Navorsingsverslag 2014/2015

6.

 

Projekte wat suksesvol afgehandel is of waarmee vordering gemaak is (Bylae I en II)



6.1

 

Evaluasie van PNS-sojaboonelitelyne onder Suid-Afrikaanse toestande


GP de Beer en WF van Wyk
Kontrakteurs, Proteïennavorsingstigting

Die PNS-sojabooneliteproewe (2014/15) was geplant op 6 lokaliteite:

  • Stoffberg – Verteenwoordigend van die hoërliggende Noordelike Hoëveld
  • UP (Hatfield) – Verteenwoordigende van die Suidelike Hoëveld
  • Brits – Vol besproeiing, verteenwoordigende van die warm Noordelike besproeiingsgebiede
  • Potchefstroom – Verteenwoordigend van die Westelike produksiegebied
  • Bethlehem – Verteenwoordigend van Oos- en Noord-Vrystaat
  • Ukulinga (Pietermaritzburg) – Verteenwoordigend van KwaZulu-Natal

Sestig (60) lyne van vyf verskillende instansies uit Suid-Amerika is saam met vyf plaaslike kontroles op die ses lokaliteite aangeplant vir eva­luering van aanpasbaarheid by plaaslike toestande. Die groeiseisoenlengte van die lyne het gewissel tussen M.G. 4.0 tot M.G. 7.0. Sommige van die lyne het beter graanopbrengste gelewer as die vyf plaaslike cultivars wat as kontroles gebruik is en kan dus oorweeg word vir registrasie in Suid-Afrika om hier bemark te word.

Hierdie projek lewer beslis inligting wat die plaaslike sojaboonsaadmark kan versterk en behoort voortgesit te word.


6.2

 

Nasionale sojaboonkultivarproewe


AS de Beer, N de Klerk, NN Mogapi, HSJ Vermeulen en RC Ramatlotlo
LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom

Sewe-en-twintig en een-en-dertig kultivars is gedurende die verslagperiode 2012/13 en 2013/14 in 45 proewe, verteenwoordigend van die koel, matig en warm produksiegebiede geëvalueer. Konvensionele sowel as geneties gemodifiseerde (GM) kultivars is in die proewe ingesluit, maar is op 'n konvensionele basis bestuur m.a.w geen glifosaat is toegedien nie. Die proewe is uitgelê volgens 'n ewekansige blok ontwerp met drie herhalings. Die dae tot 50% blom, aantal dae tot oesryp, lengte van die groeiseisoen, planthoogte, peulhoogte, persentasie groenstam, omval, oopspring, 100 saadmassa, persentasie ongewenste sade, proteien- en olie %, saadopbrengs asook die oessekerheid van die verskillende kultivars is bereken. Die oessekerheidswaarde speel 'n belangrik rol by die keuse van 'n kultivar.

Die gemiddelde aantal dae tot blom vir die koel gebiede was 74 dae, 66 vir die matige en 48 vir die warm gebiede. Die gemiddelde olieinhoud (%) was onderskeidelik 17.97%, 19.19% en 19.83% vir die koel, matig en warm gebiede, terwyl die proteieninhoud (%) onderskeidelik 37.63%, 37.26% en 37.03% was. Die gemiddelde opbrengs bereken oor kultivars en seisoene was 3003 kg/ha vir die koel, 2773 kg/ha vir die matig en 3185 kg/ha vir die warm gebiede.

Kultivars met 'n hoë stabiliteit gedurende die verslag periode was Heron, Ibis 2000 en Dundee vir die koeler gebiede. Kultivars met 'n hoë stabliteit vir die matigde gebiede sowel as die warm gebiede was Marula en Sonop. Die volgende kultivars het 'n bogemiddelde oessekerheidswaarde vir opbrengste van 1000 tot 4000 kg getoon en verdien spesiale vermelding. Vir die koel gebiede het LS 6164 R 'n bogemiddelde oessekerheidswaarde gehad, LS 6161 R, Sonop, PAN 1583 R en Marula vir die matigde gebiede terwyl Egret, LS 6161 R, PAN 1666 R en PHB 95 Y 40 R in die warm gebiede bogemiddelde oessekerheid getoon het.


6.3

 

Etiologie en populasie struktuur van Macrophomina phaseolina (houtskoolvrot) van sonneblom en sojabone in Suid-Afrika


E Jordaan en JE van der Waals
Universiteit van Pretoria

Hierdie navorsing poog om antwoorde te kry rondom die diversiteit van die Macrophomina phaseolina populasie in sonneblom en sojaboon­groeistreke in Suid-Afrika; en om te bepaal of die diversiteit toegeskryf kan word aan geografie, omgewingstoestande en/of verbouingspraktyke. Meer as 'n 100 isolate sal verkry word van besmette sonneblom en sojaboonplante. Genetiese diversiteit sal geëvalueer word met behulp van mikrosatelliet merkers en sal vergelyk word met die diversiteit verkry vanaf ander in vitro evaluasie proewe. Hierdie in vitro proewe sal die groeitempo van die patogeen bepaal onder verskillende temperature en pH waardes, en in die teenwoordigheid van koper+/chloor. Elke isolaat sal dan vergelyk word in terme van hulle patogenisiteit en virulensie op sonneblom en sojabone in potproewe en in vitro op saadontkieming. Ons sal dan 'n skatting kan maak of die groepering van die isolate gebaseer is op geografie, omgewingstoestande of verbouingspraktyke.

Terwyl ons monsters getrek het is die in vitro proewe geoptimiseer met sewe M. phaseolina isolate wat geïsoleer is, vanaf mielies (2), aartappels (3), wortel en 'n olyfboom om te bepaal of die proewe variasie tussen die isolate kan optel. Tot dusver is daar monsters verkry vanaf Dwaalboom in Greytown, Koedoeskop in Limpopo, Bronkhorstspruit, Petrus Steyn, Settlers, Bothaville, Wesselsbron, Frankfort en Brits. Meer as 150 M. phaseolina isolate is al geisoleer vanuit hierdie areas oor Suid-Afrika. Die resultate vir die groeitempo vs. temperatuur loodsstudie het gewys dat die Suid-Afrikaanse isolate vinniger groei as wat in die literatuur genoem word. Geen isolate het gegroei by 4ºC nie, terwyl die wortelisolaat die hoogste groeitempo gehad het by 45ºC, gevolg deur een van die aartappelisolate en die olyfisolaat. Die ander isolate het nie by 45ºC gegroei nie. Die optimale groeitemperatuur vir al die isolate was tussen 25ºC en 28ºC gewees. Met die groeitempo vs. pH loodsstudie het die sewe isolate in twee groepe gegroepeer. Groep een het 20-30mm/dag gegroei (olyf, altwee mielie en een aartappel isolaat) ongeag die pH, groep twee het 40-55mm/dag gegroei (wortel en twee aartappel isolate) en het 'n verhoogde groeitempo getoon soos die pH verhoog het van 4.5 tot 7.5. Die groeitempo vs. koper+/chloor konsentrasie loodsstudie wys dat daar 'n inhiberende effek op groeitempo is by 'n koperkonsentrasie van 2.4mM op al die isolate. Kalium en sulfaat het geen invloed op groeitempo gehad nie, terwyl chloried eers groeitempo beinvloed by baie hoër konsentrasies.

