Navorsingsverslag 2008/2009

7.

 

Kort- en medium termyn behoeftes aan vismeel en oliekoek


Gedurende die bemarkingsjaar wat gestrek het oor die periode 1 April 2007 tot 31 Maart 2008 was die vraag na vismeel 55 000 ton en die vraag na oliekoek 1 758 185 ton. Dit weerspieël die hoeveelhede wat hoofsaaklik in die kommersiële mark verbruik is. Vir die voorafgaande periode 1 April 2006 tot 31 Maart 2007 was die ooreenstem-mende verbruik 60 000 ton vismeel en 1 635 525 ton oliekoek. Gedurende die 2007/2008 bemarkings­jaar was daar dus 'n afname in die verbruik van vismeel van 5 000 ton of 8.3% teenoor die vorige bemarkingsjaar, terwyl die oliekoek verbruik met 122 660 ton of 7% toegeneem het oor dieselfde termyn.

Die substituering van vismeel met oliekoek was nie van dieselfde omvang as in die vorige termyn nie en kan nog steeds toegeskryf word aan 'n gunstige prysverhouding van soja oliekoek teenoor vismeel. Gedurende 2008 het pryse van vismeel binnelands sowel as in die buiteland begin styg as gevolg van 'n verhoogde vraag en produksie wat nie tred gehou het met die aanvraag nie. Gemiddeld was die vismeelprys gedurende 2008 R6 500 per ton en op 'n stadium selfs so hoog as R8 500 per ton. Onderliggend hiertoe was belangrike drywers die hoër sojapryse asook die verswakking in die Rand. Daarteenoor was wêreldproduksie van vismeel gedurende 2008 baie dieselfde as in 2007 wat gekenmerk was deur lae produksie en 'n gevolglike stram voorsieningsposisie.

Die internasionale vismeelprys vry aan boord Peru was byvoorbeeld $820 aan die begin van 2008 waarna dit begin styg het tot $1 100 teen die middel 2008 en toe weer gedaal het tot $850 aan die begin van 2009. Die twee hoofrolspelers in die internasionale arena is Peru aan die voor­sieningskant en China aan die verbruikerskant. Enige substansiële afwyking ten opsigte van aanbod en/of verbruik van hierdie twee rolspelers het 'n direkte effek op die prys van vismeel.

Die prysverhouding van vismeel met 'n proteïeninhoud van 65% tot sojameel met 'n proteïeninhoud van 47% het ook aansienlik gewissel oor die afgelope vyf jaar, en wel van ongeveer 3:1 in Januarie 2003 tot bykans 7:1 in Julie 2006 tot die 2.5:1 in die begin 2009. Die gunstiger beweging in die vismeel / soja-oliekoek prysverhouding het dan ook meegebring dat daar na verwagting 'n aansienlike toename sal wees in die verbruik van vismeel in Suid-Afrika vir die 2008/2009 bemarkingsjaar (81 000 ton) teenoor die huidige bemarkingsjaar van 55 000 ton.

Die plaaslike produksie van vismeel wat Namibië insluit het te staangekom op 92 000 ton vir die 2007/2008 bemarkingsjaar. Die geraamde produksie vir die 2008/2009 bemarkingsjaar sal nagenoeg dieselfde hoeveelheid wees.

Produksie van vismeel in Suid-Afrika die afgelope 5 jaar kon veel hoër gewees het indien die bedryf die Totale Toelaatbare Vangs (TTV) kon vang. Wat Ansjovis betref, kon 250 000 ton van die toegekende 517 000 ton TTV nie gevang word nie gedurende 2008, wat 60 000 ton vismeel verteen­woordig. Dit word toegeskryf aan verskeie faktore soos onder andere weersomstandighede en vermindering in vangs- en verwerkingskapasiteit.

Die hoër oliekoek verbruik in die bemarkingsjaar 2007/2008 was teweeggebring deur veral 'n toename in verbruik van soja-oliekoek. As AFMA-lede se verbruik as maatstaf geneem word dan was daar 'n substansiële toename in die verbruik van soja-oliekoek vanaf 2006/2007 tot 2007/2008 terwyl daar merkbare afnames was in die verbruik volvet soja, katoenoliekoek en canola-oliekoek. Sonneblomoliekoek is ook 'n belangrike kom­moditeit en was die verbruik deur AFMA lede van nagenoeg 170 000 ton dieselfde vir die bemarkingsjare 2006/2007 en 2007/2008.

AFMA-lede se verbruik van die totale oliekoek was 62,3% vir die 2007/2008 bemarkingsjaar teenoor die 65% van die 2006/2007 bemarkingsjaar. AFMA-lede se soja-oliekoek verbruik wat volvet sojas (uitgedruk in oliekoek ekwivalent) insluit, kom op 80,6% te staan van hul totale oliekoek verbruik.

