- 25 OKTOBER 2012
- 25 JULIE 2012
- 3 MEI 2012
- 6 MAART 2012
- 26 JANUARIE 2012
Notule
Sojawerkgroepvergadering
gehou om 10h00 op 6 Maart 2012 in die Komiteekamer van die PNS-Kantoorgebou, Woodmead
Opening
Die vergadering word met gebed geopen deur Mnr Gerhard Keun.
Verwelkoming
Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal welkom by die tweede vergadering van die Sojawerkgroep van die jaar.
Presensie
Teenwoordig
Mnr GJH Scholtemeijer Voorsitter Me R Beukes DLBV Dr E Briedenhann PNS Me A de Beer LNR-IGG Mnr G de Beer PNS Dr J de Kock PNS Dr J Dreyer PNS Mnr CJ du Plessis Produsent: KwaZulu-Natal Dr M Griessel PNS Mnr M Janse van Rensburg Dept Landbou: Mpumalanga Mnr C Louw GraanSA Mnr E Maree PNS-kontrakteur Mnr FAS Potgieter PNS/GraanSA Dr W van der Walt OAK Mnr D van der Westhuizen PNS Mnr WF van Wyk PNS-kontrakteur Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte Me E Harmse Sekretariaat
Verskonings
Mnr J Botma Produsent: Noord-Vrystaat Mnr H Conradie Produsent: Mpumalanga Mnr J Davel VKB Mnr H Davies SSA Mnr A du Toit Bayer Crop Science Mnr J Erasmus LNR-IGG Mnr C Havenga PNS-kontrakteur Dr S Lamprecht LNR Dr W Otto NWK Mnr T Prinsloo LNR-IGG Mnr A van Vuuren NWK
Personalia
Mnr Van Wyk word gelukgewens met die spesiale eretoekenning waarmee die PNS hom vereer het, en met die besonder suksesvolle Inligtingsdag wat aangebied is te Hatfieldproefplaas. Dr De Kock en die personeel van die PNS word bedank vir die bydraes wat hulle gelewer het tot die sukses van die Inligtingsdag. Dr Briedenhann word terugverwelkom na afloop van sy besoek aan China. Me De Beer en die personeel van die LNR word bedank vir die reëlings wat hulle getref het ten opsigte van die Inligtingsdag by die cultivarproewe te Bethlehem.
Vasstelling van die sakelys
Die sakelys word aanvaar, met toevoeging van:
Punt 13.7: Verpligte etikettering van GM-bestanddele; en
Punt 13.8: Rooispinnekop op sojabone.Goedkeuring van die notule
Notule van die Sojawerkgroepvergadering van 26 Januarie 2012 en verwysing na webblad
Besluite:
- Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 26 Januarie 2012 word as gelese beskou en goedgekeur.
- Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 26 Januarie 2012 word na die Bemarkingskomitee verwys, vir plasing op die webblad van die PNS.
Algemene oorsig
Oesskatting
Die Voorsitter neem die dokument rakende die voorlopige oppervlakteskatting van somergewasse vir 2012, asook die dokument wat Me Beukes opgestel het oor die eerste produksieskatting van sojabone vir 2012, ter tafel. Hy stel Me Beukes aan die woord.
Me Beukes sê volgens die eerste produksieskatting vir 2012, beloop die oppervlakte beplant met sojabone 472 000 hektaar, terwyl produksie geskat word op 755 950 ton, wat die grootste plaaslike oes ooit verteenwoordig. Sy meld dat die eerste produksieskatting 45 950 ton meer is as die vorige seisoen se oes van 710 000 ton.
Me Beukes meld dat die Vrystaat spog met die grootste toename in soja-oppervlakte, gevolg deur Gauteng en Limpopo. Sy sê klimaatstoestande het tot gevolg gehad dat laer produksiesyfers as dié van die vorige jaar verwag word vir Mpumalanga, Noordwes en KwaZulu-Natal.
Me Beukes noem dat die huidige oes van 755 950 ton 300 150 ton, of 65,8%, meer is as die vorige vyfjaargemiddelde oes van 455 800 ton, en 400 448 ton, of 112,6%, meer is as die vorige tienjaargemiddelde oes van 355 502 ton. Sy sê die grootste oes word in Mpumalanga verwag, naamlik 280 000 ton, of 37% van die totale produksie, gevolg deur die Vrystaat, met 262 500 ton, of 35% van die totaal, KwaZulu-Natal, met 86 700 ton, of 11% van die totaal, Limpopo met 60 000 ton, of 8% van die totaal, en Noordwes met 36 000 ton, of 5% van die totaal. Die oorblywende provinsies verteenwoordig 30 750 ton, of 4% van die totale produksie. Sy noem dat 'n geskatte gemiddelde opbrengs van 1,60 ton per hektaar verwag word, wat effens laer is as die vorige seisoen se gemiddelde opbrengs van 1,70 ton per hektaar.
Me Beukes sê die verhouding ten opsigte van die sojaboon- tot mielie-oppervlakte het in die Vrystaat toegeneem vanaf 4:96 in 2007 na 13:87 in 2012, in KwaZulu-Natal vanaf 22:78 na 28:72, in Mpumalanga vanaf 16:84 na 31:69, en in Limpopo vanaf 18:82 na 37:63. Sy meld dat die soja-oppervlakte met 'n skamele 1% toegeneem het in Noordwes, oor die tydperk van vyf jaar, en dat die soja:mielieverhouding in dié provinsie tans staan op 2:98.
Daar word kennis geneem dat die oppervlakte onder besproeiing vir sojabone vir die 2012-produksieseisoen voorlopig beraam word op 55 000 hektaar, wat 11,6% van die totale oppervlak beplant met sojabone verteenwoordig.
SAGIS
Daar word kennis geneem van SAGIS se Weeklikse Bulletin gedateer 21 Februarie 2012, en die Maandelikse Bulletin van Opgawe-inligting, gedateer 26 Januarie 2012.
