Navorsingsverslag 2009/2010

4.

 

Proteïenbronne


Indeks


4.1

 

Algemeen


Die navorsingsverslag strek oor die periode 1 Maart 2009 tot 28 Februarie 2010 terwyl 'n bemarkingsjaar, waarop vraag- en aanbod statistieke ten opsigte van vismeel en oliekoek betrekking het oor die periode 1 April 2008 tot 31 Maart 2009 strek. Ten tye van die skrywe van hierdie verslag was die statistieke ten opsigte van die 2009/10 bemarkingsjaar nog nie beskikbaar nie. (Sien bylae III).

Ten opsigte van die bemarkingsjaar 1 April 2008 tot 31 Maart 2009 was die vraag na vismeel 77 500 ton en die vraag na oliekoek 1 664 927 ton. Dit weerspieël die hoeveelhede wat hoofsaaklik in die kommersiële mark verbruik is. Teenoor dieselfde periode in 2007/2008 was die vismeel verbruik 55 000 ton en die oliekoekverbruik 1 758 185 ton. Dit verteenwoordig 'n toename in vismeel verbruik van 22 500 ton of 40.9% terwyl daar 'n afname in oliekoekverbruik van 93 258 ton was of 5,3%.

Internasionale markfaktore het weereens 'n groot rol gespeel en veral die prysverhouding tussen vismeel en soja-oliekoek asook die wisselkoers wat onderliggend is tot die substitusie effek tussen vismeel en soja-oliekoek. Die eerste paar maande in 2008 was die internasionale soja-oliekoek prys meer as 500 US dollar per ton, waarna dit in die tweede helfte van 2008 begin daal het tot minder as 400 US dollar per ton. Die gemiddelde prys vir 2008 was in die omgewing van 450 US dollar per ton.

Wat vismeel aanbetref was die pryse soos gekwoteer in Peru aan die begin van 2008 net minder as 1 000 US dollar per ton, waarna dit vir 'n tyd­perk oor die 1 000 US dollar per ton gaan draai het en weer teruggesak het tot minder as 900 US dollar per ton teen die einde van 2008. Die gemiddelde internasionale vismeel prys vir 2008 was ongeveer 920 US dollar per ton. Dit het 'n vismeel tot soja-oliekoek prys­verhouding gegee van net meer as 2 wat dan ook die relatief groter verbruik van vismeel plaaslik verklaar. Gedurende 2007 was die vismeel tot soja-oliekoek prysverhouding meer ten gunste van sojas wat veroorsaak het dat 48% minder vismeel gebruik is as in die 2008/2009 bemarkingsjaar. Beskik­baarheid van plaaslike geproduseerde vismeel wat bepaal word deur die hoeveelheid geproduseer asook die winsgewendheid op die uitvoermark speel ook 'n rol in die hoeveelheid wat binnelands verbruik word.

4.2

 

Vismeel


Plaaslike produksie van vismeel wat Namibië insluit het 82 500 ton beloop vir die 2008/2009 bemarkingsjaar. Namibië se bydrae was 7 500 ton. Vir die 2009/2010 bemarkingsjaar word die produksie geraam op 99 500 ton. Gedurende die bemarkingsjaar waaroor hierdie verslag handel, is daar net meer as 5 000 ton vismeel uitgevoer en sal daar na verwagting gedurende die 2009/2010 bemarkingsjaar ongeveer 41 500 ton uitgevoer word.

Die gemiddelde binnelandse vismeelprys gedurende 2008 was in die omgewing van R7 000 per ton en op 'n stadium selfs so hoog as R8 500. Gedurende 2009 was die gemiddelde lokale vismeelprys sowat R8 000 per ton.

