Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 4 Oktober 2006 in die PNS-Raadsaal te Rivonia



  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur Mnr C Havenga.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal teen­woordig welkom by die voorlaaste vergadering van die Sojawerkgroep vir die jaar, en dan ook by voorbaat vir Mnr Adam Mostert van SASOL se biodiesel afdeling, wat aangedui het dat hy moontlik ietwat laat sou wees vir dié vergadering.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Mnr JP Botma Produsent: Noord Vrystaat
    Mnr AJ Cronjé Produsent: Mpumalanga
    Me M de Jager SAGIS
    Mnr CJ du Plessis PNS
    Dr H du Plessis LNR-IGG
    Dr M Griessel PNS
    Mnr C Havenga Agreocare
    Mnr L Killian PNS-kontrakteur
    Mnr ID Lamprecht Mpumalanga: Departement Land­bou, LA
    Mnr JC Lübbe Agriocare
    Mnr E Maree PNS-kontrakteur
    Mnr A Mostert SASOL
    Mnr FAS Potgieter GSA
    Me M Scheepers NDL
    Mnr WF van Wyk PNS-kontrakteur
    Mnr S van Zyl GSA
    Mnr G Keun OPOT
    Me E Harmse Sekretariaat

    Verskonings

    Me R Beukes NDL
    Dr J de Kock PNS
    Me AG Enslin SAGIS
    Mnr W Loubser SANSOR
    Mnr A van Vuuren NWK
    Mnr GW Bührmann Produsent: Mpumalanga

  4. Personalia

    Die Voorsitter wens Mnr Havenga sterkte toe na die motorongeluk waarin hy betrokke was.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar, met toevoeging van 'n dokument aangaande Sojaleweringspunte wat ter tafel gelê sal word onder Item 8.2 SAFEX.

  6. Notule van die vergadering van 3 Augus­tus 2006

    Besluit:

    1. Dat die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 3 Augustus 2006 goedgekeur word.
  7. Algemene oorsig

    1. Oesskatting

      Die Voorsitter meld dat die dokument met die sewende en finale oesskatting as Bylae B ingesluit is, en dat aangedui word dat die oppervlakte onder sojabone 240 570 ha beslaan, en dat die geskatte oes 413 995 ton sal wees. Me Scheepers berig verder dat die voorgenome aanplantings tans geskat word op 217 000 ha. Die Voorsitter wys daarop dat sorghum se verwagte aanplantings 'n toename van 90% toon, en dié van mielies 'n 64% toename.

      Die Voorsitter vra die vergadering om kommentaar op die finale oesskatting en dui aan dat die oesskattings van Mpumalanga, die Vrystaat en KwaZulu-Natal as korrek bewys is deur die Oesskattingskomitee. Mnr Potgieter wens die Oesskattingskomitee geluk met 'n raak skatting. Me Scheepers bedank die produsente vir insette gelewer, en meld dat 'n artikel oor sclerotinia in die volgende uitgawe van GraanSA gepubliseer sal word. Die Voorsitter bedank Me Scheepers vir die sclerotinia-opname en vir die samewerking met die artikel.

    2. Provinsies

      Die item staan oor vir bespreking tydens 'n volgende vergadering.

    3. Weer- en klimaatsvooruitskouing

      Die Voorsitter meld dat KwaZulu-Natal goeie neerslae gehad het, en vra Mnr du Plessis of hy terugvoer kan verskaf oor die weervooruitskatting. Mnr du Plessis sê dat die weer ooswaarts skuif as gevolg van die El Niño-effek, en dat die neerslag in KwaZulu-Natal en Mpumalanga baie vroeër as gewoonlik voorgekom het wat die produsente verplig het om hulle insetkoste vroeër vas te maak. Die banke verplig produsente om hulle insetkoste vas te maak alvorens krediet toegestaan word. Dit was makliker om die insetkoste vir mielies vas te maak, en finansiering vir mielies was dus makliker bekombaar. Die mielieprys is onder geweldige druk geplaas omdat produsente in die weste insetkoste begin vasmaak het, en die handelshuise het met kontrakte in die mark ingekom. Dit kan egter 'n positiewe effek hê op die aanplanting van soja in die weste aangesien die sojaprys nie dieselfde tendens as die mielieprys gevolg het nie. Daar sal na sy mening definitief nie méér sojabone in KwaZulu-Natal aangeplant word nie.

    4. Mikpunte: 2010 en 2020

      1. Drie-jaar vooruitskatting

        Die Voorsitter meld dat die Oesskattingskomitee die eerste skatting van oppervlakte beplant vir die 2006-7 plant­sei­soen wat voorlê as 217 000 ha aangedui het. Mnr Mostert het aangedui dat daar in die 2008-9 seisoen 'n groter aanvraag kan wees vir sojabone in die biodieselbedryf. Hy vra vir insette ten opsigte van die drie-jaar vooruitskatting. Mnr Potgieter meen dat daar 'n klein afplatting kan wees, veral as gevolg van die huidige gunstige omstandighede vir die aanplanting van mielies. Mnr Lübbe dui aan dat daar 'n toename kan wees tot 240 000 ha. Mnr Cronjé berig dat boere in Mpumalanga minder sojabone gaan aanplant, aangesien die produksie van mielies meer lonend is. Voorts meen hy dat die voorkoms van sclerotinia die vorige seisoen, sojaboon-aanplantings negatief sal beïnvloed. Daar word gemeld dat die gemiddelde voorkoms van sclerotinia 17% op 'n nasionale basis was. Mnr Botma dui aan dat aanplantings in die Oos-Vrystaat sal afneem, en Mnr Maree skat dat die afname 5% sal wees.

        Die Voorsitter vra of groei voorsien word in die daarop­volgende jaar. Mnr du Plessis noem dat die groei in produksie bepaal sal word deur die prys. Hoe gouer die prys op invoerpariteit kom, hoe gouer sal produksie groei. Mnr Potgieter meld dat aansienlike verhogings sal voorkom sodra die beriggewing van SASOL aangaande die produksie van biodiesel bekend raak.

        Die Voorsitter meld opsommend dat daar by die Oesskat­tingskomitee se 217 000 ha gehou sal word, met 250 000 ha vir die daaropvolgende jaar, en met 'n aansienlike verhoging indien daar in 2008-9 'n definitiewe koper tot die mark toetree. Die drie-jaar vooruitskatting sal weer be­spreek word tydens die Desember vergadering.

        Besluit:

        1. Dat die drie-jaar vooruitskatting tydens die Desember vergadering van die Sojawerkgroep bespreek sal word.

          Mnr Keun

      2. SAGIS

        Me de Jager berig dat die nuwe SAGIS-markinligting publikasiedatums vir kennisname beskikbaar gestel is. Die Voorsitter onderneem dat die laaste week- en maand­verslae van SAGIS in die toekoms ingesluit sal wees by die dokumentasie wanneer dit uitgestuur word.

        Besluit:

        1. Dat die laaste week- en maandverslae van SAGIS in die toekoms ingesluit sal word by die dokumentasie wanneer dit uitgestuur word.

