Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 28 Julie 2009 in die Raadsaal van die Proteïennavorsingstigting, Rivonia



  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur Dr J Dreyer.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal welkom by die vergadering van die Sojawerkgroep. 'n Besondere woord van verwelkoming word gerig aan Mnr Andries Gouws, joernalis verbonde aan die Landbouweekblad, wat vir die eerste keer 'n vergadering van die Sojawerk­groep bywoon, aan Mnr Willem Engelbrecht van Pioneer, en aan Mnr Deon Joubert, Visevoorsitter van die PNS.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer Voorsitter
    Mnr D Joubert Visevoorsitter: PNS
    Mnr P Botha GraanSA
    Mnr J Botma Produsent: Noord-Vrystaat
    Mnr L Büchner Produsent: Mpumalanga
    Mnr D Cronjé Produsent: Mpumalanga
    Mnr GP de Beer PNS-kontrakteur
    Dr J de Kock PNS
    Dr J Dreyer LNR-IGG
    Mnr CJ du Plessis Produsent: KwaZulu-Natal
    Dr H du Plessis LNR-IGG
    Mnr WT Engelbrecht Pioneer
    Mnr J Erasmus LNR-IGG
    Mnr G Farr RNRF
    Mnr SG Ferreira Konsultant
    Mnr A Gouws Landbouweekblad
    Dr M Griessel PNS
    Mnr C Havenga PNS-kontrakteur
    Mnr E Maree PNS-kontrakteur
    Mnr FAS Potgieter PNS / GraanSA
    Mnr A van Vuuren NWK
    Mnr WF van Wyk PNS-kontrakteur
    Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte
    Me E Harmse Sekretariaat

    Verskonings

    Me R Beukes Nasionale Departement Land­bou
    Dr P Caldwell Universiteit van KwaZulu-Natal
    Me A Enslin SAGIS
    Dr HD Fourie LNR-IGG
    Mnr ID Lamprecht Departement Landbou Mpuma­langa
    Mnr W Loubser Sansor
    Mnr P Lübbe Agriocare
    Mnr MT Prinsloo LNR-IGG
    Mnr G Roos Produsent: Mpumalanga

  4. Personalia

    Wense vir voorspoed en spoedige herstel word oorgedra aan Mnr T Prinsloo, na afloop van die operasie wat hy onlangs ondergaan het.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar, met toevoeging van:

    • Punt 12.5: Onderwerpe vir artikels;
    • Punt 13.6: Saadmaatskappye: nuwe ontwikkelinge – Pioneer.
  6. Goedkeuring van notule

    1. Notule van die Sojawerkgroepvergadering van 29 April 2009

      Besluite:

      1. Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 29 April 2009 word as gelese beskou en goedgekeur.
      2. Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 29 April 2009 word na die Bemarkingskomitee verwys vir plasing op die webblad van die PNS.
  7. Algemene oorsig

    1. Oesskatting

      (Besluit 7.1.2 van die Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

      Daar word kennis geneem dat die nuutste oesskatting daardie dag vrygestel sal word.

      Mnr Potgieter is die mening toegedaan dat die vyfde produksieskatting van sojabone vir die 2008-2009 produk­sieseisoen opwaarts aangepas sal word vanaf 490 135 ton na 500 000 ton, of selfs bietjie meer.

      Mnr Cronjé noem dat Mnr Potgieter van Soygro aangevoer het dat meer as 300 000 hektaar sojas in die 2008-2009 produksieseisoen aangeplant is, indien 'n afleiding geba­seer op daardie maatskappy se verkoopsyfers tydens gemelde seisoen gemaak word. Hy sê die feit dat terug­gehoude graan as saad ook behandel word met entstof, is as rede hiervoor aangevoer. Hy meld dat Mnr Potgieter aan die hand gedoen het dat die Oesskattingskomitee maatskappye soos Soygro moet nader om verkoopsyfers te bekom, wat 'n nader aanduiding van die beplante oppervlakte sal gee as om bloot die saadmaatskappye se verkope te herlei na hektare. Hy is in ooreenstemming dat 'n totale opbrengs van nagenoeg 500 000 ton sojabone behaal is tydens die afgelope produksieseisoen.

      Mnr Botha beskou die oppervlakte-inligting wat deur die Oesskattingskomitee aangedui word, as besonder akku­raat, aangesien van lugfoto's gebruik gemaak word om die werklike oppervlaktes te bepaal en 'n skatting van aanplantings te maak. Hy is van mening dat die syfers as akkuraat, of feitlik akkuraat, beskou kan word.

      Die Voorsitter sê die vorige hoogste oppervlak beplant het op nagenoeg 240 000 hektaar te staan gekom, en spreek sy twyfel uit of die oppervlak aangepas sal word na 300 000 hektaar. Hy noem egter dat die totale opbrengs van 500 000 ton as van besondere belang beskou word.

      Mnr Potgieter noem dat 481 700 ton sojabone reeds gelewer is teen die einde van Junie, ingevolge SAGIS se data. Hy sê daar is reeds 98% van die oes gelewer, waar ongeveer 95% van die oes normaalweg teen dié tyd van die jaar gelewer is, en mag daar aanpassings gemaak word, in die lig van laat lewerings. Hy spreek egter die vermoede uit dat die produsente vroeër gelewer het tydens die huidige produksieseisoen, as gevolg van die verwagte prysdaling. Mnr Büchner is ook van mening dat die totale oes nagenoeg 500 000 ton sojas sal beloop.

      Die Voorsitter sê die PNS sou graag die puik soja-opbrengs so wyd as moontlik bekend wou maak. Mnr Potgieter bevestig op navraag van Mnr Joubert dat die gemiddelde opbrengs van meer as 2 ton/hektaar die hoogste is wat ooit plaaslik behaal is.

      Mnr Botha beskou die feit dat sojabone vir die eerste keer op redelik groot skaal uitgevoer is, as uiters interessant. Hy voer aan dat dit op 'n surplus sojabone dui. Die Voorsitter skryf die uitvoere toe aan die winsgewende bemarkingsgeleenthede wat voorgekom het. Mnr Potgieter meld dat nagenoeg 70 000 ton sojabone reeds in die huidige produksieseisoen uitgevoer is.

      Die Voorsitter sê Suid-Afrika het nog nooit te kampe gehad met 'n oordragvoorraad sojabone vanweë 'n gebrek aan bemark­ingsgeleenthede nie, en bly sojabone in die huidige ekonomiese klimaat 'n gewas wat sterk oorweeg moet word deur die plaaslike produsent.

      Daar word kennis geneem dat Mnr Van Wyk se inligting gekontrolleer word sal word met Me Beukes, sodat inligting rakende die aantal hektare onder besproeiing waar soja­bone geplant word, voorgelê kan word aan die Sojawerk­groep tydens 'n volgende vergadering.

      Besluite:

      1. Dat kennis geneem word dat die totale oesskatting van sojabone vir die 2008-2009 produksieseisoen, volgens die vyfde produksieskatting van somergewasse, wat op 24 Junie vrygestel is, 490 135 ton beloop, op 'n geskatte beplante opper­vlakte van 237 750 hektaar.

        Lede

      2. Dat Mnr Van Wyk se inligting gekontroleer word met Me Beukes, sodat inligting rakende die aantal hektare onder besproeiing, waar sojabone geplant word, voorgelê kan word aan die Sojawerkgroep tydens 'n volgende verga­dering.

        Mnr Van Wyk
        Mnr Keun

    2. Provinsies

      1. KwaZulu-Natal

        Die Voorsitter sê die vyfde oesskatting dui aan dat 27 000 hektaar sojas in KwaZulu-Natal geplant is, met ongeveer 68 850 ton sojas wat geoes gaan word, teen 'n gemiddeld van 2,55 ton per hektaar.

        Mnr Du Plessis rapporteer dat die KwaZulu-Natalse pro­dusente baie tevrede is met die sojaboonopbrengste wat behaal is, in teenstelling met die mielieprodusente, wat nie 'n goeie jaar agter die rug het nie. Hy beskou die afgelope produksieseisoen as 'n goeie landboujaar vir sojas, met goeie reën wat verspreid voorgekom het.

      2. Mpumalanga en Gauteng

        Die Voorsitter sê na verwagting sal 250 000 ton sojas gelewer word op 125 000 hektare in Mpumalanga, wat 'n gemiddelde opbrengs van 2 ton/hektaar verteenwoordig. Mnr Cronjé noem dat byvoorbeeld haelskade, swak ont­kieming of sny­wurmskade tot gevolg kon gehad het dat die gemiddelde soja-opbrengs in Mpumalanga op 2 ton per hektaar geskat word, hoewel die 2008-2009 produksie­seisoen oor die algemeen 'n besonder goeie sojaboonjaar was. Hy sê daar is etlike produsente wat 'n gemiddeld van 3 ton en meer per hektaar oor hulle hele oes behaal het in die westelike deel van die oostelike Hoëveld. Hy rapporteer dat hy gemiddeld 3,1 ton/hektaar oor 616 hektaar geoes het.

        Mnr Potgieter sê in die vorige produksiejaar is 'n gemid­deld van 1,6 ton sojas per hektaar in Mpumalanga behaal. Hy skryf die styging in die gemiddelde opbrengs per hektaar toe aan die goeie praktyke wat produsente toepas, die gebruik van goeie gronde in plaas van uitvalgronde vir sojaverbouing, en verbeterde cultivars, waardeur verbeter­de opbrengste gerealiseer word.

      3. Noordwes- en Limpopoprovinsie

        Die Voorsitter noem dat die oppervlakteskatting ten op­sigte van die Noordwesprovinsie op 6 500 hektaar te staan kom, terwyl dié van Limpopoprovinsie 16 000 hektaar be­loop. Hy sê volgens die vyfde oesskatting sal 'n opbrengs van 17 875 ton sojas in Noordwes- en 44 000 ton in Limpopoprovinsie behaal word.

      4. Vrystaat

        Die Voorsitter sê die Vrystaat is die tweede grootste ge­bied waar sojabone verbou word, en 'n geskatte oppervlak van 55 000 hektaar met sojas beplant is, en sal 93 500 ton sojas geoes word, volgens die vyfde skatting.

        Mnr Maree noem dat VKB alreeds 75 000 ton ingeneem het, teen middel Junie. Hy is van mening dat die totale Vrystaatse sojaboonoes opwaarts aangepas moet word na 100 000 ton.

        Mnr Botma sê waar daar gewoonlik nagenoeg 3 000 ton sojas in die sanderige gronde van die Wes-Vrystaat gepro­duseer word, is daar alreeds meer as 7 500 ton sojas in die huidige seisoen gelewer. Hy noem dat sojas verbou is in die tradisionele sorghumgebiede soos Koppies, Vredefort en Heilbron, wat hy toeskryf aan die wisselvallige prys van sorghum. Hy sê in teenstelling met die vorige jaar, toe geen sojas in Heilbron geproduseer is nie, is 2 000 ton sojas in daardie streek geoes. Hy spreek sy tevredenheid uit met die nuwe toetreders tot sojaverbouing in die noord­westelike deel van die Vrystaat, waar opbrengste van só 'n aard was dat sojas standhoudend geplant sal word.

        Die Voorsitter sê knopwortelaalwurm is as die grootste hoofpyn ervaar in die sanderige gronde, en is nematode­navorsing die afgelope seisoen op Mnr Botma se plaas onderneem. Hy beskou dit as baie belangrik dat die nematodewerk voortgesit word. Hy noem dat verbintenisse met Argentinië en Brasilië gevestig is, waar weerstand­biedende kommersiële cultivars reeds beskikbaar is, en word daar beplan om van daardie cultivars in die plaaslike sanderige gronde te toets. Hy vind dit interessant dat sojas nou ook aangeplant word in die potkleigronde van Heil­bron, Koppies en Vredefort.

        Dr Griessel rapporteer by monde van Mnr Lübbe dat nagenoeg 100 ton sojaboonsaad in die Koppies-gebied verkoop is. Mnr Botma meld dat die gemiddelde opbrengs in die sandgrond met tussen 0,4 en 0,5 ton per hektaar verbeter het. Hy sê hoewel hy nog nie presiese getalle kan aandui nie, het hy waargeneem dat mielie-opbrengste beslis verbeter het in 'n wisselboustelsel met sojas.

        Dr De Kock wys daarop dat die afgelope produksieseisoen gunstig was vir bone, en droëbone ook baie beter presteer het as in vorige jare.

        Mnr Maree rapporteer dat sojas, veral in die Frankfort-Villiersgebied, nie goed gevaar het onder besproeiing nie, met opbrengste van 2,7 ton per hektaar wat onder besproeiing behaal is, teenoor die 3,7 ton per hektaar, wat op droëland verbou is. Hy skryf die verskynsel toe aan óf 'n te digte, óf 'n lae stand.

        Mnr Engelbrecht is van mening dat plantdatum hier 'n rol gespeel het, met die besproeiingsojabone wat tien teen een na koring geplant is, en later geplant is as wat die droëlandsojabone geplant is. Mnr Maree sê hoewel plant­datum bepaald 'n faktor was, het standprobleme bygedra tot die swak prestasie van die besproeiingsojas.

