Navorsingsverslag 2009/2010

6.

 

Projekte wat suksesvol afgehandel is of waarmee aansienlike vordering gemaak is (Bylae I en II)


Projekte-indeks

  1. Titels van projekte

    1. Evaluasie van gevorderde sojaboon teellyne
    2. Evaluering van PNS-sojaboonelitelyne onder Suid-Afrikaanse toestande
    3. Nasionale sojaboon-cultivarproewe
    4. Die verhoging van sojaboonproduksie op die Hoëveld
    5. Invloed van SO2 en die interaksie daarvan op die groei, fisiologie en biochemie van sojabone (glycine max) en canola (brassica napus) bestudeer in 'n OTC-stelsel
    6. Fenotipiese merkers vir wortelknoppie vormings­vermoë van sojaboonkultivars
    7. Vestiging van 'n vroeë waarskuwingstelsel vir soja­boonroes
    8. Bepaling van die epidemiologiese waarde van weer­stand teen roes veroorsaak deur phakopsora pachyrhizi in sojaboonlyne
    9. Die gebruik van silikon om sojaboonroes te beheer (phakopsora pachyrhizi)
    10. Die ontwikkeling van bestuurs-georiënteerde kaarte vir lantermyn sojaboonroes vatbare areas in Suid-Afrika
    11. Studie van inokulasie en siekte evaluasie tegnieke vir sclerotinia stamvrot by sojabone
    12. Beheer van Rhizoctonia solani en Pythium spp. in sojabone (glycine max), lupiene (lupinus spp.) en kanola met die gebruik van Ttrichoderma in silikon
    13. Super Sojakompetisie, KwaZulu-Natal
    14. Kultivarevaluasie van olie en proteïensade in die winterreënstreek
    15. Bepaling van graanverliese van canola gedurende rypwording en oes in die Wes-Kaap
    16. N-bemesting van canola gebaseer op N-mineralisasie en loging
    17. S-bemestingsbehoeftes van canola in die produksie­gebiede van die Wes-Kaap
    18. Optimale grondbewerkingsmetodes en N-bemes­tingspeile vir gebruik in 'n koring / canola / koring / lupien en koring monokultuur­stelsels in die Swart­land produksiegebied
    19. Bestuur van onkruiddoderweerstand in die Wes-Kaap
    20. Ondersoek na die produksiedinamika van agt wissel­boustelsels, insluitende koring, canola, lupiene en weiding-spesies in die Swartland, Wes-Kaap
    21. Ekonomiese volhoubaarheid van kort- en langtermyn wisselbougewas/weidings produksiestelsels in die Suid-Kaap
    22. Die identifikasie van grond parameters as indikatore van volhoubare droëland gewas­produksie stelsels vir die skaliegronde van die Wes-Kaap: bewerkings­metodes, wisselbou, grondkwaliteit en gewas­produksie
    23. A: Die bevordering van canola as 'n wisselbou­gewas binne 'n bewaringsboerderystelsel in die droëland saaigebeid van die Swartland, deur middel van 'n produsente kompetisie
    24. B: Die bevordering van canola as 'n wisselbou­gewas binne 'n bewaringsboerderystelsel in die droëland saaigebied van die Suid-Kaap deur middel van 'n produsente kompetisie
    25. Insekte en ander plae van canola
    26. Karakterisering en bestuur van Rhizoctonia op canola en lupiene in wisselboustelsels in die Wes-Kaap provinsie
    27. Die invloed van rou sojabone teenoor hittebehan­delde sojabone in diëte van slagvolstruise tydens die afrondfase
    28. Ontwikkeling van 'n simulasiemodel om die voeding van braaikuiken teelhenne gedurende die lêsiklus te optimiseer
    29. Benutting van aminosure en proteïene deur braai­kuiken teelhenne wat mielie-sojaboon gebaseerde diëte ontvang
    30. Vraelys met betrekking tot die produksie van canola
    31. Inkomste- en koste ramings van gewasse
    32. PNS-webtuiste

6.1

 

Evaluasie van gevorderde sojaboon teellyne


EN Ndou en TA Masiha

Produksie van sojaboon [Glycine max (L.) Merr.] in Suid Afrika is relatief laag en daar is baie faktore wat hierdie produksie beperk, bv. aanpas­baarheid by plaaslike omgewingstoestande. Die doel van hierdie projek was om die genotipes wat voorheen in die teelprogram ontwikkel is, te evalueer en die beste kultivars met goeie aanpasbaarheid en hoë opbrengs vry te stel. Vyf-en-twintig genotipes van die vorige teelprogram en vyf plaaslike verwysings-kultivars is by Bethlehem, Brits, Potchefstroom en Vaalharts ge-evalueer gedurende die 2008/09 seisoen. Die gemiddelde aantal dae tot 50% blom oor alle lokaliteite het gevarieer tussen 54 en 68 dae, met 'n gemiddeld van 63 dae. Daar was geen betekenisvolle verskil tussen die genotipes nie maar daar was 'n betekenisvolle verskil tussen die verwysingskultivars en die genotipes. Die gemiddelde aantal dae tot fisiologiese rypheid oor lokaliteite het gevarieer tussen 125 en 136 dae maar het nie betekenisvol van mekaar verskil nie. Die gemiddelde aantal dae tot oes was 153 dae oor lokaliteite. Genotipe GP20-2-22-5 het die hoogste opbrengs van 2 056.93 kg ha-1 gelewer en genotipe TXS99-5-52 die laagste opbrengs van 1 404.36 kg ha-1. Die gemiddelde opbrengs van alle genotipes was 1 761.17 kg ha-1. Daar was geen betekenisvolle verskil oor genotipes nie. Opbrengs van die genotipes het oor lokaliteite gevarieer en alhoewel die genotipe GP20-2-22-5 die hoogste opbrengs gehaal het, was dit nie stabiel oor lokaliteite nie. Die genotipe wat die tweede posisie in terme van opbrengs behaal het, was stabiel in Potchefstroom, Brits en Vaalharts, waar dit onderskeidelik die eerste, vyfde en sesde hoogste opbrengs behaal het. Genotipe X omgewings­interaksies speel 'n belangrike rol in die sukses van enige teelprogram in terme van ontwikkeling van genotipes wat aangepas is vir wye verskeidenheid omgewings.


6.2

 

Evaluering van PNS-sojaboonelitelyne onder Suid-Afrikaanse toestande


GP de Beer en WF van Wyk
Kontrakteurs, Proteïennavorsingstigting

INTA – GENOTIPES
Vyf-en-twintig genotipes wat wissel tussen volwassendheidsgroepe 4 en 7 is in twee 75cm-rye van 5 meter lank op 6 plekke aangeplant met 3 herhalings op 7/12/2009. Ses (6) plaaslike kultivars van Pannar en Link Seed is as kontroles by die volwassendheidsgroepe ingesluit.

VIÇOSA – GENOTIPES
Vyf genotipes is in twee 75cm-rye van 5 meter op 3 plekke aangeplant met 3 herhalings op 13/12/2009. Twee (2) plaaslike kultivars van Pannar en Link Seed is as kontroles ingesluit.

EMBRAPA – GENOTIPES
Sestien (16) genotipes is in twee 75cm-rye van 5 meter lank op 6 plekke aangeplant met 3 herhalings op 11/01/2010. Vier (4) plaaslike kultivars van Link Seed is as kontroles ingesluit.

Twintig (20) verskillende datastelle is by elk van hierdie genotipes en plaaslike kultivars geneem voor oes en vyf (5) datastelle na oes. Dit blyk of daar redelik goeie lyne onder sekere van hierdie genotipes is.


6.3

 

Nasionale sojaboon-cultivarproewe


JL Erasmus, HSJ Vermeulen, NN Mogapi en TC Ramatlotlo
LNR-Instituut vir Graangewasse

'n Totaal van 18 kultivars is plaaslik op geselekteerde lokaliteite oor die sojaboonproduksiegebied aangeplant en 'n addisionele 10 kultivars is in fase-1-proewe op 10 lokaliteite getoets. Proewe is geplant by navorsingstasies waar die nodige infrastruktuur beskikbaar was om 'n volledige akkerboukundige studie te kan uitvoer. Daar was ook gepoog om proewe te plaas by lokaliteite waar inligting benodig word en waar die maksimum hoeveelheid data verkry kon word. Die volgende is noodsaaklike data vir 'n volledige fenologiese datastel: dae tot blom, dae tot fisiologiese en oesrypheid, maksimum planthoogte en minimum peulhoogte, omval, oopspring en groenstam, relatiewe siekte- en plaagvatbaarheid, saad­karak­terisering en opbrengs, fisiese en chemiese kwaliteite, asook grond- en weerdata. Alle data word in 'n rekenaardatabasis ingevoer. Die data van die drie verskillende hoofproduksiegebiede, naamlik koel, matig en warm word gebruik vir die berekening van oessekerheid. By die kultivarevaluasie-vergadering gedurende September 2009 is daar geen nuwe kultivar aanbeveel vir registrasie en plasing op die variëteitslys nie. Die algehele opbrengs (oor plekke en oor alle cultivars) vir die afgelope seisoen was 2 820 kg ha-1 (2 456 kg ha-1 vir 2007 en 1 717 kg ha-1 vir 2006). Die beste gemiddelde opbrengs is verkry te Cedara (4 428 kg ha-1), Greytown (4 347 kg ha-1) en Vaalharts (4 244 kg ha-1). Die kultivar met die hoogste gemiddelde opbrengs (oor plekke) was LS 678 met 3 164 kg ha-1 en Ibis 2000 met 2 379 kg ha-1 was die laagste. Die kultivar met die hoogste proteïenpersentasie was Ibis 2000 met 43.73% en die laagste was PAN 1454 R met 40.97%. Kultivars wat 5 t per ha-1 oorskry het, was LS 6164 R by Vaalharts en Empangeni PD1, PAN 1666 R, PAN 737 R en LS 678 by Greytown en PHB 96 B 01 by Cedara.


6.4

 

Die verhoging van sojaboonproduksie op die Hoëveld


WF van Wyk
Kontrakteur, Proteïennavorsingstigting

Bemestingsproef

Behandelings: Drie (3) peile van P (0, 20 en 40 kg/ha) en 3 peile van K (0, 50 en 100 kg/ha).

Die proewe is ge-oes en al die data is geneem maar geen statistiese verwerkings is nog gedoen nie. Dit blyk dat daar – soos verwag is – groter verskille tussen die behandelings by die bemestingsproef voorgekom het omdat die effek van die verskillende bemestingspeile nou duidelik na vore begin kom.

Bewerkingsmetodes met verskillende wisselboustelselss

Behandelings: ploeg (soja, soja - soja, mielies - mielies, soja), geen bewerking (soja, soja - soja, mielies - mielies, soja). Daar is in die 2009/2010 seisoen ook begin met 'n monokultuur mielies - behandeling wat ook by al drie die verskillende bewerkingsmetodes uitgevoer word.

Die proewe is ge-oes en al die data is geneem maar geen statistiese verwerkings is nog gedoen nie. Die voordelige effek van soja op mielies kan reeds by die mielie-persele waargeneem word aan die groei van die mielieplante.


6.5

 

Invloed van SO2 en die interaksie daarvan op die groei, fisiologie en biochemie van sojabone (glycine max) en canola (brassica napus) bestudeer in 'n OTC-stelsel


JM Berner, S Lindeque, M Minnaar, PDR van Heerden en GHJ Kruger
Skool vir Omgewingswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

Soja (PAN 1666 en LS 6164) plante was blootgestel aan 25, 75 en 150 dpb swaeldioksied (SO2) in 'n OTC sisteem. Die aktiwiteite van twee stres geassosieerde ensieme, lipoksigenase (LOX) en peroksidase (POD) was bepaal. Lipoksigenase is 'n sleutel ensiem in die lipoksigenase-weg wat lei tot die sintese van oksilipiene. Oksilipiene is sekondêre metaboliete wat stres-reaksie reguleer en wat ook direk betrokke by stres-reaksie kan wees. Reaktiewe-suurstofspesies word gevorm tydens 'n stres-reaksie en moet vinnig gedetoksifiseer word. Peroksidase is een van baie anti­oksidant ensieme wat vir die detoksifisering van vrye radikale verantwoordelik is. Die aktiwiteite van beide LOX en POD neem toe soos die vlakke van die SO2 konsentrasies toeneem. 'n Betekenisvolle toename in beide van hierdie aktiwiteite kon so vroeg as 3 weke na begassing waargeneem word. PAN 1666 het 'n betekenisvolle hoër toename in LOX en POD aktiwiteit getoon in vergelyking met LS 6164. Hierdie resultate dui aan dat PAN 1666 moontlik 'n hoër vlak van SO2 toleransie het as LS 6164.

