Navorsingsverslag 2005/2006

7.

 

Kort- en medium termyn behoeftes aan vismeel en oliekoek


Die vraag na vismeel en oliekoek was onderskeidelik 127,000 ton en 1,212,593 ton vir die bemarkingsjaar wat gestrek het oor die periode 1 April 2004 tot 31 Maart 2005. Dit weerspieël die hoeveelhede wat hoofsaaklik in die kommersiële mark verbruik is. Teenoor dieselfde periode in 2003/2004 was die vismeel verbruik nagenoeg dieselfde, naamlik 127,000 ton, terwyl daar die afgelope verslagjaar 'n toename van 91,133 ton in oliekoek verbruik was.

Vir die 2005/2006 verslagjaar word die verbruik van vismeel op 80,000 ton geskat en die verbruik van oliekoek op 1,200,000 ton wat min of meer dieselfde is as die periode waaroor nou verslag gedoen word.

Gedurende 2005 was die gemiddelde vismeelpryse nagenoeg R3,600 per ton wat inderwaarheid laer was as die gemiddelde prys van R3,800 per ton gedurende 2004. Die laer vismeelpryse was hoofsaaklik die gevolg van die relatief laer soja-oliekoek prys gedurende 2005 asook die sterk Rand.

Die voorspelde scenario vir 2006 skets 'n heel ander prentjie en het vismeelpryse teen die einde van 2005 reeds drasties begin styg tot nagenoeg R5,000 per ton en is die verwagting dat dit tot bokant die vlak van R6,000 per ton kan styg.

Die gemiddelde wêreld produksie van vismeel gedurende 2005 was soos die voorafgaande twee jare, 6,0 miljoen ton. Na verwagting sal vismeel­produksie gedurende 2006 drasties afneem tot 5 miljoen ton. Dit word toegeskryf aan die feit dat Peru sy toelaatbare vangste afgeskaal het van 8 miljoen ton tot 5 miljoen ton vis wat 'n daling in vismeel produksie in Peru van 750,000 ton verteenwoordig. Peru se vismeeluitvoere na Sjina het met 1 miljoen ton gedaal wat dan die hoofrede is waarom vismeelpryse teen einde 2005 drasties begin toeneem het.

Akwakultuur is nog steeds 'n groot gebruiker van vismeel en is die verwagting dat 50-60% van die wêreld vismeelproduksie na hierdie bron geka­naliseer sal word.

Die vismeelproduksie in die RSA was 120,000 ton gedurende 2004/2005 en in Namibië was dit 12,000 ton. Na verwagting sal die plaaslike vangste gedurende 2005/2006 ook drasties afneem en word dit geraam op 95,000 ton vir die RSA en 6,000 ton vir Namibië.

Gegewe die verwagte groot daling in verbruik vir 2005/2006 as gevolg van die relatief hoë prys teenoor die van soja-oliekoek, sal daar ongeveer 20,000 ton vismeel uitgevoer word. Die uitvoere word grootliks ook gestimuleer deur die hoër wordende wêreld, vismeelpryse. Soos reeds uitgewys was die toename in verbruik van oliekoek vanaf 2003/2004 tot 2004/2005 ongeveer 8% terwyl die verwagte verbruik gedurende 2005/2006 van dieselfde orde sal wees.

AFMA-lede se verbruik van die totale oliekoek was 67,5% gedurende 2004/2005 teenoor die 70% van die vorige bemarkingsjaar. Vir 2005/2006 word dit verwag om 75,8% te wees.

Soja-oliekoek is die belangrikste enkele komponent van AFMA se oliekoek verbruik en kom te staan op 55% van die totale oliekoek verbruik. Daar is ook 'n verwagte toename in totale oliekoekverbruik deur AFMA-lede van 818,767 ton in 2004/2005 tot 910,507 ton in 2005/2006 wat 'n toename van net meer as 11% verteenwoordig. Die verwagte toename in verbruik van oliekoek vir AFMA-lede sal hoofsaaklik plaasvind ten koste van vis­meel wat na verwagting sal daal van 100,879 ton in 2004/05 tot 78,441 ton in 2005/2006.

