Navorsingsverslag 2001/2002
5.
Projekte wat suksesvol afgehandel is of waarmee vordering gemaak is (Bylae I en II)
Lys van projekte
Projek titels
- Die ontwikkeling en toepassing van genetiese merkers wat gekoppel is aan aalwurmweerstand in sojabone
- Die ontwikkeling van sojaboonkultivars met beter aanpassing en saadkwaliteit
- Versnelde generasievordering in sojaboonteling
- Sojaboonstrookdemonstrasies in verskillende produksiegebiede
- Nasionale sojaboonkultivarproewe
- Supersoja opbrengskompetisie
- Super Sojakompetisie vir KwaZulu-Natal
- Effek van verhoogde prolien sintese in sojabone
- Die ontwikkeling van die produksietegnologie van soet witlupiene
- Teling vir antraknose weerstand in lupiene
- Optimale plantmetodes vir olie- en proteïensaadgewasse
- Ekonomiese kortrotasie wisselbougewasse vir koring
- Die omvang en rol van canola en lupien grondgedraagde siektes op opbrengs
- Enting van lupiene in Suid-Afrika
- Genetiese manipulering van lupiene antraknose
- Kultivarevaluasie van olie- en proteëenryke sade in die winterreënvalstreek
- 'n Ondersoek na die produksiedinamika van 8 wisselboustelsels
- Epidemiologie en beheer van swartstam van canola in die winterreënvalstreek van Suid-Afrika
- Kultivarevaluasie van olie- en proteïensade in die winterreënvalstreek (canola)
- Aanwending van voerensieme om die diëte vir hoenders en varke te verbeter
- Optimale rywydtes en saaidigthede vir canola
- Invloed van prosessering op energie en aminosuur beskikbaarheid vir jong pluimvee
- Chemiese beheer van antraknose op lupiene
- Ontwikkeling van beter aangepaste lupien kultivars vir die Wes-Kaap
- Die meting van die reaksie van braaikuikens op dieët-lisien en metionien
- Bepaling van genetiese parameters van sommige algemene varkrasse in Suid-Afrika
- Effek van grond Rhizobia op die sukses van sojaboon-entstof ras WB74
- Konstruk vir die verwydering van die BAR geen na transformasie en isolasie van die promoter van Lupinus albus
- Die ekonomiese / finansiële interpretasie van gewaswisselboustelsels wat sojabone insluit
- Akkerboukundige evaluasie van canola onder besproeiing in die somerreënvalstreek
- Registrasie van Simazine op lupiene
- Onkruidbeheer in soetlupien geplant in nou rye
5.1
Die ontwikkeling en toepassing van genetiese merkers wat gekoppel is aan aalwurmweerstand in sojabone
CMS Mienie
Meer as een knopwortelaalwurmspesie is betrokke by die skade wat aangerig word aan sojaboonaanplantings, met die addisionele komplikasie van verskillende rasse van dieselfde spesie wat in Suid-Afrikaanse gronde voorkom. Veral twee spesies is oorheersend in Suid-Afrika op sojabone, naamlik Meloidogyne javanica en M. incognita ras 2. Tamulonis et al (1995) het drie RFLP merkers wat gekoppel is aan weerstand teen Mi ras 3 geïdentifiseer. Hierdie merkers sal waarskynlik nie in die Suid-Afrikaanse situasie van toepassing wees nie, aangesien ras 2 in Suid-Afrika oorheersend is.
Dit is gevolglik nodig om merkers vir die weerstand teen Mi ras 2 te ontwikkel om die seleksie van weerstand teen beide predominante knopwortelaalwurms plaaslik moontlik te maak, aangesien verskillende gene die uitdrukking van weerstand beheer. Die doelwitte van hierdie studie is drievoudig:
Die identifikasie van 'n molekulêre merker gekoppel aan weerstand teen M. incognita ras 2 in 'n segregerende populasie met die gebruik van AFLP, mikro-sateliet en RFLP analises.
Sifting van kiemplasma materiaal vir die teenwoordigheid van M.javanica en M. incognita ras 2 merker gene met molekulêre tegnieke.
Verifikasie van die potensiële weerstand teen M. incognita ras 2 in sojaboon cultivars in veldproewe.
Evaluasie van die aalwurm weerstand word in glashuis of mikroplot proewe uitgevoer. Die finale evaluasie van die weerstandbiedende cultivars word in veldproewe uitgevoer. Standaard wetenskaplike prosedures word gevolg. Kruisings is reeds gemaak en die F2 populasie word geëvalueer vir die identifikasie van genetiese merkers met mikrosatelliete en AFLP analise. Toepassing van die bestaande merkers sal met PCR analise gedoen word. Molekulêre merkers met koppeling aan weerstand teen Meloidogyne javanica is in 'n vorige studie ontwikkel, en getoets vir konsekwentheid oor generasies, asook teen materiaal uit die kiemplasma bank wat met tradisionele tegnieke gesif is vir weerstand. F3 en F4 nageslagtoetse het stabiele oorerwing van die merkers bevestig. 'n Korrelasie van 80% is tussen glashuis toetse en molekulêre merker sifting met 35 sojaboon cultivars verkry. 'n Uitgebreide seleksie van genotipes uit die kiemplasma bank sowel as cultivars wat tans op die variëteitslys verskyn, is gesif vir die teenwoordigheid van die bestaande merkers om potensiële teelmateriaal met weerstand teen M. javanica te identifiseer. Lyne wat positief vir die merkers toets, sal in die glashuis geverifieer word om die gebruik van die merkers in die verskillende genetiese agtergronde na te gaan. Die merkers is ook getoets vir die moontlike toepasbaarheid vir die toets van ander weer-standsgene wat in dieselfde groep op LG-F voorkom. Die merkers is toepasbaar vir ten minste drie ander siekteweerstandsgene in dieselfde gene groep op LG-F. Hoof gene vir die weerstand teen sojaboon mosaïek virus en Meloidogyne arenaria is naby geleë aan SOJA6 en SOJA7, asook 'n QTL vir ntixenose weerstand teen mieliekopwurm met 'n 20% bydrae tot weerstand soos gevind in 'n vatbare genotipe. Die ander weerstandsgene in dieselfde groep blyk minder belangrik te wees.
Nege-en-sestig sojaboon hibriede is as gasheer vir M. incognita ras 2 in die glashuis geëvalueer. Die hibriede S5995, Potties, PAN660 en TXS89/10/29 is as swak gashere geïdentifiseer en het RF-waardes van minder as een vertoon. Hierdie hibriede, asook Prima (vatbare kontrole), is in 'n mikroplot en veldproef ingesluit gedurende die 2000/2001 seisoen om die resultate te verifieer. S5995 het die laagste getalle van M. incognita ras 2 in beide proewe vertoon, gevolg deur PAN660, TXS89/10/29 en Potties, en het betekenisvol van die positiewe kontrole (Prima) verskil. Kruisings tussen die swak gasheer cultivars en die vatbare cultivars vir die ontwikkeling van 'n karteringspopulasie is onderweg.
Die invoer van oliekoek het reeds die R1b merk oorskry en plaaslike produksie van sojaboon as die ideale bron van proteïen word sterk aanbeveel. Die oppervlak onder sojaboonverbouing sal moet uitbrei na gebiede met 'n hoë risiko van aalwurminfestasie en ander sub-optimale kondisies soos ongebalanseerde grond vrugbaarheid, lae grond temperature, ens. Slegs enkele cultivars met 'n mate van weerstand teen aalwurms is tans beskikbaar vir verbouing in Suid-Afrika. Geen van hierdie cultivars is aangepas vir die omgewingstoestande van die groter deel van die tradisionele mieliedriehoek nie. Insluiting van 'n weerstandbiedende cultivar gekombineer met lae intensiteit chemiese beheer sal die enigste strategie wees om die knopwortelaalwurm getalle effektief te beheer.
5.2
Die ontwikkeling van sojaboonkultivars met beter aanpassing en saadkwaliteit
AJ de Lange
Die doel van hierdie projek is om segregerende materiaal te skep sodat die maksimum diversiteit, vir die gekose eienskap, in die kortste tyd moontlik behaal kan word. Die nuwe materiaal moet ook goeie agronomiese eienskappe besit. Daar is slegs 'n paar sojaboonteelprogramme in Suid-Afrika wat konsentreer op die aanpasbaarheid en kwaliteit van sojabone. Hierdie teelprogram gebruik die enkelsaadnageslag-seleksiemetode, wat die mees algemene seleksiemetode vir sojabone is. Daar is geen geneties gemodifiseerde organismes in hierdie program nie. Twee kontrole ryproewe, op twee lokaliteite, ses loodsproewe op vier lokaliteite en drie elite proewe op drie lokaliteite is gedurende die 2000/2001 seisoen aangeplant. Saadlotte van die cultivars Dundee, Glencoe, Jimmy en Nqutu is op Potchefstroom aangeplant. Die segregerende materiaal (186 F2 populasies en 264 F3 populasies) is op Potchefstroom vir generasievordering aangeplant. Drie opbrengsproewe met materiaal van Mnr Jimmy Chapman se program is aangeplant op Potchefstroom, Dundee en Cedara.
Die kontroleryproewe het ± 500 inskrywings en geen herhalings, met PAN 494 as die kontrolekultivar. Die elite proewe het 66 inskrywings en drie herhalings, en vyf van die inskrywings in elke herhaling is kontrole-cultivars. Twee loodsproewe, een met 27 teellyne en sewe kontrole cultivars en die ander met 54 teellyne en ses kontrolekultivars, is aangeplant. Die proeflokaliteite was Bethlehem, Potchefstroom, Brits, Memel, Dundee en Cedara. Die loodsproewe op Memel was nie suksesvol nie as gevolg van haelskade op drie verskillende datums en een geval van sneeu op 10 Januarie 2001. Die Jimmy Chapman-materiaal proewe by Potchefstroom is afgeskryf as gevolg van swak plantestand. Die opbrengs van die verskillende teellyne wat ingeskryf is in die opbrengsproewe het aangedui dat daar goeie potensiaal in die materiaal is. Een-en-veertig teellyne met goeie opbrengspotensiaal is getoets vir aalwurmweerstand. Die voorlopige resultate toon dat daar goeie weerstand in die teelmateriaal is. Een cultivar (Egret) is geregistreer met plantetelersregte in 2000 en een cultivar (Stork) is aangebied vir registrasie in 2001.
5.3
Versnelde generasievordering in sojaboonteling
CMS Mienie
Tradisionele plantteling behels die selfbestuiwing van sojaboonlyne vir ses tot sewe generasies om homosigositeit te verkry. Daar is 'n behoefte by planttelers vir 'n lae kostetegniek om die generasie-interval te verkort en sodoende nuwe cultivars vinniger en meer koste-effektief te produseer. Vanweë die fotoperiodiese sensitiwiteit van sojaboon kan die vegetatiewe siklus verkort word deur manipulering van die daglengte. Die reproduktiewe siklus verteenwoordig meer as 50% van die totale lewensiklus en kan verkort word indien die saadvul Pen rypwordingsperiode verkort kan word. Die doel van hierdie studie was die ontwikkeling van 'n koste-effektiewe prosedure om die generasie-interval te verkort, met die reproduktiewe fase as die hoof onderwerp. 'n Tweeledige benadering is gevolg waar die moontlikheid van die gebruik van in vitro kultuur ondersoek is, of alternatiewelik die oes van onryp saad. Basiese plantteling en weefselkultuur prosedures is gevolg. Peule is vir weefselkultuur geoes op verskillende tydsintervalle na blom en die embrios is geïsoleer en op kunsmatige medium gekweek. Hierdie resultate is vergelyk met saad van dieselfde ouderdom wat in die intakte peule gedroog en in 'n glashuis geplant is. Resultate dui daarop dat direkte plant van onvolwasse saad baie meer effektief as weefselkultuurtegnieke is. Saad wat so vroeg as 18 dae na blom geoes is, het tot 80% ontkieming na stadige droging vertoon.
Die tyd van oes, asook die drogingstyd, het met verskillende genotipes gevarieer en kon met volwassenheidsgroepering verbind word.
Waar die daglengte tot 10 ure verkort is, kon die generasie-siklus gehalveer word. Kort groeiseisoen genotipes het 80% ontkieming getoon wanneer dit ongeveer 20 dae na blom geoes is, gevolg deur vier dae droging in intakte peule. Langer groeiseisoen tipes het stadiger ontwikkel en is 28-30 dae na blom geoes, gevolg deur tien dae droging. Die kombinering van hierdie prosedure met 'n kort daglengte (10 ure), soos wat plaaslik in die winter ondervind word, het die generasie tyd verkort tot 63-70 dae en ongeveer vyf generasies kon in een jaar voltooi word. Geen verlies aan groeikrag is waargeneem oor vyf agtereenvolgende generasies nie. Saad wat hierna in die veld uitgeplant is, vertoon 'n normale groeipatroon. Die gebruik van versnelde generasievordering kan die tyd en koste van die ontwikkeling van nuwe cultivars met ongeveer die helfte verminder.
