Navorsingsverslag 2014/2015
4.
Proteïenbronne
Indeks
4.1
Plaaslike produksie van proteïen
4.1.1
Algemeen
Volgens syfers van AFMA was die totale oliekoek verbruik in Suid-Afrika vir die periode 1 April 2013 tot 31 Maart 2014 'n totaal van 1 889 979 ton. Vir die PNS was dit 'n belangrike mylpaal aangesien daar vir die eerste keer meer proteïen vir diereverbruik plaaslik geproduseer is as wat ingevoer is. Plaaslike produksie het 1 197 604 ton beloop terwyl 686 511 ton proteïen ingevoer is.
4.1.2
Sojabone
Die eerste oesskatting van 2012/13 het aangedui dat 914 350 ton sojabone geproduseer sou word op 516 500 hektaar. Daar is uiteindelik slegs 784 500 ton gelewer. Daarteenoor is daar in die 2013/14 oesjaar aangedui dat 502 900 hektaar sojabone aangeplant is wat ongeveer 14 000 hektaar minder is as vorige jaar maar aan die einde van die seisoen het dit geblyk dat 944 000 ton sojabone gelewer is. Belangrik vir die PNS was dat die 500 000 hektaar steeds gehandhaaf is, want dit was die vooruitskatting vir die plantseisoen 2015. Die een miljoen ton wat vir die plantseisoen 2015 geskat is het ons egter ontwyk.
Die 2014/15 oesskatting het aanvanklik gemengde gevoelens tot gevolg gehad. Die oppervlakte het verhoog van 502 900 hektaar na 687 300 hektaar maar die eerste oesskatting het slegs 938 350 ton beloop. Dit wou dus voorkom asof die magiese syfer van een miljoen ton sojabone ons weer sou ontglip. Die weerstoestande was nie baie bevorderlik vir somergewasse nie, maar groot was ons vreugde in die tweede semester van 2015 toe die oesskattingskomitee vir die eerste keer geskat het dat meer as een miljoen ton sojabone gedurende 2014/15 geproduseer sal word.
Tesame met die dankbaarheid oor die vordering van die pogings van die PNS om groter selfvoorsienendheid daar te stel ten opsigte van proteïen vir diereverbruik het AFMA, tot die PNS se groot teleurstelling, koue water oor hierdie positiewe resultate uitgestort. Dit het bekend geword dat AFMA hom beywer vir die afskaffing van invoerheffings op sojabone en sojaboonmeel ongeag die nadelige invloed wat dit op die plaaslike sojabedryf mag hê. Dit is duidelik dat AFMA die geskiedenis vanaf 1973 tot tans heeltemal buite rekening gelaat het in hierdie totaal onaanvaarbare benadering tot die vooruitgang in die produksie van proteïen in Suid-Afrika. Uiteraard sal die PNS en ander betrokke liggame soos Graan Suid-Afrika hierdie aansoek hand en tand beveg.
Die tradisionele webbladstudie wat een maal per jaar ten opsigte van die sojabedryf uitgevoer word deur Mnr Jan Du Preez het weereens baie interessante leesstof en bespreking tot gevolg gehad. Kennis is onder andere geneem dat Monsanto met 'n nuwe produk die mark betree het te wete Roundup Ready 2. Hierdie aksie kan verstaan word omdat die wettige leeftyd van Roundup Ready 1 gedurende 2015 sy beskermde status sal verloor. Die PNS sal weereens streef daarna om hierdie verbeterde genetika ook vir Suid-Afrika te bekom.
Nuwe tegnologie soos Roundup Ready 2 sal egter nie maklik in Suid-Afrika bekend gestel word indien die saadmaatskappye nie beskerm word teen uitbuiting deur produsente wat graan as saad terughou nie. Dit was dan ook in hierdie tyd dat wyle Mnr Frans Potgieter vir die eerste keer die moontlikheid genoem het dat Graan Suid-Afrika met 'n stelsel van eindpunttantiéme na vore wil kom.
Soos elke jaar die geval is, is daar ook weereens 'n Tegnologiekomiteedinkskrum gehou om te verseker dat die PNS op die voorpunt bly ten opsigte van 'n wye verskeidenheid aspekte met betrekking tot sojaboonproduksie. Daarbenewens het die Raad ook die aanbeveling aanvaar dat die PNS moet streef om teen 2020 'n gemiddelde soja-opbrengs van 2,5 ton per hektaar te bewerkstellig asook 'n opbrengs van vyf ton per hektaar onder besproeiing. Die gemiddelde opbrengs van produsente in alle provinsies, KwaZulu-Natal uitgesluit, bly onaanvaarbaar laag. Dit het wel heelwat te doen met die voortdurende nuwe toetreders tot die bedryf maar dit is belangrik dat die PNS hierdie onaanvaarbare situasie sal moet aanspreek.