Dit is soos in die verlede nog steeds 'n probleem om die TTV (Totale Toelaatbare vangste) te vang. Gedurende 2009 is slegs 173 174 ton Ansjovis gevang van 'n toegekende TTV van 569 000 ton. Sardyn het 'n TTV van 90 000 ton gehad wat ten volle gevang is. Nie-Kwota vis wat gevang is (Rooi-oog en ander) was 48 491 ton. Die ansjovis wat soos gemeld gedurende 2009 gevang is, was 35% minder as dié wat gedurende 2008 gevang is. Dit was slegs 30% van die TTV. Swak weertoestande en beperkte produksiekapasiteit by fabrieke was bydraende faktore.

Vangste het goed begin in die 2010 seisoen en is daar reeds 10 tot 15% meer vis gevang oor dieselfde tydperk as verlede jaar. Binnelandse pryse is tans egter baie hoog wat op 'n stadium gedurende Januarie 2010 selfs so hoog as R10 000 per ton was, maar sal na verwagting daal tot ± R7 000 per ton later in die jaar. Oliekoekpryse is as gevolg van verskeie faktore tans relatief laag ook weens die sterk Rand en sal daar 'n groot mate van substitusie wees van vismeel deur soja-oliekoek veral deur die pluimvee bedryf wat 'n groot proteïenverbruiker is.

4.3

 

Oliekoek


4.3.1

 

Internasionaal


Wat die internasionale markte betref was die pryse van grane en oliesade asook hul produkte gedurende 2009 blootgestel aan op en af bewegings. Dit was hoofsaaklik te wyte aan die beer- en bulfaktore aanwesig op die markte. Bulfaktore ten opsigte van sojas, het voortgespruit uit die ver­wagte tekort aan sojas en sojaprodukte in die Suid-Amerikaanse mark, asook die langer as verwagte koopdruk vanaf Sjina. Sentimente wat pryse verder aangemoedig het was eksterne faktore soos die stygende ru-olieprys. Daar was ook op 'n stadium beleggingsfondse wat hul weg na die graan- en veral die sojamark gevind het. Faktore wat weer 'n demper geplaas het op prysstygings en die bulfaktore was die stappe wat die Sjinese geneem het om likiditeit in die mark te beperk en gunstige oesverwagtinge in Suid-Amerika. Die soja oesverwagtinge in die Suidelike halfrond sal na verwagting 129 miljoen ton wees wat 31,5 miljoen ton meer is as die vorige seisoen se droogtegeteisterde oes. Groot afwaartse druk op alle oliekoekpryse word verwag in die komende seisoen wat die daling in pryse sedert Desember 2009, net verder beklemtoon. In die April/Junie 2010 kwartaal sal oliekoekpryse op die Rotterdam se mark ongeveer 300 US dollar per ton beloop wat 20% laer sal wees as die Februarie 2010 pryse.

Die verwagte wêreldproduksie van soja-oliekoek sal vir die periode April/September 2010 skerp toeneem met 7,3 miljoen ton vanaf die vorige jaar se produksie. Groei in vraag na soja-oliekoek sal nie tred hou met die verhoogde aanbod nie as gevolg van verlaagde pluimvee- en ander veegetalle in baie lande. Die verwagte verbruik van soja-oliekoek sal 83,2 miljoen ton wees vir April / September 2010, 5,8 miljoen ton meer as dieselfde periode in 2009, maar dit sal slegs realiseer as soja-oliekoek teen aansienlike laer pryse aangebied word. Na verwagting sal wêreldverbruik van die 7 ander oliekoeke stagneer gedurende Oktober 2009 tot September 2010.

Die biodieselmark sal ook 'n groot impak hê op die internasionale aanbod van oliekoek. Verhoogde produksie van biodiesel in Suid-Amerika as gevolg van onder andere uitvoere vanaf Argentinië na die EU en die verwagte verhoging in verbruik van biodiesel deur Brasilië met sowat 33% sal 'n belangrike rol speel. Laasgenoemde is as gevolg van die Brasiliaanse regering se mandaat vir verpligte inmenging wat verhoog is van 3% na 4% vanaf 1 Julie 2009.

