Navorsingsverslag 2001/2002
6.
Proteïenbronne
Indeks
- 6.4 Canola
- 6.5 Ander proteïenbronne
6.1
Algemeen
In die navorsingsverslag van 1999 is 'n volledige uiteensetting gegee van alle proteïenbronne wat in die verlede deur die PNS besoek is in opvolging sy visie- en missie. Projekte wat gedurende die afgelope jaar aandag gekry het, was beperk tot drie gewasse naamlik soja, canola en lupiene, en is as prioriteite deur die PNS befonds. Daar is geen aansoeke ontvang om moontlike vismeelprojekte te befonds nie. Die grondwerk vir Fababone word tans gedoen, maar daar is nog steeds geen vordering met hierdie gewas gemaak nie.
Vroeër in hierdie verslag is gemeld dat die uitbreiding van bestaande gebiede onder die drie gewasse wat tans 'n prioriteit vir die PNS is, baie aandag gekry het, asook nuwe gebiede vir dieselfde gewasse met die oog op groter produksie van genoemde gewasse. So is mnr Carel Grimbeek gekontrakteer om vanaf George saam met HDLWK die vestiging van sojabone en lupiene in die Suid-Kaap te bevorder, terwyl mnr Wessel van Wyk gekontrakteer is in 'n poging om 'n daadwerklike verskil te maak aan die produksie van soja in Mpumalanga en die Noordelike provinsie. Beide hierdie kontrakteurs sal mettertyd ook aangewend word om canola te bevorder in hulle onderskeie gebiede.
6.2
Sojabone
Die oppervlakte onder sojabone het die afgelope jaar 134 150 hektaar beloop wat die hoogste totaal ooit in Suid-Afrika was. Die totale produksie het 209 705 ton beloop wat ook 'n rekord is. Gedurende die plantseisoen 2001, is egter slegs 124 150 hektaar aange-plant wat steeds as baie goed beskou word, maar tog teleurstellend was het vanweë die vermindering teenoor die vorige jaar. Hierdie vermindering is waarskynlik deels die gevolg van die abnormale hoë mielieprys soos vroeër in hierdie verslag reeds genoem. Die slegte nuus vir die sojaboonbedryf die afgelope jaar was dat roes in Suid-Afrika voorgekom het.
Die ondervinding in Zimbabwe het geleer dat roes vanaf 1998 in Afrika suid beweeg het. In 2001 is roes as endemies in Zimbabwe verklaar. In die PNS navorsingsverslag van 1999, is berig dat die PNS Dr M. Smit van LNR-IGG befonds het om 'n roes-simposium in Zimbabwe by te woon wat deur verskeie internasionale kundiges toegespreek is. Na bespreking by die sojawerkgroep het die Raad van die PNS besluit om nie roesnavorsing binne die grense van Suid-Afrika te befonds nie, in 'n poging om die roes uit Suid-Afrika te weer. 'n Bedrag is egter beskikbaar gestel aan die LNR-IGG om verdere navorsing oor roes in Uganda te doen, in 'n poging om so veel moontlik kennis in te win alvorens roes Suid-Afrika tref. Ongelukkig is hierdie werk wanweë personeel verskuiwings nooit opgevolg nie.
Roes is vir die eerste keer positief geïdentifiseer in die Vryheid gebied op 2 Maart 2001. 'n Tweede infestasie is te Lionsriver op 5 Maart 2001 geïdentifiseer, waarna die PNS 'n dringende vergadering van kundiges in Natal op 6 Maart 2001 gereël het om die roes aangeleentheid te bespreek. Vanweë die erns van die aangeleentheid het die PNS 'n sending van drie persone op die koste van die PNS en onder leiding van dr J de Kock, PNS trustee en lid van die Tegnologiekomitee, vanaf 13-15 Mei 2001 na Zimbabwe gestuur, om alle moontlike inligting insake die voorkoms, chemiese beheer en ander aspekte van roes te bekom. Die ander lede van die sending was dr NW McLaren, plantsiektekundige van die LNR-IGG, en mnr L Kilian sojaboonkundige en kontrakteur van die PNS.
Na die besoek aan Zimbabwe is daar op 25 Mei 2001 'n werkswinkel gehou by die LNR-IGG. 'n Taakspan is gestig onder voorsitterskap van dr John Purchase van LNR-IGG, in 'n poging om alle navorsing ten opsigte van roes in Suid-Afrika en Zimbabwe te koördineer. Die PNS het ook onmiddellik befondsing goedgekeur aan die LNR-IGG om 'n soja roesprojek getitel "Sojaboonroes: Risiko analise, verliesbepaling en kwantifisering van die epidemiologiese waarde van voorkomende tegnologie", onder leiding van dr Niel McLaren te registreer. Hierdie projek sal ongetwyfeld oor etlike jare strek. Die belangrikste eerste aanduidings en inligting uit Zimbabwe is dat roes wel chemies bestry kan word.