      5. Oos-Kaap, Noord-Kaap en Suidwestelike Dis­trik­te

        (Besluite 7.2.5.1 en 7.2.5.2 van die Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

        Mnr Keun rapporteer dat die Oesskattingskomitee Lück­hoff by die Vrystaat indeel, en Hopetown by die Noord-Kaap, met die oog op oppervlak- en produksieskattings.

        Mnr Potgieter sê volgens die vyfde skatting is 750 hektaar sojas in die Noord-Kaap geplant, en word geskat dat 2 250 ton sojas geoes sal word. Die Voorsitter noem dat Mnr Botha tydens die vorige vergadering rapporteer het dat ongeveer 1 000 hektaar sojas in die Griekwaland-Wes Koöperasie (GWK) se bedieningsgebied onder besproeiing aangeplant is. Hy sê daar is ook gemeld dat die totale aanplantings onder sojabone onder besproeiing in die benede-Oranjeriviergebied 2 500 hektaar beslaan.

        Mnr Keun meld dat sekere gedeeltes van die GWK-gebied in die Vrystaat val, en ander in die Noord-Kaap. Hy sê die Oesskattingskomitee se ramings is gebaseer op pro­vinsiale grense. Mr Cronjé noem dat GWK in Douglas gesetel is, maar ook beskik oor depots aan die Vrystaatse kant van die Oranjerivier, met die produsente wat by die depot lewer, en GWK wat die lewering daar gaan oplaai.

        Mnr Farr rapporteer dat baie goeie resultate behaal is deur vier produsente in Griekwaland-Oos, met gemiddelde droëlandopbrengste van 2,5 tot 4 ton sojabone per hektaar wat op ongeveer 1 000 hektaar geoes is. Hy sê die produsente in die omgewing van Ugie, MacLear, Matatiele en Kokstad het kennis geneem van die voordele van sojaverbouing, en was beïndruk met die resultate wat behaal is. Hy noem dat onder andere ontkiemingsprobleme onder besproeiing in Cradock ervaar is, maar dat daar na verwagting nagenoeg 5 ton per hektaar in die goeie gedeeltes geoes sal word en minder as 2 ton per hektaar in die gedeeltes waar 'n swakker prestasie behaal is. Hy bevestig op navraag van die Voorsitter dat die produsente in die gebied tussen Swartberg en Kokstad, waar mono­kultuur mielies reeds geruime tyd verbou word, kennis geneem het van die voordele van sojaboonverbouing. Mnr Engelbrecht noem dat daar nie silo's in die Swartberg-area is nie, en dat die produsente hulle mielies in die Transkei verkoop.

    3. Weer- en klimaatsvooruitskouing

      Die Voorsitter sê volgens die eerste aanduidings is daar 'n moontlikheid dat 'n El Niño-weerverskynsel sal ontwikkel tydens die komende somer, wat beteken dat die reën nie so oorvloedig sal wees nie. Mnr Botha meld dat hy verneem het dat die verwagting van die El Niño-verskynsel groter is as 'n maand gelede, maar voeg by dat dit nog vroeg is, en dat baie kan verander voor planttyd. Mnr Joubert sê Mnr Mielke van Oil World het ook bevestig dat 'n El Niño-verskynsel aan't ontwikkel is, en 'n groot impak kan hê op landboutoestande. Hy sê beide die Swartland en die Suid-Kaap het redelik goeie reën gehad die afgelope tyd.

    4. Mikpunte – 2010-2020

      (Besluite 7.4.1.1 en 7.4.1.2 van die Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

      Die Voorsitter sê die PNS heg baie waarde aan die pro­jeksies van proteïenbehoeftes vir dierevoeding, wat deur Mnr Joubert onderneem word, in die lig van die feit dat die PNS geld aan navorsing bestee, ter ondersteuning van die doelstelling om ingevoerde proteïen met plaaslik gepro­duseerde proteïen te vervang, mits die betrokke proteïen­bron groei. Hy sê die PNS beoog om plaaslike soja­produksie binne die volgende vyf jaar te verdubbel. Hy stel Mnr Joubert aan die woord.

      Mnr Joubert sê hy sal kortliks die metodiek verduidelik waarvolgens die 2010-2020-projeksies vir dierevoeding bereken word, en sal hy ook die vorige jaar se projeksies beskikbaar stel aan die lede van die Sojawerkgroep. Hy wys daarop dat langtermynprojeksies nie geweldig verskil van jaar tot jaar nie.

      Mnr Joubert verduidelik aan die hand van 'n visuele voor­legging dat drie modelle in kombinasie met mekaar aange­wend word om die toekomstige behoeftes van proteïen vir diereverbruik te bepaal. Hy meld dat slegs die Agricultural Products Requirements-model (APR) en die Nieuwoudt-McGuiganmodelle in die verlede gebruik is vir projeksies van dierebehoefte, maar dat die Bureau for Food and Agricultural Policy (BFAP) se model, wat al 'n redelike tyd bestaan, vanaf die huidige jaar geïmplementeer sal word, ten einde meer akkurate skattings te bemoontlik. Hy sê die BFAP-model word hoofsaaklik gebruik om toekomstige landboukommoditeitspryse te voorspel, gebaseer op die mees waarskynlike scenario's, soos deur belanghebbendes bepaal.

      Mnr Joubert noem dat die BFAP-model aangewend word in kombinasie met die APR- en die Nieuwoudt-McGuigan-model. Hy sê die drie modelle gaan ook opdateer word, in die volgorde BFAP-model, APR-model en Nieuwoudt-McGuiganmodel, en word die inligting van een model ingevoer in die volgende model, ook in dieselfde volgorde.

      Mnr Joubert verduidelik dat die BFAP-model 'n groot­skaalse multi-sektorale, kommoditeitsgebaseerde simu­lasiemodel is, wat ses gewasvertakkings, vyf lewende hawe-vertakkings, en vyf suiwelprodukte hanteer. Hy sê 'n nuwe brandstofsegment is onlangs bygevoeg wat petrol, diesel, etanol en biodiesel insluit. Om pryse van al die gemelde kommoditeite te projekteer, word daar van scenario's gebruik gemaak, soos reeds vermeld. Die beginsel met betrekking tot die gebruik van scenario's is om die hoofdrywers en sleutelonsekerhede te identifiseer, wat onderliggend is tot landboubeleid en landboumarkte, waarna die pryse uiteindelik voorspel word.

      Mnr Joubert noem dat die APR-model meer staties van aard is, terwyl die BFAP-model dinamies van aard is. Hy sê gevolglik word die BFAP-model gebruik om die prys­veranderinge van die verskillende roumateriale wat in dierevoeding gebruik word, te projekteer. Hierna word die APR-model aangewend om die effek van die verbruik van dierevoer in Suid-Afrika te simuleer. Hy sê die APR-model is 'n liniêre programmeringsminimumkostemodel, wat deur Briedenhann (2001) ontwikkel is, en befonds is deur die PNS. Die model bepaal die voerverbruik deur diere teen 'n minimumkoste in Suid-Afrika, gegewe die beskikbaarheid van roumateriale, asook die koste daarvan. Hy verduidelik dat Suid-Afrika vir die doeleindes van die model in drie streke verdeel word, naamlik Wes-Kaap, binneland, en KwaZulu-Natal. Hy sê die vraag na die verskillende diere­produkte deur die totale bevolking word deur die model in ag geneem, waarna die aantal diere wat gevoer moet word per spesies bepaal word, gebaseer op die nutriënt­behoeftes van die diere asook hulle voeromsettings­verhoudings. Van die APR-model word die per dierespesie, te wete beeste, skape, braaihoenders, lêhoenders, suiwel, honde, perde en ander, se oliekoekbehoeftes in die basis­jaar, wat gewoonlik die vorige Animal Feed Manufacturers' Association (AFMA) verslagjaar is, gebruik as inset in die Nieuwoudt-McGuiganmodel.

      Mnr Joubert sê in die derde instansie word die Nieuwoudt-McGuiganmodel dan gebruik om die toekomstige, byvoor­beeld 2010, 2020 per capita-verbruik van die finale diereprodukte te projekteer. Verbruikersprojeksies van die diereprodukte word hoofsaaklik gedryf deur bevolkings- en inkomstegroei. 'n Belangrike onderdeel van die model is dat dit gebruik maak van dinamiese inkomste-elastisiteite vir die verskillende produkte en wat dan, gegewe die per capita-inkomste, die per capita-verbruik projekteer.

      Mnr Joubert verduidelik dat die binnelandse produksie van lewende hawe-produkte op grond van historiese tendense en tegnologiese vordering bepaal word. Hy sê dit is belang­rik om te verstaan dat die dierevoerverbruik 'n afhanklike is van die lewende hawe-produkteverbruik.

      Mnr Joubert sê die bevordering van die plaaslike produksie van proteïen vir diereverbruik asook die doeltreffende benutting daarvan is die PNS se hoofbesigheid, en is dit gevolglik belangrik dat die PNS akkurate syfers bekom oor die vraag daarna en die aanbod daarvan in die toekoms. Hy noem dat dit byvoorbeeld belangrik is om te weet of die gaping tussen verbruik en plaaslike produksie besig is om te vergroot of te vernou. Indien dit eersgenoemde is, sal daar byvoorbeeld na ander strategieë gekyk moet word, en sal die PNS sy pogings moet intensifiseer.

      Mnr Joubert sê dit is juis omrede die feit dat 'n wensituasie nog nie binne sigafstand is nie, dat die PNS sy gesig na die buiteland gedraai het. Hy sê dit is ook om dié rede belangrik dat projeksies van proteïenbehoeftes op 'n gereelde grondslag onderneem word, en die vordering ten opsigte van plaaslike produksie gemeet word. Hy verdui­delik aan die hand van 'n tabel hoe die totale proteïen­verbruik per dierespesie in die basisjaar 2006-2007 bereken is op 'n totaal van nagenoeg 1,8 miljoen ton.

      Mnr Joubert sê projeksies van proteïenbehoeftes vir 2010 en 2020 is vir vier verskillende scenario's bepaal, te wete scenario een, waar 'n hoë inkomstegroei ervaar word, en beskermende tariewe in plek gehou word; scenario twee, waar 'n hoë inkomstegroei ervaar word, en beskermende tariewe uitfaseer word; scenario drie, met 'n lae inkomste­groei en beskermende tariewe in plek gehou; en scenario vier, met 'n lae inkomstegroei en die uitfasering van be­skermende tariewe. Hy noem dat die beskermende tariewe veral ten opsigte van suiwelprodukte, vleisprodukte en dies meer geld. Hy sê hoë inkomstegroei is bepaal op 3,9% per jaar, terwyl dit 2,0% per jaar is vir die lae inkomstegroei scenario.

      Mnr Joubert verduidelik dat 'n berekening van die jaarlikse persentasiegroei vanaf die basisjaar ingesluit is by die projeksies van proteïenbehoeftes, en onder andere bereken is dat net oor die twee miljoen ton proteïen benodig sal word in 2010, en nagenoeg 2,8 miljoen ton in 2020, ingevolge die bepalings van scenario een.

      Mnr Joubert meld dat die bevolkingsgroeisyfers van die onderskeie bevolkingsgroepe ook in berekening gebring word. Hy sê die hoofmikpunt van die oefening is om te bepaal hoe plaaslike produksie van oliekoek tred hou met die geprojekteerde verbruik daarvan. Hy meld dat verder besluit moet word welke van die vier scenario's die werk­like situasie die beste naboots. Die huidige ekonomiese parameters asook die mediumtermynvooruitskouing en die feit dat beskermende tariewe op die invoer van lewende hawe-produkte waarskynlik in plek sal bly, het tot gevolg gehad dat daar op scenario een besluit is.

      Mnr Joubert sê in die basisjaar 2006-2007 was die werk­like verbruik van oliekoek volgens die AFMA-jaarverslag 1 635 525 ton, en die plaaslike produksie van oliekoek 608 370 ton, wat die plaaslike produksie in terme van totale verbruik op 37,2% te staan bring. Gedurende 2005-2006 was hierdie persentasie 40,5% en 34,4% vir 2004-2005. Hy verduidelik dat die gemiddelde vir genoemde drie seisoene vir die oefening aanvaar is, omdat die omvang van plaaslik geproduseerde oliekoek van verskeie faktore, onder andere klimaat en prysverhoudings met ander gewasse, afhang. Hy sê op grond van hierdie inligting kan bepaal word teen welke jaarlikse koers die plaaslike produksie van oliekoek moet toeneem om nog steeds in ongeveer 38% van totale behoeftes te kan voorsien. Dit kan ook bepaal word teen welke jaarlikse koerse die plaaslike produksie van oliekoek jaarliks moet toeneem, indien die gaping tussen plaaslike produksie en geprojekteerde verbruik vernou wil word, en teen welke koers plaaslike produksie moet toeneem om die gaping te handhaaf. Hy sê laastens kan bepaal word welke persentasie plaaslik geproduseerde oliekoek sal uitmaak van die geprojekteerde verbruik in 2010 en 2020, indien plaaslike produksie teen die historiese jaarlikse groeikoers groei.

