Navorsingsverslag 2000/2001
6.
Proteïenbronne
Indeks
- 6.4 Canola
- 6.5 Ander proteïenbronne
6.1
Algemeen
Die navorsingsverslag van 1999 het 'n uiteensetting gegee van alle proteïenbronne ten opsige waarvan die PNS reeds ondersoek laat doen het. 'n Verslag ten opsigte van 'n lusern projek is gedurende die jaar ontvang en is reeds in hierdie verslag afsonderlik behandel. Geen verdere werk sal ten opsigte van lusern in die afsienbare toekoms befonds word nie.
Ten opsigte van Fababone is daar vanweë personeel skommelinge geen vordering in die Wes-Kaap getoon gedurende hierdie jaar nie. Daar word egter gehoop dat nuwe inligting eersdaags beskikbaar sal wees wat van Fababone moontlik 'n lewensvatbare alternatief sal maak.
In 'n poging om die drie gewasse waaraan die PNS tans aandag gee, verder te bevorder, is besluit om van tyd tot tyd kundiges oor spesifieke onderwerpe te nooi om die verskillende werkgroepe by geleentheid toe te spreek. Die afgelope jaar is een so 'n lesing by die Sojawerkgroep ten opsigte van bemesting gedoen, en by die Canola- en Lupienewerkgroepe is 'n baie interessante voordrag ten opsigte van landbouweerkunde aangehoor. Laasgenoemde het aanleiding gegee tot verdere belangstelling in hierdie vakgebied in 'n poging om die produsente van gewasse in hul besluitneming te help. Verdere inligting hieromtrent word ingewag.
Oliesade produksie in Suid-Afrika het 'n ernstige probleem ervaar gedurende die jaar omdat goedkoop olie ingevoer is en die aanvraag na persmateriaal deur plaaslike persers tot 'n minimum beperk was. 'n Invoer tarief ten opsigte van oliesade en eetbare olie is gedurende die jaar afgekondig in 'n poging om die plaaslike oliesade bedryf te beskerm en behoort tot groter stabiliteit in die bedryf by te dra.
Die uitbreiding van produksiegebiede van die drie gewasse hierbo genoem, het ook voortdurend aandag gekry. Uitbreiding van soja- en lupienproduksie het in Griekwaland-Oos en Oos-Kaap voorgekom, terwyl canola in die somerreënvalstreek by etlike lokaliteite aangeplant is. Vordering in hierdie gebiede word met belangstelling dopgehou en sal ondersteun word indien dit geregverdig blyk.
Samewerking met produsente van die winterreënvalstreek het ook 'n hupstoot gekry deurdat Landbou Wes-Kaap produsente verteenwoordigers op die Lupienewerkgroep genomineer het. Die Canolabedryfskomitee (CBK) is reeds geruime tyd op die Canolawerkgroep verteenwoordig. Erkenning word ook gegee aan mev L van Zyl vir die sekretariaatdienste in die Wes-Kaap, wat tans deur Landbou Wes-Kaap aan die PNS gekontrakteer word.
6.2
Sojabone
Die Sojawerkgroep van die PNS vorm steeds die ruggraat van die PNS se aksies ten opsigte van die sojabonebedryf. Nog etlike kundiges het hulle by hierdie werkgroep aangesluit en is die standaard van werksaamhede van hoogstaande gehalte.
Een van die belangrikste aspekte waaraan baie tyd gedurende die afgelope jaar afgestaan is, is die korrekte berekening en uiteensetting van insetkoste van die produsent. Daar is met die medewerkers ooreengekom dat dit sinneloos is om insetkoste van sojabone op sy eie te beskou, aangesien die meeste produsente hoofsaaklik mielieboere of koringboere is. Die vergelykende bruto marge tussen bv mielies en sojabone op 'n enkele bladsy, het daarin geslaag om hierdie aangeleentheid in groter perspektief te plaas. Hierdie aspek is veral belangrik om voornemende produsente tot die sojabedryf te laat toetree.