5.4
Sojaboonstrookdemonstrasies in verskillende produksiegebiede
GP de Beer
Sojabone (Glycine max L Merr) demonstreer gewoonlik 'n hoogs betekenisvolle interaksie met omgewing in terme van groei en ontwikkeling. Planthoogte en lengte van die groeiseisoen verleng met 'n toename in breedtegraad en groeitempo vertraag met 'n toename in hoogte bo seespieël. Verskille in groeigedrag sal toekomstige kultivarkeuse verder bemoeilik. Betekenisvolle verskille vir reaksie op fotoperiode, temperatuur, grondvrugbaarheid, stadium van vogstremming en ligstremming kan ook gedemonstreer word vir cultivars op die Suid-Afrikaanse varieteitslys. Vir suksesvolle en winsgewende produksie is dit dus noodsaaklik om cultivars te plant wat goed aangepas is by die omgewingstoestande en praktyk, en is karakterisering van cultivars dus nodig. Aanplantings is suksesvol uitgevoer te Bergville, Koedoeskop, Lichtenburg, Bethlehem, Bethal, Oranjeville en Bloemfontein. Waarnemings, insluitend planthoogte, peulhoogte, planttelling, omval, opbrengs, 100 sademassa en oesindeks, is gedoen. Elke perseel is verdeel en met entstof behandel. Die koëffisiënt van variasie vir die hoogste opbrengs aanplantings te Koedoeskop en Naboomspruit was 6% en 9% onderskeidelik, en bo 20% te Bloemfontein en Oranjeville. Gemiddelde saadopbrengs het gewissel van 0,9 t/ha te Bethlehem tot 4,0 t/ha te Naboomspruit. Rywydte het as hoofeffek betekenisvol getoets (P=0,05) by drie verskillende lokaliteite. By Koedoeskop (besproeiing) en Bloemfontein (gedeeltelike besproeiing) het die 45cm rywydte aanplantings betekenisvol beter presteer, en by Bethlehem (droëland) het die 90 cm rywydte beter presteer. Beperkte interaksie tussen cultivar en rywydte is gerapporteer die afgelope seisoen.
Slegs by Bethal het enkele cultivars betekenisvol beter presteer by 'n spesifieke rywydte.
5.5
Nasionale sojaboonkultivarproewe
GP de Beer
'n Totaal van 30 cultivars is nasionaal geëvalueer, asook 'n addisionele 13 cultivars in Fase 1 proewe by 10 lokaliteite. Aanplantings is gedoen by navorsingstasies waar die nodige infrastruktuur bestaan om 'n omvattende akkerboukundige studie te doen. Navorsingstasies het as navorsingsagente opgetree. Aanplantings is ook so geplaas waar 'n behoefte vir inligting bestaan en waar 'n minimum datastel geneem kon word. 'n Volledige fenologiese datastel is noodsaaklik met data soos dae tot opkoms, blomdatum, fisiologies- en oesryp, maksimum planthoogte en minimum peulhoogte, omval, oopspring en groenstam, relatiewe siekte- of plaagvatbaarheid, saadkarakterisering en opbrengs, fisiese en chemiese kwaliteit, en grond en weerdata. Alle data word benut en in 'n gerekenariseerde databasis opgeneem. Data van individuele lokaliteite is aan variasie-analise onderwerp en gekombineerde opbrengsdata is met behulp van die "Additive Main effects and Multiplicative Interaction" (AMMI) statistiese model ontleed. By die kultivarevaluasie-komiteevergadering wat gedurende September 2000 gehou is, is 8 inskrywings goedgekeur vir registrasie op die variëteitslys, naamlik Dundee, Nqutu, Jimmy, LS 599, LS 669, LS 677, NC 4005 en Prima 2000. Die 99/00 verslag van die Nasionale Sojaboonkultivarproewe is ook aanvaar vir publikasie. Die gemiddelde saadopbrengs vir al die lokaliteite getoets was 2 462 kg/ha (2 200 kg/ha vir 1999 en 2 448kg/ha vir 1998). Die beste opbrengste is te Greytown (3 833 kg/ha), Groblersdal (3 933 kg/ha) en Naboomspruit (3 747 kg/ha) behaal. Die AMMI IPCA 1-waarde, wat goed korreleer met die foto-periode reaksie, het aangetoon dat CRN 5550, SNK 300 en PAN 494 die kort groeiseisoen inskrywings, en Ibis, SCS1 en JF80 die lang groeiseisoen inskrywings is.
5.6
Supersoja opbrengskompetisie
APJ de Beer
In Suid-Afrika word nie voldoende sojabone geproduseer om aan die plaaslike vraag na proteïenmeel te voldoen nie. Groot hoeveelhede sojaboonoliekoek word vanaf die buiteland ingevoer. Suid-Afrika besit die potensiaal om meer sojabone as wat plaaslik benodig word te produseer. Hierdie verhoging in produksie moet vertikaal en horisontaal plaasvind.
Daar is 'n groot behoefte aan produsente-opleiding in produksietegnologie en die integrasie van sojabone in tipiese Suid-Afrikaanse produksiestelsels. Navorsers organiseer en neem deel aan boeredae, radiopraatjies en televisie-opnames, werkswinkels oor produksie tegnologie, skryf artikels vir produsentetydskrifte en is beskikbaar om deur die loop van die seisoen advies en inligting te gee. Met die hulp van streekskoördineerders word 'n opbrengskompetisie jaarliks in verskillende streke vir sojaboonboere aangebied. Produksiepraktyke en opbrengs word volgens aanvaarde wetenskaplike norme en kennis beoordeel. Verskeie aksies is aangebied om die sojaboonbedryf te ondersteun:
- 'n Uitstalling by NAMPO-Oesdag (Mei 2000)
- Sojakoningdag te Ermelo
- Sojaboonproduksiewerkswinkels (8)
- Werkswinkels met betrekking tot sojaboonroes
- Lesings en praatjies op versoek (12)
- Konsultasies (2)
- Lesing by UP (1)
- Inligtingburo by NAMPO-Oesdag
- Kantoor en telefoonkonsultasies (± 20 per maand)
- NAMPO-televisie (3)
- Kongresse / simposia (2)
- Spesialiskomitees (5)
- Studenteleiding (6)
Die Supersojategnologie-oordragprojek bied 'n basis vir die bediening van die sojaboonbedryf met betrekking tot huidige spesialiskennis van sojaboonproduksietegnologie. Dit bied ook die geleentheid vir direkte implementering van navorsingsresultate en verspreiding van spesialiskennis rakende sojaboonproduksie-tegnologie.
5.7
Super Sojakompetisie vir KwaZulu-Natal
C Havenga
Die Supersoja-kompetisie is 'n voorligtingsaksie om verbouing van sojabone in KwaZulu-Natal te bevorder.
Hierdie kompetisie in Noord KwaZulu-Natal (N-KZN), is nou in sy twaalfde jaar en belangstelling is nog steeds baie goed. Die aantal inskrywings was weereens goed maar moes weens personeel tekorte tot 43 beperk word. Nogtans is dit die tweede hoogste getal inskrywings sedert die ontstaan van hierdie kompetisie.
Die Supersoja-kompetisie in Suid KwaZulu-Natal (S-KZN), is nou in sy tweede jaar en inskrywings het vanaf 14 gedurende die eerste seisoen tot 24 hierdie seisoen toegeneem.
Opbrengsgemiddelde van deelnemers in N-KZN hierdie seisoen was 2,89t/ha teenoor verlede seisoen se 2,93 t/ha. In S-KZN was die gemiddelde opbrengs 2,88 t/ha, wat merkbaar laer as die vorige seisoen se 3,57 t/ha is. Die hoofoorsaak van hierdie opbrengsverlaging kan heelwaarskynlik toegeskryf word aan Sojaboonroes en haelskade wat die afgelope seisoen daar voorgekom het.
Proteïengehalte was weereens, vir KwaZulu-Natal, heeltemal bevredigend. Die gemiddelde proteïen persentasie in N-KZN was 40,1% en het tussen 36,8% en 43,9% (vogvry) gewissel. In S-KZN het die proteïengehalte tussen 41,0% en 46,0% gewissel met 'n gemiddelde ontleding van 43,2% op 'n vogvrye basis.
Dit wil dus voorkom of die probleem van lae proteïengehalte in sojabone van KwaZulu-Natal in die verlede, tot 'n groot mate opgelos is.
Die geleentheid wat hierdie kompetisie aan boere bied om onder mekaar kennis en ondervinding uit te ruil, dra beslis by tot die ooglopende verbetering in die verbouing van Sojabone in KwaZulu-Natal.
5.8
Die effek van verhoogde prolien sintese in sojabone, met spesiale verwysing na droogtestremming, met die vergelyking van sense en antisense tegnologie
JA de Ronde
Die toleransie meganisme van transgeniese sojaboon plante, cultivar Ibis, is geëvalueer. Dit het plaasgevind met die vergelyking van transgeniese Ibis (sense en antisense) met ongetransformeerde Ibis, deur verskeie metodes. Die volgende fisiologiese metodes is gebruik: relatiewe water inhoud, vry prolien akkumulasie, anti-oksidatiewe ensieme (Cu/Zn superoksied dismutase), glutathione reduktase en askorbaat peroksidase, sel membraan stabiliteit en koolhidraat metings. Fenotipiese evaluasies is ook gedoen.
Die sense plante (T2) se prolien vlakke het meer verhoog na 'n droogte skok as die ongetransformeerde plante s'n alhoewel daar geen verskille in die relatiewe water inhoud was nie. Resultate het ook gewys dat die anti-oksidatiewe ensieme nie veel geaffekteer is met die verhoogde kopie aantal van die prolien geen nie. Die koolhidraatkonsentrasie het verhoog in die sojabone na 'n droogte-stres.
Na die voor behandeling het die sense plante glukose en sukrose vlakke verhoog en die droogte stres die fruktose.
'n Pot stres van T3 plante het gewys dat 40% van die sense plante die droogte nie so erg gevind het nie en na 2 dae rehidrasie ten volle herstel het, 39% van die ander sense plante het ook beter herstel as die ongetransformeerde plante. Sade van hierdie plante is geoes en geplant vir evaluasies (T4). Daar is 'n positiewe korrelasie gevind tussen tempo van verlepping, herstel en hoër kopie aantal van die prolien geen tot by die vierde transgeniese generasie. Saad vermeerdering word nou gedoen vir veldproewe in 2002.
5.9
Die ontwikkeling van die produksietegnologie van soet witlupiene
JAM van der Mey
Lupiene is 'n groep hoë proteïen- en energiespesies wat in die koeler seisoene van suider Afrika aangeplant kan word. Soet cultivars van hierdie groep is ontwikkel vir gebruik in die Suid-Afrikaanse veevoernywerheid wat op hierdie stadium meer as R1 biljoen plantaardige proteïen invoer. Soetlupiene, op voorwaarde dat dit soet bly, kan as hoë proteïen- en energievoer in beide groot en kleinboerderye aangewend word. Hierdie projek bestaan tans uit die volgende drie groepe aktiwiteite:
Lupienpromosie oor 'n wye gebied, maar spesifiek in die Noordwes-provinsie. In hierdie provinsie is aanvanklik 175 ha soetlupiene aangeplant, maar dit het gedurende die 2001 seisoen gestyg tot 225 ha. Tot dusver het antraknose nog nie in hierdie provinsie voorgekom nie. Twee breëblaarkultivars, naamlik CED 6150 en Hantie, is aangeplant. Kleiner toetsaanplantings van Australiese smalblaarkultivars Wonga en Merrit is gedoen. Tydens die verslagperiode het drie uitgawes van LUPTEC in Afrikaans en Engels verskyn.
Die nasionale lupienkultivarproewe is nou in hul vierde seisoen (2001); 18 proewe is opgemaak waarvan 12 na die Wes-Kaap gestuur is. In 'n variansie-analise oor drie seisoene, met 42 lokaliteite, is die volgende parameters bereken genetiese koëffisiënt van variasie, intraklas-korrelasie en inskrywingsherhaalbaarheid. Aanvaarbare proewe uit hierdie data is gebruik en regressielyn-parameters vir oessekerheid vir elke cultivar is bepaal. Die volgende ses cultivars is die wydste aangepas: Ronell (1,84 t/ha); Vladimer (1,83 t/ha); CED 6150 (1,83 t/ha); Gail (1,78 t/ha); Kiev (1,75 t/ha); Astra (1,72 t/ha).
