Navorsingsverslag 2006/2007

5.

 

Projekte wat suksesvol afgehandel is of waarmee aansienlike vordering gemaak is
(Bylae I en II)


Projekte indeks

  1. Projek titels

    1. Die ontwikkeling van sojabooncultivars met beter aanpassing en saadkwaliteit
    2. Nasionale sojabooncultivarproewe
    3. Evaluering van sojabooncultivars vir rywydte by om­gewingsinteraksie onder Suid-Afrikaanse verbouings­toestande
    4. Evaluering van swamdoders vir die beheer van sclerotinia stamvrot by sojabone
    5. Sclerotinia stamvrot (Sclerotinia sclerotiorum) stu­dies op sojabone
    6. Fisiologie van groeistadium-verwante vatbaarheid van sojabone vir roes
    7. Chemiese beheer van plant-parasitiese aalwurms geassosieer met sojabone in Suid-Afrika
    8. Super Sojakompetisie, KwaZulu-Natal
    9. Evaluering van wisselbou met canola onder be­sproeiing
    10. Cultivarevaluering van olie- en proteïensade in die winterreënstreek – canola
    11. 'n Ondersoek na die produksiedinamika van agt wissel­boustelsels, insluitende koring, canola, lupiene en weidingspesies in die Swartland, Wes-Kaap
    12. Super Canolakompetisie – Swartland, Wes-Kaap
    13. Ekonomiese volhoubaarheid van kort- en langtermyn wisselbougewas / weidings produksiestelsels in die Suid-Kaap
    14. Die stikstofbehoefte van canola onder besproeiing
    15. Evaluering van canola cultivars onder besproeiing
    16. N-bemesting van canola gebaseer op N-mineralisasie en loging
    17. Lupiensaadproduksie
    18. Bepaling van die epidemiologiese waarde van weer­stand teen roes wat veroorsaak word deur Pha­kopsora Pachyrhizi in sojaboonlyne
    19. Vestiging van 'n vroeë waarskuwingstelsel vir soja­boonroes
    20. Studie van inokulasie en siekte evaluasie tegnieke vir Sclerotinia stamvrot van sojabone
    21. 'n Vergelykende studie van die groei- en opbrengs­reaksie van sojaboon op behandeling met verskil­lende bioprodukte
    22. Soutverdraagsaamheid van canola
    23. Insekte en ander plae van canola
    24. Karakterisering en bestuur van Rhizoctonia op canola en lupiene in wisselboustelsels in die Wes-Kaap provinsie
    25. 'n Vergelyking van die reaksie van Suid-Afrikaanse Cobb en Ross braaikuiken-genotipes op verskille in dieëtproteïen
    26. Inkomste- en kosteramings
    27. Modelle: APR- en Nieuwoudt / McGuigan modelle
    28. PNS webtuiste

5.1

 

Die ontwikkeling van sojabooncultivars met beter aanpassing en saadkwaliteit


Mnr AJ de Lange
LNR-Instituut vir Graangewasse

Produksie van sojabone in Suid Afrika word beperk deur faktore soos siektes en plae, vogstremming, aanpassing en ander akkerboukundige fak­tore. Die genetiese komponent van hierdie program word in hierdie teelprogram aangespreek. Die doel van die teelprojek is om cultivars te ont­wikkel met 'n hoë opbrengs wat ook weerstand het teen aalwurmskade en sojaboonroes. Hierdie cultivars moet lae nag temperature kan verdra. Die projek is gedurende hierdie jaar uitgebrei om die invloed van grondvoeding op die ontwikkeling van sojaboonroes te ondersoek. Koueverdraag­saamheid in cultivars behoort aanplanting in die koeler produksiegebiede soos die Oos-Vrystaat te stimuleer. Die doel van die sojaboonroes geïn­duseerde weerstand-ondersoek is om die voedingselemente betrokke by die indusering van weerstand teen sojaboonroes te vind asook om die moontlike interaksies tussen verskillende elemente te bepaal. Al die sojaboonteelmateriaal is op vyf lokaliteite naamlik Brits, Potchefstroom, Cedara, Vaalharts en Bethlehem geplant. Die loodsproewe het 25 inskrywings gehad waarvan vyf kontrole cultivars was en die eliteproewe het 48 inskrywings gehad waarvan vyf kontroles was. Twee bykomende proewe is op Cedara geplant vir die ondersoek na geïnduseerde sojaboonroes­weerstand. Al die materiaal wat in die 2005/06 seisoen geplant is, is reeds geoes en die data word tans verwerk. Die sojaboonroesweerstand populasies wat in die winter van 2005 op Makhathini geplant was, is op Cedara geplant vir evaluering. Sewehonderd twee-en-dertig enkelplante is geselekteer uit die teelpopulasies. Eenduisend driehonderd sewe-en-vyftig enkelplante is uit die koueverdraagsame popu-lasies geselekteer. Egret is steeds die enigste kommersiële kultivar wat geplant word wat uitstekende aalwurmweerstand teen beide M. javanica en M. Incocnita het. Die teel vir sojaboonroes en aalwurmweerstand en koue-toleransieteling vorder goed en moet voortgesit word, gesinkroniseer met seleksie vir hoë op­brengs en hoë saadproteïeninhoud. Die data uit die geïnduseerde sojaboonroes weerstands-proewe toon dat die onderdrukking die gevolg is van grondvoedingsfaktore. Die opbrengsdata uit die sojaboon-roes geïnduseerde weerstandsproewe toon dat die weerstandbiedende perseel se op­brengste betekenisvol hoër was as die van die nie-weerstandbiedende perseel. Net een van die cultivars het konstant simptome van roes vertoon op die weerstandbiedende perseel. Hierdie navorsing moet voortgesit word aangesien dit tot die voordeel van die produsent is.


5.2

 

Nasionale sojabooncultivarproewe


Mnr GP de Beer
LNR-Instituut vir Graangewasse

'n Totaal van 27 cultivars is nasionaal getoets en 'n addisionele 17 cultivars was getoets in fase-1 proewe op nege lokaliteite. Proewe is geplant by navorsingstasies wat die nodige infrastruktuur het om 'n volledige akkerboukundige studie te kan uitvoer. Personeel by navorsingsstasies het op­getree as navorsingsagente vir die proewe. Proewe is geplaas by lokaliteite waar 'n behoefte bestaan vir inligting oor cultivars en waar die maksi­mum hoeveelheid data ingevorder kan word. 'n Volledige fenologiese datastel sal data bevat soos aantal dae tot opkoms, blomdatum, fisiologiese en oesrypheid, maksimum planthoogte en minimum peulhoogte, omval, oopspring en groenstam, relatiewe siekte en insekvatbaarheid, saad karaktisering en opbrengs, fisiese en chemiese kwaliteite, asook grond en weerdata. Alle data word gebruik en in 'n gerekenariseerde databasis opgeneem. Die data word onderwerp aan oessekerheidtabelle en regressielyne van die drie verskillende produksie areas. By die kultivarevaluasie­vergadering in September 2006 is daar ses nuwe cultivars aanbeveel vir registrasie en plasing op die variëteitslys, naamlik PAN 1454 R, PAN 1652, LS 6050 R, LS 6150 R, LS 6161 R en LS 6062 R. Die 2005/06 verslag van die nasionale soja-boonkultivar proewe is ook aanvaar vir publikasie. Die gemiddelde opbrengs vir die seisoen was 2 538 kg ha-1 (2 582 kg ha-1 vir 2005 en 2 561 kg ha-1 vir 2004). Die beste opbrengste was verkry te Cedara (4 080 kg ha-1), Kinross (3 992 kg ha-1) en Potchefstroom (3 662 kg ha-1). Die kultivar met die hoogste opbrengs was LS 678, met 3 192 kg ha-1 en die laagste opbrengs was Knap met 2 488 kg ha-1. Die kultivar met die hoogste proteïenpersentasie was PHB 95 B 33 met 45.65% en die met die laagste was PAN 538 R, met 42.90%.


5.3

 

Evaluering van sojabooncultivars vir rywydte by omgewingsinteraksie onder Suid-Afrikaanse verbouingstoestande


Mnr GP de Beer
LNR-Instituut vir Graangewasse

Sojabone (Glycine max L. Merr) gee uitdrukking aan 'n hoogs betekenisvolle interaksie met omgewing in terme van groeigedrag. Planthoogte en lengte van groeiseisoen neem toe met 'n toename in breedtegraad en groeitempo word vertraag met 'n toename in hoogte bo seespieël. Betekenis­volle verskille vir reaksie op fotoperiode, temperatuur, grondvrugbaarheid, stadium van vog- en ligstremming en kan ook gedemonstreer word vir cultivars op die Suid-Afrikaanse variëteitslys. Vir suksesvolle en winsgewende produksie is dit dus noodsaaklik om cultivars te plant wat goed aangepas is by die gegewe omgewingstoestande en karakterisering van cultivars is dus nodig. Die volgende proewe was suksesvol uitgevoer nl. Naboomspruit (besproeiing), Warmbad, Glen (besproeiing), Ficksburg, Lichtenburg, Potchefstroom (besproeiing en droëland), Kinross en Brits (besproeiing). Die lokaliteite is verdeel in drie klimaatsgroeperings nl. warm, gematig en koud. In die warm produksiegebied (Warmbad, Brits en Naboomspruit) het die 45-cm rywydte betekenisvol beter gedoen as die 90-cm rywydte. Die kultivar met die hoogste opbrengs te Warmbad was PAN 660, LS 677 by Naboomspruit en LS 666 by Brits. Die proefgemiddeldes was 2 511 kg ha-1 vir Warmbad, 2 730 kg ha-1 vir Naboomspruit en 3 768 kg ha-1 vir Brits. In die matige produksiegebied (Potchefstroom [besproeiing en droëland], Bloemfontein [besproeiing] en Lichtenburg) het die 45-cm rywydte ook betekenisvol beter gedoen as die 90-cm rywydte. Die kultivar met die hoogste opbrengs te Glen en Potchefstroom (besproei­ing) was LS 678, terwyl dit LS 666 was by Potchefstroom (droëland) en LS 677 by Lichtenburg. Die poefgemiddeldes was 2 476 kg ha-1 by Glen, 3 101 kg ha-1 by Potchefstroom (besproeiing), 2 682 kg ha-1 by Potchefstroom (droëland) en 1 906 kg ha-1 by Lichtenburg. In die koel produksie­gebied (Kinross en Ficksburg) het die 45-cm rywydte betekenisvol beter gedoen as die 90-cm rywydte. Die hoogste opbrengs in die koel gebied is behaal met die kultivar A5409 RG, met 4 380 kg ha-1 en die swakste was Highveld Top by die 90-cm rywydte, met 1 814 kg ha-1. Die proefgemid­deld was 3 364 kg ha-1. Die resultate dui daarop dat daar beduidende interaksie tussen kultivar en rywydte voorgekom het. Evaluasie by 'n enkele standaard rywydte sal gevolglik sekere cultivars bevoordeel en ander benadeel. Produksiepotensiaal en risiko verskil van lokaliteit na lokaliteit. In die warm, matige en koel produksiegebiede het die 45-cm rywydte beter presteer as die 90-cm rywydte.