Na aanleiding van laer as verwagte produksie in Mpumalanga en Oos-Vrystaat, asook die debat oor rywydtes, het die PNS op versoek van die Sojawerkgroep, fondse beskikbaar gestel sodat produsente uit genoemde twee gebiede 'n feitesending na KwaZulu-Natal kon onderneem. Hierdie aksie het hoogs suksesvol geblyk en kan moontlik in die toekoms benut word ten opsigte van gebiede wat probleme ervaar. Die PNS is veral opgewonde oor aanduidings dat aanplantings gedurende planttyd 2000 in die Oos-Vrystaat veelvoudig toegeneem het.
Die debat om rywydtes het ook aandag gevestig op planters. In vorige navorsingsverslae is gemeld dat die PNS in samewerking met die Departement van Landbou KwaZulu-Natal, 'n Semeato planter uit Suid-Amerika ingevoer het in 'n poging om minimum bewerking en nouer rye te bevorder.
Hierdie aksie het hoogs effektief geblyk te wees, en het aanleiding gegee tot die aanpassing van 'n presisie planter wat op PNS versoek deur John Deere as prototipe aan die begin van die 2000 plantseisoen getoets is. Beide hierdie planters is uiters suksesvol maar baie duur en gevolglik het die PNS 'n goedkoper Bramley planter aangekoop vir proef werk. Hierdie planter blyk tans hoogs suksesvol te wees teen 'n baie bekostigbare prys. Die resultate sal in die volgende jaar verwerk word.
Hierteenoor het die toets van stropers tot groot frustasie aanleiding gegee. Die PNS het drie verskillende moontlikhede ondersoek om goedkoper stropers tot beskikking van die sojaprodusent te stel. Die PNS is egter nie bereid om sodanige stropers te propageer indien dit nie deur die LNR-Instituut vir Landbou-ingenieurswese (ILI) goedgekeur is nie. Verskeie administratiewe probleme by medewerkers het tot gevolg gehad dat hierdie stropers eers volgende jaar deur ILI getoets sal kan word.
Die stygende tendens ten opsigte van sojaproduksie het vrae laat ontstaan of die verwerkingskapasiteit van sojabone in Suid-Afrika voldoende is. Hoewel hierdie aangeleentheid reeds in 1998 aangespreek is, is die syfers opgedateer en het dit geblyk dat daar ontgetwyfeld tans verwerkingskapasiteit vir ongeveer 350 000 ton sojabone bestaan teenoor die huidige maksimum oes van ongeveer 200 000 ton sojabone. Dit is veral volvet kapasiteit wat konstant toeneem en die PNS voorsien nie probleme met die kapasiteit vir verwerking van geproduseerde sojabone nie. Dit het intussen ook aan die lig gekom dat 'n soja fabriek in KZN met die oog op die menslike mark ver gevorder is, en dat verdere verwerkingsaanlegte moontlik in die nabye toekoms opgerig sal word.
Die belangrikheid van tegnologie oordrag is reeds by herhaling in hierdie verslag aangespreek en is dit voldoende om te berig dat die supersoja dae te Dundee en Cedara suksesvol afgeloop het. Hierdie kompetisie in Natal is nou reeds tien jaar aan die gang en die resultate spreek vir homself. 'n Soortgelyke super-sojakompetisie is ook suksesvol in Mpumalanga bedryf.
Sekere verwerkingsaanlegte benodig soja met 'n wit hilum met die oog op die menslike mark. Daar is vroeër in hierdie verslag aangedui dat die LNR-IGG, in 'n PNS gefinansierde projek, 'n cultivar wat aan hierdie vereistes voldoen, geproduseer het. Hierdie cultivar is kontraktueel verbind en sal in die nabye toekoms die eerste tantieme inkomste genereer.
Na aanleiding van 'n bedryfsekonomiese studie van canola in 'n wisselboustelsel waarna hierbo verwys is, het die Sojawerkgroep versoek dat 'n soortgelyke studie ten opsigte van sojabone in 'n wisselboustelsel gedoen word. Die Bemarkingskomitee onderhandel tans met verskillende instansies om inligting wat uit 'n wisselbou proef van die LNR-IGG beskikbaar is, vir hierdie studie te gebruik.
