Navorsingsverslag 2015/2016
4.
Proteïenbronne
Indeks
- 4.1 Internasionaal
- 4.2 Plaaslike produksie van proteïen
- 4.2.1 Algemeen
- 4.2.1.1 Navorsing en tegnologie-oordrag
- 4.2.1.2 Kongresse / Simposia
- 4.2.1.3 Algemeen
- 4.2.2 Sojabone
- 4.2.3 Canola
- 4.2.4 Sonneblom
- 4.2.5 Vismeel en ander proteïenbronne
- 4.2.1 Algemeen
- 4.3 Pers van olie- en proteïensade
- 4.3.1 Volvetvervaardigers
- 4.3.2 Oliepersbedryf
- 4.4.1 Veevoervervaardigers
- 4.4.2 Pluimvee en varke
- 4.4.2.1 SAPV-Administrasie
- 4.4.2.2 Eierorganisasie
- 4.4.2.3 Braaikuikenorganisasie
- 4.4.2.4 SAVPO
- 4.4.3 Menslike verbruik
4.1
Internasionaal
Internasionale sojaboonproduksie het van 314 miljoen ton aan die begin van die jaar gestyg tot 318.9 miljoen ton. Aan die einde van die finansiële jaar in Januarie 2016 is 'n projeksie gemaak van 320 miljoen ton sojabone waarvan die VSA 'n verwagte 105.8 miljoen ton sou produseer en Brasilië ongeveer 100 miljoen ton. Suid-Afrika het vir die eerste keer die afgelope seisoen die 1 miljoen ton kerf verbygesteek wat opsigself 'n besondere prestasie is. Uitvoer na China styg jaarliks tot ongekende hoogtes en so het Brasilië in Augustus 2015 'n ongelooflike 8.71 miljoen ton vir die maand uitgevoer.
Internasionale sonneblom produksie het egter die afgelope jaar slegs 41.2 miljoen ton beloop.
Vismeel met 67% proteïen het 'n prys van US$2100 per ton behaal.
4.2
Plaaslike produksie van proteïen
4.2.1
Algemeen
Die dissipline Plantproduksie, is 'n belangrike basis vir die verhoogde produksie van proteïen vir dierevoeding wat die hoofdoel van PNS aksies vorm.
Hierdie portefeulje sluit in onder andere die volgende vakgebiede:
- Akkerbou
- Gewasfisiologie / Plantfisiologie
- Grondkunde / Plantvoeding
- Onkruidwetenskap
- Plantpatologie
- Entomologie
- Nematologie
4.2.1.1
Navorsing en Tegnologie-oordrag
Die PNS bevorder navorsing en tegnologie-oordrag deur fondse te verskaf vir projekte deur die Departemente van Landbou, universiteite en ander medewerkers (privaatmaatskappye, buitelandse instansies e.a.).
4.2.1.1.1 Landbounavorsingsraad (LNR)
Die navorsingskapasiteit van die LNR neem reeds sedert 1998 op 'n konstante basis af weens politieke inmenging in besluitneming. Gevolglik het die aantal projekte wat aan die PNS voorgelê word vir befondsing drasties verminder.
Slegs die LNR-IGG te Potchefstroom en die LNR-NIPB te Stellenbosch doen nog enigsins werk op sojabone en canola.
4.2.1.1.2 Provinsiale Departemente van Landbou
Van al die Provinsiale Departemente van Landbou doen slegs die Departement van Landbou van die Wes-Kaap (DLWK) projekte van hoogstaande gehalte op canola wat deur die PNS befonds word.
4.2.1.1.3 Universiteite
Die Universiteit van Stellenbosch (U.S) hanteer projekte op canola wat deur die PNS befonds word.
Die U.S bied ook 'n kantoor aan Prof André Agenbag wat na sy aftrede die canolabevorderingswerk in die Wes-Kaap vir die PNS koördineer.
4.2.1.1.4 Medewerkers
Die verswakking in navorsingskapasiteit het die PNS genoop om die klem te verskuif vanaf navorsing na tegnologie-oordrag.
Tans vind daar groter samewerking plaas met plaaslike en multidissiplinêre maatskappye. Plaaslike saadmaatskappye en instansies soos Du Pont / Pioneer, BASF, Bayer e.a. werk daadwerklik saam in hierdie aksie.
'n Tipiese voorbeeld van hierdie samewerkingsaksie is die PNS se sojabooneliteprogram. Dit vind plaas op ses (6) lokaliteite verteenwoordigend van die belangrikste sojaboonverbouingsareas:
- Stoffberg – Verteenwoordigend van die hoërliggende Noordelike Hoëveld (koel gebied)
- UP (Hatfield) – Verteenwoordigende van die Suidelike Hoëveld (matig tot warm gebied)
- Brits – Vol besproeiing, verteenwoordigende van die warm Noordelike besproeiingsgebiede (warm gebied)
- Potchefstroom – Verteenwoordigend van die Westelike produksiegebied (matig tot koel gebied)
- Bethlehem – Verteenwoordigend van Oos- en Noord-Vrystaat (koel gebied)
- Ukulinga (Pietermaritzburg) – Verteenwoordigend van KwaZulu-Natal (warm gebied)
Sestig (60) lyne van vyf verskillende instansies uit Suid-Amerika is saam met vyf plaaslike kontroles op die ses (6) lokaliteite aangeplant vir evaluering van aanpasbaarheid by plaaslike toestande. Die groeiseisoenlengte van die lyne het gewissel tussen M.G. 4.0 tot M.G. 7.0.
