Navorsingsverslag 2005/2006

5.

 

Projekte wat suksesvol afgehandel is of waarmee aansienlike vordering gemaak is (Bylae I en II)


Projekte indeks

  1. Projek titels

    1. Die ontwikkeling van sojabooncultivars met beter aanpassing en saadkwaliteit
    2. Nasionale sojabooncultivarproewe
    3. Evaluering van sojabooncultivars vir rywydte by om­gewingsinteraksie onder Suid-Afrikaanse verbouings­toestande
    4. Evaluering van swamdoders vir die beheer van sclerotinia stamvrot by sojabone
    5. Sojaboonroes: risiko analise, verliesbepaling en kwantifisering van die epidemiologiese waarde van voorkomingstegnologie
    6. Studies op sojaboonroes (Phakopsora pachyrhizi) epidemiologie
    7. Super Sojakompetisie, KwaZulu-Natal
    8. Die beheer van sojaboonroes met swamdoders
    9. Fisiologie van groeistadium-verwante vatbaarheid van sojabone vir roes
    10. Evaluering van wisselbou met canola onder be­sproeiing
    11. Chemiese saadbehandeling van canola en lupiene vir die beheer van saailingsiektes en insekte
    12. Die stikstofbehoefte van canola onder besproeiing
    13. Cultivarevaluering van olie- en proteïensade in die winterreënvalstreek – canola
    14. Cultivarevaluering van olie- en proteïensade in die winterreënvalstreek – lupiene
    15. 'n Ondersoek na die produksiedinamika van agt wisselboustelsels, insluitende koring, canola, lupiene en weidingspesies in die Swartland, Wes-Kaap
    16. Super canola kompetisie – Swartland, Wes-Kaap
    17. Super canola kompetisie – Suid-Kaap
    18. Ekonomiese volhoubaarheid van kort- en langtermyn wisselbougewas / weidings produksiestelsels in die Suid-Kaap
    19. Optimale rywydtes en saaidigthede vir canola
    20. Lupiensaadproduksie
    21. Die ontwikkeling van beter aangepaste lupien­cultivars vir die Wes- en Suid-kaap
    22. Die evaluasie van fababone in die Wes-Kaap
    23. Evaluering van canola cultivars onder besproeiing
    24. Chemiese beheer van plantparasitiese aalwurms geassosieer met sojabone in Suid-Afrika
    25. Die ontwikkeling en toetsing van geskikte lokvalle om slak- en isopodabevolkings in canola lande te monitor
    26. N-bemesting van canola gebaseer op N-mineralisasie en loging
    27. Evaluasie van fababone as alternatiewe proteïenbron vir braaikuikens, lêhenne en groeiende varke
    28. Sclerotinia sclerotiorum studies op sojabone
    29. Inkomste- en kosteramings

5.1

 

Die ontwikkeling van sojabooncultivars met beter aanpassing en saadkwaliteit


Mnr AJ de Lange
LNR-Instituut vir Graangewasse

Die produksie van sojabone in Suid-Afrika word beperk deur faktore soos vogstremming, aalwurmbeskadiging, aanpassing, roes en ander akker­bouverwante faktore. Die genetiese komponent van hierdie program word deur die teelprogram aangespreek. Die projek is gedurende hierdie jaar uitgebrei om die invloed van plantvoeding op die ontwikkeling van sojaboonroes te ondersoek. Die doel van die teelprojek is om cultivars te ont­wikkel met 'n hoë opbrengs met ook weerstand teen aalwurmskade en sojaboonroes. Hierdie cultivars moet lae nagtemperature kan verdra. Die doel van navorsing op sojaboonroesweerstand is om die resultate van glashuisondersoeke te toets onder veldtoestande en moontlike verklarings. Al die sojaboonteelmateriaal is op vyf lokaliteite naamlik Brits, Potchefstroom, Cedara, Vaalharts en Bethlehem geplant. Die loodsproewe het 25 inskrywings gehad waarvan vyf kontrole cultivars was terwyl die Elite proewe 48 inskrywings gehad het met vyf kontrole cultivars. Vier proewe is op Cedara geplant vir die sojaboonroesstudie. 'n Koueverdraagsaamheidsproef is op Bethlehem geplant en hierdie proef is in samewerking met die Universiteit van Noordwes gedoen. Al die materiaal wat in die 2004/05 seisoen geplant is, is reeds geoes en die data word tans verwerk. Die soja­boonroesweerstand / -verdraagsaamheid populasies wat in die winter van 2004 op Makhathini geplant was, is op Cedara geplant vir evaluering. Vyfhonderd-en-veertig enkelplante is geselekteer uit die teelpopulasies. Eenduisendtweehonderd-drie-en-veertig enkelplante is uit die kouetole­rante populasies geselekteer. Die opbrengsdata uit die sojaboonroes-proewe toon dat die onderdrukkende gedeelte se opbrengste betekenisvol hoër was as dié van die nie-onderdrukkende gedeelte.

Net drie van die persele van die proef op die onderdrukkende gedeelte het simptome van sojaboonroesbesmetting getoon terwyl die OOSOK-waarde van die proef op die nie-onderdrukkende perseel se gemiddeld 1 918 was. Die resultate uit hierdie proewe toon dat die grootste bydraende faktor opbrengsverlaging as gevolg van sojaboonroes 'n verlaging in die aantal sade per plant is. Teling vir sojaboonroes, aalwurmweerstand en kouetoleransie vorder goed en moet voortgesit word tesame met seleksie vir hoë opbrengs en saadproteïeninhoud. Die data uit die sojaboon­roesproewe toon dat oesonderdrukking die gevolg is van faktore wat in die grond voorkom en nie wat op die plante gespuit is nie.


5.2

 

Nasionale sojabooncultivarproewe


Mnr GP de Beer
LNR-Instituut vir Graangewasse

'n Totaal van 30 cultivars was landwyd en 'n addisionele 17 cultivars was in die fase 1 proewe op nege lokaliteite geëvalueer. Proewe was geplant by navorsingstasies waar die nodige infrastruktuur bestaan om 'n volledige akkerboukundige studie te kan uitvoer. Personeel by navorsingsstasies is beskikbaar gestel as navorsingsagente. Proewe was ook geplaas by lokaliteite waar 'n behoefte aan inligting is en waar die maksimum hoeveel­heid data ingesamel kan word. 'n Volledige fenologiese datastel is noodsaaklik. Dit sluit in dae tot opkoms, blomdatum, fisiologiese en oesrypheid, maksimum planthoogte en minimum peulhoogte, omval, oopspring, groenstam, relatiewe siekte- en insekvatbaarheid, saadkaraktisering en -opbrengs (fisiese en chemiese kwaliteite), grond- en weerdata. Alle data word gebruik en in 'n rekenaar databasis opgeneem. Data van individuele, lokaliteite wat onderhewig is aan analise en variasie asook algehele gemiddelde opbrengs word saamgevoeg om die hoofeffek te verkry. Die data van die drie verskillende produksie-areas word dan ontleed: vir oessekerheid en vir regressielyne.

By die cultivarevaluasievergadering in September 2005 is daar drie nuwe cultivars aanbeveel vir registrasie en vir plasing op die variëteitslys. Hulle is PAN 1643 RR, Ibis 2000 en Haron. Die 2004/05-verslag van die nasionale sojabooncultivarproewe is aanvaar vir publikasie. Die gemiddelde op­brengs vir die seisoen was 2 582 kg ha-1 (2 561 kg ha-1 vir 2004 en 2409 kg ha-1 vir 2003). Die beste opbrengste was verkry te Glen-besproeiing (4 367 kg ha-1), Kokstad (3 921 kg ha-1) en Cedara (3 609 kg ha-1). Die cultivar met die hoogste gemiddelde opbrengs was LS 678 met 2 817 kg ha-1 en die laagste opbrengs was vir PAN 421 RR met 2 210 kg ha-1. Die cultivar met die hoogste proteïenpersentasie is Stork, met 42.56% en die laagste proteïenpersentasie was by Prima 2000, met 39.24%.


5.3

 

Evaluering van sojabooncultivars vir rywydte by omgewingsinteraksie onder Suid-Afrikaanse verbouingstoestande


Mnr GP de Beer
LNR-Instituut vir Graangewasse

Sojabone (Glycine max L. Merr) vertoon 'n hoogs betekenisvolle interaksie met omgewing in terme van groeipatroon. Planthoogte en groeiseisoen lengte neem toe met 'n toename in breedtegraad en groeitempo word vertraag met 'n toename in hoogte bo seespieël. Betekenisvolle verskille in reaksie op fotoperiode, temperatuur, grondvrugbaarheid, stadium van vogstremming en ligstres kan ook waargeneem word by cultivars op die Suid-Afrikaanse variëteitslys.

Vir suksesvolle en winsgewende produksie is dit dus noodsaaklik om cultivars te plant wat goed aangepas is by gegewe omgewingstoestande en verbouiingspraktyke en karakterisering van cultivars is daarom nodig. Proewe was suksesvol uitgevoer te Naboomspruit, Warmbad, Bloemfontein, Potchefstroom, Ficksburg, Viljoenskroon en Lichtenburg. Die lokaliteite is in drie klimaatsgroeperings verdeel naamlik warm, gematig en koel. In die warm produksiegebied naamlik Warmbad en Naboomspruit het die 45-cm rywydte betekenisvol beter gedoen as die 90-cm rywydte. Die hoog­ste opbrengs by Warmbad is verkry met die cultivar LS 678 met 2 074 kg ha-1 en die swakste met die cultivar AG 5601, met 671 kg ha-1. Die proefgemiddelde was 1 861 kg ha-1 vir Warmbad en 1 618 kg ha-1 vir Naboomspruit. Albei proewe was besproei. By die matige produksiegebied (Potchefstroom, Viljoenskroon Bloemfontein en Lichtenburg) het die 45-cm rywydte beter gedoen as die 90-cm, behalwe by Bloemfontein droëland het die 90-cm rywydte beter gedoen as die 45-cm. Die hoogste opbrengs in die gebied is gekry by Bloemfontein onder besproeiing met die cultivar A 5409 RR met 4 810 kg ha-1 en die laagste opbrengs by Bloemfontein droëland met die cultivar CRN 5550, met 172 kg ha-1. Die proefgemiddelde vir die proewe was 179 kg ha-1 vir Bloemfontein droëland, 3 952 kg ha-1 vir Bloemfontein onder besproeiing, 1 735 kg ha vir Potchefstroom droë­land, 2 957 kg ha-1 vir Potchefstroom onder besproeiing, 1 633 kg ha-1 vir Viljoenskroon en 1 403 kg ha-1 vir Lichtenburg. Potchefstroom en Bloemfontein het die enigste besproeiingsproewe in die gebied gehad. In die koel produksiegebied (Ficksburg) het die 90-cm rywydte nie bete­kenisvol beter gedoen in terme van opbrengs as die 45-cm rywydte nie. Die hoogste opbrengs in die koel gebied is behaal met die cultivar LS 444 met 2 572 kg ha-1 en die swakste was PAN 564 met 1 851 kg ha-1. Die proefgemiddeld was 2 242 kg ha-1. Dit was 'n droëlandproef.


5.4

 

Evaluering van swamdoders vir die beheer van sclerotinia stamvrot by sojabone


Dr NW McLaren¹ en Me M Craven²
¹ Universiteit van die Vrystaat / ² LNR-Instituut vir Graangewasse

Sclerotinia sclerotiorum is een van die mees nie-spesifieke patogene bekend. Swamdodertoediening is die enigste effektiewe beheermaatreël vir Sclerotinia stamvrot, met Procymidone tans die enigste geregistreerde swamdoder in Suid-Afrika op bone en sojabone. Die koste hieraan verbonde is egter 'n beperkende faktor. Die doel van die huidige studie was om die effektiwiteit van swamdoders in die beheer van Sclerotinia stamvrot te bepaal asook om verskille in vatbaarheid van sojabooncultivars vir die siekte te kwantifiseer. Veldproewe is gedurende 2003/04 en 2004/05 op Bethlehem uitgevoer.