5.4

 

Evaluering van swamdoders vir die beheer van sclerotinia stamvrot by sojabone


Dr M Craven
LNR-Instituut vir Graangewasse

'n Veldproef is te Bethlehem uitgevoer gedurende 2005/06 om verskillende swamdoders se effektiwiteit vir die beheer van Sclerotinia stamvrot by soja-bone te evalueer. Die proef het bestaan uit 15 behandelings wat vier keer herhaal is. Die plantdatums vir die onderskeie herhalings het gestrek vanaf begin November tot einde Desember. Elke perseel het bestaan uit vyf rye van Wenner, 5 m lank, met 'n 45 cm ryspasiëring. Met blom is plan­te geïnokuleer met Sclerotinia sclerotiorum wat op mieliepitte gekweek is. Die gekoloniseerde mieliepitte is gedroog, gemaal en oor persele ge­strooi tydens blom. Tydens blom is swamdoders ook toegedien soos deur die onderskeie verskaffers aanbeveel word. Veertien dae later is 'n twee­de bespuiting van elke swam-doder toegedien. Die uitsondering was benomyl wat as saadbehandeling voor plant toegedien is. Persentasie ver­welkte plante is bepaal net voor die gewas volwassenheid bereik het. Die gemiddelde infeksievlakke wat waargeneem is, was baie laag, met die kontrole wat slegs 7.95% infeksie (verwelkte plante) getoon het. Geen betekenisvolle verskille kon tussen die verskillende behandelings en die kontrole verkry word nie. Cultivars is op soortgelyke wyse by Bethlehem en Greytown geëvalueer. Persele het bestaan uit vier rye, 5 m lank, met 'n 45 cm ryspasiëring. Dertig cultivars is geëvalueer. Die vier herhalings se plantdatums het gestrek vanaf begin November tot einde Desember. Die plante is met blom geïnokuleer. Die gemiddelde infeksie-vlakke vir Bethlehem en Greytown was onderskeidelik 4.68% en 21.8%. Volgens die Oppervlak-Onder-Siekte-Ontwikkelings-Kromme (OOSOK) het PAN 525 RR, A5409, Marula, SNK 500 en LS 677 die minste stabiliteit getoon rakende siekteweerstandbiedendheid teen S. sclerotiorum by verskillende siekte-potensiale, met OOSOK's van onderskeidelik 647.1, 504.6, 455.4, 454.4 en 440.8. Knap, (78.86), PHB96 B01 (88.61), PHB95 B33 (93.22), PAN 626 (100.9) en PAN 522 RR (135.5), daarteenoor, het die beste stabiliteit ge­toon. 'n Glashuisproef om cultivars vir weerstand te evalueer, is uitgevoer. Cultivars is geplant in 500-ml sakkies. Tien sakkies met twee plantjies per sakkie is per kultivar gebruik. Vier weke na opkoms is plante geïnokuleer en bedek met plastieksakkies vir sewe dae om hoë vogtigheid te verseker. Drie weke later is plante geëvalueer vir verwelking. Baie hoë infeksievlakke is in die glashuisproef verkry (proefgemiddeld = 34.3%). PAN 421 RR het die hoogste persentasie verwelkte plante opgelewer (75.7%), gevolg deur LS 555 (63.1%) en LS 678 (57.7%). AG5601 het die laagste persentasie infeksie getoon (6.7%), gevolg deur PHB 95 B33 (11.1%) en Tamboti (11.4 %). Geen korrelasie kon tussen die glashuis- en veldproef­data gemaak word nie. Laastens is 'n veldproef op Bethlehem uitgevoer m die effek van glifosaat op die weerstand van glifosaatweerstand­biedende sojabone teen S. sclerotiorum te bepaal.

Die proef is geplant as twee ewekansige, volledige blokontwerpe, waarin elke blokontwerp 12 glifosaatweerstandbiedende sojaboon cultivars bevat wat elk vier keer herhaal is. Een blok het gedien as die kontrole terwyl die ander as die behandelingsblok gedien het. Die plant en inokulasie van die proef was soortgelyk as dié van die kultivarevaluasieproef. Glifosaat (Roundup Ready® Plus; 540 g gliphosate a.e. l-1; 1.7 l ha-1) is ses weke na opkoms toegedien (by ongeveer V6 stadia) as 'n enkeltoediening. Met blom is die plotte geïnokuleer en die persentasie verwelkte plante bepaal. Gemiddelde infeksievlakke vir die kontrole en behandelingsblok was onderskeidelik 5.96% en 9.12%. Twee cultivars (PAN 520 RR en PAN 737 RR) het betekinsvol hoër vlakke van infeksie getoon as die kontroles na glifosaattoediening.


5.5

 

Sclerotinia stamvrot (Sclerotinia sclerotiorum) studies op sojabone


Dr PM Caldwell en Me D Visser
Universiteit van KwaZulu-Natal

Die effek van temperatuur, tydperk van blaarnattigheid en die relatiewe humiditeit op Sclerotinia sclerotiorum (SSR) op sojabone

Doelwit
Om te bepaal wat die optimum toestande is ten opsigte van tempertuur, die tydperk van blaarnatheid en relatiewe humiditeit vir infeksie van sojaboon-plante deur S. sclerotiorum miselium.

Resultate
Al die proewe is voltooi maar die data word tans statisties geanaliseer.

Evaluasie van die weerstandbiedenheid van sojaboonlyne teen Sclerotinia sclerotiorum deur gebruik te maak van die gesnyde stingel metode

Doelwit
Om die reaksie van verskillende sojabooncultivars teen S. sclerotiorum te bepaal.

Resultate
Betekenisvolle verskille was waargeneem tussen die verskillende cultivars (Tabel 1). Regressie analise het gedui op 'n sterk positiewe korrelasie tussen die finale lengte van die patogeenletsel en die aantal sklerotia i.e., r = 0.71 vir Proef 1 en 0.92 vir Proef 2.

Groeitempo en aantal sklerotia 14 dae na inokulasie (dni) van verskeie sojabooncultivars met sclerotinia sclerotiorum
Kultivar Groeitempo (per dag) Aantal sklerotia (op 14 dni)
Proef 1 Proef 2 Proef 1 Proef 2
LS555 0.953 f 0.762 bc 7.9 h 3.8 cde
LS666 0.874 ef 0.777 bc 8.1 h 6.9 f
LS6514 0.730 cde 0.734 bc 5.6 ef 3.1 bcde
LS6710RR 0.650 cd 0.696 b 3.9 cd 1.0 a
LS6626RR 0.973 f 0.870 c 7.9 fgh 8.5 f
LS678 0.832 ef 0.698 bc 6.9 fgh 4.2 de
Pan 626 0.661 cd 0.431 a 6.1 efg 2.7 abcde
AG5601RR 0.670 cd 0.444 a 1.9 a 1.8 ab
Prima 2000 0.589 bc 0.383 3.3 bc 1.7 ab
96B01B 0.405 a 0.386 a 1.7 a 2.3 abcd
AG5409RR 0.669 cd 0.443 a 5.1 de 2.2 abc
95B33 0.641 cd 0.459 a 3.7 c 2.2 abc
95B53 0.468 ab 0.398 a 2.3 ab 1.5 ab
F toets < 0.001 < 0.001 < 0.001 < 0.001
Sed 0.0784 0.738 0.645 1.999
KBV 0.1618 0.1522 1.332 0.968
CV% 13.7 15.7 15.3 36.9

Resultate is nie verder geanaliseer nie. Prof Neal McLaren het voorgestel dat die tempo van letsel ontwikkeling oor tyd eerder bereken moet word as die finale lengte van die letsel. Deur van hierdie metode gebruik te maak, na aanleiding van van der Plank se metode, sal 'n meer akkurate ana­lise tov die vatbaarheid, toleransie en weerstandbiedendheid van die cultivars oor tyd verkry kan word.


5.6

 

Fisiologie van groeistadium-verwante vatbaarheid van sojabone vir roes


Prof ZA Pretorius
Universiteit van die Vrystaat

Sojaboonverliese as gevolg van roesinfeksie deur die swam Phakopsora pachyrhizi, ontstaan deur voortydige ontblaring, vroeë rypwording, en 'n verlaging in die aantal en massa van sade. Die omvang van verliese is onderhewig aan die tyd van siekte-aanvang, siektegraad en die opbrengs­komponente wat geaffekteer word. Die doel van hierdie studie, wat in 2003/2004 begin is, is om siektevoorkoms in die veld waar te neem en in verband te bring met veranderings in gasheerfisiologie. Die bepaling van veranderings in gasheerfisiologie, spesifiek anti-fungale verbindings, en die variasie binne kultivars t.o.v. hierdie verbindings, kan lei tot die identifisering en manipulasie van weerstand en opbrengsstabiliteit in sojabone.

Veldeksperimente is gedurende 2006/07 by Cedara onderneem en het uit twee aanplantings (November en Desember) van die kommersiële kul­tivars LS678 en Stork bestaan. Ten einde variasie in fisiologiese volwassenheid te meet is blare twee-weekliks versamel vanaf vier weke na plant. Die PR proteïne β-1,3 glukanase, peroksidase en chitinase is bepaal.

Gedurende die 2006/07 seisoen het bykans geen roesinfeksie deur P. pachyrhizi by Cedara voorgekom nie. Dit het geblyk dat die aktiwiteit vir alle ensieme laer was as in vorige seisoene. Chitinase het effens toegeneem voor blom by 60% relatiewe groeiperiode (RGP) waarna dit weer afgeneem het.

Glukanase-aktiwiteit het afgeneem voor blomstadium en na 'n effense piek, weer afgeneem namate plante verouder het. Peroksidase het afge­neem voor blom en na 65% RGP stadig toegeneem.

'n Glashuiseksperiment is in 2006 uitgevoer waartydens die kultivar PAN535 RR in die 2de trifoliaatstadium met glifosaat behandel is voor infeksie met P. pachyrhizi. Histologiese ondersoeke van behandelde blare het gewys dat glifosaat kolonievorming tot 8 dae na infeksie geïnhibeer het. Die swamdodende eienskappe van die onkruiddoder is dus bevestig. Veldeksperimente by Greytown waar hierdie verskynsel verder ondersoek is het misluk a.g.v. die gebrek van natuurlike roesinfeksies gedurende 2006/7.

Skeiding en kwantifisering van fenoliese komponente moet gefinaliseer word voor die projek getermineer kan word. Daar is egter duidelike bewys dat PR-proteïne nie verantwoordelik is vir die vertraging in vatbaarheid tot en met bereiking van 'n bepaalde groeistadium nie.


5.7

 

Chemiese beheer van plant-parasitiese aalwurms geassosieer met sojabone in Suid-Afrika


Dr H Fourie
LNR-Instituut vir Graangewasse

Aansienlike oesverliese is 'n realiteit in sojaboonaanplantings aangesien geen aalwurmdoder tans op die gewas geregistreer is nie. Die uitbreiding van sojaboonaanplantings na gebiede met sandgronde vererger die aalwurm-probleem verder. Die rede hiervoor is dat knopwortelaalwurms wyd­verspreid voorkom in hierdie gronde en oesverliese by mielies tot gevolg het. Gevolglik is verskeie aalwurmdoders geëvalueer met die oog op moontlike registrasie daarvan vir die beheer van plant-parasitiese aalwurms op sojabone. Drie veldproewe is geplant tydens die 2005/06 groei­seisoen in die Nelspruit-, Vaalharts- en Hammanskraalomgewings waar hoë natuurlike knopwortel-aalwurm-besmettings voorkom. Betekenisvolle verskille ten opsigte van knopwortelaalwurmgetalle per 50 g wortels is verkry oor die drie lokaliteite vir die 14 aalwurmdoderbehandelings wat getoets is. Drie van hierdie behan-delings het betekenisvol laer knopwortelaalwurmgetalle op al drie lokaliteite getoon en het dus potensiaal om knopwortelaalwurmgetalle effektief te onderdruk. Verskeie ander behandelings het ook betekenisvol minder knopwortelaalwurms onderhou op minstens een of twee van die lokaliteite. Aalwurmdoderbehandelings wat dus potensiaal getoon het om knopwortelaalwurmbevolkings beteke­nisvol te verlaag tydens die 2005/06 seisoen, kan saam met sodanige behandelings wat dieselfde neiging getoon het tydens die 2004/05 groei­seisoen, oorweeg word vir registrasiedoeleindes. Data van residu-analises moet egter eers gekry word voordat sodanige voorlegging vir registrasie oorweeg word. Wat oesdata aanbetref, is geen betekenisvolle verskille aangedui tussen die 14 behandelings nie. Omgewingstoestande (bv. vloedige reën) en grondeienskappe (pH) kon egter 'n bydrae gelewer het tot laasgenoemde effek en moet in ag geneem word wanneer sodanige aalwurmdoders oorweeg word vir registrasie. Data wat verkry is tydens hierdie navorsing toon dat sekere aalwurmdoders substansiële verligting bring vir sojaboonprodusente waar hoë knopwortel-aalwurmbevolkings voorkom.


5.8

 

Super Sojakompetisie, KwaZulu-Natal


Mnr C Havenga
Proteïennavorsingstigting

Die Super-sojakompetisie in KwaZulu-Natal is nou in sy sewentiende jaar en belangstelling in die kompetisie bly nog steeds goed.

Hierdie kompetisie is 'n voorligtingsaksie om die verbouing van sojabone in KwaZulu-Natal te bevorder. Belangstelling in sojaboonverbouing asook die kundigheid in die verbouing daarvan, het oor die afgelope 17 jaar merkwaardig toegeneem. Nietemin word die hoeveelheid sojabone wat jaar­liks aangeplant word, tot 'n groot mate deur die Mielie-Sojaboon prysverhouding beïnvloed.

