Notule

Canola- en Lupienwerkgroepvergadering

gehou op 7 Februarie 2008 te Elsenburg



  1. Opening en verwelkoming

    Mnr Scholtemeijer open die vergadering met gebed. Hy verwelkom almal teenwoordig, veral mnr Von Nieuwholtz (Gellman Saad, Oudtshoorn – vroeër K2 Agri) en Dr Strauss (DLWK).

  2. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Dr M Griessel PNS
    Dr J de Kock PNS
    Dr J Strauss DLWK
    Dr M Hardy DLWK
    Me L Smorenberg DLWK
    Me A Swanepoel DLWK
    Mnr H Cerfonteyn DLWK
    Mnr C van Rooyen DLWK (Caledon)
    Mnr I Slabbert DLWK (Moorreesburg)
    Mnr JA van Niekerk MKB
    Mnr JJ Bruwer SSK
    Mnr P Laubscher Overberg Agri
    Mnr K Schonken CBK
    Mnr JJ Bester GSA
    Mnr J Loubser Nova Voere
    Mnr C Cumming Bayer Crop Science
    Mnr P von Nieuwholtz Gellman Saad
    Dr G Tribe LNR-NIPB
    Prof A Agenbag US
    Me L van Zyl Sekretariaat

    Verskonings

    Dr T Brand DLWK
    Dr I Trautmann DLWK
    Mnr P Lombard DLWK
    Mnr D Koch CBK
    Mnr S van Zyl GSA
    Mnr K Becker SOILL
    Mnr J Lusse Overberg Agri
    Mnr H Kotzé Nova Voere
    Mnr J McDermott Du Pont
    Mnr G van Coller DLWK
    Mnr G Conradie DLWK
    Dr S Lamprecht LNR-NIPB
    Me F Hawkins NDL-NOK
  3. Personalia

    Die Werkgroep aanvaar 'n mosie van roubeklag met die afsterwe van Mnr Scholtemeijer se skoonvader.

    Mnr P Lombard word met sy huwelik gelukgewens.

  4. Vasstelling van sakelys

    Geen nuwe sake word bygevoeg nie.

  5. Notule van die vorige vergadering

    Die notule van die vergadering gehou op 29 November 2007 word as gelese beskou en goedgekeur.

  6. Algemene oorsig

    1. Winterreënstreek

      1. Canola

        Swartland / Suid-Kaap

        Daar word rapporteer dat die Swartland 'n gemiddelde opbrengs van 1,2 tot 1,5 ton/ha gerealiseer het. Daar is 3 600 ton canola in MKB silos ontvang.

        In die Overberg Agri gebied het 'n gemiddeld van 1,35 ton/ha gerealiseer en in die SSK gebied 1,1 ton/ha (50% tot 60% van koringopbrengs). Vroeër aanplantings se op­brengs was oor die algemeen beter as dié van later aan­plantings.

        SSK het tot November 2007 34 000 ton ontvang.

        Goeie produsentepryse is behaal.

        Oos-Kaap

        Die moontlikheid om canola in die Oos-Kaap (voormalige Transkei) te vestig, word ondersoek.

        Daar is selfs al in Natal op klein skaal canola aangeplant.

      2. Lupiene

        Daar word rapporteer dat afgesien van die Koperfontein (Yzerfontein area) waar dit té nat was, lupiene in die Swartland goed gevaar het en 'n gemiddeld van 1 ton/ha opbrengs behaal het.

        In die Suid-Kaap is 'n opbrengs van 1,2 ton tot 1,7 ton/ha behaal. Lupiene wat na die groot reën in November geoes is, se opbrengs was aansienlik laer as dié lande wat voor die reën geoes is. Volgens waarnemings het die voorkoms van bruin­blaarvlek nie die opbrengs beïnvloed nie.

    2. Somerreënvalstreek

      Geen kommersiële canola aanplantings is gemaak nie. Daar word kennis geneem dat die moontlikheid om canola in die winter in die somerreënvalstreke aan te plant, ondersoek word.

      Dr De Kock rapporteer oor die navorsing op canola in die besproeiingsgebiede te Vaalharts. Volgens resultate het canola as 'n wisselbougewas nie so goed gevaar nie. Die dagtemperature in blomtyd (September) is baie hoog, wat opbrengste strem. Die PNS het destyds na deeglike oorweging besluit dat die navorsing op canola in die somerreënvalstreek onder besproeiing gedoen moet word en toe Vaalharts as die beste perseel geïdentifiseer. Na hierdie resultate sal daar oor die voortsetting van die projek en die lewens­vatbaarheid van canola as gewas in die besproeiingsgebiede besin moet word.