Die proewe het bestaan uit 15 behandelings wat drie keer herhaal is. LS 666 (2003/04) en Wenner (2004/05) is gebruik. Plante is tydens blom met die patogeen geïnokuleer. Twee weke na inokulasie is die eerste swamdoders toegedien. 'n Tweede toediening van elke swamdoder is 14 dae later toegedien. Die benomyl saadbehandeling was die uitsondering want dit is toegedien voor plant. Persentasie verwelkte plante is voor volwassen­heid bepaal. Verbeterde saailinggroei / stand met benomyl as saadbehandeling is verkry gedurende die vroeë groeistadiums, maar hierdie effek was nie betekenisvol vir Sclerotinia stamvrot voorkoms nie. Infeksievlakke was laag gedurende beide die seisoene met infeksievlakke van 11.67 en 10.33% wat waargeneem is in die kontrole plotte gedurende 2003/04 en 2004/05 onderskeidelik. Gedurende 2004/05 het benomyl 7.3% en 6.3% verwelkte plante gelewer met enkel- en dubbeltoedienings, afsonderlik. Procymidone het 5.3% en 4.0% verwelkte plante met enkel- en dubbeltoe­diening opgelewer, terwyl Amistar en flusilazole / carbendazim toedienings nie betekenisvol van die kontroles verskil het nie. BAS1201F en BAS1604F het ook siektevoorkomsvlakke betekenisvol verminder. Gedurende 2004/05 is geen betekenisvolle verskille waargeneem tussen be­handelde en kontrolepersele nie. Veldproewe bestaande uit 30 cultivars is op Bethlehem uitgevoer gedurende 2003/04 en 2004/05 om cultivar­vatbaarheid vir Sclerotinia stamvrot te bepaal. Die herhalings is geplant vanaf middel November tot laat Desember. Die gemiddelde infeksievlakke was 31.4% en 12.6% gedurende 2003/04 en 2004/05 onderskeidelik. Minder as 10% infeksie is vir Egret, PAN 520 RR en CRN 5550 aangeteken vir beide seisoene. Hierdie cultivars toon stabiliteit betreffende siekte-intensiteit oor toenemende siektepotensiale, soos deur die regressie-analise aangedui is. Die siektereaksie van meeste cultivars is betekenisvol beïnvloed deur toenemende siektepotensiaal. Glashuisevaluasies is ook uitge­voer op 30 cultivars waar die graad van verwelking gewissel het tussen 3-26%. PAN 421 RR het die hoogste persentasie verwelking getoon, terwyl PAN 520 RR en Egret, wat die hoogste weerstand in die veldproewe gehad het, 13% en 14% verwelkte plante, afsonderlik, gelewer het. 'n R=0.19 (ns) korrelasie is verkry tussen die glashuis- en veldproewe. Die resultate verkry uit die studie dui op 'n behoefte dat siektepotensiaal in ag geneem moet word wanneer genotipereaksie op Sclerotinia sclerotiorum ondersoek word.


5.5

 

Sojaboonroes: risiko analise, verliesbepaling en kwantifisering van die epidemiologiese waarde van voorkomingstegnologie


Dr NW McLaren¹ en Me M Craven²
¹ Universiteit van die Vrystaat / ² LNR-Instituut vir Graangewasse

Sojaboonroes is vir die eerste keer gedurende Februarie 2001 in Suid-Afrika aangemeld in die Vryheidomgewing, vanwaar dit versprei het na die oostelike produksie-areas. Beheerstrategië is hoofsaaklik gebaseer op swam-doderspuitprogramme. In die huidige studie is proewe op Cedara uitgevoer gedurende 2003/04 en 2004/05 om die vatbaarheid van kommersiële sojabooncultivars te bepaal asook om die rol daarvan in siekte­beheer te kwantifiseer. Veldproewe het bestaan uit 30 inskrywings wat drie keer herhaal is. Onbehandelde plotte is direk na blom op 'n weeklikse (2003/04) en tweeweeklikse (2004/05) basis geëvalueer vir roesontwikkeling. Roes is visueel bepaal as die persentasie geïnfekteerde blaaropper­vlakte per plant. Groeistadiums en persentasie ontblaring is ook bepaal. Dae tot volwassenheid is bepaal in siektevrye, bespuite persele. Met vol­wassenheid is behandelde en onbehandelde persele geoes en die opbrengs bepaal. Opbrengsverlies is bepaal as die verskil tussen behandelde en onbehandelde persele, uitgedruk as 'n persentasie. Die aanvang van die siekte, uitgedruk as relatiewe leeftydperk het betekenisvol verskil tussen cultivars, met die grootste vertraging in LS 678.

Oppervlak onder die siekte-ontwikkelingskromme (OOSOK) was betekenisvol verwant aan die aanvangs van die siekte. Oesverlies oor cultivars was swak verwant aan die OOSOK-waardes (R²=0.06 en R²=0.11 gedurende 2003/04 en 2004/05, onderskeidelik) wat dui op die afwesigheid van 'n direkte verwantskap tussen siektegraad en oesverlies oor cultivars. Opbrengsverliese was verwant aan groeiperiode, met laer verliese in die korter groeiseisoen cultivars. Opbrengsverliese was laagste in PAN 421 RR (15.7%) en PAN 520 RR (41.7%) en die hoogste in SCS1 (47.7%) en PAN 809 (82.6%) gedurende 2003/04 en 2004/05, onderskeidelik. Verminderde verliese was egter nie voldoende genoeg om van ekonomiese waarde te wees nie en geen van die cultivars het betekenisvolle toleransievlakke getoon nie.


5.6

 

Studies op sojaboonroes (Phakopsora pachyrhizi) epidemiologie


Dr PM Caldwell
Universiteit van KwaZulu-Natal

Die invloed van temperatuur, blaarvogtigheid en relatiewe humiditeit op die ontwikkeling van (Phakopsora pachyrhizi)

Vir die suksesvolle beheer van sojaboon roes, is dit belangrik om die epidemiologie van die patogeen te verstaan. Die invloed van die interaksie tussen temperatuur, blaarvogtigheidstydperk en relatiewe humiditeit (RH) op die infeksie van roes (Phakopsora pachyrhizi Syd.) op sojabone (Glycine max (L.) Merr.), was geëvalueer in 'n beheerde omgewing. Die ontwikkeling van P. pachyrhizi op die vatbare kultivar (LS 5995) was onder­soek deur 'n kombinasie van sewe temperature (15, 19, 21, 24, 26, 28 en 30ºC) en vyf blaarvogtigheidstydperke (6, 9, 12, 14 en 16 uur) tydens 85% en 95% RH te gebruik. Na die temperatuur, blaarvogtigheidstydperk en relatiewe humiditeits behandelings toegepas was in 'n doukabinet, was die plante verwyder en in 'n groeikabinet geplaas (21-22ºC, 80% RH, 14 uur fotoperiode en PAR 260 µmol/m² sec-1). 21 Dae na inokulasie is die aantal pastules / letsel en letselgrootte op die abaksiale en adaksiale blaaroppervlaktes bepaal. Plante wat geïnkubeer was by 15ºC en 30ºC en 85 en 95% RH, het geen tekens van besmetting getoon nie, ongeag die blaarvogtigheidstydperk. Die aantal pastules / letsel en letselgrootte het vermeer­der met 'n verhoging in blaarvogtigheidstydperk tydens 85 en 95% RH. Tydens 85% RH het letselgrootte op beide blaaroppervlakte verhoog na 'n 12 uur blaarvogtigheidstydperk by 21ºC. Tydens 95% RH het die letselgrootte egter verhoog na 'n 14 uur blaarvogtigheidstydperk by 24ºC. Die aantal pastules / letsel wat gevorm het tydens 85 en 95% RH, was die hoogste by 24ºC en het geleidelik verhoog met 'n verhoging in blaarvogtig­heidstydperk. Die resultate word gebruik om 'n model te ontwikkel wat gebruik sal word vir die voorspelling vir die begin en ontwikkeling van soja­boonroes. Die model sal ook aandui watter produksiegebiede van sojabone, die mees waarskynlikste besmet sal word met P. pachyrhizi.

Die invloed van ultravioletlig op die ontwikkeling van uredospore van (Phakopsora pachyrhizi)

Die invloed wat ultravioletlig het op die ontkieming van uredospore op 1.25% wateragar groeimedium, was ondersoek. Ontkieming was betekenis­vol minder in vergelyking met ontkieming van spore in ononderbroke donkerte. Die persentasie P. pachyrhizi wat ontkiem het 48 uur nadat die spoorbevattende petribakkies aan ultravioletlig blootgestel was, was tussen 6 en 7%. Ontkieming was egter tussen 56 en 58% in donkerte. Die maksimum hoeveelheid spore het ontkiem tydens 'n 16 uur donkerperiode met 'n geleidelike afname daarna. Resultate toon dus dat ultravioletlig 'n negatiewe invloed het op die ontkieming van uredospore.

Alternatiewe gasheerstudies van Phakopsora pachyrhizi in KwaZulu-Natal

Studies is uitgevoer onder beheerde toestande om alternatiewe gashere van P. pachyrhizi, die patogeen wat sojaboonroes veroorsaak, te identi­fiseer. Twintig peulplante, verkry van Cedara Landboukollege, en 15 vatbare en weerstandbiedende droëboonkultivars, verkry van die Landbou­navorsingsraad, was getoets vir vatbaarheid vir sojaboonroes. 13 peulplante en drie droëboonkultivars het tekens van vatbaarheid getoon.

Invloed van blaarouderdom op die vatbaarheid van sojaboon-tot-sojaboonroes Phakopsora pachyrhizi

Sojabone (PRIMA 2000) wat in 'n groeikamer (25ºC, 14 uur fotoperiode en 60% RH) gegroei het, was by verskillende groeistadia gelyktydig met 'n uniforme oplossing van uredospore geïnokuleer. Die gemiddelde hoeveelheid letsels en letselgroottes was meer op jonger blare as op ouer blare van plante van dieselfde ouderdom. Plante was betekenisvol meer vatbaar vir infeksie tydens die V6 en R1 groeistadia as die plante tydens ander groeistadia.

Biologiese beheer van Phakopsora pachyrhizi

Trichoderma i.e. Eco-77, wat in die handel beskikbaar is, asook die filtraat, wat bekend is vir 'n mate van biododende werking, was by verskillende konsentrasies getoets vir die doelteffendheid van siektebeheer van sojaboonplante besmet met P. pachyrhizi. Plante was na 'n 21-dae periode be­oordeel vir die mate van besmetting. Plante wat bespuit was met die standaard konsentrasie het die laagste waarde van besmetting getoon. Dit was gevolg deur plante wat bespuit was met die helfte van die standaard. Plante wat besmet was by twee maal die standaard het 'n besmettings­waarde gehad wat betekenisvol hoër was as die wat bespuit was met die die biologiese beheeragent se aanbevolle dosis. Die filtraat wat twee dae vroeër toegedien was, het 'n betekenisvolle hoër siekte persentasie tot gevolg gehad in vergelyking met bespuiting daarvan twee dae later. Plante wat twee dae vroeër en twee dae later met aartappel dekstrose-agar bespuit was, het nie betekenisvol verskil van kontroleplante wat slegs met water bespuit was nie.


5.7

 

Super Sojakompetisie, KwaZulu-Natal


Mnr C Havenga
Proteïennavorsingstigting

Die Super-sojakompetisie in KwaZulu-Natal (N-KZN) is nou in sy sestiende jaar en belangstelling in die kompetisie bly nog steeds goed.

Hierdie kompetisie is 'n voorligtingsaksie om die verbouing van sojabone in KwaZulu-Natal te bevorder. Belangstelling in sojaboonverbouing asook die kundigheid in die verbouing daarvan, het oor die afgelope 16 jaar merkwaardig toegeneem. Nietemin word die hoeveelheid sojabone wat jaar­liks aangeplant word, tot 'n groot mate deur die Mielie-Sojaboon prysverhouding beïnvloed.

Winterton en Bergville is nou by die Suidelike KwaZulu-Natal (S-KZN) streek ingedeel. S-KZN het vanjaar 23 inskrywings en N-KZN 16 inskrywings gehad.

Die opbrengs in die S-KZN-kompetisie het tussen 1.84 en 6.05 ton/ha gewissel met 'n gemiddelde opbrengs van 3.81 ton/ha wat effens beter as die vorige seisoen se 3.76 ton/ha is. Net 3 lande was onder besproeiing met 'n gemiddelde opbrengs van 2.96 ton/ha wat tussen 2.69 en 3.2 ton/ha gewissel het.

In N-KZN was die gemiddelde opbrengs 2.74 ton/ha wat effens swakker as die vorige seisoen se 3.38 ton/ha is. Oormatige reën en haelskade was grootliks verantwoordelik vir die laer opbrengste. Die opbrengste in N-KZN het tussen 0.98 ton/ha en 4.93 ton/ha gewissel. Net een land was onder besproeiing met 'n opbrengs van 4.61 ton/ha.

Proteïeninhoud van S-KZN se sojaboonoes was bevredigend tot baie goed. Die gemiddelde proteïeninhoud is 40.28% (vogvry) en het tussen 37.29% en 43.17% (vogvry) gewissel.

In N-KZN was die proteïeninhoud ook bevredigend tot goed met 'n gemiddelde van 40.8% (vogvry) wat tussen 37.8% en 43.4% (vogvry) gewissel het.

Die gemiddelde proteïeninhoud van beide N- en S-KZN-kompetisie was die afgelope 6 jaar hoër as 40% gewees. Dit wil dus voorkom of die pro­bleem van lae proteïeninhoud van sojabone in KwaZulu-Natal iets van die verlede is. In die vroeë 1990's is daar redelik dikwels sojabone in KwaZulu-Natal met 'n proteïeninhoud van so laag as 28% (vogvry) geproduseer.