Laastens is 'n visuele ergheidsgraad assesseringsleutel ontwikkel vir M. phaseolina op sonneblom en sojabone wat betref saadontkieming. Gevolglik het hierdie patogenisiteit / virulensie loodsstudie vir saad gewys dat aartappel, wortel en olyf isolate tussen 50-85% siekte ergheidsgraad veroorsaak ongeag of sonneblom of sojabone die gasheer is. Die mielie isolate het egter 20-50% siekte ergheidsgraad op sonneblom en 65-70% siekte ergheidsgraad op sojabone veroorsaak.

Hierdie navorsing sal ander navorsers en die industrie 'n beter idee gee van die groeitempo van die patogeen onder verskillende temperature en pH waardes. 'n Beter begrip van die diversiteit in die Macrophomina populasie sal insig gee by weerstandteling teen houtskoolvrot. Patogenisiteits en virulensieproewe sal inligting verskaf oor gasheer voorkeure en sal lei tot meer effektiewe gewasrotasie strategieë. Dit sal ook help met die ontwikkeling van vinnige seleksieproewe in terme van kultivar vatbaarheid vir houtskoolvrot. Die resultate sal ook 'n beter idee gee van die effek van infeksie (latent of andersins) op die opbrengste en ook die effek van verbouingspraktyke, geografie en omgewingstoestande op die patogeen en gevolglik op die siekte insidensie en ergheidsgraad.

Toekomstige navorsing kan weerstandteling of seleksie vir weerstandbiedende sonneblom- en sojaboonkultivars insluit. Met 'n beter idee van die populasiestruktuur, kan die beweging van die patogeen gemonitor word. Sou 'n biologiese of chemiese beheer middel op die mark kom, sal hierdie navorsing kan help om te bepaal of en wanneer beheer genoodsaak is. Na voltooing van die projek sal die inligting gepubliseer word in wetenskaplikke joernale, artikels in die plaaslike media soos byvoorbeeld die Landbouweekblad en dit sal aangebied word by boeredae.


6.4

 

Bestuurstrategieë vir sojaboonsiektes wat in Suid- Afrika in die grond oorgedra word


YT Tewoldemedhin en SC Lamprecht
LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming

In die opnames wat in Suid-Afrika gedoen is tydens kultivarproewe en in boere se landerye, is 71 fungus- en oömesietspesies waargeneem in sojaboonkrone, -hipokotiele, -saadlobbe en -wortels. Van die 71 fungus- en oömesietspesies is Fusarium (F. begoniae, F. graminearum, F. oxysporum en F. solani) onder die spesies wat wortelvrot veroorsaak, terwyl Pythium spp. en R. solani (P. aphanidermatum, P. heterothallicum, P. irregulare, P. ultimum, R. solani AG-2-2 IIIB en R. solani AG-4 HGIII) wortelvrot en/of saailingverwelk veroorsaak. Sclerotium rolfsii is egter aangemeld as oorsaak vir suidelike roes en Diaporthe / Phomopsis spp-kompleks lei tot stamroes in Suid-Afrika. Die sojaboonsiektes wat in die grond oorgedra word, veroorsaak na mening opbrengsverliese van tot 70%. In sekere gevalle veroorsaak dit selfs plantverlies en opbrengsverliese van tot 100% wat aangemeld is by uiters vatbare sojaboonkultivars. In ander lande is dit duidelik dat geïntegreerde bestuurstrategieë, wat minstens saadbehandeling, weerstand / verdraagsaamheid en behoorlike wisselbou insluit, noodsaaklik is om sojaboonsiektes wat in die grond oorgedra word volhoubaar te bestuur en dat dit dus net so noodsaaklik is in Suid-Afrika. Hoewel bestuurstrategieë in ander lande getoets is, is dit nog nie behoorlik getoets en toegepas in Suid-Afrika nie. Om opbrengs te verbeter deur die bestuur van siektes wat in die grond oorgedra word, is dit noodsaaklik om die strategieë onder plaaslike omstandighede te toets. Die doelwitte van die huidige studie is dus om kweekhuisbio-essaieertoetse te doen vir die beheer van verwelking voor en na opkoms, wortelvrot, suidelike roes en stamroes by sojabone deur ondersoek te doen na

  • swamdodersaadbehandeling,
  • siftingstoetse wat kommersieel beskikbaar is vir Suid-Afrikaanse sojaboonkultivars ten opsigte van weerstand / verdraagsaamheid; en
  • siftingstoetse van voorafgande gewasse as wisselbougewasse om die druk van siektes te verlig.

Apron XL (aktiewe bestanddeel mefenoksaam), Celest XL (aktiewe bestanddele fludioksoniel + mefenoksaam), DynastyCST (aktiewe bestanddele asoksistrobien + fludioksoniel + mefenoksaam), Maxim Quatro (aktiewe bestanddele tiabendasool + asoksistrobien + fludioksoniel + mefenoksaam), EverGol Energy (aktiewe bestanddele penflufen + protiokonasool + metalaksiel) en mengsel van Apron XL (aktiewe bestanddeel mefenoksaam) + Celest XL (aktiewe bestanddeel fludioksoniel + mefenoksaam) is evalueer as swamdoders wat gebruik word as saadbehandeling om te bepaal wat die invloed daarvan is op oorlewing, groei en wortelvrot onder saailinge in grond wat besmet is met Fusarium spp. (F. begoniae, F. graminearum, F. negundis, F. oxysporum, F. solani), Pythium spp. (P. aphanidermatum, P. heterothallicum, P. irregulare, P. ultimum) en Rhizoctonia solani (AG-2-2 IIIB and AG-4 HG-III). Die resultate wat verkry is tydens die proewe met saad wat behandel is met swamdoder dui daarop dat verwelking, voor en na opkoms van sojabone wat veroorsaak word deur belangrike patogene wat in die grond voorkom, doeltreffend beheer kan word met die mengsel van Apron XL en Celest XL, indien dit toegedien word as saadbehandeling. Hoewel die toedien van Apron XL doeltreffend is om skade wat veroorsaak word deur Pythium-spesies te voorkom, is dit nie doeltreffend teen skade wat veroorsaak word deur R. solani AG-4 HGIII nie. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word daaraan dat mefenoksaam die enigste aktiewe bestanddeel is in Apron XL, wat ontwikkel is om oömesiete, insluitend Pythium-spesies te beheer. Verder was Celest XL ook doeltreffend om skade wat veroorsaak word deur R. solani AG-4 HGIII te verminder. Hoewel Celest XL egter verwelking wat veroorsaak word deur Pythium-spesies verminder het by sojabone, was dit nie so doeltreffend as die mengsel van Apron XL en Celest XL nie. Dit beteken dat produsente die meeste baat sal vind met saadbehandeling indien die twee chemiese middels saam toegedien sou word. Dié resultate moet egter bevestig word in die volgende seisoen. DynastyCST en Maxim Quatro het nie dieselfde doeltreffende resultate getoon as die mengsel van Apron XL en Celest XL nie, hoewel die aktiewe bestanddele ook fludioksoniel en mefenoksaam behels. Tydens die besoek aan die Argentiniese saadbehandelingsfasiliteit, het dr M. Scandiani daarop gewys dat die aktiewe bestanddeel asoksistrobien in DynastyCST én Maxim Quatro 'n nadelige invloed het op die ontkieming van saad. In Argentinië gebruik hulle dus die produk, Maxim Evolution, wat dieselfde drie aktiewe bestanddele bevat as Maxim Quatro, maar nie asoksistrobien nie. Daar is aangedui dat dit baie doeltreffender is as Maxim Quatro. Ons pogings om 'n monster van Maxim Evolution uit Argentinië in te voer vir navorsingsdoeleindes was ongelukkig nie suksesvol nie.

