Navorsingsverslag 2008/2009
10.
Slot
Enige navorsing benodig primêr geld en mense om suksesvol te wees. Daar is min, indien enige, navorsingsterreine in Suid-Afrika wat van beide hierdie bronne voldoende voorsien is. Dit is egter met groot dankbaarheid dat die PNS, ten spyte van etlike tekortkominge waarna in hierdie verslag verwys is, kan berig dat goeie vordering die afgelope jaar gemaak is, danksy die samewerking van mense en instansies asook voldoende fondse om steeds met ons aktiwiteite voort te gaan.
Die PNS het weereens 'n positiewe verslag ontvang van sy ouditeure The Ashton CA (SA) Group en hulle word bedank vir die gerustheid wat hulle aan die Raad gee met betrekking tot nakoming van alle vereistes waaraan die PNS finansieel moet voldoen.
Soortgelyk wil die PNS beklemtoon dat dit nie moontlik is om alleen die finansiële las te dra vir alles waaroor in hierdie navorsingsverslag berig is nie. Die belangrikste vennote in hierdie verband is die LNR, OPOT/OAK, die Wintergraantrust, Universiteite en die Provinsiale Departemente van Landbou van veral Wes-Kaap en ook KwaZulu-Natal.
Mense en hul bydraes maak die PNS so suksesvol as wat hy is en dit is ontmoontlik om reg te laat geskied aan elkeen wat 'n besondere bydra gelewer het. Ons dank gaan egter aan alle navorsers, kontrakteurs, konsultante, eweknie-evalueerders, die pers en sy verskeidenheid wat alle outeurs, landbouskrywers en joernaliste insluit, omroepers en aanbieders van radio onderhoude, medewerkers by PNS werkgroepe en ander aktiwiteite soos proewe, inligtingsdae, demonstrasies, ensovoorts en letterlik almal wat meehelp, direk of indirek om die PNS se aksies suksesvol te maak.
Die PNS Raad wil veral sy dank uitspreek teenoor die Hoof Uitvoerende Beampte Mnr GTduT Keun en sy toegewyde personeel vir die besondere manier waarop hulle hul dagtake verrig. Hierdie kern waarom die totale administrasie van die PNS draai, ontsien geen tyd of moeite om van hulle werk 'n sukses te maak nie en gevolglik ook van die PNS 'n sukses te maak.
Ek wil ter afsluiting my opregte dank betuig teenoor elke lid van die Raad van Trustees van die PNS wat steeds daagliks groter bydraes lewer tot die aktiwiteite van die PNS, veral in die lig van beleidsveranderinge wat groter druk op Raadslede plaas. Die kombinasie van alle mense en instansies hierbo genoem in samewerking met die Trustees van die PNS verseker dat elke mens in Suid-Afrika deel in die voordele wat uit die aksies van die PNS spruit.