Die teellyn E16 het die beste vertoon in die 2000 seisoen. Proteïenontledings by vier somerreënvallokaliteite het gewys dat die volgende cultivars die hoogste proteïenopbrengs gelewer het: Ronell (1,14 t/ha); Vladimer (1,11 t/ha); Kiev (1,07 t/ha); CED 6150 (1,04 t/ha); Hantie (1,00 t/ha); E16 (1,00 t/ha). Vier van die cultivars was ook die wydste aangepas in die nasionale kultivarproewe.
Saadvermeerdering en vrystelling van cultivars: Ten einde die nasionale lupienkultivarproewe op te maak, is dit belangrik dat hoë standaarde ten opsigte van saad gehandhaaf word. Telersaad van 'n aantal van die LNR en oop cultivars moet geproduseer word om aan die saadmaatskappye te voorsien. Wanneer 'n nuwe cultivar vrygestel moet word, moet daar minstens 4 ton telersaad beskikbaar wees voordat maatskappye in die cultivar sal belangstel. Die toewyding van personeel betrokke by saadvermeerdering het meegebring dat die voorkoms van bitter sade verlaag is to 0%. LNR-basissaad is antraknose-vry aangesien hoë standaarde van isolasie en higiëne gehandhaaf word.
Op versoek van die PNS, wat aanvanklik die smalblaarkultivar (Merrit) ingevoer het, is hierdie cultivar deur die LNR-IGG aangebied vir registrasie nadat toestemming van die Wes-Australiese Departement van Landbou verkry is. Na twee jaar se toetsing, het die Direktoraat Genebronne van die Nasionale Departement van Landbou die Australiese smalblaarkultivar Merrit vrygestel vir produksie in Suid-Afrika in 2002. Bemarkingsregte is deur 'n saadmaatskappy uitgeneem vir die LNR-IGG-cultivar Ronell op grond van die cultivar se uitstekende opbrengs en aangesien daar reeds aansienlike vordering met telersaadproduksie gemaak is.
5.10
Teling vir antraknose weerstand in lupiene
JAM van der Mey
Antraknose (Colletotrichum gloeosporioides) is 'n vernietigende siekte wat in die vroeë 1990's in Europa, Australië en Suid-Afrika versprei het. Hierdie swamsiekte kan tot die totale vernietiging van die besmette plant lei. Aangesien soetlupiene ontwikkel word as 'n bron van proteïen- en energieryke voer vir die Suid-Afrikaanse veebedryf is dit belangrik om lupiene met weerstand teen antraknose te identifiseer en te ontwikkel. Aanvanklik is twee populasies (SAL 60 en SAL 160) met verhoogde bestandheid in die breëblaar-lupiengroep (Lupinus albus) geïdentifiseer.
Die Australiërs het hoë vlakke van weerstand in sommige soet smalblaarkultivars (L.angustifolius) en in Chile is goeie bestandheid in breëblaarlupiene gevind. Gedurende die 4de generasie seleksies (2000 seisoen) was dit moontlik om uit enkelplante rye met verhoogde weerstand te evalueer. Hierdie enkelrye, met vatbare kontrole, is op Potchefstroom (glashuis), Potchefstroom (lande), Caledon/Roodebloem (lande), Bethlehem (lande) en Ermelo (lande) geplant. In die Potchefstroom glashuis is kunsmatige inokulasie met 0,5 x 106 spore/ml toegepas. Caledon is ook kunsmatig besmet, maar natuurlike besmetting het ook voorgekom. By Ermelo, wat 'n geskiedenis van natuurlike infeksie het, het geen antraknose gedurende die 2000 seisoen voorgekom nie. Die Potchefstroom en Bethlehem landaanplantings, waar geen antraknose voorgekom het nie, is gebruik vir saadvermeerdering en om die agronomiese eienskappe van die lyne te evalueer. Gedurende die 2001 seisoen is 9m2 persele van die seleksies, met vatbare kontroles by al die lokaliteite geplant asook 'n tweede proef by Caledon. In die Potchefstroom glashuis is 'n proef met 12 inskrywings en 4 herhalings geplant, en naby Ermelo moet 'n kleiner proef nog aangeplant word. By Caledon is in die 2000 seisoen enkelplantseleksies gemaak vir nageslagevaluasie gedurende die 5de siklus van evaluasie van saailinge ouer plante. Dieselfde populasies, wat by Caledon goeie weerstand getoon het, is op Potchefstroom en Bethlehem geoes vir landaanplantings. Hierdie massaseleksies is gebruik vir die 5de generasie aanplantings in die 2001 seisoen. Ondertussen het antraknose weer in Roodebloem/Caledon voorgekom na natuurlike en kunsmatige besmetting, alhoewel die besmetting eers na die begin van die blomstadium posgevat het. Verskeie waarnemings is hier van toepassing:
- In teenstelling met 'n nabygeleë proef vir chemiese beheer van antraknose in 'n vatbare cultivar, waar antraknose spontaan voorgekom het, moes die proef met weerstandbiedende lyne kunsmatig besmet word.
- Die vatbare kantrye van die antraknoseproef het slegs 30-50% stand gehad, terwyl die lyne, geselekteer vir antraknose weerstand, 'n goeie stand en beter plantontwikkeling vertoon het. Hierdie waarneming toon die belangrikheid van skoon, antraknose-vrye saad, soos wat in die proef gebruik is. Die resultate van proewe gedurende die 4de en 5de generasies (2000 en 2001) het aangetoon dat die volgende populasies die beste weerstand getoon het: Wonga (Australië, smalblaar), Typtop-B (Chile), SAL 60/55, SAL 60/88, SAL 160/2 en SAL 160/3 (LNR-IGG, breëblaar). In veldevaluasies het Wonga die hoogste weerstand getoon met lesings van gemiddeld 1,terwyl ander lesings 'n gemiddeld van 4 op die 1-9 skaal getoon.
In terme van saailinginfeksies, het SAL 60/55 in die enkelplantnageslag 27% weerstandbiedende plante gehad met lesings <2, alhoewel die populasies tweemaal geïnokuleer is. Die nageslagte van SAL 60/67 (20%), SAL 160/3 (16%) en SAL 160/2 (7%) het in die 5de generasie-evaluasie getoon dat, hoewel vooruitgang plaasgevind het, verdere seleksie sal verseker dat beter homosigose vir weerstand (ongetwyfeld poligenies) verkry word. 'n Bykomende infeksie, van die saailing getoetste groep tydens die blomstadium het ongeveer dieselfde siektelesings gehad by Roodebloem wat aantoon dat die plante meer gevoelig is vir antraknose tydens peulvorming. In 'n proef met herhalings in die glashuis is bevind dat, behalwe vir genotipe en stadium van plant-ontwikkeling, die mikro-klimaat ook 'n belangrike faktor is in siekteontwik-keling. Afhangend van skaduwee (van omliggende geboue) oor herhalings, het siektelesings van Typtop-B gevarieer van 1,3-3,9, in SAL 60/55 tussen 2,1-6,5 en die vatbare cultivar CED6150 het tellings tussen 6,1-7,4 gegee. 'n Holistiese benadering met betrekking tot die beheer van antrak-nose is noodsaaklik: verhoogde weerstand, skoon saad gekombineer met saadbehandelings, optimale plantdatum gekombineer met cultivars vir 'n spesifieke tydgleuf en lokaliteit en indien nodig, chemiese beheer gedurende die kritiese plantontwikkelingstadia. Alhoewel die vrystelling van weerstandbiedende cultivars ons eerste prioriteit is, moet dit gekombineer word met die ontwikkeling van 'n stelsel van verbeterde agronomiese praktyke.
5.11
Optimale plantmetodes vir olie- en proteïensaadgewasse vir die Wes- en Suid-Kaap
GA Agenbag
Die vestiging van canola en lupiene wat in wisselbou met kleingrane verbou word is 'n belangrike faktor wat die sukses van hierdie gewasse in die Wes-Kaap produksie-gebiede kortwiek. Aangesien bogenoemde gewasse deel uitmaak van produksiestelsels is dit belangrik dat 'n plantmetode gevind word wat met sukses in alle gewasse gebruik kan word. In 'n projek wat die afgelope drie seisoene op twee lokaliteite in die Wes-Kaap uitgevoer is, is vier plantmetodes vergelyk vir die vestiging van koring, lupiene en canola. Hoewel resultate oor seisoene en lokaliteite gewissel het as gevolg van klimaatsvariasie het die gebruik van 'n drukwiel planter oor die algemeen beter plantestande tot gevolg gehad as plantmetodes waar die saad uitgestrooi en daarna geëg, gerol of met 'n tandimplement toegekrap is.
Hoewel onkruidprobleme veroorsaak het dat opbrengste met lupiene en canola in die meeste gevalle teleurstellend was, het die beter plantestand wat met die planter verkry is, in die algemeen tot hoër opbrengste aanleiding gegee. In hierdie projek is 'n stelsel van minimum bewerking met 'n vlak tandbewerking deurgaans gebruik om die saadbed voor te berei. Hoewel meer intensiewe metodes van saadbedvoorbereiding waarskynlik breedwerpige plantmetodes sou bevoordeel, word stelsels van minimum bewerking weens biologiese en ekonomiese redes aanbeveel. Onder sodanige toestande word die gebruik van planters op grond van hierdie resultate dus aanbeveel.
5.12
Ekonomiese kortrotasie wisselbougewasse vir koring
PJ Pieterse
Gedurende 2001 is die studie ten opsigte van die effek van verskillende rotasiegewasse op die stikstofdinamika in die grond en die groei van koring in die daaropvolgende jaar voortgesit. Wat die stiksstofdinamika betref, was die variasie in die data weereens van so 'n aard dat min statisties betekenisvolle verskille waargeneem kon word. Soos in die vorige twee jare, het die persele wat die vorige jaar met lupiene beplant was, vir ongeveer 5 weke na die plantdatum 'n heelwat (ongeveer 40mg/kg) hoër nitraatinhoud in die bogrond gehad as die ander persele. Die verskil was op 5 weke statisties betekenisvol by die 5% peil. Twee weke later, na swaar reën, was daar egter geen verskil tussen die nitraatvlakke van die verskillende persele nie. In alle gevalle het die nitraatvlakke in die grond met ongeveer 80 tot 90% gedaal na onder 20mg/kg. Wat die groei van die koringplante betref, was daar aanvanklik ook groter plante in die lupienpersele, maar weereens was dit nie moontlik om statisties betekenisvolle verskille te bemerk nie. Dieselfde neiging geld vir die oesopbrengs. Wat kwaliteit betref, was daar nie noemenswaardige verskille tussen die behandelings nie.
5.13
Die omvang en rol van canola en lupien grondgedraagde siektes op opbrengs: 'n voorloper vir die ontwikkeling van 'n effektiewe en volhoubare beheerstrategie
SC Lamprecht
Saailingafsterf is 'n groot beperking op beide die volhoubaarheid en uitbreiding van canola- en lupienproduksie in die winterreënvalstreek van Suid-Afrika. Hierdie siekte speel 'n rol in swak saailingvestiging en siektevoorkoms mag so hoog soos 80-100% wees met oesverliese wêreldwyd van meer as 20%. Daar is egter min of geen inligting in verband met hierdie siektes in Suid-Afrika beskikbaar.