Die Voorsitter sê die erge droogte waaronder Argentinië tans gebuk gaan, en die huidige ongunstige klimaatstoestande in Brasilië, sal na verwagting tot gevolg hê dat Amerika sal moet instaan vir Suid-Amerikaanse uitvoermarkte, en dat sojaboonvoorrade onder druk mag kom. Hy noem dat die implikasie dáárvan is dat sojaboonpryse nie sal daal nie. Hy verneem of enige plaaslike sojaboonuitvoere tans in die pyplyn is.
Dr Briedenhann noem dat hy slegs bewus is van die beoogde uitvoer van 4 500 ton sojabone na Maleisië. Hy sê die rede daarvoor is dat sojaboonpryse tans bykans R100 bo uitvoerpariteit is. Hy noem dat internasionale pryse aansienlik gestyg het, en dat die Suid-Afrikaanse prys saam met die internasionale prys beweeg het, hoewel die versterkende wisselkoers die stygingstempo gestrem het. Hy sê mieliepryse is onder heelwat druk, en dat internasionale pryse na verwagting 'n effense daling sal toon, wat sojaboonpryse in toom sal hou.
Weer- en klimaatsvooruitskouing
Geen bespreking.
Mikpunte – 2020
Die Voorsitter sê die PNS het 'n paar jaar gelede die produksie van een miljoen ton sojas op 500 000 hektaar as mikpunt vir 2015 gestel, welke mikpunt, gesien teen die agtergrond van die huidige momentum in die plaaslike sojabedryf, uiters haalbaar lyk. Hy rapporteer dat die Raad van die PNS die doelwit van 'n 33:67 soja:mieliesverhouding in 'n wisselboustelsel, met 'n soja-oppervlakte van nagenoeg een miljoen hektaar, as nuwe mikpunt vir 2020 gestel het.
Die Voorsitter noem dat die saadmaatskappye tans heelwat vordering behaal met genetiese verbetering, en 'n hele aantal belowende cultivars vrygestel het. Hy sê luidens Me Beukes se verslaglewering, bly die gemiddelde opbrengs per hektaar rondom 1,7 ton, terwyl die PNS 'n gemiddelde opbrengs van 2 ton sojas per hektaar vir 2015, en 'n gemiddelde opbrengs van 2,5 ton per hektaar vir 2020 in die vooruitsig gestel het. Hy noem dat gemiddelde opbrengste egter gekortwiek word, deur nuwe toetreders tot dié snelgroeiende bedryf.
Die Voorsitter sê die PNS se siening is dat dit moontlik is om 'n gemiddeld van vyf ton per hektaar teen 2015 te produseer, met sojas onder besproeiing. Hy meld egter dat dergelike opbrengste egter nie as 'n reël behaal word nie. Hy sê hy is ingelig dat soja-opbrengste 85% met reënval gekorreleer is, en sê indien dié stelling korrek is, kan met reg verneem word om welke rede besproeiingsopbrengste nie voldoen aan verwagtinge nie.
Dr Dreyer sê syns insiens lê die kernoorsaak van laer as verwagte soja-opbrengste onder besproeiing in die feit dat sojas ná 'n ander gewas geplant word in besproeiingspraktyke, met die gevolg dat soja-aanplantings noodwendig later as op die ideale plantdatum geskied. Hy meld dat heelwat van die hoër opbrengste gerealiseer word met sojas wat baie vroeg geplant word. Hy wys daarop dat sojas ongelukkig as die afskeepgewas beskou word, in boerderypraktyke onder besproeiing.
Mnr Van Wyk is in ooreenstemming dat die grootste probleem met die realisering van opbrengspotensiaal van sojas onder besproeiing te wyte is aan die feit dat sojas té laat geplant word. Hy sê hierbenewens word die lande nie vooraf na behore besproei om 'n grondwaterprofiel te bewerkstellig nie, aangesien die produsente vinnig wil plant, nadat die vorige gewas afgehaal is. Hy beaam dat werklike potensiaalopbrengste nie afgehaal kan word met sojabone wat nie 'n vollengte groeiseisoen gegun is nie.
Dr Dreyer sê hy is nie bewus van navorsing wat onlangs onderneem is om besproeiingsboere van raad te kan bedien nie. Hy is die mening toegedaan dat dit sinvol sou wees om in die toekoms werk in dié verband te doen, aangesien die soja-oppervlakte onder besproeiing aan die toeneem is.
Mnr Van der Westhuizen meen dat dit heeltemal haalbaar is om 'n gemiddelde opbrengs van 5 ton per hektaar sojas onder besproeiing af te haal, gesien in die lig van die feit dat hy 4,8 ton sojas afhaal, op droëland. Hy noem dat produsente se kundigheid oor sojaverbouing die afgelope tyd heelwat verbeter het, en dat heelwat nuwe tegnologie bygekom het. Hy voeg egter by dat die ekonomie van verbouing onder besproeiing 'n belangrike oorweging is, gesien teen die agtergrond van die gemiddelde mielie-opbrengste per hektaar onder besproeiing. Hy noem dat die beskikbaarheid van mieliereste vir vee ook die uitbreiding van sojaverbouing in sy produksiegebied troef.
Dr De Kock sê met uitsondering van die Taung-gebied, wat 5 000 hektaar beslaan, is 30 000 hektaar besproeiingsgrond beskikbaar in Vaalharts. Hy noem dat die Blignaut-Tautestudie aangedui het dat nagenoeg 300 000 hektaar grond onder besproeiing beskikbaar is vir sojaverbouing in Suid-Afrika. Hy sê die 55 000 hektaar sojas wat tans onder besproeiing is, kan gevolglik nog heelwat toeneem.
