Navorsingsverslag 2005/2006
6.
Proteïenbronne
6.1
Algemeen
Daar word jaarliks vordering gemaak met die uitbreiding van plaaslik geproduseerde proteïen in Suid-Afrika, maar groot hoeveelhede proteïen vir diereverbruik word steeds ingevoer. Hierdie ingevoerde proteïen bestaan hoofsaaklik uit sojaboon-oliekoek aangevul met katoensaad asook kleiner hoeveelhede sonneblom-oliekoek.
Aangevuur deur internasionale suksesse word tans baie gepraat oor biobrandstowwe gebaseer op 'n verskeidenheid grane en oliesade asook aanlegte van verskillende groottes wat wissel van baie klein, byvoorbeeld op boere se plase, tot baie groot industriële aanlegte. Indien hierdie visioene werklikheid word sal dit 'n totale nuwe dimensie skep in die proses van proteïenverskaffing vir diereverbruik.
Intussen gaan die PNS voort met navorsing en tegnologie-oordrag ten opsigte van sojabone, canola, lupiene en fababone. Vismeel bly steeds 'n belangrike proteïenbron en die PNS word voortdurend op hoogte gehou deur mnr S Malherbe, Trustee van die PNS, van plaaslike en internasionale verwikkelinge in die vismeelbedryf.
6.2
Sojabone
Die internasionale produksie van sojabone is steeds op rekord vlakke, hoofsaaklik as gevolg van 'n baie sterk groei in die biodiesel bedryf in die VSA.
In Suid-Afrika is daar gedurende die 2004/05 seisoen 152 640 ha sojabone geplant met 'n opbrengs van 277 370 ton. Die implikasies rondom die mielie surplus situasie het 'n besondere geleentheid vir soja gebied vir die huidige seisoen. Ongelukkig het Graan SA aanvanklik produsente aangeraai dat 'n markruimte vir slegs 63 333 ha bestaan tot groot ontsteltenis van die PNS. Na 'n indringende gesprek tussen GSA en die PNS, het GSA besluit om geen aanbeveling aan produsente te maak ten opsigte van markruimte nie en het die eerste voornemings om te plant aangedui dat 'n groot toename waarskynlik was. Die eerste oesskatting het inderdaad aangedui dat 228 570 ha beplant is en 'n opbrengs van 377 420 ton verwag kan word.
Dit was vir die PNS duidelik dat daar baie nuwe toetreders tot sojaproduksie was en gevolglik het die PNS besluit om soveel moontlik aandag aan tegnologie-oordrag te gee as moontlik. Die meeste besonderhede hieromtrent is reeds elders in die verslag gemeld, byvoorbeeld radioprogramme, artikels, die produksiekoste opnames, die daaglikse prysbepaling van sojabone asook die ontwikkelinge ten opsigte van die Roestaakspan. Daar is verder ook besluit om mnr W van Wyk te benut as 'n sojaboonkundige om die leemtes te vul wat oor 'n tyd ontstaan het, terwyl mnr C Havenga gevra is om behulpsaam te wees met die Supersoja-kompetisie in KwaZulu-Natal.
Hierbenewens het die PNS besluit dat meer produsente betrek moet word by die Sojawerkgroep. Benewens mnr F Potgieter van Graan SA het die PNS besluit om ook mnr D Cronje van Mpumalanga en mnr J Bothma van die Vrystaat te nooi om by die werkgroep aan te sluit.
Die Innovasiefondsprojek waarna verlede jaar verwys is, is reeds hierbo bespreek.
Die Sclerotiniawerkgroep wat verlede jaar ontstaan het is steeds bedrywig. Hoewel werklike vordering plaaslik en internasionaal beperk is, word vordering steeds jaarliks gemaak.
Tegnologie-oordrag aan opkomende landbou gaan steeds voort. Mnr C Havenga behartig hierdie aspek in KwaZulu-Natal en mnr L Killian in die Oos-Kaap. Die stadige vordering is hoofsaaklik toe te skryf aan administratiewe rondslomp by die provinsies.
Dit was verblydend om die afgelope jaar kennis te neem dat meer kontrakte op SAFEX verhandel word.
