Navorsingsverslag 2014/2015
9.
Slot
Dis met groot dankbaarheid dat die PNS hierdie navorsingsverslag aan u voorhou. Die resultate wat bereik is val binne die vereistes en doelwitte wat die PNS aan homself gestel het en daarvoor moet erkentlikheid oorgedra word aan 'n groot aantal instansies en individue. Dit is ook met groot dankbaarheid dat ons terugkyk oor 'n periode van 24 jaar en sal ons seer sekerlik die bydraes van beide Dr Griessel en Mnr Joubert wat uittree en uitgetree het, mis. Wyle Mnr Frans Potgieter het van dag een af sy merk gemaak en was altyd een van die staatmakers veral ten opsigte van die sojaboonbedryf. Ons eer sy nagedagtenis en sal hom in die toekoms baie mis.
Ons is besonder bevoorreg om soveel medewerkers en ondersteuners te hê, wat ook bereid is om hard te werk in die nastrewe van die PNS se doelstellings. Ons dink aan al die navorsers, navorsingsinstansies, universiteite en ander tersiêre inrigtings, die regering, provinsiale departemente en ander ondersteunende dienste soos die pers en alle agente wat ons bystaan met die oordrag van tegnologie. Dit sluit produsentliggame soos Agri SA, Graan Suid-Afrika, SAGIS, Graanlaboratorium, die kommoditeitstrusts, veral die Olie- en Proteïensaadontwikkelingstrust, koöperasies en landboumaatskappye, saad-, chemiese en toerustingsmaatskappye en -verspreiders, ons ouditeure, prokureurs, die fondsbestuurders en almal wat ek nie by die naam noem nie, maar wat altyd gereed is om ons te help.
Ons lojale en uiters toegewyde personeel dra baie by en dit is moeilik om die gepaste woorde te vind om hulle te bedank vir al hulle insette gedurende die afgelope jaar en die vorige jare.
Dit is altyd die PNS se beleid om Raadslede met bepaalde kennis wat vereis word deur die PNS aan te stel, om sy aktiwiteite te bevorder. Al die Raadslede wat dien as lede van die Raad het oor die afgelope jaar baie bygedra tot die sukses waarop ons nou kan terugkyk en daarvoor spreek ons werklik eerlike dankbaarheid uit.
'n Ongekwalifiseerde woord van dank aan elkeen.
Gerhard JH Scholtemeijer
VOORSITTER5 November 2015