          Mnr Keun

      3. GSA-markinligting

        Die Voorsitter bedank Mnr van Zyl vir die omvattende en insiggewende inligting vervat in Bylae D. Mnr van Zyl vestig die aandag daarop dat die inligting gepubliseer is op 18 September, en hoewel daar sedertdien verdere verwik­kelinge was, verskaf die dokument tóg die nodige same­vatting van gebeure wat tans op die plaaslike- en wêreld­markte voorkom. Met verwysing na tabel een op bladsy ses van die verslag, waar surplusse bo die pyplyn aangedui word, vra die Voorsitter of die totale binnelandse vraag­projeksie van sojabone vir 2006 die vraag vir 2006-7 aandui, en op sterkte waarvan die vraag bereken is. Mnr van Zyl antwoord dat die syfer op die kalenderjaar uitgewerk is, en dat daar hoofsaaklik van die SAGIS-syfers gebruik gemaak word by die berekening van die vraag.

        Met verwysing na die grafiek op bladsy sewe, figuur vyf, wys Mnr van Zyl op die styging in die maandelikse verbruik van sojabone sedert Februarie. Met verloop van die jaar, skuif die geprojekteerde syfer. So is die projeksie vir die veevoer en volvetsoja aangepas na 250 000 ton vir September, en dié van sojabone gepers vir olie en koek na 115 000 ton. Vir die invoere word SAGIS-syfers ook gebruik. Die Voorsitter noem dat SAGIS volgens sy statuut net gemagtig is om historiese syfers te verskaf en nie voor­uitskattings mag maak nie. Mnr van Zyl se projeksies kom na sy mening ietwat konserwatief voor in vergelyking met die tendenslyn in die grafiek onder bespreking. Mnr van Zyl antwoord dat die vorige drie seisoene 'n groei tot in Junie reflekteer, met 'n daaropvolgende afplatting in die maandelikse verbruik. Hy wys daarop dat dit moeilik is om vir 2006 presiese maandelikse verbruik te voorspel as die skerp styging in Junie teenoor Mei, en die daling in Julie, in gedagte gehou word. Om al die faktore in 'n enkele projeksie in te bou is moeilik, maar die projeksie word wèl aangepas sodra maandelikse inligting van SAGIS ontvang word. Dr Griessel wys daarop dat die vraag na sojaboon gepers vir olie en koek aangedui vir 2006 aan die konserwatiewe kant kan wees met die nuwe pers in Isando wat bykomende kapasiteit verskaf. Mnr Potgieter meld dat GraanSA se produksieruimteverslag wat aan produsente 'n aanduiding gee van gewenste aanplantings, onlangs gepubliseer is. Die Voorsitter bedank Mnr van Zyl vir 'n puik verslag.

        Rakende die internasionale opset wys die Voorsitter, aan die hand van 'n verslag wat in opdrag van die United Soya Bean Board in Amerika gedoen is, daarop dat baie meer sojabone gepers word en dat baie meer sojaboon-oliekoek in die mark sal kom vanweë die internasionale biobrand­stof­situasie. Die prys van sojaboon-oliekoek sal met tussen 20 tot 25% daal, maar vanweë die styging in die prys van soja-olie, word verwag dat sojabone op die internasionale mark marginaal sal verbeter. Die Voorsitter wys daarop dat Argentinië in 2001 27m ton geproduseer het, wat gestyg het na 42m ton in 2005. Produksie in Brasilië het toegeneem van 29m tot 52m ton, en in Amerika van 75m na 85m ton. Ondanks die geweldige uitbreiding in die Suid-Amerikas, het die bykans 100 aanlegte wat soja verwerk vir biobrandstof in Amerika 'n tekort aan sojabone ondervind. Daar is voorts vanaf die United Soya Bean Board verneem dat die stryd om hektaar nou kom tussen mielies vir bio-etanol en sojabone vir biodiesel. Daar word verwag dat sojabone sal uitbrei na die noorde van Amerika, waar koringgrond met soja beplant sal word.

        Met verwysing na die inligting insake die afgeleide pro­dusenteprys, geïllustreer deur figuur 7 op bladsy 8 van die dokument rakende GraanSA se markinligting, verduidelik die Voorsitter dat die invoerpariteitsprys bereken is volgens dieselfde metodiek as deur SAGIS gebruik. Daar is ooreengekom dat die syfers wat deur SAGIS en GraanSA vrygestel word, presies dieselfde invoerpariteitspryse sal reflekteer. Kleinere verskille op die datums, soos wissel­koerse wat van dag tot dag verander, sal deur beide partye ingereken word. Die SAFEX-inligting is feitelike gegewens. Hy wys daarop dat die afgeleide produsenteprys dramaties kan verander namate biobrandstof geproduseer word.

  8. Markaangeleenthede

    1. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

      Die Voorsitter versoek Dr Griessel om aan die hand van Bylae E 'n opsomming te gee van die huidige wêreld­situasie en om sy siening te gee van die huidige produ­senteprys. Dr Griessel verwys na gebeure in die vismeel­bedryf die afgelope tyd. Plus minus 6m ton vismeel word jaarliks geproduseer, hoofsaaklik vir gebruik in die akwa­kultuur. Die geweldige styging in die prys van vismeel tot meer as $1 000/t het prysweerstand tot gevolg gehad, en die gebruik van vismeel het die afgelope drie maande wêreldwyd met sowat 33% afgeneem. Na verwagting sal die prys van vismeel stabiliseer op ongeveer $900/t.

      Na wat berig word in Oil World Weekly van 28 September 2006, het die internasionale sojaboonproduksieskatting gestyg met 2,3m ton teenoor die vorige maand se skatting na 228m ton vir 2006-2007. As rede hiervoor word die aangepaste oesskatting van 83,5m ton na 85,6m ton in die Verenigde State van Amerika aangevoer. Droogte in Argen­tinië verhoed dat die aanplanting van mielies, koring en moontlik ook sonneblom afgehandel kan word. Na ver­wagting sal daar dié jaar dus meer sojabone in Argentinië aangeplant word. Sojaboonvooruitsigte in Brasilië is swak as gevolg van die voortdurende droogte en daar word voorsien dat produksie sal afneem van 55,3m ton na ongeveer 52,5m ton.

      Wat betref die internasionale produksie van oliesade was die oordragvoorraad teen die einde van Augustus 2006 ongeveer 8m ton meer as die vorige jaar. Dié oorvoor­siening het 'n afwaartse druk geplaas op die prys van oliesade gedurende die afgelope twee maande. Die olie­sademark is wêreldwyd in 'n oorgangstydperk en alle aanduidings is dat die prys 'n keerpunt bereik het. Oliesaadproduksie het vanaf 2002-2003 met 27m ha van 204m ha na 231m ha in 2006-2007 uitgebrei. Hierdie vervanging was ten koste van grane, en die verwagting is dat die neiging sal omswaai na grane aangesien daar kommer is oor mielieproduksie. 'n Tentatiewe vooruit­skouing vir 2007-2008 is dat wêreldoliesaadaanplantings kan afneem met 3,5m hektaar ten gunste van graan­aanplantings.

      Waar olie in Suid Afrika voorheen net vir menslike gebruik aangewend is, word daar nou 'n addisionele roete geskep met die produksie van biobrandstof beide uit mielies en oliesade. Produksie van dié twee proteïenbronne sal toeneem. Die goedkoper oliekoek kan 'n effek op die Suid-Afrikaanse mark hê. Die veevoerbedryf sal daarop aandring om die goedkoper produk in te voer, en die plaaslike persers sal die laer prys moet ontmoet, wat teruggevoer sal word na die produsente.

      Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban soos op 3 Oktober 2006
      Verskeping: R1 677   |   Wisselkoers: R7.72/US$
      Geland Durban 47% proteïen oliekoek 2 077.00
      Spoorvrag na Randfontein 170.00
      2 247.00
      Waarde van volvetsoja 110% R2 472.00
      Min koste om sojabone na volvetsojabone te verwerk 593.00
      – Vervoerkoste na volvet-aanleg 70.00
      – Stoorkoste 102.00
      – Rente 12% (6 maande) 123.00
      – Ekstrusiekoste 180.00
      – 5% ekstrusieverlies 118.00
      Afgeleide produsenteprys vir sojabone – R/ton R1 879.00

      Mnr Potgieter opper die vraag of sojaboon te duur raak vir volvetverwerking. Dr Griessel antwoord dat alle aandui­dings is dat veevoervervaardigers van mening is dat dit die regte tyd is om te koop wanneer die draaipunt bereik is. Hy sou nou voorraad vooruitkoop vir die volgende twee, drie maande want dit is onseker wanneer die groot surplusse oliekoek beskikbaar gaan raak.

      Die Voorsitter vra dat die SAFEX-inligting by dié be­spreking ingesluit word. Mnr Du Plessis berig dat die SAFEX-prys al nader aan invoerpariteit beweeg. Dit dui daarop dat verbruik teen'n verhoogde tempo meer word.

      Die Voorsitter meld dat daar in 'n VSA studie aangedui is dat daar eers 'n situasie van regstelling sal kom. Die groot uitbreiding in biodiesel in Amerika het eers vyf jaar gelede begin, en die groot styging in produksie in Suid-Amerika het sake op 'n punt gebring. Die internasionale sojabedryf aanvaar dat deel van hulle mark afgestaan sal word aan mielies. Die sogenaamde DDGS ("Distillers' Dried Grain Solubles") uit die mieliemark gaan 'n deel van die huidige soja-oliekoek mark in Amerika vervang.

      Mnr Botma vra indien aanvaar word dat daar 'n groot sur­plus van oliekoek gaan wees, en oliekoek die binnelandse pryse bepaal, hoe die olieprys van soja by die formule ingebring sal word. Dr Griessel antwoord dat daar 'n groot vraag na olie vir biobrandstowwe is. Die studie het getoon dat die prys van oliekoek sal daal met 20-25%, terwyl die olie se prys sodanig sal styg dat die produsent 2.5% meer vir sy sojabone sal kry. Die Voorsitter stel samevattend dat die styging in die olie die daling in die oliekoekprys neutraliseer, maar die netto effek is 'n klein styging in die sojaboon self se prys. Dit is wat die studie aandui.

    2. SAFEX

      Die aangeleentheid is bespreek onder item 8.1.

  9. Produsente-aangeleenthede

    1. KwaZulu-Natal

      1. Super Sojakompetisie – terugvoering

        Die Voorsitter wens Mnr du Plessis, as Voorsitter van die Super Sojakompetisie in KZN, en alle ander betrokkenes, ook dié van die Departement Landbou in KwaZulu-Natal, namens die PNS en die Sojawerkgroep geluk met die geslaagde aanbieding van twee interessante en leersame inligtingsdae. Hy versoek dat Mnre Havenga en du Plessis terugvoering gee oor die inligtingsdae.

        Mnr du Plessis deel die vergadering mee dat die by­woningsgetalle by die inligtingsdae goed was, veral in ag genome die feit dat die inligtingsdae nèt voor planttyd en net ná 'n langnaweek aangebied is. Die datums van die inligtingsdae sal ietwat vervroeg word in die toekoms, indien die kalender dit toelaat. Die bywoningsgetal by Winterton was agt en veertig terwyl agt en sewentig persone die Dundee-dag bygewoon het.

        Mnr du Plessis bedank die Voorsitter vir die insiggewende toespraak aangaande die wêreldproduksie van biobrand­stowwe gelewer by dié geleentheid. Daar is by die inligtingsdae gepoog om die boere in te lig aangaande dit wat vir hulle as produsente beskikbaar is in KwaZulu-Natal. Hy meld dat heelwat positiewe terugvoering ontvang is. Van die aangeleenthede geopper sluit in die moontlike oprigting van 'n groot fabriek in Newcastle, samewerking tussen die Landboukamer van Newcastle, SASOL en Siyanda, en die interessante fasiliteit wat aan boere gebied word waar diesel en oliekoek vervaardig word vir boere ná lewering van sojabone.Die oliekoek kan verkoop word aan die fasiliteit of die boer kan dit self gebruik na betaling van 'n verwerkingskoste. Dit was baie insiggewend vir baie van die boere, en hy meen dit gaan beslis aftrek kry.

        Mnr du Plessis meld dat 'n onrusbarende tendens opge­merk is, is dat die produsente sonder die gebruik van kunsmis geplant het, met 'n gevolglike groot effek op die brutomarge. In die noordelike streek het sewe en in die suidelike streek het vyf deelnemers aan die kompetisie nie kunsmis gebruik nie. Redes hiervoor aangevoer is dat die grondstatus redelik goed was; en dan ook die onsekerheid in die mark. Daar is op gewys dat dit nie 'n aanvaarbare praktyk in KwaZulu-Natal is nie. Daar is duidelik gestel dat dié praktyk van roofbou slegs eenmalig kan geskied. Slegs 23% van die boere in die noordelike streek het saad aangekoop, terwyl 10% van die boere in die suidelike streek saad aangekoop het. In die kosteberekening van die persone wat hulle saad teruggehou het, is die saadprys van die vorige seisoen geneem, 'n skoonmaakkoste daaraan gekoppel, en vervoerkoste na en van die skoonmaker bygereken. Die werklike saadkoste versus saadterug­houding hou 'n enorme effek in op die bruto marge met 'n verskil van R500 tot R700 p/ha op insetkoste. Dit is belangrik dat daar gesprek gevoer word met SANSOR en die saadprodusente in hierdie verband. Die boere wat gewen het, het beide hulle saad teruggehou. Hy spreek sy kommer uit dat dié dokumente wat gebruik word om voorligting te verskaf aan boere, die boodskap sal uitdra dat saadterughouding die korrekte praktyk is om te volg.

        Die Voorsitter vra Mnr Havenga om sy inset te lewer. Mnr Havenga berig dat die kompetisie suksesvol afgeloop het met altesaam 46 inskrywings waarvan 26 die noordelike en 20 die suidelike deel van KwaZulu-Natal verteenwoordig het. Die suidelike deel, wat hoofsaaklik deur Bergville en Winterton beslaan word, het die beste opbrengs in die geskiedenis van die kompetisie behaal. Die gemiddelde opbrengs was 4,23 t/ha. Die opbrengste het gewissel tussen 2,7 en 7,23 t/ha. Die opbrengs van 7,23 t/ha is behaal op grond onder besproeiing. Die gebiede dek 'n minimum van 5 ha. Met 25% van die grond onder besproeiing, was die gemiddelde opbrengs 5,08 t/ha. Die opbrengs op droë land het gewissel tussen 2,7 en 4,75 t/ha met 'n gemiddeld van 3,95 t/ha. Die mikpunt van 5 t/ha is nege jaar gelede oorskry, met 'n ryspasiëring van 95cm en 'n plantpopulasie van 295 000 per hektaar. Vanjaar is 7 t/ha oorskry, met 'n ryspasiëring van 17,5cm en 'n plantpopulasie van 500 000 plante per hektaar. In die noordelike deel van KwaZulu-Natal wat die Normandien-gebied, die Newcastle distrik, Dundee, Vryheid, Utrecht en Paulpietersburg insluit was die gemiddelde opbrengs 3,3 t/ha onder droë land wat die beste opbrengs dusver onder droë land is. Die opbrengste het gewissel tussen 1,72 en 4,88 t/ha. Wat die proteïen en olie betref, het die proteïen tussen 37,9 en 43,8% vogvry gewissel in Suid KwaZulu-Natal met 'n gemiddeld van 41,6%, terwyl die olie tussen 14,3 en 18,6% gewissel het, met 'n gemiddeld van 16,02%. In die noorde het die proteïen gewissel tussen 37,2 en 45,6%, met 'n gemiddeld van 42,1% terwyl die olie gewissel het tussen 10,89 en 17,07%, met 'n gemiddeld van 14,27% - heelwat minder as die gemiddeld in die suide. Die noordelike gemiddeld is heelwat laer as die van die vorige twee seisoene van 17,4 en 19.5% onderskeidelik, en die rede hiervoor is nie duidelik nie. Wat die gelykbreeksyfer van die opbrengs betref, was dié van die suide 1,27 t/ha en dié van die noorde 1,06 t/ha.