Dr De Kock bevestig dat daar nog nie baie werk onderneem is oor besproeiingskedulering by sojabone in Suid-Afrika nie, terwyl daar by ander gewasse absolute sekerheid is oor die gevoeligste stadia vir vogtekorte. Hy noem dat sojas byvoorbeeld tydens die laaste rypwordstadium voldoende vog nodig het om ten volle ryp te word. Die Voorsitter reël dat die kwessie van navorsing op sojabone onder besproeiing verwys word na die Tegnologiekomitee.
Mnr Van der Westhuizen noem dat 'n handleiding soortgelyk aan Pannar se "Ken die mielieplant", wat duidelik uitspel welke faktore saak maak vir 'n mielieplant, benodig word deur sojaprodusente.
Dr Dreyer doen aan die hand dat die hersiene uitgawe van die LNR-IGG se handleiding ten opsigte van sojaverbouing onder die loep geneem word, sodat moontlike inligtingsleemtes ten opsigte van faktore wat saak maak vir die sojaplant identifiseer kan word. Die Voorsitter sê aanvullende inligting kan in pamfletformaat beskikbaar gestel word. Mnr Keun noem dat die hersiene handleiding teen Junie 2012 beskikbaar gestel sal word.
Besluite:
- Dat die kwessie van navorsing op sojabone onder besproe-iing verwys word na die Tegnologiekomitee.
Drs De Kock en Dreyer
Tegnologiekomitee - Dat die hersiene uitgawe van die LNR-IGG se handleiding ten opsigte van sojaverbouing onder die loep geneem word, sodat moontlike leemtes in die inligting ten opsigte van faktore wat saak maak vir die sojaplant identifiseer kan word.
Drs De Kock en Dreyer
Tegnologiekomitee
Sojawerkgroep
- Dat die kwessie van navorsing op sojabone onder besproe-iing verwys word na die Tegnologiekomitee.
Sojaverbouingspotensiaal per provinsie
Geen bespreking.
Kwaliteit van sojabone en sojaboonoliekoek
(Besluit 7.6.1 van die Sojawerkgroepnotule van 26 Januarie 2012)
Dr Briedenhann rapporteer dat die ondersoek na die gewaande mindere kwaliteit van sojaboonoliekoek afgehandel is, en dat hy tans 'n verslag in dié verband saamstel. Mnr Keun noem dat die resultate van die sojaboonkwaliteitsontledings ontvang is, en dat dié ook vervat sal word in Dr Briedenhann se verslag.
Dr Briedenhann noem dat die bevindinge van die sojaboonoliekoekondersoek daarop dui dat sekere plaaslike prosesseerders hulle huis in orde sal moet kry. Die Voorsitter sê daar is besluit dat die resultate van die ondersoek met omsigtigheid vrygestel sal word.
Dr Briedenhann noem dat daar ook besluit is om die oliekoekkwaliteitsondersoek te herhaal. Mnr Keun voeg by dat die sojaboonoeskwaliteitsverslag, met ingang 2012-2013, jaarliks gepubliseer sal word.
Daar word kennis geneem dat 'n webstudie onderneem sal word oor al die faktore wat die proteïen- en olievlakke van sojabone negatief mag raak.
Besluit:
- Dat kennis geneem word dat 'n webstudie onderneem sal word oor al die faktore wat die proteïen- en olievlakke van sojabone negatief mag raak.
Dr Griessel
Sojawerkgroep
Tegnologiekomitee
- Dat kennis geneem word dat 'n webstudie onderneem sal word oor al die faktore wat die proteïen- en olievlakke van sojabone negatief mag raak.
Markaangeleenthede
Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik
Dr Griessel sê die wêreldproduksie van sojabone sal waarskynlik 19,3 miljoen ton minder wees gedurende 2011-2012 as dié van die vorige jaar. Hy noem dat 'n oes van nagenoeg 246,5 miljoen ton verwag word, teenoor die 2010-2011 oes van 265,8 ton, en voeg by dat dit die grootste jaar op jaar afname in die geskiedenis is.
Dr Griessel sê die wêreld se oliesadevoorraad teenoor -verbruik het gedaal na 16,5% teenoor die vorige jaar se 20,3%. Hy verskaf die volgende opsomming van die wêreldvoorsiening en -verbruik van sojabone.
Sojabone: Wêreldvoorsiening en -verbruik (miljoen ton) 2011-2012 (skatting) 2010-2011 Openingsvoorrade 76,10 65,00 Produksie 246,46 265,76 Noordelike Halfrond 121,43 128,08 EU-27 1,28 1,11 Kanada 4,25 4,35 VSA 83,17 90,61 Rusland 3,90 2,99 China 13,60 14,90 Indië 10,50 9,50 Ander 4,73 4,62 Suidelike Halfrond 125,03 137,68 Argentinië 47,0 49,2 Brasilië 68,50 75,32 Paraguay 4,60 8,37 Ander 4,93 4,79 Totale voorraad 322,56 330,76 Gebruik vir pers 226,16 221,45 Ander verbruik 33,80 33,21 Eindvoorrade 62,60 76,10
Dr Griessel noem dat hoër sojaboonpryse verwag word, as gevolg van lae voorrade, aggressiewe Chinese aankope, en sterk kompetisie tussen sojabone en mielies, vir beskikbare grond. Hy sê pryse sal na verwagting stewig bly in die volgende paar maande, en voeg by dat die soja:mielie-prysverhouding tans 2,3:1 is.
Dr Briedenhann noem dat sojaboonpryse op wêreldmarkte verstewig het, as gevolg van die ongunstige weerstoestande in Suid-Amerika en kommer oor die moontlikheid dat Amerikaanse produsente nie voldoende sojabone gaan plant om te voldoen aan die wêreldvraag nie.
