Navorsingsverslag 2000/2001
2.
Algemene oorsig
Beleid van die PNS word vasgestel tydens Raadsvergaderings wat elke twee maande plaasvind. Dagbestuursvergaderings word met Raadsvergaderings gesinkroniseer om sake te hanteer wat deur die Raad na die Dagbestuur verwys is en om dringende aangeleenthede te hanteer. Die PNS beskik oor drie staande komitees, te wete:
- Die Finanskomitee wat beleggings hanteer, begrotings opstel en moniteer en kontantvloei bestuur.
- Die Tegnologiekomitee wat aan tegnologie aangeleenthede soos die keuring van die navorsingsprojekte aandag gee, en
- Die Bemarkingskomitee wat studiebeurse, prestasietoekennings en borgskappe hanteer.
Hierdie struktuur word aangevul deur die werkgroepe van die PNS waarna later verwys sal word asook ad hoc byeenkomste ten opsigte van spesifieke onderwerpe byvoorbeeld antraknose, bio-tegnologie, saadteling ensovoorts.
Gedurende die jaar is besluit om by die Raadsvergaderings asook die werkgroepe van tyd tot tyd sprekers te nooi om oor spesifieke onderwerpe gesprek te voer. Daar word later in hierdie verslag in meer besonderhede daarna verwys.
Die PNS het gedurende die afgelope jaar by herhaling kennis geneem van die steeds groeiende behoeftes aan proteïen vir dierevoeding, terwyl ingevoerde proteïen met die vinnig verswakkende rand in randwaarde steeds duurder geword het.
In 'n poging om ons aksies te versnel en die groeiende druk van ingevoerde proteïen te verlig, het die PNS samewerkingsooreenkomste met 'n verskeidenheid instansies geïnisieer. In hierdie verband het die PNS en die Hoofdirektoraat Landbou Wes-Kaap (HDL-WK) asook Landbou Wes-Kaap (nou bekend as Agri Wes-Kaap) of te wel die Wintergraan Produsente Organisasie (WPO, wat nou deel van GSA is), besluit om dr A van Jaarsveld in 'n gesamentlike projek te kontrakteer om behulpsaam te wees met die bevordering van 'n verskeidenheid gewasse in die Wes-Kaap. Soortgelyke samewerking met die Departemente van Landbou van Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap is ook in 'n onderhandelingsfase. In 'n poging om te verhoed dat die antraknose projek by lupiene skade ly, word die moontlikheid van 'n samewerkingsooreenkoms met LNR-IGG ook oorweeg met die naderende aftrede van dr J van der Mey. In die lig hiervan, is gesprek dan ook met LNR-IGG gedurende die jaar gevoer om die toekoms van navorsing ten opsigte van soja en lupiene indringend te bekyk.
Samewerking met die LNR-IGG, is reeds etlike jare aan die gang. Die PNS-stalletjie by NAMPO oesdag wat in samewerking met LNR-IGG bedryf word, word jaarliks druk besoek en speel 'n belangrike rol ten opsigte van die bekendstelling van die drie gewasse: soja, canola en lupiene wat die PNS tans bevorder. Met hierdie suksesvolle aksie as agtergrond, het die PNS ooreengekom met HDL-WK asook Moorreesburg Koringboere Beperk (MKB) en Porterville Landbou Koöperasie (PLK) om as gelyke vennote betrokke te raak by die SKOG-dag in die Swartland. Hierdie dag word al etlike jare suksesvol aangebied en die bevordering van canola en lupiene sal seer sekerlik hierby baat.
Die PNS finansier al etlike jare die Inligtingsblad LUPTEC wat in samewerking met LNR-IGG inligting verskaf aan lupienprodusente in die somerreënvalstreek. Op versoek van die Lupienewerkgroep in die Wes-Kaap, is besluit om 'n soortgelyke kwartaalblad getiteld "Lupino" die lig te laat sien in 'n poging om die lupienbedryf in die winterreënvalstreek 'n hupstoot te gee. Die canola-fokus vir die canolabedryf waaroor verlede jaar gerapporteer is, blyk 'n klinkende sukses te wees.
