Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 29 April 2009 in die Raadsaal van die Proteïennavorsingstigting, Rivonia



  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur Dr J de Kock.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal welkom by die vergadering van die Sojawerkgroep. 'n Besondere woord van verwelkoming word gerig aan Dr Pat Caldwell, wat vir die eerste keer 'n vergadering van die Sojawerk­groep bywoon.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer Voorsitter
    Mnr P Botha GraanSA
    Mnr J Botma Produsent: Noord-Vrystaat
    Dr P Caldwell Universiteit van KwaZulu-Natal
    Mnr D Cronjé Produsent: Mpumalanga
    Mnr GP de Beer PNS-kontrakteur
    Dr J de Kock PNS
    Dr J Dreyer LNR-IGG
    Mnr CJ du Plessis Produsent: KwaZulu-Natal
    Mnr J Erasmus LNR-IGG
    Mnr G Farr RNRF
    Dr M Griessel PNS
    Mnr C Havenga PNS-kontrakteur
    Mnr E Maree PNS-kontrakteur
    Mnr FAS Potgieter PNS / GraanSA
    Mnr G Roos Produsent: Mpumalanga
    Mnr WF van Wyk PNS-kontrakteur
    Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte
    Me E Harmse Sekretariaat

    Verskonings

    Me R Beukes Nasionale Departement Land­bou
    Dr H du Plessis LNR-IGG
    Dr HD Fourie LNR-IGG
    Mnr ID Lamprecht Deprtement Landbou: Mpuma­langa
    Me M Scheepers Nasionale Departement Land­bou

  4. Personalia

    Geen.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar, met toevoeging van die volgende besprekingspunte:

    • Punt 7.4.2: Drie-jaar vooruitskatting;
    • Punt 10.2: Roes.
  6. Goedkeuring van notule

    1. Notule van die Sojawerkgroepvergadering van 11 Maart 2009

      Besluit:

      1. Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 11 Maart 2009 word as gelese beskou en goed­gekeur.
  7. Algemene oorsig

    1. Oesskatting

      Die Voorsitter stel Mnr Botha aan die woord. Hy noem dat die geskatte opbrengs, volgens die derde oesskatting, aansienlik beter gaan wees as die finale oes van 282 000 ton, wat in die 2007-2008 produksieseisoen behaal is. Hy sê die oppervlakteskatting is met behulp van vliegtuie gedoen.

      Mnr Du Plessis doen aan die hand dat ondersoek ingestel word na die totale aantal hektaar sojas wat onder be­sproeiing in Suid-Afrika verbou word, aangesien dergelike inligting, na die beste van sy wete, nie beskikbaar is nie. Mnr Botha sê sover sy kennis strek, het Me Beukes van die Nasionale Departement Landbou inligting beskikbaar oor die aantal hektare sojas wat onder besproeiing verbou word.

      Mnr Van Wyk meld dat hy oor 'n kaart beskik, waarop daardie inligting aangedui word. Die Voorsitter reël dat Mnr Van Wyk se inligting gekontroleer word met Me Beukes, sodat inligting rakende die aantal hektare onder besproei­ing waar sojabone geplant word, voorgelê kan word aan die Sojawerkgroep tydens 'n volgende vergadering.

      Die Voorsitter meld dat die beste soja-opbrengs ooit, van nagenoeg 420 000 ton, drie jaar gelede behaal is, op naastenby 240 000 hektaar. Hy sê volgens die derde oesskatting word 'n opbrengs van 405 035 ton sojabone in die huidige produksieseisoen verwag, wat aangeplant is op nagenoeg 225 000 hektaar, en sal dié seisoen waarskynlik die tweede beste opbrengs in die geskiedenis van plaaslike sojaverbouing lewer. Hy vind dié inligting uiters bemoe­digend.

      Dr Griessel noem dat die geskatte gemiddelde opbrengs van 1,8 ton per hektaar die hoogste opbrengs per hektaar in die geskiedenis sal wees. Mnr Potgieter spreek die ver­moede uit dat 'n gemiddeld van naby die 2 ton per hektaar afgehaal sal word, in gedagte gehou die hoeveelhede wat veral in Mpumalanga gestroop word. Mnr Cronjé is in ooreenstemming hiermee. Mnr Du Plessis sê hy het op navraag by produsente verneem dat almal 'n 20 tot 25% beter oes verwag as wat hulle geskat het. Mnr Roos voorspel dat Mpuma­langa sy beste soja-opbrengs ooit gaan behaal.

      Besluite:

      1. Dat kennis geneem word dat die totale oesskatting van sojabone vir die 2008-2009 produksieseisoen, volgens die derde produksieskatting van somergewasse, wat op 23 April vrygestel is, 405 035 ton beloop, op 'n geskatte beplante oppervlakte van 224 750 hektaar.
      2. Dat Mnr Van Wyk se inligting gekontroleer word met Me Beukes, sodat inligting rakende die aantal hektare onder besproei­ing, waar sojabone geplant word, voorgelê kan word aan die Sojawerkgroep tydens 'n volgende ver­gadering.

        Mnre Keun en Van Wyk

    2. Provinsies

      1. KwaZulu-Natal

        Die Voorsitter sê die nuutste oesskatting dui aan dat 27 000 hektaar sojas in KwaZulu-Natal geplant is, met ongeveer 65 000 ton sojas wat geoes gaan word, teen 'n gemiddeld van 2,4 ton per hektaar. Mnr Havenga beskou dit as haalbaar.

        Mnr Du Plessis rapporteer dat nagenoeg 15% van die sojas in dié provinsie nog gestroop moet word, en verwag die produsente, soos reeds gemeld, almal 'n groter opbrengs as wat hulle verwag het. Hy voer aan dat KwaZulu-Natal meer as 2,4 ton per hektaar gemiddeld gaan oes.

      2. Mpumalanga en Gauteng

        Die Voorsitter sê Mpumalanga bly die stersojaprovinsie, met 120 000 hektaar sojas wat aangeplant is, en 'n verwagte opbrengs van 204 000 ton. Mnr Cronjé sê hy sou die skatting opskuif na twee ton per hektaar. Hy rapporteer dat daar nog nie veel gestroop is nie, aangesien probleme met die beskikbaarheid van kontrakteurs ervaar word, met die gevolg dat verliese gely word weens 'n mate van uitspring. Die Voorsitter sê indien Mnr Cronjé korrek is met sy voorspelling, gaan Suid-Afrika se grootste sojaboonoes ooit behaal word.

        Die Voorsitter sê Gauteng se geskatte oppervlakte onder sojas in die huidige produksiejaar is 6 700 hektaar, teenoor die vorige seisoen se beplante oppervlak van 3 400 hektaar, met 'n verwagte oes van 10 385 ton, teenoor die finale oes van 5 500 ton die vorige jaar. Mnr Van Wyk sê hy verwag ten minste 2 ton sojas per hektaar, wat die verwagte opbrengs op nagenoeg 13 000 ton te staan sal bring.

      3. Noordwes- en Limpopoprovinsie

        Die Voorsitter noem dat die oppervlakteskatting ten op­sigte van Noordwesprovinsie op 6 500 hektaar te staan kom, terwyl dié van Limpopoprovinsie 13 000 hektaar beloop. Hy sê volgens die derde oesskatting sal 'n opbrengs van 16 250 ton sojas in Noordwes-, en 35 750 ton in Limpopo-provinsie behaal word. Mnr Potgieter is in ooreenstem-ming met dié skatting.

      4. Vrystaat

        Die Voorsitter sê die geskatte oppervlak onder sojas in die Vrystaat kom te staan op 50 000 hektaar, en sal 70 000 ton sojas geoes word, volgens die derde skatting.

        Mnr Maree meen dat die opbrengs nader aan 80 000 ton sal wees. Hy sê daar is geen rede waarom 'n gemiddelde opbrengs van 1,5 ton per hektaar nie behaal sal word nie. Hy rapporteer dat laat aanplantings gedoen is, en noem dat 'n minimale hoeveelheid swak aanplantings voorkom.

        Mnr Botma sê hoewel sojaverbouing in die Wes-Vrystaat betreklik klein is, verwag hy die beste gemiddelde oes ooit. Hy meld dat die nuwe toetreders baie positief gesind is, en 'n toekoms in sojaverbouing sien. Hy sê hy verwag dat 10 000 tot 15 000 ton méér sojas geoes sal word as wat die oesskatting aandui.

        Die Voorsitter noem dat die grootste opbrengs wat ooit behaal is, toegeskryf kan word aan die feit dat GraanSA in daardie produksieseisoen aanbeveel het dat mielies nie geplant word nie, met die gevolg dat baie nuwe toetreders by sojaverbouing betrokke geraak het. Hy sê daar kan aanvaar word dat die gemiddelde opbrengs per hektaar aanvanklik sal daal, hoe groter die nuwe oppervlakte is wat bykom, aangesien produsente nie 'n reuse sukses behaal die eerste jaar wat hulle sojas verbou nie. Hy noem dat 60 000 hektaar meer geplant is in die huidige as in die vorige produksieseisoen, en verneem of dié hektare deur nuwe toetreders aangeplant is.

        Mnr Du Plessis voer aan dat die grootste gedeelte van produsente wat in die huidige jaar sojas geplant het, dit om ekonomiese redes gedoen het. Hy is van mening dat die swak saaiboere van die toneel verdwyn het, en dat die produsente wat nou saai, saai omdat hulle dit kan doen, en ervare sojaverbouers is, wat weet wat hulle doen. Hy reken dat daar in verhouding nie veel nuwe toetreders tot die mark was nie. Mnr Potgieter is in ooreenstemming met Mnr Du Plessis, en sê in Noordwes- en Limpopo-provinsie het produsente wat sojas ken, oorgeslaan terug na sojas, om is in ooreenstemming dat daar nie veel nuwe toetreders in Mpumalanga was nie. Mnr Roos skat die totale aantal nuwe toetreders op 4 of 5%.

        Die Voorsitter spreek die hoop uit dat 'n groter swaai na sojabone sal kom, met nuwe toetreders tot die mark. Mnr Du Plessis meld dat KwaZulu-Natal weer terug is op die vlak van 25% sojas teenoor mielies. Hy sê daar word gehoop om weer die mikpunt van 30% te behaal.

        Mnr Van Wyk rapporteer dat van die produsente in Mpuma­langa in die huidige seisoen redelik meer sojabone geplant het, aangesien hulle ook van ultra-kort groeiers gebruik kan maak, en die strooptyd kan verleng. Hy sê een van die grootste knelpunte was nog altyd dat 'n produsent net soveel sojas kan plant as wat hy met sy stropers kan beheer. Hy noem dat ultra-kort groeiers die produsent in staat stel om baie vroeër te begin stroop, met 'n groter vensterperiode.