Canola (Rainbow) was blootgestel aan 50, 100 en 200 dpb SO2. Die effek van SO2 op die plant was gemonitor met behulp van chlorofil-fluorosensie. Die prestasie indeks (PIABS) is gebaseer op die vinnige fase chlorofil-fluoressensie. Dit is 'n multiparametriese funksie wat die prosesse van primêre fotochemie, naamlik die absorbering van ligenergie, die vaslegging van die geeksiteerde energie en die omskakeling van die geeksiteerde energie na elektronoordrag in ag neem. Na 5 weke van begassing kan 'n afname in die PIABS waargeneem word soos die vlakke van SO2 toeneem. Die aktiwiteite van die anti-oksidant ensieme POD en askorbaatperoksidase (APX) was ook bepaal. 'n Betekenisvolle toename in die 50, 100 en 200 dpb behandelings was waargeneem in vergelyking met die kontrole. Daar was geen betekenisvolle verskille in die POD en APX aktiwiteite tussen die verskillende behandelings nie.


6.6

 

Fenotipiese merkers vir wortelknoppievormingsvermoë van sojaboonkultivars


BA Fenta¹, S Driscoll², C Foyer² en K Kunert¹
BA Fenta¹, S Driscoll², C Foyer² en K Kunert¹, ¹Departement van Plant Wetenskappe, Bosbou en Landbou Biotegnologie Instituut, Universiteit van Pretoria, ²Sentrum vir Plant Wetenskappe, Fakulteit van Biologie, Universiteit van Leeds

Die volhoubaarheid van peulgewasproduksie word ernstig beperk deur droogte. Om die fisiologiese basis vir droogteweerstandbiedenheid in sojaboon te bestudeer is die genotipiese variasie ten opsigte van droogtesensitiwiteit gebruik met die doel om fenotipiese merkers te identifiseer wat in toekomstige teelprogramme gebruik kan word. Met die doel is die fisiologiese eienskappe kenmerkend aan sojaboonkultivars (Prima 2000, A5409RG en Jackson) gedurende aanvang en vordering van droogte, veroorsaak deur die weerhouding van water, gemeet en vergelyk deur gebruik te maak van 'n reeks van loot, wortel en wortelknoppie eienskappe. Die resultate wat verkry is toon dat die droogte geïnduseerde verlies aan water­potensiaal in blare vergelykbaar is in al drie kultivars. Verder verlaag die huidmondjie geleibaarheid vinnig as gevolg van wateronthouding en foto­sintese is progressief geïnhibeer in al drie kultivars onder droogte toestande. Die kultivar Prima het egter die hoogste vlakke van fotosintetiese CO2 akkumulasie gehandhaaf in vergeleke met A5409RG en Jackson, selfs na 20 dae van wateronthouding. Droogte het verder 'n effek gehad op die verspreiding van biomassa tussen die wortels en stingels met die stingel/wortel verhouding wat in al die kultivars betekenisvol afgeneem het. Die wortels van Prima het die grootste totale biomassa gehad teenoor Jackson en A5409RG onder beide goed benatte en droogte toestande, terwyl A5409RG plante die hoogste stingel/wortel verhouding gehandhaaf het. Jackson plante het die minste hoeveelheid wortelknoppies per wortel gehad terwyl A5409RG die meeste gehad het. Hoë simbiotiese stikstofbinding (SSB) tempo's was net binne 'n relatiewe nou band van hoë blaar-waterpotensiaal waardes gevind. Droogtebehandelings het wortelknoppie hoeveelhede met 90% verminder en SSB het tot naby 0% afge­neem. 'n Verband is verder tussen SSB en fotosintese tempo's gevind asook tussen SSB en loot varsmassa. Dit kan vanaf die eksperimente afgelei word dat droogte SSB sterk onderdruk in al drie kultivars. Prima het 'n sterk fotosintetiese kapasiteit wat sterker groei en hoër vlakke van bio­massa akkumulasie onderhou ten spyte van 'n ernstige tekort aan grondwater beskikbaarheid. Hierdie data is aan die joernaal 'Journal of Experimental Botany' vir publikasie voorgelê.


6.7

 

Vestiging van 'n vroeë waarskuwingstelsel vir sojaboon-roes


M Craven, GP de Beer¹, TM Ramusi en AS de Beer
LNR-Instituut vir Graangewasse, ¹Proteïennavorsingstigting

Weens die vernietigende aard van sojaboonroes en 'n klaarblyklike gebrek aan voldoende weerstand teen die siekte is 'n effektiewe siekte­bestuur­stelsel noodsaaklik totdat weerstandbiedende kultivars beskikbaar kom. Om die teenwoordigheid van die patogeen so vroeg as moontlik te beves­tig, is siekte-monitering 'n belangrike faset van so 'n siektebestuurderstelsel. Sedert die 2005/06-seisoen het die LNR-Instituut vir Graan­gewasse (LNR-IGG) saam met die Proteïennavorsingstigting (PNS) en medewerkers soos PANNAR, die departement van landbou van KwaZulu-Natal (KZN) en verskeie sojaboon-produsente 'n poging aangewend om 'n vroeë waarskuwingstelsel vir sojaboon-roes te vestig, gebaseer op verklikkerpersele. Data wat gedurende die studie versamel is, het bygedra tot die bevestiging van 'n algemene seisoenale neiging van sojaboonroesbeweging van oos na wes in al die sojaboonproduksiegebiede in Suid-Afrika. 'n Moniteringsprotokol is vasgestel, wat gebruik sal word vir toekomstige monitering van sojaboonroesontwikkeling.

Die afgelope seisoen was roes eerste waargeneem by Dirkiesdorp, Vryheid en Cedara (18 Januarie 2010). Daarna by Greytown (28 Januarie 2010), Normandien en Morgenzon (8 Februarie 2010), Greylingstad (16 Februarie 2010), Kinross en Kestell (16 Maart 2010) en laastens by Potchefstroom (23 Maart 2010).


6.8

 

Bepaling van die epidemiologiese waarde van weerstand teen roes veroorsaak deur phakopsora pachyrhizi in sojaboonlyne


NW McLaren en C Botha
Universiteit van die Vrystaat

Sojaboonkultivars en alternatiewe kiemplasma is in veldproewe (Cedara) geëvalueer vir sojaboonroes weerstand. Drie plantdatums is gebruik met intervalle van twee weke. Plante was afhanklik van natuurlike infeksie. Sodra infeksie waargeneem is, is plante geëvalueer met die kriteria van persentasie ontblaring en persentasie infeksie waarna die kriteria saamgevoeg is om die totale geïnfekteerde blaar area te bepaal. Lyne PI 603909A en PI 606376 het oor die algemeen die laagste infeksie getoon (gemiddeld = 2.5%) terwyl PI 567616 en PI 603166 hoër ontblaring persentasies en roes infeksie getoon het in vergelyking met die ander kultivars wat geëvalueer is. Hierdie 3 genotipes is in die glashuis geplant om data te bevestig.

'n Kort, medium en lang seisoen variteit naamlik PAN 4545RP, SNK 500 en LS 678 is geplant op vyf geselekteerde plantdatums by Cedara om die verhouding tussen gasheer fisiologie en vatbaarheid vir die siekte vas te stel. Gemiddelde roes lesing het gewissel van 5% in SNK 500 tot 25% in PAN 1454 RR. Laasgenoemde is egter 'n kort seisoen groeier en neig meer om die effek van siekte te ontwyk as ander kultivars.

'n Doel van die studie is om fisiologiese merkers wat geassosieer word met variasie in die reaksie van sojabone op die roes patogeen te identi­fiseer, veral die wat geassosieer word met vertraagde aanvang van die siekte en 'n vertraging in siekteontwikkelingstempo. Blare is versamel op R3 groeistadium om intersellulêre vloeistowwe te ekstraheer. Blare is gewas en gedroog met 'n natriumasetaat buffer (pH 5.2) en onder 'n vakuumbuis geplaas vir 5 min. Blare is gedroog en in sentrifuge buise geplaas en gesentrifugeer by 2000 o.p.m. vir 10 min by 4ºC. Die intersellulêre vloei­stowwe is in Eppendorfbuise geplaas en in die vrieskas gestoor tot verder gebruik. Die vloeistowwe sowel as die blare word gebruik vir die bepaling van PR proteïene (β-1.3 glukanase, peroksidase en chitinase) ensieme (PAL peroksidase), totale en spesifieke fenole, asook die totale koolhidrate. Analise van die komponente word tans uitgevoer.

Persele van SNK 500 (vatbaar) is geplant en verskillende vlakke van Ureum en KAN is by die grond toegevoeg. 'n Verskil in die tyd van siekte voorkoms en finale roes intensiteit is waargeneem tussen die behandelde en onbehandelde blokke. Hoër lesings is waargeneem in blokke met lae kunsmis konsentrasies en kontrole blokke. Kontrole blokke met geen kunsmis en geen rhizobium het hoër siekte intensiteit en 'n hoër tempo van ontblaring getoon wat aandui dat gasheer groeikragtigheid en verlengde periodes van sellulêre aktiwiteit 'n rol speel in die vertraging van siekte voorkoms en ontwikkeling. Die proewe word gebruik as 'n bron om die rol van variasie in die proteïene, ensieme, fenole asook koolhidraat studies op roes ontwikkeling te bepaal en om die variasie in die fotosintetiese (chlorofil fluoressensie) aktiwiteite vas te stel, in vergelyking met die kontrole blokke met geen byvoegings.


6.9

 

Die gebruik van silikon om sojaboonroes te beheer (phakopsora pachyrhizi)


D Visser en P Caldwell
Universiteit van KwaZulu-Natal

Die effek van worteltoegevoegde kaliumsilikaat op die beheer van sojaboonroes

Doel: Om die effek van wortel-toegevoegde kaliumsilikaat op die beheer van sojaboonroes te bepaal.

Materiaal en Metodes: Sojaboonsaad (LS 6161) gaan in potte geplant word en in 'n kweekhuis gehou word. Silikon (Si) teen 0, 100, 500, 1000, 1500 en 2000mg/liter sal bygevoeg word deur die potte vir 4 weke te week. pH en KCL (kaliumchloried) kontroles sal bygevoeg word. Plante sal geïno­kuleer word en in 'n doukamer gehou word vir 24 uur. Hierna sal plante in die Conviron gesit word en ge-evalueer word vir die hoeveelheid postules wat per letsel voorkom asook die grootte van die letsels 21 dae na inokulasie.

Sojaboonsaad (LS6161) is vir die veldproef op Cedara gebruik en is in plotte van 3 x 1.75m elk geplant in die 2009/2010 seisoen. Behandelings sluit in: nie-inge-ente kontrole, Punch C, Punch C en 2000 mg/liter KCL, half sterkte Punch C en 2000 mg/liter KCL, half sterkte Punch C, 1000 mg/liter KCL, 2000 mg/liter KCL (2 toedienings) en 3 stadigvrystellende silikonkunsmis soorte teen 3 snelhede elk. Grond monsters is geneem voor- en na Si toediening en geanaliseer vir Si konsentrasie. Plante is gegradeer vir persentasie siekte simptome en die AOSOK (area onder die siekte ontwikkelingskurwe) is bepaal. Oesgrootte is ook bepaal.

'n Versnelde rypwordingstoets sal ook op die saad gedoen word. Ses-en-dertig sade van elke behandeling sal verwyder en getoets word om te bepaal of die wortel byvoegings van Si die stoortyd van sojaboonsaad volgens die Internasionale Saad Toetsing Vereniging (ISTV) verleng kan word.

Status: Potproewe moet nog gedoen word gedurende November/Desember 2010 (gedurende die somer seisoen). Veldproewe wat gedoen is in die 2007/2008 seisoen op Baynesfield is geanaliseer. Die proef is sedertdien verander en voltooi (2008/2009) op Cedara. Verdere veranderings is gedoen en die proef is voltooi gedurende die 2009/2010 seisoen op Cedara. Die AOSOK is bereken en die proef is geoes. Die oes word tans uitge­werk vir die 2009/2010 seisoen. Die proef sal herhaal word in die volgende seisoen (2010/2011) op Cedara. Spesiale rypword versnellende ver­ouderings toestelle word tans gebou vir saadtoetsing. Die saadtoets behoort binne die volgende maand gedoen te word.