Winterton en Bergville is vanaf verlede jaar by die Suidelike KwaZulu-Natal (S-KZN) streek ingedeel. S-KZN het vanjaar 20 inskrywings en N-KZN 26 inskrywings gehad.

Die opbrengste in die S-KZN-kompetisie is die beste tot nog behaal en het tussen 2.70 en 7.23 ton/ha gewissel met 'n gemiddelde opbrengs van 4.23 ton/ha wat heelwat beter as die vorige seisoen se 3.91 ton/ha is. Vyf lande (25%) was onder besproeiing met 'n gemiddelde opbrengs van 5.08 ton/ha wat tussen 3.67 en 7.23 ton/ha gewissel het.

In N-KZN was die gemiddelde opbrengs 3.3 ton/ha wat heelwat beter as die vorige seisoen se 2.74 ton/ha is. Ten spyte van oormatige reën en haelskade was die gemiddelde opbrengs hoër as die langtermyn gemiddelde. Die opbrengste in N-KZN het tussen 1.72 ton/ha en 4.88 ton/ha gewissel. Daar was geen ingeskrewe lande onder besproeiing nie.

Proteïeninhoud van S-KZN se sojaboonoes was bevredigend tot baie goed. Die gemiddelde proteïeninhoud is 41.58% (vogvry) en het tussen 37.85% en 43.78% (vogvry) gewissel.

In N-KZN was die proteïeninhoud ook bevredigend tot baie goed met 'n gemiddeld van 42.1% (vogvry) wat tussen 37.19% en 45.59% (vogvry) gewissel het.

Hierdie kompetisie skep 'n geleentheid om produksiepraktyke te boekstaaf, te evalueer en sodoende produksieprobleme te identifiseer wat verder kan lei tot navorsings-projekte gerig op die oplos van die probleme.


5.9

 

Evaluering van wisselbou met canola onder besproeiing


Dr AA Nel
LNR-Instituut vir Graangewasse

Canola is 'n oliesaadgewas wat gesog is in die veevoerbedryf weens die lae vesel- en hoë proteïeninhoud van die graan. Enige uitbreiding van canola-produksie sal ons afhanklikheid van proteïen invoere verminder. As deel van die Brassicafamilie van plante wat nie 'n gasheer vir sekere graangewassiektes is nie, het dit die potensiaal om as wisselgewas die volhoubaarheid van gewasstelsels te bevorder. 'n Veldproef word te Vaal­harts onder besproeiing gedoen met die volgende doelwitte: 1) die invloed van canola op die opbrengs van opvolggewasse te ondersoek asook die invloed van die wisselgewasse op die opbrengs van canola in een- en tweejaar wisselboustelsels, 2) die mate waartoe aalwurm deur canola onder­druk word te bepaal deur die omvang van aalwurmbesmetting op al die gewasse te bepaal, 3) die invloed van die verskillende voorafgaande gewas­se op die voorkoms en intensiteit van siektes op al die gewasse te bepaal en 4) om die ekonomiese prestasie van die verskillende wisselboustel­sels te vergelyk. Resultate van die eerste drie somer- en twee winterseisoene is as volg: Wisselbou en seisoene het 'n betekenisvolle invloed op die opbrengs van mielies getoon (gemiddelde opbrengs 9 844 kg ha-1). In die eenjaarstelsels was die mielie-opbrengs na canola 15% laer as dié van mielies na gars en gelyk aan dié van mielies na koring. Die opbrengs van mielies in die tweejaarstelsels na canola was 12% laer as dié van mielies na koring. Grondboonopbrengste (gemiddel 3 782 kg ha-1) is deur wisselbou, seisoene asook 'n interaksie tussen die twee faktore beïnvloed. Oor seisoene en wisselboustelsels bereken, was die opbrengs van grondbone na canola 12% laer as dié van grondbone na koring. Die opbrengste van koring en canola is deur wisselbou, seisoen asook 'n interaksie tussen die twee faktore beïnvloed. Oor seisoene bereken was die opbrengs van koring na grondbone 10% hoër as dié van koring na mielies. Die rangorde van canola-opbrengste het van seisoen tot seisoen verander met geen duidelike patroon nie. Die aalwurmbevolking in die grond is deur wisselbou beïnvloed op 'n wyse wat nog nie verklaar kan word nie. Die totale en verskille in aalwurmgetalle tussen die gewasstelsels was egter laag. Met die uitsondering van streepsiekte op mielies gedurende die eerste seisoen is geen siekte tot dusver op enige van die gewasse se bogrondse dele waargeneem nie.


5.10a

 

Cultivarevaluering van olie- en proteïensade in die winterreënstreek – canola


Mnr PJA Lombard
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Die doel van die studie is om die bes aangepaste canolacultivar te identifiseer vir die verskillende produksiegebiede. Die volgende metings word gedoen:

  • Planttellings
  • Dae tot blom
  • Planthoogte
  • Opbrengs
  • Olie en proteïeninhoud van saad

Klimaatstoestande was die afgelope seisoen baie gunstig vir gewasver-bouing in die Swartland. Die canola opbrengste was ongelukkig nie baie goed nie. Die toestande in die Suid-Kaap was redelik gunstig vir gewas-produksie. Swaar reën laat in die seisoen het die platsny en oes van canola baie moeilik gemaak. Opbrengste het gelokaliseerd afgeneem weens die versuiptoestande teen die einde van die seisoen.

Die proef by Piketberg is afgeskryf weens ongunstige omgewingsfaktore tesame met moontlike sulfonielureum oordrag. Die proef by Porterville is baie erg deur wildemakoue beskadig en kon gevolglik nie geoes word nie. Mosselbaai se proef was baie nat tydens saailingstadium. Gunstige toe­stande vir die ontwikkeling van wortelsiektes het voorgekom en baie persele was erg beskadig.

Navorsing

Die Departement Landbou: Wes-Kaap het gedurende die 2006 seisoen 'n reeks kultivarproewe in die Suid- en Wes-Kaap uitgevoer. Ses lokaliteite wat strek van Mosselbaai tot Caledon is in die Suid-Kaap aangeplant terwyl daar ook ses lokaliteite in die Wes-Kaap van Philadelphia tot Porter­ville geplant is. Verskillende plantdatums (vroeg en laat) is by beide die twee proefplase in die Suid-Kaap (Tygerhoek) en die Swartland (Langge­wens) uitgevoer. Nege proewe is suksesvol voltooi.

Resultate

In die Suid-Kaap het die gemiddelde opbrengs per proef gewissel van 1 685kg/ha by Tygerhoek (laat saaidatum) tot 2 473kg/ha by Riversdal. Daar was 'n 20% verskil in opbrengs tussen die eerste (25 April) en laaste saaidatum (8 Mei) by Tygerhoek. Die "Clearfield" en "Triasien tolerante" culti­vars se opbrengs was gemiddeld 12% laer as die proefgemiddeld. Die "Clearfield" cultivar 45Y77 (baster) was ongelukkig net op drie lokaliteite in die Suid-Kaap aangeplant. Dit het by al drie lokaliteiete die beste opbrengs binne die Cl en TT groep gegee.

Die cultivars Opal (Tygerhoek I en Swellendam), Hyola 75 (Riversdal), 45Y77 (Tygerhoek II) en 44C11 (Napier) was die hoogste produseerders by die genoemde lokaliteite. Die baster cultivar 44Y06 (2 465kg/ha) was gemiddeld die top produseerder maar is saam met Hyola 75 en 45Y77 slegs op drie lokaliteite aangeplant. Opal (2 412kg/ha) was tweede gevolg deur Spectrum (2 411kg/ha), 45Y77 (2 397kg/ha) en Hyola 61 (2 354kg/ha). Drie van die eerste vyf cultivars was basters.

In die Swartland het die gemiddelde opbrengste per proef gewissel tussen 2 065kg/ha (Darling) tot 2 249kg/ha by Langgewens en Grasrug (Mal­mesbury). Die opbrengsresultate in die Swartland korreleer nie met vegetatiewe groei en planttellings nie. Die Cl en TT cultivars het 7% swakker produseer as die Swartland proefgemiddelde. Die cultivars Hyola 75 (Darling), 44C11 (Langgewens I), Opal (Langgewens II) en Comet (Grasrug) was die hoogste produseerders by die genoemde lokaliteite.

Die konvensionele cultivars gee gemiddeld die hoogste opbrengs, maar het minder opsies vir die beheer van onkruid.


5.10b

 

Cultivarevaluering van olie- en proteïensade in die winterreënstreek – lupiene


Mnr PJA Lombard
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Die doel van die studie is om die bes aangepaste lupiencultivars te identifiseer vir die verskillende produksiegebiede. Die volgende metings word gedoen:

  • Planttellings
  • Dae tot blom
  • Planthoogte
  • Opbrengs
  • Proteïeninhoud van saad

Klimaatstoestande was die afgelope seisoen baie gunstig vir gewas-verbouing in die Swartland. Ongunstige klimaat (koue, reën, sterk winde) gedurende die blom- en peulvorming stadiums het saadopbrengs benadeel deurdat blomme en peule afgespeen het. Die seisoen was gekenmerk deur baie goeie vegetatiewe groei wat die opbrengste negatief beïnvloed het.

Op Tygerhoek het min verskil in die gemiddelde opbrengs tussen die eerste (25 April) en tweede aanplanting (8 Mei) voorgekom. Beide die breë­blaar cultivars (Ced 6150 en Vladimir) het beter gevaar by die tweede aanplanting. Die opbrengste van die smalblaar tipes by die eerste aanplant­ing het gewissel van 1.245 ton/ha (LAF 8) tot 2.510 ton/ha (LAG 28). By die tweede aanplanting was die opbrengste baie dieselfde en het gewissel van 1.269 ton/ha (Tanjil) tot 2.213 ton/ha (LAG 28).

In die Suid-Kaap was die smalblaarcultivar Mandelup (2.183 ton/ha) gemiddeld die beste cultivar. Cedara 6150 (1.912 ton/ha) was tweede gevolg deur Quilinock (1.703 ton/ha) en Tanjil (1.553 ton/ha). By LAG 28, LAG 16-3, Polenez en LAF 8 is die peule geneig om oop te spring en sal hierdie cultivars nie verder in die proewe geëvalueer word nie. Vladimir het weens die baie nat toestande by Swellendam wortelsiektes gekry en gevolglik was sy produksie baie laag.

Die proefopbrengste was beter in die Swartland as in die Suid-Kaap. Die saadopbrengs het gewissel van 1.403 ton/ha (Philadelphia) tot 2.488 ton (Hopefield). Die opbrengs van die tweede aanplanting (2.226 ton/ha) by Langgewens was heelwat beter as die eerste aanplanting (2.019 ton/ha). Die warm droë weer in die begin van September kan 'n rede wees waarom die eerste aanplanting swakker gevaar het. Die proef by Philadelphia is laat aangeplant en wortelsiektes het by baie plante op 'n laat stadium voorgekom. Bruinblaarvlek het by Hopefield voorgekom en veral die opbrengs van CED 6150 benadeel.

In die Swartland was die smalblaarcultivar Mandelup (2.254 ton/ha) gemiddeld die beste cultivar. Vladimir (2.112 ton/ha) was tweede gevolg deur Ced 6150 (2.010 ton/ha), Quilinock (2.004 ton/ha) en Tanjil (1.809 ton/ha). Mandelup was in beide gebiede die beste smalblaarcultivar gevolg deur Quilinock en Tanjil.


5.11

 

'n Ondersoek na die produksiedinamika van agt wisselboustelsels, insluitende koring, canola, lupiene en weidingspesies in die Swartland, Wes-Kaap


Dr MB Hardy
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Die doel van hierdie studie is om die kort- en langtermyneffekte te bepaal vir agt van die mees toespaslike gewasse en gewas/weiding wissel­boustelsels met betrekking tot: gewasopbrengs; onkruidbeheer; siekteonderdrukking; grond- produksiepotensiaal; skaapproduksie en ekonomies volhoubare grond-gebruik in die Swartland.