Internasionale pryse van sojabone en soja oliekoek het aansienlik gestyg teenoor verlede jaar terwyl die rand daarteenoor heelwat verswak het. Hierdie twee aspekte het tot gevolg dat sojapryse in Suid-Afrika ook verstewig het en die verbouïng van soja dus heelwat aantrekliker vir die produsent geword het as tydens die vorige verslagjaar. Volhoubaarheid in landbou is vir die produsent belangrik en aspekte soos wisselbou dra by tot 'n permanente swaai na sojabone as 'n baie belangrike alternatiewe gewas. 'n Oorproduksie van sojabone in Suid-Afrika word nie in die kort tot medium termyn voorsien nie, en die bevordering van die bedryf gaan onverpoosd voort.
6.3
Lupiene
Hoewel lupiene steeds een van die mees ideale proteïenbronne is om ingevoerde proteïen vir die veevoerbedryf te vervang, is die groei in produksie stadig. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die feit dat antraknose nog steeds ernstige verliese veroorsaak in sommige gebiede. Dit is veral waar ten opsigte van die albus cultivars wat 'n hoër opbrengs en 'n hoër proteïen inhoud het, maar ook meer vatbaar is. Navorsing oor antraknose word elders in hierdie verslag aangespreek en ons vertrou steeds dat daar 'n oplossing sal kom eerder as om die lupienbedryf opsy te skuif. Intussen doen dr A van Jaarsveld werk ten opsigte van saadbehandelingsmiddels terwyl skoon saad ook help om die voorkoms van antraknose te bekamp.
Vroeër in hierdie verslag is gemeld dat verhoudinge met Australië voortgesit is en dat die PNS dr D Berger van die LNR na Australië gestuur het om te skakel met navorsers insake bio-tegnologiese werk om antraknose te bekamp. Die PNS het groot waardering vir 'n baie volledige verslag en 'n groot verskeidenheid aanbevelings wat dr Berger voorgelê het. Daar is geen twyfel dat hierdie besoek 'n besondere bydrae maak tot die aksies van die PNS om antraknose te bekamp. Resultate sal waarskynlik aanstaande jaar reeds beskikbaar wees.
Daar is die afgelope jaar voorsaai kontrakte beskikbaar gestel aan produsente wat help om die bedryf die nodige hupstoot te gee. Namate proteïen pryse verstewig, sal die sentiment ten opsigte van lupiene ook sterker word.
Teelwerk ten opsigte van lupiene is vir baie jare deur Sensako in die Wes-Kaap gedoen. Monsanto het gedurende die jaar Sensako oorgeneem en besluit om verdere teelwerk te staak. Onderhandelinge vind tans plaas om die kiemplasma bank in stand te hou. Intussen word saad suksesvol van Australië ingevoer.
In die navorsingsverslag van 1999 is verslag gedoen omtrent die bywoning van die internasionale lupien kongres deur ondere andere mnr H Agenbag. Onderhandelinge om cultivars uit Duitsland, Chilé en Pole te bekom, waaronder geel cultivars met proteïen vlakke van meer as 40%, was suksesvol en die eerste cultivarproewe is gedurende die jaar aangeplant.
Melding is ook reeds gemaak dat die canola nuusbrief goed ontvang is deur produsente en 'n goeie bydrae lewer tot tegnologie oordrag. Op versoek van die Lupienewerkgroep in die Wes-Kaap, is besluit om 'n lupien nuusbrief getiteld "LUPINO" die lig te laat sien. Die eerste nuusbrief het in Maart 2000 verskyn en is hoofsaaklik gewy aan wenke vir suksesvolle vestiging van lupiene. Dit is opgevolg met 'n tweede nuusbrief in Junie 2000 waar lupiene as wisselbougewas uitgelig is veral in 'n koring/lupien wisselboustelsel. Prysstrukture is ook kortliks behandel. In die derde nuusbrief van September 2000 is die finansiële voordele van lupiene uitgewys met 'n aanduiding van lupienkontrakte vir die jaar 2000 sowel as internasionale markinligting. Laasgenoemde sal 'n permanente bydrae tot alle nuusbriewe aan produsente vorm.
Die PNS hoop om teen die einde van 2001 'n aanduiding te kry of die poging met lupiene voortgesit moet word al dan nie, maar intussen word alles in die stryd gewerp om van die lupienbedryf 'n groot sukses te maak.
