Navorsingsverslag 2000/2001

5.

 

Voorbeelde van projekte wat suksesvol afgehandel is of waarmee aansienlike vordering gemaak is (Bylae I en II)


Lys van projekte

  1. Projek titels

    1. Die isolering en karakterisering van die genekompleks wat die respons van soja (Glycine max (l.) merr.) tot water­onthouding, sout-stres en uitermatige tempe­rature reguleer
    2. Die bepaling van die rol van proliensintese in reaksie op droogtestres in sojabone deur die gebruik van "antisense" en "sense" tegnologie
    3. Validasie van genetiese merkers gekoppel aan weer­stand teen Meloidogyne javanica en geselekteerde ekonomies belangrike eienskappe in sojabone
    4. Versnelde generasievordering in sojaboonteling
    5. Die reaksie van soja op kouestres en die interaksie met ligintensiteit soos deur fotosisteem II funksie, foto­sintetiese gaswisseling en xantofil siklus akti­witeit geëvalueer
    6. Nasionale sojaboonkultivarproewe
    7. Sojaboon-strookdemonstrasies in verskillende pro­duk­siegebiede
    8. Die ontwikkeling van sojaboonkultivars met beter aan­passing en saadkwaliteit
    9. Super Sojakompetisie vir KwaZulu-Natal
    10. Super Sojakompetisie vir Mpumalanga
    11. Biologiese stifstofbinding by sojabone: entings­pro­bleme
    12. Supersoja opbrengskompetisie
    13. Evaluering en standaardisering van analitiese meto­des vir die bepaling van die mate van prosessering van sojabone en die raming van die beskikbare lisien­inhoud in soja
    14. Kultivarevaluasie van olie- en proteïensade in die winter­reënvalstreek (lupien)
    15. Die ontwikkeling van die produksie-tegnologie van soet witlupiene in die somerreënvalgebiede
    16. Seleksie en teling vir weerstand teen antraknose (Col­letotrichum gleosporioides) in kiemplasma van Lu­pi­nus albus en die ontwikkeling van kommersiële antrak­nose bestande kultivars
    17. Patologiese karakterisering en seleksie van lupien antraknose-veroorsakende isolate om in weer­stands­teling te gebruik
    18. Genetiese manipulering van lupiene (Lupinus sp) vir bestandheid teen antraknose
    19. Vakuum infiltrasie van lupiensade vir genetiese mani­pulasie van lupiene vir weerstand teen antraknose
    20. Enting van lupiene in Suid-Afrika
    21. Kwantifisering van die energiewaardes en same­stel­ling van potensiële alternatiewe proteïenbronne
    22. Kultivarevaluasie van olie- en proteïensade in die winterreënvalstreek
    23. Epidemiologie van swartstam van canola in die win­ter­reënvalstreek van Suid-Afrika: 'n voorvereiste vir volhoubare siekte bestuur
    24. Die omvang en rol van canola en lupien grond­ge­draagde siektes op die daling in opbrengs
    25. Optimale plantmetodes vir olie- en proteïen­saad­ge­wasse in die Wes- en Suid-Kaap
    26. Ekonomiese kortrotasie wisselbougewasse vir koring
    27. 'n Ondersoek na die produksie-dinamika van agt wis­sel­boustelsels, insluitende koring, canola, lupiene en weiveldspesies in die Swartland, Wes-Kaap
    28. Die gebruik van voerensieme in sojaboon, lupien, canola oliekoek en volvet canola bevattende diëte vir braaikuikens en speenvarkies
    29. Moet diere gevoer word tot hulle genetiese potensiaal as dié potensiaal deur stres verminder word
    30. Die respons van groeiende varke op diëte met toe­ne­mende aminosuurvlakke
    31. 'n Model om die gebruik van landbouprodukte vir die voer van lewende hawe in Suid-Afrika te voorspel
    32. Internasionale vraag en aanbod situasie met betrek­king tot proteïen vir dierevoeding
    33. Die omvang, belangrikheid en potensiaal van die lu­sern­bedryf in die RSA

5.1

 

Die isolering en karakterisering van die genekompleks wat die respons van soja (Glycine max (l.) merr.) tot wateronthouding, sout-stres en uitermatige temperature reguleer


J van Staden en WA Cress
Universiteit van KwaZulu-Natal

Omgewingstremmings soos droogte, sout en lae temperature het 'n rol gespeel tydens die plant evolusie en beperk gewas verspreiding en landbou produktiwiteit. 'n Beter begrip van hoe die gewasse aanpas by veranderende toestande, is nie slegs van teoretiese waarde nie, maar het ook praktiese toepassing.

'n Lae temperatuur stremmingsbiblioteek "subtraction" is gemaak in 'n Bluescript vektor met die 2 stap PCR amplifisering cDNAs deur gebruik te maak van "subtraction" hibridisasie. Een spesifieke stuk cDNA, cs18, is geïsoleer en volgorde bepaling het aangedui dat die cDNA 76% homoloog is met die volgorde van 'n gedeelte van glukose dehidrogenase van Thermoplasma acidophilum en 62% met genomiese DNA van Arabidopsis. Vier klone, cs18-13, cs18-14, cs18-15 en cs18-16, verkry vanaf lae temperatuur stremming sojaboon-wortel cDNA biblioteke, het gedeeltelike hibridisering getoon met cs18. Een cDNA met 'n fragment van Xba en Xho l, is ongeveer 3 500bp in lengte en korrespondeer met cs18. Hierdie fragment kodeer moontlik vir glukose dehydrogenase.

Northern blot analise het gewys dat cs18 mRNA se uitdrukking in sojaboon wortels hoog was, maar die uitdrukking in die blare min was by lae temperature.

Veranderinge in die kern van meristematiese wortel selle in reaksie op 'n ernstige sout stremming is ondersoek. Omdat die wortels in direkte kontak is met die oplossing, is hulle die eerste om die stremming te voel. Die beskadiging en/of die verdedigingsreaksie word dus eerste daar gesien. Kern vervorming en afbraak in die sojaboon wortel meristem by 150 mM NaCl of hoër het gelei tot volgehoue sel afbraak, sel sterfte en inhibisie van plant groei. Die studie het egter ook gewys dat as CaCl2, tot 'n maksimum konsentrasie van 5mM, by die medium gevoeg word, dit die sout beskadiging gedeeltelik kan voorkom.

Weefselkultuur is 'n handige manier om te kan onderskei tussen plant organiseringsvlakke en sout bestandheid as gevolg van die moontlikheid om die fisiologiese intakte plante te kan bestudeer tesame met verskillende organe en enkel selle. Dit is moontlik omdat homogene plant materiaal onder uniforme omgewingstoestande gekweek word. Een NaCl bestande sellyn (R100) is tydens hierdie studie geïsoleer. Die kallus lyn was betekenisvol meer bestand teen sout as die sout sensitiewe lyn (S100) tydens blootstelling aan 'n sout stremming. Sout bestandheid is gekenmerk deur 'n verandering in die manier van groei, verminderende kallus volume en relatiewe water inhoud asook akkumulering van Na+, Cl-, K+, proline en suikers tydens en na 'n soutstremming. Die seleksie van hierdie sout bestande lyn het die potensiaal van nuwe genetiese materiaal wat tot die teler se beskikking is.

Suikers is nie net 'n belangrike energie bron en strukturele komponent in plante nie – hulle is ook sentrale regulatoriese molekules wat die fisiologie, metabolisme, selsiklus, ontwikkeling en geen uitdrukking in plante beheer. Die konsentrasie van glukose en fruktose verhoog tydens en na 'n sout stremming met 'n tempo wat korrespondeer met die relatiewe waterinhoud. Die akkumulasie was die eerste reaksie wat opgemerk is na die verwydering van soutstremming wat daarop dui dat glukose en fruktose 'n belangrike rol mag speel tydens soutstremming.


5.2

 

Die bepaling van die rol van proliensintese in reaksie op droogtestres in sojabone deur die gebruik van "antisense" en "sense" tegnologie


JA de Ronde
LNR-Roodeplaat Instituut vir Groente en Sierplante

Kontrole Ibis plante is vergelyk met sense en antisense transgeniese plante wat die P5CR geen konstruksie bevat. Die evaluering het plaasgevind deur verskillende fisiologiese en fenotipiese tegnieke.

'n Eksperiment by 'n matige hitte stremming het gewys dat vry prolien analise nie betekenisvol verskil nie, maar dat die veranderinge in die fotosintetiese funksies gemeet deur chlorofil fluoresensie, wel verskille tussen die transgeniese plante kon uitwys. Chlorofil fluoresensie (JIP toets) is dus gebruik om die effek van die matige hitte stremming op die plante te kwantifiseer. Dit het bewys dat die antisense plante meer sensitief was vir die stremming as die kontrole plante en dat die sense plante meer verdraagsaam was.

Na 'n periode van hitte en droogte stremming, het die antisense plante gereageer deur fotosintetiese effektiwiteit te verlaag, die proline matig te verhoog en die NADP vlakke te verminder. Die stremmingsmeganisme kon egter nie die antisense plante beskerm teen onomkeerbare beskadiging nie, want selfs nadat die stremming gelig is, het prolien degradasie en foto-inhibisie ingetree en die NADP vlakke het terug geval na laer as voor die stremming. Die sense plante het egter gereageer op die stremming met verhoogde prolien en NADP vlakke asook handhawing van die fotosintetiese aktiwiteit. Met rehidrasie van die sense plante, het die prolien vlakke gedaal na voor stremming vlakke en die NADP het nog hoër gestyg. Die sense plante het 'n tolerante reaksie getoon tydens die kombinasie stremming teenoor die antisense plante se sensitiewe reaksie.

Die sense transgeniese plante het na die kombinasie proef 'n 100% herstel getoon, die kontrole plante 65% en die antisense plante 16%. 'n Saailing seleksie proef, het gewys dat die sense plante 'n tweevoudige hoër herstel vermoë het as die kontrole plante. Al hierdie resultate wys daarop dat 'n hoër kopie aantal van die prolien geen (P5CR) in sojaboon plante tot gevolg het dat hulle meer droogte bestand is as plante met 'n laer of normale kopie getal.


5.3

 

Validasie van genetiese merkers gekoppel aan weerstand teen Meloidogyne javanica en geselekteerde ekonomies belangrike eienskappe in sojabone


CMS Mienie
LNR-Instituut vir Graangewasse

Verskeie groei-eienskappe van die sojaboon vereis spesiale aandag, om sodoende goeie aanpassing van sojabone vir die Suid-Afrikaanse omgewing te verseker. Ten einde mededingend deel te neem aan die wêreldmark, moet plaaslik verboude sojabone aangepas wees by tipiese Suid-Afrikaanse omgewingsfaktore, soos onder andere lae vogtigheid, hoë oopspring-risiko, lae vogtemperature, uiteenlopende groeitoestande wat 'n invloed het op die plantstruktuur en die fisiese en chemiese kwaliteit van die saad, plaaslike plae en siektes, ensovoorts. Sojabooncultivars ingevoer vanaf die VSA of ander lande, kan nie meeding met plaaslik-ontwikkelde cultivars nie.

