Navorsingsverslag 2006/2007

2.

 

Algemene oorsig


Die PNS is steeds besig om homself ten beste voor te berei vir die koms van bio-brandstof na Suid-Afrika, spesifiek met betrekking tot proteïen vir diereverbruik wat daaruit mag voortvloei.

Twee buitelandse studietoere is deur PNS Raadslede onderneem en etlike kongresse, plaaslik en in die buiteland is bygewoon. Inligting en kennis wat so ingewin is plaas die PNS in 'n posisie om pertinente standpunt in te neem en te verdedig ten opsigte van sake wat vir die PNS belangrik is, en navorsing hieruit te genereer.

Die eerste studietoer het Duitsland, Amerika en Kanada ingesluit om kennis op te doen oor die impak van bio-brandstof op die proteïen voorsiening aan die veevoermark. Die toer is afgesluit met die bywoning van die "Joint USCG-NCGA 2006 Corn Utilization and Technolgy Conference" in Dallas. Hierdie toer is deur drie Trustees meegemaak.

Die tweede studietoer was na Australië en is deur twee Trustees asook prof A Agenbag van Universiteit Stellenbosch meegemaak. Die doel van hierdie studietoer het gesentreer rondom Australiese navorsingsprogramme ten opsigte van canola, lupiene en fababone en ander moontlike proteïenbronne asook om inligting te bekom ten opsigte van teelprogramme, produksie praktyke en benutting van genoemde gewasse. Toekom­stige skakeling moes ook aangespreek word. Weereens was die toer baie leersaam en goeie skakeling is inderdaad gevestig.

Volledige verslae van beide studietoere is beskikbaar op die webblad van die PNS.

Die direkte gevolge van hierdie besoeke is onder andere 'n navorsingsprojek oor "Distillers Dried Grain and Solubles" (DDGS) onder leiding van prof RM Gous (sien elders vir meer besonderhede) asook twee dinkskrums, een in Gauteng en een in die Wes-Kaap met genooide gaste om die benut­ting van DDGS in die Suid-Afrikaanse veevoermark te bespreek. Moontlike navorsingsprojekte is ook tydens hierdie geleenthede geidentifiseer.

Die Raad maak steeds gebruik van geleentheidsprekers by die Raad sowel as werkgroepvergaderings om op hoogte te bly met verwante bedrywe asook die nuutste ontwikkelinge op terreine van belang vir die PNS. Die afgelope jaar is die Raad toegelig deur verteenwoordigers van die voer­kraalbedryf, suiwelbedryf, marine biologie asook ten opsigte van die Suid-Afrikaanse bio-brandstofbedryf. Prof RM Gous, lid van die PNS, het by herhaling in die buiteland opgetree en die Raad voortdurend van interessante inligting en verwikkelinge op hoogte gehou.

Tegnologie-oordrag na buite is steeds volgehou deur PNS kontrakteurs ten opsigte van soja, canola en lupiene. 'n Verskeidenheid literatuur en publikasies is beskikbaar gestel en aangevul met voordragte en toesprake deur Trustees en kontrakteurs wat 'n wye verskeidenheid van onder­werpe gedek het.

Die PNS stalletjie by Nampo het ook weereens onder leiding van dr De Kock bogenoemde aksie aangevul. Besonderhede in sake die Kort- en Mediumtermyn behoeftes vir vismeel en oliekoek asook Inkomste- en Kosteramings wat deur die vise-voorsitter mnr JSG Joubert saamgestel is, word elders in hierdie verslag vervat.

Die PNS het in Februarie 2007 vir dr Lourens du Plessis gekontrakteer om behulp-saam te wees met die opdatering van die webblad ten opsigte van afgehandelde navorsing deur die PNS befonds asook om die nuutste inligting ten opsigte van die bio-brandstofbedryf te versamel en te ontleed.

Die terughou van graan as saad het die afgelope jaar 'n brandpunt geword. Daar word meer hieromtrent gerapporteer elders in hierdie verslag.

Interessante nuusbrokkies van belang vir die PNS, is die aanstelling van 'n nuwe minister van Landbou asook die aanstelling van 'n nuwe president vir die LNR. Die PNS vertrou dat hierdie twee aanstellings 'n positiewe kleur sal gee aan navorsing in Suid-Afrika wat steeds meer en meer agteruit gaan.

Die PNS het ook sy gelukwense aan die SA Pluimvee Vereniging oorgedra met die viering van hul 100ste bestaansjaar tydens hul kongres in Maart 2006.

Die Fondsbestuurders van die PNS het die afgelope jaar puik presteer en die PNS is hulle groot dank verskuldig. Die eksterne ouditeure het in hierdie verband bevind dat die finansiële bestuur en beheer sowel as die stand van fondse in 'n gesonde toestand verkeer.