Navorsingsverslag 2016/2017

2.   Algemene oorsig

Die hoogtepunt van verlede jaar se navorsingsverslag was die viering van die PNS se 25ste bestaansjaar. Die hoogtepunt van hierdie jaar en ook 'n mylpaal in die PNS se geskiedenis was ongetwyfeld die publikasie van die gedenkboek met die titel "The development of the Protein Research Foundation".

Die Raad het besluit dat die amptelike oorhandiging van die eerste eksemplare van die gedenkboek sal geskied tydens 'n spesiale funksie. Die amptelike oorhandiging in die Noorde is tydens 'n funksie op 4 Oktober aan die vorige Voorsitter van die PNS, Dr R Bigalke gemaak. Soortgelyk is die eksemplaar in die Suide op die 24ste November tydens 'n funksie aan Me J Isaacs, HUB van die Departement Landbou Wes-Kaap (DLWK) oorhandig. Daar is spesiale reëlings getref om te verseker dat almal wat die oorspronklike funksies bygewoon het wel 'n eksemplaar van hierdie publikasie sal ontvang. Hierdie gedenkuitgawe is ook beskikbaar op die PNS se webblad.

In bykans enige organisasie is daar jaarliks interne verwikkelinge wat vermelding verdien. So het Mnr Joe Diekmann na 21 jaar besluit om as Raadslid te bedank en wel op 5 Mei 2016. Daar is tydens 'n glansfunksie van Mnr en Mev Diekmann afskeid geneem waartydens ook erkenning aan kom gegee is vir sy bydrae, veral ten opsigte van die pluimveebedryf oor sy termyn van 21 jaar.

Die beleid by die PNS is dat Raadslede elke drie jaar vir termyne van drie jaar op verskillende raadskomitees benoem word. Termyne wat beëindig is aan die einde van 2016 moes dus weer vir 'n verdere drie jaar aangevul word. Dr Jos de Kock, die Voorsitter van die Tegnologiekomitee het aangedui dat hy wel op die Tegnologiekomitee sou aanbly vir 'n verdere termyn van drie jaar maar was nie beskikbaar om weer as Voorsitter te dien nie. Dr E Briedenhann is eenparig in sy plek tot die Voorsitter van die Tegnologiekomitee verkies. Die PNS Raad wil graag sy dank teenoor Dr De Kock uitspreek vir die waardevolle bydrae wat hy oor baie jare as Voorsitter van die Tegnologiekomitee en ook lid van die Tegnologiekomitee gemaak het. Soortgelyk vergesel die Raad se beste wense Dr Briedenhann met sy nuwe pligte en verantwoordelikhede.

Nog 'n hoogtepunt wat hierdie jaar veral 'n groot bydrae tot die canolabedryf gemaak het was die Canolasimposia wat op 19 en 20 Julie 2016 onderskeidelik aangebied is te Bredasdorp en Paarl. Die tema van die simposium was: "Verbouing van canola met 'n 5 ton opbrengs". Meer besonderhede van hierdie simposium word elders in die verslag in besonderhede aangespreek.

Etlike internasionale gebeure het baie bedrywe sprakeloos gelaat waaronder die oorname van Monsanto deur Bayer ongetwyfeld die grootste was. Hierdie en ander oornames het die chemiese- en saadbedrywe grootliks herrangskik en daar lê 'n paar jaar van aanpassings voor vir almal wat deel is van hierdie bedrywe. Dit geld ook vir die PNS wat oor die jare baie goeie verhoudinge met sommige aangeknoop en opgebou het. Dit mag die vloei van tegnologie na Suid-Afrika in sommige opsigte vertraag maar daar sal ongetwyfeld ook positiewe aspekte na Suid-Afrika vloei.

Daar bestaan reeds vir etlike jare 'n algemene behoefte in Suid-Afrika aan 'n stelsel waarvolgens saadmaatskappye tantième kan ontvang vir besondere eienskappe wat in hul cultivars ingebou word. Dit was veral die Roundup Ready gene van Monsanto in sojabone wat tot onaangename aksies in Suid-Afrika aanleiding gegee het. Sodanig so dat bykans geen internasionale saadmaatskappy saad met nuwe gene in Suid-Afrika wou registreer nie.

Die koringbedryf het die leiding geneem en gedurende 2016 'n artikel 21 maatskappy gestig by name "South African Cultivar and Tegnology Agency" (SACTA). Hierdie aksie het hopelik die weg gebaan vir ander bedrywe waaronder die soja- en canolabedrywe om op soortgelyke manier toegang te verkry tot die nuutste tegnologie wat internasionaal beskikbaar mag kom. Die sukses van sodanige aksies is vir die PNS 'n belangrike element vir die bereiking van sy doelwitte vir 2020 ten opsigte van beide sojabone en canola.

Soos jaarliks die geval is het die webblad voortdurend aandag gekry, is aangepas waar nodig en opgegradeer (sien projekte). Dieselfde het ook gegeld vir pamflette en ander inligtingsdokumente terwyl dokumente vir Raads- en ander vergaderings ook in elektroniese formaat beskikbaar gestel is aan lede.

Video's het ook aansienlik meer aandag gekry en is op die webblad beskikbaar.

Om pamflette, artikels en die webbladinligting aan te vul is navorsers, beursstudente en ander genooi om werkgroepvergaderings toe te spreek oor relevante onderwerpe. Ons is veral dank verskuldig aan lede van die Nasionale Oesskattingskomitee te wete Mev Rona Beukes en Me Marda Scheepers en ook van SAGIS, Mnr Nico Hawkins wat tydens vergaderings telkens die syferwerk baie interessant gemaak het.

Twee buitelandse besoeke is gedurende die jaar aan etlike lande gebring. Dr E Briedenhann en Prof F Meyer het vanaf 2 April 2016 tot 16 April 2016 besoek gebring aan die VSA, Brasilië en Argentinië. In hierdie tyd het hulle 14 verskillende afsprake nagekom. Dit het gewissel van opvolgbesoeke aan etlike instansies en individue maar daar is ook nuwe kontakte gemaak wat vorentoe handig te pas sal kom.

Die Tegniesekomitee is die skakel met deelnemers aan die sojabooneliteproewe, Dr Jos de Kock en Mnr G Scholtemeijer vergesel van Mnr G Keun het Suid-Amerika besoek vanaf 20 September 2016 tot 30 September 2016. Die hooftaak was om die beleidsbesluite wat die Raad geneem het ten opsigte van die afhandeling van die sojabooneliteproewe (sien "beleidsbesluite" sluit hierbo) aan die medewerkers te kommunikeer en ook aandag te gee aan verdere samewerking in die toekoms. Alle afsprake het baie positief verloop. Die nuwe president van INTA, Dr A Nicora het self 'n deel van die vergadering met INTA bygewoon en aangedui dat INTA oor 'n breër front met die PNS wil saamwerk. Dis was inderdaad 'n vars briesie nadat samewerking met INTA onder die vorige president van INTA bykans tot stilstand gekom het.

Daar is verder met INTA ooreengekom om hul deelname aan die canola-eliteproewe te staak aangesien hulle cultivars nie goed presteer het in Suid-Afrika nie.