Opsomming van resultate en uitsette gedurende die 2006-produksiejaar

Geen betekenisvolle reënval is gedurende Februarie en Maart aangeteken nie. Die eerste betekenisvolle reënval het op 21 en 22 April geval (18mm). 'n Totaal van 341mm betreklik volgehoue reënval is gedurende die tydperk 1 April tot die einde van Oktober aangeteken. Beskikbaarheid van vog was dus hoog vir die grootste gedeelte van die groeiseisoen en, by tye, was die plante moontlik aan spanning vanweë te hoë grondvog onder­werp. Maksimum daaglikse temperature het gewissel tussen ongeveer 15 en 25oC vir die grootste gedeelte van die groeiseisoen. Uitstekende koringopbrengste en gemiddelde canola- en lupienopbrengste is vir die seisoen verkry.

Canola- en lupienproduksie

Die TT-canolakultivar ATR Stubby is geplant om die kanse te verhoog op die beheer van onkruiddoderweerstandbiedende raaigras op die proef­persele. Canola en lupiene (Tanjil) is op 20 en 21 April onderskeidelik geplant. Saailingdigthede vir canola en lupiene (88 en 61 saailinge m-2) was hoër as verwag, wat dui op 'n beter ontkieming as wat vooruitgeskat is. Die hoër canola en lupiendigthede kan moontlik te danke wees aan die beter plantmeganisme van die AUSPLOW in vergelyking met die planter wat in vorige seisoene gebruik is. Die bestuursprotokol soos ontwikkel deur die Tegniese komitee is gevolg, maar aangepas gedurende die seisoen soos vereis deur die wisselende klimaatstoestande. Gunstige klimaats­toestande het hoër opbrengspotensiaal tot gevolg gehad.

Canola en lupiene is tussen 20 en 28 Oktober geoes. Soos in die vorige seisoene, was canolarypwording en "gereedheid" vir oes uiters veranderlik en ongelyk. Elke canolakamp is dus ook voor oes gemonster ten einde skattings van opbrengspotensiaal daar te stel.

Canolaopbrengste verkry gedurende oes ("direk"), het gewissel van 994 kg/ha tot 1785 kg/ha met 'n gemiddelde opbrengs vir canola vir al die persele van 1445 kg/ha. Daar was geen verskil in die gemiddelde opbrengste tussen die geskatte opbrengspotensiaal en werklike opbrengs nie, met die verskil dat die geskatte opbrengspotensiaal minder tussen persele gewissel het as die werklike opbrengs. Gegewe dat die gemiddelde opbrengs van koring in al die koringpersele 4329 kg/ha was, was die canolaopbrengs laag, naamlik 33.3% van die koringopbrengs. 'n Interessante feit is dat die geskatte obrengste toon dat canola wat medicweiding in die siklus opvolg, 'n hoër produksie het as canola wat koring of lupiene opvolg.

Gemiddelde lupienopbrengs in al die persele was 1560 kg/ha. Daar was geen verskille in die opbrengs tussen persele of gewasopeenvolgings nie, wat 'n soortgelyke lupienopbrengs vir die verskillende stelsels aandui. Die gemiddelde ruproteïen- (%RP) en % olieinhoud van canola in 2006 geproduseer, wissel van 24 tot 26% en 28 tot 32% respektiewelik. Soos in vorige verslae genoem, is die olieinhoud van die sade laer as die normale verwagting van 35% en hoër. Dit lyk asof die TT-cultivars ATR Hyden (gebruik in vorige seisoene) asook Stubby (gebruik in 2006) beide inherente lae olieinhoude het.

Gemiddelde ruproteïeninhoud van lupiensaad was 28.1%, wat gewissel het van 25.6 tot 30%.

Koringproduksie

Gemiddelde koringopbrengs in al die stelsels was 4329 kg/ha. Soos in byna al die vorige seisoene (2005 was 'n uitsondering), was daar duidelike verskille in die opbrengste van die verskillende gewasopeenvolgings. Die opbrengste van koring wat peulplantweidings en lupiene opvolg, was beter as die koringopbrengste in al die ander stelsels. Die opbrengs van koring wat canola opvolg, was ook beter as dié van koring wat koring opgevolg het. Daar was deurgaans 'n patroon van laer koring-opbrengste soos die aantal jare vermeerder waarin koring as voorafgewas geplant is. Hierdie neiging van koringopbrengsreaksie op verskillende gewasse en weidings in voorafgaande jare, is bevestig deur 'n gedetailleerde analise van die laaste 6 jaar se produksiedata.

Daar sou verwag word dat die hoë frekwensie en hoeveeldheid reënval aangeteken gedurende die 2006-groeiseisoen tot loging van N uit die grond­profiel sou lei. Daar sou ook verwag word dat die %RP van die graan laer sou wees as gevolg van die verdunningseffek van die hoër opbrengs. Hier­die verwagtings het duidelik gerealiseer. %RP in graan wat peulplant-weidings opgevolg het, was deurgaans hoër as al die ander gewasopeenvolg­ings. %RP in die koring wat koring opgevolg het, het die laagste %RP-inhoud gehad, ten spyte daarvan dat dit die hoogste N-toedings ontvang het.

Skaapproduksie

In teenstelling met vorige seisoene, is geen addisionele voer (bv. lusern of hawerhooi) aan enige van die groepe ooie gevoer gedurende die 2005/2006-verslagperiode nie. 'n Aanvulling van 200 en 300g/ooi/dag is voorsien aan alle diere 6 weke voor lamtyd en gedurende lamtyd onder­skeidelik. Positiewe ooimassatoename gedurende die droë somermaande en voor lamtyd, dui op voldoende kwaliteit en –kwantiteit van voer deur die somermaande. Die positiewe massatoename van beide ooie en lammers in al die weidingspersele na lamtyd, dui op genoegsame beskikbaar­heid van weiding gedurende die 2006-groeiseisoen.

Ekonomie

Alle data, soos vereis om inkomste en uitgawebegrotings vir elk van die 48 kampe te bereken, is met behulp van die MICRO-COMBUD-pakket vasgelê. Data van die skaap komponent moet nog deur 'n ekonoom bevestig word.

Komponentnavorsing

Soos in vorige seisoene, is verskeie ander "komponentstudies" gedurende 2006 onderneem. Hierdie studies sluit in:

  1. Monitering van medic- en klawersaadbanke in die gewas/-weidingstelsels (Instituut vir plantproduksie – Elsenburg)
  2. Bepaling van grondmikrobeaktiwiteite in gronde in 'n koringmonokultuur en 'n koring/medicweidingwisselboustelsels (Instituut vir Plantproduksie – Elsenburg in samewerking met Dept Mikrobiologie US)
  3. Bepaling van N-mineralisasietempo van gronde onder verskillende gewasstelsels. (Agronomiedepartement – Universiteit van Stellenbosch).

Tegnologieoordrag

Die volgende is 'n samevatting van die voorleggings en publikasies gebaseer op die gewasproduksieproewe soos uitgevoer in die Swartland en die Suid-Kaap gedurende 2006.

Voorleggings

1   plaaslike wetenskaplike vergadering
8   Boeredae
2   Boerestudiegroepvergaderings
2   Boereverenigingvergaderings
19 Tegniese vergaderings en- verslagsessies

Wetenskaplike en semi-wetenskaplike artikels

Een wetenskaplike artikel en een semi-wetenskaplike artikel, beide gebaseer op inligting verkry vanaf hierdie proewe, is gedurende die verslag­periode gepubliseer.

Lamprecht SC, Marasas FO, Hardy MB & Calitz FJ 2006. "Effect of crop rotation on crown rot and the incidence of Fusarium pseudograminearum in wheat in the Western Cape, South Africa". Australasian Plant Pathology, 2006, 35, 419-426.

Hardy MB 2007. "The Southern Cape crop rotation project: progress 2002 to 2005". Elsenburg Journal Vol 4 No 1. 2-4.


5.12a

 

Super Canolakompetisie – Swartland, Wes-Kaap


Mnr IF Slabbert
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Agtien deelnemers het in 2006 ingeskryf vir die Swartland Canola kompetisie.

Slegs sestien deelnemers se inligting kon gebruik word, omdat onkruide en onkruiddoder skade die ander twee deelnemers se Canola benadeel het.

Toestande gedurende 2006 was baie gunstig vir Canola verbouing omdat reëns vroeg in die seisoen begin val het. Die gemiddelde opbrengs van die deelnemers was 1,4 ton/ha wat 0,1 ton hoër was as die opbrengs in 2005.

Die deelnemer met die hoogste opbrengs (2,28 ton/ha) was mnr Andre Brink van die plaas Middelpos naby Philidelphia. Hy was ook die deelnemer met die hoogste bruto marge (R2774/ha). Die deelnemer met die tweede beste opbrengs (2,0 ton/ha) was mnr Deon Steyn van Hermon en die deelnemer met die tweede beste bruto marge (R2588/ha) was mnr Dirk Lesch van Malmesbury.


5.12b

 

Super Canolakompetisie – Suid-Kaap


Mnr CL van Rooyen
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Die vroeë reëns het die hoop op goeie oeste bevestig en die stande van meeste canola was goed en selfs te dig. Ongelukkig was die oes nie wat die stande gewys het nie. Daar was enkele aanvaarbare oeste maar die meeste het sleg afgesteek by die groot koring oeste. Canola kon vanjaar net ongeveer 38% van die gemiddelde koringopbrengs behaal. Hierdie probleem moet dringend aandag kry aangesien Australiese gegewens dui op opbrengste van 55% van die koringopbrengs. Dit laat 'n mens wonder of die plaassaad wat so rondloop nie dalk bydrae tot die swak opbrengste wat behaal is nie. Die meeste cultivars is van Australiese oosprong en daar word cultivars ongeveer elke twee jaar vervang. Dring aan op verbeter­de cultivars en nuwe tegnologie wat getoets is. Die 2006 wenner van die Suid-Kaap Canola kompetisie met 'n opbrengs van 2.05 ton/ha asook die beste bruto marge van R2 654/ha, is die Wessel Broers van die Karsrivier en in die tweede plek was Mnr Andrew Beukes.


5.13

 

Ekonomiese volhoubaarheid van kort- en langtermyn wisselbougewas / weidings produksiestelsels in die Suid-Kaap


Dr MB Hardy
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Die doel van hierdie studie is om die kort- en langtermyneffekte te bepaal vir 'n aantal van die mees toespaslike kort- en langrotasie gewas en gewas / weiding wisselboustelsels wat geïdentifiseer is vir die Suid-Kaap met betrekking tot: gewasopbrengs; onkruidbeheer; siekteonderdrukking; grondproduksiepotensiaal; skaapproduksie en ekonomies volhoubare grondgebruik in die Suid-Kaap.

2006 was die 5de jaar van produksie. Die proef behels twee hoofkomponente naamlik: kortrotasiestelsels wat op Tygerhoekproefplaas naby Riviersonderend getoets word en langrotasiestelsels wat op plase in die Riversdal- en Swellendamdistrikte onderskeidelik getoets word.

Alle proefpersele is suksesvol gevestig en volgens die beplande protokol bestuur. Die somermaande was relatief droog met min betekenisvolle reënval. Gereelde reënvalbuie van tussen 5 en 15mm het van vroeg April tot einde Julie oor die grootste deel van die Suid-Kaap voorgekom. Die goeie reëns vroeg in die seisoen en die opvolgreëns wat oor al die persele voorgekom het, het gunstige grondvogtoestande vir produksie tot gevolg gehad. 'n Droë tydperk in Junie en vroeg Julie het 'n mate van vogstremming by die Swellendampersele veroorsaak terwyl goeie reën in Augustus tesame met die reeds nat gronde, versuiping by die Riversdalpersele tot gevolg gehad het. Aanhoudende reënbuitjies het die oes tot einde Novem­ber vertraag.

Canolaproduksie

Wisselboubehandelings by die Riversdal- en Swellendam-proefterreine het nie canola ingesluit nie. Canola is egter op die Tygerhoek proefterrein geplant waar die cultivar ATR Stubby geplant is teen 'n saaidigtheid van 3.2 kg/ha tesame met 20 kg N/ha, 15 kg P/ha en 10 kg S/ha op 26 April 2006. Simazine is toegedien tydens plant op nat grond. Slegs een N-topbesmesting van 30 kg N/ha is gedurende die seisoen (ongeveer 6 weke na plant) toegedien. Slaklokaas (Mesurol 6 kg/ha) is toegedien op alle persele een week na plant. Verwys na inligting op rekord vir onkruid-, plaag- en siektebeheer.

