Navorsingsverslag 2015/2016

2.

 

Algemene oorsig


Nog 'n ondergemiddelde jaar in die Landbou het steeds groter druk op alle produsente geplaas. Hiermee saam het negatiewe internasionale sien­ings oor die ekonomie van Suid-Afrika die rand laat steier en verdere kostedruk op die landbou gemeenskap geplaas. Dit het druk op die PNS se finansiële bronne geplaas asook navorsingsbefondsing in die algemeen.

Die invloed van die ernstige droogte van die afgelope jaar gaan redelik lank onthou word deur alle Suid-Afrikaners. Amptelik word dit beskou as die droogste somerseisoen vir meer as 100 jaar. Die ekonomiese en maatskaplike gevolge sal nog vir etlike jare gevoel word. Die droogte het die eko­nomie swaar getref net toe agente wat lande beoordeel die land se kredietstatus oorweeg het. Die vermoë om die ekonomie te laat groei en werk te skep bly op die voorgrond as bronne van groot kommer. Dit lei ook tot vrae oor die landbousektor se prestasie en vermoë om by te dra tot die groei van die ekonomie. Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), word amptelik beskou as die bloudruk vir groei en transformasie. Ambisieuse teikens is gestel vir die landbousektor. Hoewel daar langtermynteikens is vir 2030, is dit die moeite werd om te kyk na die prestasie van die sektor nadat NOP in 2011 bekendgestel is.

Figuur 1

Landbouprestasie: groei in produksie 2011-2016

Bron: BFAP (Bureau for Food and Agricultural Policy), 2016

Grafiek met landbouprestasie vanaf 2011 tot 2016

Figuur 1 verteenwoordig die gemiddelde jaarlikse produksiegroeikoers van verskeie landboubedrywe en hulle deel van die totale landbou­produk­siewaarde. Die eerste belangrike waarneming is dat die meeste van die bedrywe wat geïdentifiseer is as potensiële wenners volgens NOP se groei- en werkverskaffingsmatrys, goed presteer het. Vanuit die PNS se perspektief is dit bemoedigend om te sien dat canola uitgestyg het as die top­presteerder in die landbousektor met produksie wat groei teen 'n gemiddelde jaarlikse koers van 6%. Sojabone is in die derde plek met produksie wat groei teen meer as 5% per jaar. Sonneblomproduksie het gedurende dieselfde tydperk gestagneer.

Met verloop van jare het BFAP konsekwent die relatiewe mededingendheid van ons bedrywe gemonitor vergeleke met die voorste landbou­produ­sente in die wêreld. Figuur 2 vergelyk Suid-Afrika se gemiddelde opbrengste vir die belangrikste veldgewasse oor die afgelope vyf jaar met ons grootste mededingers in die wêreld ten opsigte van invoer- en uitvoermarkte. Dit vergelyk ook die gemiddelde jaarlikse groeikoerse oor die afge­lope dekade met geprojekteerde koerse vir die volgende dekade, soos dit bereken is deur BFAP-Basislyn.

Figuur 2

Opbrengstevergelyking: Suid-Afrika en Internasionale 2005-2025

Bron: BFAP, 2016

Diagram met vergelykings tussen Suid-Afrikaanse en Internasionale opbrengste 2005-2025

Vir mielies en koring stem die gemiddelde jaarlikse groeikoerse ooreen met ons belangrikste mededingers. Om die waarheid te sê, sou ons gemid­delde jaarlikse toename in mielie-opbrengs in Suid-Afrika meer gewees het as 5% per jaar, as dit nie vir die droogte was nie. Dit sou dus ooreen­gestem het met die syfer vir Brasilië. Oor die algeheel het die groei in opbrengs en relatiewe produktiwiteit die Suid-Afrikaanse mieliesektor in staat gestel om globaal mededingend te wees op uitvoerpariteitvlak. Dit impliseer dat binnelandse mieliepryse oor die langtermyn ook geneig sal wees om nader aan uitvoerpariteitvlakke te verhandel. Dit is 'n kritieke aandrywer vir die mededingendheid van alle bedrywe wat afhanklik is daarvan, soos die voer- en braaihoenderbedrywe.