Hierdie kompetisie skep 'n geleentheid om produksiepraktyke te boekstaaf, te evalueer en sodoende produksieprobleme te identifiseer wat verder kan lei tot navorsingprojekte om dit op te los.


5.8

 

Die beheer van sojaboonroes met swamdoders


Dr PM Caldwell en Me E du Preez
Universiteit van KwaZulu-Natal

Die doelwit in die 2005/2006 seisoen was om die effektiwiteit van die swamdoder, Early Impact, wat in die 2003/2004 seisoen goeie resultate gelewer het, te bevestig. Verder is produkte wat uit Denemarke verkry is vergelyk met die wat beskikbaar is in Suid-Afrika in terme van siekte­beheer en opbrengs. Swamdoder nawerking was ook ondersoek. Resultate van die produkte verkry vanaf die verskillende verskaffers het geen verskille getoon ten opsigte van siektebeheer en opbrengs nie. Flutriafol-bevattende swamdoders het betekenisvol beter siektebeheer tot gevolg gehad. Alhoewel swakker beheer verkry was met Punch Xtra in vergelyking met ander produkte, het dit geen betekenisvolle verskille in opbrengs teweeg gebring nie. Al die swamdoders het sojaboonroes betekenisvol beter beheer in vergelyking met die onbespuite kontrole. Die nawerkings­data moet verder geanaliseer word deur aanpassings te maak vir die verskille in die aanvanklike inokulasievlakke en die effek van omgewings­faktore op swamdodernawerking. Die analise word nog gedoen.


5.9

 

Fisiologie van groeistadium-verwante vatbaarheid van sojabone vir roes


Prof ZA Pretorius
Universiteit van die Vrystaat

Veldeksperimente is gedurende 2005/06 gedoen te Kenilworth, Bloemfontein en Cedara. Proewe het bestaan uit twee aanplantings van elk van die cultivars LS678 en Stork. Ten einde materiaal van verskillende fisiologiese ouderdom te monster, is blare elke twee weke versamel, beginnende vier weke na plant. 'n Glashuiseksperiment is ook uitgevoer met LS678 en Stork om resultate van die veldproewe te bevestig. Monsteringstye en prosedures was soortgelyk aan die veldproewe.

Aktiwiteite van die patogenese-verwante proteïne ß-1,3-glukanase, peroksidase en chitinase is bepaal. Chitinase en ß-1,3-glukanase aktiwiteit het matig toegeneem net voor blom (60% RLT / 8 weke na plant) wat 'n aanduiding gegee het van die betrokkenheid van hierdie ensieme in weerstand. Peroksidase aktiwiteit het toegeneem na blom, en weer afgeneem soos plante verouder het, moontlik weens die betrokkenheid van oksidatiewe opwellings geïnduseer deur sekondêre infeksies later in die seisoen. Totale koolhidrate het gefluktueer in die boonste en onderste blare deur die seisoen met geen aanduidings van enige rol in siekteweerstand nie.

'n Addisionele glashuiseksperiment is gedoen waar PAN 535 RR saailinge by die 2de trifoliaat stadium gespuit is met glifosaat na inokulasie met P. pachyrhizi. Histologiese ondersoeke van die behandelde blare het getoon dat glifosaat kolonievorming geïnhibeer het tot en met 8 dae na infeksie.


5.10

 

Evaluering van wisselbou met canola onder besproeiing


Dr AA Nel
LNR-Instituut vir Graangewasse

Canola is 'n oliesaadgewas wat gesog is in die veevoernywerheid weens die lae vesel- en hoë proteïeninhoud van die graan. Enige uitbreiding in canolaproduksie sal ons afhanklikheid van invoere verminder. As deel van die Brassicafamilie van plante wat nie 'n gasheer is vir sekere graange­wassiektes nie, het dit die potensiaal om as wisselgewas die volhoubaarheid van gewasstelsels te bevorder. Die doel van die projek is om:

  1. Die invloed van canola op die opbrengs van opvolggewasse te ondersoek asook die invloed van die wisselgewasse op die opbrengs van canola;
  2. Die mate waartoe aalwurm deur canola onderdruk word, te bepaal deur die omvang van aalwurmbesmetting op al die gewasse te meet;
  3. Die invloed van die verskillende voorafgaande gewasse op die voorkoms en intensiteit van siektes op al die gewasse te bepaal;
  4. Die finansiële prestasie van die verskillende wisselboustelsels te vergelyk.

Die opbrengs van mielies na canola was 16% laer as mielies na koring en 14% laer as mielies na gars. Die opbrengs van grondbone na koring was 19% hoër as dié na canola, terwyl die grondboonopbrengs na gars nie verskil het van dié na canola nie. Garsopbrengs is nie deur wisselbou beïn­vloed nie terwyl die invloed op die opbrengs van canola nie verklaar kan word nie. Die opbrengs van koring in die eenjaar mielie-koringstelsel was 29% laer as die gemiddelde opbrengs van koring in al die ander stelsels. Die grond se aalwurmbevolkings is slegs op 'n geringe wyse deur wissel­bou beïnvloed, terwyl die aantal aalwurms in die wortels van al die gewasse wisselvallig was. Verskille in aalwurm-getalle was ook relatief klein. Geen siektes van betekenisvolle omvang is op enige van die gewasse waargeneem nie.


5.11

 

Chemiese saadbehandeling van canola en lupiene vir die beheer van saailingsiektes en insekte


Dr SC Lamprecht¹ en Prof GA Agenbag²
¹ LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming / ² Universiteit Stellenbosch

Die behandeling van saad met swam- en insekdoders as 'n strategie vir beheer van afsterf van lupiensaailinge in die winterreënstreek, is in 2005 verder ondersoek. Die effek van behandeling van lupiensaad op saailingoorlewing is onder glashuistoestande, in grond versamel by Elsenburg, Kromme Rhee en die Tygerhoek proefplaas, bepaal. Die effek van saadbehandeling op oorlewing van plante en graanopbrengs is ook onder veld­toestande by Elsenburg, Kromme Rhee en die Tygerhoek proefplaas, getoets. Fitotoksisiteit van die verskillende saadbehandelings is onder glas­huistoestande evalueer. Twee lupiencultivars (L. albus cv Cedara en L. angustifolius cv Tanjil) is met vier konsentrasies van die drie saadbehandel­ings nl. 'n mengsel van Thiulin en Dimet, SA-kombinasie (mengsel van Thiulin, Rovral, Apron en Gaucho) en Cruiser behandel.

Onder glashuistoestande het die saadbehandelings nie saailingoorlewing in die Elsenburg grond betekenisvol (P ≤ 0.05) verbeter nie, terwyl al die saadbehandelings in die Tygerhoek grond en die hoogste konsentrasies van SA-kombinasie en Cruiser oorlewing in die Kromme Rhee grond bete­kenisvol verhoog het. SA-kombinasie en Cruiser was betekenisvol meer effektief as die mengsel van Thiulin en Dimet om saailingafsterf in die Tygerhoek grond te verminder. Saadbehandelings het nie oorlewing van plante en graanopbrengste onder veldtoestande by die drie lokaliteite betekenisvol verhoog nie. Saailingoorlewing en graanopbrengste was hoër by Elsenburg en Tygerhoek as by Kromme Rhee. Fitotoksisiteitstoetse het 'n betekenisvolle verlaging in plantlengte by die hoogste konsentrasies van Cruiser en die mengsel van Thiulin en Dimet en die drie hoogste konsentrasies van SA-kombinasie, getoon. Dit wil voorkom asof die laagste konsentrasie van die verskillende saadbehandelings net so effektief was om saailingafsterf onder glashuistoestande te beheer, as die hoër konsentrasies. Hierdie bevindinge is nie deur die veldresultate ondersteun nie. Die drie saadbehandelings, wat in hierdie studie getoets is, het nie die oorlewing van plante en graanopbrengs onder veldtoestande in die Wes-Kaap provinsie betekenisvol verbeter nie.


5.12

 

Die stikstofbehoefte van canola onder besproeiing


Dr AA Nel
LNR-Instituut vir Graangewasse

N-bemesting is tans die grootste enkele koste-item in droëland canolaproduksie in Suid-Afrika. Dit is waarskynlik ook die geval met besproeide canola. Wetenskaplik bepaalde riglyne vir N-bemesting van canola bestaan nog nie in Suid-Afrika nie en riglyne van elders is verwarrend. Die doel van die projek is om riglyne vir N-bemesting van canola onder besproeiing daar te stel. Twee veldproewe is gedurende die winter van 2004 geplant, een op 'n sandgrond by Vaalharts en 'n tweede op 'n leemgrond te Potchefstroom. Ses N-bemestingspeile (0, 60, 120, 180, 240 en 300 kg N ha-1) is toegedien en twee cultivars is gebruik. Twee herhalings is vir elke cultivar-N-peil-kombinasie gebruik in 'n ewekansige blok ontwerp op persele van 12 m². Die hoeveelheid data wat tydens die eerste seisoen ingesamel is, was te min om 'n verdunningskromme saam te stel. Die data pas egter 'n kromme wat vir winterolieraapsaad in Europa bepaal is, goed. Die optimum N-bemestingspeil by Vaalharts wat deur middel van regressie bepaal is met aanvaarding van 'n N: graanprysverhouding van 4:1, is 196 kg ha-1. Die graan olie-inhoud het geen verwantskap met N-bemesting getoon nie maar dit het wel tussen die twee cultivars verskil. Die graanproteïeninhoud het 'n positiewe verwantskap met N getoon en is ook deur 'n N x lokali­teit interaksie beïnvloed. Die toenametempo van die graanproteïeninhoud weens toenemende N-bemestingpeil, was groter by Potchefstroom as by Vaalharts.


5.13

 

Cultivarevaluering van olie- en proteïensade in die winterreënvalstreek – canola


Mnr DJ Hanekom
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Klimaatstoestande in die Swartland tydens die 2005 seisoen was redelik gunstig vir gewasproduksie oor groot dele van die gebied. In sommige van die areas, veral die dele noord van Piketberg het lae reënval tydens Julie tot strawwe vogstremmingstoestande gelei wat waarskynlik op­brengste negatief beïnvloed het. Die 2005 seisoen het redelik lae aktiwiteit van bolwurms gesien en van die produsente het slegs enkele bespuit­ings gedoen.

Die toestande in die Suid-Kaap was met die uitsondering van 'n baie droë Julie redelik gunstig vir gewasproduksie. In die Caledon omgewing het redelik ernstige vogtekorte egter tydens die middel van die winter voorgekom wat verseker opbrengste laat daal het. In die meer oostelike gebiede, met die uitsondering van die Mosselbaai omgewing, het gunstige grondvogtoestande tot redelik goeie opbrengste gelei. Baie sterk winde wat met rypwording in sekere gedeeltes van die Suid-Kaap voorgekom het, het beslis uitspringverliese veroorsaak. Ook hier was die voorkoms van ruitrug­mot minder van 'n probleem as die vorige seisoen.

Oppervlaktes het in 2005 met sowat 12% in die winterreënvalstreek afgeneem, met minder canola wat in beide Wes- en Suid-Kaap aangeplant is. Volgens die Canolawerkgroep is na raming sowat 40 735 ha canola in die winterreënstreek aangeplant.

Die Departement van Landbou: Wes-Kaap het gedurende die 2005 seisoen 'n reeks cultivarproewe in die Suid- en Wes-Kaap streke uitgevoer. Ses lokaliteite wat strek van Mosselbaai tot Caledon is in die Suid-Kaap streek aangeplant terwyl daar ook ses lokaliteite in die Wes-Kaap van Phila­delphia tot Porterville geplant is. Verskillende plantdatums (vroeg en laat) is by beide die twee proefplase in die Suid-Kaap (Tygerhoek) en die Swartland (Langgewens) uitgevoer. Baie swaar reënval in die Philadelphia gebied, aan die begin van die seisoen, het tot gevolg gehad dat die proef by die Botterberg lokaliteit versuip het. Die groei van die plante het nie wesentlik herstel nie en onkruidbeheer is deur die nat toestande bemoeilik, met die gevolg dat die proef laat vaar is. Die tweede aanplanting by Tygerhoek het ook misluk aangesien die jonger plante nie die mid-winter droogte, wat daar voorgekom het, kon hanteer nie.

By die Malmesbury lokaliteit het heelwat van die cultivars 'n opbrengs van meer as 2 ton/ha gelewer met die cultivars 44C11 en Spectrum wat die beste gevaar het. Heelwat van die cultivars se opbrengste is egter benadeel deurdat van die persele erg platgelê het.

Opbrengste by die twee plantdatumproewe op Langgewens was uitstekend met veral die cultivars Comet en Hyola 61 wat by beide aanplantings die beter opbrengste gelewer het.

Die gemiddelde opbrengs van die eerste en tweede aanplantings was onderskeidelik 2.30 en 2.12 ton/ha. Die hoogste gemiddelde opbrengs van 3.37 ton/ha is by die Piketbergproef deur die cultivar Hyola 61 behaal.