Sekere eienskappe vereis egter spesiale metodologie vir teeldoeleindes. Die gebruik van laboratoriumprosedures om te sif vir genetiese merkers wat ooreenstem met die verlangde eienskap, sal besnoei op gekompliseerde en arbeidsintensiewe plantseleksietegnieke en sal ook 'n meer betroubare, sowel as koste-effektiewe manier daarstel waarvolgens die nageslag met die verlangde kenmerk, geïdentifiseer kan word. 'n Stel molekulêre merkers is ontwikkel tydens 'n vorige studie en dit word tans getoets vir betroubaarheid oor generasies heen. Dit word ook getoets teen die tradisionele seleksiemateriaal wat tans in die bestaande kiemplasma-bank gehou word. Die F3-nageslagtoetse het gedui op 'n stabiele oorerwing van die merkers. Daar is met 35 sojaboon-cultivars, 'n korrelasie van 80% tussen glashuistoetse en molekulêre seleksie, verkry. Slegs ses genotipes is verkeerd geklassifiseer as dat dit bestand is en een as dat dit vatbaar sou wees. Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan die verskil in genetiese agtergrond tussen die cultivars en die beskryfde populasie en beteken dat die weerstand heel moontlik afkomstig is van 'n ander bron met ('n) verskillende geen/gene. Dit word aanbeveel dat 'n uitgebreide reeks van genotipes verder gesif word met die molekulêre merkers, ten einde moontlike telingsmateriaal met weerstand teen M. javanica te identifiseer.


5.4

 

Versnelde generasievordering in sojaboonteling


CMS Mienie
LNR-Instituut vir Graangewasse

Met tradisionele plantteling vorder sojaboonlyne deur ses tot sewe generasies om homosigosisteit te verkry. Planttelers het behoefte aan 'n lae-koste tegniek wat die generasietyd sal verkort ten einde nuwe cultivars vinniger en meer koste-effektief te produseer. As gevolg van die fotoperiode-sensitiwiteit van sojabone, kan die vegetatiewe siklus verkort word deur die manipulering van daglengte. Die voortplantingskringloop verteenwoordig meer as 50% van die algehele lewensiklus en kan verkort word indien die saadvorming en rypwordperiode omseil kan word. Hierdie studie is uitgevoer ten einde 'n koste-effektiewe prosedure te ontwikkel, waardeur die generasie-tyd verkort sal word en met die voortplantingsfase as hoofdoel. 'n Tweeledige benadering is gevolg ten einde ondersoek in te stel na die moontlikheid van die gebruik van die in-vitrokultuur, wat behels die alternatiewe oes-insameling van die onvolwasse saad. Na die blomtydperk is sade met verskillende tussenposes en ter wille van die weefselontwikkeling geoes en is die embrio's geïsoleer en deur middel van 'n kunsmatige voedingsmedium gekweek. Hierdie resultate is vergelyk met saad van dieselfde ouderdom wat in heel doppe gedroog en in die kweekhuis geplant is. Die voorlopige uitslae dui daarop dat die direkte plant van onvolwasse saad heelwat meer doeltreffend is as die weefselkultuur-tegnieke. Saad wat so vroeg as 18 dae na die blomtydperk getoets is, het 'n 80% ontkieming getoon in 'n stadige droogproses. Daar word tans ondersoek ingestel na die verkorting van die uitdrogingsfase.


5.5

 

Die reaksie van soja op kouestres en die interaksie met ligintensiteit soos deur fotosisteem II funksie, fotosintetiese gaswisseling en xantofil siklus aktiwiteit geëvalueer


GHJ Krüger en PDR van Heerden
Instituut vir Omgewingswetenskappe (Plantkunde), Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys

Dit is die eerste geleentheid waar resultate aangebied word wat die bestaan van prominente en konsekwente genotipiese verskille in die fisiologiese- en biochemiese respons tussen twee kouetolerante sojabooncultivars, Maple Arrow en Fiskeby V, in reaksie op lae nagtemperatuur demonstreer. In die oorgrote meerderheid van prosesse wat bestudeer is, het Maple Arrow 'n meer geringe of vertraagde respons as Fiskeby V vertoon.

Die hoër kouetoleransie van Maple Arrow teenoor Fiskeby V is verder beklemtoon met die gesuperponeerde blootstelling aan lae nagtemperatuur en droogtestres. Dit word gepostuleer dat die meganisme wat verhoogde kouetoleransie in Maple-Arrow teweegbring, ook minstens gedeeltelik verantwoordelik is vir die verlening van verhoogde toleransie teenoor gesuperponeerde blootstelling aan lae nag-temperatuur en droogtestres.

Die groot hoeveelheid inligting wat tydens hierdie projek ingewin is, ondersteun ten sterkste 'n meer kouetolerante fisiologiese- en biochemiese samestelling in Maple Arrow as in die geval van Fiskeby V. In hierdie ondersoek is twee cultivars gebruik wat beide as kouetolerant beskou word, wat dus die sensitiwiteit van ons eksperimentele benadering en metodiek beklemtoon. Dit is ons opinie dat die sensitiwiteit van ons eks­peri­mentele benadering om genotipiese verskille aan te toon van besonderse waarde behoort te wees in toekomstige teel- en genetiese manu­puleringsprogramme met die einddoel om verhoogde strestoleransie in sojabone te bewerkstellig. Die vooruitsigte vir verdere navorsing is baie rooskleurig aangesien ons navorsingspoging uitgebrei gaan word na 'n uiters sensitiewe sojabooncultivar (Java) van tropiese oorsprong, wat genotipiese verskille nog meer prominent behoort aan te toon. Tesame hiermee sal eksperimente uitgevoer word op Glycine soja, die natuurlike ouerspesie waaruit gekultiveerde sojabone geteel is. Hierdie ondersoek kan uiters belangrik wees om strestoleransie eienskappe, wat deur teling vir hoë-opbrengs cultivars verlore gegaan het, uit te wys. Die terugplasing van verlore strestoleransie eienskappe is 'n moontlikheid waardeur die strestoleransie van sojabone in die toekoms verhoog kan word.


5.6

 

Nasionale sojaboonkultivarproewe


MA Smit en GP de Beer
LNR-Instituut vir Graangewasse

Die sojaboon (Glycine max 1 Merr) is een van die gewasse wat deesdae die wydste verbou word. Dit blyk egter dat individuele kultivars oor die algemeen baie beperk is ten opsigte van aanpasbaarheid, as gevolg van die daglengte-sensitiwiteit. Genotipe-interaksie met omgewingsfaktore soos temperatuur, watergebruik, grondvereistes en verbouingspraktyke dra verder daartoe by dat kultivarevaluasie op die terrein self noodsaaklik is. Selfs in gevalle waar 'n bepaalde kultivar in verskeie ander streke goed presteer, kan die verbouing van 'n gegewe sojaboonkultivar, sonder vooraf kennis van sy bewese prestasie in 'n spesifieke omgewing, lei tot rampspoedige gevolge. Dit volg dus dat kultivarevalueringsprogramme 'n algemene gebruik is in alle sojaboon-produserende lande. 'n Gestandaardiseerde nasionale sojaboonkultivarevalueringsprogram is in 1980, in opdrag van die regering, deur die LNR-Instituut vir Graangewasse van stapel gestuur ten einde die plaaslike sojaboonbedryf te stimuleer en te ondersteun. Hierdie afgelope groeiseisoen en as 'n eenvormige toets, is die Nasionale Sojaboonkultivarproewe (projek 0 10/01) by 54 vermelde lokaliteite aangeplant. Die doelwitte van die projek is die volgende:

  • om alle nuwe inskrywings te toets en die registrateur van variëteite te adviseer ten opsigte van die aanpasbaarheid en eienskappe wat van agronomiese belang mag wees;
  • om alle inskrywings in terme van agronomiese vereistes te kategoriseer;
  • om die belangrike cultivar-fototermiese interaksie kenmerkend aan sojabone, te demonstreer en om elke inskrywing te kategoriseer ooreenkomstig die area van aanpassing;
  • om die langtermyn risiko's onder gestandaardiseerde tegnieke aan te teken;
  • om die gewas aan moontlike verbou-ingsgebiede bekend te stel.

'n Totaal van 36 kultivars is op 'n nasionale grondslag geëvalueer, met 'n addisionele 24 as 'n fase 1-toets by nege liggings. Proewe word aangevra deur PDA, navorsingstasies, saadmaatskappye en koöperasies en word geplaas in gebiede waar daar 'n tekort is aan inligting oor die relatiewe kultivarprestasie. 'n Omvattende datastel sal onder andere die volgende fenologiese gegewens insluit: datums van opkoms, bloeityd, fisiologiese- en oesrypheid, die maksimum planthoogte en minimum grondhoogte van die doppe, vestiging, oopspring en groenstam, relatiewe vatbaarheid vir siektes en plae, en saadeienskappe soos produksie-opbrengs, fisiese en chemiese kwaliteit, en grond en weer-gegewens.

By verkose terreine word die uitwerking van die plantdatum ook aangeteken. Alle vereiste inligting word in 'n gerekenariseerde databasis vasgelê. Gegewens van individuele proewe is aan 'n afwykingsanalise onderwerp, terwyl gesamentlike oesinligting onderwerp is aan die toegevoegde hoof-effekte en vermenigvuldigende interaktiewe (AMMI) statistiese metode. Tydens die kultivarevalueringskomitee vergadering gehou gedurende September 2000, is 6 inskrywings goedgekeur vir registrasie op die variëteitslys. Die 1999/2000 verslag ten opsigte van die Nasionale Sojaboon Kultivarproewe is ook vir publikasie goedgekeur. Die gemiddelde saad-oes van alle lokaliteite wat getoets is, was 2 462 kg/ha (2 448 kg/ha in 1998 en 2 200 kg/ha in 1999). 'n Pamflet waarin prestasie en kultivaraanbevelings volledig omskryf word, is vrygestel vir publikasie en kommersiële gebruik. Die objektiewe toetsresultate word algemeen deur die sojabedryf gebruik as 'n bron van inligting ten opsigte van kultivaraanpassings, produksie-prestasie, biologiese produksie-potensiaal en die chemiese kwaliteit van saad. Deur die loop van die afgelope twaalf jaar het die Nasionale Sojaboon-kultivarproewe duidelik die genotipe vir breedteligging-interaksie in die Suid-Afrikaanse konteks, aangetoon. Die toename in plaaslike produksie vanaf sowat 20 000 ton in die vroeë 80's tot 200 000 ton gedurende 1998/99 sou nie moontlik gewees het, was dit nie vir die Nasionale Sojaboon-kultivarevaluasieprogram nie.


5.7

 

Sojaboon-strookdemonstrasies in verskillende produksiegebiede


MA Smit en GP de Beer
LNR-Instituut vir Graangewasse

Die oogmerk van hierdie projek is om die agronomiese aanvaarbaarheid van aanbevole sojaboon-cultivars vir verskillende produksiegebiede aan te toon en om die gevolge van rywydte en plantpopulasie op gewasgroei en produksie-risiko's, te evalueer. Proewe is suksesvol op vyf terreine uitgevoer en die resultate van drie terreine blyk statisties betroubaar te wees. Die resultate van die eerste jaar het daarop gedui dat daar 'n interaksie teenwoordig is tussen cultivar, rywydte, sowel as omgewing, en dit bemoeilik die taak om cultivars te kategoriseer in tipiese smal- of wye-rytipe cultivars. Hierdie proewe sal in die toekoms uitgebrei word na meer terreine en sal ook gebruik word om saad inokuleerders te evalueer, deur die gebruik van 'n verdeelde perseel eksperimentele ontwerp.