        Mnr Potgieter sê hy is ingelig dat probleme ervaar word met siektes in 'n wisselboustelsel met koring en mielies, en spreek die vermoede uit dat daardie produsente eerder sojas as wisselbougewas sal oorweeg. Dr Dreyer beskou sojas as 'n positiewe gewas, en doen aan die hand dat dié boodskap aan die groot klok gehang moet word.

      5. Oos-Kaap, Noord-Kaap en Suidwestelike Dis­trik­te

        (Besluite 7.2.5.1 en 7.2.5.2 van die Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

        Mnr Keun rapporteer dat hy nog nie die by die Oesskat­tingskomitee kon vasstel onder welke provinsie Lückhoff en Hopetown met die oog op oppervlak- en produksie­skattings ingedeel is nie. Mnr Potgieter spreek die vermoede uit dat dié twee gebiede by die Vrystaat ingedeel word.

        Mnr Botha rapporteer dat ongeveer 1 000 hektaar sojas in die Griekwaland-Wes Koöperasie (GWK) se bedienings­gebied onder besproeiing aangeplant is. Hy sê indien die Oos-Vrystaat Kaap (OVK) se bedieningsgedeelte bygetel word, kom die totale gebied onder besproeiing in die benede-Oranjeriviergebied te staan op 2 500 hektaar, waar 'n opbrengs van tussen 3,5 na 4,0 ton per hektaar verwag word. Hy rapporteer voorts dat GWK en OVK 'n dramatiese uitbreiding van sojaverbouing in die besproeiingskema verwag, weens die finansiële posisie waarin produsente hulle tans bevind. Hy sê produsente kan nie koring plant nie, word finansiering as 'n probleem ervaar, en is graan­pryse nie verskans nie. Hy spreek die gedagte uit dat dit in die volgende produksiejaar meer lonend sou wees om sojas te plant, indien die graan/mieliepryse konstant bly. Hy verduidelik dat dit nie die moeite werd is om koring te verbou in die besproeiingskemas nie, gegewe die huidige koringprys, en dat daardie grond gaan omswaai na soja­bone toe.

        Mnr Farr rapporteer dat gemiddelde droëlandopbrengste van 3,0 na 3,5 ton per hektaar verwag word in die omstreke van Ugie, MacLear, Matatiele en Kokstad. Hy noem dat die produsente in daardie gebiede groot belangstelling toon in wissel­bouprogramme met sojas, en dat Mnr Killian al 'n aantal produsente in dié verband met groot welslae bygestaan het. Hy sê daar is nie veel sojas aangeplant in die suidelike gedeelte van die Oos-Kaap nie, met 'n drie en 'n vyftien hektaar aanplanting in Cradock, maar dat daar wél bevind is dat die potensiaal in daardie gebied uitstekend is. Hy meen dat dit toegeskryf kan word aan langer dagligure, min wolkbedekking en besproeiing. Hy meld dat gemiddelde opbrengste van tussen 4 en 5 ton per hektaar aldaar verwag word.

        Daar word kennis geneem dat daar met die landbou-ekonome van die twee landboumaatskappye GWK en OVK, wat die benede-Oranjerivier-gebied intensief bedien, in verbinding getree sal word rakende akkurate produksie­syfers met betrekking tot daardie gebied.

        Besluite:

        1. Dat by die Oesskattingskomitee vasgestel word onder welke provinsie Lückhoff en Hopetown ingedeel word, met die oog op oppervlak- en produksieskattings.

          Mnr Keun

        2. Dat daar geskakel word met die landbou-ekonome van die twee landboumaatskappye Griekwaland-Wes Koöperasie (GWK) en Oos-Vrystaat Kaap (OVK), wat die benede-Oranjeriviergebied intensief bedien, ten einde akkurate produksiesyfers oor dié gebied te bekom.

          Mnr Keun

    3. Weer- en klimaatsvooruitskouing

      Die Voorsitter beskou die weer- en klimaatsvooruitskatting vir die volgende drie maande as nie van veel belang vir sojaboonverbouing op die huidige stadium nie, en reël dat die punt oorstaan vir bespreking tydens 'n volgende ver­gadering.

    4. Mikpunte – 2010-2020

      Die Voorsitter verduidelik dat die konsep "2010-2020" vir die PNS verwys na die projeksies van proteïenbehoeftes vir dierevoeding, wat opgestel word deur die Vise-Voorsitter van die Raad van die PNS, Mnr Joubert. Hy meld dat die saak vir die PNS gaan om die produksie van meer soja­bone, of meer proteïen, en moet daar 'n balansstaat opge­stel word om te sien of die geld wat aan navorsing bestee word, positiewe resultate lewer. Hy sê daar moet vasgestel word of die gaping tussen plaaslik-geproduseerde proteïen versus ingevoerde proteïen kleiner of groter word, of kon­stant gehou word.

      Die Voorsitter onderneem om Mnr Joubert te nooi na 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep, sodat hy aan die lede meer agtergrond kan verskaf oor die onderskeie modelle wat hy inspan om die projeksies op te stel, en dies meer. Hy onderneem voorts om by 'n volgende vergadering vir die lede 'n aanduiding te gee van die huidige stand van sake, en wat die projeksies van proteïen­behoeftes vir diere­voeding ten opsigte van 2010 en 2020 is.

      Besluite:

      1. Dat kennis geneem word dat Mnr Joubert 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep sal toespreek oor die metodiek waarvolgens die 2010-2020-projeksies van proteïen vir dierevoeding bereken word.

        Voorsitter

      2. Dat kennis geneem word dat die projeksies van proteïen-behoeftes vir dierevoeding ten opsigte van 2010 en 2020 ingesluit sal word by die stukke van 'n volgende verga­dering van die Sojawerkgroep.

        Mnr Keun

      1. Drie-jaar vooruitskatting

        Die Voorsitter rapporteer dat sekere van die PNS se aktiwiteite heroorweeg is, en dat besluit is om 'n generiese bemark­ingsaksie ten opsigte van sojabone in die huidige jaar van stapel te stuur. Hy sê die PNS glo dat baie produsente baie min of niks van sojabone weet nie, en nóg erger, dat die Suid-Afrikaanse publiek ook baie min van sojabone weet. Hy noem dat die PNS nie sojabone vir menslike verbruik bevorder nie, maar wél die OPOT/OAK, en word die totale spektrum gevolglik oorweeg, tussen die twee liggame wat sojaboonnavorsing befonds. Hy meld dat 'n nuwe komitee, te wete die Sojaboon­beplannings­taakspan, aangestel is, met die doelstelling om sojabone generies te bevorder.

        Die Voorsitter rapporteer dat die gedagte tydens die eerste vergadering van die Sojaboonbeplanningstaakspan aange­roer is dat daar heelwat inisiatiewe is, byvoorbeeld die vergaderings van die Sojawerkgroep, waaruit heelwat inligting voortvloei, en in 'n notule vervat word, maar nie verder uitgedra word nie. Hy sê op 'n stadium is besef dat sojabone bevorder moet word, deur onder andere artikels en radio-onderhoude. Hy meld dat Dr Dreyer getaak is om saam met Mnr Weber toe te sien dat gemelde artikels gepubliseer word, maar daar bykomend hiertoe besef is dat die dienste van 'n gesoute, ervare landbouskrywer benodig word, om op 'n gereelde basis sojabone te bevorder. Hy rapporteer dat hy tydens die Brasiliaanse studietoer meegedeel is dat daar weekliks, oor 'n tydperk van tien jaar, in koerante, tydskrifte, op televisie en op radio, publisiteit verleen is aan sojabone, en sê slegs deur die SABC te oorreed om sojaboonpryse saam met dié van koring, witmielies en sonneblom te beeldsaai, sal die boodskap van sojas reeds baie wyer uitgedra word. Hy sê die verstand duisel wanneer mens bewusgemaak word van al die aanwendingsmoontlikhede van sojas en die afval­produkte van sojas.

        Met verwysing na die drie-jaar vooruitskatting, noem die Voorsitter dat die PNS graag sou wou toesien dat die oppervlakte en tonnemaat van sojaverbouing oor die loop van die volgende vyf jaar verdubbel. Hy verneem na die lede se siening van die uitbreidingsmoontlikhede in die driejaartermyn wat voorlê.

        Mnr Farr rapporteer oor die verwikkelinge rakende Rain­bow Nation Renewable Fuels (RNRF). Hy meld dat finansiering van die aanleg steeds onderhandel word, maar dat RNRF optimisties bly. Hy noem dat RNRF nagenoeg 750 000 ton sojas jaarliks sal moet invoer, teen invoer-pariteitsprys, wanneer die aanleg in werking gestel is. Hy sê die plaaslike prys van sojas kom tans te staan op nagenoeg US$330, in vergelyking met die internasionale prys van nagenoeg US$380 plus invoerkostes, en sal RNRF die plaaslike produsente 'n behoorlike prys vir hul sojas moet betaal, aangesien die produsente nie teen 'n goedkoper prys sal bemark nie.

        Die Voorsitter sê dit sal 'n dramatiese verskil maak indien meer kopers, veral 'n groot koper soos RNRF, toetree tot die mark. Hy sê daar kan verder besin word oor die drie­jaarvooruitskatting wanneer daar meer sekerheid is oor RNRF se toekoms.

    5. SAGIS

      Daar word kennis geneem van die SAGIS Markinligtings­dokument gedateer 21 April 2009, die SAGIS Weeklikse Bulletin gedateer 7 April, en die SAGIS Maandelikse Bulletin gedateer 19 Maart.

      Die Voorsitter meld dat Mnr Farr reeds die verskil tussen die SAFEX-prys en invoerpariteitspryse van sojas aangedui het, waarvan daar ook verslag gelewer word in die mark­inligtingsdokument. Hy verwys na die tabel op bladsy drie van die dokument, waar die tabel met die data rakende die oppervlakte beplant en die gemiddelde opbrengs per hektaar sedert die 1996-1997 produksiejaar gereflekteer word. Hy sê die neiging is duidelik, met die beplante oppervlak wat heelwat gestyg het.

      Dr Griessel meld dat daar 'n groot mark vir sojaboon­oliekoek is, soos ook aangedui in die skedule getitel "Imported oilseed products or animal feed products", op bladsy 13 van die markinligtingsdokument. Hy sê in die tydperk Januarie tot Desember 2008 was die totale invoere van oliekoek 1 148 000 ton, waarvan sojaboonoliekoek 928 000 ton verteenwoordig het, of 81% van die totaal. Hy noem dat heelwat katoensaad ook ingevoer is, te wete 82 000 ton, en ongeveer 40 000 ton sonneblomoliekoek. Hy sê 647 000 ton eetbare olie is in dieselfde tydperk ingevoer. Hy meld op navraag dat katoensaad ingevoer word, vir aanwending in die voeding van herkouerdiere, omdat dit oor 'n redelike verbyvloeiproteïen beskik, maar veral oor die aminosuursamestelling, wat met die byvoeging van 'n klein hoeveelheid vismeel 'n uitstekende kombinasie lewer. Hy noem ook dat katoenoliekoek gebruik word in pluim­veevoer, hoewel die gossypol-inhoud daarvan beperkend is, en slegs 4% van die oliekoek ingemeng kan word in die dieet van lêhenne, terwyl braai­kuikenvoer 8 tot 9% katoen­oliekoek kan bevat.

