Navorsingsverslag 2006/2007
6.
Proteïenbronne
6.1
Algemeen
Suid-Afrika is steeds 'n groot netto invoerder van proteïen vir diereverbruik soos elders in hierdie verslag blyk.
Die groot aanvulling wat uit die vervaardiging van bio-brandstof uit graan en oliesade verwag word is nog net 'n bespiegeling en gaan die PNS ernstig voort met die bevordering van bestaande proteïenbronne. Meer besonderhede ten opsigte van individuele proteïenbronne word hieronder bespreek.
6.2
Sojabone
Sojabone bly steeds die enkele gewas met die grootste potensiaal om meer proteïen vir diereverbruik te produseer in Suid-Afrika in 'n poging om ingevoerde proteïen te vervang.
Die bevordering van die sojaboonbedryf vind plaas op verskillende maniere hoofsaaklik na aanleiding van insette gelewer tydens vergaderings van die PNS Sojawerkgroep. Tydens genoemde werkgroepvergaderings het Dr M Griessel die vergadering telkens ingelig oor die plaaslike en internasionale sojaboonbedrywe asook betroubare prys-inligting van die dag. Dank gaan ook aan dr Griessel vir die moeite hiermee.
Een van die grootste pogings ten opsigte van tegnologie-oordrag die afgelope jaar was die plasing van 'n reeks artikels met behulp van etlike medewerkers oor ter saaklike knelpunte. Die PNS erken die bydraes van die medewerkers met dank en is dank verskuldig aan dr Jos de Kock vir die koordinering van hierdie besondere poging.
In 'n poging om sojabone in die Oos-Kaap te bevorder het die PNS weereens Mnr L Killian beskikbaar gestel vir hulpverlening aan die provinsiale departement van Landbou, maar sonder veel sukses. Dieselfde gebrek aan samewerking met die meeste provinsies word steeds ervaar soos in die vorige navorsingsverslag aangedui.
Die jaarlikse vergadering van die Roestaakspan word steeds goed bygewoon, en goeie insette word gelewer. Dieselfde geskied ten opsigte van die Sclerotinia-werkgroep waar die nuutste navorsing en navorsingsresultate bespreek word. In die Piet Retief omgewing het die ernstige voorkoms van sclerotinia tot gevolg gehad dat sommige produsente produksie van sojabone verminder of selfs gestaak het.
Vrae is ook tydens sojawerkgroepvergaderings gevra oor die kwalititeit van entstof en die Tegnologiekomitee van die PNS gee tans aandag hieraan. Tegnologie-oordrag van 'n hoë gehalte word steeds bereik met die Super Sojakompetisie en inligtingsdae hieraan gekoppel (sien projek hierbo).
Verwerkingskapasiteit het die afgelope jaar sterk toegeneem en is Pers-fasiliteite vir meer as 100 000 ton sojabone hierdie jaar geskep. Etlike kleiner perse met die oog op bio-diesel is ook opgerig en Sasol het sy belangstelling in bio-diesel uit sojabone bevestig met 'n aansoek om rabat ten opsigte van ingevoerde sojabone.
Die 2005/06 seisoen het 'n rekord produksie in Suid-Afrika gesien met 424 000 ton sojabone op 240 570 ha. Aanplantings vir die 2006/07 jaar is egter laer en skattings dui op 183 000 ha met 'n verwagte opbrengs van 205 000 ton.
Kundigheid in navorsingsgeledere ten opsigte van sojabone het 'n verdere knou gekry met die bedanking van mnr Gawie de Beer van LNR-IGG en weereens is jarelange ondervinding daarmee heen sonder enige aanduiding dat die eens trotse LNR 'n poging aanwend om die krisis te beredder.
6.3
Canola
Die oppervlakte onder canola in die Wes-Kaap het die derde agtereenvolgende jaar gedaal en wel van 40 500 ha (2005) tot 34 700 ha in 2006. Geen kommersiële aanplantings is in die somerreënvalstreek gedoen nie, terwyl die veelbesproke canolaprojek in die Oos-Kaap ook nog nie gematerialiseer het nie.
Die canolabedryf is steeds in sy kinderskoene en die PNS probeer voortdurend om die tegnologie oordragprogram sterker te ondersteun.
In Maart 2006 het die Raad met dr Jos de Kock ooreengekom om 'n nuwe Canola radioprogram vanaf Maart van stapel te stuur. 'n Uiters omvattende en suksesvolle reeks wat 'n groot verskeidenheid onderwerpe in meer as 30 praatjies aangeroer het, het gevolg. Die PNS wil graag aan dr De Kock en al die lede van die canolawerkgroep wat die program moontlik gemaak het, sy hartlikste dank oordra vir puik insette. Die voordragte is in 'n bundel ingebind, en is beskikbaar op die PNS webblad of in gedrukte vorm by die PNS.
Vroeg in 2006 het 'n werkgroep onder leiding van GSA sonder steun van die PNS Canola werkgroep, 'n stel graderingsregulasies opgestel in 'n poging om statutêre graderingsregulasies vir die canolabedryf daar te stel. Die dokument is na die Nasionale Departement van Landbou verwys en na herhaalde navrae is GSA meegedeel dat die Departement nie in die proses geken is nie en eers aan die Kwaliteitstandaarde Komitee voorgelê moet word. Die aangeleentheid sal hopelik aanstaande jaar afgehandel word.