5.8

 

Die ontwikkeling van sojaboonkultivars met beter aanpassing en saadkwaliteit


AJ de Lange
LNR-Instituut vir Graangewasse

Hierdie teelprogram gebruik die enkelsaadnageslag (ESN) seleksiemetode, welke metode die mees algemene seleksiemetode is by sojaboonteling.

Die opbrengsevaluasiestelsel wat in die program gebruik word, behels die nagaan van die ry-proewe, die elite-proewe en die fase-proewe. Die enkelplantseleksies (2 400) van die vorige seisoen het 346 enkel rye opgelewer en hierdie is geselekteer vir insluiting in die kontroleringsry-proewe. 83 Teellyne is ingesluit in die elite-proewe wat in die komende seisoen by ses lokaliteite geplant sal word. Vier teellyne met uitstaande kwaliteite is voorgelê vir registrasie in die vorige seisoen en een is aangebied in die nuwe seisoen. Die opbrengsproewe het aangedui dat die teellyne gunstig meegeding het met die beste cultivars beskikbaar in die mark. Die beste teellyne het tussen 4 666 kg/ha en 5 987 kg/ha opgelewer en dit was gemiddeld 12,7 persent beter as die beste kontrole kultivars. Die agronomiese eienskappe van hierdie teellyne is ook aanvaarbaar.


5.9

 

Super Sojakompetisie vir KwaZulu-Natal


C Havenga
Departement van Landbou en Omgewingsake, KwaZulu-Natal

Noordelike KwaZulu-Natal

Die Super Sojakompetisie in Noordelike KwaZulu-Natal (N-KZN) is nou elf jaar oud. Belangstelling neem steeds toe maar inskrywings was as gevolg van haelskade en personeel tekorte tot 32 beperk.

Weens die droogtetoestande gedurende Oktober en die grootste gedeelte van November 1999 was die aanplantings in die noordelike-gedeelte van KwaZulu-Natal redelik laat.

Die gemiddelde opbrengs van deelnemers die afgelope seisoen is 2,93 ton/ha wat effens beter is as die 2,69 ton/ha van die vorige seisoen. Opbrengste het tussen 1,55 ton/ha en 4,6 ton/ha gewissel.

Proteïengehalte is die beste tot dusver met 'n gemiddelde ontleding van 42,82% vogvry en wissel tussen 39,7% en 45,9% vogvry.

Proteïengehalte van sojabone sover dit die deelnemers aan die Super Sojakompetisie betref blyk nie meer 'n ernstige probleem te wees nie.

Suidelike KwaZulu-Natal

Die Super Sojakompetisie is elf jaar gelede in Noord-KwaZulu-Natal begin. Hierdie seisoen is dit ook vir die eerste keer in Suid-KwaZulu-Natal (S-KZN) van stapel gestuur.

Gedurende hierdie eerste seisoen van die Super Sojakompetisie in S-KZN was daar 14 inskrywings en is die mikpunt om dit in die nabye toekoms tot 40 inskrywings uit te brei.

Die gemiddelde opbrengs van deelnemers is 3,57 ton/ha en het tussen 2,83 ton/ha en 4,56 ton/ha gewissel.

Proteïengehalte van die deelnemers in S-KZN was ook baie goed met 'n gemiddelde ontleding 42,3% vogvry en wissel tussen 37,5% en 44,3% vogvry. Die geleentheid wat hierdie kompetisie aan produsente bied om onder mekaar kennis en ondervinding uit te ruil, dra beslis by tot die ooglopende verbetering in die verbouing van sojabone in KwaZulu-Natal.


5.10

 

Super Sojakompetisie vir Mpumalanga


J Middel
PNS Kontrakteur, Mpumalanga

Die Mpumalanga Super Sojakompetisie wat gedurende 1996 begin is, se ledetal het gedurende die afgelope seisoen toegeneem van 11 na 31.

Buitengewone droë weer gedurende Februarie, Maart en April het veroorsaak dat opbrengste aansienlik varieer het en dit het hoë gemiddelde opbrengste onmoontlik gemaak.

Die gemiddelde saadopbrengs vir die Mpumalanga inskrywings was 2,17 ton/ha. Mnr J van Niekerk van Amersfoort het die top opbrengs van 3,94 ton/ha behaal asook die beste bruto marge van R3 857,96 per hektaar.


5.11

 

Biologiese stifstofbinding by sojabone: entingsprobleme


JF Bloem¹ en A Booysen²
¹LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming en ²LNR-Instituut vir Graangewasse

Bradyrhizobium japonicum-rasse wat sojabone noduleer, is nie inheems in Suid-Afrikaanse gronde nie. Die vestiging van effektiewe nodulasie en stikstofbinding speel 'n kardinale rol in winsgewende sojaboon-produksie. Die koste van enting is minimaal in vergelyking met toediening van minerale stikstof. Die proteïeninhoud van plaaslik-geproduseerde sojabone is ook in die verlede bevraagteken. Hierdie projek is in samewerking met die LNR-IGG geloods om oorsake vir wisselvallige en onbevredigende benutting van die simbiose onder kommersiële toestande te bepaal.

Opnames by agtien aanplantings in vier produksiestreke, het getoon dat die entstof wat sommige boere gebruik, onder standaard was. Nogtans was die aantal bakterieë per saad en per ml vloeibare entstof voldoende om goeie nodulasie te realiseer.

Produsente volg meestal die aanbevole entingsprosedures, maar entstof word steeds in gifkamers gestoor. Waar swak nodulasie waargeneem is, kon dit toegeskryf word aan hoë residuele N- en lae P-vlakke. Residuele onkruiddoders alachlor, atrazine, metribuzin en chlorimuron is in sommige kommersiële sojaboonlande gevind en die effekte van hierdie onkruiddoders op die opbrengs, proteïen- en olie-inhoud van sojabone word tans ondersoek.

Swak opbrengste kon toegeskryf word aan gebrekkige onkruidbeheer en droogte gedurende die blomstadium.

Sojaboon-produksie het betekenisvol toegeneem en boere moet steeds ingelig word oor die korrekte hantering en gebruik van sojaboon-entstof. Die gevestigde bradyrhizobia-populasies in sojalande het varieer tussen 0 en meer as 70 000/g grond.

Sojabone moet elke jaar geënt word, aangesien gereelde aanplanting van sojabone veral onder veral lae pH-toestande, nie hoë rhizobia getalle in die grond waarborg nie.


5.12

 

Supersoja opbrengskompetisie


MA Smit
LNR-Instituut vir Graangewasse

Met die fokus op deskundige gewas-ondersteuning by sojaboonproduksie in geoormerkte gebiede, is die supersojaprojek 'n produsent-georiënteerde projek gerig op die oordrag van tegnologie. Gedurende die jaar 2000 het die volgende plaasgevind: 'n totaal van 8 kort kursusse oor die produksie-tegnologie van sojabone is aangebied, 7 boeredae is toegespreek, 14 dae is gebruik vir besoeke aan produksie-eenhede, 'n uitstalling en inligtingsentrum is aangebied en beman by die jaarlikse NAMPO-Landbouskou en 'n hoë-profiel supersoja-geleentheid is op 21 Augustus 2000 te Ermelo aangebied. Belangrike onderwerpe wat deur gassprekers hanteer is tydens die supersoja-dag op Ermelo, het ingesluit langtermyn weervoorspellings, grondsuurheid en die winsgewendheid van sojaboonproduksie op die Hoëveld. Die dag is bygewoon deur ongeveer 160 persone en het breë nuusdekking ontvang. Gedurende Februarie en Mei, onderskeidelik, is twee TV-geselsprogramme, wat handel oor sojaboonproduksie, op die GSA-kanaal gebeeldsend en is daar ook 'n lesing oor sojaboonproduksie aan derdejaar B.Sc Agric studente van die Universiteit van Pretoria, aangebied.


5.13

 

Evaluering en standaardisering van analitiese metodes vir die bepaling van die mate van prosessering van sojabone en die raming van die beskikbare lisieninhoud in soja


D Palic
LNR-Dierevoeding & Diereprodukte Instituut, Irene

Die belangrikste bekommernis met volvet soja (VVS), is oor- en onderprosessering aangesien beide tot verlaagde aminosuurbeskikbaarheid lei.

Die doel van hierdie projek is:

  • Om 'n aantal bestaande tegnieke wat die effek van prosessering van VVS bepaal, te evalueer en te standaardiseer.
  • Om regressievergelykings tussen gestandaardiseerde laboratoriumresultate en in vivo diereproewe vir die voorspelling van diereprestasie op geprosesseerde VVS op te stel.

In Fase I van die projek is VVS dmv droë ekstrusie by temperature wat wissel van 115ºC tot 177ºC geprosesseer.

Die evaluering van huidige beskikbare laboratoriummetodes het getoon dat Urease indeks (UI), Proteïen oplosbaarheid in KOH (Araba and Dale, 1990 aangepas deur Palic and Potgieter, 2000) en Stikstof oplosbaarheidsindeks (NSI) duidelike korrelasies met prosesserings temperature gehad het.

Die proef waarin braaikuikens sewe VVS monsters gevoer is, het getoon dat slegs die monster wat by 115ºC geëkstrueer is, onderbehandel was terwyl geen betekenisvolle verskille in terme van liggaamsmassatoename, kumulatiewe voerinname, voeromset en aminosuur verteerbaarhede tussen monsters wat by 125ºC-177ºC behandel is, waargeneem is nie.

Die in situ nylon-sakkie tegniek asook die mobiele sakkie tegniek is gebruik om die rumendegradeerbaarheid en verteerbaarheid van verbyvloeiproteïen (UDP) van die monsters in melkkoeie te bepaal. Die resultate toon dat hittebehandeling rumendegradeerbaarheid verlaag het (verhoogde UDP) van 56% (by 115ºC) tot 21% (by 177ºC) sonder dat die verteerbaarheid van verbyvloeiproteïen nadelig geraak is.

Die groeistudie en aminosuurverteerbaarheidstudie op hoenders gaan herhaal word om bogenoemde resultate te bevestig.


5.14

 

Kultivarevaluasie van olie- en proteïensade in die winterreënvalstreek (lupien)


DJ Hanekom
Hoofdirektoraat Landbou, Wes-Kaap (Elsenburg)

Gedurende die 2000 seisoen het die Hoofdirektoraat Landbou: Wes-Kaap, soos tydens die 1998- en 1999-seisoen, 'n reeks lupien cultivars geëvalueer vir aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Sowat 22 cultivars is op 12 lokaliteite, 6 in die Suid-Kaap en 6 in die Wes-Kaap, getoets. 'n Addisionele saaityd is ook op die onderskeie proefplase in die twee gebiede naamlik, Tygerhoek en Langgewens beoog, maar kon slegs by eersgenoemde plaasvind aangesien 'n laat aanvang van die seisoen in die Swartland, 'n vroeë saaityd onmoontlik gemaak het. Afgesien van 'n reeks kommersiële cultivars is twee nuwe geellupien cultivars asook 'n smalblaar cultivar, afkomstig van Pole, in die program ingesluit. Data aangaande die blomdatum en opbrengs is ingesamel en statisties verwerk.

In die Suid-Kaap het swak ontkieming, vogstremming en onkruidprobleme veroorsaak dat die proef by die Swellendam lokaliteit, asook die tweede aanplanting op Tygerhoek, nie voltooi is nie. Die gemiddelde opbrengs van lupiene by die verskillende lokaliteite het gewissel van 946,1 kg/ha (Tygerhoek) tot 1 717,9 kg/ha (George). Die gemiddeldes van cultivars oor al die lokaliteite het gestrek van 594,8 kg/ha (Markiz) tot 1 789,1 kg/ha (Gail). Die beste gemiddelde opbrengs van die smalblaarcultivars, is deur die cultivar, Ereuka aangeteken (1 545,1 kg/ha).

