Navorsingsverslag 2015/2016
3.
Beleidsbesluite
Die Raad van die PNS doen jaarliks 'n interne oudit van aksies en aktiwiteite deur middel van dinkskrums by die Tegnologiekomitee, die Dagbestuur en soms ook by die Raad self. Die afgelope jaar was geen uitsondering nie en etlike beleidsbesluite is deur die Raad geneem om die verbeterde funksionering van die PNS te verseker, ter bevordering van die doelstellings maar ook om erkenning te gee aan individue en instansies wat besondere bydraes gelewer het.
Die druk op beide die Sojaboon- en Canolabedrywe het tot gevolg gehad dat die Raad besluit het om enersyds die Canolabeplanningstaakspan te omvorm tot 'n Raadskomiteevte wete 'n Canolabeplanningskomitee (CBK) en ten opsigte van Sojabone weer 'n Sojaboonbeplanningstaakspan in die vorm van 'n Sojaboonbeplanningskomitee in die lewe te roep. Vanweë praktiese oorwegings het die Sojaboonbeplanningskomitee nooit werklik op dreef gekom nie en is sojabeplanningsaktiwiteite na die Tegnologiekomitee verwys. Die Canolabeplanningskomitee het egter goed gefunksioneer en Mnr Franco le Roux van SOILL is as lid op die CBK gekoöpteer tot einde 2016. Die Canolabeplanningskomitee se lynfunksie is gekoppel aan die Dagbestuur.
Nadat daar verlede jaar besluit is om die Super Sojakompetisie in KwaZulu-Natal te staak het die PNS besluit op 'n nuwe Opbrengskompetisie met slegs 'n enkele prys ter waarde van R25 000.
In die Navorsingsverslag van die vorige jaar is gemeld dat die PNS dit oorweeg om 'n Internasionale Sojaboonsimposium aan te bied gedurende 2015. Hierdie simposium het inderdaad plaasgevind op 21 en 23 Julie onderskeidelik in Delmas en op Nampo Park buite Bothaville. Meer detail hieromtrent sal later onder sojabone toegelig word.
Na aanleiding van die vordering wat gemaak is met die gereelde bekendstelling van nuwe sojabooncultivars in Suid-Afrika het die Raad besluit om erkenning te gee aan daardie individue uit Argentinië en Brasilië wat grootliks meegehelp het om die sojabedryf op 'n baie stewige fondament te vestig. Soos reeds gemeld is eretoekennings gemaak aan Drs N Neumaier en M de Oliveira van EMBRAPA asook Dr D Ploper en Mnr M Devani van EEAOC in Argentinië vir hulle besondere bydraes tot die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf.
Dit is verlede jaar genoem dat die PNS dit oorweeg om te onttrek van die nasionale cultivarproewe vir beide sojabone en canola. Die Raad het die afgelope finansiële jaar finaal besluit dat geen verdere befondsing aan nasionale cultivarproewe toegestaan sal word nie.
In die verlede het die PNS 'n baie spesifieke finansieringsbeleid gehad wat goed gewerk het. Ongelukkig het etlike groot navorsingsinstansies, waarskynlik vanweë gebrekkige administrasie, nie befondsing op 'n deurlopende basis aangevra nie en gevolglik ook nie finale verslae ingedien soos deur die PNS vereis nie. In die lig hiervan het die Raad 'n besluit geneem dat finale verslae en uitstaande eise binne ses maande na die afhandeling van 'n projek ingedien moet word. Indien daar nie aan hierdie vereistes voldoen word nie sal die uitstaande befondsing van projekte verbeurd verklaar word. Die PNS glo dat hierdie nuwe reëls die administrasie aan beide die ontvanger en die PNS se kant meer vaartbelyn sal maak.