Die effek van kaliumsilikaat as 'n blaartoediening op die beheer van sojaboonroes.

Doel: Om te bepaal wat die effek van kaliumsilikaat as 'n blaartoediening op die beheer van sojaboonroes is.

Materiaal en Metodes: Sojaboonsaad (LS 6161) is in potte geplant in 'n kweekhuis. Kaliumsilikaat teen 0, 250, 1000 en 2000mg/liter is toegedien totdat dit afgeloop het met 'n hand sproeier in die V4 groei fase. 'n pH en KCL kontrole was ingesluit, asook 'n Punch C kontrole en twee stadig silikon vrystellende kunsmisstowwe. Vier-en-twintig uur nadat die silikon toegedien is, is die plante met uredoespore geïnokuleer en in 'n dou­kamer geplaas vir 24 uur. Die plante is daarna na die Conviron geneem vir die oorblywende gedeelte van die proef. Plante sal ge-evalueer word vir die hoeveelheid postules per vlek asook vlek grootte 21 dae na inokulasie.

Sojaboonsaad (LS 6161) is in veldproewe op Cedara geplant (2009/2010) in plotte, 3 x 1.75m. Plante is met 0, 1000, 2000 en 4000mg/liter silikon bespuit tot afloop plaasgevind het. Behandelings is toegepas op die V6, R1 en R4 groeifases. Grondmonsters is geneem voor en na die toediening van Si en is ontleed vir die Si konsentrasie. Plante is vir die persentasie siekte gegradeer en die AOSOK is bepaal. Oesopbrengs is ook gemeet.

'n Versnelde verouderingstoets sal op saad afkomstig van die veld gedoen word. Ses-en-dertig sade van elke behandeling sal verwyder en getoets word volgens die Internasionale Saad toets Vereniging se bepalings om te bepaal of die gebruik van 'n silikon blaartoediening die stoorlewe van sojabone sal verleng.

Status: 'n Veldproef is in die 2009/2010 seisoen op Cedara uitgevoer en die oesopbrengs word tans bepaal. Die proef sal in die 2010/2011 seisoen op Cedara herhaal word. 'n Voorlopige glashuisproef is gedoen en die plante sal in die middel van Junie ge-evalueer word. Sodra resultate verkry is sal 'n verdere proef gedoen word. Versnelde verouderings toerusting word tans spesiaal gebou vir die toetse op die veldsade. Hierdie toetse sal binne die volgende maand gedoen word.

Die opneem en verspreiding van silikon in sojabone

Doel: Om die hoeveelheid en verspreiding van gedeponeerde- en oplosbare silikon in die verskillende dele van die sojaboon plant te bepaal met behulp van 'n waterkultuur en waterversadigings toestande.

Materiaal en Metodes: Vir gedeponeerde silikon is sojaboonsaad verbou in 'n waterkultuur (onder ideale toestande) en in die glashuis (druipnat - onder veld omstandighede). Silikon is vir 6 weke toegedien teen 0, 50, 100, 150, 200, 250, 300, 400 en 500 mg/liter en 0, 50, 100, 250, 500, 1000, 1500 en 2000mg/liter respektiewelik. Plante is onder vier kategorieë geoes: wortel, stingel, jong blare en ou blare en is verteer deur die gebruik van 'n Mikrogolf Versnelde Reaksie Sisteem (MVRS). Monsters is geanaliseer met die Gekoppelde Plasma Optiese Vrylating Spektrofotometer (Couple Plasma Optical Emission Spectrophotometer vir silikon, kalsium, kalium, fosfor en mangaan. Vir oplosbare silikon is die proef gedoen soos hierbo uiteengesit, plant blare is geoes, en 1g vars gekneusde blaarweefsel is ge-ultrasonifieerd (om selle op te breek) in 10 ml water en oornag geskud by 4ºC. Die monsters is daarna twee keer gesentrifugeer en die bovloeistof gedekanteer en geanaliseer met die ICP-OES proses (soos hierbo).

Status: As gevolg van probleme wat ondervind is met die flits van die ICP, moet ontledings nog gedoen word op die nuwe gespesialiseerde flits wat gekoop is. Ontledings sal tydens die wintermaande van 2010 gedoen word. Elekton mikroskopie/EDX moet ook nog gedoen word. Die oplosbare silikon proef is gedoen en die resultate sal in die volgende paar maande ontleed word.

Finansiële implikasies met die gebruik van silikon in die beheer van sojaboon roes

Moet nog bepaal word.

Die fisiologiese effekte van silikon op sojabone wat aan koue stremming blootgestel was

Moet nog gedoen word.


6.10

 

Die ontwikkeling van bestuurs-georiënteerde kaarte vir lantermyn sojaboonroes vatbare areas in Suid-Afrika


L van Niekerk en P Caldwell
Universiteit van KwaZulu-Natal

Sojaboonroes (SBR), wat deur die fungus Phakopsora pachyrhizi Syd., veroorsaak word, is 'n ernstige bedreiging vir sojaboonproduksie in Suid Afrika. Die fungus se vermoë om vinnig te versprei en potensiaal om ernstige oesverliese te veroorsaak, het aan dit die reputasie as die mees destruktiewe blaarsiekte vir sojaboon besorg. Sedert SBR se aankoms in Suid Afrika in 2001 is dit nog elke jaar in sojabone gerapporteer. Al­hoewel uitgebreide navorsing gedoen is op die epidemiologie asook die toediening van swamdoders in Suid Afrika, is nog geen navorsing op die langtermyn klimatologiese kwesbaarheid van sojaboon produserende areas vir SBR gedoen nie. Dit beteken dat sojaboonboere nie weet of SBR 'n bedreiging in hulle gebiede is nie. Met hierdie navorsing is 'n SBR algoritme verkry deur geredelik beskikbare klimaat data, soos temperatuur en reënval, te gebruik om 'n daaglikse indeks te ontwikkel wat die klimatologiese kwesbaarheid van SBR spesifiseer. Die algoritme is toegepas op 'n 50 jaar historiese klimaat data basis en 'n reeks kaarte is geskep wat die langtermyn kwesbaarheid van verskillende gebiede ten opsigte van SBR infeksie illustreer. Hierdie kaarte stel sojaboonprodusente in staat om die klimatologiese kwesbaarheid van hulle gebied in terme van SBR infeksie te verstaan. Tydsgrafieke is geskep vir sommige belangrike sojaboon-produksie gebiede om produsente toe te laat om gedurende die seisoen tussen periodes van hoë en lae klimatologiese risiko's te onderskei. Dit mag help met planttyd keuses, die tempo na volwassenheid van verskil­lende variëteite asook die tydsberekening en toediening van swamdoders. Die raamwerk vir 'n intydse voorspellingsisteem is geskep wat wys dat die sisteem onlangs genoteerde- en voorspellings weerdata kan saamvoeg, dit deur die SBR algoritme kan stuur en 'n intydse algoritme sowel as kwesbaarheid kan voorspel gebaseer op die klimatologiese riglyne vir SBR infeksie. Voorsienbare beperkings en probleme met die vordering van 'n voorspellingsisteem word ook bespreek.


6.11

 

Studie van inokulasie en siekte evaluasie tegnieke vir sclerotinia stamvrot by sojabone


NW McLaren en C Botha
Universiteit van die Vrystaat

In 2008/2009 is sojaboonkultivars en lyne in Greytown geplant vir veld evaluasie teen Sclerotinia stamvrot. Geen siekte is waargeneem nie. Hierdie kultivars en alternatiewe kiemplasma is dus in die glashuis geëvalueer. Plante is geïnokuleer op V3 groeistadium deur gebruik te maak van die spuit-miselium-metode. Plante is daarna in 'n tent geplaas om 'n hoë relatiewe humiditeit te handhaaf en infeksie te bevorder. Na 6 dae is die tent verwyder en siekte is geëvalueer met behulp van 'n skaal vir blaarskade en verwelking. Gemiddelde waardes vir blaarskade het gewissel van 2.6 tot 4.3 op 'n skaal van 0-5. Dundee was die meeste vatbaar van die kultivars wat geëvalueer is. Kultivars PAN 1583 R, PAN 1652 en LS 6162 R het vlakke van weerstand getoon. Soortgelyk is verwelking gemiddeldes van 36.6%-86.6% waargeneem en PAN 1652, PAN 1583 R en LS 6162 R het die laagste vlakke van verwelking getoon. LEX 2257 R het die hoogste vlak van verwelking getoon met 'n gemiddeld van 86.6%, gevolg deur Dundee met 83.3%.

Gedurende die 2009/2010 seisoen is sojaboonlyne en -kultivars weer in die veld geplant (Greytown, Pannar) vir Sclerotinia stamvrot evaluasie. Vier plantdatums is gebruik met intervalle van 2 weke om verskillende omgewingstoestande te skep gedurende die kritiese stadiums van plantont­wikkeling. By blomstadium is die plante geïnokuleer met 'n sorghumgraan metode. Ongeveer 4 weke na inokulasie is plante geëvalueer vir siekte voorkoms. Hierdie evaluasies het getoon dat PHB 96 B01, PHB 96 B53, LEX 1235 R die hoogste voorkoms van siekte gehad het. Gedurende die tweede planting het PHB 96 B01 en PHB 96 B53, LEX 1235 R en IBIS 2000 die grootste siekte voorkoms gehad. Data vanaf die proewe sal gebruik word om siekte potensiaal x waargenome-voorkoms-reaksie grafieke op te stel vir risiko analise. Hierdie kultivars sal ook in die glashuis geplant word om die data te bevestig.

Veld data sal ook dien vir die weer-databasis wat opgestel is met die doel om presiese toestande vas te stel wat gunstig is vir siekte ontwikkeling en om 'n risiko-analise model te ontwikkel.

Patogenisiteitstoetse is met S. sclerotiorum isolate gedoen in die glashuis op twee kultivars naamlik SNK 500, ('n vatbare kultivar) en Egret, ('n matige weerstandbiedende kultivar). Plante is geïnokuleer met die spuit-miselium-metode. Potte is met plastieksakke toegemaak om hoë humi­diteit te verseker. Na nege dae is die sakke verwyder, die aantal dooie plante is getel en die blaarskade asook die verwelking van die twee kultivars is geëvalueer. Gemiddelde waardes het gewissel van 2.5 tot 4.0 op 'n skaal van 0-5 en isolaat 7 vanaf Kinross het die grootste blaarskade veroor­saak. 'n Merkbare verskil is waargeneem met die verwelking wat toegeskryf kan word aan die 18 isolate. 'n Betekenisvolle gasheer x patogeen interaksie is waargeneem en dit dui aan dat isolate wel gedeeltelik aangepas is vir spesifieke gasheer genotipes. Isolaat 7 het weereens die hoogste graad van verwelking getoon (gemiddeld van 80%) in vergelyking met isolaat 15 met 'n gemiddeld van 30%.

'n Aangepaste metode om oksaalsuur te ondersoek is gebruik op twee sojaboonkultivars om vas te stel of oksaalsuur toleransie verbind kan word met gasheer reaksie teen S. sclerotiorum aangesien oksaalsuur geassosieer word met patogenisiteit. Primêre blare is afgesny en petiole is onmid­dellik in water geplaas. Elke blaar is daarna in 'n buis met 'n spesifieke konsentrasie oksaalsuur geplaas en die blare is by kamertemperatuur ge­plaas vir 72 uur. Die persentasie van die blaar area wat bruin verrotting getoon het, is daagliks gemeet vir 3 dae. Agt konsentrasies is geëvalueer wat gewissel het van 0.5mM tot 80 mM. By die konsentrasie van 0.5 mM is geen betekenisvolle verskille waargeneem tussen die twee kultivars nie. Soos die konsentrasies egter verhoog het, is meer verbruining en nekrose by SNK 500 opgemerk as by Egret. By 40mM het SNK 500 'n ge­middeld van 61.8% by dag 1 getoon, 71.5% by dag 2 en 78.1% by dag 3. In vergelyking het Egret slegs 37.5% verbruining gedurende dag 1 getoon, 49.0% by dag 2 en 58.1% by dag 3. Die resultate toon dat oksaalsuur wel 'n primêre rol speel in Sclerotinia stamvrot ontwikkeling, veral wanneer die siekte voorkom by 'n vatbare kultivar.