Dr Griessel meld dat die riglynprys aan produsente op die plaas, soos bereken op 5 Maart 2012, te staan kom op R3 388, en soos volg bereken is:
Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban soos op 5 Maart 2012 Wisselkoers: R7.55/US$ Geland Durban 47% proteïen oliekoek 3 641.00 Vervoer na Randfontein (per ton) 260.00 Rente 2 weke 15% 14.00 0,5% hanteringsverlies 18.00 Gelande prys 3 933.00 Waarde van volvetsoja 110% R4 326.00 Min koste om sojabone na volvetsojabone te verwerk 938.00 – Vervoerkoste na volvet-aanleg 150.00 – Stoorkoste 123.00 – Rente 15% (6 maande) 178.00 – Ekstrusiekoste 300.00 – 5% ekstrusieverlies 178.00 Afgeleide produsenteprys vir sojabone (op plaas) – R/ton R3 388.00 Besluit:
- Dat kennis geneem word dat die PNS se afgeleide produsenteprys vir sojabone soos op 5 Maart 2012 R3 388 beloop het.
Lede
- Dat kennis geneem word dat die PNS se afgeleide produsenteprys vir sojabone soos op 5 Maart 2012 R3 388 beloop het.
SAFEX
Kennis word geneem van die SAFEX-termynpryse van sojabone soos op 20 Februarie 2012 , wat as Bylae E by die sakelys aangeheg is. Daar word voorts kennis geneem dat die SAFEX-termynprys vir sojabone op 5 Maart 2012 R3 520 per ton beloop het.
Daar word kennis geneem dat die wyse waarop sommige maatskappye sojabone op SAFEX verhandel, in sommige kringe as markmanipulasie beskou word, en die siening gehuldig word dat dit die mark nie op die korrekte manier stimuleer nie. Dr Briedenhann noem dat SAFEX 'n prysverskansingsmeganisme is, en bevestig dat daar handelskorrelasies is tussen die Chicago Board of Trade (CBOT)-prys en die plaaslike prys. Hy noem verder dat dié praktyk geheel en al aanvaarbaar en bo verdenking is, en dat dit meer volatiliteit aan pryse verleen, maar prysopenbaarmaking bemoeilik. Hy sê die feit dat sojabone na aan uitvoerpariteit verhandel, bevestig dat die mark korrek funksioneer.
Produsente-aangeleenthede
KwaZulu-Natal
Algemeen
Mnr Du Plessis is die mening toegedaan dat die geskatte oppervlakte van 34 000 hektaar onder sojas effens aan die konserwatiewe kant is. Hy sê syns insiens is die verhouding sojas:mielies in KwaZulu-Natal ten minste 30:70, en nie 28:72, soos die Oesskattingskomitee aandui nie.
Mnr Du Plessis benadruk dat klimaatstoestande, gedurende die week wat voorlê, van uiterste belang is vir die KwaZulu-Natalse soja-opbrengs in die huidige produksieseisoen.
Super Sojakompetisie
(Besluite 9.1.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 26 Januarie 2012, besluit 7.6.1.1 van die Sojawerkbeplanningstaakspannotule van 25 Januarie 2012 en besluit 7.1.3.2 van die Tegnologiekomi-teenotule van 8 Desember 2011)
Mnr Du Plessis noem dat die Super Sojakompetisie in die huidige produksiejaar met die nuwe baadjie van 'n opbrengskompetisie spog. Hy sê 'n aantal lande is reeds ingeskryf, en dat produsente aangemoedig word om alles moontlik te doen om maksimumopbrengste te behaal. Hy noem dat blokke van 10 hektaar ingeskryf word, waarvan 2 hektaar geoes sal word.
Mnre Van der Westhuizen en Van Wyk aanvaar die uitdaging om 'n gemiddeld van 6 ton per hektaar op 'n blok van twee hektaar op Mnr Van der Westhuizen se plaas te produseer, in die 2013-2014 produksieseisoen.
Besluit:
- Dat kennis geneem word dat die formaat van die Supersojakompetisie tans hersien word.
Voorsitter
Mnr Du Plessis
Sojawerkgroep
Tegnologiekomitee
- Dat kennis geneem word dat die formaat van die Supersojakompetisie tans hersien word.
Mpumalanga en Gauteng
Algemeen
Mnr Van der Westhuizen bevestig dat die produksieskatting van 280 000 ton op die geskatte oppervlakte van 200 000 hektaar in Mpumalanga aanvaarbaar is. Hy sê die vinniggroeiende cultivars, wat reeds gestroop word, lewer nie wafferse opbrengste nie.
Dr Griessel noem dat die gemiddelde opbrengs vir Mpumalanga geskat word op 1,4 ton per hektaar. Mnr Van der Westhuizen noem dat daar geen oeste van enige gewasse sal wees in die gebied vanaf Secunda tot by Standerton nie.
Super Sojakompetisie: Wonderfontein
(Besluit 9.2.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 26 Januarie 2012)
Die Voorsitter noem dat Mnr Havenga versoek is om duidelikheid te verskaf oor die strukturering van die Wonderfonteinse Super Sojakompetisie.
Mnr Du Plessis doen aan die hand dat 'n amptelike uitnodiging na 'n Sojawerkgroepvergadering gestuur word aan Mnr Mark Anthony, die landboubestuurder van Emakhazeni se plaaslike owerheid.
Die Voorsitter reël dat die Wonderfonteinse Supersojakompetisie weer bespreek word, tydens 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep.
Besluite:
- Dat kennis geneem word dat Mnr Havenga versoek is om duidelikheid te verskaf oor die strukturering van die Wonderfonteinse Super Sojakompetisie.
Mnr Havenga
Sojawerkgroep - Dat Mnr Mark Anthony, die landboubestuurder van Emakhazeni se plaaslike owerheid, genooi word om 'n vergadering van die Sojawerkgroep by te woon, en dat die Wonderfonteinse Super Sojakompetisie weer bespreek word, tydens 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep.