      Mnr Joubert sê ten opsigte van die geprojekteerde gebruik van oliekoek, is die vismeel, pluimvee en gluten 60 afgetrek van die totaal van die geprojekteerde proteïenbehoefte van net oor die twee miljoen ton in 2010, en word die gepro­jekteerde verbruik van oliekoek in 2010 beraam op nagenoeg 1,9 miljoen ton in terme van scenario een. Hy meld dat plaaslike produksie moet groei teen 8,18% per jaar, en sal 729 130 ton oliekoek plaaslik geproduseer moet word, indien daar nog steeds in 38% van die gepro­jekteerde verbruik voorsien wil word in 2010. Hy sê 'n fenomenale groeikoers van 15,86% word vereis ten einde die gaping te vernou na 50% van die geprojekteerde verbruik, 'n groeikoers van 30,30% per jaar word vereis ten einde die gaping te vernou na 80% plaaslike produksie van geprojekteerde verbruik, en 37,78% jaarlikse groei word vereis om in 100% van die geprojekteerde plaaslike verbruik in 2010 te voldoen.

      Mnr Joubert sê gemeet teen die plaaslike historiese pro­duksiegroeikoers van 6,36%, word die persentasie totale produksie van geprojekteerde verbruik in 2010 bereken op 35,5%, en sal daar gevolglik steeds 'n agterstand wees. Hy noem dat dieselfde berekening ten opsigte van 2020 gedoen is. Hy sê indien Rainbow Nation Renewable Fuels se produksie-aanleg in werking kom, en 'n miljoen ton sojas verwerk word, met 800 000 ton oliekoek wat in die proses beskikbaar gestel word, sal die gaping vir die huidige moontlik vernou word, maar groei die behoefte egter voortdurend, en kan hy nie sien dat die gaping tussen plaaslike verbruik en produksie binne die afsienbare tyd sal vernou nie.

      Mnr Joubert sluit af deur te sê die Regering se tariefbeleid het die grootste impak op die geprojekteerde proteïen­behoeftes. Indien die Regering tariewe afskaal of verwyder op lewende hawe en lewende hawe-produkte, sal dit die behoefte aan ingevoerde proteïen drasties verminder. Hy beskou regeringsbeleid ten opsigte van tariewe as die belangrikste determinant in die hele oefening, en sê hoewel inkomstegroei en per capita verbruik ook 'n rol speel, dit nie naastenby so belangrik is soos die rol wat tariewe speel nie.

      Mnr Joubert sê indien plaaslike verbruik toeneem teen die historiese koers van 6,3%, sal daar ruimte wees vir 1 237 384 ton oliekoek in 2010 en 1 419 087 ton oliekoek in 2020. Hy noem dat die historiese groeikoers van oliekoek­verbruik en oliekoekinvoere steeds hoër is as die historiese groeikoers van oliekoekproduksie. Hy beskou die opper­vlaktetoename van sojas en canola, wat gemiddeld per jaar teen onderskeidelik 9,92% en 10,59% gegroei het, as verblydend. Hy sê wat van belang en betekenisvol is, is dat die hoeveelhede geproduseer van die twee gewasse oor tyd betekenisvol hoër is as die toename in oppervlakte. Hoewel klimaat 'n rol gespeel het, skryf hy die groei veral toe aan navorsing en beter bestuurspraktyke by die produsente, wat deur tegnologie-oordrag bewerkstellig is.

      Die Voorsitter bedank Mnr Joubert vir die besondere blik wat hy verskaf het op die binnewerking van die PNS. Hy sê die dringendheid om die gaping tussen plaaslike verbruik en plaaslike produksie te vernou, word geïllustreer deur Mnr Joubert se voorlegging. Hy noem dat Dr Dreyer on­langs die stelling gemaak het dat sojaproduksie verdubbel kan word, indien 10% van die bestaande 2,4 miljoen hektaar mieliegrond, of 240 000 hektaar, omgeswaai kan word na 'n wisselboustelsel met sojas en mielies. Hy sê Suid-Afrikaners sal moet besef dat hulle hulleself in 'n toenemende mate daarop sal moet toespits om self­voorsienend te word ten opsigte van belangrike produkte, waarvan voedsel seker dié belangrikste produk is.

      Die Voorsitter noem dat die uitbreiding van sojaproduksie 'n wen-wen-situasie bemoontlik, nie alleen gesien teen die agtergrond van die verhoging van die produksie van plaaslike proteïen om die gaping tussen plaaslike verbruik en produksie te vernou nie, maar ook weens die eetbare olie wat beskikbaar gestel sal word. Hy sê daar is ook 'n plaaslike tekort aan brandstof, en kan die soja-olie ook benut word in die produksie van biobrandstof. Hy noem dat daar 'n konstante groei in sojaproduksie was sedert die PNS in 1996 by sojaverbouing betrokke geraak het, en is meer verwerkingsfasiliteite daargestel, namate meer sojas geproduseer is.

      Daar word kennis geneem dat die projeksies van pro­teïenbehoeftes vir dierevoeding ten opsigte van 2010 en 2020, en 'n afskrif van Mnr Joubert se voorlegging in dié verband, ingebind sal word by die stukke van die volgende vergadering.

      Besluit:

      1. Dat die projeksies van proteïenbehoeftes vir dierevoeding ten opsigte van 2010 en 2020, en 'n afskrif van Mnr Jou­bert se voorlegging in dié verband, ingebind sal word by die stukke van die volgende vergadering.

        Mnr Keun

      1. Drie-jaar vooruitskatting

        Met verwysing na die drie-jaar vooruitskatting, noem die Voorsitter dat die PNS graag sou wou toesien dat die oppervlakte en tonnemaat van sojaverbouing oor die loop van die volgende vyf jaar verdubbel.

        Mnr Farr sê indien RNRF daarin slaag om die nodige finansiering te bekom, en plaaslike produksie hom daartoe verleen, is die oprig van 'n tweede plaaslike RNRF-aanleg in die mielieproduserende gebiede 'n besliste moontlikheid. Hy noem dat hy bereken het dat nagenoeg dieselfde hoeveelheid mielies geproduseer sal word indien 25% van die bestaande mieliegronde in 'n wisselboustelsel met een jaar sojas, drie jaar mielies aangewend word, weens die voordele wat sojas in 'n wisselboustelsel bied. Hy sê dié nagenoeg 500 000 hektaar sal ongeveer een miljoen ton bykomende sojas bied.

    5. SAGIS

      Daar word kennis geneem van die SAGIS Markinligtings­dokument gedateer 28 Julie 2009, die SAGIS Weeklikse Bulletin gedateer 14 Julie, en die SAGIS Maandelikse Bulletin gedateer 22 Junie.

      Die Voorsitter vestig die aandag op die opsomming van die wêreldoliesadesituasie, vervat op bladsy vyf van die Mark­inligtings­dokument, waar melding gemaak word daarvan dat sojabone internasionaal op 100 miljoen hektaar aange­plant word, en bykans 250 miljoen ton sojas na verwagting geproduseer sal word.

  8. Markaangeleenthede

    1. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

      Dr Griessel rapporteer aan die hand van 'n visuele voor­legging oor die huidige internasionale situasie ten opsigte van sojabone. Hy sê na verwagting sal die wêreldvoorrade van sojabone van die vier belangrikste uitvoerlande teen die einde van Augustus in die orde van 37 miljoen ton lê, teenoor die eindvoorrade van 66 miljoen ton van daardie lande in 2007.

      Dr Griessel sê volgens die Oil World se jongste vooruit­skattings van die sewe belangrikste oliesade wêreldwyd, is die aanvangs­voorraad vir 2009-2010 60 miljoen ton, wat nagenoeg 10 miljoen ton minder is as die vorige jaar. Hy noem dat die wêreldproduksie van die sewe belangrikste oliesade die vorige jaar te staan gekom het op 384 miljoen ton, terwyl die vooruitskatting vir 2009-2010 te staan kom op 416 miljoen ton.

      Dr Griessel sê sojaboonproduksie sal na verwagting 247,8 miljoen ton verteenwoordig van die geskatte 416 miljoen ton van die sewe belangrikste oliesade wat geproduseer sal word, teenoor die vorige jaar se sojaproduksie van 211 miljoen ton. Hy noem dat daar na verwagting twee miljoen hektaar minder koring in Argentinië aangeplant gaan word, wat hoofsaaklik vervang sal word deur sojas, en daar nagenoeg 20 miljoen hektaar onder sojas aangeplant sal word in Argentinië. Hy sê na beraming sal 39,8 miljoen ton katoensaad, 23,9 miljoen ton grondbone, 32,3 miljoen ton sonneblom, 54,3 miljoen ton raapsaad, 12,5 miljoen ton palmpit en 5,1 miljoen ton kopra in 2009-2010 geproduseer word.

      Dr Griessel sê sojaboonverbruik sal na verwagting in 2010 vanaf 393,7 miljoen ton toeneem na 403,1 miljoen ton, met 'n verwagte eindvoorraad van 73,1 miljoen ton. Hy noem dat die oeste in Amerika na verwagting later sal wees, as gevolg van koue weersomstandighede, en voorsien hy 'n moontlike tekortsituasie tot in Maart, gesien in die lig van die lae wêreldvoorrade en die feit dat die Suidelike Half­rond se sojabone eers in Maart, April die mark sal binne­kom. Die Voorsitter reël dat Dr Griessel se voorlegging ingebind word saam met die stukke van die volgende vergadering.

      Dr Griessel gee 'n uiteensetting van die afgeleide produ­senteprys vir sojabone, soos uiteengesit in die tabel wat volg, waarna die Voorsitter hom bedank vir insette gelewer.

      Dr Griessel onderneem op navraag van Mnr Van Vuuren om vas te stel wat die aanvaarde internasionale pyplynvoor­raad vir sojabone is.

      Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban soos op 27 Julie 2009
      Verskeping: R3 721   |   Wisselkoers: R7.75/US$
      Geland Durban 47% proteïen oliekoek 3 721.00
      Vervoer na Randfontein (per ton) 260.00
      Rente 2 weke 15% 21.00
      0,5% hanteringsverlies 19.00
      Gelande prys 4 021.00
      Waarde van volvetsoja 110% R4 423.00
      Min koste om sojabone na volvetsojabone te verwerk 1 035.00
      – Vervoerkoste na volvet-aanleg 150.00
      – Stoorkoste 115.00
      – Rente 15% (6 maande) 224.00
      – Ekstrusiekoste 285.00
      – 5% ekstrusieverlies 211.00
      Afgeleide produsenteprys vir sojabone (op plaas) – R/ton R3 388.00

      Besluite:

      1. Dat kennis geneem word dat die PNS se afgeleide produ­senteprys vir sojabone soos op 27 Julie 2009 R3 388 beloop het.
      2. Dat afskrifte van die voorlegging wat Dr Griessel tydens die vergadering van 28 Julie aangebied het, ingesluit word by die stukke van die volgende vergadering.

        Mnr Keun

      3. Dat vasgestel word wat die aanvaarde internasionale pyplynvoorraad vir sojabone is.

        Dr Griessel

    2. SAFEX

      (Besluit 8.2.1 van Sojawerkgroep van 29 April 2009)

      Kennis word geneem van die SAFEX-termynprys van sojabone soos op 15 Julie 2009, wat as Bylae E by die sakelys aangeheg is.

      Mnr Du Plessis noem dat die Safexprys die vorige dag R2 909 was, en verneem na die rede hiervoor. Die Voor­sitter verduidelik dat daar nog nie genoeg kompetisie aan die aankoopkant is nie.

      Daar word kennis geneem dat terugvoering ingewag word na aanleiding van die besluit wat tydens 'n vorige verga­dering geneem is, te wete dat daar met die Johannes­burgse Effektebeurs samesprekings gevoer word om die sojaboonprys ook op televisie beskikbaar te stel, saam met die ander gewasse soos sonneblom, koring en mielies.

      Besluit:

      1. Dat daar met die Johannesburgse Effektebeurs same­sprekings gevoer word om die sojaboonprys op televisie beskikbaar te stel, saam met dié van ander gewasse soos sonneblom, koring en mielies.

        Voorsitter
        Mnr Keun

  9. Produsente-aangeleenthede

    1. KwaZulu-Natal

      1. Super Sojakompetisie – terugvoering

        (Besluite 9.1.1.1 en 9.1.1.2 van die Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

        Die Voorsitter verwelkom Mnr Ferreira, wat betrokke is by die Inkomste- en kosteramings wat onder leiding van Mnr Joubert saamgestel word, by die vergadering.

        Mnr Du Plessis noem dat die Super Sojakompetisie se prysuitdelingsdag, wat saamval met die "No-Till" Dag, aangebied word op 9 en 10 September te Drakensville, en dat hy graag van die geleentheid gebruik sou wou maak om die lede van die Sojawerkgroep uit te nooi om die verrigtinge by te woon. Hy sê daar word beplan om een dag te wy aan 'n konferensie, waartydens gassprekers sal optree, die prysuitdeling sal plaasvind, en die kompetisie­verslae uitgedeel sal word. Hy noem dat die nuutste minimumbewerkingsimplemente ten toon gestel en gedemonstreer sal word.