Sewe-en-twintig sojaboonkultivars is evalueer ten opsigte van sojaboonpatogene (Diaporthe phaseolorum var. meridionale, Phomopsis longicolla, F. begoniae, F. graminearum, F. negundis, F. oxysporum, F. solani, F. virguliforme, P. aphanidermatum, P. heterothallicum, P. irregulare, P. ultimum), R. solani AG-2-2 IIIB and R. solani AG-4 HGIII, Sclerotinia sclerotiorum and Sclerotium rolfsii wat in die grond oorgedra word. Dit is evalueer in kweekhuistoestande om weerstand / verdraagsaamheid onder kultivars wat kommersieel beskikbaar is in Suid-Afrika te bepaal. Die resultate dui duidelik daarop dat daar verskille is tussen die kultivars se weerstand / verdraagsaamheid in geval van die belangrikste siektepatogene wat sojabone aantas en in die grond oorgedra word. Kultivar soy8 is byvoorbeeld uiters vatbaar vir F. begoniae, F. negundis, F. oxyporum en alle Pythium- en Rhizoctonia-spesies. Verder verskil die verdraagsaamheidsreaksie van kultivars ten opsigte van verskillende spesies. Kultivar soy14 het byvoorbeeld die hoogste weerstand gehad teen R. solani AG-4 HGIII, maar was vatbaar vir P. ultimum en Sclerotium rolfsii. Kultivar soy21 het weerstand / verdraagsaamheid getoon teen al die patogene wat evalueer is. Al die kultivars wat evalueer is, blyk vatbaar te wees vir F. virguliforme en S. sclerotiorum. Dit is dus uiters belangrik om te weet watter van die belangrikste organismes wat siektes veroorsaak teenwoordig is in die grond wanneer 'n kultivar met weerstand / verdraagbaarheid gekies word. Dis belangrik omdat die meeste van die kultivars eie kenmerkende reaksies het op verskillende patogeenspesies wat in die grond teenwoordig is.

In die proses om te bepaal of sojaboonpatogene in die grond (F. begoniae, F. graminearum, F. negundis, F. oxysporum, F. solani, P. aphanidermatum, P. heterothallicum, P. irregulare, P. ultimum), R. solani AG-2-2 IIIB en R. solani AG-4 HG-III die gewas wat voor sojabone (wisselbou) aangeplant word kan beïnvloed, is ses wisselgewasse geïdentifiseer en beoordeel volgens kweekhuisbio-essaieertoetse. Die resultate van die studie het getoon dat droëbone beïnvloed word deur al die Pythium-spesies wat belangrike patogene in die grond is en wat sojabone aantas. Verder is aangedui dat sonneblomme, sorgum en koring ook beïnvloed word deur Pythium en R. solani AG-4 HGIII. Dié patogene veroorsaak aansienlike verwelking en wortelvrot in laasgenoemde wisselbougewasse. Dit is interessant om te noem dat waargeneem is dat belangrike sojaboonpatogene wat in die grond teenwoordig is, soos P. aphanidermatum, P. heterothallicum, P. ultimum var. ultimum en R. solani AG-2-2 ook beduidende verwelking veroorsaak by geelmielies (Maize1). Witmielies (Maize2) is egter nie beïnvloed deur die teenwoordigheid van die spesifieke patogene in die grond nie. Indien daar dus nie ander bestuurstrategieë toegepas word nie, is dit belangrik om sojabone af te wissel met witmielies om die besmettingsdruk vir die daaropvolgende sojaboonaanplanting te verminder sonder om die produksie van die voorgewas te benadeel.

Drie bestuurstrategieë is evalueer. Onder die swamdoders wat evalueer is, is potensiële swamdoders wat geskik en doeltreffend is as saad­behandeling vir sojabone geïdentifiseer. In geval van die kultivars wat evalueer is, is kultivars wat bestand is en weerstand bied of verdraagsaam is ten opsigte van die belangrikste sojaboonpatogene ook geïdentifiseer. Voorgewasse (wisselbougewasse) wat nie gashere is nie, of wat 'n mate van weerstand bied teen die sojaboonpatogene is ook geïdentifiseer en daardie gewasse is dus geskik as wisselbougewasse. Die ideale praktyk om sojaboonsiektes wat in die grond oorgedra word te bestry, is om die beste van die drie strategieë te kombineer. Dit verseker die volhoubaarheid van die bestuurspraktyk met aansienlike laer insetkoste. Die resultate van die studie moet egter geverifieer word om te bevestig dat dit betroubaar is. Die herhaling van die navorsingsprojek het reeds begin en inligting daaroor sal beskikbaar wees vir die volgende vorderingsverslag.


6.5

 

Studies op Lecanicillium muscarium as 'n mikoparasiet van sojaboon roesswam, Phakopsora pachyrhizi


KS Yobo
Universiteit van KwaZulu-Natal

Die sojaboonroesfungus (SBR), Phakopsora pachyrhizi, veroorsaak aansienlike gewasverliese in baie gebiede waar sojabone in die wêreld verbou word. Verskillende siektebestuurstrategieë om SBR te beheer, is getoets. Dit behels onder andere die gebruik van swamdoders, kulturele praktyke en genetiese weerstand. Op die oomblik lyk dit asof die gebruik van swamdoders die enigste doeltreffende benadering is vir die beheer van die siekte. In Suid-Afrika word meestal triasool- en strobilurienswamdoders gebruik vir die beheer van SBR. In Brasilië is weerstand teen triasool aangemeld. 'n Paar biobeheermaatreëls is getoets om SBR te beheer in 'n poging om 'n doeltreffender benadering vir die bestuur van die siekte te vind. Dit sluit toetse met agente soos Simplicillium lanosoniveum in.