Vyf (5) lyne is reeds plaaslik geregistreer as cultivars om hier te bemark en 'n verdere vier (4) lyne is tans onder oorweging deur die Departement van Landbou (DAFF) vir vrystelling as cultivars.
Twee van die kontrakteurs van die PNS (Mnre W van Wyk en G de Beer) is betrokke en verantwoordelik vir die uitvoer van hierdie proewe.
Die medewerkers was weereens hoogs tevrede met die gehalte van die werk. Die PNS het beide (Mnre W van Wyk en G de Beer) gedurende Januarie / Februarie 2016 gestuur vir 'n studietoer na Suid-Amerika en dit is opvallend dat beide grootliks gebaat het by hierdie toer. Dit is dus geld wat goed aangewend is.
Ten opsigte van canola hanteer die DLWK die canola-eliteproewe en is daar gereeld inskrywings vanaf plaaslike maatskappye soos Agricol, K2 Agri, Du Pont / Pioneer en Bayer. Die afgelope jaar het 'n instansie uit Suid-Amerika ook nege (9) lyne gestuur vir evaluering in hierdie proewe.
4.2.1.2
Kongresse / Simposia
Die Gesamentlike Kongres (vier vakverenigings) en die Grondgedraagdesiekte Simposia is bygewoon deur verteenwoordigers van die PNS. Daarbenewens het die PNS 'n Onkruidbeheersimposium vir sojabone aangebied op twee lokaliteite (Ooste en Weste) in Suid-Afrika.
4.2.1.2.1 Gesamentlike Kongres
Vier plantproduksie vakverenigings hou jaarliks 'n gesamentlike kongres:
- Suid-Afrikaanse Vereniging vir gewasproduksie;
- Grondkunde Vereniging van Suid-Afrika;
- Suider-Afrikaanse Vereniging van Onkruidwetenskappe;
- Suider-Afrikaanse Vereniging van Tuinbouwetenskappe.
Hierdie kongres het plaasgevind te Bloemfontein vanaf 18-21 Januarie 2016 en is namens die PNS bygewoon deur Dr Jan Dreyer wat verslag gedoen het aan die PNS. Opsommings van die referate en die program is beskikbaar by die PNS-kantore.
Die Hoofsprekers by die kongres was die volgende:
- Dr Glen Taylor, Hoof van navorsing, Universiteit Vrystaat – "Challenges facing research at Universities".
- Dr Lynn Sosnoskie, Onkruidnavorser, Universiteit Kalifornië – "Conservation tillage and its effects on weed ecology and management with a special emphasis on herbicide resistance and sustainable crop production".
- Prof Chris C du Preez, Hoof Grondkunde Departement, Universiteit Vrystaat – "A glimpse into the past, present and future trends in soil science".
- Prof Roland Schulze, Universiteit van KwaZulu-Natal – "Whither the weather or whether we wither? Peeping through the looking glass into a climate changed world."
Volgens Dr Taylor is die vlak waarna universiteite strewe 'n sogenaamde "platvorm universiteit". Groter klem sal geplaas word op patente en intellektuele eiendom. Om dit te bereik is talentvolle navorsers nodig – iets wat Suid-Afrika nie in oorvloed het nie.
Dr Sosnoskie wys daarop dat "Bewaringsboerdery steeds aktief vorder in die V.S.A, maar weerstandige onkruide skep groot probleme in die praktyk waar produsente enkelaksie onkruiddoders herhaaldelik gebruik en sodoende weerstandbiedende onkruide bevorder. 'n Holistiese benadering tot onkruidbeheer is noodsaaklik."
Volgens Prof Du Preez word die menslike faktor toenemend in die navorsingsagenda van die landbou ingetrek. Een aspek wat internasionaal as belangrik beskou word is die rol van grondgesondheid in die welsyn van die mens.
Ten opsigte van die "weer" wys Prof Schulze daarop dat die verwagte 2⁰C warmer aarde in 2050 en 4⁰C warmer in 2090 groter gevalle van ekstreme weer tot gevolg sal hê. Produksiegebiede sal noodwendig verander met meer klem op droogtebestandheid by gewasse.
Die kongres is goed bygewoon (nagenoeg 500 mense). Vyf (5) uit die 143 lesings het gehandel oor sojabone. Die tendens dat meeste lesings deur studente gelewer word is weereens waargeneem.
'n Meer volledige verslag oor die kongres is beskikbaar by die PNS-kantore.
4.2.1.2.2 Onkruidsimposium
Hierdie simposium is deur die PNS gereël met Dr Jan Dreyer as sameroeper en het plaasgevind op 21 Julie 2015 op die Delmasskouterrein en te NAMPO-park (Bothaville) op 23 Julie 2015.
Die volgende sprekers het opgetree by die simposium:
- Mnr GJH Scholtemeijer, Programbestuurder te Delmas.
- Mnr A Theron, Programbestuurder te Bothaville.
- Prof Stevan Z Knezevic, Universiteit van Nebraska – "The effect of weed competition on soybean yield".