Werklike (geoesde) canolaopbrengste het gewissel van 1100 kg/ha tot 1433 kg/ha. Gemiddelde opbrengste van al die persele was 1270 kg/ha, soortgelyk aan die gemiddelde canolaopbrengs vir die produksiegebied.

Hierdie opbrengste was egter tussen 16 en 52% minder as die geskatte opbrengspotensiaal. Die laer werklike opbrengste is sorgwekkend, aange­sien die nodige versigtigheid en aandag bestee is aan die oes van die gewas. Die gemiddelde geskatte opbrengs was ongeveer 2000 kg/ha. Die gemiddelde koringopbrengs by Tygerhoek was ongeveer 5.0 ton/ha. Die potensiële canola-opbrengs moes dus ongeveer 40% van die gemiddelde koringopbrengs vir die area gewees het.

Olieinhoud het van 28 tot 32% gewissel op al die persele, terwyl die rupro-teïeninhoud (RP) van 23 tot 26% gewissel het.

Lupienproduksie

Wisselboubehandelings by die Riversdal- en Swellendam proefterreine het nie lupiene ingesluit nie. Die cultivar Tanjil is op die Tygerhoek proef­terrein geplant. Lupienopbrengste was heelwat laer as wat verwag is, met minder as die helfte van die opbrengs wat vir die 2005-seisoen verkry is. Plantgroei was welig gedurende die seisoen. Dit het geblyk asof daar genoegsame vertakking en blomme per stingel was. Blomme en nuutgevorm­de peule kon moontlik afgespeen het as gevolg van die lang koue en nat periodes gedurende die blom- en vroeë peulontwikkeling. Die gemiddelde lupiensaadproduksie in al vier die subkampe was 780 kg/ha met 'n gemiddelde % RP-inhoud van 29%.

Koringproduksie

Koring is op al drie die proefpersele (SST 57 te Swellendam en SST 027 te Tygerhoek en Riversdal) geplant. Gemiddelde opbrengste by Riversdal het tussen 2.58 en 2.96 ton/ha gewissel, met geen herkenbare patroon nie, wat daarop dui dat die vorige gewas geen invloed op die koringop­brengs in 2006 gehad het nie.

Gemiddelde opbrengste van Swellendam het gewissel tussen 1.30 en 2.36 ton/ha. Die opbrengs van koring wat canola opgevolg het, het geneig om hoër te wees as dié van koring na koring. Hierdie opbrengste is hoër as wat gewoonlik op die proefterrein verkry word, wat daarop dui dat grondvog gunstig was ten spyte van die droë tydperk wat gedurende Junie / vroeg Julie ondervind is. Koringopbrengs was die laagste op persele met hoë pH (pH>7).

Op Tygerhoek het koringopbrengs gewissel van 4.0 tot 5.5 ton/ha-1 en 4.4 tot 5.6 ton/ha-1 in herhalings 1 en 2 onderskeidelik, wat dui op die besondere gunstige grondvogtoestande wat op die proefterrein vir 2006 ondervind is.

Waar kontantgewasse (koring, gars, hawer of canola) in die voorafgaande twee seisoene geplant is, neig die koringopbrengs laer as wanneer die voorafgaande seisoen se gewas 'n peulplantweiding (of peulplantgewas – lupiene) was.

Ruproteïeninhoud van die graan het gewissel tussen 12.5 en 14.5%, 10.2 en 12.5%, 11.5 en 12.5% op Tygerhoek, Riversdal en Swellendam on­derskeidelik. Hierdie RP%-konsentrasies in die graan is hoër as verwag is, gegewe die relatief hoë reënval vir die seisoen (met die potensiaal vir hoër loging van N).

HLM (hektolitermassa) van graan van die verskillende persele tussen en binne proefareas het grootliks gevarieer en het die grootste (negatiewe) uitwerking op graankwaliteit gehad. In die meeste gevalle het HLM gewissel van 72 tot 76.

Die laagste HLM was vir Swellendam aangeteken. Laat reëns het tot stadiger rypwording van die graan gelei sowel as benatting en droging tydens rypwording. Hierdie klimaatsveranderlikes voordat die gewas platgesny is en reëns wat hierdie platsny gevolg het sou die HLM van die graan verlaag het.

Garsproduksie

Gars (Clipper) is geplant op Swellendam terwyl SSG 564 op Tygerhoek geplant is. Die gemiddelde opbrengs van die gars het gewissel van 2.7 tot 3.3 en 3.2 tot 4.0 ton/ha vir Swellendam en Tygerhoek onderskeidelik. Die stikstofinhoud van die graan was hoër as die maksimum toegelaat vir broukwaliteit in al die persele waar gars 'n peulplantweiding in die vorige seisoen opgevolg het. Hierdie neiging het selfs voortgeduur waar 'n weiding twee seisoene (2004) voor die verslagperiode geplant was. Moutkwaliteitgars is oral in die persele aangeteken waar 'n nie-peulgewas in die twee seisoene voor 2006 geplant is.

Hawerproduksie

Hawer (SSH 405) is op Tygerhoek geplant. Graanopbrengste het gewissel van 1.27 tot 1.70 ton/ha. Hierdie opbrengste was heelwat laer as wat vir die seisoen verwag is.

Ekonomie

Data is in die COMBUD program vasgelê ten einde gedetailleerde ekonomiese analises van elke komponent van elke wisselbou te doen.

Komponentnavorsing

Verskeie addisionele studies is gedurende 2006 gedoen, wat die volgende insluit: 1) monitering van onkruidsaadbanke in al die persele van al die proefterreine van die Suid-Kaapproef, 2) 'n grootskaalse koringsaaidightheidsproef op Riversdal en 3) monitering van grond-vrugbaarheidstatus en grond organiese koolstofinhoud van al die proefterreine in die Suid-Kaapproef. Daarbenewens is 'n MSc-student van die US besig om 'n studie te voltooi wat die uitwerking van wisselbou op die fisiogonomie van koring op die Tygerhoekproefterrein ondersoek.

Tegnologieoordrag

Die volgende is 'n samevatting van die voorleggings en publikasies gebaseer op die gewasproduksieproewe soos uitgevoer in die Swartland en die Suid-Kaap gedurende 2006.

Voorleggings

  • 1 plaaslike wetenskaplike vergadering
  • 8 Boeredae
  • 2 Boerestudiegroepvergaderings
  • 2 Boereverenigingvergaderings
  • 19 Tegniese vergaderings en –verslagsessies

Wetenskaplike en semi-wetenskaplike artikels

Een wetenskaplike artikel en een semi-wetenskaplike artikel, beide gebaseer op inligting verkry vanaf hierdie proewe, is gedurende die verslag­periode gepubliseer.

Lamprecht SC, Marasas FO, Hardy MB & Calitz FJ 2006. "Effect of crop rotation on Crown rot and the incidence of Fusarium pseudograminearum in wheat in the Western Cape, South Africa". Australasian Plant Pathology, 2006, 35, 419-426.

Hardy MB 2007. "The Southern Cape crop rotation project: progress 2002 to 2005". Elsenburg Journal Vol 4 No 1. 2-4.


5.14

 

Die stikstofbehoefte van canola onder besproeiing


Dr AA Nel
LNR-Instituut vir Graangewasse

Die veevoerbedryf van Suid-Afrika voer jaarliks minder as 1 miljoen ton oliekoek in om aan die binnelandse vraag te voorsien. 'n Uitbreiding van die plaaslike canolaproduksie kan hierdie afhanklikheid verlig en terselfdertyd kan canola ook as 'n handige wisselgewas in siektegeteisterde gewas­stelsels onder besproeiing dien. Stikstofbemesting is tans die grootste enkele koste-item in droëland canolaproduksie in Suid-Afrika. Dit is waar­skynlik ook die geval met besproeide canola. Wetenskaplikbepaalde riglyne vir N-bemesting van canola bestaan nog nie in Suid-Afrika nie en rig­lyne van ander bronne is verwarrend. Die doel van hierdie projek is om riglyne vir N-bemesting van canola onder besproeiing daar te stel. Veldproe­we is gedurende die winters van 2004 en 2005 geplant op 'n sandgrond by Vaalharts en 'n leemgrond te Potchefstroom. Ses N-bemestingspeile, wat van nul tot 300 kg N ha-1 wissel, is gebruik. Tydens die vegetatiewe tot begin-blomstadium is drie keer monsters geneem vir bepaling van die biomassa en N-inhoud ten einde 'n N-verdunningskromme te trek. Die proewe is op die aangewese stadiums geoes, die opbrengste bepaal en die graan van beide lokaliteite vir olie- en proteïeninhoud ontleed. Die hoeveelheid data wat ingesamel is, was te min om 'n Verdunningskromme saam te stel. Die data pas egter 'n kromme wat vir winter-olieraapsaad in Europa bepaal is, goed. Die berekende optimum opbrengste en ooreenstem­mende N-peile toon groot variasie oor seisoene en lokaliteite, waarskynlik weens onder meer, verskille in die N-voorsiening van die grond. Die delta-opbrengs, waar die grond-N en opbrengspotensiaal in ag geneem word, toon potensiaal as maatstaf vir die bepaling van die N-bemestings­behoefte. Die graan se olie-inhoud is deur 'n N-peil x lokaliteit interaksie beïnvloed. Van nul tot 180 kg N ha-1 toon die olie-inhoud geen verwant­skap met die N-peil nie. Bo 180 kg N ha-1 het die olie-inhoud by Potchefstroom afgeneem maar by Vaalharts toegeneem by verhoogde N-peile. Die proteïeninhoud is deur 'n N-peil x lokaliteit en 'n lokaliteit x seisoen interaksie beïnvloed. Die graanproteïeninhoud het by Potchefstroom gestyg met verhoogde N-peile maar geen verwantskap by Vaalharts getoon nie. By Potchefstroom het die proteïeninhoud 'n klein afname van 2004 tot 2005 getoon, terwyl 'n groot toename by Vaalharts voorgekom het.


5.15

 

Evaluering van canola cultivars onder besproeiing


Dr AA Nel
LNR-Instituut vir Graangewasse

Om canola winsgewend te produseer is dit noodsaaklik dat insette wat produsente maak optimaal is. In terme van cultivars is dit die aanplant van een of meer wat by die spesifieke omgewing aangepas is. Beperkte inligting oor die prestasie van cultivars is tans beskikbaar vir advies doelein­des. Nuwe cultivars verskyn ook jaarliks op die mark, wat die voortdurende behoefte aan kultivarevaluasie noodsaak. Die doel van die projek is om die kommersiële cultivars vir opbrengs en graansamestelling jaarliks op minstens vyf lokaliteite oor drie jaar te evalueer. Gedurende die 2005-seisoen is 17 beskikbare cultivars vir evaluasie by ses lokaliteite / plantdatums geplant.

Besonder hoë temperature het gedurende die winter en vroeë lente voorgekom, wat opbrengste waarskynlik beperk het. Omval van plante het al­gemeen by Mei-aanplantings voorgekom. Opbrengste van cultivars het van so laag as 1.2 tot so hoog as 4.7 t ha-1 oor lokaliteite gevarieer. Die vogvrye olie-inhoud het van 28% tot 42% gevarieer, met 'n algehele gemiddelde van 35%. Die proteïeninhoud het van 21% tot 30% gevarieer, met 'n algehele gemiddeld van 26.1%.


5.16

 

N-bemesting van canola gebaseer op N-mineralisasie en loging


Prof GA Agenbag
Universiteit Stellenbosch

Veldproewe wat voorheen in die canola produksie gebiede van die Wes-Kaap uitgevoer is, het dikwels baie variërende en in die algemeen swak opbrengsreaksies teenoor toenemende N-toedienings getoon.

Resultate wat in 'n hidroponiese stelsel onder gekontroleerde toestande in hierdie studie in 'n glashuis verkry is, toon egter uitstekende korrelasie (R² = 0.99) tussen die N konsentrasie in die wortelsone en droë massa (DM) produksie tydens beide die vroeë vegetatiewe en blominisiasie fases van canola. Droë massa bepalings tydens bogenoemde groeistadiums (54 en 90 dae na plant), toon beide tipiese S-kurwe reaksies indien grafies teenoor toenemende N konsentrasies in die wortelsone gestip word. Volgens hierdie grafieke is konsentrasies van 7-9 me nitrate L-1 optimaal terwyl groei en ontwikkeling van canola betekenisvol ge-inhibeer word by konsentrasies van <3 me nitrate L-1 in die wortelsone. Canola toon dus 'n tipiese gewasreaksie teenoor toenemende N-toedienings in die afwesigheid van ander groei beperkende faktore. In verdere glashuisstudies is ook getoon dat hoewel die toepassing van waterstremming, die N-verbruiksdoeltreffendheid (g Dm geproduseer per g N toegedien) verlaag, uit­stekende korrelasies (R² = 0.98) tussen DM opbrengs en N toedieningspeil steeds verkry kan word.

