- 5 DESEMBER 2006
- 4 OKTOBER 2006
- 3 AUGUSTUS 2006
- 3 MEI 2006
- 28 FEBRUARIE 2006
- 30 JANUARIE 2006
Notule
Sojawerkgroepvergadering
gehou om 10h00 op 28 Februarie 2006 in die PNS-Raadsaal te Rivonia
Opening
Die vergadering word deur mnr De Beer met gebed geopen.
Verwelkoming
Die Voorsitter heet almal hartlik welkom. Hy versoek dat mnr Havenga in oorleg met mnr Johann du Plessis, die Departement van Landbou: KwaZulu-Natal moet versoek dat mnr James Arathoon die werkgroepvergaderings bywoon namens die Departement.
Besluit:
- Dat mnr Havenga in oorleg met mnr Johann du Plessis, die Departement van Landbou: KwaZulu-Natal sal versoek dat mnr James Arathoon die werkgroepvergaderings bywoon.
Mnr Havenga
- Dat mnr Havenga in oorleg met mnr Johann du Plessis, die Departement van Landbou: KwaZulu-Natal sal versoek dat mnr James Arathoon die werkgroepvergaderings bywoon.
Presensie
Teenwoordig
Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter) Dr M Griessel PNS Dr J de Kock PNS Mnr L Killian PNS-Kontrakteur Mnr WF van Wyk PNS-Kontrakteur Mnr E Maree PNS-Kontrakteur Mej M Scheepers Nasionale Departement van Landbou Mnr FAS Potgieter Graan SA Mnr G de Beer LNR-IGG Mnr G Keun PNS / OPOT Mnr GW Bührmann Gideon Bührmann Saad Mnr JP Botma Verteenwoordiger: Noordwes Vrystaat Mnr ID Lamprecht Departement van Landbou, Land Admin: Mpumalanga Mnr C Havenga Agriocare Mnr AJ Cronje Verteenwoordiger Mpumalanga Mnr N Fouché Sekretariaat Verskonings
Mnr NJ Vermaak Graan SA Mnr S van Zyl Graan SA Mnr W Loubser SANSOR Dr N McLaren Universiteit van die Vrystaat Mev AG Enslin SAGIS Mnr CJ du Plessis PNS Mev R Beukes Nasionale Departement van Landbou Mnr JC Lubbe Agriocare Mnr B de Klerk Senwes
Personalia
Geen.
Vasstelling van die sakelys
Die sakelys word aanvaar.
Notule van die vergadering van 30 Januarie 2006
Besluit:
- Dat die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 30 Januarie 2006 goedgekeur word.
Algemene oorsig
Oesskatting
Mej Scheepers hou die jongste inligting aan die vergadering voor. Die Oesskattingskomitee se inligting soos op 21 Februarie 2006 gepubliseer, is as volg:
Oppervlakte beplant Finale oes Oppervlakte beplant Eerste skatting 2004/2005 2004/2005 2005/2006 2005/2006 (ha) (ton) (ha) (ton) Sonneblomsaad 460 000 620 000 464 480 603 920 Sojabone 150 000 272 500 228 570 377 420 Die provinsiale indeling van die oesskatting vir sojabone, is volgens die Oesskattingskomitee as volg:
Provinsie Oppervlakte beplant Eerste skatting Oppervlakte beplant Finale oes 2005/2006 2005/2006 2004/2005 2004/2005 (ha) (ton) (ha) (ton) Wes-Kaap 70 70 140 420 Noord-Kaap 500 1 500 100 300 Vrystaat 35 000 52 500 20 500 30 000 Oos-Kaap 500 900 400 800 KwaZulu-Natal 25 000 62 500 17 000 39 270 Mpumalanga 140 000 203 000 84 000 136 650 Limpopo 13 000 29 900 10 000 27 360 Gauteng 6 500 11 050 5 000 9 200 Noordwes 8 000 16 000 12 860 28 500 Totaal 228 570 377 420 150 000 272 500 Nasionale Opbrengs 1,65 ton/ha 1,82 ton/ha Mnr Van Wyk sê die Oesskattingskomitee het hom versoek om behulpsaam te wees met die visuele onderskeiding van droëboon- en sojaboonplante by afstandwaarneming, aangesien dit baie eenders lyk vanuit 'n voertuig of vliegtuig. Mej Scheepers noem dat die Mielietrust 'n projek befonds waar aanplantings met afstandwaarneming met behulp van mikrovliegtuie gemonitor sal word. Mpumalanga sal eerste aan die beurt kom, waarna Noordwes en die Vrystaat sal volg.
Provinsies
KwaZulu-Natal
Mnr Havenga sê dat daar in die Bergville / Winterton area baie sojabone geplant is, maar dat hy nie kennis dra van die toestande in die suidelike streke van die provinsie nie. In die noordelike dele van die provinsie blyk daar nie veel meer as verlede seisoen aangeplant te wees nie. Hy sê dat in die Normandien-streek, sowat 2 000 ha aangeplant is.