      Die Voorsitter sê terwyl katoenoliekoek belangrik is, het dit 'n beperkte aanwending, weens die gossypol. Hy noem dat die veselinhoud van sonneblomoliekoek die aanwending daarvan beperk, dat vismeel buitensporig duur is, met die gevolg dat die mark vir sojaboon­oliekoek baie groot is, soos duidelik blyk uit die syfers wat Dr Griessel aangehaal het.

  8. Markaangeleenthede

    1. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

      Dr Griessel rapporteer oor die huidige internasionale situasie ten opsigte van sojabone. Hy sê volgens die Oil World van 17 April kan heelwat skommelings in die mark verwag word, wat inderdaad ook gebeur het, met heelwat veranderinge wat die afgelope tyd plaasgevind het. Hy sê Argentinië se verwagte opbrengste per hektaar het aan­sienlik gedaal vanaf die November 2008-voorspelling van 50 miljoen ton. Hy meld dat daar twee weke gelede verwag is dat die Argentynse sojaboonopbrengs 40 miljoen ton sal beloop, maar dat die vorige week se skatting van die Argentynse opbrengs die laagste is in die afgelope tien jaar, en gedaal het na 37 miljoen ton.

      Dr Griessel rapporteer dat die produsente in Argentinië die verkoop van sojabone terughou, aangesien geen vordering gemaak word met die onderhandelings met hulle regering nie, met 'n onlangse vergadering tussen die produsente en die regering wat skynbaar slegs een uur geduur het, sonder enige noemenswaardige uitkoms.

      Dr Griessel meld dat sojaboonroes geweldig vinnig versprei het in die Brasiliaanse staat Parana, as gevolg van die nat toestande wat gedurende Maart ervaar is, en sojaboonroes waargeneem is op 1 500 lokaliteite, wat ongeveer 40% meer is as twee jaar gelede. Hy sê die verwagte opbrengs van 59 miljoen ton, soos aangedui in November 2008, is intussen afwaarts aan-gepas na 58 miljoen ton.

      Dr Griessel sê in Paraguay toon sojaboonoesresultate tot dusver dat die huidige jaar se produksie in die orde van 4,2 miljoen ton sal wees, wat 1,8 miljoen ton minder is as die skatting wat aan die einde van November 2008 gemaak is.

      Met verwysing na die VSA, sê Dr Griessel dat die voorneme om sojas te plant soos op 31 Maart slegs 30,8 miljoen hektaar was, volgens Oil World van 3 April. Hy sê hoewel dit 100 000 hektaar meer is as die vorige jaar, en die grootste aanplanting ooit in die VSA, is dit steeds 1,3 miljoen hektaar minder as die gemiddelde markverwagtings. Hy noem dat die aankondiging op 31 Maart veroorsaak het dat fondsbestuurders op groot skaal sojaboontermynkontrakte gekoop het op die Chicago Board of Trade (CBOT). Hy berig dat die sojaboontermynkontrakte vir Mei op 2 April sterk geklim het, en die styging vanaf 30 April na 2 Mei 8% was.

      Dr Griessel meld dat die VSA se sojaboonvoorraad op 1 Maart te staan gekom het op 35,4 miljoen ton, wat 3,6 miljoen ton laer is as die vorige jaar, en dus die laagste Maartvoorraad in vyf jaar verteenwoordig. Hy sê met hierdie lae VSA-voorraad, sal opbrengste baie goed moet wees om die voorraadposisie gedurende 2009-2010 na meer gemaklike vlakke te bring. Hy noem dat die afhank­likheid van geskikte aanplantings- en groeitoestande, asook reënval, om goeie opbrengste te verseker, dus kan veroorsaak dat heelwat wisselvalligheid in die mark verwag kan word.

      Dr Griessel rapporteer dat Mnr Thomas Mielke van Oil World die mening toegedaan is dat die 31 Maart voor­nemens om te plant waarskynlik die laagste skatting vir die huidige jaar is, en dat finale aanplantings moontlik meer sal wees, veral as sojaboonpryse relatief teenoor ander gewasse styg in die komende paar weke. Hy sê Mnr Mielke se voorspellings is bewaarheid, en het VSA voor­neme om te plant toegeneem, as gevolg van die hoë pryse.

      Dr Griessel sê volgens Oil World het die wêreldproduksie van sojabone vir die tweede agtereenvolgende jaar gedaal. Hy rapporteer dat wêreldproduksie gedurende die 2006-2007 seisoen te staan gekom het op 237 miljoen ton, en met 16 miljoen ton gedaal het gedurende die 2007-2008 seisoen na 221 mijoen ton, met die verwagting dat wêreld­produksie gedurende 2008-2009 217 miljoen ton sojabone sal beloop, wat 20 miljoen ton laer is as gedurende die 2006-2007 seisoen. Hy sê Mnr Mielke se waarneming op 17 April was dus korrek.

      Dr Griessel rapporteer voorts, en noem dat pryse skerp gestyg het vanaf 31 Maart tot 16 April. Hy sê sojaboon­termynkontrakte het tot 'n ses maande hoogtepunt van US$10,58½ per boesel gestyg op CBOT, en dat die soja: mielie-prysverhouding gevolglik met 21% verbeter het, wat hoër aanplantings in die VSA aangemoedig het. Hy skryf die rede vir die verhoging in aanplantings toe aan die prysverhoudingsverbetering van 2,26 ten opsigte van die November-sojaboonprys en die Desember-mielieprys.

      Dr Griessel sê die lae wêreldvoorrade kan na verwagting tot gevolg hê dat pryse sal styg, maar meen egter dat die sterker rand kan veroorsaak dat produsentepryse in Suid-Afrika nie dienooreenkomstig styg nie.

      Mnr Roos sê die prys van sojas het die vorige dag gedaal met R70, met 'n verdere daling daardie dag van R95, en dat dit, na wat berig word, toegeskryf kan word aan die uitbraak van varkgriep. Dr Griessel noem dat varke 'n baie groot verbruiker is van sojas, veral in Asië en Amerika, en dat die varkgriep na verwagting 'n negatiewe uitwerking sal hê. Hy is van mening dat die stelling egter ongegrond is, aangesien die virus meer verwant is aan voël- as aan varkgriep, en dat die markte sal herstel, sodra dié besef deurdring.

      Dr Griessel gee 'n uiteensetting van die afgeleide pro­dusenteprys vir sojabone, soos uiteengesit in die tabel wat volg, waarna die Voorsitter hom bedank vir insette gelewer.

      Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban soos op 28 April 2009
      Verskeping: R4 095   |   Wisselkoers: R8.89/US$
      Geland Durban 47% proteïen oliekoek 4 095.00
      Vervoer na Randfontein (per ton) 260.00
      Rente 2 weke 15% 24.00
      0,5% hanteringsverlies 20.00
      Gelande prys 4 399.00
      Waarde van volvetsoja 110% R4 839.00
      Min koste om sojabone na volvetsojabone te verwerk 1 082.00
      – Vervoerkoste na volvet-aanleg 150.00
      – Stoorkoste 115.00
      – Rente 15% (6 maande) 303.00
      – Ekstrusiekoste 285.00
      – 5% ekstrusieverlies 230.00
      Afgeleide produsenteprys vir sojabone (op plaas) – R/ton R3 757.00

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat die PNS se afgeleide pro­dusenteprys vir sojabone soos op 28 April 2009 R3 757 beloop het.
    2. SAFEX

      (Besluit 8.2.1 van Sojawerkgroep van 11 Maart 2009)

      Kennis word geneem van die SAFEX-termynprys van sojabone soos op 28 April 2009, wat as Bylae E by die sakelys aangeheg is.

      Mnr Potgieter vind dit interessant dat die termynprys vir Mei tans R3 165 beloop, terwyl die termynkontrakte vir Maart gestyg het na R3 450. Hy sê heelwat van dit wat Dr Griessel gesê het oor prysskommelings, word deur SAFEX weerspieël. Hy verwys na Mnr Roos se vorige stelling, en sê alle graanpryse het geweldig gedaal sedert die vorige dag. Hy meen egter dat sojabone se prys nog goed is, met die verhouding tussen soja- en mieliepryse wat redelik sterk is.

      Daar word kennis geneem dat terugvoering ingewag word na aanleiding van die besluit wat tydens 'n vorige ver­gadering geneem is, te wete dat daar met die Johannes­burgse Effektebeurs samesprekings gevoer word om die sojaboon-prys ook op televisie beskikbaar te stel, saam met die ander gewasse soos sonneblom, koring en mielies.

      Besluit:

      1. Dat daar met die Johannesburgse Effektebeurs same­sprekings gevoer word om die sojaboonprys op televisie beskikbaar te stel, saam met dié van ander gewasse soos sonneblom, koring en mielies.

        Voorsitter
        Mnr Keun

  9. Produsente-aangeleenthede

    1. KwaZulu-Natal

      1. Super Sojakompetisie – terugvoering

        (Besluite 9.1.1.1 en 9.1.1.2 van die Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009 en besluit 7.17.2.1 van die Tegnologie­komiteenotule van 12 Februarie 2009)

        Die Voorsitter sê daar is tydens vorige vergaderings melding gemaak dat die Super Sojakompetisie aangepas sal word, ten einde beter deelname van produsente, en ook nouer skakeling met aksies soos die "No-Till" Dag te bewerkstellig. Hy stel Mnr Du Plessis aan die woord om te rapporteer oor die nuwe inisiatiewe.

        Mnr Du Plessis meld dat Mnr Havenga nouer betrokke is by die kompetisie sélf, en dat Mnr Havenga gevolglik sal rapporteer oor die aantal inskrywings, en dies meer. Hy sê die koördineerders van die kompetisie het besluit om dit in totaliteit in te skakel by die "No-Till" Klub se dag, wat aangebied word op 9 en 10 September 2009. Hy noem dat die bekendstelling van kompetisie-inligting op 9 Sep­tember gedoen sal word, met die prysuitdeling aan die wenners van die noordelike en suidelike streke wat die aand te Drakensville sal geskied. Hy sê die "No-Till" Klub se algemene jaarvergadering word die aand van 8 September gehou, en dat paneelbesprekings sal plaasvind die oggend van 10 September. Hy dui aan dat die paneel­besprekings wat in die verlede aangebied is, uiters geslaagd was, met heelwat produsente wat deelgeneem het. Hy sê in teenstelling met die verlede, sal slegs een verslag van die kompetisie-uitslae gedruk word, en nie twee nie, met die pryse wat steeds in streeks- en KwaZulu-Natal-verband toegeken sal word.

