Navorsingsverslag 2006/2007

3.

 

Beleidsbesluite


Daar duik jaarliks 'n verskeidenheid aspekte op wat bestaande beleid, denkrigtings of behoeftes ten opsigte van personeel, Raadslede, kundigheid, ensovoorts onder die vergrootglas mag plaas. Die afgelope jaar was nie 'n uitsondering nie, en dit wat beleid van die PNS mag raak word hieronder aangestip.

Vir die eerste keer die afgelope 17 jaar was dit nodig om twee nuwe Raadslede in een jaar aan te stel. Die een vakature het reeds verlede jaar ontstaan met die bedanking van Mnr JF (Hans) van der Merwe en die tweede na aanleiding van die bedanking van mnr CJ (Johann) du Plessis.

Soos in verlede jaar se Navorsingsverslag uitgespel het die Raad in beide gevalle van die geleentheid gebruik gemaak om sy huidige behoeftes aan kundigheid op terreine wat van groot belang is vir die effektiewe funksionering van die PNS, in ag te neem by die aanstelling van twee nuwe lede in die plek van twee Trustees wat beide meer as 10 jaar in die Raad gedien het.

Vir die eerste keer het die PNS besluit on 'n akademikus verbonde aan 'n Universiteit op die Raad aan te stel en is Prof RM Gous van die Univer­siteit van KwaZulu-Natal en internasionaal erkende kundige en navorser in Maart 2006 aangestel as Kundige: Pluimvee- en Varke.

In die plek van Mnr CJ (Johann) du Plessis wat op 31 Desember 2007 uitgetree het, het die Raad Mnr FAS (Frans) Potgieter aangestel as Kundige: Produsente van Proteïengewasse asook Kundige: Georganiseerde Landbou. Mnr Potgieter is jare lank reeds 'n produsent van onder andere soja­bone, en het reeds diep spore getrap in georganiseerde landbou en was onder andere vir baie jare lid van die destydse Oliesaderaad.

Die behoefte aan kundigheid by die Raad van die PNS word verder onderstreep deur 'n toenemende gebrek aan kundigheid op bykans alle terreine van navorsing wat vir die PNS van belang is. Werklike kundigheid by navorsingsinstansies ten opsigte van sojabone en canola is waarskynlik op 'n alle tye laagtepunt in Suid-Afrika.

Met behulp van die Departement van Landbou, Wes-Kaap asook Universiteit van Stellenbosch word die Canolabedryf steeds redelik bedien, maar ten opsigte van sojabone het die gebrek aan enige positiewe bydrae van die LNR, die PNS genoodsaak om self die probleem te beredder. Daar is in die navorsingsverslag van verlede jaar verwys na moontlike samewerking met Universiteit Pretoria om mnr Wessel van Wyk, erkende sojaboon­kundige en kontrakteur van die PNS in staat te stel om deur middel van navorsing in groter bydrae tot die sojabedryf te lewer. Hierdie onderhandel­inge met Universiteit Pretoria was baie positief en die PNS spreek sy dank uit teenoor Universiteit Pretoria en mnr Van Wyk vir 'n positiewe bydrae tot die sojabedryf die afgelope jaar. Die PNS beplan verdere inisiatiewe in hierdie verband in die volgende jaar.

Die Raad het dit goedgedink om die afgelope jaar nuwe eksterne ouditeure aan te stel, by name Ashton Chartered Accountants, 'n bekende naam in landbou kringe. Die Raad vertrou dat hierdie nuwe verbintenis vir vele jare om te volg, 'n suksesvolle en aangename verbintenis sal wees.

Daar word, vanweë die voortdurende verval in die kapasiteit van die navorsingsgemeenskap waarna die afgelope jare by herhaling verwys is, steeds groter druk op Trustees van die PNS geplaas waarvan sommige al oor baie jare besondere bydraes gelewer het. Soortgelyk is daar ander landbouleiers wat spesiale melding regverdig en in die lig hiervan het die PNS Raad besluit om 'n toevoeging tot sy bestaande kategorieë van spesiale erkennings (sien later in hierdie verslag) te skep vir toekennings ten opsigte van spesiale bydraes gelewer tot die breë doelstellings van die PNS.

Soos by meeste instansies was daar egter ook negatiewe neigings wat aangespreek moes word. Die praktyk van die terughou van graan as saad (plaas-saad) wat orals in die wêreld waargeneem word, het veral in die sojabedryf tot onaanvaarbare vlakke gestyg. Die PNS is gevra vir 'n beleids­beslissing hieromtrent en die Raad het hom onomwonde uitgespreek teen hierdie ongesonde praktyk.

Etlike saadmaatskappye het ook in hierdie tyd 'n verklaring uitgereik waarin dit gestel is dat geen nuwe sojaboon cultivars in Suid-Afrika vrygestel sal word alvorens produsente bewys dat daar 'n kentering is en daar wegbeweeg word van die genoemde praktyk. In 'n poging om 'n positiewe bydrae te maak om hierdie verkeerde praktyk reg te stel word sekere aanpassings in die Super Soja kompetisie se reëls oorweeg en het die PNS ook as sameroeper opgetree om alle belanghebbende partye om 'n tafel te kry, welke vergadering wel op 16 Februarie 2007 plaasgevind het. Daar is egter nog baie werk wat deur alle partye gedoen moet word alvorens daar enige vorm van samewerking bereik sal word tot voordeel van alle partye betrokke.