        Mnr Havenga meld dat die belangstelling in die kompetisie nog baie goed is. Van die boere wat nie deelgeneem het nie, het hom genader en aangedui dat hulle wel in die toekoms wil deelneem. Die bruto marge is bereken op 'n gemiddelde produsenteprys van R1800/t. In die suide is die bruto marge bereken op R5332/ha en in die noorde op R4255/ha. Die voor-oeskostes in die suide is R833/ha en in die noordelike gebied R1076/ha minder as die vorige seisoen. Die hooffaktore, soos ook aangedui deur Mnr du Plessis, is die manier waarop die saadprys bereken is, en die feit dat sommige boere dié jaar nie bemes het nie. Daar is bevind dat die ontledings van die boere wat nie bemes het nie, oor die algemeen optimaal en heelwat hoër as optimaal was en daar kan afgelei word dat die grondstatus baie goed was. Die saadkoste ten opsigte van nuwe saad is bereken op die werklike prys van ongeveer R12 000/t, en dié van teruggehoude saad op die vorige jaar se prys plus skoonmaak- en vervoerkoste.

        Die Voorsitter noem dat die implikasie van die terug­houding van saad verreikend is, en dat dié saak verder bespreek sal word onder Item.11. Hy meld dat die Super Sojakompetisie baie belangrik is in KwaZulu-Natal, dat groter deelname wenslik is, ook met die oog op verdere uitbreiding in dié provinsie.

        Mnr Lübbe meld dat die olie-inhoud, wat van groot belang is, gedaal het, en vra na die redes hiervoor. Dr Griessel antwoord dat die ontleding van 10% olie-inhoud totaal onaanvaarbaar is, en dat daar na sy mening 'n laboratorium-probleem bestaan. Hy stel voor dat monsters in die toekoms in duplikaat geneem word, sodat 'n tweede monster na 'n ander laboratorium gestuur kan word as daar twyfel bestaan oor die akkuraatheid van die eerste ontleding. Mnr Lübbe meld dat hy 'n monster van die Argentynse saad uit dieselfde area vir ontleding verskaf het, om 'n vergelykbare status te kry. Die ontleding was 18,3% olie en 38,7% proteïen wat normaal is vir die area. Mnr du Plessis berig dat die Departement van Landbou versoek het dat die monsters verdeel moet word, en dat helfte na Cedara en die res na die Universiteit van KwaZulu-Natal se Pietermaritzburg-kampus gestuur word vir ontleding. Daar was 'n noemenswaardige verskil tussen die twee ontledings. Hoewel daar 'n probleem met die laboratoriums is, is dit steeds onrusbarend dat die gemiddeld laer in die noorde is as in die suidelike gebied. Daar is gemeen dat die oorsaak van die probleem hitte-eenhede kon wees, maar daar is bevind dat die hitte-eenhede hoër was in die noorde as in die suide. Hy stel voor dat navorsing in dié verband onderneem word. Mnr Potgieter meld dat die olie-inhoud in Noordwes-provinsie gemiddeld tussen 20 en 20,4% is, en dat die proteïen­inhoud tussen 39 en 39,5% wissel.

        Die Voorsitter meld dat daar in die verlede probleme ondervind is met die toets van monsters. Selfs by die meer aanvaarbare laboratoria is verskillende resultate verkry as dieselfde monster 'n tweede keer getoets word. Die PNS het 'n projek laat loots oor laboratoria, ontledings, en wat daarmee gepaard gaan. Hy vra Dr Griessel na die status van die projek, en of 'n aan­vaarbare laboratorium wat onder normale omstandighede die korrekte resultate sal verskaf, al geïdentifiseer is. Dr Griessel antwoord dat die projek onderneem word deur die LNR op Irene en dat dit feitlik afgehandel is. Ná afhandeling word 'n kongres of simposium beplan oor volvetsoja, die verwerking van sojabone, en daar word ook beplan om dieselfde monster te voorsien vir ontleding aan agt verskillende geakkre­diteerde laboratoria wat almal dieselfde tegnieke gebruik om te kyk of almal by dieselfde antwoord uitkom. Olie- en proteïeninhoudontledings sal by die opdrag gevoeg word. Die Voorsitter meld dat dit waardevol sal wees as 'n punt bereik kan word waar dieselfde monster aan agt geak­krediteerde laboratoria vir analise verskaf word, en die onder­skeie metodologieë waarvolgens die resultate bepaal word, vergelyk kan word.

        Mnr Cronjé vra na die moontlikheid van die herinstelling van die Super Sojakompetisie in Mpumalanga. Die Voor­sitter dui aan dat die PNS van kontrakteurs gebruik maak om in sekere opsigte behulpsaam te wees. Die Voorsitter meld dat die Kontrakteur in Mpumalanga reeds 'n paar jaar gelede weg is, en die Departement van Landbou 'n tekort aan personeel het. Hy het wél 'n afspraak met die hoof van navorsing, en sal vasstel of daar uit dié oord hulp verleen kan word. Die Voorsitter dui aan dat Mnr Cronjé se versoek geldig is, veral in Mpumalanga waar die grootste hoe­veelheid sojabone geproduseer word. Hy vra Mnr Cronjé om kontakpersone by die Departement van Landbou te identifiseer, sodat die saak verder gevoer kan word in oorlegpleging met die Departement.

        Die Voorsitter wys op 'n artikel in die Landbouweekblad van 6 Oktober 2006 wat handel oor SASOL se nuwe bio­dieselaanleg in Newcastle en waarin berig word dat Siyanda Oil Holdings en SASOL ooreengekom het om 'n aanleg vir die verwerking van ongeveer 650 000 ton sojabone op Newcastle te vestig.

        Mnr du Plessis spreek sy dank uit teenoor die Raad van die PNS vir die ondersteuning verleen met die Supersoja­kompetisie. Dit is die enigste projek in die hele KwaZulu-Natal wat direk geskoei is op die kommersiële landbou, almal wat op meer as vyf hektaar plant word daardeur gedien, en die projek sou nie sonder die PNS se finansiële ondersteuning suksesvol wees nie. Hy vra dat sy dank aan die PNS Raad oorgedra word.

        Besluite:

        1. Dat kontakpersone identifiseer word by die Departement van Landbou in Mpumalanga, sodat die moontlike her­instelling van die Super Sojakompetisie ondersoek kan word in oorleg met dié Departement.