        Mnr Du Plessis sê hoewel uitnodigings ter gelegener tyd aan die lede van die Sojawerkgroep gerig sal word, sou hy van die geleentheid gebruik wou maak om solank 'n uitnodiging aan die lede te rig. Hy noem dat besluit is om saam te smelt met die "No-Till" Klub se bedrywighede, aangesien geenbewerking nie fisies bedryf kan word in 'n monokultuurstelsel nie, en sojas, sover dit hom betref, die beste wisselbougewas is. Hy sê dit is ook finansieel 'n beter opsie vir die Super Sojakompetisie. Hy noem ook dat produsente kieskeurig is oor die inligtingsdae wat hulle bywoon, en slegs daardie geleenthede bywoon waar die meeste inligting ingewin kan word. Hy sê die "No-Till" Klub kan beskou word as die beste voertuig om by aan te haak, aangesien geenbewerking groot uitbreiding toon in KwaZulu-Natal. Hy noem dat baie goeie terugvoering ont­vang is, nadat die vorige Super Sojakompetisie ingeskakel het by die "No-Till" Klub, en het die Supersoja-kompetisie ook heelwat blootstelling gekry, aangesien 40% van die persone wat die vorige jaar die geleentheid bygewoon het, van buite die provinsie afkomstig was.

        Die Voorsitter meld dat die Tegnologiekomitee besluit het om die saak rakende die aanpassing van die Supersoja­kompetisie te verwys na die Sojawerkgroep, spesifiek met die gedagte dat die lede besin of dié aspekte van die kompetisie, soos uiteengesit deur Mnr Du Plessis, nog enigsins sin maak.

        Mnr Cronjé bevestig dat hy die vorige jaar se verrigtinge bygewoon het, en dit beskou het as 'n uitstekende geleent­heid om geenbewerking en die Super Sojakompetisie te bevorder. Dr Dreyer beskou dit as belangrik om die suksesverhale uit die kompetisie te ondersoek. Hy sê 'n produsent wat 'n goeie opbrengs behaal het, sou 'n goeie wins gemaak het, en doen aan die hand dat 'n geleentheid geskep word vir die wenners om te verduidelik welke praktyke hy gevolg het, en welke wins hy behaal het.

        Mnr Roos spreek die gedagte uit dat heelwat produsente van buite KwaZulu-Natal die geleentheid bygewoon het, aangesien hulle ondersoek wou instel na geenbewerking, weens die finansiële druk wat tans deur produsente ervaar word. Mnr Cronjé sê daar is 'n groot behoefte aan 'n soortgelyke kompetisie in Mpumalanga, en doen aan die hand dat 'n opedag op sy plaas aangebied word in September, waar Mnr Van Wyk se tersaaklike proef­resultate voorgelê word, en die herinstelling van die kompetisie bekendgestel word. Die Voorsitter meld dat die Mpumalanga-Super Sojakompetisie om die een of ander rede doodgeloop het. Hy sê hy kan nie met Mnr Cronjé verskil nie, aangesien Mpumalanga by verre die grootste sojaverbouingstreek bly, en 'n versoek gerig kan word aan die PNS dat heelwat meer aandag geskenk word aan Mpumalanga, en dat die aanbied van 'n Supersoja­kompetisie aldaar hoë prioriteit geniet. Mnr Du Plessis maan dat 'n persoon identifiseer moet word wat só 'n kompetisie kan dryf. Hy voer aan dat die kompetisie te Mpumalanga doodgeloop het, omdat die plaaslike provin­siale departement van landbou nie die wil gehad het om die inisiatief te dryf nie. Mnr Roos noem dat Gauteng ook ingesluit kan word by die Mpumalanga-kompetisie.

        Mnr Havenga rapporteer dat ongeveer 52 produsente ingeskryf het vir die KwaZulu-Natalse kompetisie, met 'n taamlike herlewing en hernude belangstelling wat merk­baar is, veral in die Bergville-Wintertongebied. Hy sê met uitsondering van drie lande, is al die lande geoes, en loop die program goed.

        Daar word kennis geneem dat Mnr Du Plessis inligting rakende buitelandse geenbewerkingsplanters beskikbaar gestel het aan Mnr Van Wyk, wat die inligting verwerk het, en beskikbaar sal stel aan die Voorsitter.

        Die Voorsitter reël dat die aangeleentheid rakende die samesprekings wat met Mnr Joubert gevoer sou word in­sake die berekening van sekere koste-items met betrek­king tot die Super Sojakompetisie, met die oog daarop om dit in lyn te bring met Mnr Joubert se metodologie, oorstaan vir bespreking tydens 'n volgende vergadering.

        Die Voorsitter reël voorts dat die verslag rakende die gegewens van drie van die deelnemers wat oor die loop van 'n aantal jare deelgeneem het aan die Supersoja­kompetisie, en wat aanvanklik gewone bewerkingspraktyke gevolg het, maar later oorgeslaan het na minimum­bewerking, oorstaan vir bespreking tydens die volgende vergadering.

        Besluite:

        1. Dat die gesprek met Mnr Joubert insake die berekening van sekere koste-items met betrekking tot die Supersoja­kompetisie, met die oog daarop om dit in lyn te bring met Mnr Joubert se metodologie, oorstaan vir bespreking tydens 'n volgende vergadering.

          Mnr Du Plessis
          Mnr Havenga

        2. Dat die gegewens van drie van die deelnemers wat oor die loop van 'n aantal jare deelgeneem het aan die Supersoja­kompetisie, en wat aanvanklik gewone bewerkings­praktyke gevolg het, maar later oorgeslaan het na minimumbewerking, voorgelê sal word aan die volgende vergadering van die Sojawerkgroep.

          Mnr Havenga

      2. Navorsing

        Mnr Havenga rapporteer oor die status quo van die cultivarproewe in KwaZulu-Natal, en noem dat al die proewe gestroop gaan word. Hy sê die cultivarproewe lyk goed, en bevestig dat betroubare resultate verwag kan word. Hy noem dat grondmonsters geneem is, alhoewel plantestand nie altyd ideaal is nie, omdat met die hand geplant word.

    2. Mpumalanga en Gauteng

      1. Navorsing

        Mnr De Beer rapporteer dat grondmonsters geneem is by die cultivarproef te Kinross, en dat sake goed verloop aldaar. Mnr Van Wyk beskou Kinross as een van die beste cultivarproewe. Mnr Erasmus meld dat hy die proef te Wonderfontein besoek het, en dat dié nie te wonderlik vertoon nie. Hy noem egter dat die proef te Delmas baie goed vertoon. Hy sê hy het ook die proef te Groblersdal besoek, wat reeds gestroop is.

      2. Individuele strookdemonstrasieproewe

        (Besluite 9.2.2.1 en 9.2.2.2 van Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

        Mnr De Beer rapporteer dat die strookdemonstrasie­proewe, buiten die laatplantdatumproef te Kinross, geoes is. Mnr Van Wyk noem dat twee sclerotiniaproewe geplant is, te wete een in Kinross en een in Piet Retief. Hy sê hoewel die proef by Piet Retief nie sclerotiniabesmetting opgedoen het nie, was die proef te Kinross kwaai besmet, met tussen 34 en 54% besmetting. Hy rapporteer dat daar tien behandelings was, met een behandeling wat geen sclerotinia opgedoen het nie, aangesien die cultivar LS6162, 'n ultrakort groeier van Link Seed, sclerotinia­besmetting ontwyk het, juis omdat dit 'n vinnige groeier is.

        Mnr Cronjé rapporteer dat die strookdemonstrasieproewe wat op sy plaas aangeplant is, gestroop is. Hy sê die geen­bewerkingsproef het, met 'n opbrengs van 300 kg per hektaar méér, beter gevaar as die konvensionele bewerk­ingsproef. Hy noem dat die proef met teruggehoude saad interessante resultate opgelewer het. Hy sê die cultivar wat juis beproef is, is kwaai geslaan deur sclerotinia, en het die maatskappy se vars saad die swakste gevaar, met 2,9 ton per hektaar. Hy meld dat die teruggehoude saad die beste presteer het, met 3,2 ton per hektaar. Hy sê die betrokke saadmaatskappy het nie die besigtiging of die stroopproses bygewoon nie.

        Dr De Kock rapporteer dat hy deur middel van 'n inter­netsoektog vasgestel het dat heelwat blaarvoedings­middels beskikbaar is in Noord-Amerika. Hy noem dat hy egter nie veel sukses kon behaal met die soektog na Suid-Amerikaanse inligting nie, weens die taalkwessie. Die Voorsitter reël dat Dr Caldwell tydens haar besoek aan Argentinië en Brasilië navraag doen oor effektiewe blaar­voedingsmiddels wat aangewend word in daardie lande.

        Daar word kennis geneem dat die Tegnologiekomitee sal besin oor die probleem wat produsente ervaar met planters, na aanleiding van Mnr Roos se opmerking tydens 'n vorige vergadering, dat dit nie vir 'n produsent prakties is om 'n planter van R300 000 te koop om slegs twee hektaar sojabone te plant nie.

        Besluite:

        1. Dat tydens die beplande besoek aan Suid-Amerika vas­gestel word of effektiewe blaarvoedingmiddels aldaar beskikbaar is.

          Dr Caldwell

        2. Dat kennis geneem word dat die Tegnologiekomitee sal besin oor die probleem wat produsente ervaar met planters, na aanleiding van Mnr Roos se opmerking tydens 'n vorige vergadering dat dit nie vir 'n produsent prakties is om 'n planter van R300 000 te koop om slegs twee hektaar sojabone te plant nie.

          Voorsitter
          Mnr Keun

    3. Noordwes- en Limpopoprovinsie

      1. Navorsing

        Mnr Erasmus rapporteer dat die proef te Koedoeskop besonder mooi vertoon. Hy meld dat ystervarke ál drie herhalings van een bepaalde cultivar opgevreet het in die proef. Hy meld dat die proef te Towoomba laat geplant is, en dat die plante verdwerg is, maar dat hy tog goeie proefresultate verwag. Daar word kennis geneem dat Groblersdal ingedeel is by Limpopoprovinsie.

        Mnr Potgieter is in ooreenstemming dat die proef te Koedoeskop baie goed vertoon het. Mnr Erasmus noem dat die proef te Potchefstroom goed vertoon het, maar dat probleme ervaar is met duiwe teen die einde van die seisoen, met die gevolg dat daar voortydig begin is om te oes, terwyl die peule nog redelik groen was. Hy sê die duiwe pik die peule oop, en vreet die pitte. Mnr Van Wyk bevestig dat hy dieselfde waargeneem het by die Hatfield-proefplaas.