Die hoogste lupienopbrengs is deur die cultivar Esta (2 405,4 kg/ha) by die Napier lokaliteit behaal.

In die Swartland het vogstremming na saai by al die lokaliteite, met die uitsondering van die Philadelphia area, voorgekom. Die relatief goeie reënval wat tydens Julie by al die lokaliteite gemeet is, het egter tot 'n redelike mate van herstel by die meeste lokaliteite gelei. Brak kolle in die proefpersele by die Porterville en Eendekuil lokaliteite het egter meegebring dat daar besluit is om nie die data van hierdie lokaliteite by die finale verwerking in te sluit nie. Die laat saaidatum, gekoppel aan erge vogstremming na saai, het ook veroorsaak dat lupiene by die Malmesbury lokaliteit baie swak vertoon het en is daar besluit om hierdie inligting ook uit die finale verwerking te laat. As gevolg van 'n gebrek aan 'n voldoende hoeveelheid saad is die cultivar Moonah slegs by die lokaliteite in die hoë-potensiaal gebiede geplant.

Gemiddelde opbrengste by lokaliteite in die gebied het gewissel van 1 630,3 kg/ha (Langgewens) tot 1 944,9 kg/ha (Philadelphia). Die hoogste opbrengs is deur die cultivar E16 (3 045,7 kg/ha) by die Philadelphia lokaliteit behaal. Gemiddelde opbrengste van cultivars oor al die lokaliteite het gestrek van 710,8 kg/ha (Markiz) tot 2 733,6 kg/ha (E16). Die hoogste gemiddelde opbrengs deur 'n smalblaarcultivar oor al die lokaliteite in die gebied, is deur die cultivar Tanjil (1 815,6 kg/ha) behaal.

Oessekerheidsdata, wat dit moontlik maak om die opbrengs van cultivars by sekere opbrengspotensiale (mikpunte) te skat toon dat die cultivars, Astra, Kiev, Vladimir en CED 6150 goeie oessekerheid by 'n wye reeks van potensiale aandui. Gail en Wonga dui op goeie oessekerheid by die laer potensiaal klasse, terwyl Kali en KS-3 oessekerheid by die potensiale van 2,5 tot 3,0 ton/ha toon.


5.15

 

Die ontwikkeling van die produksie-tegnologie van soet witlupiene in die somerreënvalgebiede


JAM van der Mey
LNR-Instituut vir Graangewasse

Aangesien die Proteïennavorsingstrust kontrakteurs aangestel het om lupiene te bevorder in die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Wes-Kaap streke, handel hierdie verslag nie oor die voormelde gebiede nie. Die LNR-IGG span het die plant van lupiene in die Noord-Wes en die Noordelike Provinsies aangemoedig, aangesien laasgenoemde nuwe gebiede is waar lupiene met sukses gedurende die winter en onder besproeiing verbou kan word. Gedurende hierdie jaar is daar ongeveer 75 ha aangeplant in die Viljoenskroon, Vryburg, Ventersdorp, Brits en Swartruggens streke. Daar word verwag dat hierdie gebiede sal uitbrei na ongeveer 150 ha gedurende die 2000/2001-seisoen. Indien die produsente pryse ontvang wat volgens hulle billik is, kan die verbouing van lupiene in hierdie gebiede drasties verhoog word. Die breëblaar (albus) cultivar Hantie, het tussen 3 en 6t/ha in semi-kommersiële blokke geproduseer, terwyl die onlangs vrygestelde Australiese smalblaar (angustifolius) cultivars, Wonga en Merrit, wat 'n beter weerstand bied teen antraknose, ongeveer 2,5 t/ha produseer. Die proteïen-en-olie-inhoud van die smalblaar lupiene is oor die algemeen laer as die van die breëblaar lupiene. Die LNR-IGG span het ook saad geproduseer vir die Nasionale Lupiencultivarproewe wat aangeplant is in die Wes- en Suid-Kaap, sowel as in die somerreënvalgebiede gedurende die winter. Die proefresultate is ook deur LNR-IGG ontleed. Dit was hierdie seisoen ook moontlik om 'n gekombineerde statistiese analise uit te voer van die 1998 en 1999 seisoene. 'n Totaal van 24 proewe was geskik met of die koëffisiënt van variasie (KV) en/of die intra-klas korrelasie (tn) (binne-gehalte onafhanklikheid), die inskrywing-herhaalbaarheid (t) en die verhouding van t oor die standaard afwyking van t, binne aanvaarbare perke. Die beste cultivars oor alle lokaliteite heen en wat 1,8 t/ha oorskry het, was: CED6150 (1,7 t/ha), Vladimir (1,84 t/ha), Ronell (1,83 t/ha) en KS-3 (1,91 t/ha). Dieselfde cultivars het die beste presteer in die Wes-Kaap en het 2 t/ha oorskry: CED6150 (2,2 t/ha), KS-3 (2,02 t/ha) en Vladimir en Ronell (2,01 t/ha). In die Suid-Kaap was die drie top produserende cultivars die volgende: Eureka (2,0 t/ha), Helderberg (1,91 t/ha) en Hantie (1,90 t/ha). Daar moet ook gelet word dat beide Eureka en Helderberg, smalblaar lupiene is.

Die winteraanplantings in die somerreënvalseisoen het hierdie seisoen nie enige hoë potensiaal omgewings ingesluit nie. Ronell het die beste algehele opbrengs van 1,75 t/ha gelewer. Die Lindley-streek was uitermatig droog en het 'n gemiddelde opbrengs van 0,7 t/ha gelewer. In hierdie geval het die twee smalblaar lupiene, Helderberg (1,81 t/ha) en Eureka (1,17 t/ha), weer die beste resultate gelewer. Die berekeninge ten opsigte van opbrengsstabiliteit, dui daarop dat die cultivar Vladimir die stabielste is ten opsigte van alle opbrengsmikpunte. Die opbrengsstabiliteits-waardes lê oor die algemeen ongeveer 10 % onder die gemiddelde oes-opbrengs. Ronell en Astra is die beste geskik vir omgewings met 'n lae tot medium-hoog oespotensiaal. Die CED6150 cultivar is die beste geskik vir omgewings waar die potensiaal wissel tussen medium-laag tot hoog.


5.16

 

Seleksie en teling vir weerstand teen antraknose (Colletotrichum gleosporioides) in kiemplasma van Lupinus albus en die ontwikkeling van kommersiële antraknose bestande kultivars


JAM van der Mey
LNR-Instituut vir Graangewasse

Die vierde generasie van sub-populasies is vir weerstand teen antraknose (Colletotrichum Gloeosporioides), uit 'n medium (SAL60) en lang groeiseisoen (SAL160) populasie geselekteer. Hierdie sub-populasie is onderwerp aan verdere seleksie onder veld-, sowel as glashuistoestande. Hierdie omgewings het ingesluit Caledon (W-Kaap), Bethlehem (Vrystaat), Ermelo (Mpumalanga Hoëveld), Potchefstroom (NW Provinsie), sowel as 'n LNR-IGG glashuis. By Caledon en in die LNR-IGG glashuis waar antraknose voorgekom het, is sowat 800 enkelplantseleksies gemaak. By die ander lokaliteite, waar geen antraknose voorgekom het nie, is ongeveer 40 ry-seleksies gemaak, met as maatstaf die graad van weerstand wat in dieselfde lyne by Caledon en in die LNR-IGG glashuis gevind is, maar wat wel aan die agronomiese vereistes voldoen. Hierdie seleksies sal gebruik word in 'n kontroleproef wat in die 2001-seisoen in Caledon geplant sal word onder droëland, sowel as besproeiingstoestande. Hierdie seleksies sal ook in dieselfde seisoen in Bethlehem en Potchefstroom geplant word. Die enkelplantseleksies sal verder onder kunsmatige inokulasie in die glashuis getoets word, ten einde groter homogeniteit te verkry vir die antraknose-bestande eienskap, wat blyk hoogs poligenies te wees.


5.17

 

Patologiese karakterisering en seleksie van lupien antraknose-veroorsakende isolate om in weerstandsteling te gebruik


SH Koch
LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming

Isolasies en her-isolasies is gedoen van alle lupien en onkruid monsters wat sedert die uitbreek van die siekte in 1993 versamel is. Isolate is ook verkry van vyf nuwe monsters van verskillende lokaliteite wat gedurende 2000 versamel is.

'n Stel van 16 internasionale lupien-inskrywings, met verskillende genetiese agtergronde is deurentyd vir saadproduksie vermeerder. Die saad word vir die onderskeiding van patogeniese veranderlikheid in swam isolate gebruik. In vergelyking met die resultate wat in verskillende dele van die wêreld verkry is, is 'n meer patogeniese reaksie verkry in die stel van internasionale inskrywings na inokulasie met 'n mengsel van die 1999 kulture. Veral Lupinus angustifolius cvs het meer vatbaar as voorheen vertoon. As gevolg van die beperkte hoeveelhede saad beskikbaar van die internasionale stel, is 'n nuwe stel cultivars saamgestel. Dit is verteenwoordigend van die huidige inskrywings in die cultivar proewe. Die isolate wat van tevore getoets is en sekere van die nuwe isolate (sewe in totaal) is onderskeidelik op hierdie stel van 16 cultivars getoets. Gebaseer op statistiese analise op twee stelle data, is geen merkbare verskille in patogenisiteit tussen die isolate waargeneem nie.

Oor 'n periode van ses maande is Lupinus albus cv Esta (vatbaar) en L. angustifolius cv Merrit (minder vatbaar) gereeld met verskillende kon­sentrasies van die swam, met verskillende benattings agente geïnokuleer en onder verskillende toestande geïnkubeer. Geïnokuleerde materiaal is gedissekteer, gekleur en ontkleur met verskillende kleurstowwe en ontkleurmiddels. Die materiaal is gemonteer en met behulp van 'n lig­mikroskoop bestudeer. Die aanvanklike probleme om eweredige ontkieming van spore te verkry, is oorkom, maar die swam het steeds nie verder as die approsorumvormings stadium ontwikkel nie. Die spore het in en om die trigome versamel, veral op die stamme. Aangesien inligting met betrekking tot die infeksie proses van uiterste belang is om die aard van weerstand te verstaan, word die werk in samewerking met die Plantkunde en Plantpatologie Departemente van die Universiteit van die Vrystaat voortgesit.

Benewens die 142 lupien inskrywings ontvang gedurende 1999 van die Departement van Landbou Kwazulu-Natal, is ook 68 teellyne van LNR-IGG en 6 cultivars van die PNS ontvang. Tans bevat die saadversameling 250 lupien inskrywings. 'n Verdere 48 inskrywings uit die Kwazulu-Natal-versameling is gedurende die verslag periode getoets vir weerstand teen die genoemde swam mengsel. Al die inskrywings het steeds minder vatbaar tot vatbaar getoets.


5.18

 

Genetiese manipulering van lupiene (Lupinus sp) vir bestandheid teen antraknose


TG Watson
Bio Chemtek, WNNR

Hierdie projek word uitgevoer deur die WNNR Bio/Chemtek in samewerking met LNR- Roodeplaat.