Volgens mnr Du Plessis se verslag (soos deur mnr Keun voorgehou) lyk toestande in KwaZulu-Natal baie mooi en lyk die potensiaal bo normaal. Volgens die verslag is roes op verskeie plekke in die provinsie opgemerk en spuit produsente daarvoor. Volgens mnr Du Plessis sal die opbrengs nie daardeur beïnvloed word nie.
Mpumalanga
Mnr Bührmann sê dat sojabone wat in Mpumalanga geplant is, goed vertoon. Mnr Cronjé sê hy gaan akkoord met die Oesskattingsyfer. Hy sê dat vergeelde sojabone goed herstel het toe die son na baie reëns en bewolkte toestande weer begin skyn het. Daar is lande wat tekens van onvoldoende nodulering toon. Hy noem dat sojabone wat hy in gronde geplant het waar sojabone nie voorheen geplant is nie, heelwat swakker presteer het as 'n blok sojabone na sojabone. Hy maak die aanname dat veen-entstof meer doeltreffend as vloeibare entstof is, veral in gronde waar sojabone vir die eerste keer geplant word.
Noordwes
Mnr Potgieter sê dat sojabone te Atlanta hoog staan, gesond vertoon en goeie opbrengste behoort te lewer. Hy volstaan by die Oesskattingskomitee se syfer.
Limpopo
Mnr Van Wyk sê dat die toestande onveranderd is sedert die vorige rapportering aan hierdie werkgroep, 'n maand gelede.
Noord-Kaap
Die Voorsitter sê dat daar volstaan word by die vorige rapportering aan die werkgroep.
Vrystaat
Mnr Maree sê dat daar min-of-meer dieselfde toestande in die Vrystaat heers, as tydens die vorige rapportering. Mnr Botma sê dat goeie opbrengste vir die Vrystaat verwag word, ten spyte van spoelskade in die Noord-Vrystaat.
Oos-Kaap
Mnr Killian bevestig dat hy niks tot sy vorige rapportering by te voeg het nie.
Suidwestelike Distrikte
Geen nuwe inligting het tot die vergadering se aandag gekom nie.
Gauteng
Mnr Van Wyk noem dat hy volstaan by die aangepaste skatting, vanaf 5 000 na 6 500 ha.
Weer- en klimaatsvooruitskouing
Enviro Vision se Mielievisie No. 70 is by die sakelys ingebind. Mnr Killian sê dat sekere gebiede in die Oos-Kaap, veral die deel tussen Port Elizabeth en Humansdorp, baie droog is. Damme is gemiddeld 40% vol. Rondom Cradock het dit onlangs baie gereën.
Mnr Potgieter sê dit het eers in Desember 2005 in die Brits-omgewing begin reën en dat dit tans goed nat is in die omgewing. Dit was nog nie nodig om besproeiing te doen nie.
Mnr Botma sê dit is opvallend dat daar baie meer vog vanuit die noorde as kuslangs versamel word. Hy sê dat die reënseisoen vanuit die staanspoor, baie wisselvallig was en dat bewerking in die Bothaville-distrik eers gedurende vroeg Desember kon begin. Suid van Bothaville en in Viljoenskroon se omgewing, het daar tot datum tussen 400mm en 500mm reën geval, terwyl plase by NAMPO, baie reënskade gehad het. Hy sê waar hy in die omgewing van NAMPO boer, het hy tot dusver ongeveer 250mm gemeet.
Mnr Van Wyk noem dat baie Hoëveldse produsente vanaf Januarie tot op hede tussen 300 en 500mm reën ontvang het, wat heelwat versuipskade meegebring het. Hierdie reënval verteenwoordig nagenoeg twee-derdes van die gemiddelde reënval vir die streek.
Mnr Cronjé sê hoewel daar in sy omgewing sedert Nuwejaarsdag reeds ongeveer 700mm reën geval het, dit baie wisselvallig reën. Saam met Kersdag se reëns, is dit 800mm. By boerderye wat ongeveer 30km van hom af geleë is, is daar egter 'n behoefte aan nog reëns.
Mikpunte: 2010 en 2020
Drie-jaar vooruitskatting
Die Voorsitter herinner die vergadering daaraan dat die PNS vir die 2005plantseisoen (die huidige produksiejaar), 'n mikpunt van 150 000 ha gestel het. Hierdie mikpunt is in die vorige produksiejaar oortref. Intussen is daar baie verwikkelinge in terme van biodiesel. Die regering het bepaalde kontrakte gesluit, terwyl verskeie kleiner en groter biodieselskemas tot stand kom en in beplanning is.
Die Voorsitter sê dat die PNS 'n siening wil neem ten opsigte van produksie in 2010 en dat mnr Deon Joubert (Ondervoorsitter: PNS en landbou-ekonoom) tans in samewerking met dr Griessel aan 'n projeksie werk. Hy noem dat die PNS se vooruitskattings met behulp van 'n model gemaak word wat die demografie, eetgewoontes, lewenstandaarde en ander veranderlikes in aanmerking neem.