In veldproewe wat oor twee jare op vier lokaliteite gedoen is, het die reaksie teenoor N bemesting egter beide tussen lokaliteite en oor jare gewis­sel, met korrelasies (R2) van 0.60 tot 0.96 tussen N-toedieningspeil en DM produksie op 120 dae na plant. Deur alle data saam te voeg is 'n kor­relasie van R² = 0.97 vekry en kon DM produksie voorspel word deur die vergelyking:
DM (ton ha-1) = 5.65 + 0.0571x + 0.000269x²
(x = kg N ha-1)

Soortgelyks het die samevoeging van al die graanopbrengs resultate, die volgende opbrengsvoorspellings vergelyking tot gevolg gehad:
Opbrengs (ton ha-1) = 1.60 + 0.0050x – 0.21 × 10-4x² (R² = 0.95)
(x = kg N ha-1)

Korrelasies tussen die N bemestingspeil en graanopbrengs vir verskillende lokaliteite en jare het egter selfs meer gevarieer as met DM omdat die opbrengste behaal met geen stikstof (0 kg N ha-1) gewissel het tussen 1.28 en 2.14 ton ha-1 in 2005 en tussen 0.79 en 2.25 ton ha-1 in 2006. Graan-opbrengste van canola het dus in sommige proewe geen verhoging of selfs 'n afname getoon met toenemende N-peile.

Om hierdie rede is meer navorsing in verskillende grondtipes en klimaatstoestande nodig en sal opbrengspotensiale waar geen stikstof toegedien word (N0 - waardes), gekwantifiseer moet word alvorens meer akkurate voorspellingsmodelle en dus N-bemestingsprogramme ontwikkel kan word.


5.17

 

Lupiensaadproduksie


Mnr JW Lodewyckx
LNR-Instituut vir Graangewasse

Die oogmerk van die projek is om saad te vermeerder van sekere cultivars wat in die kultivarproewe in die winterreënvalstreek van Suid-Afrika aangeplant word. CED 6150 saad is by Potchefstroom geplant. Een honderd kilogram saad is geproduseer. Daar is tans onderskeidelik 348 kg, 301 kg en 377 kg van Ronell, CED 6150 en Vladimir beskikbaar by die Instituut vir Graangewasse.


5.18

 

Bepaling van die epidemiologiese waarde van weerstand teen roes wat veroorsaak word deur Phakopsora Pachyrhizi in sojaboonlyne


Prof NW McLaren
Universiteit van die Vrystaat

Die doel van die studie is om weerstand teen roes in sojaboon kiemplasma en opbrengsverliese te kwantifiseer. Veldproewe is gedurende 2006/07 op Cedara geplant. Proewe is in 'n ewekansige blok ontwerp geplant met drie herhalings. Opvolgaanplantings is geplant vanaf middel-November tot laat-Desember om verkillende omgewingsomstandighede en fisiologiese groei stadiums te skep. 'n Cultivarproef met 30 inskrywings en 'n lyn evaluasie proef met 160 inskrywings is uitgevoer. Proewe is herhaal met swamdoder behandelde- en onbehandelde persele. Tydens blom is per­sele vir swamdoder behandel met carbendazim / flusilazole (250/125 g ai l-1) teen 800 ml ha-1 gespuit met opvolgbehandelings elke 21 dae tot volwassenheid. Persele is weekliks ondersoek vir roes ontwikkeling. Roes strafheid is gekwantifiseer as persentasie besmette blaararea. Ontbla­ring is ook gemeet. Aangesien roes en ontblaring fotosintetiese area beinvloed is roes strafheid gekwantifiseer as geaffekteerde blaar area (GBA) = ontblaring (%) + roes (%) op oorblywende blare. Dus GBA= OB + ((100-OB) * (roes/100)). Die aanname is gemaak dat blaarweefsel verkleur deur roes nie fotosinteer nie. Relatiewe leeftyd (RLT) van inskrywings is bepaal as dae na planting / dae tot volwassenheid (Tschanz, 1984). By volwas­senheid is opbrengs gemeet in elke perseel.

Roes infeksie was afhanklik aan natuurlike besmetting en die ongunstige weerstoestande gedurende die seisoen het veroorsaak dat roes laat ingetree het in verhouding met die groei stadiums van inskrywings. Heelwat van die vroeë inskrywings het volwassenheid bereik voordat besmet­ting plaasgevind het en data is dus onbetroubaar. Kiemplasma evaluerings word in glashuis-proewe herhaal.

Data van vorige seisoene oor cultivar weerstand teen roes is voorberei vir publikasie.

Data het getoon dat die aanvang van siekte as RLT verskil het tussen cultivars met die grootste vertraging in aanvang in LS678 tydens albei seisoene. AOSOK as 'n indeks van totale siektevoorkoms vir die duur van die epidemie is negatief gekorreleerd met aanvang met hoër AOSOK in cultivars met vroeër aanvang. Betekenisvolle verskille in AOSOK is tussen cultivars waargeneem. Opbrengsverliese was nie met AOSOK gekor­releerd nie (R²= 0.06 en R²=0.11 tydens 2003/04 en 2004/05 onderskeidelik). Opbrengsverliese is met dae tot volwassenheid gekorreleerd en was laer in kort seisoen as langer groei seisoen cultivars. Dit is ook gekorreleerd met vroeër ontblaring wat tot 17 tot 21 dae vroeër was in lang groei seisoen cultivars in onbehandelde persele. Verminderde opbrengsverliese was nie voldoende om van ekonomiese waarde te wees nie en geen cultivar het toleransie getoon nie.


5.19

 

Vestiging van 'n vroeë waarskuwingstelsel vir sojaboonroes


Dr M Craven
LNR-Instituut vir Graangewasse

Gedurende die 2005/06-seisoen is daar gepoog om 'n vroeë waarskuwingstelsel vir sojaboonroes te skep. Agt lokaliteite wat verteenwoordigend is van die hoof sojaboonproduksie-areas in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga is geïdentifiseer. Drie cultivars met verskillende groei­periodes (PAN 421 RR – kort, PAN 520 RR – intermediêre en PAN 522 RR – lang groeier) is geselekteer vir die persele wat elk ongeveer 5000 m² groot was. Instandhouding van die proewe was die verantwoordelikheid van die onderskeie produsente. Roetine waarnemings deur LNR-IGG het 15 Desember 2005 begin met beide die Morgenzon- en Wintertonmateriaal wat in blom was. Proewe is op 'n weeklikse basis besoek. Roes is by Grey­town aangemeld (02/02/06) kort nadat dit deur die Departement Landbou van KwaZulu-Natal te Cedara waargeneem is. Sojaboonroes is voorts elke week of elke ander week waargeneem tydens roetine besoeke (Piet Retief – 09/02/06; Vryheid – 16/02/06; Morgenzon – 24/02/06; Winterton – 03/03/06; Kinross en Normandien – 14/03/06 en Kestell – 29/03/06). Die voorkoms van roes by beide Kinross en Kestell was onverwags, maar tog hoogs waarskynlik aangesien omgewingstoestande gedurende die 2005/06 seisoen uiters gunstig was vir siekte-ontwikkeling. Roes is ook op Potchefstroom waargeneem.


5.20

 

Studie van inokulasie en siekte evaluasie tegnieke vir Sclerotinia stamvrot van sojabone


Prof NW McLaren
Universiteit van die Vrystaat

Veldproewe om weerstand van sojaboon cultivars teen sclerotinia stamvrot te kwantifiseer is voltooi. Resultate is aanvaar vir publikasie in die joernaal Crop Protection. Resultate is ook by die 2007 Kongres van die Southern African Society for Plant Pathology aangebied.

Om weerstandbiedende sojaboon cultivars te ontwikkel is 'n betroubare, suksesvolle inokulasie metode nodig. 'n Studie is uitgevoer om verskeie inokulasie metodes en evaluasie tegnieke te vergelyk. Vier sojaboon cultivars, SNK 500, PAN 520 RR, Wenner en CRN 5550 is in die glashuis geplant en laat groei tot die V3 groeistadium. Ses inokulasie metodes is gebruik naamlik die spuit-miselium, drup-miselium, sny stam, koteledon inokulasie, strooitjie en petiool-inokulasie metodes. Na inokulasie is die plante met deursigtige plastiek sakkies bedek vir nege dae. Die aantal geinfekteerde plante, blaarskade en die persentasie verwelking is bepaal deur gebruik te maak van 'n 0 tot 5 skaal. Die spuit miselium metode het die hoogste verwelking getoon en 'n duidelike cultivar x inokulasie metode (P>0.05) interaksie is verkry. Soortgelyke resultate is verkry met blaar­skade. Die spuit-miselium metode is gebruik om 27 cultivars in drie glashuis proewe vir weerstand te evalueer. Resultate toon dat die rangorde van cultivars vanaf die verskillende proewe nie gekorreleerd was nie wat 'n aanduiding is van 'n hoë omgewing / inokulum interaksie met genotipe. Re­gressieanalise is gebruik om cultivar reaksie op omgewing te kwantifiseer. LS 580 was die mees weerstandbiedende cultivar en is die mees sta­biele oor omgewings terwyl LS 555 die mees vatbaar was. Resultate wys die belangrikheid van kwantifisering van cultivar x omgewing interaksie uit. Resultate is by die 2007 Kongres van die Southern African Society for Plant Pathology aangebied.

'n Studie is gedoen om die effek van temperatuur en vog op die ontwikkeling van S. sclerotiorum op sojabone te ondersoek. Sojaboon cultivar, SNK 500 is in die glashuis geplant en laat groei tot V3 groeistadium. Plante is deur middel van die spuit miselium metode geinokuleer en met deursig­tige plastiek sakkies bedek. Die potte is in inkubasiekabinette geplaas by 18ºC, 20ºC, 22ºC, 24ºC, 26ºC en 28ºC. Kontrole potte is geinokuleer en in die glashuis geplaas by 15/22 ºC en opgeteken as die 0 dae vog periode behandeling. Die res van die plante is drie, ses, nege en twaalf dae na ino­kulasie uitgehaal. Die aantal dooie plante en die verwelking is opgeteken op 'n 0 tot 5 skaal. Die resultate dui daarop dat temperatuur en vog wel 'n rol speel in die ontwikkeling van S. sclerotiorum. Die behandelings met geen vog en drie dae van blaarnatheid het geen siekte getoon nie. Siekte ontwikkeling was die hoogste by 18ºC, 20ºC en 22ºC na nege dae vog periode gevolg deur 6 dae. Siektegraad het weer na twaalf dae blaarnatheid afgeneem. 'n Veldproef om die effek van blaarnatheid op siektegraad te kwantifiseer is afgeskryf a.g.v. ongunstige weerstoestande.

'n Studie is gedoen om verskeie beheer metodes teen S. sclerotiorum te ondersoek. Twee fungisides, Benomyl en Sumisclex, 'n plant groei stumi­leerder, Extrasol, twee Trichoderma spp. en 'n onbekende plant ekstrak (S007) is gebruik. Konsentrasies is bepaal soos aangedui op die regitrasiepamflet.

Vir elke behandeling, behalwe Eco T en Eco 77 is die voorgestelde dosis, half die voorgestelde dosis en 'n dubbel dosis getoets. Ses S. sclerotiorum isolate is met die behandelings op 'n ADA bakkie geplaas en by 20ºC vir drie dae geinkubeer. Na die periode is die inhibeer zone gemeet. Resultate het getoon dat Benomyl en Sumisclex die mees effektiefste was om groei te verhoed gevolg deur Extrasol. Eco T en Eco 77 was effektief deur die groei te inhibeer en na 'n paar dae die kolonie te oorgroei. S007 was die minste effektief in die beheer van S. sclerotiorum. Tans word glashuis en blaar evaluasies gedoen om die effek van die beheer agente op sojabone te bepaal.