- Prof Charlie Reinhardt – "Soybean herbicides, their mode of action and the control of resistance plants".
- Dr Brian de Villiers – "Water quality, additives and general practices for better weed control".
- Mnr Cobus van Coller – "Practical aspects of weed control in soybeans".
Die simposium is deur nagenoeg 300 mense bygewoon en het groot lof van almal ontvang.
Uit die reaksie van die simposiumgangers was dit duidelik dat veral die volgende aspekte die kol getref het:
- Die kwantifisering van opbrengsverliese is klaarblyklik nuut vir die meeste. Produsente weet onkruid veroorsaak verliese maar die persentasie en vroeë stadium was 'n openbaring.
- Die allelopatiese invloed van bekende onkruid het ook wye reaksie ontlok. Hierdie aspek sal na alle waarskynlikheid ook die beheer van voorplantonkruide hoër op die prioriteitslys plaas.
- Waterkwaliteit en veral die regstelling daarvan asook die invloed van soute op die doeltreffendheid van chemies beheer, kan beter beheer word en hoër opbrengste verseker.
- Die lesings is na die praktyk gebring deur die bydrae van 'n produsent (Mnr van Coller) en sodoende is die geloofwaardigheid verhoog.
4.2.1.3
Algemeen
'n Groot aantal artikels het verskyn in tydskrifte soos Die Landbouweekblad, Farmer's Weekly, Graan Suid-Afrika, Oilseeds Focus, Canola Focus e.a. om sojaboon- en canolaverbouing te promoveer.
4.2.2
Sojabone
Die alles oorheersende doelstelling van die PNS is steeds om meer proteïen vir dierevoeding plaaslik te produseer om ingevoerde proteïen te vervang.
Prosessering van sojabone in Suid-Afrika het die afgelope jaar letterlik maandeliks toegeneem. Die tonnemaat wat in Maart in 2015 verwerk is het 61 000 ton beloop, in April 71 000 ton en 89 000 ton in Mei. 'n Ongelooflike 115 000 ton is gedurende Julie 2015 verwerk.
In die verslagjaar 2013/14 het die proteïen vraag en aanbod situasie vir die eerste keer 'n gelykbreekpunt bereik. In 2014/15 het die skaal egter na plaaslik geproduseerde proteïen geswaai en is 61% van proteïen vir diereverbruik plaaslik geproduseer. Vir die verslagjaar 2015/16 het hierdie syfer na 68% gestyg, uiteraard tot groot vreugde van die PNS. Ons glo dat beide sojabone en canola steeds in die volgende jare sal groei en dus die gaping tussen plaaslike produksie en selfvoorsienendheid al verder sal laat krimp. Daar is tans nie noemenswaardige meningsverskille hieromtrent nie. Verskille bestaan egter net ten opsigte van wanneer dit sal gebeur, die PNS wat vertrou dat dit in die plantseisoen 2020 reeds kan gebeur terwyl BFAP dit stel op 2024.
Die sojaboonbedryf ondervind steeds knelpunte alhoewel dit baie goed gaan. Seker die belangrikste probleem is die lae gemiddelde opbrengste wat per hektaar geproduseer word. Die sojaboonsimposium wat die afgelope jaar aangebied is met 'n verskeidenheid sprekers het spesifiek hierop gekonsentreer. Soortgelyk het die PNS sy sojaboonkontrakteurs Mnre Wessel van Wyk en Gawie de Beer na Suid-Amerika gestuur met die oog op breër blootstelling as bloot die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf.
Etlike ander interessante gebeure ten opsigte van die sojaboonbedryf verdien vermelding. 'n Artikel in die Landbouweekblad van Junie 2015 het melding gemaak dat 'n produsent van Thabazimbi 'n Mnr Kruger Robertse 'n opbrengs van 7 ton per hektaar met sy sojabone ervaar het, wat 'n uitnemende prestasie is.
Die sojaboonopbrengskompetisie het ook meer momentum gekry en die eerste aanduidings is dat Pioneer hierdie kompetisie 'n nasionale een wil maak met verskillende streke wat sal kwalifiseer vir aansienlike prysgeld per streek.
Die eindpunttantiémestelsel wat tans vir koring beding word lyk baie belowend en die moontlikheid bestaan inderdaad dat die nuwe "Round up Ready 2" sojabone van Monsanto wel voor 2020 in Suid-Afrika beskikbaar sal wees. Met hierdie aspekte in ag geneem het die PNS volstaan by sy mikpunt van 1 miljoen hektaar en 2.5 miljoen ton opbrengs vir sojabone nie later as die plantseisoen 2020 nie.
Die jaarlikse sojaboonwebstudie deur Mnr Jan du Preez het weer groot belangstelling uitgelok en dra inderdaad by daartoe dat die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf op hoogte bly met die nuutste ontwikkelinge dwarsoor die wêreld.
Met die afgelope seisoen se 687 300 hektaar en 1 059 850 ton sojabone het die wisselbou verhouding tussen mielies en soja op 80/20 te staan gekom. Dramatiese vordering is die afgelope aantal jaar gemaak en met die veranderinge hierbo genoem in ag geneem blyk die ideaal waarna die PNS streef van 70/30 in 2020 nie buite bereik te wees nie.