Koffieblare wat besmet is met koffieroes is gehiperparasiteer met Lecanicillium sp. wat verkry is van die Assagay Coffee Farm in Cato Ridge, Suid-Afrika. Die potensiële mikoparasiet L. muscarium is geïsoleer uit die monsters. Sabourauddekstrosegisekstrakagar is gebruik as semi-selektiewe medium. Die fungus is geïdentifiseer as Lecanicillium muscarium op grond van sy ITS-sekwensies en morfologiese aspekte.

Bio-essaieernavorsing op geplukte sojaboonblare wat geënt is met P. pachyrhizi is gedoen onder beheerde laboratoriumtoestande. Die navorsing het patogenese deur L. muscarium-hifes getoon op SBR-sori.

Die eerste navorsing oor gesamentlike enting met L. muscarium en P. pachyrhizi op sojabone is gedoen by die Universiteit van KwaZulu-Natal se Plantpatologie-afdeling se siektetuin. Waarneming is gedoen met 'n Omgewingskanderingselektronmikroskoop (ESEM). Die mikroskoop het interaksies tussen die urediniospore van L. muscarium en P. pachyrhizi opgeneem. Lang L. muscarium-fialide is waargeneem. Dit het die urediniospore van die P. pachyrhizi binnegedring en die spoorketting het homself styf om die P. pachyrhizi gewring (Fig. 3 A en B).

Figuur 3

(A): Spoorketting van L. muscarium wat styf om die SBR-urediniospore wikkel en wring. (B): L. muscarium dring binne urediniospore in.

Figure showing A: L. muscarium phialides surrounding en squeezing tightly SBR urediniospores en (B): penetration of L. muscarium inside urediniospore

Navorsing is gedoen oor optimale groeitoestande vir L. muscarium ten opsigte van die groei van miselia en spoorvorming. Vier verskillende media (maltekstrakagar, aartappeldekstrose-agar, Sabourauddekstrose-agar en V-8-tamatiesapagar) is gebruik teen vyf verskillende temperature (18, 21, 24, 25 en 28 grade Celcius). Miseliumgroei is elke tweede dag gemeet oor 'n tydperk van 30 dae. Teen 24ºC was die V-8-sapagar die beste medium vir miseliumgroei teen 'n gemiddeld van 52.2mm radiale miseliumgroei. 'n Temperatuur van 24ºC was die beste temperatuur vir miseliumgroei in al vier die verskillende media.

Vir konidiaproduksie is ses verskillende substraatbronne, naamlik rys, giersgraan, pêrelgars, digestiewe koringvesel en hawermout gebruik. Konidia is met behulp van 'n hemositometer getel. Die beste substraat vir die produksie van konidia was giersgraan teen 'n gemiddeld van 4.15×109 konidia ml-1.

Kweekhuisproewe is gedoen om die doeltreffendste entdosis vir L. muscarium te bepaal vir gebruik in landerye. Drie dosisse L. muscarium is gebruik (104, 106 en 108 konidia ml-1). Daar is bevind dat 106 and 108 konidia ml-1 die doeltreffendste is vir vermindering van besmetting met roes onder kweekhuistoestande. Al drie dosisse L. muscarium word nietemin gebruik vir aanwending in landerye.

Veldstudies

Drie behandelings (104, 106 en 108 L. muscarium conidia ml-1) is gebruik om die uitwerking van Lecanicillium muscarium in landerye te toets. Die algemeenste swamdoder (Score) is ingesluit as positiewe beheer vir vergelyking met L. muscarium. Die swamdoder is twee keer aangewend. Dit is die eerste keer gespuit na die eerste tekens van roes en weer 14 dae daarna. Die biobeheeragent is aangewend op dieselfde stadia as wat die swamdoder gespuit is. Die siekte is weekliks vir sewe weke gemonitor. Die data is ontleed volgens die Vorderingskurwe vir die siekte binne die gebied (Area Under the Disease Progress Curve) voordat dit ontleed is volgens ANOVA (Analysis of Variance) met SAS (weergawe 9.3).

Daar was geen beduidende verskil tussen die resultate met die swamdoder (Score) en die twee dosisse L. muscarium (106 en 108) nie. Die drie aanwendingsdosisse van L. muscarium (104, 106 en 108) en Score het die AUDPC-eenhede van die beheerbehandeling met P. pachyrhizi verlaag van 1 716 tot onderskeidelik 457, 202, 1186 en 172 AUDPC-eenhede. L. muscarium en Score het die siektevlakke in landerye effektief verlaag. Dit was egter die eerste veldstudie en sal later vanjaar herhaal word.


6.6

 

Kultivarevaluasie van olie- en proteïensade in die winterreënstreek


PJA Lombard, L Smorenburg en JA Strauss
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Nasionale kultivarproewe

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het gedurende die 2014 seisoen 'n reeks kultivarproewe in die Wes en Suid-Kaap uitgevoer. In die Suid-Kaap is agt proewe aangeplant waarvan sewe proewe se data ingesamel is (2 van die 7 proewe was nie statisties betekenisvol nie). In die Swartland is agt proewe aangeplant op sewe lokaliteite waarvan slegs een proef nie geoes is nie (onkruiddoder skade).

Op Langgewens was die reënval gedurende die groeiseisoen ondergemiddeld met Junie en Augustus wat bogemiddeld was. Gedurende September en Oktober het vogstremming voorgekom. Ondergemiddelde reënval gedurende die lente in Swartland en Rûens, tesame met bogemiddelde minimum temperature in Augustus (+1.5ºC), het die groeiseisoen verkort. Op Tygerhoek was die totale reënval gedurende die groeiseisoen bogemiddeld. Gedurende Januarie en April het bogemiddelde reënval voorgekom wat gunstige saadbed toestande geskep het en dus die ontkieming van saad bevoordeel het. Gedurende Junie het dubbel die langtermyn gemiddelde reënval voorgekom maar is opgevolg deur 'n lae reënval gedurende Augustus en September. Gedurende Augustus was die minimum temperatuur op Tygerhoek 1.95ºC hoër as die langtermyn gemiddeld. Gedurende September het min verskil in temperature vergeleke met langtermyn gemiddeldes, voorgekom.

Hoewel witblaarvlek weer by Grasrug en enkele ander lokaliteite voorgekom het, is die siekte chemies beheer en die resultaat was baie goed na 'n aanvanklike blaarverlies. In die Swartland was die gemiddelde opbrengste van 2468 kg ha-1 hoër as in 2013 (2003 kg ha-1). Dit kan toegeskryf word aan baie goeie kultivars en minder TT kultivars in die proef. Die proefgemiddeldes vir die Swartland het gewissel tussen 2135.5 kg ha-1 vir Eendekuil en 2867 kg ha-1 vir Langgewens, (eerste aanplanting). Belinda was die konvensionele kultivar met die hoogste opbrengs in 2014, gevolg deur Hyola 50, wat in 2012 en 2013 die kultivar met die hoogste gemiddelde opbrengs was.

Die CL-kultivar 45Y88 het die hoogste opbrengs in die Swartland gelewer. Die beste TT kultivar was die baster CB Atomic HT. Die opbrengs van die TT-kultivars was egter gemiddeld 17.3% laer as die konvensionele kultivars.