        Die Voorsitter reël dat die aangeleentheid rakende die samesprekings wat met Mnr Joubert gevoer sou word insake die berekening van sekere koste-items met betrek­king tot die Super Sojakompetisie, met die oog daarop om dit in lyn te bring met Mnr Joubert se metodologie, oorstaan vir bespreking tydens 'n volgende vergadering.

        Die Voorsitter reël voorts dat die verslag rakende die gegewens van drie van die deelnemers wat oor die loop van 'n aantal jare deelgeneem het aan die Supersoja­kompetisie, en wat aanvanklik gewone bewerkingspraktyke gevolg het, maar later oorgeslaan het na minimum­bewerking, oorstaan vir bespreking tydens die volgende vergadering.

        Besluite:

        1. Dat die gesprek met Mnr Joubert insake die berekening van sekere koste-items met betrekking tot die Super­sojakompetisie, met die oog daarop om dit in lyn te bring met Mnr Joubert se metodologie, oorstaan vir bespreking tydens 'n volgende vergadering.

          Mnr Du Plessis
          Mnr Havenga

        2. Dat die gegewens van drie van die deelnemers wat oor die loop van 'n aantal jare deelgeneem het aan die Super­sojakompetisie, en wat aanvanklik gewone bewerkings­praktyke gevolg het, maar later oorgeslaan het na minimum­bewerking, voorgelê sal word aan die volgende vergadering van die Sojawerkgroep.

          Mnr Havenga
          Mnr Keun

      2. Navorsing

        Verslaggewing oor die cultivarproewe wat in die onder­skeie streke onderneem word, word gedoen tydens die bespreking van punt 10.1.1.

    2. Mpumalanga en Gauteng

      1. Navorsing

        Mnr Cronjé rapporteer dat die mielie-opbrengste die afgelope jaar baie wisselvallig was. Hy sê hy het 'n tendens waargeneem, na aanleiding van data wat bekom is deur die monitors in die stropers, en deur die rekord wat van die lande gehou word en die wisselbouprogram onder die loep te neem. Hy rapporteer dat tot 11 ton mielies per hektaar gestroop is, op etlike van die lande waar sojas die vorige jaar geplant is, terwyl die opbrengs met dieselfde cultivar gedaal het na 5,5 ton per hektaar in die land langsaan, waar mielies as gevolg van 'n bekalkingsprogram twee jaar na mekaar geplant is. Hy sê daar is ook waargeneem dat 'n gemiddeld van agt ton mielies per hektaar gestroop word in die tweede mieliejaar, in 'n siklus waar sojas een jaar op lande geplant is, gevolg deur mielies vir twee jaar, gevolg deur sojas, gevolg deur mielies vir twee jaar.

        Mnr Cronjé noem dat hy ondersoek ingestel het na die oorsake van die swak mielie-opbrengste op sekere lande, en uiteindelik vasgestel het dat wortel- en fusarium­stamvrot voorgekom het by mielies op daardie lande waar mielies meer as twee jaar aangeplant is, en die siklus nie gebreek is deur soja as breëblaarpeulgewas nie.

        Mnr Cronjé meld dat hy besoek is deur senior verteen­woordigers van die saadmaatskappye, wat hom meegedeel het dat fusariumstamvrot as die plaaslike mieliebedryf se enkele grootste probleem beskou word. Hy som op deur te wys op die waarde van wisselbou, en die plek van sojabone in 'n gesonde wisselboustelsel. Hy sê 'n verskil van tot drie ton mielies per hektaar, teen 'n prys van tussen R1 400 tot R1 500 per ton, 'n boerdery kan maak of breek.

        Mnr Cronjé bevestig op navraag van Dr Dreyer dat hy minimumbewerkingspraktyke volg. Dr Dreyer is van me­ning dat wisselbou hand aan hand loop met minimum­bewerking. Hy sê hy sou redelikerwys verwag dat fusarium 'n groot rol sal speel, indien wisselbou nie deel vorm van minimumbewerking nie.

        Mnr Potgieter noem dat dieselfde probleem hom voordoen wanneer mielies en koring in 'n wisselboustelsel aange­plant word. Hy is van mening dat sojas 'n beter stalmaat is vir koring in 'n wisselboustelsel, aangesien die koring dan nie fusarium­besmetting opdoen nie.

        Mnr Van Vuuren sê die gemelde tipe respons met peul­gewasse is welbekend. Hy noem dat soortgelyke resultate reeds vir etlike jare met peulgewasse in die Noordwes­provinsie bekom word. Hy sê hoewel die aangewese grondbewerkingstelsel debateerbaar sou wees, sou hy die oortuiging uitspreek dat daar nie anders as in 'n wissel­boustelsel geproduseer kan word nie.

        Dr De Kock sê Mnr Cronjé moet gelukgewens word omdat hy werklik belangstel in dít wat op sy plaas aangaan. Hy beskou die opbrengsverhogings waaroor Mnr Cronjé rapporteer het, as fenomenaal. Hy spreek die gedagte uit dat wortelsiektes nie die enigste aanleidende faktor is nie, en sê die ander voordele van wisselbou, soos die effek van oordragstikstof, nie buite rekening gelaat kan word nie. Hy sê indien 'n gewas voortdurend in monokultuur verbou word, ontstaan 'n balans tussen die patogene en die gewas, en word 'n laer produksievlak gehandhaaf, wat gelig word sodra wisselbou ingebring word.

        Die Voorsitter noem dat daar tydens 'n onlangse studietoer na Argentinië vasgestel is dat die Argentyne bykans deurgaans minimumbewerking beoefen, en dat mono­kultuur met sojas daar as probleem ervaar word.

        Mnr Büchner rapporteer dat daar ook op Kanhym-boerdery waargeneem is dat die soja-opbrengs wat die vorige jaar behaal is, 'n effek het op die opbrengspotensiaal van die daaropvolgende mielies. Hy noem dat die mielie-opbrengs met 2,5 na 3 ton per hektaar styg, indien 'n gemiddelde opbrengs van drie ton sojas per hektaar die vorige jaar afgehaal is. Hy sê twee persele is die afgelope produksie­jaar in 'n minimumbewerkingspraktyk verbou, dat daar geen verskil was in die mielie-opbrengste nie, maar dat die soja-opbrengste 0,5 ton per hektaar laer was as dié wat op die res van die plaas behaal is.

      2. Individuele strookdemonstrasieproewe

        (Besluite 9.2.2.1 en 9.2.2.2 van Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

        Die Voorsitter reël dat Dr Caldwell tydens die volgende vergadering terugvoering gee rakende die blaarvoedings­middels wat aangewend word in Argentinië en Brasilië.

        Mnr Van Wyk rapporteer dat sclerotiniaproewe aangeplant is by Kinross as deel van die "Proefplaas tot plaasproef"-projek. Hy noem dat ses chemiese middels en drie biologiese middels in dieselfde proef getoets is, en dat 'n ultrakortgroeier sojabooncultivar ook ingesluit is by die proef. Hy sê feitlik geen beheer is bewerkstellig op die lande waar die chemiese en biologiese behandelings getoets is nie, met opbrengste van 0,8 tot 1,2 ton per hektaar wat aldaar behaal is. Hy noem dat sclerotinia­besmetting van tussen 65 tot 70% op daardie lande waargeneem is.

        Mnr Van Wyk rapporteer dat die ultrakortgroeier, wat binne dieselfde proef aangeplant is, sclerotinia ontwyk het, geen besmetting opgedoen het nie, en 3,6 ton per hektaar opbrengs gelewer het. Hy noem dat die cultivar ook op 'n ander plantdatum geplant is, en sclerotinia in daardie geval 30 tot 40% skade aangerig het. Hy sê hoewel die bepaalde cultivar nie bestand is teen sclerotinia nie, of noodwendig dieselfde sal presteer gedurende 'n volgende seisoen nie, kan sclerotinia ontwyk word deur die plantdatum te bestuur.

        Die Voorsitter reël dat daar tydens 'n volgende vergadering meer volledig verslag gelewer word oor die individuele strookdemonstrasieproewe wat in Mpumalanga onder­neem is.

        Besluite:

        1. Dat tydens die beplande besoek aan Suid-Amerika vasgestel word of effektiewe blaarvoedingmiddels aldaar beskikbaar is. Dr Caldwell sal tydens die volgende vergadering hieroor rapporteer.

          Dr Caldwell

        2. Dat daar tydens 'n volgende vergadering verslag gelewer sal word oor die individuele strookdemonstrasieproewe wat in Mpumalanga onderneem is.

          Mnr Van Wyk

    3. Noordwes- en Limpopoprovinsie

      1. Navorsing

        Geen verslaglewering.

      2. Ander

        Geen verslaglewering.

    4. Vrystaat

      1. Navorsing

        Geen verslaglewering.

      2. Ander

        Geen verslaggewing.

    5. Oos-Kaap, Noord-Kaap en Suidwestelike Dis­trik­te

      1. Navorsing

        Geen verslaglewering.

      2. Ander

        Geen verslaglewering.

    6. Algemeen

      Geen verslaglewering.

  10. Navorsing

    1. Nasionale cultivarproewe 2008-2009

      Mnr Erasmus rapporteer dat die proefresultate van al die lokaliteite, buiten twee, ontvang is. Hy sê die onderskeie koëffisiente van variasie lyk tot dusver baie goed. Hy noem dat proewe addisioneel bygevoeg is te George en Empangeni, maar dat dié egter nie werklik beskou word as nasionale cultivarproewe nie. Hy sê hoewel sekere van gemelde proewe dit nie gaan haal nie, weens onder andere 'n té hoë koëffisient van variasie, is daar wel twee uitstekende proewe, met puik opbrengste wat behaal is, en sou hy graag die PNS se goedkeuring wou bekom dat daardie proewe ingesluit word by die nasionale verslag. Die Voorsitter reël dat die aangeleentheid bespreek word met Drs De Kock en Dreyer.

      Dr Dreyer noem dat die nasionale cultivarproewe waar hy besoek afgelê het, baie goed vertoon het, en sê Mnr Erasmus verdien 'n pluimpie vir die wyse waarop hy die proewe hanteer het.

      Mnr Havenga verneem na die moontlikheid dat slegs Roundup Ready-cultivars aangeplant word by proefloka­liteite op produsente se plase. Hy sê onkruidbeheer is 'n kopseer, aangesien die medewerkers in sy gebied almal Roundup spuit. Die Voorsitter reël dat die saak na die Tegnologiekomitee verwys word vir oorweging.

      Besluite:

      1. Dat die saak rakende die moontlikheid dat slegs Roundup Ready cultivars aangeplant word by proeflokaliteite op produsente se plase na die Tegnologiekomitee verwys word vir oorweging.

        Mnr Keun

      2. Dat die saak rakende die insluiting van die resultate van die twee uitstekende proewe wat by George en Empan­geni aangeplant is by die nasionale verslag oor die cultivarproewe bespreek word met Drs De Kock en Dreyer.

        Dr De Kock
        Dr Dreyer
        Mnr Erasmus

    2. Roes

      1. Inligting vanaf Sojaboonroeswerkgroep

        (Besluite 10.2.1.1 tot 10.2.2.2 van Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

        Die Voorsitter noem dat die Sojaboonroeswerkgroep die vorige week vergader het, en stel Dr De Kock aan die woord om daaroor verslag te lewer.

        Dr De Kock noem dat die sojaboonroesnavorsing wat die afgelope jaar onderneem is, sonder uitsondering redelik goed afgeloop het. Hy sê die produsente heg baie waarde aan die inligting wat na aanleiding van die roesindikator­proewe aan hulle deurgegee word. Hy noem dat Dr Craven van die LNR-IGG aangedui het dat sy nie meer ten volle betrokke kan wees by die projek nie, en is die projek as tussentydse maatreël by die PNS sélf geregistreer, met Mnr De Beer wat as projekleier sal optree. Hy sê Mnr De Beer sal verantwoordelik wees vir die aanplantings by al die lokaliteite, vir die versamel van die blaarmonsters, en vir die lewering daarvan aan Dr Craven te Potchefstroom, waar sy die blare vir die PNS vir roes sal evalueer, as 'n diensprojek. Hy bevestig dat die inligting, soos in die verlede, deur die PNS aan die produsente en ander betrokkenes uitgedra sal word.

        Dr De Kock rapporteer dat sekere wysigings aangebring is tot die sojaboonroespamflet, dat die Sojaboonroeswerk­groep die pamflet onder die loep geneem het, en tevrede is met die gewysigde pamflet. Hy sê die pamflet is reeds beskikbaar gestel aan die drukkers, en sal binnekort beskikbaar gestel word in beide hardekopie en op die webblad van die PNS.

        Dr De Kock noem dat roesnavorsing onderneem word onder leiding van Dr Caldwell by die Universiteit van KwaZulu-Natal. Hy sê die aanwending van silikon teen roes in verskeie media is ondersoek, en is goeie beheer verkry, hoewel die silikon in hoë dosisse toegedien is. Hy noem dat die werk voortgesit sal word, en ondersoek ingestel sal word na die moontlikheid om 'n meer ekonomiese en meer gemaklike draer te identifiseer. Hy sê die werk sal in die veld deur Me Visser onderneem word.

