Navorsingsverslag 2016/2017
3. Beleidsbesluite
Die alom bekende eliteproewe vir beide sojabone en canola het reeds die meriete van hierdie projek op verskillende maniere bewys. Aangesien die sojabooneliteproewe reeds gelei het tot die registrasie van etlike sojabooncultivars in Suid-Afrika het die Raad besluit dat hierdie sojaboonproewe binne die volgende twee jaar uitfaseer moet word. Daar word egter reeds na verskillende moontlikhede gekyk om steeds met ons buitelandse medewerkers saam te werk en die belangrike verhoudings wat opgebou is te behou (sien projekte vir detail).
Die samewerking ten opsigte van die eliteproewe het noodwendig tot gevolg gehad dat van die voorste sojaboontelers die PNS jaarliks besoek. Daar word steeds baie waardevolle kennis uitgeruil tydens hierdie besoeke. In die lig hiervan het die Raad besluit om ons sojaboonkundiges Mnre Wessel van Wyk en Gawie de Beer vir 'n soortgelyke praktiese studietoer na Estación Experimental Agroindustrial "Obispo Colombres" (EEAOC) in Argentinië te stuur tydens die soja seisoen. Hierdie baie suksesvolle besoek het gedurende Januarie 2016 plaasgevind.
Tydens die besoek van EMBRAPA (Brasil) navorsers naamlik Drs Norman Neumaier en Marcelo de Oliveira aan die sojabooneliteproewe, is van die geleentheid gebruik gemaak om eretoekennings aan hulle te oorhandig soos reeds verlede jaar besluit is.
Daar is ook reeds vir etlike jare 'n gebrek aan 'n nasionale verteenwoordigende liggaam ten opsigte van beide sojabone en canola in Suid-Afrika. Na beraadslaging oor 'n wye front het die PNS besluit op die stigting van die Suid-Afrikaanse Sojaboonvereniging asook die Suid-Afrikaanse Canolavereniging en die daarstel van verwysingswebblaaie sodat internasionale navrae hanteer kan word en ook verwys kan word.