Dr Griessel sê volgens 'n studie van mnr Joubert in samewerking met die UV, sal daar tot en met 2010 'n plaaslike tekort aan oliekoek wees, selfs al pers SASOL 600 000 ton sojabone.
Die Voorsitter noem dat die Suid-Afrikaanse oliekoekmark nog nooit in soveel as 50% van die proteïenbehoeftes vir diereverbruik kon voorsien nie. Hy pols die lede oor hulle siening vir sojaboonproduksie in die 2009-produksiejaar.
Mnr Bührmann sê dat 400 000 ha en selfs 500 000 ha haalbaar is teen 2010, mits aanplantings in die swaarder gronde van die oostelike gebiede van Suid-Afrika uitgebrei word. Hy sê dat uitbreidings in die mielie-produserende dele, veral in die sanderige gronde van byvoorbeeld die Wes-Vrystaat en die Noordwes Provinsie, onwaarskynlik is. Hy sê dat daar nie geskikte soja-cultivars bestaan vir suksesvolle aanplantings in gronde met kleipersentasies van 14% en laer nie. Hy sê dat die vlak van produsenteprys en die wisselkoers egter bepalend is vir produksie-uitbreidings.
Mnr Cronjé sê dat hy mnr Bürhrman se siening deel, hoewel hy twyfel het oor die praktiese haalbaarheid daarvan. Dit is ondenkbaar dat 'n groot oes soos dié in Mpumalanga, wat bykans dubbel soveel as in verlede seisoen sal wees, betyds en sonder verliese gestroop sal kan word. Daar is 'n beperkte aantal stropers en 'n beperkte leweringstyd. Verdere bespreking volg oor die optimale benutting van die beperkte stroperkapasiteit, wat in gedagte gehou moet word by produksie-uitbreidings van sojabone.
Mnr Potgieter meld dat daar gronde rondom Ventersdorp is wat geskik is vir koringproduksie en derhalwe ook vir sojaboonproduksie geskik mag wees. Mnr Botma sê hy glo dat aanplantings kan verdubbel, mits die beloofde biodieselprojekte realiseer en die klimaat gunstig is. Hy voorsien egter dat dit nie teen 2009 reeds haalbaar is nie.
Dr De Kock sê afgesien van uitbreiding in hektare, kan bemesting- en verbouingspraktyke in Mpumalanga nog beter aangepas word ooreenkomstig sojabone se behoeftes, ten einde 'n hoër gemiddelde opbrengs per hektaar te behaal. Hy sê dat voorgenoemde asook die moontlikhede wat biodieselproduksie uit sojabone inhou, die potensiaal skep vir 'n nasionale produksie van 400 000 ha teen die jaar 2010. Die Voorsitter sê dat navorsing sodanig gerig moet word, dat dit die ekonomiese verbouing van sojabone bevorder.
Dr Griessel wys daarop dat sojabone wat deur die ekstrusiemetode gepers word, dikwels onder- of oorverhit word en aminosure dus minder toeganklik vir die dier is. Verder is oliekoek wat 6% olie en meer bevat en moontlik galsterig kan word, nie vir die mark baie aanvaarbaar nie. Kopers vergelyk sodanige plaaslike produk met ingevoerde voorraad in terme van onder andere proteïenwaardes, met gevolglike prysaanpassings.
Mnr Killian sê dit word geraam dat sowat 500 000 ha sojabone in die Oos-Kaap verbou kan word. 'n Aanleg in Oos-London koop reeds 200 ton sojabone per maand aan en 'n aanleg wat nagenoeg 100 000 ton canola per jaar sal pers, gaan opgerig word. Canola moet in wisselbou met mielies en sojabone geplant word.
Die Voorsitter noem dat die PNS by projekte van provinsiale departemente en buitelandse instansies betrokke is, waar beide canola en sojabone as die bron van biodiesel beskou word. Hy sê dat die PNS reeds studies gedoen het om te bepaal hoeveel canola-oliekoek in die mark geakkommodeer sal kan word en dat die werkgroep op hoogte gehou sal word. Hy sê hy twyfel egter of die Oos-Kaap binne die volgende vier jaar noemenswaardige uitbreidings in canola sal hê.
SAGIS
SAGIS se verslag is vir kennisname by die sakelys ingebind. Die finale state vir Januarie 2006 en die jaar 2005 soos op 23 Februarie gepubliseer, word tydens die vergadering uitgehandig. Die posisie ten opsigte van 2004 en 2005 is opsommend as volg gerapporteer:
2005 2004 (ton) Beginvoorraad: 1 Januarie 100 500 48 700 Verkryging 277 200 235 000 Aanwending 275 600 179 400 Uitvoere 8 400 2 200 Diverse 4 600 1 600 Onaangewende voorraad 89 100 100 500 Die Voorsitter wys op die hoë verbruikstempo en sê dat daar teen die einde van Maart 2006, weinig sojabone beskikbaar sal wees.