          Mnr Cronjé

        2. Dat die KZN Super Sojakompetisie-organiseerders se dank vir die ondersteuning verleen met die kompetisie oorgedra word aan die Raad van die PNS.

          Voorsitter

    2. Mpumalanga

      1. Stikstofbemestingsprobleme in Mpumalanga – terugvoering

        Die Voorsitter lig die vergadering in dat die stikstof­bemestingsituasie in Mpumalanga verwys is na die Tegnologiekomitee. Terugvoer sal verskaf word sodra inligting van die betrokke komitee ontvang is.

    3. Noordwesprovinsie

      Geen nuwe inligting is beskikbaar nie.

    4. Limpopo

      Geen nuwe inligting is beskikbaar nie.

    5. Vrystaat

      Mnr Maree berig dat sojaboonaanplantings in Lesotho beplan word.

    6. Oos-Kaap

      Die Voorsitter berig dat daar 600 000 ha in die Oos-Kaap is wat nog onder bewerking kan kom. Die PNS is bewus van 'n canola-projek wat tans in dié gebied vorm aanneem. Gesprek word reeds vir die afgelope twee jaar gevoer aangaande die aanplanting van sojabone in die Oos-Kaap. 'n Moontlike 400 000 ha is in KwaZulu-Natal beskikbaar waardeur die ontwikkelende landbou kan bydra tot sojaboonproduksie. Die onderskeie Departemente van Landbou van dié twee provinsies sal genader word om die werklike situasie vas te stel. Die Oos-Kaap het 'n sogenaamde Massive Food Programme wat hulle beplan om oor te skakel na canola, maar daar moet heelwat grond beskikbaar wees vir sojabone, mielies, ensovoorts ter wille van wisselbou.

      Besluit:

      1. Dat die Departemente van Landbou van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal genader sal word ten einde vas te stel of daar grond beskikbaar is vir die aanplant van sojabone in dié twee provinsies.

        Voorsitter

    7. Suidwestelike Distrikte

      Geen nuwe inligting is beskikbaar nie.

    8. Gauteng

      Geen nuwe inligting is beskikbaar nie.

    9. Noord-Kaap

      Geen nuwe inligting is beskikbaar nie.

    10. Algemeen

      1. Biodiesel

        1. Aansoek om rabat – vordering

          Die Voorsitter berig dat die aansoek om rabat deur SASOL ingedien is, en dat daar in die Landbouweekblad van 29 September 2006 'n volbladartikel met die titel "Twee­spalt oor sojatarief" in dié verband gepubliseer is. Die artikel handel oor SASOL se aansoek om 'n volle rabat op die invoertarief van 8%, maar nie vir 'n verlaging in die tarief van 6% op die soja-oliekoek nie. GraanSA het by die vorige vergadering hulle siening van die aansoek om die rabat gestel.

          Gesien teen die agtergrond van die oorsig verskaf aan­gaande die internasionale sojabedryf, die aanduiding van moontlike laer aanplantings van sojabone gedurende die jaar, SASOL se aansoek om die rabat, die artikel gepu­bliseer in die Landbouweekblad oor gebeure tussen SASOL en Siyanda en die feit dat daar tans steeds proteïen vir diereverbruik ingevoer word, stel die Voorsitter die saak oop vir bespreking. Hy bevestig, dat die PNS sterk voel dat plaaslike produksie die ingevoerde proteïen vir diere­verbruik moet vervang. Die PNS wil ten alle koste die krane oopdraai om te verseker dat dit wat die biobrandstofbedryf in Suid-Afrika ten opsigte van sojabone benodig, plaaslik geproduseer sal word. Hy meld dat mnr Mostert aangedui het dat hy ook tot die bespreking sou wou toetree, en vra of Mnr Mostert SASOL se saak sou wou stel.

          Mnr Mostert wys daarop dat SASOL alreeds die afgelope paar jaar besig is met biodiesel- en bio-etanolnavorsing. Daar word nou gekyk na die implementasie van 'n bio­dieselbesigheid binne SASOL. In Januarie 2006 is 'n persverklaring uitgereik waarin gestel is dat SASOL en die Sentrale Energiefonds saamwerk aan 'n biodiesel-projek. Daar is sedertdien gekyk na Sasolburg vir die bou van 'n aanleg op die ou Fedmis-kunsmisperseel. Tans is daar ongeveer twintig persone betrokke by die projek en daar word verwag dat die projekkoste miljoene rande sal beloop. Drie tegnologieverskaffers is genader vir voorstelle en kwotasies vir die bou van die aanleg. Die beoogde produksie van 100 000 ton diesel per jaar sal ongeveer 600 000 ton sojabone benodig. Die tegnologieverskaffers se voorstelle is gebaseer op 'n produksieperiode van 330 dae per jaar. Daar word tans voorsien dat produksie by die aanleg tussen Oktober en Desember 2008 sal begin.

          Mnr Mostert noem dat daar na berig word boere is wat reeds SASOL-kontrakte geteken het, en maan daarteen dat verwagtinge geskep word aangesien daar dinge is wat kan skeefloop met hierdie projek omdat die kapitaalkoste geweldig hoog is. So byvoorbeeld speel oliekoek 'n ge­weldig belangrike rol in die ekonomiese lewensvat­baarheid van dié projek.

          Daar is in die persverklaring gemeld dat 'n bemagtig­ingsvennoot ingebring sal word, en daar is deur die nodige prosesse gegaan. Siyanda Biodiesel het aangedui dat hulle beplan om 'n soortgelyke aanleg in Newcastle op te rig. Aangesien daar werklik nie op hierdie stadium ruimte in Suid Afrika vir twee soortgelyke aanlegte is nie, is daar in gesprek getree met Siyanda ten einde samewerking te bewerkstellig. 'n Mondelinge ooreenkoms is bereik en daar word gehoop dat die gesamentlike onderneming formeel bekragtig sal word in die loop van die volgende week. In hierdie proses kan dinge op verskeie terreine ook nog skeefloop. SASOL sal nie die meerderheidsaandeelhouer in die onderneming wees nie. Hierdie is nie die normale SASOL-projek nie, aangesien SASOL se normale wins­gewendheid nie hier ter sprake is nie. Mnr Mostert meld dat hy op verskeie terreine spook om hierdie projek lewensvatbaar te maak. Indien Dr Griessel se 25% prys­daling in oliekoek realiseer, is die projek dood. As die invoer­pariteitsprys van sojabone verder styg, is die projek dood. Gelukkig is daar 'n baie positiewe gesindheid aan die kant van SASOL se Uitvoerende Bestuur en Direkteure. Daar is ook druk van regeringskant om steun te verleen aan die regering se sogenaamde 'greenfields' benadering.

          Hoewel daar aanvanklik nie veel erns met die aanvanklike biodieselnavorsingswerk was aangesien biodiesel nie SASOL se besigheid is nie, het die gesindheid intussen as gevolg van politieke druk, die omgewing en die Kyoto-protokol heeltemal verander en is die benadering van SASOL Topbestuur dat die projek móét werk. Voorts is landbou-ontwikkeling, en spesifiek die skepping van die geleentheid vir die opkomende boere om sojabone te produseer, van groot belang.