Gedurende 1999 is die voorkoms en omvang van grondgedraagde siektes in die hoof produksiegebiede van die winterreënvalstreek van Suid-Afrika bepaal. Resultate van hierdie opname het getoon dat saailingafsterf as die tweede belangrikste siekte van canola en die belangrikste grondgedraagde siekte van lupiene beskou kan word, met besmettingsvlakke van tot 43%. In sulke gevalle is groot oop kolle in geaffekteerde lande waargeneem. Verskeie swamme wat patogenies op ander gewasse is, is met saailingafsterf geassosieer, naamlik Fusarium avenaceum, Pythium spp., Phytophthora megasperma en Rhizoctonia spp. In 2000 is die patogenisiteit van swamisolate wat uit plante met saailingafsterfsimptome geïsoleer is, in potproewe bepaal. 'n Sand-semel inokulum van elke isolaat is voorberei, en 'n gepasteuriseerde bogrond, sand en perliet mengsel (1:1:1) teen 0,5% m/m geïnokuleer. In die kontroles is sand-semel mengsel nie geïnokuleer nie. Twee canola cultivars (Dunkeld en Monty) en twee lupien cultivars (Esta en Wonga), met drie herhalings van elk, is in die geïnokuleerde en ongeïnokuleerde grondmengsels geplant en in 'n beheerde omgewing geïnkubeer. Persentasie oorlewing is twee weke na plant bepaal. Van die Pythium spp. wat getoets is, was Pythium F-groep, P.colloratum en P.dissotocum hoogs aggressief op canola. Pythium HS-groep, P.irregulare, P.mamillatum, en P.tracheiphilum het saailingafsterf van canola- en lupien-saailinge veroorsaak, terwyl P.nunn slegs afsterf van canolasaailinge veroorsaak het. Pythium ultimum var. sporangiiferum en P.ultimum var. ultimum het saailingafsterf van cultivars Dunkeld, Monty en Esta veroorsaak, maar min of geen afsterf van cultivar Wonga. Pythium T-groep, P.aristosporum, P.acanthicum, P.connatum, P.erinaceus en P.vanterpoolii was nie patogenies op canola- en lupiensaailinge nie. Fusarium avenaceum was patogenies op canola cultivar Dunkeld en beide lupien cultivars; simptome het gewissel van saailingafsterf tot hipokotielvrot. Phytophthora megasperma was hoogs aggressief op lupiene, maar nie op canola nie. Van die 24 Rhizoctonia isolate wat getoets is, het slegs ses saailingafsterf van beide gewasse veroorsaak. Hierdie resultate dui daarop dat saailingafsterf deur 'n kompleks van swamme veroorsaak word. Aangesien daar geen beheerstrategie vir saailingafsterf besikbaar is nie, is 'n saadbehandeling in 2001 ondersoek. 'n Kombinasie van saadbehandelingsmiddels bestaande uit metalaksiel, thiram en iprodioon is onder beheerde toestande in grond kunsmatig besmet met swamme wat saailingafsterf veroorsaak, en in vyf natuurlik besmette gronde getoets. Hierdie kombinasie van middels het die persentasie oorlewing van beide canola (cultivars Dunkeld en Monty) en lupien (cultivars Esta en Wonga) betekenisvol verhoog in grond wat kunsmatig besmet is. Met die uitsondering van een natuurlik-besmette grond het die saadbehandeling die persentasie oorlewing van canola- en lupiensaailinge betekenisvol verhoog.
Alhoewel hierdie saadbehandeling effektief is onder beheerde toestande, moet dit ook in die veld onder verskillende klimaatstoestande, verteenwoordigend van die hoof produksiegebiede, getoets word. Evaluasie onder veldtoestande is ook noodsaaklik vir die registrasie van die swamdoders as saadbehandeling vir die beheer van saailingafsterf van canola en lupien.
5.14
Enting van lupiene in Suid-Afrika
IJ Law
Wydverspreide verbouing van lupiene het gelei tot die vestiging van gebied van Suid-Afrika. Veldproewe is by vyf lokaliteite in die area uitgevoer om te bepaal of enting met ras VK10 (kommersiële entstofras), voordelig was vir opbrengste van Lupinus angustifolius. Rhizobia populasies het varieer van 380 selle.g-1 in 'n gematigde alkaliese grond (pH 7,6) tot meer as 5000 selle.g-1 in vier gematigde suur gronde (pH 5,5 - 5,8). Isolate uit die grond was oor die algemeen dieselfde as die entstofras VK10 in stikstofbindings-effektiwiteit, maar die gemiddelde effektiwiteit van isolate tussen die gronde, het betekenisvol verskil.
In suur gronde met 'n hoë rhizobia populasie, kon enting nie besetting van knoppies deur ras VK10 verhoog nie, alhoewel knoppie-besetting tot 98% verhoog het in die alkaliese grond met 'n lae gevestigde populasie. Laasgenoemde lokaliteit is ongelukkig nie aan die einde van die seisoen geoes nie, as gevolg van plantsiektes. By die ander lokaliteite het die opbrengs (droë saadmassa) en analise van proteïen-inhoud nie betekenisvol verhoog met enting, toediening van stikstofbemesting (45 kg N.ha-1) of na behandeling met molibdeen nie. Genoom-DNA analise het getoon dat isolate uit die vier gronde geneties divers was, maar in kontras het isolate uit alkaliese grond 'n homogene groepering gevorm.
Resultate dui aan dat enting onwaarskynlik tot voordeel van lupien-verbouing dien in suur gronde wat hoogs-kompeterende en effektiewe rhizobia populasies bevat. Die bevinding dat die entstofras VK10 hoogs suksesvol is teen rhizobia populasies in alkaliese gronde, dui aan dat enting van lupiene voordelig mag wees onder hierdie grondtoestande in die winterreënval gebied. Hierdie aspek benodig verdere ondersoek.
5.15
Genetiese manipulering van lupiene (Lupinus sp) vir weerstandbiedendheid teen antraknose
TG Watson
Hierdie studie is 'n gesamentlike projek tussen WNNR Bio/Chemtek en LNR-Roodeplaat. Die doel van hierdie projek is om lupiene geneties te manipuleer vir weerstandbiedendheid teen antraknose wat deur 'n spesifieke Colletotrichum sp. veroorsaak word. Vorige werk het gekonsentreer op die verbetering van transformasie en identifikasie van die swam, asook die verhoging in doeltreffendheid van die teen-swam proteïen, appel PGIP en die peroxidase geen, vir die inhibering van Colletotrichum sp. groei.
Soos met meeste ander peulgewasse is dit baie moeilik om Lupinus sp. te regenereer en transformeer. In 'n poging om die probleme met weefselkultuur sisteme op te los het ons eksperimente gedoen om Agrobacterium - lupiene transformasie te optimaliseer met die gebruik van vakuum filtrasie. Tydelike transformasie frekwensies het aangetoon dat die lengte van die tyd benodig vir saad ontkieming, verwydering van die saadom-hulsel, en die insluiting van 'n sonikeer stap transformasie verbeter het. Hierdie parameters is in ag geneem vir die gesamentlike transformasie van L.albus cv Esta en L.angustifolius cv Helderberg sade met Agrobacterium rasse AGL1 (pCambia 3301-virg) en AGL1 (pCambia 0390-PGIP) wat die bar- en PGIP gene onderskeidelik in hulle T-DNA areas bevat. In totaal is meer as 3000 sade aan die A.tumefaciens rasse blootgestel. Behandelde sade is in houers in 'n misbed ontkiem om hulle lewensvatbaarheid na transformasie te verhoog voor oorplasing na houers in die glashuis. Sade is versamel na blom en saadvorming en weer ontkiem op 'n medium wat ammonium glufosinaat bevat om te toets vir die teenwoordigheid van die bar transgeen. Potensiële transgeniese plante is na die glashuis verskuif vir saadvorming. Teenwoordigheid van die PGIP geen sal deur PKR en DNA hibridisasie (Southern blots) studies bevestig word.
Die peroxidase geen (Shpx6a) is uit Stylosanthes humilis cv. Patterson geïsoleer. S.humilis plante is met metiel jasmonaat besproei om uitdrukking van die peroxidase geen te induseer. RNA ekstraksies is 24 en 28 uur na behandeling gedoen. "Reverse transcriptase PCR" met peroxidase spesifieke oligonukleotiede is gebruik om die peroxidase geen te isoleer. Die geen is gekloon en die nukleotied volgorde is bepaal. Die peroxidase geen is in die pCAMBIA 0390: appel PGIP plasmied gekloon vir transformasie in A.tumefaciens wat dan later na lupiene oorgedra kan word. 'n Kombinasie van die appel PGIP en peroxidase gene, wat albei verskillende anti-swam werking toon, sal aangepas word om lang-termyn weerstand-biedendheid teen Colletotrichum te verkry.
5.16
Kultivarevaluasie van olie- en proteëenryke sade in die winterreënvalstreek (lupiene)
DJ Hanekom
Die afgelope seisoen (2001) is gekenmerk deur ernstige droogte in die Rûens en Suid-Kaap wat produksie van lupiene negatief beïnvloed het. Die Swartland het egter 'n baie goeie reënseisoen beleef, maar die baie nat toestande, met gepaardgaande wortelsiektes en antraknose, het sy tol geëis, veral by die baie gevoelige breëblaar (Lupinus albus) cultivars. Hoewel antraknose ook by smalblaar (L.angustifolius) cultivars voorgekom het, was oesverliese nie so ernstig nie. Volgens beraming is ongeveer 14000 ha soetlupiene in die Wes- en Suid-Kaap gesaai.
Die Hoofdirektoraat Landbou, Wes-Kaap, het gedurende die 2001 seisoen 'n reeks kultivarproewe in die Suid- en Wes-Kaap streke uitgevoer. Ses lokaliteite wat strek van George tot Caledon is in die Suid-Kaap streek uitgevoer terwyl daar ook ses lokaliteite in die Wes-Kaap van Philadelphia tot Eendekuil aangeplant is. Verskeie redes, waaronder droogte, wortel en loofsiektes asook sulfonielureum oordrag in gronde het daartoe gelei dat van die proewe nie voltooi is nie.
Opbrengste by die Caledon proef toon dat veral die breëblaarlupiene (L.albus) goed gevaar het en dat opbrengssyfers van tot 2,59 t/ha (Kiev) behaal is. Van die smalblaar-lupiene (L.agustifolius) het veral Bolivia (1,98t/ha) en Merrit (1,8 t/ha), Jindalee (1,75 t/ha), Boltensia (1,74 t/ha) en Wonga (1,71 t/ha) goeie opbrengste gelewer. 'n Proef-gemiddelde van 1,58 t/ha is behaal.
Lae reënval het die opbrengs by Tygerhoek benadeel. Nieteenstaande het die cultivar Bolivia 'n relatief goeie opbrengs van 1,62 t/ha gelewer. Die cultivars Ronell, Kiev, KS-3 en Vladimer het opbrengste bokant 1,35 t/ha gehad wat heelwat beter as Cedara (0,82 t/ha) was. Die smalblaar cultivars Boltensia (1,27 t/ha) en Jindalee (1,05 t/ha) het opbrengste bokant die proefgemiddelde (0,94) gelewer. Opbrengste van die geellupien cultivars was baie laag.
By die Napier proef is 'n gemiddelde opbrengs van 1,07 t/ha behaal. Opbrengste van die smalblaar cultivars was oorwegend beter as die breëblaar tipes en het gewissel van 1,78 t/ha (Boltensia) tot 1,11 t/ha (Sonet). Die laer opbrengste van die breëblaar cultivars word hoofsaaklik toegeskryf aan wortelsiektes. Swak opbrengste is deur die geellupien cultivars behaal.
'n Proefgemiddelde van 1,33 t/ha is by die George proef behaal. Goeie opbrengste is veral deur die cultivar CED6150 (2,1 t/ha) behaal, maar ook deur die cultivars Astra, Sonet, KS-3, Vladimer, Ronell en Kiev, wat opbrengste van 1,52 tot 1,95 t/ha behaal het. Die smalblaar cultivars het oorwegend swakker gedoen, waarskynlik as gevolg van 'n hoë witroes siektedruk. Die geellupien cultivar Juno het 'n goeie opbrengs van 1,15t/ha behaal.
Opbrengste van die meeste cultivars by die Langgewens lokaliteit is erg benadeel deur swaar besmetting van antraknose. Slegs die smalblaar cultivar Tanjil (1,16 t/ha) het 'n opbrengs gelewer wat ooreenstem met verwagting van die relatief goeie seisoen van 2001. Die vatbaarheid van die breëblaar en geellupien cultivars vir antraknose het meegebring dat opbrengste in die orde van slegs 300kg/ha tot so laag as 20 kg/ha gerealiseer is. By die tweede saaityd is die plante op 'n veel jonger stadium aan antraknose blootgestel en was die omvang van die siekte van so 'n aard dat van die persele totaal uitgewis is.
By die Hopefield lokaliteit het die cultivar Bolivia (2,46 t/ha) die beste gevaar gevolg deur Tanjil, Wonga, Boltensia en Merrit wat almal meer as 2 t/ha gelewer het. Die perseel waar die proef uitgevoer is, is op 'n plaas waar lupien in 'n kort rotasie met koring verbou word. Hierdie kort rotasie het egter veroorsaak dat die siektedruk van wortelsiektes redelik hoog was. Veral die breëblaar cultivars is redelik straf deur die wortelsiektes benadeel wat swak opbrengste tot gevolg gehad het.
Opbrengste by die Eendekuil proef is benadeel deur swak grondvogtoestande wat vir 'n wesentlike tydperk aan die begin van die seisoen geheers het en wat weerspïeel word in 'n proefgemiddelde van 0,79 t/ha. Die smalblaar cultivars Tanjil (1,44 t/ha), Bolivia (1,12 t/ha) Merrit (1,06 t/ha) en Jindalee (1,03 t/ha) het beter gevaar met opbrengste bokant 1 t/ha.