Sonneblom en sojaboon het na aanleiding van die droogtetoestande wat met die nuwe seisoen gepaard gegaan het 'n rekordprys van R7 000 per ton behaal wat ongekend is in die Suid-Afrikaanse sojaboon- en sonneblombedryf.
Die kritiese droogte van die 2015/16 seisoen het reeds in Februarie 2016 duidelik geblyk en is oesskattingsyfers aangepas na 519 800 hektaar en 724 600 ton.
Ten spyte van die droogte en gevolglike swak landbou omstandighede het die toetrede van etlike van die grootste sojaboon saadmaatskappye tot die Suid-Afrikaanse mark die bedryf moed gegee dat baie groot groei steeds moontlik is wanneer die klimaatsomstandighede na normaal verander.
Ten slotte kan gemeld word dat die stigting van Suid-Afrikaanse Sojaboonvereniging vêr gevorder is om alle onduidelikhede oor die situasie rondom sojabone in Suid-Afrika finaal uit te klaar.
4.2.3
Canola
Met groot verwagtings, maar ook met 'n bietjie onsekerheid, is uitgesien na die 2015 seisoen. Met die 95 000 ha aanplantings in die 2014/15 seisoen en die ontydige afbreek van die reënseisoen aan die einde van Augustus 2014, wat 'n baie negatiewe impak op opbrengste tot gevolg gehad het nog vars in die geheue, was die verwagting dat 'n geringe afname in hektare aangeplant kan voorkom as gevolg van die laer as verwagte opbrengste wat voorgekom het. Die grootste impak op die 2015/16 aanplantings was egter die invloed van die reënseisoen wat baie laat begin het, in die Swartland eers teen 30 Mei 2015. Sien Figuur 4 Swartland en Figuur 5 Suid-Kaap reënval.
Figuur 4Langgewens Reënval 2015
Figuur 5Rietpoel Reënval 2015
Hierdie ongunstige planttoestande het tot gevolg gehad dat aanplantings in veral die Swartland gebied noemenswaardig afgeneem het en wat tot gevolg gehad het dat die totale oppervlak geplant 78 050 ha was.
Ongelukkig was die laat begin van die seisoen die minste van die probleme en soos in Figuur 4 gesien kan word , was 2015 vir die Swartland 'n uiters swak reënjaar en het die gebied slegs 51% van die normale reënval gekry met bykans geen reën gedurende die tweede helfte van die seisoen nie. Die Suid-Kaap gebied was meer normaal en bo-gemiddelde oeste is gerealiseer. Hierdie natuurramp het tot gevolg dat die gemiddelde oeste afgeneem het tot 1.19 t/ha en in totaal slegs 93 000 ton geoes is.
Waardevolle inligting en resultate kom ook na vore in hierdie abnormale jaar. Uit die Canola Opbrengskompetisie resultate is dit duidelik dat canola 'n baie droogteverdraagsame gewas is. Die gemiddelde opbrengste wat in die Suid-Kaap met hulle normale seisoen behaal word wissel van 1.28 t/ha tot 2.4 t/ha terwyl die opbrengste in die droogtegeteisterde Swartland wissel tussen 0.7 t/ha tot 2.1 t/ha.
Die impak op koringoeste was substansieel groter en is slegs 'n derde van normale opbrengste gerealiseer.
Sien Figure 6 en 7 vir die gevolge van hierdie droë jaar op die langtermyn opbrengsdata per hektaar.
Figuur 6Langtermyn tendens in oppervlakte beplant, totale produksie en opbrengs van canola produksie in Suid-Afrika
RSA Canola (kommersieël) | |||
---|---|---|---|
Bemarkingsjaar | Oppervlakte Beplant (Ha) | Produksie (Tonne) | Ton/ha |
1992/1993 | 400 | 400 | 1.00 |
1993/1994 | 1 000 | 1 170 | 1.17 |
1994/1995 | 4 500 | 5 230 | 1.16 |
1995/1996 | 16 000 | 14 320 | 0.90 |
1996/1997 | 12 600 | 10 880 | 0.86 |
1997/1998 | 14 800 | 15 720 | 1.06 |
1998/1999 | 17 000 | 21 000 | 1.24 |
1999/2000 | 25 000 | 23 000 | 0.92 |
2000/2001 | 21 145 | 26 549 | 1.26 |
2001/2002 | 27 000 | 25 750 | 0.95 |
2002/2003 | 33 000 | 37 975 | 1.15 |
2003/2004 | 44 200 | 40 770 | 0.92 |
2004/2005 | 44 250 | 32 000 | 0.72 |
2005/2006 | 40 200 | 44 200 | 1.10 |
2006/2007 | 32 000 | 36 500 | 1.14 |
2007/2008 | 33 200 | 38 150 | 1.15 |
2008/2009 | 34 000 | 30 800 | 0.91 |
2009/2010 | 38 060 | 45 660 | 1.20 |
2010/2011 | 34 820 | 36 900 | 1.06 |
2011/2012 | 43 510 | 58 800 | 1.35 |
2012/2013 | 44 100 | 79 650 | 1.81 |
2013/2014 | 72 165 | 112 000 | 1.55 |
2014/2015 | 95 000 | 123 500 | 1.30 |
2015/2016 | 78 050 | 93 000 | 1.19 |
Die fokus op die bestuur van canolaverbouing bly krities belangrik en sal die PNS hierdie tegnologie-oordragaksie moet volhou, alhoewel resultate van hierdie opleidingsinisiatiewe alreeds baie duidelik sigbaar is in die praktyk op plase. Tegnologie oordrag bly 'n uiters belangrike faktor om die canolabedryf 'n ekstra hupstoot te gee. In hierdie verband is goeie vordering gemaak met die reëlings vir 'n beplande canolasimposium in 2016. Die hoofspreker, Dr John Kirkegaard het reeds die uitnodiging na Suid-Afrika aanvaar. 'n Algemene beginsel van wat tans aandag geniet is dat oliesade se gemiddelde opbrengs per hektaar in Suid-Afrika te laag is. In die lig hiervan is besluit dat die tema van die 2016 canolasimposium vasgestel sal word as "Producing 5 ton canola crops". Samewerking met ander internasionale groepe sal gesoek word in 'n poging om belangrike insette van internasionale kundiges te bekom. Die canolabeplanningskomitee ondersoek tans die moontlikheid om 5 ton per hektaar canola onder besproeiing as 'n uitdaging aan relevante produsente te rig.