Die doel van hierdie projek is om lupiene geneties te manipuleer vir weerstandbiedenheid teen antraknose wat veroorsaak word deur 'n Col­le­totrichum sp. Vorige werk het gefokus op optimalisering van 'n regenerasie en transformasie protokol vir lupiene explante, asook die identi­fisering en doeltreffendheid van die swaminhiberende proteïen, appel PGIP, vir die inhibering van Colletotrichum sp. groei.

Die appel PGIP geen is geïsoleer van genomiese appel DNA en is in die Agrobacterium tumefaciens binêre vektor gekloneer. Transformasie van tabak met hierdie konstruksie en die daaropvolgende bepaling van 'n reduserende suiker toets het getoon dat die appel PGIP tot 73% inhibisie toon teen die Colletotrichum sp. polygalakturonases. Hierdie resultate toon dat die gekloneerde appel PGIP in 'n aktiewe vorm uitgedruk en geproduseer word in plante en dit bevestig dat die appel PGIP geen 'n geskikte kandidaat vir genetiese manipulering van lupiene vir weerstandbiedenheid teen antraknose is. Vir sterk langtermyn weerstandbiedenheid teen Colletotrichum sp. sal kombinasies van die appel PGIP geen en ander swam­inhiberende gene met verskillende aksies gebruik word.

Bewys dat vakuum infiltrasie van peulplant sade met A. tumefaciens aanleiding gee tot verhoogde transformasie het ons angespoor om ons navorsing te fokus op die optimalisering van transformasie van L. angustifolius cv. Helderberg met A. tumefaciens deur middel van vakuum infiltrasie. Oorspronklike eksperimente het getoon dat hierdie metode hoë frekwensies van kortstondige transformasie toon. Ons het dus hierdie metode gebruik om die appel PGIP geen in L. angustifolius te kloneer. Wanneer die getransformeerde plante saad produseer sal die nageslag getoets word vir die teenwoordigheid van transgene.


5.19

 

Vakuum infiltrasie van lupiensade vir genetiese manipulasie van lupiene vir weerstand teen antraknose


JA de Ronde
LNR-Roodeplaat Instituut vir Groente en Sierplante

Lupiene sade is getransformeer met 'n pCambia konstruksie deur gebruik te maak van die Agrobakterium vakuum infiltrasie metode wat op sojabone geoptimiseer is. Verskillende faktore wat 'n rol kan speel in suksesvolle transformasie van die lupiene is ondersoek. Daar is gevind dat 'n 50% verdunning van die Agrobakterium kultuur in fosfaat buffer die hoogste transformasie frekwensie gelewer het, as gevolg van minste gekontamineerde sade en minste geliseerde selle. Twee tipes Agrobakterium rasse is getoets naamlik LBA4404 en AGL1. In die opgroei van die kulture is gemerk dat LBA4404 meer flokkuleer en dan 'n laer transformasie effektiwiteit tot gevolg het teenoor AGL1 wat meer egalig groei. Geen verskille in effektiwiteit is gevind met of sonder die Vir G nie.

Die konstruksie wat gebruik is vir die optimisering bevat 2 merker gene: bar geen, kodeer vir onkruiddoder bestandheid en kan getoets word met Ignite en 'n GUS-intron geen wat blou kleur met X-GLUC. GUS uitdrukking is gevind in die blaarweefsel van TO plante en in die sade (T1), wat daarop wys dat GUS na die nageslag oorgedra word.

Die moontlike getransformeerde plante is getoets vir uitdrukking van bar deur van die blare te verf met 0,1% Ignite. Na 3 dae was die verskil tussen getransformeerd en ongetransformeerd duidelik. Die transformante het betekenisvol minder skade getoon met die behandeling as die kontrole plante. Daar is gevind dat 'n transformasie persentasie van 11% met die transformasie metode bereik kan word. Die PGIP geen sal nou na lupiene toe oorgedra word.


5.20

 

Enting van lupiene in Suid-Afrika


IJ Law
LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming

Lupiene is 'n proteïenryke graanpeulgewas met die vermoë om stikstof te verkry in simbiotiese verwantskap met stikstofbindende knoppies­bakterieë (rhizobia). Lupiene is nie inheems in Suid-Afrika nie en in nuwe aanplantings moet die rhizobia op die saad geënt word. Lupiene word reeds vir verskeie dekades in die Swartland-area van die Wes-Kaap verbou en genaturaliseerde rhizobia populasies kom in hierdie gronde voor as gevolg van herhaalde enting. Hierdie rhizobia populasies is baie effektief en baie boere het opgehou met enting. Hulle maak nou staat op die grondrhizobia vir die nodulasie van hul gewasse.

Dit is wel bekend dat 'n goeie reaksie op enting verkry word wanneer peulgewasse verbou word in gronde waar rhizobia afwesig is. Enting is sinneloos onder omstandighede waar groot residensiële rhizobia populasies voorkom. 'n Onlangse opname van agt Wes-Kaapse plaasgronde het getoon dat beide situasies in die Wes-Kaap bestaan. Populasies van lupienrhizobia varieer van geen tot ± 3 000 per gram grond. Veldproewe is uitgevoer om die effek van enting te bepaal op plekke met 'n geskiedenis van lupienverbouing.

Die proefpersele was in die Swartland (Eendekuil, Hopefield, Moorreesburg) en Suid-Kaap (Riviersonderend). Groot rhizobia populasies (10 000-100 000/g grond) het voorgekom. Glashuisproewe het getoon dat die populasies in stikstofbindingseffektiwiteit vergelykbaar was met die entstofras, VK10. Tydens plant is ± 1 miljoen selle/saad met VK10 geënt, en 'n skatting is gemaak dat hierdie ras met 100:1 oortref is deur die kompeterende grondpopulasies. 'n Analise van die genoduleerde plante van elke lokaliteit het getoon dat min knoppies gevorm is deur die entstofras, VK10.

By Hopefield as voorbeeld, het slegs 20% knoppies van geënte plante ras VK10 bevat, alhoewel die ras deel van die bestaande grondpopulasie was en het in 12% van die ongeënte plante se knoppies voorgekom.

Dit verklaar waarom enting nie 'n aansienlike toename in die saadopbrengs (kg/ha) by enige van die lokaliteite tot gevolg gehad het nie. Toediening van stikstofkunsmis (45 kg stikstof/ha) het ook nie 'n toename in opbrengs gelewer in vergelyking met die ongeënte behandelings nie. Die grondrhizobia is dus effektief in die voorsiening van voldoende stikstof aan die plant. Geen voordele is verkry by lupienopbrengste deur molibdeen in te sluit by geënte, ongeënte en stikstofkunsmis-behandelings nie, alhoewel hierdie spoorelement wel aanbeveel word vir aanwending op lupiene.

Alhoewel die veldproewe nie daarin geslaag het om die betekenisvolle voordele van inokulasie te beklemtoon nie, was nodulasie van on­geïno­kuleerde plante by Eendekuil minder eenvorming as die geënte plante. Die rhizobia-populasie is dus nie egalig versprei in die grond nie. 'n Betekenisvolle (5% waarskynlikheid) toename in saadopbrengs per plant is hier gevind na enting, moontlik omdat die plante van hierdie behandelings eenvorming genoduleer was. Die produsent kan dus voordeel trek deur enting selfs in die teenwoordigheid van effektiewe rhizobia.


5.21

 

Kwantifisering van die energiewaardes en samestelling van potensiële alternatiewe proteïenbronne


TS Brand
Hoofdirektoraat Landbou, Wes-Kaap (Elsenburg)

Monsters van geel soetlupiene (Lupinus luteus; n = 4), breëblaar lupiene (Lupinus albus; n = 12), smalblaar lupiene (Lupinus angustifolius; n = 8), fababone (Vicia faba; n = 2), erte (Pisum sativum; n = 4) en narbon bone (Vicia narbonesis; n = 2) is oor 'n twee jaar periode versamel. Die fisiese eienskappe (1000 - korrelmassa en hektolitermassa), chemiese samestelling (droë materiaal, as, ru-proteïen, eterekstrak, suurbestande vesel, neutraalbestande vesel, asook mineraalinhoud), energiewaardes (TMEn vir pluimvee) asook die lisien- en metionien-beskikbaarheid (met pluimvee) van die monsters is bepaal. Lupinus albus het die hoogste stikstof gekorrigeerde ware metaboliseerbare energie-inhoud (TMEn) (12,49 MJ/kg) gehad, gevolg deur die waardes van erte (11,35 MJ/kg), narbon bone (11,25 MJ/kg), fababone (10,90 MJ/kg), Lupinus angustifolius (10,46 MJ/kg) en Lupinus luteus (10,20 MJ/kg). L. luteus het die hoogste proteïeninhoud (39,36%) gehad, gevolg deur L. albus (38,19%), fababone (26,00%), velderte (24,74%) en narbon bone (23,76%). L. Luteus monsters het die hoogste lisieninhoud (2,22%) gehad, gevolg deur die waardes van L. albus (1,96%), velderte (1,93%), L. angustifolius (1,86%), narbon bone (1,75%) en fababone (1,70%).

Belangrike korrelasie koëffisiënte tussen die energie-inhoud van lupiene en die eterekstrak inhoud (r = 0,82) sowel as die 1000-korrelmassa (r = 0,80) daarvan is verkry. TMEn van lupiene vir pluimvee kan deur die as- en eterekstrak inhoud (R2 = 0,74), sowel as die 1000-korrelmassa (R2 = 0,62) daarvan voorspel word.

Die gevolgtrekking kan uit die studie gemaak word dat graan peulgewasse 'n waardevolle potensiële proteïenbron vir enkelmaagdiere kan wees. Die studie bied 'n reeks waardes vir verskillende cultivars van hierdie tipe graan peulgewasse wat in Suid-Afrika verbou word. Hierdie waardes is belangrik om die voedings-, sowel as die finansiële waarde van die verskillende tipe graan peulgewasse te bepaal.


5.22

 

Kultivarevaluasie van olie- en proteïensade in die winterreënvalstreek


DJ Hanekom
Hoofdirektoraat Landbou, Wes-Kaap (Elsenburg)

Gedurende die 2000 seisoen het die Hoofdirektoraat Landbou, soos tydens die 1998- en 1999 seisoen, 'n reeks canola cultivars geëvalueer vir aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Sowat 21 cultivars is op 12 lokaliteite, 6 in die Suid-Kaap en 6 in die Wes-Kaap, getoets. 'n Addisionele saaityd is ook op die Tygerhoek en Langgewens proefplase beoog, maar kon slegs by eersgenoemde aangeplant word aangesien die laat aanvang van die seisoen in die Swartland 'n vroeë saaityd onmoontlik gemaak het. Afgesien van die standaard kommersiële cultivars is heelwat nuwe cultivars asook belowende teellyne in die program ingesluit. Data aangaande die opkoms, blomdatum en opbrengs is ingesamel en statisties verwerk.

In die Suid-Kaap is al die proewe, met die uitsondering van die Caledon lokaliteit, voltooi. Strawwe vogstremmingstoestande na saai het hier tot uiters swak vestiging gelei en is die proef gevolglik gestaak. Gemiddelde opbrengste vir alle cultivars het gewissel van 734,7 kg/ha (Heidelberg) tot 1 683,3 kg/ha (Tygerhoek vroeë saaityd). Die gemiddeldes van cultivars oor al die lokaliteite in hierdie gebied het gestrek van 885,9 kg/ha (Hylite 200) tot 1 753,4 kg/ha (Hyola 42). Die hoogste opbrengs is deur die cultivar Rainbow (2 256,9 kg/ha) by die Napier lokaliteit aangeteken.