5.17
'n Ondersoek na die produksiedinamika van agt wisselboustelsels, insluitende koring, canola, lupiene en weidingspesies in die Swartland, Wes-Kaap
MB Hardy
Die effek van wisselbou op die langtermyn-winsgewendheid van produksiestelsels in die Middel-Swartland is geëvalueer.
Die doel was om inligting te voorsien ten opsigte van die potensiële ekonomiese implikasies van die implementering van wisselboustelsels wat canola (C), lupiene (L), medicweiding (M), 'n gemengde medic / klawerweiding (Mc) en soutbos (S) op 'n tipiese plaas in die omgewing insluit. Ekonomiese- en produksiedata is verkry van 'n langtermyn wisselbouproef wat in 1996 gevestig is op Langgewensproefplaas, van plaaslike produsente-organisasies en leierboere. Die wisselboustelsels wat geëvalueer is, elk in 'n vierjaarsiklus, was: WWWW; WWWC; WCWL; WWLC; MWMW; McWMcW; MWMC en McWMcW+S. Gedetailleerde ekonomiese- en produksiedata vir die periode 1996 tot 1999 is verkry van die Langgewensproef. Hierdie data is gebruik om 'n tipiese plaasmodel te ontwikkel. Die Delphitegniek is gebruik om inligting van spesialiste te verkry om die model te verfyn asook die omvang van die opbrengsverwagting vir die spesifieke produksieomgewing. Reënval en reënvalverspreiding is geïdentifiseer as die mees belangrike omgewingsfaktore wat gewasopbrengs beïnvloed. Goeie, gemiddelde en swak reënvaljare is gedefinieer in terme van gewasproduksiepotensiaal. Reënvaldata van die afgelope 20 jaar (1980-1999) is geanaliseer. Ooreenkomstig met die definisies, was daar nege gemiddelde, ses swak en vyf goeie produksiejare. Gewasopbrengs in elke wisselboustelsel wat bestudeer is, is gebaseer op opbrengsverwagtinge soos beraam met die Delphitegniek (insluitende posisie in die wisselbou) en die reënvalpatroon.
Die "tipiese" plaas is gedefinieer en die vaste (of langtermyn) en intermediêre (of mediumtermyn) kapitaalbelegging, en die oorhoofse onkoste benodig vir die "tipiese" plaas is bepaal soos beïnvloed deur die wisselboustelsel wat toegepas sal word op die plaas. 'n Ekonomiese model is vir elke wisselboustelsel getoets vir die 20-jaar tydperk, met inagneming van die invloed van reënval op opbrengs. Jaarlikse kontantvloei is bereken en die resultate is gebruik om die interne opbrengskoers van kapitaal (IOK) te bereken vir elke wisselboustelsel. 'n Sensitiwiteitsanalise is uitgevoer op die jaarlikse kontantvloeidata om die uitwerking van die skuldlas op die plaas se verwagte kontantvloei te beraam soos weerspieël deur die gelykbreekjaar. Verdere sensitiwiteitsanalise het die uitwerking van wisselende koringpryse en die verhouding van goeie, gemiddeld en swak produksieseisoene oor 'n twintigjaar periode geëvalueer.
Resultate
Die resultate toon baie duidelik dat die insluiting van canola en lupiene in wisselbou met koring (die WCWL stelsel), na verwagting meer winsgewend (met 'n hoër IOK) en 'n meer volhoubare praktyd (verbeterde kontantvloei) sal wees in vergelyking met koringproduksie in 'n koringmonokultuurstelsel.
Die WCWL-stelsel was ook geneig om meer winsgewend te wees as die ander stelsels wat getoets is. Wisselboustelsels wat koring en medic of medic/klawerweidings insluit, nader die winsgewendheid van die WCWL-stelsel. Bowendien verminder wisselbou die wisseling in plaasinkomste wat dikwels voorkom a.g.v. die wisselende koringpryse (bv. die koringprys het met meer as 50% gewissel oor die Periode 1996 tot 1999, terwyl lupiene, canola en skaapvleispryse relatief stabiel gebly het). Dit is belangrik om aan te dui dat die skuldlas wat deur die plaas gedra word, 'n kritieke uitwerking op die finansiële volhoubaarheid van die produksiestelsel het. Vir 'n gegewe skuldlas sal die WCWL stelsel en die wisselboustelsels wat koring en medic of medic / klawerweidings insluit (WMWM & WMcWMc), die beste langtermyn finansiële volhoubaarheid toon.
Verhoging of verlaging van die koringprys (20% na enige kant) het min uitwerking getoon op die verwagte relatiewe winsgewendheid van die stelsels. Die IOK van die WCWL en die WMWM of WMcWMc-stelsels was deurgaans hoër as vir die WWWW-stelsel. 'n Soort-gelyke resultaat is verkry toe die uitwerking van verskillende verhoudings in die voorkoms van onderskeidelik goeie, gemiddelde en swak reënvaljare beraam is. Die WCWL, WMWM en WMcWMc-stelsels toon relatief meer potensiaal om swakker reënvalpatrone te absorbeer in vergelyking met die WWWW (koringmonokultuur). Dit was slegs in die hoogs onwaarskynlike geval van nege (9) goeie jare en twee (2) swak jare in 'n twintigjaarsiklus dat die IOK vir 'n koringmonokultuur beter was as die vir die ander wisselboustelsels wat getoets is.
Wisselbou wat canola en lupiene insluit, is nie net meer winsgewend as koringmonokultuur nie, maar dit behoort ook 'n meer stabiele inkomste met minder risiko vir die boer te voorsien. Versigtigheid moet egter aan die dag gelê word wanneer daar van 'n stelsel van monokultuur na 'n wisselboustelsel oorgeskakel word, aangesien groter vaardigheid en meer bestuursinsette vereis word vir die suksesvolle produksie van die alternatiewe gewasse. Verder sal die grond en omgewing van die spesifieke plaas die gewas bepaal wat in die wisselboustelsel ingesluit sal kan word, asook die bestuur- en finansiële insette benodig vir die suksesvolle produksie van die gewas.
Aanbevelings
Hierdie resultate het waardevolle insig gegee in die ekonomiese implikasies van die gebruik van wisselbou (insluitende canola en lupiene of eenjarige peulgewasweidings) in vergelyking met koringmonokultuur in die Swartland-streek van die Wes-Kaap.
Die langtermyn navorsingsprogram met realistiese velddata as die basis vir die verfyning van ekonomiese ontledings, moet voortgaan. Met verloop van tyd het wisselboustelsels verskillende biologiese en fisiese uitwerkings op die grond, veral gekoppel aan die volgorde van gewastipes / spesies wat in 'n stelsel gebruik word asook die agronomiese praktyke wat vir elke gewas toegepas word. Hierdie uitwerkings beïnvloed die insetvereistes vir optimale gewasproduksie en dus ook die ekonomiese volhoubaarheid van elke produksiestelsel. Dit is dus belangrik om voortdurend die uitwerkings van die verskillende wisselboustelsels in terme van die ekonomiese aspekte te opdateer en te analiseer. Befondsing moet van so 'n aard wees dat dit deurlopende ekonomiese analises sal toelaat.
Voorlegging van resultate
Verdere besonderhede van die doelwitte, studietegnieke, ingesamelde data en bespreking van die resultate van hierdie ekonomiese studie is beskikbaar in die M.Sc-Agric (Landbou-Ekonomie) tesis van Mnr Willem Hoffmann, soos voorgelê aan die Universiteit van Stellenbosch. 'n Artikel is voorgelê vir publikasie in Agrekon (Tydskrif van die Landbou-ekonomiese Vereniging van Suid-Afrika). Die resultate van die studie is ook by boeredae (3), studiegroepvergaderings (2) en die streekskongresse van die GSA (2) voorgelê, terwyl dit ook gepubliseer is in die handelinge van die jaarlikse SKOG-boeredag.
Agrobacterium tumefaciens ras AGL1 met plasmiede pCambia 3301 en pCambia 0390 is gegroei in 100 ml vloeibare medium. Acetosyringone (0,01%) is by die kulture bygevoeg na 1 dag se groei. Die bakterieë is ge-oes deur sentrifugering en geresuspendeer in fosfaat buffer. Die 2 kulture is in 'n 1:1 verhouding gemeng en die benattingsmiddel is bygevoeg. Terselfdertyd is Lupinus albus (Esta) se sade oppervlakkig gesteriliseer en toegelaat om te ontkiem by 29°C. Vir die vakuum transformasieproses is die gedeeltelike ontkiemde sade en die kulture bymekaar gevoeg in 'n fles en gevakuum. Daarna is die Agrobacterium kultuur afgegooi en sade is gewas in fosfaat buffer voordat dit in die glashuis geplant is. Die plante is gegroei tot saad setting en ongeveer 5000 sade is geoes. Na saaddroging is die sade gegroei op seleksie media wat die onkruiddoder IgniteR bevat het, vir 'n pre-seleksie van transformante. Na die weefselkultuur stap is die saailinge uitgeplant in die glashuis.
Al die sade het nie ontkiem nie, as gevolg van 'n laer ontkiemingstempo na die transformasie proses en a.g.v. fungi infeksie. Die infeksie is opgelos deur 'n was stap met Benlite. Al die saailinge (500) het ook nie die uitplantingsproses oorleef nie as gevolg van verskeie redes. Sommige saailingwortels is beskadig deur die Ignite in die medium en sommiges se wortels het seergekry na 'n hipochloride sterlisasie proses. Ongeveer 950 plantjies is tans in die glashuis en sal eersdaags gespuit word met Ignite, waarna die oorlewendes getoets sal word vir die teenwoordigheid van die PGIP geen.
5.18
Epidemiologie en beheer van swartstam van canola in die winterreënvalstreek van Suid-Afrika
EE Auret
Alhoewel canola wêreldwyd beskou word as 'n ou gewas, is dit eers in 1995 in Suid-Afrika aangeplant deur boere as 'n alternatiewe gewas om hulle afhanklikheid van grane te verminder. In 2001 is 26 000 ha canola in die winterreënvalstreek aangeplant, terwyl die bedryf in die somerreënvalstreek met aanplantings van 2000 ha gevestig is. Beperkings wat die uitbreiding van die canolabedryf belemmer sluit in groot verliese as gevolg van verspilling tydens oes, siektes en onkruide. 'n Opname wat in 1999 in die winterreënvalstreek gedoen is, het getoon dat swartstam (veroorsaak deur Leptosphaeria maculans) die belangrikste siekte van canola is, met besmettings van tot 100%. Om 'n toename in die produksie van canola te verseker moet nuwe cultivars / lyne geëvalueer word vir weerstand / toleransie teen plaaslike rasse van swartstam. Swartstamsiektetuine is daarom op die proefplase Langgewens (Moorreesburg), Outeniqua (George) en Tygerhoek (Riviersonderend) gevestig. Drie herhalings van 22 en 29 cultivars / lyne is by elke lokaliteit in onderskeidelik 2000 en 2001, aangeplant. Na aanplanting is stoppel met swartstam besmet oor die proef versprei. Die voorkoms van swartstam is op verskeie plantgroeistadiums aangeteken, naamlik die saailing (saadlobinfeksie), vegetatiewe stadiums (blaar- en krooninfeksie), blomstadiums (kroon- en staminfeksie) en peulstadiums (kroon- en peulinfeksie). Saadlob- en krooninfeksie word as die belangrikste stadiums van hierdie siekte beskou en veroorsaak onderskeidelik die hoogste saailing en volwasse plantafsterwing. As gevolg van onvoldoende reënval in 2000 op die Langgewens en Outeniqua proefplase was saailingvestiging swak en lae spoorvrystelling vanaf besmette stoppel het voorgekom. Gevolglik is besluit om die siektetuine die volgende seisoen te besproei. Alhoewel die saailingvestiging in 2001 uitstekend was by die Langgewens proefplaas, is die proefpersele per ongeluk gespuit met Muster (gekontamineer met 'n ander chemiese middel) om onkruide te beheer, en 100% saailingafsterf het voorgekom.