Die Raad het ook in Mei 2006 'n versoek tot dr Jos de Kock gerig om die leiding te neem in die hersiening van die Canola Ontwikkelingsplan. Die opgedateerde dokument het September 2006 die lig gesien en is beskikbaar op die PNS webblad of by die PNS kantoor.
Dele van die Canola Ontwikkelingsplan is as vlugskrifte gepubliseer en ook in hierdie geval is die PNS baie dank verskuldig aan dr Jos de Kock en al die medewerkers uit die Canola Werkgroep wat hierdie puik dokument moontlik gemaak het.
Slakke, isopoda, ensovoorts het steeds 'n negatiewe impak op die canola bedryf. Dit is egter opvallend dat die aanbevelings van dr Tribe en die Werkgroep vir beter vestiging van canola (Slakwerkgroep) daartoe gelei het dat heelwat minder skade weens slakke voorgekom het die afgelope seisoen (sien projekte hier bo vir meer inligting). In dieselfde verband het dr R K'fir ook 'n baie inseggewende lesing oor die Ruitrugmot tydens 'n vergadering van die Canola Werkgroep gelewer.
Verdere bevordering van die canolabedryf geskied steeds met die Super Canola Kompetisie (sien projekte) in beide die Swartland en die Suid-Kaap. Alle relevante inligting en navorsingsresultate, waaronder die uitslae van die Nasionale cultivar proewe is soos gewoonlik met behulp van die Canola Fokus uitgedra. Die PNS bedank die redaksie en almal wat bygedra het vir hul moeite en ywer.
Navorsing en navorsers is steeds onder druk. Die PNS en die Canola Werkgroep het met teleurstelling kennis geneem dat mnr Dirk Hanekom die bedryf verlaat het. Mnr Piet Lombaard het die leisels oorgeneem en hy en sy span word baie sukses toegewens op die pad vorentoe.
Die PNS het met die beskikbaarstelling van mnr L Killian in die Oos-Kaap probeer om die vestiging van canola 'n hup-stoot te gee. Geen vordering kan egter gerapporteer word nie.
'n Positiewe noot in die bedryf is die oorname van die Canola Oliepers te Moorreesburg deur MKB en hul groter sigbaarheid in die bedryf, ook met die Super Canola kompetisie.
6.4
Lupiene
Die PNS het reeds in vorige verslae sy bekommernis uitgespreek oor die gebrek aan vordering met lupienproduksie veral as gevolg van die afwesigheid van 'n betroubare mark. Oppervlakte onder soet lupiene het slegs van 14 100 ha tot 16 000 ha gegroei met 'n teleurstellende opbrengs van slegs 14 400 ton.
Die kommersialisering van CED 6150 is verlede jaar deur die PNS finaal aan Mnr Fanie Joubert van Riversdal oorgedra, maar sal voorlopig steeds poog om in samewerking met die LNR 'n betroubare bron van basissaad te handhaaf. Die finale fase van die lupien kruisingsprogram onder leiding van mnr H Agenbag ten opsigte van beide soet- en bitter L.angustifolius sal aanstaande jaar (2007) betree word.
Die bladskrif "Lupino" het die afgelope jaar, soos in die verlede 4 maal verskyn met relevante, tydige en interessante leesstof. Dank word aan die redaksie en veral mnr Herman Agenbag oorgedra vir moeite en hulp om die "Lupino" gedurende 2006 moontlik te maak.
6.5
Fababone
Die Departement van Landbou, Wes-Kaap het aan die PNS berig dat hul geen verdere ondersteunende diens tot Fababone kan lewer nie. Hierbenewens het die studietoer na Australië bevestig dat Fababone hoofsaaklik vir menslike verbruik aangewend word.
Na afhandeling van huidige voedingsproewe sal die PNS 'n finale besluit neem oor voortgesette betrokkenheid al dan nie ten opsigte van Fababone.
6.6
Vismeel
Die visvangste in Suid-Afrika in 2006 was uiters onbevredigend. Die Totale Toelaatbare Vangste (TTV) vir sardyne was 204 000 ton (47% laer as in 2005) en desnieteenstaande die verlaging kon die bedryf nie slaag om die TTV te vang nie. Die TTV vir ansjovis was 362 000 ton en slegs 140 000 ton sal gevang word. Die beraamde vismeelproduksie vir 2006 sal 65 000 ton wees wat 35% laer as 2005 is.
Vismeelproduksie in Namibië het ook afgeneem van 12 000 ton in 2004/2005 tot 6 000 ton in 2005/2006. Die verwagting is dat die produksie gedurende 2006/2007 ook 6 000 ton sal wees.
Die periode 2006 wêreldwyd, sowel as in Suid-Afrika is gekenmerk deur besondere lae vismeel produksie en ongekende hoë pryse. Die prys in Suid-Afrika aan die einde van 2005 was R3 750 per ton terwyl die prys aan die einde van 2006 so hoog soos R6 500 per ton was. In 1995 was die vismeel verbruik in Suid-Afrika 283 000 ton, terwyl die huidige jaar se verbruik as gevolg van uitermate hoë pryse slegs 20 000-25 000 ton sal haal.