6.4
Canola
Die groei in die canolabedryf is stadiger as wat gehoop is maar steeds baie positief. Canola is die afgelope jaar op etlike plekke in die somerreënvalstreek onder besproeiing geplant en dit wil voorkom asof daar heelwat meer aanplantings in die volgende seisoen in hierdie gebied verwag kan word.
Daar is steeds 'n groot vraag na canola. Voorsaai kontrakte is vry algemeen beskikbaar teen goeie pryse en indien die weer saam speel behoort canola die groei te toon wat almal verwag.
Aangesien canola steeds 'n relatief onbekende gewas in Suid-Afrika is, het die PNS en HDL-WK ooreengekom om 'n canolakundigheidsforum aan te bied gedurende November 2000. Tydens hierdie forum het navorsers die geleentheid gehad om kortliks hul projekte te verduidelik sodat 'n beter begrip deur almal wat betrokke is in die bedryf gevorm kon word van daardie aspekte wat tans deur navorsers aangespreek word.
Na aanleiding van die sukses wat behaal is by die supersoja-kompetisie in Natal oor die afgelope tien jaar, het die PNS die HDL-WK genader met die oog op die daarstelling van 'n soortgelyke super-canolakompetisie om die produksie van canola daadwerklik te bevorder in die winterreënvalstreek. Na 'n deeglike studie het HDL-WK ingestem om dit as 'n gesamentlike projek met die PNS te bedryf en is die amptelike bekendstelling ook gedurende November 2000 gedoen. Die PNS spreek sy waardering uit teenoor HDL-WK vir hierdie inisiatief, en wil vertrou dat die sukses wat hiermee bereik sal word, tot groot voordeel van die bedryf in die winterreënvalstreek sal wees.
Die samewerking van landboumaatskappye en koöperasies het tot gevolg gehad dat die vernaamste probleme wat die canolabedryf ervaar het, tans onder beheer is. Probleme met vog tydens oes is onder andere grootliks opgelos deurdat droeërs geïnstalleer is om canola tot die vlakke wat voorgeskryf word gedroog kan word, eerder as om dit op die land te laat.
Die Canolafokus waarna voorheen verwys is, het 'n belangrike rol gespeel in die oordrag van tegnologie. Gedurende Februarie 2000 is die resultate van die nasionale cultivarproewe van 1999 uitgedra en in Maart 2000 is die belangrike onderwerp van bemesting van canola behandel. Die Julie 2000 uitgawe het insekbeheer op canola uiteengesit en in September 2000 is die uitgawe wat tydens die SKOG-dag beskikbaar gestel is gewy aan langtermyn wisselboustelsels en die ekonomiese voordele van canola en lupiene in sodanige wisselboustelsels. Die PNS spreek sy waardering uit teenoor die redaksie van die Canolafokus, asook diegene wat artikels beskikbaar gestel het om opgeneem te word in die Canolafokus.
Die PNS is steeds tevrede met die vordering wat gemaak word in die canolabedryf en is van mening dat, gegewe klimaatsomstandighede en ekonomiese toestande, canola goeie potensiaal vir die toekoms inhou.
6.5
Ander proteïenbronne
In die verslag van 1999 is vismeel, lusern en fababone kortliks aangeroer. Die lusernverslag is reeds elders in hierdie publikasie aangespreek en na aanleiding van die resultate van hierdie verslag het die PNS besluit om nie tans verdere projekte ten opsigte van lusern te befonds nie.
Verdere inligting ten opsigte van fababone word tans ingewag.
Die Lanternvis-projek wat Pioneer Fishing twee jaar gelede begin het, is intussen gestaak soos reeds in die vorige verslag gemeld. Na aanleiding van samesprekings wat die afgelope jaar gevoer is, het die PNS en Pioneer Fishing besluit om hierdie projek finaal te staak totdat vismeel pryse weer sodanig is dat die projek ekonomies regverdigbaar sal wees.
Hoewel daar voortdurend gesoek word na nuwe ekonomies ontginbare proteïenbronne, is daar tans geen alternatief vir enige van die gewasse wat huidiglik deur die PNS geidentifiseer is nie.