6.12

 

Beheer van Rhizoctonia solani en Pythium spp. in sojabone (glycine max), lupiene (lupinus spp.) en kanola met die gebruik van Ttrichoderma in silikon


R Bosse, S Jadoo, P Mzimela en P Caldwell
Plantpatologie Dissipline, Skool vir Agriwetenskappe en Agribesigheid, Universiteit van KwaZulu-Natal

Rhizoctonia solani en Pythium spp. is patogene wat verantwoordelik is vir saad en saailing siektes in baie gewasse. Hierdie patogene is dodelik en veroorsaak swak ontkieming en oesverliese. Bewyse is gelewer dat Silikon (Si) as 'n komponent in plant weerstandbiedendheid teen biotiese- sowel as abiotiese stremming optree. Weerstandbiedendheid in plante kan geassosieer word met hoë Si neerleggings in die blaar waar dit as 'n meganiese hindernis op die epidermis selle optree en sodoende patogeen indringing of penetrasie voorkom. Daar is ook bewys dat silikon gasheer afweringsmeganismes aktiveer. Die doel van hierdie proef was om die groei bevorderingsaktiwiteite van Si (toegedien as kaliumsilikaat en Trichoderma (Eco-T®)) op sojabone, lupiene en kanola te bepaal. Beheer van R. solani en Pythium is ook ondersoek. Geïnokuleerde garssaad is in die patogeen-beheer-proef gebruik maar geen patogene is in die groei bevorderingsproef gebruik nie. Vyf behandelings is ondersoek naamlik 200 mgl-1 Si en KOH (om die kalium ione te balanseer in die kaliumsilikaat), Eco-T®, 200 mgl-1 Si en Eco-T® en 'n kontrole met KCl (om die potensiële pH effekte van die kaliumsilikaat te ondersoek). Potproewe is gebruik om die stingelbiomassa van die plante te meet terwyl risotrone gebruik is om die worteloppervlak, wortelbiomassa en wortellengte te meet. Resultate het getoon dat die kombinasie van 200 mgl-1 Si plus Eco-T® die beste resultate vir al die gewasse wat ondersoek is, gegee het. Groei bevorderings studies het getoon dat die toediening van 200 mgl-1 Si en Eco-T® 'n betekenisvolle toename in stingelbiomassa (22.45 g), wortelarea (14.66 cm²), wortelbiomassa (0.22 g) en wortellengte (143.25 cm) gehad het in vergelyking met die kontrole (wat respektiewelik 14.64g, 7.32 cm², 0.15g en 105.17 cm was). Soortgelyke resultate is bevind in die Phytium beheerde proewe waar die toevoeging van 200 mgl-1 Si en Eco-T® 'n betekenisvolle toename in stingelbiomassa (19.74 g), wortel­oppervlakte (9.77 cm²), wortelbiomassa (0.093 g) en wortellengte (140.93 cm) getoon het. Die patroon is herhaal in die R. solani beheerde proewe met soortgelyke resultate waar 'n toediening van 200 mgl-1 Si en Eco-T® 'n betekenisvolle verhoging in stingelbiomassa (20.45 g), wortelopper­vlakte (8.98 cm²), wortelbiomassa (0.094 g) en wortellengte (131.2 cm) in vergelyking met die kontrole (7.45 g, 5.05 cm², 0.032 g en 65.89 cm respektiewelik), gehad het. Dit wil voorkom dat Eco-T® die saad beskerm teen R. solani en Pythium voordat wortelontwikkeling plaasvind, maar wanneer wortels ontwikkel, die Si wat deur die plant opgeneem is, die penetrasie van patogene in die wortel area verhoed. Die resultate wat verkry is met die toediening van 200 mgl-1 Si en Eco-T® op lupiene en kanola in hierdie proef het soortgelyke resultate opgelewer in terme van wortel­biomassa, wortellengte en worteloppervlakte en goeie beheer van R. solani en Pythium is verkry, in vergelyking met die kontrole.


6.13

 

Super Sojakompetisie, KwaZulu-Natal


C Havenga
Kontrakteur, Proteïennavorsingstigting

Die Supersoja-kompetisie in KwaZulu-Natal is nou reeds 20 jaar aan die gang en belangstelling en deelname neem steeds toe. Die afgelope seisoen is daar besluit om weer die Noordelike en Suidelike Kompetisies te kombineer as een gesamentlike kompetisie.

Bergville-Winterton gebied het 26 inskrywings gehad, Newcastle-Dundee 17 en Vryheid 14 inskrywings.

Die belangrikste aspek van hierdie kompetisie is dat dit 'n geleentheid skep vir produsente om kennis en ondervinding uit te ruil en bewus te raak van verskillende produksie-praktyke wat toegepas kan word en om dit met die resultate verkry te evalueer. Hier kry produsente en landbou­kun­diges ook die geleentheid om gedagtes, kennis en ondervinding uit te ruil.

Afgelope seisoen se Supersoja-kompetisie opbrengste het tussen 1.83 ton/ha en 5.75 ton/ha gewissel. Die gemiddelde opbrengs was 3.32 ton/ha wat beter is as die vorige seisoen se 2.8 ton/ha. Gemiddelde opbrengs onder besproeiing was 3.6 ton/ha, wat slegs effens hoër as die droëland gemiddelde van 3.23 ton/ha is. Die hoogste opbrengs onder droëland-verbouing was 5.57 ton/ha.

Proteïeninhoud was bevredigend tot baie goed. Die proteïeninhoud het tussen 35.5% en 40% (vogvry) gewissel met 'n gemiddelde inhoud van 39%, wat effens laer as die vorige seisoen se 39.9% is. Een en negentig persent (91%) van die ingeskrewe lande se proteïeninhoud was bo die aanvaar­bare minimum van 37% (vogvry) gewees. In Tabel 1 word die langtermyn gemiddelde proteïeninhoud van die Supersoja-kompetisie aangetoon. Hieruit kan gesien word dat vanaf oesjaar 1997 was die gemiddelde proteïeninhoud elke jaar meer as die aanvaarbare minimum van 37%. Olie­inhoud het op 'n vogvrye basis tussen 16.46% en 21.16% gewissel. Die gemiddelde olie-inhoud was 19.1% wat effens laer as die vorige seisoen is (kyk Tabel 1).

'n Opsomming van die gemiddelde opbrengste, proteïen- en olie-inhoud en gelykbreek opbrengste sedert die begin van die kompetisie word in Tabel 1 aangedui.

Tabel 1
Historiese opbrengs, proteïeninhoud data
Seisoen Gemiddelde opbrengs
(tons/ha)
Gemiddelde proteïen
%
Gelykbreek opbrengs
(tons/ha)
Aantal inskrywings
1989/90 1.69   1.14 12
1990/91 2.35 35.8 1.13 21
1991/92 2.10 38.3 0.99 18
1992/93 2.12 35.3 1.09 23
1993/94 2.92 38.9 1.18 26
1994/95 2.52 35.7 1.29 25
1995/96 2.31 36.9 1.32 33
1996/97 3.01 38.7 1.04 42
1997/98 3.23 38.8 1.54 47
1998/99 2.69 39.5 1.69 42
1999/00 2.93 42.8 1.45 31
2000/01 2.89 40.1 1.43 43
2001/02 3.01 41.2 1.08 38
2002/03 3.03 40.7 1.84 29
2003/04 3.38 41.9 1.54 24
2004/05 3.18 40.6 1.84 31
2005/06 3.71 41.9 1.15 46
2006/07 2.75 39.1 0.98 46
2007/08 3.17 39.9 0.82 50
2008/09 3.32 39.0 1.55 57

Vooroes-produksiekoste van deelnemers het, teenoor die vorige seisoen, amper verdubbel en het met R1996-44/ha toegeneem. Die gelykbreek oesopbrengs van 1.55 ton/ha is die hoogste die afgelope 4 seisoene (Tabel 1).

Deelnemers het 20 verskillende cultivars ingeskryf waarvan 91% "Roundup Ready" cultivars was.

Die afgelope aantal jare het produsente wegbeweeg van die gebruik van rysterplaat- en skottelploeë en na die gebruik van beitelploeë en skottelêe oorbeweeg. Minimum-bewerking en geenbewerking "No-till" word almeer toegepas en het 69% van die deelnemers die afgelope seisoen geen­bewerking "No-till" toegepas. Een deelnemer het sy lande geploeg en die res van die deelnemers (28%) het hul lande met 'n beitelploeg of skottel-­eg bewerk.

Hierdie kompetisie skep 'n geleentheid om produksie-praktyke te boekstaaf, te evalueer en sodoende produksie-probleme te identifiseer wat weer kan lei tot navorsingsprojekte om dit op te los.


6.14

 

Kultivarevaluasie van olie en proteïensade in die winterreënstreek


PJA Lombard
Instituut vir Plantproduksie, Departement van Landbou: Wes-Kaap

Gedurende die 2009 seisoen was die klimaatstoestande in die Swartland baie gunstig vir gewasverbouing, maar die opbrengste was nie buiten­gewoon goed nie. Sterk winde net voor en tydens oestyd het heelwat verliese tot gevolg gehad. Die algemene landboutoestande in die Suid-Kaap was ongelukkig minder gunstig vir gewasproduksie.

Die Departement van Landbou: Wes-Kaap het gedurende die 2009 seisoen 14 canolakultivarproewe in die Wes- en Suid-Kaap aangeplant. In die Swartland was die gemiddelde opbrengste baie laer as in 2008 (1.664 ton/ha teenoor 2.45 ton/ha in 2008). Die opbrengste het gewissel tussen 1.46 ton/ha (Langgewens 2) tot 1.938 kg/ha by Malmesbury. In die Swartland was die konvensionele kultivar AV Garnet die beste produseerder met gemiddeld 2.148 ton/ha. Daar was 3 basterkultivars wat nie betekenisvol van AV Garnet verskil het nie, naamlik 44Y06, AGA Max en die "Clearfield" basterkultivar 45Y77. Die gemiddelde proefopbrengs van die baster Triumph Jardee TT (1.737 ton/ha) en Thunder TT (1.705 ton/ha) was die hoogste in die triasien tolerante (TT) groep, hoewel nie betekenisvol beter as Bravo TT nie.

In die Suid-Kaap het die gemiddelde opbrengs per proef gewissel van 1.571 ton/ha by Klipdale tot 1.954 ton/ha by Tygerhoek 1. AV Garnet het ook die hoogste gemiddelde opbrengs in die Suid-Kaap gegee. Die basterkultivars AGA Max, Hyola 61 en die Cl-basterkultivar 45Y77 het nie betekenis­vol van AV Garnet verskil nie. In die TT-groep in die Suid-Kaap het Thunder TT die hoogste gemiddelde opbrengs gegee, maar was nie betekenisvol beter as die TT-baster Triumph Jardee TT, ATR Cobbler, en Tornado TT nie.


6.15

 

Bepaling van graanverliese van canola gedurende rypwording en oes in die Wes-Kaap


JA Strauss
Instituut vir Plantproduksie, Departement van Landbou: Wes-Kaap

Verskeie produsente het hewige verliese in opbrengs waargeneem as gevolg van 'n kombinasie van natuurlike verliese (wat ongunstige weers­omstandighede tydens rypwording insluit) en verliese as gevolg van die oesproses. Verskeie jare se potensiële opbrengsbepalings het getoon dat die potensiaal selde bereik word. Waarnemings gedurende die 2009 seisoen tussen plase het 'n berekende gemiddelde verlies van 722 kg/ha getoon. Teen die huidige canola prys beloop dit sowat R2 093 per ha. Voorkombare opbrengsverliese maak dit tans moeilik vir die canola bedryf vanweë die persepsie dat dit nie so winsgewend soos koringproduksie is nie. Hierdie studie bestaan uit 'n staties gerepliseerde proef, wat albei oesmetodes insluit asook die gebruik van 'n middel wat peule teen oopspring beskerm (gerandamiseerde blok ontwerp) en 'n plaasopname in die Swartland en Suid-Kaap. Tydens die tweede jaar van die proef het die plaasopname verliese van 33% (platsny) en 37% vir staande canola opge­lewer. Die statistiese proef het verliese van 12% vir platgesnyde canola getoon en 28% vir die direkte gestroopte behandeling. Daar was nog steeds net soos in die vorige seisoen groot verliese tydens die oesproses. Die afgelope seisoen het ook die negatiewe effek van wind op canola uitgelig. Tellings van tot 900 sade per bak is waargeneem.