In hierdie verband het Dr Jan Dreyer, 'n lid van die Tegnologiekomitee, 'n indringende studie gedoen ten opsigte van sojabone onder besproeiing. Die resultate van die studie word ingewag.
Van die resultate wat voorgevloei het uit die Tegnologiekomiteedinkskrum was onder andere die besluit om die roesvangerproewe te staak. Dis met dankbaarheid dat die PNS kan berig dat roes die afgelope aantal jare nie verder uitgebrei het nie en dat dit steeds slegs as endemies beskou word aan die oostekant van die Drakensberge.
In 'n poging om van die nuutste tegnologie te gebruik wat benut kan word om sojaboonproduksie uit te brei het die PNS besluit om 'n eerste video insake sojaboonverbouing op die webblad beskikbaar te stel. Hierdie video is getitel "The A to Z of soybean production" en die teks is geskryf deur Mnr Wessel van Wyk, sojaboonkundige en kontrakteur van die PNS.
Die moontlike stigting van 'n Suid-Afrikaanse Sojaboonvereniging word steeds opgevolg en behoort eersdaags afgehandel te word.
Tegnologiese vooruitgang in die internasionale sojaboonbedryf neem groot afmetings aan. In 'n poging om op datum te bly hiermee en ook om die korrels van die kaf te skei met die oog op wat in Suid-Afrika die dringendste benodig word, het die PNS besluit om weer 'n Sojabeplanningstaakspan in die lewe te roep maar wel as 'n Beplanningskomitee met die status wat gekoppel is aan die PNS Raadskomitees. Gereelde inligtingsdae asook 'n soja simposium wat tweejaarliks aangebied sal word is van die eerste sake wat aandag sal kry van hierdie komitee. Dit sal ook van hierdie komitee verwag word om sensitief te wees vir enige veranderinge in die aksies van internasionale maatskappye wat plaaslik in Suid-Afrika teenwoordig is, dit waar te neem en daaraan mee te doen.
4.1.3
Canola
Canola is vir die eerste keer in 1992 in Suid-Afrika geproduseer en het 'n veelbewoë geskiedenis. Aanvanklik het produksie goed gegroei, maar toe gestagneer van 2003/04 tot 2012/13.
In 2009, toe die PNS besluit het om befondsing van navorsing oor lupiene te staak, is 'n opname ook gemaak oor die canola-bedryf. Gedurende dié tydperk is groot werk gedoen en baie geld bestee aan die ontwikkeling van canolaproduksie. Dit het beslis onverwagse en baie verrassende resultate opgelewer.
In die 2013/14-verslag is gemeld dat 'n rekord canola-oes van 112 000 ton geproduseer is op 72 165 hektaar. In die afgelope jaar is die rekord oortref toe 123 500 ton canola geproduseer is op 95 000 hektaar.
Gedurende die vorige verslagjaar is daar besluit dat canola inligtingsdae gehou sal word op 27 en 28 Augustus in die Wes-Kaap. Oorspronklik is besluit dat Dr D Bowran van Australië die gasspreker sou wees maar met die aanbied van die inligtingsdae het ons die voorreg gehad om nog 'n Australiër Prof C Preston ook as spreker te hê. Die inligtingsdae was ongetwyfeld suksesvol. Daar is besluit dat die volgende canolasimposium in 2016 aangebied sal word.
Die Raad het weereens sy vorige besluit bevestig dat die toekoms van canola grootliks verband hou met die beskikbaarheid van Roundup Ready canola. Baie werk om dit te realiseer is reeds gedoen maar dit sal waarskynlik ten minste nog twee jaar neem alvorens hierdie kultivars in Suid-Afrika aangeplant sal word. Die sukkelende koringbedryf sal ongetwyfeld ook hierby kan baat vind.
Die jaarlikse canolawebstudie was weereens 'n groot sukses en is hierdie werk wat jaarliks deur Mnr Jan Du Preez gedoen word werklik 'n groot stimulerende faktor om te verseker dat die Suid-Afrikaanse canolabedryf op datum bly met die nuutste tegnologie in die wêreld.
