Navorsingsverslag 2012/2013

3.

 

Beleidsbesluite


Seker die heel belangrikste beleidsbesluit waaraan gehoor gegee is die afgelope jaar, was die reëling van WSRC IX 2013 in Durban van 17-22 Fe­bru­arie 2013. Die Raad het ook toegestem dat Mnr GJH Scholtemeijer die verkiesing tot Voorsitter van die reëlingskomitee kon aanvaar en so ook Dr Joseph de Kock wat verkies is tot Voorsitter van die Tegniesekomitee. Hulle is ook met goedkeuring van die Raad bygestaan deur lede van die Raad, veral die Tegnologiekomitee en baie belangrik, die personeel van die PNS. Die druk op almal was des te groter nadat die orga­niserende komitee baie sleg in die steek gelaat is deur 2 sogenaamde internasionaal erkende maatskappye wat kongresse reël. Die PNS gee graag die hoogste erkenning aan een en almal wat op welke wyse ook al meegehelp het om WRSC IX 2013 die sukses te maak wat dit was. Die PNS, die soja-gemeenskap en Suid-Afrika is trots op die uitkoms van hierdie internasionale kongres wat geopen is deur Minister Derek Hanekom. Die Suid-Afrikaners wat hierdie kongres bygewoon het, het die kongres baie leersaam gevind en het baie goeie vriende in die internasionale soja­gemeenskap gemaak. Twee Suid-Afrikaners, Mnr GJH Scholtemeijer van die PNS, en Mnr Willem Engelbrecht van K2 Agri, is verkies om op die "Voortsettingskomitee" van WSRC te dien. Die volgende kongres word beplan vir 2017 te Savanna, Georgia, VSA.

Met die oog op aktiewe betrokkenheid by WSRC IX 2013, het die Raad ook 'n uitnodiging aanvaar dat die PNS die eerste nie-Amerikaanse lid geword het van die "World Soya Foundation (WSF)". Ongelukkig is hierdie organisasie nog in sy kinderskoene en is daar nie veel hieroor te rapporteer nie.

Daar word jaarliks beleidsbesluite geneem deur die Raad soos benodig. Die koms van WSRC IX 2013 het die noodsaaklikheid beklemtoon om 'n amptelike Suid-Afrikaanse sojaboonvereniging vir Suid-Afrika daar te stel, 'n rol wat tot dusvêr ipso facto deur die PNS vervul is. Daar is hier­benewens besluit om soortgelyk 'n Suid-Afrikaanse canolavereniging te stig en hierdie reëlings is reeds vêr gevorder.

Na aanleiding van die sukses en impak van die studie na die potensiaal om sojabone te verbou in Suid-Afrika, het die PNS besluit om 'n soort­gelyke studie ten opsigte van canola te laat doen. 'n Ooreenkoms is aangegaan met Dr Mark Hardy, bekende navorser voorheen verbonde aan die Departement van Landbou, Wes-Kaap (DLWK) en hierdie werk sal na waarskynlikheid voltooi word vroeg in 2013. Die uitslag van hierdie studie word met groot belangstelling afgewag.

Bogenoemde besluite ten opsigte van canola het gevolg nadat die Raad besluit het om 'n grootse poging aan te wend om canola uit 'n oënskynlike posisie van stagnering op te hef. Die eerste positiewe resultate is baie duidelik die afgelope 2 jaar waargeneem soos in meer besonderhede bespreek word later in die verslag. In hierdie verband het die Raad ook besluit om erkenning te gee aan DLWK vir hul besonderde bydrae tot die vestiging en uitbouing van die canolabedryf en het slegs vir die tweede keer in die geskiedenis van die PNS besluit om sy spesiale toekenning te maak aan 'n instansie wat grootliks bygedra het tot die bevordering van die Visie en Missie van die PNS.

Hierdie hernude aksie ten opsigte van die canolabedryf het die Raad ook laat besluit om steeds die canolabeplanningstaakspan in plek te hou.

Samewerking tussen die PNS en OPOT geskied reeds vir etlike jare. Daar is egter die afgelope jaar besluit om 'n amptelike samewerkingsoor­eenkoms tussen die twee instansies daar te stel. Die PNS gee graag erkenning aan OPOT vir die vennootskap ten opsigte van WSRC, samewerking ten opsigte van sojabone en nou ook hierdie jaar ten opsigte van die canolabedryf.

In die gees van samewerking het die PNS besluit om die Sonneblom- en Sojaboonforumvergadering van die Oliesadebedryf te inkorporeer by die sojaboonwerkgroep van die PNS, vir 1 jaar proefondervindelik.

Canola-vestiging in die somerreënval streek is reeds 'n besprekingspunt vir etlike jare. Aktiewe optrede is egter agterweë gehou totdat meer duidelikheid bekom kon word ten opsigte van die posisie van canola in die Wes-Kaap. Na aanleiding van die sukses aldaar soos hierbo uiteengesit, het die Raad besluit om amptelik te skakel met instansies en produsente wat tans betrokke is by canola in die somerreënvalgebied. Vordering hieromtrent sal in die volgende navorsingsverslag gerapporteer word.

Die Raad het, met die oog op kontinuïteit, besluit om verdere aanstellings op die Raad te maak. Mnr Gerhard Keun, wat die afgelope 10 jaar die Hoof Uitvoerende Beampte van die PNS is, is tot Raadslid verkies, terwyl Prof Ferdinand Meyer van BFAP, met wie die PNS ook al vir etlike jare nou saamwerk, gekoöpteer is as Raadslid aanvanklik vir 1 jaar volgens PNS beleid ten opsigte van Raadslede.