Die roes aangeleentheid het weereens die belangrikheid van die PNS se werkgroepe onderstreep. Belangrike inligting word op gereelde basis met mekaar gedeel en die goeie bywoning van sodanige vergaderings spreek boekdele. 'n Woord van dank gaan aan almal wat hierdie vergaderings bywoon, en van die besondere poging 'n sukses maak. Alle inligting waaroor die roes taakspan beskik het, is gedurende die seisoen deur middel van radiopraatjies, publikasies, artikels en strooi-biljette onder produsente se aandag gebring. Teen die einde van die seisoen het die PNS ook 'n besoek van dr Clive Levy, 'n kundige van sojaboon roes uit Zimbabwe, befonds om lesings insake roes by verskeie vergaderings en inligtingsdae te lewer.
Die aksies om sojabone te bevorder en oppervlaktes uit te brei, het baie aandag gekry. Die supersoja-kompetisie in Natal, het weereens op Dundee en Cedara plaasgevind en daar word met dankbaarheid teruggekyk oor tien jaar se harde werk in hierdie verband. Produksie in die Oos-Vrystaat het aansienlik uitgebrei, maar ongelukkig is daar nog nie veel vordering in die belangrikste mieliegebiede waargeneem nie.
Op versoek van produsente het die PNS aandag gegee aan die verwerkingskapasiteit van sojabone in Suid-Afrika, veral na aanleiding van die toenemende oppervlakte onder soja oor die afgelope drie jaar. Hierdie ondersoek het bewys dat die totale behoeftes aan sojabone in Suid-Afrika, so veel as 800 000 ton kan beloop en dat daar reeds verwerkingskapasiteit vir 437 000 ton bestaan. Die verwerkingskapasiteit kan dus 'n onmiddellike verdubbeling van aanplanting hanteer. Verdere aandag sal egter aan verwerking en verwerkingskapasiteit gegee word, en is daar reeds projekte in hierdie verband geregistreer by die PNS (sien projekte).
Die plantseisoen 2001 het die eerste kommersiële aanplanting van GMO sojaboon-saad gesien, en wel sogenaamde "Round-up ready" sojaboonsaad. Die resultate hiervan word met groot belangstelling afgewag.
Die PNS glo dat daar steeds baie uitbreidings moontlikhede vir sojabone bestaan, en gaan onverpoosd voort met die bevordering van hierdie gewas.
Op versoek van mnr T Machett, 'n produsent in Kwa-Zulu Natal, het die PNS met John Deere onderhandel om 'n presisieplanter wat kunsmis bandblaas, volgens mnr Machett se vereistes te bou. Uitstekende resultate is aan die einde van die eerste seisoen hiermee behaal.
Daar is vroeër in hierdie verslag verwys na die twee hektaar aanplanting van drie sojacul-tivars op die Nampo proefplaas, wat as demonstrasie en bevordering van sojabone gebruik is. Die Vetsakstroper wat deur die PNS befonds is, is op hierdie sojabone getoets onder leiding van LNR-Ili. Die positiewe resultate en bevindinge van LNR-Ili is in 'n verskeidenheid tydskrifte en artikels onder die produsente se aandag gebring. Hierdie stroper word tans kommersieël vervaardig en bemark.
Die verwagtinge om 'n goedkoper sleepstroper op die mark te bring, het egter nog nie gematerialiseer nie, maar daar word steeds daaraan gewerk.
6.3
Lupiene
Werksaamhede ten opsigte van lupiene in beide die somer- en winterreënvalstreke gaan onverpoosd voort. Die telingsprogram van dr Van der Mey wat handel oor antraknose-weerstand, het die PNS genoodsaak om dr Van der Mey te kontrakteer vir een jaar sodat die nodige kontinuiteit in samewerking met die LNR bewerkstellig kan word. Dr Van der Mey het met pensioen uitgetree by die LNR en ons is dankbaar dat ons sy dienste vir 'n verdere jaar kan gebruik. Daar word egter geen rigtinggewende resultate binne twaalf maande verwag vanaf die navorsingsprojekte oor antraknose wat elders in hierdie navorsingsverslag behandel word nie. Resultate sal hoogstens eers teen die einde van 2002 beskikbaar wees, waarna die nodige beleidsbesluite geneem sal word ten opsigte van lupiene.
Na 'n lang gesukkel om lupiene te ontdop vir voedingsproewe is daar met behulp van dr C van der Merwe, trustee van die PNS daarin geslaag om lupiene te ontdop by 'n aanleg van Nola 'n afdeling van Food Corp (Edms) Bpk. Die ontdopte lupiene is intussen versend aan prof R Gouws by die Universiteit van Natal en prof L Ekermans by die Universiteit van Stellenbosch om gebruik te word in projekte waarna daar elders in hierdie verslag verwys word.