4.3.2

 

Plaaslik


Soos reeds vermeld was daar 'n afname in die oliekoekverbruik vanaf die 2007/2008 tot die 2008/2009 bemarkingsjaar wat deur 'n hoër vis­meel­verbruik weerspieël word. AFMA-lede se totale oliekoekverbruik was 65,8% gedurende 2008/2009 teenoor die 62,3% van die vorige bemarkings­jaar. Wat AFMA-lede betref was soja-oliekoek die vernaamste komponent van die totale oliekoekverbruik. AFMA se soja-oliekoekverbruik wat volvet sojas insluit kom te staan op 74% van hul totale oliekoekverbruik. AFMA se totale oliekoekverbruik in die 2008/2009 bemarkingsjaar was nagenoeg dieselfde as in die vorige jaar naamlik 1 093 339 ton. Die verwagting is dat dit egter sal toeneem tot 1 177 095 ton in die 2009/2010 bemarkingsjaar wat 'n groei van 7,7% verteenwoordig. Soja-oliekoek en volvetsojas se gesamentlike groei oor dieselfde tydperk word geraam op 2,3%. 'n Aansienlike toename in die verbruik van sonneblom-oliekoek word verwag deur AFMA-lede vanaf die bemarkingsjaar 2008/2009 tot 2009/2010 naamlik 25,1%.

Van die totale plaaslike behoeftes aan oliekoek vir die 2008/2009 bemarkingsjaar van 1 664 927 ton kan die plaaslike mark slegs 565 181 ton voorsien wat meegebring het dat 1 099 746 ton of 66% van totale verbruik, ingevoer moes word. Van hierdie ingevoerde hoeveelheid was 84,13% soja-oliekoek met 'n waarde van bykans R2.6 miljard. Gedurende die 2007/2008 bemarkingsjaar was die invoere van oliekoek 1 263 628 ton of 71,87% van die totale behoeftes. Die verwagting is dat daar persentasiegewys 'n effense verbetering in die 2009/2010 seisoen sal wees, maar dat die globale hoeveelheid ingevoer nog steeds meer as 1 miljoen ton sal beloop.

4.3.3

 

Projeksies – 2010, 2020


Nuwe projeksies van oliekoekbehoeftes vir die periodes 2010 en 2020 is nog nie beskikbaar nie en sal daar na verwagting projeksies beskikbaar kom vir 2015 en 2020 gedurende 2010. Die projeksies wat gedurende Maart 2008 gedoen is toon dat die oliekoekbehoeftes vir 2010 en 2020 onderskeidelik 1 918 763 ton en 2 681 414 ton sal wees. Op hierdie stadium blyk dit egter of die benodighede vir 2010 oorskat kon wees. Al sou die projeksies afwaarts aangepas word is daar nog steeds 'n baie groot gaping tussen die geprojekteerde behoeftes aan oliekoek en die plaaslike produksie van oliekoek. 'n Ligpunt egter is die positiewe ommeswaai na sojaproduksie wat tans ervaar word. Gedurende die 2007/2008 produksie­seisoen was die hoeveelheid sojas geproduseer 282 000 ton, gedurende die 2008/2009 produksie seisoen het dit toegeneem tot 'n fenomenale 516 000 ton of 83% toename en word daar vir die 2009/2010 produksiejaar 'n oes van 587 950 ton verwag.

4.4

 

Plaaslike verbruik van proteien


4.4.1

 

Algemeen


Daar is min begrip van 'n meer gedetailleerde uiteensetting van die verbruik van proteïen deur diere in Suid-Afrika. Gewoonlik word totale deur­gegee en slegs in AFMA se jaarverslag word spesies diere en tipe proteïen in meer besonderhede verskaf. Beter begrip van beide aspekte sal ook tot 'n beter begrip lei van die PNS se visie en missie, en ook die besef dat te dikwels te gemaklik na voedselsekerheid in Suid-Afrika verwys word.