6.16

 

N-bemesting van canola gebaseer op N-mineralisasie en loging


GA Agenbag
Universiteit Stellenbosch

Navorsing is gedurende 2009 voortgesit deur veldeksperimente op Langgewens-, Elsenburg-, Welgevallen- en Roodebloem Proefplase met toe­nemende N-peile (0 tot 120kg N ha-1) en toedieningsmetodes (breedwerpig toegedien teenoor gebandplaas), maar die proef op Welgevallen moes weens versuipte grondtoestande vir die tweede agtereenvolgende jaar afgeskryf word. Grondontledings is op alle lokaliteite met planttyd gedoen, terwyl plantont-ledings op Langgewens en Elsenburg gedoen is op 90 dae na plant op die persele waar geen stikstof toegedien is, en waar 90 kg N ha-1 toegedien is.

Grondontledings op Elsenburg het sub-optimale pH (<5.0 pHKCl) waardes getoon terwyl S op alle lokaliteite op gebrekkige inhoude (<6.0 mg kg-1) gedui het. Aangesien superfosfaat (12% S) as P bron gebruik is, is ongeveer 15 kg S ha-1 op alle lokaliteite toegedien saam met die fosfaat­bemesting. Plantontledings op 90 dae na plant het nogtans op beide Langgewens en Elsenburg, sub-optimale S inhoude (<0.5%) getoon, terwyl Na-inhoude met waardes van soveel as 11 000 mg kg-1, soos in die verlede oor die algemeen baie hoog was vergeleke met die algemene norme van 300-5000 mg kg-1. Op Langgewens het die Na-inhoud van plante toegeneem met hoë stikstof toedieningpeile, maar op Elsenburg is die teenoorgestelde neiging waargeneem. Die % koolstof (% C) in die grond het gewissel tussen 0.35% op Langgewens; 0.63% op Elsenburg en 1.51% op Roodebloem. N-leweringspotensiaal van die grond oor die eerste 40 dae na plant is bereken as 54.8 kg N ha-1 op Langgewens; 73.5 kg, N ha-1 op Elsenburg en 76.7 kg N ha-1 op Roodebloem in die 0-20 cm grondprofiel. Stikstofinhoude van plante op 90 dae na plant is verhoog deur die toediening van 90 kg N ha-1, maar was sonder enige N toediening (0 kg N ha -1) steeds bo die aanvaarde norm van 0.35%.

Graanopbrengste het, soos in vorige jare grootliks gevarieer tussen lokaliteite weens verskille in reënval en ook genoemde verskille in stikstof­lewerings­potensiaal van die grond. Op Langgewens, waar die grond na berekening 54.8 kg N ha-1 oor die eerste 40 dae na plant gelewer het, is 'n opbrengs van 1182.9 kg ha-1 sonder enige stikstofbemesting geproduseer. Op Elsenburg en Roodebloem, waar die grond na berekening onder­skeidelik 73.5 kg, N ha-1 en 76.7 kg N ha-1 gelewer het, is opbrengste van 2130.0 en 1379.2 kg ha-1 sonder enige N-bemesting geproduseer. Die hoër as verwagte opbrengs op Elsenburg kan waarskynlik toeskryf word aan die dieper grond, maar ook omdat sub-persele van 1.0 m² gedurende die fisiologiese rypstadium gesny, kunsmatig gedroog en onder laboratorium toestande gedors is om voëlskade te voorkom. Op Langgewens en Roodebloem is die hele perseel direk gestroop en was die oesverliese waarskynlik ook groter.

Graanopbrengs het op alle lokaliteite toegeneem met toenemende N-peile en die hoogste opbrengste wat gewissel het tussen 1513.2 kg ha-1 op Langgewens, 1949.5 kg ha-1 op Roodebloem en 3155.2 kg ha-1 op Elsenburg is behaal met N-peile van 90-120 kg N ha-1. Die agronomiese effektiwiteit van N toedienings (kg opbrengsverhoging per kg N toegedien) het gewissel tussen 2.9 op Langgewens, 4.8 op Roodebloem en 8.5 op Elsenburg. Bandgeplaasde N-toedienings was ook meer effektief as breedwerpig toegediende N-bemesting met opbrengsverhogings van 3.0 tot 8.4% vir dieselfde N-toedieningspeil. Op Langgewens en Roodebloem is die beste resultate behaal met die laaste stikstoftoediening op 60 dae na plant, terwyl 'n toediening op 90 dae op Elsenburg tot 'n opbrengsverhoging aanleiding gegee het.


6.17

 

S-bemestingsbehoeftes van canola in die produksiegebiede van die Wes-Kaap


GA Agenbag
Universiteit Stellenbosch

Proewe met drie S-peile (0, 15 en 30 kg S ha-1) in kombinasie met 5 stikstofpeile (0, 30, 60, 90 en 120 kg N ha-1) is gedurende 2009 aangeplant op vier lokaliteite waarvan een (Welgevallen Proefplaas) weens baie nat toestande misluk het. S-inhoud van die grond op die ander lokaliteite het gewissel tussen 2.2 mg kg-1 op Elsenburg, 2.8 mg kg-1 op Langgewens en 3.2 mg kg-1 op Roodebloem en was dus op alle lokaliteite veel laer as die vereiste van 6 mg kg-1. Volgens berekening was die stikstofleweringspotensiaal van die 0-20 cm grondprofiel oor die eerste 40 dae na planttyd as volg: 54.8 kg N ha-1 op Langgewens; 73.5 kg N ha-1 op Elsenburg en 76.7 kg N ha-1 op Roodebloem.

Die graanopbrengs van canola het op alle lokaliteite toegeneem met 'n toename in N-bemestingspeil. Op Langgewens het die opbrengs toegeneem van 889.5 kg ha-1 met geen N-bemesting tot 1439.0 kg ha-1 waar 120 kg N ha-1 toegedien is. Op Roodebloem het dit toegeneem vanaf 1122.9 kg ha-1 met geen N-bemesting tot 2101.9 kg ha-1 waar 120 kg N ha-1 toegedien is, terwyl dit op Elsenburg toegeneem het van 2260.0 kg ha-1 met geen N tot 3682.6 kg ha-1 met 120 kg N ha-1. Die hoë opbrengste op Elsenburg kan toegeskryf word aan die gunstiger klimaat en dieper grond op hierdie lokaliteit en omdat daar weens voëlskade op hierdie lokaliteit slegs sub-persele van 1.0 m² geoes is. Die sub-persele is tydens die fisio­lo­giese rypstadium afgesny, kunsmatig gedroog en onder laboratorium toestande ge-oes om enige oesverliese te voorkom. Die opbrengsreaksie teenoor S-bemesting was nie baie duidelik, maar het oor die algemeen tot hoër opbrengste aanleiding gegee. Betekenisvolle interaksies tussen S- en N-peile op alle lokaliteite het op groter S-reaksies by die hoër in vergeleke met die laer N-peile, gedui. Chemiese ontledings van die plante op 90 dae na plant, het getoon dat S-inhoud van die blare op alle lokaliteite op S-tekorte (< 0.5%) dui, ongeag die S-bemestingspeil. Hoër S-toedieningspeile en/of verdeelde toedienings sal gevolglik oorweeg moet word.


6.18

 

Optimale grondbewerkingsmetodes en N-bemestingspeile vir gebruik in 'n koring / canola / koring / lupien en koring monokultuurstelsels in die Swartland produksiegebied


GA Agenbag
Universiteit Stellenbosch

In hierdie studie word die invloed van verskillende grondbewerkingsmetodes op grondvrugbaarheid en gewasopbrengste reeds vir meer as 30 jaar en twee wisselboustelsels vir meer as 15 jaar nagevors op Langgewens Proefplaas. Verskillende N-toedieningspeile word sedert die jaar 2000 getoets.

Gedurende 2009 is beide koring en canola verbou en opbrengste was oor die algemeen laag weens baie strawwe onkruidbesmettings. Vanweë meer suksesvolle onkruidbeheer met die gebruik van simasien in die triasien tolerante canola was die opbrengs gemiddelde van canola (1429 kg ha-1) ietwat hoër as die van koring (1331 kg ha-1) wat in 'n monokultuurstelsel verbou is. Canola het ook beter gereageer teenoor stikstof­be­mesting en die opbrengs het toegeneem vanaf 'n gemiddelde van 864.7 kg ha-1 met 'n toediening van 20 kg N ha-1 tot 'n gemiddelde van 1863.7 kg ha-1 waar 100 kg N ha-1 toegedien is. Met dieselfde verhoging in stikstofbemesting het die opbrengs van koring toegeneem van 'n gemiddelde van 1171.0 kg ha-1 tot 'n gemiddelde van 1573.7 kg ha-1. In die koringmonokultuurstelsel is die hoogste opbrengs van 2070 kg ha-1 (gemiddelde oor N-peile) behaal met konvensionele grond bewerkingsmetodes wat 'n skaarploegbewerking insluit. Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan die beter meganiese onkruidbeheer van hierdie stelsel, asook hoër tempo van N-mineralisasie. In die geval van canola is die hoogste gemiddelde op­brengs (oor N-peile) van 2157.7 kg ha-1 ook verkry met die konvensionele grondbe-werkingstelsel. Die hoogste opbrengs van 2840 kg ha-1 is egter verkry waar 100 kg N ha-1 toegedien is en die canola in 'n stelsel van minimum bewerking (slegs een vlak beitelploegbewerking voor planttyd) verbou is.


6.19

 

Bestuur van onkruiddoderweerstand in die Wes-Kaap


PJ Pieterse
Universiteit Stellenbosch

Die hoof doelwitte van hierdie projek is om die mate van onkruid-doderweerstand in monsters wat uit die veld ingestuur word te bepaal asook die gevoeligheid van die onkruid vir alternatiewe onkruiddoder. Die invloed van verskillende produksiepraktyke op raaigrasgetalle in gewasse word ook ondersoek. Gedurende die 2009 seisoen is 24 onkruidmonsters getoets vir weerstand en van die 24 monsters was vier bestand teen 'n enkele on­kruiddoder, ses teen meer as een onkruiddoder uit dieselfde groep (meganisme van werking) onkruiddoders en 14 was bestand teen onkruiddoders uit meer as een groep. Daar is sonder twyfel bewys dat sommige wildehawer populasies weerstand teen glifosaat vertoon en daar is ook vir die eerste keer weerstand teen 'n mengsel van MCPA en bromoksinil gevind in Pentzia suffruticosa. Die ondersoek na invloed van verskillende pro­duksiepraktyke (bewerking en rotasie) op die voorkoms van raaigras op die Langgewens proefplaas is ook herhaal. Vir 2009 is gevind dat daar in Julie tussen 80 en 90% minder raaigras was in persele wat met 'n skaarploeg bewerk is as in persele wat met ander bewerkingsmetodes behandel is. Minimum bewerking persele het die grootste hoeveelheid raaigras in gehad en geenbewerking persele die tweede minste. Soortgelyke resultate is met 'n telling in September 2009 verkry alhoewel die verskille tussen die behandelings toe kleiner was (tussen 50 en 75 % minder raaigras in die skaarploeg persele). Wat rotasiestelsels betref, was daar nie verskille tussen die graan rotasiestelsels (koring, kanola en lupiene) en koring mono­kultuur in terme van raaigras getalle nie. Al die rotasies wat egter 'n eenjarige weidingskomponent ingesluit het, het ongeveer 90-95% minder raaigrasplante gehad as die graanrotasiestelsels. Die resultate bewys dat produksiepraktyke 'n rol kan speel om raaigrasprobleme te bestuur in die teenwoordigheid van onkruid-doderweerstand.


6.20

 

Ondersoek na die produksiedinamika van agt wisselbou-stelsels, insluitende koring, canola, lupiene en weiding-spesies in die Swartland, Wes-Kaap


JA Strauss, MB Hardy en SJA Laubscher
Instituut vir Plantproduksie, Departement van Landbou: Wes-Kaap

Ten spyte van lae reënval en droë grond toestande gedurende April en vroeg Mei, was die 2009 produksie seisoen geskik vir die verbouing van droëland gewasse en weidings. Die produksie seisoen (April tot Oktober) was gekenmerk deur gemiddelde reënval. Na 'n laat aanplanting (middel Mei) was die reën goed verspreid gedurende die seisoen. 'n Totale reënval van 306mm is gemeet van April tot Oktober. Die wydverspreide voor­koms van swaar neerslae gedurende November het nie die opbrengste van die proef beïnvloed nie, aangesien die proefperseel al klaar gestroop was teen daardie tyd.