Die beskikbaarheid van saad is 'n positiewe suksesverhaal vir die PNS. Die jarelange stryd met die saadmaatskappye om tydig die beste kultivars beskikbaar te hê, het baie goeie vrugte gelewer en sien ons die resultate daarvan. Die persepsie onder boere dat afskeepsaad vanuit Australië ingevoer word, is weerlê en kan die gevolge in die verskeidenheid van kultivars beskikbaar gesien word. Dit is nou in die beste belang van Produsente dat hulle betyds hulle saadbestelling moet plaas sodat hierdie aksie volgehou kan word.
Die PNS visie en vasberadenheid om ons horisonne te verbreed rakende nuwe kultivars uit ander lande as Australië, is reg bewys met die kultivar Belinda van Bayer uit Europa wat kommersieel in 2015 die eerste keer aangeplant is en 'n reuse sukses was. 'n Bemoedigende aspek is dat daar berig is dat 38 nuwe cultivars ingeskryf is in die eliteproewe wat deur die Departement van Landbou, Wes-Kaap gedoen word. Die canolabedryf sien uit na die toetrede van meer besondere goeie nuwe cultivars tot die spektrum wat tans bestaan.
Die program wat die PNS geloods het om die chemiese verteenwoordigers op te lei in die beplanning en bestuur van canola, veral in die Swartland gebied, lewer uitstekende resultate en kan die gevolg daarvan in die keuses van kultivars, die bestuur van onkruid en die tydige bespuiting vir die voorkoming van sclerotinia duidelik waargeneem word. Hierdie opleidingsaksie het tydens Februarie in die Swartland plaasgevind en is deur 55 chemiese verteenwoordigers bygewoon. In 'n soortgelyke aksie gaan die jaarlikse besoeke van die canolawerkgroep aan beide die Suid-Kaap en die Swartland nasionale cultivarproewe steeds voort en is in baie opsigte 'n ideale vertoonvenster vir die nuutste cultivars wat in Suid-Afrika geregistreer word. Daar word ook gepoog om voortdurend interessante sprekers te nooi om die canolawerkgroep toe te spreek oor onderwerpe van belang.
Die bestuur van onkruid bly 'n uitdaging en is die beskikbaarheid van Roundup Ready kultivars 'n moet vir die toekoms. So 'n aspek sal baie positief wees om die PNS in staat te stel om sy canola mikpunt van 150 000 hektaar in 2020 met 'n opbrengs van 250 000 ton te sien realiseer.
In 2015 is ook begin van die PNS Canola-opbrengskompetisie. Na deeglike oorweging is besluit om die bestaande Super Canolakompetisie wat sedert 2000 aangebied word en hoofsaaklik as 'n opleidingshulpmiddel aangewend was, tot in einde te bring en net te fokus op opbrengs. Met prysgeld van R25 000 per streek was hierdie kompetisie van meet af 'n reuse sukses. Vir Prof Andre Agenbag was die geloofwaardigheid en presiese meting binne die spelreëls ononderhandelbaar en het hy met die hulp van sy medewerkers presies dit gedoen. Die wenner van die Suid-Kaap was AG Joubert en Seuns van Kweekkraal, Riversdal met 'n opbrengs van 2.41 t/ha. Die wenner van die Swartland was Andre Brink van Groot Phesantekraal met 'n opbrengs van 2.186 t/ha.
Kultivarproewe is dan ook in die Somerreënvalgebiede by Groblersdal, Beestekraal, Brits en Vaalharts aangeplant deur 'n nuwe kontrakteur van die PNS Mnr Willie Jonker. Fokus is veral geplaas op tyd van plant, kultivars, saaidigtheid, stikstofbemesting en besproeiing. Ryp, hoë temperature en sclerotinia is 'n uitdaging. Die positiewe gesindheid van produsente jeens canola bevestig die betrokkenheid van die PNS in hierdie gebied. Baanbrekerswerk lê voor.