Gedurende die seisoen is daar probleme ervaar met die cultivar Zircon sonder dat onmiddellike antwoorde gevind kon word. Gelukkig kon Dr Bowren die probleme identifiseer as die sogenaamde "Beet western yellows virus" (BWYV) wat onmiddellik groot rustigheid in die canolabedryf gebring het en ook die betrokke saadmaatskappy van die nodige inligting kon verskaf.
Uitbreiding van canola na die sentrale besproeiingsgebied in die hoëveld is steeds onder bespreking en sal daar ongetwyfeld verdere proewe geplant word in 'n poging om die canola-oppervlakte in Suid-Afrika uit te brei.
4.1.4
Sonneblom
Sonneblom was oor die jare een van die konstante proteïenbronne vir diereverbruik in Suid-Afrika. Die persentasie belangrikheid het nou wel vervaag maar dit vorm steeds 'n baie belangrike grondstof vir die veevoerbedryf. Insluitingspeile deur AFMA lede wissel tussen vier en vyf persent. Daar word jaarliks redelike hoeveelhede sonneblomoliekoek ingevoer wat in die periode 2014/15 op bykans 45 000 ton te staan gekom het.
In die 2013/14 seisoen is 832 000 ton sonneblom geproduseer op 598 950 hektaar. Gedurende 2014/15 het die hektare verlaag tot 576 000 en die eerste vooruitskatting het te staan gekom tot 938 350 ton. Die finale opbrengs het egter net 660 900 ton beloop.
4.2
Verbruikers van proteïen
4.2.1
Veevoervervaardigers
Veevoervereistes
Die voerbedryf se uitdaging is om te voorsien in toenemende hoeveelhede voer teen bekostigbare pryse, sonder om gehalte in te boet. Die formele raming vir wêreldwye voervereistes staan op 1 miljard ton en 1,3 miljard ton, insluitend meng op plase. Suid-Afrika, staan 21ste op die ranglys vir volume wat produseer word, teen 'n geraamde 11,4 miljoen ton. Die toename in voerproduksie in Suid-Afrika het gegroei teen 'n standvastige koers van ongeveer 4% per jaar oor die afgelope vyf jaar.
Tabel 1Dierprodukte | Bruto waarde (rand – duisende) |
---|---|
Pluimveevleis | 33 810 000 |
Eiers | 9 195 000 |
Beeste en kalwers geslag | 17 693 260 |
Melk | 10 195 442 |
Skape en bokke geslag | 4 048 538 |
Varke geslag | 3 564 171 |
Ander lewendehaweprodukte | 3 182 616 |
Totaal | 81 689 027 |
4.2.2
Pluimvee, varke en ander verbruikers
Groei in per capita-verbruik bly ten gunste van pluimvee, met meer pluimveeprodukte wat verbruik word as alle ander bronne van diereproteïen saam. Pluimvee bly die bekostigbaarste bron van proteïen in vergelyking met ander bronne van vleisproteïen.
Gedurende die eerste helfte van die 2014-kalenderjaar het die hoër mielieprys en gevolge van ingevoerde hoender daartoe gelei dat die braaihoenderbedryf produkte moes verkoop teen laer as die koste van produksie. Ongeag daarvan dat die prys van hoender dieselfde bly, het die negatiewe ekonomiese klimaat beteken dat die vraag na hoender gedaal het weens laer verbruikersbekostigbaarheid. Baie kleiner produsente is gedwing om produksie te staak, terwyl ander besighede moes sluit. Groter produsente het hulle hoenderproduksie verlaag. Sekere teelhuise is gesluit, terwyl ouer teelhuise afgebreek is.
Na Junie 2014 het 'n rekordmielie-oes gelei tot laer voerpryse. Produsente kon weer begin wins maak. Vroeg in 2015 het 'n groter vraag na hoender gelei tot 'n tekort aan hoender in die mark. Teelhuise is weer gevul tot kapasiteit en produksie het herstel.
Invoervlakke bly teen min of meer dieselfde as vir die vorige jaar. Dieselfde is van toepassing op die eerste vyf maande van 2015.
Die AGOA-ooreenkoms is gefinaliseer in Junie 2015. Die teenstortingstarief is afgeskaf na druk op die Suid-Afrikaanse regering. Daar is ooreengekom dat die VSA 65 000 ton hoender na Suid-Afrika kon uitvoer.