Dr Griessel sê hy sou eerder wou sien dat invoerpariteit gebaseer word op veranderlikes wat van toepassing is op 'n land soos Argentinië vanwaar baie meer sojabone ingevoer word as van die VSA. Die Voorsitter sê dat hy van SAGIS sal verneem wat die beweegrede is vir die kwotering van 'n Amerikaans-gebaseerde invoerpariteitsprys.
Markaangeleenthede
Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik
Dr Griessel skets die waarde van sojabone, soos afgelei van sojaboonoliekoek. Dit verskyn ook op die PNS-webwerf.
Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban soos op 6 Maart 2006 Verskeping: R1 594 | Wisselkoers: R6.15/US$ Geland Durban 47% proteïen oliekoek 1 594.00 Spoorvrag na Randfontein 170.00 1 764.00 Waarde van volvetsoja 110% R1 940.00 Min koste om sojabone na volvetsojabone te verwerk 538.00 – Vervoerkoste na volvet-aanleg 70.00 – Stoorkoste 102.00 – Rente 12% (6 maande) 94.00 – Ekstrusiekoste 180.00 – 5% ekstrusieverlies 92.00 Afgeleide produsenteprys vir sojabone – R/ton R1 402.00 Mnr Botma sê dat die vervoerdifferensiaal en stoorkostes moontlik onder druk mag kom, wat 'n gunstiger produsenteprys in die hand mag werk. Dr Griessel noem dat rolspelers hulle eie syfers by die veranderlike elemente kan invoeg, soos wat dit op hulle omstandighede van toepassing is.
SAFEX
Mnr Du Plessis se skriftelike kommentaar word deur mnr Keun voorgehou: "Die prys is gister op met R37/ton na R1 350/ton en 19 kontrakte is verhandel. Pryse het die laaste twee maande gedaal vanaf R1 500/ton en meer, na R1 300/ton. Die rede hiervoor was die daling in die internasionale soja-oliekoekprys en die verwagte groot oes."
Die Voorsitter noem dat hy die Wes-Kaapse streekskongres van Graan SA bygewoon het, waartydens produsente nie genoeë geneem het met die bestaande liggingsdifferensiale nie. Ter agtergrond verduidelik mnr Potgieter dat daar tans nie liggingsdifferensiale in die sojaboonbedryf bestaan nie. Aangesien die aantal silo's waar daar vir JSE-SAFEX gelewer kan word wesenlik toeneem (tans is dit nagenoeg 40 silo's), wil JSE-SAFEX die bedryf se mening toets oor die instel van liggingsdifferensiale. Vir verwerkers wat sojabone via JSE-SAFEX aankoop, maak die ligging van die silo's 'n verskil in hulle insetpryse.
Mnr Potgieter sê dat Graan SA se Sojawerkgroep die liggingsdifferensiaal-stelsel onder die loep geneem het en tot die gevolgtrekking gekom het dat so 'n stelsel nie wenslik is nie, aangesien daar nie soos by mielies, 'n sentrale punt is vanwaar 'n differensiaal effektief bereken kan word nie.
Produsente-aangeleenthede
KwaZulu-Natal
Super Sojakompetisie – terugvoering
Mnr Havenga meld dat 'n tweede besoek tans aan deelnemende produsente gebring word. In die suidelike gebied (Winterton / Bergville) is daar 22 inskrywings en in die noordelike gebied, 23 inskrywings.
Navorsing
Mnr De Beer rapporteer dat die nasionale cultivarproewe oor die algemeen baie goed vertoon. Standprobleme kom egter by die proef te Normandien voor. As gevolg van dieselfde probleem is die plantdatumproef te Dundee ook afgeskryf.
Mnr Havenga noem dat versuipingsprobleme by die Dundee-proef voorgekom het. Nadat blaarvoeding toegedien is, het die plante redelik goed herstel. Baie reëns het egter weer sedert gister in die omgewing neergesak.
Ander
Geen.
Mpumalanga
Stikstofbemestingsprobleme in Mpumalanga – terugvoering
Mnr De Beer noem dat die proewe in Mpumalanga oor die algemeen baie mooi lyk. Die Voorsitter noem dat oliepersers in KwaZulu-Natal kla oor wisselende proteïenvlakke van besendings wat uit verskillende streke van Mpumalanga aangekoop word. Aldus 'n sekere mnr Geldenhuys beskik sojabone uit Mpumalanga oor laer proteïenwaardes as dié in Newcastle. Mnr Geldenhuys het onderneem om die proteïenontledings van besendings uit die onderskeie gebiede, aan die PNS te verskaf.
Dr De Kock sê dat ter plaatse studies gedoen moet word in die gebiede vanwaar lae-proteïen sojabone aangekoop word. Hy noem dat sulke gronde 'n lae fosfaatinhoud mag hê en/of 'n swak vermoë het om fosfaat op te neem. Die Voorsitter doen 'n beroep op die lede om sulke gevalle onder die PNS se aandag te bring. Dr Griessel noem dat daar met mnr Geldenhuys ooreengekom is dat die PNS ontledings van die proteïen- en vetinhoud van die gelewerde sojabone sowel as die oliekoek sal laat doen.