Die veevoerbedryf is waarskynlik een van die grootste vertakkinge van landbou. Die tonnemaat van die georganiseerde veevoervervaardigers (AFMA) vir 2009/2010 het 5,8 (konsentrate wat verwerk is ingesluit) miljoen ton beloop terwyl die informele of tuismengbedryf, wat ook voerkrale insluit op 5 miljoen ton geskat word, dus 'n totaal van 10,8 miljoen ton voer.

In Tabel 1 word die nasionale veevoerproduksie vir 2009/2010 in verskillende spesies aangetoon. Hieruit blyk dit dat AFMA 96,8% en 72,05% van die totale braaikuiken- en lêhenvoere respektiewelik geproduseer het wat 40,2% van die nasionale veevoerproduksie uitgemaak het. Aan die ander kant is die tuismengbedryf, wat voerkrale insluit, verantwoordelik vir meer as 77% van die 3,3 miljoen ton bees- en skaapvoere (suiwelvoere uitge­sluit) wat geproduseer word. Dit verteenwoordig 30,9% van die nasionale veevoerproduksie. AFMA is dus die grootste verskaffer van veevoer aan die pluimveebedryf en is dit om hierdie rede dat AFMA ook die grootste verbruiker van soja- en sonneblomoliekoek is. Gedurende 2009/2010 was daar bykans 1,1 miljoen ton soja oliekoek beskikbaar in Suid-Afrika waarvan AFMA 79,9% gebruik het. Hiervan is 73,1% deur pluimvee verbruik.

Tabel 1
Nasionale Veevoerproduksie gedurende 2009/2010 (ton)
Voertipe AFMA voere plus voere vervaardig vanaf konsentrate Nasionale veevoerproduksie AFMA as % van nasionale produksie
Suiwel 884 466 1 629 649 54.27
Bees en skaap 761 870 3 339 144 22.82
Varke 213 909 932 642 22.94
Lêhenne 827 811 1 148 888 72.05
Braaikuikens 3 088 618 3 190 754 96.80
Honde 12 577 363 222 3.46
Perde 12 158 132 458 9.18
Volstruise 11 960 51 800 23.09
Akwakultuur 2 084 2 700 77.19
Totaal 5 815 452 10 791 257 53.89

Bron.  Dr Erhard Briedenhann

4.4.2

 

Pluimveebedryf


Die belangrikheid van die pluimveebedryf in Suid-Afrika kan moeilik oorbeklemtoon word. Statistiek uit die eierbedryf wys dat Suid-Afrika slegs 130 eiers per capita per jaar verbruik teenoor baie ander lande wat meer as 300 eiers per capita per jaar verbruik, wat dus 'n groot moontlikheid van uitbreiding bied.

Die braaikuikenbedryf het egter die afgelope 10 jaar ongelooflik presteer. In 2000 het dit 42 dae geneem om 'n braaikuiken van 1,8 kg te produseer met 'n voeromsetting van 1,85. Daarteenoor het dit in 2009 slegs 35 dae geneem om 'n soortgelyke braaikuiken te produseer met 'n voeromsetting van 1,68. Hierdie syfer word jaarliks steeds verbeter. Suid-Afrika verbruik meer as 1 biljoen braaikuikens per jaar, of te wel 30 kg per capita per jaar. Dit moet egter ook gemeld word dat jaarliks meer as 200 miljoen braaikuikens ingevoer word wat dus 'n besondere geleentheid bied aan die braai­kuikenbedryf, om verder uit te brei. Dit sal ook tot gevolg hê dat meer proteïen en mielies vanuit 'n plaaslike oorsprong vir hierdie produksie aan­gewend sou kon word, met gepaardgaande besparing aan valuta wat die land uitvloei.

Die beter benutting van proteïen, wat een van die doelstellings van die PNS is, is by uitstek ter sprake in die braaikuiken bedryf. Hierdie aange­leentheid sal kortliks later in hierdie dokument behandel word.