      2. Ander

        Geen verslaglewering.

    4. Vrystaat

      1. Navorsing

        Mnr Erasmus rapporteer dat die cultivarproewe te Villiers en Reitz in die Vrystaat die vorige dag geoes is, met die proef te Ficksburg wat op daardie dag geoes word. Hy meld dat die proef te Bethlehem afgeskryf is, en nie geoes is nie. Hy meen die swakste proef was moontlik by die lokaliteit te Villiers.

      2. Ander

        Geen verslaggewing.

    5. Oos-Kaap, Noord-Kaap en Suidwestelike Dis­trik­te

      1. Navorsing

        Mnr Farr rapporteer dat die proef wat Mnr Killian te Kingwilliamstown aangeplant het, eenvormig vertoon en dat dié proef, nieteenstaande die kompakteringsprobleem wat by daardie lokaliteit ervaar word, asook 'n laat aanplantingsdatum, volgens alle aanduidings wél resultate sal oplewer.

      2. Ander

        Geen verslaglewering.

    6. Algemeen

      Geen verslaglewering.

  10. Navorsing

    1. Nasionale cultivarproewe

      1. Nasionale cultivarproewe 2008-2009

        Daar is reeds verslag gelewer oor die nasionale cultivar­evaluasieproewe ten opsigte van die onderskeie provinsies onder die besprekingspunt "Navorsing".

      2. Nasionale cultivarproewe 2007-2008: verslag

        Die Voorsitter stel die verslag van die nasionale cultivar­proewe wat tydens die 2007-2008 produksiejaar onder­neem is, oop vir bespreking.

        Dr Griessel verneem of die plantestand van die nasionale cultivarproewe te Potchefstroom in die huidige jaar verbeter het. Hy sê die plantestand by daardie lokaliteit is elke jaar swak. Mnr Erasmus skryf die probleem toe aan duiweskade by plantopkoms, en sê om hierdie rede is 'n tweede proef aangeplant, waar nie veel duiweskade aangerig is nie. Hy rapporteer dat die kwessie bespreek is met die LNR-IGG se fasiliteits-bestuurder, en dat daar besluit is om nette oor die proewe te span tydens die volgende produksiejaar. Hy noem dat soveel as 'n duisend duiwe op een stadium kan toesak op die proewe, en binne 'n paar minute die proewe totaal kan opvreet. Hy sê in die verlede is die proewe al drie keer oorgeplant.

        Die Voorsitter reël dat die saak verwys word na die Tegnologiekomitee, sodat hulle die sinvolheid van die aan­plant van sojabooncultivarproewe te Potchefstroom met die LNR-IGG kan bespreek.

        Die Voorsitter bedank Mnr Erasmus en die LNR-IGG vir die reuse werk wat hulle doen met die nasionale cultivar­proewe, en spreek groot waardering uit vir al die insette. Hy sê sonder die werk wat hier gelewer word, sal die PNS nie die sojaboon­bedryf kan beheer en bestuur nie.

        Besluit:

        1. Dat die saak van duiweskade op die cultivarproewe te Potchefstroom verwys word na die Tegnologiekomitee, om die sinvolheid van die aanplant van sojabooncultivar-proewe te Potchefstroom met die LNR-IGG te bespreek.

          Mnr Keun

    2. Roes

      1. Inligting vanaf Sojaboonroeswerkgroep

        (Besluit 10.2.1.1 van Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

        Mnr Keun rapporteer dat aandag geskenk is aan die produsenteversoek dat duidelik aangedui word dat die roes­waarskuwingsinligting deur die PNS via SMS versprei word, aangesien die produsente heelwat bemarkingsboodskappe via SMS ontvang. Hy sê daar is gedoen wat moontlik is, ten einde die probleem aan te spreek.

        Die Voorsitter rapporteer dat die Sojaboonroespamflet opdateer is deur Dr Caldwell, en stel haar aan die woord. Dr Caldwell noem dat 'n paar adresse gewysig is, en dat een van die foto's vervang is met 'n ander, beter foto. Sy meld dat sy wyd navraag gedoen het oor enige nuwe chemi­kalieë wat moontlik vrygestel is, en by die lys gevoeg kan word, en dat BASF se produk "Abacus" gevolglik by die lys ingesluit is. Sy meld dat sy ook 'n paar tikfoute reggestel het.

        Mnr Keun rapporteer op navraag dat gemelde pamflet nog nie gedruk is nie, aangesien die uitleg van die pamflet verander is, weens die wysigings. Hy sê die proses is om sekere redes vertraag, met die gevolg dat die pamflet nie betyds vir die huidige seisoen beskikbaar gestel kon word nie.

        Die Voorsitter reël dat die gewysigde Sojaboonroespamflet dien voor die vergadering van die Sojaboonroeswerkgroep, wat op 21 Julie gehou word, sodat enige finale wysigings aangebring kan word tot die dokument, waarna die dokument na die drukkers gestuur sal word.

        Daar word kennis geneem dat die Tegnologiekomitee aangedui het dat Dr Craven se naam en kontak­besonderhede gevoeg sal word by die lys van persone wat sojaboonroes professioneel kan identifiseer.

        Die Voorsitter spreek die PNS se kommer uit omdat roes waargeneem is by Morgenzon, Kinross, Delmas en Potchefstroom. Mnr Cronjé verneem na die rede waarom roes na Mpumalanga versprei het, en opper die moontlikheid dat die heersende oostewinde, wat tydens die huidige produksieseisoen voorgekom het, 'n aandeel hierin gehad het.

        Die Voorsitter verneem by Dr Caldwell na die moontlikheid dat roes, wat een jaar in April te Delmas voorkom, in die volgende seisoen byvoorbeeld in Januarie, weer te Delmas sal voorkom. Dr Caldwell sê Prof McLaren van die Universiteit van die Vrystaat skryf die voorkoms van roes toe aan die fisiologiese toestand van die plant, met roes wat slegs sal voorkom tydens die blomstadium. Sy meld egter dat roesbesmetting teweeggebring kan word deur die plant in 'n doukamer teen 'n sekere temperatuur te plaas. Sy sê as roes eers 'n streek binnegedring het, dit op 'n ander plant sal oorwinter, maar dat roesbesmetting nie sal plaasvind in baie warm of baie koue omstandighede nie. Sy noem dat roes in spesifieke omgewingstoestande posvat, en ten minste 'n sesuurlange tydperk van blaarvogtig-heid benodig om die plant binne te dring.

        Die Voorsitter meld dat Mnr De Beer die huidige jaar infaseer is by die roesvangerproewe, wat in die volgende produksieseisoen sy verantwoordelikheid sal wees. Hy reël dat die uitbraak van roes in Mpumalanga verwys word na die volgende vergadering van die Tegnologiekomitee, sodat hulle dringende aandag aan pro-aktiewe optrede kan skenk, ook in gedagte gehou die moontlike uitbreiding van die roesvangerproewe in daardie provinsie.

        Dr Griessel sê toe roes die eerste keer in KwaZulu-Natal uitgebreek het, gemeld is dat roes as endemies tot die gebied beskou kan word, indien dit 'n paar jaar na mekaar in daardie gebied voorkom. Hy verneem by Dr Caldwell hoe lank roesspore kan oorleef. Sy sê roes kan enige tyd kunsmatig geïnduseer word, maar meen daar moet eintlik gevra word om welke rede roes in die huidige jaar, en nie voorheen, in Mpumalanga posgevat het nie.

        Dr De Kock onderneem om vas te stel of roes in die huidige seisoen waargeneem is op droëbone in Mpumalanga. Mnr Potgieter spreek sy kommer uit, aangesien roes voorgekom het in die Pannar­proewe te Greytown, en ook in die Pannarproewe te Delmas, en opper die moontlikheid dat die spore oorgedra is deur die beweging van persone tussen dié twee proewe. Hy doen aan die hand dat die saak te berde gebring word by die vergadering van die Sojaroeswerkgroep. Dr Caldwell beaam dat die versprei­ding van roes deur mense wél moontlik is, en sê haar studente word ook attent gemaak op die noodsaaklikheid daarvan dat sekere sanitêre maatreëls gevolg moet word wanneer daar in aanraking gekom word met roes.

        Die Voorsitter reël dat Dr Caldwell tydens haar Suid-Amerikaanse studiereis by Embrapa en INTA vasstel onder welke omstandighede die voorkoms van roes in 'n gebied as endemies beskou word.

        Besluite:

        1. Dat die uitbraak van roes in Mpumalanga verwys word na die volgende vergadering van die Tegnologiekomitee, sodat daar onverwyld aandag geskenk word aan pro-aktiewe optrede in dié verband.

          Mnr Keun

        2. Dat die kwessie rakende die oordra van roesspore deur menslike beweging, wat moontlik 'n faktor was in die verspreiding van roes tydens die huidige seisoen vanaf die Pannarproewe te Greytown, na die Pannarproewe te Delmas, verwys word na die Sojaroeswerkgroep.

          Mnr Keun

        3. Dat vasgestel word of roes in die huidige produksie-seisoen waargeneem is op droëbone in Mpumalanga.

          Dr De Kock

        4. Dat by Embrapa en INTA vasgestel word onder welke omstandighede die voorkoms van roes in 'n gebied as endemies beskou word.

          Dr Caldwell

      2. Roesmiddels

        (Besluit 10.2.3.1 van Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

        Die Voorsitter reël dat Dr Caldwell tydens haar Suid-Amerikaanse studiereis by Dr Claudia Godoy, verbonde aan Embrapa in Brasilië, navraag doen oor die kwessie dat sojaboonroes weerstand toon teen tetrasole, na die voortdurende aanwending daarvan.

        Besluite:

        1. Dat plaaslike produsente daarop attent gemaak word dat die tipe spuitmiddels wat hulle teen roesbesmetting gebruik, afgewissel moet word, aangesien die voort­durende aanwending van tetrasole teen sojaboonroes in Brasilië tot gevolg gehad het dat sojaboonroes weerstand begin toon het teen die aanwending van tetrasool-bevattende swamdoder.

          Mnr Potgieter

        2. Dat by Dr Claudia Godoy, verbonde aan Embrapa in Brasilië, navraag gedoen word oor die kwessie dat sojaboonroes weerstand toon teen tetrasole, na die voortdurende aanwending van daardie middel.

          Dr Caldwell

    3. Sclerotinia

      1. Proefwerk – terugvoering Sclerotinia­werkgroep­vergadering

        (Besluite 10.3.1.1 en 10.3.1.2 van Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

        Dr De Kock noem dat hy tydens die vergadering van die Sclerotiniawerkgroep in Julie sal rapporteer oor die vor­dering wat die afgelope jaar behaal is met sclerotinia­navorsing. Hy rapporteer dat sclerotiniabesmetting posgevat het by van die proewe waar daar in die verlede gesukkel is om besmetting te kry, en word resultate van daardie proewe, veral dié van Philagro, verwag. Hy bevestig dat Mnre De Beer en Van Wyk hulle ervarings tydens die sclerotiniademonstrasiestrookproewe, wat by produsente aangeplant is, met die Sclerotiniawerkgroep sal deel.