Mnr Potgieter sê dat mnr Riaan Engelbrecht van die Noordwes Provinsie se sojabone gedurende verlede seisoen slegs 28% proteïen op 'n nuwe land behaal het. Op aanbeveling van mnr Potgieter het mnr Engelbrecht vir die huidige seisoen, fosfaatbehandeling en dubbele enting op die nuwe lande toegepas. Volgens mnr Engelbrecht lyk die sojabone waar dit op dieselfde lande geplant is vanjaar baie beter as verlede seisoen. Mnr Potgieter sê dat hy mnr Engelbrecht versoek het om terugvoering oor hierdie seisoen se proteïenresultate te gee. Hy noem dat hy deeglik bewus is dat lae proteïenvlakke vanuit verskillende streke gerapporteer word, veral uit Mpumalanga. Die Voorsitter reël dat mnr Van Wyk die saak met mnr Potgieter opneem, met die doel om monsterontledings van die vorige en nuwe land te laat doen.
Dr De Kock sê dat die lae proteïenprobleem in baie gevalle dalk eerder te wyte is aan die spesifieke grond en/of die produsent se onkunde ten opsigte van die korrekte verbouing van sojabone. Hy noem dat sekere dele van Mpumalanga bekend is vir grondsuurheid en aluminium-toksisiteit, wat fosfaatopname inhibeer.
Mnr Van Wyk noem dat proteïeninhoud ook cultivargebonde is. Hy sê dat hy vanjaar in Kinross 'n betreklike groot strookproef met verskillende bemestingtoedienings uitgelê het. Hy sê dat hy proteïenontledings van hierdie proef wil doen. In die algemeen bemes produsente in hierdie provinsie "baie laag" of glad nie. Verwysende na die LNR-IGG se gepubliseerde nasionale cultivar-resultate, sê die Voorsitter hy betwyfel die stelling dat proteïen cultivargebonde is.
Mnr Havenga wys daarop dat die proteïenresultate wat tans in die supersoja-gebiede en veral Bergville / Winterton-gebied behaal word, die gevolg is van molibdeenbehandeling en bemesting. In die vroeë negentigerjare was die proteïenvlakke in KwaZulu-Natal slegs sowat 28%.
Mnr Van Wyk sê nadat sclerotinia twee weke gelede in die Hoëveld by droëbone opgemerk is, is hierdie siekte verlede week in 'n aantal sojaboonlande van die gebied waargeneem. Dit het verlede week ook die proewe te Delmas en Kinross begin besmet.
Mnr Cronjé sê sy waarneming is dat nodulering nie na wense plaasvind by die behandeling van sojabone met vloeibare entstof op nuwe sojaboonlande nie. Wanneer sojabone op sojabone geplant word, is nodulering egter nie 'n probleem nie. Waar nuwe sojaboonlande met 'n veen-entstof behandel word, vind goeie nodulering plaas. Hy doen aan die hand dat daar in samewerking met die Nasionale Departement van Landbou, in terme van Wet 36, monsters van entstowwe geneem word om te laat ontleed. Die Voorsitter sê dat die aangeleentheid vroeër met die LNR-NIBP opgeneem is, aangesien hierdie Instituut destyds in beheer daarvan was. Hy sê dat dit raadsaam mag wees om monsters by produsente in verskillende streke of by die vervaardigers te trek, om seker te maak dat die produkte aan die wetlike vereistes voldoen. Hy reël dat die aangeleentheid na die Tegnologiekomitee verwys word.
Dr Griessel sê dat die LNR-NIPB destyds die moontlikheid sou ondersoek, om die rhizobium-bakterieë (stikstof-entstof) in 'n vorm te bind dat dit stadiger vrygestel word. Mnr De Beer sê dit word ondervind dat vloeibare entstowwe nie so lank soos veen-entstowwe hou nie. Mnr Maree sê produsente in die Vrystaat ent as 'n reël dubbel op nuwe sojaboonlande, ongeag die tipe entstof.
Mnr Killian noem dat hy bewus is van vyf produsente in KwaZulu-Natal wat met vloeibare entstof, geen nodulering gekry het nie. Dieselfde is verlede jaar by twee produsente in Cradock ondervind. Vanjaar het hierdie produsente geen entstof toegedien nie en is uitstekende nodulering behaal. Hy meld dat hy oproepe van Vrystaatse produsente ontvang het, wat ook geen nodulering na enting gehad het nie. Mnr Botma sê produsente in sy omgewing ondervind dat rhizobium-behandeling in die veen-vorm beter resultate as in die vloeibare vorm lewer.