Gedurende 2009 het die waarde van pluimvee invoere R1,565 miljard beloop.

4.4.3

 

Varke


Die varkbedryf in Suid-Afrika verbruik ongeveer 10% van die totale nasionale voerproduksie. Wêreldwyd is dit egter 'n baie belangrike bedryf aangesien daar in 2009 106,5 miljoen ton varkvleis in die wêreld geproduseer is en met 'n verwagting om verder te styg in 2010. Die grootste verhoging vind plaas in Sjina waar varkproduksie met ongeveer 2 miljoen ton per jaar gestyg het sedert 2007 met 'n verwagting dat 50 miljoen ton in 2010 aldaar geproduseer sal word. Varkvleis vorm 37,8% van die totale vleisverbruik in die wêreld terwyl pluimvee met 32,6% die tweede plek inneem.

In Suid-Afrika word toenemend mededinging ervaar van ingevoerde vark wat grootliks (70%) bestaan uit varkribbe wat deur die restaurante gebruik word. Daar is 'n vermoede dat storting vanuit Kanada plaasvind, maar dit sal 'n geruime tyd neem vir The South African Pork Producers Organi­zation (SAPPO) om storting te bewys. Verder word berig dat daar tans aansienlike kapitaal bestee word aan meganisasie in die varkbedryf wat tot gevolg sal hê dat plaaslike produktiwiteit sal verhoog en die plaaslike varkbedryf ook dus internasionaal meer kompeterend sal wees.

4.4.4

 

Suiwel, ensovoorts


Uit Tabel 1 blyk dit duidelik dat suiwel ook 'n belangrike rol speel in die verbruik van veevoer. Die drie grootste bronne van proteïen wat deur die suiwelbedryf gebruik word, bestaan uit sonneblomoliekoek, soja-oliekoek en katoen wat meer as 90% van die totale proteïenbronne uitmaak. Meer inligting omtrent hierdie vertakking sal in 'n volgende verslag verskaf word.

4.4.5

 

Ander


Soos voorheen aangestip is een van die doelstellings van die PNS om navorsing te befonds wat beter benutting van proteïen tot gevolg het. Prof Rob Gous, internasionaal erkende pluimveenavorser en lid van die PNS Raad het 'n besondere model met PNS befondsing ontwikkel wat internasionaal aanvaar word in 'n poging om beter benutting van proteïen deur pluimvee te bewerkstellig. Die afgelope jaar het Prof Gous 'n baie besige jaar gehad met 'n verskeidenheid konferensies wat hy moes toespreek. Hy was uitgenooi om 'n lesing te lewer by 'n Nutreco Konferensie in Nederland, nog een in Edinburgh en het ook die JM Bell Memorial Lecture gelewer by die Western Nutrition Conference in Kanada. Hy het ook Austra­lië etlike kere besoek, lesings gelewer by die Australiese Pluimvee Simposium in Sydney en ook by 'n PIX 2010 vergadering aan die Austra­liese "Gold Coast". Daarbenewens het hy twee lesings in Nieu-Seeland gegee en ook twee weke deurgebring aan die Universiteit van Sao Paulo in Jaboticabal waar hy op 'n jaarlikse besoek aldaar behulpsaam was met die opleiding van nagraadse studente. Die PNS wil graag erkenning gee aan Prof Gous vir die besondere bydrae wat hy plaaslik en internasionaal lewer tot bevordering van die PNS se doelstellings.

4.5

 

Plaaslike produksie van proteïen


4.5.1

 

Algemeen


Die doelstellings van die PNS behels nie slegs die beter benutting van proteïen deur diere nie, maar konsentreer grootliks op die aanwending van navorsingsfondse om meer proteïen vir diereverbruik plaaslik te produseer om sodoende ingevoerde proteïen te vervang. Nadat miljoene Rand bestee is aan navorsing ten opsigte van verskillende proteïenbronne is die enigste proteïenbronne wat volgens die PNS die moontlikheid inhou tot snelle uitbreiding, sojabone en canola.