'n Opvolg aanplanting op hierdie proefperseel het 'n swak saailingstand gehad. Pogings om 'n siektetuin op Outeniqua proefplaas te vestig het weereens misluk, wat gelei het tot die gevolgtrekking dat die swak saailingvestiging waarskynlik deur 'n onkruiddoderresidu veroorsaak is. Alhoewel voldoende reën in 2000 op Tygerhoek proefplaas voorgekom het om uitstekende saailingvestiging te verseker, het hierdie situasie later in die seisoen verander. Min reën het gelei tot 'n lae voorkoms van swartstaminfeksie van plantkrone en -stamme van die meer weerstandbiedende / tolerante cultivars / lyne en 'n onbeduidende peulinfeksie is aangeteken. Die hoogste voorkoms van swartstam is op cultivar Hyola 420 by al die groeistadiums waargeneem en dit het 'n lae opbrengs en 'n swartstam infeksielesing van 1 (0 = vatbaar en 10 = weerstandbiedend / tolerant) tot gevolg gehad. Saadlob- en blaarinfeksie van cultivar Varola 48 CL was die laagste in 2000. In 2001 het min of geen saadlobinfeksie voorgekom, waarskynlik as gevolg van kouer weerstoestande, terwyl blaarinfeksie van cultivars Varola 44 en Hyola 60 die laagste was. In albei jare het kroon- en staminfeksie toegeneem na die peulstadium, met die hoogste voorkoms op cultivars / lyne Hylite 200TT, Hyola 42 en Hyola 420 in 2000 en Hylite 200 TT, Hyola 420, Karoo, Scoop, N503736, 44C71, 44C73 en 45C75 in 2001. Peulinfeksie is waargeneem op alle cultivars/lyne maar die persentasie infeksie was die hoogste by cultivars met 'n hoë kroon- en staminfeksie. Cultivars wat gedurende 2000 en 2001 in die winterreënvalstreek aangeplant is, was Charlton, Dunkeld, Grousse, Hylite 200 TT, Hyola 42, Karoo, Monty, Oscar, Rainbow, Scoop, Varola 50 en 54. Alhoewel lae swartstaminsidensies by meeste van hierdie cultivars waargeneem is, het hoë saadlobinfeksie by Hylite 200 TT, Hyola 42 en Varola 54, en hoë krooninfeksie by Hylite 200 TT, Hyola 42, Karoo en Scoop voorgekom. Dit is daarom belangrik dat slegs swartstam weerstandbiedende / tolerante cultivars aanbeveel word om 'n volhoubare canolaproduksie te bevorder en 'n toename in produksie in die winterreënvalstreek van Suid-Afrika te verseker. Behalwe vir die plant van weerstandbiedende / tolerante cultivars, word chemiese behandeling vir die beheer van swartstam wêreldwyd ondersoek. In 'n siektetuin op Tygerhoek proefplaas is vyf chemikalieë nl. Benlate (1000 g/ha), Duet (900 ml/ha), Folicur (750ml/ha), Tilt (400 ml/ha) en seep (Sunlight liquid - 25 ml/10L) vir beheer van swartstam op kulitvars Dunkeld, Hyola 420 en Monty geëvalueer. Drie herhalings van elke chemikalië is op elke cultivar in die vegetatiewe stadium en blomstadium toegedien. Veertig plante is by elke proefperseel gemonster en vir swartstam infeksie van plantstamme, -krone en -peule geëvalueer. Alhoewel nie in alle gevalle betekenisvol nie, was Duet die mees effektiewe behandeling op al die cultivars en wat tot die laagste infeksie gelei het.
Met die uitsondering van cultivar Monty behandel met Benlate, het behandeling met Duet die hoogste opbrengs gelewer, alhoewel dit nie in alle gevalle statisties betekenisvol hoër was nie. Voordat so 'n chemiese middel egter aanbeveel word moet die ekonomiese haalbaarheid en die optimale tyd van toediening bepaal word deur gebruik te maak van 'n siektevoorspellingsisteem.
5.19
Kultivarevaluasie van olie- en proteïensade in die winterreënvalstreek (canola)
DJ Hanekom
Die afgelope 2001 seisoen is gekenmerk deur 'n besondere goeie reënval in die Swartland terwyl groot dele van die Suid-Kaap gebuk gegaan het onder knellende droogte toestande vir 'n groot gedeelte van die seisoen. Die vinnige opbou van insek-populasies as gevolg van die buiten normale hoë temperature aan die begin van die seisoen asook die feit dat plante onder stres verkeer het, as gevolg van vogtekorte, het dikwels gelei dat aansienlike skade deur veral sandmyte en plantluise aan aanplantings aangerig is. Dit, tesame met die swak opkoms wat wyd ervaar is, het verskeie produsente laat besluit om maar eerder hul vee in te jaag. Die buitengewoon hoë reënvalsyfers van Julie en Augustus het plek-plek versuiping in die Swartland veroorsaak asook die effektiwiteit van veral stikstofbe-mesting verlaag.
Die Hoofdirektoraat Landbou, Wes-Kaap, het gedurende die 2001 seisoen 'n reeks kultivarproewe in die Suid- en Wes-Kaap streke uitgevoer. Ses lokaliteite wat strek van George tot Caledon is in die Suid-Kaap streek uitgevoer terwyl daar ook ses lokaliteite in die Wes-Kaap van Philadelphia tot Eendekuil aangeplant is.
Verskeie redes, waaronder droogte, eksperimentele fout en sulfonielureum oordrag in gronde het gelei daartoe dat verskeie proewe laat vaar is en dat proewe by slegs twee lokaliteite in die Suid- en Wes-Kaap onderskeidelik voltooi is.
Opbrengste by die Caledon proef is benadeel deur suboptimale vogtoestande aan die begin van die groeiseisoen. Goeie reënval het egter na die einde van die seisoen voorgekom, maar die verlies aan potensiaal is duidelik te sien in die lae opbrengste wat behaal is, asook die feit dat daar weinig verskil in opbrengs tussen die cultivars is. Die opbrengste het gewissel van 1,21 t/ha (Oscar) tot so laag as 0,37 t/h (Hylite 200 TT) met 'n proefgemiddelde van 1,1 t/ha.
'n Proefgemiddelde van 1,78 t/ha is by die George proef aangeteken. Die cultivar Hyola 60 het die beste opbrengs gelewer met 2,25 t/ha gevolg deur ATR Hyden, Varola 50 en Emblem wat almal meer as 2 t/ha geproduseer het. Die res van die opbrengste het gewissel van 1,99 t/ha (Varola 44) tot 1,01 t/ha (Hylite 200 TT).
Opbrengste by die Malmesbury proef het gewissel van effe meer as 'n half ton (Hylite 200 TT) tot sowat 1,8 t/ha (Varola 50 en Hyola 60). Die gemiddelde opbrengs van die proef het gelê by sowat 1,6 t/ha. Al die cultivars met die uitsondering van die Hylite 200 TT cultivar het 1,2 ton en meer gelewer. Alhoewel daar redelik skade deur wilde makoue op 'n vroeë stadium aan van die cultivars aangerig is, kon geen effek daarvan op opbrengs waargeneem word nie. Die hoeveelheid skade per perseel is aangeteken en het in sommige gevalle hoër opbrengste gelewer as persele van dieselfde cultivar wat nie beskadig is nie.
By die Langgewens proef in die Moorresburg area het die cultivars Hyola 60 en Varola 44 die beste opbrengste gelewer van onder-skeidelik 2,24 en 2,22 t/ha. Van die cultivars naamlik Bugle, Karoo en Hylite 200 TT het uiters swak opbrengste gelewer. Die res van die cultivars se opbrengste het gewissel van 1,23 t/ha (Grousse) tot 1,95 t/ha (Varola 48 CL). Die gemiddelde opbrengs van alle cultivars was 1,54 t/ha. Die triasien bestande cultivar, ATR Hyden het 'n uitstekende opbrengs gelewer veral in die lig van die feit dat hierdie groep van cultivars tradisioneel laer opbrengste gelewer het.
5.20
Aanwending van voerensieme om die benutting van soet-lupiene, volvet canola en canola oliekoek-bevattende diëte vir hoenders en varke te verbeter
TS Brand
In 'n studie uitgevoer op Hoofdirektoraat Landbou, Wes-Kaap, is varke 'n vrye keuse van 4 diëte gegee. Die diëte het elk 25% sojaboon oliekoek, canola oliekoek, volvet canola of soetlupiene (lupinus angustifolius) as proteïenbron bevat. Diëte was saamgestel om gelyk in voedingswaarde te wees. Betekenisvolle verskille in inname deur diere van die verskillende diëte is waargeneem. Varke het die diëte in die volgende rangorde verkies:
Sojaboon oliekoek bevattende dieet (1 523 g/d), lupien bevattende dieet (891 g/d), canola oliekoek bevattende dieet (458 g/d) en die volvet canola bevattende dieet (91 g/d).
Resultate het daarop gedui dat varke teen die canola bevattende diëte gediskrimineer het wanneer hulle 'n keuse gebied is. Die lae alkaloïed lupiene dieët was ook meer smaaklik as die canola bevattende diëte. Varke het die sojaboon oliekoek bevattende diëte bo al die ander diëte verkies.
In 'n verdere studie is 50% van volvet canola, canola oliekoek en lupien bevattende diëte gesupplementeer met 'n eksterne verteringsensiem. Die diëte is aan groepe varke voorsien. Die ensiemmengsel was 'n kommersiële byvoegingsmengsel vir plant-proteïen bevattende diëte. Geen invloed van ensiembyvoeging op produksie is waargeneem nie.
'n Soortgelyke studie is by die Hoofdirektoraat Landbou, Wes-Kaap en die Universiteit van Stellenbosch op braaikuikens uitgevoer.
Lupiene (lupinus angustifolius), volvet canola en canola oliekoekbevattende diëte (20% insluitingspeil) is aan braaikuikens gevoer. Eksterne verteringsensieme is by 50% van die diëte ingesluit.
Die byvoeging van ensieme kon nie waarde tot die benutting van die proteïenbronne toevoeg nie. Geen betekenisvolle verbetering in benutting van die proteïenbronne is as gevolg van ensiembyvoeging gevind nie.
Die vervanging van sojaboon oliekoek met 20% lupiene, volvet canola of canola oliekoek het beide die groei en voeromset van braaikuikens verlaag.
5.21
Optimale rywydtes en saaidigthede vir canola
GA Agenbag
Weens biologiese en finansiële redes neem belangstelling toe in die toepassing van bewaringsbewerking en gepaardgaande gebruik van planters in die Wes- en Suid-Kaap. Oesreste wat in sodanige stelsels op die grondoppervlakte gelaat word, bemoeilik die saai-proses. Wyer ryspasiërings sal bogenoemde probleem oplos, maar mag optimale plantdigthede en opbrengs van canola beïnvloed. Aanplantings op Langgewens en Roodebloem Proefplase waarin twee cultivars in drie rywydtes en teen drie saaidigthede vergelyk is, het getoon dat cultivars verskillend reageer. Monty het byvoorbeeld op beide lokaliteite 'n verlies in opbrengs met toename in rywydte getoon. Daarteenoor het 'n toename in rywydte van 170mm tot 340mm nie die opbrengs van Varola 54 beïnvloed nie. In die algemeen het optimum saaidigthede afgeneem met 'n toename in rywydte.
Maksimum opbrengste met Monty is gevolglik gedurende 2001 verkry met rywydtes van 170mm en saaidigthede van 8 kg/ha. In die geval van Varola 54 het 'n toename in rywydte na 340mm en afname in saaidigtheid na 6 kg/ha egter geen verskil gemaak nie.
5.22
Die invloed van prosessering van sojabone, sonneblomsaad, lupiene en canola op die energie en aminosuurbeskikbaarheid vir jong volwasse pluimvee
LG Ekermans
Sonneblomsaad is die grootste oliesaadtipe wat in Suid-Afrika geproduseer word. Dit word gevolg deur sojabone, katoensaad, grondbone (vir olieprosessering), lupiene en canola. Die oorgrote meerderheid van die sonneblomsaad word gepers vir olie, terwyl die meeste van die ander sade in die volvet vorm aangewend word. Bo en behalwe verwagte voordele om ook die sonneblomsaad as sulks aan te wend, word heel soja en canola aan hittebehandeling blootgestel, maar nie ontdop nie. Hierdie projek het ten doel om die voordeel van ontdopping, met of sonder hittebehandeling te ondersoek.
Die ontdopping van die sonneblomsaad, lupiene en sojabone is reeds gedoen deur gebruik te maak van kommersiële apparaat. Hierdie apparaat is ook in staat om groot hoeveelhede vir die kommersiële mark voor te berei. Daarna is die sojabone aan ekstrusie blootgestel, terwyl die sonneblomsaad deur 'n kommersiële "expander" aan hitte blootgestel is. Die produkte is aan jong groeiende kuikens volgens die voorskrifte vir energie en aminosuur beskikbaarhede gevoer, terwyl proksimale chemiese analises ook reeds uitgevoer is. Die resultate van die energie en aminosuur beskikbaarhede sal bekend wees na afhandeling van verdere chemiese analises.
5.23
Chemiese beheer van antraknose op lupiene
AB van Jaarsveld
Na-opkoms beheer
Gedurende die 2000 seisoen is 20 verskillende middels vir beheer van antraknose op lupiene getoets. Die proef was op Roodebloem geplant en die cultivar Swartland is gebruik.
Antraknose het baie laat in die seisoen begin ontwikkel maar daar kon nogtans ses middels vir verdere toetsing geselekteer word.