Aan die begin van 2014 het eierprodusente ook gesukkel met hoër voerkoste, maar met die verlaging van voerkoste in die tweede helfte van 2014, het wins verbeter. Minimale Suid-Afrikaanse eierhandel het plaasgevind in die globale markte en daar was 'n mate van handel binne die Afrika-mark.
Op die oomblik word 'n geraamde 958 miljoen braaihoenders elke jaar geslag (SAPA, 2014) om te voorsien in 'n per capita-pluimveevleisverbruik van 37,4 kg per jaar, of ongeveer 2,049 miljoen ton pluimveevleis. Plaaslike produksie word op die omblik aangevul en beperk deur laekoste-invoere van 393 303 ton. Dit behels 19% van plaaslike pluimveevleisverbruik. Die waarde van pluimvee-invoere na Suid-Afrika in 2014 het R3,658 miljard bedra.
Voervereistes vir plaaslik geproduseerde braaihoenders is 2 782 529 ton braaihoendervoer per jaar.
Teelbraaihoenders
Om te voorsien in die vraag na dagoudkuikens in 2014, is die gemiddelde getal teelbraaihoenders in produksie geraam op 6,6 miljoen, wat 'n totaal van 529 382 ton voer, insluitend groeivoer geverg het.
Lêhenne
Op die oomblik word die getal lêhenne in die land geraam op 24,7 miljoen (SAPA, 2014). Die lêhenne voldoen aan 'n per capita-eierverbruik van 7,94 kg per persoon of ongeveer 434 150 ton eiers en 5 660 ton uitvoere.
Plaaslike produksie is op die oomblik gerig op die aanbod van totale plaaslike vereistes, met beperkte uitvoere. Die tendens is om te skommel tussen surplus en tekort om die balans te verkry.
Totale voervereistes vir kommersiële eierproduksie, insluitend teel tot volwassenheid, is 1 235 387 ton.
Skaapvoervereistes
In Suid-Afrika word skaapvleis op grootskaal produseer. Skape wat geslag word in die kommersiële sektor, by geregistreerde slagpale beloop tot 6,8 miljoen per jaar en voorsien 155 000 ton skaapvleis. Invoere bedra tot 36 300 ton en beteken 'n totale verbruik van 182 600 ton skaapvleis of 3,7 kg per capita. Die meeste skaapvoer is in die vorm van aanvullings en word geraam op 237 564 ton. Voer wat vereis word vir voerkrale beloop tot 93 328 ton per jaar plus 237 564 ton wat dit bring op 330 892 ton.
Beesvoervereistes
Suid-Afrika het 'n goed-gevestigde voerkraalsektor met staan kapasiteit van 460 000 diere.
Die totale getal beeste wat per jaar geslag word by geregistreerde slagpale is 2,90 miljoen. Sewentig persent (70%) van dié beeste word in voerkrale gevoer, teen 'n gemiddelde voeromskakeling van 7:1 oor die voerkraaltydperk van ongeveer 127 dae. Dit verteenwoordig op die oomblik 2 698 000 ton voerkraalvoer.
Volgens die opsomming van landboustatistiek (2013) is 2,851 miljoen beeste 58 000 kalwers geslag in 2011/2012, wat 823 000 ton beesvleis voorsien het. Gedurende dieselfde tydperk, is 48 000 ton beesvleis ingevoer. Die totaal van 871 700 ton verteenwoordig dus 'n per capita-verbruik van 16,74 kg per persoon.
Die groot verskil tussen beesvleis wat produseer word by geregistreerde slagpale en die syfer wat gemeld word in die opsomming van landboustatistiek, kan toegeskryf word aan die groot getal informele slagtings.
Na aanleiding van die verhouding van geslagte voerkraaldiere van 70%, is die voervereistes 2,698 miljoen ton in voerkrale en 357 000 ton aanvullende voere, wat 'n totaal gee van 3,055 miljoen ton.
Melkbeesvoervereistes
Melk verteenwoordig die derdegrootste dierproduksiesektor na pluimvee en beesvleis. Die getal melkprodusente het afgeneem van 3 899 in 2007 tot 1 834 in 2015. Die belangrikste afname is Mpumalanga teen 74%. Die tendens om weidingsoppervlak te laat toeneem in weidingsgebiede word volgehou. Gemiddelde produksie per koei per dag word geraam op 20,4 liter per dag in 2014.
