Navorsingsverslag 2014/2015
3.
Beleidsbesluite
Die Raad van die PNS het dit goedgedink om gedurende 2015 twee glansfunksies te hou, een in Stellenbosch en een in Pretoria om die herdenking van die vyf-en-twintig jarige bestaan van die PNS, feestelik te vier. Elke vergadering van die Raad en Dagbestuur het tyd beskikbaar gestel vir die bespreking van hierdie aangeleentheid om te verseker dat dit werklik 'n glansgeleentheid sal wees. Een van die besluite was dat 'n gedenkalbum uitgegee sal word wat sal handel oor die PNS en sy aktiwiteite oor die afgelope vyf-en-twintig jaar. Die jaar 2015 beloof om inderdaad 'n besondere jaar te wees vir die PNS. Daar is ook in dieselfde verband besluit om 'n korporatiewe video van die PNS te laat vervaardig veral aangesien skakeling met buitelandse instansies elke jaar baie gereeld plaasvind.
Na 'n deeglike bespreking het die Raad besluit dat die eliteproewe met buitelandse cultivars voortgesit sal word vir 'n verdere drie jaar siklus maar met die duidelike verstandhouding dat geen nuwe toetreders na Oktober/ November 2013 aanvaar sal word nie. Die laaste toetreder onder die ou skema was inderdaad INIA, 'n navorsingsinstansie uit Uruguay wat reeds cultivars aangebied het vir aanplanting gedurende die eersvolgende eliteproefaanplantings. In 'n poging om steeds die ideale van die PNS na te streef is daar egter besluit dat eliteproewe ook beskikbaar sal wees vir daardie maatskappye wat saad met unieke eienskappe het, byvoorbeeld knopwortelaalwurmweerstandbiedendheid, roesweerstandbiedendheid, ensovoorts.
Met inagneming van 'n groot verskeidenheid inligtingsdae wat deur verskillende maatskappye en instansies jaarliks aangebied word het die Raad besluit om weg te doen met die Hatfieldinligtingsdag nadat dit die afgelope twee jaar om verskeie redes nie kon plaasvind nie. Daar is egter ten gunste van omvangryke soja- en canolasimposia besluit wat al om die ander jaar 'n groot geleentheid sal wees vir die betrokke gewasse. Daar moet lank vooruitbeplan word sodat die heel beste buitelandse en plaaslike sprekers vir sodanige geleenthede benut kan word.
'n Baie goeie reëling en ooreenkoms is met die Stellenbosch Universiteit gesluit ten opsigte van die betrokkenheid van Prof André Agenbag by die PNS Canolabevorderingsaksies. Prof Agenbag het reeds die spil geword waarom canolabevordering in die Wes-Kaap draai maar volgens genoemde ooreenkoms sal hy na sy aftrede op pensioen aanbly met 'n kantoor by US en steeds as Professor vir hulle kan optrede by geleentheid terwyl hy die grootste deel van sy tyd aan die PNS canolaaksies sal bestee. Die Raad is baie dank verskuldig aan beide die Universiteit van Stellenbosch sowel as Prof Agenbag – die positiewe invloed op canolaproduksie is sedert hierdie reëling geimplementeer is, baie duidelik sigbaar.
Vanweë die groot druk wat soja-uitbreiding op die Tegnologiekomitee sowel as die Sojwerkgroep geplaas het, het die Raad besluit om die Sojabeplanningstaakspan wat etlike jare gelede reeds geskrap is, weer in die lewe te roep en wel as 'n Sojabeplanningskomitee. Verskeie navorsers en produsente is by hierdie komitee betrek en die PNS vertrou dat hierdie komitee sal meehelp om meer rigting te gee aan die bereiking van die doelwitte wat gestel is vir die volgende vyf jaar. Seker die mees ingrypende besluit wat geneem is, het voortgevloei uit die Voorsittersverslag wat tydens die AJV van 2013 aan die Raad voorgehou is. Die rede is eers na die Dagbestuur verwys vir besinning en daarna is besluit om vir die eerste keer in baie jare weer 'n dinkskrum van die Raad te hou, benewens die gereelde dinkskrum van onderskeidelik die Dagbestuur en Tegnologiekomitee.
Met die oog op herposisionering vir die volgende vyf jaar het onderwerpe vir bespreking die Trustakte ingesluit, die PNS se visie en missie, webblad en veral die samewerking met buitelandse vennote en wat daarmee gepaardgaan, die nuwe denkrigtings ten opsigte van bepalings van navorsingsprioriteite en alternatiewe proteïenbronne, indien moontlik, asook innovasie ter bereiking van die PNS se 2020 doelstellings.
Die kern van die dinkskrum het gekulmineer in 'n besluit dat die fokuspunt vir die volgende ses jaar op die plaaslike produksie van meer proteïen te wete sojabone en canola teen die laagste koste sal wees en dat slegs proteïenverwante navorsingsprojekte van genoemde twee bedrywe befonds sal word met die oog op invoervervanging. Kernbelangrik is dat die PNS moet verseker dat die produksie en beskikbaarheid van proteïen op volhoubare en die mees ekonomiese wyse deur die hele waardeketting geskied. Aspekte wat hieruit sal voortvloei in die toekoms moet veral gemik gewees op die onaanvaarbaar lae opbrengste per hektaar wat gemiddeld vir die twee gewasse sojabone en canola in Suid-Afrika behaal word.
Die Raad sal hom ook daarvoor beywer om die nodige infrastruktuur te skep om leemtes in terme van tegnologie-oordrag en navorsing aan te vul en voordurend aanpassings volgens die behoeftes van die dag te maak. Dit sal onder andere behels dat navorsers geïdentifiseer moet word met die oog op verdere opleiding en blootstelling om genoemde ideale van die PNS te bevorder.
Vanweë die geweldige klemverskuiwing wat grootliks by internasionale maatskappye met 'n teenwoordigheid in Suid-Afrika, waargeneem word, is besluit dat die PNS pro-aktief moet optree met die identifikasie van daardie vennote wat waarde tot die verwesenliking van die PNS se doelstellings kan toevoeg. In 'n poging om daardie provinsies behulpsaam te wees waar sojabone nog nie 'n regmatige plek in die wisselboustelsel ingeneem het nie sal spesifieke eienskappe wat benodig word sowel as spesifieke cultivars vir sodanige gebiede geïdentifiseer word. Hierdie poging sal met behulp van die genoemde maatskappye geïdentifiseer word.
Die doelwitte voor oë vir 2020 naamlik dat beoog word om gemiddeld 2.5 ton sojabone per hektaar te produseer op een miljoen hektaar om 'n totale produksie van 2.5 miljoen te gee en ten opsigte van canola dat 250 000 ton canola geproduseer moet word op 150 000 hektaar, is weereens bevestig.