Die proefgemiddelde het by 2.14 ton/ha gelê met heelwat van die cultivars wat opbrengste van 2 ton/ha en meer gehad het. Opmerklik was die lae opbrengste van die triasienweerstandbiedende cultivars. Met die uitsondering van slegs twee cultivars (Hyden en Varola 600TT) het al die cultivars by die Porterville proef 'n gemiddelde opbrengs van meer as 2 ton/ha gehad met die cultivar Hyola 45 wat die hoogste opbrengs van 2.71 ton/ha gehad het.

Die gemiddelde opbrengs van die canola cultivars in die Swartland toon dat die cultivar Hyola 61 die beste gevaar het gevolg deur Spectrum, Hyola 45 en Comet. Weereens is dit duidelik dat die triasienweerstandbiedende cultivars opmerklik swakker gevaar het as die konvensionele cultivars.

Toestande in die Rûens en Suid-Kaap was baie gunstig tydens die vestigings tydperk met goeie reënval wat oor groot dele voorkom tydens April tot Mei. Baie lae reënval tydens Julie het veral tot vogstremmingstoestande in die Caledon distrik gelei, wat opbrengste beslis benadeel het. Nie­teenstaande is redelik goeie opbrengste hier deur van die cultivars behaal. Die proefgemiddelde was 1.92 ton/ha met die cultivars Hyola 61,45C05 en Spectrum wat die hoogste gemiddelde behaal het.

By Tygerhoek is die tweede aanplanting erg geaffekteer deur die vogstremmingstoestande wat tydens Julie voorgekom het. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan vogstremmingstoestande wat hier tydens die middel van die seisoen geheers het en wat vermoedelik die kleiner plantjies van die later aanplanting meer beïnvloed het. Die plante van die vroeër aanplanting was verder ontwikkel en kon beslis die droogte beter hanteer. Die hoogste opbrengs hier is deur die cultivar Spectrum behaal gevolg deur 44C11 en Rainbow met 'n proefgemiddelde van 2.05 ton/ha vir al die cul­tivars. By die Napier proef was die cultivar Spectrum weer die toppresteerder met 'n gemiddelde opbrengs van 2.36 ton/ha gevolg deur 44C11 met 'n opbrengs van 2.26 ton/ha. Opbrengste by die Swellendam proef was effe laer met 'n proefgemiddelde van 1.71 ton/ha. Die cultivars Comet en Spectrum het die beste gevaar gevolg deur Hyola 61 en Outback. By die Riversdal lokaliteit is goeie opbrengste deur heelwat van die cultivars be­haal. Die proefdata het egter 'n baie hoë koëffisient van variasie gehad met die gevolg dat hierdie datastel nie gebruik kon word nie.

Die relatief lae reënval wat in die Mosselbaai omgewing tydens Julie tot September voorgekom het, het relatief lae opbrengste tot gevolg gehad. 'n Proefgemiddelde van slegs 1.36 ton/ha is behaal met die hoogste opbrengs wat deur die teellyn CBI 4407 behaal is.

Die gemiddeldes van die cultivars oor al die lokaliteite van die Suid-Kaap toon dat die cultivars Spectrum, 44C11 en Hyola 61 die toppresteerders in hierdie gebied was met onderskeidelik opbrengste van 2.22, 2.04 en 2.06 ton/ha. Net soos in die Swartland gebied, het die triasienweerstand­biedende cultivars merkbaar swakker presteer wat in teenstelling is met die resultate van vorige seisoene.


5.14

 

Cultivarevaluering van olie- en proteïensade in die winterreënvalstreek – lupiene


Mnr DJ Hanekom
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Volgens aanduidings was die gemiddelde saadopbrengs van lupiene oor al die produksiegebiede ongeveer 1.2 ton/ha. Daar is egter etlike produ­sente wat saadopbrengste van 1.6 tot 2.0 ton/ha behaal het. Poeieragtige meeldou (witroes) het weereens sporadies voorgekom en produsente moes dit chemies beheer. Dit blyk dat bolwurms minder probleme veroorsaak het as gedurende die 2004 seisoen.

Volgens beraming is daar ongeveer 14 500 ha soetlupiene in die Wes- en Suid-Kaap gedurende die 2005 seisoen verbou. Dit verteenwoordig 'n toename van 7 500 ha teenoor die aanplantings (7 000 ha) van die 2004 seisoen.

Die Departement Landbou: Wes-Kaap het gedurende die 2005 seisoen 'n reeks cultivarproewe in die Suid- en Wes-Kaap uitgevoer. Proewe is op ses lokaliteite, wat strek van Mosselbaai tot Caledon in die Suid-Kaap streek, uitgevoer terwyl daar ook op ses lokaliteite in die Wes-Kaap van Phila­delphia tot Eendekuil aangeplant is. As gevolg van versuiptoestande is die proef aanplanting by Philadelphia nie voltooi nie.

Klimaatstoestande tydens die 2005 seisoen is gekenmerk deur baie goeie reënval wat oor groot dele van die Suid-Kaap tydens planttyd (April tot Junie) voorgekom het. In die Swartland het goeie reënval ook oor groot dele van die gebied met die aanvang van die seisoen voorgekom. In beide gebiede is egter 'n baie droë Julie ervaar wat tot oesverlagings in sekere gebiede gelei het. Tydens Augustus en September het daar egter genoeg­same reënval oor die grootste gedeeltes voorgekom wat in sekere areas tot baie goeie opbrengste gelei het.

'n Vergelyking van die opbrengste van die plantdatum proewe by die Tyderhoek lokaliteit toon dat die vroeër plantdatum, wat betref die smalblaar tipes, oor die algemeen beter gevaar het as die later plantdatum. Weinig verskil in opbrengste van die breëblaartipes het by die twee plantdatums voorgekom. 'n Verklaring hiervoor lê moontlik by die midwinter droogte wat by hierdie lokaliteit tydens 2005 voorgekom en wat waarskynlik die swakker ontwikkelde plante van die smalblaartipes van die tweede aanplanting meer beïnvloed het. Die opbrengste van die smalblaar tipes by die eerste aanplanting het gewissel van 2.11 ton/ha tot 3.02 ton/ha vir die cultivars Wonga en Quilinock onderskeidelik. By die tweede aanplanting was die opbrengste heelwat laer en het van die cultivars minder as 'n ton per hektaar gelewer. Soos reeds genoem het is die opbrengs van die breëblaar tipes weinig deur die plantdatum beïnvloed.

Die opbrengste van die smalblaartipes by die Napier lokaliteit was baie wisselvalig en het van die cultivars soos Mandelup, Quilinock en Merrit opbrengste van meer as 3 ton/ha gelewer, terwyl van die ander cultivars minder as 1 ton/ha gelewer het. Opbrengste van die breëblaartipes was goed met die cultivar CED 6150 wat 'n opbrengs van 2.93 ton/ha gelewer het. By die Swellendam lokaliteit het heelwat van die cultivars meer as die proefgemiddelde van 2.01 ton/ha behaal met die hoogste opbrengs van 2.41 ton/ha wat deur die cultivar LAG 28 gelewer is.

Ook hier het die cultivar CED 6150 die beste gevaar van die breëblaar tipes met 'n opbrengs van 2.27 ton/ha. Die opbrengste van beide die smal- en breëblaar lupiene by die Riversdal lokaliteit was deurgaans goed en het al die cultivars sonder uitsondering opbrengste van meer as 2 ton/ha ge­lewer. Die opbrengste van die smalblaarlupiene het gewissel van 2.27 tot 2.82 ton/ha vir die cultivars LAF 8 en Eendekuil onderskeidelik terwyl die opbrengste van die breëblaar lupiene gewissel het van 2.32 tot 2.59 ton/ha vir die cultivars Ronell en CED 6150 onderskeidelik. By die Mosselbaai­proef was die opbrengste van die breëblaarlupiene merkbaar swakker as die opbrengste van die smalblaarlupiene. Die hoogste opbrengs van die smalblaarlupiene is deur die cultivar Mandelup behaal met 'n opbrengs van 2.47 ton/ha gevolg deur die cultivars LAG 28 en Merrit met opbrengste van onderskeidelik 2.37 en 2.28 ton/ha.

Die gemiddelde opbrengste van die lupien cultivars vir die lokaliteite van die Suid-Kaap toon dat die cultivar Mandelup oor die algemeen die beste gevaar het met 'n gemiddelde opbrengs van 2.63 ton/ha, gevolg deur die smalblaarcultivar Quilinock, en die breëblaar cultivar CED 6150.

By die Darling proef in die Swartland area het die opbrengste van die smalblaarlupiene gewissel van 1.15 ton/ha vir die cultivar LAF 8 tot 2.25 ton/ha wat deur die cultivar Mandelup behaal is. Ook hier het die breëblaar cultivar CED 6150 goed gevaar met 'n opbrengs van 2.28 ton/ha.

Wat betref die twee plantdatumproewe by die Langgewens lokaliteit het slegs die eerste plantdatum voldoen aan die statistiese vereistes. Hier het die breëblaar cultivars goed gevaar en het die cultivars CED 6150 die hoogste opbrengs van 3.02 ton/ha gehad gevolg deur die smalblaarcultivar LAG 28 met 'n opbrengs van 2.67 ton/ha.

Die opbrengste van die breëblaar lupiene by die Hopefield proef het gewissel tussen 1.35 en 1.17 ton/ha en was merkbaar swakker as die op­brengste van die smalblaarlupiene. Die hoogste opbrengs van 1.96 ton/ha is deur die cultivar LAG 16-3 behaal, gevolg deur LAG 28 en Quilinock met opbrengste van 1.93 en 1.82 ton/ha onderskeidelik. Goeie opbrengste is deur beide die smal- en breëblaar lupiene by die Porterville proef behaal. Die cultivar CED 6150 het die beste presteer met 'n opbrengs van 3.06 ton/ha gevolg deur die smalblaarcultivars LAG 28 en LAG16-3 met opbrengste van 2.73 en 2.57 ton/ha onderskeidelik.

Die gemiddeldes van die cultivars vir al die lokaliteite in die Swartland dui op die beste prestasie deur die breëblaarcultivar CED 6150 met 'n gemiddelde opbrengs van 2.43 ton/ha. Die smalblaarlupiene met die hoogste gemiddelde in hierdie gebied was die cultivar LAG 28 met 'n gemiddelde opbrengs van 2.24 gevolg deur Quilinock en Mandelup met gemiddelde opbrengste van 2.09 en 2.03 ton/ha onderskeidelik.

Volgens die proefresultate het die cultivars Mandelup en Quilinock baie goed presteer, veral in die Suid-Kaap asook by enkele lokaliteite in die Swartland. Quilinock is reeds sedert 2003 in die cultivarproewe en presteer deurgaans bogemiddeld. Daar sal blykbaar 'n beperkte hoeveelheid saad vir kommersiële produksie gedurende 2006 beskikbaar wees.

Belangrike eienskappe van Mandelup is hoë saadopbrengs (beste cultivar in Australië), goeie weerstand teen antraknose, uitstekende weerstand teen Phomopsis, redelike goeie luisweerstand en goeie verdraagsaamheid teenoor die onkruiddoder metribuzin (nuwe tipe chemie wat teen onkruiddoderweerstand kan help.


5.15

 

'n Ondersoek na die produksiedinamika van agt wisselboustelsels, insluitende koring, canola, lupiene en weidingspesies in die Swartland, Wes-Kaap


Dr MB Hardy
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Die doel van hierdie studie is om die kort- en langtermyneffekte te bepaal vir agt van die mees toepaslike gewasse en gewas / weiding wissel­boustelsels met betrekking tot: gewasopbrengs; onkruidbeheer; siekteonderdrukking; grondproduksiepotensiaal; skaapproduksie en ekonomies volhoubare grondgebruik in die Swartland.

Opsomming van die resultate en uitsette van die 2005-produksiejaar

Geen noemenswaardige reënval is gemeet gedurende Februarie en Maart nie. Die eerste noemenswaardige reën het geval op 10 en 11 April. Die reëns het gedurende April, Mei en tot die middel van Junie voortgeduur, waarna daar 'n droë tydperk tot middel Julie was. Gereelde buie van 5 tot 15mm wat van middel Julie tot die einde van Augustus voorgekom het, asook daaropvolgende ligter buie gedurende September en vroeg Oktober, het genoegsame grondvog voorsien om die opbrengspotensiaal wat vroeër in die seisoen vasgestel is, te volhou. Graanopbrengs was oor die algemeen hoër as dié van die vorige seisoene.

a. Canola- en lupienproduksie

Die TT canolacultivar ATR-Hyden, is geplant in 'n voortgesette poging om die bestuurstrategieë te ondersteun om die erns van die onkruiddoder­weerstandsprobleem te beperk wat met raaigras op die navorsingsarea ontwikkel het. Die lupiencultivar Tanjil is geplant teen 110kg/ha. Canola is geplant teen die middel van April en lupiene teen die begin van Mei. Saailingdigtheid vir canola en lupiene het aangetoon dat die metodes wat ge­bruik is tydens plant (en die goeie kwaliteit saad) gelei het tot die suksesvolle vestiging daarvan.