In die Swartland het vogstremming na saai by al die lokaliteite, met die uitsondering van die Koeberg en Malmesbury, distrikte voorgekom. Hierdie toestand was veral straf by die Hopefield lokaliteit en het tot oneweredige opkoms gelei en is die proef gevolglik nie voltooi nie. Die relatief goeie reënval wat tydens Julie by al die lokaliteite gemeet is, het egter tot 'n mate van herstel by van die lokaliteite gelei.

Vanjaar is egter die eerste noemenswaardige voëlskade in die Swartland opgemerk. Dit was waarskynlik as gevolg van die laat aanvang van die seisoen wat veroorsaak het dat canola die enigste beskikbare voedingsbron vir voëls op 'n stadium was.

Bogenoemde het veroorsaak dat slegs die data van die Langgewens en Eendekuil lokaliteite in die finale verwerking ingesluit is. By eersgenoemde is 'n proefgemiddelde van 1 757,6 kg/ha aangeteken en het die cultivar Varola 44 die beste opbrengs met 'n gemiddelde van 2 703,8 kg/ha gelewer. By Eendekuil is 'n proefgemiddelde van slegs 461,7 kg/ha gemeet, maar het die cultivar Varola 44 nogtans 'n opbrengs van 1 083,8 kg/ha gelewer.

Oessekerheidsdata van die 2000 seisoen toon dat die cultivars Monty, Hyola 42, Varola 50, Varola 44 en die teellyn 54801 deurgaans by al die potensiale, wat wissel van 0,5 tot 3 ton/ha, goed gepresteer het, terwyl Insignia ook goeie oessekerheid by potensiale bokant 1,5 ton/ha verleen het.


5.23

 

Epidemiologie van swartstam van canola in die winterreënvalstreek van Suid-Afrika: 'n voorvereiste vir volhoubare siekte bestuur


EE Auret
LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming

Swartstam (veroorsaak deur Leptosphaeria maculans) kom voor in meeste canola produserende lande en kan verliese van tot 100% veroorsaak. Leptosphaeria maculans val saadlobbe, blare, stamme, krone, wortels en peule van canola plante aan. Saadlob en krooninfeksies word egter beskou as die mees belangrike fases van hierdie siekte en veroorsaak hoë plantsterftes. Om 'n toename in canola produksie te verseker is dit belangrik dat nuwe cultivars / lyne geëvalueer word vir weerstand / toleransie teen swartstam onder verskillende toestande deur gebruik te maak van plaaslike isolate van hierdie patogeen.

Swartstam-siektetuine is op Langgewens (Moorreesburg), Outeniqua (George) en Tygerhoek (Riviersonderend) proefplase gevestig om weerstand / toleransie van cultivars / lyne teen swartstam onder plaaslike toestande te evalueer. Drie herhalings van 22 cultivars / lyne is by elke perseel geplant en swartstam-geïnfekteerde stoppel is daarna oor die eksperimentele persele versprei. Saailing-vestiging was swak by die Langgewens en Outeniqua proefplase as gevolg van onvoldoende reën en lae spoorvrystelling vanaf geïnfekteerde stoppel het voorgekom.

Alhoewel voldoende reën op Tygerhoek voorgekom het om goeie saailingvestiging te verseker, het die situasie later in die seisoen verander, en is lae voorkomste van swartstam op stamme en krone van meer weerstand-biedende/tolerante cultivars aangemeld, terwyl geen peulinfeksie voorgekom het nie. Voorkoms van swartstam op saadlobbe en krone was betekenisvol hoër by Hyola 420 as al die ander cultivars/lyne, wat 'n lae opbrengs en 'n swartstamklassifikasie van 1 (0 = vatbaar en 10 = weerstandbiedend/tolerant) tot gevolg gehad het. Swartstamklassifikasie van die ander cultivars/lyne was 6 en hoër.

Cultivars wat kommersieël in die winter-reënvalstreek in die 2000 seisoen aangeplant is, het ingesluit Charlton, Dunkeld, Grousse, Hylite 200 TT, Hyola 42, Karoo, Monty, Oscar, Rainbow, Scoop, Varola 50 en Varola 54. Alhoewel lae siektevoorkoms by meeste van hierdie cultivars aangemeld is, is hoë saadlobinfeksie waargeneem by Oscar en hoë krooninfeksie by Hylite 200 TT en Hyola 42.

Dit bevestig die belangrikheid van swartstam en die noodsaaklikheid van siektetuine sodat slegs weerstandbiedende / olerante cultivars aanbeveel word om sodoende 'n verhoogde en volhoubare canola produksie in die winterreënvalstreek te handhaaf.


5.24

 

Die omvang en rol van canola en lupien grondgedraagde siektes op die daling in opbrengs: 'n voorvereiste vir die ontwikkeling van 'n effektiewe en volhoubare beheerstrategie


SC Lamprecht
LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming

Grondgedraagde siektes is belangrike beperkings vir beide volhoubaarheid en uitbreiding van canola en lupien produksie in die winterreënvalstreek van Suid-Afrika. Hierdie siektes veroorsaak ernstige ekonomiese verliese wêreldwyd en jaarlikse verliese van tot 20% is in ander lande aangemeld. In Suid-Afrika is daar egter min of geen inligting oor hierdie siektes. Gedurende 1999 is die voorkoms en omvang van grondgedraagde siektes van canola en lupien in die hoof produksie areas van die winterreënvalstreek bepaal. Die boerdery areas in die Suid-Kaap (Bredasdorp / Napier, Heidel­berg en Swellendam) en die Swartland (Moorreesburg, Piketberg / Eendekuil en Porterville) wat in hierdie opname ingesluit was, verteenwoordig verskillende grondtipes en reënvalpatrone. Plante is 4-6 weke (saailingstadium), 8-10 weke (vegetatiewe stadium) en 14-16 weke (blom / peulstadium) na plant, versamel.

Hierdie opname het resultate in ander lande verkry, bevestig nl. dat swartstam (veroorsaak deur Leptosphaeria maculans) die belangrikste siekte van canola is. Siektevoorkoms van tot 100% is in die Swartland waargeneem, maar was minder ernstig in die Suid-Kaap. Saailingafsterf kan beskou word as die tweede belangrikste siekte van saailinge van canola. Verskeie swamme, wat ook hoogs patogenies is op ander gewasse, is geassosieer met saailingafsterf nl. Fusarium avenaceum, Pythium irregulare, P. tracheiphilum en Rhizoctonia solani. Lae voorkomste (0,1 en 0,3% respektiewelik) van swartvlek (veroorsaak deur Alternaria spp.) en Sclerotinia stamvrot is in die vegetatiewe groeistadium van canola aangemeld. Hierdie situasie het verander met die daaropvolgende blom / peulstadium.

Swartvlek met 'n voorkoms van 1,5% vir die Suid-Kaap en 14% vir die Swartland kan beskou word as die tweede belangrikste siekte van volwasse canola gevolg deur Sclerotinia stamvrot (0 en 4% voorkomste vir die Suid-Kaap en Swartland respektiewelik). Volgens hierdie opname is wortelvrot die vierde belangrikste siekte van canola in die winterreënvalstreek.

Saailingafsterf van lupiene is die mees belangrike siekte van hierdie gewas gedurende die saailingstadium en voorkomste van tot 43% is aangemeld. In hierdie gevalle is groot oop kolle in die geaffekteerde lande waargeneem. Swamme geassosieer met hierdie siekte was F. avenaceum, F. solani, F. oxysporum, Phytophthora megasperma, P. irregulare, P. tracheiphilum en R. solani. Sclerotinia stamvrot het nie voorgekom in lupienlande wat by hierdie opname ingesluit was nie. Blaarvlek (veroorsaak deur Alternaria spp.) is by beide die vegetatiewe en blom / peulstadiums waargeneem, met voorkomste van 2 en 16% respektiewelik in die Suid-Kaap, en 2 en 10% respektiewelik in die Swartland. Kroonvrot van lupiene is slegs in die Swartland waargeneem en voorkomste het vermeerder van 1% in die vegetatiewe stadium tot 3% in die blom / peulstadium en het oop kolle in lupienlande veroorsaak. Rhizoctonia solani is gereeld vanaf geïnfekteerde kroonweefsel geïsoleer. Volgens hierdie opname is wortelvrot die belangrikste grondgedraagde siekte van lupiene in die winterreënvalstreek. Hoë voorkomste (8%) is in die vegetatiewe stadium aangemeld met 'n effense toename in die blom / peulstadium in die Suid-Kaap. Alhoewel, die voorkoms van wortelvrot laer was in die Swartland het dieselfde tendens van hoër infeksie in die blom / peulstadium voorgekom. Soos in die geval van saailingafsterf, is verskeie swamme wat ook patogenies is op ander gewasse geïsoleer vanuit wortelvrotletsels, insluitende F. avenaceum, F. solani, F. oxysporum, P. megasperma en P. irregulare.

Tydens hierdie opname is die voorkoms en omvang van grondgedraagde siektes van canola en lupiene in die winterreënvalstreek, asook organismes geassosieer met hierdie siektes, bepaal. Hierdie inligting is noodsaaklik vir die ontwikkeling van volhoubare siektebestuurstrategieë.


5.25

 

Optimale plantmetodes vir olie- en proteïensaadgewasse in die Wes- en Suid-Kaap


GA Agenbag
Universiteit Stellenbosch

Produksie mikpunte gestel vir canola in die Wes- en Suid-Kaap word tans nie bereik nie omdat opbrengste van 2,0 ton/ha-1 en meer nie algemeen realiseer nie. Onegalige ontkieming en lae vestigingspersentasies is een van die belangrikste redes vir lae opbrengste. 'n Navorsingsprojek waarin breedwerpige saaimetodes vergelyk word met 'n drukwielplanter is die afgelope drie jaar op twee lokaliteite uitgevoer.

Ten spyte van ongunstige (droë, warm) toestande wat in al drie jare tydens planttyd voorgekom het, was plantestand verkry met die druk­wielplanter oor die algemeen beter as met breedwerpige saaimetodes. Op Roodebloem was die vestigingspersentasie met die drukwielplanter, gemiddeld 10% beter as met breedwerpige saaimetodes. Die grootte van verskille het egter oor jare gevarieer. Weens die onbepaalde groeiwyse van canola en gevolglike vermoë om te kompenseer vir lae plantestande asook droë graanvul periodes, het graanopbrengste verkry met verskillende plantmetodes meestal nie betekenisvol verskil nie. Op Roodebloem was dit gemiddeld 1 585 kg/ha-1 vir die drukwielmetodes planter teenoor 1 398 kg/ha-1 vir breedwerpige saai. Nogtans het resultate getoon dat vestigingsrisiko's verlaag word deur die gebruik van akkurate plantmetodes. Die gebruik van drukwielplanters vir die vestiging van canola word dus aanbeveel.


