Navorsingsverslag 2008/2009
6.
Proteïenbronne
6.1
Algemeen
Die PNS se aksies draai om proteïen vir diereverbruik asook die beter benutting van proteïen soos reeds hierbo uitgespel. In die verlede is 'n groot verskeidenheid proteïenbronne nagevors, maar volgens beleid van die PNS word tans slegs gekonsentreer op daardie proteïenbronne wat die potensiaal besit om plaaslik kwantitatief groot vordering te maak. Gevolglik is die proteïenbronne wat tans befonds word slegs beperk tot sojabone en canola. Hoewel vismeel en sonneblom steeds baie belangrik is vir die PNS is geen navorsingsfondse die afgelope aantal jare vir die bronne bewillig nie, hoofsaaklik omdat dit nie voldoen aan die uitbreidingsmoontlikhede soos hierbo aangestip nie.
Die generiese bemarkingsveldtog wat reeds goedgekeur is ten opsigte van sojabone waarna hierbo verwys is behoort 'n besondere bydra te maak tot uitvoering van die visie en missie van die PNS. Meer resultate sal waarskynlik in 2009/2010 gesien word terwyl canola in 2010/2011 sal volg.
6.2
Sojabone
Daar heers groot optimisme by die PNS dat sojabone op die vooraand staan van sterk groei. Dit word bevestig deurdat sojapryse die hele jaar baie sterk vertoon het en inderdaad 'n volwaardige mededinger vir mielies geword het. Die internasionale bewyse van die voordele van 'n wisselboustelsel van mielies en sojabone in 'n stelsel van minimumbewerking het die Raad van die PNS laat besluit om 'n massiewe generiese bemarkingsveldtog van soja te ondersoek en so spoedig doenlik te implementeer soos reeds gemeld in paragraaf 3.
Sojaboonpryse het vir groot dele van die jaar gereeld heelwat bo R4 000 per ton op Safex verhandel en die gaping met mieliepryse voortdurend vergroot. Teenoor 2006/07 het die hektare marginaal verminder van 183 000 na 174 000 vir 2007/08 (aansienlik minder as die rekord van 243 000 hektaar in 2005/06, maar die verwagte opbrengs het gestyg van 205 000 ton tot 328 000 ton). Hierteenoor staan die skatting vir 2008/09 op 224 000 hektaar en 405 000 ton, die tweede beste syfers ooit.
Daar is reeds hierbo melding gemaak van sekere beleidsaanpassings om die PNS in staat te stel om onder andere sojabone daadwerklik te bevorder. Skakeling met veral Brasilië en Argentinië lyk baie belowend en daar sal in 'n volgende verslag vordering hieromtrent gerapporteer word.
Die belangrikste aksie naas die regte cultivars bly egter tegnologie-oordrag. Die samewerking met Graan Suid-Afrika om artikels in hul tydskrif SA Graan te publiseer werk goed, en die PNS wil graag erkenning aan GSA gee. Groot waardering word telkens deur produsente uitgespreek vir inligting wat so versprei word.
Daar is beplan om weer 'n sojadinkskrum te reël gedurende 2008/09 maar dit moes weens logistiese redes uitgestel word na 2009/10.
Die super-sojakompetisie gaan nog steeds voort en is negentien jaar later steeds 'n sukses (Super-sojakompetisie). Samewerking met die "No-till Club" van KwaZulu Natal is deur mnr Johann du Plessis bewerkstellig en beloof verdere groot voordele vir die suksesvolle verbouing van sojabone in te hou.
Meerdere- en mindere probleme is ook hierdie jaar ervaar. Saadmaatskappye het die bedryf gedreig met die weerhouding van nuwe cultivars indien produsente voortgaan met die praktyk om eie graan terug te hou vir saad. Heelwat aandag is hieraan gegee tydens PNS Sojawerkgroepvergaderings en Graan Suid-Afrika (GSA) gee tans aandag hieraan.
Etlike Sojawerkgroepvergaderings is weer die afgelope jaar gehou met groot sukses. Dieselfde geld vir die jaarlikse PNS Sojaroeswerkgroep- en ook die PNS Sclerotiniawerkgroepvergaderings. Die PNS wil graag erkenning gee aan die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) vir hul hulp met vraelyste om die voorkoms van sclerotinia vas te stel. Hierbenewens gee die PNS graag erkenning aan al die medewerkers wat hierdie vergaderings die sukses maak wat hulle is. Projekte in hierdie verband het hierbo reeds aandag gekry.
In dieselfde verband is daar ook besluit om die Sojaboonroespamflet te hersien en op te dateer en die PNS bedank Dr Pat Caldwell onder wie se toesig dit geskied het. Dit is steeds in pamfletvorm en ook op die PNS webblad beskikbaar.