In die Rûens het die proefgemiddeldes gewissel tussen 1302.2 kg ha-1 op Swellendam en 2855 kg ha-1 op Tygerhoek, (2de saaityd). Die opbrengs van die 2de saaityd was hoër as saaityd 1 (saaityd 1 het die siekte witblaarvlek gehad). Gedurende September het daar 64.9mm reën geval na ondergemiddelde reënval in Julie en September. Dit het waarskynlik bygedra tot die beter opbrengs by saaityd 2. Die konvensionele kultivar Belinda het die hoogste gemiddelde opbrengs in die konvensionele groep gelewer, gevolg deur die kultivar Hyola 50. Die kultivar 45Y88 het die hoogste opbrengste in die CL-groep gelewer. In die TT-groep het Hyola 559TT die hoogste opbrengs gelewer gevolg deur CB Atomic HT. Die gemiddelde opbrengs van TT-kultivars was 8.1% laer as die gemiddelde van die konvensionele kultivars.


6.7

 

Boor vereistes vir canola


GA Agenbag en E Kempen
Universiteit Stellenbosch

Lae (< 5 mg kg-1 warm water ekstraksie) boorinhoude kom dikwels voor in die grond in die canola produksiegebiede van die Weskaap. Omdat boor een van die agt essensiële mikro-voedingstowwe is wat benodig word vir die groei en ontwikkeling van die meerderheid gewasse en canola (Brassica napus) 'n hoë boorbehoefte het, mag boor graanopbrengs van canola in genoemde gebiede beperk. Om hierdie rede is 'n studie gedurende die 2012-2014 groeiseisoene op Altona en Langgewens in die Swartland en Roodebloem in die Suidkaap onderneem waartydens blaartoedienings van 0.5, 1.0 en 1.5 kg Solubor® (20.5% boor) per hektaar op 40, 60 of 40 en 60 dae na plant vergelyk is met kontroles waar geen boor toegedien is nie. Toedienings op 40 en 60 dae na plant, het in meeste jare ooreengestem met die periode vanaf die begin van stamverlenging tot voor die begin van blomstadium.

Hoewel onbespuite (kontrole) plante in hierdie studie ten spyte van lae en selfs gebrekkige boorinhoude in die sanderige-leem grond geen tekort simptome van boor tydens die blomstadium getoon het nie, het die toediening van boor wel die boorinhoud van die plante op alle lokaliteite verhoog. Reaksies het egter baie gevarieer en het nie 'n duidelike tendens met toenemende boorpeile of 'n verband met die boorinhoud van die grond getoon nie. Dit is waarskynlik omdat selfs die hoogste toediening van 1.5 kg Solubor® op beide 40 en 60 dae na plant slegs 0.62 kg B ha-1 toegdien het. Dit is laag in vergelyking met aanbevole peile in lande soos Kanada en verduidelik waarskynlik ook waarom geen toksiese simptome op die vegetatiewe plantegroei waargeneem is nie.

Boron (Solubor®) toedienings het egter wel die graanopbrengs en olie-inhoud van die sade verhoog en optimum peile het gevarieer tussen 0.5 en 1.5 kg Solubor® ha-1 vir verskillende jare en lokaliteite. Hoewel toedieningspeile van 2.0 en 3.0 kg Solubor® (toedienings van1.0 en 1.5 kg op beide 40 en 60 dae na plant) geen duidelike tekens van toksisiteit op die plante getoon het nie, het dit ook nie deurgaans betekenisvolle hoër opbrengste tot gevolg gehad nie en in sommige jare selfs laer opbrengste veroorsaak. Vir hierdie rede word toedieniningspeile van 1.0 kg ha-1 Solubor® algemeen aanbeveel as 'n blaarbespuiting tussen 40 en 60 dae na plant maar nie later as die begin van blomstadium nie.

Hierdie studie toon duidelik dat blaartoedienings van boor beslis sal bydra tot die verhoogde graanopbrengs en olie-inhoud van canola wat in die Wes-Kaap op grond met lae boorinhoude geproduseer word. Nogtans mag aspekte soos grondtoedienings met plant en hoër toedieningspeile soos in sommige ander lande aanbeveel word, in die toekoms ondersoek word.

Resultate van hierdie studie is reeds op verskeie boere-inligtingsdae voorgedra en het daartoe bygedra dat boorbespuitings nou as algemene praktyk aan canola toegedien word. Resultate sal egter ook as wetenskaplike artikel in die Suid-Afrikaanse Joernaal vir Plant en Grond gepubliseer word.


6.8

 

Swawel (S) en stikstof (N) bemesting van canola


GA Agenbag en E Kempen
Universiteit Stellenbosch

Swawelbemesting is 'n baie belangrike produksiefaktor wat die opbrengs van canola in die produksiegebiede van die Weskaap beïnvloed omdat canola 'n baie hoë swawelbehoefte het en omdat grondontledings toon dat die swawelinhoud van die grond in genoemde produksie-gebiede meestal laag is. Boonop beïnvloed die voorsiening van swawel ook die doeltreffendheid waarmee stikstof deur canola benut word. Gedurende die 2012 tot 2014 produksiejare is aspekte soos optimale swawel- en stikstoftoedieningspeile, tye van swawel toediening asook swawelbronne op drie lokalteite in die Swartland en Suidkaap nagevors. Onderstaande resultate wat reeds op verskeie inligtingsdae aan produsente oorgedra is het bygedra tot die bevordering van canola in hierdie gebiede.

Die toediening van swawel het op alle lokaliteite en in alle jare 'n betekenisvolle verhoging in graanopbrengs tot gevolg gehad, maar 'n verhoging in swawelbemesting vanaf 30 tot 60 kg S ha-1 het oor die algemeen geen statisties betekenisvolle verhoging in graanopbrengs veroorsaak nie. Dit kan dus aanvaar word dat 'n toediening van 30 kg S ha-1 in die behoeftes van canola in die Weskaap sal voorsien.

Volgens internasionale literatuur kan swawel wel met goeie resultate as bobemesting gedurende die groeiseisoen van canola toegedien word. In die studie wat oor 3 jare uitgevoer is en waar gips (CaSO4) as bron van swawel gebruik is, het die verdeling van die swawel om benewens die toediening met planttyd ook swawel op 30 en 60 dae na plant toe te dien, nie deurgaans tot hoër opbrengste gelei nie. Waar gips as bron van swawel gebruik word, word 'n eenmalige toediening voor of tydens plant van die canola dus aanbeveel. Waar swawel as komponent van die stikstofbemesting toegedien word en dus nie addisionele toedieningskoste meebring nie kan dit egter wel sonder nadelige gevolge verdeel word om 'n gedeelte as bobemesting saam met die stikstof toe te dien. Geen opbrengsverskille as gevolg van die bron van swawel is waargeneem nie.

Toenames in stikstof toedieningspeile het die graanopbrengs betekenisvol verhoog, maar die opbrengsreaksie op stikstofbemesting was groter waar stikstof in kombinasie met swawel toegedien is. Die effektiwiteit van die stikstofbemesting is gevolglik verhoog deur ook met swawel te bemes en graanopbrengste het toegeneem.

