Navorsingsverslag 2006/2007
7.
Kort- en medium termyn behoeftes aan vismeel en oliekoek
Gedurende die bemarkingsjaar wat strek oor die periode 1 April 2005 tot 31 Maart 2006 was die vraag na vismeel 80 000 ton en die vraag na oliekoek 1 414 338 ton. Dit weerspieël die hoeveelhede wat hoofsaaklik in die kommersiële mark verbruik is. Vir die voorafgaande periode 1 April 2004 tot 31 Maart 2005 was die ooreenstemmende verbruik 127 000 ton vismeel en 1 212 593 ton oliekoek. Gedurende die 2005/2006 bemarkingsjaar was daar dus 'n afname in die verbruik van vismeel van 47 000 ton of 37% teenoor die vorige bemarkingsjaar terwyl die verbruik van oliekoek met 201 745 of 16,6% toegeneem het oor dieselfde periode.
Vir die 2006/2007 verslagjaar word die verbruik van vismeel op 60 000 ton geskat en die verbruik van oliekoek op 1 200 000 ton. Aanduidings is dat die verwagte verbruik van vismeel selfs laer kan wees en dat die verwagte verbruik van oliekoek onderskat word.
Die afname in die verbruik van vismeel kan hoofsaaklik toegeskryf word aan ongunstige markfaktore. Lae vismeelproduksie in die RSA asook internasionaal het gelei tot ongekende hoë pryse. Volgens kenners blyk dit ook nie 'n eenmalige gebeurtenis te wees nie, maar die begin van 'n periode van lae produksie en hoë pryse. In die RSA het die prys aansienlik gestyg as gevolg van die uitvoermark wat baie aanloklik geraak het.
In die buiteland was daar pryse behaal van tot R7 500 per ton ex fabriek. Die gemiddelde prys vir 2005 was R3 625 per ton terwyl die gemiddelde prys vir 2006 R5 525 per ton was. Dit word verwag dat die gemiddelde vismeelprys vir 2007 op R6 200 per ton te staan sal kom.
Hieruit is dit duidelik dat die verhouding tussen die vismeel- en soja-oliekoekprys uiters ongunstig geraak het vandaar dan ook die substituering wat plaasvind van vismeel deur soja-oliekoek. Teen die huidige pryse sal vismeel grootliks aangewend word in die akwakultuur bedryf en kleinere spesialis markte.
Die wêreldproduksie van vismeel vir 2006 kom te staan op 5,3 miljoen ton en sal die produksie in 2007 van dieselfde orde wees.
Soos reeds uitgewys was die toename in verbruik van oliekoek vanaf 2004/2005 tot 2005/2006 16,6%. AFMA-lede se verbruik van die totale oliekoek was 64,2% gedurende 2005/2006 teenoor die 67,5% van die vorige bemarkingsjaar. Vir 2006/2007 word dit verwag om meer as 80% te wees van totale verbruik. Soja-oliekoek is die belangrikste komponent van AFMA se oliekoekverbruik en kom te staan op 55,2% van die totale oliekoek verbruik. As die volvet soja, omgereken na oliekoek ekwivalent, bygetel word dan vorm sojaoliekoek 68,5% van AFMA se totale oliekoek verbruik.
AFMA-lede sal ook na verwagting aansienlik meer oliekoek verbruik in die 2006/2007 jaar naamlik 1 062 672 ton teenoor die 907 582 ton van 2005/2006. Benewens die verwagte toename in verbruik van proteïen in totaal het die groter verbruik van oliekoek ook plaasgevind ten koste van vismeel vir redes soos voorheen vermeld. In 2005/2006 was die vismeel verbruik deur AFMA-lede 78 284 ton en sal dit na verwagting in die omgewing van 39 000 ton gedurende 2006/2007 wees. Gedurende 2004/2005 het AFMA 100 879 ton vismeel gebruik.
Wêreldproduksie van die 7 belangrikste oliesade was 383,1 miljoen ton gedurende 2005/2006 teenoor die 371,8 miljoen ton gedurende 2004/2005. Na verwagting sal daar 'n verdere toename in produksie wees tot 392,8 miljoen ton vir 2006/2007. Eind voorrade sal ook met 4 miljoen ton toeneem tot 76,7 miljoen ton in 2006/2007 wat die voorsieningsposisie gunstig maak. Waarmee egter rekening gehou moet word is dat die toename in produksie van 9,5 miljoen ton minder is as die toename in verbruik wat 13,4 miljoen ton beloop het. Die verwagte ruim voorsieningposisie is veral meegebring deur die verwagte toename in wêreldproduksie van sojabone. Die verwagte wêreldproduksie van sojas in 2006/2007 is 234 miljoen ton wat 12 miljoen ton meer is as die produksie in 2005/2006.