Koringproduksie – Die bestuursriglyne soos ontwikkel deur die Tegniese Komitee is gevolg en aanpassings is gedurende die seisoen gedoen na aanleiding van die variërende produksie toestande. Die gemiddelde koring opbrengs oor alle produksie sisteme was 3490 kg/ha. Dit is ongeveer 400 kg/ha minder as die 2008 seisoen. Daar was weereens, soos in meeste vorige seisoene, duidelike verskille tussen die verskillende stelsels. Die opbrengs van koring op peulgewasweidings en lupiene was hoër as in al die ander stelsels. Koring na canola het ook hoër opbrengste getoon as die koring op koring en koring monokultuur stelsels.

Uit die data het dit geblyk dat die hoeveelheid are per plant 'n gemiddelde van 1.8 gelewer het. Die data het ook getoon dat beide die are per plant en die aardigtheid (are/m²) hoër was in die koring wat gevolg het op peulgewas-weidings. Die grootste hoeveelheid van die graan is as B1 en B2 geklas.

Canola- en lupienproduksie – Canola is op die 11de en 12de Mei geplant, maar na 3 weke het sommige van die kampe wat met Thunder en een kamp wat met 44Y06 geplant is, baie swak of glad nie ontkiem nie. Na daar ondersoek ingestel is, is 'n paar moontlike probleme geïdentifiseer. Dit het swak saad kiemkrag, siektes en slakke ingesluit en is daar toe besluit om die kampe wat geaffekteer is oor te plant op 10 Junie.

Die werklike opbrengste wat verkry is deur direkte stroop het gewissel tussen 492 kg/ha en 1992 kg/ha. Die opbrengs van canola na medic weiding (1428 kg/ha), wat 'n oorgeplante kamp insluit, was hoër as canola na koring (801 kg/ha). Die gemiddelde opbrengs was 945 kg/ha met 'n persen­tasie ruproteïen (%RP) van 21.8% en olie opbrengs van 33.46%.

In die lupiene was die gemiddelde opbrengs 587 kg/ha. Weens 'n hoë raaigras druk is daar besluit om een kamp dood te spuit en nie te oes nie. Die moontlike verklaring vir die swak opbrengs is afsterwing as gevolg van versuiptoestande. Verder het die raaigras druk ook sy tol ge-eis. Die gemid­delde ruproteïen was 27.24%.


6.21

 

Ekonomiese volhoubaarheid van kort- en langtermyn wisselbougewas/weidings produksiestelsels in die Suid-Kaap


MB Hardy, JA Strauss en W Langenhoven
Instituut vir Plantproduksie, Departement van Landbou: Wes-Kaap

Die jaar 2009 was die 8ste jaar van produksie. Die proef behels twee hoofkomponente naamlik: kortrotasiestelsels wat op Tygerhoekproefplaas naby Riviersonderend getoets word en langrotasiestelsels wat op plase in die Riversdal- en Swellendamdistrikte onderskeidelik getoets word. Let net op dat 2009 die 3de jaar van die 2de 5 jaar siklus van wisselbou is op die Riversdal en Swellendam lokaliteite.

Al drie die proef lokaliteite is geplant en bestuur in ooreenstemming met die beplande protokolle (dit sluit geskikte onkruid, siekte en insekbeheer in).

Beide die Riversdal en Swellendam lokaliteite het voldoende vog gedurende die seisoen ontvang, met die gevolg dat goeie opbrengste in koring en gars gerealiseer het. Die canola- en lupienpersele op Swellendam het egter nie die reënval weerspieël nie. Op Riversdal het lupiene egter uitste­kend gevaar.

Lae grondvog op Tygerhoek het veroorsaak dat die plantseisoen eers teen middel Mei 'n aanvang kon neem. Junie, Julie en Oktober het egter bo-normale reënval ontvang. Alle gewasse het dus goeie opbrengste gerealiseer.

Koringproduksie – Koring is op al drie lokaliteite geplant (SST027).

Die opbrengs op Riversdal het gewissel tussen 3.6 en 4.2 ton/ha. Hierdie opbrengs reflekteer die gunstige grondvog toestande op die lokaliteit ten spyte van die relatief lae reënval gedurende die laaste deel van die seisoen.

Die koringoes op Swellendam het gemiddeld 1431 kg/ha gelewer.

Op Tygerhoek was die gemiddelde opbrengste 3306 kg/ha (oor beide herhalings). Ten spyte van die laat aanvang van die seisoen het bo-gemiddelde Junie, Julie en Oktober reënval goeie opbrengste gelewer.

Die graan op Riversdal is as B2 geklassifiseer, terwyl Swellendam en Tygerhoek as B3 en B1 onderskeidelik geklassifiseer is.

Garsproduksie – Die gars kultivar SST 564 is op Swellendam en Tygerhoek geplant.

Die gemiddelde opbrengs op die Swellendam lokaliteit was 1606 kg/ha.

By Tygerhoek het die gars opbrengste gemiddeldes gewissel tussen 2.4 tot 3.7 ton/ha. Hierdie opbrengste was hoër as in die 2008 seisoen.

Hawerproduksie – Die kultivar Pallinap is slegs op Tygerhoek geplant. Saad opbrengs het gewissel van 2.8 tot 3.5 ton/ha.

Canolaproduksie – Op Riversdal is canola (Jade) geplant. As gevolg van die verkeerde onkruiddodertoediening is alle persele uitgewis en kon geen oes verkry word nie.

Jade is geplant op Swellendam teen 3 kg saad/ha en 20 kg N/ha. Thunder (TT) is geplant op Tygerhoek teen 'n saaidigtheid van 3.3 kg/ha en 'n totaal van 80 kg N/ha is oor die seisoen toegedien (20 kg N/ha met plant en 60 kg N/ha as topbemesting).

Die opbrengste van Swellendam was baie laag en kon toegeskryf word aan swak ontkieming aan die begin van die seisoen. Die opbrengs was gemiddeld 435 kg/ha.

Die gemiddelde canola-opbrengs van Tygerhoek was 1362 kg/ha. Hierdie waarde is aanvaarbaar in ag genome die verwagting van die streek. Baie sterk stormwinde en reën gedurende die rypwordingsproses het groot verliese tot gevolg gehad.

Die olie-inhoud van die canola het gewissel tussen 39% en 41%.

Lupienproduksie – Lupiene (Mandelup) is op al drie lokaliteite geplant. Riversdal se opbrengste het gewissel tussen 1.8 en 2.4 ton/ha. Die op­brengs op Tygerhoek het gewissel tussen 2050 en 2862 kg/ha. Die Swellendam lokaliteit het 'n gemiddelde opbrengs van 645 kg/ha gelewer. Hierdie opbrengste kon hoër gewees het, maar hewige verliese is tydens die optel proses ervaar. Die verliese is op gemiddeld 500 kg/ha bereken.

Ekonomie – Die ontwikkeling van die analitiese finansiële program wat in die vorige verslag bespreek is, is voltooi gedurende 2008. Dit word tans gebruik in die voltooiing van die analise van bruto marge vir al die jare wat nie in die COMBUD databasis ingesluit is nie. Die 2007, 2008 en 2009 data vir Tygerhoek is ingevoer en word tans geverifieer.


6.22

 

Die identifikasie van grond parameters as indikatore van volhoubare droëland gewasproduksie stelsels vir die skaliegronde van die Wes-Kaap: bewerkingsmetodes, wisselbou, grondkwaliteit en gewasproduksie


J Labuschagne
Instituut vir Plantproduksie, Departement van Landbou: Wes-Kaap

Die doel van hierdie projek is om die effek van bewerkingsmetodes en gewas- rotasie op die fisiese en chemiese eienskappe van grond en die bio­logiese aktiwiteite van grond te kwantifiseer om sodoende beter insig te verkry ten opsigte van die bevordering van volhoubare gewasproduksie stelsels op die skaliegronde van die Wes-Kaap.

Bewerkingsbehandelings en plant

Die bewerkingsbehandelings is volgens voorskrif op Tygerhoek gedoen en kon daar in 'n relatiewe ferm saadbed in die minimum- en konvensionele bewerking persele geplant word. Op Langgewens egter het die konvensionele bewerking (ploeg) laat geskied, met die gevolg dat die saadbed rede­lik los was en uniforme plantdiepte bemoeilik het.

Die probleem met raaigras op die zero-till koring persele het gedurende die 2009 seisoen voortgeduur. Die relatief laer onkruidpopulasie in al die behandelingskombinasies het tot gevolg gehad dat al die gewasse op Tygerhoek asook die koring en kanola op Langgewens wel gestroop kon word. Aangesien die lupien te Langgewens as gevolg van versuip en Phytophthora deur onkruid verdring is, is besluit om die lupien met 'n nie-selektiewe onkruiddoder te spuit. Om maksimum gewaseffek te verseker is hierdie bespuiting gedoen net voordat die onkruide kiemkragtige saad geproduseer het.

Klimaat

Klimaatstoestande was op beide lokaliteite redelik gunstig gedurende die 2009 produksieseisoen. Op Tygerhoek en Langgewens is 322.6 en 333.1mm onderskeidelik vir die groeiperiode April tot Oktober 2009 gemeet. Temperature was op beide lokaliteite gematig.

Gewasproduksie data

Saailing / plantdigthede

Lae saailingdigthede is op beide lokaliteite vir koring aangeteken. Die koring, veral te Tygerhoek, het goed gestoel om tussen 182.87 en 262.10 aardraende halms/m² te produseer. Die kanolapersele te Langgewens is op 10 Junie oorgeplant. Die verkorte groeiperiode het nie genoeg tyd ge­laat vir optimale vegetatiewe groei en reproduktiewe ontwikkeling van die kanola gewas nie. Die lupien populasie van 40.75 plante/m² te Lang­gewens was laer as die 45 plante/m² soos aanbeveel. As gevolg van versuiptoestande en Phytophthora het onkruidverdringing op die lupienpersele te Langgewens voorgekom. Om produksie van kiemkragtige onkruidsaad te voorkom is besluit om die lupiene te Langgewens met 'n nie- selektiewe onkruiddoder te spuit.

Graanopbrengs

As gevolg van die lae saailing digthede, versuiptoestande en die voorkoms van Phytophthora in die lupiene te Langgewens was onkruidkompetisie so sterk dat besluit is om die lupiene te Langgewens asook die zero-till persele te Tygerhoek met 'n nieselektiewe onkruiddoder te spuit. Uitgesluit die zero-till behandeling, is 'n gemiddelde lupienopbrengs van 1903.07 kg/ha te Tygerhoek behaal.

As gevolg van die laat oorsaai is uiters lae kanola opbrengste (434.43 kg/ha) te Langgewens aangeteken. Op Tygerhoek is 'n gemiddelde kanola oes van 1418.26 kg/ha behaal.

Koringopbrengste was laer as verwag. Die laagste (2409.28 kg/ha) en hoogste (2952.43 kg/ha) koringopbrengste by Tygerhoek is by die zero-till en no-till behandelings verkry. Dieselfde resultaat is by Langgewens waargeneem waar die zero- en no-till 1746.28 en 2858.03 kg/ha onderskeidelik geproduseer het.

Duisendkorrelmassa

As gevolg van die kort kanola groeiseisoen te Langgewens is 'n gemiddelde duisendkorrelmassa van slegs 2.209 g, teenoor 3.9503 g te Tygerhoek, aangeteken. Alhoewel betekenisvolle verskille tussen bewerkingsbehandelings te Tygerhoek gevind is, kon geen tendens ten opsigte van die invloed van graad van grondversteuring en duisendkorrelmassa waargeneem word nie.

Die duisendkorrelmassa van koring was dieselfde op beide lokaliteite. Geen duidelike tendens kon waargeneem word nie.

Graan kwaliteit

Die verskillende bewerkingsbehandelings wat getoets was het nie die hektoliter massa of proteïeninhoud van die koring te Langgewens beïnvloed nie. Uitgesonderd die zero-till bewerking, wat laer proteïenvlakke te Tygerhoek veroorsaak het, is geen verskille in proteïenvlakke as gevolg van bewerkingsbehandelings waargeneem nie.

Basislyn studies

Verskeie basislyn studies is voltooi en sal waardevolle vergelykbare inligting ten opsigte van chemiese, fisiese en mikrobiologiese dinamika van die grond beskryf. Hierdie studies sluit die versameling van die volgende inligting in 1) chemiese en fisiese data van die grond 2) mikrobe diversiteit en ensiematiese aktiwiteit 3) populasies van nematodes 4) onkruid saadbanke en 5) grondgedraagde siektes.

Samevatting

Hierdie projek word bestuur soos beskryf in die navorsingsvoorstelle en riglyne. Die genoemde raaigras probleme, veral op die zero-till behandel­ings, word bestuur sonder om die integriteit van die projek te belemmer. Die korttermyn effek van die bewerkingstelsels, gewasopvolging en loka­liteit op gewas-opbrengs sal duidelik word oor tyd.