Mnr Keun
Sojawerkgroep
- Dat kennis geneem word dat Mnr Havenga versoek is om duidelikheid te verskaf oor die strukturering van die Wonderfonteinse Super Sojakompetisie.
Noordwes- en Limpopoprovinsie
Algemeen
Die Voorsitter noem dat die soja-oppervlakte in Noordwes afgeneem het van 20 000 hektaar in die vorige produksieseisoen na 18 000 hektaar in die huidige produksieseisoen, en dat die finale oes in die vorige seisoen 50 000 ton was, teenoor die huidige seisoen se geskatte opbrengs van 36 000 ton. Hy sê daar is geweldige uitbreidingspotensiaal vir sojas in Noordwes, aangesien 645 000 hektaar mielies die vorige seisoen in Noordwes geplant is.
Mnr Potgieter is van mening dat die oppervlakteskatting vir Noordwes aan die konserwatiewe kant is. Dr Dreyer noem dat sojaboonverbouing in Noordwes tans in sy kinderskoene staan, en dat nuwe toetreders klein aanplantings gedoen het. Hy meen dat die oppervlakteskatting redelik in die kol is.
Die Voorsitter sê die soja-oppervlakte in Limpopo het hierteenoor toe-geneem vanaf 23 500 hektaar in die vorige seisoen, na 25 000 hektaar in die huidige seisoen, terwyl 58 800 ton sojas in die vorige seisoen geoes is, en 60 000 ton na verwagting geproduseer sal word in die huidige seisoen.
Vrystaat
Algemeen
Die Voorsitter sê luidens die eerste oppervlakteskatting, is 175 000 hektaar sojas aangeplant in die Vrystaat, teenoor die 135 000 hektaar wat die vorige seisoen aangeplant is. Hy noem dat hy aangenaam verras en beïndruk was met die soja-aanplantings wat hy waargeneem het in die Oos-Vrystaat. Hy sê die produksieskatting vir die Vrystaat kom te staan op 'n stewige 262 500 ton, maar voeg by dat daar nog heelwat ruimte is vir soja-uitbreiding, gesien in die lig van die vorige seisoen se mieliehektare van 990 000, in daardie provinsie.
Mnr Maree spreek die hoop uit dat die hele aantal nuwe toetreders, wat sojas geplant het in die gebiede van Heilbron, Sasolburg en Marquard, genoeg reën sal kry. Hy sê die landboutoestande in die gebied tussen Heilbron en Petrus Steyn is benard.
Mnr Van Wyk rapporteer dat 'n hele aantal Vrystaatse produsente, uit die gebied tussen Kroonstad en Vredefort, en selfs vanuit Marquard, hom genader het omdat hulle van voorneme is om sojas te begin verbou, in die volgende produksieseisoen.
Die Voorsitter doen aan die hand dat die moontlikheid ondersoek word om besoek af te lê by Mnr Gert Engelbrecht, wat tussen Hoopstad en Bloemhof boer, en beskou word as 'n baie suksesvolle sojaprodusent, en besonder goeie opbrengste onder besproeiing behaal het in vorige produksieseisoene.
Besluit:
- Dat die moontlikheid ondersoek word om besoek af te lê by Mnr Gert Engelbrecht, wat tussen Hoopstad en Bloemhof boer, en beskou word as 'n baie suksesvolle soja-produsent, en besonder goeie opbrengste onder besproeiing behaal het in vorige produksieseisoene.
Mnr Louw
Mnr Potgieter
Sojawerkgroep
-
Oos-Kaap, Noord-Kaap en Suidwestelike Distrikte
Algemeen
Geen verslaglewering.
Algemeen
Geen verslaglewering.
Navorsing
Nasionale cultivarproewe
Nasionale cultivarproewe 2011-2012
Die Voorsitter neem die inligtingstuk getitel "Reliability", wat saamgestel is deur Me De Beer, ter tafel. Hy reël dat die dokument ingesluit word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.
Me De Beer verduidelik dat die opbrengste behaal deur die onderskeie cultivars afsonderlik karteer word teenoor die opbrengsgemiddelde van 'n proef by 'n sekere lokaliteit, en dat oessekerheid die laer 90% sekerheidslimiet is van die regressie tussen die opbrengs van 'n spesifieke cultivar en die proefgemiddelde van al die cultivars, vir 'n aantal proewe.
Besluit:
- Dat die inligtingstuk getitel "Reliability", wat saamgestel is deur Me De Beer, ingesluit word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.
Mnr Keun
Sojawerkgroep
- Dat die inligtingstuk getitel "Reliability", wat saamgestel is deur Me De Beer, ingesluit word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.
Nasionale cultivarproewe 2011-2012
(Besluit 10.1.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 26 Januarie 2012 en besluit 7.4.1.1 van die Sojabeplanningstaakspannotule van 25 Januarie 2012)
Me De Beer rapporteer dat boeredae reeds aangebied is by drie lokaliteite, en dat boeredae ook aangebied sal word by die lokaliteite te Brits, Dundee en Rustenburg. Sy sê die nasionale sojabooncultivarevaluasieproewe is duidelik gemerk met borde, waarop die inskripsie "PNS LNR Sojabooncultivarevaluasieproewe", asook die proefplan, aangebring is.
Me De Beer stel 'n lys van medewerkers en lokaliteite beskikbaar, sodat lede van die Sojawerkgroep skakeling kan bewerkstellig met die medewerkers, indien hulle die proewe sou wou besoek. Die Voorsitter reël dat dié lys ingebind word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.
Dr Dreyer is van mening dat Me De Beer se betrokkenheid by die Sojacultivarevaluasieproewe 'n merkbare verskil tot gevolg gehad het. Die Voorsitter ondersteun die siening.