Die gewasse is bestuur soos uiteengesit in die bestuursprotokol soos ooreengekom deur die Tegniese komitee in Februarie 2005. Gunstige kli­maatstoestande het gelei tot hoë opbrengspotensiaal.

Canola en lupiene is teen die einde van Oktober geoes. Soos in voorafgaande seisoen, was die rypheid en "gereedheid" van canola vir oes uiters veranderlik en ongelyk. Elke canolakamp is dus ook voor oes gemonitor ten einde opbrengspotensiaal te skat.

Canolaopbrengs verkry gedurende oes ("direk" gestroop), was hoër as die verkry gedurende voorafgaande seisoene en het gewissel vanaf 'n gemid­deld van 1 300 kg/ha tot 1 700 kg/ha, afhangende van die gewasopeenvolging. Geskatte potensiaalgemiddeldes het gewissel vanaf 1 900 tot 2 300 kg/ha, wat aangetoon het dat daar beduidende verliese voorgekom het tydens of net voor oes. Ter interessantheid kan die feit gemeld word dat die geskatte oes aangedui het dat canola wat medicweiding opvolg, 'n hoër potensiaal het as canola wat koring of lupiene opvolg.

Gemiddelde lupienopbrengs vir die koring / koring / lupiene / canolastelsel was 1 476 kg/ha terwyl dié vir die koring / lupiene / koring / canola­stelsel 1 360 kg/ha was wat soortgelyke lupienopbrengspotensiaal vir elke stelsel aandui.

Ru-proteïeninhoud vir canola het gewissel vanaf 25.1 tot 26.1%, met die hoogste RP waar dit medicweiding gevolg het. Olieinhoud het tussen 30.5 en 32.3% gewissel, met die laagste olieinhoud waar dit medicweiding gevolg het. Let daarop dat die olieinhoud van die canolasaad relatief laag is in vergelyking met die normale verwagting van 35% RP en hoër. Die cultivar ATR-Hyden het egter 'n inherente laer % RP-inhoud as die ander culti­vars wat algemeen in die Wes-Kaap verbou word.

Gemiddelde ru-proteïeninhoud van lupiensaad was 27.2% en het gewissel vanaf 24.8 to 29.2%. Dit is interessant om daarop te let dat lupiene, wat twee jaar van koring opgevolg het, laer % RP gehad het as lupiene wat een jaar van koring in die KCKL-wisselboustelsel opgevolg het.

b. Koringproduksie

Gemiddelde koringopbrengs in al die stelsels was 3 557 kg/ha. In teenstelling met die vorige seisoene, was daar geen duidelike verskille in die opbrengste van die verskillende gewasopeenvolgings nie, behalwe dat die gemiddeld aangeteken vir die koringmonokultuur laer was as al die ander behandelings.

Graankwaliteit, soos gemeet vir elke behandelingsperseel deur die Russtasiesilo, het getoon dat die ru-proteïenvlakke in die meeste gevalle hoër was as 12% en die HLM was meer as 78 in al die behandelings. Daar was geen beduidende neiging om aan te toon of die vorige seisoen se gewas die % RP-inhoud van die koring beïnvloed het, al dan nie. Die graan geproduseer was dus, oor die algemeen, van die hoogste kwaliteit. Die enigste faktor wat 'n negatiewe uitwerking gehad het op die graankwaliteit, was die aanwesigheid van 'n hoë persentasie sifsels in die graanopbrengs van al die kampe. Dit was as gevolg van 'n uitbraak van Bolwurm wat nie doeltreffend beheer is nie. Sifsels het tussen 5 en 8% van die totale opbrengs uitgemaak. Sifsels het dus, oor die algemeen, ongeveer 300kg van die totale opbrengs per hektaar uitgemaak.

c. Skaapproduksie

skape is met byvoeding (lusern) voorsien gedurende die somer en herfs tot aan die begin van Mei. Terwyl voerbeskikbaarheid laag was gedurende die somermaande, was die positiewe groeireaksie van beide ooie- en lammers in al die kampe 'n aanduiding dat die voerbeskikbaarheid en kwali­teit nie die diere se produksie gedurende die wintermaande van 2005 benadeel het nie. Medic- en medic / klawersaadbanke in die meeste kampe blyk genoegsaam te wees om die suksesvolle hervestiging van weidingskampe te verseker, mits die klmaatstoestande gunstig is.

d. Ekonomie

Alle data, soos vereis om inkomste en uitgawebegrotings vir elk van die 48 kampe te bereken, is met behulp van die MICRO-COMBUD-pakket saamgestel. Die ekonoom verantwoordelik vir hierdie komponent van die projek, is besig om die data na te gaan en om die resultate vir die 2002-, 2003-, 2004- en 2005- seisoene saam te stel.

e. Komponentnavorsing

Soos in die vorige seisoene, is daar verskeie aanvullende studies gedoen gedurende 2005. Hierdie studies sluit in:

  1. Monitering van medic- en klawersaadbanke in die gewas / weidingstelsels (Instituut vir Plantproduksie – Elsenburg);
  2. Bepaling van mikrobeaktiwiteit in grond wat met koring beplant is in 'n koringmonokultuur- en koring / medicwisselboustelsel (Instituut vir Plantproduksie, Elsenburg en Departement Mikrobiologie, Universiteit van Stellenbosch);
  3. Ondersoek na die uitwerking van grondtekstuur op die koringproduksie (Instituut vir Plantproduksie, Elsenburg);
  4. Monitering van N-mineralisasietempo van die grond in verskillende gewasstelsels (Departement Agronomie - Universiteit van Stellenbosch).

Projekevalueringsvergadering – 11 April 2005

Die doel van die vergadering was om kommentaar van leiers in die plaaslike boeregemeenskap in te win met die idee om hulle insig in die vooruit­gang en toepaslikheid van die langtermyn wisselbougewas en gewas / weidingsproef op Langgewens te meet. 'n Notule van die vergadering is aangeheg aan die jaarverslag. Hoofsaaklik het die vergadering saamgestem dat die proef behoort aan te gaan en dat dit belangrike inligting aan die produsente verskaf wat die bestuur van gewasproduksie in die gebied ondersteun.

a. Tegnologie-oordrag

Die volgende som die voorleggings en publikasies op wat gebaseer is op die gewasproduksieproewe wat uitgevoer word in die Swartland en die Suid-Kaap gedurende 2005.

b. Voorleggings (aantal persone bygewoon in hakies)

  • 2   Plaaslike wetenskaplike vergaderings (160)
  • 8   Boeredae (465)
  • 1   Tegnikonstudente (45)
  • 2   Boerestudiegroepvergaderings (32)
  • 1   Boereverenigingsvergadering (20)
  • 9   Tegniese vergaderings en verslagsessies (99)

5.16

 

Super canola kompetisie – Swartland, Wes-Kaap


Mnr IF Slabbert
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Negentien boere het deelgeneem aan die Swartland Canola kompetisie in 2005. Ses was in die Malmesbury voorligtingswyk, nege in die Moor­reesburg voorligtingswyk en vier in die Piketberg voorligtingswyk.

Dit was 'n goeie jaar vir Canolaverbouing en die gemiddelde opbrengs was 1,29 ton/ha wat 0,64 ton hoër was as die gemiddelde opbrengs (0,65 ton/ha) in 2004.

Die deelnemer met die hoogste opbrengs was Daniel Russouw van Piketberg. Dit was die eerste keer sedert die kompetisie begin het dat iemand van Piketberg die kompetisie gewen het. Sy opbrengs was 2,04 ton/ha. Hy was ook die deelnemer met die hoogste bruto marge van R2 387/ha.

Die deelnemer wat die beste die afgelope vyf jaar presteer het, was mnr Dirk Lesch van Malmesbury.


5.17

 

Super canola kompetisie – Suid-Kaap


Mnr CL van Rooyen
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Die 2005 jaar is gekenmerk deur uitstekende stande wat boere se hoop op rekordoeste laat opvlam het.

Die Junie-Julie droogte het egter baie boere benoud gehad. Nogtans het die plante herstel na die reën en steeds was die potensiaal van die gewas hoog. Selfs met platsnytyd was daar nog goeie potensiaal maar toe kom die winde en produsente van Caledon en Bredasdorp verloor tot 1 ton/ha in opbrengs.

'n Bekommernis was die groot hoeveelheid plaasgeproduseerde saad wat benut was vanjaar. Dit kan ook 'n rede wees vir die laer as verwagte oeste wat sekere produsente behaal het. Canola is nog 'n ontwikkelende gewas en nuwer cultivars kan 'n bydrae lewer om beter oeste te verseker. Die wenner van vanjaar se kompetisie was mnr Andrew Beukes, van die plaas Vrede in die Botriviergebied, wat 2.14 ton/ha behaal het met die cultivar Tornado.


5.18

 

Ekonomiese volhoubaarheid van kort- en langtermyn wisselbougewas / weidings produksiestelsels in die Suid-Kaap


Dr MB Hardy
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Die doel van hierdie studie is om die kort- en langtermyneffekte te bepaal vir 'n aantal van die mees toepaslike kort- en langrotasie gewas en gewas / weiding wisselboustelsels wat geïdentifiseer is vir die Suid-Kaap met betrekking tot: gewasopbrengs; onkruidbeheer; siekteonderdrukking; grondproduksiepotensiaal; skaapproduksie en ekonomies volhoubare grondgebruik in die Suid-Kaap.

2005 was die vierde jaar van produksie. Die proef behels twee hoofkomponente naamlik: kortrotasiestelsels wat op Tygerhoekproefplaas naby Riviersonderend getoets word en Langrotasiestelsels wat op plase in die Riversdal- en Swellendamdistrikte onderskeidelik getoets word. Alle proewe is suksesvol gevestig en bestuur volgens beplande protokol. Hoë reënval gedurende die Desember / Januarie tydperk het gelei tot hoë digthede van someronkruide wat beheer moes word. Goeie reën in April het versuipte gronde tot gevolg gehad in Tygerhoek en Riversdal. Die ver­suiping was so erg dat dele van drie kampe op Riversdal en 7 subkampe op Tygerhoek nie geplant kon word nie. Potensiële groei en ontwikkeling kon dus vir alle gewasse beperk wees as gevolg van die hoë grondvoginhoud.

Canolaproduksie

Canola is op al drie lokaliteite teen middel April geplant. Die cultivar Outback is op Riversdal en Swellendam geplant. ATR-Hyden is op Tygerhoek geplant sodat Simazine vir onkruidbeheer gebruik kon word.

Gemiddelde plantdigthede by alle lokaliteite was laer as die "optimum" van 65 plante per m¯², maar ondervinding het geleer dat laer plantdigthede soortgelyke opbrengste lewer as die "optimum".

Daar is egter 'n risiko van saadverlies tydens oes, as gevolg van die ongelyke rypwording van canola wat by laer digthede aangeplant word. Die ernstige insekskade wat op persele van die Riversdalproefarea, asook een van die subkampe op Tygerhoek in 2004 berig is, is nie in 2005 herhaal nie.

Die insekbeheermaatreëls was óf suksesvol óf insekte was nie 'n probleem by die lokaliteite in 2005 nie, of moontlik het 'n kombinasie van die twee faktore gehelp om die insekskade te verminder.

Opbrengste van canola op Riversdal was weereens relatief hoog, synde 'n gemiddeld van 1 900 kg/ha. Gemiddelde opbrengste van 1 100 kg/ha en 1 500 kg/ha is vir onderskeidelik Swellendam en Tygerhoek gemeet. Dit is interessant om daarop te let dat die canolaopbrengs (kg/ha) gemiddeld 50%, 55% en 83% van die koringopbrengs op Tygerhoek, Riversdal en Swellendam onderskeidelik was. Canolaopbrengs van die Riversdal demon­strasiestroke was 1 967, 2 074, 2 103 en 1 763 kg/ha vir onderskeidelik Outback, 44C11, Comet en Tornado TT.

% Ru-proteïen en % olieinhoud van die saad het gewissel van 22 tot 25 en 30 tot 36 by die Tygerhoeklokaliteit, van 21 tot 22 en 34 tot 35 by die Riversdallokaliteit en van 22 tot 24 en 32 tot 35 by die Swellendamlokaliteit.

