Reports / Archives / Research Reports / 2001/2002 / 2001 Kort En Mediumtermyn Behoeftes

Navorsingsverslag 2001/2002

7.

 

Kort- en mediumtermyn behoeftes vir vismeel en oliekoek


Die vraag na vismeel en oliekoek was onderskeidelik 131 306 en 1 063 000 ton vir die bemarkingsjaar wat strek oor die periode 1 April 2000 tot 31 Maart 2001. Dit weerspieël die hoeveelhede wat hoofsaaklik in die kommersiële mark verbruik is. Teenoor dieselfde periode in 1999/2000 dui dit op 'n afname van 6 778 ton vismeel en 'n afname van 338 ton oliekoek. Hierdie syfers toon dat daar tussen die twee periodes min verskil was in die absolute hoeveelhede verbruik van vismeel en oliekoek.

Plaaslike produksie van oliekoek het gedurende die 2000/2001 bemarkingsjaar in 48,3% van die RSA se totale behoeftes voorsien terwyl dit 72,3% in die geval van vismeel was, indien die Namibiese produksie buite rekening gelaat word. Indien die Namibiese produksie nie bygetel word, voorsien dit in 83,8% van die plaaslike behoeftes. Voorsiening van vismeel uit Namibië kan in die toekoms in gedrang kom omdat die produksie, hantering, prosessering en distribusie van vismeel nou in ooreenstemming met EU regulasies is wat meebring dit dat nou meer geredelik uitgevoer kan word na daardie lande.

Die totale beskikbare oliekoek gedurende 2000/2001 was 86 154 ton meer as die verbruiksbehoeftes wat daarop dui dat gunstige sojaboon pryse aan die begin van die betrokke bemarkingsjaar addisionele invoere aangemoedig het. Weens die laer produksie van oliekoek naamlik 514 020 ton in 2000/2001 teenoor die 554 903 ton in 1999/2000 asook die addisionele invoer weens gunstiger pryse soos voorheen vermeld, is aansienlik meer oliekoek ingevoer. Gedurende 1999/2000 is 508 435 ton ingevoer teenoor 635 134 ton gedurende die verslagjaar. Dit verteenwoordig 'n styging in invoer van 24,9%. Die kommoditeite wat verantwoordelik is vir die styging in invoere is soja (oliekoek en volvet) 476 930 ton teenoor 392 306 die vorige jaar en sonneblom-oliekoek 62 424 ton teenoor 12 906 ton die vorige jaar. Met die verswakkende rand het hierdie invoere 'n steeds groter wordende nadelige invloed op die RSA se handelsbalans as ook 'n nadelige invloed op die skepping van werksgeleenthede en ekonomiese groei.

Prysbewegings en prysverhoudings van individuele kommoditeite het 'n groot invloed op die besluitnemingsproses van produsente oor watter kommoditeite en hoeveel hulle daarvan gaan plant. Gedurende die 2000 somer plantseisoen was daar 'n groot toename in soja aanplantings 134 150 hektaar teenoor 93 787 hektaar die vorige seisoen wat 'n toename in oppervlakte van 43% verteenwoordig. Hierdie toename in aan­plantings kan toegeskryf word aan hoër internasionale pryse van sojas, gunstige klimaatstoestande asook 'n gunstige soja / mielieprys­verhouding. Ten spyte van nog steeds relatief hoë pryse van ingevoerde soja oliekoek vind ons 'n effense afname in soja aanplantings gedurende die 2001 seisoen (7,5%). Dollar pryse van soja-oliekoek het gedurende 2001 betreklik sywaarts beweeg, met 'n effense afname gedurende die laaste kwartaal van 2001. Die drastiese verswakking van die Rand teenoor die doller het egter die gelande pryse van soja-oliekoek teen hoë vlakke gehandhaaf. Die effense afname in aanplantings kan dus nie aan die sojapryse per sé toegeskryf word nie maar eerder aan die sterk opwaartse beweging in mieliepryse gedurende 2001. Die aanplantings van mielies gedurende 2001 het dan ook net 4,8% of 131 875 hektaar toegeneem terwyl die aanplanting van sonneblom met 23,7% of 123 815 hektaar toegeneem het.

Die effek van korttermyn-wisselinge in pryse op die aanplantingspatrone van produsente kan in 'n mate uitgeskakel word deur die voordele van wisselboustelsels te bevorder. In die vorige jaarverslag is gerapporteer dat die UOVS gekontrakteer is om 'n studie te doen oor die ekonomiese voordele van sojabone in 'n wisselboustelsel. Die verslag is nog nie gefinaliseer nie maar die resultate dui daarop dat deur sojabone in 'n wisselboustelsel te inkorporeer dit groot finansiële voordele vir die produsent tot gevolg kan hê.

Projeksies van oliekoek verbruik vir die jare 2010 en 2020 vir verskillende scenarios is deur die McGuigan-model gemaak. Teen die beste scenario, met ander woorde, 'n hoë bevolkingsgroei, hoë ekonomiese groei en beskermingstariewe in plek, is die voorspelling vir 2010 1 766 000 ton en vir die swakste scenario naamlik 'n lae bevolkingsgroei (vigs), lae ekonomiese groei en geen beskermingstariewe is die voorspelling 1 280 000 ton. Vir die jaar 2020 is die voorspelling 2 425 000 en 1 346 000 ton onderskeidelik vir dieselfde scenarios.

Aangesien dit voorsien word dat die grootste uitbreiding van plaaslike geproduseerde plantaardige proteïen vanuit die soja vertakking sal kom, word daar gefokus op die identifisering van nuwe gebiede vir soja verbouing asook die promovering van die verbouing van sojas in erkende gebiede.