Mnr Potgieter noem dat die LNR-IGG toetse op chemiese middels vir Graan SA se insetwerkgroep doen, om te bepaal of dit aan die vereistes voldoen. Hy doen aan die hand, dat laasgenoemde werkgroep en die Sojawerkgroep die aangeleentheid gesamentlik hanteer. Mnr Bührmann sê ideaalgesproke behoort daar 'n bestuursopleidingsprogram vir produsente beskikbaar te wees. Hy bevestig dat sojabone geensins op brakgrond noduleer nie, ongeag enige middel wat toegedien mag word. Hy meld dat verskeie produsente noduleringsprobleme ondervind na die toediening van verskeie vloeibare en ander entstowwe en sê dat dit dikwels met swak bestuurspraktyke gepaard gaan.
Mnr Killian sê dat vloeibare entstof se raklewe korter is as veen-entstof. Hy sê dat dubbeldosis-entstof in nuwe gronde van die Oos-Kaap, goeie nodulering tot gevolg gehad het. Dr De Kock sê dat molibdeenbehandeling op die saad skadelik vir rhizobium is, indien daar nie onmiddellik na behandeling geplant word nie. Indien nie onmiddellik geplant word nie, is blaartoediening van molibdeen aan te bevole. Hy sê dat ook mnr Van Wyk dit in die praktyk bevestig het. Mnr Van Wyk sê dat molibdeenbehandeling van saad by sy proewe, ook standprobleme veroorsaak het en dat rhizobium sonder molibdeen beter resultate lewer.
Die Voorsitter verneem van mnr Van Wyk na die stand van die sojabone wat geplant is in gronde waar onkruiddoder-reste (van 'n tipe wat ook bloekombome dood) voorkom. Mnr Van Wyk sê dat die grootste skade by die ligter gronde voorkom, waar die meeste sojaplantjies nie uitgegroei het nie en die gronde omgeploeg is. Ander aanplantings het redelik herstel, hoewel daar twyfel bestaan oor die opbrengs daarvan. Met betrekking tot die aalwurmproewe kan daar op hierdie stadium nog geen rapportering plaasvind nie.
Besluite:
- Dat lede van die Sojaboonwerkgroep gevalle waar sojabone met lae proteïenwaardes gestroop word, onder die PNS-kantoor se aandag moet bring.
Lede
- Dat kennis geneem word van die ooreenkoms met mnr Geldenhuys (KZN), naamlik dat die PNS ontledings sal laat doen van die proteïen- en vetinhoud van die gelewerde sojabone sowel as die oliekoek.
Lede
- Dat mnr Van Wyk met mnr Potgieter kontak sal maak aangaande proteïenvlak-verskille by mnr Engelbrecht van die Noordwes Provinsie se aanplantings op nuwe soja-grond en ander gronde, sodat monsterontledings van die vorige en nuwe land gedoen kan word.
Mnr Van Wyk
- Dat monsters van entstofprodukte by produsente in verskillende streke en/of by die vervaardigers getrek behoort te word, om seker te maak dat die produkte aan die wetlike vereistes voldoen en dat hierdie aangeleentheid na die Tegnologiekomitee verwys word.
Tegnologiekomitee
- Dat lede van die Sojaboonwerkgroep gevalle waar sojabone met lae proteïenwaardes gestroop word, onder die PNS-kantoor se aandag moet bring.
Ander
Geen.
Noordwes provinsie
Navorsing
NWK Proefresultate met stikstof vir publikasie in SA Graan
Geen.
Ander
Geen.
Limpopo
Navorsing
Geen.
Ander
Geen.
Vrystaat
Navorsing
Geen.
Ander
Geen.
Oos-Kaap
Navorsing
Geen.
Ander
Geen.
Suidwestelike Distrikte
Navorsing
Geen.
Ander
Geen.
Gauteng
Navorsing
Geen.
Ander
Geen.
Noord-Kaap
Navorsing
Geen.
Beplanningsvergadering
Geen.
Ander
Geen.
Algemeen
Biodiesel
Vordering
Onder item 7.4.1 is kennis geneem van enkele verwikkelings. Ten einde meer te wete te kom oor die proteïen-implikasies van bio-brandstof, beplan die PNS 'n oorsese sending. Mnr Potgieter meld dat die Regering die belastingtoegewing vir die vervaardiging van biodiesel vanaf 30% na 40% verhoog het. Die Voorsitter noem dat mnr Fanie Brink (Graan SA) die PNS-Raad gedurende Mei 2006 oor die aangeleentheid kom toespreek.
Langtermyn-implikasies
Die langtermyn-implikasies wat die vervaardiging van bio-brandstof vir die landbou inhou, is tydens die vorige vergadering bespreek.
Sleepstroper
Die Voorsitter noem dat 'n Slattery-stroper wat in 'n sleepstroper vir sojabone omskep is, deur die LNR-ILI getoets is en dat daar waarskynlik twee van hierdie stropers teen die komende oesseisoen beskikbaar sal wees. Die projek is daarop gerig om 'n diens aan kleiner boere te lewer, wat byvoorbeeld 50 ha sojabone het.