Isolate van S. sclerotiorum is van regoor die land versamel in areas waar sclerotinia stamvrot voorgekom het. Sclerotia is oppervlakkig gesteri­liseer en op ADA geplaas. Die gevestigde kolonies is by 20ºC gehou. Groei studies is gedoen om die effek van verskillende temperature op groei te evalueer. Temperature, 15ºC, 20ºC, 25ºC en 30ºC is getoets. Tans word AFLP's op die verskillende isolate gedoen om die genetiese verskille te bepaal. Glashuis evaluasies word gedoen waar twee cultivars, SNK 500 (vatbaar vir stamvrot) en Pan 520 RR (meer weerstandbiedend) geplant is en met die spuit miselium metode met elke isolaat geinokuleer word. Die hoeveelheid blaarskade, aantal dooie plante en die persentasie verwelkte weefsel word bepaal en die patogenisiteit van elke isolaat sal vasgetel word.


5.21

 

'n Vergelykende studie van die groei- en opbrengsreaksie van sojaboon op behandeling met verskillende bioprodukte


Prof JC Pretorius
Universiteit van die Vrystaat

Alle sojaboonsaad [Glycine max (L.) Merr.; cv Egret] in hierdie proef gebruik, insluitende die kontrole, is vooraf met Mollyflo, 'n molibdeen aanvul­ling, en Rhizobium japonikum, 'n stikstof bindende inokulant, behandel as 'n standaard prosedure vir sojaboon verbouing in Suid-Afrika. Verdere behandeling met ses kommersieel beskikbare bio-produkte, naamlik Biozone 125, B-Rus en Leguspirflo (in kombinasie met Patostop), grond of blaar inokulante met mikro-organismes as aktiewe bestanddele, sowel as ComCat™ en ComCat™ Super, natuurlike plantekstrakte, is vergelyk in terme van die effek op groei, saadopbrengs en kwaliteit. Alhoewel die aksiemeganismes van die inokulante verskil van dié van die natuurlike plantekstrakte, stem die aansprake wat deur die vervaardigers gemaak word baie ooreen en sluit verhoogde weerstand teen biotiese stremmings­faktore, verbetering van plantgesondheid en stimulering van wortelgroei na saadbehandeling voor plant of blaarbespuitings na opkoms in. Addisioneel verhoog beide ComCat™ en ComCat™ Super die weerstand van gewasse teen abiotiese stremmingsfaktore soos droogte, hitte en koue terwyl dit die vorming van blomknoppe induseer asook die translokasie van fotosintaat vanaf die blare na die oesbare organe verbeter. Nie een van die produkte het 'n statisties betekenisvolle invloed op bogrondse groei in terme van beide planthoogte en afstand van die onderste peule vanaf die grond gehad nie. In vergelyking met die onbehandelde kontrole is die duidelikste verskille tussen behandelings met oes waargeneem waar alle toetsprodukte 'n verhogende effek op die gemiddelde aantal peule per plant gehad het. In hierdie verband het die saadbehandelings, blaarbespuitings en die kombinasie behandelings met ComCat™ en ComCat™ Super die grootste effek op peulgetal getoon. Verskille tussen die produkte onderling en die kontrole m.b.t. peulgetal was egter nie statisties betekenisvol nie, waarskynlik a.g.v. die standaard afwykings tussen replikas. Die B-Rus behandeling het ook 'n aansienlike verhoging in peulgetal bewerkstellig. 'n Soortgelyke tendens is in terme van die finale oes­opbrengs, op beide 'n plantstand per hektaar en area basis bereken, waargeneem en dieselfde patroon het in beide gevalle na vore gekom. Die aansienlike oesopbrengsverhogings wat deur behandeling met B-Rus en ComCat™ bekom is was bykans dieselfde maar het nie statisties betekenisvol van dié van die kontrole verskil nie. Laasgenoemde word ook toegeskryf aan die relatief groot standaard afwykings tussen replikas. Aangesien geen betekenisvolle verskille tussen behandelings in terme van 200 saadmassa waargeneem is nie, word aanvaar dat die oesopbrengs­verskille toegeskryf kan word aan 'n verhoging in peul en saadgetal en nie 'n verhoging in bio-massa nie. Laasgenoemde was waarskynlik die gevolg van verhoogde blomgetal en 'n verlaging in peulafspening of beide onder die invloed van behandeling met veral B-Rus en ComCat™. Die B-Rus behandeling het 'n verhogende effek op beide die ru-olie en proteïenvlakke in die saad gehad. Alhoewel die gekombineerde saad en blaar­behandeling met ComCat™ die ru-olie inhoud in saad verlaag het, het dit die proteïninhoud met 1.63 persentasiepunte verhoog; die hoogste van alle behandelings.


5.22

 

Soutverdraagsaamheid van canola


Prof GA Agenbag
Universiteit Stellenbosch

In die canola produserende gebiede van die Wes-Kaap kom groot verskille in grondeienskappe binne dieselfde land dikwels voor. Hierdie variasie kan ten minste gedeeltelik aan verskille in alkaliese inhoud (verbrakking) toegeskryf word. Aangesien die gevolglike brakkolle, ontkieming en oor­lewing van kleingraanplante soos koring beïnvloed, mag dit ook een van die oorsake wees vir die onegalige stand en algemeen lae opbrengste wat met canola in hierdie gebied verkry word. Dit is dus belangrik om die invloed van sodanige braktoestande op die ontkieming en saailingvestiging van canola te kwantifiseer in 'n strewe na hoër opbrengste.

In hierdie studie is verskeie eksperimente in petri-bakkies onder gekontroleerde toestande in 'n ontkiemingskabinet en in potte in 'n temperatuur-beheerde glashuis uitgevoer om die reaksie van canola teen versouting te meet. Resultate wat in petri-bakkies behaal is, toon dat die ontkiemings­reaksie van canola (Brassica napus L., cv. Tornado) en koring (Triticum aestivum L., cv. SST 88) teenoor toenemende vlakke van versouting groot­liks ooreenstem. Hoewel canola aanvanlik vinniger as koring ontkiem het by 'n temperatuur van 20ºC, het die finale ontkiemingspersentasies nie veel verskil nie. Ontkieming het dus vir beide gewasse betekenisvol afgeneem waar die soutvlakke, ge-induseer deur NaCl, 'n EC van 8 dS m-1 oorskry het. Resultate toon egter dat indien 'n mengsel van NaCl en CaCl2 gebruik word om soutstremming te induseer, die invloed veel kleiner is. Soortgelyk is gevind dat soutstremming, en veral NaCl ge-induseerde stremming, meer skadelik in leemgrond as in sandgrond is.

In opvolging van hierdie resultate, sal verskillende canola cultivars ge-evalueer word en sal daar die reaksies onder veldtoestande ook ondersoek word.


5.23

 

Insekte en ander plae van canola


Dr G Tribe
LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming

In Mei 2006, is vier eksperimentele persele in lande in die Caledon distrik, waarop gars voorheen geplant is, uitgelê. Elke perseel is in 8 behan­delingspersele van 30 x 30m met 'n 3m spasie tussen behandelinspersele opgedeel. Behandelings het kombinasies van slakpille, onkruiddoder, insekdoder en onbehandelde kontrole persele ingesluit. Vyf melthoid valle in elke behandelingsperseel het die aantal isopoda, slakke en insekte teenwoordig by elke monsterneming interval bepaal. Die mortaliteit van saailinge is vasgestel deur die aantal saailinge binne 4 blokke van 1 x 0.5m elke vierdie dag vir die eerste 2 weke en dan met weeklikse intervalle vir 8 weke te bepaal. Saad is met Cruiser™ behandel om patogene as oorsaak van saailingafsterf uit te skakel. Tien melthoid valle in onversteurde weiding is gebruik om die getalle van slakke en isopoda te vergelyk met die in die canola lande. Die resultate het aangetoon dat:

  • Die getal isopoda binne canola lande was betekenisvol hoër voor plant as na plant en hoër in die onversteurde weiding d.w.s. versteuring van grond lei tot minder isopoda;
  • Bespuitings met insekdoder tydens plant het die isopoda populasie feitlik verdubbel vermoedelik omdat hulle predatore meer vatbaar is vir die insekdoder, maar geen effek op die slakpopulasie gehad het nie;
  • Die toediening van onkruiddoder het geen betekenisvolle effek op die getalle van isopoda, slakke of saailinge nie;
  • Slegs by die Roodebloem lokaliteit is ernstige verliese van saailinge (50.1%) ondervind en was daar ooreenstemmende hoë getalle slakke en isopoda. By al vier lokaliteite het die gemiddelde saailing oorlewing ooreengekom met die gemiddelde getal isopoda en slakke teenwoordig;
  • Daar was 'n sterk korrelasie tussen minimum temperature en slak aktiwiteit waar daar meer slakke aktief was in die koudste periode. Soos verwag, was daar 'n matige negatiewe korrelasie met die maksimum temperature wat aandui dat slakke hoë temperature vermy;
  • Daar was 'n swak positiewe korrelasie tussen isopoda acktiwiteit en minimum relatiewe humiditeit.

Die verliese wat in canola lande tydens plant ondervind word, word deur isopoda en slakke wat soms saam aktief is op 'n land veroorsaak. Beide is afslytsel voeders wat deur reën na die oppervlak, waar hulle snags voed, gebring word. Gedurende die warm droë periode tussen die eerste winter reëns en die werklike winter reëns, word isopoda desperaat vir vog en verkry dit deur te voed by die watergevulde basisse van saailinge. Die saai­ling val om, droog uit en waai weg, en op hierdie manier mag 'n hele land binne 'n paar nagte vernietig word, aangesien saailinge vanaf die apikale punt groei. Die isopoda is deel van die natuurlike sisteem om grondaktiwiteit te verbeter en deur later te plant wanneer die winter reën in erns begin sal hulle impak verminder.

Die eksotiese slakke is verantwoordelik vir die kaal kolle in canola lande wat geleidelik uitbrei. Die toepas van bewaringsboerdery beteken dat tonnels binne die grond wat slakke huisves nie vernietig word nie, en die verbeterde waterhou vermoë van die grond is voordelig vir die slakke. Die slakke verskyn in massa om te voed in die vore waar saailinge voorkom en waar die meeste vog is. Dit is waarom die kaal oppervlaktes die kon­toere volg en gewoonlik langer is as wat dit breed is. Huidig is die oordeelkundige gebruik van slakpille die enigste beskikbare beheermaatreël en tydsberekening van toedienings is baie belangrik.


5.24

 

Karakterisering en bestuur van Rhizoctonia op canola en lupiene in wisselboustelsels in die Wes-Kaap provinsie


Dr SC Lamprecht
LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming

Rhizoctonia anastomose groepe (AGs) wat met canola en lupien in wisselboustelsels in die suidelike en westelike produksie areas in die Wes-Kaap provinsie van Suid-Afrika geassosieër word, is gedurende 2006 geïsoleer. Die isolate is geïdentifiseer deur die basispaarvolgorde bepaling van die rDNA interne getranskribeerde spasieërder areas te gebruik.

Vier wisselbouproewe is in die studie ingesluit, met twee by Tygerhoek proefplaas (naby Riviersonderend en verteenwoordigend van die suidelike deel van die provinsie) en twee by Langgewens proefplaas (naby Moorreesburg in die westlike deel van die provinsie). Twee bewerkingspraktyke (minimum en geen bewerking) is ook in een van die proewe by elk van die twee lokaliteite, ingesluit. Canola aangeplant na gars, medic / klawer mengsel en koring, en lupien aangeplant na gars en koring in 2006 is tydens die saailing-, middelseisoen- en saadpeulgroeistadiums versamel. 'n Totaal van 184 isolate waarvan 93.5% binukleêre en 6.5% multinukleêre Rhizoctonia isolate was, is verkry. Die mees algemene binukleêre AG was AG-I (42.9%), gevolg deur die ongeïdentifiseerde groep (22.3%), AG-K (17.0%) en AG-Bo (7.6%). Die mees algemene multinukleêre AG was AG-2-1 (4.4%) gevolg deur AG-11 (1.6%) en AG-2-2 (0.6%). AG-2-1 en 2-2 is slegs van canola en AG-11 slegs van lupien geïsoleer. AG-Bo en 2-2 is net vanaf Tygerhoek verkry terwyl die res van die AGs vanaf beide Langgewens en Tygerhoek verkry is. Wisselbou het die voorkoms van binukleêre Rhizoctonia groep betekenisvol beïnvloed met 'n betekenisvolle hoër voorkoms op lupien as canola in almal behalwe een proef by Tygerhoek. Die voorkoms van hierdie groep was ook hoër by Langgewens as by Tygerhoek Betekenisvol hoër voorkomste van Rhizoctonia AGs is op plante tydens die saadpeul stadium in vergelyking met die saailing- en middelseisoengroeistadiums aangeteken. Die twee bewerkingspraktyke wat in twee van die proewe getoets is, het nie die voorkoms van Rhizoctonia AGs betekenisvol beïnvloed nie. Hierdie studie het getoon dat belangrike Rhizoctonia AGs soos AG-2-1 en Ag-11 voorkom in beide die suidelike en westelike produksie gebiede in die Wes-Kaap provinsie en dat wisselbou die voor­koms van Rhizoctonia AGs beïnvloed.