Hoewel verderre navorsing nodig is om die optimale toedieningstye te bepaal, het hierdie navorsing alreeds 'n beduidende bydrae gelewer tot die doelwitte van die Proteiennavorsingstigting naamlik 'n verhoging in die produksie van canola.


6.9

 

Evaluasie van verkorte canolaproduksie periodes en die gebruik van alternatiewe gewasse op die volhoubaarheid van wintergraanproduksie onder bewaringslandbou praktyke op die Riversdal vlaktes


JA Strauss en W Langenhoven
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Die 2014-seisoen was die derde produksiejaar van die nuwe proewe. Ses kontantgewasstelsels, insluitend verkorte canolarotasies en dekkings­gewasse, is getoets. 'n Totaal van 60 veldproewe is aangeplant. Die ses stelsels wat getoets is, is drie keer herhaal en alle gewasse binne elke stelsel is elke jaar op elke land verteenwoordig.

Alle proeflanderye is aangeplant en bestuur volgens die beplande protokolle (insluitend gepaste onkruid-, siekte- en insekbeheermaatreëls).

Riversdal het in die voorseisoen bogemiddelde reënval gehad, maar hoewel daar genoeg vog beskikbaar was gedurende die eerste deel van die seisoen, het gebrekkige hoë reënval in die na-seisoen met gevolglike vroeë sny en windrye gelei tot laer opbrengste as die algehele 2013-seisoen.

Canolaproduksie

  • Hyola 571 is in Riversdal aangeplant teen 3 kg/ha.
  • 'n Totaal van 58 kg N/ha is aangewend vir elke land (23 kg N/ha met aanplant en 38 kg N/ha as bogrondse laag).
  • Canola-opbrengste by Riversdal was gemiddeld 1 430 kg/ha en al die lande het 'n olie-inhoud van meer as 40% opgelewer. Die gemiddelde opbrengs was 899 kg/ha minder as in 2013.

Koringproduksie

  • SST027 is in Riversdal aangeplant teen 60 kg/ha.
  • 'n Totaal van 61 kg N/ha is aangewend vir elke land (20 kg N/ha met aanplant en 38 kg N/ha bogrondse laag). Koringopbrengste by Riversdal was gemiddeld 2 657 kg/ha.

Garsproduksie

  • Erica is in Riversdal aangeplant teen 53 kg/ha.
  • Garsopbrengste by Riversdal was gemiddeld 3 770 kg/ha.

Lupinproduksie

  • Geen Mandelup was beskikbaar nie en 'n bitterlupinmengsel is aangeplant by Riversdal teen 100 kg/ha.
  • Lupinopbrengste by Riversdal was gemiddeld 974 kg/ha.

Dekkingsgewasse

Saia-hawer en voerertjiemengsels is aangeplant by Riversdal teen onderskeidelik 30 kg/ha en 100 kg/ha. Geen ander insetkoste is aangegaan gedurende die seisoen nie, buiten vir die onkruiddoderkoste wat aangegaan is om die dekkingsgewas uit te roei na die inligtingsdag.

Tegnologie-oordrag

Die volgende is 'n opsomming van die voorleggings, verslae en publikasies wat gebaseer is op die gewasproduksieproewe by Riversdal, volgens die data wat bekom is in 2014.

  • 1 boeredag
  • 1 tegniese vergadering en verslaggewingsessie

6.10

 

Die bevordering van canola as wisselbougewas binne 'n bewaringsboerderystelsel in die droëland saaigebied van die Swartland, deur middel van 'n produsente kompetisie


IF Slabbert
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Veertien (14) Produsente het ingeskryf en almal is geevalueer. Daar was 3 deelnemers in die Malmesbury voorligtingswyk, 4 in die Moorreesburg wyk, 3 in die Piketberg wyk, 3 in die Hermon wyk en 1 naby Durbanville. Dit was oor die algemeen n goeie seisoen. Aanvanklik het die seisoen normaal begin met rëen vanaf begin Mei. Die reenval was ongelukkig laer as normaal tydens September.Die temperature was ook effens bo normaal in die hoof blomtyd gedurende Augustus.

Tydens die September SKOG-dag is demonstrasieproewe en kultivarproewe besigtig. Die hoofspreker by hierdie dag was Dr Briedenhann wat gepraat het oor Canola as voergewas. Verskeie plase waar canola geplant is, is besoek om die boere van advies te bedien.

Die gemiddelde opbrengs vir 2014 was 1,66 ton per hektaar terwyl 2013 se gemiddelde opbrengs was 1,61 ton per hektaar. Alhoewel hierdie kompetisie se gemiddelde opbrengs effens hoër was as die vorige jaar, was die algemene opbrengstes laer.

Pryse uitgeloof vir 2014 was net vir die deelnemers met die hoogste opbrengs, beste bruto marge en beste opbrengs per mm reën. Geen pryse is uitgeloof vir die deelnemers wat naasbeste presteer het.

Daar was slegs een deelnemer wat aldrie pryse gewen het. Dit was Dirk Lesch van Malmesbury. Sy opbrengs was 2.35 ton/ha en sy bruto marge was R5431/ha.Sy opbrengs per mm reën was 8,27 kg.


6.11

 

Die bevordering van canola as wisselbougewas binne 'n bewaringsboerderystelsel in die droëland saaigebied van die Suid-Kaap, deur middel van 'n produsente kompetisie


JG Loubser
Contractor, Protein Research Foundation

Dertig canola produsente het in 2014 ingeskryf vir die Suid-Kaap Canola Kompetisie.

Al die deelnemers se inligting is verwerk en in die verslag ingesluit.

Die uitslae is op 12 Maart 2015 tydens die jaarlikse Overberg Agri voorsaai inligtingsdag te Rietpoel naby Caledon vrygestel en bespreek.

Die 2014-seisoen is gekenmerk deur baie wisselvallige vogtoestande.

Gedurende Augustus was die minimum temperatuur 1.95ºC hoër as die langtermyn gemiddelde temperatuur. September se minimum temperatuur het min verskil van die langtermyn gemiddelde temperatuur.

Die ondergemiddelde reënval gedurende die lente, tesame met bogemiddelde minimum temperature in Augustus het die groeiseisoen verkort.

Die toename in voorkoms van Sclerotinia het in sommige gebiede die canola opbrengs nadelig beїnvloed.

Die gemiddelde canola produsente-prys was R4150 per ton, die gemiddelde opbrengs 1.65 ton per hektaar (2013 opbrengs 2,26 ton per hektaar) en die gemiddelde bruto marge R2808 per hektaar.

Die deelnemer wat die hoogste opbrengs van 2.160 ton per hektaar behaal het was mnr Pieter Dreyer van Raka Boerdery naby Caledon.

Die deelnemer wat die reënval die effektiefste bestuur het, met 'n opbrengs van 9,022kg saad per millimeter reënval was mnr Niel Neethling van Verfheuwel Boerdery naby Malgas.