In geval van koring kan die groeikoers effens misleidend voorkom, omdat baie van die marginale gebied onder droëlandkoringproduksie in die Vrystaat nie produseer het gedurende die tydperk nie. Sekere dele van die gebied is opgeneem deur mielie- en sojaboonproduksie en ander dele van die gebied is weer opgeneem deur weiding. Ten spyte daarvan lyk dit asof die groeikoers van oliesaadopbrengste traag is. In geval van soja­bone het die vinnige uitbreiding ten opsigte van hektaar waarop geproduseer word, asook die droogte wat al in 2015 begin het in die westelike dele van die land, wel 'n invloed gehad op gemiddelde opbrengste. Daar was ook baie min gemiddelde groei in die sonneblomopbrengste.

Mens kan aanvoer dat dit baie ruwe en vereenvoudigde vergelykings is, maar dit word baie interessanter indien die historiese werklike opbrengste vergelyk word met die geprojekteerde plaaslike en globale opbrengste. Die BFAP-Basislyn projekteer sterk bulvooruitsigte met 'n vinnige toename in oliesaadopbrengste oor die geraamde tydperk weens beduidende beleggings en voorskotte op die oomblik in die bedrywe waar die PNS ook 'n belangrike rol speel. Indien die geprojekteerde groeikoers van 4% per jaar vir plaaslike sojabone oor die volgende dekade met die werklike en ge­projekteerde groeikoerse (volgens die OECD Outlook 2016) vir die VSA, Argentinië en Brasilië vergelyk word, besef mens dat daar 'n groot uitdaging voorlê vir die bedryf. 'n Geprojekteerde groeikoers van 4% per jaar lig die gemiddelde sojaboonopbrengste van 1.54 t/ha vir die eerste vyf seisoene tot 2.3 t/ha vir die volgende tien jaar.

Inligting om die nodige navorsing te lei, om algehele produktiwiteit en mededingendheid van die bedryf te verbeter, verg nie net inligting oor die gemiddelde opbrengste nie, maar ook insette en koste wat vereis word vir elke ton wat geproduseer word, asook die gehalte van die gelewerde produk wat verder verwerk word. Dit verg dus 'n holistiese benadering ten opsigte van die volledige waardeketting. In dié verband het BFAP deel­geneem aan 'n globale normbepaling oor die afgelope dekade. Data op plaasvlak, wat verband hou met die koste van produksie, boerderypraktyke, opbrengste en inkomste word jaarliks oor verskeie lande ingewin.

Figure 3

Internasionale Vergelyking van canolaproduksie in die Overberg

Bron: BFAP, 2016

Grafiek van internasionale vergelyking van canolaproduksie in die Overberg

Figuur 3 bied 'n volledige ontleding van koste vir canola (per ton wat geproduseer word) in verskeie lande. Die Suid-Afrikaanse plaas wat ingesluit is by die ontleding is 'n 2 500 ha prototipe/tipiese boerdery-eenheid in die Overberg-omgewing, met 'n gemengde gewasstelsel wat koring, gars, canola en lewende hawe insluit. Figuur 3 bied net 'n oorsig van die produksiekoste en die inkomste wat verband hou met die canolaonderneming. Uit die ontleding is dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse plaas goed vergelyk met die plase in lande soos Kanada en Duitsland, ten spyte van die hoër opbrengste wat aldaar behaal word. Suid-Afrika ding mee op 'n grondslag van gemiddelde koste per ton. Die markinkomste wat ons produ­sente ontvang vergelyk ook goed met die inkomste wat boere in Kanada ontvang. In Europa is die markpryse oor die algemeen hoër. Een van die belangrikste aandrywers van hoër canolapryse in Europa is die biodieselbedryf. Tot 'n mate dui die ontleding net 'n gedeelte van die prentjie aan. Om die toekomstige uitbreidingspotensiaal van canola in Suid-Afrika te projekteer, moet die relatiewe winsgewendheid van canola vergelyk word met alternatiewe gewasse soos koring en gars in die onderskeie Suid-Afrikaanse produksiegebiede.