      Dr De Kock

      Verwys punt 7.1.2.2 van hierdie notule.

    3. Weervooruitskatting

      Mnr Cerfonteyn verskaf die weer vooruitskouing vir die periode Februarie tot Junie 2008. Goeie reën word vir Maart/April periode voorspel.

      Die La Nina toestande sal nog 'n paar maande voortduur wat 'n goeie reënseisoen vir die somerreënvalgebiede voorspel.

      Damme was op 4 Februarie 2008 74,5% vol (nasionaal).

      Daar word besluit dat mnr Cerfonteyn 'n aanduiding van "normale reënval" vir die verskillende streke sal gee.

      Mnr Cerfonteyn

    4. Oesskatting

      Neem kennis dat daar volgens die NOK se oppervlak en produksieskatting vir 2007-seisoen 14 000ha soet lupiene geplant is en die opbrengs op 13 300 ton geskat word.

      Daar is volgens die skatting 33 200ha canola aangeplant. Volgens die Werkgroep se inligting behoort die NOK se verwagte opbrengs van 39 840ton opwaarts aangepas te word. Mnr Cerfonteyn sal dit by die volgende NOK vergadering aanspreek.

    5. SAGIS Inligting

      Daar word besluit dat die dokumentasie soos deur SAGIS verskaf en ter inligting by die sakelys aangeheg is, aanvaar word, naamlik:

      • die jongste markinligting soos op 7 Februarie 2008
      • die weeklikse bulletin
      • die maandelikse bulletin
    6. Prysvooruitskatting en Internasionale Mark­inligting

      Dr Griessel rapporteer oor die internasionale marksituasie. Volgens raming sal daar in die komende seisoen wêreldwyd 418,1 miljoen ton oliesade (die 10 grootste oliesade) geproduseer word. Daarvan is sojabone die meeste, naamlik 242,5 miljoen ton. Die totale geskatte produksie sal 32,9 miljoen ton meer as die vorige seisoen wees, waarvan 23,6 miljoen ton sojabone sal wees. Die totale verbruik word op 419,0 miljoen ton beraam.

      Die jongste gelande prys van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) in Kaapstad op 4 Februarie 2008 beloop R3 936. Wisselkoers = R7,47.

      1. Canola

        Die afgeleide waarde van volvet canola (teenoor sojabone) is soos volg:

        Pluimvee (94%) R3 700
        Varke (100%) R3 936
        Suiwel (58%) R2 283

        Die relatiewe waarde van canola oliekoek (met minder as 1% vet) is dus soos volg:

        Pluimvee (53%) R2 086
        Varke (65%) R2 558
        Suiwel (60%) R2 362
      2. Produsentepryse vir canola

        Geen nuwe produsenteprys vir canola is beskikbaar nie. 'n Styging in die prys word egter verwag.

      3. Lupiene

        Die relatiewe waarde van lupiene is soos volg:

        L. albus (Esta) Pluimvee (75%)
        Suiwel (80%)
        R2 952
        R3 149
        L. angustifolious (Merrit) Pluimvee (53%)
        Suiwel (52%)
        R2 086
        R2 047
        L. luteus (Juno) Pluimvee (63%)
        Suiwel (73%)
        R2 480
        R2 873
      4. Produsentepryse vir lupiene

        Lupiene is verhandel vir R1 700. Geen nuwe produsente­pryse vir lupiene is beskikbaar nie.

  7. Navorsing

    1. Canola

      1. Nasionale cultivarproewe

        Neem kennis dat die resultate van die ontledings van die 2006-oes nog uitstaande is. Die 2007-monsters moet ook nog ontleed word.

        Die navorsingspan is in die proses om die 2008-proefpersele te finaliseer. Volledige grondontledings sal vooraf gedoen word. Terugvoering sal by die volgende vergadering gegee word.

        Mnr Lombard

      2. Bemesting

        1. Terugvoering vanaf bemestingstaakspan

          Neem kennis dat dr De Kock in die proses is om met YARA Wes-Kaap oor hulle betrokkenheid by bemestingsproewe te onderhandel. Besluit dat terugvoering afgewag word.