Na aanleiding van mnr Van Wyk se vraag, sê mnr Bührmann dat so 'n stroper ongeveer 5 ha per dag kan stroop. Mnr Bührmann noem dat 'n Slattery-stroper met 'n koringtafel nie doeltreffend genoeg is nie. 'n Heston-kop wat twee drie-voet rye op 'n keer stroop, lewer uiters doeltreffende werk. Hy sê dat daar vele sulke onbenutte stropers op plase staan, wat ten behoewe van die informele sektor aangewend kan word.
Gesprek met provinsiale departemente insake Nasionale cultivarproewe
Die Voorsitter noem dat gesprek gevoer word met die Departemente van Landbou in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, onder andere oor die opkomende landbouers. Vroeër is daar ook met die Departement van Landbou: Mpumalanga kontak gemaak. Die PNS is ook met Graan SA in gesprek om samewerkingsgeleenthede ten opsigte van die opkomende landbouers te ondersoek.
Beplanning ten opsigte van die skryf en publisering van artikels uit die sojaboonhandleiding – PNS Tegnologiekomitee
Dr De Kock meld dat die Tegnologiekomitee besluite oor 'n verskeidenheid onderwerpe sal neem sodat die betrokke persone daaraan kan begin skryf, met die oog op publikasie vanaf Augustus 2006. Die Voorsitter voeg by dat hierdie artikels nie slegs in tydskrifvorm nie, maar ook in bladskrif-vorm beskikbaar gestel sal word, sodat dit tydens geleenthede soos NAMPO uitgehandig kan word.
Mnr Potgieter versoek dat daar voor strooptyd 'n artikel oor die stroopproses in die SA Graan tydskrif gepubliseer word. Dr De Kock onderneem om die haalbaarheid daarvan by die Tegnologiekomitee te toets.
Besluit:
- Dat die haalbaarheid om voor strooptyd (2006) 'n artikel oor die stroopproses by sojabone in die SA Graan tydskrif te laat publiseer, met die Tegnologiekomitee getoets sal word.
Voorsitter
Tegnologiekomitee
- Dat die haalbaarheid om voor strooptyd (2006) 'n artikel oor die stroopproses by sojabone in die SA Graan tydskrif te laat publiseer, met die Tegnologiekomitee getoets sal word.
Navorsing
Nasionale cultivarproewe
Mnr De Beer handig 'n lys van cultivarproewe aan die lede uit, wat die volgende aandui: lokaliteite, verantwoordelike instansie, PNS-kontrakteur en plantdatum. Dr De Kock versoek dat die opkomende landbouer-proewe soortgelyk hanteer word, ten einde vordering te evalueer en gepaste besluite te kan neem.
Besluit:
- Dat die opkomende landbouer-proewe soortgelyk as die ander kommersiële cultivarproewe hanteer sal word, ten einde vordering te evalueer en gepaste besluite te kan neem.
Mnr De Beer
- Dat die opkomende landbouer-proewe soortgelyk as die ander kommersiële cultivarproewe hanteer sal word, ten einde vordering te evalueer en gepaste besluite te kan neem.
Roes
Inligting vanaf Roestaakspan
Mnr Van Wyk rapporteer dat roes verlede Donderdag by die vangerproef tussen Amersfoort en Morgenson waargeneem is. By elke vangerproef is drie cultivars geplant, naamlik 'n baie vroeë-, medium- en laat-seisoen cultivar. Aangesien roes in KwaZulu-Natal ontstaan het, is die vinnige groeiers ten opsigte van die proewe in KwaZulu-Natal eerste besmet. Met verspreiding van die roes na Amersfoort en ander dele van Mpumalanga het dit die mediumgroeier-cultivars besmet, aangesien die vinnige groeiers reeds die besmettingstadium ontgroei en die roes gevolglik ontsnap het.
Mnr Lamprecht noem dat roes reeds by groot aanplantings te Standerton voorkom. Die Voorsitter meld dat hy van voorneme is om 'n dringende persverklaring in hierdie verband uit te reik. Hy versoek dat enige gevalle van roes onder die PNS-kantoor se aandag gebring word. Sodanige inligting word aan die LNR-IGG verskaf, vanwaar dit onder die aandag van 'n bepaalde netwerk van persone en instansies gebring word.
Mnr Van Wyk sê die feit dat roes nie meer eerste in die Bergville / Winterton gebied se vangerproewe gevind word nie, daarop kan dui dat produsente aldaar, as 'n voorsorgmaatreël, hulle aanplantings by voorbaat vir roes bespuit.
Besluit:
- Dat lede van die Sojawerkgroep gevalle van roes onmiddellik onder die PNS-kantoor se aandag moet bring.
Lede
- Dat lede van die Sojawerkgroep gevalle van roes onmiddellik onder die PNS-kantoor se aandag moet bring.