Die huidige totale melkproduksie is 2 628 438 miljoen liter per jaar. Die getal melkkoeie in melk word geraam op 353 000, met 88 250 droë koeie. Teen 'n verbruik van 6 kg konsentraat per koei per dag vir koeie in melk en 2 kg per dag per droë koei, is die vereiste voerkonsentraatvereiste 837 492 ton per jaar. Totale melkvoer bedra 2 055 846 ton.
Die varkbedryf en varkvoervereistes
Die getal varke geslag by slagpale het marginaal toegeneem in 2014, van 2,64 to 2,80 miljoen, met 'n gevolglike toename in varkproduksie van 198 000 tot 210 000 ton. Die verhouding spekvarke wat geslag is, is sowat 85:15. Die gemiddelde spekvark en spekkarkasmassa het onderskeidelik 78 kg en 57 kg gelewer. Invoere het aansienlik afgeneem in 2014, tot 18 500 ton (2013: 27,6 ton, 2014: 33,3). Dit wil egter voorkom asof invoere 'n nuwe rekord van ongeveer 44 000 ton in 2015 gaan behaal. Voerbehoeftes is 674 546 ton. Die totale plaaslik geproduseerde en ingevoerde varkvleis van 210 634 ton gee aan 'n per capita-varkvleisverbruik van 4,27 kg per jaar.
Kommer in die varkbedryf is dat invoere nie meer hoofsaaklik uit ribbes bestaan nie (voorheen het ribbes 70% van ingevoerde vark bedra en dit is hoofsaaklik in die restaurantbedryf gebruik). Op die oomblik bedra ribbes minder as 50% van ingevoerde varkvleis.
Die nasionale kommersiële sogkudde behels nou 110 400 sôe, maar 'n produsent in die Wes-kaap het begin om 'n addisionele eenheid vir 4 800 sôe te bou. Produksie sal teen die einde van 2016 begin. Daar word gemengde boodskappe ontvang oor die gevolge van so 'n toename in produksie op produsentpryse. Gelukkig is invoere hoër en gevolglik lyk dit asof die vraag na varkvleis toeneem in Suid-Afrika.
Afvaardigings van Rusland en Singapore het Suid-Afrika in 2014 besoek, om ondersoek in te stel na die moontlikhede van varkuitvoere uit Suid-Afrika na hulle onderskeie lande. Afrika-varkgriep en bek-en-klou-seer is egter endemies in sekere dele van die land. Die Russe is nie oortuig dat die kompartementstelsel wat in Suid-Afrika gebruik word die probleem kan uitskakel en 'n veilige kommoditeit kan lewer nie. Singapore het nog nie besluit of hulle vark uit Suid-Afrika gaan invoer nie.
Produsentpryse het in die laaste helfte van 2014 toegeneem tot tussen R23 en R24 per kg in Desember. Dit het produsente in staat gestel om sekere van die vroeër verliese wat gely is weens hoë voerpryse te verhaal. Die situasie sal waarskynlik verswak as die mielieprys verhoog weens die droogte en die wisselkoers onder druk bly.
Perde
Die Staatsveearts se Direktoraat van dieregesondheid (1998) stel die getal perde in Suid-Afrika op 283 450. 'n Groot getal van die diere, ongeveer 156 000, word aangehou binne die informele plattelandse sektor. Daar word geraam dat hulle nie enige soort formele gekonsentreerde voer kry nie.
Die getal resiesperde word geraam op 8 650, terwyl die geraamde getal teel- en geregistreerde perde sowat 9 000 is. Die getal perde by ryskole en poloperde word geraam op 6 000. Daar is 'n geraamde 10 000 karperde, terwyl die ander 93 800 perde op plase gehou word.
Volgens die aannames, kry resiesperde, teelperde en werkperde 3 kg konsentraat per dag. Karperde kry 2 kg per dag. Die totale perdevoer wat verbruik word, is dus ongeveer 121 047 ton per jaar. Daar word aangeneem dat die syfer konstant bly.
Volstruise
Die volstruisbedryf het voorheen klem geplaas op die produksie van leer vir baie duur leerprodukte en 32% van inkomste is verkry uit leerproduksie. Vleis het 62% bedra en vere 6%. Weens die lae vetinhoud, is volstruisvleis in groter aanvraag en vandaar die 62% waarna verwys word.