Suksesvolle onkruidbestryding in Australië was die gevolg van die gebruik van simazine wat tot dusver in Suid-Afrika nie vir lupiene geregistreer was nie. In samewerking met 'n chemiese maatskappy (Chempak) is 'n projek by die PNS geregistreer om simazine vir gebruik op lupiene te registreer (sien elders in hierdie verslag). Ons vertrou dat hierdie werk onkruidbestryding in die lupienbedryf eersdaags aansienlik sal vergemaklik.
Die oorname van Sensako deur Monsanto het 'n einde gebring aan teelwerk van lupiene deur die privaatsektor. Die PNS onderhandel tans met Monsanto in 'n poging om die kiemplasma, veral ten opsigte van smalblaar cultivars oor te neem in 'n poging om die teelprogram in stand te hou.
Smalblaar cultivars word grootliks vanaf Australië ingevoer. Daar is intussen daarin geslaag om twaalf verdere Angustifolius cultivars, hoofsaaklik vanaf Belarus in te voer wat in die cultivarproewe ingesluit is. Met behulp van dr Van der Mey is die cultivar merrit in Suid-Afrika geregistreer, en behoort in 2002 op die cultivarlys te verskyn.
Die PNS wil graag sy dank uitspreek teen oor almal wat die lupienwerkgroepvergaderings gereeld bywoon en veral ook teenoor daardie kundiges wat die sogenaamde antraknose werkgroepvergaderings bywoon. Sonder hierdie samewerking sou daar waarskynlik nie meer 'n lupienbedryf gewees het nie.
Die afgelope jaar is ongeveer 14 705 hektaar lupiene aangeplant met 'n opbrengs van 16 838 ton. Die verwagtinge volgens eerste aanduidings van die oesskattingskomitee is dat daar gedurende 2001/2002 'n oppervlakte van 14 785 hektaar onder lupiene aangeplant sal word.
6.4
Canola
Daar is die afgelope jaar 19 145 hektaar canola aangeplant teenoor 25 000 hektaar van die vorige jaar. Die opbrengs van 25 750 ton was egter net 1 000 ton minder as die vorige jaar. Aanduidings is dat daar 27 000 hektaar gedurende die volgende jaar geplant sal word.
Die belangrikste hulpmiddel ter bevordering van canolaproduksie in die winterreënvalstreek, het gekom in die vorm van die sogenaamde "Canola boer van die Jaar"-kompetisie waarna hierbo verwys is. Hierdie projek wat op 20 Maart 2001 deur mnr D Joubert, ondervoorsitter van die PNS geloods is, was 'n groot sukses en behoort in die volgende aantal jare, 'n besondere impak te hê op uitbreiding van canolaproduksie.
Die canola produsente wat georganiseer is in die Canola Bedryfskomitee (CBK), het 'n nuwe tuiste gevind by Graan Suid-Afrika (GSA) en is ook opgeneem in die Graan Suid-Afrika Oliesadewerkgroep. Hierdie erkenning deur GSA sal in alle opsigte tot voordeel van die canola produsente wees.
Canolaproduksie in die somerreënvalstreek het op 'n verskeidenheid plekke voorgekom. In samewerking met die LNR-IGG is dr A Nel benoem as koördineerder van die projek wat deur die LNR by die PNS geregistreer is (sien elders in hierdie verslag) om canola in die somerreënvlakstreek te bevorder. Hoewel canola in die somerreënvalstreek heeltemal in sy kinderskoene is, wil dit voorkom asof daar wel 'n plek vir canola in die hierdie streek is.
Die aanvraag na canola oortref die aanbod in 'n groot mate. Die Oliepers te Swellendam sowel as die volvetmark vir canola kan aansienlik meer canola verwerk. Gevolglik is die prys vir canola goed en baie stabiel wat dit meer aantreklik maak om as wisselbougewas deur die produsent ingesluit te word in sy produksieprogram.
Die canolawerkgroep se vergaderings word besonder goed bygewoon. Waardering word teenoor elke lid uitgespreek maar veral teenoor Avcasa wat die afgelope jaar 'n gereelde verteenwoordiger na die vergadering stuur en besondere goeie insette lewer. Soos met die ander gewasse, bly hierdie werkgroep die ruggraat van die canolabedryf onder huidige omstandighede.
Die PNS is optimisties oor die toekoms van canola en glo dat dit waarskynlik die vinnigste groeiende bedryf sal wees in die kort tot medium termyn.
6.5
Ander proteïenbronne
Vanwëe die gebrek aan enige positiewe aanduidings dat ander proteïenbronne oor die medium termyn kan mee help om die gebrek aan proteïen vir dierevoeding, aan te vul, is besluit om steeds grootliks te konsentreer op die drie gewasse hierbo genoem. Fababone en Salicornia het ter sprake gekom, maar sal waarskynlik eers in 2002 verdere aandag geniet. 'n Volledige hersiening word beplan vir 2002.