          Dr De Kock

          Prof Agenbag rapporteer oor die blaarontledings wat gedoen word.

          Lede besin oor die korrekte toediening van stikstof en die moontlike implikasies wat die styging in kunsmispryse op die produsente se besluite ten opsigte van hulle bemes­tingsprogramme kan hê.

          Daar word besluit dat die redaksie versoek word om 'n artikel in die Canolafokus te plaas, wat in die lig van die huidige styging in kunsmispryse, vir produsente leiding ten opsigte van die effektiewe kunsmistoediening / beplanning kan gee.

          Mnr Bruwer
          Redaksie

        2. Wisselbou-projek somerreënvalgebied

          Daar word rapporteer dat canola as wisselbougewas onder besproeiing in die Vaalharts area nie na wense gevaar het nie. Die PNS Tegnologiekomitee sal die voortsetting van die navorsingsprojek oorweeg.

          Besluit dat terugvoering ten opsigte van die voortsetting van die wisselbou-projek met canola in die besproeiings­gebiede afgewag word.

          Dr Nel
          Dr De Kock

      3. Die allelopatiese potensiaal van raaigras en belangrike wisselbougewasse in die winterreën gebied van die Wes-Kaap

        Neem kennis dat die verslag deur mnr M Ferreira, DLWK, by die sakelys aangeheg is. Allelopatie (die invloed, beide voordelig of nadelig, van een plant op 'n naasliggende een deur die produksie van chemiese verbindings wat in die omgewing vrygestel word) word as 'n moontlike beheer­maatreël binne 'n geïntegreerde onkruidbestuurprogram ondersoek. Dit hou die moontlikheid in om onkruid­ontkieming en -groei te belemmer.

        Besluit dat mnr Ferreira versoek word om meer inligting oor die bruikbaarheid van allelopatie binne 'n wissel­boustelsel te verskaf en moontlik praktiese wenke aan produsente te gee sodat dit by hulle beplanning geakkommodeer kan word.

        Me Swanepoel

      4. THRIP-projek: finalisering van Canolaverbou­ingsriglyne

        Neem kennis dat die konsep van die opdateerde alles­omvattende handleiding beskikbaar is.

        Daar word besluit dat

        • sodra die konsep gefinaliseer is die canolaverbou­ingsriglyne gedruk en versprei moet word;
        • dit ook op die PNS webtuiste beskikbaar sal wees;
        • die moontlikheid dat dit aan tersiêre opleidings­instansies waar akkerbouverbouing aangebied word, versprei moet word, ondersoek sal word.
      5. Registrasie van Cruiser (saadbehandeling teen swamme en insekte by canola)

        Daar word kennis geneem dat geen vordering ten opsigte van die registrasie van Cruiser op canola rapporteer kan word nie. Vordering word afgewag.

        PNS Sekretaris

    2. Lupiene

      1. Nasionale cultivarproewe

        Neem kennis dat die resultate van die 2006 ontledings nog nie gereed is nie. Die monsters van die 2007 cultivar­proewe is gereed vir ontleding.

        Die DLWK is in die proses om die proefpersele vir die 2008 cultivarproewe te identifiseer en gereed te maak.

        1. Beheer van bruinblaarvlek en Phytophthora

          Neem kennis dat die dokumentasie ten opsigte van 'n ondersoek na die faktore wat beperkend op die verbouing van lupiene kan inwerk, insluitend Phytophthora by die sakelys aangeheg is.

          Die voorkoms van bruinblaarvlek sal gemonitor word en alle voorvalle van Phytophthora moet aan dr Lamprecht rapporteer word.

        2. Moontlike onderdrukkende effek van onkruiddoder Aramo / Dash op lupienontwikkeling

          Mnr Cumming rapporteer dat die saak met die eienaar van die produk opgevolg is. Aramo is slegs op canola gere­gistreer en nog nie op lupiene nie. In die navorsingsproewe is geen groeivertraging as gevolg van die gebruik van die produk waar­geneem nie.

          Produsente word weer versoek om die voorskrifte op etikette nougeset na te kom.

    3. Weerstandbiedendheid: raaigras

      Mnr Cumming rapporteer dat daar tydens die volgende HRAC vergadering op 12 Februarie 2008 weer oor die aanstelling van 'n koördineerder ten opsigte van onkruid­doderweerstandbiedendheid met die bedrywe onderhandel sal word. DLWK is bereid om die kantoor en fasiliteite te befonds.