          Die ligging van die aanleg is tans onder bespreking. Siyanda het 'n perseel in Newcastle by die munisipaliteit aangekoop. Daar is besoek afgelê by die perseel, en 'n groot aantal persone het die vergadering in die munisipale raadsaal bygewoon. Inligting is verskaf aangaande die besondere potensiaal van Amajuba vir die verbouing van sojabone. Die munisipaliteit het Newcastle ten beste bemark, en beklemtoon dat goeie dienslewering van hulle verwag kan word. Mnr Mostert meld dat hy beïndruk was met hulle benadering tot industriële ontwikkeling in hulle dorp, en dat die perseel ook goed lyk. Sasolburg en Newcastle moet teen mekaar opgeweeg word, en wel ten opsigte van drie bepalende faktore, naamlik kapitaalkoste, logistieke koste, en omgewingsimpak. 'n Persverklaring aangaande die ooreenkoms met Siyanda, en die ondersoek na die moontlike oprigting en ligging van die aanleg, sal in die loop van die volgende week uitgereik word.

          Daar word beplan om 600 000 ton sojabone per jaar te verwerk in die beoogde aanleg. Met die surplus wat tans op 100 000 ton sojabone staan, sal 500 000 ton meer per jaar geproduseer word. Suid Afrika sal dus 900 000 ton sojabone per jaar moet produseer om aan die totale behoefte te voorsien. Vir ekonomiese evaluerings­doeleindes is daar aanvaar dat daar in die eerste jaar 200 000 ton plaaslik aangekoop sal kan word, met 400 000 ton wat ingevoer word. Hoe ver in die toekoms alle sojaboonaankope plaaslik sal geskied, sal bepaal word deur die Sojawerkgroep. Dit sal voortydig wees om op hierdie stadium reeds inligting deur te voer na die boere om soja te begin plant omdat SASOL 'n aanleg gaan bou. Sodra SASOL Raadsgoedkeuring ontvang om voort te gaan met die oprigting van die aanleg, sal dergelike aan­kondigings gemaak word. SASOL sal homself nie verbind om vir die volgende twee seisoene sojabone aan te koop nie; en sal eers teen die laaste kwartaal van 2008 begin om sojabone wat beskikbaar is op die plaaslike mark in te neem, indien die aanlegkonstruksie op skedule is. Daar word beplan om minstens vier verskaffers van sojabone te kontrakteer om sojabone aan te koop. Moontlik sal twee verskaffers gekontrakteer word om plaaslik aan te koop, en twee verskaffers om internasionaal aan te koop, of selfs een verskaffer plaaslik en drie internasionaal. Sojabone sal nie net uit een gebied aangekoop word nie. Omdat geweldige ontwikkelingswerk nodig sal wees ten einde al die sojabone benodig te produseer, word die aanstelling van meer as een verskaffer egter voorsien. Daar moet nog besin word oor die bepaling van die aankoopprys van die sojabone.

          Die aansoek om rabat op die invoer van sojabone is bloot gedoen om die projek lewensvatbaar te maak. Afhangend van die toename in plaaslikse produksie, sal daar uit­eindelik geen sojabone ingevoer word nie. Invoerpariteit sal die sojaboonprys laat styg. In die vorige jaar is 650 000 ton oliekoek ingevoer. SASOL sal 400 000 ton oliekoek produseer en hiermee die grootste oliekoekvervaardiger in Suid Afrika word. Uiteraard sal die oliekoek so naby aan die fabriek as moontlik verkoop moet word. Dit sal ook in berekening gebring moet word wanneer Sasolburg en Newcastle teen mekaar opgeweeg word. Solank daar 'n tekort is aan oliekoek, sal die prys neig na invoerpariteit. Die berekening van die invoerpariteitsom is 'n baie belangrike deel van die besigheid.

          'n Voorlegging oor die toekoms van biobrandstof in Suid Afrika word in die loop van die maand aan die Kabinet gedoen. Van die voorskrifte daarin vervat kan wees dat 'n minimum hoeveelheid inmenging van biobrandstof by die gewone brandstof vereis gaan word, en dat inmenging moontlik aanvanklik vrywillig sal wees en later verpligtend kan word. Tans mag vyf persent biodiesel ingemeng word by gewone diesel en kan dit steeds diesel genoem word. Sodra meer as vyf persent ingemeng word, moet dit verklaar word en B5, B10, tot by B100 genoem word. Daar word verwag dat die spesifikasies ten opsigte van digtheid, energie-inhoud en smeerbaarheid van diesel verhoog sal word. Biodiesel hou voordele in ten opsigte van digtheid, wat gunstig sal wees vir gebruik by Secunda-brandstof, wat uit steenkool vervaardig word. Inmenging van biod­iesel sal hier die digtheid verhoog. Dit lyk feitlik onmoontlik om die biodiesel net so in te meng by die NATREF-diesel, wat uit olie vervaardig word in Sasolburg, en by die spesifikasies te hou. Inmenging van biodiesel verhoog die smeerbaarheid van gewone diesel. Nadelig is egter die feit dat die rakleeftyd van biodiesel korter is as dié van gewone diesel. Die trekkervereniging, SALMA, het aangedui dat meeste van die waarborge nie geldig sal wees as 100% biodiesel gebruik word nie. Biodiesel moet by 'n raffinadery ingemeng word, en hoewel die chemie van dieselver­vaardiging relatief eenvoudig is, is die skoonmaakproses kompleks.

          Die Voorsitter bedank Mnr Mostert vir 'n interessante en insiggewende uiteensetting en onderstreep die belang­rikheid van die inligting wat Mnr Mostert verskaf het vir diegene in die sojaboonbedryf. Daar word uitgesien na die beleidsverklaring vanaf die Regering. Suid Afrika het groot potensiaal vir soja, en produksie het heelwat gegroei van die 60 000 ton wat tien jaar gelede geproduseer is toe die PNS betrokke geraak het by sojabone. Produksie staan tans op oor die 400 000 ton. Staatsbetrokkenheid by biodiesel is van noodsaaklike belang. Daar is 'n groeiende invoer van proteïenbronne en 'n groeiende mark vir veevoer. Afgesien van die volume volvetsoja verbruik is daar steeds 600 000 ton oliekoek ingevoer. Daar is tans nie 'n ander bron wat in die soja-liga val nie. Sonneblom- en canola-proteïen het beperkinge, en so ook het DDGS (Distillers' Dried Grain Solubles) uit mielies. Die 900 000 ton sojaboon waarna Dr Mostert verwys het, klink billik. Daar is bereken dat, indien die DDGS in die mark kom, hoogstens 100 000 ton sojaboonoliekoek hierdeur vervang kan word. DDGS kan mielies, koringafval, semels, en dan grootliks sonneblomoliekoek in veevoerrantsoene vervang. Die sonneblombedryf kan baie seerkry as die mieliebedryf en sy bio-etanol op dreef kom.

          Mnr Mostert wys daarop dat 'n metode gevind sal moet word om die produsent te vergoed vir die proteïenvlak – dìt is eintlik wat aangekoop word. Die proteïeninhoud en veselinhoud is amper belangriker as die olie-inhoud. Die Voorsitter meld dat dit belangrik is om insette te kry aangaande SASOL se behoeftes aangesien die PNS die navorsingsfokus aan die hand hiervan kan bepaal. Mnr du Plessis noem dat die bedryf reeds 'n geruime tyd probeer om standaarde aangaande die bepaling van aanvaarbare proteïeninhoudsvlakke vas te stel; met meegaande ver­goeding aan produsente vir lewering van hoër vlakke, en pro rata laer vergoeding vir laer vlakke. Hy stem saam met Mnr Mostert se denkrigting, maar meen dat die standaarde in samewerking met die bedryf vasgestel moet word.