5.26

 

Ekonomiese kortrotasie wisselbougewasse vir koring


PJ Pieterse
Universiteit Stellenbosch

Die projek wat die groei en opbrengs van koring en die mineralisasie van stikstof in verskillende rotasiestelsels ondersoek, is voortgesit. Die studie skakel in by die groot rotasieproef wat deur die Departement Ekonomiese Sake, Landbou en Toerisme se Hoofdirektoraat Landbou: Wes-Kaap op Langgewens Proefplaas naby Malmesbury uitgevoer word. Tendense wat in 2000 waargeneem is het verskil van tendense wat in 1999 voorgekom het. In 1999 was koringopbrengs die hoogste in behandelings waar daar lupiene in die vorige jaar geplant is, alhoewel die verskille nie statisties betekenisvol was nie. In 2000 egter het die behandelings waar daar canola en medics in die vorige jaar geplant was, in die proefpersele betekenisvolle hoër opbrengste gelewer as behandelings wat in die vorige jaar koring en lupiene op gehad het. Hierdie tendense is ook weerspieël in die vroeë vegetatiewe groei van die koringplante en stikstofinhoud van die gronde vroeg in die seisoen. 'n Inkubasieproef is ook uitgevoer waarin die stikstofleweringsvermoë van grond vanaf lande wat twee jaar vantevore verskillende gewasse op gehad het, vergelyk is. Hier was dit duidelik dat grond waarop peulplante verbou is, nog steeds na twee jaar 'n beter stikstofleweringsvermoë gehad het as grond waarop nie-peulplante gegroei het nie. Die studie sal vir 'n verdere twee jaar voortgesit word.


5.27

 

'n Ondersoek na die produksie-dinamika van agt wisselboustelsels, insluitende koring, canola, lupiene en weiveldspesies in die Swartland, Wes-Kaap


M Hardy
Hoofdirektoraat Landbou, Wes-Kaap (Elsenburg)

Die doel van hierdie studie is om die kort- en langtermyn effekte van agt van die mees haalbare gewas en gewas / weidings wisselboustelsels wat vir die Swartland identifiseer is ten opsigte van: produksie (opbrengs), onkruidbeheer, onderdrukking van siektes, produksie potensiaal van die grond, skaapproduksie en ekonomiese volhoubaarheid produksiestelsels in die Swartland.

Dit word voorsien dat die eksperiment sal lei tot: verminderde insetkoste vir graanproduksie, verhoogde produksie van proteïen- en oliesade, groter potensiële diversifikasie moontlikhede vir boerderystelsels vir groter finansiële stabiliteit, verminderde kostes vir veeboere, verhoogde produksie potensiaal van gronde met verhoging in organiese materiaal-inhoud, en mikro- en makro-organisme aktiwiteit.

Gedetaileerde ekonomiese analise van al die wisselboustelsels gedurende die eerste vier-jaar siklus van die eksperiment is tydens die ver­slag­periode voltooi. Hierdie analises het 'n oortuigende tendens van groter finansiële stabiliteit en winsgewendheid uit gewasrotasies wat canola, lupiene en eenjarige peulgewasweidings insluit getoon, teenoor 'n koring mono-kultuur stelsel. Die ekonomiese data is ook geëkstrapoleer om die effek van oorskakeling vanaf 'n koring mono-kultuur na verskeie wisselboustelselopsies op 'n "tipiese" plaas in die Swartland te simuleer. Veranderlikes sluit, onder andere, plaasgrootte en reënvalpatrone in. Hierdie werk is op 'n voltydse basis gedoen deur 'n M.Sc Agric Ekonomie-student wat sy tesis in Mei 2001 behoort te voltooi.

Oesopbrengsbepalings toon dat 'n groter kwantiteit en hoër kwaliteit koring geproduseer word as canola, lupiene of weidings in die voorafgaande seisoen geproduseer is. 'n Seisoen waarin lupiene vooraf geproduseer is, het die grootste positiewe effek op koringproduksie in die daar­opvolgende seisoen. Daar is ook aanduidings dat selfs net een seisoen van canola-produksie in 'n drie jaar koring / een jaar canola-rotasie voordelig is vir die daaropvolgende koringoes.

In 'n poging om die (biologiese) redes vas te stel hoekom een wisselboustelsel verskillende produksiekenmerke as 'n ander het, is verskeie (komponent) studies ook onderneem gedurende hierdie verslagperiode, naamlik:

  • Stikstofmineralisasie en die effek van wisselboustelsels op beskikbaarheid van grondstikstof vir graanproduksie. 'n Student het in Januarie 2001 sy MSc-graad hieroor voltooi.
  • Die effek van wisselboustelsels op die onkruidsaadbank.
  • Die effek van wisselboustelsels en stikstof toediening op koringproduksie.
  • Die effek van wisselboustelsels op grond mikro-organisme aktiwiteit.
  • Die effek van wisselboustelsels op lug- en grondgedraagde siektes.
  • Die produksie van medic- en klawersaadbanke vir elke behandeling soos geaffekteer deur die wisselboustelsels, weidingsbestuur en fisiese omgewing.

Die proef voorsien dus 'n praktiese "laboratorium" vir navorsers, studente, raadgewers en produsente om beter insig te verkry in die voordele van wisselboustelsels vir volhoubare gewasproduksie in die Swartland.

Gedurende die 2000 verslagperiode is 2 artikels in die Landbouweekblad gepubliseer en daar is ook terugvoer gegee aan produsente by die SKOG-boeredag in die Swartland en by 'n Boerevereniging-vergadering in die Suid-Kaap.


5.28

 

Die gebruik van voerensieme in sojaboon, lupien, canola oliekoek en volvet canola bevattende diëte vir braaikuikens en speenvarkies


TS Brand
Hoofdirektoraat Landbou, Wes-Kaap (Elsenburg)

In hierdie eksperiment is diëte met sojaboon oliekoekmeel (kontrole), canola oliekoekmeel, volvet canola of soetlupiene (L. angustifolius) as pro­teïen­bronne aan braaikuikens gevoer. Diëte is met of sonder ensiembyvoegings aan die braaikuikens gevoer. Alle diëte is op 'n iso-voedingswaarde vlak geformuleer. Die drie diëte met die toets proteïenbronne is met die kontrole dieet vermeng om vier insluitingsvlakke (0% toetsproteïen, 33% toetsproteïen, 67% toetsproteïen en 100% toetsproteïen) van die toetsproteïenbronne te bevat. Ses-en-negentig hokke met 85 braaikuikens per hok is gebruik (8 160 braaikuikens). Ensiembyvoegings het geen betekenisvolle invloed op die produksie prestasie van die braaikuikens gehad nie. 'n Geringe afname in groei en voeromset met toenemende peile van die toetsproteïen teenoor die soja kontrole dieet is waargeneem. Stygende insluitingspeile van canola oliekoek het die grootste onderdrukkende effek op produksie getoon.


5.29

 

Moet diere gevoer word tot hulle genetiese potensiaal as dié potensiaal deur stres verminder word


RM Gous
Universiteit van KwaZulu-Natal

'n Sinvolle benadering tot die bepaling van verskillende varkgenotipes se voedingsbehoeftes vir groei, is om dit te baseer op die potensiële groeitempo van die betrokke genotipe (onder ideale omstandighede). Belangrike inligting omtrent die genotipe wat vir die doel benodig word, is die proteïengewig by volwassenheid, die potensiële proteïen groeitempo, en die vet-tot-proteïen verhouding van groei (of by volwassenheid). Tegnieke is aan die Universiteit van Natal ontwikkel en getoets om hierdie eienskappe in groeiende varke te meet. 'n Voorvereiste vir sulke metings is 'n nie-beperkende omgewing. Daarteenoor is dit onwaarskynlik dat nie-beperkende omgewings in die praktyk sal heers, weens die voorkoms van stremmingsfaktore soos hoë temperature, hoë beladingsdigthede, siektes, beperkte vreetspasie, sosiale stremming, en ander stremmingsfaktore tydens die groeiperiode. Dit bring mee dat die potensiële groeitempo nie (in die praktyk) behaal kan word nie. Die vraag wat dus in hierdie navorsing aan die orde gestel word, is of die voedingsbehoeftes van groeiende varke afwaarts aangepas behoort te word, in ooreenstemming met stremmingsgeïnduseerde dalings in hul groeipotensiaal.

Vervolgens is 'n eksperiment aan die Universiteit van Natal gedoen om die uitwerking van stremming (verminderde vloerspasie) op die voedings­behoeftes van varke oor die gewigsreeks 25 tot 60 kg lewende gewig te meet. Hiervoor is 264 Groot Wit x Landras-soggies van ongeveer 25 kg liggaamsgewig toegewys aan een van vier lisienpeile in die voer (naamlik 13,3, 11,4, 9,5 en 7,6 g/kg), en een van drie vloerspasie-behandelings (tewete 2,0, 1,0 en 0,5 m2/vark). Vanaf 'n begingewig van 26 kg tot 'n eindgewig van 63 kg (in beide gevalle gebaseer op die gemiddelde gewig van varke in 'n bepaalde hok) het die varke vrye toegang tot die eksperimentele voere gehad. Groei van die proteïen- en vetkomponente van die karkas is bepaal deur die karkasse van varke op die onderskeie behandelings aan die einde van die eksperiment te ontleed.

Resultate dui daarop, dat ongeag die stremmingsvlak, dit steeds die beste sal wees om (groeiende) varke volgens hul voedingsbehoefte vir maksimum proteïenretensie te voer, vir die beste karkasgehalte en groeiprestasie. Die verbeterde lisienretensie wat met hoër voedingstofpeile in die voer gepaard gegaan het, het nie die negatiewe fisiologiese uitwerking van stremming op proteïenretensie ten volle teëgewerk nie. Nietemin het dit die daling in voerinname (wat verband hou met die onderdrukking van aptyt deur stremming) gedeeltelik voorkom. Daarteenoor was daar aanduidings dat 'n laer lisienkonsentrasie in die voer van varke met die minste vloerspasie nie tot 'n verdere daling in die groeitempo van proteïen (lisien) gelei het nie.

'n Verdere eksperiment is toe gedoen om vas te stel of die aantal voerbakke wat tydens die aanvanklike eksperiment tot varke se beskikking was nie dalk voerinname, en dus groei, van groep-gevoerde varke beperk het nie. Resultate het getoon dat groep-gevoerde varke wat van onderskeidelik 1, 2, 3 en 4 voerbakke/hok voorsien is se voerinname, gemiddelde daaglikse toename en voeromset-verhouding nie onderling beduidend verskil het nie. Gevolglik is 'n enkele voerbak vir 'n groep varke met beperkte vloerspasie nie as 'n beperkende faktor beskou nie.


5.30

 

Die respons van groeiende varke op diëte met toenemende aminosuurvlakke


RM Gous
Universiteit van KwaZulu-Natal

Daar is snelle verbetering in moderne varkgenotipes se potensiaal om maerder vleis te produseer. Terselfdertyd is daar 'n wydverspreide tendens om alternatiewe proteïenbronne (byvoorbeeld peulgewassade) in varkdiëte te gebruik. Sulke veranderinge lei tot hernude belangstelling in die uitwerking van die dieet se aminosuurbalans, sowel as moontlike interaksies daarvan met omgewingstemperatuur. Meer spesifiek is hierdie belangstelling gefokus op die uitwerking van aminosuurwanbalanse en (wisselende) temperature op vrywillige voerinname. Dit is weens sterk aanduidings van groter sensitiwiteit vir aminosuurwanbalanse in die dieet onder moderne maervleis-varkgenotipes, in vergelyking met ouer varkgenotipes. Voorts word aanvaar dat die toenemende gebruik van meer veselryke, minder verteerbare proteïenbronne die beskikbaarheid van sommige aminosure (vir absorbsie) verlaag. Triptofaan is een van die aminosure wat hier ter sprake is. Daarbenewens lei hoë vesel-laag verteerbare proteïenbronne daartoe dat varke meer hitte genereer gedurende die verteringsproses. Gesamentlik sal hierdie faktore 'n uitwerking hê op proteïenbenutting en voerinname. Die uitwerking van temperatuur op die doeltreffendheid van lisien- en treonien-benutting is reeds oor die afgelope klompie jare aan die Universiteit van Natal bestudeer.