      Besluit dat terugvoering ten opsigte van die koördinering van onkruiddoderweerstandbiedendheid afgewag word.

      Mnr Cumming

    4. Pes- en plaagbeheer

      1. Stoppelbestuur van canola / swartstam op canola

        Neem kennis dat die DLWK verslag ten opsigte van mnr Van Coller se oorsese besoek en die vordering met die swartstam projek aan die PNS kantoor voorsien is.

        Besluit dat mnr Van Coller se verslag oor swartstam­navorsing by die notule aangeheg sal word.

        PNS Sekretaris

      2. Monitering van insekte op canola

        Neem kennis dat dr Tribe se verslag van waarnemings die afgelope seisoen ten opsigte van die onderstaande binne­kort gereed sal wees en by die notule aangeheg sal word:

        • Slakke / Isopoda
        • Stamboorders
        • Ruitrugmot
        • Nuwe klein groen kewertjie op canola word geïden­tifiseer.

        Dr Tribe

        Die verslag sal ook op die webtuiste geplaas word en vir gebruik in die verbouingshandleiding beskikbaar wees.

        Daar word besluit dat

        • dr Tribe goeie volkleur foto's vir plasing op die webtuiste moet verskaf waar moontlik; en
        • inligting uit die verslag ook vir publikasie in die Canolafokus gebruik moet word.

        Dr Tribe
        Redaksie

        Daar word verder kennis geneem en besluit dat produsente via die Canolafokus gewaarsku moet word dat die goeie reën van November 2007 moontlik die voorkoms van slakke kan vererger en dat hulle in die nuwe seisoen daarop bedag moet wees.

        Redaksie
        Almal

        Voorbereidings vir die 2008 seisoen word getref en dr Tribe sal rapporteer soos die seisoen vorder.

        Dr Tribe

        Daar word ook rapporteer dat die LNR-IGG beplan om ook by die voorkoms en beheer van slakke betrokke te raak.

        Besluit dat dr Tribe met die LNR-IGG oor samewerking ten opsigte van die monitering en beheer van slakke wat reeds in die Wes-Kaap gedoen word, sal onderhandel en terug­voering rapporteer.

        Dr Tribe

        Mnr Van Rooyen sê dat daar onduidelikheid oor die gebruik en/of kwaliteit van sommige slakpille op die mark is.

        Mnr Cumming sê dat enige onduidelikheid, ongerymdhede of klagtes ten opsigte van middels wat nie effektief sou wees nie, skriftelik aan Croplife voorgelê kan word wat dit verder sal opvolg.

    5. Biobrandstowwe

      Die afgekondigde regeringsbeleid ten opsigte van bio­brandstofvervaardiging is by die sakelys aangeheg. Die Voorsitter sal rapporteer soos die proses vorder.

      Voorsitter

    6. Super Canolakompetisie 2007

      Neem kennis dat mnre Niel Neethling en Abrie de Wet onderskeidelik tweede en eerste plek in die Suid-Kaap 2007 kompetisie (opbrengs en bruto marge) behaal het. Die verslag is aan lede voorsien en mnr Van Rooyen gee verdere toeligting oor die resultate van die kompetisie.

      Mnr Van Rooyen en die medewerkers aan die Suid-Kaap kompetisie word vir hulle bydrae bedank.

      Die wenners van die Swartland kompetisie word op 11 Maart 2008 aangekondig.

      Mnr Slabbert

      Daar word verder rapporteer dat PNS in September 'n afvaardiging onder leiding van dr De Kock na Australië stuur om onder andere na die beskikbaarheid van nuwe canola cultivars te kyk.

      Daar word besluit dat dr De Kock se toerbeplanning ter insae en moontlike insette by die volgende vergadering aan die Werkgroep voorgelê sal word.

      Dr De Kock

    7. Waardetoevoeging tot ontdopte lupiene

      Daar word kennis geneem en besluit dat mnr Loubser, Nova Voere tydens die volgende vergadering 'n konsep aanneemlikheidsprys vir ontdopte lupiene vir bespreking aan die vergadering sal voorlê.

