentheid vir vrae en opmerkings. Dr Lamprecht meld op navraag dat saadbehandeling dikwels slegs een of twee patogene teiken, terwyl daar altyd 'n kompleks van patogene in die grond voorkom. Sy sê die kompleks moet altyd in gedagte gehou word, wanneer saadbehandelings of 'n beheerstrategie ontwikkel word. Dr Tewoldemedhin noem dat patogenisiteitstoetse eers gedoen moet word, alvorens die rigting vorentoe bepaal word. Dr Lampecht is die mening toegedaan dat saadbehandeling deel sal vorm van 'n geïntegreerde beheerstrategie ten opsigte van grondgedraagde siektes by sojabone. Sy noem dat sekere cultivars ook 'n mate van weerstand of toleransie mag hê vir van die patogene.
Dr Lamprecht sê een van die groot uitdagings is om die werklike effek van grondgedraagde siektes op sojaboon- of ander aanplantings te toon. Sy noem dat mielielande byvoorbeeld gefumigeer is, om 'n idee te gee van die ware potensiaal van die gronde, indien die patogene geëlimineer word. Sy sê daar kan dan na die potensiaal gewerk word, met 'n beheerstrategie.
Dr Lamprecht sê hoewel sekere buitelandse navorsers beweer dat 'n bepaalde patogeen 'n bepaalde persentasie opbrengsverlies tot gevolg sal hê, bevraagteken sy dergelike aannames. Sy noem dat monokultuurverbouing die voorkoms van grondgedraagde siektes in die hand werk.
Bewaringsboerdery in sojaboonverbouing
Dr Truter lewer 'n voorlegging oor die rol van bewaringsboerdery in sojaverbouing. Hy verduidelik wat bewaringsboerdery behels, en welke spesifieke bestuurspraktyke geïmplementeer word, as deel van die proses.
Dr Truter verskaf 'n breedvoerige oorsig van die waarde wat weidingsrusgewasverbouing bied, indien dit aangeplant word binne 'n wisselboustelsel, in 'n praktyk van bewaringsboerdery. Hy sê sekere weidingsgewasse beskik oor die vermoë om die grondkwaliteit, waar monokultuurpraktyke oor 'n lang tydperk gevoer is, te verbeter.
Dr Truter verskaf voorts 'n uiteensetting van die voorwaardes wat geld ten opsigte van die suksesvolle aanplanting van weidingsrusgewasse. Hy verskaf ook 'n oorsig van die mees belangrike een- en meerjarige weidingsrusgewasse wat plaaslik aangeplant kan word. Hy verduidelik ook welke ekonomiese voordele gebied word deur die aanplant van weidingsrusgewasse.
Dr Truter sluit af deur te sê suksesvolle bewaringsboerdery vereis 'n deeglike begrip van die bepaalde omgewingstoestande, en is 'n geïntegreerde sisteem, waar gefokus moet word op al die onderskeie aspekte.
Datum van volgende vergadering
Die datum van die volgende vergadering van die Sojawerkgroep word bevestig as 25 Oktober 2012. Daar word kennis geneem dat die werksaamhede van die Sonneblom- en Sojaboonforum voortaan deel sal vorm van die Sojawerkgroepvergaderings, met uitsluiting van die jaarlikse Sojawerkgroepvergadering, wat van 'n meer tegniese en wetenskaplike aard is.
Afsluiting
Die Voorsitter bedank Dr De Kock en die personeel van die PNS vir die program wat saamgestel is en die reëlings wat getref is. Hy bedank ook die teenwoordiges vir hul aktiewe deelname en vir insette gelewer. Hy wens die lede 'n voorspoedige rit na hul onderskeie tuistes toe, en verdaag die vergadering om 17:30.