6.3
Canola
Die PNS glo dat daar steeds 'n toekoms vir canola in Suid-Afrika is veral in die lig van die geweldige groei van canola in die res van die wêreld waar reeds meer as 50 miljoen ton geproduseer word. Dit bly 'n oliesaad wat hoog in aanvraag is en ook 'n goeie wisselbougewas met veral koring in die Wes-Kaap. Opbrengste is egter nog nie na wense nie en slegs 'n klein hupstoot is nodig om die winsmarge van canola kompeterend te maak met die winsmarge van koring.
Soos vroëer in hierdie verslag gesien is daar steeds heelwat canolanavorsing wat befonds word en baie aandag en fondse word steeds aan tegnologieoordrag gewy en het die PNS reeds besluit om van aanstaande jaar af heelwat meer aandag te gee aan die bevordering van canola. Een van die projekte wat spesifiek hiervoor aangewend word is die sogenaamde Canolakompetisie wat in paragraaf 5.16 (a) en (b) hierbo uiteengesit is.
'n Hoogtepunt vir die plaaslike canolabedryf was egter die publikasie "Canola Verbouingsriglyne" saamgestel deur Prof. André Agenbag na aanleiding van 'n THRIP-projek. Hierdie publikasie is 'n waardevolle toevoeging tot die sogenaamde Canola Handleiding wat reeds voorheen deur Dr Jos de Kock, Raadslid van die PNS gepubliseer is. Beide dokumente is op die PNS webblad beskikbaar terwyl die "Canola Verbouingsriglyne" by die PNS as harde kopie en ook op CD beskikbaar is.
Die CanolaFokus wat reeds etlike jare deur die PNS geborg word bly steeds 'n belangrike hulpmiddel om die nuutste inligting aan produsente oor te dra. Die PNS gee graag erkenning aan mnre P Lombard, J Bruwer en Dr N Kotze wat die redaksie vorm van die CanolaFokus, asook alle medewerkers vir gereelde bydraes wat die bladskrif suksesvol maak.
Daar is ook hierdie jaar verneem, na 'n lang vertraging, dat die konsepregulasies met betrekking tot die gradering, verpakking en merk van canola bestem vir verkope in Suid-Afrika, volgens die Wet op Landbouproduksiestandaarde, Wet 119 van 1990, deur die Departement van Landbou aanvaar is.
Afgesien van etlike kleiner inligtingsdae word steeds jaarliks van die Skog- en Riversdaldae gebruikgemaak om canola beter bekend te stel aan groot groepe produsente. Die PNS is een van die prinsipale van Skog en befonds gedeeltelik die projek van Dr Hardy (sien 5.19 hierbo) wat op Riversdal aangeplant word by Mnr Fanie Joubert.
Daar is reeds hierbo melding gemaak van 'n studietoer na Australië om nouer skakeling te bewerkstellig met die canola-bedryf- en kundiges aldaar. Hierdie sending het onder leiding van Dr Jos de Kock, Trustee van die PNS, gestaan en is ook meegemaak mnre J Bruwer en P Lombard volgens 'n nuwe beleidsbesluit van die PNS waarna daar ook reeds hierbo verwys is. Vordering na aanleiding van hierdie besoek sal in volgende navorsingsverslae gemeld word.
In 'n poging om knelpunte wat die vooruitgang van die canolabedryf belemmer, te identifiseer, het die Raad 'n projek getitel "Canola Adoption Decisions in the Overberg" goedgekeur. Ongelukkig het die projek nie gematerialiseer nie en sal by hernuwing aandag kry in 2009/10.
Al bogenoemde aksies is daarop gemik om die oënskynlike stagnering van die bedryf te verbreek en jaarliks noemenswaardige vordering te sien. Na goeie vordering aanvanklik het hektare onder canola die afgelope tyd soos volg daaruit gesien:
2006 : 32 000
2007 : 33 200 en
2008 : 34 000
6.4
Lupiene
In die Navorsingsverslag van 2007/08 is gemeld dat geen verdere navorsingsfondse aan lupiene beskikbaar gestel sal word na 31 Desember 2008 nie, en is die nodige agtergrond geskets waarom hierdie besluit geneem is. Die afgelope seisoen het inderdaad slegs 13 300 ton op 14 000 ha gelewer wat nogmaals die besluit geregverdig het.
Die PNS het egter besluit om die lupien aangeleentheid tot sy logiese einde deur te voer. Saad van belowende cultivars en lyne in besit van die PNS sal aan belangstellendes beskikbaar gestel word tesame met die resultate van die afgelope twee jaar se cultivarproewe. In 'n poging om voldoende saad aan sodanige instansies beskikbaar te stel, sal die proses eers gedurende die finansiële jaar 2009/10 volledig afgehandel kan word.
Daar is intussen ook met LNR-IGG ooreengekom dat die kiemplasma in hul besit aan die Nasionale kiemplasmabank oorgedra sal word vir veilige bewaring.