Navorsingsverslag 2000/2001
9.
Kort- en mediumtermyn behoeftes vir vismeel en oliekoek
Gedurende die bemarkingsjaar wat strek oor die periode 1 April 1999 tot 31 Maart 2000 was die vraag na vismeel 127 386 ton en die vraag na oliekoek 1 063 338 ton. Dit verteenwoordig die hoeveelhede wat hoofsaaklik in die kommersiële mark verbruik word. Sojas maak 49% uit van die oliekoek wat verbruik is terwyl enkelmaagdiere (pluimvee en varke) 69% van die beskikbare oliekoek in rantsoene verbruik het. Vir die voorafgaande periode 1 April 1998 tot 31 Maart 1999 was die ooreenstemmende verbruik 96 267 ton vismeel en 1 080 354 ton oliekoek. Gedurende die verslagjaar was daar dus 'n toename in die verbruik van vismeel van 31 119 ton teenoor die vorige jaar terwyl die verbruik van oliekoek marginaal afgeneem het met 17 016 ton (1,6%). Dit is grootliks toe te skryf aan die relatief skerp daling in vismeelpryse teenoor dié van die vorige verslagperiode asook sojaboon pryse wat internasionaal betreklik stabiel was oor dieselfde periode.
Plaaslike produksie van oliekoek het gedurende die 1999/2000 bemarkingsjaar in 52% van die RSA se totale behoeftes voorsien terwyl dit 62,8% in die geval van vismeel was, indien die Namibiese produksie buite rekening gelaat word.
Weens die 32% hoër verbruik in vismeel teenoor die vorige jaar het die invoer van vismeel dan ook toegeneem van 7 927 ton in die 1998/99 bemarkingsjaar tot 32 386 ton in die 1999/2000 bemarkingjaar. Die groot hoeveelheid oliekoek en veral soja-oliekoek wat ingevoer word het 'n nadelige invloed op die RSA se handelsbalans en verplaas ook potensiële werksgeleenthede plaaslik.
Dit is bekend dat die internasionale beskikbaarheid van vismeel besig is om te kwyn en dat 'n al hoe groter persentasie van die beskikbare vismeel gebruik word in die akwakultuurbedryf. Hierdie situasie beklemtoon die belangrikheid van soja-oliekoek as proteïenbron vir veral enkelmaagdiere.
Internasionale markfaktore en die invloed daarvan op plaaslike prysverhoudings tussen kommoditeite het 'n groot invloed op die besluitnemingsproses van produsente oor watter kommoditeite en hoeveel hulle daarvan gaan plant. Op sy beurt het sulke gebeure 'n groot invloed, positief of negatief op die PNS se pogings om sy mikpunte te bereik. Gedurende 1999 het produsente weens relatief hoë mieliepryse meer mielies en minder sojas geplant wat meegebring het dat slegs 93 787 hektare met sojas geplant is teenoor die 130 500 hektare in die vorige verslagjaar wat 'n oes van slegs 148 720 ton sojabone tot gevolg gehad het. Die situasie het intussen verbeter en is daar gedurende die jaar 2000 plantseisoen 129 050 hektare sojabone geplant met 'n verwagte oes van 192 705 ton in die volgende verslagjaar.
Hierdie groot skommelings van jaar tot jaar in hektare aangeplant kan tot 'n groot mate bekamp word deur sojas as 'n wisselbougewas op 'n volhoubare wyse in produsente se boerderystelsel gevestig te kry. Vir hierdie rede het die PNS 'n kundige aan die UOVS gekontrakteer om 'n studie te doen oor die ekonomiese voordele van sojabone in 'n wisselboustelsel. Die resultate van die studie sal waarskynlik in die volgende verslagjaar bekendgestel word.
Voorspellings van oliekoekbenodigdhede vir die jaar 2010 teen verskillende scenario's dui daarop dat indien plaaslike oliekoekproduksie nie betekenisvol verhoog nie daar 750 000 tot 900 000 ton ingevoer sal moet word. Dit bevestig weereens die geweldige uitdagings wat gestel word aan die PNS indien hy sy doelstelling wil bereik.
Goeie vordering met produksie van oliekoek is gemaak indien daarop gelet word dat die plaaslike produksie van oliekoek in 1994/95 232 400 ton was waarna dit toegeneem het tot 413 359 ton in 2000/2001 'n jaarlikse saamgestelde groeikoers van 19,01%. Die groei in verbruik van oliekoek oor dieselfde periode was 16,09%. Wat die produksie van soja-oliekoek betref was dit 40 000 ton in 1994/95 teenoor 'n geraamde 101 921 ton vir 2000/2001. Dit verteenwoordig 'n jaarlikse saamgestelde groeikoers van 26,41%. Die jaarlikse groei in verbruik van soja-oliekoek oor dieselfde periode was 17,68%.
Volgens 'n artikel deur dr M Griessel beraam hy die lokale produksie soja oliekoekekwivalent vir die jaar 2000/2001 op 96 000 ton en die benodigdhede vir die jaar 2010 op 620 096 ton soja-oliekoek teen 'n laer bevolkingsgroei (VIGS). Indien 'n mikpunt gestel word om teen die 2010 in 50% van ons behoeftes aan soja-oliekoek plaaslik te voorsien (310 018 ton) beteken dit dat sojaboonproduksie teen 13,91% jaarliks moet uitbrei. Vir 'n mikpunt van 80% en 100% plaaslike voorsiening beteken dit jaarlikse groeikoerse van 20,02% en 23,03% onderskeidelik.
Gegewe die situasie is daar in die vorige verslag melding gemaak van ander proteïeneryke gewasse waaraan moontlik aandag geskenk sal moet word. In die verband kan vermeld word dat 'n omvattende studie oor die lusernbedryf onderneem is waaroor daar elders in die verslag gerapporteer word.