Besluit:
- Dat die lys van medewerkers en lokaliteite ten opsigte van die nasionale sojabooncultivarevaluasieproewe ingebind word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.
Mnr Keun
Sojawerkgroep
- Dat die lys van medewerkers en lokaliteite ten opsigte van die nasionale sojabooncultivarevaluasieproewe ingebind word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.
Roes
Roesvangerproewe
Mnr De Beer rapporteer dat sojaboonroesbesmetting bevestig is te Cedara op 18 Januarie, op 7 Februarie te Vryheid, op 13 Februarie te Dirkiesdorp en Normandien, en op 5 Maart, te Morgenzon.
Roes: Beplanning vir 2011-2012
(Besluit 10.2.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 26 Januarie 2012)
Mnr De Beer bevestig dat Prof McLaren sekere roesvangerproewe monitor vir siekte-ontwikkeling, opbrengsverliese en dies meer, indien daardie proewe nie gespuit word, nadat die siekte waargeneem is nie. Dr De Kock sê Prof McLaren beoog om vas te stel of die persentasie skade wat aangerig word deur nie te spuit nie, werklik so groot is as dit wat vermoed word.
Besluit:
- Dat kennis geneem word dat dele van sekere roesvangerproewe nie gespuit is nadat roes daarop waargeneem is nie, en dat daardie proewe gemoniteer word vir siekteontwikkeling, opbrengsverliese en dies meer, ten einde vas te stel of die persentasie skade wat aangerig word deur nie te spuit nie, werklik so groot is as dit wat vermoed word.
Dr De Kock
Tegnologiekomitee
Sojawerkgroep
- Dat kennis geneem word dat dele van sekere roesvangerproewe nie gespuit is nadat roes daarop waargeneem is nie, en dat daardie proewe gemoniteer word vir siekteontwikkeling, opbrengsverliese en dies meer, ten einde vas te stel of die persentasie skade wat aangerig word deur nie te spuit nie, werklik so groot is as dit wat vermoed word.
Sclerotinia
Sclerotinia – beplanning 2011-2012
(Besluit 10.3.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 26 Januarie 2012)
Mnr Van Wyk meld op navraag dat die cultivars Linkseed LS6444, Pannar PAN1454 en Linkseed LS6162 beskou word as kortgroeiseisoencultivars, en gebruik kan word om Sclerotiniabesmetting vry te spring. Hy sê tot dusver het die Sclerotiniastrookproewe te Kinross nog nie besmetting opgedoen nie.
Mnr Van Wyk spreek die oortuiging uit dat dit nie maklik is om Sclerotinia chemies te onderdruk nie. Hy sê dit is bykans onmoontlik om die sojaplante behoorlik te deurdrenk met chemiese behandeling. Hy is die mening toegedaan dat die probleem oorkom kan word met vinnige cultivars, biologiese behandelings en bewaringsboerdery.
Mnr Van der Westhuizen doen aan die hand dat 'n artikel in dié verband gepubliseer word. Die Voorsitter versoek dat die nodige reëlings getref word.
Mnr Van Wyk bevestig dat proteïenontledings gedoen sal word van die kortgroeiseisoencultivars, wat aangeplant is in die Kinrossproewe.
Besluite:
- Dat proteïenontledings gedoen word van die kortgroeiseisoencultivars, wat aangeplant is in die Kinross proewe.
Mnr Van Wyk
Dr De Kock
Sojawerkgroep
Tegnologiekomitee - Dat 'n artikel gepubliseer word oor die hantering van Sclerotiniabesmetting op sojabone.
Mnr Keun
Sojawerkgroep
Tegnologiekomitee
- Dat proteïenontledings gedoen word van die kortgroeiseisoencultivars, wat aangeplant is in die Kinross proewe.
Rhizobium – Terugvoering
(Besluit 10.4.1 van die Sojawerkgroepnotule van 26 Januarie 2012)
Mnr Potgieter bevestig dat GraanSA se Insetkomitee die kwessie van die gebruik van ongeregistreerde entstowwe hanteer, en dat produsente gemaan is om nie dergelike entstowwe te gebruik nie.
Besluit:
- Dat terugvoering ingewag word vanaf GraanSA se Insetkomitee oor die kwessie rakende die gebruik van ongeregistreerde entstowwe.
Mnr Potgieter
Mnr Louw
Sojawerkgroep
- Dat terugvoering ingewag word vanaf GraanSA se Insetkomitee oor die kwessie rakende die gebruik van ongeregistreerde entstowwe.
Nematodes – Terugvoering
(Besluit 10.5.1 van die Sojawerkgroepnotule van 26 Januarie 2012)
Me De Beer rapporteer dat Dr Mienie bevestig het dat die betrokke merkergene steeds teenwoordig is in die sewe aalwurmverdraagsame lyne, wat Prof Fourie ontwikkel het as deel van die navorsingsprojek "Introduction of root-knot nematode resistance into local popular soybean genotypes using marker-assisted selection (MAS) and enhanced generation advancement". Sy sê dit is belangrik om die pad vorentoe met dié lyne te bespreek.
Die Voorsitter noem dat die samewerkingsbande wat die PNS en die LNR het met buitelandse vennote benut kan word, sodat die merkergene ingeteel kan word in cultivars, en die navorsing wat Prof Fourie onderneem het, tot voordeel van die sojabedryf aangewend kan word.
Me De Beer noem dat saad van die betrokke lyne tans vermeerder word. Sy bevestig dat die lyne ingesluit is by sewe van die lokaliteite waar die nasionale cultivarproewe geplant is.
Besluit:
- Dat kennis geneem word dat die betrokke merkergene steeds teenwoordig is in die sewe aalwurmverdraagsame lyne, wat Prof Fourie ontwikkel het as deel van die navorsingsprojek "Introduction of root-knot nematode resistance into local popular soybean genotypes using marker-assisted selection (MAS) and enhanced generation advancement", en dat die samewerkingsbande wat die PNS en die LNR het met buitelandse vennote benut sal word, sodat die merkergene ingeteel kan word in cultivars, en die navorsing wat Prof Fourie onderneem het, tot voordeel van die sojabedryf aangewend kan word.