        Dr De Kock sê Me Van Niekerk, 'n meestersgraadstudent, ontwikkel tans 'n kaart aan die hand waarvan die voorkoms van roes voorspel kan word, en wat in aanvulling tot die indikatorproewe benut kan word om produsente te waarsku. Hy noem dat historiese data wat oor die jare ingesamel is, in die model verwerk sal word. Hy sê hy was verbaas om te verneem dat die kanse vir roes om in Groblersdal pos te vat, op 89% bepaal is.

        Dr De Kock noem dat Prof McLaren van die Universiteit van die Vrystaat lyne en cultivars evalueer vir toleransie teen roes. Hy sê lyne is identifiseer wat in 'n teelprogram ingesluit kan word, en die saak na die Tegnologiekomitee verwys is, aangesien ondersoek ingestel moet word na die moontlikheid om met die saadmaatskappye samespre­kings te voer in dié verband.

        Dr De Kock rapporteer dat BASF 'n middel teen roes ontwikkel het, maar dat die maatskappy probleme onder­vind met die registrasie van die middel. Hy sê Pannar het aangedui dat hulle hoopvol is dat 'n cultivar met 'n hoë mate van roestoleransie binnekort vrygestel sal word. Hy noem dat hulle benadering die afgelope tyd was om nie soseer te fokus op roesweerstand nie, maar eerder op toleransie, sodat die opbrengs nie negatief geraak word, indien die plant wel roesbesmetting opdoen nie.

        Die Voorsitter rapporteer dat die kwessie rakende die voorkoms van roes in die Vrystaat en Mpumalanga be­spreek is deur die Tegnologiekomitee, en daar tot die gevolgtrekking gekom is dat die voorkoms van roes­besmetting nie sodanig was dat dit kommerwekkend is nie, en dat die saak ondervang sal word deur die indikator- of roesvangerproewe. Hy sê die PNS bly waaksaam oor die moontlikheid dat die siekte duskant die Drakensberg versprei. Mnr De Beer noem dat vangerproewe aangeplant sal word te Kinross en Amersfoort, en ook te Kestell.

        Die Voorsitter sê volgens die internasionale inligting tot die PNS se beskikking, is daar nog nie sojabooncultivars geteel wat roesweerstandbiedend is nie.

        Dr De Kock verwys na die besluit geneem tydens die vorige vergadering, wat lui dat die kwessie rakende die oordra van roesspore deur menslike beweging, wat moontlik 'n faktor was in die verspreiding van roes in die huidige seisoen vanaf die Pannarproewe te Greytown, na die Pannarproewe te Delmas, verwys sal word na die Sojaroeswerkgroep. Hy sê die saak is pertinent aangespreek tydens die verga­dering van die Sojaroeswerkgroep, en hoewel dit inderdaad moontlik is dat so-iets kon gebeur, moet in gedagte gehou word dat navorsers hier betrokke is, wat deeglik bewus is van die maatreëls wat in plek moet wees om die oordra van roesspore te vermy.

        Dr De Kock rapporteer dat hy wyd gekonsulteer het oor die saak rakende die voorkoms van sojaroes op droëbone in Mpumalanga in die huidige seisoen. Hy sê daar was geen aanduiding van 'n hoër tendens van sojaroes op droëbone as in die verlede nie.

        Die Voorsitter reël dat die terugvoering rakende die besluit dat Dr Caldwell tydens haar Suid-Amerikaanse studiereis by Embrapa en INTA vasstel onder welke omstandighede die voorkoms van roes in 'n gebied as endemies beskou word, oorstaan.

        Mnr Botha spreek namens GraanSA waardering uit vir die waardevolle werk wat met die roesvangerproewe gedoen word. Hy sê waarskuwings van roesvoorkoms wat per SMS aan produsente en ander rolspelers gestuur word, word definitief in die veld gebruik.

        Besluit:

        1. Dat by Embrapa en INTA vasgestel word onder welke omstandighede die voorkoms van roes in 'n gebied as endemies beskou word.

          Dr Caldwell

      2. Roesmiddels

        (Besluite 10.2.2.1 en 10.2.2.2 van Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

        Die Voorsitter sê hy het die vorige jaar by Dr Godoy, plant­patoloog verbonde aan Embrapa, verneem dat die Bra­siliaanse produsente gewaarsku word teen die voort­durende spuit van triasole, aangesien waargeneem is dat sojaboonroes weerstandbiedendheid teen triasole toon. Hy noem dat aanbeveel word dat die triasole afgewissel word met strobilurins, en dat Dr Caldwell 'n artikel in dié verband sal skryf.

        Die Voorsitter noem dat Dr Caldwell tydens haar Suid-Amerikaanse studiereis by Dr Claudia Godoy, verbonde aan Embrapa in Brasilië, navraag gedoen het oor die aangeleentheid, en dat sy tydens 'n volgende vergadering terugvoering sal verskaf.

        Besluite:

        1. Dat by Dr Claudia Godoy, verbonde aan Embrapa in Brasilië, navraag gedoen word oor die kwessie dat soja­boonroes weerstand toon teen triasole, na die voort­durende aanwending van daardie middel.

          Dr Caldwell

        2. Dat kennis geneem word dat 'n artikel geskryf sal word oor die kwessie dat sojaboonroes weerstand toon teen triasole, na die voortdurende aanwending van daardie middel.

          Dr Caldwell

    3. Sclerotinia

      1. Proefwerk – terugvoering Sclerotinia­werkgroep­vergadering

        (Besluit 10.3.1.2 van Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

        Dr De Kock rapporteer oor die terugvoering wat ontvang is oor die jongste stand van sake rakende sclerotinia­navorsing tydens die vergadering van die sclerotinia­werkgroep die vorige week.

        Dr De Kock sê dat Mnr Van der Westhuizen van Philagro redelike resultate verkry het by twee lokaliteite, en Sumisclex reeds as voorkomende en korrektiewe middel geregistreer is. Hy noem dat aansoek gedoen is om 'n benatter saam met Sumisclex toe te dien, en kan die dosis in dié proses verminder word. Hy sê goedkeuring is reeds verleen om Sumisclex deur die spilpunt toe te dien, en is dié wyse van toediening volgens algemene waarneming, die mees effektiewe toedieningsmetode. Hy noem dat die algemene siening is dat die toediening van Sumisclex in 500 liter water nie effektief in die praktyk is nie, aangesien die middel nie deurdring na die stamme en die grond onder die plante nie. Hy sê volgens Mnr Van der Westhuizen moet gebruik gemaak word van 'n kousbalkspuit om die middel onder by die plante te kry.

        Dr De Kock noem dat Mnr Van der Westhuizen voortgaan met die toets van Sumisclex. Hy sê twee nuwe Sumitomo-produkte gaan in die komende jaar op sojabone getoets word.

        Dr De Kock noem dat Dr Caldwell silikon toets vir die beheer van sclerotinia op sojabone, en dat goeie resultate behaal is in die glashuis. Hy sê dié werk moet nou in die veld voortgesit word, met grondtoediening, en moet 'n produk, waardeur die silikon stadig vrygestel kan word, nog identifiseer word.

        Dr De Kock sê Dr Caldwell gaan voort met die toets van die biologiese beheermiddel Eco-T, as grondtoedieningsmiddel vir die beheer van sclerotinia, en redelike resultate reeds hiermee bereik is.

        Dr De Kock meld dat Prof McLaren goeie sclerotinia­besmetting bewerkstellig het in die glashuis met die miseliumtegniek wat hy gebruik het, maar dat dieselfde sukses nie in die veld behaal word nie. Hy sê meeste van die cultivars is reeds in die glashuis getoets, die cultivars ingedeel is in drie groepe, te wete goeie toleransie, matige toleransie en swak toleransie, en sal die werk voortgesit word. Hy noem dat die aangeleentheid verwys is na die Tegnologiekomitee, sodat ondersoek ingestel word na die moontlikheid om die navorsingsresultate op te som, met die saadmaatskappye samesprekings te voer, en die inligting in artikelvorm beskikbaar te stel aan produsente. Hy sê die cultivar Egret is byvoorbeeld identifiseer as 'n cultivar met goeie toleransie.

        Die Voorsitter noem dat die PNS in verbinding sal bly met die groot sclerotinianavorsingsentrum in Noord-Dakota, en op hoogte sal bly met die navorsing wat aldaar onderneem word, en ook deur die tersaaklike inligting wat op die webblad gepubliseer word, gereeld op te volg.

        Mnr Potgieter sê daar is nog nie 'n sistemiese middel beskikbaar teen sclerotinia nie. Mnr Van Wyk noem dat Mnr Koster, wat vir jare by die OTK betrokke was, tydens die sclerotiniawerkgroepvergadering melding gemaak het daarvan dat heelwat onkruide, waaronder langkakiebos, kosmos en knapsekêrel, ook as gashere vir sclerotinia dien.

        Daar word kennis geneem dat Dr Caldwell navraag sal doen oor die jongste verwikkelinge ten opsigte van sclerotinia­navorsing in Suid-Amerika tydens haar besoek aldaar.

        Besluite:

        1. Dat kennis geneem word dat Dr Caldwell navraag sal doen oor die jongste verwikkelinge ten opsigte van sclerotinia­navorsing in Suid-Amerika tydens haar besoek aldaar.

          Dr Caldwell

        2. Dat kennis geneem word dat die PNS in verbinding sal bly met die groot sclerotinianavorsingsentrum in Noord-Dakota, en op hoogte sal bly met die navorsing wat aldaar onderneem word, en ook deur die tersaaklike inligting wat op die webblad gepubliseer word, gereeld op te volg.

          Mnr Keun

      2. Sclerotinia-opnames

        (Besluit 10.3.1.1 van Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

        Dr De Kock noem dat die Oesskattingskomitee jaarliks 'n opname onder produsente onderneem oor die voorkoms van sclerotiniabesmetting by sonneblom en sojas.

        Dr De Kock rapporteer dat die voorkoms van sclerotinia by sonneblom in 2005-2006 17,3% was, 0,1% in 2006-2007, 3,4% in 2007-2008, en 2,2% tydens die afgelope produk­siejaar. Hy sê daar kan gevra word of sclerotinia op sonneblom veel aandag regverdig.

        Dr De Kock rapporteer voorts oor die voorkoms van sclerotinia op sojas. Hy sê in die 2005-2006-seisoen was die voorkoms van sclerotinia op sojas 14,3%, in 2006-2007 3%, in 2007-2008 15,5%, en in die afgelope produksie­seisoen 27,7%.

        Die Voorsitter noem dat die steekproef produsente wat in die vraelys geteiken word, baie beperk is. Hy bevestig dat sclerotinia as probleem ervaar word in sojaverbouing, dat daar nog nie sclerotiniaweerstandbiedende cultivars geteel is nie, en dat 'n algemeen-aanvaarde beheermiddel nog nie ontwikkel is nie. Hy sê om hierdie rede fokus die PNS op die beheer van sclerotinia deur effektiewe praktykvoering.

    4. Rhizobium

      (Besluit 10.4.1 van die Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

      Mnr Potgieter bevestig dat GraanSA die Kantoor van die Registrateur formeel ingelig het oor die huidige stand van sake rakende die onbevredigende kwaliteit van sekere rhizobiumentstowwe wat plaaslik verhandel word, en ook oor die tekortkominge met betrekking tot die behoorlike toetsing van gemelde entstowwe. Hy meld egter dat geen terugvoering in dié verband nog ontvang is nie.

      Besluit:

      1. Dat terugvoering ingewag word rakende die Kantoor van die Registrateur se reaksie op die inligting wat GraanSA aan hulle deurgegee het oor die huidige stand van sake met betrekking tot die onbevredigende kwaliteit van sekere rhizobium­entstowwe wat plaaslik verhandel word, en ook oor die tekortkominge met betrekking tot die behoorlike toetsing van gemelde entstowwe.

        Mnr Potgieter

    5. Duiweskade by opkoms van sojabone

      (Besluit 10.5.1 van die Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

      Die Voorsitter sê daar is tydens 'n vorige vergadering voorgestel dat die kwessie van duiweskade op sojabone te berde gebring word by die volgende vergadering van die Oliesade-Advieskomitee, met die oog daarop om dié aspek in te sluit by die navorsingsprojek oor duiweskade op sonneblom.

      Die Voorsitter rapporteer egter dat daar tydens same­sprekings met die Tshwane University of Technology tot die gevolgtrekking gekom is dat gemelde projek hom nie leen tot die insluiting van die kwessie van duiweskade op sojas nie. Hy reël dat die saak oorstaan na 'n volgende vergadering.

      Mnr Potgieter rapporteer dat duiwe nie slegs skade aanrig op sojabone by opkoms nie, maar ook wanneer die soja­bone ryp is. Mnr Cronjé noem dat Egiptiese kolganse hulle intrek geneem het op die panne water wat agtergebly het na die milde reën wat gedurende die afgelope produksie­seisoen in Mpumalanga geval het. Hy sê dié voëls vreet hektare sojas by opkoms op.