Lupienproduksie

Lupiene (Tanjil) is geplant by die Riversdal en Tygerhoeklokaliteite. Simazine is weer gebruik om onkruidbeheer op al die persele te voorsien. Die gemiddelde opbrengs van al vier subkampe op Tygerhoek was 2 067 kg/ha. Met 1 500 kg/ha wat die norm is om te verseker dat positiewe netto marge vir die produsering van lupiene verkry word, toon die produksie wat vir hierdie seisoen verkry is weereens die potensiële waarde van hierdie gewas as een van dié in 'n goed beplande gewas wisselboustelsel. Lupienopbrengs op Riversdal was ook verbasend hoog, indien in gedagte gehou word dat die grond ernstig versuip was. Opbrengs het gewissel van 1 612 tot 1 948 kg/ha. Die % RP-inhoud van die saad het gewissel van 25 tot 30%. Let daarop dat sommige lupienkampe wat op kommersiële skaal in die vlaktes van Riversdal verbou is, heeltemal versuip het, wat verdwerg­de groei en die daaropvolgende swak opbrengs, in vergelyking met die potensiaal, tot gevolg gehad het. Die swak groei van die plante het ook verder swak oeste tot gevolg gehad, omdat die normale oestoerusting nie die klein plantjies suksesvol kon oes nie.

Koringproduksie

Koring is op al drie die lokaliteite geplant (SST 57 op Tygerhoek en Swellendam en SST88 op Riversdal). Koringopbrengs by Riversdal (gemiddeld van 3.25 ton/ha) was soortgelyk aan die opbrengste genoteer vir 2004. Dit is interessant om daarop te let dat die koring wat canola opgevolg het, nagenoeg 10% meer geproduseer het as die koring wat hawer opgevolg het. By Tygerhoek het die gemiddelde koringopbrengs gewissel van 2.0 tot 3.7 ton/ha. Die groot verskille in opbrengste is meestal toegeskryf aan lokaliteitstoestande, hoofsaaklik die graad van versuiping, wat die grootste uitwerking op produksie gehad het.

Ten spyte van die swak grondvogtoestande op Swellendam teen die laaste gedeelte van die seisoen, was die koringopbrengs (gemiddeld van 1.34 ton/ha) hoër as dié wat in 2004 na hawer verkry is en soortgelyk aan die goeie koring-na-lupien opbrengste wat in 2004 gerapporteer was. Alle koringkampe is geplant na canola!

In teenstelling met die vorige seisoen, het die % RP beduidend gewissel, terwyl die HLM redelik dieselfde was in die meeste behandelings op Tyger­hoek en Riversdal. By hierdie lokaliteite het die % RP die grootste invloed gehad op die graankwaliteit, soos gemeet by die silo. Op Swellendam het die % RP bokant 12% gebly terwyl daar beduidende verskille in die HLM van die graan van verskillende persele was. Die data illustreer die beteke­nisvolle invloed wat die klimaat en grondvogtoestande op die kwaliteit van die finale produk teen die einde van die seisoen het.

Garsproduksie

Gars (Clipper) is slegs op Tygerhoek geplant. Die gemiddelde opbrengs van gars het gewissel van 2.5 tot 3.5 ton/ha. In teenstelling met die vorige droë seisoene, was die opbrengs van gars wat weidings opgevolg het, soortgelyk aan die opbrengs van gars wat koring opgevolg het. Oor die alge­meen was die garsopbrengs nagenoeg dieselfde as die koringopbrengs vir 2005.

Die stikstofinhoud van die korrels het gewissel tussen behandelings, maar sonder enige duidelike patrone wat aangedui het dat die hoër of laer % N van die korrels die gevolg was van die vorige jaar se gewas. Die meeste kampe het korrels met 'n N-inhoud van moutkwaliteit gelewer. Korrel­rondheid het grootliks tussen behandelings gewissel.

Ekonomie

COMBUDS, bruto- en nettomarge en ekonomiese analises word deur die ekonoom op Elsenburg verwerk.

Komponentnavorsing

Verskeie addisionele studies is gedurende 2005 gedoen, waaronder:

  1. Monitering van saadbanke in al die persele van al die proefareas van die Suid-Kaapproef;
  2. 'n Grootskaalse koringsaaidigtheidsproef op Riversdal; en
  3. Monitering van grondvrugbaarheidstatus en grond organiese koolstofinhoud van al die proefareas in die Suid-Kaaproef. Daarbenewens is 'n MSc-student van die universiteit van Stellenbosch ook betrokke by 'n studie van die uitwerking van rotasie op die fisiogonomie van koring op die Tygerhoekproefarea.

Tegnologieoordrag

Die volgende som die voorleggings en publikasies op wat gebaseer is op die gewaswisselbouproewe wat in die Suid-Kaap gedurende 2005 uitge­voer is.

Voorleggings (aantal persone bygewoon in hakies)

  • 2   Plaaslike wetenskaplike vergaderings (160)
  • 8   Boeredae (465)
  • 1   Tegnikonstudente (45)
  • 2   Boerestudiegroepvergaderings (32)
  • 1   Boereverenigingsvergadering (20)
  • 9   Tegniese vergaderings en verslagsessies (99)

5.19

 

Optimale rywydtes en saaidigthede vir canola


Prof GA Agenbag
Universiteit Stellenbosch

Hierdie projek is gedurende die periode 2001 tot 2005 op beide Langgewens Proefplaas in die Swartland en Roodebloem Proefplaas in die Ruens uitgevoer.

Hoewel graanopbrengste as gevolg van wissellende klimaatstoestande oor jare op beide lokaliteite gevarieer het, het dit tog 'n toenemende ten­dens getoon. Reaksies teenoor veranderinge in plantdigtheid en ry-wydte het ook oor jare en lokaliteite verskil. Op Langgewens het betekenisvolle wisselwerkinge tussen plantdigthede en ry-wydtes in 2001 en 2002 voorgekom omdat graanopbrengs met 'n toename in plantdigtheid met wye rye nie toegeneem het soos wel die geval was met nou rye. Maksimum opbrengste behaal met wye rye was egter nie betekenisvol laer as met nou rye. Gedurende 2001, 2002 en 2004 het graanopbrengs op Roodebloem afgeneem met 'n toename in ry-wydte vanaf 170mm tot 340mm, terwyl 'n toe­name in plantdigtheid opbrengs gedurende 2002 verhoog het. Betekenisvolle ry-wydte X plantdigtheid interaksies het gedurende 2003 en 2004 op Roodebloem voorgekom omdat opbrengs, soos op Langgewens, in teenstelling met nou rye nie toegeneem het met 'n toename in plantdigtheid met wye rye nie. In die algemeen blyk dit dus dat ry-wydte 'n groter effek op opbrengs op Roodebloem in vergelyking met Langgewens gehad het. Gedurende 2005 is hoë graanopbrengste van gemiddeld 1736 kg ha-1 op Langgewens en 1972 kg ha-1 op Roodebloem verkry, maar opbrengs is egter nie beïnvloed deur plantdigtheid of ry-wydte op enige van die lokaliteite, ten spyte daarvan dat minder as 50 plante m¯² voorgekom het op persele waar lae plantdigthede in kombinasie met wye rye gebruik is. Die opbrengsreaksie teenoor veranderinge in ry-wydte en plantdigtheid hou dus skynbaar nie verband met die opbrengspotensiaal van 'n jaar (produksiegebied), maar veel eerder met toestande tydens spesifieke groei­stadiums van die gewas. Sodanige toestande sal egter moeilik voorspelbaar wees en moet gevolgtrekkings op algemene tendense berus.

In ooreenstemming met resultate wat in Wes- en Suid-Australië verkry is, word die opbrengs van Canola in veral die Wes-Kaap dus nie grootliks deur ry-wydte beïnvloed nie, mits optimale onkruidbeheer en bemestingspraktyke gevolg word. Opbrengste in die Suid-Kaap word egter tot 'n groter mate deur ry-wydtes beïnvloed. Omdat ongunstige toestande gedurende die groeiseisoen egter wel 'n afname in opbrengs met 'n toename in ry-wydte in albei gebiede kan veroorsaak, word aanbeveel dat ry-wydtes nie wyer moet wees as wat nodig is om planter verstoppings tydens die plantproses te verhoed. In teenstellings met nou rye 170mm waar 'n toename in plantdigtheid van 4 tot 8 kg ha-1 in twee uit vyf jare op beide lokaliteite hoër opbrengste tot gevolg gehad het, is soortgelyke tendense nie by wye rye gevind nie.


5.20

 

Lupiensaadproduksie


Dr HL Loubser
LNR-Instituut vir Graangewasse

Antraknosevrye lupiensaad is nie vrylik beskikbaar vir alle cultivars wat in Cultivarproewe, wat namens die PNS gedoen word, ingesluit word nie. Die oogmerk van die projek is om saad te vermeerder van sekere cultivars wat in die cultivarproewe in die winterreënvalstreek van Suid-Afrika aangeplant word. Voldoende saad is vir die cultvars Ronell, Vladimir, CED 6150 en Merrit geoes.

Die saad is na die Wes-Kaapse Departement van Landbou gestuur vir insluiting in die proewe.


5.21

 

Die ontwikkeling van beter aangepaste lupiencultivars vir die Wes- en Suid-kaap


Mnr HJC Agenbag
Proteïennavorsingstigting

Gedurende 2000 en 2001 is verskeie kombinasies (kruisings) gedoen met smalblaar lupiencultivars vanaf Australië, Duitsland, Pole en Belarus vir die ontwikkeling van moontlike nuwe lupiencultivars. Die doel van hierdie projek is om hierdie kruisings in veldproewe in verskillende klimaatstreke (2) te evalueer.

Gedurende 2005 is die mees belowende kruisings (90), soos blyk uit 2003 en 2004 se resultate, in 'n veldproef te Tygerhoek (Riviersonderend) ge­plant. Vier cultivars (Wonga, Merrit, Tanjil, Mandelup) is as standaarde ingesluit. 'n Verdere 65 kruisings waarvan daar te min saad was vir die veldproef is in enkelpersele te Elsenburg aangeplant saam met die cultivars Wonga, Merrit, Tanjil en Mandelup. Die cultivars Wonga, en Tanjil dra tans ongeveer 95% by tot die totale plaaslike soetlupienproduksie in die Wes- en Suid-Kaap. Merrit is 'n gesamentlike teelouer van beide Wonga en Tanjil en beskik oor baie goeie springtraagheid. Mandelup is 'n nuwe cultivar uit Wes-Australië met 'n baie goeie saadopbrengspotentiaal.

Die gemiddelde saadopbrengs van die veldproef te Tygerhoek was 2 427.03 kg/ha. Die beste saadopbrengs van 3 764.3 kg/ha is behaal deur die kruising E104.2.1 gevolg deur E65.1.1 (3 739.4 kg), E99.2.1 (3 514.9 kg) en E94.1.1 (3 317.2 kg). Saadopbrengs van die standaard cultivars was as volg: Mandelup (3 300.8 kg), Wonga (2 593.9 kg), Tanjil (2 323.7 kg) en Merrit (2 208.1 kg). Slegs die beste presteerder (E104.2.1 se opbrengs was betekenisvol (5%) beter as die van Mandelup. Daar was egter 11 kruisings wat betekenisvol beter as Wonga, 23 beter as Tanjil en 28 beter as Merrit presteer het.

Geen groot verskille in witroesweerstand en springtraagheid tussen kruisings en cultivars kon waargeneem word nie. Die blomdatum (dae na saai) van die vier beste kruisings het gewissel van 81-90 dae teenoor die 83-89 dae van standaard cultivars.

In die enkelpersele te Elsenburg het die kruising E28.1.3 die beste presteer met 'n saadopbrengs van 2 595.1 kg/ha gevolg deur E44.1.1.1 (2 331.1 kg), E122.2.1 (2 098.1 kg) en E150.2.1 (2 097.9 kg.ha). Die saadopbrengs van die standaard cultivars was onderskeidelik Mandelup (1 496.6 kg), Wonga (1 170.3 kg), Tanjil (1 072.7 kg) en Merrit (771.6 kg/ha). Die gemiddelde saadopbrengs van die beste kruisings (4) was 2 280 kg/ha teenoor die 1 128 kg/ha van die cultivars met ander woorde 1 152 kg/ha meer.

Geen noemenswaardige verskille in witroesweerstand en springtraagheid kon waargeneem word nie. Die blomdatum (dae na saai) van die kruis­ings het gewissel van 101-106 dae teenoor die 95-108 dae van die cultvars.

Volgens die resultate van die veldproef asook die enkelpersele blyk daar kruisings te wees met 'n goeie saadopbrengspotensiaal wat beter presteer as die plaaslike standaard cultivars onder verbouing. Gedurende 2006 sal die projek voortgaan met 'n bykomende veldproef te Langgewens Proef­plaas (Moorreesburg).


5.22

 

Die evaluasie van fababone in die Wes-Kaap


Mnr HJC Agenbag
Proteïennavorsingstigting

Die doel van hierdie projek is om 'n wye reeks cultivars, teellyne asook kiemplasma vanaf die buiteland plaaslik te evalueer. 'n Verdere doelwit is om cultivars met 'n hoë proteïeninhoud (± 30%) te identifiseer. Teellyne en kiemplasma word verkry vanaf ICARDA (International Centre for Agri­culture Research in Dry Areas) in Sirië. Cultivars is afkomstig uit die Australiese fababoonteelprogram te Adelaide aangesien hierdie cultivars baie goed aangepas is in die Wes- en Suid-Kaap. Tans word daar onderhandel met 'n saadmaatskappy in Duitsland om ook Europese cultivars te be­kom.