        2. Verslag van PNS-studietoer

          Dat die volledige verslag van die PNS-studietoer, met bylaes, beskikbaar gestel sal word by die Desember-vergadering van die Sojawerkgroep.

          Besluit:

          1. Dat die volledige verslag van die PNS-studietoer, met bylaes, beskikbaar gestel sal word by die Desember-vergadering van die Sojawerkgroep.

            Sekretaresse

      2. Sleepstroper

        Die Voorsitter meld dat die sleepstroper nie nou van belang is nie, en daar gelaat kan word.

      3. Gesprek met provinsiale departemente insake Nasionale cultivarproewe

        Dat gesprek gevoer word met die Departemente van Landbou van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga ten einde die nasionale cultivarproewe in dié provinsies weer op dreef te kry. Daar word gewag vir terugvoer van Mnr Strauss alvorens 'n datum vir die KwaZulu-Natal vergadering bepaal kan word. Mnr du Plessis meld dat hy graag betrokke wil wees by die vergadering, veral ten opsigte van Makhatini.

        Besluit:

        1. Dat gesprek gevoer word met die Departemente van Landbou van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpuma­langa ten einde die nasionale cultivarproewe in dié provinsies weer op dreef te kry.

          Mnr du Plessis
          Voorsitter

      4. Beplanning ten opsigte van die skryf en publikasie van artikels uit die sojaboon-handleiding – PNS Teg­nologiekomitee

        Mnr Keun sê dat Dr de Kock reëlings met 'n hele aantal persone getref het om die artikels te skryf, en dat die artikels ná voltooiing na die oorspronklike outeurs terug­verwys sal word ten einde hulle insette te verkry.

        Dié item staan oor na die volgende vergadering.

        Besluit:

        1. Dat dié item oorstaan na die volgende vergadering.

          Mnr Keun

  10. Navorsing

    1. Nasionale cultivarproewe

      Die Voorsitter vra Dr du Plessis of sy tevrede is met die vordering gedurende die afgelope jaar en die beplanning vir die volgende jaar. Dr du Plessis berig dat die lokaliteite geïdentifiseer is, en dat grondmonsters tans geneem word. Terugvoer word nog vanaf een lokaliteit ingewag. Mnr du Plessis vra na die moontlikheid van vroeër verskaffing van saad, veral vir Makatini waar potensiaal bestaan, maar waar dit belangrik is om vroeg te plant aangesien dit geweldig warm word in dié streek. Dr du Plessis onder­neem dat die LNR aan sy versoek sal voldoen.

    2. Roes

      1. Inligting vanaf Roestaakspan

        Die Voorsitter meld dat die inligting vervat in Bylae G vir die kennisname van die vergadering is. Die Voorsitter rig 'n versoek dat die PNS ingelig sal word indien roes opgemerk word. Die inligting sal deurgestuur word na die Roes­taakspan, en ook na GraanSA. GraanSA sal op sy beurt GraanSA se sojawerkgroep in kennis stel. Mnr van Wyk berig dat vangerproewe naby Heidelberg geplant sal word. Mnr Keun lig die Voorsitter in dat die lede van die Sojawerkgroep ingelig sal word waar en wanneer daar roes voorkom. Mnr du Plessis vra na die vordering met die opleiding van produsente in verband met roes. Die Voorsitter meld dat die kwessie bespreek sal word by die vergadering van die Tegnologiekomitee op 19 Oktober 2006.

        Besluit:

        1. Dat die PNS ingelig word indien roes opgemerk word; dat dié inligting deurgestuur sal word aan die Roestaakspan, en ook na GraanSA.

          Mnr Keun

    3. Sclerotinia

      1. Proefwerk – terugvoering

        Die Voorsitter meld dat Dr de Kock se voorlegging oor sclerotinia-proefwerk vir kennisname aangeheg is as Bylae H, en dat die Sojawerkgroep op hoogte gehou sal word van verdere verwikkelinge, indien enige.

    4. Produksiekoste-bepalings

      Die Voorsitter verwys na twee artikels aangaande produksiekoste-studies van die verskillende gebiede. Die artikels sal ingebind word by die dokumentasie van die Desember-vergadering van die Sojawerkgroep.

      Besluit:

      1. Dat die twee artikels aangaande produksiekoste-studies ingebind word by die dokumentasie van die Desember-vergadering.

        Sekretaresse

    5. Cultivarevaluasiekomitee-vergadering – terugvoering

      Die Voorsitter vra Dr Griessel om verslag te doen oor die vergadering. Dr Griessel meld dat behoorlike grondont­ledings nie in Groblersdal en Lichtenburg gedoen is nie, en dat opbrengste in dié gebiede dan ook nie goed was nie. Mnr Cronjé het dié dag voor­gestel dat grondmonsters van die gebied waar die cultivarproef geplant kan word reeds na afloop van oestyd geneem moet word, sodat inligting oor die nodige bemesting tydig verkry kan word. Dr Griessel meen dat dit 'n baie positiewe voorstel is. Hy meld dat dit 'n goeie vergadering was, en dat die probleme al hoe minder word. Dr du Plessis stem hiermee saam. Dr Griessel meld dat cultivar­evaluasie vir hom die bepaling van die genetiese potensiaal van 'n spesifieke cultivar in 'n spesifieke omgewing impliseer, terwyl die Voorsitter van die Cultivarevaluasiekomitee van mening is dat daar bepaal moet word hoe goed die cultivar presteer in al die verskillende omgewings. Die grondontledings en die voed­ingstatus van die grond volgens dr Griessel is nie onder­handelbaar nie. Dit is duidelik dat verskillende cultivars verskillend sal presteer in verskillende gebiede, maar prestasie moet nie beperk word deur die voedingstatus van die grond nie. Mnr Havenga vra of die grond­tekstuur geklassifiseer is en aangedui kan word welke cultivar die mees geskikte vir 'n spesifieke grondtekstuur sou wees. Dr du Plessis meld dat dit wél onderneem kan word, maar slegs indien die monsters nie alreeds weggestuur is vir ontleding nie.

    6. Registrasie van flusilazole-bevattende produkte vir ascocytha-beheer by sojabone

      Mnr Keun meld dat die registrasie permanent behou is, sonder enige voorwaardes.

  11. Saad

    1. Terughouding van saad

      Die Voorsitter sê dat daar vroeër gemeld is dat probleme ervaar is by die Super Sojakompetisie met die prystoe­kenning vir die beste bruto marge. Die Raad van die PNS het 'n embargo geplaas op die dokument wat deur Dr de Kock opgestel is, en waarin hy riglyne gee aan saad­handelaars aangaande die prosesse waardeur die saad moet gaan. Die beginsel is dat saad aangekoop moet word. 'n Gesprek is gereël tussen die PNS en SANSOR waar soortgelyke probleme as in die koringbedryf bespreek sal word. Die nadele van die terughouding van saad is wél bekend. So het Monsanto reeds sy saadaanleg ter lande onttrek. Die LNR doen egter steeds saadnavorsing. Dr Griessel stel dat die saadmaatskappye noodsaaklik is vir die konstante toevoer van beter genetiese materiaal. Die probleem is dat produsente van mening is dat die terughouding van saad sal bepaal of die produsent 'n wins of 'n verlies maak. Die PNS wil die saadmaatskappye, SANSOR, die produsente en die saadskoonmakers in gesprek betrokke kry sodat daar 'n oplossing vir die probleem gevind kan word en 'n meer realistiese prys vir saad moontlik bepaal kan word.