Voorsitter
Tegnologiekomitee
Raad
- Dat kennis geneem word dat die betrokke merkergene steeds teenwoordig is in die sewe aalwurmverdraagsame lyne, wat Prof Fourie ontwikkel het as deel van die navorsingsprojek "Introduction of root-knot nematode resistance into local popular soybean genotypes using marker-assisted selection (MAS) and enhanced generation advancement", en dat die samewerkingsbande wat die PNS en die LNR het met buitelandse vennote benut sal word, sodat die merkergene ingeteel kan word in cultivars, en die navorsing wat Prof Fourie onderneem het, tot voordeel van die sojabedryf aangewend kan word.
Biobrandstowwe
Daar word kennis geneem van die artikel "Biofuels industry needs an extra 3m tons of soybeans", wat gepubliseer is in die Farmer's Weekly van 27 Januarie 2012, van die advertensie getitel "Expressions of interest for grain sorghum feedstock supply for the Cradock Ethanol Project", en van die artikels "An economic evaluation of soybean-based biodiesel production on commercial farms in KwaZulu-Natal" asook "A normative economic analysis of cooperative biodiesel production using soybeans produced by smallholders in KwaZulu-Natal, South Africa".
Die Voorsitter sê dit is van kritiese belang om kennis te neem van die nuwe biobrandstofbeleid, wat deur die Regering aangekondig is. Hy meld dat Mnr Keun reeds versoek is om 'n afskrif te bekom van die konsep-regulasies ten opsigte van die verpligte inmenging van biobrandstof, by diesel en petroleum, en dat daar nog nie duidelikheid is oor die datum waarop dié regulasies in werking sal tree nie. Hy sê dit is egter duidelik dat die vraag na sojabone plaaslik steeds aan die toeneem is.
Onderwerpe vir webstudies
(Besluit 7.2.1.2.1 van die Sojawerkbeplanningstaakspannotule van 25 Januarie 2012)
Daar word kennis geneem dat lede ter enige tyd welkom is om te versoek dat webstudies onderneem word oor sojaverwante onderwerpe.
Mnr Keun bevestig dat die resultate van die webstudie oor plaaslikvervaardigde produkte, wat sojabone as bestanddeel bevat, beskikbaar gestel is aan Soy Southern Africa (SSA), sodat verdere insette bekom kan word.
Besluit:
- Dat kennis geneem word dat die resultate van die webstudie oor plaaslikvervaardigde produkte, wat sojabone as bestanddeel bevat, beskikbaar gestel is aan Soy Southern Africa (SSA), sodat verdere insette bekom kan word.
Mnr Keun
Sojawerkgroep
- Dat kennis geneem word dat die resultate van die webstudie oor plaaslikvervaardigde produkte, wat sojabone as bestanddeel bevat, beskikbaar gestel is aan Soy Southern Africa (SSA), sodat verdere insette bekom kan word.
Cultivar Maturity Group Map – Terugvoering
(Besluit 10.9.1 van die Sojawerkgroepnotule van 26 Januarie 2012)
Mnr Van Wyk bevestig dat hy met Mnr Farr oorleg gepleeg het oor die vrae wat Mnr Farr gestel het oor die volwassenheidsgroepering van sojabooncultivars. Hy bevestig dat hy tydens 'n volgende vergadering terugvoering sal lewer in dié verband.
Besluit:
- Dat terugvoering ingewag word, na aanleiding van die samesprekings wat met Mnr Farr gevoer is oor die volwassenheidsgroepering van sojabooncultivars.
Mnr Van Wyk
Sojawerkgroep
- Dat terugvoering ingewag word, na aanleiding van die samesprekings wat met Mnr Farr gevoer is oor die volwassenheidsgroepering van sojabooncultivars.
Saad
Geen bespreking.
Tegnologie-oordrag
Inligtingsdae 2012: Datums, terugvoering en reklame
Kennis word geneem van die volgende inligtingsdae:
7 Maart Inligtingsdag, Dundee 9 Maart Inligtingsdag, Rustenburg 13 Maart Inligtingsdag, Stofberg 14 Maart Inligtingsdag, Brits 15 Maart Inligtingsdag, Heuningspruit 20 Maart LNR-IGG Opedag 22 Maart OBARO, Mnr Koos Pieterse 15-18 Mei 2012 Nampo-Oesdag 5-6 September "No-Till", Drakensville Dr De Kock noem dat die drie inligtingsdae wat aangebied is ten tye van die buitelandse vennote se besoeke aan Suid-Afrika, uiters suksesvol afgeloop het. Hy sê nagenoeg 55 persone het die inligtingsdag te Ottosdal bygewoon, terwyl 35 persone die inligtingsdag te Bethlehem bygewoon het, en 280 persone die Hatfield-Inligtingsdag bygewoon het.
Mnr Van der Westhuizen sê hoewel hy nie sélf die Hatfieldinligtingsdag kon bywoon nie, het hy besonder goeie terugvoering ontvang vanaf medeprodusente, wat met groot lof van die uitsonderlike inligtingsdag gepraat het.
Wisselbou
Dr Dreyer meld dat die PNS se siening is dat bewaringsboerdery as 'n middel tot 'n doel gebruik moet word, om meer sojabone te produseer, en dat gekonsentreer sal word op provinsies, waar 'n baie lae persentasie wisselbou tussen sojas en mielies plaasvind.