Daar was ook ongelukkig negatiewe aspekte: Eerstens is roes op enkele plekke in die Hoëveld waargeneem. Tweedens is die terughou van graan wat as saad gebruik word reeds meer as 80% van die saad aangeplant. Hierdie aspek wek groot kommer en word op verskillende maniere aangespreek, maar daar blyk geen korttermyn oplossing te wees nie. Gesprekvoering hieromtrent in die volgende jaar is noodsaaklik.
Die waarskynlike koms van biodiesel uit sojabone sal groot druk op die PNS aksies plaas. Die uitdaging is groot maar stimulerend en waarskynlik die beste wat vir 'n lang tyd in die sojabedryf gebeur het.
6.3
Canola
Die situasie ten opsigte van tegnologie-oordrag by canola sien daar baie beter uit as by sojabone, danksy die gewaardeerde ondersteuning van die Departement Landbou Wes-Kaap.
Die groei in die canolabedryf oor die afgelope aantal jare was besonder positief, maar vanweë die probleme in die koringbedryf het die oppervlakte die afgelope jaar gedaal van 44 250 ha tot 40 500 ha. Die PNS bly egter steeds optimisties oor die toekoms van canola en het geen twyfel dat groot uitbreidingsmoontlikhede steeds bestaan.
Soos hierbo vermeld verleen die PNS ook hulp in die Oos-Kaap deur middel van mnr Killian wat advies verleen aan voornemende canolaprodusente aldaar.
Ook ten opsigte van canola het die PNS besluit dat tegnologie-oordrag baie belangrik is. Daar is reeds etlike verwysings hierbo gedoen na radiopraatjies, die produksiekoste bepalings, artikels wat gepubliseer is in verskeie media, waaronder die Canolafokus, die Ontwikkelingsplan opgestel deur dr J de Kock, en daaglikse prysinligting. Besondere bydraes van ad hoc werkgroepe waaronder die sogenaamde slakwerkgroep of te wel "Werkgroep vir beter vestiging van canola", 'n werkgroep vir die opstel van statutêre graderingsregulasies. Ongelukkig is alle navorsing in samewerking met mistofmaatskappye ten opsigte van bemesting by canola gestaak, hoofsaaklik vanweë die swak mielie jaar wat ervaar is.
Die canolabedryf het ook goeie nuus ontvang deurdat 'n bedrag van meer as R522 000 van Thrip toegeken is aan 'n canolaprojek onder leiding van Prof André Agenbag soos hierbo weergegee.
Sprake van biobrandstof mag die canolabedryf 'n hupstoot gee. Hoewel die PNS voorbereidings tref om hiermee op hoogte te kom, is dit waarskynlik te vroeg om reeds optimisties te raak.
Navorsing in die somerreënvalstreek word steeds voortgesit met behulp van die LNR. Ontwikkeling hiervan sal voortgaan totdat meer duidelikheid verkry is omtrent die waarskynlikheid van biobrandstowwe uit canola al dan nie.
6.4
Lupiene
Lupiene is steeds geskik vir spesifieke dele van die Suid- en Wes-Kaap onderskeidelik, maar veral vanweë 'n gebrek aan saad is slegs 14 100 ha die afgelope jaar aangeplant.
Die PNS streef steeds daarna om voldoende L.albus saad aan die lupienmark te verskaf. Die toekoms van lupiene is egter 'n saak van bekommernis vir die PNS.
6.5
Fababone
Projekte ten opsigte van fababone word elders in hierdie verslag bespreek. Die voortsetting van die fabanavorsing is egter onder druk vanweë 'n mannekrag te kort by die Departement van Landbou Wes-Kaap.
Studies het getoon dat fababone in Europa gebruik word vir dierevoeding maar elders in die wêreld hoofsaaklik vir mense gebruik. Nadat hierdie aangeleentheid in meer detail bespreek is, en die navorsingsresultate bestudeer is, sal die PNS besluit omtrent toekomstige betrokkenheid by fababone.
6.6
Vismeel
Vismeel bly steeds 'n uitstekende proteïenbron vir dierevoeding. Aangesien daar egter internasionaal geen groei in vismeelproduksie is nie, het die prys daarvan uitermate gestyg, sodanig dat vismeel slegs in 'n baie beperkte mate in dierevoeding aangewend word. Vanweë die besondere premie wat betaal word vir vismeel, sal dit waarskynlik grootliks vir akwakultuur aangewend word. Sommige lande het ook reeds 'n verbod geplaas op die insluiting van vismeel in dierevoeding.