Soos reeds genoem was die hoogtepunt van die jaar seer sekerlik die twee funksies in Pretoria en Stellenbosch onderskeidelik om PNS 25 te vier. Spesiale eretoekennings is aan die eerste voorsitter van die PNS Dr R Bigalke oorhandig sowel as aan twee verteenwoordigers van EEAOC in Argentinië, Dr D Ploper en Mnr M Devani wie reeds etlike sakke sout saam met die PNS geëet het. Twee verteenwoordigers van EMBRAPA naamlik Drs N Neumaier en M de Oliveira kon nie die glansfunksie bywoon nie en die nodige erkentlikheidstoekennings is tydens 'n latere vergadering aan hulle oorhandig.

Na 25 jaar het die tweede laaste stigterslid van die PNS, Mnr JSG Joubert finaal uit die PNS Raad uitgetree. Hy het besondere diep spore getrap in sy dienstydperk en die PNS eer hom daarvoor.

Daar is in die vorige navorsingsverslag melding gemaak dat die moontlikheid van 'n eie Oliesade tydskrif ondersoek word. Ons is besonder dank­baar dat die eerste uitgawe in Maart 2015 die lig gesien het. Daarna is daarin geslaag om elke kwartaal 'n verdere uitgawe te publiseer. Die PNS gee graag erkenning aan die Redakteur, Dr E Briedenhann en die Redaksie vir die verwesenliking van hierdie ideaal.

Daar is al 'n geruime tyd die behoefte aan 'n korporatiewe video, veral aangesien die PNS voortdurend buitelandse gaste ontvang. Die eerste kwotasie is goedgekeur en die PNS vertrou dat hierdie korporatiewe video vroeg in die volgende jaar die lig sal sien.

Baie tyd is bestee aan die opspoor van voormalige beursstudente sodat die PNS gereelde skakeling kan hou met afgestudeerde studente wat met PNS beurse gestudeer het. Soortgelyk is riglyne ten opsigte van beurse en projekaansoeke en alles wat daarmee verband hou herbesoek en opge­dateer.

Gewaspamflette van daardie gewasse waarby die PNS betrokke is word voortdurend opgedateer en is saam met 'n massa ander inligting beskik­baar op die PNS se webblad.

Die PNS wens graag te verwys na drie staande punte op die Raad se Sakelys tydens vergaderings. Eerstens wens die PNS die Oesskattingskomitee te komplimenteer dat hul daarin slaag om altoos nuwe inisiatiewe te neem om die syfers wat deur hulle gepubliseer word interessant en stimu­lerend te hou. Hiermee saam ook waardering aan SAGIS wat 'n baie belangrike rol speel in gewasproduksie en altyd bereid is om mee te help en toeligting te verskaf. Derdens wens die PNS ook erkenning te gee aan Dr Lourens du Plessis vir sy kwartaalverslae oor die biobrandstofbedryf en verwante aangeleenthede. Ongelukkig blyk dit dat die RSA die biobrandstof bus verpas het en is daar besluit dat hierdie baie insiggewende verslag as gevolg van gebrek aan vordering gestaak word na die eerste kwartaal van 2016. Nog 'n bedryf wat erg onder druk is, is die braaikuiken bedryf. Die PNS het geen twyfel dat die chaotiese toestande wat tans aldaar voorkom 'n geruime tyd sal voortduur alvorens stabiliteit weer sal terugkeer. Ons wens hierdie baie belangrike en omvangryke bedryf spoedige beterskap toe.