      Besluit:

      1. Dat die saak rakende duiweskade op sojabone oorstaan na 'n volgende vergadering.

        Mnr Keun

  11. Saad

    1. Terughouding van graan as saad

      (Besluite 11.1.1 tot 11.1.4 van die Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

      Mnr Potgieter rapporteer rakende die samesprekings wat GraanSA gevoer het met Pannar, om die kwessie van die terugkoop van plaasgeproduseerde saad uit te klaar. Hy sê Pannar is klaarblyklik nie bereid om die toegewing te maak dat die saad wat onder kontrak op 'n produsent se plaas geplant is, teruggekoop kan word vir saad nie. Die saak word as afgehandel beskou.

      Die Voorsitter bevestig dat uittreksels uit die Brasiliaanse literatuur, waarin 'n omskrywing gegee word van dít wat as goeie, gesonde saad beskou word, en welke faktore hier 'n rol speel, beskikbaar gestel sal word aan die lede van die Sojawerkgroep, tydens die volgende vergadering.

      Besluit:

      1. Dat uittreksels uit die Brasiliaanse literatuur, waarin 'n om-skrywing gegee word van dít wat as goeie, gesonde saad beskou word, en welke faktore hier 'n rol speel, beskikbaar gestel sal word aan die lede van die Soja­werkgroep, tydens die volgende vergadering.

        Voorsitter
        Mnr Keun

  12. Tegnologie-oordrag

    1. Inligtingsdae 2009: datums, terugvoering en reklame

      (Besluit 12.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

      Mnr Cronjé rapporteer dat sake skeefgeloop het met die reëlings vir die voorplant-boeredag op sy plaas in Ogies, met sekere produsente wat nog nie begin het om hul mielies te stroop nie, en ander wat reeds klaar gestroop het. Hy sê die beplanning van die nuwe seisoen is op hande, met die gevolg dat hy en Mnr De Beer 'n telefoniese gesprek gevoer het oor die aangeleentheid, en besluit het om aan te beveel dat die boeredag, wat tydens September op sy plaas aangebied sou word, geskuif word na 'n datum vroeg in die nuwe jaar.

      Die Voorsitter is in ooreenstemming dat dit nie prakties sou wees om onder die omstandighede 'n voorplant-boeredag op Mnr Cronjé se plaas aan te bied nie. Hy sê na aanleiding van dít waaroor Mnr Cronjé rapporteer het tydens die vergadering, 'n punt daarvan gemaak sal moet word om 'n goed beplande boeredag by Mnr Cronjé aan te bied.

      Mnr Büchner beskou dit as onnodig om 'n inligtingsdag te Kanhym-boerdery aan te bied, gesien in die lig van die feit dat besluit is om nie voort te gaan met die demonstra­siestrookproewe, wat by sekere produsente aangeplant is nie.

      Die Voorsitter sê daar is ongeveer 18 maande gelede besluit om by produsente te verneem na die aard van die spesifieke verbou­ingsprobleme wat sojas in 'n bepaalde streek bied, met die gedagte om demonstrasiestrook­proewe daarop toe te spits, en moontlik met antwoorde vorendag te kom. Hy sê hoewel die boereproewe 'n goeie konsep was, en besondere werk gelewer is, die inwerkingstel van die sg. Plan C, of die buitelandse samewerkingsinisiatief, soveel momentum gekry het dat die boereproewe vir eers daar gelaat sal word, weens 'n tekort aan beskikbare mannekrag.

      Kennis word geneem van die volgende inligtingsdae:

      9 en 10 September 2009 "No-Till" Dag, Drakensville / Bergville

    2. Sojabladskrif

      (Besluite 12.2.1en 12.2.2 van Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

      Die Voorsitter verwys na die besluit wat tydens 'n vorige vergadering geneem is dat die moontlikheid oorweeg word om 'n artikel saam te stel oor wisselbou onder besproeiing met mielies en koring, met sojas tussenin, ten einde die siektes wat deur koring na mielies oorgedra word, te bekamp. Hy noem dat daar reeds in dié verband breed­voerig gesprek gevoer is tydens die vergadering, en sal daar, in die lig van Mnr Gouws as landbouskrywer se teenwoordigheid by die vergadering, algaande aandag geskenk word aan die aangeleentheid.

      Met verwysing na die besluit dat Dr Caldwell by Embrapa in Brasilië en INTA in Argentinië navraag doen oor die beskikbaarheid van literatuur rakende die voordele wat sojas ten opsigte van peste en plae bied in 'n wissel­bouprogram met mielies en sojas, sê die Voorsitter dit sou ook belangrik wees om te verneem wat die produsente se praktiese ervaring is van die voordele wat sojas in 'n wisselbouprogram met mielies bied.

      Mnr Cronjé sê fusariumstam- en wortelvrot word as probleem by mielies in monokultuur ervaar. Hy noem dat hy in die afgelope produksieseisoen vir die eerste keer waargeneem het dat sojas dié probleem aan bande lê. Hy beskou die stikstofbinding in die grond, wat deur sojas in die hand gewerk word, as 'n besondere ekonomiese voor­deel, aangesien die N-toediening op die daaropvolgende mielies met 40 kg per hektaar gesny kan word. Hy is van mening dat die stikstofbinding mielieverbouing haalbaar maak.

      Mnr Cronjé meld dat hy 'n punt daarvan maak om sy vleisbeeste te laat kalf op die sojareste, aangesien dit oor 'n hoër voedingswaarde beskik as mieliereste. Hy sê veldbrande en brandstigting hou 'n uiters groot bedreiging in vir bewaringsboerdery op die Hoëveld. Hy wys daarop dat lande waarop sojareste is, nie 'n groot brandgevaar bied nie, aangesien sojareste nie so maklik brand nie, en dat die bewaringsboer gevolglik 'n groter kans gebied word om die mikrobiologiese lewe in die grond te bevorder, deur die plantmateriaal wat op die grondoppervlakte gelaat word.

      Mnr Cronjé sê die korrekte bemarking van sojabone het 'n gesonde kontantvloeisituasie vroeg in die oesseisoen tot gevolg. Hy noem dat daar geen sin daarin is om 'n produk te stoor teen geweldige koste, en dit ná die tyd te bemark nie. Hy wys op die vogvoordeel wat die laat reënval tydens die afgelope April gebied het, en sê daar is geen teken van onkruid, op die sojalande wat reeds gestroop was nie.

      Mnr Cronjé noem dat hy, weens diefstal, genoodsaak was om sojas vyf jaar agtereenvolgens aan te plant op 'n sekere plaas, wat langs 'n myn geleë was. Hy sê die soja-opbrengste het jaar na jaar toegeneem, en is geen nadelige effekte as gevolg van sojamonokultuur waargeneem nie.

      Mnr Du Plessis sê die algemene oortuiging is dat sojareste minder werd is as dié van mielies. Hy sê die algemene praktyk in KwaZulu-Natal is dat produsente mielies plant, sodat hulle beeste in die winter daarop kan oorwinter, of daarop afgerond kan word. Hy doen aan die hand dat Mnr Cronjé se siening bevestig word met van die groot produsente, maar voeg egter by dat dié produsente geneig is om nie beeste op hulle lande te laat wei nie.

      Mnr Büchner noem dat Kanhym-boerdery reeds die afge­lope agtien jaar wisselbou beoefen, in 'n 60:40 verhouding. Hy sê die voordele neem by die jaar toe. Hy noem as voorbeelde die verspreiding van toerusting en strooptyd wat verbreed word. Hy sê Kanhym-boerdery weet vir etlike jare nie van siektes op hulle plante nie, omdat die wisselbouprogram al vir soveel jare gevolg word.

      Mnr Van Vuuren sê hy het ook die voordele wat wisselbou bied ten opsigte van die meganisasiekomponent in gedag­te gehad. Hy noem dat verskeie van die produsente in NWK se bedieningsgebied dit as 'n belangrike ekonomiese meganisme beskou om die kilowattbehoefte per hektaar te verlaag. Hy sê in 'n wisselbouprogram is onkruidbeheer baie meer doeltreffend, indien twee onver­wante gewasse in die program ingesluit word.

      Mnr Botma sê diefstal bly 'n brandpunt op grond aan­grensend aan dorpe. Hy noem dat sonneblom grond vogs­gewys baie meer uitput as sojas. Die Voorsitter bevestig dat sojaverbouing tydens die bosoorlogdae in Zimbabwe uitgebrei het, juis weens die feit dat ander gewasse deurgeloop het onder diefstal.

      Dr Dreyer noem dat die verspreiding van prysrisiko ook 'n groot voordeel is van wisselbou.

      Besluite:

      1. Dat die moontlikheid oorweeg word om 'n artikel saam te stel oor wisselbou onder besproeiing met mielies en koring, met sojas tussen-in, ten einde die siektes wat deur koring na mielies oorgedra word te bekamp.

        Voorsitter

      2. Dat by Embrapa in Brasilië en INTA in Argentinië navraag gedoen word oor die beskikbaarheid van literatuur ra­kende die voordele wat sojas ten opsigte van peste en plae bied in 'n wisselbouprogram met mielies en sojas.

        Dr Caldwell

    3. Inkomste- en kosteramings

      (Besluit 12.3.1 van die Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

      Die Voorsitter noem dat Mnr Joubert reeds vir etlike jare 'n navorsingsprojek namens die PNS onderneem, ingevolge waarvan sekere gewasse gegewe sekere insette, met mekaar vergelyk word. Hy beskou die Inkomste- en kosteramings as een van die hartslae van die sojabedryf, en sê 'n produsent sal sojas aanplant indien hy onder andere finansiële voordeel daaruit kan trek. Hy stel Mnr Joubert aan die woord om die saak verder toe te lig.

      Mnr Joubert sê die Inkomste- en kosteramings moet as 'n resep of 'n begroting beskou word, eerder as 'n gemiddelde produksiekoste. Hy noem dat die inligting waarop die ramings gebaseer word bekom word deur óf gebruik te maak van koöperasies se insette, óf deur middel van groepbesprekings. Hy sê die koöperasies se insette reflekteer nie gemiddelde produksiekoste-opnames nie, maar word bekom deur saam met kundiges ingeligte besluite te neem oor sekere praktyke, produksie-insette en die toedieningsvlakke van gemelde insette.

      Mnr Joubert beskou groepbesprekings as die ideale manier om inligting in te win. Hy sê in dié geval word redelik homogene gebiede afgebaken, en word een of meer kundige boere in iedere gebied identifiseer. Hy noem dat die tipiese praktyk wat in 'n bepaalde gebied gebruik word, identifiseer word, en word die begroting rondom daardie inligting gebou. Hy wys daarop dat nie een van die begrotings vervat in die Inkomste- en kosteramings, soos vervat in Bylae G, sal ooreenstem met 'n spesifieke produsent se begroting nie, maar dat die ramings opgestel word met die oog daarop om voorligtingkundige waarde te bied. Hy sê die ramings kan as riglyn aangewend word, sodat 'n produsent sy eie begroting daarby kan aanpas.

      Mnr Joubert noem dat die tegniese inligting onderliggend tot iedere begroting in die Inkomste- en kosteramings beskikbaar is, en kan detail rakende die tipe kunsmis wat gebruik is en die toedieningsvlakke daarvan, die tipe onkruidbeheer wat aangewend is, en dies meer, verskaf word.

      Mnr Joubert sê aangesien die begrotings deurgaans op dieselfde manier opgestel is, kan byvoorbeeld sojas, mielies en sonneblom met mekaar vergelyk word. Hy noem dat die inligting ten opsigte van Mpumalanga nie vanaf koöperasies bekom is nie, en die inligting met die hulp van Mnr Van Wyk op groepbesprekingsbasis bekom is, met Mnr Ferreira wat gekontrakteer is om die opnames te doen. Hy sê KwaZulu-Natal se inligting is ook nie op koöperasie-gegewens gebaseer nie. Hy noem dat die provinsiale departement van landbou in daardie provinsie vroeër jare groepbesprekings gedoen het, maar intussen slegs die ramings jaarliks aangepas het. Hy sê die toenemend-belangrike rol wat minimumbewerking speel en veranderde praktyke is nie in ag geneem nie, met die gevolg dat die PNS nie meer vertroue gehad het in die syfers nie. Hy noem dat Mnr Ferreira, in samewerking met Mnr Havenga en andere, gevolglik die KwaZulu-Natalse gegewens op groepbesprekingsbasis ingewin het.

      Mnr Joubert sê die Inkomste- en kosteramings is in Excel-formaat beskikbaar, en kan op navraag beskikbaar gestel word aan produsente.

      Mnr Ferreira noem dat opbrengs en prys altyd 'n groot faktor is by begrotings van hierdie aard. Hy sê dit bly 'n probleem om presiese syfers in te win rakende die tipiese opbrengste wat behaal is, en is sy aanvoeling dat die opbrengssyfer wat aangewend moet word, dié is van die 20% produsente wat 80% van die produksie lewer. Hy rapporteer dat hy verstom gestaan het oor die kwaliteit van die landbou-ekonomiese inligting en die uitstekende meganisasiegidse wat beskikbaar gestel word deur van die koöperasies.

