Navorsingsverslag 2009/2010

2.

 

Algemene oorsig


Die PNS kan weer hierdie jaar met tevredenheid terugkyk oor die afgelope jaar se aktiwiteite wat 'n groot verskeidenheid gedek het op vele terreine.

Die PNS Raadslede verteenwoordig 'n verskeidenheid dissiplines en belangegroepe wat volgens die PNS die mees aktuele aspekte dek wat vir die PNS se doen- en late onder die huidige omstandighede waarskynlik krities belangrik is. Elke Raadslid is 'n spesialis in eie reg en kan nie maklik vervang word nie. Vir slegs die tweede keer in die PNS se bestaan het 'n sittende Raadslid ons ontval, by name, Mnr Steve Malherbe, een van die mees senior en mees gerespekteerde Raadslede van die PNS. Die PNS sal voorwaar wyle Mnr Malherbe mis, as mens, as ge-eerde kollega en vriend, maar ongetwyfeld sy jare ervaring, kennis en wysheid.

Die kundigheid van 'n groot aantal verwante vakgebiede vir die uitvoering van die visie en missie van die PNS is onontbeerlik. Die lys van hierdie vakgebiede sien naastenby soos volg daaruit:

  1. Akkerbou
  2. Gewasmodelle
  3. Onkruidbeheer
  4. Gewasfisiologie
  5. Grondkunde / Plantvoeding
  6. Plantkunde
  7. Planteteelt / genetika
  8. Biotegnologie
  9. Biochemie
  10. Plantpatologie
  11. Mikrobiologie
  12. Entomologie
  13. Nematologie
  14. Voedingkundige: Beeste en skape
  15. Voedingkundige: Melkbeeste
  16. Voedingkundige: Varke en pluimvee
  17. Rekeningkunde
  18. Ekonomie
  19. Landbou-ekonomie
  20. Mariene-biologie

Afgesien van die navorsingsprojekte wat befonds word wat hieronder elkeen afsonderlik aangespreek word, vind die PNS dit egter steeds nodig om kontrakteurs te betrek vir 'n verskeidenheid take waarby die Trustees nie kan uitkom nie, of waarvoor navorsingsinstansies soos die LNR, nie oor die nodige mannekrag beskik nie. In die navorsingsverslag van 2008/2009 is verwys na 'n sogenaamde plan B en C om die dilemma van beperkte navorsingskapasiteit in Suid-Afrika te omseil. In opvolging hiervan is daar meer gebruik gemaak van universiteite en ander instansies wat kon hulp verleen (Plan B). Kundigheid uit die buiteland word egter ook benut deur besoeke aan die buiteland, hoofsaaklik Noord-Amerika, Brasilië, Argen­tinië en Australië (Plan C). Besoeke van Suid-Afrikaners aan genoemde lande word ook benut vir inligting en opleiding.

Soos in die navorsingsverslag van 2008/2009, paragraaf 3 – "Beleidsbesluite" genoem is, is gebruik gemaak van die dienste van Dr Jan Dreyer wat vir een jaar gekoopteer was op die Tegnologiekomitee. Hierdie aanstelling is egter gedurende die huidige jaar omskep in 'n permanente aanstelling aangesien Dr Dreyer 'n besondere bydrae lewer as lid van die Tegnologiekomitee.

So ook het die onderhandelinge met die Universiteit van Stellenbosch en wel Prof. Mohammed Karaan, dekaan van die fakulteit Agri Wetenskappe aan genoemde Universiteit, 'n positiewe gevolg gehad en is ooreengekom dat Prof. André Agenbag al die PNS canola aktiwiteite in die Wes-Kaap sal koördineer. Hierdie stap het onmiddellik goeie resultate gelewer tot voordeel van die canolabedryf.

Samewerking met Embrapa asook die Universiteit van Viçosa in Brasilië aan die een kant en INTA in Argentinië aan die ander kant, is ook gemeld in die Navorsingsverslag van 2008/2009. Hierdie voorgestelde samewerking het bo verwagting goed gematerialiseer en kon daar gedurende die plantseisoen Oktober/November 2009 'n aantal cultivars van genoemde instansies op etlike lokaliteite geplant word, hoewel in sommige gevalle 'n effe laat vanweë logistiese probleme. Die resultate en verdere vordering met hierdie instansies sal in die Navorsingsverslag van 2010/2011 vervat word.