Volstruisproduksie in Suid-Afrika word geraam op 75% in die Wes- en Suid-Kaap, terwyl die Oos-Kaap ongeveer 20% produseer.
Die getal volstruise wat in 2013/14 geslag is, word geraam op 120 000. Die syfer sal na raming toeneem tot 180 000 in 2014/15, in afwagting op 'n lewendiger mark.
Teen 'n gemiddelde gewig van 95 kg, met voerverbruik van 4,3:1, is die voerverbruik van groeiende voëls 73 530 ton per jaar. Teen 'n gemiddelde 20 kuikens per hen per jaar, is die getal broeivolstruise wat nodig is 9 000. Teen 'n verbruik van 3 kg voer per dag is die vereiste vir lêvoëls 9 855 ton. Die voerverbruik van 2.4 kg per voël gedurende groeityd, beloop 21 600 ton.
Die totale volstruisvoerverbruik per jaar is 104 985 ton.
Die teenwoordigheid van voëlgriep het steeds 'n ernstige nadelige invloed op die volstruisbedryf en daar is 'n verbod op die meeste volstruisvleisuitvoere.
Troeteldierkos
Nasionale produksie van troeteldierkos in Suid-Afrika word op die oomblik geraam op 325 789 ton, volgens die troeteldierkosvereniging (Hundley 2015).
Totale voervereistes
Totale voervereistes vir verskillende plaasdiere word aangedui in Tabel 2.
Tabel 2Soort voer | Metrieke ton |
---|---|
Melkbeeste | 2 055 846 |
Beeste en skape (vleis) | 3 387 408 |
Varke | 877 098 |
Lêhenne | 1 235 387 |
Braaihoenders en teelhoenders | 3 311 912 |
Troeteldiere | 325 789 |
Perde | 121 047 |
Volstruise | 104 985 |
Akwakultuur | 4 293 |
Totaal | 11 423 765 |
Gevolgtrekking
Die Suid-Afrikaanse voerbedryf toon 'n standvastige groei in die vraag daarna en gevolglik het die vraag na proteïen toegeneem. Daar word geskat dat die tendens in die toekoms volgehou sal word. Nasionale voerverbruik het gegroei van 'n geskatte 7 609 777 in 2000 tot 11 077 215 in 2014, 'n groeikoers van 45,56% of gemiddeld van 3,25% per jaar. Die vraag na proteïen, veral sojaboonmeel, het aansienlik gegroei. In 2005 het plaaslik geproduseerde sojaboonmeel 37 200 ton bedra, terwyl ingevoerde sojaboonmeel 635 174 ton bedra het. Dit het dramaties verander en in 2014 is 655 839 ton sojaboonmeel plaaslik geproduseer. Dit verteenwoordig 'n groeikoers van 1663%, terwyl ingevoerde sojaboonmeel 'n geraamde 610 022 ton of 'n afname van 4%, bedra het. Vir dieselfde tydperk het die totale plaaslik vervaardigde oliekoekekwivalent (alle oliekoek) gegroei van 635 174 ton, tot 1 172 823 ton, terwyl ingevoerde oliekoekekwivalent (alle oliekoek) afgeneem het van 1 414 338 ton tot 855 529 ton.
4.3
Projeksies 2015, 2020 en 2025
Volgens die huidige per capita-dierprodukverbruik, is die voedselvereiste vir Suid-Afrika 11,67 miljoen ton. Volgens die geprojekteerde groei in per capita-dierproduksieverbruik, soos aangedui deur BFAP en die geprojekteerde bevolkingsgroei, gaan voedelvereistes groei tot 14,63 miljoen ton in 2024, 'n jaarlikse groeikoers van 2,5%.
Vir dieselfde tydperk, gaan soja-oliekoekgebruik groei van 1,32 miljoen ton tot 1,884 miljoen ton of met 8,3%. Totale oliekoekvereistes gaan toeneem van 1,94 miljoen ton in 2015 tot 2,77 miljoen ton in 2024, 'n groeikoers van 4,7%.
Op die oomblik word 61% van proteïen wat in Suid-Afrika verbruik word, plaaslik vervaardig. Dit sal na raming toeneem tot 80% teen 2024. Sojaboonmeel en volvetsoja wat plaaslik vervaardig word, behels op die oomblik 63% van die totale sojaverbruik. Teen 2024 sal dit na verwagting 92,3% wees. Plaaslike proteïenproduksie moet met 14,74% per jaar toeneem om RSA selfversorgend te maak teen 2024.