Waardevolle werk word tydens die kultivarevaluasieprogram deur Mnr Piet Lombard van die DLWK gedoen en een van die hoogtepunte van 2015 was dan ook die besoek van Dr Hector Milisich verbonde aan INTA, Argentinië. Sy kultivars word in hierdie program ge-evalueer. Hierdie is 'n uitvloeisel van die PNS soeke na beter kultivars.
Die Inkomste/kosteramings, vir die berekening van brutomarges vir canola, word deur Mnr SG Ferreira op datum gehou en met die PNS medewerkers, die Landbouekonome van al die Wes-Kaap Landboubesighede word daar seker gemaak dat die inligting relevant, tydig en akkuraat is. Hierdie hulpmiddel word met groot vrug in die bemarking van canola gebruik.
Die Canolafokus is steeds 'n uitstekende hulpmiddel in die kommunikasie van inligting met produsente. Die besluit om die Canolafokus net per elektroniese pos te versprei werk baie goed. Die versoek vir harde kopieë word selde gerig.
Die hoogtepunt van 2015 was verseker die besoek aan die 14th International Rapeseed Congress, Saskatoon, Canada. Die kongres in deur Mnre Scholtemeijer, Theron, Cumming en Prof Agenbag bygewoon. Skakeling is met rolspelers gemaak wat groot waarde kan toevoeg (sien toerverslag op PNS webblad.)
Skakeling van onmeetbare waarde is ook bewerkstellig tydens die besoek van Mnre Scholtemeijer en Theron aan Noord-Amerika (sien toerverslag.) Hierdie kontakte is die sleutel tot sukses in die visie van die PNS.
4.2.4
Sonneblom
Sonneblom is steeds 'n gewas wat styg of daal na aanleiding van klimaatsomstandighede. In die 2014 seisoen is 598 950 hektaar aangeplant teenoor die 568 000 hektaar in 2015. Die negatiewe klimaatsomstandighede aan die begin van 2016 het daartoe aanleiding gegee dat die beplande oppervlakte verhoog het tot 687 500 hektaar en die opbrengs van 663 000 ton sal verhoog tot 'n verwagte 687 150 ton. Ten spyte van daadwerklike pogings deur die Oliesade Advieskomitee (OAK) om sonneblomproduksie 'n hupstoot te gee is daar geen aanduidings dat daar weer toegewyde sonneblom produsente sal kom in die naby toekoms nie.
4.2.5
Vismeel en ander proteïenbronne
Die geraamde vismeelproduksie vir 2015/16 in Suid-Afrika, Namibië en Angola (Tabel 1) illustreer baie stabiele produksie oor die afgelope vier jaar en die meeste vismeel word uitgevoer. In 2015 is 84% van die geproduseerde vismeel uitgevoer. Die heersende internasionale vismeelpryse is aansienlik hoër as in Suid-Afrika omdat vismeel in die akwakultuurbedryf gebruik word. Dit beteken 'n hoër waarde terwyl daar 'n uiters klein of geen ooreenstemmende mark daarvoor bestaan in Suid-Afrika nie.
Tabel 12012/2013 | 2013/2014 | 2014/2015 | 2015/2016 | |
---|---|---|---|---|
Plaaslike produksie * | 84 000 | 78 000 | 75 000 | 77 600 |
Uitvoere | 49 000 | 58 000 | 55 000 | 65 000 |
Beskikbaar in SA | 35 000 | 20 000 | 20 000 | 12 600 |
* RSA, Namibië, Russiese visskuite ingesluit.
Ander bydraes wat nie met vismeel en oliesaadmeelproteïen verband hou nie, wat bygedra het tot die voerbedryf in 2015/16, word soos volg geraam:
Bloedmeel – 9 000 ton, veremeel – 22 000 ton, mieliegluten (60%) – 19 000 ton, vleis en beenmeel – 5 000 ton, pluimvee-neweprodukte – 76 000 ton wat 'n totaal van 131 000 ton.
4.3
Pers van olie- en proteïensade
Die plaaslike perskapasiteit van sojabone het toegeneem van 600 000 ton in 2012 tot 1.35 miljoen ton in 2013. Dit is nou 'n geraamde 2.2 miljoen ton. Sonneblomparskapasiteit word geraam op 1.8 miljoen ton, terwyl die canolaperskapasiteit geraam word op 120 000 ton.
Weens die tekort aan sojabone vergeleke met perskapasiteit, is invoerpariteitpryse vir sojabone die norm. Persmarges is onder aansienlike druk en dikwels negatief wat beteken dat winsgewendheid in die persbedryf laer is as normaal.
Die oorskakeling na sojaboonmeel van invoere uit Argentinië tot meel wat plaaslik geproduseer word, duur voort. 'n Selektiewe getal sojaboonpers-aanlegte het gehalte verbeter om mee te ding met die ingevoerde produk.