Vir die 2001 seisoen is slegs die volgende middels teen verskillende konsentrasies gebruik naamlik Folicur C, Alto Ambel, Punch C en Phyton ('n nuwe koper bevattende middel).
Die lang droogte en toe die skielike nat weer gepaard met sterk wind het die toedieningstye erg in die wiele gery. Nogtans kon die vertragende effek van Alto Ambel (600 ml/ha) en Phyton (400 ml/ha) duidelik aangetoon word. Hierdie twee middels gaan in die 2002 seisoen in kombinasie, afsonderlik en op verskillende tye gespuit word. Dit moet beklemtoon word dat chemiese beheer op hierdie stadium slegs vir die produksie van skoon saad aangewend sal kan word.
Voor-opkoms beheer
Chemiese beheer na opkoms is altyd gemik op die voorkoming en/of regstelling van sekondêre besmetting. Saadbesmetting d.w.s. inokulum wat in of op die saad voorkom, is verantwoordelik vir direkte plasing van die siekte veroorsakende organisme in enige aanplanting. Met gepaste saadbehandeling kan die inokulumbron voor saai reeds verminder word.
Een kilogram saad is vir elke behandeling gebruik. Die middels is op die saad in plastieksakke gevoeg en deeglik gemeng. Elke sak is vooraf met dieselfde middel benat sodat middelversadiging nie die toegediende konsentrasie te veel kon verlaag nie. Die middels Celest XL, Thiram, Carbonil en Benlate is as enkel middel of in kombinasie met ander aangewend op saad wat gedurende die 2000 seisoen van besmette lande geoes is.
Celest XL teen 100 ml/100 kg saad het die beste presteer gevolg deur Benlate (wat nie 'n erkende saadbehandelingsmiddel is nie) 100 g/100 kg saad. Thiram teen 200 g/100 kg saad, wat algemeen volgens inligting van oorsee aanbeveel word, het derde geëindig. Hierdie middels sal in die komende seisoen weer teen verskillende konsentrasies en kombinasies getoets word.
5.24
Ontwikkeling van beter aangepaste lupien kultivars vir die Wes-Kaap
AB van Jaarsveld
Met die algehele staking van die lupien teelprogram (Lupinus angustifolius) deur Monsanto / Sensako en die terughouding van teelmateriaal / lyne en kiemplasma was die eerste doel van hierdie projek om teelmateriaal met wye oorsprong in die hande te kry.
Teelmateriaal kan omskryf word as enige inskrywing in die versameling wat direk in die evaluasie proewe geplaas kan word (cultivars en / of gevorderde suiwer telende lyne) of segregerende lyne met goeie genetiese agtergrond wat dan gebruik kan word om bestaande cultivars te verbeter t.o.v. verskillende eienskappe volgens die behoeftes van die bedryf.
Gedurende die 2000 seisoen is materiaal in die lupienproewe gereeld besoek en vir aanwending geëvalueer. Die gevolgtrekking is gemaak dat kombinasies van die beskikbare materiaal tot seleksie van beter aangepaste cultivars sal lei. Hiervoor is dit nodig dat kruisings daarmee gemaak word.
Samewerking ooreenkomste is met 'n maatskappy in Denemarke en die "Crop Improvement Institute (The Australian Lupin Collection) Agriculture Western Australia" aangegaan. Van eersgenoemde is 13 lyne verkry en van laasgenoemde twee wilde lyne met bewese weerstand teen poeieragtige meeldou plus 'n reeks van cultivars wat reeds ontvang is. Een en veertig inskrywings is in die glashuis aangeplant waaronder vyf L.luteus cultivars is. Die lyne vanaf Denemarke is ook direk in elite proewe op twee lokaliteite aangeplant.
Tydens hierdie opname is die voorkoms en omvang van grondgedraagde siektes van canola en lupiene in die winterreënvalstreek, asook organismes geassosieër met hierdie siektes, bepaal. Hierdie inligting is noodsaaklik vir die ontwikkeling van volhoubare siektebestuurstrategieë.
Die ontwikkelingsprogram in die glashuis het 49 kombinasies (100 kruisings) opgelewer waarvan die helfte van die F1 saad nou reeds in volpeul stadium is. Hierdie F2 saad kan in die komende seisoen in die glashuis verder vermeerder word, of direk op land uitgeplant word vir seleksie van resessiewe eienskappe. Eersgenoemde weg sal eerder gevolg word. Beter seleksies kan in die F3 generasies gedoen word.
Drie lyne vanaf Denemarke het onder redelik ongunstige toestande baie na aan die opbrengs van Wonga, wat as kontrole cultivar gebruik is, gekom. Al drie lyne beskik oor die gewensde eienskap van 'n kort groeiseisoen (80-85 dae teenoor die 92 dae van Wonga). Een van die inskrywings het beter weerstand teen antraknose as Wonga getoon. Al drie is reeds in die glashuis ontwikkelingsprogram opgeneem en sal verder as teelouers aangewend word.
5.25
Die meting van die reaksie van braaikuikens op dieët-lisien en metionien, soos gemeet in batteryhokke en vloerhokke
RM Gous
In vergelyking met 30 jaar gelede, word daar vandag in verhouding tot energie, hoër aminosuurkonsentrasies in braaikuikenvoere benodig, ten einde die behoeftes vir groei te bevredig.
Namate groeitempo deur seleksie verbeter word, is daar 'n dienooreenkomstige toename in die relatiewe groeitempo by 'n gegewe (liggaams-) proteïengewig. Dit lei tot 'n hoër behoefte aan elkeen van die essensiële aminosure. Gevolglik moet die braaikuiken meer aminosure inneem om die verhoogde behoefte te bevredig, ondanks die feit dat die kapasiteit van die spysverteringskanaal ongeveer dieselfde gebly het as die van braaikuikens van vergelykbare grootte 'n paar dekades gelede. Daar is dus geen moontlikheid dat die moderne braaikuiken groter hoeveelhede voer as dieselfde grootte braaikuiken van die verlede kan vreet nie. Dus moet die beskikbare voer hoër konsentrasies aminosure bevat as die voere van die verlede. Dit is nie algemeen die geval met braaikuikenvoere wat tans gebruik word nie, wat meebring dat die braaikuikenkarkasse meer as die verlangde hoeveelheid vet bevat. Voorts moet onthou word dat hierdie hoë aminosuurkonsentrasies nie vir dieselfde lang tydperke as in die verlede gevoer hoef te word nie, aangesien die groeitempo van moderne braaikuikens so snel is dat voerinname ook teen 'n vinniger tempo toeneem as wat in die verlede die geval was. Aangesien die aminosuurinhoud van die voer 'n funksie is van sowel die braaikuiken se behoefte vir elke aminosuur en van die tempo van voerinname, is daar 'n aanmerklike verskil in die aminosuurbehoefte van moderne braaikuikens teenoor die van die verlede.
Een van die hoof beperkende faktore wat braaikuikens verhoed om hul genetiese potensiaal te bereik, is die onvermoë om genoegsaam van hitte ontslae te raak. Hierdie hitte is afkomstig van die groeiproses en die prosessering van voedsel na inname daarvan deur die braaikuiken. Hierdie hitte moet deur die braaikuiken aan die omgewing afgestaan word.
In hierdie studie wat in 2001 begin is, is die braaikuiken se reaksie op sowel lisien as M+S gemeet oor 'n reeks van eksperimentele toestande. Vir elke aminosuur is drie eksperimente tydens die aanvangsperiode en twee eksperimente gedurende die afrondingsperiode uitgevoer. Eksperimente is in batteryhokfasiliteite, met groepe braaikuikens per hok of met individueel gehokte braaikuikens uitgevoer. Eksperimente is ook in vloerhokke gedoen. Daar is deurgaans van geslagsgeskeide groepe gebruik gemaak sodat die reaksie van hane en henne apart gemeet kon word. Waar individueel gehokte braaikuikens gebruik is, is die voëls in klimaatkabinette gehuisves. Die klimaatkabinette is teen verskillende temperature onderhou ten einde vas te stel of braaikuikens in staat is om vinniger as normaal te groei teen 'n laer omgewingstemperatuur.
Braaikuikens vanuit al bogenoemde eksperimente is vir karkasontleding gemonster. Liggaamswater, proteïen, as en vet word tans ontleed. Liggaams- en veerproteïentoename sal met behulp van die Reading model aan regressie teen aminosuurinname onderwerp word.
Dit sal waardevolle inligting oplewer omtrent die waarde van die koëffisiënt van proteïentoename-respons, die hoeveelheid lisien en / of M+S wat vir maksimum groei benodig word, asook die invloed van dieët-aminosuurkonsentrasie op voerinname en karkasvetinhoud. Die belangrikste voordeel sal spruit uit die wete of die konvensionele lisien en M+S behoeftes soos vir braaikuikens tydens die aanvangs- en afrondingsperiodes aanbeveel word, hersien behoort te word. Hierdie wete sal gebaseer word op 'n voorspelling gegrond op 'n teoretiese evaluasie van hierdie aminosuurbehoeftes. Op hierdie wyse kan seker gemaak word dat hierdie aminosure teen maksimum doeltreffendheid benut word waardeur skaars en duur proteïenbronne op die mees doeltreffende wyse benut word.
5.26
Bepaling van genetiese parameters van sommige algemene varkrasse in Suid-Afrika
RM Gous
'n Eksperiment om die invloed van veedigtheid (verhoogde aantal varke per hok) op die lisienvereistes van varke wat oor 'n gewigsreeks van 25 tot 60kg lewende massa gevoer is, is uitgevoer. Tweehonderd-vier-en-sestig vroulike Groot Wit X Landras varke is teen 25kg lewende gewig toegesê aan een van vier lisienvoerbehandelings (13,3 (L1); 11,4 (L2); 9,5 (L3) en 7,6 (L4) g/kg) en / of 7 of 13 varke per hok (of 1,0 en 0,5m2/vark respektiewelik). 'n Aanvullende behandeling van een vark per hok (2m2/hok) is ingesluit om die reaksie van enkel teenoor groepe varke te vergelyk. Die diere is 'n ad lib toegang tot die dieëtbehandelings van die gemiddelde hokaanvangsgewig van 26,1 kg tot 'n gemiddelde afrondingsgewig van 63,4 kg lewende gewig toegelaat. Daar was geen noemenswaardige interaksie tussen die lisieninhoud van die dieët en vloerspasie per vark op voerinname (VI), die gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT), die hoeveelheid voer per eenheid van gewigstoename (voeromskakelingstempo, VOT) en die tempo van proteïenretensie (PR) nie. Noemenswaardige interaksie vir liggaams-samestelling en die tempo van lipiedretensie (LR) is waargeneem. Oor die gewigsreeks 25-40 kg was daar 'n noemenswaardige verskil in VI (P<0,01) en VOT (P<0,001) tussen die dieët lisienbehandelings, maar meeste van hierdie verskille het verdwyn in die 40-60 kg lewende gewigsreeks. Enkel diere het aansienlik hoër VI en GDT gehad as die diere in die groepe. Daar was egter geen verskil tussen die 7 en 13 varke / hok behandelings nie. Veedigtheid het geen invloed gehad op LR of liggaamsproteïeninhoud nie, maar het 'n noemenswaardige afname in PR (P<0,001) en 'n verhoging in liggaamsvetinhoud (P<0,05) gehad soos die hoeveelheid varke / hok verhoog het van 7 tot 13.
Dit kan dus gesien word asof die lisien-vereistes (uitgedruk in g/d) verminder soos die veedigtheid verhoog. Hoewel die lisieninname in groepe varke verminder is, regverdig die vermindering in daaglikse behoeftes egter nie die vermindering in die lisieninhoud van die voer nie. Voeding na aanleiding van die vereistes vir maksimum PR sal steeds die beste karkas en groeiprestasie lewer, ongeag die grootte van die groep. Die verhoging in PR wat met die hoër voedingstofvlakke geassosieër word, het nie heeltemal opgeweeg teen die nadelige fisiologiese effekte van die hoër veedigtheid nie, maar kan heel waarskynlik die effek van die verminderde lisieninname gedeeltelik teëwerk. Daar is egter aanduidings dat die voer van 'n laer lisienkonsentrasie in die dieet aan digbevolkte varke nie die reeds bestaande verminderde proteïen (lisien) groeitempo verder sal verminder nie.
'n Verdere eksperiment om vas te stel of die aantal voerbakke die voedselinname en daarom die groei in die groepe varke beïnvloed het, is ook uitgevoer. Die resultate van hierdie eksperiment het getoon dat die aantal voerbakke geen beduidende invloed op die VI, GDT, en VOT in groepe varke gehad het nie. Daarom is 'n enkel voerbak nie as 'n remmende faktor vir varke wat op 'n beperkende vloerspasie aangehou word, oorweeg nie.