Die deelnemer wat die beste bruto marge van R5171 per hektaar behaal het, was mnr Willie Smal van Hammansdal Boerdery naby Caledon.


6.12

 

Die ontwikkeling van 'n bio-beheer agent vir slakke in Suid-Afrika


A Pieterse, JL Ross en AP Malan
Universiteit Stellenbosch

Europese slakke (dopslakke en naakslakke) het beduidende ekonomiese peste geword in Suid-Afrika, en het 'n voorkeur vir canola wat 'n belangrike gewas is in die vervaardiging van dierevoer proteïen en olie vir menslike gebruik. Die huidige metodes vir die beheer van slakke is grootliks afhanklik van chemiese molluskisiedes, wat in sommige gevalle nie goed werk nie en kan skadelik wees vir nie teiken organismes. Dit is dus belangrik om 'n biologiese beheer metode vir hulle te identifiseer. Die mees doeltreffende metodes vir die biologiese beheer van slakke in Europa is die slak-parasitiese nematode, Phasmarhabditis hermaphrodita. As gevolg van laasgenoemde se hoë effektiwiteit en wye gasheer-reeks, is P. hermaphrodita in Europa as 'n biologiese slakdoder gekommersialiseer, waar dit onder die Nemaslug® handelsnaam verkoop word. Phasmarhabditis hermaphrodita is teen baie landlewende slakke 'n dodelike parasiet, insluitende Agriolimacidae, Arionidae, Limacidae, Milacidae en Vagnulidae. Die produk is nog nie in Suid-Afrika te koop nie, weens huidige wetgewing (wysiging van Wet 18 van 1989, onder die Landbou-Pes Wet 36 van 1947), en daarom moet 'n inheemse produk vir biologiese beheer ontwikkel word. Die doelwit van hierdie projek is om 'n plaaslike, inheemse nematode isolaat te identifiseer, wat as 'n bio-beheer agent ontwikkel kan word teen weekdiere in Suid-Afrika. Verskeie nematodes is al geïdentifiseer tydens opnames wat in die Wes-Kaap provinsie onderneem is. Hierdie isolate is deur middel van molekulêre- en morfologiese tegnieke geïdentifiseer, en het patogeniese toetse ondergaan om hul doeltreffendheid in die beheer van slakke te bepaal. Een nematode, wat belowend lyk vir die beheer van slakke, ondergaan tans pogings om dit te ontwikkel en kulture daarvan te vervaardig (met die optimale beheer van temperatuur, oorbevolking, inokulum digtheid en bakteriese groei). Boonop het ons voortgegaan met opnames in die provinsie om verdere isolate te identifiseer. Ons vergelyk ook die patogeniteit van plaaslike isolate met die van die Nemaslug® produk. Ter afsluiting, mik hierdie projek om 'n inheemse biologiese slakdoder te ontwikkel, wat 'n deurslaggewende impak sal hê op die landbou, tuinbou en wingerdbou industrieë in Suid-Afrika.


6.13

 

Ontwikkeling van proteïen en fosfor voerbestanddele vanuit vis prosesseringsafval vir die dierevoer industrie


N Goosen
Universiteit Stellenbosch

Die doel van die navorsing is om tegnologie te ontwikkel wat aangewend kan word om hoë-kwaliteit proteïen- en fosfor dierevoerbestanddele te vervaardig vanuit lae waarde vis prosseseringsafval wat afkomstig is vanaf visserye of akwakultuur. Deur die gepaste tegnologie tot stand te bring wat hoër-waarde dierevoerbestanddele vervaardig vanuit afvalprodukte, kan ekonomiese aansporing geskep word wat die benutting van afvalprodukte kan bevorder. Deur hierdie benadering te volg word daar gehoop dat die huidige projek sal bydra tot meer doeltreffende benutting van natuurlike hulpbronne en 'n verhoging in die beskikbaarheid van hoë-kwaliteit dierevoerbestanddele wat benodig word om uitbreiding van intensiewe diereproduksie te ondersteun.

Die oorhoofse ondersoek is onderverdeel in drie aparte projekte en elkeen van hierdie projekte vorm die basis van 'n Meestersgraad studie. Eerstens word die optimale prosesseringstoestande tans bepaal om proteïene en olies selektief vanuit vis prosesseringsafval te herwin, deur gebruik te maak van ensiemtegnologie. Tweedens word die ekstraksie van essensiële makrominerale (met klem op fosfor) vanuit benerige materiaal deur suurloging ge-optimeer. Die derde projek skop in 2016 af en beoog om die kwaliteit van die bogenoemde voerbestanddele te bepaal in diereproewe.

Goeie vordering word tans gemaak in die twee projekte wat reeds begin het. In die eerste projek is alle eksperimentele toerusting aangeskaf en opgestel en eksperimentele werk het reeds belangrike data ingewin. Verskillende proteolitiese ensieme word getoets om hul geskiktheid te bepaal vir behandeling van 'n spesifieke roumateriaal wat afkomstig is van 'n kommersiële vissery, terwyl die produkte wat herwin word vanuit die proses ook gekarakteriseer word. In die derde projek (wat in 2016 'n aanvang sal neem) is alle eksperimente reeds beplan en verbruikbare materiaal en chemikalieë is aangekoop vir die eerste gedeelte van eksperimentele werk.


6.14

 

Inkomste- en kosteramings van sojabone en canola en enkele mededingende gewasse


JSG Joubert en SG Ferreira
Proteïennavorsingstigting en Agriconcept

As ʼn deurlopende projek is inkomste- en kosteramings weer gedurende die verslagjaar vir geselekteerde gewasse en streke binne die Somer- en Winterreënstreke gedoen. Inkomste- en kosteramings word as ʼn belangrike hulpmiddel beskou vir voorligtingsdoeleindes asook vir die produsent vir beplanningsdoeleindes.

Dit kan ook aangewend word vir strategiese beplanning en beleidsdoeleindes. Agriconcept (Edms) Bpk. (Mnr SG Ferreira) is gekontrakteer om die taak op 'n jaarlikse grondslag vir die PNS te onderneem.

Om die inligting in te samel word samewerking verkry van Agri-besighede binne die Somer- en die Winterreënvalgebied. Die inligting wat bekom word, word herverpak en op 'n vergelykbare en verbruikersvriendelike basis in harde sowel as in elektroniese formaat beskikbaar gestel vir 'n verskeidenheid individue en organisasies wat dit wil benut.

Pryse van insette en uitsette en uitsette word van 'n verskeidenheid bronne bekom en waar Agri-besighede nie inligting kan voorsien vir die opstel van begrotings nie word dit deur middel van groepbesprekings bekom.

Die gebiede en gewasse waarvoor inkomste- en kosteramings bereken is word in Tabelle 1 en 2 aangedui.