5.25

 

'n Vergelyking van die reaksie van Suid-Afrikaanse Cobb en Ross braaikuiken-genotipes op verskille in dieëtproteïen


Prof RM Gous
Universiteit van KwaZulu-Natal

Cobb en Ross is die twee mees algemene braaikuiken-genotipes wat in Suid Afrika gebruik word, en daar is al aangetoon dat hierdie genotipes uiteenlopend reageer op proteïenvoorsiening in die dieet. Dus onstaan die vraag hoe om voere te ontwerp wat die twee genotipes se prestasie sal optimiseer. Dit is duidelik dat voere wat die een genotipe se prestasie sal optimiseer waarskynlik nie die beste keuse vir die ander genotipe sal wees nie. Die uitwerking van 'n reeks dieet-proteïenpeile op braaikuikenprestasie is dus in 'n eksperiment aan die Universiteit van KwaZulu-Natal ondersoek. Benewens meting van die konvensionele prestasie-veranderlikes, soos gewigstoename en voeromset, is daar ook weekliks ewekansige lotte van die braaikuikens geslag om die gewig van liggaamsdele te bepaal, alvorens die karkasse opgemaal is vir chemiese ontleding. Vervolgens is die allometriese verwantskappe tussen die gewigte van liggaamsdele en liggaamsproteïen van manlike en vroulike Cobb- en twee Ross geno­tipes bepaal wat vier dieet-proteïenpeile ontvang het. Dit is gedoen per regressie ontleding, met die gewig van liggaamsdele teenoor die gewig van liggaamsproteïen by 'n bepaalde ewekansige trekking as veranderlikes.

Die drie genotipes en twee geslagte het feitlik dieselfde verwantskappe tussen liggaamsproteïengewig en die gewigte van borsvleis, dye, boudjies, en vlerke geopenbaar, wat suggereer dat die liggaamsamestelling van braaikuikens nie deur genetiese seleksie verander is nie, en dat aangemelde verskille in borsvleisopbrengs tussen genotipes waarskynlik eerder toegeskryf kan word aan braaikuikens wat op verskillende stadiums van lig­gaamsontwikkeling geslag en vergelyk is. In teenstelling met hoë proteïenvlakke in die dieet, het lae proteïenvlakke gelei tot swaarder liggaams­dele by 'n gegewe proteïen-inhoud, hoewel die hellings van die regressielyne identies was. Aangesien die hoeveelheid lipiede wat in die liggaam neergelê word omgekeerd eweredig is aan die liggaam se proteïen-inhoud, is dit te verwagte dat lae dieet-proteïenpeile tot swaarder liggaamsdele by dieselfde liggaamsproteïen-inhoud sal lei. Dit is gevolglik belangrik om die tempo van lipied-neerlegging in elke liggaamsdeel te bepaal wanneer voere met lae proteïen-inhoud gevoer word.

Voorspelling van die liggaamsdele se gewig word vergemaklik deur die afwesigheid van verskille in ligaamsamestelling tussen verskillende geno­tipes en geslagte, maar word bemoeilik weens die wisselende hoeveelhede vet wat in die weefsel neergelê word. Uit hierdie navorsing kan ons tot die slotsom kom dat doeltreffendheidsverskille in die verbruik van dieetproteïen deur die twee braaikuiken-genotipes in Suid-Afrika nie toegeskryf kan word aan verskille in die groeitempo van die twee genotipes se liggaamsdele nie.


5.26

 

Inkomste- en kosteramings


Mnr JSG Joubert
Proteïennavorsingstigting

Gedurende die verlagjaar is ekonomiese en tegnies / biologiese inligting weereens ingesamel by Agri-besighede en die Departement van Landbou KwaZulu-Natal. Hierdie inligting is verwerk en is inkomste- en kosteramings opgestel van die gewasse wat die PNS bevorder asook van die hoof mededingende gewasse. Die inkomste- en kosteramings bevat inligting op 'n per hektaar basis van bruto-inkomstes, produksiekostes en bruto­marges. Bestaande en voornemende produsente kan die inligting gebruik om hul eie begrotings op te stel of aan te pas sodat ingeligte besluite geneem kan word.

Inkomste- en kosteramings van Sojas en Mielies is opgestel in die somerreënval streek ten opsigte van die volgende gebiede:

Mpumalanga – Kinross
– Morgenson
– Piet Retief
– Groblersdal (besproeiing)
Noordwes – Brits / Koedoeskop / Makoppa
– Koster
– Lichtenburg / Coligny
– Zeerust
Vrystaat – Vrede en Frankfort
– Reitz, Bethlehem en Harrismith
KwaZulu-Natal – Bergville
– Karkloof
– Paulpietersburg

In die Winterreënstreek in die Wes-Kaap Provinsie is inkomste- en kosteramings van Canola, Koring en Lupiene (laasgenoemde is nie opgestel vir Malmesbury en Porterville nie) opgestel.

Wes-Kaap – Moorreesburg
– Malmesbury
– Porterville
– Caledon / Riviersonderend
– Bredasdorp / Napier
– Swellendam / Heidelberg

Die gegewens weespieël tipiese situasies onder normale klimaatstoestande en nie 'n gemiddelde nie. Aanbevole praktyke en/of studiegroep­gegewens is gebruik om die ramings op te stel.


5.27

 

Modelle: APR- en Nieuwoudt / McGuigan modelle


Soos in die verlede is beide modelle aanvullend tot mekaar gebruik om gedurende die verslagjaar projeksies te maak van proteïenbehoeftes vir diereverbruik vir 2010 en 2015.

Die ontwikkeling van die modelle is befonds en in die geval van die Nieuwoudt / McGuigan model ook geïnisieer deur die PNS waarna dit oorgedra is aan die Departement Landbou-ekonomie van die Universiteit van die Vrystaat. Genoemde Departement bedryf die modelle ooreenkomstig die behoeftes van die PNS, maar wend dit ook aan vir navorsingsbehoeftes soos geïdentifiseer deur die Universiteit se Departement van Landbou-ekonomie.

Die APR-model is ook gestruktureer om projeksies te kan maak ten opsigte van proteïenbenodighede vir die verskillende diere spesies en proteïen­bronne. Gedurende die verslagjaar is die APR-model nie daarvoor gebruik nie maar wel om die totale proteïenverbruik wat 1 481 379 ton beloop het per diere spesie in te deel.

Die Nieuwoudt / McGuigan model is daarna aanvullend gebruik om die projeksies van proteïenbehoeftes per diere spesie en in totaal te doen.

Die hoofredes waarom die APR-model nie aangewend word om die proteïen-behoeftes te projekteer nie maar wel die Nieuwoudt / McGuigan model is die feit dat die model nie inkomste-elastisiteite en inkomstegroei in ag neem nie. Verandering in per kapita verbruik van diereprodukte waarvan die behoefte vir proteïen vir diere verbruik afgelei word, is gegrond op ingeligte menings. Die APR-model neem egter wel die verandering in die populasie en wisselkoers in ag.

Gedurende die verslagjaar het die Departement Landbou-ekonomie van die Universiteit van die Vrystaat weer projeksies van proteïen behoeftes gemaak waarvan die resultate in die Jaarverslag onder die opskrif "Kort- en Medium-termyn behoeftes van Proteïen" verskyn.

Om die projeksies te kon maak, moes sekere aanpassings in beide modelle ten opsigte van die volgende veranderlikes gemaak word:

  • Wisselkoers;
  • Populasie;
  • Per kapita verbruik van proteïene (vleis, eiers en suiwelprodukte);
  • Verspreiding van lewendehawe en kommoditeite;
  • Aanplantings, opbrengs, invoere, uitvoere, voorrade en vetpersentasie van oliesade; en
  • vervoerkostes van kommoditeite.

Die APR-model is ook gedurende die verslagjaar aangewend om sekere scenarios te bereken indien Etanol uit mielies vervaardig sou word. DDGS wat 'n byproduk van die proses is, sal 'n belangrike proteïenbron wees en sal dit uit die aard van die saak 'n wesentlike impak op die bestaande vee-voermark hê. Die scenarios het gegewe seker prysvlakke en nutriënt samestellings uitgewys watter grondstowwe verplaas sal word en watter hoeveelhede verplaas sal word deur die beskikbaarheid van DDGS teen verskillende prysvlakke.

Ten slotte kan gemeld word dat die PNS ook bekendgestel is aan die BFAP- model van die Departement van Landbou-ekonomie van die Universi­teit van Pretoria wat 'n omvattende model is en projeksies van 'n groot verskeidenheid van aspekte kan maak. Die PNS beoog om gedurende die komende verslagjaar meer kennis hieromtrent op te doen en ook te kyk na die moontlike integrasie van die betrokke model met die modelle wat reeds deur die Departement Landou-ekonomie van die Universiteit van die Vrystaat bedryf word.


5.28

 

PNS webtuiste


Die Webblad is een van die kragtigste en effektiefste kommunikasie middels waaroor die PNS beskik. Vir die rede poog die PNS voortdurend om die Webblad wyer bekend te stel en meer gebruikersvriendelik te maak.

Gedurende die verslagjaar is die hele Webblad hersien wat dit meer aantreklik maak en die inhoudsopgawe op die voorblad is ook gewysig wat dit makliker maak om items van belang in die inhoud te kan opspoor.

Voorsiening is ook gemaak vir 'n argief wat eintlik 'n kopie is van die bestaande indeling. Die argief funksioneer egter as 'n afsonderlike stelsel wat binne die huidige webblad verskuil is.

Ander noemenswaardige byvoegings was die ontwerp van 'n raamwerk vir 'n databasis waarin navorsingsonderwerpe, die naam van die navor­ser(s), instansie en bestuursopsommings vervat word. Die raamwerk is ingedeel volgens kommoditeite (byvoorbeeld sojas) onderwerp (byvoor­beeld bemesting) en sub-onderwerpe. Die benutting van proteïen deur diere vorm 'n ander been van die raamwerk terwyl die raamwerk ook ver­skeie ander onderwerpe hanteer soos byvoorbeeld die ekonomie. Inligtigting wat voortspruit uit tesisse, verhandelings, artikels en navorsings­projekte word hierin opgeneem. Streng kriteria word toegepas om te voorkom dat die databasis nie beset word met nie-relevante inligting nie.

Ander belangrike inligting wat toegevoeg is tot die Webblad is 'n foto album wat aan die databasis gekoppel word, projeksies van proteïengebruik, inkomste- en kosteramings van kommoditeite, bevindings en waarnemings wat voortspruit uit buitelandse studietoere en 'n ontwikkelingsplan vir Canola.

Die bekendstelling van die Webblad word op verskeie wyses gedoen: Mondelingse mededelings tydens vergaderings en boeredae, aanbring van die webadres op briefhoofde en visitekaartjies asook die koppeling met ander webblaaie.

Laasgenoemde is een van die meer effektiewe maniere om die webblad bekend te stel en is daar tans 49 koppelings wat die soekenjines insluit. Van die belangrikste koppelings is die met AFMA en SAGIS terwyl die soekenjines wat die meeste besoekers na die PNS-Webblad verwys, M-web, Aardvark en Ananzi is. As daar gekyk word na die toename in aantal unieke besoekers (dit is 'n besoeker met 'n nuwe adres, met ander woorde nie 'n herhaling van dieselfde adres nie) dan kan die PNS tevrede wees met sy poging.

Periode

Aantal unieke besoekers

Januarie-Desember 2004
Januarie-Desember 2005
Januarie-Desember 2006
Januarie-Desember 2007
  1 691
  3 285
  4 552
  5 404