4.5.2

 

Sojabone


Grafiek 1 gee 'n pragtige beeld van die verloop en ontwikkeling van die sojaboonbedryf oor die afgelope 22 jaar. Voor 1997/1998 is selde meer as 100 000 ton sojabone per jaar geproduseer. Na die stigting van die PNS Sojawerkgroep in 1996 is nooit weer minder as 100 000 ton geproduseer nie. Tewens, soos in grafiek 2 gesien kan word, is daar na 1996 net in 1999/2000 minder as 'n 100 000 ha onder sojabone beplant.

Grafiek

RSA: Sojabone (kommersieël)

Produksie: 1987/1988-2008/2009

Grafiek wat sojaboonproduksie aandui vanaf 1987/1988 tot 2008/2009
*Oesskattingskomitee-syfer van 23 September 2009

Grafiek

RSA: Sojabone (kommersieël)

Oppervlakte beplant: 1987/1988-2008/2009

Grafiek wys oppervlakte beplant met sojabone vanaf 1987/1988 tot 2008/2009
*Oesskattingskomitee-syfer van 23 September 2009

Gedurende die 2008/2009 seisoen is daar 237 750 ha sojabone aangeplant wat 'n rekordopbrengs van 516 000 ton gelewer het. Dit is die hoogste opbrengs nog met 'n gemiddelde opbrengs van 2,17 ton per ha. Vir die eerste keer sedert sojabone in Suid-Afrika aangeplant word, is die gemid­delde opbrengs hoër as 2 ton per ha en die eerste keer dat meer as 500 000 ton sojabone plaaslik geproduseer word.

Volgens die Oesskattingskomitee oorskry hierdie oes die vorige met meer as 80% en is ook bykans 120% hoër as die vorige 10 jaar se gemiddelde oeste van 234 216 ton. Die Oesskattingskomitee dui ook verder aan dat die bruto waarde van sojabone geproduseer gedurende 2008/2009 geraam word op R1.623 miljard vergeleke met R1.134 miljard die vorige seisoen – dit is 'n styging van 43%. Die aanduidings vir 2009/2010 seisoen is dat daar ongeveer 311 000 ha aangeplant sal word met 'n moontlike opbrengs van ongeveer 580 000 ton.

Die PNS slaan die vordering gemaak en die potensiaal van sojabone baie hoog aan. In 'n poging om die maksimum stukrag aan die generiese sojabemarkingsprogram te verleen, is 'n spesiale Sojaboonbeplannings-taakspan aangestel om detail aandag aan alle fasette van hierdie program te gee.

Hierbenewens het gesprekke met saadmaatskappye getoon dat daar belowende cultivars en tegnologie in die pyplyn is wat eersdaags in Suid-Afrika beskikbaar gestel behoort te word. Verteenwoordigers van twee van die drie saadmaatskappye te wete Dr A Jarvie van Pannar en Mnr W Engelbrecht van Pioneer het die afgelope jaar voordragte aan die Sojaboonwerkgroepe gemaak terwyl die derde maatskappy Linkseed reeds onderneem het om soortgelyke inligting gedurende 2010/2011 te verskaf. Dit is die eerste keer die afgelope 14 jaar dat saadmaatskappye openlik aan die bedryf inligting verskaf omtrent ontwikkelinge wat die verdere potensiaal van sojaboonproduksie uitspel.

Vordering met die toets van 'n verskeidenheid cultivars afkomstig van INTA uit Argentinië, Embrapa en die Universiteit van Viçosa uit Brasilië is reeds in paragraaf 2 en 3 hierbo aangespreek.