Uit die aard van die saak sal die verwagte wêreldproduksie van oliekoek ook toeneem van 224,6 miljoen ton in 2005/2006 tot 233,69 miljoen ton in 2006/2007. Die verwagte toename in produksie is egter in lyn met die verwagte toename in verbruik wat eindvoorrade onveranderd laat op nagenoeg 8 miljoen ton.
Soja-oliekoek se verwagte produksie sal 156 miljoen ton wees wat 8,5 miljoen ton of 6% meer is as die produksie van soja-oliekoek in 2005/2006.
Termyn pryse van sojas, soja-oliekoek en soja-olie internasionaal het die begin van Januarie 2006 verstewig. Twee faktore wat hiertoe aanleiding gegee het was fondsbestuurders wat fondse in daardie rigting gekanaliseer het en bekommernis oor droogtetoestande in die Suid-Amerikaanse produksie gebiede. Pryse van gelande soja-oliekoek in Durban was in Januarie 2006 net minder as R1 700 per ton. Dit het daarna begin verswak tot minder as R1 600 per ton waarna dit skerp begin styg het vanaf die middel van 2006. Die ingevoerde soja-oliekoek prys geland te Durban was in Augustus 2006 R 2 077 en Desember 2006 was dit R2 256. Faktore wat tot die styging bygedra het was:
- die verswakking van die Rand teenoor die Amerikaanse dollar (in Jaunarie 2006 was dit net meer as R6/dollar en in Augustus was dit R7,72/dollar);
- die verwagting dat daar 'n groot aantal hektare in die VSA vanaf sojas vir mielies aangewend sou word weens die groot vraag na mielies vir etanol produksie;
- relatief hoë pryse van vismeel en mielies wat ook sojapryse laat toeneem het; en
- ongunstige klimaatstoestande.
Die RSA is nog steeds 'n netto invoerder van proteïen vir diereverbruik waarvan oliekoek en veral soja-oliekoek die belangrikste is. Van die totale behoeftes aan oliekoek vir die 2005/2006 bemarkingsjaar van 1 414 338 ton, kon die plaaslike mark slegs 572 231 ton of 40,4% produseer. Dit beteken dat bykans 60% of 842 107 ton van die plaaslike behoeftes ingevoer moes word. Gedurende die vorige bemarkingsjaar was die ingevoerde oliekoek 34,4% van die totale benodigdhede. Die totale produksie van oliekoek vir die 2006/2007 bemarkingsjaar sal na verwagting verhoog veral as gevolg van die aansienlik groter soja-oes gedurende 2006.
Projeksies wat op 'n jaarlikse grondslag gedoen word van oliekoekbenodigdhede toon dat dit vir 2010 en 2020 onderskeidelik 1 484 443 ton en 2 105 083 sal wees. Die projeksie vir 2020 is aansienlik hoër teenoor dit wat verlede jaar bereken is, hoofsaaklik as gevolg van verbeterde ekonomiese toestande. Gegewe die PNS se mikpunt om die RSA minder afhanklik te maak van ingevoerde proteïen vir diereverbruik is dit verontrustend om waar te neem dat die historiese groei van oliekoek verbruik per jaar (6,85%) nog steeds hoër is as die historiese jaarlikse groei in produksie van 6,36%. Laasgenoemde tendens (6,36%) is ook nie volhoubaar nie omdat dit beïnvloed is deur 'n paar besonderse gunstige produksie jare. Voorafgaande tendense het dan ook tot gevolg dat die historiese jaarlikse groei in invoere van oliekoek op 8,85% te staan gekom het. Die situasie kan in die toekoms egter drasties verbeter as die Regering 'n aanvaarbare strategie vir bio-brandstowwe kan finaliseer wat aanleiding sal gee tot die tot standkoming van 'n winsgewende bio-brandstofbedryf op 'n volhoubare grondslag. Neweprodukte soos oliekoek en DDGS kan die plaaslike voorsieningsposisie 'n aansienlike hupstoot gee. Navorsing word egter benodig ten opsigte van die aanwending van DDGS asook om geskikte soja-cultivars vir biodiesel aanlegte beskikbaar te stel.