Verwysing is ook verlede jaar gemaak na die behoeftes van 'n kaart ten opsigte van die oppervlakte beskikbaar vir sojaboonverbouing in Suid-Afrika, asook 'n klimatologiese kaart van streke waar sojabone verbou word. Die PNS het Prof. C Blignaut van die Universiteit van Pretoria gekontrakteer ten opsigte van eersgenoemde en sal hierdie kaart waarskynlik in 2010/2011 beskikbaar wees wat 'n besondere deurbraak sal wees. Die PNS kontrakteurs Mnre Wessel van Wyk en Gawie de Beer, het in samewerking met medewerkers uit die sojabedryf 'n klimatologiese kaart saamgestel wat die streke aantoon waar sojabone verbou word. Hierdie kaart sal verder verfyn word nadat die studie van Prof. Blignaut gefinaliseer is.

Die samewerking met "Bureau for Food and Agricultural Policies" (BFAP) om 'n sojaboonscenario vir die PNS daar te stel, vorder baie goed. Voor­lopige verslae is reeds ontvang en die finale verslag sal vroeg in 2010/2011 beskikbaar wees wat ook baie onduidelikhede in die sojabedryf uit die weg sal ruim.

Die beleid van volgehoue tegnologie-oordrag op alle vlakke word steeds gehandhaaf. Kundiges van formaat is genooi na beide Raadsvergaderings sowel as werkgroepvergaderings. Raadsvergaderings is onder andere toegespreek deur Prof R Schulze van Universiteit KwaZulu-Natal en Prof M Karaan van Universiteit Stellenbosch, terwyl sprekers by die verskillende werkgroepe aangetoon word by sodanige onderafdelings in hierdie verslag.

Die ooreenkomste met buitelandse maatskappye het tot gevolg gehad dat die PNS vir die eerste keer buitelandse kundiges genooi het om behulpsaam te wees met tegnologie-oordag. So is Dr JFV Silva van Embrapa genooi om as gas van die PNS, die NSSA Simposium in Suid-Afrika toe te spreek. Soortgelyk het twee saadtelers van INTA te wete Mnre Ignacio Vicentin en Luis Salines asook Prof. F Rodrigues van die Universiteit van Viçosa besoeke aan Suid-Afrika gebring en het met 'n verskeidenheid kundiges en werkgroepe ontmoet.

In 'n poging om die canolabedryf ook terwille te wees, het die PNS Raad toestemming gegee dat die voorsitter van die Australian Oil Seeds Federation (AOF) Mnr T Potter, gedurende 2010/2011 'n besoek aan Suid-Afrika sal bring.

Die PNS het besoeke aan die buiteland te wete Australië, Argentinië, Brasilië en Sjina gebring vir besigheid sowel as die bywoning van kongresse deur PNS Trustees en kontrakteurs.

Hoewel biobrandstof nog nie noemenswaardig posgevat het in Suid-Afrika nie, beskou die PNS die toekoms van biobrandstof en neweprodukte van hierdie proses as baie belangrik. Die Raad en sy werkgroepe word op hoogte gehou met die nuutste verwikkelinge deur Dr Lourens du Plessis, 'n kontrakteur wat kwartaalliks verslae aan die PNS voorlê.

Die groei in die sojabedryf is 'n hoogtepunt vir die PNS ten spyte van meningsverskille hieromtrent met Graan Suid-Afrika. Meer besonderhede omtrent die feite betreffende sojabone word in paragraaf 6.5.2 in hierdie verslag vervat.

Nog 'n probleem wat deurlopend aandag gekry het is die betroubaarheid van die resultate van ontledings wat deur verskeie laboratoria gedoen word. Die resultate van etlike navorsingsprojekte word hierdeur geraak en hierdie saak sal deurlopend aandag kry en hopelik in 2010/2011 gefinaliseer word.

Na baie jare se droogte ten opsigte van sojaboonkundigheid vanuit die LNR, het die president van die LNR onderneem om een senior en twee junior sojaboonnavorsers by LNR-IGG aan te stel. Die PNS en die sojabedryf sien uit na die uitvoering van hierdie beloftes want dit sal inderdaad 'n broodnodige hupstoot aan die sojabedryf gee.