Relatiewe prysverhoudings tussen soja-oliekoek en vismeel is die hoofoorsaak. Daar is reeds melding gemaak van die relatiewe laer vismeel voorrade met gepaardgaande stygende vismeelpryse sedert einde 2005. Daarteenoor het soja-oliekoek pryse afgeneem as gevolg van die hoër wêreldproduksie, hoër wêreld voorrade en die sterker Rand!

Wêreld oesverwagtings van oliesade is gedurende 2004/2005 telkemale opwaarts en afwaarts aangepas na gelang van klimaatsomstandighede en heersende peste en plae. Feit is egter dat wêreldproduksie van oliesade vir 2004/2005 hoër was as die vorige seisoen wat aanleiding gegee het tot stygende voorrade. Die wêreldproduksie van sojas was vir 2004/2005 geraam op 215 miljoen ton teenoor die vorige seisoen se 186 miljoen ton. Ten spyte van 'n toename in verbruik het die wêreldvoorrade van sojas met 10 miljoen ton toegeneem. Totale oliekoekproduksie het ook met 36 miljoen ton toegeneem teenoor die vorige seisoen. Gedurende Desember 2004 was die skatting van oliekoekproduksie 222 miljoen ton wat later afwaarts aangepas is tot 212 miljoen. Die verwagte produksie is na die afwaartse aanpassing nog steeds hoër as die vorige seisoen se oliekoekproduksie.

Voorrade van oliekoek toon ook steeds 'n stygende tendens byvoorbeeld in 2004/05 was die beginvoorraad 41,1 miljoen ton en die eindvoorraad 50,9 miljoen ton. Vir 2005/06 word die eindvoorraad op 55,1 miljoen ton geskat. Hierdie wêreldtendens van stygende produksie en stygende voorrade het uit die aard van die saak 'n invloed op oliekoekpryse gehad. Aan die begin van 2004 was die ingevoerde soja oliekoekprys geland in Durban meer as R2,800 per ton en het dit stelselmatig gedaal tot R1,650 per ton gedurende Februarie 2005. Vanaf Februarie 2005 het pryse weer begin toeneem tot ongeveer R2,000 per ton gedurende Augustus 2005 waarna dit weer aansienlik gedaal het tot ongeveer R1,600 per ton in Desember 2005.

Van die totale behoeftes aan oliekoek vir die 2004/05 bemarkingsjaar van 1,212,593 ton kan die plaaslike mark slegs 416 736 ton voorsien wat meegebring het dat 795,857 ton of bykans 66% ingevoer moes word. Gedurende die vorige bemarkingsjaar, 2003/04 was die ingevoerde oliekoek 56% van die benodighede.

Projeksies van oliekoek verbruik, produksie en invoere sedert 1996/97 tot 2005/06, toon dat verbruik teen 'n jaarlikse koers van 4,88% gegroei het terwyl dit 3,69% en 7,26% onderskeidelik vir produksie en invoere is. Hieruit is dit duidelik dat indien huidige tendense gehandhaaf sal word, die gaping tussen verbruik en produksie, al hoe groter sal word en invoere steeds sal bly groei. Die jaarlikse groei in produksie van 3,69% is egter mis­leidend omdat die groot toename in produksie tot en met 1999/2000 plaasgevind het waarna dit gestabiliseer het en selfs effens afgeneem het.

Aangepaste projeksies van oliekoek verbruik vir die periodes 2010 en 2020 toon dat dit in 2010, 1,438,455 sal wees en in 2020, 1, 803,168 ton. Be­rekenings toon dat as die historiese koers waarteen produksie van plaaslike oliekoek jaarliks toeneem (wat te betwyfel is of dit volhoubaar is) in stand gehou word, die gaping tussen produksie en verbruik in 2010 en 2020 nie sal vernou nie.

Verskeie faktore beïnvloed die oppervlakte aanplantings van proteïenryke gewasse oor die medium tot langtermyn waarvan die relatiewe prysver­houdings tussen kommoditeite plaaslik, asook internasionale markfaktore 'n belangrike rol speel. Verder speel klimaat ook 'n belangrike rol oor die korttermyn. As gevolg van die mielie-soja prysverhouding, het die aanplanting van sojas gedurende 2005 toegeneem tot 239,570 hektaar teenoor die 2004 aanplantings van 150,000 ha. Hierdie tendens tesame met beoogde biodieselaanlegte, kan die produksie van plaaslike oliekoek in 'n groot mate ondersteun.