Gedurende 2005 is 'n veldproef met 27 teellyne en 2 cultivars (Ascot en Fiesta) te Tygerhoek Proefplaas (Riviersonderend) onder droëlandver­bouing aangeplant. Die cultivars Ascot en Fiesta met onderskeidelik goeie weerstand teen Ascochyta vlek en Botrytis blaarvlek presteer baie goed in Wes- en Suid-Australië.

Die gemiddelde saadopbrengs van die proef was 2 470 kg/ha. Die beste saadopbrengs van 4 115 kg/ha is behaal deur Fiesta gevolg deur Ascot met 3 849.6 kg/ha. Die beste presteerders onder die teellyne was BPL 102 695 met 'n saadopbrengs van 3 597 kg gevolg deur BPL 102 511 (3 378.2 kg), ILB 99 433 (3 274.5 kg), ILB 11 745 (3 249.7 kg) en ILB 11 654 (3 231.7 kg/ha). Die res van die teellyne se saadopbrengs het gewissel van 2 764.3 – 1 492.7 waarvan 9 se saadopbrengs minder as 2 000 kg/ha was. Saadopbrengs van 10 teellyne was beter as die proefgemiddeld. Die saadopbrengs van Fiesta was nie betekenisvol (5%) beter as die van BPL 102 695 nie terwyl daar ook geen betekenisvolle verskil was tussen Ascot en die 5 beste teellyne nie.

Die teellyn ILB 11 654 met 'n proteïeninhoud van 31% en 'n saadopbrengs van 3 231.7 kg/ha het die hoogste proteïenopbrengs van 1001.8 kg/ha realiseer gevolg deur Fiesta (23.6% Prot) 971.2 kg, ILB 99 433 (29.4% Prot) 962.7 kg en Ascot (23.9% Prot) 920.2 kg/ha.

Hoewel fababone se proteïeninhoud minder is as die van lupiene is die proteïenopbrengs beter vanweë die beter saadopbrengs van fababone en kan dit dus baie goed kompeteer met lupiene as proteïenryke wisselbougewas. Gedurende 2005 het die beste breëblaarlupienecultivar 'n gemiddelde saadopbrengs van 2 320 kg/ha behaal in die nasionale cultivarproewe (Rûens / Suid-Kaap) teenoor 2 630 kg/ha van smalblaarlupiene. Dit impliseer 'n proteïenopbrengs van 788.8 kg/ha vir breëblaarlupiene (34% Prot) en 815.3 kg/ha vir smalblaarlupiene (31% Prot).

Gedurende 2006 sal die projek voortgaan met 'n bykomende veldproef te Langgewens Proefplaas (Moorreesburg). Nuut vrygestelde cultivars (2) van Australië sal ook ingesluit word.


5.23

 

Evaluering van canola cultivars onder besproeiing


Dr AA Nel
LNR-Instituut vir Graangewasse

Om wins te optimaliseer is die toepassing van optimale akkerboukundige praktyke noodsaaklik. Een van hierdie praktyke is die aanplant van cul­tivars wat by die omgewing aangepas is. Beperkte inligting vir advies aan boere is tans oor dié aspek beskikbaar. Nuwe cultivars verskyn ook jaarliks op die mark, wat die voortdurende behoefte aan cultivarevaluasie noodsaak. Die doel van die projek is om die kommersiële cultivars vir opbrengs en graansamestelling op minstens vyf lokaliteite, jaarliks oor drie jaar te evalueer. Weens die kort bestaan van die projek is geen resul­tate tans beskikbaar nie.


5.24

 

Chemiese beheer van plantparasitiese aalwurms geassosieer met sojabone in Suid-Afrika


Dr H Fourie
LNR-Instituut vir Graangewasse

Aangesien geen aalwurmdoder tans op sojabone geregistreer is nie, word plaaslike sojaboonproduksie bedreig deur die teenwoordigheid van knopwortelaalwurms in potensiële produksiegebiede. Verder word sojaboonproduksie tans ook uitgebrei na areas met sanderige gronde, waar knopwortelaalwurms reeds oesverliese op mielies tot gevolg het.

Gevolglik word verskeie aalwurmdoders tans deur die LNR-IGG geëvalueer vir registrasiedoeleindes om aalwurms op die gewas te beheer. Een veldproef is tydens die 2004/05 plantseisoen in die Rustenburgarea (Noordwes Provinsie) geplant, waar beide bevolkings van Meloidogyne in­cognita en M. Javanica voorkom. Betekenisvolle verskille in die aantal knopworteleiers- en larwe per 50g wortels is tussen die 10 verskillende aalwurmdoder-behandelings waargeneem. Die onbehandelde kontrole het die hoogste aantal eiers en larwe per 50g wortels (0=22 873) onderhou, terwyl die oxagran 3 gm-1 ry 10G met plant + 3l ha-1 SL met blom (2 x dosis) behandeling die laagste aantal eiers en larwe per 50g wortels (0=1 519) onderhou het. Wat oesopbrengs aanbetref, is geen betekenisvolle verskille ten opsigte van die verskillende behandelings verkry nie. Opbrengs het tussen 3.717 en 4.554 t ha-1 gewissel. Dit is 'n nou omvang en plaas 'n vraagteken oor die ekonomiese regverdigbaarheid van aalwurmtoe­diening op sojabone. Daar is egter 'n reeks omgewingsfaktore wat dit beïnvloed en opbrengsreaksie op behandelings moet bevestig word. Aal­wurmdoderbehandeling sal egter aansienlike verligting bring waar baie hoë aalwurmbesmettings voorkom.


5.25

 

Die ontwikkeling en toetsing van geskikte lokvalle om slak- en isopodabevolkings in canola lande te monitor


Dr G Tribe
LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming

Die verliese aan canola saailinge in die Suid Kaap net na aanplanting en wat lei tot die ontwikkeling van oop kolle wat stelselmatig vergroot en uiteindelik weer beplant moet word, word toegeskryf aan slakke en isopoda. Om die agent te identifiseer wat lei tot die skade was dit nodig om 'n geskikte lokval te ontwerp om slakke, isopoda en ander insekte te monitor in 'n canola land en om sodoende die skakel te vind tussen die organis­me en die skade berokken. Verskeie lokvalle is ontwerp en getoets. Slakke en isopoda is aktief gedurende die nag en skuil bedags onder plantreste, klippe en grondklonte waar dit vogtig is. Te veel water is egter skadelik vir hulle. Twee basiese lokvalle is ontwerp en verskeie variasies van hierdie lokvalle is getoets.

Vierkantige melthoid blokke van 30x30cm is plat op die grondoppervlak geplaas en in posisie gehou met u-vormige stukke draad. Om maklike toe­gang tot die lokvalle te bewerkstellig is verskeie metodes vergelyk deur die kante van die melthoid op te lig, asook om 'n gesinkte plastiek houer in die middel van die lokval te plaas om sodoende organismes te behou. Isopoda is geneig om in nou barste of splete in te kruip, daarom is karton vierkante waarvan die boonste papier laag verwyder is om die splete bloot te stel onder die melthoid vierkante geplaas. Die tweede metode was om persplank stukke van 25 x 12cm op mekaar te plaas soos 'n "toebroodjie", 6mm uitmekaar deur middel van spykers en dit dan te begrawe in die grond gelyk met die oppervlakte.

Die "toebroodjie" lokvalle het beide isopoda en slakke geval, wat hoofsaaklik onder die lokval gevind is, eerder as tussen die twee presplank lae. Koffiepitte het weer die droër gedeeltes van die "toebroodjie" lokval gunstiger gevind, veral tydens nat periodes. Verskeie predator insekte het ook die lokval verkies. Die eenvoudigste en goedkoopste lokval was egter die plasing van melthoid vierkante op die grond, slakke van enige grootte, ispoda en verskeie ander insekte kon maklik onder die lokval inbeweeg sonder dat dit nodig was om 'n ingang te maak. Nie die plastiekhouer of die karton vierkante het die hoeveelheid organismes in die lokvalle verhoog nie. Die getal isopoda onder die lokvalle het baie gevarieer oor die periode na aanleiding van veranderinge in die weer. 'n Maksimum van 1063 isopoda is aangeteken onder die 10 melthoid lokvalle en die getal is verteenwoordigend gevind van die algemene populasie.

Die melthoid lokval kan gebruik word om slak en isopoda populasies te monitor om sodoende 'n vergelyking te tref tussen getalle in canola lande met saailing sterftes en lande sonder sterftes. Voorlopige proewe is uitgevoer om die verspreiding van isopoda te bepaal deur hulle te merk met verf van verskillende kleure wat verteenwoordigend is van die verskillende lokvalle. Isopoda getalle is met weeklikse intervalle aangeteken om te bepaal hoe ver hulle gemigreer het na ander lokvalle. Die biometriese "vang-merk-vrylaat-hervang" metode is gebruik om die isopoda populasie vlak te bepaal vir twee areas.


5.26

 

N-bemesting van canola gebaseer op N-mineralisasie en loging


Prof GA Agenbag
Universiteit Stellenbosch

N-bemestingsaanbevelings vir Canola produksie in die Wes-Kaap word tans gebaseer op grond van navorsing wat uitgevoer is in stelsels waar konvensionele metodes van grondbewerking toegepas is. Grondstikstof inhoud en N-mineralisasie word tans nie gemeet en dus ook nie in bere­kening gebring by die berekening van die toedieningspeile. Omdat N voorsiening aan gewasse die resultaat van N-bemesting, N-mineralisasie asook faktore soos N loging is, mag huidige N aanbevelings dus baie onakkuraat wees.

Die doel van hierdie studie is dus om N-reaksie van Canola te bepaal op grond met verskillende N-mineralisasie en logingspotensiale asook op verskillende lokaliteite en reënval situasies met die oog op meer doeltreffende N-bemestingsprogramme. Vir hierdie doel word veldeksperimente met Canola op Elsenburg-, Langgewens-, Roodebloem-, en Welgevallen-proefplase aangeplant, terwyl poteksperimente onder gekontroleerde toestande in 'n glashuis op Welgevallen uitgevoer word.

Resultate wat met veldeksperimente gedurende 2005 verkry is, toon groot verskille in reaksie op N bemesting by verskillende lokaliteite. Hierdie verskille in reaksie kan toegeskryf word aan verskille in groeipotensiaal (N-behoefte) en verskille in N voorsiening deur die grond.

Op Langgewens waar groot hoeveelhede N met planttyd in die grond teenwoordig was, het N bemesting geen effek op opbrengs gehad, terwyl goeie reaksie op Elsenburg verkry is waar die grondstikstof laag was en hoë opbrengste verkry is. Ten einde effektiewe N-bemestingsprogramme saam te stel sal dit dus belangrik wees om beide opbrengspotensiale en N-leweringsvermoë vir verskillende produksie-areas / gronde te kwanti­fiseer. Die ontwikkkeling van beide geskikte groeimodelle en N-mineralisasie-modelle mag dus nodig wees.

Glashuisproewe wat gedoen is in potte, gevul met 'n sandleem grond (73% sand, 15% klei en 12% leem), het getoon dat die stikstof inhoud in die grond na toedienings van soveel as 90 kg ha-1 KNO3 oor tyd baie vinnig gedaal het. Beide N loging en N opname het hiertoe bygedra. Waar geen plante teenwoordig was het die konsentrasie NO3-N in die logingswater eers na vyf reënbuie (besproeings) vanaf 200 mg.l-1 gedaal tot minder as 50 mg. l-1, terwyl sodanige daling in die teenwoordigheid van groeiende plante reeds na twee beproeings plaasgevind het. Ook in hierdie geval sal resultate ook vir verskillende grondtipes getoets moet word.


5.27

 

Evaluasie van fababone as alternatiewe proteïenbron vir braaikuikens, lêhenne en groeiende varke


Prof RM Gous
Universiteit van KwaZulu-Natal

Fababone word nie op groot skaal in Suid-Afrika verbou nie, hoofsaaklik weens ongunstige klimaat en swak aanvraag. Daarteenoor word fababone klaarblyklik betreklik doeltreffend in Europa en Australië verbou. Dit is moontlik dat hernieude belangstelling in die gebruik van fababone aanlei­ding kan gee tot 'n toename in verbouing van sekere kultivars in geskikte gebiede, soos byvoorbeeld die Wes-Kaap. So 'n verwikkeling kan meehelp om die vraag na ingevoerde proteïenbronne te beperk. Dus is 'n aantal studies aan die Universiteit van KwaZulu-Natal uitgevoer, ten einde fababone te evalueer as 'n alternatiewe proteïenbron in die voer van braaikuikens, lêhenne en varke.