Sclerotinia
Proefwerk – terugvoering
Mnr Van Wyk noem dat sclerotinia in die Hoëveld uitgebreek het en na verwagting baie fel sal toeslaan, gegewe die nat toestande vanjaar. Hy sê dat professor McLaren van die Universiteit van die Vrystaat hom genader het oor 'n student wat intensiewe navorsing oor die siekte wil doen en wat reeds in Maart sekere besmette gebiede wil besoek.
Dr De Kock sê dat me Maryke Craven en dr Deidré Fourie (beide van die LNR-IGG) proewe op sclerotinia by onderskeidelik sojabone en sonneblom doen. Hulle is verantwoordelik vir proewe te Potchefstroom, Bethlehem en Greytown. Geen besmetting het tot dusver daar voorgekom nie, ten spyte daarvan dat dit kunsmatig besmet is. Die inokulasie is nou ook "nat" toegedien. By die sojaboonproewe van mnr Henk van der Westhuizen (Philagro) te Koedoeskop en Brits waar middels onderskeidelik deur handspuit en spilpunt toegedien is, het sclerotinia-besmetting voorkom. By sonneblom kon die middels slegs per handspuit toegedien word, aangesien dit te nat was om van spilpunt gebruik te maak. Goeie besmetting met sclerotinia kom egter voor.
Mnr Potgieter noem dat daar tydens streeksvergaderings van Graan SA, gerapporteer is dat sclerotinia in sojaboonsaad gevind is. Hy sê dat produsente gevolglik hulle saad wil terughou om seker te maak dat hulle oeste sclerotinia-vry is. Die Voorsitter sê dat hierdie saak onder SANSOR se aandag gebring moet word. Dr De Kock wys op besluit nommer 10.3.1.1 van 30 Januarie 2006: "Dat saadmaatskappye versoek sal word om aan te dui of hulle hul sojaboonsaad vir sclerotinia behandel en indien wel, waarmee". Hy sê dat geregistreerde saad vry van sclerotinia behoort te wees.
Besluite:
- Dat gevalle waar besmette gesertifiseerde saad gevind is, onder SANSOR se aandag gebring sal word.
Mnr Keun
- Dat uitvoering aan besluit nommer 10.3.1.1 van 30 Januarie 2006 gegee sal word, naamlik: "Dat saadmaatskappye versoek sal word om aan te dui of hulle hul sojaboonsaad vir sclerotinia behandel en indien wel, waarmee".
Mnr Keun
- Dat gevalle waar besmette gesertifiseerde saad gevind is, onder SANSOR se aandag gebring sal word.
Produksiekostebepalings
Mnr Bührmann sê dat hy navraag by mnr Hendrik van Pletzen (ex OTK), oor Combudsyfers en ander relevante statistiek gedoen het. Mnr Van Pletzen het onderneem om weidingswaardes en ander relevante data uit argiefmateriaal vir die PNS op te som. Mnr Bürhrmann onderneem om hierdie inligting aan die PNS-kantoor te verskaf sodra dit beskikbaar is.
Besluit:
- Dat mnr Bürhrmann inligting wat mnr Van Pletzen ten opsigte van onder andere weidingsdata sal opsom, aan die PNS-kantoor sal verskaf, sodra dit beskikbaar is.
Mnr Bührmann
- Dat mnr Bürhrmann inligting wat mnr Van Pletzen ten opsigte van onder andere weidingsdata sal opsom, aan die PNS-kantoor sal verskaf, sodra dit beskikbaar is.
Saad
Onder item 10.3.1 behandel.
Tegnologie-oordrag
Inligtingsdae 2006
7 Maart 2006 Soja-inligtingsdag, Cookhouse 8 Maart 2006 Soja-inligtingsdag, Addo 15 Maart 2006 Soja-inligtingsdag, Broodsnyersplaas Boerevereniging 28 Maart 2006 Soja-inligtingsdag, Outeniekwa proefplaas – George 16-19 Mei 2006 NAMPO-Oesdag 26 September 2006 Super Sojakompetisie: Cedara 27 September 2006 Super Sojakompetisie: Dundee
Sojaboonforum
Terugvoering van die vergadering van die Sonneblom- en Sojaforum – terugvoering PNS Tegnologiekomitee
Geen.
Sake om na die volgende Forum te verwys
Geen.
Ander sake
Inligting vir plasing op die webtuiste
Geen nuwe inligting.
Nuus vir Landbouradioprogram
Die Voorsitter meld dat sojaboonroes en sclerotinia onder produsente se aandag gebring sal word.
Besluit:
- Dat sojaboonroes en sclerotinia onder produsente se aandag gebring sal word via die program.
Voorsitter
Mnr Keun
- Dat sojaboonroes en sclerotinia onder produsente se aandag gebring sal word via die program.
Datums van volgende vergaderings
Die vergadering neem kennis van die program van die Sojawerkgroepvergaderings vir die jaar:
- 3 Mei 2006
- 3 Augustus 2006
- 4 Oktober 2006
- 5 Desember 2006
Afsluiting
Die Voorsitter bedank die lede vir hulle bydraes tydens die vergadering en verdaag die vergadering om 13:00.