Die ontleding van oliesade wat in 2015/16 verwerk is, lyk soos volg:
Soja vir menslike gebruik – 24 000 ton, volvetsoja – 122 000, sojabone vir soja-oliekoek – 988 000 ton, sonneblomsaad vir sonneblom-oliekoek – 737 000 ton, canolasaad – 125 000 ton (Figuur 8):
Figuur 8Oliesaad verwerk in 2015/16
4.3.1
Volvetvervaardigers
Die waarde van volvetsoja in pluimveevoerrantsoene word geraam op 1,15 keer die waarde van sojaboonmeel. Die feit dat Suid-Afrika 'n netto-invoerder was van sojabone in 2015/16 (125 000 ton) het daartoe gelei dat sojaboonpryse geneig is om invoerpariteit te behaal. Dit plaas druk op die ekonomiese lewensvatbaarheid van volvetsoja in voerrantsoene. Gebruik van volvetsoja het relatief konstant gebly en was 115 000 ton in 2015/16. Volvetsoja sal waarskynlik sy deel van die sojamark behou ten opsigte van voer, maar dit is onwaarskynlik dat dit sal toeneem.
4.3.2
Oliepersbedryf
Die plaaslike sojaboonparskapasiteit het toegeneem van 600 000 ton in 2012 tot 1.35 miljoen ton in 2013. Dit is nou 'n geraamde 2.2 miljoen ton. Sonneblomparskapasiteit word geraam op 1.8 miljoen ton, terwyl die canolaparskapasiteit geraam word op 120 000 ton.
4.4
Verbruikers van proteïen
4.4.1
Veevoervervaardigers
Gebalanseerde veevoer wat in 131 lande geproduseer word by 32 241 voermeulens staan op 'n geraamde 995 miljoen ton. Dit het teen 1,6% gegroei in 2015. Indien meng van voere op plase ingesluit word, word die volume geraam op 1.3 miljard ton. Pluimveevoer het teen 47% van die markaandeel, die totale voerproduksie in die wêreld oorheers. Suid-Afrika lê op die oomblik 22ste in die ranglys van wêreldwye voervervaardigers.
Die formele voerbedryf in Suid-Afrika (AFMA) noem dat verkope van voer teen 4,9% gegroei het in 2014/15. Dié groei het in 2015/16 afgeneem tot net 2,9% en sal na verwagting laer wees in 2016/17. Die afname in braaikuikenvoerverkope dui op die uitdagings in die huidige pluimveebedryf ten opsigte van groter invoervolumes, veral uit die Europese Unie.
AFMA-voerverkope (plus konsentrate) was 7 183 107 ton vir 2015/16. Dit behels 61,2% van die totale berekende nasionale voerproduksie van 11 736 738 ton. Die grootste AFMA-sektor bly pluimveevoer, teen 61%. Dit stem ooreen met globale tendense. Nasionaal, is die markaandeel van pluimvee (insluitend voer wat nie saamgestel is nie) laer as 39%. Nasionale voerproduksie word aangedui in Tabel 2.
Soort voer | AFMA-voer * | Nasionale voerproduksie ** |
---|---|---|
Suiwel | 1 000 422 | 2 136 384 |
Bees- en skaapvleis | 1 304 786 | 3 512 035 |
Varke | 320 185 | 905 977 |
Lêhoenders | 1 080 971 | 1 276 342 |
Braaikuikens | 3 322 282 | 3 323 278 |
Honde | 99 799 | 325 789 |
Perde | 41 646 | 135 670 |
Volstruise | 15 735 | 116 063 |
Akwakultuur | 5 281 | 5 200 |
Totaal | 7 183 107 | 11 736 738 |
* AFMA-statistiek (plus konsentrate) omgeskakel in saamgestelde voer
** Berekende volumes volgens APR-model
4.4.2
Pluimvee en varke
4.4.2.1
SAPV-Administrasie
Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) is radikaal aangepas, hoofsaaklik om die regering betrokke te kry ten opsigte van die invoer van pluimveeprodukte in die land. Net twee organisasies bestaan nou binne SAPV, naamlik 'n eierorganisasie en 'n braaikuikenorganisasie. Alle vorige liggame is opgeneem in dié twee organisasies. Dit beteken dat die vereniging aansienlik doeltreffender werk. Daar is gevolglik net twee algemene jaarvergaderings gehou by AVI Africa in 2016, voor die kongres self.
4.4.2.2
Eierorganisasie
Die voorsitter van die eierorganisasie, Robin Barnsley, het genoem dat lede van die organisasie ledegeld van R400 betaal, met 'n vrywillige heffing van 1 c/dosyn eiers wat verkoop word. Op die oomblik is net 70 produsente lede van die organisasie. Die bedryf is onder uiterste druk weens 'n kleiner vraag van verbruikers, stygende insetkoste, 'n wisselvallige geldeenheid (Rand) wat verswak en rentekoerse wat styg. Dit is gedeeltelik omdat ons die laagste jaarlikse reënval in 112 jaar ervaar het, maar ook weens die pryse van grondstowwe wat eksponensieel gestyg het en die koste van eierproduksie verhoog het. Die koste kan nie deurgegee word aan verbruikers nie. Druk is sterk op marges terwyl die kleinhandelmarge toegeneem het tot 65%. Produsente kry dus 'n krimpende gedeelte. Die gemiddelde produsenteprys is R14 per dosyn en die kleinhandelprys is R23 per dosyn.
Teen R16.65/kg is eiers die goedkoopste bron van diereproteïen. Braaikuikens kos R18.43, vark R22.83 en beesvleis tussen R27 en R34/kg. Die PPI vir eiers was baie laer as die ander indekse (soos die VPI) tot in Augustus 2015, waarna dit vinnig toegeneem het en nou bo die gemiddeld is.