      Die Voorsitter bedank die landboumaatskappye en koöpe­rasies vir hulle medewerking. Hy sê sonder die bydrae wat gelewer word deur die persone om die tafel, sou die Sojawerkgroep geen vordering behaal nie.

      Mnr Van Vuuren noem dat die Inkomste- en kosteramings ook aangewend word as kredietverskaffingsnorm deur die maatskappye, en dat NWK se syfers vir die komende seisoen reeds deur die direksie goedgekeur is, en as norm by die finansieringsafdeling beskikbaar gestel is. Hy beskou die syfers as 'n krities-belangrike instrument by die bepaling van die lewensvatbaarheid van 'n boerdery. Mnr Potgieter noem dat MGK dieselfde praktyk volg.

      Die Voorsitter sê die PNS beplan om voort te gaan met die navorsingsprojek rakende inkomste- en kosteramings van sekere gewasse. Hy noem dat daar uit die aard van die saak vrae gestel is rondom die ramings, en sê meer verskille sal ontstaan, hoe nader daar beweeg word aan die opgradering van die sojaboonbedryf. Hy sê die onderskeie produsente handhaaf elk hul eie manier van sojaverbouing, met bewerkingspraktyke wat verskil, bepaalde cultivars, waaronder Roundup Ready, wat aangeplant word, verskil­lende onkruidbeheerpraktyke wat gevolg word, en dies meer. Hy vestig in dié verband die aandag op die opsommende tabel getitel "Inkomste- en kosteramings van sojabone", waar die onderskeie insetkostes ten opsigte van 'n dertiental gebiede aangedui is.

      Die Voorsitter sê gemelde tabel reflekteer 'n bemestings­uitgawe van slegs R623 te Kinross, terwyl 'n bedrag van R2 261 ten opsigte van Koedoeskop, R2 120 vir Karkloof, en R2 486 vir Bergville gereflekteer word. Hy noem dat dié data bevraagteken is, met die gevolg dat Mnr Ferreira genooi is na die vergadering, ten einde duidelikheid in dié verband te verskaf. Hy sê hoewel dit bekend is dat die verskille te doen het met stelsels, dit nogtans as vreemd ervaar is dat bemestingkoste so betekenisvol kan verskil.

      Die Voorsitter sê hoewel die PNS nie veel kan doen aan die prys van sojabone nie, daar tog sekere tye is wanneer sojas nie verhandel moet word nie, soos byvoorbeeld met strooptyd, wanneer die sojaprys op sy laagste is. Hy vind dit egter kommerwekkend dat gemiddelde opbrengste van 4 ton/hektaar in Noordwes onder besproeiing behaal is, terwyl slegs 3 ton/hektaar onder besproeiing by Groblers­dal behaal is. Hy sê die PNS streef daarna om die gemiddelde soja-opbrengs per hektaar op te stoot. Hy noem dat die gemiddelde opbrengste wat behaal is te Koster, met 1,5 ton/hektaar, Lichtenburg, met 1,2 ton/hektaar, en Zeerust, met 1,0 ton/hektaar soos 'n seer duim uitstaan. Hy sê 'n tekort aan mannekrag maak dit onmoontlik om 'n kundige af te vaardig na dié gebiede, met die opdrag om vas te stel wat aanleiding gegee het tot die swak opbrengste.

      Mnr Van Vuuren sê indien die bemestingsyfer gedeel word deur opbrengs, is die bemestingskoste per ton gepro­duseer in al die gevalle vergelykbaar. Mnr Botma beskou die saadkoste in sommige gebiede as redelik, terwyl dit in ander gebiede baie laag is.

      Mnr Ferreira verduidelik dat sommige produsente slegs 10% nuwe saad gebruik by aanplanting, en 90% terug­gehoude graan as saad gebruik. Mnr Cronjé sê terug­gehoude graan kós die produsent, en kon die produsent die graan teen die markwaarde van geproduseerde graan verkoop het. Hy noem dat daardie waarde plus die skoon­maakkoste, bergingskoste en rente ook verreken moet word. Mnr Joubert noem dat bergingskoste en rente nie bereken is ten opsigte van teruggehoude graan as saad nie.

      Mnr Ferreira sê die inligting rakende Groblersdal is by wyse van telefoniese gesprekke bekom, en is hy op navraag meegedeel dat die opbrengs van 3 ton per hektaar onder besproeiing aldaar te wyte was aan probleme met 'n sekere produsent se besproeiingstelsel.

      Dr Griessel wys daarop dat opbrengste van 4 ton/hektaar behaal is by beide Bergville en Koedoeskop, terwyl bemestingskoste te Koedoeskop R 2 261, en by Bergville R2 395 beloop het. Hy sê 'n verskil van R260 per hektaar is betekenisvol, en moet daar verneem word na die rede hiervoor. Hy voer aan dat óf roofbou óf oorvoorsiening die aanleidende faktor is, en dat praktyke in dié geval verfyn moet word.

      Mnr Van Vuuren sê dit wil voorkom asof die syfers ten opsigte van Lichtenburg, Koster en Zeerust droëlanddata reflekteer, terwyl die Koedoeskopsyfer 'n besproeiingsyfer is. Hy meen 'n skewe beeld word geskep deur droëland- en besproeiingsdata met mekaar te vergelyk.

      Die Voorsitter reël dat dié saak verwys word na die Tegnologiekomitee. Hy reël voorts dat die opsommende tabel verwys word na die Tegnologiekomitee, sodat die werklike knelpunte identifiseer en aangestip kan word, en aanbevelings oor hoe die onderskeie kwessies aange­spreek kan word, gedoen kan word. Hy noem as voorbeeld die opbrengs van 3 ton per hektaar wat behaal is onder besproeiing te Groblersdal.

      Besluite:

      1. Dat die opsommende tabel rakende die Inkomste- en kosteramings gekategoriseer word ten einde 'n onder­skeid te tref tussen droëlanddata en besproeiingsdata.

        Mnr Keun

      2. Dat die opsommende tabel rakende die Inkomste- en kosteramings verwys word na die Tegnologiekomitee, sodat die werklike knelpunte identifiseer en aangestip kan word, en aanbevelings oor hoe die onderskeie kwes­sies aangespreek kan word, gedoen kan word.

        Mnr Keun

    4. Streekverdeling van Suid-Afrika ten opsigte van sojabone

      (Besluit 12.4.1 van die Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

      Die Voorsitter noem dat Dr Chris Blignaut op versoek van die PNS, reeds geruime tyd besig is met die saamstel van 'n kaart rakende die verbouingstreke vir sojabone in Suid-Afrika, waarvolgens die mees geskikte cultivars vir ver­bouing in verskillende streke aangedui sal kan word.

      Die Voorsitter reël dat daar tydens die volgende verga­dering van die Sojawerkgroep terugvoering gegee word rakende die mate van vordering wat behaal is met gemelde kaart.

      Besluit:

      1. Dat daar tydens die volgende vergadering van die Soja­werkgroep terugvoering gegee sal word rakende die mate van vordering wat behaal is met die kaart oor die verbouingstreke vir sojabone in Suid-Afrika, waarvolgens die mees geskikte cultivars vir verbouing in verskillende streke aangedui sal kan word.

        Mnr Van Wyk

    5. Onderwerpe vir tydskrifartikels

      Die Voorsitter stel die dokument "Lys van artikels", soos opgestel deur Dr Dreyer, ter tafel. Hy sê daar moet besin word oor die boodskap wat die PNS in die komende produksieseisoen ten opsigte van die bevordering van sojaverbouing in die media wil uitdra. Hy noem dat Mnr Lochner van die Landbouweekblad hom meegedeel het dat dít wat vir die produsent belangrik en interessant sou wees, identifiseer moet word.

      Mnr Gouws sê inligting moet nuuswaardig en leersaam wees, en moet 'n artikel op sy eie bene kan staan. Hy noem dat die Landbouweekblad nie lukraak publisiteit kan verleen aan 'n bepaalde bedryf nie. Hy noem as voorbeeld dat daar byvoorbeeld nie bloot gestel kan word dat 'n Brahmaan 'n goeie bees is nie, maar dat verduidelik moet word welke ondervinding 'n produsent gehad het met Brahmane, welke resultate behaal is, en dies meer.

      Mnr Gouws sê ten einde 'n artikel te skryf oor die eerste onderwerp wat aangedui word in die dokument, te wete "Algemene beplanningsartikel", sal 'n suksesvolle produ­sent genader moet word ten einde eerstehandse inligting oor sy persoonlike ondervinding te bekom. Hy noem dat Landbouweekblad nie 'n handboekstylartikel sal publiseer nie, en dat vaktydskrifte nie verkoop nie, aangesien die artikels nie leesbaar is nie.

      Mnr Gouws wys daarop dat boere vir boere glo, en nie vir wetenskaplikes nie. Hy sê die boer moet sê welke weten­skap volgens sy ervaring op sy plaas wérk. Hy noem dat Landbouweekblad op 'n sesweekkeerdatum werk.

      Mnr Botma is van mening dat 'n artikel oor die voordele van sojaverbouing, ook teen die agtergrond van die groei­ende plaaslike proteïentekort, so gou doenlik gepubliseer moet word. Mnr Joubert noem dat die wisselbouvoordele van sojas gekoppel kan word aan die brutomarge, aangesien sojas, ingevolge die inkomste- en kosteramings, baie goed met ander gewasse kompeteer in terme van die ekonomie. Hy sê hierbenewens is die wisselbouvoordele van sojas nie verreken in die brutomarges nie.

      Dr Dreyer sê hy is in ooreenstemming met die gedagte dat die boodskap in die artikel deur 'n produsent oorgedra moet word. Hy noem dat 'n reeks artikels op mekaar kan bou.

      Mnr Gouws noem dat nuusberigte in die Landbouweekblad se geel bladsye gepubliseer kan word. Hy beskou dit as hoogs onwaarskynlik dat die Landbouweekblad meer as een soja-artikel per maand sal gebruik. Hy sê die geel bladsye kan egter onbeperk benut word, met goeie stories. Hy noem dat die opsommende tabel goeie materiaal sal verskaf vir 'n artikel. Hy sê hy sou graag 'n artikel oor die voordele van wisselbou aan die hand van Mnr Cronjé se ervaring wil skryf, met die klem op opbrengs, gevolg deur 'n artikel oor Mnr Büchner se suksesverhaal van agtien pes- en plaagvrye mieliejare op Kanhym-boerdery. Hy noem dat hy sal rapporteer oor dit waaroor verslag gelewer is tydens die vergadering van die Sojawerkgroep. Hy sê daar kan beplan word vir een artikel per maand, met geelbladsy­berigte wat gepubliseer kan word sodra nuuswaardighede bekend word.

      Mnr Botma beskou dit as belangrik dat die wetenskap onderliggend tot die landbouer se sukses ook in artikels toegelig word. Hy voer aan dat produsente die sukses wat deur 'n produsent behaal is sou kon toeskryf aan die gebied waarin daardie produsent boer. Mnr Büchner doen aan die hand dat produsente ingelig word oor dit wat haalbaar is in sojaproduksie.

      Dr Griessel noem dat daar na aanleiding van die bewerk­ingsproef wat op Kanhym-boerdery onderneem is, bevind is dat skoffel­bewerking nie 'n noodsaaklikheid is nie. Hy sê heelwat geld kan bespaar word deur skoffel-bewerking uit te skakel. Mnr Gouws noem dat die saak onderwerp vir onderwerp aangepak kan word, sodat daar voortdurend iets interessants is om oor te skryf.

      Mnr Potgieter noem dat GraanSA binnekort inligting oor produksieruimtes vir die volgende seisoen gaan vrystel, en sal produsente hulle keuses moet maak. Hy verneem na die moontlikheid dat die artikel oor die wisselbouvoordele van sojas vroeër eerder as later gepubliseer kan word.

  13. Ander sake

    1. Inligting vir plasing op die webtuiste – nuus­brokkies en kleurfoto's

      Die Voorsitter herinner die lede dat geskikte kleurfoto's vir plasing op die PNS-webblad verwelkom sal word.

    2. Verslag: studietoer na Brasilië en VSA

      (Besluit 13.4.1 van die Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

      Daar word kennis geneem van die finale verslag wat saamgestel is na aanleiding van die studietoer na Brasilië en die VSA.

      Die Voorsitter sê die Raad van die PNS het besluit dat daar na afloop van iedere studietoer na die buiteland aanbe­velings gemaak moet word, en dat daar op 'n gereelde basis verslag gelewer moet word oor vordering wat behaal is met die uitvoer van gemelde aanbevelings.

      Die Voorsitter sê in Noord-Amerika is besoek afgelê by die United Soybean Board en American Soybean Association, toonaangewende navorsingsbefondsers, en is kontak bewerkstellig met die Universiteite van Illinois en Iowa.

      Daar word kennis geneem van die inligtingstuk rakende die produkte wat vervaardig kan word uit sojabone en ver­werkte sojabone, soos vrygestel deur die Center for Crops Utilization Research verbonde aan die Universiteit van Iowa State University.