In teenstelling met lisien en treonien, wat nie in spesifieke metaboliese reguleringsprosesse betrokke is nie, speel triptofaan 'n belangrike rol in aptytregulering, aangesien dit 'n voorloper is van serotonienproduksie deur die brein. Serotonien is verantwoordelik vir die senu-impulse wat sowel die versadigingsgevoel as proteïeninname reguleer. Dus word gepostuleer dat verlaagde triptofaankonsentrasies in die voedsel sal lei tot aptytverlies en gevolglik laer voerinname. Dit kontrasteer met die toenemende voerinname wat in vroeëre eksperimente waargeneem is wanneer die voer se ruproteïen-, lisien- en treonien-konsentrasies daal. Voorts is dit onbekend of daar 'n interaksie bestaan tussen die triptofaanpeile in die voer en omgewingstemperatuur.

Dus is 'n eksperiment gedoen om die respons te bepaal van jong, groeiende varke (oor die gewigsreeks van 13 tot 26 kg) op veranderinge in triptofaanpeile in die voer en wisselende omgewingstemperature. Resultate het getoon dat die voerinnamerespons op stygende triptofaanpeile in die voer afhanklik was van omgewingstemperatuur. Daaglikse voerinname het betekenisvol gestyg namate triptofaanpeile gedaal het, tot 'n maksimum voerinname bereik is, waarna dit gedaal het. Die triptofaankonsentrasie waar maksimum voerinname voorgekom het, het gewissel na gelang van die hoeveelheid liggaamshitte wat 'n vark kon vrystel. Laasgenoemde is weer afhanklik van die (heersende) omgewingstemperatuur. Vir die hoogste triptofaanpeile in die voer is maksimum voerinname waargeneem saam met die hoogste temperature. 'n Soortgelyke respons is waargeneem vir die proteïeninhoud van die leë liggaamsgewig, sowel as die daaglikse proteïen deponeringstempo. Die doeltreffendheid van triptofaanbenutting het toegeneem van 0,64 by 20ºC tot 0,88 by 30ºC. By gemaklike temperature was hierdie benuttingskoëffisiënt 0,76.

Samevattend blyk dit dus uit hierdie en vorige navorsing aan die Universiteit van Natal dat jong varke wat marginaal beperkende peile van 'n aminosuur ontvang, hul voerinname sal verhoog ten einde hul behoefte aan die eerste beperkende aminosuur te bevredig, selfs as triptofaan die beperkende aminosuur is. Die mate van hierdie kompensasie is nietemin afhanklik van die vark se potensiaal om liggaamshitte aan die omgewing vry te stel, wat weer 'n funksie is van die heersende omgewingstemperatuur. By hoë omgewingstemperature is die aminosuurinhoud en aminosuurbalans van 'n voer van kritiese belang vir doeltreffende voerbenutting deur varke.


5.31

 

'n Model om die gebruik van landbouprodukte vir die voer van lewende hawe in Suid-Afrika te voorspel


RM Gous en E Briedenhann
Universiteit van KwaZulu-Natal

In vandag se wêreld is inligting mag. Vir 'n veevoermaatskappy beteken verkeerde besluite met betrekking tot die aankoop van grondstowwe groot geldelike verliese. Enersyds is dit dus waardevol om die jaarlikse behoefte aan vee- en pluimveevoer akkuraat te voorspel. Andersyds is dit net so belangrik om beskikbare grondstowwe op die mees ekonomiese manier te gebruik vir die vervaardiging van voer vir die verskillende klasse vee. Erhardt Briedenhann het onlangs 'n PhD-graad aan die Universiteit van Natal verwerf deur 'n (rekenaar) model te ontwikkel wat beide hierdie take vervul.

Die model voorspel, binne Suid-Afrikaanse konteks, die aanvraag na veeprodukte, sowel as die grondstofbehoeftes, vir 'n wye verskeidenheid van gegewes, soos bv. veranderende bevolkingsdinamiek en veranderende aankoopbesluite onder verskillende bevolkingsgroepe.

Die model is gebaseer op liniêre programmering, ten einde die mees ekonomiese mandjie grondstowwe te bepaal wat sal voorsien in die essensiële voedingsbehoeftes wat vir verskillende klasse vee voorspel is, na aanleiding van die aanvraag na veeprodukte in Suid-Afrika. Alle plaaslik en internasionaal beskikbare grondstofbronne, sowel as die tersaaklike aankoopkostes, word hier in aanmerking geneem.

Voorts is hierdie verbruikers-vriendelike model gebaseer op die jongste beskikbare rekenaar sagteware-platform (Windows 2000), en is dit geskik vir gebruik met persoonlike rekenaars. 'n Wye verskeidenheid veranderlikes kan gemanipuleer word, insluitende die streeksverspreiding van vee in Suid-Afrika, diere prestasie, in- en uitvoer van veeprodukte, bevolkingsaanwas, en per kapita verbruik van verskillende veeprodukte per bevolkings- of inkomstegroep. Die uitwerking van sulke manipulasies op grondstofbenutting en die ekonomies optimale grondstofbronne is binne 'n oogwink tot die modelgebruiker se beskikking.

Hierdie model is 'n bate vir die boerderybedryf as geheel, aangesien daar nou op wetenskaplike grondslag besluit kan word oor die soort gewasse wat geplant behoort te word. Laasgenoemde besluit berus op die evaluering van 'n realistiese verkoopprys vir verskillende grondstowwe, relatief tot voorspelde pryse vir mededingende alternatiewe grondstowwe. So sal oliesadeverwerkers in staat gestel word om die grootte van hul marksegment te bepaal, sowel as aanvaarbare prysvlakke vir hul produkte, omdat die model 'n vooruitskatting doen van die volume oliekoek wat die mark kan absorbeer teen verskillende pryse, met inagneming van mededingende alternatiewe. Die meulenaarsbedryf sal eweneens in staat wees om die waarskynlike grootte van die marksegment vir neweprodukte van die meulenaarsbedryf te bepaal. Handelaars wat op die kommoditeitsbeurse bedrywig is, kan beraam vir welke grondstowwe die beste aanvraag sal bestaan vir verskillende toekomsprentjies, en teen welke prys.

Suid-Afrikaanse gebruikers van die vooruitskattingsmodel sal 'n voorsprong bo hul mededingers in die veevoerbedryf geniet wat nie die model gebruik nie. Belangstellendes kan die model bestel vanaf die Proteïennavorsingstrust wat die ontwikkelingskoste daarvan gedra het.


5.32

 

Internasionale vraag en aanbod situasie met betrekking tot proteïen vir dierevoeding


WI Nieuwoudt
Universiteit van KwaZulu-Natal

Goeie vordering is gedurende die verslagjaar gemaak en die finale verslag sal in die vorm van 'n M-verhandeling en bestuursopsomming gedurende die volgende verslagjaar beskikbaar wees. Die model waarop die studie gegrond is, is ook reeds voltooi en is artikels wat op die werk gebaseer is reeds gepubliseer. Mondelinge voorleggings is ook aan belangegroepe gemaak.

Benewens die werk aan die internasionale model is die model wat plaaslike vraag gegewens van proteïen vir diereverbruik projekteer verder verfyn en opgegradeer.

Die internasionale pryse van proteïen vir diereverbruik is byvoorbeeld geintegreer in die plaaslike model. Voorsiening is ook gemaak dat konstante inkome elastisiteite waarmee aanvanklik gewerk is nou kan afneem en is die parsiële pryselastisiteite omgeskakel na totale pryselastisiteite wat meer akkurate voorspellings tot gevolg sal hê.

Wanneer projeksies nou gemaak word van die plaaslike vraag na proteïen vir diereverbruik word gebeure in die internasionale arena deeglik in ag geneem. Aspekte wat in oorweging kom is byvoorbeeld invoere van diereprodukte vir menslike verbruik, die effek van beskermingstariewe, verskillende inkomste groei scenario's en die effek van VIGS op bevolkingsgroei.

Dit is ook duidelik dat hierdie model die basiese inligting (Vraag na diereprodukte en gevolglik aantal diere) aan die APR model van mnr E Briedenhann kan verskaf vir meer akkurate voorspellings deur laasgenoemde.


5.33

 

Die omvang, belangrikheid en potensiaal van die lusernbedryf in die RSA


HD van Schalkwyk
Universiteit van die Vrystaat (CIAMD)

Hierdie projek is geinisieer om meer inligting oor die lusernbedryf te bekom ten einde vas te stel of die PNS met sy bevorderingsaksies ook by hierdie gewas getrokke moet raak. Die lusernbedryf is reeds 'n gevestigde bedryf in die RSA en alhoewel die proteïen per ton relatief laag is teenoor die gewasse waarby die PNS wel betrokke is, is die proteïen per hektaar lusern relatief hoog.

Die groter studie wat voorafgegaan is deur 'n loodsondersoek het die vernaamste besproeiingsgebiede in die RSA gedek en is die finale verslag gedurende die verslagjaar vrygestel. Uit die studie is dit duidelik dat die lusernbedryf in terme van omvang en belanrikheid 'n groot rol speel in die Suid-Afrikaanse landbousektor.

Ongeveer 208 000-240 000 hektaar is onder lusernverbouing en word daar na raming 3,08 miljoen ton lusern geproduseer. Dit is 'n belangrike voergewas vir veral die melkbees- en vosltruisbedrywe maar vervul ook 'n belangrike rol in ander lewendehawebedrywe. Verder maak dit 'n positiewe bydrae tot die boerdery in terme van die kontantvloei voordele en as wisselbougewas.

Die meerderheid (65%) produsente het aangedui dat hul nie belangstel om lusernproduksie uit te brei nie. Volgens die studie is produsente tevrede met beskikbare cultivars. Opbrengs en kwaliteit van hooi is as probleem geïdentifiseer en word grootliks beinvloed deur bestuurspraktyke. Inligting hieroor bestaan egter en moet net toegepas word.

Die oorgrote meerderheid van produsente verkoop lusern direk vanaf die plaas en word min waarde op plaasvlak bygevoeg. Daar bestaan 'n goeie vraag na lusern en het produsente nie 'n probleem om dit te bemark nie.

Die redes wat aangevoer is waarom produsente nie lusernproduksie wil uitbrei nie kom op die volgende neer: hoë insetkoste, hoë masjinerie en implimente kostes, relatiewe lae winsgewendheid teenoor ander gewasse en hoë waterkoste.

Die gevolgtrekking waartoe die PNS gekom het is dat die hoë prioriteit beperkende faktore wat gemeld word nie binne die navorsingsmandaat van die PNS val nie en dat die PNS nie op hierdie stadium by die lusernbedryf betrokke sal raak nie.

Beter tegnologie-oordraging kan moontlik 'n rol speel om bestuurspraktyke wat 'n invloed op opbrengs en kwaliteit het op te knap. Die studie is volgens terugvoering van groot waarde vir die belangrike rolspelers in die lusernbedryf en het die PNS ook op hierdie wyse 'n rol gespeel om die lusernbedryf te bevorder.