6.23   A:

Die bevordering van canola as 'n wisselbougewas binne 'n bewaringsboerderystelsel in die droëland saaigebeid van die Swartland, deur middel van 'n produsente kompetisie


IF Slabbert
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Sestien deelnemers het in 2009 ingeskryf vir die Swartland canola kompetisie. Al die deelnemers se inligting is gebruik en verwerk.

Toestande gedurende 2009 was redelik gunstig vir canola verbouing. Hoofsaaklik goeie reëns het vanaf middel Mei tot en met September voorge­kom. Die reën in Augustus was egter onder normaal. Die gemiddelde opbrengs van die deelnemers was 1,29 ton/ha wat 0,05 ton laer was as die opbrengs in 2008.

Die deelnemer met die hoogste opbrengs (1,86 ton/ha) was Mnr Dirk Lesch van die plaas Elim in die Malmesbury distrik. Die deelnemer met die hoogste bruto marge (R1309/ha) was ook Dirk Lesch. Die deelnemer met die tweede beste opbrengs (1,75 ton/ha) was Mnr Albertus Truter van Moorreesburg en die deelnemer met die tweede beste bruto marge (R1262/ha) was Mnr Jacques Louw van Porterville.

Die winsgewendheid van canola was in 2009 hoër as die van koring. Die bruto marge van canola het egter met ongeveer R1000/ha gedaal weens die daling in die prys.


6.24   B:

 

Die bevordering van canola as 'n wisselbougewas binne 'n bewaringsboerderystelsel in die droëland saaigebied van die Suid-Kaap deur middel van 'n produsente kompetisie


JG Loubser
Kontrakteur, Proteïennavorsingstigting

Vier en twintig canolaprodusente het in 2009 ingeskryf vir die Suid-Kaap Canola Kompetisie.

Al die deelnemers se inligting is verwerk en in die verslag ingesluit. Die uitslae is op 2 Maart 2010 tydens die jaarlikse Overberg Agri voorsaai inligtingsdag te Rietpoel naby Caledon vrygestel en bespreek.

Klam tot droë grondtoestande het tydens die planttyd van middel April tot middel Mei geheers, opgevolg deur goeie reën neerslae gedurende Junie en Julie. Goeie reënval is gedurende Augustus en September ondervind behalwe in die oostelike produksie gebiede by Swellendam waar vogstres in die maande Augustus en September ondervind is.

Die gemiddelde canolaprodusente prys was R2,903 per ton, die gemiddelde opbrengs 1,64 ton per hektaar en die gemiddelde bruto marge R1,315 per hektaar.

Die deelnemer met die hoogste opbrengs van 2,77 ton per hektaar en beste bruto marge van R5,220 per hektaar was Die Theunissen Familie Trust van die plaas Haarwegs Rivier naby Rietpoel.

Die deelnemer met die tweede hoogste opbrengs van 2,27 ton per hektaar was Mnr Andrew Beukes van die plaas Vrede naby Caledon.

Die deelnemer met die tweede beste bruto marge van R3,331 per hektaar was Mnr Adriaan Steyn van Wankie Boerdery naby Swellendam.


6.25

 

Insekte en ander plae van canola


G Tribe en A Lubbe
LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming

Die hoofproef, bestaande uit 6 behandelings en 5 herhalings, wat op twee plase in die Caledon distrik uitgevoer is, het weereens bewys dat die sondebokke vir die onsuksesvolle vestiging van canolasaailinge wel isopodes is. Elke behandeling het uit 5 melthoid valle bestaan waaronder die aantal isopodes en slakke getel is, asook 4 uitgemerkte areas (1 x 0,5 m) waarin die aantal saailinge weekliks getel is. Daar was 'n negatiewe kor­relasie tussen die aantal saailinge en die aantal isopodes. Die strooi van slakpille tydens aanplanting wat 30g/kg methaldehied + 20g/kg karbaril bevat het, was die suksesvolste behandeling. Daar was nie 'n addisionele voordeel om die slakpille met Cruizer behandelde saad te kombineer nie, wyl methaldehied behandelde saad oneffektief was as beheermetode. Die aantal slakke waargeneem was egter so laag dat geen gevolgtrekkings ten opsigte van hulle reaksie op die onderskeie beheermetodes gemaak kan word nie.

In 'n tweede proef is 6 slakpil formulasies getoets teen 'n kontrole deur 8g van elk van die formulasies onder 84 aparte valle te plaas en weekliks die lewende en dooie slakke, isopodes en ander insekte aan te teken. Snail nail, Sluggem en Snail bait was uiters effektief in vergelyking met die kontrole om naakslakke en isopodes te lok en dood te maak. Daar was egter nie 'n betekenisvolle verskil in die vermoë van 'n spesiale eksperi­mentele mengsel wat 'n hoër konsentrasie karbaril (30g/kg methaldehied + 30g/kg karbaril) bevat het ten opsigte van die aantal slakke en iso­podes wat gedood is nie. Die 50g/kg methaldehied formulasie (Clartex) was minder effektief ten opsigte van die dood van slakke en het nie die isopodes gedood nie.

Weeklikse monitering van 120 melthoid valle op die plase Roodebloem en Speelmansrivier vir al 4 slak-spesies het getoon dat die slakke nie lu­kraak verspreid is nie. Die inheemse spesie, Oopelta polypunctata, is slegs onder valle op Speelmansrivier (2%) gevind, waar fynbos aangrensend aan die aanplanting was. Die slakke was egter slegs laat in die seisoen aktief en hou dus geen gevaar vir canolasaailinge tydens vestiging in nie. Die oorheersende naakslakspesie wat op beide plase (58.7% + 62.2%) voorgekom het was Deroceras panormitanum waarvan die getalle laat in Augustus gepiek het, en steeds teenwoordig was met oestyd. Milax gagates wat vroeg in die seisoen te voorskyn gekom het (41% van die slakke op Roodebloem en 14% op Speelmansrivier), het gepiek tussen laat Julie tot die einde Augustus. Deroceras reticulatum was amper uitsluitlik (21.4%) op Speelmansrivier. As die hoeveelheid van al die slakspesies gekombineer word in weeklikse intervalle gedurende die seisoen, word gevind dat die slakgetalle vinnig verhoog het in die laaste week in Mei en so gebly het tot die einde Augustus waarna die hoeveelhede net so vinnig weer afge­neem het. Die aktiwiteitspieke het saamgeval met reënval en laer temperature soos verwag kon word. Maar die isopodes se aktiwiteit het getoon dat hulle minder afhanklik was van die reënval en was reeds vroeg in die seisoen (April) aktief. Die hoeveelheid isopodes onder die valle het afge­neem na reënval en gepiek tussen Julie en Oktober, alhoewel die weeklikse hoeveelhede meer gefluktueer het aan die einde van die seisoen toe die grond begin uitdroog het.

Die parasitisme van die ruitrugmot (Plutella xylostella) was 18.8% en het op dieselfde lae vlakke gebly soos die afgelope 3 jaar. Die laat-instar para­sitoïed, Diadegma mollipla, was verantwoordelik vir 65% van die parasitisme. Skade deur die koolplantluis, Brevicorne brassicae, is weglaatbaar klein aangesien hulle binne 2 weke onder beheer gebring was deur die parasitoïed Diaeretiella rapae. Die gemiddelde hoeveelheid larwes van die koolstamboorder, Ceutorhynchus pallidactylus, per canolaplant het afgeneem van 17.8 in 2008 na 0.3 in 2009.


6.26

 

Karakterisering en bestuur van Rhizoctonia op canola en lupiene in wisselboustelsels in die Wes-Kaap provinsie


SC Lamprecht
LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming

Verskeie metodes met potensiaal vir die bestuur van Rhizoctonia siektes by canola en lupien, insluitend plantweerstand, fungisied saadbehande­ling en biologiese beheer met binukleêre Rhizoctonia anastomose groepe (AGs) is onder glashuistoestande evalueer. Die siektebestandheid van agt canola en agt lupien kultivars/seleksies teen saailingafsterf en hipokotiel/wortelvrot wat deur die multinukleêre Rhizoctonia AG-2-1, 2-2, 4 en 11 veroorsaak word, is geëvalueer. Al die canolakultivars was hoogs vatbaar vir AG-2-1, alhoewel hulle verskil het in hul reaksie. Spectrum en 44C11 was meer bestand teen AG-4 as die ander canolakultivars. Op lupien was AG-2-2 en 4 mees virulent en die kultivar Cedara 6150 en seleksie E16 was mees bestand teen AG-2-2, terwyl Cedara 6150, E16, Mandelup en Quilinock meer bestand was teen AG-4 as die ander kultivars/seleksies. Die Lupinus luteus seleksies, E80.1.1.2 en E82.1.1 was mees vatbaar vir AG-2-2, 4 en 11. Saadbehandeling met die fungisiede, Cruiser OSR (a.i. difenconazole, fludioxonil, metalaxyl-M, thiamethoxam) en SA-kombinasie (a.i. iprodione, metalaxyl, thiram) het die oorlewing van canola (cvs Muster, Rocket en Thunder) en lupiensaailinge (kultivar/seleksie Cedara 6150, E82.1.1 en Mandelup) betekenisvol verhoog, hipokotiel/wortelvrot verlaag en die persentasie gesonde saailinge verhoog, SA-kombinasie was betekenisvol meer effektief as Cruiser OSR. Toediening van die binu­kleêre Rhizoctonia AGs (A, Bo, K en I) het die oorlewing van lupiensaailinge geïnokuleer met AG-2-2 en 4 betekenisvol verhoog, en AG-I en K het die oorlewing van canola in die teenwoordigheid van AG-4 betekenisvol verhoog. 'n Lae inokulum verhouding van die binukleêre AGs [1:1 (multinu­kleêre AG : binukleêre AG)] was minder effektief as 'n hoë inokulum verhouding [1:10 (multinukleêre AG : binukleêre AG)]. Dit het geblyk dat AG-A, Bo en I lupiensaailinge meer effektief beskerm teen R. solani as AG-K. Hierdie is die eerste aanmelding van die potensiaal van binukleêre AGs om canola- en lupiensaailinge teen multinukleêre AGs te beskerm. Resultate van hierdie studie kan betekenisvol bydrae tot bestuurstrategieë wat aangewend word teen Rhizoctonia siektes van canola en lupien in die Wes-Kaap provinsie van Suid-Afrika.


6.27

 

Die invloed van rou sojabone teenoor hitte-behandelde sojabone in diëte van slagvolstruise tydens die afrondfase


TS Brand en BB Aucamp
Instituut vir Diereproduksie, Departement van Landbou: Wes-Kaap

Sojabone is 'n bekende proteïenbron, maar bevat die teenvoedingstof tripsieninhibeerder wat negatief met die verteringsprosesse inmeng, indien dit rou aan plaasdiere gevoer word. Hittebehandeling is egter doeltreffend om die werking van tripsien-inhibeerder teen te werk. Die studie is uit­gevoer om te bepaal tot watter mate rou sojabone in diëte die produksie van volstruise tydens die afrondfase sal beïnvloed. In die eerste eksperi­ment, is diëte wat onderskeidelik rou sojaboonmeel, 'n 50:50 mengsel van rou- en hittebehandelde sojaboonmeel en hittebehandelde sojaboon­meel as proteïenbronne bevat het, in 'n vry keuse situasie aan die voëls aangebied. In die produksie studie is dieselfde drie diëte aan die voëls gevoer. Daar was 'n tendens (P=0.10) vir die voëls om meer van die hittebehandelde sojaboon bevattende dieet in vergelyking met die ander twee diëte tydens die vrye-keuse studie te vreet. Die voer-inname van voëls wat die hitte-behandelde diëte tydens die produksie studie ontvang het was ooreenstemmend hoër (P<0.05) tydens die groeistudie in vergelyking met die twee ander proefdiëte. Die groeitempo van die voëls was onderskei­delik 130 g/voël/dag (hittebehandelde sojaboon bevattende dieet), 82.3 g/voël/dag (50:50 mengsel van rou- en hittebehandelde sojaboon dieet) en -47.9 g/voël/dag (rou sojaboon bevattende dieet). Voeromsettingsdoeltreffendheid is ooreenstemmend negatief deur die insluiting van rou soja­bone in die diëte beïnvloed. Die studie dui daarop dat die insluiting van rou- sojabone die produksie van volstruise negatief sal beïnvloed en word daarom nie aanbeveel nie.