      Mnr Potgieter noem dat 'n produsent by die GraanSA kongres gevra het vir riglyne wanneer saad teruggehou word. GraanSA het besluit dat saadterughouding nie goedgepraat kan word nie. Aan die ander kant kan pro­dusente nie verbied word om saad terug te hou nie, want dit is 'n ekonomiese besluit wat geneem moet word. Die saak sal na GraanSA se hoofbestuur geneem word vir beleidsformulering. Dit sal met groot omsigtigheid hanteer moet word. Die gevaar is dat navorsing skade kan ly. Die persentasie van saadterughouding raak onrusbarend. Hy vra dat die kwessie na 'n punt gedryf word en 'n vergadering met al die rolspelers gereël word.

      Die Voorsitter onderneem dat 'n datum bepaal sal word in oorleg met SANSOR, en 'n uitnodiging ook gerig word aan GraanSA en die lede van die Sojawerkgroep. Wat betref die bepaling van die beste bruto marge by die Supersoja­kompetisie word 'n gesamentlike vergadering in Desember gehou met die PNS Dagbestuur en die Tegnologiekomitee om die beginsel weereens aan te spreek. Mnr du Plessis stel dat saadterughouding 'n wesenlike probleem is waarna breed gekyk moet word. Daar sal 'n werkswyse identifiseer moet word waardeur die saadmaatskappye op een of ander manier vergoed word, moontlik met 'n statutêre heffing. Skoonmaak vind nie noodwendig by geregistreerde skoon­makers plaas nie – 75% van die saad word met 'n rolsif op die plaas gesif. 'n Praktiese, werkbare oplossing waarmee al die rolspelers tevrede is, sal gevind moet word. Uiteindelik sal navorsing en veral teling skade ly.

      Mnr Mostert opper die moontlikheid dat plaaslike pro­duksie gestimuleer sal word indien die saad voorsien word aan die produsente, en een of ander meganisme gevind word om die saadprys te dek. Die Voorsitter vind die idee prysenswaardig. Die PNS het besluit dat navorsing gerig moet wees op die bereiking van laer insetkoste enersyds, en hoër opbrengste andersyds. Die bedryf moet meer lonend gemaak word, ter wille van die sojabedryf. Mnr Potgieter stel dat saadkoste saadkoste sal wees, en ten spyte van saadterughouding, 'n gemiddeld van 18% van die insetkoste deur saadaankope verteenwoordig word. Onder besproeiingsomstandighede sal die persentasie opskuif na 25 to 30%, en onder droëlandomstandighede na tot soveel as 50%. Die moontlikheid kan oorweeg word om die kostestruktuur en winsneming te bespreek met die betrokke saadmaatskappy, en die versekering aan die saadmaatskappy te gee dat byvoorbeeld 60% van die saad aangekoop sal word teen 'n bepaalde prys. Die Voorsitter stem saam dat dié moontlikheid verfyn en oorweeg kan word.

      Mnr Lübbe noem dat die geheelpakket-benadering ook oorweeg kan word waar die kunsmis, diesel en saad teen 'n spesiale prys verskaf word aan die produsent. Hy het die produsente gevra teen watter prys saad ingekoop sal word indien 'n sigbare hoeveelheid van die saad, nuwe saad is. Die algemene antwoord was dat saad dan teen R150 'n sakkie aangekoop kan word. 'n Produsent in die oos Vrystaat wat die vorige jaar vir die eerste keer sojabone van 'n besondere cultivar geplant het, het hierdie jaar 9 ton van die saad aangekoop teen R150 'n sakkie, en het aangedui dat hy in die toekoms bereid sou wees om weer só aan te koop. Volgens Mnr Lübbe het die saak twee kante – beide dié van die produsent en dié van die saad­maatskappy. Hy het voorheen genoem dat die produsent in oorweging geneem moet word, en Mnr du Plessis se stelling is bekend onder produsente – die pyp kan nie gerook word indien die nuwe prys van R344 'n sakkie betaal moet word nie. Die Voorsitter wys daarop dat daar nou 'n stelsel is waarvolgens die berekening gemaak is en die realisme is nou teruggebring – die saak raak al meer ernstig en daar moet uit die aard van die saak daaraan aandag geskenk word.

      Besluit:

      1. Dat 'n vergadering gereël word in oorleg met SANSOR om die probleem van saagterughouding te bespreek, en om moontlik 'n meer realistiese prys vir saad te bepaal; en dat GraanSA en die lede van die Sojawerkgroep genooi word om dié vergadering by te woon.

        Sekretaresse

  12. Tegnologie-oordrag

    1. Inligtingsdae 2006: datums en terugvoering

      Die Voorsitter vra dat die vergadering die werkgroep op hoogte sal hou van inligtingsdae.

    2. Sojaforum

      1. Terugvoering van die vergadering van die Sonneblom- en Sojaforum

        Daar is geen terugvoering nie, aangesien die volgende vergadering nog moet plaasvind.

      2. Sake om na die volgende Forum te verwys

        Sake om na die volgende Forum te verwys sal tussen die Voorsitter en Mnr Keun bepaal word.

  13. Ander sake

    1. Inligting vir plasing op die webtuiste

      Die Voorsitter noem aan Mnr Mostert dat notules van dergelike vergaderings op die PNS-webtuiste gelaai word, en vra of daar enige inligting deur hom by die vergadering gemeld is wat hy nie genotuleer sou wou hê nie. Mnr Mostert stel dat, solank dit duidelik gestel word dat daar heelwat onsekerheid bestaan rondom die projek, hy geen beswaar sal aanteken teen die laai van die verbatim notule nie. Hy wil voorkom dat valse verwagtinge geskep sal word by die produsente. Die Voorsitter meld dat hy sal seker maak dat die notule feitelik korrek is. Mnr Keun noem dat die notule eers ná die volgende vergadering van die Sojawerkgroep se goedkeuring en aanvaarding van die notule, op die webtuiste gelaai sal word. Die Voorsitter onderneem om die notule aan Mnr Mostert te voorsien vir regstelling, indien enige.

    2. Nuus vir Landbouradioprogram

      Aangesien die program nog onder bespreking is, staan die item oor vir 'n volgende vergadering.

    3. Sojaboonolie: Boomsaagmark

      Die Voorsitter versoek Mnr van Wyk om inset te lewer met betrekking tot die boomsaagmark. Mnr van Wyk berig dat hy nagelees het in dié verband, en dat die volgende aan die lig gekom het: Daar is ongeveer 1,4m ha grond onder bosbouplantasies in Suid Afrika, met ongeveer 100 000 werknemers. Daar word 16m liter mineraalolie jaarliks verbruik om die saaglemme te smeer. Mineraalolie veroor­saak besoedeling. Die moontlike gebruik van sojaboonolie as smeermiddel vir saaglemme sal ondersoek word. Kers sal opgesteek word by die "American Soybean Association", en hy sal by 'n later geleentheid terugvoer aan die Soja­werkgroep verskaf.

  14. Datum van volgende vergadering

    Die datum van die volgende vergadering van die Soja­werkgroep is 5 Desember 2006.

  15. Afsluiting

    Die tentatiewe datums vir die Sojaboonwerkgroep­vergaderings vir 2007 word ter tafel gelê,en daar word versoek dat terugvoer verskaf word indien daar probleme met dié datums ondervind word. Die datums sal finaliseer word by die Desember-vergadering.

    Die vergadering sluit om 13:30.