Wat die internasionale markte ten opsigte van oliesade en oliesade produkte betref, het dit in solidariteit met die finansiële markte 'n volatiele tydperk beleef. Pryse van oliesade en plantaardige olies het ongeëwenaarde prysdalings getref vanaf begin Julie 2008 tot begin Desember 2008. Hierdie prysdalings is voorafgegaan deur 'n ongekende styging in die pryse van dieselfde produkte vanaf die begin van 2008 to Julie 2008. Gedu­rende die tweede helfte van 2008 waarna verwys word het die pryse van sojas op die Rotterdamse mark met 49%, dié van Raapsaad met 51% en die van die reeds oorgewaardeerde sonneblom-kommoditeit met 60% getuimel. Beerfaktore soos 'n groter as verwagte VSA sojaboonoes, 'n afnemende vraag en goeie oeste ten opsigte van ander sade soos sonneblom, het bygedra tot hierdie prysdalings. Hierteenoor het verslegtende oes toestande in Suid-Amerika asook 'n oplewing in vraag vanaf China weer 'n sterk opwaartse lopie in die pryse van sojas tot gevolg gehad gedurende die laaste 3 weke van 2008.

Die wêreldwye ekonomiese krisis het ook 'n verlaagde vraag na lewendehawe produkte tot gevolg gehad. Dit het weer 'n verlaagde vraag na olie­koeke tot gevolg gehad wat tesame met 'n verhoogde voergraanaanbod en groot olie-koekvoorrade 'n verlaging in pryse van oliekoek tot gevolg gehad het. Gedurende November 2008 was die verwagting dat daar 117,2 miljoen ton sojabone geproduseer sou word. Brasilië wat 59 miljoen ton sal lewer, Argentinië 50 miljoen ton, Paraguay 6 miljoen ton, Bolivië 1,2 miljoen ton en Uruguay wat 1 miljoen ton sojabone sal produseer. Die Noordelike Halfrond se produksie was beraam op 79,5 miljoen ton vir die VSA, 10,1 miljoen ton vir Indië, 16,6 miljoen ton vir China, 0,98 miljoen ton vir die EU, 3,24 miljoen ton vir Kanada en 5,74 miljoen ton vir ander soja produserende lande in dié Halfrond. Dit bring die totale wêreld sojaboon­produksie na verwagting op 234 miljoen ton wat 12 miljoen ton meer is as die 2007/2008 produksie seisoen. Die openingsvoorraad is egter 8.7 miljoen ton minder as die openingsvoorraad van die vorige seisoen. Die verbruik van 236,8 miljoen ton gedurende 2008/2009 sal egter meebring dat die eindvoorraad met 2,4 miljoen ton sal verminder. Raapsaad wat 'n belangrike kommoditeit is, se wêreldproduksie het met 9 miljoen ton tot 57,7 miljoen ton toegeneem in 2008/2008. Uitvoere internasionaal van raapsaad, sal na verwagting met 28% toeneem tot 10,9 miljoen ton. Afge­sien van die styging in pryse van sekere kommoditeite aan die einde van Desember 2008, moet die wêreldwye ekonomiese krisis nog steeds as die vernaamste beerfaktor beskou word.

Die totale plaaslike verbruik van oliekoek vir die 2007/2008 bemarkingsjaar was 1 758 185 ton, waarvan die plaaslike mark slegs 494 557 ton kon voorsien. Dit het meegebring dat 1 263 628 ton of bykans 72% van die plaaslike verbruik ingevoer moes word. Gedurende die 2006/2007 bemark­ingsjaar was daar 1 027 156 ton of 63% van die plaaslike verbruik ingevoer. Na verwagting sal die invoere vir die 2008/2009 seisoen ook weer meer as 1 miljoen ton beloop.

Projeksies van oliekoekbehoeftes vir 2010 en 2020 wat gedurende Maart 2008 gedoen is, is na verwys in die 2007 Navorsingsverslag. Die pro­jeksies was onderskeidelik 1 918 763 ton vir 2010 en 2 681 414 ton vir 2020. Nuwere projeksies is nog nie beskikbaar nie omdat insette vanaf die BFAB-model van die Universiteite van Pretoria ingewag word wat aangewend sal word om meer akkurater voorspellings te kan maak. Uit hierdie projeksies is dit egter duidelik dat die agterstand groot is en dat daar spesiale pogings aangewend sal moet word om die gaping tussen totale aanvraag en plaaslike produksie te kan vernou.

In dié verband het die PNS reeds 'n aanvang geneem om 'n spesiale bevorderingsprogram ten opsigte van sojas en canola in die volgende ver­slagjaar van stapel te stuur. Die beoogde produksie van bio-diesel deur RNRF te Koega kan ook grootliks bydra om die plaaslike produksie van oliekoek uit te brei.