6.28

 

Ontwikkeling van 'n simulasiemodel om die voeding van braaikuiken teelhenne gedurende die lêsiklus te optimiseer


RM Gous
Vee- en Pluimveekunde, Skool van Landbouwetenskappe en Landboubesigheid, Universiteit van KwaZulu-Natal

Die doel van hierdie navorsing is om 'n simulasiemodel te ontwikkel wat voedingskundiges kan gebruik om die voeding van braaikuiken teelhenne te optimeer. 'n Aansienlike hoeveelheid navorsing is aan die Universiteit van KwaZulu-Natal oor braaikuiken teelhoenders gedoen, hoofsaaklik gemik op die uitwerking van ligperiode op die bereiking van geslagsrypheid en daaropvolgende eierproduksie. Daarmee saam is ook 'n wiskundige model ontwikkel vir die beskrywing van lê patrone, potensiële eierproduksie en eier gewig. Samevoeging van die voorafgaande werk het ons in staat gestel om 'n simulasiemodel te ontwikkel wat die potensiële eieruitset van braaikuiken teelhenne oor die lê siklus beskryf. Hierdie beskry­wing van potensiële produksie is die eerste noodsaaklike stap om die uitwerking van voersamestelling en -toewysing op eierproduksie van braaikuiken teelhenne te modelleer.

Die model simuleer die reaksie van 'n teelhenpopulasie op die daaglikse toewysing van 'n voer met gespesifiseerde samestelling, vanaf geslags­rypheid tot 280 dae daarna. Daar is aangeneem dat onderhoudsbehoefte voorrang geniet tydens die biologiese regulering van proteïentoewysing, terwyl die neerlegging van proteïene vir vorming van die eiergeel en albumien (eierwit) onderskeidelik tweede en derde prioriteit geniet. Alle gebeure veronderstel 'n tydsverloop van 24 u., gemeet vanaf voeding op 'n bepaalde tydstip in die oggend. Met inagneming van gepubliseerde teorieë en resultate sal die akkuraatheid van die model genoegsaam verbeter om dit vir die ontwerp van voere en voerprogramme vir braaikuiken teelhenne te kan gebruik. Daarteen gemeet voldoen die model aan die PNS se beginsel van dinamiese toepassing van navorsingsresultate. Voorts word gehoop dat hierdie model sal bydra om Suid-Afrikaanse produsente van braaikuiken teelhoenders te oortuig dat energie sowel as proteïen tans in oormaat aan die teelhenne gevoer word, wat aanleiding gee tot laer eierproduksie, swaarder eiers, oormatige neerlegging van liggaamsvet, en dus minder winsgewende besighede.


6.29

 

Benutting van aminosure en proteïene deur braaikuiken teelhenne wat mielie-sojaboon gebaseerde diëte ontvang


M Ciacciariello
Vee- en Pluimveekunde, Skool van Landbouwetenskappe en Landboubesigheid, Universiteit van KwaZulu-Natal

Maksimale benutting van die aminosure en proteïene in die dieet van 'n braaikuiken teelhen is daarvan afhanklik dat die voorsiening van hierdie voedingstowwe en energie via die hen se daaglikse rantsoen sal voldoen aan die behoefte daaraan vir onderhoud en eierproduksie, met hoogstens marginale oorskryding van hierdie behoeftes. Aangesien die voedingskundige besluite neem oor die hoeveelheid voer wat daagliks aan die henne voorsien moet word, is dit noodsaaklik dat die behoefte aan hierdie voedingstowwe akkuraat voorspel en gemeet moet kan word. Daarteenoor is daar nog betreklik min navorsing oor hierdie tipe hoenders gedoen, sodat daar steeds baie vrae opduik oor die berekening van die daaglikse voe­dingsbehoeftes van hierdie henne, soos byvoorbeeld die behoefte om voedingstowwe te voorsien vir groei, sowel as termogenese en veeront­wikkeling, en voorts of dit moontlik is om die energieverskaffing te verminder gedurende koue weer, en of die henne hul liggaamsvetreserwes kan gebruik wanneer energievoorsiening tydelik laer is as die energiebehoefte.

Die doelwitte van die navorsing gedurende die afgelope jaar was hoofsaaklik om vas te stel hoe braaikuiken teelhenne reageer op blootstelling aan 'n reeks van omgewingstemperature, ten einde hul voedingsbehoetes vir onderhoud en die oorkoming van hittestres gedurende die somermaande te kan bepaal. Voorts het dit ten doel om die uitwerking op prestasie oor die volle duur van die produksiesiklus te bepaal, terwyl die henne 'n reeks energie- en proteïenpeile in die dieet ontvang wat enersyds verander namate die lê siklus vorder, of andersyds dieselfde bly vir die hele lê siklus. Meting van individuele henne se diep liggaamstemperatuur was onder andere een van die metings wat gedoen is om vas te stel tot welke mate dit gedurende die dag varieer, byvoorbeeld na afloop van voeding of gedurende rusperiodes. Die resultate sal gebruik word om ons begrip te verbeter van braaikuiken teelhenne se voedingsbehoeftes gedurende die volle duur van die lê siklus.


6.30

 

Vraelys met betrekking tot die produksie van canola


F Slabbert¹, JG Loubser² en GA Agenbag³
¹ Departement van Landbou: Wes-Kaap; ² PNS Kontrakteur; ³ Universiteit Stellenbosch

Die primêre doel van die studie was om deur middel van vraelyste te bepaal waarom bestaande canolaprodusente nie groter oppervlaktes canola plant nie en deur 'n tweede vraelys vas te stel waarom ander produsente nie canola saai nie.

Vraelyste is voltooi deur 65 produsente in die Swartland (35 canola produsente en 30 produsente wat nie canola verbou nie) en 64 produsente in die Suidkaap (34 canola produsente en 30 produsente wat nie canola verbou nie) op die plase te besoek.

Alle inligting is elektronies op Excell vasgelê en opgesom in tabelle wat vergelykende resultate toon vir canolaprodusente en nie-canolaprodusente vir die verskillende boerderygebiede.

Gegewe die inligting in hierdie opname versameling kortliks die volgende:

In die Swartland en Suidkaap word respektiewelik 10.93% en 9.59% van die bewerkbare droëland van die canolaprodusente benut vir die verbouing van canola.

Die uitbreidingspotensiaal vir canolaproduksie is die grootste in die Swartland omdat net 15.81% van die bewerkbare droëland vir medics produk­sie benut word terwyl 47.08% van die Suid-Kaap se bewerkbare droëland vir lusern produksie benut word.

Vir die uitbreiding van canolaproduksie in die Suid-Kaap sal huidige canola produsente canola meer dikwels as een uit vier jaar moet plant en sal op die werwing van nuwe produsente gefokus moet word.

Belangrikste redes waarom produsente canola plant is die voordele wat dit as wisselbou gewas inhou en beter grasonkruidbeheer wat in sodanige wisselboustel verkry word.

Die produsente wat nie canola saai nie gee probleme met die oes van canola, wisselvallige opbrengste en ekonomiese faktore as die belangrikste redes aan waarom hulle nie canola saai nie.

Produsente wat canola saai identifiseer ook verliese met die oes van canola as die belangrikste probleem, terwyl probleme met slakke ook as 'n belangrike probleem in die Suid-Kaap aangedui word.

Huidige canolaprodusente in beide streke is positief oor die canolabedryf en is van plan om groter oppervlaktes canola te verbou.


6.31

 

Inkomste- en koste ramings van gewasse


JSG Joubert
Proteïennavorsingstigting

Gedurende die verslagjaar is ekonomiese asook tegnies/biologiese inligting weereens ingesamel by Agri-besighede asook deur middel van die groepbesprekingsmetode vir die gebiede waar inligting nie by Agri-besighede bekom kan word nie.

In die Swartland gebied van die Winterreënstreek is inligting bekom deur middel van die groepbesprekingsmetode waar produsente wat kundig is ten opsigte van hul gebied en oor besondere kundigheid beskik oor die gewasvertakking ter sprake, genooi word om insette te lewer. Die groep­be­sprekings vind plaas in samewerking met ander kundige persone verbonde aan die Departement van Landbou en Agri-besighede. In die Suid-Kaap en Overberg-Ruensgebied is al die inligting vanaf Agri-besighede bekom. Vir hierdie twee gebiede is inkomste- en kosteramings vir gars ook nou vir die eerste keer bereken. Onderskeid word ook getref tussen die tipe bewerkingstelsel as die inligting beskikbaar is.

In die somerreënvalgebiede is al die inkomste- en kosteramings vanaf Mpumalanga en KwaZulu-Natal deur middel van die groepbesprekings­metode bekom terwyl die res vanaf Agribesighede bekom is. Inkomste- en kosteramings vir koring in die VKB gebied is ook nou vir die eerste keer bygewerk omdat dit as 'n belangrike mededingende gewas in die gebied beskou word. Onderskeid tussen bewerkingstelsels word ook in hierdie gevalle getref. Sensitiwiteitsanalises word ook nou vir canola in die Winterreënvalstreek en sojas in die Somerreënvalstreek bereken vir al die begrotings.

Ten opsigte van die Somerreënvalgebied is gewasbegrotings ten opsigte van die volgende gebiede opgestel:

Mpumalanga – Kinross
– Middelburg
– Groblersdal (Besproeiing)
Noordwes – Brits / Koedoeskop / Makoppa (Besproeiing)
– Koster
– Lichtenburg / Coligny
– Zeerust
Oos-Vrystaat – VKB-gebied
KwaZulu-Natal – Karkloof
– Vryheid
– Bergville (Besproeiing)

Ten opsigte van die winterreënstreek in die Wes-Kaap is gewasbegrotings vir die volgende gebiede opgestel:

Wes-Kaap – Moorreesburg
– Malmesbury
– Porterville
– Caledon / Riviersonderend
– Bredasdorp / Napier
– Swellendam / Heidelberg

Die gegewens vervat in die inkomste- en kosteramings weerspieël tipiese situasies onder normale klimaatstoestande. Dit verteenwoordig nie 'n gemiddelde vir die betrokke gebied nie. Dit bevat inligting op 'n per hektaar basis van bruto-inkomstes, veranderlike kostes en bruto-marges. Bestaande en voornemende produsente kan die inligting gebruik om begrotings vir hul eie ondernemings op te stel om te gebruik in hul besluit­nemingsproses. Die PNS is van mening dat die inligting wat met groot moeite en koste beskikbaar gestel word tans onderbenut word. Aandag sal in die toekoms gegee word aan die beter benutting van die inligting in die tegnologieoordragingsproses.


6.32

 

PNS-webtuiste


Die PNS-webblad is 'n baie belangrike hulpmiddel om inligting te kommunikeer aan rolspelers en persone wat onderwerpspesifieke inligting benodig.

Koppelings met ander webblaaie bly steeds 'n belangrike manier om die PNS-webbladsy te bevorder en is daar in hierdie verslagjaar, benewens die reeds bestaande koppelings, koppelings bewerkstellig met twee belangrike instansies. Die PNS kon daarin slaag om met die "National Variety Trials", 'n Australiese webblad te koppel asook met die "Iowa State University" se webblad. Laasgenoemde doen ook baie werk ten opsigte van sojabone.

Die databasis wat gedurende 2007 op die webblad gelaai is, geniet hoë prioriteit en danksy die harde werk van ons administratiewe personeel, en veral Me Du Preez, word die groot hoeveelheid historiese data wat nog elders gestoor was, nou vinnig op die databasis gelaai.

Soekenjins is nog steeds die belangrikste verwysingsbron na die PNS-webblad. Meer as 60% van ons webblad se besoekers word deur soekenjins verwys en was dit in sekere periodes selfs meer as 70%. Soekenjins se belangrikheid wissel van maand tot maand, maar die wat gereeld as ver­wysingsbron voorkom is Aardvark, Google, SABA en SAGIS. Vanaf 2004 tot 2008 het daar 'n aansienlike groei in aantal besoekers plaasgevind met 'n effense daling in die besoekerstal in die huidige verslagjaar. Onderstaande syfers dui die getal besoekers per jaar aan:

Verslagjaar

Aantal besoekers

2004
2005
2006
2007
2008
2009
  1 691
  3 285
  4 552
  5 404
11 104
  8 484

Gedurende die volgende verslagjaar sal daar daadwerklike pogings aangewend word om die webblad meer te bemark veral met die oog op die bevorderingsveldtog wat die PNS geloods het ten opsigte van sojas en canola.