    3. Verslag: studietoer na Brasilië en Argentinië

      (Besluit 13.4.1 van die Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

      Die Voorsitter noem dat die Brasiliaanse landbou­navors­ingsinstituut Embrapa besoek is, en dat 'n Memorandum van Begrip (MVB/MOU) onderteken is tussen die PNS en Embrapa. Hy sê daar is ook geskakel met die Universiteit van Viçosa, waar Prof Sedi­yama, befaamde sojaboonteler, bevestig het dat hy met die PNS sal saamwerk. Hy sê hierbenewens het die Argentynse landbounavorsings­instituut INTA ook onderneem om deel te neem aan die PNS se samewerkingsinisiatief, welke inisiatief behels dat 'n sekere hoeveelheid saad van Argentynse en Brasiliaanse sojabooncultivars in die klasse vier tot agt, wat voldoen aan sekere vereistes, plaaslik evalueer sal word.

      Die Voorsitter rapporteer dat die president van INTA aangedui het dat hulle begerig is om 'n MVB met die PNS te onderteken, en hom ook ingelig het dat twee Argentynse saadtelers in Augustus besoek sal aflê om hulle te vergewis van die plaaslike omstandighede, die tipe grond, klimaat en dies meer by elk van die lokaliteite, wat reeds identifiseer is, waar die buitelandse cultivars aangeplant gaan word. Hy sê die mees geskikte cultivars sal aan die hand van dié inligting, en aan die hand van die gewenste kenmerke soos deur die PNS geïdentifiseer, deur INTA geselekteer word vir plaaslike toetsing in die produk­sieseisoen wat voor die deur lê.

      Die Voorsitter beskou die werk as aanvullend tot dié wat reeds deur die plaaslike saadmaatskappye onderneem word. Hy sê die PNS dryf nie handel nie, en bring bloot die cultivars land-in om te toets en waarnemings te maak. Hy noem dat die onus op die Suid-Amerikaners sou rus om die suksesvolle cultivars plaaslik te versprei. Hy sê die PNS poog bloot om tyd te wen, deur die cultivars ter lande te toets alvorens die cultivars in Suid-Amerika vrygestel word. Hy noem dat die inisiatief op dié stadium suksesvol skyn te wees, en onderneem om die Sojawerkgroep op hoogte van sake te hou.

      Dr De Kock benadruk dat die plaaslike saadmaatskappye materiaal inbring van internasionale saadmaatskappye. Hy sê die materiaal wat die PNS inbring is afkomstig vanaf buitelandse staatsinstansies.

      Mnr Botma rapporteer dat hy deel uitmaak van 'n groep van tien produsente wat binnekort besoek aflê in Argen­tinië, Brasilië en Chilé. Hy sê daar word beoog om in­dustrieë, implemente, die veebedryf, en die soja- en mielie­bedryf aldaar onder die loep te neem, met die gedagte om moontlik van die Suid-Amerikaanse bewerkings- en boer­derypraktyke plaaslik toe te pas. Hy onderneem om tydens 'n volgende vergadering terugvoering in dié verband te verskaf.

      Besluit:

      1. Dat Mnr Botma terugvoering tydens die volgende ver­gadering sal gee, rakende sy besoek aan Argentinië, Brazilië en Chilé.

        Mnr Botma

    4. Verslag: studietoer na Argentinië

      (Besluit 13.6.1 van die Sojawerkgroepnotule van 29 April 2009)

      Die Voorsitter rapporteer dat die verslag van die studietoer wat hy, Mnr Joubert en Dr De Kock na Argentinië onder­neem het, voorgelê sal word aan 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep.

      Besluit:

      1. Dat die verslag van die Argentynse studietoer ingesluit word by die stukke van 'n volgende vergadering van die Soja­werkgroep.

        Mnr Keun

    5. Verslag: "Compile estimates of soybean yield suppression by diseases in the US during 2007" asook die dokument "Lay interpretation – Soybean yield robbers: Disease-related soybean losses in the US are a threat – research is needed"

      (Besluit 8.1.4 van Tegnologiekomiteenotule van 8 April 2009)

      Daar word kennis geneem van die verslag "Compile estimates of soybean yield suppression by disease in the US during 2007" en die dokument "Lay interpretation – soybean yield robbers: Disease-related soybean losses in the United States are a threat – research is needed".

      Die Voorsitter sê in die lig van dié twee dokumente besef die PNS en die navorsingsgemeenskap dat daar eintlik nie veel kundigheid bestaan oor dit wat in die grond aangaan nie. Hy sê hoewel die siektes oënskynlik nog nie die plaaslike sojabedryf geraak het nie, sal die PNS ondersoek instel na die moontlikheid om navorsing te onderneem na die bedreiging wat siektes soos "sudden death syndrome" en saailingsiektes, waarvan melding gemaak word in die verslag, vir die plaaslike bedryf inhou.

    6. Saadmaatskappye: nuwe ontwikkelinge – Pioneer

      Die Voorsitter stel Mnr Engelbrecht aan die woord om die vergadering in te lig oor nuwe ontwikkelinge by Pioneer.

      Mnr Engelbrecht meld dat hy pas teruggekeer het van 'n besoek aan die VSA. Hy sê hy is in ooreenstemming met die opmerking wat Dr Griessel vroeër gemaak het rakende 'n moontlike tekortsituasie ten opsigte van sojas, en rapporteer dat die Amerikaanse oeste nagenoeg drie weke later as gewoonlik is. Hy noem dat Des Moines die vorige week gebuk gegaan het onder die laagste temperature wat in die afgelope vyftig jaar ondervind is, en heers daar groot kommer dat vroeë ryp groot skade gaan aanrig.

      Mnr Engelbrecht sê sy passie vir sojas kom reeds 'n lang pad. Hy noem dat hy die sojabooncultivar AS5409, die eerste RoundUp­Readysojabooncultivar, in 1988 in Suid-Afrika geregistreer het. Hy noem dat Pioneer se span navorsers sojaboongene identifiseer het, wat verband hou met opbrengste. Hy sê die gene word met behulp van die "Marker assisted selection" (MAS)-tegniek identifiseer, en word die variëteite gekruis.

      Mnr Engelbrecht rapporteer dat Pioneer hierdie jaar die sg. "Y-series" sojabooncultivars geloods het, en dat meer as tien miljoen sakkies saad in die eerste jaar verkoop is. Hy sê daar word in die vooruitsig gestel dat opbrengste met tussen 4 en 5% sal verhoog, met elke generasie "Y-series" wat vrygestel word. Hy beskou die navorsing wat deur Pioneer onderneem word, as duiselingwekkend.

      Mnr Engelbrecht noem dat die molekulêre teeltegnieke wat deur die sg. "Accelerated Yield Technology" (AYT) ingespan word, daartoe bydra dat die opbrengspotensiaal van nuwe variëteite teen 'n sneller tempo verhoog word as wat tradisionele tegnieke bemoontlik.

      Mnr Engelbrecht noem dat gene reeds identifiseer is vir die verskillende rasse van sist-nematodeweerstandigheid. Hy sê 'n aanvang is ook geneem met teelprogramme vir knop­wortelaalwurm. Hy noem dat al Pioneer se teelwerk in Amerika onderneem word, en dat die winterprogram in Argentinië aangeplant word.

      Mnr Engelbrecht noem dat Pioneer se Suid-Afrikaanse arm reeds saad van sewe "Y-series"-cultivars in groepe vier en vyf ontvang het, wat in die komende produksieseisoen in strookproewe evalueer sal word. Hy noem dat heelwat vordering gemaak is met die identifisering van die merker­gene vir sclerotinia op sonneblom, wat soorgelyke werk op sojas in die hand sal werk.

      Mnr Engelbrecht sê hy is positief oor die toekoms van sojaverbouing in Suid-Afrika, en sal van die heel nuutste tegnologie ook plaaslik beskikbaar gestel word. Hy noem dat Pioneer tans 'n hoë-oleïensuursojaboon ontwikkel, en dat cultivars in groep drie reeds beskikbaar is. Hy sê die hoë-oleïensuurcultivars in groepe vier en vyf sal plaaslik evalueer word, sodra dit beskikbaar gestel word. Hy noem dat Kentucky Fried Chicken (KFC) alreeds in hierdie verband navraag gedoen het, aangesien KFC wil oorskakel na 'n gesonder olie.

      Mnr Engelbrecht noem dat die Optimum GAT-kenmerk, 'n nuwe GMO met onkruiddoderweerstand, op hierdie sta­dium in Amerika evalueer word. Hy sê die GAT-kenmerk is bestand teen beide sulfonielurea en glifosaat, en word die feit dat alle onkruide doodgemaak kan word, en 'n nawerking gebied word, as uiters voordelig beskou. Hy noem dat die GAT gestapel is met die Roundup Ready-geen, ten einde twee aksiemodusse te bewerkstellig, wat die Roundup afbreek en 'n veel geringer effek het op opbrengs­onderdrukking. Hy sê sojaplante spandeer energie om die Roundup af te breek, ten einde daarteen bestand te wees, en dat twee aksiemodusse hoër opbrengste in die hand werk. Hy bevestig op navraag dat die RR-sojabooncultivars wat aanvanklik vrygestel is, 'n onderdrukkende effek gehad het, welke effek met tyd uitgeteel word.

      Mnr Engelbrecht rapporteer dat 'n wêreldrekordopbrengs van meer as tien ton per hektaar deur Mnr Kip Cullers in Missouri behaal is, met 'n groep vier cultivar. Hy sê Mnr Cullers skryf die sukses wat hy behaal het gedeeltelik toe aan asyn, wat hy by besproeiingswater voeg. Hy noem dat asyn volgens Mnr Cullers 'n inhiberende effek het op die hoogte van die plant, en blomvorming stimuleer.

      Die Voorsitter bedank Mnr Engelbrecht vir die toekomsblik wat hy geskets het. Hy bevestig op navraag van Dr Dreyer dat die totale sojaboongenoom reeds gekarteer is. Mnr Engelbrecht noem dat die vrystelling van die Optimum GAT-kenmerk in Amerika vertraag word, weens 'n hangende regsgeding.

      Dr Griessel is die mening toegedaan dat die opbrengs­verbetering van 4 tot 5% per jaar, wat deur Pioneer in die vooruitsig gestel word, 'n einde sal bring aan die praktyk om graan terug te hou as saad. Hy sê hy het die personeel van BFAP tydens die scenario­beplanningsessie, waarna Mnr Joubert vroeër verwys het, aangeraai om met die groot saadmaatskappye te gesels oor die verwagte groei wat in soja-opbrengste bewerkstellig sal word. Hy is van mening dat BFAP die sojabedryf 'n onreg aandoen met hul geprojekteerde groei van soja-opbrengste van 1 tot 2% per jaar.

      Die Voorsitter noem dat die Raad van die PNS juis om dié rede vir Dr De Kock en homself afgevaardig het om met die saadmaat­skappye samesprekings te voer oor die vordering wat met sojaboonteelt behaal word. Hy sê dit is belangrik om die goeie nuus dat daar 'n helder lig skyn aan die einde van die tonnel, uit te dra na die plaaslike sojaboon­produsente.

      Dr Dreyer verneem na die moontlikheid om 'n sojaboon­baster te ontwikkel. Mnr Engelbrecht rapporteer dat sukses nog nie behaal is met navorsing op dié terrein nie. Dr Dreyer verneem of die opbrengsverhoging wat behaal word verband hou met stikstofbinding. Mnr Engelbrecht is van mening dat die effek van stikstofbinding wél in gedagte gehou word, maar dat die skaal uiteindelik uit­spraak lewer oor die regte of verkeerde handeling.

      Mnr Engelbrecht sê Pioneer maak nie geld uit sojabone nie, maar dat die produsent wél voordeel sal trek uit die nuwe cultivars wat vrygestel gaan word. Hy sê hoewel die navorsingsbefondsing op 'n 70:30 grondslag toegeken word aan mielies aan die een kant, en sojas en sonneblom aan die ander kant, bly sojas 'n baie belangrike gewas vir Pioneer.

      Mnr Botma spreek sy dankbaarheid uit oor die inligting wat Mnr Engelbrecht met die Sojawerkgroep gedeel het. Hy sê die produsente het dit as problematies ervaar toe Monsanto onttrek het uit sojas in Suid-Afrika. Hy noem dat onkruid as tweede grootste probleem naas vog in die sanderige gronde ervaar word, en spreek hy die hoop uit dat die Optimum GAT-materiaal binne die afsienbare toekoms plaaslik beskikbaar gestel sal word.

      Die Voorsitter bevestig dat die lede van die Sojawerkgroep een keer per jaar op hoogte gehou sal word van die nuutste verwikkelinge op die gebied van sojaboonteelt.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat die lede van die Sojawerk­groep een keer per jaar op hoogte gehou sal word van die nuutste verwikkelinge op die gebied van sojaboonteelt.

        Mnr Keun

  14. Datum van volgende vergadering

    Die datum van die laaste vergadering van die Sojawerk­groep tydens 2009 word bevestig as 6 Oktober.

  15. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank die teenwoordiges vir hulle geduld, en vir insette gelewer. Hy wens die lede 'n voorspoedige rit na hul onderskeie tuistes toe, en verdaag die vergadering om 15:15.