Die PNS het Mnr Jan du Preez gekontrakteer om kwartaallikse webstudies te doen van die nuutste ontwikkeling in die sojabedryf in VSA soos berig deur saadmaatskappye en universiteite asook American Soybean Association (ASA) en die United Soybean Board (USB). Die waarde en kwaliteit van hierdie werk word hoog aangeskryf.

Die Roes- en Sclerotiniawerkgroepe funksioneer steeds effektief en word, soos werkgroepvergaderings, goed bygewoon.

Seker een van die belangrikste tegnologie-oordrag tegnieke wat die PNS benut ter bevordering van sojabone is Koste- en Inkomsteberamings vir verskillende streke wat jaarliks onder leiding van Mnr JSG Joubert, ondervoorsitter van die PNS, vir die sojabedryf bereken en beskikbaar gestel word. Die begrip dat sojabone in eie reg 'n kontantgewas is, is grootliks hieraan te danke. Hiermee saam gaan die voordele van wisselbou en ver­minderde bewerking wat geïllustreer word en die sukses verhale van produsente wat sojabone onherroeplik op 'n wenpad geplaas het.

Nog bydraes wat die afgelope jaar 'n verskil gemaak het, was 'n Sojaboondinkskrum wat deur hoë profiel produsente en navorsers bygewoon is, 'n ooreenkoms met maatskappye om dieselfde kodes vir identifikasie van cultivars te gebruik, asook die indeling van sojaboonverbouingsgebiede in identifiseerbare klimaatsones deur Mnre W van Wyk en G de Beer, kontrakteurs van die PNS.

Die sojaboonroes pamflet is hersien deur Dr Pat Caldwell, kontrakteur van die PNS terwyl 'n omvattende dokument ten opsigte van die bevordering van die produksie van sojabone deur Mnr GduT Keun, Hoofuitvoerende Beampte van die PNS en Mev Erna Harmse kontrakteur, vir die Soja­beplan­ningstaakspan opgestel is.

'n Spesiale woord van dank gaan aan die Pers, maar veral Landbouweekblad wat bykans al bogenoemde inisiatiewe uitgedra het na die breë soja­bedryf en grootliks bygedra het tot die sukses van die sojabedryf tot op datum.

4.5.3

 

Canola


Nadat die produksie van canola etlike jare gegroei het, het dit ongelukkig die afgelope paar jaar gestagneer. Navorsingsbefondsing van lupien is gestaak vanweë 'n gebrek aan groei, maar na deeglike oorweging en met inagneming van die sukses van die sojaboon generiese bemarkings­program het die PNS Raad besluit om 'n 5 jaar program van stapel te stuur om weer groei te genereer in die canolabedryf, veral met inagneming van die internasionale groeipatroon en wêreldproduksie wat reeds die 60 miljoen ton kerf bereik het. 'n Verdere rede hiervoor is die lae en onekonomiese pryse wat die koringbedryf onder groot druk plaas.

Die aanplantings gedurende 2009 is op 35 060 ha gestel teenoor 34 000 ha in 2008. Die verwagte opbrengs beloop 40 310 ton teenoor 30 800 ton in 2008.

Die PNS Raad het, soos by sojabone, fondse beskikbaar gestel vir 'n generiese bemarkingsprogram ten opsigte van canola. Soos reeds vroeër genoem is Prof André Agenbag van die Universiteit van Stellenbosch gekontrakteer om die koördinasie van die projek te doen en so ook sal Mnr Johan Loubser met verskeie aksies behulpsaam wees. Die PNS het ook Mnr Kobus Schonken, bekende en uiters suksesvolle produsent van onder andere canola aangestel op die Canolabeplanningstaakspan. Sy besondere kundigheid sal goed benut kan word tot bevordering van canola.

Die resultate van die Inkomste- en Kosteramings is verder verfyn en het dit uit sensitiwiteitsanalises geblyk dat 'n verhoging in opbrengs van 250 kg per ha canola, canola in eie reg as 'n kontantgewas kan vestig. Daar is in beginsel besluit op 'n reklame program met die titel "Die ekstra kwart ton", maar die resultate sal eers in die volgende jaar waargeneem kan word.