        Daar word kennis geneem dat Dr Caldwell navraag sal doen oor die jongste verwikkelinge ten opsigte van sclerotinia­navorsing in Suid-Amerika tydens haar voorgenome besoek aldaar.

        Besluite:

        1. Dat kennis geneem word dat Mnre De Beer en Van Wyk hulle ervarings tydens die sclerotiniademonstrasie­strookproewe, wat by produsente aangeplant is, met die Sclerotiniawerkgroep sal deel.

          Dr De Kock

        2. Dat kennis geneem word dat Dr Caldwell navraag sal doen oor die jongste verwikkelinge ten opsigte van sclerotinia­navorsing in Suid-Amerika tydens haar voorgenome besoek aldaar.

          Dr Caldwell

      2. Sclerotinia-opnames

        Daar word kennis geneem dat Me Beukes tydens die vergadering van die Sonneblom- en Sojaboonforum beves­tig het dat die Oesskattingskomitee sal voortgaan met die opname van die voorkoms van sclerotinia-besmetting.

        Die Voorsitter reël dat by Me Beukes navraag gedoen word oor die moontlikheid dat die resultate van die sclerotinia-opnames reeds voor die vergadering van die Sclerotinia­werkgroep beskikbaar gestel word. Mnr Potgieter rap­porteer dat GraanSA se produsente versoek is om hulle samewerking te verleen met die opnames. Hy sê die produsente sal ook deur middel van die lyfblad van GraanSA attent gemaak word op die belangrikheid van hulle deelname aan die opnames.

        Besluit:

        1. Dat by Me Beukes van die NLD navraag gedoen word oor die moontlikheid dat die resultate van die sclerotinia-opnames reeds voor die vergadering van die Sclerotinia­werkgroep beskikbaar gestel word.

          Mnr Keun

    4. Rhizobium

      (Besluite 10.4.1 tot 10.4.4 van die Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

      Daar word kennis geneem dat die aangeleentheid rakende die kwaliteit van peulplantentstowwe bespreek is deur die Tegnologie­komitee, en dat dié komitee besluit het om tydens 'n volgende vergadering verdere samesprekings oor die aangeleentheid te voer.

      Daar word voorts kennis geneem dat die name van die vier rhizobium-rasse wat deur die Gatesstigting aan Afrika beskikbaar gestel sal word, deurgegee is aan Dr Staphorst.

      Mnr Potgieter bevestig dat GraanSA die Kantoor van die Registrateur formeel sal inlig oor die huidige stand van sake rakende die onbevredigende kwaliteit van sekere rhizobiumentstowwe wat plaaslik verhandel word, en ook oor die tekortkominge met betrekking tot die behoorlike toetsing van gemelde entstowwe. Hy onderneem om by 'n volgende vergadering terugvoering in dié verband te verskaf.

      Daar word kennis geneem dat verdere feitelike gegewens ingewin sal word, alvorens samesprekings gevoer word met die besturende direkteure van die onderskeie maat­skappye aan die hand van Dr Staphorst se bevindinge, en hulle ingelig word dat die inligting aan die media beskikbaar gestel sal word, indien kwaliteitsverbetering nie na bevrediging bewerkstellig word nie.

      Besluite:

      1. Dat terugvoering ingewag word rakende die Kantoor van die Registrateur se reaksie op die inligting wat GraanSA aan hulle deurgegee het oor die huidige stand van sake met betrekking tot die onbevredigende kwaliteit van sekere rhizobium­entstowwe wat plaaslik verhandel word, en ook oor die tekortkominge met betrekking tot die behoorlike toetsing van gemelde entstowwe.

        Mnr Potgieter

      2. Dat kennis geneem word dat verdere feitelike gegewens ingewin sal word rakende die navorsingsprojek oor die kwaliteit van plaaslike peulplantentstowwe, alvorens same­sprekings gevoer word met die besturende direk­teure van die onderskeie maatskappye aan die hand van Dr Staphorst se bevindinge, en hulle ingelig word dat die inligting aan die media beskikbaar gestel sal word, indien kwaliteitsverbetering nie na bevrediging bewerkstellig word nie.

        Mnr Keun

    5. Duiweskade by opkoms van sojabone

      (Besluit 10.5.1 van die Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

      Daar word kennis geneem dat probleme ervaar is met duiweskade by die opkoms van sojabone, maar dat die probleem nog nie van groot omvang blyk te wees nie.

      Die Voorsitter sê daar is tydens 'n vorige vergadering voorgestel dat die kwessie van duiweskade op sojabone te berde gebring word by die volgende vergadering van die Oliesade-Advieskomitee, met die oog daarop om dié aspek in te sluit by die navorsingsprojek oor duiweskade op sonneblom. Hy verneem by Mnr Keun na die mate van vordering wat daar in dié verband gemaak is.

      Mnr Keun rapporteer dat 'n kwotasie ontvang is vanaf Eagle-Eye, vir die elektronies-optiese stelsel wat dié maat­skappy ontwerp het om duiweskade te bekamp. Hy sê hierbenewens is 'n tersaaklike projekvoorlegging ingedien deur Dr Reilly, verbonde aan die Tshwane University of Technology, wat reeds oorweeg is deur die Navorsings­prioriteitskomitee van die oliesadebedryf. Hy meld dat dié komitee besluit het om verdere samesprekings te voer met Dr Reilly ten opsigte van die projekvoorlegging, tydens hulle vergadering wat op 30 Junie sal plaasvind.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat verdere terugvoering inge­wag word oor die moontlike insluiting van duiweskade by die opkoms van sojabone by die oliesadebedryf se voorgestelde navorsingsprojek wat handel oor duiwe­skade op sonneblom.

        Voorsitter
        Mnr Keun

  11. Saad

    1. Terughouding van graan as saad

      (Besluite 11.1.1 en 11.1.2 van die Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

      Mnr Botha rapporteer dat GraanSA samesprekings gevoer het met Pannar, om die kwessie van die terugkoop van plaasgeproduseerde saad uit te klaar. Hy sê Pannar het nie werklik bevredigende antwoorde verskaf tydens daardie vergadering nie, en het aangedui dat hulle hulle bevindinge bekend sal stel tydens die volgende vergadering van GraanSA se Sojaboonwerkgroepvergadering. Hy onder­neem om terugvoering in hierdie verband te verskaf.

      Die Voorsitter rapporteer dat hy en Dr De Kock besoek afgelê het by 'n aantal saadmaatskappye, baie positiewe reaksie gekry het, en nie die indruk gekry het dat die saadmaatskappye beplan om in die huidige jaar produ­sente te penaliseer vir teruggehoude saad nie. Hy stel Dr De Kock aan die woord.

      Dr De Kock meld dat besoek afgelê is by Link Seed, Pannar en Pioneer. Hy rapporteer dat Pannar hulle geneem het op 'n kort besoek na van hulle aanplantings, en dat hy baie beïndruk was met die omvang van die werk wat deur Pannar onderneem word. Hy sê hulle is ook ingelig dat Pannar materiaal bekom by verskillende plekke in die buiteland, en selfs 'n "tak" in Argentinië het. Hy rapporteer dat die materiaal op twee plekke getoets word, met die beste materiaal daaruit wat op vier plekke getoets word, waarna die beste materiaal vir 'n tydperk van twee jaar op sestien plekke getoets word.

      Dr De Kock rapporteer dat hy ook beïndruk was met Link Seed, en die indruk gekry het dat Link Seed se aktiwiteite net so groot soos dié van Pannar is, indien nie groter nie. Hy sê Link Seed het 'n soorgelyke toetsprogram as dié van Pannar, en voeg by dat beide Link Seed en Pannar die volwassenheidsgroeperings van die onderskeie cultivars aandui in die nommer van die cultivar. Hy noem dat Pannar die volwassenheidsgroepering deur middel van die tweede syfer in die cultivarnommer aandui, terwyl Link Seed die derde syfer hiervoor aanwend. Hy sê die moontlikheid is geopper dat die twee maatskappye dieselfde syfer in die cultivarnommer gebruik om die volwassenheidsgroepering aan te dui, aangesien produsente verwar kan word indien die onderskeie maatskappye nie dieselfde praktyk volg nie. Hy noem dat Link Seed onderneem het om met Pannar samesprekings te voer in dié verband.

      Dr De Kock rapporteer voorts, en meld dat Pannar oor baie interessante lyne met hoë olie- en hoë proteïeninhoude beskik. Hy sê die produsente moet kennis neem dat al die saadmaatskappye oor materiaal beskik wat belofte toon vir die toekoms, en 'n groot bydrae kan lewer tot die uit­breiding van die plaaslike sojaboonbedryf.

      Dr De Kock meld dat Pioneer tans al hulle materiaal vanuit Amerika bekom, en ook elke jaar nuwe materiaal inkry. Hy noem dat Pioneer elke jaar ten minste twaalf cultivars op vyftien lokaliteite evalueer, waaruit hulle inskrywings in die nasionale cultivarproewe geselekteer word. Hy sê die PNS is nog nooit ingelig van al die bedrywighede van die onderskeie saadmaatskapye nie. Hy is die mening toege­daan dat 'n groot aksie tans ten opsigte van sojaboon­cultivarontwikkeling en -vrystelling aan die gang is. Hy sê die maatskappye het aangedui dat hulle voortaan nie meer gaan sukkel om cultivars te registreer of vry te stel nie, maar kontrakte sal aangaan met produsente, indien produsente van die cultivars sou wou hê. Hy sê die indruk wat gekry is, is dat al die maatskappye baie positief ingestel is oor die moontlikhede vir sojabone vorentoe, met Pioneer wat byvoorbeeld 'n toekomstige groei van ten minste 2% per jaar in sojaboonopbrengs voorsien.

      Die Voorsitter sê die saadmaatskappye het op navraag oor die rede waarom hulle nie bekendmaak wat aan't kom is nie, geantwoord het dat die PNS nog nooit gevra het nie. Hy sê aalwurmweerstandige cultivars is reeds geruime tyd in Suid-Amerika beskikbaar, en word navorsing tans gedoen oor cultivars wat roestraag is, en byvoorbeeld net tweekeer se spuit sou benodig. Hy noem dat talle voor­beelde nog genoem kan word van vordering wat behaal word met die teel van cultivars. Hy beskou die same­werking met saadmaatskappye as deel van die bemarkings­aksie waarna vroeër verwys is. Hy doen aan die hand dat 'n verteenwoordiger van een van die drie groot saadmaatskappye genooi word om 'n vergadering van die Sojawerkgroep toe te spreek oor nuwe ontwikkelinge en cultivars wat aan't kom is, en reël dat dié saak verwys word na die Tegnologiekomitee. Hy reël voorts dat Drs De Kock en Dreyer namens die Tegnologiekomitee, en Mnr Potgieter as lid van die Raad van die PNS en GraanSA se sojaboon­verteenwoordiger, meer gereeld kontak bewerkstellig met die groot saadmaatskappye. Hy spreek die gedagte uit dat die PNS daaraan skuldig is dat hulle nie in die verlede meer aandag aan die saadmaatskappye gewy het nie. Hy onderneem egter om die saak reg te stel.