Fababone bevat 'n aantal anti-nutrient faktore (ANF), byvoorbeeld ensieminhibeerders, tanniene, lektien, en haemagglutiniene (Bressani en Elias, 1988; Brand et al., 1995), wat na bewering aanleiding gee tot verlaagde diereprestasie weens inmenging met sekere metaboliese prosesse (Jansman et al., 1995). Daarteenoor kan geredeneer word dat die insluiting van fababone in die voer nie noodwendig 'n nadelige uitwerking sal hê nie, veral as insluitingsvlakke daarvan laag is. Dus was die doel van hierdie studiereeks om vas te stel tot watter mate ongeprosesseerde faba­boonmeel as plaasvervanger vir sojaboonmeel kan dien in die voer van braaikuikens, lêhenne en varke, sonder om in die proses prestasie in te boet.

In alle gevalle is twee basale rantsoene geformuleer, een sonder fababone en die ander een waarin fababone die sojaboonmeel vervang het, teen konsentrasies tot 300 g/kg voer. Die twee rantsoene is dan teen verskillende peile met mekaar vermeng om 'n verdunningsreeks daar te stel. Ge­volglik kon regressie-analise op die resultate toegepas word om die respons op toenemende peile fababone in die dieet te bepaal. Voorts is 'n vrye-keuse behandeling ook deurgaans toegepas, waarvolgens beide basale rantsoene gelyktydig maar apart aangebied is, sodat vasgestel kon word of die hoenders of varke aktiewe keuses vir of teen die betrokke rantsoene sou uitoefen. Daarvolgens is dit moontlik om te bepaal of hoen­ders en varke die aanwesigheid van ANF's self kan vasstel, waar sulke faktore teenwoordig is.

Die volgende verdunningsreeks eksperimente is uitgevoer:

  1. Braaikuikens (n=960) is vanaf die ouderdom van 7 dae tot 21 dae in groepe van 10 in broeihokke aangehou, met vier herhalingsgroepe per behandeling. Die hoogste konsentrasie fababone was 250g/kg voer.
  2. Lêhenne (n=480) is in groephokke aangehou, teen 32 henne per herhalingsgroep, en drie herhalingsgroepe per behandeling. 'n Maksimum van 200g fababone/kg voer is beproef, oor 'n periode van 10 weke.
  3. Groeiende varke (n=48) is vanaf 25 kg tot 90 kg liggaamsgewig in individuele hokke aangehou. Die maksimum fababoonpeile wat beproef is, was 200g/kg voer gedurende die groeifase, en 150g/kg voer tydens die afrondingsfase.

In al hierdie respons eksperimente kon daar feitlik geen onderskeid getref word tussen verskillende behandelingsgroepe se prestasie nie, wat sou kon aandui dat fababone 'n betekenisvolle gedeelte van soja oliekoek in die voer van pluimvee en varke kan vervang. Daarteenoor het die vrye­keuse behandelings aangetoon dat hoenders en varke hul keuse van die fababoon-rantsoene verminder het na gelang elkeen van die eksperi­mente gevorder het. Hieruit sou afgelei kon word dat daar enersyds ANF's in die fababone teenwoordig was, óf andersyds dat die twee basale rantsoene nie in alle opsigte gelykwaardig in voedingswaarde was nie. Voorts is daar tydens die mees onlangse eksperiment met lêhenne (wat nog aan die gang is) geurafwykings waargeneem in die eiers wat gelê is deur henne wat die hoogste peile fababone in die voer ontvang het. Dit dui daarop dat fababone onder sekere omstandighede nie aan lêhenne gevoer behoort te word nie. Hierdie ondersoek duur voort. Robinson en Singh (2001) hul­dig die mening dat fababone van min waarde is vir die Australiese pluimveebedryf, weens die swak aminosuurbalans van fababone, die aanwesig­heid van ANF's, en die moeilike vernietiging van die ANF's. Fababone word inderdaad tot 'n baie beperkte mate in die vark- en pluimveebedrywe van Australië gebruik. In Suid-Afrika is slegs die Wes Kaap 'n geskikte verbouingsgebied vir fababone, wat meebring dat dit onwaarskynlik is dat hier­die proteïenbron ooit 'n gewilde of lewensvatbare alternatief vir sojabone in hierdie land sal word.


5.28

 

Sclerotinia sclerotiorum studies op sojabone


Me D Visser
Universiteit van KwaZulu-Natal

Literatuuroorsig

Die literatuuroorsig rakende Sclerotinia sclerotiorum was voltooi en aan die Proteïennavorsingstigting oorhandig.

Apothekium ontwikkeling

Die ontwikkeling van apotekia (wat askospore bevat) vanuit sclerotia, wat gebruik moes word as inokulasiebron, was moeilik. 'n Aantal metodes was ondersoek wat onder ander ingesluit het, byvoorbeeld, sclerotia was in gaassakke toegedraai en dan in twee afsonderlike plekke in die veld gebêre en twee keer per maand ondersoek, en sclerotia wat vir ses weke by 4ºC in 'n yskas gehou was en toe na 'n konviron by 15-18ºC oorgeplaas was vir twee maande. Die apotekia wat ontkiem het vanuit die sclerotia was sittend behalwe vir 'n paar wat in petribakkies gelos was by kamer­temperatuur (20-24ºC) in half-donkerte vir drie maande. Die apotekia was gefotografeer. Gevriesde gedeeltes het apotekia getoon wat aski met agt askospore bevat, asook die teenwoordigheid van parafise tussen die aski.

As gevolg van die onvermoë om apotekia te produseer was daar besluit om myselium van S. sclerotiorum, afkomstig van sclerotia wat op agar petribakkies geplaas was, te gebruik as 'n inokulasiebron in plaas van askospore.

Kultivar proef

Vir die in vivo evaluasie van verskeie sojaboonkultivars vir weerstandbiedendheid tot SSR, is 13 SA kommersiële kultivars, i.e., LS6626RR, LS6710RR, LS666, LS555, LS6514, LS678, Prima 2000, PAN 626, AG5601RR, AG5409RR, 95B33, 95B53 en 96B01B getoets. Sojabone is tydens die V6 groeistadium besmet deur die hoofstingel horisontaal 1cm bokant die vyfde lit af te sny en dan 'n skyfie met S. sclerotiorum myselium op die afgesnyde oppervlak te plaas. Plante was gehou in 'n doukabinet by 20ºC en 80% relatiewe humiditeit vir 48 uur. Die lengte van die letsels was daagliks bepaal vir 'n tydperk van 10 dae na besmetting. Die aantal sclerotia wat gevorm het 10 dae na besmetting is ook bepaal. Daar was bete­kenisvolle verskille (P<0.005) in die finale lengtes 10 dae na besmetting. Die kultivars PAN 626, AG5601RR, Prima 2000, 96B01B, AG5409RR, 95B33 en 95B53 het betekenisvolle korter finale lengtes gehad en kan daarom geklassfiseer word as die mees weerstandbiedende kultivars teen S. sclerotiorum infeksie. 'n Sterk positiewe veband (r=0.92) was waargeneem tussen die finale lengte van die letsel en die hoeveelheid sclerotia wat geproduseer was. Dit is 'n aanduiding dat die hoeveelheid sclerotia wat geproduseer word sal verhoog soos die letsels groter word. Hierdie resul­tate het bygedra om die sojaboonkultivars wat 'n mate van weerstandbiedendheid het teen S. sclerotiorum, te identifiseer.

Saadbehandlings

Dr Gina Swart, werksaam by Syngenta, het voorgestel om van "papierpoppe" gebruik te maak vir die evaluering van die invloed van chemiese saadbehandelings op saadontkieming. Saadbehandelings wat gebruik was het ingelsuit, Celest XL teen 100, 125, 200 en 250ml/100kg; BAS 512 00F teen 8,16 en 32ml/100kg; BAS 516 03F teen 7.5, 15 en 30ml/100kg; Biozone teen 2ml/100kg; Benomyl teen 150g/100kg; Captab teen 240ml/100kg; Thiram teen 180g/100kg; Anchor Red teen 300ml/kg; Eco-T teen 1g/kg en Sumisclex teen 5 en 10ml/100kg. Die proef het bestaan uit vier herhalings met 100 sade elk. Behandelings was na vyf en agt dae beoordeel vir die persentasie ontkieming en die teenwoordigheid / afwesigheid van abnormale saailinge. 'n Toleransie tabel, uitgegee deur die International Seed Testing Association, was gebruik om te bepaal of die variasie tussen herhalings toegeskryf kan word aan ewekansige variasie of aan ander faktore. Nie een van die chemiese saadbehandlings wat getoets was, het 'n toksiese effek of 'n invloed op ontkieming gehad nie.

In vitro proewe word tans gedoen waartydens saad met bogenoemde chemikalieë behandel word en dan met skyfies met myselium van S. scle­rotiorum, besmet word. Die effek van die chemikalieë om die saad te beskerm na aanplanting teen S. sclerotiorum word dan bepaal.

Biologiese beheer

'n Tweeledige in vitro kultuur biotoets was uitgevoer om die moontlike biobeheer meganisme van EcoT en Eco77 teen die hife en sclerotia van S. sclerotiorum te identifiseer. Deur gebruik te maak van ESEM in ultrastrukturele studies, is gevind dat mikroparasitisme plaasvind deurdat die hifes van EcoT en Eco77 om dié van S. sclerotiorum draai. Sclerotia van S. sclerotiorum was dan gekoloniseer deur die hifes van EcoT en Eco77 totdat hulle gedisintegreer het. Vir die in vivo biokontrole studies, was die effek van Eco77 saam met silikon (Si) getoets teen S. sclerotiorum. Sojaboon­plante was besmet deur van bogenoemde metode gebruik te maak. Si (100dpm), as kaliumsilikaat, was by besproeiingswater gevoeg waarmee plante elke week water gegee is todat die V1 groeistadia bereik was. Plante was twee dae voor besmetting met Eco77 bespuit. Die wat met Eco77 behandel was, het betekenisvolle kleiner letsels gehad in vergelyking met plante wat nie met Eco77 behandel was nie, ongeag die byvoeging van silikon of nie. Dit was 'n aanduiding dat dit Eco77 was en nie silikon nie wat verantwoordelik was vir 'n afname in die effek van SSR. Dieselfde sterk verband (r=0.92) tussen die lengte van die letsel en die hoeveelheid sclerotia geproduseer, was weereens opgemerk.


5.29

 

Inkomste- en kosteramings


Mnr JSG Joubert
Proteïennavorsingstigting

Tot dusver het die PNS in sy tegnologie-oordrag funksie hoofsaaklik gefokus op Tegnies / Biologiese inligting. Dit het egter al hoe meer duidelik geword dat bestaande en voornemende produsente ekonomiese inligting ten opsigte van sekere gewasse benodig om 'n ingeligte besluit te kan neem. Inligting wat benodig word is byvoorbeeld produksiekoste en winsgewendheid gegewens van die gewasse wat die PNS bevorder. Hierdie gewasse is canola, sojas en lupiene. Daarbenewens is dit ook belangrik vir produsente om te weet hoe hierdie gewasse vergelyk met mededingende gewasse in terme van produksiekoste en winsgewendheid.

In die verlede het die Nasionale Departement van Landbou en later die onderskeie Provinsiale Departemente van Landbou 'n redelike reeks van inkomste- en kosteramings van verskeie vertakkings opgestel, en in stand gehou. Tans is dit nie meer die geval nie en is daar 'n gebrek aan die verlangde inligting in sekere produksiegebiede ten opsigte van gewasse wat die PNS bevorder. In die geval waar daar wel inkomste- en koste­ramings bestaan, is die inligting verouderd en lank gelede aangepas.

In die lig van die behoefte aan die een kant en 'n gebrek aan die ander kant, het die PNS besluit om self inkomste- en kosteramings op te stel. Ge­durende die verslagjaar is daar dus inkomste en kosteramings van sojas en mielies opgestel in die somerreënval area en wel ten opsigte van die volgende gebiede:

Mpumalanga – Kinross
– Morgenson
– Piet Retief
– Groblersdal (besproeiing)
Noordwes – Brits / Koedoeskop / Makoppa
– Koster
– Lichtenburg / Coligny
– Zeerust
Vrystaat – Vrede en Frankfort
– Reitz, Bethlehem en Harrismith
KwaZulu-Natal – Bergville
– Karkloof
– Paulpietersburg

In die Winterreënvalstreek in die Wes-Kaap provinsie is inkomste- en kosteramings van canola, koring en lupiene ten opsigte van die volgende gebiede opgestel:

Wes-Kaap – Swellendam / Heidelberg
– Caledon / Riviersonderend
– Bredasdorp / Napier
– Moorreesburg
– Porterville

Die inligting waarop die inkomste- en kosteramings gegrond is, is verkry vanaf Agri-besighede asook twee departemente van Landbou. Dit weer­spieël tipiese situasies en nie 'n gemiddelde nie. Aanbevole praktyke en/of Studiegroep gegewens is gebruik om die ramings op te stel en is 'n normale jaar as uitgangspunt gebruik.