Table 1
Inkomste– en kosteramings in die Somerreënvalgebied volgens gewas en streek
Gebied Besproeiing / Droëland Mielies Sojas Koring Canola Grondbone Sonneblomme
Mpumalanga
Loskop besproeiingskema Besproeiing X X X
Noordwes Provinsie / GWK Gebied
Brits/Koedoeskop / Makoppa Besproeiing X X X
KwaZulu-Natal
Bergville Besproeiing X X X
GWK gebied
Sentrale Besproeiingsgebied Besproeiing X X X X X
Oos-Vrystaat VKB gebied
Reitz / Petrussteyn / Bethlehem / Warden Droëland X X X X
Frankfort / Vrede Droëland X X
Mpumalanga
Piet Retief Droëland X X
Kinross Droëland X X
KwaZulu-Natal
Bloedrivier Droëland X X
Noordwes Provinsie / NWK gebied
Koster Hoëveld Droëland X X X
Lichtenburg / Ottosdal / Sannieshof / Delareyville Droëland X X X

Table 2
Inkomste- en kosteramings in die Winterreënvalgebied volgens gewas en streek
Gebied Koring Gars Canola
Swartland
Sandveld X X
Suid-Swartland X X
Middel-Swartland X X
RooiKaroo X X
Overberg Agri Gebied
Caledon / Riviersonderend X X X
Bredasdorp / Napier X X X
Sentraal-Suid Koöperasie Gebied
Swellendam / Heidelberg X X X

6.15

 

PNS webtuiste


JSG Joubert, M du Preez en Y Papadimitropoulos
Proteïennavorsingstigting

Die Proteïennavorsingstigting se webblad kan vergelyk word met 'n lewende, groeiende "gemeenskap" deurdat inhoud soos nuusbriewe, statistieke, oesskattings, nuusbrokkies, werkgroep notules en so meer, wat op gereëlde basis vernuwe, tydig opdateer word. Daar is dus altyd iets nuuts vir die besoeker om te ondersoek.

POEMS en webblad inhoud

2014/2015 was 'n besondere jaar vir beide PNS-personeel en die webblad-meesters met die voltooiing van 'n uitgebreide sisteem met die naam POEMS, wat middel-2014 voltooi is. POEMS is ʼn akroniem vir "PRF OPDT Electronic Management System" en die sisteem is uniek ontwikkel om lopende sowel as afgehandelde navorsingsprojekte te bestuur vanuit die PNS-kantoor.

Hoewel die grootste funksionaliteit van hierdie sisteem eintlik agter die skerms plaasvind, het dit 'n outomatiese, direkte invloed op gedeeltes van inligting wat op die PNS webblad verskyn.

Die sisteem word in fases met die webblad geïntegreer. Die eerste fase wat tydens 2014/2015 voltooi is, is die gekategoriseerde navorsingsdatabasis ("research database") waar bestuuropsommings, artikels, populêre en wetenskaplike publikasies en algemene inligtingstukke van projekte outomaties op die webblad aanpas en geplaas word soos die status van projekte op die sisteem in die PNS-kantoor opdateer word.

Die volgende fase is reeds in ontwikkeling om die PDF-artikels, -pamflette en -dokumente wat by die onderskeie gewasse ("crops") op die webblad ingedeel is dinamies vanuit die sisteem op die webblad te plaas en behoort teen middel-2015 in werking te wees.

Werk is ook reeds begin om teen middel-2015 afgehandelde projekte in die gekategoriseerde navorsingsdatabasis ("research database") se foto's met die huidige foto galery op die webblad te integreer met skakels wat terug verwys na die spesifiekgekoppelde projek in die navorsingsdatabasis.

Webblad struktuur

As gevolg van programmeringstale soos HTML, PHP en inligtingsbeheertale soos MySQL wat gereeld opdateer met nuwe weergawes, is die webblad-meesters konstant besig om die struktuur van PNS se webblad op te gradeer met die nuutste programmeringsintakses en -kodes.

Soekenjin sigbaarheid

Om die sigbaarheid van PNS se webblad op soek-enjins soos byvoorbeeld Google en Bing te bevorder word algoritmes en tendense wat deur die soek-enjins ingestel word oortdurend gemonitor. Hierdie algoritmes beïnvloed hoe unieke bladsy-titels, -beskrywings en -sleutelwoorde van individuele web bladsye geskep word en is, met uitsondering van die bladsy-titels wat bo-aan webbladsye verskyn ("tabs"), slegs in soekenjins te sien.

Webblad inhoud word byvoorbeeld op die volgende punte deur soek-enjins evalueer:

  • Inhoud: 'n minimum van 300 woorde per bladsy (waar moontlik);
  • Paragrawe en sinne word vir leesbaarheid ondersoek en gradeer;
  • Inhoud op bladsye, asook bladsy-titels en -beskrywings, word deursoek vir repetering;
  • Bladsye met foto's of video's word bevoordeel;
  • Bladsye met interne sowel as eksterne skakels word bevoordeel; en
  • Unieke sleutelwoorde of -frases moet verbatim in die inhoud vervat wees.

Bogenoemde is slegs 6 van die sowat 500+ algoritmes wat gemiddeld per jaar deur soekenjins aangepas word.

Dit is met trots dat PNS se webblad 'n "Google page ranking" van 5 het. Dit dui op 'n gesonde samestelling van inligting, skakels en visuele elemente. Daar is natuurlik altyd ruimte vir verbetering en die webbladmeesters het voorstelle ingedien om PNS se webblad visueel meer modern te maak en ook meer met sosiale media te integreer.

Een van die maatstawwe om die gebruikerswaarde van die webblad te bepaal is die aantal besoekers asook tyd gespandeer op die webblad en aantal bladsye besoek. Onderstaande statistieke dui die getal besoekers per verslagjaar aan sedert die aanvang van die webblad.

Verslag jaar Unieke besoekers
Rou waardes *
Unieke besoekers
Google waardes
Visitors Bladsye Bladsye per besoek
2004 1 691
2005 3 285
2006 4 552
2007 5 404 3 041 10 838 2.79
2008 11 104 5 274 18 829 2.82
2009 10 194 6 610 27 341 3.18
2010 11 812 6 054 23 347 2.98
2011 12 357 5 511 24 258 3.29
2012 16 306 6 909 28 206 3.12
2013 54 739 8 767 34 284 2.97
2014** 54 590 10 189 39 363 3.03

* Rou waardes dui op die totale interaksies soos gemeet deur die webbediener terwyl die Google waardes slegs die besoekers meet wat deur middel van 'n webblaaier koppel aan die webwerf. Besoekers wat weer aan die webwerf koppel word nie weer getel as hulle met dieselfde webblaaier koppel nie.

** Gedeeltelike waardes gemeet vanaf 1 Januarie 2014 tot 28 Februarie 2015.


Uit bogenoemde tabel is dit duidelik die hoeveelheid unieke besoekers volgens die Google waardes geleidelik toeneem per jaar.

Ten opsigte van die aantal bladsye wat besoek is dui dit 8,216 wat gedurende die 2014 verslag jaar besoek is. Gedurende die aanvang van die webblad in 2004 tot 2006 was die Google waardes nog nie bekend nie.