Daar is reeds in paragraaf 3 melding gemaak van die opname om knelpunte en ander inligting ten opsigte van die canolabedryf te versamel, wat onder leiding van Mnr JSG Joubert gestaan het, bygestaan deur onder andere Prof. Agenbag en Mnr Loubser. Die inligting sal tot groot nut wees vir die Canolabeplanningstaakspan, maar meer daaromtrent sal ook eers aanstaande jaar beskikbaar wees.

In dieselfde trant is die canola ontwikkelingsplan wat deur Dr De Kock opgestel is, die afgelope jaar deur hom aangepas by huidige omstandighede en dit is gevolg deur 'n canola handleiding onder redaksie van Prof. André Agenbag wat in Afrikaans en Engels beskikbaar gestel is, sowel as op CD Rom. Beide hierdie dokumente is ook beskikbaar op die PNS webblad.

Daar is reeds geruime tyd daarop gewys dat die canolabedryf in Suid-Afrika belas word met ouer cultivars uit Australië wat reeds van die cultivar­lys aldaar verdwyn het. Dr J de Kock en andere het reeds etlike besoeke aan Australië gebring waartydens onder andere met verskillende saad­maatskappye skakeling bewerkstellig is. Aanduidings is redelik sterk dat 'n verskeidenheid nuwe lyne en cultivars na aanleiding van hierdie inisiatief van die PNS in die eerskomende seisoen reeds in Suid-Afrika getoets sal word, wat dadelik 'n bydrae behoort te maak tot die "Ekstra kwart ton".

Die CanolaFokus word steeds gereeld gepubliseer. Die PNS wens die Redaksie onder leiding van Mnr Piet Lombard en alle medewerkers hartlik te bedank vir hulle pogings om die inhoud van die CanolaFokus leersaam en interessant te maak en te hou.

4.5.4

 

Ander


Die akkerboukundige vereistes in die breë wat aan die PNS gestel word in die produksie van plantproteïen vir diereverbruik is uiters omvattend. Verwysing is deels daarna gemaak in paragraaf 2 van hierdie verslag.

Die dissiplines wat op die Raad verteenwoordig is, word pal bepaal volgens die dringendste behoeftes op 'n gegewe tydstip.

Insette wat van die Raadslid in die akkerbou portefeulje verwag word, dek onder andere die volgende dissiplines: Akkerbou, planteteelt, grond­kunde, plantvoeding, onkruidwetenskap, gewasfisiologie, plantpatologie en entomologie. Hoewel die bekleër van die pos nie indiepte kennis kan hê van al hierdie vakgebiede nie, is dit belangrik om 'n werkbare kennis daarvan te hê en ook te weet waar indiepte kennis bekom kan word vir die hantering van die behoeftes van die PNS.

Kongresse wat sovêr moontlik bygewoon moet word deur die akkeboukundiges, is plantpatologie-, entomologie- en nematologiekongresse, die jaarlikse Grondgedraagde Siekte Simposium te Stellenbosch asook die gesamentlike kongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Gewas­pro­duksie, die Grondkundevereniging en die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Onkruidwetenskappe, en ander.

Die PNS leun ook swaar op die akkerboukundiges om skakeling te behou met instansies soos SANSOR, die Misstofvereniging van Suid-Afrika, AVCASA en ander. Hulle neem ook in 'n meerdere mate verantwoordelikheid vir die PNS kontrakteurs wat betrokke raak by cultivarproewe, eie navorsing sowel as die internasionale sojaproewe waarna reeds verwys is. Hoewel navorsingskapasiteit by Universiteite, Provinsiale Departemente van Landbou en die LNR beperk is, moet die PNS akkerboukundiges steeds sovêr moontlik ook met hierdie instansies skakel om op hoogte te bly met verwante aksies aldaar.