Lêhoenders behels 24.9 miljoen henne. Die bruto waarde van eiers is R9.8 miljard, of 8.6% van diereprodukte in Suid-Afrika. Die per capita-verbruik van eiers is baie laag teen 150, vergeleke met 220 in Nieu-Zeeland, 260 in die VSA en 352 in Meksiko. Die eierorganisasie het generiese advertensies gestaak in 2015, weens druk van sy lede. Dit was waarskynlik 'n fout, gegewe die lae per capita-verbruik van eiers in die land.
4.4.2.3
Braaikuikenorganisasie
Die voorsitter van die braaikuikenorganisasie, Marthinus Stander het genoem dat die braaikuikenbedryf hom in 'n baie weerlose situasie bevind weens die storting van porsies, die ergste droogte in dekades, die skerp stygende voerpryse, druk wat verband hou met AGOA en nuwe pekelwaterregulasies. Dit het gelei tot pryse wat besnoei moes word vir produksie, konsolidasie en dat klein- tot mediumondernemings gesluit moes word. Invoer van teëlgrootouers is ontwrig weens voëlgriep in Europa en die VSA. Dit was egter 'n relatief goeie jaar vir die braaikuikenbedryf omdat die vraag meer was as die aanbod.
Die probleme ten opsigte van pekelwater is nog nie opgelos nie. SAPV was bekommerd dat laer soutwatervlakke hoender minder bekostigbaar sou maak, veral vir armer verbruikers. By DAFF lyk dit asof vasgestel is dat die metingspunt by verwerkingsaanlegte lê, nie by supermarkte nie. SAPV het vroeg in 2016 aangepaste voorstelle ingedien by DAFF en daar word gehoop dat die saak vanjaar opgelos kan word.
Teëlhoenders behels 6.7 miljoen henne, 1 062 miljoen kuikens het uitgebroei en 1 005 miljoen braaikuikens is verwerk. Die bruto waarde van pluimveevleis is R38.8 miljard, of 34% van diereprodukte. Kommersiële produsente verkoop 1.7 miljoen ton pluimveevleis per jaar. Daarvan is 1.65 miljoen braaikuikens, 33 000 teëlhoenders wat geslag word en 38 000 lêhoenders wat geslag word. Opkomende boere produseer 69 000 ton. Totale produksie is dus 1.79 miljoen ton. Die pluimveeverbruik is 2.23 miljoen ton, of 40.3 kg per capita.
Pluimvee-invoere het 478 000 ton bedra. Daarvan was 457 000 ton bevrore braaikuikens uit Brasilië (50%), die Europese Unie (41.7%), Nederland (13%) en België (7.4%). Porsies met bene bedra 42% van die totale invoere. Dit is 'n toename van 24% sedert 2014. Die ingevoerde pluimvee uit Brasilië behels 61% wat meganies ontbeen is, maar meer as 80% van die invoere uit die Europese Unie is porsies met bene.
Die uitvoer van braaikuikens het 72 444 ton (+9.2%) bedra teen 'n waarde van R1.232 miljard. Die verhoging is nietig vergeleke met die verhoging van 2013 tot 2014, wat 262% was.
4.4.2.4
SAVPO
Voerpryse het teen tussen 50 en 60% toegeneem oor die afgelope jaar. Dit het die koste van produksie verhoog met 'n uiters geringe verandering in pryse wat betaal word vir die produk. Die bedryf gaan onder 'n resessie gebuk.
Afrika-varkkoors het op twee plekke in Suid-Afrika uitgebreek. Daar word doelgerig gewerk om te voorkom dat die siekte versprei na wilde varke (vlakvarke). Dit kan die handel in vark- en varkprodukte in die land beïnvloed.
Die Alzu-groep het die PIC-franchise in Suid-Afrika oorgeneem, met alle PIC-plase en -bates met ingang 1 Junie 2016. Alzu is 'n multi-dimensionele en geïntegreerde organisasie in die landbou en het verskeie bedrywighede in verskillende bedrywe. Alzu Pig Genetics (Pty.) Ltd. wat handel dryf as PIC Suid-Afrika, se korporatiewe hoofkantoor sal in Middelburg, Mpumalanga, gesetel wees.
SARS se jongste syfers wat vir 2016 geoudit is, toon dat 'n totaal van 6 375 ton vark ingevoer is tydens die eerste drie maande van die jaar. In 2015 was totale invoere 3 586 ton. Ribbes het voorheen meer as 70% van die totale invoere behels, maar dit het verander en verteenwoordig nou net 47% van invoere. Ander snitte verteenwoordig 50%. Die belangrikste uitvoerlande was Spanje (34%), Duitsland (31%) en Kanada (10%).
4.4.3
Menslike verbruik
Die verwerking van sojabone vir menslike voedsel is steeds baie beperk en uiteraard is geen data beskikbaar oor enige tuisverbruik nie. Die plaaslike verwerking van sojabone het in 2015/16 effens gestyg van 23 170 ton in 2014/15 tot 24 323 ton. Verfynde sojaprodukte word grootliks ingevoer maar inligting insake die volumes is onbekend. Hopelik sal meer inligting kom wanneer die statutêre maatreëls ten opsigte van oliesadeprodukte waarskynlik in die volgende finansiële jaar in werking tree.