5.27
Effek van grond Rhizobia op die sukses van sojaboon-entstof ras WB74
IJ Law
Suksesvolle enting van peulgewasse is dikwels afhanklik van die vermoë van die geënte ras om te kompeteer met bestaande of gevestigde rhizobia grondpopulasies. Daar is gevind dat die vorige sojaboon-entstofras 'n baie klein deel van grondpopulasies vorm, alhoewel dit reeds vir 19 jaar toegedien is. Bradyrhizobium japonicum ras WB 74 is sedert 1998 in plaaslike sojaboonentstof ingesluit, as gevolg van beter simbiotiese eienskappe. Die aanvanklike doel van die huidige studie was om te bepaal tot watter mate ras WB 74 reeds in sojaboonproduksie-areas gevestig het.
Aan die einde van die 2000/2001 seisoen, is grondmonsters versamel vanaf 10 sojaboonlande in KwaZulu-Natal, Mpumulanga en die Noord (Limpopo) Provinsie. Meeste grondmonsters was vanaf gevestigde produksieareas en het groot rhizobia populasies (104 tot >105 selle.g-1) bevat, alhoewel een grondmonster (Amersfoort, Mp) waar sojas vir die eerste keer geplant is, slegs 33 rhizobia.g-1 bevat het.
Serologiese identifikasies het getoon dat slegs ras WB 74 in die Amersfoort (Mp) grond en in twee gronde vanaf Bethal (Mp) en Naboom-spruit (NP) voorgekom het.
In ander gronde het die fraksie van die ras gevarieër. By Lothair (Mp) en Newcastle (K-N) het ras WB 74 tussen 60 en 80% van die rhizobia populasie beset, maar by die twee Bergville (K-N) lokaliteite was die fraksie onderskeidelik 15% en 60%. By Koedoes-kop (NP) het minder as 20% van die rhizobia populasie uit ras WB 74 bestaan, terwyl dit by Morgenzon (Mp) minder as 10% van die populasie was. Ongeag die WB 74 inhoud, was al die grondpopulasies dieselfde as ras WB 74 in stikstofbindingsvermoë onder glashuistoestande.
Bogenoemde resultate dui aan dat ras WB 74 binne drie jaar reeds 'n aansienlike gedeelte van die rhizobia populasie vorm in die meeste gronde wat ondersoek is. Dit dui aan dat voortdurende enting met ras WB 74, die dominansie van die ras in meeste grond populasie sal verhoog. Werk word tans uitgevoer om die sukses van enting te bepaal in drie gronde waar ras WB 74 slegs 'n klein gedeelte van die bestaande rhizobia populasie uitmaak.
5.28
Konstruk vir die verwydering van die BAR geen na transformasie en isolasie van die promoter van Lupinus albus
D Oelofse
Isolering van 'n Unieke Induseerbare Promoter vanaf Lupinus Sp
Die doel van hierdie werk is om en induseerbare promoter vanaf lupiene te isoleer vir gebruik in transgeniese lupien plante vir weerstandbiedenheid teen antraknose. Geen besonderhede van die promoter kan bekend gemaak word nie, aangesien dit in die nabye toekoms gepatenteer gaan word. Lupien DNA is geïsoleer en verteer met die restriksie ensieme Dral, EcoRV en Stul. "Nested" PCR is uitgevoer met behulp van die Genome Walker "kit" en voorvoerders wat ontwerp is om aan die voorkant van die geen te bind en met verlenging wat sou plaasvind na die promoterkant van die geen. Drie van die reaksies het die korrekte grootte DNA fragmente gelewer wat die promoter fragment kon bevat. Die 4,2kb fragment is suksesvol in die pGEM-Teasy plasmied (Promega) gekloneer, en is na Mycrosynth, Switserland gestuur vir DNA volgorde bepaling.
Die volgorde wat verkry is, is met bekende sekwense in die GENBANK databasis by www.ncbi.nlm.nih.gov/genbank vergelyk. Hierdie soektog het 5 moontlike promoter sekwense binne die 4,2kb fragment geïdentifiseer.
Fragmente wat die voorspelde promoter sekwense bevat sal apart gekloneer word voor die GUS geen in die pDM 327 vektor vir mikropartikel transformasie van plant weefsels. Die fragment wat die hoogste vlakke van uitdrukking opgelewer het, sal die promoter fragment wees wat gepatenteer sal word sodra die nodige addisionele eksperimente uitgevoer is.
Konstruk vir die verwydering van die Bar geen na transformasie: Klonering van Appel PGIP in pCAMBIA 0390 vir transformasie van lupiene
Australiese navorsers, wat transgeniese lupiene geproduseer het met weerstandbiedenheid teen onkruiddoder (bar geen), is deur die eienaars van die bar geen verbied om die lupiene kommersieël vry te stel, aangesien hulle die geen slegs in meer kosbare kommoditeite soos koring en canola wil gebruik. Daar is dus voorgestel dat konstrukte saamgestel moet word waar die bar geen nie gekoppel is aan die PGIP geen nie. Die transgeniese lupien plante sou dan verkry word deur die gesamentlike transformasie van twee plasmiede, wat daartoe sou lei dat die gene op aparte dele van die chromosoom geïntegreer word. Die bar geen kan dan verwyder word deur segregasie, na kruising met 'n ongetransformeerde lupien lyn. Nageslagte wat dan net die swam-werende gene bevat sal dan geskik wees vir kommersiële vrystelling. 'n T-DNA konstruk wat slegs die appel PGIP geen bevat, en nie die bar geen nie, is voorberei vir lupien transformasie. Die konstruk wat die bar geen bevat, sal na transformasie verwyder word. Die appel PGIP onder die genetiese beheer van die verrykte CaMV 35S promoter, is in die plant transformasie vektor gekloneer. Die korrekte klonering van die appel PGIP geen in die plant transformasie vektor is met behulp van DNA volgorde bepaling bevestig. Hierdie plant transformasie vektor is suksesvol in Agrobacterium tumefaciens getransformeer vir uiteindelike transformasie van lupiene en is vir hierdie doel beskikbaar gestel aan Me Bridgette Campbell (WNNR) en Dr Kobie de Ronde (LNR – Roodeplaat).
5.29
Die ekonomiese / finansiële interpretasie van gewaswisselboustelsels wat sojabone insluit
MT Viljoen en RJ Armour
Die vermoede het bestaan dat sojabone in 'n medium- tot langtermyn wisselboustelsel met ander somergewasse soos mielies onder andere 'n inkomste verhogende effek op boerderye kan hê. 'n Projek is toe geldelik ondersteun met die oogmerke om 'n finansiële en ekonomiese studie in die Bethlehem en Viljoenskroon distrikte te onderneem op tipiese voerdery eenhede. Spesifieke opdragte was om die volgende te ondersoek:
- Die winsgewendheid van geïdentifiseerde wisselboustelsels vir elke gebied op bruto marge basis, en
- Die ekonomiese en finansiële implikasies van die implimentering van sodanige wisselboustelsels vir die tipiese plaas in elke gebied. Faktore in dié verband wat ondersoek is, is winsgewendheid, kontantvloei, finansiële risikos, invloed op die masjinerie en implemente kompliment en die bekostigbaarheid om te skakel.
Die bevindings uit die studie was baie positief naamlik dat wisselboustelsels wat sojabone insluit baie beter presteer as stelsels wat nie sojabone insluit nie. Mielie monokultuur het byvoorbeeld die swakste resultate oor 'n 5 tot 8 jaar periode getoon.
Faktore wat bygedra het tot die beter finansiële ekonomiese resultate van wisselstelsels wat sojabone insluit is onder andere die volgende:
- Verminderde stikstof toediening vir opvolg gewasse.
- Makliker grondbewerking na sojabone (grondstruktuur word verbeter deur sojabone).
- Beter verspreiding van meganisasie aksies wat kleiner trekkers benodig.
- Vermindering in onkruid- en plaagdoder behoeftes.
- Verbeterde kontant vloei na 'n paar jaar.
- Netto teenwoordige waarde en brutomarges na 5 tot 8 jaar verhoog as gevolg van insluiting van sojas in 'n wisselboustelsel.
5.30
'n Akkerboukundige evaluasie van canola onder besproeiing in die somerreënvalstreek
AA Nel
Meer as 500 000 ton oliekoek word jaarliks ingevoer teen 'n koste van meer as eenduisend miljoen rand om aan die vraag van die veevoernywerheid te voldoen. Besproeide koring in die somerreënvalgebied is dikwels 'n ekonomiese mislukking weens onder meer wortelsiektes wat opbrengste benadeel of lae graankwaliteit tot gevolg het. Indien canola suksesvol in die somerreënvalgebied verbou word, kan dit die veevoernywerheid se vraag na proteïen tot 'n mate verlig en ook as 'n alternatief vir koring dien. Die doel is om gedurende die 2001 seisoen 'n akkerboukundige evaluasie van besproeide canola by vier lokaliteite gedurende die winter en 'n somer-aanplanting in die koeler dele van Mpumalanga te maak. Saadopbrengs, insette en probleme met die produksie sal bepaal word. Enkele cultivars is gedurende die winter by Atlanta, Potchefstroom, Vaalharts en Villiers geplant. Die verwagte oesdatums is die einde van Oktober tot die begin van November 2001.
5.31
Registrasie van Simazine op lupiene
AEJ Saayman-Du Toit
Die doel van die studie is om Simazol (aktiewe bestanddeel simazine) en Terbusip (aktiewe bestanddeel tebuthylazine) op lupiene deur middel van statistiese veldproewe, wat vir die registrateur aanvaarbaar sal wees, te evalueer. In veldproewe te Potchefstroom en Bethlehem is sewe onkruiddoderbehandelings toegedien aan vier lupien cultivars. Te Potchefstroom is cultivars Hantie, CED6150, Wonga en Uno op 15 Mei 2001 geplant. 'n Soortgelyke proef is op 12 Junie 2001 te Bethlehem met cultivars Esta, CED6150, Wonga en Alida herhaal. Te Potchefstroom en Bethlehem, is sewe onkruiddoderbehand-elings, insluitende 'n kontrolebehandeling, op lupienkultivars direk na plant (voor opkoms) toegedien. Die onkruiddoderbehandelings was soos volg:
- Simazine, enkeldosis, voor opkoms;
- Simazine dubbeldosis, voor opkoms;
- Terbuthylazine, enkeldosis, voor opkoms;
- Terbuthylazine dubbeldosis, voor opkoms;
- imazine enkeldosis, voor opkoms gevolg deur 'n halfdosis simazine toegedien ses weke na plant;
- n Kontrolebehandeling waar geen onkruiddoder toegedien is nie, en
- Lasso, voor opkoms toegedien.
Behandelings is drie keer herhaal. Effektiwiteit en fitotoksisiteit is gemoniteer op 14, 42 en 56 dae na onkruiddoder toediening. Fitotoksisiteits- en effektiwiteitsresultate is afsonderlik geanaliseer vir elke tydsinterval (week) na onkruiddoder toediening en onderwerp aan 'n variansie-analise. Data sal gebruik word in die registrasie van simazol en terbusip op lupiene in die somerreënvalgebied.
5.32
Onkruidbeheer in soetlupien geplant in nou rye
AEJ Saayman-Du Toit
Op aanbeveling van die Proteïennavorsings-trust (PNT) en chemiese maatskappye is veldproewe geplant waartydens verskeie onkruiddoders geëvalueer is teen 'n herhalende standaard (Lasso). Die doel van die studie was om kommersieël aanvaarbare onkruiddoders vir die lupienmark te identifiseer. Waar ongeregistreerde onkruiddoders gebruik is, was chemiese maatskappye betrokke by die bepaling van onkruiddoderdosisse. In gevalle waar effektiwiteits- en selektiwiteitstoetse se resultate op ongeregistreerde doders kommersieël aanvaarbaar was, sal maatskappye versoek word om registrasie van die spesifieke middels te oorweeg. In die veldproewe is cultivars Hantie en Esta op 15 Mei 2001 te Potchefstroom, 29 Mei 2001 te Brits en 12 Junie 2001 te Bethlehem aangeplant. Veertien onkruiddoderbehandelings, wat algemeen in lupiene gebruik word, is op genoemde lupienkultivars toegedien. Fitotoksisiteit (selektiwiteit) en effektiwiteit is gemoniteer op 7, 14, 28, 42 en 56 dae na onkruiddodertoediening. Fitotoksisiteits- en effektiwiteitsresultate verkry uit die proewe sal afsonderlik geanaliseer word vir elke tydsinterval (weke) na onkruiddoder toediening deur middel van 'n variansie-analise.