      Dr De Kock rapporteer dat die maatskappy SeedCo hulle aktiwiteite verskuif het vanaf Zimbabwe na Zambië, en steeds as bron dien vir Link Seed.

      Daar word kennis geneem dat die literatuur wat in Brasilië bekom is, en waarin 'n omskrywing gegee word van dít wat as goeie, gesonde saad beskou word, en welke faktore hier 'n rol speel, beskikbaar gestel sal word aan die lede van die Sojawerkgroep, tydens 'n volgende vergadering.

      Daar word kennis geneem van die artikel "Lisensiëring van variëteite is tot voordeel van die bedryf", geskryf deur Dr Jarvie van Pannar, en gepubliseer in die Maart 2009-uitgawe van die SAGraan.

      Besluite:

      1. Dat kennis geneem word dat terugvoering ingewag word vanaf GraanSA, rakende Pannar se bevindinge oor die kwessie van die terugkoop van plaasgeproduseerde saad, nadat GraanSA Pannar se aanvanklike antwoorde nie as werklik bevredigend beskou het nie.

        Mnr Potgieter

      2. Dat kennis geneem word dat uittreksels uit die Brasi­liaanse literatuur, waarin 'n omskrywing gegee word van dít wat as goeie, gesonde saad beskou word, en welke faktore hier 'n rol speel, beskikbaar gestel sal word aan die lede van die Sojawerkgroep, tydens 'n volgende vergadering.

        Voorsitter

      3. Dat die saak rakende die nooi van 'n verteenwoordiger van een van die drie groot saadmaatskappye om 'n ver­gadering van die Sojawerkgroep toe te spreek oor nuwe ontwikkelinge en cultivars wat aan't kom is, verwys word na die Tegnologie­komitee.

        Mnr Keun

      4. Dat kennis geneem word dat Drs De Kock en Dreyer en Mnr Potgieter meer gereelde kontak sal bewerkstellig met Link Seed, Pannar en Pioneer.

        Dr De Kock
        Dr Dreyer
        Mnr Potgieter

  12. Tegnologie-oordrag

    1. Inligtingsdae 2009: datums, terugvoering en reklame

      (Besluit 12.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

      Mnr Cronjé verneem na die moontlikheid dat 'n voorplant-boeredag op sy plaas aangebied word, en stel September voor as die mees geskikte maand. Hy doen aan die hand dat die dag gereël word ná die "No-till"-dag, wat te Drakensville aangebied word. Die Voorsitter reël dat 'n voorlegging oor die onderwerpe wat tydens daardie dag aangespreek sal word, en die voorgenome aktiwiteite wat daardie dag aangebied sal word, dien voor die vergadering van die Tegnologie-komitee wat op 23 Junie plaasvind.

      Kennis word geneem van die volgende inligtingsdae:

      9 en 10 September 2009 "No-Till" Dag, Drakensville / Bergville
      September 2009 Voorplant-Boeredag, Ogies

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat 'n voorlegging oor die onderwerpe wat tydens die voorplant-boeredag gedu­rende September op Mnr Cronjé se plaas te Ogies aangespreek sal word, en die voorgenome aktiwiteite wat daardie dag aangebied sal word, sal dien voor die vergadering van die Tegnologiekomitee wat op 23 Junie plaasvind.

        Dr De Kock
        Mnr De Beer
        Mnr Van Wyk

    2. Sojabladskrif

      (Besluit 12.2.1 van Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

      Die Voorsitter verwys na die besluit wat tydens 'n vorige vergadering geneem is dat die moontlikheid oorweeg word om 'n artikel saam te stel oor wisselbou onder besproeiing met mielies en koring, met sojas tussenin, ten einde die siektes wat deur koring na mielies oorgedra word te bekamp. Hy sê die finansiële voordele van sojabone in 'n wisselboustelsel word voortdurend benadruk, en verneem of enigeen van die lede bewus is van 'n publikasie waarin die voordele wat sojas bied ten opsigte van peste en plae in 'n wisselbouprogram, met byvoorbeeld mielies, vervat is. Mnr Potgieter rapporteer dat Mnr Weber werk met sojas, koring en mielies in 'n wisselboustelsel onder besproeiing onderneem het, maar sê hy is onseker of hy 'n verslag oor die werk opgestel het.

      Die Voorsitter reël dat Dr Caldwell by Embrapa in Brasilië en INTA in Argentinië navraag doen oor die beskikbaarheid van literatuur rakende die voordele wat sojas ten opsigte van peste en plae bied in 'n wisselbouprogram met mielies en sojas. Dr Dreyer onderneem om die onderwerp in te sluit by die PNS se publikasiebeplanningsprogram.

      Besluite:

      1. Dat die moontlikheid oorweeg word om 'n artikel saam te stel oor wisselbou onder besproeiing met mielies en koring, met sojas tussen-in, ten einde die siektes wat deur koring na mielies oorgedra word te bekamp.

        Dr Dreyer
        Mnr Weber

      2. Dat by Embrapa in Brasilië en INTA in Argentinië navraag gedoen word oor die beskikbaarheid van literatuur rakende die voordele wat sojas ten opsigte van peste en plae bied in 'n wisselbouprogram met mielies en sojas.

        Dr Caldwell

    3. Inkomste- en kosteramings

      (Besluit 12.3.1 van die Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

      Die Voorsitter reël dat die besprekingspunt oorstaan na 'n volgende vergadering, aangesien Mnr Joubert by die volgende vergadering van die Sojawerkgroep teenwoordig sal wees.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat Mnr Joubert teenwoordig sal wees by die volgende vergadering van die Sojawerkgroep, en dat die besprekingspunt "Inkomste- en kosteramings" oorstaan na die volgende vergadering.

        Mnr Keun

    4. Streekverdeling van Suid-Afrika ten opsigte van sojabone

      (Besluit 12.4.1 van die Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

      Die Voorsitter stel Mnr Van Wyk aan die woord, sodat hy die lede kan inlig oor die vordering wat behaal is met die saamstel van die kaart rakende die verbouingstreke vir sojabone in Suid-Afrika, waarvolgens die mees geskikte cultivars vir verbouing in verskillende streke aangedui word.

      Mnr Van Wyk rapporteer dat hy die LNR se Instituut vir Grond, Klimaat en Water genader het om data te bekom oor die onderskeie maksimum- en minimum-temperature wat in die land gemeet is. Hy sê hy het 'n formule beskikbaar gestel, waarvolgens die data uitgedruk kan word in hitte-eenhede. Hy meld dat hy die land, aan die hand van daardie inligting, in ses groepe verdeel het, en verduidelik dat gebiede soos Ermelo, Belfast, Dullstroom, Lydenburg en Lesotho in die koudste gebied val, terwyl Bethal, Standerton, Vrede en Bethlehem in die tweede koudste gebied geklassifiseer is. Mnr Maree bevestig op navraag dat Harrismith kouer is as Bethlehem.

      Mnr Van Wyk noem dat hy die hitte-eenhede geneem het vanaf Oktober tot Maart, wat die groeitydperk van sojabone verteenwoordig, met die koudste gebied se hitte-eenhede wat onder 1 800 is, die koel gebied se hitte-eenhede tussen 1 800 en 1 900, die matige gebied met hitte-eenhede tussen 1 900 tot 2 000, 2 000 tot 2 100 en 2 100 tot 2 200, en die warm gebied, met hitte-eenhede bo 2 200. Hy sê die verskillende groeiklasse is vervolgens ingedeel in koel, matig en warm, met die 4 tot 6 groep wat in koel gebiede geplant kan word, die 5 tot 7 groep wat in matige gebiede geplant kan word, en die 6 tot 8 groep, wat in warm gebiede geplant kan word. Hy sê hoewel hy besef dat die indeling nog baie wyd is, produsente in koue gedeeltes van sy indeling sal verskil, indien hulle aangeraai word om nie 'n langergroeiende cultivar as 'n groep 5 aan te plant nie, aangesien 'n groeier soos die cultivar LS6164 al baie goed presteer het in daardie gebied. Hy noem dat Suid-Afrika nog nie naastenby so 'n verfynde indeling soos die Amerikaanse 5.1, 5.2, 5.3, ensovoorts kan ontwikkel nie. Hy meld dat die gemiddelde reënval van die onderskeie gebiede ook aangedui sal word op die kaart.

      Die Voorsitter is die mening toegedaan dat 'n aanduiding soos "groep 5 tot 7" nie bevredigend is nie, en kon daar netsowel by die groepering koel, matig en warm gehou word. Hy sê dit wil voorkom of daar bloot syfers gekoppel is aan daardie drie streke, waarmee hy in die verlede reeds sy ontevredenheid uitgespreek het. Hy beskou dit as onaanvaarbaar om aan te dui dat enigiets van 'n 5 tot 7 in Mpumalanga aangeplant kan word. Hy sê hoewel hy groot waardering het vir die poging wat aangewend is, is daar nog heelwat werk verbonde aan die saamstel van die kaart.

      Dr De Kock noem dat Mnr Van Wyk skeidings aangebring het op die kaart, wat moontlik nie duidelik uitkenbaar is nie. Hy sê 'n skeiding word byvoorbeeld aangedui tussen Koppies en Heilbron. Hy doen aan die hand dat die kaart aangepas word, sodat die hitte-indelings duideliker aange­dui word, en met Mnr Johan van der Berg verifieer word of hy in ooreenstemming is met daardie indeling. Hy sê dit sal ten minste 'n basis bied, waarop gewerk kan word. Hy stem saam dat 'n breë indeling soos koel, matig en warm sake vereenvoudig, maar sê met die hitte-indeling kan groei­klasse op grond van die verbouings-areas aangedui word.

      Die Voorsitter is van mening dat dit meer aanvaarbaar sou wees indien aangedui word dat groeiklasse tussen 5 en 6, en nie 5 tot 7, in 'n bepaalde verbouingsgebied geplant moet word. Hy verneem om welke rede die Karoo ook ingesluit is by die kaart. Mnr Van Wyk noem dat dit hier bloot gaan om temperature, en dat 'n grondkaart en 'n reënvalkaart nog by die kaart gevoeg moet word, waarvolgens verder gewerk sal word. Mnr Botma is in ooreenstem-ming dat die spasiëring baie kleiner gemaak sal moet word, indien reënval bygereken word. Hy doen aan die hand dat duideliker onderskeid gemaak word tussen die kleure wat op die kaart aangewend word.