      Mnr Loubser

    8. Opname van totale bewerkbare oppervlakte

      Neem kennis dat dr Griessel in die proses is om met die hulp van DLWK (mnr Cerfonteyn) en met inagneming van ander bronne 'n opname van die beskikbare bewerkbare oppervlakte vir graan gewasse en oliesade in die Wes-Kaap te maak. Terugvoering word afgewag.

      Dr Griessel
      Mnr Cerfonteyn

  8. Tegnologie-oordrag

    1. Canolafokus

      Daar word besluit dat die volgende artikels vir latere uitgawes oorweeg kan word (volgende uitgawe, Maart 2008):

      • verslag oor insekte op canola (Dr Tribe);
      • waarskuwing aan produsente oor moontlike voorkoms van slakke in 2008 seisoen; en
      • gee leiding ten opsigte van bemestingsprogram te midde van verhoging in kunsmispryse.

      Redaksie

      Neem kennis dat reëlings vir die verspreiding van die Canolafokus met die landboubesighede getref is en die saak voorlopig daar gelaat word.

      PNS het met GSA gereël dat die Canolafokus se artikels ook vir publikasie in die SA Graan tydskrif oorweeg sal word.

      Voorsitter

      Besluit dat lede wat artikels vir streekskoerante skryf dit ook vir oorweging na die redaksie van die Canolafokus en Lupino moet deurstuur.

      Redaksie
      Alle lede

    2. Lupino

      Neem kennis en besluit dat artikels vir die volgende Lupino deur die Redaksie oorweeg sal word.

      Redaksie

    3. Inligtingsdae 2008

      11 Maart SKOG Voorsaai Inligtingsdag, Lang­gewens
      18 Maart Overberg Agri Voorsaai Inligtings­dag, Bredasdorp
      20-21 Augustus PNS Besigtigingstoere
      3 September SKOG Dag
      4 September Riversdal Boeredag
      11 September Roodebloem Boeredag
      16-18 September Soilborn Disease Congress
      17-20 September Megaweek Bredasdorp
      26 November Funksie in die "Bos"

    4. Registrateur Wet 36 (Fertilizers, Farm feeds, Agricultural remedies and Stock remedies Act)

      Daar word rapporteer dat min vordering ten opsigte van noodregistrasies of "minor-use" registrasie rapporteer kan word.

      Besluit dat vordering rapporteer sal word wanneer moontlik.

      Mnr Cumming

  9. Behoeftes van

    1. Mark – Canola

      1. Statutêre Graderingsregulasies

        Neem kennis dat die voorgestelde graderingsregulasies via die NDL na die Graansilo Industrie verwys is, wat dit vir aanpassings terugverwys het. GSA sal dit opvolg en terug rapporteer.

        Mnr Koch

    2. Produsente – Canola

      Geen verdere inligting word rapporteer nie.

    3. Produsente – Lupiene

      Geen verdere inligting word rapporteer nie.

  10. Saad

    1. Saad – Canola

      Daar word kennis geneem dat 'n verhoging in aanplantings verwag word. Alhoewel daar genoeg canola saad beskik­baar is, is daar nie noodwendig van sekere cultivars (volgens produsente se voorkeure) voldoende saad beskikbaar nie.

      Die landboubesighede onderhandel namens die produ­sente (GSA/CBK) met die Saadmaatskappye ten opsigte van saadbestellings en –aankope.

      Landboubesighede
      Saad maatskappye

      Die beskikbaarheid van nuwe cultivars word deur PNS aangespreek.

      Die terugvoering oor die evaluering van die kwaliteit van saad beskikbaar en die invloed van pitgrootte op die vestigingspersentasie en groeikragtigheid van plante, word nog afgewag.

      Mnr Koch

    2. Saad – Lupiene

      Neem kennis dat alhoewel daar genoeg saad beskikbaar is, daar nie noodwendig van sekere cultivars (volgens produsente se keuse byvoorbeeld Mandelup), voldoende saad beskikbaar is nie. Die landboubesighede onderhandel met Saadmaatskappye in hierdie verband.

      Landboubesighede
      Saadmaatskappye

  11. Ander sake

    1. Inligting vir plasing op die PNS webtuiste en nuusbrokkies

      Daar word besluit dat enige nuuswaardige inligting en goeie kleurfoto's vir plasing op die webtuiste deurgegee moet word.

      Almal

  12. Volgende vergadering

    17 April 2008

  13. Afsluiting

    Die vergadering word na 'n woord van dank afgesluit en verdaag.