Dr Dreyer sê syns insiens is dit logies om 'n suksesvolle produsent as vertrekpunt te neem, wanneer sojaverbouingbevorderingsaksies geloods word in nie-tradisionele sojaproduksiegebiede. Hy is van mening dat Mnr Hannes Otto baanbrekerswerk gedoen het in Noordwes, en dat erkentlikheid aan hom verleen is om 'n boeredag op sy plaas te Ottosdal aan te bied, en deur buitelandse verteenwoordigers aldaar te ontvang. Hy sê die leiding wat deur Mnr Otto geneem is, sal 'n rimpeleffek hê op sojaproduksie in daardie gebied, aangesien bewys gelewer is dat sojas noodsaaklik is as wisselbougewas in 'n stelsel van bewaringsboerdery.
Dr Dreyer noem dat Mnr Jozeph du Plessis van Schweizer-Reneke tans besig is om die prestasie van sojas in daardie gebied te evalueer, voordat hy oorskakel na bewaringsboerdery. Hy sê boere glo boere, en dat Mnre Otto en Du Plessis se werk sal dien as nukleus, vanwaar verder uitgebrei sal word. Hy noem dat beoog word om publisiteit te verleen aan suksesverhale, in een van die NWK se bladskrifte.
Dr Dreyer benadruk dat dit noodsaaklik is om 'n produsent te betrek wat entoesiasties is oor die moontlikhede wat sojas bied. Hy sê die werk wat tans op die sanderige gronde op Mnr Jan Botma se plaas gedoen word, kan ekstrapoleer word na die Wes-Vrystaat. Die Voorsitter sê die hoofbestuurslede wat daardie gebiede verteenwoordig kan na afloop van GraanSA se kongres genader word, met die gedagte om suksesvolle sojaprodusente in daardie gebiede te identifiseer.
Besluit:
- Dat die produsente wat die Wes-Vrystaatse gebiede verteenwoordig op GraanSA se hoofbestuur, na afloop van GraanSA se kongres genader word, met die gedagte om produsente wat entoesiasties is oor die moontlikhede wat sojas bied, te identifiseer.
Mnr Potgieter en
Mnr Louw
Sojawerkgroep
- Dat die produsente wat die Wes-Vrystaatse gebiede verteenwoordig op GraanSA se hoofbestuur, na afloop van GraanSA se kongres genader word, met die gedagte om produsente wat entoesiasties is oor die moontlikhede wat sojas bied, te identifiseer.
Ander sake
Inligting vir plasing op die webtuiste – nuusbrokkies vir plasing op die webtuiste asook kleurfoto's
Die Voorsitter doen 'n beroep op die lede om interessante inligting en kleurfoto's beskikbaar te stel, met die oog op plasing daarvan op die PNS-webtuiste.
Meervoudige komponentanalise
(Besluit 13.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 26 Januarie 2012)
Dr De Kock noem dat meervoudige komponentanalise behels dat die effek van 'n aantal faktore gekwantifiseer word op byvoorbeeld die opbrengste of kwaliteit van sojas. Dr Dreyer noem dat meervoudige komponentanalise gebruik word om 'n groot hoeveelheid data te orden in kleiner, meer hanteerbare data-eenhede, wat moontlik interpreteer kan word.
Die saak word as afgehandel beskou.
Artikels
Daar word kennis geneem van die artikels "Versigtig met die kies van sojaboon-entstof", "Dow: High-oleic canola will hold its own against next generation soy", "Monsanto soybean trait for lower saturated fat gets USDA deregulation", en "TCI predicts healthy future for high-stearic, high-oleic sunflower oil as it opens new biorefinery".
Artikel: "Beware of new inoculants for soya beans"
(Besluit 30.2.1 van die Raadsnotule van 20 Januarie 2012)
Daar word kennis geneem van die artikel "Beware of new inoculants for soya beans".
Inkomste- en Kosteramings
Daar word kennis geneem van die Inkomste- en Kosteramings vir sojabone, mielies en sonneblom vir die 2011-2012 produksieseisoen.
World Soybean Research Conference IX 2013
Die Voorsitter rapporteer dat die eerste uitnodiging vir die aanbied van referate tydens die World Soybean Research Conference (WSRC) IX op die webblad van die WSRC IX 2013 gepubliseer is. Hy sê 'n uitsonderlike produsentedag word beplan, as deel van die konferensie.
Die Voorsitter reël dat 'n afskrif van die uitnodiging ingesluit word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.
Besluit:
- Dat 'n kopie van die eerste uitnodiging vir die aanbied van referate tydens die World Soybean Research Conference (WSRC) IX 2013 ingesluit word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.
Mnr Keun
Sojawerkgroep
- Dat 'n kopie van die eerste uitnodiging vir die aanbied van referate tydens die World Soybean Research Conference (WSRC) IX 2013 ingesluit word saam met die dokumentasie van die volgende vergadering.
Verpligte etikettering van GM-bestanddele onder Verbruikerswetgewing
Dr Van der Walt noem dat die etiketteringsregulasies heelwat teenstrydighede bevat, en verwarring veroorsaak. Hy sê 'n taakspan is aangestel om ondersoek in te stel na die implementering van die etiketteringsregulasies, hoewel die regulasies reeds op 1 November 2011 in werking gestel is.
Rooispinnekop op sojas
Mnr Van Wyk noem dat hy in die huidige produksiejaar vir die eerste keer in sy jare as akkerbouer rooispinnekopinfestasies op sojabone waargeneem het. Hy sê heelwat produsente is onkant betrap hierdeur. Hy maan dat sojaprodusente op die uitkyk moet wees vir dié plaag.
Datum van volgende vergadering
Die datum van die volgende vergadering van die Sojawerkgroep word bevestig as 3 Mei 2012.
Afsluiting
Die Voorsitter bedank die teenwoordiges vir insette gelewer, asook vir hul aktiewe deelname. Hy wens die lede 'n voorspoedige rit na hul onderskeie tuistes toe, en verdaag die vergadering om 13:30.