      Die Voorsitter sê indien Dr Blignaut se kaart, waarop die totale oppervlakte waar sojas plaaslik verbou kan word aangedui word, ook in berekening gebring word, sal Mnr Van Wyk se kaart beter vertoon. Mnr Van Wyk verduidelik dat kleinere verskille duideliker aangedui sal word, en op die eerste poging verbeter sal word. Mnr Farr noem dat die invloed van breedtegraad op volwassenheidsgroeperings, en ook reënvalverspreiding oor 'n tydperk, en piek­reënvaltye, in gedagte gehou moet word. Hy spreek die gedagte uit dat die volwassenheidsgroepering sou toeneem, hoe verder wes en verder noord daar beweeg word. Mnr Botha noem dat 'n soortgelyke kaart as dié van Mnr Van Wyk opgestel is toe hy by Nooitgedacht werksaam was, met die onderskeie tersaaklike kaart- en inligtingslae wat bo-op mekaar geplaas is. Dr Caldwell noem dat die PNS tans een van haar meesters­graadstudente befonds, en dat dié 'n bestuursgeörien-teerde kaart opstel, waarmee die voorkoms van roes binne 'n spesifieke bepaalde tyd voorspel kan word. Sy noem dat die student verslag sal lewer oor haar studie tydens die Sojaroeswerkgroepvergadering, en opper die moontlik-heid dat die student se navorsing inkorporeer word met Mnr Van Wyk s'n.

      Dr Griessel noem dat die plantdatum ook 'n effek sal hê op die groeiklas wat aangeplant kan word. Mnr Van Wyk verduidelik dat sy kaart opgestel is aan die hand van die normale planttye. Daar word kennis geneem dat die streeksindeling nie in ag neem dat 'n produsent in 'n bepaalde jaar moontlik 'n maand later gaan plant nie.

      Mnr Erasmus rapporteer dat hy sekere waarnemings gemaak het oor die cultivar LS6162, wat op Villiers en Reitz aangeplant is. Hy sê soos die kraai vlieg, is daardie twee lokaliteite skaars 100 km van mekaar, en het LS6162 nagenoeg 75cm in hoogte gegroei by die Villierslokaliteit, en baie goed vertoon, terwyl LS6162, wat op dieselfde plantdatum op Reitz geplant is, swak vertoon het en baie min peule gedra het. Hy voer aan dat baie werk gedoen moet word, om met sekerheid vas te stel dat 'n bepaalde cultivar die aanbevole cultivar is. Hy noem dat die literatuur bevestig dat 'n cultivar goed kan presteer aan die een kant van die berg, terwyl dieselfde cultivar swak sal presteer, aan die ander kant van die berg. Hy sê namate meer cultivarproewe oor die hele streek en land aangeplant word, sal 'n beter aanduiding verkry word van waar spesifieke cultivars geplant kan word.

      Die Voorsitter reël dat Mnr Van Wyk tydens iedere ver­gadering van die Sojawerkgroep terugvoering gee rakende die mate van vordering wat behaal is met die kaart oor die verbouingstreke vir sojabone in Suid-Afrika, waarvolgens die mees geskikte cultivars vir verbouing in verskillende streke aangedui word.

      Besluit:

      1. Dat daar tydens iedere vergadering van die Sojawerk­groep terugvoering gegee word rakende die mate van vordering wat behaal is met die kaart oor die ver­bouingstreke vir sojabone in Suid-Afrika, waarvolgens die mees geskikte cultivars vir verbouing in verskillende streke aangedui word.

        Mnr Van Wyk

  13. Ander sake

    1. Navorsingsprojek insake 'n vergelyking van die kwaliteit van plaaslik-geproduseerde sojaboon­oliekoek met dié van ingevoerde sojaboon­oliekoek

      Daar word kennis geneem dat die saak voorlopig as afge­handel beskou word.

    2. Inligting vir plasing op die webtuiste – nuus­brokkies en kleurfoto's

      (Besluite 13.1.1 en 13.1.2 van die Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

      Daar word kennis geneem dat Mnr Erasmus en Dr Fourie steeds wag vir die nodige toestemming vanaf die LNR om relevante foto's beskikbaar te stel om op die PNS- webblad te laai.

      Die Voorsitter rapporteer dat Mnr Du Plessis 'n bundel met artikels oor geenbewerking, wat in die tydperk 2004 tot 2009 in die Farmers' Weekly gepubliseer is, aan hom geskenk het. Hy noem dat daar onlangs melding gemaak is van goeie artikels, wat betrekking het op die PNS se aktiwiteite en die afgelope tyd in die Landbouweekblad gepubliseer is, en is daar gevra hoe dié artikels ten beste benut kan word. Hy reël dat navraag gedoen word oor die moontlikheid om gemelde artikels by die Landbouweekblad te bekom, sodat die inligting beter benut kan word.

      Besluit:

      1. Dat navraag gedoen word oor die moontlikheid om artikels wat betrekking het op die PNS se aktiwiteite by die Landbouweekblad te bekom, sodat daardie inligting ten beste benut kan word.

        Mnr Keun

    3. Spreker insake onkruid wat moontlik nie beheer kan word op Roundup Ready-sojaboon­aanplantings nie

      (Besluite 13.2.1 en 13.2.2 van die Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

      Die Voorsitter sê dit het onder sy aandag gekom dat die tweede generasie Roundup Ready (RR2) nog nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie, en dat dit geruime tyd sal neem alvorens RR2 wél plaaslik beskikbaar gestel word. Hy is die mening toegedaan dat dit nie van veel waarde sou wees om 'n spreker te nader om die Werkgroep toe te spreek oor RR2 nie.

      Die Voorsitter reël dat die besprekingspunt geskrap word, en dat daar eerder 'n reëling getref word dat verteen­woordigers van die saadmaatskappye genooi word om die Sojawerkgroep toe te spreek oor nuwe cultivars en ontwikkelings wat in die vooruitsig gestel word, soos reeds bespreek (*** sien besluit 11.1.3). Die saak word as afgehandel beskou.

    4. Verslag: studietoer na Brasilië en VSA

      (Besluit 13.4.1 van die Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

      Die Voorsitter rapporteer dat die verslag van die studietoer wat hy en Mnre Keun, Potgieter en Van Wyk na Brasilië en Noord-Amerika onderneem het, na alle waarskynlikeid voorgelê sal word aan die volgende vergadering van die Sojawerkgroep.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word dat die verslag van die studie­toer na Brasilië en Noord-Amerika vir kennisname voor­gelê sal word aan die volgende vergadering van die Soja­werkgroep.

        Mnr Keun

    5. Verslag: studietoer na Brasilië en Argentinië

      (Besluit 13.5.1 van Sojawerkgroepnotule van 11 Maart 2009)

      Daar word kennis geneem van die verslag van die studie­toer na Brasilië en Argentinië, wat plaasgevind het vanaf 5 Oktober tot 13 Oktober 2008.

      Die Voorsitter sê die stelling op bladsy een van die verslag, wat lui "Verwys na spesifieke probleme byvoorbeeld geen plaaslike sojaspesialis ...", het spesifiek betrekking op die LNR-IGG se gebrek aan sojaboonspesialiste. Met verwysing na die feit dat hy, namens die PNS, tydens 'n voorlegging onder andere die behoefte aan kontak met buitelandse navorsers en kruisbestuiwing met ander navorsers uitgespreek het, rapporteer hy dat die PNS en oliesadebedryf goedkeuring verleen het dat Dr Driekie Fourie twee buitelandse sprekers in die land ontvang tydens die Nematologiese Vereniging se kongres. Hy sê daardie aksie is bykomend tot die buitelandse blootstelling wat Dr Caldwell sal ervaar.

      Daar word kennis geneem dat 'n lys van alle produkte wat vervaardig kan word uit sojabone en verwerkte sojabone, ingesluit sal word by die stukke van die vergadering van die eersvolgende vergadering van die Sojawerkgroep.

      Die Voorsitter onderneem om die Sojawerkgroep op hoogte van sake te hou ten opsigte van vordering wat bereik word met die ondertekening van 'n sogenaamde "Memorandum of Understanding" met Embrapa.

      Besluite:

      1. Dat 'n lys van alle produkte wat vervaardig kan word uit sojabone en verwerkte sojabone, ingesluit word by die stukke van die vergadering van die eersvolgende ver­gadering van die Sojawerkgroep.

        Mnr Keun

      2. Dat die Sojaboonwerkgroep op hoogte van sake gehou word ten opsigte van vordering wat bereik word met die ondertekening van 'n sogenaamde "Memorandum of Understanding" met Embrapa.

        Voorsitter

    6. Verslag: studietoer na Argentinië

      Die Voorsitter rapporteer dat die verslag van die Argen­tynse studietoer dien voor die volgende vergadering van die raad van die PNS, waarna die verslag voorgelê sal word aan die Sojawerkgroep.

      Besluit:

      1. Dat die verslag van die Argentynse studietoer ingesluit word by die stukke van die volgende vergadering van die Soja­werkgroep.

        Mnr Keun

    7. "Sunflower week in review"

      Daar word kennis geneem van die uitgawes van die "Sun­flower Week in Review", gadateer 2 Februarie en 31 Maart, onderskeidelik.

    8. Persverklaring: Afri Compliance beskerm be­lange van die saadbedryf

      Die Voorsitter reël dat die persverklaring gedateer 22 Ja­nuarie, en getitel "AFRI Compliance beskerm belange van die saadbedryf", verwys word na GraanSA.

      Besluit:

      1. Dat die persverklaring gedateer 22 Januarie, en getitel "AFRI Compliance beskerm belange van die saadbedryf", verwys word na GraanSA.

        Mnr Keun

    9. "Preliminary list of potential research areas"

      Daar word kennis geneem van die dokument "Preliminary list of potential research areas", wat saamgestel is deur die Nasionale Departement Landbou.

    10. "The soy export weekly update"

      Daar word kennis geneem van "The Soy Export Weekly Update", gedateer 30 Maart.

    11. Artikels

      Daar word kennis geneem van die artikels "Sojabone: die bobaas wisselbougewas", "Oliesaadvoorraad daal en pryse word gestut", "Droogte in Suid-Amerika stut pryse", en "Doeltreffende gebruik van onkruiddoders – gee hieraan aandag".

  14. Datum van volgende vergadering

    Die datums vir die Sojawerkgroepvergaderings tydens 2009 word soos volg geskeduleer:

    • 28 Julie
    • 6 Oktober
  15. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank die teenwoordiges vir insette ge­lewer. Hy wens die lede 'n voorspoedige rit na hul onder­skeie tuistes toe, en verdaag die vergadering om 13:50.