Aangesien befondsing van landbounavorsing steeds 'n knelpunt bly, en hierdie knelpunt in omvang toeneem, het die PNS en die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust (OPOT) asook die Oliesade Advieskomitee (OAK) ooreengekom om saam te werk in 'n poging om die finansiële las van navorsing te versprei. Hierdie samewerking sal ook tot gevolg hê dat moontlike oorvleueling aan die een kant en gapings in navorsing aan die ander kant uitgeskakel kan word. Daar is besluit om aanvanklik twee soja navorsingsprojekte gesamentlik te befonds, aangesien soja tans die enigste raakvlak tussen die twee organisasies is.
Die aard van die aktiwiteite waarby die PNS betrokke is, is dinamies van aard. In 'n poging om aksies van soortgelyke instansies soos die PNS te moniteer, het die voorsitter tydens 'n privaat besoek aan die VSA ook besoek gebring aan die United Soybean Board wat grootliks verantwoordelik is vir die ondersteuning en uitbou van die sojabedryf aldaar. 'n Soortgelyke besoek is aan Monsanto gebring en bruikbare inligting ten opsigte van beide canola en sojabone is tydens hierdie besoeke ingewin met die oog op aanwending hier ter plaatse.
Buitelandse samewerking waarna verlede jaar verwys is, en wat tydelik tot stilstand gekom het, het weer 'n hupstoot gekry tydens die besoek van dr D Berger aan Australië. Die navorsingsprojek ten opsigte van antraknose (sien hieronder), het ongetwyfeld gebaat by hierdie besoek en die PNS spreek sy waardering teenoor dr Berger uit vir die goeie werk wat hy aldaar gedoen het asook vir die besonder omvattende verslag wat hy ingedien het.
Twee van die PNS gefinansierde projekte het vir 'n hoogtepunt gesorg deurdat 'n patent en 'n voorlopige patent in samewerking met die LNR geregistreer is. Die PNS verleen graag erkenning aan me K de Ronde vir haar werk wat tot die eerste patent gelei het, asook vir dr C Mienie wie se werk tot die voorlopige registrasie van haar patent gelei het. Meer besonderhede hieromtrent verskyn by die bespreking van die projekte.
Die finansiering van die teel van sojaboon cultivars het ook vrugte afgewerp. 'n Wit hilum cultivar wat deur die LNR-IGG in 'n PNS befondse projek ontwikkel is, is kontraktueel oorgedra aan 'n verwerker van sojabone met die oog op menslike verbruik (sien hieronder).
Die PNS moes ongelukkig afskeid neem van etlike lede wat hul verskillende bedrywe verlaat het. Dr A Viljoen, verteenwoordiger van die Oliepersbedryf, asook dr A Badenhorst wie visnavorsing verteenwoordig het, het uit hul onderskeie bedrywe getree.
Dr RD Bigalke het sedert die stigting van die Proteïennavorsingsadvieskomitee en later die Proteïennavorsingstigting as voorsitter opgetree. In hierdie tien vrugbare jare het die PNS van krag tot krag gegaan. 'n Besondere woord van dank word tot hom gerig vir sy bekwame leiding en die bydrae wat hy gemaak het om die PNS dinamies te bestuur. Ons wens dr Bigalke 'n geseënde rustyd toe en drs Viljoen en Badenhorst sukses in hulle nuwe loopbane.
Die verskillende werkgroepe van die PNS bly steeds die ruggraat om rigting te gee aan navorsing en die behoeftes wat aangespreek behoort te word. Daar word ook van hierdie werkgroepe gebruik gemaak om inligting so wyd moontlik te verspei. Dr M Griessel doen byvoorbeeld by elke werkgroep vergadering verslag van die stand van pryse van proteïen op internasionale markte en gee riglyne wat die ooreenstemmende pryse van soja, canola- en lupien op die plaaslike mark behoort te wees. Hierdie besondere bydrae het ongetwyfeld tot gevolg dat 'n baie meer deursigtige prysbeleid in die verskillende markte gevolg word.
'n Groot aantal inligtingsdae wat al drie die gewasse dek, is nasionaal gehou. Etlike trustees, kontrakteurs en medewerkers het by hierdie inligtingsdae opgetree om die verskillende gewasse te bevorder. Inligting bekom uit hierdie inligtingsdae, maar veral uit die werkgroepe, het grootliks aanleiding gegee tot pro-aktiewe optrede vanuit die PNS, ten opsigte van die belangrikste aspekte wat navorsing benodig. Die meeste navorsingsprojekte wat tans deur die PNS befonds word, het hul oorsprong in hierdie aksies gehad. 'n Volledige uiteensetting van projekte word later in hierdie verslag gegee.