Navorsingsverslag 2008/2009

3.

 

Beleidsbesluite


Daar word jaarliks in die PNS Navorsingsverslag aangedui welke Beleidsbesluite deur die PNS geneem moes word om steeds glad en effektief te funksioneer onder veranderde omstandighede.

Die Raad het die afgelope jaar oudergewoonte 'n oudit gedoen van kundigheid beskikbaar teenoor kundigheid benodig in die uitvoering van daardie sake wat op die PNS se tafel dien. By gebrek aan voldoende steun (of selfs enige steun in sommige gevalle) van nasionale sowel as provinsiale vlak, het die Raad besluit om verdere ondersteuning aan daardie Raadslede te gee wat die meeste onder druk is, maar ook met die oog op konti­nuïteit in die Raad. Daar is verder besluit dat hierdie ondersteuning sal kom deur Raadskomitees en ook PNS-werkgroepe aan te vul met kundiges soos benodig. As 'n eerste stap om hieraan uitvoering te gee is Dr Jan Dreyer, ervare en nasionaal erkende agronoom ten opsigte van somer­gewas­se, vir een jaar op die Tegnologiekomitee gekoöpteer. Soortgelyk is teen die einde van 2008 'n ooreenkoms aangegaan met Prof M Karaan, nuut aangestelde Dekaan van die Fakulteit Agri-Wetenskappe van Universiteit Stellenbosch om Prof André Agenbag, ervare en ook nasionaal erkende agronoom ten opsigte van wintergewasse, in 'n groter mate te betrek by die beplande canolabevorderingsaksie van die PNS in die Wes-Kaap. Meer hieromtrent sal in die volgende Navorsingsverslag berig word.

Die belangrikste beleidsveranderinge het egter gekom na aanleiding van 'n Navorsingsdinkskrum gedurende April 2008. Die verminderende be­fondsing van navorsing by navorsingsinstansies, provinsies en universiteite, sowel as groter druk op diegene wat oorgebly het, veral omdat weinig vakante poste gevul word, het baie bedrywe erg nadelig geraak en tot groter wordende internasionale isolasie gely. In opvolging van in besluit om groter en ook internasionale blootstelling te gee, nie net aan navorsers nie, maar ook aan medewerkers, naas PNS-raadslede, het die PNS besluit om met 'n internasionale skakelprogram en samewerking te begin, en om veral op Suid Amerika te konsentreer, hoofsaaklik gesien in die lig van die dramatiese vordering wat beide Argentinië en Brasilië die afgelope jare ten opsigte van sojabone gemaak het.

Die besluit het spesifiek gevolg op die tydelike staking van die sojaboonteelprogram deur die LNR-IGG as 'n gevolg van 'n gebrek aan mannekrag. Die PNS het in die lig hiervan besluit op die finale staking van befondsing van 'n sojaboonteelprogram en hom elders te wend ter aanvulling van die kommersiële saadmaatskappye wat steeds teelprogramme in Suid-Afrika het. Besoeke is vervolgens gebring aan Brasilië en Argentinië en PNS sendings is deurentyd vriendelik en entoesiasties ontvang. Ten opsigte van Brasilië is 'n Memorandum van Begrip (MVB/MOU) in Januarie 2009 met Embrapa geteken terwyl onderhandelinge met INTA in Argentinië steeds voortgesit word. Die aanvanklike doelstellings is om cultivars en lyne met spesifieke eienskappe uit Suid-Amerika reeds gedurende 2009/10 te toets terwyl daar ook ooreengekom is om navorsers wedersyds uit te ruil tot voordeel van beide partye. Gesprekke sal ook deurentyd gevoer word met plaaslike saadmaatskappye in 'n poging om op hoogte te bly met die nuutste ontwikkelinge ten opsigte van byvoorbeeld gesonder olie, siekteweerstandbiedendheid, hoër opbrengs, ensovoorts.

Plaaslik sal onmiddellik aandag gegee word aan die opstel van 'n kaart ten opsigte van die oppervlakte beskikbaar vir sojaboonverbouing asook 'n klimatologiese kaart van streke waar sojabone verbou kan word.

Uit die studietoer na Australië het dit geblyk dat bykans 90% van alle gewasse aldaar geplant word in 'n stelsel van geenbewerking. Soortgelyk word bykans alle sojabone in Argentinië onder dieselfde stelsel geplant en word dit as die grootste enkele bydraende faktor beskou tot die sukses wat Argentinië met sojabone behaal het. Na aanleiding hiervan en ander stawende en ondersteunende feite, het die Raad 'n beleidsbesluit geneem ter ondersteuning van hierdie saak. Soortgelyke werk word reeds vir baie jare deur Dr M Hardy en medewerkers in die Wes-Kaap ten opsigte van canola onderneem en die Raad het besluit dat daar dringend aandag hieraan gegee moet word om 'n soortgelyke navorsingsprogram ten opsigte van sojabone van stapel te stuur.

Hierdie aspekte sal alles deel vorm van 'n groot sojaboon generiese bemarkingsveldtog waarop die PNS besluit het en sal die kern vorm van soja­boonaksies oor die volgende aantal jare. Meer inligting omtrent hierdie inisiatief sal deurlopend in die pers berig word en ook in die volgende navorsingsverslae.